In diens van iets Groter as onsself

Akademia is ʼn pragtige projek.Dit is nie benoud nie. Dit weet presies wie dit is en is terselfdertyd verwelkomend. Die hele projek spreek van uitnemendheid – van die akademie tot die bouwerk. Wêreldklas, in Afrikaans.

Dit is Afrikaans en is daar vir die groot Afrikaanse gemeenskap én vir elkeen wat in Afrikaans wil studeer. Dit sluit juis studente in wat in Afrikaans wil studeer, maar op ander plekke uitgesluit word.

Dit staan te midde van die groot Westerse universiteitstradisie wat die wetenskap onbevange oopbreek binne die onbeperkte omvang van Sy skepping.

Dit vorm studente, en juis dít maak Akademia-studente gesog in die arbeidsmark. Hulle ontwikkel ʼn begrip van die geheel en van die ware, die goeie en die skone. Dit is die basis vir goeie werk.

Die analogie is Sol-Tech, wat in Afrikaans oplei en werkgewers oor die hele spektrum in rye staan om dié studente in diens te neem.

Akademia en Sol-Tech lei studente só op dat hulle ook gemaklik in ʼn Engelse wêreld kan werk.

Akademia het ʼn mooi storie.

Die begin was sowat 20 jaar gelede, toe Solidariteit-lede ingestem het om elk R10 per maand ekstra ledegeld te betaal vir ʼn Solidariteit Boufonds.

Dit was ons Dawidsklippies waarmee groot uitdagings oorwin moes word.

Eers is Sol-Tech begin en daarna Akademia. Beide Sol-Tech en Akademia is binne die grondwetlike raamwerk van Suid-Afrika gevestig.

Gewone mense wat werk, het hul bietjies gegee om iets groots te bou. Die grootste daarvan was vir hulle kinders en die gemeenskap.

Later het Solidariteit-lede nog R5 per maand vir studiehulp bygedra.

Hulle was groter as hulself, want bykans 20 jaar later word ander se kinders gehelp wat toe skaars gebore was en wie se name hulle nie eens geken het nie. Dít is die krag van gemeenskap.

Solidariteit-lede het ʼn daad verrig wat groter as hulself was. Hulle het gesê: “Ons beperk hierdie groot instellings nie net tot Solidariteit-lede nie, maar stel dit tot voordeel van die groter Afrikanergemeenskap, asook tot die groter kultuur- en Afrikaanse taalgemeenskap.”

Dit is ʼn gedeelde geskenk aan ʼn groter idee en juis daarom is dit nie om weg te gee nie. Dit is bloot onder rentmeesterskap vir die volgende generasie. Die gemeenskap is gevra om dit saam met ons te bewaar.

Die Solidariteit-lede was en is onbaatsugtig in diens van ʼn groter gemeenskap.

Solidariteit-lede was ook sentraal tot die oprigting van die ontwikkelingsmaatskappy, Kanton, wat eers die Sol-Tech-kampus gebou het en nou die Akademia-kampus bou.

Eers het Solidariteit sy eie geboue in die Kanton-portefeulje geplaas, waarborge is gegee en bates is in aandele omskep.

Dit het die bou van die Sol-Tech-kampus moontlik gemaak en die voorwaardes geskep vir die bou van die Akademia-kampus.

Maar nooit het Solidariteit-lede gesê: “Dit is net ons s’n nie.” Hulle het met dankbaarheid iets gebou vir hulle lede en dié se kinders, maar tot voordeel van die Afrikaanse gemeenskap en as ʼn kleinood vir die toekoms.

Akademia word nou só ʼn kleinood vir die Afrikaanse gemeenskap: ʼn geskenk deur gewone mense wat werk. Nederig begin, trots sien groei.

Vir hierdie groot Afrikaanse kleinood word daar nou deur Kanton ʼn kampus gebou. Die eerste fase beloop R1,8 miljard en die volledige projek meer as R3 miljard.

Die betrokkenheid word al groter. Eers het meer mense tot die Solidariteit Boufonds begin bydra om Akademia sterk te maak. Groot trusts het onbaatsugtig gehelp, en nou begin groter beleggers by Kanton betrokke raak om die kampus te bou.

Grond is gekoop en planne vorder goed vir ʼn kampus in die Paarl.

Solidariteit het nooit probeer om sy inisiatief benoud vir homself te hou nie.

Dit was altyd in diens van iets groters: ʼn groter gemeenskap. En dié groter gemeenskap begin nou al hoe meer betrokke raak. Dit raak ʼn sneeubal.

Daar is dié wat betrokke raak en help bou, en dan is daar kantkommentators wat kritiek lewer en wil breek.

Op die kantlyn skree hulle op Akademia en het hulle die vermetelheid om te wil voorskryf hoe dit moet lyk en wees.

Hulle het nie eens ʼn enkele R10 bygedra nie. Hulle was nie by die sweet en risiko van die begin betrokke nie en is selfs nou nie betrokke nie. Dit word ook nie met hulle belastinggeld gebou nie.

Solidariteit-lede het met hulle bietjies begin, dit in diens van ʼn groter gemeenskap gestel, en nou dink onbetrokke kommentators hulle kan die idee van Akademia vat en voorskryf.

Vir jare het hulle niks gedoen nie. Noudat daar iets is, raak hulle steeds nie betrokke nie, maar lewer hulle kritiek en skryf voor. Hulle is welkom om hulle eie iets te begin. Ons sal nie daarop kritiek lewer nie.

Intussen gaan ons almal voort om aan iets veel groter as onsself te bou. In diens van iets groter as onsself.

Dít is die energie van Akademia en van die hele Solidariteit Beweging.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Die reg om self te kan besluit

In 1994 het Suid-Afrika ʼn ingrypende ordeverandering beleef. ʼn Antwoord moes gevind word vir ʼn land met ʼn buitengewoon diverse samelewing.

ʼn Nuwe Grondwet is onderhandel, individuele regte is verskans, maar die groot tekortkoming was die gebrekkige beskerming van ons diverse kultuurlandskap en spesifiek minderheidsgemeenskappe.

Die unitêre model, wat sentralisering bó desentralisering verkies, was terugskouend waarskynlik die minste geskikte stelsel vir so ʼn diverse land.

Wat dikwels vergeet word, is dat daar destyds sterk stemme vir ʼn federale oplossing was. Hierdie denkrigting het ondersteuning geniet binne en buite die Nasionale Party, onder akademici, internasionale drukgroepe en selfs uit swart geledere. Die huidige leierskorps van die Solidariteit Beweging het hulle ook met dié denkskool vereenselwig.

Daar is gepraat oor minderheidsbeskerming, magsdeling, streeksoutonomie en die voorkoming van totale sentralisering – minder staat en meer gemeenskap.

Vandag word dit dikwels voorgehou asof daar slegs twee moontlikhede was: die uitgediende apartheidstelsel of die huidige unitêre stelsel. Indien jy krities teenoor die huidige bedeling staan, word jy maklik daarvan beskuldig dat jy bloot die ou bestel klakkeloos wou beskerm.

