Die Solidariteit Beweging betreur die moord op Amerikaanse aktivis, Charlie Kirk

Die Solidariteit Beweging spreek sy innige meegevoel uit ná die tragiese sluipmoord op die konserwatiewe Amerikaanse politieke aktivis, Charlie Kirk (31).
Charlie, die stigter en uitvoerende hoof van Turning Point USA, ʼn invloedryke konserwatiewe jeugorganisasie, is op die verhoog by ʼn byeenkoms by die Utah Valley-universiteit doodgeskiet.
Ons spreek ons opregte en innige medelye uit aan sy familie, vriende en almal wat hom liefgehad het. Miljoene mense regoor die wêreld rou saam oor hierdie onverwagse en tragiese verlies.
Charlie was ʼn vriend van die Afrikaner – ʼn voorstander van samewerking, dialoog en politieke betrokkenheid. In hierdie donker tyd word ons herinner aan hoe kosbaar politieke verdraagsaamheid is; dat verskille met respek hanteer moet word en dat ʼn vreedsame samelewing nie as vanselfsprekend beskou moet word nie.
Mag sy familie troos en krag vind, en mag ons almal op die voorbeeld van verdraagsaamheid en menslikheid wat Charlie beklemtoon het, voortbou.
Die Solidariteit Beweging staan in hierdie moeilike tyd saam met diegene wat treur.

Solidariteit Beweging stel digitale kultuurtuiste bekend vir Afrikaners wêreldwyd

Die Solidariteit Beweging het Dinsdag ’n splinternuwe digitale kultuurtuiste bekendgestel wat Afrikaners wêreldwyd tot ’n lewende gemeenskap verbind wat kultuur, Afrikaans en betrokkenheid bevorder en ondersteun.
MyHartland is gebore vanuit die droom om Afrikaners regoor die wêreld met mekaar en hulle tuisland – oftewel Hartland – te verbind, maak nie saak waar hulle hulself bevind nie.
Navorsing wat deur die Solidariteit Beweging onderneem is, het gevind dat Afrikaners in baie gevalle geïsoleerd voel wanneer hulle emigreer, en veral ’n hunkering het na hul taal, kultuur, familie en alles wat Afrikaners uniek maak.
Die Solidariteit Beweging het ook na suksesvolle projekte van ander lande soos Armenië, Indië, Ierland, Hongarye, Italië en Israel, wat hul diasporas tot wedersydse voordeel saamsnoer, gekyk.
Dié navorsing het bygedra tot die ontwikkeling van MyHartland en die aanbod wat daarin verpak is.
Dié kultuurtuiste laat Afrikaners toe om ook digitaal ʼn kultuurburger te word en bied hulle die geleentheid om deel te wees van iets groter deur by verskeie projekte betrokke te raak wat ’n wesenlike verskil in die lewe en toekoms van Afrikaners en Afrikaanse gemeenskappe kan maak.
“Iets wat ons die meeste vanuit die navorsing bekommer het, was tweede generasie vervreemding en Afrikaners in die buiteland se behoefte om die Afrikaanse taal en kultuur by hul kinders in te burger – en die uitdagings wat daarmee saamgaan om dít suksesvol te kan doen,” sê Marisa Engelbrecht, internasionale skakelbeampte by die Solidariteit Beweging.
“Ons het só baie opwindende projekte en hulpmiddels in die Solidariteit Beweging wat ons maklik vir ons mense in die buiteland kon herverpak. In dieselfde asem was daar ook ’n behoefte van ons mense in die buiteland om steeds betrokke te wees by plaaslike projekte. Baie Afrikaners het nog familie en vriende in Suid-Afrika en wil graag bydra tot suksesvolle kultuurprojekte hier.”
MyHartland is ook nie net op sekere Afrikaners gemik nie: Of jy tydelik of permanent, lank gelede óf meer onlangs na die buiteland verhuis het – MyHartland is vir jou.
Hier kan Afrikaners onder meer na radiovervogverhale en boekvoorlesings luister, Afrikaanse programme kyk, in hulle Moedertaal op hoogte van die jongste nuus en geleenthede bly, meer oor die Afrikanerkultuur, huidige projekte en geleenthede leer, boerekosresepte ontdek en deel, en selfs hulle eie storie neerpen.
Die kinderhoekie op die MyHartland-blad bied ook hope vermaak, lees- en leerstof vir die kleinspan, wat beslis ’n passie vir Afrikaans en die Afrikanerkultuur by hulle sal kweek.
“Ons wil Afrikaners help om hul taal, tradisies en waardes lewendig te hou – ook vir die tweede en derde generasies wat in die buiteland grootword.
“MyHartland wil die brug wees tussen emosionele verbondenheid en praktiese bydrae, sodat mense nie net nostalgies terugkyk nie, maar aktief kan help bou. Ons planne is nog baie groot en hierdie is slegs die wegspringpunt. Ons sal natuurlik ook baie graag van ons mense in die buiteland wil hoor – wat hulle kultuurbehoeftes is, waarvan hulle meer wil sien, wat hulle nodig het om ons taal en kultuur by ons kinders en jongmense lewendig te hou ensovoorts,” sê Engelbrecht.
Sonder ’n gedeelde platform soos MyHartland bly gemeenskappe losstaande en individue vervreem. MyHartland wil die sentrale plek wees waar Afrikaanse mense hulself aanlyn oor grense heen kan herorganiseer.
Dié platform is vir diegene wat weg is, maar nie noodwendig “weg” van hul mense, taal en kultuur wil wees nie.
“As jy al ooit verlang het na ’n braai saam met jou mense, ’n Geloftedagviering met jou kinders, of as jy bloot met iemand, wat regtig verstaan hoe jy voel, wil skakel, dan is MyHartland vir jou,” sê Engelbrecht.
Daar is verder verskeie projekte waarby jy as digitale kultuurburger betrokke kan raak, insluitend:
  • Noodvoeding by behoeftige Afrikaanse skole: Kosblikkieprojek
  • Plaas- en gemeenskapsveiligheid
  • Afrikaanse onderwys
  • Studiefondse vir behoeftige studente
  • Regsfonds om rassekwotas en korrupsie te beveg
  • Bevordering van Afrikaans as taal
  • Erfenisbewaring: Voortrekkermonument

