Afrikaners, slagoffers en slagoffermentaliteit

ʼn Groepie van sowat 40 Afrikaners het onlangs die Amerikaanse ambassadeur, Brent Bozell, vir ʼn ontmoeting genader. Hulle sentrale boodskap was: Afrikaners is nie slagoffers nie.

Afrikaners ís egter slagoffers, maar hulle het nie ʼn slagoffermentaliteit nie. ʼn Slagoffer is iemand aan wie onreg aangedoen is. ʼn Slagoffermentaliteit is iets anders. Dit ontstaan wanneer iemand sy identiteit met sy slagofferskap begin vereenselwig.

ʼn Slagoffer sê: “Onreg is aan my gedoen.” Iemand met ʼn slagoffermentaliteit sê: “Omdat onreg aan my gedoen is, kan ek nie verantwoordelikheid vir my toekoms neem nie.”

Om onreg te ontken, is gevaarlik. Wanneer dit gebeur, word onreg genormaliseer, optrede daarteen geneutraliseer en mense begin magteloos voel en raak uiteindelik vervreemd. Dit lei tot verwydering, polarisasie en onttrekking.

Dit is ook gevaarlik om onreg te relativeer. Om byvoorbeeld te sê dat iemand anders se onreg groter is en dat jou onreg daarom minderwaardig is, lei bloot tot die voortsetting van onreg.

Onreg moet konkreet en genuanseerd erken word voordat dit behoorlik hanteer kan word.

Die groepie argumenteer dat almal in Suid-Afrika onreg beleef en dat Afrikaners daarom nie die onreg teenoor hulle mag uitlig nie. Onreg teenoor Afrikaners word dan deel van ʼn groter pot van onreg, maar die spesifieke aard daarvan verdwyn eenvoudig in die groot kookpot.

Dit is natuurlik waar dat daar meerdere vorme van onreg bestaan en dat Afrikaners nie die enigstes is wat onreg beleef nie. Inteendeel, gewone arm swart Suid-Afrikaners ervaar die onreg van staatsverval en raswette dikwels op ʼn baie akute wyse.

Erkenning van een vorm van onreg is egter nie die ontkenning van ʼn ander nie. Onreg teenoor Afrikaners mag en moet dus erken word.

Raswette diskrimineer direk teen Afrikaners. Hierdie wette definieer mense aan die hand van hoe hulle lyk en wie hulle is, eerder as wat hulle kan doen. Raswette is onreg.

Die manier waarop Afrikaanse instellings soos kolleges, universiteite en skole aangeval word, is eweneens onreg. Die slag by kolleges is reeds gelewer, die slag by universiteite is byna voltooi, en die Bela-kanon is nou op skole gerig.

Voeg daarby die histeriese aanvalle op alles wat Afrikaans is deur die Lesufi’s en kie. Mense voel naderhand nie meer tuis in hul eie land nie.

Natuurlik raak misdaad almal. Dit ruk handuit. Misdaad in “townships” ontwrig mense se lewens daagliks. Dit alles is ernstige onreg.

Plaasaanvalle vorm egter, te midde van die algemene misdaadkrisis, ʼn besondere soort onreg. Dit is buitengewoon wreed en die voorkoms daarvan is ontstellend hoog. Om daarop te fokus, ontken nie ander vorme van onreg nie; dit plaas bloot die kollig op hierdie spesifieke onreg.

Boonop is dit die enigste vorm van misdaad wat deur politieke leiers besing word met die woorde: “Kill the Boer, the farmer”.

Afrikaners is ook, saam met alle ander Suid-Afrikaners, slagoffers van die land se algemene verval. Daar bestaan nie iets soos Afrikaner-slaggate, Afrikaner-kragonderbrekings of Afrikaner-waterlekke nie. Hierdie probleme raak almal. Hulle moet deur almal erken en deur almal aangepak word.

Daar is egter ook spesifieke kwessies wat Afrikaners en Afrikaans raak. Die Solidariteit Beweging, waarvan Solidariteit en AfriForum deel vorm, fokus op sy lede en ondersteuners. Ons lede en ondersteuners kom hoofsaaklik uit die Afrikaanse en Afrikanergemeenskap.

Daarom is ons doel om vir daardie gemeenskap ʼn toekoms te help bou waarin hulle vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Die Solidariteit Beweging gee egter nie voor dat ons alle Afrikaners of alle Afrikaanssprekendes verteenwoordig nie, nog minder alle Suid-Afrikaners. Ons fokus is ons lede en ondersteuners. Dit sou arrogant, en selfs paternalisties, wees om namens almal te probeer optree.

Ander gemeenskappe moet hul eie onreg identifiseer en aanspreek. Waar ons kan saamwerk, sal ons dit doen. Ons het egter ʼn plig om die onreg teenoor ons lede uit te lig en aan te spreek. Niemand kan ons daarvoor kwalik neem nie.

Dit strek dikwels ook tot voordeel van die breër gemeenskap. Akademia en Sol-Tech is byvoorbeeld bates uit die Solidariteit Beweging, vir die Afrikaanse gemeenskap, maar hul waarde strek veel verder. AfriForum se veiligheidsinisiatiewe en werk aan munisipale dienste bevoordeel eweneens baie mense buite ons eie ondersteuningsbasis.

Dit bring my terug by die begrip slagoffermentaliteit.

Afrikaners het oor die algemeen nie ʼn slagoffermentaliteit nie en die Solidariteit Beweging beslis nie. Al is daar onreg, klim ons in en doen dinge self. Die erkenning en verstaan van onreg is juis die voorwaarde om dit aan te spreek.

Daarom is “Ons sal self” die leuse waarop ons Beweging gebou is. Ons help mense om werk te kry, bou opleidingsinstellings, gee studiehulp, ondersteun skole, verbeter veiligheid, help met munisipale dienste, beveg onreg binne die grondwetlike raamwerk en doen nog baie meer.

Ons erken onreg. Ons beveg onreg. Maar ons bou ook verder aan ons toekoms. Ons sal self.

 

Geskryf deur Dirk Hermann, bestuurshoof by Solidariteit.

Gewone lede se Dawid-klippies bou Solidariteit – en húlle is ons baas.

Sowat 20 jaar gelede is die musiekblyspel Ons vir Jou in die Staatsteater opgevoer. Solidariteit was ’n bemarkingsvennoot en ons hele hoofraad het dit bygewoon. Een van die aangrypendste liedjies in die opvoering beskryf hoe Dawid met sy klippies teen Goliat opgestaan het: “Laat Goliat kom, die Dawid binne my is reg vir hom.”

Die volgende dag het Solidariteit se hoofraadsvergadering plaasgevind. Die raad bestaan uit verkose verteenwoordigers uit verskillende bedrywe en werkplekke – gewone mense wat elke dag werk.

Daardie dag is daar besluit om ’n mandaat by lede te kry om elke maand R10 se ledegeld van elke lid te gebruik vir bouprojekte. Kollega Henk Schalekamp het dit treffend gestel: “Dit is ons Dawid-klippies vir die byna ondenkbare taak wat voorlê.” Daardie tien rande het eers gehelp om Sol-Tech te bou en daarna Akademia.

Ons Dawid-klippies is nie die tien rande self nie, maar eerder elkeen van ons lede wat dit gee. Hul voete is stewig op die grond. Hulle verstaan die werklikheid. Hulle maak ons sterk. Solidariteit is ’n organisasie van gewone werkende mense, van wie ons ons mandate kry en aan wie ons deeglik verslag doen.

Tog bly dieselfde handjievol professore, kenners en kommentators Solidariteit en die groter Solidariteit Beweging “ontleed”. Verlede week is in Rapport selfs gevra of ons demokraties en deursigtig is. Ek weet nie of dit onkunde, moedswilligheid of ‘n kombinasie is nie, maar dit mis elke keer die kol.

Solidariteit se hoogste gesag is die nasionale raad, wat jaarliks deur lede verkies word. Dié raad keur die jaarstate goed en aanvaar mosies wat die organisasie se agenda bepaal. Die bestuur van Solidariteit doen aan hierdie raad verslag.

Uit die nasionale raad word die hoofraad verkies. Dit is die hoogste gesag tussen kongresse en vergader maandeliks. Hulle ontvang maandelikse verslae, hanteer finansiële state en gee of bevestig mandate.

Die hoofraad het ‘n ouditkomitee met ‘n eksterne lid. Solidariteit se finansies word jaarliks deur ‘n onafhanklike ouditeur geoudit – nog nooit is ‘n gekwalifiseerde oudit uitgereik nie.

Elke maand en elke jaar het die verkose verteenwoordigers van ons lede volle insae in ons werksaamhede en finansies. Benewens die nasionale strukture het elke bedryf sy eie bedryfsraad en elke beroepsnetwerk sy eie adviesraad. Ons het honderde verteenwoordigers en adviesraadslede. Elke vyf jaar vind verkiesings vir al die verkose strukture plaas.

Dit is ‘n hoogs demokratiese en deursigtige organisasie. Solidariteit se wegholsukses, soos prof. Pieter Duvenage dit noem, is juis danksy ons interne demokratiese karakter, want dit hou ons in voeling met ons lede en ons gemeenskap.

Solidariteit tree nie namens alle Afrikaners of alle Suid-Afrikaners op nie – ons tree op namens ons lede. Dit is húlle wat ons verantwoordbaar hou, mandate gee en aan wie ons verslag doen.

Tog strek ons aksies dikwels veel wyer, tot voordeel van die groter Afrikaanse en Suid-Afrikaanse gemeenskap.

Dit is in Solidariteit se raadsale dat besluit is om Sol-Tech en Akademia aanvanklik met daardie R10 per maand van lede te bou. Vandag is dit selfstandige instellings tot voordeel van die hele Afrikaanse gemeenskap, as deel van die groter Solidariteit Beweging.

Dieselfde geld wanneer AfriForum slaggate regmaak. AfriForum doen dit nie net vir sy lede nie, maar vir almal in die woongebiede waar sy takke bedrywig is.

Deur hierdie netwerk van verkose strukture word die werklikheid van ons lede direk aan voltydse amptenare soos ek deurgegee. Ons is bloot in diens van hulle. Dit is by hulle wat ons hoor wat gebeur wanneer produkte weens vervalle spoorlyne nie by die hawens kom nie. Dit is hulle wat vertel wat met smelters gebeur wanneer die krag onderbreek word en wanneer elektrisiteitspryse handuit ruk. Dit is hulle wat die prys sal betaal as Suid-Afrika se deelname aan die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) beëindig moet word.

Hulle is die eerstes wat korttyd weens skroottekorte moet werk, wat met afleggings gedreig word, wat die druk in sentraliserende skole voel en wat jaar ná jaar in rasverslae as “oorverteenwoordig” gebrandmerk word. Hulle staan aan die voorste linie van die werkstryd. Hulle is hoogs ingelig. En dit is húlle wat besluit het dat Solidariteit moet bou.

Hulle het die bydraes van R10 per lid per maand goedgekeur. Hulle het Helpende Hand, Sol-Tech, Akademia, Bo-Karoo Opleiding en talle ander nuwe instellings en inisiatiewe in ons beweging goedgekeur. Hulle is die werklike helde van ons tyd.

Dit staan in skrille kontras met die enkele kommentators wat die krag van hierdie gewone mense onderskat omdat hulle dit eenvoudig nie verstaan nie.

