Tag: Solidariteit Beweging
Afrikaners en Zoeloe-gemeenskappe wil saamwerk
Bron: aangepas van AfriForum
ʼn Herdenkingsgeleentheid is op Vrydag 18 Oktober vir die voormalige Zoeloekoning, koning Dinuzulu (1868-1913), op die plaas Rietfontein (KwaThengisangaye) gehou.
Die huidige Zoeloe-koning, Koning Misuzulu KaZwelithini, het AfriForum (’n instelling van die Solidariteit Beweging) na die geleentheid genooi. Vir dié twee partye is dit die begin van formele gesprekke van samewerking tussen die Zoeloe-gemeenskappe en die Afrikaners.
Koning Misuzulu KaZwelithini wil hê die gesprekke moet handel oor samewerking op die terreine van die ekonomie, gemeenskapsveiligheid, grondbestuur en kultuuruitruiling en ander sake van gemeenskaplike belang.
Dié geleentheid het plaasgevind op die plaas waar koning Dinuzulu op 18 Oktober 1913, presies 111 jaar gelede, in ballingskap oorlede is.
ʼn Kort agtergrond oor die Afrikaners en die Zoeloes
Talle mense wat nie so vertroud is met die geskiedenis nie, verkeer onder die indruk dat die Afrikaners en die Zoeloes ʼn geskiedenis van konflik het en vandag steeds in vyandskap voortleef. Hierdie persepsie dateer terug na die gebeure tydens die Groot Trek.
Onder die heerskappy van koning Dingaan, ʼn wrede Zoeloe-koning, het duisende Zoeloes onder sy bevel onskuldige vroue, kinders en gesinne uitgemoor tydens die Slag van Bloukrans. Die Trekkers het hierop wraak geneem met die Slag van Bloedrivier waar bykans tien duisend Zoeloes gesneuwel het.
Ná hierdie gebeure en koning Dingaan se afsterwe, het die Voortrekkers, vandag die Afrikaners, met die Zoeloes vrede gemaak. Die Afrikaners was selfs by die inhuldiging van Dingaan se opvolger, koning Mpande. Die Afrikaners en Zoeloes het daarna by talle geleenthede sy aan sy geveg en saamgewerk waar die geleentheid hom voorgedoen het.
Hierdie samewerking en vrede word veral gesien aan die verhouding wat koning Dinuzulu met die Afrikaners gehad het.
Tydens die Bambata-rebellie teen Britse kolonialiste in 1906, is koning Dinuzulu tronkstraf in Newcastle opgelê. Met Suid-Afrika se uniewording, het die nuwe eerste minister, Louis Botha, opdrag gegee dat die Zoeloe-koning vrygelaat word.
Ná sy vrylating is koning Dinuzulu toegelaat om hom op die plaas Rietfontein te vestig waar hy ook sy laaste jare deurgebring het. Hy was welbekend aan Botha, omdat Botha as ʼn jong man deel van die kommando van kmdt. Lucas Meyer was wat koning Dinuzulu bygestaan het tydens die oorwinning oor die Mandlakazi, ʼn Zoeloe-faksie, tydens die Slag van Spookberg (Tshaneni) in 1884.
Tydens hierdie herdenkingsgeleentheid is daar terugverwys na die verhouding tussen generaal Louis Botha en koning Dinuzulu.
Wat hou die toekoms in?
In sy toespraak het die koning onder meer beklemtoon dat die “historiese bondgenootskappe” wat tussen die Afrikaners en Zoeloes bestaan het, “ʼn herinnering is aan die kompleksiteite en nuanses van ons verlede.”
“Die verhoudinge wat tussen koning Mpande, koning Dinuzulu en die Boereleiers bestaan het, herinner ons aan die ingewikkelde web van diplomasie en bestandheid wat ons geskiedenis gekenmerk het,” het koning Misuzulu KaZwelithini gesê.
Volgens Mwalela Cele, adjunkhoof van Navorsing en Innovasie by Amafa, is die KwaThengisangaye-terrein ʼn bevestiging van die rol wat erfenis kan speel in die bevordering van vreedsame naasbestaan.
“Die terrein en die geskiedenis en erfenis wat daarmee verbind word, bevestig dat daar meer is wat ons saambind as wat ons in hierdie pragtige land verdeel. Dit is vir Amafa baie belangrik dat terreine soos dié bewaar word en dat gedenktekens en -panele opgerig word sodat dit vir die komende geslagte bewaar kan word en sodat mense hul geskiedenis sal kan ken,” verduidelik Cele.
Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, het tydens die herdenkingsgeleentheid onder meer daarop gewys dat die huidige geslag ook, soos vorige geslagte, die verantwoordelikheid het om ʼn toekoms vir die nageslag te verseker. Hy hou vol dat al die volke in die land groot uitdagings in die gesig staar, maar dat oplossings wink.
“AfriForum glo dat al die kultuurgemeenskappe op die grondslag van wedersydse erkenning en respek moet saamwerk oor sake wat vir ons belangrik is. Die historiese vraagstuk wat ons geslag moet oplos, is die vreedsame naasbestaan van al die volke wat die suidpunt van Afrika hul huis noem. Wat vandag hier gebeur, kan dien as ʼn goeie begin om vreedsame naasbestaan te verseker. Ons is besig om vertroue te bou. Ons is besig om die moeilike gesprekke te hê wat nodig is om egte versoening tussen volke te bewerkstellig.”
Uys het koning Misuzulu se positiewe reaksie op ʼn versoek om ʼn dialoog met die Afrikanergemeenskap, verwelkom.
“Ons sien baie uit daarna om in gesprek te tree met die koning oor die kwessies wat ons onderskeie gemeenskappe raak en om met die koning saam te werk,” verduidelik Uys.
“AfriForum en Afrikaners kies om in geregtigheid voort te bestaan. Ons kies wedersydse erkenning en respek. Ons kies vreedsame naasbestaan. Ons beleef dat die ander volke in die land, en veral die tradisionele leiers, ook dié keuse maak en vandag se vieringe was ʼn uitsonderlike voorbeeld daarvan. Ons is ook baie dankbaar vir die groot voorreg dat koning Misuzulu hierdie geleentheid bygewoon het en as hoofspreker opgetree het.”
Verslag: Lesufi se Gauteng sál Bela soos ʼn byl gebruik
18 Oktober 2024
Connie Mulder
Die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) se lang geskiedenis van vyandige uitsprake teenoor Afrikaanse enkelmediumskole dien as bewys van hoe gevaarlik die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela) in die hande van dié soort amptenare sal wees.
Hierdie vyandige uitsprake deur onder andere die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, en sy opvolger as LUR vir Onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, word vervat in ʼn verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) wat vandag uitgereik word.
Volgens Connie Mulder, hoof van die SNI, bied die uitsprake, asook die optrede van die amptenare genoeg rede om te verwag dat die nuwe magte wat Bela aan die GDO verleen aggressief teen Afrikaans ingespan sál word.
“Bela word gevolglik soos ʼn vlymskerp byl in die hand van iemand wat lank reeds jeuk om ʼn kosbare boom af te kap. Daardie boom is Afrikaanse onderrig.
“ʼn Patroon het oor die afgelope jare ontstaan wat wys hoe die Gautengse Departement van Onderwys, en spesifiek Lesufi en Chiloane, Afrikaanse enkelmediumskole in werklikheid sien as iets wat in die naam van transformasie uitgeroei moet word,” het Mulder gesê.
In die verslag toon die SNI ook aan hoe dit reeds in praktyk sigbaar was toe die departement in 2018 onregmatig Engelse leerders by die Hoërskool Overvaal probeer plaas het.
Solidariteit glo die Bela-artikels oor taal- en toelatingsbeleid sal dus deur hierdie einste amptenare gebruik word om opdrag aan Afrikaanse enkelmediumskole te gee om voortaan dubbelmedium-onderrig aan te bied.
Die Bela-wet se bewoording oor taalbehoefte bepaal hoe genoegsame oorweging aan ʼn skooldistrik se taaldemografie gegee moet word.
Volgens Mulder plaas dit Afrikaanse skole in die spervuur aangesien Afrikaans in geen onderwysdistrik meer as 30% van die taalbehoefte verteenwoordig nie.
“Net sowat 5% van skole in die land is uitsluitlik Afrikaans. Onder Bela sal dié enkelmediumskole tot niet gaan om aan die sogenaamde taalbehoefte van die distrik te voldoen, tensy ʼn departementshoof gewillig is om die skole te beskerm.
“Ons weet die Gautengse onderwysdepartement het hopeloos misluk met die bou van skole, en in Lesufi se ampstermyn as LUR vir onderwys was daar ʼn negatiewe groei in skole,” sê Mulder.
