Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het Dinsdag (29 September) tydens die Helpende Hand Studietrust se sakeontbyt ʼn sterk beroep op mense gedoen om ʼn blywende nalatenskap te laat.
Die geleentheid, wat in samewerking met Akademia aangebied is, het op Akademia se Leriba-kampus in Centurion plaasgevind. Sakeleiers is genooi na ʼn inspirerende oggend waartydens gassprekers soos dr. Steve Booysen, Flip Buys, Hannes Noëth en Dawie Roodt die waarde van nalatenskap onder die loep geneem het.
Die Studietrust bied jaarliks studiehulp ter waarde van R75 miljoen aan meer as 1 200 studente. Buys het benadruk dat ʼn samelewing slegs kan vooruitgaan as elke geslag vir die volgende een leef.
“Studiehulp is die beste moontlike belegging. Hierdie studiehulp is ʼn helpende hand, en nie ʼn bedelhand of ʼn eisvuis nie,” het Buys gesê. Terwyl NSFAS (die Nasionale Studentehulpskema) gereeld in die nuus is weens wanbestuur, spog die Studietrust met ʼn merkwaardige 99%-terugbetalingskoers en jarelange skoon oudits.
“Dit beteken dat die geslag wat ons nou help, ook begryp dat elke geslag vir die volgende geslag moet leef, want met elke terugbetaling word ʼn volgende student weer gehelp. Gratis studie is op die lange duur alles verniet,” het Buys verduidelik.
Volgens Buys spruit huidige voorspoed uit voorouers se kulturele beleggings, wat nou opnuut aangevul moet word deur ʼn Sol-Tech en Akademia te bou. “Kultuur is ʼn verbond tussen geslagte – ʼn agting vir die vorige, ʼn liefde vir die volgende en ʼn verantwoordelikheid vir beide.”
Die Studietrust is bepalend vir die sukses van die nuwe kampus, en Buys het ʼn beroep op almal gedoen om dr. Anton Rupert se woorde uit te voer: “ʼn Klein volk moet groot dink en groot doen.”
Die Solidariteit Beweging het tydens die Onderwys Toekomsberaad ʼn omvattende plan vir volhoubare Afrikaanse onderwys bekendgestel. Hierdie plan gaan saam met ander rolspelers en vennote uitgevoer word.
Die belangrikste beweegredes vir hierdie plan is soos volg:
Ons wil wêreldklas in Afrikaans wees
Die Solidariteit Beweging wil aan ‘n omvattende kulturele ekosisteem help bou wat uiteindelik die hele pyplyn vanaf Afrikaanse Kleuterskole tot Beroepskolleges en ‘n universiteit met verskeie Sattelietkampusse en ‘n aanlyn studiemodel insluit. Ons wil hê ons kinders en jongmense moet skole, kolleges en universiteite hê waar hulle veilig kan tuisvoel. Dis ‘n strewe na normaliteit, nie na die verlede nie. ʼn Taal se hoër funksies is onontbeerlik om sy langtermyn-volhoubaarheid te verseker. ʼn Kultuurgemeenskap het opvoedkundige instellings nodig om sy taal en kultuur na volgende geslagte oor te dra. Daarby het skole, kolleges en universiteite ʼn opleidings- én ʼn opvoedingsrol. Terselfdertyd word leerders en studente vir ʼn meertalige werksomgewing voorberei. Dit is ʼn bekende feit dat moedertaalonderrig die beste vorm van onderrig is en dat dit studente toerus om hul kennis in ander tale te kan toepas.
Ons mag wêreldklas in Afrikaans wees
Die Grondwet bepaal in artikel 29 dat enkelmedium-opleidingsinstellings mág bestaan en dat elkeen die rég het om in enige amptelike taal opgelei te word. Dis nie ‘n guns wat ons van die regering vra nie, dis ‘n reg wat internasionaal erken word. Ingevolge artikel 6 van die Grondwet is Afrikaans ʼn amptelike landstaal. Ons hoër onderrig instellings soos Sol-Tech en Akademia is al jare lank geregistreer en geakkrediteer, bied gehalte-opleiding aan en sluit geen persoon of groep uit nie. Dis oop vir enige persoon wat aan die akademiese standaarde voldoen en wat in Afrikaans wil studeer.
In 2019 het die Konstitusionele Hof by monde van hoofregter Mogoeng Mogoeng in sy uitspraak in die Stellenbosch-taalsaak, ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om self privaat onderriginstellings ter bevordering van Afrikaans en ander inheemse tale te bou. Regter Mogoeng het selfs ʼn beroep op korporatiewe welwillendheid gedoen om hulpbronne beskikbaar te stel om te help om privaat moedertaalgebaseerde opleidingsinstellings te befonds.
Die Grondwetlike hof se versoek dat gemeenskappe self instellings moet bou en met eie kapitaal finansier om hul taal te bevorder, is dus presies wat die Solidariteit Beweging en ons vriende en vennote doen.
Die grondliggende reg van enige kultuur is die reg op voortbestaan, wat net moontlik is met outonome kulturele instellings soos skole, kolleges en universiteite.
Ons kan wêreldklas in Afrikaans wees
Solidariteit het Sol-Tech in 2006 begin en duisende studente is al by die kollege opgelei. Daar is vanjaar byna 3000 studente in die onderskeie opleidingsfases wat opleiding in teorie, praktiese opleiding in ons werkswinkels en indiensopleiding by maatskappye behels. Die eerste R120 miljoen vir die oprigting van Sol-Tech het uit die maandelikse R10-bydraes van Solidariteit-lede gekom. Waar daar ‘n wil is, word die wil die weg!
Akademia is in 2012 begin en gaan so vinnig van krag tot krag dat ‘n reuse kampus tans in Pretoria gebou word, terwyl daar ook grond in die Paarl aangekoop is met planne om vir ons Satellietkampus daar ‘n tuiste te bou.
Die Solidariteit Helpende hand Studietrust se doel is om fondse beskikbaar te stel sodat almal wat wil moet kan leer en studeer. Die Trust word befonds deur Solidariteit ledebydraes, skenkings, inkomste vanaf die Virseker Trust, bydraes van die Helpende hand se Ons Winkels ketting groep, en bemakings. Wêreldklas onderrig en opleiding is geweldig duur en die bekostigbaarheid van onafhanklike instellings wat sonder staatsteun moet klaarkom bly ‘n uitdaging. Ons is baie trots op ons jongmense, omdat die terugbetalingskoers van die studielenings nou op 99% te staan gekom het.
Ons kan, want ons het dit klaar bewys.
Ons kan nie alles op ons eie of net met gemeenskapbydraes doen nie. Daarom sluit ons nou vennootskappe aan tussen kultuur en kapitaal, waar beleggers ‘n markverwante opbrengs kry, en terselfdertyd ‘n kulturele dividend in die vorm van topklas onderrig en opleiding. Die doel is om uiteindelik waar prakties moontlik landswyd leefruimtes vir Afrikaans te bou.
Ek sê weer- ons kán, want ‘n Boer maak ‘n plan!
Ons moet wêreldklas in Afrikaans wees
Dis algemene kennis dat die ANC vyandig teenoor Afrikaanse onderwys is. ‘n Vyandige owerheid is nie iets nuuts in ons geskiedenis nie. Sowat 200 jaar gelede het Lord Charles Somerset gedink hy draai Afrikaanse skole nek-om. ‘n Eeu later was dit weer Lord Milner se dagdroom. Nog ‘n ‘n eeu later is dit weer Lord Lesufi en kie se nagmerrie. Ons weet ons kan nie meer op die staat staatmaak om vir ons kinders wêreldklas onderrig en opleiding te voorsien nie. Wêreldklas onderwys is nie ‘n luukse nie, maar ‘n moét. Die vraag is dus nie óf nie, maar hoé. Dit is waaraan ons werk. Ons sal nie gaan lê voor ‘n regering wat nie eers ‘n Poskantoor kan bestuur nie.
Ons gaan wêreldklas in Afrikaans wees
Die Solidariteit Beweging is besig om aan die kulturele infrastruktuur te bou om saam in Afrika te kan bly. Iemand wat ʼn huis bou, probeer nie ander uitsluit of homself afsonder deur die huis te bou nie. Hy bou sy huis juis om saam met sy bure in ʼn bepaalde woonbuurt te bly. Die gebou is net eie punt van die Ysberg wat bo die water uitsteek. Hierdie geboue kan net so groot en sterk wees soos die minder sigbare kulturele infrastruktuur wat al vir meer as twee dekades “onder’ die water gebou word. Dit behels die totale netwerk van instellings wat strek vanaf werksgebied na burgerregte-, media-, finansiële-, kulturele- en opvoedkundige instellings tot by organisasies wat ons erfenisse bewaar.
‘n Onderwysplan is deel van die pyplyn van Afrikaanse onderrig en opleiding waaraan ons saam met vriende en vennote bou.
Ons sal self
Die Afrikaanse gemeenskap het alles in sy vermoë gedoen om Afrikaanse hoër onderwys in die openbare sektor ingevolge die grondwetlike voorsiening daarvoor te laat voortbestaan. Ná talle gesprekke, pleidooie, versoeke en selfs hofsake is die openbare sektor se deure in ons gesig toegeslaan. Ons enigste uitweg is om dit self te begin doen. Vandaar ons leuse, “Ons sal self”. Dit is nie ‘n oproep vol heimweë terug na die verlede nie, maar ‘n wekroep om saam ‘n toekoms te bou.
Ons sal self, en ons sal saam as ‘n helpmekaarbeweging. Dit gaan nie oor die herlewing van ‘n uitgediende nasionalisme nie, maar oor gesonde kulturele selfvertroue, -selfrespek en selfverwesenliking.
Dieselfde geld vir ons skole. Ons sal saam met die Afrikaanse skoolgemeenskap werk, praat, en veg om ons openbare skole wêreldklas te hou, maar ons sal terselfdertyd ook met planne vir onafhanklike onderwys begin – saam met ander instellings wat met ons wil saamwerk.
Toekomsbouers
Ons wil beslis nie voorgee dat ons al die antwoorde het, of dat ons alles alleen kan doen nie. Ons het mekaar nodig, en ons sal met ander rolspelers wat Afrikaanse onderrig op die hart dra saamwerk waar enigsins moontlik. Ons nooi by Kanton Eiendomme almal uit om saam Toekomsbouers te wees.