Sedert 2001 het Solidariteit gehelp om talle instellings te vestig: Sol-Tech, Akademia, Kanton, AfriForum, Solidariteit Helpende Hand, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, Maroela Media, Bo-Karoo Opleiding en die Orania Ontwikkelingsmaatskappy om slegs enkeles te noem.

Al hierdie instellings vorm die groter Solidariteit Beweging. Ons wou hulle nie sentraal beheer nie. Binne die federale gees van die beweging is hulle selfstandig, maar deel van ‘n groter geheel.

Geen instelling behoort aan Solidariteit nie. Ledeorganisasies behoort aan hul lede en opleidingsinstellings is maatskappye sonder winsoogmerk, gedryf deur hul missies. Hulle het hul eie direksies, mandate en verslagdoening.

Ledeinstellings soos AfriForum en Solidariteit word maandeliks deur hul lede getoets. Lede kan bloot ophou betaal as hulle ontevrede is. Opleidingsinstellings word getoets deur studente-inskrywings en Helpende Hand deur tienduisende donateurs. Die 600 000 gesinne wat aan die beweging deelneem, is waarskynlik die grootste demokratiese toets.

Al die instellings word onafhanklik geoudit. Sedert die beweging se ontstaan het nie een ’n gekwalifiseerde oudit ontvang nie. Goeie korporatiewe bestuur en organisatoriese uitnemendheid is vir ons ononderhandelbaar.

Solidariteit is vanjaar 124 jaar oud. Ons was nog altyd gewone mense wat onder moeilike omstandighede planne maak vir die toekoms. Vandag is ons ‘n baie groter beweging in diens van gewone mense. Mense wat nie wag vir beter tye nie, maar dit self help skep.

Elke lid van Solidariteit is ‘n Dawid-klippie. Groot uitdagings maak ons nie bang nie.

“Laat Goliat kom, die Dawid binne my is reg vir hom.”

Geskryf deur dr. Dirk Hermann, bestuurshof van Solidariteit.

Die Solidariteit Beweging wil net hê wat Max du Preez reeds het

Max du Preez se grootste mistasting in sy uitsprake oor die Solidariteit Beweging is dat hy die brandweer met die brandstigters verwar.

Ons gesin het in Desember ’n week saam met vriende in Simonstad deurgebring. Toe ek hoor dat Max du Preez daar bo in die berg met ’n seeuitsig bly, het ek sy wêreld beter verstaan. Simonstad lyk of daar min verander het sedert PW Botha se dae – as jy die vloot miskyk.

In Suid-Afrika bly ons in verskillende wêrelde in een land. Ek bly in die noorde, waar die toekoms reeds gebeur het. Du Preez bly in seker die mees Westerse dorp in die mees Westerse provinsie in die land. Simonstad is geografies én demografies ver verwyderd van Du Preez se staatsideologie waarteen hy homself verskans het.

Hy weet min of niks van die Solidariteit Beweging nie. Hy het ons ook nog nooit gekontak om meer uit te vind nie. Dit verhinder hom nogtans nie om sy vrye toegang tot die media te misbruik om ons te beskimp en te beskinder – én deesdae te beledig en belaster nie.

Selfbeskikking
In sy nuutste onderhoud op Netwerk24 vra hy wat ons “eindspel” is – wat hy smalend selfbeskikking noem. Die antwoord is maklik. Ons wil net hê wat hý reeds het.

Du Preez stem sekerlik vir die DA omdat hy self oor sy provinsie wil beskik sodat die ANC nie sy hande daarop kry nie. Dieselfde vir sy dorp, want hy het net een kyk noord gegee en gesien wat gebeur as die ANC oor ’n dorp of stad beskik. Net so beskik hy oor sy eie privaat medies, en waarskynlik sekuriteit ook – as dit in Simonstad al nodig is. Ek is ook seker hy kyk nie na die ANC beheerde TV-stasies nie en ry nie op die treine waaroor die ANC beskik nie.

Du Preez is ’n groter selfbeskikker as ons wat hier in die noorde bly en gedwing is om provinsiale en munisipale dienste te gebruik waaroor die ANC beskik – wanneer dit beskikbaar is. Hier is die demografie al lankal die demokrasie, en die regering van nasionale eenheid (RNE) en onbestendige munisipale koalisies het nog min daaraan verander.

Normaliteit
Die naam van Du Preez se nuwe boek, The End of Normal, is heel gepas. Die ANC se bewind sal tot die einde van normaliteit lei as hy nie gestop word nie. Daarom is ons “eindspel” bloot om normaliteit te help skep. Dis ’n land waar mense self besluit oor grondliggende sake wat hulle raak. Dís wat demokratiese vryheid is.

Normaliteit is waar mense waarde vir hul swaar verdiende belasting kry en saam oor die besteding daarvan kan “beskik”. Dis waar die munisipale dienste werk; waar misdadige en korrupte politici vervolg word; waar ouers self oor hul kinders se skole kan beskik; waar daar nie kwetsende rassewette is wat mense se normale regte, om oor hul ondernemings, werk of studierigting te beskik, ondemokraties met staatsmag inperk nie.

Normaliteit is waar die president en ministers nie amptelike ooreenkomste oor onderwyswette en rassekwotas met gemeenskapsorganisasies verbreek nog voordat die ink daarop droog is nie. Normaliteit is waar veteraanjoernaliste soos Du Preez nie oor kernsake soos hierdie swyg nie. Hy kritiseer net die ANC vurig as die party die staatsideologie korrup of onbevoeg uitvoer.

Sol-Tech
Ons strewe om ons taal en kultuur te beskerm is ’n strewe na demokratiese vryheid. Hoër onderwys is kulturele selfverwesenliking. Dis wêreldwyd normaal om alle grondwetlike regte te benut, nie regs nie.

Tale het ruimtes nodig waar dit die meerderheid kan wees om te kan voortbestaan. Die bou van vrye ruimtes vir Afrikaans is soos om vir jouself ‘n huis te bou. Jy bou nie ‘n huis om jou bure uit te sluit nie, maar juis om saam met hulle in daardie buurt voort te bou. Dan kan jy hulle oornooi vir ‘n koppie tee of ‘n lekker braai. Dit gaan oor ínsluiting, en juis nie oor uitsluiting nie.

Die staat sluit met sy rassekwotas wit jong mense prakties uit van beroepsopleiding in die openbare én privaat sektor. Daarom is Sol-Tech ‘n projek wat jong Afrikaanse mense wil ínsluit. Die kollege is ook, anders as wat hy kwaadwillig beweer, nie op ras gegrond nie, maar oop vir almal wat in Afrikaans wil studeer.

Terloops, ek wonder of Du Preez en kie besef wat dit geverg het om Sol-Tech van die grond af op te bou tot die wêreldklaskollege wat hy vandag is? Met die eerste R120 miljoen was ons grootse skenking net R10. Duisende gewone Solidariteit-lede het jare lank maandeliks tot hierdie helpmekaarprojek bygedra om die volgende geslag ‘n kans in die lewe te gee.

Ons kan nie die wêreld verander nie, Max, maar ons kon al duisende jong mense se wêrelde verander. Ons glo ook nie net aan binding (van Afrikaanse mense en Afrikaners) nie, maar ook aan brugbou. Sol-Tech probeer kliphard om brûe met die staat en ander kolleges in die land te bou en te help waar daar ’n wil en vermoë is om hande te vat.

Akademia
Du Preez vra (in die media om verdagtheid te saai, nie vir ons om ’n opregte antwoord te kry nie) of wit jong mense voldoende voorberei word op ’n meertalige werkslewe as hulle in Afrikaans opgelei word. Die antwoord is ’n besliste ja.

Die beste voorbereiding vir die wêreld daar buite is om wêreldklasopleiding in jou moedertaal te ontvang, omdat dit jou ten beste gereedmaak om jou kennis in ‘n ander taal toe te pas. Buitendien is Akademia (én Sol-Tech) se taalbeleid om studente net so goed in Engels toe te rus. Akademia se vormingsideaal is boonop daarop gerig om studente vir hul totale loopbane voor te berei, en nie net om ‘n werk te kry nie.

Die probleem is dat Du Preez die omvang en uiteinde van transformatisme hopeloos onderskat. Die meeste staatsbeskikte skole, TVET-beroepskolleges, en baie universiteite is al onderdeur getransformeer. Ons strewe na staatsbestande en selfstandige instellings behels nie net ‘n strewe na moedertaalonderwys nie, maar na vrye ruimtes sódat wêreldklasonderrig kan plaasvind.

Slagoffers
Die meeste Afrikaners se betreklike ekonomiese sukses is nie vanweë Du Preez se nuutste siening dat diskriminasie teen hulle ’n verbeeldingsvlug is nie. Hy het in 2003 al in sy boek Pale Native gesê dat wit mense onwelkom in hul eie land voel omdat ANC-leiers dit duidelik gemaak het dat hulle wit mense en Afrikaners as vreemde “kolonialiste-van-‘n-spesiale-soort-betreders” sien. In dieselfde boek skryf hy ook oor dieselfde rassewette wat hy nou skielik ontken.

Die feit dat Afrikaners nie slagoffers is nie, is ten spyte van die ANC se verdrukking. Dit spruit nie uit voortgesette bevoorregting nie, maar uit volgehoue prestasie ten spyte van struikelblokke.

Dit is só dat ons ‘n fokus op Afrikaners en die Afrikaanse taal en kultuurgemeenskappe het. Terselfdertyd doen ons veel meer vir die land en ál sy mense as Du Preez en die 44 wat die staatsagentskap se brief onderteken het. Ons het talle samewerkingsprojekte met swart instellings.

Du Preez se grootste mistasting is dat hy die brandweer met die brandstigters verwar. Die ANC met sy beleid, vrot regering, korrupsie en rassewette is die werklike brandstigters. AfriForum en Solidariteit, wat hy neerhalend “Afrisol” noem, is die brandweer wat probeer keer dat die land afbrand. Die sirenes mag moontlik soms te skril wees, maar as daar ‘n brand is, weet almal wie om te kontak.

Donald Trump
Ons besoek aan Washington het ten doel gehad om ons toegang in landsbelang te gebruik om die administrasie van pres. Donald Trump te probeer oorreed om nie die land te straf as hy vir die ANC kwaad is nie. Ons het sterk standpunt téén tariefmure en vír die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) ingeneem.

Ons versoek aan die VSA om soos voor 1994 op te tree, om versoening in Suid-Afrika te bevorder deur die ANC se verbreking van die grondwetlike skikking aan te pak, is ‘n regmatige reaksie op dit wat die ANC aanvang.

Kriminaliseer
Du Preez probeer ons beweging se leierskap kriminaliseer deur te beweer dat ons die staat ondermyn en nie net die ANC demokraties teenstaan nie. Hy beskryf ons nie net as verkeerd nie, maar as boos.

Die toekoms sal wys dat ons beweging ‘n onontbeerlike rol speel om demokratiese vryhede te beskerm, die verstaatliking van die samelewing teen te staan, ANC-wanbestuur en korrupsie te beveg, en op te bou waar ander afbreek. Ons bou die kulturele ekostelsel dat Afrikaners hier kan bly, sodat hulle ‘n volhoubare bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kan lewer.

