In 1994 het Suid-Afrika ʼn ingrypende ordeverandering beleef. ʼn Antwoord moes gevind word vir ʼn land met ʼn buitengewoon diverse samelewing.
ʼn Nuwe Grondwet is onderhandel, individuele regte is verskans, maar die groot tekortkoming was die gebrekkige beskerming van ons diverse kultuurlandskap en spesifiek minderheidsgemeenskappe.
Die unitêre model, wat sentralisering bó desentralisering verkies, was terugskouend waarskynlik die minste geskikte stelsel vir so ʼn diverse land.
Wat dikwels vergeet word, is dat daar destyds sterk stemme vir ʼn federale oplossing was. Hierdie denkrigting het ondersteuning geniet binne en buite die Nasionale Party, onder akademici, internasionale drukgroepe en selfs uit swart geledere. Die huidige leierskorps van die Solidariteit Beweging het hulle ook met dié denkskool vereenselwig.
Daar is gepraat oor minderheidsbeskerming, magsdeling, streeksoutonomie en die voorkoming van totale sentralisering – minder staat en meer gemeenskap.
Vandag word dit dikwels voorgehou asof daar slegs twee moontlikhede was: die uitgediende apartheidstelsel of die huidige unitêre stelsel. Indien jy krities teenoor die huidige bedeling staan, word jy maklik daarvan beskuldig dat jy bloot die ou bestel klakkeloos wou beskerm.
Namate Suid-Afrika al meer sentraal bestuur word, word daar al meer besef dat die huidige Suid-Afrikaanse bestel ernstige gebreke toon. ʼn Alternatief kon destyds bedink word – en kan vandag steeds bedink word.
Dwarsoor die wêreld bestaan daar uitstekende federale modelle vir die bestuur van diverse samelewings.
ʼn Groep van die Solidariteit Beweging was onlangs op ʼn studietoer in Europa om federalisme verder te ondersoek. Federalisme is ʼn volkome normale begrip in groot dele van die wêreld. In Vlaandere word dit selfs beskryf met ʼn woord wat vir ons bekend klink: selfbeskikking.
Afrikaners vorm deel van die ryk Westerse tradisie. Daarom was Nederland ons eerste bestemming – nie vanweë Nederland se federalisme nie, maar om weer Afrikaners se verbintenis met die Westerse beskawingstradisie te onthou.
Amsterdam is sekerlik nie die enigste voorbeeld nie, maar wel een van die duidelikste van hoe die Weste se invloed na die Afrikaner deurgespoel het. Ons was in die vertrek waar die besluit geneem is om ʼn verversingstasie aan die Kaap te vestig – die geboorte-oomblik van ʼn volk in die hart van die Westerse handelswêreld.
Die hele Europa getuig van ʼn ryk beskawing waarvan ons deel is. Ons is nie Europeërs nie – ons is van Afrika – maar ons is onteenseglik ook deel van die Westerse tradisie.
België: parlemente vir verskillende gemeenskappe
Ons tweede stop was België – ʼn land met ʼn lang geskiedenis van interne konflik. België bestaan uit drie streke: Vlaandere, ʼn Franse streek en ʼn klein Duitse streek. Elke streek het sy eie parlement waarin plaaslike besluite geneem word, terwyl ʼn federale parlement oor nasionale sake besluit. Selfs binne die federale parlement bestaan daar veto’s vir die onderskeie taalgroepe.
Switserland: radikale demokrasie van onder af
Ons derde bestemming was Switserland met sy kantonstelsel. In Genève het ons eers ʼn toer op die spore van die Reformasie meegemaak. Binne die Westerse tradisie het die Reformasie ʼn enorme invloed op die vorming van Afrikaners gehad: uit genade, deur Christus, tot dankbaarheid.
Dit was ook in Genève waar ons ʼn klag teen die Suid-Afrikaanse regering se rassebedeling by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) van die Verenigde Nasies ingedien het.