Namate Suid-Afrika al meer sentraal bestuur word, word daar al meer besef dat die huidige Suid-Afrikaanse bestel ernstige gebreke toon. ʼn Alternatief kon destyds bedink word – en kan vandag steeds bedink word.

Dwarsoor die wêreld bestaan daar uitstekende federale modelle vir die bestuur van diverse samelewings.

ʼn Groep van die Solidariteit Beweging was onlangs op ʼn studietoer in Europa om federalisme verder te ondersoek. Federalisme is ʼn volkome normale begrip in groot dele van die wêreld. In Vlaandere word dit selfs beskryf met ʼn woord wat vir ons bekend klink: selfbeskikking.

Afrikaners vorm deel van die ryk Westerse tradisie. Daarom was Nederland ons eerste bestemming – nie vanweë Nederland se federalisme nie, maar om weer Afrikaners se verbintenis met die Westerse beskawingstradisie te onthou.

Amsterdam is sekerlik nie die enigste voorbeeld nie, maar wel een van die duidelikste van hoe die Weste se invloed na die Afrikaner deurgespoel het. Ons was in die vertrek waar die besluit geneem is om ʼn verversingstasie aan die Kaap te vestig – die geboorte-oomblik van ʼn volk in die hart van die Westerse handelswêreld.

Die hele Europa getuig van ʼn ryk beskawing waarvan ons deel is. Ons is nie Europeërs nie – ons is van Afrika – maar ons is onteenseglik ook deel van die Westerse tradisie.

België: parlemente vir verskillende gemeenskappe
Ons tweede stop was België – ʼn land met ʼn lang geskiedenis van interne konflik. België bestaan uit drie streke: Vlaandere, ʼn Franse streek en ʼn klein Duitse streek. Elke streek het sy eie parlement waarin plaaslike besluite geneem word, terwyl ʼn federale parlement oor nasionale sake besluit. Selfs binne die federale parlement bestaan daar veto’s vir die onderskeie taalgroepe.

Switserland: radikale demokrasie van onder af
Ons derde bestemming was Switserland met sy kantonstelsel. In Genève het ons eers ʼn toer op die spore van die Reformasie meegemaak. Binne die Westerse tradisie het die Reformasie ʼn enorme invloed op die vorming van Afrikaners gehad: uit genade, deur Christus, tot dankbaarheid.

Dit was ook in Genève waar ons ʼn klag teen die Suid-Afrikaanse regering se rassebedeling by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) van die Verenigde Nasies ingedien het.

In Zürich het ons ʼn lesing oor die Switserse kantonstelsel bygewoon. Switserland bestaan uit 26 kantons – byna soos 26 klein lande – wat elk hul eie unieke behoeftes bestuur. Daar is vier tale: Duits, Frans, Italiaans en ʼn klein taal, Romaans. Die kantons is grootliks rondom dié taalgemeenskappe georganiseer. Switserland maak op plaaslike, kantonnale en federale vlak van referendums gebruik. Besluitneming geskied van onder af, met mag wat oorspronklik by gemeenskappe lê en dan opwaarts vloei.

Suid-Tirool – die reg om selfte besluit
Ons laaste stop was Suid-Tirool, ʼn noordelike provinsie van Italië. Suid-Tirool, oorspronklik ʼn Duitse streek, is ná die Eerste Wêreldoorlog by Italië ingelyf. Skielik het ʼn Duitse gemeenskap van sowat 500 000 mense hulle binne ʼn Italiaanse staat bevind.

Ná ʼn lang stryd het die streek uiteindelik ʼn groot mate van outonomie verkry. Hulle kultuur word beskerm en hulle ontvang 90% van hul belastinggeld terug.

Toe ek vir ʼn Suid-Tiroler vra waarom outonomie vir hulle so belangrik is, was sy antwoord eenvoudig: “Dit gaan oor die reg om self te kan besluit.”

Federalisme – waarvoor die Solidariteit Beweging ook staan – is dus niks buitengewoons nie. Dit is ʼn normale en dikwels noodsaaklike manier waarop volke, tale en kultuurgemeenskappe wêreldwyd hul voortbestaan verseker.

Die Europese model onder druk
Daar is egter iets wat baie Europese lande nie verreken het nie: massa-immigrasie van mense wat kultureel en godsdienstig dikwels nie wil integreer nie. Benewens die groot migrasiegetalle is daar ook die hoë bevolkingsgroei binne sekere immigrantegemeenskappe. In ʼn Turkse kafee sien ʼn mens selfs stootwaentjies te koop.

Europa se hele model word ontwrig. Tot só ʼn mate dat ʼn Nederlandse joernalis vir ons gesê het: “Ons is binnegeval”. ʼn Vlaamse politikus meen dat hulle teen 2040 ʼn minderheid in hul eie land kan wees. Switserland probeer desperaat om deur middel van ʼn referendum hul bevolking op 10 miljoen te beperk. ʼn Suid-Tiroler beskryf die immigrasiekrisis as vernietigend.

Voeg hierby Europa wat grootliks sy Christelike geloof en beskawingsanker verloor het. Sonder daardie ankers kan weerstand teen nuwe kulturele druk moeilik gebied word. Dit is byna soos Simson wat sy hare verloor het – ʼn tragiese beeld van krag wat ongemerk verdwyn het. Baie van die nuwe immigrantegemeenskappe beskik juis oor sterk en selfversekerde geloofsidentiteite wat die vakuum van sekularisme vul.

Ek keer terug na Suid-Afrika met die indruk van ʼn Europa in ʼn krisis. Ek vertrou dat Europeërs weer die rykdom van die Westerse tradisie sal herontdek. Soos ʼn kollega dit gestel het: “Hulle sal weer hul boekrolle moet vind”.

Gemeenskapsfederalisme: Ons sal self
Dit bring my terug by die Solidariteit Beweging se model van gemeenskapsfederalisme, saamgevat in die woorde: “Ons sal self”. Ons het oplossings gevind binne die werklikhede van demografiese verandering. Ons Europese gashere was baie geïnteresseerd in dié model. Ons het reeds sekere uitdagings verreken wat moontlik nog vir hulle voorlê. Ons het minstens planne. Party van hulle het selfs hoop in ons benadering raakgesien.

Ek is steeds van mening dat ʼn federale politieke bestel ook vir Suid-Afrika ʼn beter oplossing sou wees – en steeds kan wees. Die Solidariteit Beweging se model van gemeenskapsfederalisme is juis kragtig omdat ons self beheer daaroor het.

Die krag van “ons sal self” sluit direk aan by die woorde van die Suid-Tiroler: “Dit gaan oor die reg om self te kan besluit”. Dit is reg, dit is normaal en dit is vryheid.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Wie is die Solidariteit Beweging regtig?

1994 was ‘n ordeverandering vir Suid-Afrika. Die verandering het talle instellings, wat nie die oorgang kon maak nie, vernietig. Die Suid-Afrikaanse landskap sou vir altyd anders lyk.