Ons is nie net kommentators wat self niks doen en dan kritiseer wat ander doen om Suid-Afrika ‘n beter plek te maak nie.

 

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Volhoubare Afrikaanse onderwys vir die volgende geslag

Die Solidariteit Beweging het tydens die Onderwys Toekomsberaad ʼn omvattende plan vir volhoubare Afrikaanse onderwys bekendgestel. Hierdie plan gaan saam met ander rolspelers en vennote uitgevoer word.

Die belangrikste beweegredes vir hierdie plan is soos volg:

Ons wil wêreldklas in Afrikaans wees

Die Solidariteit Beweging wil aan ‘n omvattende kulturele ekosisteem help bou wat uiteindelik die hele pyplyn vanaf Afrikaanse Kleuterskole tot Beroepskolleges en ‘n universiteit met verskeie Sattelietkampusse en ‘n aanlyn studiemodel insluit. Ons wil hê ons kinders en jongmense moet skole, kolleges en universiteite hê waar hulle veilig kan tuisvoel. Dis ‘n strewe na normaliteit, nie na die verlede nie. ʼn Taal se hoër funksies is onontbeerlik om sy langtermyn-volhoubaarheid te verseker. ʼn Kultuurgemeenskap het opvoedkundige instellings nodig om sy taal en kultuur na volgende geslagte oor te dra. Daarby het skole, kolleges en universiteite ʼn opleidings- én ʼn opvoedingsrol. Terselfdertyd word leerders en studente vir ʼn meertalige werksomgewing voorberei. Dit is ʼn bekende feit dat moedertaalonderrig die beste vorm van onderrig is en dat dit studente toerus om hul kennis in ander tale te kan toepas.

Ons mag wêreldklas in Afrikaans wees

Die Grondwet bepaal in artikel 29 dat enkelmedium-opleidingsinstellings mág bestaan en dat elkeen die rég het om in enige amptelike taal opgelei te word. Dis nie ‘n guns wat ons van die regering vra nie, dis ‘n reg wat internasionaal erken word. Ingevolge artikel 6 van die Grondwet is Afrikaans ʼn amptelike landstaal. Ons hoër onderrig instellings soos Sol-Tech en Akademia is al jare lank geregistreer en geakkrediteer, bied gehalte-opleiding aan en sluit geen persoon of groep uit nie. Dis oop vir enige persoon wat aan die akademiese standaarde voldoen en wat in Afrikaans wil studeer.

In 2019 het die Konstitusionele Hof by monde van hoofregter Mogoeng Mogoeng in sy uitspraak in die Stellenbosch-taalsaak, ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om self privaat onderriginstellings ter bevordering van Afrikaans en ander inheemse tale te bou. Regter Mogoeng het selfs ʼn beroep op korporatiewe welwillendheid gedoen om hulpbronne beskikbaar te stel om te help om privaat moedertaalgebaseerde opleidingsinstellings te befonds.

Die Grondwetlike hof se versoek dat gemeenskappe self instellings moet bou en met eie kapitaal finansier om hul taal te bevorder, is dus presies wat die Solidariteit Beweging en ons vriende en vennote doen.

Die grondliggende reg van enige kultuur is die reg op voortbestaan, wat net moontlik is met outonome kulturele instellings soos skole, kolleges en universiteite.

Ons kan wêreldklas in Afrikaans wees

Solidariteit het Sol-Tech in 2006 begin en duisende studente is al by die kollege opgelei. Daar is vanjaar byna 3000 studente in die onderskeie opleidingsfases wat opleiding in teorie, praktiese opleiding in ons werkswinkels en indiensopleiding by maatskappye behels. Die eerste R120 miljoen vir die oprigting van Sol-Tech het uit die maandelikse R10-bydraes van Solidariteit-lede gekom. Waar daar ‘n wil is, word die wil die weg!

Akademia is in 2012 begin en gaan so vinnig van krag tot krag dat ‘n reuse kampus tans in Pretoria gebou word, terwyl daar ook grond in die Paarl aangekoop is met planne om vir ons Satellietkampus daar ‘n tuiste te bou.

Die Solidariteit Helpende hand Studietrust se doel is om fondse beskikbaar te stel sodat almal wat wil moet kan leer en studeer. Die Trust word befonds deur Solidariteit ledebydraes, skenkings, inkomste vanaf die Virseker Trust, bydraes van die Helpende hand se Ons Winkels ketting groep, en bemakings. Wêreldklas onderrig en opleiding is geweldig duur en die bekostigbaarheid van onafhanklike instellings wat sonder staatsteun moet klaarkom bly ‘n uitdaging. Ons is baie  trots op ons jongmense, omdat die terugbetalingskoers van die studielenings nou op 99% te staan gekom het.

Ons kan, want ons het dit klaar bewys.

Ons kan nie alles op ons eie of net met gemeenskapbydraes doen nie. Daarom sluit ons nou vennootskappe aan tussen kultuur en kapitaal, waar beleggers ‘n markverwante opbrengs kry, en terselfdertyd ‘n kulturele dividend in die vorm van topklas onderrig en opleiding. Die doel is om uiteindelik waar prakties moontlik landswyd leefruimtes vir Afrikaans te bou.

Ek sê weer- ons kán, want ‘n Boer maak ‘n plan!

Ons moet wêreldklas in Afrikaans wees 

Dis algemene kennis dat die ANC vyandig teenoor Afrikaanse onderwys is. ‘n Vyandige owerheid is nie iets nuuts in ons geskiedenis nie. Sowat 200 jaar gelede het Lord Charles Somerset gedink hy draai Afrikaanse skole nek-om. ‘n Eeu later was dit weer Lord Milner se dagdroom. Nog ‘n ‘n eeu later is dit weer Lord Lesufi en kie se nagmerrie. Ons weet ons kan nie meer op die staat staatmaak om vir ons kinders wêreldklas onderrig en opleiding te voorsien nie. Wêreldklas onderwys is nie ‘n luukse nie, maar ‘n moét. Die vraag is dus nie óf nie, maar hoé. Dit is waaraan ons werk. Ons sal nie gaan lê voor ‘n regering wat nie eers ‘n Poskantoor kan bestuur nie.

Ons gaan wêreldklas in Afrikaans wees 

Die Solidariteit Beweging is besig om aan die kulturele infrastruktuur te bou om saam in Afrika te kan bly. Iemand wat ʼn huis bou, probeer nie ander uitsluit of homself afsonder deur die huis te bou nie. Hy bou sy huis juis om saam met sy bure in ʼn bepaalde woonbuurt te bly. Die gebou is net eie punt van die Ysberg wat bo die water uitsteek. Hierdie geboue kan net so groot en sterk wees soos die minder sigbare kulturele infrastruktuur wat al vir meer as twee dekades “onder’ die water gebou word. Dit behels die totale netwerk van instellings wat strek vanaf werksgebied na burgerregte-, media-, finansiële-, kulturele- en opvoedkundige instellings tot by organisasies wat ons erfenisse bewaar.

‘n Onderwysplan is deel van die pyplyn van Afrikaanse onderrig en opleiding waaraan ons saam met vriende en vennote bou.

Ons sal self

Die Afrikaanse gemeenskap het alles in sy vermoë gedoen om Afrikaanse hoër onderwys in die openbare sektor ingevolge die grondwetlike voorsiening daarvoor te laat voortbestaan. Ná talle gesprekke, pleidooie, versoeke en selfs hofsake is die openbare sektor se deure in ons gesig toegeslaan. Ons enigste uitweg is om dit self te begin doen. Vandaar ons leuse, “Ons sal self”. Dit is nie ‘n oproep vol heimweë terug na die verlede nie, maar ‘n wekroep om saam ‘n toekoms te bou.

Ons sal self, en ons sal saam as ‘n helpmekaarbeweging. Dit gaan nie oor die herlewing van ‘n uitgediende nasionalisme nie, maar oor gesonde kulturele selfvertroue, -selfrespek en selfverwesenliking.

Dieselfde geld vir ons skole. Ons sal saam met die Afrikaanse skoolgemeenskap werk, praat, en veg om ons openbare skole wêreldklas te hou, maar ons sal terselfdertyd ook met planne vir onafhanklike onderwys begin – saam met ander instellings wat met ons wil saamwerk.

Toekomsbouers

Ons wil beslis nie voorgee dat ons al die antwoorde het, of dat ons alles alleen kan doen nie. Ons het mekaar nodig, en ons sal met ander rolspelers wat Afrikaanse onderrig op die hart dra saamwerk waar enigsins moontlik. Ons nooi by Kanton Eiendomme almal uit om saam Toekomsbouers te wees.

Jare gelede het mense gedink dis onnodig én onmoontlik om onafhanklike Afrikaanse onderwysinstellings te bou. Die tyd het geleer dat dit nodig én moontlik is. Suid-Afrika is ‘n land waar dit wat teoreties moontlik is, in die praktyk soms onmoontlik is. Gelukkig is dit ook ‘n land waar dit wat teoreties onmoontlik is, in die praktyk wel moontlik is.

Afrikaanse skat

Afrikaanse jongmense word vandag blameer vir dinge wat gebeur het voor hulle gebore is, terwyl die regering nie die verantwoordelikheid aanvaar vir wat hulle vandag doen nie. Onthou, ‘n Kultuur kan net voortbestaan as elke geslag vir die volgende een leef.

Die Solidariteit Beweging wil graag die tradisie van wêreldklas- Afrikaanse onderrig en opleiding op nuwe maniere voortsit. Ons wil, ons mag, ons moet, ons kan, ons gaan en ons sal dit as gemeenskap self doen.

Afrikaners het immers nie die oseane deurkruis, deur die eeue oorleef, die onbekende ingetrek, magtige moondhede op die slagveld gepak en op talle gebiede wêreldklasprestasies opgelewer, omdat ons van jellie gemaak is nie. Ons is vrye burgers, nie dienswillige onderdane nie. Ons is vasbeslote om in die woorde van Van Wyk Louw, die skat van ons taal en kultuur veilig deur die skare te dra.

Die hede gaan nie weggaan nie, die verlede gaan nie terugkom nie, en die toekoms gaan nie vanself gebeur nie. My oproep is dus: kom laat ons bou!

 

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Só lyk plan om Afrikaanse onderwys te versterk

Die Solidariteit Beweging het Dinsdag ’n omvattende plan vir volhoubare Afrikaanse onderwys bekend gestel, met die doel om ’n geïntegreerde ondersteuningsnetwerk vir die hele Afrikaanse skoolgemeenskap te skep.

Die plan word saam met verskeie vennote in die onderwyssektor uitgerol en fokus daarop om skole, onderwysers, skoolbestuur, beheerliggame, ouers, leerders en gemeenskappe toe te rus om die toenemende uitdagings in die onderwysomgewing die hoof te bied.

Die Solidariteit Beweging het dié plan tydens die toekomsberaad bekend gestel, waar sowat 800 onderwysers en leiers uit die skoolgemeenskap byeengekom het. Die driedaagse kongres fokus op die uitdagings waarmee Afrikaanse onderrig tans te kampe het, asook op praktiese strategieë om ’n volhoubare toekoms vir Afrikaanse onderwys te verseker.

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, sê Afrikaanse skole verkeer toenemend onder druk en die sentralisering van skole vind al hoe meer plaas.