Gekaapte dialoog: Solidariteit Beweging, Solidariteit en AfriForum onttrek aan konferensie

Hoewel die Solidariteit Beweging, AfriForum en Solidariteit in die beginsel van gesprekvoering en dialoog glo, is dit duidelik dat die sogenaamde Nasionale Dialoog deur die ANC gekaap is. Daarom sal dié organisasies nie Vrydag aan die eerste konferensie van die Nasionale Dialoog deelneem nie. Die instellings ondersteun ook organisasies soos die Thabo Mbeki-stigting, wat dieselfde besluit geneem het.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is nasionale gesprekke om oplossings vir die land se knellende krisisse te vind noodsaaklik, maar alles dui daarop dat die Nasionale Dialoog op hierdie stadium net op nóg nuttelose gesprekke, in plaas van aksie, gaan uitloop.

“Die rede hiervoor is dat dit blyk dat die ANC die beoogde Nasionale Dialoog wil kaap om verlore steun te probeer terugwen, eerder as om antwoorde vir die krisisse te vind,” sê Buys.
“Daarom steun die Solidariteit Beweging die onderskeie stigtings wat besluit het om nie Vrydag die Dialoog by te woon nie, en sal ons ook nie daar wees nie. Daar is nie sin daarin om die party wat vir die verval in die land verantwoordelik is, in beheer van ʼn Nasionale Dialoog te plaas nie.”

Buys sê die ANC hamer nou op die noodsaaklikheid van deelname aan die Nasionale Dialoog, terwyl die party oor die afgelope dekades nie bereid was om in goeie trou met ander belanghebbendes te praat en na hul voorstelle te luister nie.

“Die ervaring is dat die ANC eerder ʼn ANC-monoloog voer as om aan nasionale dialoë deel te neem. Die ANC het alle vorige gesprekke oorheers en dit bloot as forums gebruik om hul beleid te probeer verkoop, eerder as forums waar hulle kon luister na voorstelle oor hoe om hul onwerkbare beleid aan te pas. Daarby is die ondervinding dat ooreenkomste wat wel bereik is, kort daarna deur die ANC verbreek is, om maar net weer alleen in hul sosialistiese doodloopstraat voort te strompel en die land saam te sleep.”

Buys sê die Solidariteit Beweging sal daarom ʼn wag-en-kyk-benadering, ten opsigte van die Nasionale Dialoog, inneem.

“Ons is te besig met werk om die gevolge van mislukte ANC-beleide te probeer aanpak en het nie tyd om vir weke en maande lank na hul uitgediende blaampolitiek en ʼn herhaling van verbeeldinglose idees te luister nie.
“Ons ondervinding is dat ‘gemeenskapsdialoë’ meer vrugte kan oplewer as ʼn staatsdialoog, en dat gesprekke tussen gemeenskappe meer praktiese resultate voortbring. Daarom beplan ons om, in samewerking met ander kultuurgemeenskappe, ʼn standpunt oor die land se knellende vraagstukke by die Nasionale Dialoog in te dien, maar ons gaan nie Vrydag deelneem nie.”

Die ANC het intussen nog geen aanduidings gegee dat hulle oor mislukte beleidsrigtings gaan herbesin nie. Die beste aanduidings is dat hulle sedert die totstandkoming van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) nog steeds voortgaan asof hulle alleen regeer, en dat hulle eerder die land die teiken van Amerikaanse sanksies sal maak as om beleidsaanspassings in belang van die land te maak.

“Die land het nuwe en vars idees nodig omdat die ou ANC-idees misluk het, en dit sal geensins van enige nut wees om hierdie idees net weer te laat hersirkuleer nie. Miljoene mense het nou al lank genoeg onder die ANC se leierskap gely,” sê Buys.

Mense wil oor ʼn ander soort bedeling praat

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die Nasionale Dialoog het ʼn staatsdialoog geword omdat die regering nie werklik aan ʼn oop dialoog wil deelneem nie, maar hul eie agenda najaag.

“Mense praat in werkplekke, om die braaivleisvuur, by sportbyeenkomste en kerke oor ʼn versugting na ʼn ander bedeling. Die staat hoor dit en wil daardie spontane gemeenskapsdialoog kaap.
“Daar is in die Uniegebou deur die president daaraan geboorte gegee. Die oomblik toe dit gebeur het, is die Nasionale Dialoog doodgebore.”