Jare gelede het mense gedink dis onnodig én onmoontlik om onafhanklike Afrikaanse onderwysinstellings te bou. Die tyd het geleer dat dit nodig én moontlik is. Suid-Afrika is ‘n land waar dit wat teoreties moontlik is, in die praktyk soms onmoontlik is. Gelukkig is dit ook ‘n land waar dit wat teoreties onmoontlik is, in die praktyk wel moontlik is.
Afrikaanse skat
Afrikaanse jongmense word vandag blameer vir dinge wat gebeur het voor hulle gebore is, terwyl die regering nie die verantwoordelikheid aanvaar vir wat hulle vandag doen nie. Onthou, ‘n Kultuur kan net voortbestaan as elke geslag vir die volgende een leef.
Die Solidariteit Beweging wil graag die tradisie van wêreldklas- Afrikaanse onderrig en opleiding op nuwe maniere voortsit. Ons wil, ons mag, ons moet, ons kan, ons gaan en ons sal dit as gemeenskap self doen.
Afrikaners het immers nie die oseane deurkruis, deur die eeue oorleef, die onbekende ingetrek, magtige moondhede op die slagveld gepak en op talle gebiede wêreldklasprestasies opgelewer, omdat ons van jellie gemaak is nie. Ons is vrye burgers, nie dienswillige onderdane nie. Ons is vasbeslote om in die woorde van Van Wyk Louw, die skat van ons taal en kultuur veilig deur die skare te dra.
Die hede gaan nie weggaan nie, die verlede gaan nie terugkom nie, en die toekoms gaan nie vanself gebeur nie. My oproep is dus: kom laat ons bou!
Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.
Goeie en regverdige wette is noodsaaklik vir ‘n vry en vreedsame samelewing.
In die dorp Bozen in die noorde van Italië is ‘n aanhaling van die Joodse denker Hannah Arendt aangebring op ‘n muurpaneel uit die Mussolini-era: “Geen mens het die reg om te gehoorsaam nie.”
Die aanhaling is in reaksie op die Fascistiese oorheersing van die Duitse dorp en provinsie van Suid-Tirool deur die Mussolini-regering ná die Eerste Wêreldoorlog.
Die gebied was deel van Oostenryk, maar is ná die oorlog in 1919 aan Italië gegee vir hul ondersteuning van die Geallieerdes. Dis interessant dat genl. Jan Smuts Suid-Tirool gehelp het om outonome status te kry omdat hulle ‘n kommando gestuur het om die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog by te staan.
Ná Mussolini se bewindsoorname het hy begin om die Duitse bevolking te verdruk en Suid-Tirool te veritaliaans. Dit is gedoen deur Duitse skole se taalbeleid met wetgewing te verander, en deur werkgewers te dwing om deur ‘n kwotastelsel Italianers in diens te neem. Daar is vandag nog meer Italianers as Duitssprekendes in Bozen.
Arendt was verstom oor hoe die meeste gewone Italianers die verdrukkende en immorele wette van die Fascistiese regering gehoorsaam het.
Mussolini het die kern van die fascisme saamgevat met sy berugte slagspreuk: “Alles binne die staat, niks buite die staat, niks teen die staat nie.” Vir hom was die staat die kern, en die bevolking, ondernemings, kerke en die burgerlike gemeenskap moes ondergeskik aan die staat wees.
Die wet en die ‘reg’ is nie altyd dieselfde nie
Tydens die verhoor van die Nazi-oorlogsmisdadiger Adolf Eichmann het Arendt opspraak gewek deur te sê dat Eichmann nie ‘n demoniese en sadistiese monster was nie, maar ‘n gewone mens wat bloot gehoorsaam bevele uitgevoer het. Sy het gewaarsku dat sulke dinge nie net in Nazi-Duitsland of Fascistiese Italië kan gebeur nie, maar in enige samelewing waar mense immorele wette blindelings gehoorsaam. Boosheid is dan die verskriklike gevolg van gehoorsaamheid aan onregverdige wette. In kort, niemand het die reg om onreg te gehoorsaam bloot omdat dit die wet is nie. Die wet maak nie outomaties alles “reg” nie.
Verstaatliking
Suid-Afrika is nog ver van Mussolini se Italië, maar dit raak tyd om vroegtydig op Arendt se waarskuwing ag te slaan. Die ANC het die laaste jare met sy Nasionaal-Demokratiese Revolusie en die voortspruitende ideologie van transformatisme die samelewing al hoe meer begin verstaatlik. Dit word bewerkstellig deur staatsmag al hoe sterker te sentraliseer.
Dink maar aan die staatsoorname van water- en mineraalregte, die rassewetgewing wat alles voorskryf, van eienaarskap tot die werknemers- en verskaffersprofiel van ondernemings, staatsoorname van die Setas, die Bela-wetgewing, wat groter staatsbeheer oor skole nastreef, die onteieningswet, beoogde Nasionale Gesondheidsversekering, en die Wetsontwerp op Sakelisensiëring van laat verlede jaar.
Dis nie net mnr. Zuma wat die staat onregmatig gekaap het nie. Staatskaping is die kern van die ANC se ideologie en die doel van transformatisme.
Gehoorsaam
Tot dusver het die burgery selfs onregverdige wette gehoorsaam, ten spyte daarvan dat die praktyk duidelik gewys het dat die verstaatliking rampspoedige gevolge het, en dat dit teen die grondwetlike verstandhouding van die 90’s is.
Boonop het dit dudielik geword dat rassewette nie meer gerig is op regstelling nie, dat dit nie werk nie en nie kan werk nie, en dat dit boonop immoreel in in ‘n sogenaamde nierassige grondwetlike demokrasie.
In kort, dit is die wet, maar dit is nie die reg nie. Daarom het niemand die reg om onreg te gehoorsaam nie.
Transformatisme
Transformatisme gaan nie oor ‘n beter lewe vir almal nie, maar om die staatsideologie van radikale gelykmaking deur rasseformules af te dwing. Dit is onvermydelik dat kernsake soos vryheid, voorspoed, gelykheid voor die reg, ‘n werkende land en gelyke burgerskap die slagoffers van hierdie beleid is.
Mense is aan die wet gehoorsaam, omdat dit afgedwing word deur die staatsapparaat, en deurdat die konstitusionele hof transformatisme as ‘n grondwetlike opdrag vertolk, al kom die woord nie in die Grondwet voor nie.
Onwerkbare en immorele wette word gehoorsaam omdat daar leidende mense is wat dit normaliseer, die immoraliteit daarvan ontken, die wette regverdig en verdedig, en dit selfs help afdwing. Diesulkes het so diep in hierdie staatsideologie ingekoop dat hulle nie eens agterkom of omgee dat hulle aandadig is aan die lyding van miljoene gewone mense weens die staatsverval, werkloosheid en geweldsmisdaad nie.
Die Franse denker Frédéric Bastiat verduidelik die “normaliteit” van hierdie abnormaliteit treffend soos volg: “Wanneer plundering ‘n lewenswyse word vir ‘n groep mans in ‘n samelewing, skep hulle vir hulself ‘n regstelsel wat dit magtig en ‘n morele kode wat dit verheerlik.”
Die praktyk waar daar aandele van arm pensioenfondslede gevat is en aan ryk BEE-magnate gegee word, roep nog ‘n stelling van Bastiat op: “Daar is mense wat dink dat plundering moreel regverdigbaar word sodra dit wettig gemaak word.”
Indien onregverdige wette afgedwing word, kom die hele regsorde in die gedrang. Dan is die wet nie meer die reg nie, maar, soos Alvin Toffler dit beskryf, net verbloemde geweld.
Skuldkompleks
Die verskoning van oorlogsmisdadigers dat hulle net bevele uitgevoer het, of dat hulle nie geweet het van wandade nie, is nie geldige verwere nie. Hulle móét geweet het, of hulle wóú nie weet nie. Dit geld veral mense soos oudregter Johann van der Westhuizen, wat steeds die mislukte en immorele staatsideologie van transformatisme normaliseer, regverdig, verdedig en dit selfs help afdwing het.
Daarmee saam probeer hy ‘n kollektiewe skuldkompleks om Afrikaners se nekke hang, deur die verlede subtiel aan Nazisme te koppel soos in Rapport van 29 Maart.
Dr. Victor Frankl, filosoof en sielkundige, was ‘n oorlewende van die Nazi-konsentrasiekampe, en was bekend om sy verwerping van die idee van kollektiewe skuld. Hy het gesê dat niemand verantwoordelik gehou kan word vir iemand anders se dade nie.
Daarby, om apartheid met die Joodse volksmoord te vergelyk, kom in werklikheid neer op ‘n gesofistikeerde onderspeling van die gruwelike massamoord op Jode.
Daarom moet ons leer uit die lesse van die geskiedenis. Goeie en regverdige wette is noodsaaklik vir ‘n vry en vreedsame samelewing.
Daarteenoor lei blinde gehoorsaamheid aan onregverdige wette tot die vertrapping van die reg van mense.
Kom ons luister na die waarskuwing van Thomas Sowell, wat gesê het: “As jy die regering genoeg mag gee om sogenaamde sosiale geregtigheid te skep, het jy dit genoeg mag gegee om despotisme te skep. Miljoene mense oor die wêreld heen het met hul lewens betaal omdat hulle daardie eenvoudige feit oor die hoof gesien het.”
Vryheid vereis immers ewigdurende waaksaamheid.
Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.
Suid-Afrika het 32 jaar gelede met wêreldwye applous ʼn demokrasie geword, waarna ʼn goue toekoms vir die land voorspel is. Drie dekades later is daar ʼn wye ontnugtering met die uitkomste van ANC aan bewind, en staar die land regeringsgedrewe staatsverval in die gesig. ʼn Paar syfers som die toestand op:
Na die goue groeijare van die Mandela- en Mbeki-administrasies, het die land sedert 2007 twee verlore dekades beleef, met ʼn gemiddeld van 1% groei per jaar.
Die rand het 77% van sy waarde sedert 1994 verloor.
Werkloosheid het vanaf 20% in 1994 na 32% verhoog, met jeugwerkloosheid van meer as 60%.