“Die staat wil 100% sê wat ons moet doen,” sê Hermann. Hy sê egter die plan wat Dinsdag bekend gestel is en die wil van ʼn gemeenskap, vorm die hart van goeie onderrig.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, rus die toekoms van Afrikaanse onderwys op gemeenskappe wat bereid is om self verantwoordelikheid daarvoor te neem.

“Die toekoms van Afrikaanse onderwys behoort aan ’n gemeenskap wat bereid is om daarvoor verantwoordelikheid te neem. By die Solidariteit Beweging glo ons dat ons nie net die reg het om daardie toekoms te help bou nie, maar ook die plig,” sê Buys.

Hy sê dat die beweging saam met sy vennote en Afrikaanse skoolgemeenskappe wil werk om ’n volhoubare toekoms vir Afrikaanse onderwys te verseker.

“Die staat bedreig ʼn goeie Afrikaanse ekostelsel en ons moet begin anders dink oor die volgende jare wat kom,” sê Hermann.

Die nuwe aanbod bring die Solidariteit Beweging se instellings, kundigheid en bestaande ondersteuningsnetwerke in een geïntegreerde model saam, sê Buys.

Die plan behels dat die Solidariteit Beweging sy onderwysaanbod só verpak dat die ideaal van volhoubare gehalte-onderwys in Afrikaans, saam met die breë skoolgemeenskap, bereik kan word.

Werner Human, bedryfshoof van die beweging, sê die model onderskei hom van tradisionele dienslewering omdat dit ’n deelnemende benadering volg waarin die hele skoolgemeenskap betrek word.

“Skole staan vandag voor veel groter uitdagings as net akademiese prestasie. Hierdie aanbod skep ’n ondersteuningsnetwerk wat skole versterk sodat hulle op hul belangrikste taak kan fokus: om kinders vir die toekoms toe te rus,” sê Human.

Volgens Human is die doel nie om skole se rol oor te neem nie, maar om hul kapasiteit te versterk en uit te bou.

Hy sê die beweging wil meer doen as om bloot as ’n diensverskaffer op te tree en fokus eerder daarop om ’n breër onderwys-ekostelsel te help vestig wat skole in staat stel om volhoubaar en uitnemend te funksioneer.

Die Solidariteit Beweging beskou die plan as ’n langtermynbelegging in Afrikaanse onderwys en as deel van sy groter visie om selfstandige gemeenskappe te help bou wat gehalteonderwys vir toekomstige geslagte kan verseker.

Onderwysaanbod

Geskryf deur die Maroela Media redaksiespan.

Wie is die Solidariteit Beweging regtig?

1994 was ‘n ordeverandering vir Suid-Afrika. Die verandering het talle instellings, wat nie die oorgang kon maak nie, vernietig. Die Suid-Afrikaanse landskap sou vir altyd anders lyk.

Instellings wat aan die vorige orde wou vasklou, het eenvoudig verdwyn. Een so ‘n instelling uit die vorige bedeling was die Mynwerkersunie (MWU).

Die MWU was ‘n ou instelling met ‘n ryk geskiedenis en is reeds in 1902 gestig. Soos talle burgerlike organisasies en politieke partye was die MWU in ‘n oorlewingskrisis. Dit was geldelik bankrot en bankrot aan idees.

Binne die nuwe werklikheid
In 1997 is Flip Buys as hoofsekretaris van die MWU verkies. Tydens sy eerste kongres het hy gesê die MWU moet ʼn beweging word. Hy was bekommerd oor die ANC se sentralistiese meerderheidsideologie en wat dit vir staatsbestuur en minderheidsbeskerming kan inhou.

Buys het die bankrot-MWU binne die ná-1994-werklikheid geplaas. Hy het die MWU weggelei van rasdefinisies en dit omskep in ‘n kultuur- en taalinstelling wat beskerming geniet binne die nuwe grondwetlike bedeling. Artikels 29, 30 en 31 van die Grondwet gee aan taal- en kultuurgemeenskappe die reg om eie instellings te vestig, insluitende onderwysinstellings.

Buys het reeds in 1997 besef dat dit noodsaaklik is om van grondwetlike ruimtes gebruik te maak, maar dat instellings daarvoor nodig is. Anders sou artikels 29, 30 en 31 bloot papierartikels bly, sou die sentralistiese staat die samelewing versmoor en sou minderhede se ruimtes verdwyn.

Sy kommer is later reg bewys. Die staat het al meer sentralisties geraak en die grondwetlike ruimtes vir gemeenskappe is verklein tot so ‘n mate dat diegene wat daarop aanspraak maak, as ongrondwetlik beskou word.

Afrikaners gaan nêrens heen nie
Flip Buys se 1998-aankondiging van ʼn Beweging was nie net binne die nuwe grondwetlike werklikheid nie, maar ook ʼn aankondiging dat Afrikaners nêrens heen gaan nie. Baie het gewonder of Afrikaners in die nuwe werklikheid wil bly. Hy het aangekondig dat Afrikaners ruimtes gaan skep om juis hier, aan die suidpunt van Afrika, te bly.

Vandag is die Solidariteit Beweging ʼn netwerk van tientalle selfstandige instellings met ongeveer 600 000 betalende lede en nog sowat 100 000 gebruikers van verskillende dienste. Indien families ook in ag geneem word, is dit ʼn reusebeweging. Dit is nie ʼn elite beweging nie, maar ʼn beweging wat deur gewone werkende mense begin is.

Alhoewel dit by verre die grootste organisasie in die Afrikaner- en Afrikaanse gemeenskap is, maak die Solidariteit Beweging nie aanspraak daarop dat hy namens alle Afrikaners praat nie, maar verteenwoordig die belange van sy lede en ondersteuners.

Die pad van die Beweging

Werk
Die eerste stap was om die ou bankrot-MWU weer sterk te maak. Finansiële stelsels is verander, werwingsveldtogte is begin en nuwe personeel is aangestel. In 2001 is die naam verander na Solidariteit. Die ou MWU het ongeveer 20 000 betalende lede gehad en vandag is Solidariteit meer as tien keer groter en een van Suid-Afrika se grootste vakbonde. Solidariteit het ʼn skuif gemaak om nie net in werksplekke te organiseer nie, maar ook in beroepe en het vandag beroepsnetwerke in al die groot beroepe. Solidariteit het ook deur tegnologie betrokke geraak by werkfasilitering. Sowat 4 000 werkgewers het reeds 14 000 poste op Solidariteit se platform geplaas.

Maatskaplike ontwikkeling
Binne die Mynwerkersunie is reeds in 1949 ʼn maatskaplike been, Helpende Hand, begin. In 2001 is besluit om Helpende Hand ʼn selfstandige instelling te maak. Daar is op klein skaal begin om studente met studies te help en ʼn eerste voedingsprogram by ʼn skool in Vanderbijlpark te loods.

Solidariteit-lede is gebel en gevra om by te dra tot die Helpende Hand-fonds. Daar was groot entoesiasme. Later het elke Solidariteit-lid R5 per maand vir studiehulp bygedra. Hierdie jaar is meer as R60 miljoen in die vorm van studiehulp aan studente uitbetaal.

Solidariteit Helpende Hand het nou 230 takke en dorpsverteenwoordigers in 14 streke. Daar is 14 streekmaatskaplike werkers en altesaam 30 maatskaplike werkers.

Daar is sewe Ons Plekke met naskoolse sentrums en kleuterskole vir behoeftige kinders. Drie duisend dogters ontvang maandeliks sanitêre produkte, 8 000 kinders kry daagliks kos en 2000 kinders ontvang jaarliks skooltassies en skryfbehoeftes. Solidariteit Helpende Hand het ook ʼn Opleidingsinstituut begin wat tuisversorgers oplei.

Opleiding en onderwys
Daar is besef dat opleiding die hart van enige Beweging is wat ernstig oor die toekoms is. Die bou van opleidingsinstellings is duur en word gewoonlik swaar deur die staat gesubsidieer.

Solidariteit het begin met ʼn landswye toer na fabrieke, myne, skole en ander werksplekke en het lede gevra om elk R10 tot ʼn Boufonds by te dra. Dit is met hierdie R10de waarmee Sol-Tech en later Akademia en Bo-Karoo Opleiding begin is.

Sol-Tech
In 2007 is Sol-Tech met 64 elektriese studente in Solidariteit se kantore begin. Vandag is daar ongeveer 3 000 studente in verskillende fases van opleiding.

Die rigtings sluit vandag in: dieselwerktuigkunde, auto-elektries, elektries, meulmaker, megatroniese tegnikus, pas en draai, gereedskapmaker, sweis, haarkappery, vroeë kinderontwikkeling en inligtingstegnologie.

Sol-Tech beskik oor wêreldklas toerusting, ʼn wêreldklas kampus en koshuise.

Akademia
Akademia is in 2012 met 40 studente begin. Aanvanklik is slegs ʼn telematiese aanbod gebied. Dit het ook in Solidariteit se kantore begin. Sentrums is oor die land gevestig.

In 2021 is ʼn opkampusaanbod met 111 studente in Centurion begin. Vandag is daar sowat 4500 studente by Akademia.

Daar is nou vier fakulteite: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe en Opvoedkunde. ʼn Groot nuwe kampus word gebou en die fakulteite en programaanbod gaan ingrypend uitgebrei word.

Bo-Karoo Opleiding
In 2019 is die eerste vyf voltydse studente by Bo-Karoo Opleiding op Orania ontvang. Die instelling het nou sowat 250 studente, ʼn tweede inname vir die jaar word beplan en dit groei met 40% per jaar. Nuwe werkswinkels is gebou en verdere uitbreidings volg binnekort. Daar is pragtige studenteverblyf, ʼn proefplaas en ʼn klein kampus in aanbou. Die twee grootste bene van BKO is tegnies en landbou en die programaanbod word tans ingrypend uitgebrei.

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum
Afrikaanse skole en skoolonderwys in die algemeen het onder groot druk gekom. Die aantal Afrikaanse skole het van 1 800 tot 900 afgeneem. In 2015 is die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) gestig. Vandag is bykans 50 000 Afrikaanse kinders op Wolkskool. Sowat 20 000 onderwysers maak van Wolkskool gebruik. Jaarliks word 7 000 onderwysers opgelei en daar is 250 lid-skole van SOS.

Daar is ook besef dat onafhanklike skole gebou moet word. ʼn Konsessiemodel, met die naam Gimnasium-skole, gaan gemeenskappe in staat stel om eie skole te bou. Die eerste skool word binnekort gebou.

Solidariteit Leer
Voortgesette opleiding is ook van kritieke belang. Op Solidariteit se platform word 200 voortgesette leerkursusse aangebied.

Eiendomsontwikkeling
Die instellings van die Solidariteit Beweging is met R10de en klein bydraes van lede begin. Om ʼn kampus te bou, is klein skenkings egter nie voldoende nie.

Die eiendomsmaatskappy Kanton is in 2019 gestig. Die doel van Kanton is om leefruimtes vir Afrikaans te bou deur ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal te fasiliteer.

Die eerste groot projek was die Sol-Techkampus, gevolg deur die Sol-Tech-koshuise.

Die grootste projek tot dusver is die Akademia-kampus. Dit is ʼn R3,2 miljardprojek waarvan die eerste fase R1,2 miljard beloop. Dit het reeds afgeskop en beleggers word gewerf.

Sol-Tech en Akademia is die huurders en beleggers weet daar is langtermyn, betroubare huurders.