Volgens Hermann het die behoefte aan dialoog juis uit die gemeenskap gekom.

“Van die stigtings was sentraal daartoe. Dit is juis as gevolg van ʼn diep breuk met die regering dat mense oor ʼn ander soort bedeling wil praat. Die regering voel bedreig deur dié soort dialoog en het besluit om die dialoog te kaap,” sê Hermann.

Hy benadruk dat die instellings se nie-deelname aan die Nasionale Dialoog nie teen dialoog is nie, maar vir dialoog.

“Die stem van mense kan nie stilgemaak word deur dit te probeer reguleer nie. Solidariteit en die groter Solidariteit Beweging praat graag. Ons gaan met vakbonde, stigtings, kultuurgemeenskappe en ander burgerlike organisasies praat.
“Ons gaan oor die frustrasie van die groter gemeenskap met die ANC-geleide regering praat, en ons praat gaan nie gekaap word nie. Ons sal deelneem aan gemeenskapdialoog, maar nie staatsdialoog nie,” sê Hermann.

ANC kan nie met proses vertrou word nie

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die krisis waarin die land nou is, is weens die ANC se mislukte beleidsrigtings, wanbestuur en korrupsie.

“Hulle is die oorsaak van die probleme en daarom kan hulle nie vertrou word om die proses te lei om oplossings te vind nie.”

Kriel benadruk dat president Cyril Ramaphosa en sy ANC-geleide regering se kaping van die voorbereidings van die Nasionale Dialoog tot gevolg het dat dié dialoog nou in ʼn regeringsgedrewe nasionale monoloog ontaard het.
Kriel sê voorts dat die presidensie se ignorering van die onderskeie stigtings van voormalige leiers se geregverdigde kommer oor die staat se kaping van die gesprek,ʼn aanduiding is dat daar geen belangstelling in werklike dialoog is nie, maar dat die voorgenome gesprek bloot as ʼn platform moet dien om die president en die ANC se politieke agenda te dien.

“Indien die presidensie nie ernstig oor die noodsaak van werklike dialoog met gemeenskappe is nie, beteken dit nie dat AfriForum en die Solidariteit Beweging ook nie ernstig daaroor is nie.
“Ons is juis ernstig oor dialoog en daarom het AfriForum sy bestaande program om ooreenkomste met talle kultuurgemeenskappe te sluit, versnel. Hierdie poging het reeds tot sinvolle dialoog tussen gemeenskappe gelei, wat praktiese landbou- en ander projekte op grondvlak tot stand gebring het.”

Volgens Kriel is dit noodsaaklik om te praat om oplossings te vind. AfriForum beklemtoon dus dat die Nasionale Dialoog van ʼn staatsgedrewe proses na ’n burgergedrewe proses moet skuif.

“Ons gaan intussen volstoom voort met gesprekke met ander kultuurgemeenskappe vir werklike dialoog, maar ook vir gesamentlike projekte.”

Buys sê voorts dat dit dringend noodsaaklik is dat opregte gesprekke oor nasionale vraagstukke plaasvind, en dat dit uitloop op ooreenkomste en die noodsaaklike hervormings wat nodig is om ʼn glybaan na ʼn Zimbawe-scenario te verhoed.

“Die ANC is vir die meeste krisisse verantwoordelik en kan dit nie alleen oplos nie. Daarom is ons bereid om in landsbelang saam te praat oor oplossings, maar dan moet dit nie ʼn ANC-geleide proses wees wat maar net weer in ʼn doodloopstraat sal beland nie. Ons kinders verdien beter,” sluit Buys af.

VSA-tariewe: ANC-politiek ondermyn SA ekonomie

Politieke oorwegings weeg swaarder as ekonomiese faktore wanneer dit by die VSA-tariewe kom. Senior ANC-leiers soos Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, en Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne, hou aan om die VSA te beledig in plaas daarvan om diplomatieke verhoudinge te bou.

Dít ten spyte van VSA-leiers wat gewaarsku het “you’re not going to insult America for free”.
Hul openlike politieke weersin in die VSA-regering ondermyn die Suid-Afrikaanse ekonomie en veroorsaak nóg groter werkloosheid. Hul pogings om die ANC se politieke probleme op te los, gaan tot ekonomiese krisisse lei wat meestal hul kiesers gaan raak.

Terselfdertyd weier die ANC om die VSA se aandrang op noodsaaklike politieke hervormings ernstig op te neem en hanteer dit bloot as ʼn ekonomiese kwessie.
Die ANC is klaarblyklik vasgevang in die Koue Oorlog-era. Hulle bly klou aan die destydse anti-Westerse politieke beleide en alliansies, ten spyte van die ekonomiese krisis wat hulle veroorsaak.

Hul benepe rassebeleid gaan veel meer oor hul historiese anti-Westerse houding as oor regstelling. Hul vyandigheid strek tot die geboelie van wit burgers van Suid-Afrika as deel van hul diepgewortelde weersin in die Weste.

Die ANC probeer vergeefs om die winde van verandering te weerstaan en dink hulle is steeds die liefling van die wêreld. Daarom soek hulle aanhoudend en onnodig skoor met ʼn supermoondheid. Hierdie benadering gaan nog ernstige gevolge hê, en hulle gaan skoppend en skreeuend die toekoms ingesleep word.