Sowat 50% van die bevolking is afhanklik van staatshulp.
Daar is wydverspreide munisipale verval, met net 16% van stadsrade wat skoon oudits kry.
Die strafregstelsel is in ʼn krisis, met net 8% van geweldsmisdade wat uiteindelik tot skuldigbevindings lei.
Wat het verkeerd geloop?
Die vraag is eerstens wat het verkeerd geloop, en tweedens hoe kan dit reggestel word?
Die eerste fout was dat die ANC se historiese rigtingwyser eerder die Russiese rewolusie as die Japanse restourasie was. Die ANC se beleid is vandag nog amptelik ʼn “Nasionaal demokratiese rewolusie”, wat polities handel dryf as radikale transformasie. Die mikpunt was ʼn “ontwikkelingstaat” breedweg geskoei op die Chinese model, wat deur ʼn ekonomie gedryf moes word wat uit instellings in staatsbesit bestaan. ʼn Beleid van “kaderontplooing” moes alle magsentrums onder ANC beheer bring. Die ontwikkelingstaat het misluk a.g.v. die verval van die meeste staatsmonopolieë oor elektrisiteit, spoorweë en hawens. Beheer deur kaders het hervoming prakties onmoontlik gemaak.
Tweedens was die ANC eerder ʼn gelykheidsbeweging as ʼn vryheidsbeweging. In plaas daarvan om armoede met ekonomiese groei aan te spreek, het die party herverdeling geprioritiseer en gelyke uitkomste nagestreef. Hierdie projek was meer daarop gerig om rykes armer te maak as om armes ryker te maak. Namate die ekonomie al hoe meer begin stagneer het, het die ANC al hoe meer teruggekeer na sy sosialistiese wortels deur al skerper herverdeling en al hoe meer staatsbeheer oor die ekonomie, water, minerale, grond, en onderwys. Hoewel die gereelde verkiesings nog vry en regverdig is, word vryheid in hierdie sentraliseringsproses al hoe meer ingeperk.
Derdens het die ANC ʼn staat wat geografies en demografies (12 amptelike tale) baie uiteenlopend is, as ʼn sentrale eenheidstaat instede van ʼn federasie probeer regeer. Die ANC is sterk gekant teen federalisme omrede hulle mag sterker wil sentraliseer in plaas van versprei. Die uiteinde hiervan is ʼn land wat in vyf gebiede verdeel kan word: gebiede soos die opposisie beheerde Wes-Kaap wat goed regeer word; dié wat swak regeer word (ANC-beheerd); gebiede soos sekere middestede wat onregeerbaar is; gebiede wat glad nie regeer word nie (diep platttelands); en areas wat hulself regeer, soos privaat dorpe. Die land het dus nie net ʼn regeringsprobleem nie, maar ʼn bedelingsvraagstuk.
Die vierde fout was om Afrikaners uit te sluit en te vervreem. Terwyl die Gealieerdes net vier jaar na die Tweede Wêreldoorlog die Duitsers vanaf vyande na vennote in die heropbou van Europa behandel het, regeer die ANC 32 jaar na apartheid nog steeds teen Afrikaners. Hulle lewens word gereguleer met rassebepalings (onder die vaandel van regstelling) en deur grondwetlike bepalings oor skole en universiteite te verbreek. SA se grootste uitvoerproduk is hoëvlakvaardighede, werkskeppers en belastingbetalers. Afrikaners se belewing dat hulle vryheid al hoe meer bedreig word, word deur die ANC gerieflik as ʼn “terugverlang na apartheid” afgemaak.
Die vyfde fout is om Suid-Afrika se buitelandse beleid op grond van ideolo hgiese- en historiese gronde in plaas van nasionale belang te baseer. Die ANC-regering se toetrede tot Brics in 2010 was die voorloper van ʼn naderbeweeg aan lande soos China, Iran, Rusland en Kuba, en die verswakking in verhoudings met die VSA, Israel en ander Westerse moondhede.
Sosialisme
Terugskouend gesien, was die skeptiese stemme oor Suid-Afrika se toekoms uitgedoof deur die wêreldwye vreugde oor die 1994 “wonderwerk”. Francis Fukuyama van Stanford het byvoorbeeld gewaarsku dat: “South Africa’s constitutional democracy is a sort of foreign body that’s sitting on top of a society that’s not modernised in other respects.” Die spanning spruit onder meer daaruit dat die land ʼn sosiaal konserwatiewe bevolking, ʼn liberale Grondwet en ʼn linkse regering het. Hoewel die ANC ʼn “regering van nasionale eenheid” in 2024 gevorm het wat lede van die opposisie insluit, bepaal die ANC in praktyk steeds die nasionale beleid.
Fukuyama het reeds in 1993 teen sosialisme gewaarsku:
“The main obstacle to black social modernization in the future may well be the belief in socialism on the part of the ANC and its communist allies. Socialism has always presented itself as a higher and more progressive form of social organization than capitalism. But in the contemporary world, socialism has been revealed to be an obstacle to social and economic modernization – the hallmark of a certain kind of backwardness that needs to be overcome, just like illiteracy and superstition. The countries of Eastern Europe are now moving rapidly backward into the future, undoing the legacy of forty years of dictatorship and socialist planning. Let us hope that South Africa, as it makes the necessary transition to democracy, does not move forward into the past.”
Hervormings
Daar is nog hoop vir Suid-Afrika. Al kan die klein veranderings wat te min te laat is nog nie as grondige hervormings beskou word nie, is daar groen spruite sigbaar. Daar sal egter omvattende hervormings moet kom om die land blywend suksesvol te maak. Dit sluit onder meer in:
die bevryding van die ekonomie deur die staat se rol in die samelewing te verklein en onomwonde die privaat sektor in plaas van die staat as die enjin van die ekonomie te aanvaar – ʼn groeiende ekonomie bly die beste verskaffer van werk en is die beste gelykmaker, en die vinnigste manier om armoede te verklein;
die verandering in strategie van die regering vanaf ʼn ontwikkelingstaat na ʼn ontwikkelingsamelewing, met ʼn klem op die ontwikkeling van die land se mense;
die vervanging van sentralisme met federalisme deur die ANC – ʼn voorwaarde vir werklike demokrasie, vryheid en doeltreffende regering;
die vestiging van beter verhoudinge met die VSA deur buitelandse beleid wat in nasionale belang is, en wat minstens onverbonde is; en
die behandeling van Afrikaners as vennote deur die ANC om die land te herbou, asook die sluit van ʼn kultuurakkoord wat Afrikaners se grondwetlike regte respekteer.
Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.
Deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging
Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Duncan Kidd/Unsplash)
“Europa moet voorberei vir ʼn oorlog op ʼn skaal wat ons grootouers en húlle ouers moes deurmaak. Rusland het oorlog teruggebring na Europa,” het Mark Rutte, Navo se hoof in Desember gesê, met verwysing na die Eerste- en Tweede Wêreldoorloë. Hierdie skokkende waarskuwing van Rutte is opgevolg deur soortgelyke waarskuwings oor die gevaar van ʼn kontinentale oorlog teen Rusland deur die Duitste kanselier, Friedrich Merz, die Duitse minister van verdediging, Boris Pistorius, Navo se militêre hoof, admiraal Rob Bauer, asook senior leiers van Brittanje, Pole, Swede en Noorweë.
Hoewel Rusland se konvensionele magte nie sterk genoeg is om teen die hele Navo te veg nie, is daar drie faktore wat die Europeërs slapelose nagte gee:
die eerste is dat die Amerikaanse regering wil hê dat Europa vir sy eie veiligheid moet sorg, omdat die VSA op China wil fokus;
dat Europa nie kan kers vashou by die Russiese militêre massaproduksie nie; en
dat die Russe die wêreld se grootste kernarsenaal het, en hulle militêre doktrine die gebruik daarvan onder bepaalde voorwaardes insluit.
Die skrikwekkende waarskuwing van die kernfisikus Albert Einstein doem weer voor die mensdom op: “As daar ʼn Derde Wêreldoorlog is, sal die vierde een met stokke en klippe gevoer moet word.” Einstein het natuurlik bedoel dat ʼn volgende globale oorlog die wêreld kan vernietig.
Oekraïne
Militêre kenners beskou die oorlog in Oekraïne as die gevaarlikste internasionale konflik sedert die Kubaanse Missielkrisis van 1962. Die gevaar bestaan dat dit kan eskaleer tot ʼn grootskaalse Europese oorlog, wat taktiese kernwapens kan insluit. Die belangrikste elemente van só ʼn nagmerrie is reeds teenwoordig, en die toestand herinner aan die aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog. Dit is onder meer:
twee kante met onversoenbare standpunte wat elkeen sterk in sy saak glo;
geen formele vredesonderhandelings nie, en beide magte wat veg vir ʼn militêre oorwinning;
beide kante wat hulle doelwitte sedert die aanvang van die oorlog geëskaleer het;
dis nie net ʼn streekskonflik nie – verskeie groot moondhede met kernwapens is betrokke; en
die alliansiestelsel vergroot die kanse op ʼn groter oorlog, omdat ʼn “aanval op een as ʼn aanval op almal” beskou word.
Die geskiedenis van oorlog wys dat ʼn betreklik beperkte konflik tussen twee lande maklik na ʼn groter oorlog tussen grootmoondhede kan uitbrei. ʼn Toepaslike voorbeeld is die Krim-oorlog van die 1850’s tussen Rusland aan die een kant, en Brittanje, Frankryk, Turkye en Sardinië aan die ander kant.
Prof. Shepard Clough, professor in geskiedenis aan die Universiteit van Columbia, het die aanloop tot hierdie oorlog soos volg beskryf:
“The war was not the result of a calculated plan, nor even of hasty last-minute decisions made under stress. It was the consequence of more than two years of fatal blundering in slow-motion by inept statesmen who had months to reflect upon the actions they took. It arose from [some leaders’] search for prestige; the competing quest for control over the Straits; the mutual naïve miscalculation of the probable reactions of other powers; the failure of those powers to make their positions clear; and the pressure of public opinion in all countries at crucial moments.”
Hierdie woorde geld ook vir die huidige oorlog, omdat daar ʼn baie lang aanloop tot hierdie tragiese gebeure was waartydens dit voorkom moes word.