Deur ʼn goeie kommersiële belegging help beleggers ook om kulturele ruimtes te bou. Daar word ook beplan om in die toekoms ʼn Akademia-kampus in die Wes-Kaap te bou asook skole, binne die groter Gimnasium-groep.

Burgerregte, veiligheid en munisipale dienslewering
AfriForum is in 2006 begin. Die belangrikheid van die beskerming van burgerregte is vroeg besef en AfriForum het reeds verskeie hofsake gewen. AfriForum is egter in die eerste plek ʼn gemeenskapsorganisasie en wil gemeenskappe sterk maak.

AfriForum het 10 000 vrywilligers, 165 takke en 177 buurtwagte oor die land. Daar word landswyd gehelp met munisipale dienste oor ʼn wye front, tot voordeel van die hele gemeenskap.

Veiligheidstrukture maak gemeenskappe oor die hele land veiliger. Daar is op munisipale en veiligheidsvlakke samewerking met owerhede op verskeie vlakke, insluitend metro’s, munisipaliteite en die polisie.

Kultuur en media
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het met al hulle werksaamhede ook uiteindelik by die Solidariteit Beweging ingeskakel om die rol van kultuur- en erfenisbewaring te help vervul. By die AfriForum Teater word deurlopend Afrikaanse produksies aangebied.

Maroela Media is gestig en is nou een van die land se grootste mediahuise wat ook inhoud aan tientalle gemeenskapsradiostasies lewer.

AfriForumTV het 200 000 intekenaars. Die instellings van die Solidariteit Beweging het ʼn reuse-sosiale mediateenwoordigheid, met byvoorbeeld meer as 1,8 miljoen volgelinge op Facebook alleen.

Selfstandige gemeenskappe
Vir die Solidariteit Beweging is sterk, selfstandige gemeenskappe noodsaaklik. Die Beweging volg ʼn konsentrasiestrategie wat die natuurlike migrasie van Afrikaners ondersteun en gemeenskapsinfrastruktuur vestig.

Dit sluit werk-, maatskaplike, veiligheids-, dienslewerings-, kulturele en onderwys- en opleidingsondersteuning in.

AfriForum is ook betrokke by selfstandigheidsprojekte by talle tradisionele gemeenskappe en by ʼn netwerk van tradisionele gemeenskappe. AfriForum ondersteun ook die Kaapse Forum.

AfriForum vestig in ankergmeenskappe plaaslike gemeenskapforums wat as platform dien vir skole, kerke en ander gemeenskaporganisasies om mekaar en die gemeenskap te versterk,

Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy is gestig om te help om ʼn selfstandige gemeenskap in die Bo-Karoo te vestig. Dit is deel van die groot konsentrasiestrategie en die versterking van ankergemeenskappe landswyd.

Ander sake-inisiatiewe
Om die Beweging kommersieel te laat funksioneer, is daar verskeie sake-inisiatiewe. Dit sluit in ʼn finansiële diensmaatskappy, Konnek, met ʼn fokus op korttermynversekering, lenings en beleggingsadvies.

Daar is ook ʼn spysenieringsmaatskappy, Spys, wat spyseniering vir personeel en studente doen. Verder is daar die Solidariteit Beleggingsmaatskappy, die AfriForum Beleggingsmaatskappy en Helpende Hand-sake wat 127 tweedehandse winkels bestuur.

Daar is ook ʼn Solidariteit Regsfonds en Solidariteit Boufonds waartoe mense kan bydra.

Hoe word die Beweging befonds?
Die Solidariteit Beweging word nie op enige vreemde manier befonds nie. Die Beweging bestaan uit kulturele entrepreneurs wat deur streng dissipline en gewone sakebeginsels bestuur word. Die bedryfsbegroting van die Beweging is so groot soos dié van ʼn mediumgrootte maatskappy op die Johannesburgse Effektebeurs. Die korporatiewe bestuur van die instellings is dus streng.

Die ledeorganisasies word deur ledegeld befonds. Oorgangsfinansiering vir die oprigting van instellings word uit skenkingsfondse en opbrengste uit finansiële dienste befonds.

Elke instelling het sy eie unieke finansiële enjin. Studente is byvoorbeeld die grootste befondsers van die opleidingsinstellings, advertensies befonds Maroela Media, en tweedehandse winkels befonds Solidariteit Helpende Hand. Kanton, wat verantwoordelik is vir eiendomsontwikkeling, insluitend kampusse, werf aandeelhouers op ʼn kommersiële grondslag.

Wie besit wie en wat?
Die instellings van die Solidariteit Beweging word belyn binne die Solidariteit Beweging Trust. Die naam van die Trust dui bloot daarop dat die groter Beweging uit Solidariteit ontstaan het.

Solidariteit of die Trust besit egter nie die instellings van die Beweging nie. Al die ledeinstellings en opleidingsinstellings is maatskappye sonder winsbejag. Daar is dus geen aandeelhouers wat geld uit ledeorganisasies verdien nie. Alle inkomste fokus op die uitvoering van ledeorganisasies se doelwitte.

Direkteure moet toesien dat elke instelling in diens van sy missie en die gemeenskap funksioneer.

Solidariteit het ook ʼn netwerk van vriende en vennote wat insluit die landbouorganisasie Saai, die organisasies van die Afrikaner Leiersnetwerk, ander gemeenskapsleiers en gemeenskapmedia. Solidariteit is nie betrokke in die partypolitiek nie, maar het goeie verhoudings met verskeie politieke partye wat die belang van die Beweging se lede beskerm.

Alhoewel die Solidariteit Beweging gereeld in dispuut met die regering is, is ons lief vir die land. Wanneer ons met die regering bots, is dit ter wille van die land. Ons is hier om te bly, en daarom sal ons soms veg en baie bou. Ons is nie van die regering afhanklik vir ʼn toekoms nie. Daarom het ons hoop, want ons sal self.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Dit is wie en wat Solidariteit is, so hou nou op twak praat

Die afgelope paar maande word daar vreeslik óór Solidariteit gepraat, maar min mét Solidariteit. Allerhande bordjies word om ons nekke gehang. Strooipoppe word opgerig, wat die slimjanne dan self afskiet.

Ons word só beskryf dat ek onsself skaars herken: Regses, rassiste, Trump-pionne en selfs Suid-Afrika-haters!

Kom ons sê dit sommer in gewone taal: Hier by Solidariteit hou ons niks van die ANC nie, maar ons is lief vir die land. Soos Flip Buys sê: “Ons verlang nie terug na die verlede onder die NP-regering nie, maar ons is ook nie positief oor die toekoms onder die ANC-regering nie.”

Ons is egter toekomsmense. Ons dink geslagmatig. Die instellings wat ons bou is daarop gemik om jongmense te help om ʼn toekoms te skep. Die laaste ding wat ons is, is slagoffers. Ons ontken nie die onreg wat met ons mense gebeur nie, maar ons maak planne.

Ons is gelowige mense. Ons glo aan woorde soos roeping, werk en verantwoordelikheid. Ons glo almal wat wil werk, moet kan werk en hul volle potensiaal bereik. Ons primêre fokus is mense se werk, want werk bied sekuriteit vir soveel ander aspekte van die lewe.

Ons lede is meestal werkende mense. Hulle is gewone mense en baie van hulle werk dikwels in moeilike omstandighede. Vir jare reeds werk hulle op die werksvloer saam met mense van verskillende agtergronde. Die meesterverhaal dat hulle hulself wil isoleer, is onsin.

Oor die jare heen het Solidariteit saam met ander vakbonde gewerk en ons het tot vandag toe samewerkingsooreenkomste met hierdie vakbonde in verskeie bedrywe. Ons ken van saamwerk.

Ons lede ken die werklikhede en uitdagings van die land baie beter as baie kommentators en ontleders. Hulle weet van diskriminasie. Daarom verwerp ons die regering se rasmalheid. Dit diskrimineer daagliks teen ons mense in werksplekke reg oor die land en is eenvoudig boos.

Hierdie beleide verryk ʼn klein elite en vernietig die ekonomie en werksgeleenthede, met vaardighede wat uitvloei. Ons verwerping van rasbeleid het niks daarmee te doen dat ons nie swart mense wil sien vorder nie. Inteendeel, die wette doen juis die teenoorgestelde. Dit is die groot leuen van ons tyd.

Rasmalheid beperk handel. ʼn Land soos die VSA sien dit as ʼn handelsbeperking en Europese lande toenemend ook. Wanneer ons die regering aanspoor om dit vir maatskappye moontlik te maak om internasionaal handel te dryf, doen ons dit omdat ons positief is oor groei in die land.

Ons kyk nie neer op enigiemand nie en ons glo nie in meerderwaardigheid nie. Ons het ʼn afkeer van rassemeerderwaardigheid. Hier by ons loop daar nie rassiste rond nie. Dit is in elk geval nie wat die Bybel ons leer nie.

Ons glo aan die vrye mark, omdat dit die beste stelsel is om welvaart en werk te skep. Ons hou nie van sosialiste wat ʼn utopie wil bou, maar ʼn geskiedenis van smart nalaat nie. Ons hou ook nie van uitbuiters wat onder die vaandel van die vrye mark skuil nie.

Die kernpilaar van die vrye mark is eiendomsreg. Wanneer ons vir eiendomsreg opstaan, doen ons dit omdat ons vir die mark en vir welvaartskepping opstaan.

Wanneer ons met die Amerikaners praat, tree ons in vir die land ten spyte van die regering. Die regering het sy belangrikste handelsvennoot vervreem. Ons tree in vir Agoa omdat dit goed is vir die ekonomie en vir groei. Ons vra nooit dat die land op enige manier gestraf word nie.

Ons soek oplossings vir Suid-Afrika, nie vir die VSA nie, want dit is waar ons lede leef en werk. Ons versprei geen waninligting nie en talle mediahuise moes reeds om verskoning vra vir hul valse bewerings dat ons waninligting in die VSA versprei het. Wat ons doen sal altyd daarop gemik wees om die situasie in die land in die algemeen en vir ons lede in besonder te verbeter.

Ons is lief vir ons taal, kultuur en gemeenskap. Om vir iets te wees, mag egter nooit beteken dat jy teen ander is nie. Ons sien Afrikaners nie as een of ander uitverkorene nie, maar as deel van Suid-Afrika se groot verskeidenheid.

Ons glo baie sterk aan moedertaalonderrig. Ons sien Bela as boos en as ʼn aanval op ons siel. Ons glo jy mag aan jou eie kant wees, maar nie net aan jou eie kant nie. Ons neem self verantwoordelikheid en bou. Baie van wat ons aanpak is ook ten bate van die land en tot voordeel van mense veel wyer as ons eie gemeenskap.

Ons gaan nie ons kinders se toekoms aan die staat oorlaat nie. Daarom sê ons: “Ons sal self”. Ons sê dit nie net nie, ons doen dit. Ons bou letterlik dat die stof staan. Ons glo nie dat die staat jou toekoms moet beskik nie; ons glo ʼn gemeenskap moet dit self beskik. Ons glo aan minder staatsbetrokkenheid en meer privaat- en gemeenskapsinisiatief. Dit is die beginsel agter ons stryd teen die staat se planne om ons gesondheidstelsel te kaap.