Die ANC sal nog leer: Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie, en die toekoms gaan nie vanself regkom nie.

Nasionale Dialoog: Solidariteit Beweging sê oor deelname

Die Solidariteit Beweging glo dat nasionale gesprekke om oplossings vir die land se knellende krisisse te kry, noodsaaklik is, maar dit lyk asof die Nasionale Dialoog net op nóg nuttelose gesprekke in plaas van aksie gaan uitloop. Die rede hiervoor is dat dit blyk dat die ANC die beoogde Nasionale Dialoog wil kaap om verlore steun te probeer terugwen, eerder as om antwoorde vir die krisisse te vind.
Die ANC gee nou hoog op oor die noodsaak van deelname aan die Nasionale Dialoog, maar was oor die afgelope dekades nie bereid om in goeie trou met ander belanghebbendes te praat en na hulle voorstelle te luister nie. Die ervaring is dat die ANC eerder ’n ANC-monoloog voer as om aan nasionale dialoë deel te neem.

Die ANC het alle vorige gesprekke oorheers en dit bloot as forums gebruik om hul beleid te probeer verkoop, eerder as forums waar hulle kon luister na voorstelle oor hoe om hul onwerkbare beleid aan te pas.

Daarby is die ondervinding dat ooreenkomste wat wel bereik is, kort daarna deur die ANC verbreek is, om maar net weer alleen in hul sosialistiese doodloopstraat voort te strompel en die land saam te sleep.
Daarom sal die Solidariteit Beweging ’n wag-en-kyk-benadering ten opsigte van die Nasionale Dialoog inneem. Ons is te besig met werk om die gevolge van mislukte ANC-beleid te probeer aanpak, en het nie tyd om vir weke en maande lank na hul uitgediende blaampolitiek en ’n herhaling van verbeeldinglose idees te luister nie.

Ons ondervinding is dat “gemeenskapsdialoë” meer vrugte oplewer as ’n staatsdialoog, en dat gesprekke tussen gemeenskappe meer praktiese resultate voortbring.

Daarom beplan ons om in samewerking met ander kultuurgemeenskappe ’n standpunt oor die land se knellende vraagstukke by die Nasionale Dialoog in te dien, en aanvanklik slegs ’n waarnemer na die Dialoog te stuur voordat ons oor deelname sal besluit.

Die ANC het nog geen aanduiding gegee dat hulle oor mislukte beleidsrigtings gaan herbesin nie. Die beste aanduidings is dat hulle sedert die totstandkoming van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) nog steeds voortgaan asof hulle alleen regeer, en dat hulle eerder die land die teiken van Amerikaanse sanksies sal maak as om in landsbelang beleidsaanspassings te maak. Die land het nuwe en vars idees nodig omdat die ou ANC-idees misluk het en dit geensins van enige nut sal wees om hierdie idees net weer te laat hersirkuleer nie. Miljoene mense het nou al lank genoeg onder die ANC se leierskap gely.

Meeting between the ANC, PAC and the Afrikaner Leadership Network

Last night the African National Congress (ANC) met with the Afrikaner Leadership Network which includes
the Solidariteit Movement, Solidariteit, AfriForum, the Afrikanerbond and SAAI, to discuss matters of common interest to our
country.

The meeting was facilitated by the Pan Africanist Congress (PAC) which had held prior meetings
with the ANC and the Afrikaner Leadership Network.

The respective parties held robust and frank discussions on various issues of national interest. Today’s
dialogue is a clear indication that as South Africans, we have a collective responsibility to address the
challenges that our nation faces.

The parties have identified issues around which we are committed to find South African solutions, in the interest of a diverse and united nation.

On behalf of the Afrikaner Leadership Network
Theuns Eloff
0828064956

Links, regs en die nuwe realiteit

Werner Human

Bron: Maroela Media

 

Die terme links, regs en verregs word al vir ʼn geruime tyd wyd in die internasionale politieke diskoers gebruik – ook in Suid-Afrika. Dit lei dikwels tot groot frustrasie aangesien talle wanopvattings en onwaarhede aan hierdie begrippe gekoppel word.

In Suid-Afrika word enige standpunt wat nie met die ANC se sterk linkse beleidsvertrekpunte ooreenstem nie met allerlei beskuldigings gepeper en aangedik deur aanklagte van “anti-transformasie,” “teenrevolusionêr,” “rassisme” en ander soortgelyke skelname. Onlangs het ʼn ou gunsteling weer sy opwagting gemaak toe die presidensie na die Solidariteit Beweging se besoek aan die VSA verwys het as ʼn “terughunkering na apartheid”.

Onderliggend aan dit alles is die beskouing dat linkse politieke ideale ʼn diep omgee vir ander veronderstel, vooruitgang en voorspoed bewerkstellig en die veiligheid van mense bevorder. Teenstellend kan daar nie genoeg beskrywings gelys word nie waarin regs en verregs as rassisties, gevoelloos, onderdrukkend, abnormaal en sommer botweg as boos voorgehou word.

Die morele aansprake wat met linkse politieke ideale vereenselwig word, het natuurlik tot gevolg dat alles wat buite daardie raamwerk val, vanselfsprekend niemoreel of selfs immoreel is.

En dit is juis hierdie verstaan van die verdeling tussen links en regs op die politieke spektrum – en hoe dit die afgelope dekades uitgespeel het – wat tans uitgedaag word.