Doelwitte verander
Die Russe se doelwit was aanvanklik om te keer dat Oekraïne by Navo se militêre bondgenootskap aansluit. Dit sou uit die Russiese oogpunt ʼn “regstreekse gevaar vir Russiese veiligheid” word, in die woorde van president Wladimir Poetin.
Die Russe het hierdie doelwit nou geëskaleer tot ʼn militêre oorwinning en die besetting van grondgebied, veral in die Ooste waar daar ʼn groot aantal Russe woon.
Navo het aanvanklik net beoog om Oekraïne by te staan om ʼn Russiese oorwinning te keer en om ʼn gunstige vredesooreenkoms te help verseker. Intussen het die Weste se doelwit egter ook geëskaleer tot ʼn miltêre oorwinning en die uitskakeling van Rusland as ʼn groot moondheid.
Daar is normaalweg drie roetes na grootskaalse eskalasie wat deel van die dinamika van oorlog is:
Een of albei kante eskaleer die oorlog om te wen.
Een of albei kante eskaleer die oorlog om ʼn nederlaag te verhoed.
Die oorlog eskaleer onbedoeld, bv. as gevolg van ʼn onvoorsiene gebeurtenis wat tipies is van oorloë.
Verdedig na aanval
Die Weste het aanvanklik verdedigende wapens aan Oekraïne verskaf, soos tenks en lugverdedigingswapens. Nadat hulle doelwit na ʼn militêre oorwinning verander het, is groot hoeveelhede moderne aanvalswapens aan Oekraïne gestuur.
Die Amerikaanse staatsman, Henry Kissinger, se waarskuwende woorde oor die foute met die aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog van 1914, is vandag steeds van toepassing:
“They seemed oblivious to the huge casualties of the still relatively recent American Civil War, and expected a short, decisive conflict. It never occurred to them that the failure to make their alliances correspond to rational political objectives, would lead to the destruction of civilization as they knew it. Instead, the Great Powers managed to construct a diplomatic doomsday machine, though they were unaware of what they had done.”
Die Eerste Wêreldoorlog is ook ʼn les dat goeie bedoelings tot verskriklike uitkomste kan lei. Soos die Amerikaanse denker, Thomas Sowell, dit gestel het: “The First World War […] was said to be a war ‘to make the word safe for democracy.’ What it actually led to was the replacement of despotic dynasties by totalitarian dictatorships that were far worse”.
Een skoot, drie oorloë
Die moord op die Oostenrykse kroonprins, Frans Ferdinand, deur ʼn jeugdige Serwiese sluipmoordenaar op 28 Junie 1914, het ʼn ketting van gebeure aan die gang gesit. Dit het uiteindelik tot twee wêreldoorloë gelei waarin daar saam sowat 100 miloen mense gesterf het, en daarna die Koue Oorlog tussen Oos en Wes. Die einde van een oorlog het in die geskiedenis dikwels net as aanleiding tot die volgende gedien. Só het die verdrukkende vredesooreenkoms van die Eerste Wêreldoorlog ʼn bepalende rol in die ontstaan van die Tweede Wêreldoorlog gespeel. Daarna het die einde van hierdie oorlog weer die aanvang van die gevaarlike Koue Oorlog gemerk, wat die wêreld vir dekades in twee magsblokke verdeel het wat mekaar oor kernwapens aangegluur het.
Kernwapens
Die vraag is onder watter omstandighede een van die twee kante kernwapens sal aanwend. Die Weste maak gebruik hul volle arsenaal van ekonomiese en diplomatieke magsmiddele, en verskaf grootskaalse wapens en finansiële bystand aan Oekraïne, sonder om troepe te stuur
Uit die uitsprake van Westerse leiers blyk dit dat daar vier moontlike beweegredes is waarom die Weste self militêr betrokke kan raak: indien die oorlog lank aanhou; indien daar geen vooruitsig op ʼn diplomatieke oplossing of ʼn Oekraïense oorwinning is nie; indien die ekonomiese koste vir die Weste te hoog raak; of indien hulle desperaat is om die konflik vinnig te beëindig, byvoorbeelduit vrees dat die Chinese die krisis sal gebruik om ‘n aanslag op Taiwan te loods. Indien die Oekraïense leër in gevaar is om te verloor, kan die Weste ook inspring om ʼn nederlaag te voorkom. Die laaste moontlikheid is indien die Oekraïeners Russiese dorpe of stede aanval om ʼn groot Russiese teenreaksie te ontlok wat die Weste by die oorlog kan betrek.
Russiese kernwapens
President Poetin het reeds die strawwe Westerse sanksies as ʼn oorlogsverklaring beskryf, wat uit ʼn Russisese oogpunt die tafel dek vir moontlike kragdadige optrede teen Navo. Die Russiese militêre doktrine maak voorsiening vir omstandighede waaardie Russe kernwapens salaanwend. Dit is:
wanneer die Russe besluit om die vloei van Westerse wapentuig te stop, en dan ʼn Navo-land soos Pole, waardeur die wapens beweeg, aanval;
wanneer Navo-magte self tot die oorlog toetree;
om ʼn Russiese nederlaag te verhoed; en
indien die oorlog te lank en uitgerek raak dat hulle dit ten alle koste wil beëindig.
Die (CIA) neem die gevaar van kernwapens so ernstig op, dat hulle al in 2022 gewaarsku het: “Niemand van ons kan die dreigende gevaar van die gebruik van taktiese kernwapens lig opneem nie.”
Taktiese kernwapens is kleiner wapens om stede of ʼn leër te vernietig, en is nie interkontinentale ballistiese missiele nie. Nogtans kan dit vinnig lei tot ʼn groter eskalasie waar nóg gevaarliker kernwapens gebruik kan word.
Ander moontlikhede
Die gevaar van ʼn eskalasie na kernwapens beteken gelukkig beslis nie dat dit noodwenig gaan gebeur nie. In die verlede was die grusame moontlikheid daarvan genoeg om dit te verhoed. Die Russe het wel reeds verskriklike skade in Oekraïne aangerig, maar was tot dusver baie huiwerig om die oorlog verder te eskaleer. Hulle het nog nie hulle volledige weermag ingestuur, groot getalle soldate opgeroep of ʼn “totale oorlog” verklaar nie.
Die beste afskrikking vir ʼn oorlog bly die lesse van die geskiedenis. Die probleem is dat daar nie oortuigende tekens is dat die hedendaagse wêreldleiers die historiese kennis het om oorloë te verhoed nie. Soos Thomas Sowell dit so treffend stel:
“The monumental tragedies of the 20th century — a world-wide Great Depression, two devastating World Wars, the Holocaust, famines killing millions in the Soviet Union and tens of millions in China — should leave us with a sobering sense of the threats to any society. But this generation’s ignorance of history leaves them free to be frivolous — until the next catastrophe strikes, and catches them completely by surprise.”
Die mensdom kan slegs hoop en bid dat die dreigende gevaar van ʼn eskalerende oorlog, ʼn kragtige aansporing vir die vegtende partye sal wees om voortydig ʼn diplomatieke oplossing te vind. In die praktyk sal ‘n “derde wêreldoorlog” gelukkig nie maklik uitbreek nie, omdat die VSA se militêre mag tans so oorweldigend is dat ander groot moondhede dit nie sommer sal uitdaag nie. Die sleutel tot blywende wêreldvrede was histories tweeledig: afskrikking van vyande, en gerusstelling dat daar nie ‘n aanval teen iemand beplan word nie. Die uitdaging vir die VSA is dus om China byvoorbeeld af te skrik, maar terselfderyd gerus te stel dat hulle nie aangeval sal word nie. Dan is die wêreld ‘n veiliger plek!
Deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging
Flip Buys, Dirk Hermann, Henk Schalekamp en Marthinus Visser.
In die politieke “wittebroodtydperk” van die Mandela-era ná 1994 het die Afrikaanse gemeenskap gevoel dat die stigting van onafhanklike Afrikaanse universiteite onnodig én boonop onmoontlik was. Onnodig, omdat die Grondwet uitdruklik voorsiening gemaak het vir Afrikaanse staatsuniversiteite en omdat daar skynbaar genoeg universiteite in die land was. Tweedens is dit as onmoontlik beskou omdat die stigting van ʼn nuwe universiteit sonder staatshulp eenvoudig te duur sou wees. Onafhanklike universiteite was boonop in Suid-Afrika grotendeels onbekend, anders as in baie ander dele van die wêreld.
Die werklikhede van sogenaamde “radikale transformasie” en ʼn geweldige toename in studentegetalle het egter reeds teen die vroeë 2000’s begin gewys dat ʼn nuwe Afrikaanse universiteit wél nodig was. Die suksesvolle stigting en groei van Akademia het terselfdertyd bewys dat dit inderdaad moontlik is. In Suid-Afrika is dit dikwels juis dít wat op die oog af moontlik lyk, wat in die praktyk onmoontlik word, en andersom: dit wat onmoontlik lyk, blyk tog moontlik wees.
Waarom die Solidariteit Beweging ontstaan het
Daar is twee hoofredes waarom Solidariteit, en later die breër Solidariteit Beweging, in die vroeë 2000’s tot stand gekom het. Eerstens het die stigters voorsien dat ʼn bevrydingsbeweging soos die ANC nie noodwendig ʼn moderne staat suksesvol sou kon regeer nie. Die Chinese wysgeer, Jia Yi, het al reeds twee eeue voor Christus daarop gewys dat die vereistes om ʼn land deur ʼn “struggle” oor te neem, lynreg bots met die vereistes om ʼn land doeltreffend te regeer.
Die tweede rede was omdat ons die ANC se woord gevat het dat hulle steeds ʼn rewolusionêre party is. Sulke partye is in wese sosialistiese sentraliste, en gebruik ʼn grondwetlike demokrasie om vryheid te ondergrawe. Dit sluit bepaald die vryheid in van taal- en kultuurgemeenskappe om besluite oor hulle grondliggende belange te neem en uit te voer. Rewolusionêre partye se regering “deur” die mense, word in die praktyk regering “oor” die mense. Die dienaars word die heersers.