Ons glo aan gemeenskapsfederalisme. Dit staan teenoor staatsentralisme. Dit beteken bloot dat gemeenskappe besluite op die laagste moontlike vlak moet kan neem. Ons gaan nêrens heen nie. Ons hoort hier. Ons is van Afrika, en ons taal en volk se naam is na Afrika vernoem. Die ANC en wie ook al sal maar daarmee moet vrede maak. Ons is hier om te bly.

Dus, mense wat strooipoppe van meerderwaardigheid, rassisme, dislojaliteit, slagofferskap, uitverkorenheid, waninligting, verraad en ander booshede oprig: Julle praat twak. Moenie ons oordeel op grond van wat julle van ons gemaak het nie, maar op grond van wie ons is en wat ons doen.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Die wêreld kan in ʼn Derde Wêreldoorlog strompel – Flip Buys

Deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Duncan Kidd/Unsplash)

“Europa moet voorberei vir ʼn oorlog op ʼn skaal wat ons grootouers en húlle ouers moes deurmaak. Rusland het oorlog teruggebring na Europa,” het Mark Rutte, Navo se hoof in Desember gesê, met verwysing na die Eerste- en Tweede Wêreldoorloë. Hierdie skokkende waarskuwing van Rutte is opgevolg deur soortgelyke waarskuwings oor die gevaar van ʼn kontinentale oorlog teen Rusland deur die Duitste kanselier, Friedrich Merz, die Duitse minister van verdediging, Boris Pistorius, Navo se militêre hoof, admiraal Rob Bauer, asook senior leiers van Brittanje, Pole, Swede en Noorweë.

Hoewel Rusland se konvensionele magte nie sterk genoeg is om teen die hele Navo te veg nie, is daar drie faktore wat die Europeërs slapelose nagte gee:

  • die eerste is dat die Amerikaanse regering wil hê dat Europa vir sy eie veiligheid moet sorg, omdat die VSA op China wil  fokus;
  • dat Europa nie kan kers vashou by die Russiese militêre massaproduksie nie; en
  • dat die Russe die wêreld se grootste kernarsenaal het, en hulle militêre doktrine die gebruik daarvan onder bepaalde voorwaardes insluit.

Die skrikwekkende waarskuwing van die kernfisikus Albert Einstein doem weer voor die mensdom op: “As daar ʼn Derde Wêreldoorlog is, sal die vierde een met stokke en klippe gevoer moet word.” Einstein het natuurlik bedoel dat ʼn volgende globale oorlog die wêreld kan vernietig.

Oekraïne

Militêre kenners beskou die oorlog in Oekraïne as die gevaarlikste internasionale konflik sedert die Kubaanse Missielkrisis van 1962. Die gevaar bestaan dat dit kan eskaleer tot ʼn grootskaalse Europese oorlog, wat taktiese kernwapens kan insluit. Die belangrikste elemente van só ʼn nagmerrie is reeds teenwoordig, en die toestand herinner aan die aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog. Dit is onder meer:

  • twee kante met onversoenbare standpunte wat elkeen sterk in sy saak glo;
  • geen formele vredesonderhandelings nie, en beide magte wat veg vir ʼn militêre oorwinning;
  • beide kante wat hulle doelwitte sedert die aanvang van die oorlog geëskaleer het;
  • dis nie net ʼn streekskonflik nie – verskeie groot moondhede met kernwapens is betrokke; en
  • die alliansiestelsel vergroot die kanse op ʼn groter oorlog, omdat ʼn “aanval op een as ʼn aanval op almal” beskou word.

Die geskiedenis van oorlog wys dat ʼn betreklik beperkte konflik tussen twee lande maklik na ʼn groter oorlog tussen grootmoondhede kan uitbrei. ʼn Toepaslike voorbeeld is die Krim-oorlog van die 1850’s tussen Rusland aan die een kant, en Brittanje, Frankryk, Turkye en Sardinië aan die ander kant.

Prof. Shepard Clough, professor in geskiedenis aan die Universiteit van Columbia, het die aanloop tot hierdie oorlog soos volg beskryf:

“The war was not the result of a calculated plan, nor even of hasty last-minute decisions made under stress. It was the consequence of more than two years of fatal blundering in slow-motion by inept statesmen who had months to reflect upon the actions they took. It arose from [some leaders’] search for prestige; the competing quest for control over the Straits; the mutual naïve miscalculation of the probable reactions of other powers; the failure of those powers to make their positions clear; and the pressure of public opinion in all countries at crucial moments.”

Hierdie woorde geld ook vir die huidige oorlog, omdat daar ʼn baie lang aanloop tot hierdie tragiese gebeure was waartydens dit voorkom moes word.

Doelwitte verander

Die Russe se doelwit was aanvanklik om te keer dat Oekraïne by Navo se militêre bondgenootskap aansluit. Dit sou uit die Russiese oogpunt ʼn “regstreekse gevaar vir Russiese veiligheid” word, in die woorde van president Wladimir Poetin.

Die Russe het hierdie doelwit nou geëskaleer tot ʼn militêre oorwinning en die besetting van grondgebied, veral in die Ooste waar daar ʼn groot aantal Russe woon.

Navo het aanvanklik net beoog om Oekraïne by te staan om ʼn Russiese oorwinning te keer en om ʼn gunstige vredesooreenkoms te help verseker. Intussen het die Weste se doelwit egter ook geëskaleer tot ʼn miltêre oorwinning en die uitskakeling van Rusland as ʼn groot moondheid.

Daar is normaalweg drie roetes na grootskaalse eskalasie wat deel van die dinamika van oorlog is:

  • Een of albei kante eskaleer die oorlog om te wen.
  • Een of albei kante eskaleer die oorlog om ʼn nederlaag te verhoed.
  • Die oorlog eskaleer onbedoeld, bv. as gevolg van ʼn onvoorsiene gebeurtenis wat tipies is van oorloë.

Verdedig na aanval

Die Weste het aanvanklik verdedigende wapens aan Oekraïne verskaf, soos tenks en lugverdedigingswapens. Nadat hulle doelwit na ʼn militêre oorwinning verander het, is groot hoeveelhede moderne aanvalswapens aan Oekraïne gestuur.

Die Amerikaanse staatsman, Henry Kissinger, se waarskuwende woorde oor die foute met die aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog van 1914, is vandag steeds van toepassing:

“They seemed oblivious to the huge casualties of the still relatively recent American Civil War, and expected a short, decisive conflict. It never occurred to them that the failure to make their alliances correspond to rational political objectives, would lead to the destruction of civilization as they knew it. Instead, the Great Powers managed to construct a diplomatic doomsday machine, though they were unaware of what they had done.”

Die Eerste Wêreldoorlog is ook ʼn les dat goeie bedoelings tot verskriklike uitkomste kan lei. Soos die Amerikaanse denker, Thomas Sowell, dit gestel het: “The First World War […] was said to be a war ‘to make the word safe for democracy.’ What it actually led to was the replacement of despotic dynasties by totalitarian dictatorships that were far worse”.

Een skoot, drie oorloë

Die moord op die Oostenrykse kroonprins, Frans Ferdinand, deur ʼn jeugdige Serwiese sluipmoordenaar op 28 Junie 1914, het ʼn ketting van gebeure aan die gang gesit. Dit het uiteindelik tot twee wêreldoorloë gelei waarin daar saam sowat 100 miloen mense gesterf het, en daarna die Koue Oorlog tussen Oos en Wes. Die einde van een oorlog het in die geskiedenis dikwels net as aanleiding tot die volgende gedien. Só het die verdrukkende vredesooreenkoms van die Eerste Wêreldoorlog ʼn bepalende rol in die ontstaan van die Tweede Wêreldoorlog gespeel. Daarna het die einde van hierdie oorlog weer die aanvang van die gevaarlike Koue Oorlog gemerk, wat die wêreld vir dekades in twee magsblokke verdeel het wat mekaar oor kernwapens aangegluur het.

Kernwapens

Die vraag is onder watter omstandighede een van die twee kante kernwapens sal aanwend. Die Weste maak gebruik hul volle arsenaal van ekonomiese en diplomatieke magsmiddele, en verskaf grootskaalse wapens en finansiële bystand aan Oekraïne, sonder om troepe te stuur

Uit die uitsprake van Westerse leiers blyk dit dat daar vier moontlike beweegredes is waarom die Weste self militêr betrokke kan raak: indien die oorlog lank aanhou; indien daar geen vooruitsig op ʼn diplomatieke oplossing of ʼn Oekraïense oorwinning is nie; indien die ekonomiese koste vir die Weste te hoog raak; of indien hulle desperaat is om die konflik vinnig te beëindig, byvoorbeelduit vrees dat die Chinese die krisis sal gebruik om ‘n aanslag op Taiwan te loods. Indien die Oekraïense leër in gevaar is om te verloor, kan die Weste ook inspring om ʼn nederlaag te voorkom. Die laaste moontlikheid is indien die Oekraïeners Russiese dorpe of stede aanval om ʼn groot Russiese teenreaksie te ontlok wat die Weste by die oorlog kan betrek.

Russiese kernwapens

President Poetin het reeds die strawwe Westerse sanksies as ʼn oorlogsverklaring beskryf, wat uit ʼn Russisese oogpunt die tafel dek vir moontlike kragdadige optrede teen Navo. Die Russiese militêre doktrine maak voorsiening vir omstandighede waaardie Russe kernwapens salaanwend. Dit is:

  • wanneer die Russe besluit om die vloei van Westerse wapentuig te stop, en dan ʼn Navo-land soos Pole, waardeur die wapens beweeg, aanval;
  • wanneer Navo-magte self tot die oorlog toetree;
  • om ʼn Russiese nederlaag te verhoed; en
  • indien die oorlog te lank en uitgerek raak dat hulle dit ten alle koste wil beëindig.

Die  (CIA) neem die gevaar van kernwapens so ernstig op, dat hulle al in 2022 gewaarsku het: “Niemand van ons kan die dreigende gevaar van die gebruik van taktiese kernwapens lig opneem nie.”

Taktiese kernwapens is kleiner wapens om stede of ʼn leër te vernietig, en is nie interkontinentale ballistiese missiele nie. Nogtans kan dit vinnig lei tot ʼn groter eskalasie waar nóg gevaarliker kernwapens gebruik kan word.

Ander moontlikhede

Die gevaar van ʼn eskalasie na kernwapens beteken gelukkig beslis nie dat dit noodwenig gaan gebeur nie. In die verlede was die grusame moontlikheid daarvan genoeg om dit te verhoed. Die Russe het wel reeds verskriklike skade in Oekraïne aangerig, maar was tot dusver baie huiwerig om die oorlog verder te eskaleer. Hulle het nog nie hulle volledige weermag ingestuur, groot getalle soldate opgeroep of ʼn “totale oorlog” verklaar nie.

Die beste afskrikking vir ʼn oorlog bly die lesse van die geskiedenis. Die probleem is dat daar nie oortuigende tekens is dat die hedendaagse wêreldleiers die historiese kennis het om oorloë te verhoed nie. Soos Thomas Sowell dit so treffend stel:

“The monumental tragedies of the 20th century — a world-wide Great Depression, two devastating World Wars, the Holocaust, famines killing millions in the Soviet Union and tens of millions in China — should leave us with a sobering sense of the threats to any society. But this generation’s ignorance of history leaves them free to be frivolous — until the next catastrophe strikes, and catches them completely by surprise.”