Die verkiesing en herverkiesing van Donald Trump is ʼn sprekende voorbeeld hiervan.

ʼn Verdere voorbeeld is die reeks verkiesings vir die Europese Parlement waarin die uitslae van links na die meer behoudendende partye verskuif wat verkies word of deel van koalisies vorm.

Selfs die nasionale verkiesing in Suid-Afrika is ʼn teken dat die linkse politieke ideale die morele aanspraak op openbare en private aangeleenthede begin verloor, en daarmee tesaam, die greep op samelewings en gemeenskappe.

Die foutlyne in die post-Koue Oorlog-era

Die probleem met die hedendaagse “links-regs”-onderskeid lê nie daarin dat daar ʼn onderskeid tussen links en regs in die politieke diskoers kan bestaan nie. Dit op sigself is nie problematies om in die breë na die linker- of regterkant van die politieke spektrum te verwys, of om jouself daarmee te vereenselwig nie. Die werklike probleem ontstaan wanneer die morele vertrekpunte wat aan hierdie posisies gekoppel word nie krities bevraagteken word nie.

Die herwaardering van die tradisionele links-regs-politieke spektrum vereis ʼn ontleding van die nuwe era waarin ons ons tans bevind.

Dit is belangrik om te beklemtoon dat die wêreld – en Suid-Afrika – nie bloot deur ʼn tyd van verandering gaan nie, maar dat ons werklik ʼn verandering van die tyd self beleef.

Die vorige tydvak wat ʼn omwenteling van hierdie aard teweeggebring het, het gekom met die val van die Berlynse Muur wat die einde van die Koue Oorlog ingelui het. Soos vandag, het baie mense destyds geworstel met die vraag oor wat die nuwe era sou inhou en watter vorm dit uiteindelik sou aanneem.

Een van die mees invloedryke denkers in hierdie oorgangstyd was die politieke wetenskaplike Francis Fukuyama. In sy boek The End of History and the Last Man (1992) stel hy die uitgangspunt dat die verloop van geskiedenis gesien kan word as ʼn proses van uitskakeling – waarin verskillende regeringsvorms met verloop van tyd ten opsigte van hul werkbaarheid getoets is.

Fukuyama voer aan dat die politieke ontwikkeling van die mensdom uiteindelik tot ʼn liberale demokrasie as die finale vorm van regering lei. Hy skryf (eie vertaling): “Wat ons moontlik tans beleef, is nie bloot die einde van die Koue Oorlog nie … maar die eindpunt van die mensdom se ideologiese ontwikkeling en die universalisering van Westerse liberale demokrasie as die finale vorm van menslike regerings”.

Die Westerse liberale demokrasie het sy oorsprong in die tydperk van die Verligting, en volgens Fukuyama is dit die regeringsvorm wat ten beste aan die mens se diepste behoeftes voldoen – naamlik erkenning en ekonomiese welvaart. Juis daarom, meen hy, kan die liberale demokrasie as ʼn universele model beskou word wat deur uiteenlopende samelewings aanvaar en geïmplementeer kan word.

Die kernargument van Fukuyama se invloedryke werk is destyds wyd aanvaar as die mees gesaghebbende beskrywing van die post-Koue Oorlog-orde. Dit is egter belangrik om daarop te let dat hy ook verskeie waarskuwings gerig het – onder meer oor die moontlikheid van etniese konflik in verskeie dele van die wêreld wat die verspreiding van die Westerse liberale demokrasie kan knel, sowel as oor kapitalisme wat met politieke mag vervleg word en moontlik ʼn nuwe vorm van outoritêre regering tot gevolg kan hê.

Fukuyama se sentrale uitgangspunt bly egter sy stelling dat die Westerse liberale demokrasie universeel aanvaar kan word en dat die verdere verloop van die geskiedenis uiteindelik in hierdie regeringsvorm sou oorgaan.

Sedert die beëindiging van die Koue Oorlog en die gelyktydige opkoms van die liberale wêreldorde het dit egter al hoe duideliker geword dat verskeie faktore – soos nasionale veiligheidsoorwegings, staatsoewereiniteit, die deurslaggewende rol wat kultuur en kultuurverskille wêreldwyd speel, die belang van Westerse erfenis in Westerse lande en die rol van godsdiens – Fukuyama se uitgangspunte tot ʼn groot mate bevraagteken of selfs ondermyn het.

Twee van Fukuyama se tydgenote het die post-Koue Oorlog-wêreldorde op ʼn heel ander manier benader.

John Mearsheimer, verbonde aan die Universiteit van Chicago, het reeds in 1990 – enkele maande ná die val van die Berlynse Muur – in sy invloedryke essay Back to the Future, sy kommer uitgespreek oor sekere scenario’s wat in die nuwe wêreldorde kon ontstaan.

Volgens Mearsheimer is die liberale ekonomiese orde wat deur Fukuyama voorgehou word nie in staat om werklike vrede en veiligheid te verseker nie. Die primêre waarborg vir vrede lê nie in die afskaal van veiligheidsbelange deur wêreld- of streeksmagte nie, maar in die handhawing van hierdie oorwegings as kernvoorwaarde vir blywende stabiliteit.