In die verslag word uitgewys hoe daar na afloop van Lesufi se termyn in der waarheid nege minder skole in Gauteng was, maar sowat 300 000 meer leerders.
Om na die leerder-skool-verhouding van 2009 terug te keer, sal die GDO, volgens Mulder, onmiddellik 552 nuwe skole moet bou – eerder as die getal van 60 skole wat Lesufi aanvoer nodig is om in die groeiende vraag na onderwys in die provinsie te voorsien.
Mulder het verder na die regering se versuim om in die vraag na skole te voorsien, verwys as ’n ongemaklike feit wat Lesufi en kie graag wil toesmeer deur goed funksionerende Afrikaanse skole te kaap.
Lees die volledige verslag oor Bela se impak op Gauteng hier.
Lede van die media kan ook na hierdie video van Connie Mulder kyk waarin hy hierdie Bela-verslag uiteensit.
KYK | ‘n Historiese optog: Ernst Roets gesels met Dirk Hermann
Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 22
Bela-optog: Gee één dag vir die toekoms van ons kinders
Bron: Solidariteit.co.za
Die dag van protes teen die Wet op Basiese Onderwys (Bela) gaan op Dinsdag 5 November in Pretoria plaasvind. Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, word daar met hierdie dag gevra dat die publiek één dag opgee vir die toekoms van ons kinders.
Dié dag word deur die Solidariteit Beweging, waaronder Solidariteit, AfriForum en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) sorteer, georganiseer. ʼn Breë front van ander Afrikaanse organisasies asook ander onderwysorganisasies gaan ook deelneem. Tientalle beheerliggame het ook aangedui dat hulle ouers gaan mobiliseer vir die protes en ʼn groot aantal tradisionele leiers wat sterk voel oor moedertaalonderrig gaan saam protesteer.
Volgens Buys gaan die onderhandelinge met verskeie partye rakende Bela voluit voort. “Daar is ʼn magsbalans in onderhandeling nodig. Die protessaamtrek- en optog is noodsaaklik om ons protes in die openbaar te wys. Hierdie is nie ʼn klein politieke geskil nie. Dit gaan oor die oorlewing van ʼn taal- en kultuurgemeenskap,” sê Buys.
Die optog sal by die Voortrekkermonument begin, waarvandaan almal saam na Freedom Park sal beweeg.
Buys sê Freedom Park simboliseer eenheid en verskeidenheid vir die regering. President Ramaphosa het gesê die doel van die uitstel van die implementering van artikels 5 en 6 van die Bela-wet is ter wille van eenheid. Ons glo dat Bela eenheid bedreig en verskeidenheid vernietig. Dis hoekom ons die regering by Freedom Park wil ontmoet.
Deelnemers aan die optog word gevra om vanaf 08:00 die oggend by die Voortrekkermonument aan te meld en verrigtinge sal vanaf 10:00 posvat. Deelnemers word aangemoedig om te registreer en gemaklike skoene aan te trek.
Om aan die dag van protes deel te hê moet ʼn kort registrasievorm op www.belaprotes.co.za voltooi word.
Die Bela-wet se artikels 5 en 6 vat die finale sê oor die toelating- en taalbeleid by ʼn skool van die beheerliggaam en die ouer weg, en gee dit oor aan ʼn staatsamptenaar wat dan die mag het om dié beleide te verander.
Pres. Cyril Ramaphosa het in September vanjaar onderneem om vir drie maande lank dié artikels nie te implementeer nie, sodat gesprek daaroor gevoer kan word en onderhandelinge kan plaasvind.
Volgens Buys moet daar in dié tydperk soveel as moontlik druk op die regering geplaas word sodat daar ʼn skikking bereik kan word.
“Ons tyd is dus min. Ons doen ʼn beroep op beheerliggame en ouers om in groot getalle te mobiliseer om só te help om Bela te stop. Ons doen ʼn beroep op jou, asook jou vriende en familie om in groot getalle op te daag. Dit is een dag se stap vir die toekoms van ons kinders,” sê Buys.
Volledige besonderhede oor die Bela-protesoptog kan saam met die registrasievorm op www.belaprotes.co.za gekry word.
Bela-protesoptog:
Wanneer: Dinsdag 5 November 2024 vanaf 08:00
Waar: Voortrekkermonument (na Freedom Park)