Die mensdom kan slegs hoop en bid dat die dreigende gevaar van ʼn eskalerende oorlog, ʼn kragtige aansporing vir die vegtende partye sal wees om voortydig ʼn diplomatieke oplossing te vind. In die praktyk sal ‘n “derde wêreldoorlog” gelukkig nie maklik uitbreek nie, omdat die VSA se militêre mag tans so oorweldigend is dat ander groot moondhede dit nie sommer sal uitdaag nie. Die sleutel tot blywende wêreldvrede was histories tweeledig: afskrikking van vyande, en gerusstelling dat daar nie ‘n aanval teen iemand beplan word nie. Die uitdaging vir die VSA is dus om China byvoorbeeld af te skrik, maar terselfderyd gerus te stel dat hulle nie aangeval sal word nie. Dan is die wêreld ‘n veiliger plek!

Akademia se nuwe kampus moontlik gemaak deur kulturele ekostelsel

Deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

 

Flip Buys, Dirk Hermann, Henk Schalekamp en Marthinus Visser.

In die politieke “wittebroodtydperk” van die Mandela-era ná 1994 het die Afrikaanse gemeenskap gevoel dat die stigting van onafhanklike Afrikaanse universiteite onnodig én boonop onmoontlik was. Onnodig, omdat die Grondwet uitdruklik voorsiening gemaak het vir Afrikaanse staatsuniversiteite en omdat daar skynbaar genoeg universiteite in die land was. Tweedens is dit as onmoontlik beskou omdat die stigting van ʼn nuwe universiteit sonder staatshulp eenvoudig te duur sou wees. Onafhanklike universiteite was boonop in Suid-Afrika grotendeels onbekend, anders as in baie ander dele van die wêreld.

Die werklikhede van sogenaamde “radikale transformasie” en ʼn geweldige toename in studentegetalle het egter reeds teen die vroeë 2000’s begin gewys dat ʼn nuwe Afrikaanse universiteit wél nodig was. Die suksesvolle stigting en groei van Akademia het terselfdertyd bewys dat dit inderdaad moontlik is. In Suid-Afrika is dit dikwels juis dít wat op die oog af moontlik lyk, wat in die praktyk onmoontlik word, en andersom: dit wat onmoontlik lyk, blyk tog moontlik wees.

Waarom die Solidariteit Beweging ontstaan het

Daar is twee hoofredes waarom Solidariteit, en later die breër Solidariteit Beweging, in die vroeë 2000’s tot stand gekom het. Eerstens het die stigters voorsien dat ʼn bevrydingsbeweging soos die ANC nie noodwendig ʼn moderne staat suksesvol sou kon regeer nie. Die Chinese wysgeer, Jia Yi, het al reeds twee eeue voor Christus daarop gewys dat die vereistes om ʼn land deur ʼn “struggle” oor te neem, lynreg bots met die vereistes om ʼn land doeltreffend te regeer.

Die tweede rede was omdat ons die ANC se woord gevat het dat hulle steeds ʼn rewolusionêre party is. Sulke partye is in wese sosialistiese sentraliste, en gebruik ʼn grondwetlike demokrasie om vryheid te ondergrawe. Dit sluit bepaald die vryheid in van taal- en kultuurgemeenskappe om besluite oor hulle grondliggende belange te neem en uit te voer. Rewolusionêre partye se regering “deur” die mense, word in die praktyk regering “oor” die mense. Die dienaars word die heersers.

Uitkoms

Die uitkoms van bykans drie dekades van die ANC-regering bevestig ongelukkig hierdie vrese. Die ANC kon nie die land doeltreffend regeer nie en het die demokratiese stelsel misbruik om vryheid te ondergrawe. Dink maar net aan die verwoestende gevolge van die inperking van ekonomiese vryheid – oftewel sakelui se vryheid om hul ondernemings sonder staatsinmenging te bestuur. Dit het ʼn beduidende rol gespeel in dekade lange ekonomiese stagnasie, rekordwerkloosheidsyfers en Suid-Afrika se status as een van die grootste uitvoerders van werkskeppers, belastingbetalers en hoëvlakvaardighede.

Die ANC het die pad van ʼn sogenaamde “ontwikkelingstaat” gevolg, soortgelyk aan die model wat onder meer in kommunistiese China toegepas is, waar staatsentiteite die ekonomie moes dryf. Die gevolge vir Suid-Afrikaanse staatsinstellings soos Eskom, Transnet, die Poskantoor en Denel is welbekend – om nie eens te praat van die verval van munisipaliteite en ander dele van die staatsdiens nie. Suid-Afrika moes eerder ʼn “ontwikkelingsamelewing” geword het, soos deur verskeie senior sakelui voorgestel, met restourasie eerder as transformasie as nasionale rigtingwyser.

Bevrydingsbewegings wat aan bewind kom, eindig dikwels in armoede en onderdrukking omdat hulle in die praktyk meer “gelykheidsbewegings” as vryheidsbewegings is. Hulle gebruik staatsmag om gelyke uitkomste af te dwing, met die gevolg dat individuele vryheid en algemene voorspoed skade ly. Die prosedurele vorm van demokrasie, soos gereelde verkiesings, bly staan, maar vryheid as die kern van demokrasie word ondermyn.

Daarby is wit Suid-Afrikaners se politieke, ekonomiese en kulturele vryhede nie deel van die ANC se toekomsvisie nie. In die nuutste (2025) weergawe van die ANC se “Strategy and Tactics”-dokument word die land steeds beskryf asof dit in die 1980’s vasgevang is. Wit mense word wel as deel van die samelewing geduld, maar is in werklikheid tweedeklasburgers oor wie se belange die regering min besorgdheid toon: “Die hoofdoel van ons vryheidstryd bly die bereiking van politieke- en ekonomiese vryheid van die onderdruktes – Afrikane in besonder en swart mense in die algemeen, binne ʼn samelewing waarvan die wit minderheid onlosmaaklik deel is.”

Daarom bly dit belangrik dat ons na ons eie belange omsien, waarvan ʼn wêreldklas Afrikaanse universiteit ʼn belangrike deel uitmaak.

Universiteite

Volgens denkers soos die Keniaan Ali Mazrui het universiteite in postkoloniale Afrika tipies deur agt fases beweeg:

  • Massifikasie deur “toegang vir almal”, dikwels via gratis studies
  • Kultuur van “slaag vir almal”
  • Sogenaamde “dekolonisering” van instellings
  • Aantasting van universiteitsoutonomie, akademiese vryheid en standaarde
  • Finansiële druk weens massifikasie en krimpende begrotings
  • Studente- en dosente-onrus
  • Toenemende regeringsbeheer
  • Opkoms van privaat universiteite wat staatsuniversiteite begin verbysteek
Die nuwe Akademia-kampus in wording.

Ekostelsel

Die strategiese uitdaging vir die Solidariteit Beweging was om volhoubare “staatsdienste” te lewer sonder staatsinkomste. Daarom moes ons eers stelselmatig ʼn omvattende kulturele ekostelsel bou, wat ons in staat sou stel om ʼn universiteit op te rig. Die gemeenskap moet eers die universiteit help voordat die universiteit die gemeenskap kan help.

Die beginpunt was om Solidariteit as ʼn “80%-organisasie” te stig uit verskeie Afrikaanse vakbonde, waarvan die eertydse MWU die bekendste was. ʼn “80%-organisasie verwys daarna dat die 80% middelgroep daarin moes tuisvoel, sonder die twee uiterste kante van die spektrum. Ons wou wegkom van die mislukte historiese verdelingslyne wat soveel skade aan Afrikaners én die land gedoen het.

Die volgende stappe was om binne Solidariteit ʼn Boufonds en Opleidingsfonds te stig, omdat gewone ledegeld vir lededienste bedoel was, en ook nie naastenby voldoende sou wees om ʼn universiteit te finansier nie.

Die derde stap was om die Solidariteit Helpende Hand te begin, om armoede wat ontstaan het as gevolg van die nuwe rassewette, die reuse-afskalings ná 1994 en die ekonomiese stagnasie teen te werk. Vierdens is die Helpende Hand Studietrust gestig om studielenings aan verdienstelike jongmense toe te ken sodat hulle kan studeer. Die hele idee is dat elke geslag die volgende geslag moet help om te studeer, en dat hulle daardie studiehulp wat aan hulle verleen is terugbetaal sodat die daaropvolgende geslag ook kan studeer. Die sukses van die Helpende Hand Studietrust is dat die terugbetalingskoers ʼn allemintige 99% is. Dit stel die Trust in staat om hierdie jaar sowat 1 200 studente met meer as R70 miljoen se studiehulp by te staan. Grootskaalse studiehulp is ʼn voorwaarde vir ʼn universiteit wat nie staatsfondse ontvang nie, anders kan net ʼn ryk elitegroep dit bekostig.

Die vyfde blokkie van die kulturele legkaart was die stigting van ʼn landswye netwerk van “Ons Winkels” – tweedehandse winkels onder die vleuel van die Helpende Hand. Die winste wat in hierdie winkels gemaak word, word in elke winkel se gebied aangewend vir maatskaplike dienste, en om deur die Studietrust jongmense van die omgewing te laat studeer.

Die Solidariteit Beleggingsmaatskappy (SBM) was die sesde stap in die ekostelsel. Die sewende stap was om onder die SBM-sambreel ʼn finansiëledienstemaatskappy te stig, waarvan die belang wat in die Afrikaanse versekeraar Virseker gehou word, die bekendste is. Die opbrengs van die Virseker Trust gaan vir Afrikaanse onderwys en opleiding, en word na Akademia, die Helpende Hand Studietrust en die Skoleondersteuningsentrum gekanaliseer.

Die agtste blokkie was die stigting van ʼn eiendomsmaatskappy, wat later tot Kanton Beleggings uitgebrei het. Kanton is ʼn eiendomsbeleggingsmaatskappy, en is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal waarin privaat beleggers belê vir ʼn wins én ʼn kulturele dividend. Kanton het al verskeie suksesvolle projekte ontwikkel, waarvan die bou van die wêreldklas Sol-Tech-kampus met hul koshuise die bekendste is. SBM bied, deur sy finansiëledienstemaatskappy, ook rentedraende lenings vir studente wat nie vir die Helpende Hand Studietrust se rentevrye studielenings kwalifiseer nie.

Die negende blokkie was die stigting van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), wat ten doel het om wêreldklas Afrikaanse onderwys te bevorder. Die rede hiervoor is dat goeie onderrig op skool ʼn voorvereiste vir goeie naskoolse onderrig is. Die SOS bedryf talle projekte, soos die gewilde Wolkskool, en het ook verskeie vakverenigings, soos die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers, wat voortgesette opleiding vir Wiskunde-onderwysers aanbied. Benewens ondersteuning aan Afrikaanse openbare skole, werk die SOS ook aan nuwe oplossings vir onderwys in Afrikaans.

Die tiende blokkie om die kulturele legkaart te voltooi, was die stigting van Akademia, vernoem na die eerste universiteit in die Westerse wêreld, Plato se Akademia wat in 387 voor Christus in Atene gestig is. Die bekende Aristoteles, leermeester van Alexander die Grote, het daar Wiskunde, Filosofie en Politiek studeer. Akademia sluit aan by die klassieke tradisie, en is gegrond op wêreldklas-opleiding en ook die breër vorming en toerusting van studente op ʼn Christelike grondslag. Akademia is ʼn nuwe universiteit wat 15 jaar gelede begin is, maar is op ou en tydlose fondamente gebou, om jongmense vir die toekoms toe te rus.