Instellings wat aan die vorige orde wou vasklou, het eenvoudig verdwyn. Een so ‘n instelling uit die vorige bedeling was die Mynwerkersunie (MWU).

Die MWU was ‘n ou instelling met ‘n ryk geskiedenis en is reeds in 1902 gestig. Soos talle burgerlike organisasies en politieke partye was die MWU in ‘n oorlewingskrisis. Dit was geldelik bankrot en bankrot aan idees.

Binne die nuwe werklikheid
In 1997 is Flip Buys as hoofsekretaris van die MWU verkies. Tydens sy eerste kongres het hy gesê die MWU moet ʼn beweging word. Hy was bekommerd oor die ANC se sentralistiese meerderheidsideologie en wat dit vir staatsbestuur en minderheidsbeskerming kan inhou.

Buys het die bankrot-MWU binne die ná-1994-werklikheid geplaas. Hy het die MWU weggelei van rasdefinisies en dit omskep in ‘n kultuur- en taalinstelling wat beskerming geniet binne die nuwe grondwetlike bedeling. Artikels 29, 30 en 31 van die Grondwet gee aan taal- en kultuurgemeenskappe die reg om eie instellings te vestig, insluitende onderwysinstellings.

Buys het reeds in 1997 besef dat dit noodsaaklik is om van grondwetlike ruimtes gebruik te maak, maar dat instellings daarvoor nodig is. Anders sou artikels 29, 30 en 31 bloot papierartikels bly, sou die sentralistiese staat die samelewing versmoor en sou minderhede se ruimtes verdwyn.

Sy kommer is later reg bewys. Die staat het al meer sentralisties geraak en die grondwetlike ruimtes vir gemeenskappe is verklein tot so ‘n mate dat diegene wat daarop aanspraak maak, as ongrondwetlik beskou word.

Afrikaners gaan nêrens heen nie
Flip Buys se 1998-aankondiging van ʼn Beweging was nie net binne die nuwe grondwetlike werklikheid nie, maar ook ʼn aankondiging dat Afrikaners nêrens heen gaan nie. Baie het gewonder of Afrikaners in die nuwe werklikheid wil bly. Hy het aangekondig dat Afrikaners ruimtes gaan skep om juis hier, aan die suidpunt van Afrika, te bly.

Vandag is die Solidariteit Beweging ʼn netwerk van tientalle selfstandige instellings met ongeveer 600 000 betalende lede en nog sowat 100 000 gebruikers van verskillende dienste. Indien families ook in ag geneem word, is dit ʼn reusebeweging. Dit is nie ʼn elite beweging nie, maar ʼn beweging wat deur gewone werkende mense begin is.

Alhoewel dit by verre die grootste organisasie in die Afrikaner- en Afrikaanse gemeenskap is, maak die Solidariteit Beweging nie aanspraak daarop dat hy namens alle Afrikaners praat nie, maar verteenwoordig die belange van sy lede en ondersteuners.

Die pad van die Beweging

Werk
Die eerste stap was om die ou bankrot-MWU weer sterk te maak. Finansiële stelsels is verander, werwingsveldtogte is begin en nuwe personeel is aangestel. In 2001 is die naam verander na Solidariteit. Die ou MWU het ongeveer 20 000 betalende lede gehad en vandag is Solidariteit meer as tien keer groter en een van Suid-Afrika se grootste vakbonde. Solidariteit het ʼn skuif gemaak om nie net in werksplekke te organiseer nie, maar ook in beroepe en het vandag beroepsnetwerke in al die groot beroepe. Solidariteit het ook deur tegnologie betrokke geraak by werkfasilitering. Sowat 4 000 werkgewers het reeds 14 000 poste op Solidariteit se platform geplaas.

Maatskaplike ontwikkeling
Binne die Mynwerkersunie is reeds in 1949 ʼn maatskaplike been, Helpende Hand, begin. In 2001 is besluit om Helpende Hand ʼn selfstandige instelling te maak. Daar is op klein skaal begin om studente met studies te help en ʼn eerste voedingsprogram by ʼn skool in Vanderbijlpark te loods.

Solidariteit-lede is gebel en gevra om by te dra tot die Helpende Hand-fonds. Daar was groot entoesiasme. Later het elke Solidariteit-lid R5 per maand vir studiehulp bygedra. Hierdie jaar is meer as R60 miljoen in die vorm van studiehulp aan studente uitbetaal.

Solidariteit Helpende Hand het nou 230 takke en dorpsverteenwoordigers in 14 streke. Daar is 14 streekmaatskaplike werkers en altesaam 30 maatskaplike werkers.

Daar is sewe Ons Plekke met naskoolse sentrums en kleuterskole vir behoeftige kinders. Drie duisend dogters ontvang maandeliks sanitêre produkte, 8 000 kinders kry daagliks kos en 2000 kinders ontvang jaarliks skooltassies en skryfbehoeftes. Solidariteit Helpende Hand het ook ʼn Opleidingsinstituut begin wat tuisversorgers oplei.

Opleiding en onderwys
Daar is besef dat opleiding die hart van enige Beweging is wat ernstig oor die toekoms is. Die bou van opleidingsinstellings is duur en word gewoonlik swaar deur die staat gesubsidieer.

Solidariteit het begin met ʼn landswye toer na fabrieke, myne, skole en ander werksplekke en het lede gevra om elk R10 tot ʼn Boufonds by te dra. Dit is met hierdie R10de waarmee Sol-Tech en later Akademia en Bo-Karoo Opleiding begin is.

Sol-Tech
In 2007 is Sol-Tech met 64 elektriese studente in Solidariteit se kantore begin. Vandag is daar ongeveer 3 000 studente in verskillende fases van opleiding.

Die rigtings sluit vandag in: dieselwerktuigkunde, auto-elektries, elektries, meulmaker, megatroniese tegnikus, pas en draai, gereedskapmaker, sweis, haarkappery, vroeë kinderontwikkeling en inligtingstegnologie.

Sol-Tech beskik oor wêreldklas toerusting, ʼn wêreldklas kampus en koshuise.

Akademia
Akademia is in 2012 met 40 studente begin. Aanvanklik is slegs ʼn telematiese aanbod gebied. Dit het ook in Solidariteit se kantore begin. Sentrums is oor die land gevestig.

In 2021 is ʼn opkampusaanbod met 111 studente in Centurion begin. Vandag is daar sowat 4500 studente by Akademia.

Daar is nou vier fakulteite: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe en Opvoedkunde. ʼn Groot nuwe kampus word gebou en die fakulteite en programaanbod gaan ingrypend uitgebrei word.

Bo-Karoo Opleiding
In 2019 is die eerste vyf voltydse studente by Bo-Karoo Opleiding op Orania ontvang. Die instelling het nou sowat 250 studente, ʼn tweede inname vir die jaar word beplan en dit groei met 40% per jaar. Nuwe werkswinkels is gebou en verdere uitbreidings volg binnekort. Daar is pragtige studenteverblyf, ʼn proefplaas en ʼn klein kampus in aanbou. Die twee grootste bene van BKO is tegnies en landbou en die programaanbod word tans ingrypend uitgebrei.