Uitkoms
Die uitkoms van bykans drie dekades van die ANC-regering bevestig ongelukkig hierdie vrese. Die ANC kon nie die land doeltreffend regeer nie en het die demokratiese stelsel misbruik om vryheid te ondergrawe. Dink maar net aan die verwoestende gevolge van die inperking van ekonomiese vryheid – oftewel sakelui se vryheid om hul ondernemings sonder staatsinmenging te bestuur. Dit het ʼn beduidende rol gespeel in dekade lange ekonomiese stagnasie, rekordwerkloosheidsyfers en Suid-Afrika se status as een van die grootste uitvoerders van werkskeppers, belastingbetalers en hoëvlakvaardighede.
Die ANC het die pad van ʼn sogenaamde “ontwikkelingstaat” gevolg, soortgelyk aan die model wat onder meer in kommunistiese China toegepas is, waar staatsentiteite die ekonomie moes dryf. Die gevolge vir Suid-Afrikaanse staatsinstellings soos Eskom, Transnet, die Poskantoor en Denel is welbekend – om nie eens te praat van die verval van munisipaliteite en ander dele van die staatsdiens nie. Suid-Afrika moes eerder ʼn “ontwikkelingsamelewing” geword het, soos deur verskeie senior sakelui voorgestel, met restourasie eerder as transformasie as nasionale rigtingwyser.
Bevrydingsbewegings wat aan bewind kom, eindig dikwels in armoede en onderdrukking omdat hulle in die praktyk meer “gelykheidsbewegings” as vryheidsbewegings is. Hulle gebruik staatsmag om gelyke uitkomste af te dwing, met die gevolg dat individuele vryheid en algemene voorspoed skade ly. Die prosedurele vorm van demokrasie, soos gereelde verkiesings, bly staan, maar vryheid as die kern van demokrasie word ondermyn.
Daarby is wit Suid-Afrikaners se politieke, ekonomiese en kulturele vryhede nie deel van die ANC se toekomsvisie nie. In die nuutste (2025) weergawe van die ANC se “Strategy and Tactics”-dokument word die land steeds beskryf asof dit in die 1980’s vasgevang is. Wit mense word wel as deel van die samelewing geduld, maar is in werklikheid tweedeklasburgers oor wie se belange die regering min besorgdheid toon: “Die hoofdoel van ons vryheidstryd bly die bereiking van politieke- en ekonomiese vryheid van die onderdruktes – Afrikane in besonder en swart mense in die algemeen, binne ʼn samelewing waarvan die wit minderheid onlosmaaklik deel is.”
Daarom bly dit belangrik dat ons na ons eie belange omsien, waarvan ʼn wêreldklas Afrikaanse universiteit ʼn belangrike deel uitmaak.
Universiteite
Volgens denkers soos die Keniaan Ali Mazrui het universiteite in postkoloniale Afrika tipies deur agt fases beweeg:
Massifikasie deur “toegang vir almal”, dikwels via gratis studies
Kultuur van “slaag vir almal”
Sogenaamde “dekolonisering” van instellings
Aantasting van universiteitsoutonomie, akademiese vryheid en standaarde
Finansiële druk weens massifikasie en krimpende begrotings
Studente- en dosente-onrus
Toenemende regeringsbeheer
Opkoms van privaat universiteite wat staatsuniversiteite begin verbysteek
Die nuwe Akademia-kampus in wording.
Ekostelsel
Die strategiese uitdaging vir die Solidariteit Beweging was om volhoubare “staatsdienste” te lewer sonder staatsinkomste. Daarom moes ons eers stelselmatig ʼn omvattende kulturele ekostelsel bou, wat ons in staat sou stel om ʼn universiteit op te rig. Die gemeenskap moet eers die universiteit help voordat die universiteit die gemeenskap kan help.
Die beginpunt was om Solidariteit as ʼn “80%-organisasie” te stig uit verskeie Afrikaanse vakbonde, waarvan die eertydse MWU die bekendste was. ʼn “80%-organisasie verwys daarna dat die 80% middelgroep daarin moes tuisvoel, sonder die twee uiterste kante van die spektrum. Ons wou wegkom van die mislukte historiese verdelingslyne wat soveel skade aan Afrikaners én die land gedoen het.
Die volgende stappe was om binne Solidariteit ʼn Boufonds en Opleidingsfonds te stig, omdat gewone ledegeld vir lededienste bedoel was, en ook nie naastenby voldoende sou wees om ʼn universiteit te finansier nie.
Die derde stap was om die Solidariteit Helpende Hand te begin, om armoede wat ontstaan het as gevolg van die nuwe rassewette, die reuse-afskalings ná 1994 en die ekonomiese stagnasie teen te werk. Vierdens is die Helpende Hand Studietrust gestig om studielenings aan verdienstelike jongmense toe te ken sodat hulle kan studeer. Die hele idee is dat elke geslag die volgende geslag moet help om te studeer, en dat hulle daardie studiehulp wat aan hulle verleen is terugbetaal sodat die daaropvolgende geslag ook kan studeer. Die sukses van die Helpende Hand Studietrust is dat die terugbetalingskoers ʼn allemintige 99% is. Dit stel die Trust in staat om hierdie jaar sowat 1 200 studente met meer as R70 miljoen se studiehulp by te staan. Grootskaalse studiehulp is ʼn voorwaarde vir ʼn universiteit wat nie staatsfondse ontvang nie, anders kan net ʼn ryk elitegroep dit bekostig.
Die vyfde blokkie van die kulturele legkaart was die stigting van ʼn landswye netwerk van “Ons Winkels” – tweedehandse winkels onder die vleuel van die Helpende Hand. Die winste wat in hierdie winkels gemaak word, word in elke winkel se gebied aangewend vir maatskaplike dienste, en om deur die Studietrust jongmense van die omgewing te laat studeer.
Die Solidariteit Beleggingsmaatskappy (SBM) was die sesde stap in die ekostelsel. Die sewende stap was om onder die SBM-sambreel ʼn finansiëledienstemaatskappy te stig, waarvan die belang wat in die Afrikaanse versekeraar Virseker gehou word, die bekendste is. Die opbrengs van die Virseker Trust gaan vir Afrikaanse onderwys en opleiding, en word na Akademia, die Helpende Hand Studietrust en die Skoleondersteuningsentrum gekanaliseer.
Die agtste blokkie was die stigting van ʼn eiendomsmaatskappy, wat later tot Kanton Beleggings uitgebrei het. Kanton is ʼn eiendomsbeleggingsmaatskappy, en is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal waarin privaat beleggers belê vir ʼn wins én ʼn kulturele dividend. Kanton het al verskeie suksesvolle projekte ontwikkel, waarvan die bou van die wêreldklas Sol-Tech-kampus met hul koshuise die bekendste is. SBM bied, deur sy finansiëledienstemaatskappy, ook rentedraende lenings vir studente wat nie vir die Helpende Hand Studietrust se rentevrye studielenings kwalifiseer nie.
Die negende blokkie was die stigting van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), wat ten doel het om wêreldklas Afrikaanse onderwys te bevorder. Die rede hiervoor is dat goeie onderrig op skool ʼn voorvereiste vir goeie naskoolse onderrig is. Die SOS bedryf talle projekte, soos die gewilde Wolkskool, en het ook verskeie vakverenigings, soos die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers, wat voortgesette opleiding vir Wiskunde-onderwysers aanbied. Benewens ondersteuning aan Afrikaanse openbare skole, werk die SOS ook aan nuwe oplossings vir onderwys in Afrikaans.
Die tiende blokkie om die kulturele legkaart te voltooi, was die stigting van Akademia, vernoem na die eerste universiteit in die Westerse wêreld, Plato se Akademia wat in 387 voor Christus in Atene gestig is. Die bekende Aristoteles, leermeester van Alexander die Grote, het daar Wiskunde, Filosofie en Politiek studeer. Akademia sluit aan by die klassieke tradisie, en is gegrond op wêreldklas-opleiding en ook die breër vorming en toerusting van studente op ʼn Christelike grondslag. Akademia is ʼn nuwe universiteit wat 15 jaar gelede begin is, maar is op ou en tydlose fondamente gebou, om jongmense vir die toekoms toe te rus.
Eksterne ekostelsel
Die sukses van Akademia word nie net deur hierdie “interne” ekostelsel bepaal nie, maar ook deur ʼn eksterne kulturele ekostelsel, soos goeie skole, toegewyde leerders, betrokke ouers, ʼn helpmekaar-kultuur en werkgewers wat hierdie studente ʼn kans sal gee. Onafhanklike Afrikaanse trusts en sakelui wat die vennootskap tussen kultuur en kapitaal steun, speel ook ʼn onontbeerlike rol. Die feit dat Sol-Tech se studente reeds so gesog in die mark is, is ʼn goeie teken dat werkgewers selfs in ʼn tyd van rassewette, graag studente aanstel wat goed opgeleide en gevormde mense is.
Nuwe kampus
Akademia is deur die Solidariteit Beweging begin, maar is ʼn outonome hoëronderwysinstelling wat vir alle Afrikaanse studente oop is. Akademia het hierdie jaar sy eerste satelliet-kampus in Paarl in die Wes-Kaap geopen, en beplan om die huidige vyf fakulteite vinnig verder uit te brei. ʼn Belangrike rede vir Akademia se sukses is die topdosente wat aangestel is om aan ʼn wêreldklas universiteit te bou. Akademia het dus nie van “voor” af nuut begin nie, maar voortgebou op die akademiese werk wat oor baie jare opgebou is. Die afgelope jare is daar ook bande gebou met top- buitelandse universiteite. Akademia verwag hierdie jaar sowat 5 000 studente in totaal. Dit is hoekom nuwe en groter geriewe dringend noodsaaklik geword het. Die volgende stap vorentoe is Kanton Beleggings wat eersdaags begin om ʼn splinternuwe wêreldklas-kampus in die ooste van Pretoria te bou. Die eerste fase gaan sowat R1,8 miljard beloop, en gaan bykans twee jaar neem om te bou. Dit behels nuwe akademiese geboue, koshuise en al die moderne geriewe wat daarmee gepaardgaan. Daar word beoog om die kampus in 2028 in gebruik te neem.