Ekonomiese liberalisme gaan van die aanname uit dat vrye handel tussen state, saam met die interafhanklikheid wat dit meebring en die groeiende mag wat daarmee gepaardgaan, uiteindelik die hoogste graad van vrede en voorspoed tot gevolg sal hê. Mearsheimer bevraagteken egter hierdie uitgangspunt fundamenteel.

Dit is inderwaarheid die breër politieke omgewing wat die deurslag gee aangesien dit oor veiligheid, sekuriteit en uiteindelik oorlewing handel. Binne die groter ekonomiese sfeer bring interafhanklikheid egter ʼn mate van afhanklikheid mee, en wanneer daardie afhanklikheid oorgaan in volslae afhanklikheid word staatsoewereiniteit ondermyn – wat weer die veiligheid van lande in gevaar stel.

Daarom voer Mearsheimer aan dat, alhoewel die liberale ekonomiese orde moontlik nie onmiddellik tot grootskaalse oorloë sal lei soos dié in die eerste helfte van die twintigste eeu nie, die potensiaal vir konflik onder so ʼn orde selfs groter kan wees as gedurende die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog.

Met die oog op die huidige wêreldpolitieke landskap is die waarde van Mearsheimer se insigte van 35 jaar gelede besonder relevant. Sy kritiek op die ekonomiese liberale orde dui daarop dat die stelsel se neiging om state se veiligheidsoorwegings te onderskat, juis die ruimte vir groter spanning en konflik skep.

Samuel Huntington, ook ʼn toonaangewende stem in daardie tyd, voer in teenstelling met die posisie wat Fukuyama voorhou, aan dat die ganse wêreld nie maklik met Westerse liberale denke versoen kan word nie.

In sy boek Clash of Civilisations (1996) skryf Huntington: “Westerse universalisme is gevaarlik vir die wêreld omdat dit ʼn globale oorlog tussen beskawings kan ontketen. Dit is gevaarlik vir die Weste self omdat dit tot die Weste se eie ondergang kan lei.” En voorts: “Die voortbestaan van die Verenigde State en die Weste vereis die hernuwing van Westerse identiteit. Die veiligheid van die wêreld vereis die aanvaarding van globale veelbeskaafdheid. Die poging om Westerse politieke en ekonomiese waardes op ander beskawings af te dwing, is beide nutteloos en moreel onverdedigbaar.”

Waar Mearsheimer ʼn meer realistiese posisie inneem deur te pleit dat die politieke omgewing wat vir veiligheid en soewereiniteit van magte daargestel word die botoon moet voer vir blywende vrede, voer Huntington aanvullend tot die posisie aan dat kultuur- en beskawingswerklikhede insgelyks verreken moet word om vrede en verdraagsaamheid te bevorder.

Die toepassing van Mearsheimer en Huntington in die post-Koue Oorlog-era

Heelwat van die bekommernisse van Mearsheimer en Huntington is bewaarheid. Die uitbreiding van Navo het ʼn bydraende rol tot die aggressie van Rusland gespeel, veral met verwysing na die anneksering van die Krim-skiereiland in 2014 in Oekraïne en die oorlog wat Rusland in Oekraïne sedert 2022 voer.

Rusland se aggressie dui ook op die verwerping van Westerse universaliteit en die heropkoms van kultuur wat ʼn kernrol in internasionale betrekkinge speel.

Die Westerse beskawing worstel tans met die behoud van sy eie identiteit onder die druk van immigrasie, globalisering en universele aansprake van die liberale wêreldorde.

In hierdie konteks kan die verkiesing van Donald Trump in 2016 ʼn keerpunt verteenwoordig. Trump se veldtog is telkens gebou op die beginsels van ekonomiese nasionalisme, kulturele bewaring en die herbevestiging van ʼn Westerse (en spesifiek Amerikaanse) identiteit. Slagspreuke soos “Make America Great Again” en “America First” spreek tot ʼn breër behoefte aan kulturele erkenning en grensoorkoepelende selfbehoud. Vir Huntington sou Trump se opkoms ʼn bewys wees van hoe Westerse burgers hul beskawing as bedreiging begin sien – nie net deur buitelandse magte nie, maar deur interne verval en liberale universalistiese idees.

In Europa het ʼn soortgelyke verskuiwing plaasgevind. Politieke leiers soos Viktor Orbán in Hongarye, Giorgia Meloni in Italië, Geert Wilders in Nederland en Marine Le Pen in Frankryk fokus almal sterk op kulturele identiteit, godsdiens, erfenis en nasionale soewereiniteit. Die partye wat hulle verteenwoordig is dikwels krities teenoor immigrasie, die verwerping van Europese integrasie en teenoor liberale norme wat – volgens hulle – Westerse beskawingswaardes verwater of ondermyn.

Sowel Trump as hierdie Europese partye verteenwoordig ʼn breër reaksie op globalisering en die liberale wêreldorde wat Westerse elite-strukture ná die Koue Oorlog probeer vestig het. Nou, ironies genoeg, begin Westerse beskawings self daardie universele aansprake bevraagteken, en begin hulle eerder fokus op hul eie kulturele oorlewing.

