Suid-Afrika het 32 jaar gelede met wêreldwye applous ʼn demokrasie geword, waarna ʼn goue toekoms vir die land voorspel is. Drie dekades later is daar ʼn wye ontnugtering met die uitkomste van ANC aan bewind, en staar die land regeringsgedrewe staatsverval in die gesig. ʼn Paar syfers som die toestand op:
- Na die goue groeijare van die Mandela- en Mbeki-administrasies, het die land sedert 2007 twee verlore dekades beleef, met ʼn gemiddeld van 1% groei per jaar.
- Die rand het 77% van sy waarde sedert 1994 verloor.
- Werkloosheid het vanaf 20% in 1994 na 32% verhoog, met jeugwerkloosheid van meer as 60%.
- Sowat 50% van die bevolking is afhanklik van staatshulp.
- Daar is wydverspreide munisipale verval, met net 16% van stadsrade wat skoon oudits kry.
- Die strafregstelsel is in ʼn krisis, met net 8% van geweldsmisdade wat uiteindelik tot skuldigbevindings lei.
Wat het verkeerd geloop?
Die vraag is eerstens wat het verkeerd geloop, en tweedens hoe kan dit reggestel word?
Die eerste fout was dat die ANC se historiese rigtingwyser eerder die Russiese rewolusie as die Japanse restourasie was. Die ANC se beleid is vandag nog amptelik ʼn “Nasionaal demokratiese rewolusie”, wat polities handel dryf as radikale transformasie. Die mikpunt was ʼn “ontwikkelingstaat” breedweg geskoei op die Chinese model, wat deur ʼn ekonomie gedryf moes word wat uit instellings in staatsbesit bestaan. ʼn Beleid van “kaderontplooing” moes alle magsentrums onder ANC beheer bring. Die ontwikkelingstaat het misluk a.g.v. die verval van die meeste staatsmonopolieë oor elektrisiteit, spoorweë en hawens. Beheer deur kaders het hervoming prakties onmoontlik gemaak.
Tweedens was die ANC eerder ʼn gelykheidsbeweging as ʼn vryheidsbeweging. In plaas daarvan om armoede met ekonomiese groei aan te spreek, het die party herverdeling geprioritiseer en gelyke uitkomste nagestreef. Hierdie projek was meer daarop gerig om rykes armer te maak as om armes ryker te maak. Namate die ekonomie al hoe meer begin stagneer het, het die ANC al hoe meer teruggekeer na sy sosialistiese wortels deur al skerper herverdeling en al hoe meer staatsbeheer oor die ekonomie, water, minerale, grond, en onderwys. Hoewel die gereelde verkiesings nog vry en regverdig is, word vryheid in hierdie sentraliseringsproses al hoe meer ingeperk.
Derdens het die ANC ʼn staat wat geografies en demografies (12 amptelike tale) baie uiteenlopend is, as ʼn sentrale eenheidstaat instede van ʼn federasie probeer regeer. Die ANC is sterk gekant teen federalisme omrede hulle mag sterker wil sentraliseer in plaas van versprei. Die uiteinde hiervan is ʼn land wat in vyf gebiede verdeel kan word: gebiede soos die opposisie beheerde Wes-Kaap wat goed regeer word; dié wat swak regeer word (ANC-beheerd); gebiede soos sekere middestede wat onregeerbaar is; gebiede wat glad nie regeer word nie (diep platttelands); en areas wat hulself regeer, soos privaat dorpe. Die land het dus nie net ʼn regeringsprobleem nie, maar ʼn bedelingsvraagstuk.
Die vierde fout was om Afrikaners uit te sluit en te vervreem. Terwyl die Gealieerdes net vier jaar na die Tweede Wêreldoorlog die Duitsers vanaf vyande na vennote in die heropbou van Europa behandel het, regeer die ANC 32 jaar na apartheid nog steeds teen Afrikaners. Hulle lewens word gereguleer met rassebepalings (onder die vaandel van regstelling) en deur grondwetlike bepalings oor skole en universiteite te verbreek. SA se grootste uitvoerproduk is hoëvlakvaardighede, werkskeppers en belastingbetalers. Afrikaners se belewing dat hulle vryheid al hoe meer bedreig word, word deur die ANC gerieflik as ʼn “terugverlang na apartheid” afgemaak.
Die vyfde fout is om Suid-Afrika se buitelandse beleid op grond van ideolo hgiese- en historiese gronde in plaas van nasionale belang te baseer. Die ANC-regering se toetrede tot Brics in 2010 was die voorloper van ʼn naderbeweeg aan lande soos China, Iran, Rusland en Kuba, en die verswakking in verhoudings met die VSA, Israel en ander Westerse moondhede.
Sosialisme
Terugskouend gesien, was die skeptiese stemme oor Suid-Afrika se toekoms uitgedoof deur die wêreldwye vreugde oor die 1994 “wonderwerk”. Francis Fukuyama van Stanford het byvoorbeeld gewaarsku dat: “South Africa’s constitutional democracy is a sort of foreign body that’s sitting on top of a society that’s not modernised in other respects.” Die spanning spruit onder meer daaruit dat die land ʼn sosiaal konserwatiewe bevolking, ʼn liberale Grondwet en ʼn linkse regering het. Hoewel die ANC ʼn “regering van nasionale eenheid” in 2024 gevorm het wat lede van die opposisie insluit, bepaal die ANC in praktyk steeds die nasionale beleid.
Fukuyama het reeds in 1993 teen sosialisme gewaarsku:
“The main obstacle to black social modernization in the future may well be the belief in socialism on the part of the ANC and its communist allies. Socialism has always presented itself as a higher and more progressive form of social organization than capitalism. But in the contemporary world, socialism has been revealed to be an obstacle to social and economic modernization – the hallmark of a certain kind of backwardness that needs to be overcome, just like illiteracy and superstition. The countries of Eastern Europe are now moving rapidly backward into the future, undoing the legacy of forty years of dictatorship and socialist planning. Let us hope that South Africa, as it makes the necessary transition to democracy, does not move forward into the past.”
Hervormings
Daar is nog hoop vir Suid-Afrika. Al kan die klein veranderings wat te min te laat is nog nie as grondige hervormings beskou word nie, is daar groen spruite sigbaar. Daar sal egter omvattende hervormings moet kom om die land blywend suksesvol te maak. Dit sluit onder meer in:
- die bevryding van die ekonomie deur die staat se rol in die samelewing te verklein en onomwonde die privaat sektor in plaas van die staat as die enjin van die ekonomie te aanvaar – ʼn groeiende ekonomie bly die beste verskaffer van werk en is die beste gelykmaker, en die vinnigste manier om armoede te verklein;
- die verandering in strategie van die regering vanaf ʼn ontwikkelingstaat na ʼn ontwikkelingsamelewing, met ʼn klem op die ontwikkeling van die land se mense;
- die vervanging van sentralisme met federalisme deur die ANC – ʼn voorwaarde vir werklike demokrasie, vryheid en doeltreffende regering;
- die vestiging van beter verhoudinge met die VSA deur buitelandse beleid wat in nasionale belang is, en wat minstens onverbonde is; en
- die behandeling van Afrikaners as vennote deur die ANC om die land te herbou, asook die sluit van ʼn kultuurakkoord wat Afrikaners se grondwetlike regte respekteer.
Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.