Hierdie kampus is die grootse Afrikaanse bouprojek in baie dekades in Suid-Afrika, en is voorafgegaan deur twee dekades se opbou van hierdie omvattende ekostelsel wat nodig is vir kulturele selfverwesenliking. Hierdie ekostelsel maak ʼn wêreldklas, onafhanklike, klassieke Christelike Afrikaanse hoëronderwysinstelling moontlik. ʼn Taal het ʼn universiteit nodig vir sy voortbestaan, en ʼn universiteit het ʼn taal nodig om werklik wêreldklas te kan wees. Dit wys die sukses van talle mense wat in enkeltalige Afrikaanse universiteite opgelei is, maar wat nou met groot sukses hul kennis in ʼn ander taal toepas. Akademia is wel Afrikaans, maar studente bemeester terselfdertyd Engels om die oorgang na die wêreld van werk makliker te maak.
Hierdie kulturele ekostelsel se onderbou is skeppende vernuwing, gegrond op beproefde waardes. Die onderliggende filosofie is dat elke geslag dit wat hy van sy voorgeslagte gekry het moet bewaar, en dit dan in ʼn beter toestand vir die volgende geslag moet oorgee. Dít is ons Beweging se plegtige onderneming aan ons jongmense! Ons wil help om ʼn toekoms vir jongmense te skep, sodat hulle volhoubaar hier kan woon en werk, en sodoende ʼn blywende bydrae kan lewer tot die welstand van hulle gemeenskap, die land en al sy mense.
*Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging, en ʼn direksielid van Akademia en Kanton Beleggings.
Die Solidariteit Beweging gaan in 2026 volstoom voort met ons strategie om ʼn omvattende kulturele ekostelsel vir Afrikaners se voortbestaan uit te bou. Die kern van ons kultuur is steeds “’n Boer maak ʼn plan.”
Terselfdertyd werk ons ook landswyd aan projekte ten bate van almal in Suid-Afrika en van ander Afrikaanssprekendes. Ons wag nie vir die regering om van die land ʼn beter plek te maak nie, maar slaan self die hand aan die ploeg. Daarom is ons leuse vir 2026 “Ons sal self!” Ons sal egter ook sáám met vennote werk wat wil saamwerk aan die herbou van die land.
Die grootste projek van ons Beweging is die bou van ʼn nuwe kampus vir Akademia, die grootste onafhanklike universiteit in die land. Daarbenewens gaan ons vanjaar groot uitbreidings aan Sol-Tech, ons beroepskollege, onderneem en ook die Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike en welstandsprojekte uitbrei. Groei van die Solidariteit Helpende Hand Studietrust is ʼn hoë prioriteit omdat al hoe meer mense nie meer naskoolse opleiding kan bekostig nie.
Solidariteit se werksnetwerk is ook hoog op die agenda, asook AfriForum se landswye buurtwagte en aksiespanne wat dienste in dorpe en stede verbeter. AfriForum gaan sy interkulturele projekte uitbrei om in ʼn gees van wedersydse erkenning en respek met ander gemeenskappe te skakel.
Daarmee tesaam gaan Afrikaanse onderwys in ʼn nog groter mate deur ons Skoleondersteuningsentrum (SOS) ondersteun word en gaan die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (die FAK) op groter skaal voort om die Afrikaanse taal, kultuur en erfenisse te bevorder en te bewaar. Daar is ook talle ander projekte wat vanjaar aangepak gaan word om groter kulturele outonomie te bevorder.
Suid-Afrika
Die Solidariteit Beweging glo dat Suid-Afrika se uitdagings ten beste aangepak kan word as Afrikaners by die land se heropbou betrek word. Tweedens is die herstel van die verhoudinge met die VSA noodsaaklik om die land se ekonomiese uitdagings te bowe te kom. Die oplossing vir albei hierdie uitdagings is om met een stem en een boodskap met die VSA-regering te gaan praat.
Ons Beweging verteenwoordig nagenoeg 2 miljoen Afrikaners. Ons is lojaal aan Suid-Afrika, selfs al is ons ontevrede met die ANC-geleide regering. Daarom glo ons dit is nie reg as gewone burgers die prys vir die ANC se swak regering én hul vyandige optrede teenoor die VSA as supermoondheid moet betaal nie. Ons glo dat die regering Suid-Afrika se nasionale belang eerste moet stel en nie die grootse ekonomie ter wêreld ten koste van duisende mense se werk en bestaan moet vervreem nie.
SA oplossings
Ons is verbind tot Suid-Afrikaanse oplossings vir Suid-Afrikaanse probleme, en vind dit jammer dat die ANC steeds weier om Afrikaners se grondwetlike regte te respekteer en ons as gelyke burgers te behandel. Ons verlang nie na die verlede onder die Nasionale Party en apartheid nie, maar sien nie uit na die toekoms onder die ANC en hulle rassesosialisme nie.
Daarom werk ons vir ʼn ander Suid-Afrika as die een wat nou bykans orals weens die ANC se korrupsie en swak regering verval. Ons praat nie namens alle Afrikaners of Suid-Afrikaners nie, maar ons glo dat dit ten behoewe van almal is as dit beter gaan met die land.
Daarom is ons van plan om ook met ander Afrikanergroepe, sowel as die breër Afrikaanse gemeenskap en ander kultuurgemeenskappe in die land saam te werk en om saam aan oplossings vir knelpunte te werk.
Ons vind dit jammer dat die VSA strafmaatreëls teen Suid-Afrika ingestel het omdat dit derduisende onskuldige mense, waaronder baie van ons eie lede en ondersteuners, benadeel. Ons glo dat dit ook in die VSA se belang is om goeie betrekkinge met Suid-Afrika as die grootste ekonomie in Afrika te handhaaf.
Afrikaners
Die Trump-administrasie het Suid-Afrika ʼn fokuspunt van Amerikaanse buitelandse beleid gemaak en het terselfdertyd Afrikaners uitgesonder vir ondersteuning en beskerming. Die ANC-regering se verskil hiermee verander niks aan die werklikheid daarvan nie.
Suid-Afrika is ʼn onafhanklike en soewereine land en het die reg om sy eie beleid te bepaal. Die uitdaging lê daarin dat dit ernstige gevolge vir ʼn klein land se mense inhou as sy regering vyandig teenoor ʼn supermoondheid optree. Ons wil ook nie hê dat die VSA vyandig teenoor Suid-Afrika moet optree nie.
Daarom wil ons Beweging, as die grootste georganiseerde groep Afrikaners, daadwerklik help om die konflik met die VSA te ontlont. Dit sal moontlik wees indien die ANC bereid is om ons billike en grondwetlike eise vir kulturele outonomie te respekteer. ʼn Kultuurakkoord met Afrikaners kan die weg baan om die Amerikaanse regering gesamentlik te nader met ʼn handelsooreenkoms wat in belang van die land en al sy mense sal wees.
Die Afrikaner Verklaring
Dit is nodig om daarop te wys dat ʼn wyd verteenwoordigende groep Afrikaners bykans twee jaar gelede reeds ʼn hand van vriendskap en samewerking na die regering uitgesteek het, ʼn hand wat die ANC ongelukkig nie geneem het nie. Die Solidariteit Beweging was betrokke by die opstel van die Afrikaner Verklaring en is ‘n ondertekenaar van dié verklaring wat vroeg in 2024 uitgereik is.
Dit het onder meer ons verbintenis tot Suid-Afrika en ʼn aanbod om in ʼn gees van wedersydse erkenning en respek te help om die krisisse wat almal in die land raak, op te los. In hierdie verklaring onderskryf ons ook die gelykwaardigheid van alle gemeenskappe in die land as grondslag vir ons almal se deelname aan die mensdom. Terselfdertyd het ons dit ook duidelik gestel dat ʼn rassebedeling nie versoenbaar is met ʼn grondwetlike demokrasie, ʼn werkende staat en ʼn groeiende ekonomie wat vir al sy mense kan sorg nie.
Die Afrikaner Verklaring meld ook dat ons dit betreur dat van ons volksgenote die land teen hulle sin moes verlaat omdat hulle nie meer ʼn toekoms hier gesien het nie. Ons voel steeds dat die omstandighede eerder geskep moet word dat Afrikaners volhoubaar vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika kan bly sodat ons ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense sal kan lewer.
Die ANC het ongelukkig ons hand van samewerking afgewys deur selfs onder ʼn regering van nasionale eenheid wetgewing teen Afrikaanse skole, oor onteiening en selfs skerper rassewette in te stel.
Die uitkomste van die ANC se beleidsrigtings is die beste aanduider daarvan dat ANC-beleid misluk het en selfs die teenoorgestelde uitwerking het as wat daarmee beoog is. Ons glo steeds dat restourasie die beste model is om die krisisse, soos armoede, werkloosheid en ongelykheid, wat ons land teister aan te pak, veel eerder as die transformasiemodel wat gevolg word en wat homself as deel van die probleem eerder as die oplossing bewys het.
Mnr. Cyril Ramaphosa hou aan om “misinformasie” te blameer vir die swak betrekkinge met die VSA, in plaas daarvan om verantwoordelikheid te aanvaar vir die veelvuldige krisisse waarin hy en sy party die land gedompel het. Dit is in beide Suid-Afrika én die VSA se belang dat die geskil tussen hul regerings dringend opgelos word.
Die Solidariteit Beweging neem met kommer kennis van die afwaartse spiraal van uitsprake deur senior leiers van dié twee lande. Die twee regerings moenie voortgaan om op mekaar se uitsprake te reageer nie, maar moet eerder fokus op die werklike oorsake van die konflik.
Die eerste stap na die normalisering van verhoudinge behoort die onmiddellike aanstelling van ambassadeurs in beide lande te wees om die verstopte diplomatieke kanale weer te open. Daarna kan die twee lande ʼn gesamentlike taakspan aanstel om die kleiner geskilpunte te ondersoek en uit te stryk. Die groter vraagstukke kan dan volgende aangepak word.
Die nasionale belange van Suid-Afrika en die VSA moet die grondslag van sulke gesprekke vorm, nie verskille tussen die regerings of botsende beleide of uitsprake nie. Die ANC is verantwoordelik vir die verswakking van verhoudinge wat nou al jare lank opbou en hy kan nie langer agter wanvoorstellings en beskuldigings van “misinformasie” skuil nie.