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum
Afrikaanse skole en skoolonderwys in die algemeen het onder groot druk gekom. Die aantal Afrikaanse skole het van 1 800 tot 900 afgeneem. In 2015 is die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) gestig. Vandag is bykans 50 000 Afrikaanse kinders op Wolkskool. Sowat 20 000 onderwysers maak van Wolkskool gebruik. Jaarliks word 7 000 onderwysers opgelei en daar is 250 lid-skole van SOS.

Daar is ook besef dat onafhanklike skole gebou moet word. ʼn Konsessiemodel, met die naam Gimnasium-skole, gaan gemeenskappe in staat stel om eie skole te bou. Die eerste skool word binnekort gebou.

Solidariteit Leer
Voortgesette opleiding is ook van kritieke belang. Op Solidariteit se platform word 200 voortgesette leerkursusse aangebied.

Eiendomsontwikkeling
Die instellings van die Solidariteit Beweging is met R10de en klein bydraes van lede begin. Om ʼn kampus te bou, is klein skenkings egter nie voldoende nie.

Die eiendomsmaatskappy Kanton is in 2019 gestig. Die doel van Kanton is om leefruimtes vir Afrikaans te bou deur ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal te fasiliteer.

Die eerste groot projek was die Sol-Techkampus, gevolg deur die Sol-Tech-koshuise.

Die grootste projek tot dusver is die Akademia-kampus. Dit is ʼn R3,2 miljardprojek waarvan die eerste fase R1,2 miljard beloop. Dit het reeds afgeskop en beleggers word gewerf.

Sol-Tech en Akademia is die huurders en beleggers weet daar is langtermyn, betroubare huurders.

Deur ʼn goeie kommersiële belegging help beleggers ook om kulturele ruimtes te bou. Daar word ook beplan om in die toekoms ʼn Akademia-kampus in die Wes-Kaap te bou asook skole, binne die groter Gimnasium-groep.

Burgerregte, veiligheid en munisipale dienslewering
AfriForum is in 2006 begin. Die belangrikheid van die beskerming van burgerregte is vroeg besef en AfriForum het reeds verskeie hofsake gewen. AfriForum is egter in die eerste plek ʼn gemeenskapsorganisasie en wil gemeenskappe sterk maak.

AfriForum het 10 000 vrywilligers, 165 takke en 177 buurtwagte oor die land. Daar word landswyd gehelp met munisipale dienste oor ʼn wye front, tot voordeel van die hele gemeenskap.

Veiligheidstrukture maak gemeenskappe oor die hele land veiliger. Daar is op munisipale en veiligheidsvlakke samewerking met owerhede op verskeie vlakke, insluitend metro’s, munisipaliteite en die polisie.

Kultuur en media
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het met al hulle werksaamhede ook uiteindelik by die Solidariteit Beweging ingeskakel om die rol van kultuur- en erfenisbewaring te help vervul. By die AfriForum Teater word deurlopend Afrikaanse produksies aangebied.

Maroela Media is gestig en is nou een van die land se grootste mediahuise wat ook inhoud aan tientalle gemeenskapsradiostasies lewer.

AfriForumTV het 200 000 intekenaars. Die instellings van die Solidariteit Beweging het ʼn reuse-sosiale mediateenwoordigheid, met byvoorbeeld meer as 1,8 miljoen volgelinge op Facebook alleen.

Selfstandige gemeenskappe
Vir die Solidariteit Beweging is sterk, selfstandige gemeenskappe noodsaaklik. Die Beweging volg ʼn konsentrasiestrategie wat die natuurlike migrasie van Afrikaners ondersteun en gemeenskapsinfrastruktuur vestig.

Dit sluit werk-, maatskaplike, veiligheids-, dienslewerings-, kulturele en onderwys- en opleidingsondersteuning in.

AfriForum is ook betrokke by selfstandigheidsprojekte by talle tradisionele gemeenskappe en by ʼn netwerk van tradisionele gemeenskappe. AfriForum ondersteun ook die Kaapse Forum.

AfriForum vestig in ankergmeenskappe plaaslike gemeenskapforums wat as platform dien vir skole, kerke en ander gemeenskaporganisasies om mekaar en die gemeenskap te versterk,

Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy is gestig om te help om ʼn selfstandige gemeenskap in die Bo-Karoo te vestig. Dit is deel van die groot konsentrasiestrategie en die versterking van ankergemeenskappe landswyd.

Ander sake-inisiatiewe
Om die Beweging kommersieel te laat funksioneer, is daar verskeie sake-inisiatiewe. Dit sluit in ʼn finansiële diensmaatskappy, Konnek, met ʼn fokus op korttermynversekering, lenings en beleggingsadvies.

Daar is ook ʼn spysenieringsmaatskappy, Spys, wat spyseniering vir personeel en studente doen. Verder is daar die Solidariteit Beleggingsmaatskappy, die AfriForum Beleggingsmaatskappy en Helpende Hand-sake wat 127 tweedehandse winkels bestuur.

Daar is ook ʼn Solidariteit Regsfonds en Solidariteit Boufonds waartoe mense kan bydra.

Hoe word die Beweging befonds?
Die Solidariteit Beweging word nie op enige vreemde manier befonds nie. Die Beweging bestaan uit kulturele entrepreneurs wat deur streng dissipline en gewone sakebeginsels bestuur word. Die bedryfsbegroting van die Beweging is so groot soos dié van ʼn mediumgrootte maatskappy op die Johannesburgse Effektebeurs. Die korporatiewe bestuur van die instellings is dus streng.

Die ledeorganisasies word deur ledegeld befonds. Oorgangsfinansiering vir die oprigting van instellings word uit skenkingsfondse en opbrengste uit finansiële dienste befonds.

Elke instelling het sy eie unieke finansiële enjin. Studente is byvoorbeeld die grootste befondsers van die opleidingsinstellings, advertensies befonds Maroela Media, en tweedehandse winkels befonds Solidariteit Helpende Hand. Kanton, wat verantwoordelik is vir eiendomsontwikkeling, insluitend kampusse, werf aandeelhouers op ʼn kommersiële grondslag.

Wie besit wie en wat?
Die instellings van die Solidariteit Beweging word belyn binne die Solidariteit Beweging Trust. Die naam van die Trust dui bloot daarop dat die groter Beweging uit Solidariteit ontstaan het.

Solidariteit of die Trust besit egter nie die instellings van die Beweging nie. Al die ledeinstellings en opleidingsinstellings is maatskappye sonder winsbejag. Daar is dus geen aandeelhouers wat geld uit ledeorganisasies verdien nie. Alle inkomste fokus op die uitvoering van ledeorganisasies se doelwitte.

Direkteure moet toesien dat elke instelling in diens van sy missie en die gemeenskap funksioneer.

Solidariteit het ook ʼn netwerk van vriende en vennote wat insluit die landbouorganisasie Saai, die organisasies van die Afrikaner Leiersnetwerk, ander gemeenskapsleiers en gemeenskapmedia. Solidariteit is nie betrokke in die partypolitiek nie, maar het goeie verhoudings met verskeie politieke partye wat die belang van die Beweging se lede beskerm.