In die lig hiervan is Huntington se werk besonder relevant: Hy het voorsien dat beskawingspolitiek nie net tussen die Weste en “die res” sou afspeel nie, maar ook binne die Weste self. Die kulturele herlewing, die behoefte aan identiteit en die opkoms van leiers wat hulself sien as beskermers van kultuur en geskiedenis, bevestig dat die wêreldpolitiek weer rondom kultuur – nie ideologie alleen nie – gesentreer is. Huntington se waarskuwing teen die selfversekerde universaliteit van die liberale orde was nie ʼn pleidooi vir isolasie nie, maar ʼn beroep op selfkennis, balans en die aanvaarding van wêreldwye veelvormigheid.

Links, regs aan’t verander

Daar kan met reg gestel word dat die manier waarop die politieke posisies van links en regs oor die afgelope drie dekades verstaan is, tans uitgedien en ontoereikend is.

Dit is duidelik dat die wêreldorde wat ná die Koue Oorlog ontstaan het, nie die finale fase van vrede, vooruitgang en universele liberalisme verteenwoordig het nie. Inteendeel, ons bevind ons nou in ʼn nuwe tydvak waarin kultuur, identiteit, nasionale belange en magsbalans weer sentraal staan. Die liberale wêreldorde sal moontlik nie heeltemal verdwyn nie, maar die era van Westerse liberale hegemonie is klaarblyklik verby.

Daar is dus nie meer ruimte om sonder meer aan te neem dat linkse politieke uitgangspunte inherent goed en edel is terwyl regse posisies as boos of agterlik afgemaak word nie. So ʼn benadering is onvanpas in ʼn wêreld waarin die kompleksiteit van kulture, geskiedenisse en magsbelange nie in eenvoudige morele raamwerke vasgevang kan word nie.

Die realiteit van die toekoms is dat dit wat voorlê nie noodwendig gekenmerk sal word deur ʼn wêreld van konsensus en eenvormigheid nie, maar eerder deur herskikking en aanpassing.

In hierdie nuwe era sal volhoubare vrede en samewerking nie gesmee word deur die oplegging van universele ideale nie, maar deur die erkenning van en verdraagsaamheid teenoor verskille, die hantering van magsrealiteite, en die verantwoordelike bestuur van spanninge binne ʼn wêreldorde sonder ʼn enkele sentrum van gesag.

Die ANC moet nou sy voortgesette waninligting stop

Die voortgesette valse bewerings dat Solidariteit en AfriForum waninligting in die buiteland versprei, is niks anders nie as waninligting en ʼn poging om ons die sondebok vir die ANC se foute te maak.
Dit is nou tyd dat die ANC verantwoordelikheid aanvaar vir die diplomatieke krisis met die VSA waarin die land gedompel is weens die party se roekelose beleidsrigtings, en hulle moet ophou om Solidariteit en AfriForum daarvoor te blameer.
Indien die VSA Suid-Afrika uit die Agoa-ooreenkoms skop, moet die skuld vierkantig voor die deur van die Ramaphosa-regering gelê word. Solidariteit en AfriForum se jare lange pogings om die VSA met behulp van gesaghebbende navorsing te probeer oortuig om Suid-Afrika as ʼn begunstigde van Agoa te behou, word keer op keer deur die ANC se eie beleidsrigtings en optredes gesaboteer.

Volksmoord en sanksies

Ons wil dit duidelik stel dat ons nooit bewerings van ʼn “volksmoord” van wit mense in Suid-Afrika gemaak het nie. Ons het nie gevra vir sanksies teen Suid-Afrika nie. Ons het nie gevra dat die VSA enige fondse aan Suid-Afrika afsny nie. Ons het uitdruklik gevra dat Suid-Afrika nie uit Agoa geskop word nie omdat dit duisende Suid-Afrikaners hulle werk sal kos. As patriotiese Suid-Afrikaners het ons ʼn beroep op die VSA gedoen om nie die mense van Suid-Afrika te straf as die Trump-administrasie kwaad is vir die ANC nie.

Ons is lief vir die land en sy mense, al stem ons nie met die ANC se beleid en optrede saam nie. Hoewel ons gewaarsku het oor die gevare van die Onteieningswet, het ons nie bewerings teenoor die Amerikaanse regering gemaak dat grootskaalse onteiening sonder vergoeding reeds in Suid-Afrika plaasvind nie.

Die Solidariteit Beweging was verlede jaar deel van ʼn groep van ongeveer twee miljoen Afrikaners wat ʼn verklaring ondersteun het waarin ons ons lojaliteit aan die land en sy mense beklemtoon en waarin ons terselfdertyd voorstelle gemaak het oor die voorwaardes wat Afrikaners benodig om in die land te bly om ʼn blywende bydrae tot Suid-Afrika te maak. Die ANC het hierdie opbouende voorstelle geïgnoreer.

Suid-Afrikaanse oplossings

Ons verwerp die ANC se skynheilige uitsprake dat ons probleme intern in Suid-Afrika moet uitsorteer eerder as om in die buiteland daaroor te kla. Die ANC het met die Bela-onderhandelinge duidelik gewys dat hulle nie bereid is om die grondwetlike voorsiening vir Afrikaanse onderwys te respekteer nie. Hulle weiering om in goeie trou Suid-Afrikaanse oplossings te vind vir grondliggende sake wat die voortbestaan van ons taal en kultuur ten diepste raak, laat ons met geen keuse nie as om ons saak te internasionaliseer nie.