Nasionale belange
Dit is in beide lande se nasionale belang om die verswakkende verhoudinge te herstel. Suid-Afrika se werkloosheidskoers is van die hoogste ter wêreld, terwyl dit ook nie in die VSA se belang is dat die Suid-Afrikaanse regering hom by Amerika se opponente skaar nie. Die oplossing is nie om Suid-Afrika uit die G20 te laat nie, maar om die regering te oorreed om die noodsaaklike beleidshervormings in te stel wat Suid-Afrika op ʼn versnelde groeitrajek kan plaas om een van grootste 20 ekonomieë te word.
Ons glo die VSA se onderliggende redes vir die verslegting van verhoudinge tussen die twee lande is die volgende:
Die VSA se oortuiging dat die ANC se buitelandse beleid die VSA se nasionale sekuriteit bedreig;
Die VSA-regering se siening dat Suid-Afrikaanse rassewette nie versoenbaar is met ʼn grondwetlike demokrasie, ʼn funksionerende staat en ʼn groeiende ekonomie nie;
Die feit dat die ANC histories en tans homself eerder by die globale nie-Westerse blok skaar;
Die ANC se ideologiese teenstand teen die VSA-regering se konserwatiewe vryemarkbeleid;
Die VSA-president se siening dat plaasmoorde aangevuur word deur opswepende liedjies soos “Kill the Boer”, dat dit die Afrikanerminderheid se menseregte bedreig, en dat die Suid-Afrikaanse president dit nie veroordeel en die Konstitusionele Hof dit nie as haatspraak beskou nie;
Die ANC se verbreking van die 1994-ooreenkoms rakende Afrikaners se kulturele regte, bv. deur die Bela-wetgewing;
Dat Suid-Afrikaanse wetgewing die eiendomsreg van die Afrikanerminderheid bedreig en die land op ʼn glybaan na ʼn Zimbabwe kan plaas.
Speelbal
Die Solidariteit Beweging is dankbaar vir die VSA-president se besorgdheid oor Afrikaners se lewens en menseregte. Terselfdertyd wil ons verhoed dat Afrikanerbelange ʼn politieke speelbal tussen Suid-Afrika en die VSA word. Sekere Suid-Afrikaanse politici het ons reeds onbillik en ongegrond van hoogverraad en onpatriotisme beskuldig, en hou ons verkeerdelik verantwoordelik vir die instel van handelstariewe en die staking van finansiële hulp aan kwesbare groepe.
Die Solidariteit Beweging het dit al herhaaldelik duidelik gestel dat ons nie ʼn boodskap van volksmoord aan die VSA-president oorgedra het nie. Ons beskou ook nie vlugtelingstatus vir Afrikaners na die VSA in geheel as ʼn oplossing nie, maar bloot as ʼn manier om ʼn minderheid te help wie se lewens deur geweldsmisdaad geraak is of bedreig word. Daarom is dit nodig dat beide die VSA- én Suid-Afrikaanse regerings eerder mét Afrikaners praat as óór ons, sodat misverstande oor die situasie in Suid-Afrika en die posisie van Afrikaners uitgeklaar kan word.
Daarom het ons al verlede jaar ʼn Afrikanerverklaring onderteken, waarin ons onsself tot die skepping van ʼn toekoms vir Afrikaners en Suid-Afrika verbind het. Ons het dit ook duidelik gemaak dat ons nie gediend is daarmee om as tweedeklasburgers behandel te word en deur die ANC as slaansakke en sondebokke misbruik te word om die aandag van hul mislukkings af te lei nie. Dit help nie dat die ANC kla dat die VSA hulle boelie terwyl die ANC self Afrikaners boelie met rassewetgewing en kulturele diskriminasie nie.
Nuwe kampus
Die Solidariteit Beweging se projek om die kulturele infrastruktuur vir ʼn vry, veilige en voorspoedige voortbestaan te bou, gaan in Januarie 2026 nuwe momentum kry met die bou van ʼn nuwe kampus vir ons onafhanklike universiteit. Terselfdertyd herbevestig dit ons verbintenis tot plaaslike oplossings. Ons bou om te bly, en bly om te bou. Ons is nie slagoffers of vlugtelinge nie. Ons doel is om die kulturele infrastruktuur te bou wat ons in staat sal stel om volhoubaar hier te bly, sodat ons ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kan lewer.
Dit lyk al hoe meer of die “ope brief” wat deur 44 Afrikaanse mense onderteken is, ʼn gekoördineerde ANC-staatsveiligheidsprojek was. Rapport het onthul dat Karen Burger, ʼn direkteur in die kantoor van die direkteur-generaal van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), die eerste konsep geskryf het. Sy het steun vir die ondertekening daarvan gewerf en beweer nou dit was in haar persoonlike hoedanigheid. Burger was tot onlangs by die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington werksaam.
Die raaisel rakende die ope brief het verdiep nadat betroubaar verneem is dat Burger die mees senior Afrikaanse persoon by die Suid-Afrikaanse Staatsveiligheidsagentskap (SSA) is. Die feit dat sy dit nie self onderteken het nie, maar slegs agter die skerms bedrywig was, versterk die vermoede dat dit ʼn projek van die ANC-beheerde geheime diens is. Die ANC se geesdriftige verwelkoming van die ope brief laat dit ook na ʼn georkestreerde poging lyk.
ANC-staatsprojek
Sowat 44 bekende linkse Afrikaanse persone het die ope brief onderteken. Die ondertekenaars was heel waarskynlik onbewus daarvan dat dit ʼn ANC-staatsprojek was en het dit op eie inisiatief onderteken. Die onderliggende temas van die ope brief sluit ten nouste aan by die ANC se propaganda dat Solidariteit en AfriForum “waninligting” aan Republikeinse leiers in Washington versprei het. Die ANC kon nog geen bewyse vir hierdie bewering verskaf nie, en vyf van die grootste mediahuise in die land moes al verskonings aan AfriForum en Solidariteit publiseer. Solidariteit het ook die minister in die presidensie vir laster gedagvaar.
Strafmaatreëls
Die waarheid is dat ons verlede jaar reeds verneem het dat die Amerikaanse regering beplan het om strafmaatreëls teen Suid-Afrika in te stel. Daarom het ons die Amerikaners gevra om nie die land te straf as die ANC droogmaak nie. Daarby het ons die feite oor die gevolge van drie dekades van ANC-regering bekendgemaak en gewaarsku teen die gevare van onteiening en rassewette, asook die kwessie van landelike veiligheid. Die ANC het egter voortgegaan om vyande van die Amerikaanse regering te maak, waarna die Trump-administrasie 30%-tariewe ingestel het.
Blaam
Die ANC blameer AfriForum en Solidariteit nou valslik vir die Amerikaanse regering se optrede teen Suid-Afrika, in plaas daarvan om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul beleidsfoute. Die leiers van die twee organisasies word selfs vir hoogverraad ondersoek, ten spyte daarvan dat daar geen regsgronde daarvoor bestaan nie. Die jongste uitgawe van ANC Today bestempel AfriForum se leiers kamtig selfs as “vyande van die staat”.
Slagoffers
Kom ons stel dit duidelik: Ons hou nie van die ANC-regering nie, maar ons is lief vir ons land en sy mense. Ons is nie teen die staat nie, maar teen die korrupte en onbevoegde ANC. Ons kan nie toelaat dat die ANC almal in die land se toekoms vernietig met kommunistiese en rassistiese beleidsrigtings wat nog altyd orals misluk het nie. Die voorbeeld is Zimbabwe. Die boere wie se plase gesteel is, kon meestal weer opstaan en van voor af begin – al was dit in ander lande. Die grootste slagoffers was egter die miljoene swart Zimbabwiërs wat in werkloosheid en hongersnood gedompel is weens Mugabe se rassistiese optrede.
Dit sal nie die land baat as daar geheime projekte geloods word om Solidariteit en AfriForum verdag te maak nie, selfs nie deur Afrikaanse linkses onwetend daarby te betrek nie. Hierdie linkses val ons al jare lank aan oor verskeie kwessies en het nog nooit om verskoning gevra nadat ons uiteindelik reg bewys is nie. Hulle moes nooit toegelaat het dat hulle misbruik word om ANC-beleidsrigtings soos rassewette goed te praat nie. Daarom moet hulle nie kwaad word as talle mense hulle as “nuttige idiote” – Lenin se term vir meelopers – bestempel nie.
Die enigste uitweg is daadwerklike hervorming en beleidsverandering deur die regering. Die ANC klou egter aan hul kommunistiese beleidsrigtings en diepgewortelde korrupsie vas, en gaan deur die geskiedenis agtergelaat word. Ons bepleit nie ʼn terugkeer na die verlede nie, maar glo aan samewerking vir ʼn beter toekoms, waar Afrikaners nie die ANC se sondebokke en melkkoeie is nie.
Hierdie jaar is ʼn groot jaar vir Afrikaans. Dis nie net die honderdste herdenking van Afrikaans as amptelike taal nie, maar ook die 150ste herdenking van die stigting van die GRA, oftewel die Genootskap van Regte Afrikaners. Die amptelike erkenning van Afrikaans is voorafgegaan en moontlik gemaak deur die GRA en skrywers en digters soos CJ Langenhoven, Totius en Eugene Marais.
Die groot vraag is nou wat is die toekoms van Afrikaans? Doemprofete meen die einde van Afrikaans as hoëfunksietaal het aangebreek, gegewe die regering se strewe om ons taal uit die openbare lewe te druk. Teenoor die doemprofete staan die “doenprofete”, wat ook die gevare sien, maar wat besluit het om iets daaraan te dóén.
Niemand is bang dat Afrikaans as informele taal uit ons huise en kombuise sal verdwyn nie, maar die groot vraag is wat gedoen kan word om te verseker dat Afrikaans ʼn volle funksionele taal bly. ʼn Taal wat nie in al sy funksies gebruik kan word nie, is geneig om deur ʼn proses van taalverskuiwing na ʼn wêreldtaal uiteindelik bedreig te word en selfs kan verdwyn. Daarom is dit nodig om ʼn oorsig te skets van die faktore wat inspeel op enige taal se oorlewing, en in die proses seker te maak dat Afrikaans se toekoms veilig is.