Alhoewel die Solidariteit Beweging gereeld in dispuut met die regering is, is ons lief vir die land. Wanneer ons met die regering bots, is dit ter wille van die land. Ons is hier om te bly, en daarom sal ons soms veg en baie bou. Ons is nie van die regering afhanklik vir ʼn toekoms nie. Daarom het ons hoop, want ons sal self.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Flip Buys betree ná 29 jaar nuwe fase

In 1997 is Flip Buys op 34-jarige ouderdom verkies tot hoofsekretaris van die destydse Mynwerkersunie, wat later Solidariteit sou word. Sedertdien sit Buys op twee stoele: aan die een kant as uitvoerende hoof van die vakbond en aan die ander kant as voorsitter van die sambreelorganisasie die Solidariteit Beweging.

Nou, ná 29 jaar maak Buys klaar by die vakbond Solidariteit, die organisasie waaruit alles gebore is.

“Aan die een kant tree ek uit by die vakbond, sodat ek kan aantree by die Solidariteit Beweging,” het Buys in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Voortaan gaan Buys dus net fokus op voorsitterskap van die Solidariteit Beweging, wat onder meer insluit organisasies soos Solidariteit, AfriForum, die Solidariteit Helpende Hand, Sol-Tech, Akademia en Maroela Media.

Met sy formele en uitvoerende pligte by die vakbond wat tot ʼn einde kom, gaan hy een van die twee hoede wat hy tot dusver gedra het, neerlê. Die Solidariteit Beweging-hoed bly, die rol waarvoor hy buitendien meer algemeen bekend is.

“Dirk Hermann is deur die Solidariteit-hoofraad aangewys as my opvolger as uitvoerende hoof. [Hy] het vir ʼn lang tyd buitendien reeds waargeneem as bestuurshoof, wat beteken die oorgang is glad en goed vooruitbeplan.”

“Ná omtrent 30 jaar het ek darem al my kant gebring aan die vakbondkant,” sê Buys met glimlag.

“Dit is ʼn groot voorreg om te kan sê die vakbond is in ʼn goeie toestand en ons het ʼn goeie hoof wat daarop fokus, dat ek kan fokus op die Beweging en wat daarmee saamgaan.”

Dié groot nuwe fase waarin die Solidariteit Beweging is, met die omvang van aktiwiteite wat oor die jare heen aangeneem is, is deel van ʼn organisatoriese versnelling wat volgens Buys meer toegewyde aandag nodig het.

“Met die bou van die verskillende Bewegingsinstellings, wat altyd die doel was, het dit naderhand onmoontlik geword om op albei stoele te bly sit, en dit is waarom besluit is om die rolle te skei sodat beide in hul eie reg vervul kan word.”

Dit is ʼn reuse-organisasie en gebeur nie vanself nie, verduidelik Buys.

Reeds op die kongres waar Buys in 1997 verkies is, het hy daarvan melding gemaak dat die vakbond uiteindelik uitgebrei moet word tot ʼn beweging van taal- en kultuurinstellings met die breë oogmerk om Afrikanerbelange en hul plek in die nuwe bedeling te beskerm en bevorder.

Sedertdien het die Beweging inderdaad gegroei tot bykans 50 instellings met meer as 570 000 lede.

Omdat die vakbond Solidariteit as moederinstelling die afgelope dekades in ʼn groot mate nog die enjin van die breër sambreelorganisasie was, met talle gedeelde dienste ter wille van optimalisering, was daar nog heelwat verweefdheid tussen Bewegingsinstellings. Dit is ook die rede waarom Buys by die vakbond aangebly het in die jare selfs ná die Solidariteit Beweging as breër beweging vorm begin aanneem het.

“Namate die ander organisasies gegroei het, het hulle egter selfstandigheid en outonome uitvoerende vermoë ontwikkel wat die Beweging in hierdie nuwe fase inneem.”

Buys verwag ʼn gladde oorgang van leierskap in Solidariteit, omdat hy en Hermann reeds jare saamwerk en met weldeurdagte opvolgbeplanning die afgelope jare besig was met ʼn stelselmatige oorhandiging.

“Werksgewys gaan daar [dus] nie veel verander nie, maar verantwoordelikheidsgewys [laat dit my] met een groot bestuursverantwoordelikheid minder. Ek is baie dankbaar dat daar iemand soos Dirk is aan wie die stokkie oorgegee kan word.”

Goeie opvolgbeplanning het volgens Buys ʼn groot rol in die Beweging se ontwikkeling tot dusver gespeel.

“Die finale toets vir leierskap is dikwels die opvolger. Die kuns is nie daarin om ʼn span te bestuur nie, maar om ʼn span te bou; om leiers te versamel wat leiers rondom hulle versamel. Dit is hoe ʼn mens organisatoriese diepte kry.”

Die Solidariteit Beweging wat vandag bestaan, is daarom ook nie oornag of sonder moeite gebou nie.

“Ons het destyds nie die geld, uitvoerende vermoë, leiers of mense gehad nie, en moes dit na aanleiding van ʼn visie stelselmatig bou en ontwikkel.”

Afgesien van die reuse-organisatoriese taak was die post-1994-tydsgees selfs meer uitdagend. Dit was ʼn tyd waarin talle van die idees wat Solidariteit aangehang het, van die minder utopiese

scenario’s vir die land waarvoor hulle voorsiening gemaak en beplan het, baie ongewild was en waarvoor ek dikwels hewige kritiek ontvang het.

“Daarom is ek ook baie dankbaar dat die hoofraad ons altyd ondersteun het en begrip gehad vir dit wat besig was om te ontvou, omdat hulle heelwat nader aan mense op die grondvlak beweeg het as die kritici in ivoortorings.”

Ons was nie negatief oor die land nie, net realisties. Ons het die ANC se dokumente gelees en dit gegló. Ons het dus nie met ons wense gewerk nie, maar met die werklikhede, verduidelik Buys.

Die gevolgtrekking waartoe hulle eindelik gekom het?

“Ter wille van demokrasie, ter wille van vryheid, ter wille van oorlewing moet ons binne elke samelewingsfeer ʼn organisasie ter bevordering en beskerming van Afrikanerbelange begin.”

Namate talle waarskuwings ongelukkig werklikheid geword het, die regering stelselmatig verval en die Solidariteit Beweging stelselmatig geslaag het, het oorwegende kritiek in oorwegende ondersteuning verander.

“Vroeër het mense gedink dit is onnodig en onmoontlik [om self alternatiewe te bou]. Die meeste mense het nou begin agterkom dat dit wel nodig én moontlik is, wat is waarom ons vandag meer ondersteuning kry as in die verlede.”

Om nou, ná 29 jaar, terug te kyk op die verskillende groeifases in sy tyd by die vakbond is vir Buys bittersoet.