Ons vra niemand se toestemming om ons fundamentele menseregte en regmatige belange te verdedig nie omdat die ANC oor en oor bewys het dat hulle nie daarmee vertrou kan word nie.

Ons sal voortgaan om dit feitelik en ewewigtig te doen om nie die land skade te berokken nie, anders as die ANC wat voortgaan om die land te wanbestuur, korrupsie te laat gedy en die armoede en werkloosheid in die land nog verder te vererger.

Lees ook: Alles wat jy van die Solidariteit Beweging se besoek aan die VSA moet weet.

Ernstige gevolge vir gewone Suid-Afrikaners as VSA sy ambassade afskaal en konsulate sluit 

Bron: Solidariteit

Nóg uitgebreide ekonomiese en diplomatieke skade, verdere werksverliese, ʼn uittog van beleggers én hindernisse met die uitreik van noodsaaklike handelspermitte en reisigersvisums.
Solidariteit glo dit alles tel onder die moontlike gevolge wat die afskaling van die Amerikaanse ambassade in Pretoria, asook die moontlike sluiting van die Amerikaanse konsulaat in Johannesburg, vir Suid-Afrikaners kan inhou.

Hierdie werklikhede dreig as gevolg van die Suid-Afrikaanse regering se verbrokkelende verhouding met die Verenigde State van Amerika. Dié diplomatieke krisis kan veroorsaak dat die omvang van die Amerikaanse diplomatieke missie in Suid-Afrika dramaties verklein word.
ʼn Geskil oor Suid-Afrika se amptelike beleidsposisies het ʼn diplomatieke krisis tussen die lande ontketen, en dit word tans vererger deur pogings van die Johannesburgse metroraad om die straat waarin die VSA konsulaat in Sandton geleë is na ʼn Palestynse vryheidsvegter te vernoem.
Die risiko bestaan dat die VSA sy Johannesburgse konsulaat sal wil sluit, terwyl die oorblywende konsulate in Kaapstad en Durban ook in die gedrang kan kom.

Solidariteit glo ʼn verdere diplomatieke misrekening, soos die geval sal wees met die straatnaamverandering wat tans deur die metroraad oorweeg word, sal ʼn reeds brose verhouding met die VSA verder skaad.
Volgens die Solidariteit Navorsinginstituut (SNI) sal selfs net die sluiting van die Johannesburgse konsulaat ʼn gevoelige slag wees, aangesien Johannesburg die ekonomiese hoofstad van Suid-Afrika, en ook die tuiste van etlike Amerikaanse en multinasionale maatskappye in die land is.

Die SNI glo die sluiting sal onder meer:

•    die proses vir Suid-Afrikaanse reisigers wat visums wil bekom, bemoeilik;
•    die proses wat Suid-Afrikaanse sakelui moet volg wat visums wil bekom en ondernemings wat noodsaaklike handelspermitte en -dokumentasie wil bekom, belemmer;
•    beleggersvertroue skaad aangesien die sluiting op ʼn verdere verbrokkeling van die diplomatieke verhouding dui;
•    werksverliese vir Suid-Afrikaners meebring aangesien groot Amerikaanse maatskappye hul teenwoordigheid in Suid-Afrika kan beëindig of heroorweeg;
•    meebring dat hotelle, restaurante en diensverskaffers wat afhanklik is van konsulêre besoekers, inkomste sal verloor, wat tot verdere werksverliese kan lei; en
•    Amerikaanse bydraes inperk wat die konsulaat tot waardevolle intelligensie oor transnasionale misdaad, geldwassery en terrorisme lewer, en Suid-Afrika se weerstand teen georganiseerde misdaad verminder.

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, kan veel ernstiger gevolge as die sluiting van ʼn konsulaat volg indien radikale regeringsamptenare met ʼn ideologiese stryd teen die VSA volhard.
“Dit is in geen Suid-Afrikaner se belang om ter wille van ANC-beleid en -agendas aan die risiko van verdere ekonomiese agteruitgang en internasionale isolasie blootgestel te word nie.
“Dit is wat die afskaal van die Amerikaanse missie en die sluiting van ʼn konsulaat sal teweegbring.
“Hou ook in gedagte dat Amerikaanse maatskappye, waarvan talle se kantore in Johannesburg geleë is, sommiges digby die konsulaat in Sandton, duisende Suid-Afrikaners in diens neem. Hulle dra boonop miljarde rand in belasting tot die tesourie by.
“Ongelukkig lyk dit of ons regering met sy anti-Westerse narratief gaan volhard en dus gemaklik is as gewone Suid-Afrikaners vir regeringsondes gestraf word,” waarsku Kleynhans.

Suid-Afrika se verhouding met die regering van president Donald Trump beleef tans ʼn ongekende laagtepunt.
Die verhouding het die afgelope paar weke verdere terugslae beleef weens kwetsende uitlatings teenoor die VSA deur die voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Washington, Ebrahim Rasool, en beledigings deur die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula.
Die VSA het ook kennis geneem van die Ramaphosa-regering se stilswye oor die EFF-party se sing van die “Kill the Boer”-strugglelied op Menseregtedag.

Land en Sand: Flip Buys

RSG-onderhoud met Flip Buys 

Flip Buys gesels Woensdag 19 Maart op RSG se program “Land en Sand” in “Op en Wakker”.  Luister die onderhoud hier.

 

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging
Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.