In Zürich het ons ʼn lesing oor die Switserse kantonstelsel bygewoon. Switserland bestaan uit 26 kantons – byna soos 26 klein lande – wat elk hul eie unieke behoeftes bestuur. Daar is vier tale: Duits, Frans, Italiaans en ʼn klein taal, Romaans. Die kantons is grootliks rondom dié taalgemeenskappe georganiseer. Switserland maak op plaaslike, kantonnale en federale vlak van referendums gebruik. Besluitneming geskied van onder af, met mag wat oorspronklik by gemeenskappe lê en dan opwaarts vloei.
Suid-Tirool – die reg om selfte besluit
Ons laaste stop was Suid-Tirool, ʼn noordelike provinsie van Italië. Suid-Tirool, oorspronklik ʼn Duitse streek, is ná die Eerste Wêreldoorlog by Italië ingelyf. Skielik het ʼn Duitse gemeenskap van sowat 500 000 mense hulle binne ʼn Italiaanse staat bevind.
Ná ʼn lang stryd het die streek uiteindelik ʼn groot mate van outonomie verkry. Hulle kultuur word beskerm en hulle ontvang 90% van hul belastinggeld terug.
Toe ek vir ʼn Suid-Tiroler vra waarom outonomie vir hulle so belangrik is, was sy antwoord eenvoudig: “Dit gaan oor die reg om self te kan besluit.”
Federalisme – waarvoor die Solidariteit Beweging ook staan – is dus niks buitengewoons nie. Dit is ʼn normale en dikwels noodsaaklike manier waarop volke, tale en kultuurgemeenskappe wêreldwyd hul voortbestaan verseker.
Die Europese model onder druk
Daar is egter iets wat baie Europese lande nie verreken het nie: massa-immigrasie van mense wat kultureel en godsdienstig dikwels nie wil integreer nie. Benewens die groot migrasiegetalle is daar ook die hoë bevolkingsgroei binne sekere immigrantegemeenskappe. In ʼn Turkse kafee sien ʼn mens selfs stootwaentjies te koop.
Europa se hele model word ontwrig. Tot só ʼn mate dat ʼn Nederlandse joernalis vir ons gesê het: “Ons is binnegeval”. ʼn Vlaamse politikus meen dat hulle teen 2040 ʼn minderheid in hul eie land kan wees. Switserland probeer desperaat om deur middel van ʼn referendum hul bevolking op 10 miljoen te beperk. ʼn Suid-Tiroler beskryf die immigrasiekrisis as vernietigend.
Voeg hierby Europa wat grootliks sy Christelike geloof en beskawingsanker verloor het. Sonder daardie ankers kan weerstand teen nuwe kulturele druk moeilik gebied word. Dit is byna soos Simson wat sy hare verloor het – ʼn tragiese beeld van krag wat ongemerk verdwyn het. Baie van die nuwe immigrantegemeenskappe beskik juis oor sterk en selfversekerde geloofsidentiteite wat die vakuum van sekularisme vul.
Ek keer terug na Suid-Afrika met die indruk van ʼn Europa in ʼn krisis. Ek vertrou dat Europeërs weer die rykdom van die Westerse tradisie sal herontdek. Soos ʼn kollega dit gestel het: “Hulle sal weer hul boekrolle moet vind”.
Gemeenskapsfederalisme: Ons sal self
Dit bring my terug by die Solidariteit Beweging se model van gemeenskapsfederalisme, saamgevat in die woorde: “Ons sal self”. Ons het oplossings gevind binne die werklikhede van demografiese verandering. Ons Europese gashere was baie geïnteresseerd in dié model. Ons het reeds sekere uitdagings verreken wat moontlik nog vir hulle voorlê. Ons het minstens planne. Party van hulle het selfs hoop in ons benadering raakgesien.
Ek is steeds van mening dat ʼn federale politieke bestel ook vir Suid-Afrika ʼn beter oplossing sou wees – en steeds kan wees. Die Solidariteit Beweging se model van gemeenskapsfederalisme is juis kragtig omdat ons self beheer daaroor het.
Die krag van “ons sal self” sluit direk aan by die woorde van die Suid-Tiroler: “Dit gaan oor die reg om self te kan besluit”. Dit is reg, dit is normaal en dit is vryheid.
Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