“Dit was dikwels ʼn harde tyd, maar ook ʼn baie lekker tyd. ʼn Mens het baie lief geword vir die mense van die vakbond. Die uittrede is dus aan die een kant hartseer, maar aan die ander kant is ek ook bly dat hulle steeds in goeie hande is met ʼn sterk en bestendige leierskorps.

“Ek kyk met dankbaarheid terug en verwagting vorentoe.”

Omdat Buys glo jou visie vir die toekoms altyd sterker moet wees as jou geheue van die verlede, is hy baie positief oor die toekoms van die Solidariteit Beweging wat hy nou toegewyd voorsit.

“Mense kyk dikwels vas in die grootskaalse verval wat in die land plaasvind. Hoewel dit ons almal neerslagtig maak, is dit egter nie al wat gebeur nie. Daar is ook ʼn reuse-opbouproses in die private en gemeenskapsektor. Hoewel daar verval van bo is, is daar ook opbou van onder af.”

Daarom gaan die Solidariteit Beweging ook in dié nuwe versnelde fase voort om te bou aan ruimtes “wat vry is van die swaar hand van die staat”.

Met die nuwe fase wat aanbreek bly Buys se moue vir die afsienbare toekoms hoopvol opgerol.

“Ons is nog so besig met soveel projekte, want daar is nog baie werk om te doen. Ek is nou 63, en as die Here wil, wil ek nog ʼn paar jaar voltyds betrokke wees.”

 

Geskryf deur Maroela Media redaksie.

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 45

Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.

 

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 44

In hierdie week se Wêreldwys ontleed Jaco Kleynhans hoe Trump se tariewe, onderhandelings en siening van soewereiniteit nie net die Amerikaanse ekonomie nie, maar ook die internasionale magsbalans beïnvloed. Is Amerika besig om sy posisie te versterk, en is China regtig so veerkragtig soos dit voorgee? Dié vrae raak elke land op aarde – ook Suid-Afrika. Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 43

 Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 42

In die jongste aflewering van Wêreldwys gesels Jaco Kleynhans met Alida Kok, dosent in politiek aan Akademia, oor die manier waarop diplomasie oor die afgelope dekades verander het. ou modelle van diplomasie is nie meer voldoen nie. In hierdie werklikheid is dit nodig om ʼn nuwe balans te vind tussen dialoog en druk. Om hierdie balans te vind en strategies te kan toepas, is wat groepe op dié komplekse speelveld sal kan onderskei. Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.

Links, regs en die nuwe realiteit

Werner Human

Bron: Maroela Media

 

Die terme links, regs en verregs word al vir ʼn geruime tyd wyd in die internasionale politieke diskoers gebruik – ook in Suid-Afrika. Dit lei dikwels tot groot frustrasie aangesien talle wanopvattings en onwaarhede aan hierdie begrippe gekoppel word.

In Suid-Afrika word enige standpunt wat nie met die ANC se sterk linkse beleidsvertrekpunte ooreenstem nie met allerlei beskuldigings gepeper en aangedik deur aanklagte van “anti-transformasie,” “teenrevolusionêr,” “rassisme” en ander soortgelyke skelname. Onlangs het ʼn ou gunsteling weer sy opwagting gemaak toe die presidensie na die Solidariteit Beweging se besoek aan die VSA verwys het as ʼn “terughunkering na apartheid”.

Onderliggend aan dit alles is die beskouing dat linkse politieke ideale ʼn diep omgee vir ander veronderstel, vooruitgang en voorspoed bewerkstellig en die veiligheid van mense bevorder. Teenstellend kan daar nie genoeg beskrywings gelys word nie waarin regs en verregs as rassisties, gevoelloos, onderdrukkend, abnormaal en sommer botweg as boos voorgehou word.

Die morele aansprake wat met linkse politieke ideale vereenselwig word, het natuurlik tot gevolg dat alles wat buite daardie raamwerk val, vanselfsprekend niemoreel of selfs immoreel is.

En dit is juis hierdie verstaan van die verdeling tussen links en regs op die politieke spektrum – en hoe dit die afgelope dekades uitgespeel het – wat tans uitgedaag word.

Die verkiesing en herverkiesing van Donald Trump is ʼn sprekende voorbeeld hiervan.

ʼn Verdere voorbeeld is die reeks verkiesings vir die Europese Parlement waarin die uitslae van links na die meer behoudendende partye verskuif wat verkies word of deel van koalisies vorm.

Selfs die nasionale verkiesing in Suid-Afrika is ʼn teken dat die linkse politieke ideale die morele aanspraak op openbare en private aangeleenthede begin verloor, en daarmee tesaam, die greep op samelewings en gemeenskappe.

Die foutlyne in die post-Koue Oorlog-era

Die probleem met die hedendaagse “links-regs”-onderskeid lê nie daarin dat daar ʼn onderskeid tussen links en regs in die politieke diskoers kan bestaan nie. Dit op sigself is nie problematies om in die breë na die linker- of regterkant van die politieke spektrum te verwys, of om jouself daarmee te vereenselwig nie. Die werklike probleem ontstaan wanneer die morele vertrekpunte wat aan hierdie posisies gekoppel word nie krities bevraagteken word nie.

Die herwaardering van die tradisionele links-regs-politieke spektrum vereis ʼn ontleding van die nuwe era waarin ons ons tans bevind.

Dit is belangrik om te beklemtoon dat die wêreld – en Suid-Afrika – nie bloot deur ʼn tyd van verandering gaan nie, maar dat ons werklik ʼn verandering van die tyd self beleef.

Die vorige tydvak wat ʼn omwenteling van hierdie aard teweeggebring het, het gekom met die val van die Berlynse Muur wat die einde van die Koue Oorlog ingelui het. Soos vandag, het baie mense destyds geworstel met die vraag oor wat die nuwe era sou inhou en watter vorm dit uiteindelik sou aanneem.

Een van die mees invloedryke denkers in hierdie oorgangstyd was die politieke wetenskaplike Francis Fukuyama. In sy boek The End of History and the Last Man (1992) stel hy die uitgangspunt dat die verloop van geskiedenis gesien kan word as ʼn proses van uitskakeling – waarin verskillende regeringsvorms met verloop van tyd ten opsigte van hul werkbaarheid getoets is.

Fukuyama voer aan dat die politieke ontwikkeling van die mensdom uiteindelik tot ʼn liberale demokrasie as die finale vorm van regering lei. Hy skryf (eie vertaling): “Wat ons moontlik tans beleef, is nie bloot die einde van die Koue Oorlog nie … maar die eindpunt van die mensdom se ideologiese ontwikkeling en die universalisering van Westerse liberale demokrasie as die finale vorm van menslike regerings”.

Die Westerse liberale demokrasie het sy oorsprong in die tydperk van die Verligting, en volgens Fukuyama is dit die regeringsvorm wat ten beste aan die mens se diepste behoeftes voldoen – naamlik erkenning en ekonomiese welvaart. Juis daarom, meen hy, kan die liberale demokrasie as ʼn universele model beskou word wat deur uiteenlopende samelewings aanvaar en geïmplementeer kan word.