Eksterne ekostelsel

Die sukses van Akademia word nie net deur hierdie “interne” ekostelsel bepaal nie, maar ook deur ʼn eksterne kulturele ekostelsel, soos goeie skole, toegewyde leerders, betrokke ouers, ʼn helpmekaar-kultuur en werkgewers wat hierdie studente ʼn kans sal gee. Onafhanklike Afrikaanse trusts en sakelui wat die vennootskap tussen kultuur en kapitaal steun, speel ook ʼn onontbeerlike rol. Die feit dat Sol-Tech se studente reeds so gesog in die mark is, is ʼn goeie teken dat werkgewers selfs in ʼn tyd van rassewette, graag studente aanstel wat goed opgeleide en gevormde mense is.

Nuwe kampus

Akademia is deur die Solidariteit Beweging begin, maar is ʼn outonome hoëronderwysinstelling wat vir alle Afrikaanse studente oop is. Akademia het hierdie jaar sy eerste satelliet-kampus in Paarl in die Wes-Kaap geopen, en beplan om die huidige vyf fakulteite vinnig verder uit te brei. ʼn Belangrike rede vir Akademia se sukses is die topdosente wat aangestel is om aan ʼn wêreldklas universiteit te bou. Akademia het dus nie van “voor” af nuut begin nie, maar voortgebou op die akademiese werk wat oor baie jare opgebou is. Die afgelope jare is daar ook bande gebou met top- buitelandse universiteite. Akademia verwag hierdie jaar sowat 5 000 studente in totaal. Dit is hoekom nuwe en groter geriewe dringend noodsaaklik geword het. Die volgende stap vorentoe is Kanton Beleggings wat eersdaags begin om ʼn splinternuwe wêreldklas-kampus in die ooste van Pretoria te bou. Die eerste fase gaan sowat R1,8 miljard beloop, en gaan bykans twee jaar neem om te bou. Dit behels nuwe akademiese geboue, koshuise en al die moderne geriewe wat daarmee gepaardgaan. Daar word beoog om die kampus in 2028 in gebruik te neem.

Hierdie kampus is die grootse Afrikaanse bouprojek in baie dekades in Suid-Afrika, en is voorafgegaan deur twee dekades se opbou van hierdie omvattende ekostelsel wat nodig is vir kulturele selfverwesenliking. Hierdie ekostelsel maak ʼn wêreldklas, onafhanklike, klassieke Christelike Afrikaanse hoëronderwysinstelling moontlik. ʼn Taal het ʼn universiteit nodig vir sy voortbestaan, en ʼn universiteit het ʼn taal nodig om werklik wêreldklas te kan wees. Dit wys die sukses van talle mense wat in enkeltalige Afrikaanse universiteite opgelei is, maar wat nou met groot sukses hul kennis in ʼn ander taal toepas. Akademia is wel Afrikaans, maar studente bemeester terselfdertyd Engels om die oorgang na die wêreld van werk makliker te maak.

Hierdie kulturele ekostelsel se onderbou is skeppende vernuwing, gegrond op beproefde waardes. Die onderliggende filosofie is dat elke geslag dit wat hy van sy voorgeslagte gekry het moet bewaar, en dit dan in ʼn beter toestand vir die volgende geslag moet oorgee. Dít is ons Beweging se plegtige onderneming aan ons jongmense! Ons wil help om ʼn toekoms vir jongmense te skep, sodat hulle volhoubaar hier kan woon en werk, en sodoende ʼn blywende bydrae kan lewer tot die welstand van hulle gemeenskap, die land en al sy mense.

 

*Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging, en ʼn direksielid van Akademia en Kanton Beleggings.

Solidariteit Beweging se Nuwejaarsboodskap vir 2026: ‘Ons is verbind tot SA oplossings’

Die Solidariteit Beweging gaan in 2026 volstoom voort met ons strategie om ʼn omvattende kulturele ekostelsel vir Afrikaners se voortbestaan uit te bou. Die kern van ons kultuur is steeds “’n Boer maak ʼn plan.”

Terselfdertyd werk ons ook landswyd aan projekte ten bate van almal in Suid-Afrika en van ander Afrikaanssprekendes. Ons wag nie vir die regering om van die land ʼn beter plek te maak nie, maar slaan self die hand aan die ploeg. Daarom is ons leuse vir 2026 “Ons sal self!” Ons sal egter ook sáám met vennote werk wat wil saamwerk aan die herbou van die land.

Die grootste projek van ons Beweging is die bou van ʼn nuwe kampus vir Akademia, die grootste onafhanklike universiteit in die land. Daarbenewens gaan ons vanjaar groot uitbreidings aan Sol-Tech, ons beroepskollege, onderneem en ook die Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike en welstandsprojekte uitbrei. Groei van die Solidariteit Helpende Hand Studietrust is ʼn hoë prioriteit omdat al hoe meer mense nie meer naskoolse opleiding kan bekostig nie.

Solidariteit se werksnetwerk is ook hoog op die agenda, asook AfriForum se landswye buurtwagte en aksiespanne wat dienste in dorpe en stede verbeter. AfriForum gaan sy interkulturele projekte uitbrei om in ʼn gees van wedersydse erkenning en respek met ander gemeenskappe te skakel.

Daarmee tesaam gaan Afrikaanse onderwys in ʼn nog groter mate deur ons Skoleondersteuningsentrum (SOS) ondersteun word en gaan die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (die FAK) op groter skaal voort om die Afrikaanse taal, kultuur en erfenisse te bevorder en te bewaar. Daar is ook talle ander projekte wat vanjaar aangepak gaan word om groter kulturele outonomie te bevorder.

Suid-Afrika

Die Solidariteit Beweging glo dat Suid-Afrika se uitdagings ten beste aangepak kan word as Afrikaners by die land se heropbou betrek word. Tweedens is die herstel van die verhoudinge met die VSA noodsaaklik om die land se ekonomiese uitdagings te bowe te kom. Die oplossing vir albei hierdie uitdagings is om met een stem en een boodskap met die VSA-regering te gaan praat.

Ons Beweging verteenwoordig nagenoeg 2 miljoen Afrikaners. Ons is lojaal aan Suid-Afrika, selfs al is ons ontevrede met die ANC-geleide regering. Daarom glo ons dit is nie reg as gewone burgers die prys vir die ANC se swak regering én hul vyandige optrede teenoor die VSA as supermoondheid moet betaal nie. Ons glo dat die regering Suid-Afrika se nasionale belang eerste moet stel en nie die grootse ekonomie ter wêreld ten koste van duisende mense se werk en bestaan moet vervreem nie.

SA oplossings

Ons is verbind tot Suid-Afrikaanse oplossings vir Suid-Afrikaanse probleme, en vind dit jammer dat die ANC steeds weier om Afrikaners se grondwetlike regte te respekteer en ons as gelyke burgers te behandel. Ons verlang nie na die verlede onder die Nasionale Party en apartheid nie, maar sien nie uit na die toekoms onder die ANC en hulle rassesosialisme nie.

Daarom werk ons vir ʼn ander Suid-Afrika as die een wat nou bykans orals weens die ANC se korrupsie en swak regering verval. Ons praat nie namens alle Afrikaners of Suid-Afrikaners nie, maar ons glo dat dit ten behoewe van almal is as dit beter gaan met die land.

Daarom is ons van plan om ook met ander Afrikanergroepe, sowel as die breër Afrikaanse gemeenskap en ander kultuurgemeenskappe in die land saam te werk en om saam aan oplossings vir knelpunte te werk.

Ons vind dit jammer dat die VSA strafmaatreëls teen Suid-Afrika ingestel het omdat dit derduisende onskuldige mense, waaronder baie van ons eie lede en ondersteuners, benadeel. Ons glo dat dit ook in die VSA se belang is om goeie betrekkinge met Suid-Afrika as die grootste ekonomie in Afrika te handhaaf.

Afrikaners

Die Trump-administrasie het Suid-Afrika ʼn fokuspunt van Amerikaanse buitelandse beleid gemaak en het terselfdertyd Afrikaners uitgesonder vir ondersteuning en beskerming. Die ANC-regering se verskil hiermee verander niks aan die werklikheid daarvan nie.

Suid-Afrika is ʼn onafhanklike en soewereine land en het die reg om sy eie beleid te bepaal. Die uitdaging lê daarin dat dit ernstige gevolge vir ʼn klein land se mense inhou as sy regering vyandig teenoor ʼn supermoondheid optree. Ons wil ook nie hê dat die VSA vyandig teenoor Suid-Afrika moet optree nie.

Daarom wil ons Beweging, as die grootste georganiseerde groep Afrikaners, daadwerklik help om die konflik met die VSA te ontlont. Dit sal moontlik wees indien die ANC bereid is om ons billike en grondwetlike eise vir kulturele outonomie te respekteer. ʼn Kultuurakkoord met Afrikaners kan die weg baan om die Amerikaanse regering gesamentlik te nader met ʼn handelsooreenkoms wat in belang van die land en al sy mense sal wees.

Die Afrikaner Verklaring

Dit is nodig om daarop te wys dat ʼn wyd verteenwoordigende groep Afrikaners bykans twee jaar gelede reeds ʼn hand van vriendskap en samewerking na die regering uitgesteek het, ʼn hand wat die ANC ongelukkig nie geneem het nie. Die Solidariteit Beweging was betrokke by die opstel van die Afrikaner Verklaring en is ‘n ondertekenaar van dié verklaring wat vroeg in 2024 uitgereik is.

Dit het onder meer ons verbintenis tot Suid-Afrika en ʼn aanbod om in ʼn gees van wedersydse erkenning en respek te help om die krisisse wat almal in die land raak, op te los. In hierdie verklaring onderskryf ons ook die gelykwaardigheid van alle gemeenskappe in die land as grondslag vir ons almal se deelname aan die mensdom. Terselfdertyd het ons dit ook duidelik gestel dat ʼn rassebedeling nie versoenbaar is met ʼn grondwetlike demokrasie, ʼn werkende staat en ʼn groeiende ekonomie wat vir al sy mense kan sorg nie.

Die Afrikaner Verklaring meld ook dat ons dit betreur dat van ons volksgenote die land teen hulle sin moes verlaat omdat hulle nie meer ʼn toekoms hier gesien het nie. Ons voel steeds dat die omstandighede eerder geskep moet word dat Afrikaners volhoubaar vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika kan bly sodat ons ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense sal kan lewer.

Die ANC het ongelukkig ons hand van samewerking afgewys deur selfs onder ʼn regering van nasionale eenheid wetgewing teen Afrikaanse skole, oor onteiening en selfs skerper rassewette in te stel.

Die uitkomste van die ANC se beleidsrigtings is die beste aanduider daarvan dat ANC-beleid misluk het en selfs die teenoorgestelde uitwerking het as wat daarmee beoog is. Ons glo steeds dat restourasie die beste model is om die krisisse, soos armoede, werkloosheid en ongelykheid, wat ons land teister aan te pak, veel eerder as die transformasiemodel wat gevolg word en wat homself as deel van die probleem eerder as die oplossing bewys het.

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.