Kultuur
Die eerste en belangrikste bepaler van ʼn taal se toekoms, is die welstand van die kultuur of kulture wat die taal gebruik. Indien die bestaansvoorwaardes vir Afrikaners en ʼn kritiese massa ander Afrikaanssprekendes verval om in Suid-Afrika te bly, kan die taal nie oorleef as sy sprekers wegtrek of wegkwyn nie. Daarom behoort die begin van ʼn taalstrategie te wees om die voorwaardes te skep wat nodig is vir die kultuur om voort te bestaan. Die Romeine se taal, Latyn, kon uiteindelik nie die val van die Romeinse Ryk oorleef nie, behalwe in akademiese kringe waar Latynse terme nog gebruik word, soos in die regswese.
Taalwil
Die tweede bestaansvoorwaarde vir Afrikaans is die wíl van haar sprekers om hulle taal nie net te laat oorleef nie, maar te laat floreer. Die wil om Afrikaans te laat voortbestaan deur mense wat die bedreigings raaksien, ʼn plan vir die oorlewing en florering van Afrikaans kan maak, en wat genoeg mense kan begeester om die plan uit te voer is bepalend vir ʼn taal se toekoms. Daar word gesê ʼn Boer maak ʼn plan. Gelukkig bestaan daar oortuigende tekens dat die wil onder ʼn groot deel van die sprekers wel daar is om Afrikaans se voortbestaan te verseker.
Taalinstellings
ʼn Taal- of kultuurgemeenskap leef ín en deur instellings op elke belangrike gebied. ʼn Taal het onder meer skole, kolleges, universiteite, media, kultuurorganisasies, jeugbewegings, partye, vakbonde, maatskappye, ouetehuise en beroepsverenigings nodig om te kan voortbestaan.
Taalgebied
Die Frans-Kanadese taalkundige, Jean Laponce, meen dat ʼn taal ʼn eie gebied of gebiede nodig het waar sy die meerderheid is en nie daar met ʼn wêreldtaal hoef mee te ding nie. Frans sal nie in Kanada as ʼn betekenisvolle taal voortbestaan sonder Quebec nie, en Vlaams sal heel waarskynlik verdwyn as Vlaandere sou ophou bestaan.
Taalstad
ʼn Mens kan moeilik jouself ʼn betekenisvolle taal indink sonder ʼn stad of stede wat die taal anker en wat vol taalinstellings is wat die taal in al sy funksies gebruik. Was dit nie vir Londen, Parys of Berlyn nie, sou Engels, Frans of Duits groot uitdagings gehad het om in alle taalfunksies voort te bestaan. Talle kleiner streekstale word geanker deur groter streeksdorpe waarin daardie taal gebruik en beveilig word.
Demografie
ʼn Kritiese massa gekonsentreerde sprekers is nodig vir ʼn taal se voortbestaan. Afrikaans se uitdaging is dat sy sprekers yl verspreid bly, en daar min plekke is waar Afrikaans die meerderheidstaal uitmaak. Omdat Afrikaans nie ʼn natuurlike taalgebied of taalstad het nie, is dit nodig dat daar taalinstellings en taalruimtes is waar die minderheid ʼn meerderheid kan wees. Die rede is dat die meerderheid die taal van ʼn gebied of instelling bepaal, en dat byvoorbeeld ʼn skool of universiteit waar die meerderheid mense Afrikaans is, die taal se toekoms kan beveilig.
Tegnologie
Tegnologie is aan die een kant ʼn bedreiging vir kleiner tale, maar kan terselfdertyd ʼn belangrike hulpmiddel wees om ʼn taal te bevorder. Die Afrikaanse gemeenskap sal dus moet bybly in die tegnologiese wedloop, en daarom is dit verblydend dat kunsmatige intelligensie reeds in Afrikaans gebruik kan word.
Hoër funksies
ʼn Taal se hoër funksies soos onderwys en opleiding is baie belangrik vir voortbestaan. Daarom is die vinnige groei van ʼn universiteit soos Akademia ʼn riem onder die hart van mense wat lief is vir Afrikaans. Hier is Afrikaanse studente veilig, tuis en welkom.
Letterkunde
Dit is verblydend dat dit nog so goed gaan met die Afrikaanse letterkunde, soos gesien kan word in die hoeveelheid Afrikaanse boeke wat gepubliseer word. Daarom moet die Afrikaanse publiek aangemoedig word om hierdie boeke te koop. Dit is ook noodsaaklik dat skole seker maak dat die top Afrikaanse letterkunde soos Van Wyk Louw se Raka aan kinders oorgedra word.
Onderwys-pyplyn
Dit is nodig dat daar gewerk word aan die hele Afrikaanse pyplyn, vanaf kleuterskole tot universiteite. Die goeie nuus is dat daar verskeie organisasies is wat hulself daarvoor beywer, te meer so omdat die ANC teen Afrikaanse skole regeer.
Universiteit
Hoewel die belangrikheid van ʼn universiteit reeds as deel van Afrikaans se hoër funksies genoem is, is dit nodig om dit weer te noem. Die goeie nuus is dat daar reeds ʼn hele paar instellings ontstaan het wat opleiding op universiteitsvlak aanbied.
Laer informele funksies
Dit is ook nodig dat Afrikaans se informele funksies aandag kry, of dit nou by braaivleis of troues is. Die belangrikheid om ons taal aan die jonger geslag oor te dra kan nie oorbeklemtoon word nie.
Taalaktivisme
Daar is ook ʼn rol vir taalaktivisme, omdat dit soms nodig is dat ʼn sterk organisasie met spierkrag en getalle standpunt teen die benadeling van Afrikaans inneem. Dink maar hoeveel hofsake oor Afrikaans AfriForum al suksesvol gemaak het.
Taalproduksie en -verbruik
Afrikaans geniet tans nog die momentum van die werk en beleggings van die verlede. Taalverbruik verwys onder meer na ligte musiek of populêre vermaak, en is belangrik vir Afrikaans. Terselfdertyd is dit nodig dat meer aandag aan taalproduksie gegee word, wat onder meer verwys na navorsing en die hoër funksies van Afrikaans.
Kulturele selfvertroue
Afrikaners se kulturele selfvertroue is vir dekades aangeval en ondermyn, wat die lojaliteit aan Afrikaans nadelig geraak het. Dit hang saam met die kriminalisering van Afrikaners se geskiedenis, in ʼn poging om ons “op ons plek” en onderdanig aan die ANC-regering te hou. Daarom is dit noodsaaklik dat Afrikaners se geskiedenis “genormaliseer” word, en dat ons ons verlede “terugvat” en ewewigtig aan die volgende geslagte oordra.
Kulturele selfverwesenliking
ʼn Taal wat net in sy informele funksies gebruik word se sprekers gaan mettertyd oorskuif na ʼn wêreldtaal met meer funksies en ʼn hoër status. Daarom is dit nodig dat platforms geskep word vir die hoogste vorme van kulturele selfverwesenliking, of dit nou die Afrikaanse filosofie, kuns en letterkunde, drama en teater, of wetenskap en die akademie is. Dit is ook nodig dat daar genoeg kulturele energie oftewel kulturele “kapitaal” moet wees om steeds groot prestasies in Afrikaans moontlik te maak. Spesiale aandag moet aan geleenthede vir Afrikaanse denkers en skrywers gegee word, omdat hulle ʼn bepalende rol in ʼn taal se toekoms speel.
Taalmedia
Taalmedia speel ʼn onmisbare rol in die voortbestaan en florering van ʼn taal, veral omdat dit as taalvermenigvuldiger dien. Dis noodsaaklik dat daar gratis gehalte Afrikaanse inligting op die internet beskikbaar is, soos Maroela Media, anders begin mense net die Engelse media lees. Afrikaanse radio en ander Afrikaanse media is net so belangrik. WEET, die nuwe Afrikaanse kinderensiklopedie, en die Afrikaanse Wikipedia is ook kernbelangrik vir Afrikaans.
Kulturele ondernemingsgees
Dis belangrik dat daar ondernemers is wat nie net vir hulleself besighede begin nie, maar hulle ondernemingsgees gebruik om Afrikaanse gemeenskapsinstellings op te rig. Dit geld vir die hele spektrum van instellings soos skole, kunstefeeste, Afrikaanse media en ander kulturele instellings, groot en klein.
Taalekonomie
ʼn Taal moet ʼn ekonomiese waarde hê. Daarom moet Afrikaans in die ekonomie bevorder word, en nuwe tegnologie kan hier goed gebruik word. Dit is merkwaardig hoeveel Afrikaanse ondernemings die afgelope jare ontstaan het, vanaf LekkeSlaap, Virseker tot Boerboel en De Afrikander Handelshuis.
Kuns en kultuur
Die kunste, soos drama en teater, blyspele, musiek en ander kunsvorme moet deur die Afrikaanse publiek ondersteun word. Kinders en jongmense moet ook daaraan blootgestel word, omdat ʼn liefde van kleins as gekweek moet word.
Taalontwikkeling
Die wêreld ontwikkel geweldig vinnig, en Afrikaans moet bybly met woordeskat en vakterme. Daarom is dit belangrik dat instellings soos die SA Akademie, Akademia, en VivA ondersteun moet word sodat Afrikaans voortdurend verder kan ontwikkel.
Taalbeplanning
ʼn Kleiner taal kan nie net sy toekoms aan die toeval of ʼn regering oorlaat nie. Daar moet doelbewus taalbeplanning gedoen word deur alle instellings wat ʼn belang by die voortbestaan van Afrikaans het.
Ten slotte
Die toekoms behoort nie aan die doemprofete nie, maar aan die “doenprofete” wat planne maak en dan skouer aan die wiel sit om dit uit te voer. Afrikaans het ʼn blink toekoms voor as daar genoeg mense met ʼn taalwil is wat die hand aan die ploeg slaan om ʼn toekoms vir ons taal en sy sprekers te verseker.
Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.
Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.
Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.
Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.
Kanton Beleggingsmaatskappy
Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.
Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.
Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.
AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.
Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.
Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.
Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.
Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.
Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.
SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.
Geskiedenisfonds
ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.
Solidariteit Boufonds
ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.
Solidariteit Regsfonds
ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.
Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.
Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.
DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.
Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.
De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.
De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.
AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.
AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.
AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.
Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.
Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.
Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.
AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.
AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.