Die kernargument van Fukuyama se invloedryke werk is destyds wyd aanvaar as die mees gesaghebbende beskrywing van die post-Koue Oorlog-orde. Dit is egter belangrik om daarop te let dat hy ook verskeie waarskuwings gerig het – onder meer oor die moontlikheid van etniese konflik in verskeie dele van die wêreld wat die verspreiding van die Westerse liberale demokrasie kan knel, sowel as oor kapitalisme wat met politieke mag vervleg word en moontlik ʼn nuwe vorm van outoritêre regering tot gevolg kan hê.

Fukuyama se sentrale uitgangspunt bly egter sy stelling dat die Westerse liberale demokrasie universeel aanvaar kan word en dat die verdere verloop van die geskiedenis uiteindelik in hierdie regeringsvorm sou oorgaan.

Sedert die beëindiging van die Koue Oorlog en die gelyktydige opkoms van die liberale wêreldorde het dit egter al hoe duideliker geword dat verskeie faktore – soos nasionale veiligheidsoorwegings, staatsoewereiniteit, die deurslaggewende rol wat kultuur en kultuurverskille wêreldwyd speel, die belang van Westerse erfenis in Westerse lande en die rol van godsdiens – Fukuyama se uitgangspunte tot ʼn groot mate bevraagteken of selfs ondermyn het.

Twee van Fukuyama se tydgenote het die post-Koue Oorlog-wêreldorde op ʼn heel ander manier benader.

John Mearsheimer, verbonde aan die Universiteit van Chicago, het reeds in 1990 – enkele maande ná die val van die Berlynse Muur – in sy invloedryke essay Back to the Future, sy kommer uitgespreek oor sekere scenario’s wat in die nuwe wêreldorde kon ontstaan.

Volgens Mearsheimer is die liberale ekonomiese orde wat deur Fukuyama voorgehou word nie in staat om werklike vrede en veiligheid te verseker nie. Die primêre waarborg vir vrede lê nie in die afskaal van veiligheidsbelange deur wêreld- of streeksmagte nie, maar in die handhawing van hierdie oorwegings as kernvoorwaarde vir blywende stabiliteit.

Ekonomiese liberalisme gaan van die aanname uit dat vrye handel tussen state, saam met die interafhanklikheid wat dit meebring en die groeiende mag wat daarmee gepaardgaan, uiteindelik die hoogste graad van vrede en voorspoed tot gevolg sal hê. Mearsheimer bevraagteken egter hierdie uitgangspunt fundamenteel.

Dit is inderwaarheid die breër politieke omgewing wat die deurslag gee aangesien dit oor veiligheid, sekuriteit en uiteindelik oorlewing handel. Binne die groter ekonomiese sfeer bring interafhanklikheid egter ʼn mate van afhanklikheid mee, en wanneer daardie afhanklikheid oorgaan in volslae afhanklikheid word staatsoewereiniteit ondermyn – wat weer die veiligheid van lande in gevaar stel.

Daarom voer Mearsheimer aan dat, alhoewel die liberale ekonomiese orde moontlik nie onmiddellik tot grootskaalse oorloë sal lei soos dié in die eerste helfte van die twintigste eeu nie, die potensiaal vir konflik onder so ʼn orde selfs groter kan wees as gedurende die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog.

Met die oog op die huidige wêreldpolitieke landskap is die waarde van Mearsheimer se insigte van 35 jaar gelede besonder relevant. Sy kritiek op die ekonomiese liberale orde dui daarop dat die stelsel se neiging om state se veiligheidsoorwegings te onderskat, juis die ruimte vir groter spanning en konflik skep.

Samuel Huntington, ook ʼn toonaangewende stem in daardie tyd, voer in teenstelling met die posisie wat Fukuyama voorhou, aan dat die ganse wêreld nie maklik met Westerse liberale denke versoen kan word nie.

In sy boek Clash of Civilisations (1996) skryf Huntington: “Westerse universalisme is gevaarlik vir die wêreld omdat dit ʼn globale oorlog tussen beskawings kan ontketen. Dit is gevaarlik vir die Weste self omdat dit tot die Weste se eie ondergang kan lei.” En voorts: “Die voortbestaan van die Verenigde State en die Weste vereis die hernuwing van Westerse identiteit. Die veiligheid van die wêreld vereis die aanvaarding van globale veelbeskaafdheid. Die poging om Westerse politieke en ekonomiese waardes op ander beskawings af te dwing, is beide nutteloos en moreel onverdedigbaar.”

Waar Mearsheimer ʼn meer realistiese posisie inneem deur te pleit dat die politieke omgewing wat vir veiligheid en soewereiniteit van magte daargestel word die botoon moet voer vir blywende vrede, voer Huntington aanvullend tot die posisie aan dat kultuur- en beskawingswerklikhede insgelyks verreken moet word om vrede en verdraagsaamheid te bevorder.

Die toepassing van Mearsheimer en Huntington in die post-Koue Oorlog-era

Heelwat van die bekommernisse van Mearsheimer en Huntington is bewaarheid. Die uitbreiding van Navo het ʼn bydraende rol tot die aggressie van Rusland gespeel, veral met verwysing na die anneksering van die Krim-skiereiland in 2014 in Oekraïne en die oorlog wat Rusland in Oekraïne sedert 2022 voer.

Rusland se aggressie dui ook op die verwerping van Westerse universaliteit en die heropkoms van kultuur wat ʼn kernrol in internasionale betrekkinge speel.

Die Westerse beskawing worstel tans met die behoud van sy eie identiteit onder die druk van immigrasie, globalisering en universele aansprake van die liberale wêreldorde.

In hierdie konteks kan die verkiesing van Donald Trump in 2016 ʼn keerpunt verteenwoordig. Trump se veldtog is telkens gebou op die beginsels van ekonomiese nasionalisme, kulturele bewaring en die herbevestiging van ʼn Westerse (en spesifiek Amerikaanse) identiteit. Slagspreuke soos “Make America Great Again” en “America First” spreek tot ʼn breër behoefte aan kulturele erkenning en grensoorkoepelende selfbehoud. Vir Huntington sou Trump se opkoms ʼn bewys wees van hoe Westerse burgers hul beskawing as bedreiging begin sien – nie net deur buitelandse magte nie, maar deur interne verval en liberale universalistiese idees.

In Europa het ʼn soortgelyke verskuiwing plaasgevind. Politieke leiers soos Viktor Orbán in Hongarye, Giorgia Meloni in Italië, Geert Wilders in Nederland en Marine Le Pen in Frankryk fokus almal sterk op kulturele identiteit, godsdiens, erfenis en nasionale soewereiniteit. Die partye wat hulle verteenwoordig is dikwels krities teenoor immigrasie, die verwerping van Europese integrasie en teenoor liberale norme wat – volgens hulle – Westerse beskawingswaardes verwater of ondermyn.

Sowel Trump as hierdie Europese partye verteenwoordig ʼn breër reaksie op globalisering en die liberale wêreldorde wat Westerse elite-strukture ná die Koue Oorlog probeer vestig het. Nou, ironies genoeg, begin Westerse beskawings self daardie universele aansprake bevraagteken, en begin hulle eerder fokus op hul eie kulturele oorlewing.

In die lig hiervan is Huntington se werk besonder relevant: Hy het voorsien dat beskawingspolitiek nie net tussen die Weste en “die res” sou afspeel nie, maar ook binne die Weste self. Die kulturele herlewing, die behoefte aan identiteit en die opkoms van leiers wat hulself sien as beskermers van kultuur en geskiedenis, bevestig dat die wêreldpolitiek weer rondom kultuur – nie ideologie alleen nie – gesentreer is. Huntington se waarskuwing teen die selfversekerde universaliteit van die liberale orde was nie ʼn pleidooi vir isolasie nie, maar ʼn beroep op selfkennis, balans en die aanvaarding van wêreldwye veelvormigheid.

Links, regs aan’t verander

Daar kan met reg gestel word dat die manier waarop die politieke posisies van links en regs oor die afgelope drie dekades verstaan is, tans uitgedien en ontoereikend is.

Dit is duidelik dat die wêreldorde wat ná die Koue Oorlog ontstaan het, nie die finale fase van vrede, vooruitgang en universele liberalisme verteenwoordig het nie. Inteendeel, ons bevind ons nou in ʼn nuwe tydvak waarin kultuur, identiteit, nasionale belange en magsbalans weer sentraal staan. Die liberale wêreldorde sal moontlik nie heeltemal verdwyn nie, maar die era van Westerse liberale hegemonie is klaarblyklik verby.

Daar is dus nie meer ruimte om sonder meer aan te neem dat linkse politieke uitgangspunte inherent goed en edel is terwyl regse posisies as boos of agterlik afgemaak word nie. So ʼn benadering is onvanpas in ʼn wêreld waarin die kompleksiteit van kulture, geskiedenisse en magsbelange nie in eenvoudige morele raamwerke vasgevang kan word nie.

Die realiteit van die toekoms is dat dit wat voorlê nie noodwendig gekenmerk sal word deur ʼn wêreld van konsensus en eenvormigheid nie, maar eerder deur herskikking en aanpassing.

In hierdie nuwe era sal volhoubare vrede en samewerking nie gesmee word deur die oplegging van universele ideale nie, maar deur die erkenning van en verdraagsaamheid teenoor verskille, die hantering van magsrealiteite, en die verantwoordelike bestuur van spanninge binne ʼn wêreldorde sonder ʼn enkele sentrum van gesag.

Ernstige gevolge vir gewone Suid-Afrikaners as VSA sy ambassade afskaal en konsulate sluit 

Bron: Solidariteit

Nóg uitgebreide ekonomiese en diplomatieke skade, verdere werksverliese, ʼn uittog van beleggers én hindernisse met die uitreik van noodsaaklike handelspermitte en reisigersvisums.
Solidariteit glo dit alles tel onder die moontlike gevolge wat die afskaling van die Amerikaanse ambassade in Pretoria, asook die moontlike sluiting van die Amerikaanse konsulaat in Johannesburg, vir Suid-Afrikaners kan inhou.

Hierdie werklikhede dreig as gevolg van die Suid-Afrikaanse regering se verbrokkelende verhouding met die Verenigde State van Amerika. Dié diplomatieke krisis kan veroorsaak dat die omvang van die Amerikaanse diplomatieke missie in Suid-Afrika dramaties verklein word.
ʼn Geskil oor Suid-Afrika se amptelike beleidsposisies het ʼn diplomatieke krisis tussen die lande ontketen, en dit word tans vererger deur pogings van die Johannesburgse metroraad om die straat waarin die VSA konsulaat in Sandton geleë is na ʼn Palestynse vryheidsvegter te vernoem.
Die risiko bestaan dat die VSA sy Johannesburgse konsulaat sal wil sluit, terwyl die oorblywende konsulate in Kaapstad en Durban ook in die gedrang kan kom.

Solidariteit glo ʼn verdere diplomatieke misrekening, soos die geval sal wees met die straatnaamverandering wat tans deur die metroraad oorweeg word, sal ʼn reeds brose verhouding met die VSA verder skaad.
Volgens die Solidariteit Navorsinginstituut (SNI) sal selfs net die sluiting van die Johannesburgse konsulaat ʼn gevoelige slag wees, aangesien Johannesburg die ekonomiese hoofstad van Suid-Afrika, en ook die tuiste van etlike Amerikaanse en multinasionale maatskappye in die land is.

Die SNI glo die sluiting sal onder meer:

•    die proses vir Suid-Afrikaanse reisigers wat visums wil bekom, bemoeilik;
•    die proses wat Suid-Afrikaanse sakelui moet volg wat visums wil bekom en ondernemings wat noodsaaklike handelspermitte en -dokumentasie wil bekom, belemmer;
•    beleggersvertroue skaad aangesien die sluiting op ʼn verdere verbrokkeling van die diplomatieke verhouding dui;
•    werksverliese vir Suid-Afrikaners meebring aangesien groot Amerikaanse maatskappye hul teenwoordigheid in Suid-Afrika kan beëindig of heroorweeg;
•    meebring dat hotelle, restaurante en diensverskaffers wat afhanklik is van konsulêre besoekers, inkomste sal verloor, wat tot verdere werksverliese kan lei; en
•    Amerikaanse bydraes inperk wat die konsulaat tot waardevolle intelligensie oor transnasionale misdaad, geldwassery en terrorisme lewer, en Suid-Afrika se weerstand teen georganiseerde misdaad verminder.

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, kan veel ernstiger gevolge as die sluiting van ʼn konsulaat volg indien radikale regeringsamptenare met ʼn ideologiese stryd teen die VSA volhard.
“Dit is in geen Suid-Afrikaner se belang om ter wille van ANC-beleid en -agendas aan die risiko van verdere ekonomiese agteruitgang en internasionale isolasie blootgestel te word nie.
“Dit is wat die afskaal van die Amerikaanse missie en die sluiting van ʼn konsulaat sal teweegbring.
“Hou ook in gedagte dat Amerikaanse maatskappye, waarvan talle se kantore in Johannesburg geleë is, sommiges digby die konsulaat in Sandton, duisende Suid-Afrikaners in diens neem. Hulle dra boonop miljarde rand in belasting tot die tesourie by.
“Ongelukkig lyk dit of ons regering met sy anti-Westerse narratief gaan volhard en dus gemaklik is as gewone Suid-Afrikaners vir regeringsondes gestraf word,” waarsku Kleynhans.

Suid-Afrika se verhouding met die regering van president Donald Trump beleef tans ʼn ongekende laagtepunt.
Die verhouding het die afgelope paar weke verdere terugslae beleef weens kwetsende uitlatings teenoor die VSA deur die voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Washington, Ebrahim Rasool, en beledigings deur die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula.
Die VSA het ook kennis geneem van die Ramaphosa-regering se stilswye oor die EFF-party se sing van die “Kill the Boer”-strugglelied op Menseregtedag.

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.