Die winde van verandering waai weer stormsterk in die Weste. Die vroeëre post-Wêreldoorlog “vertikale” verdelingslyne tussen sentrum-regs en sentrum-links, maak plek vir ʼn groter politieke grondverskuiwing tussen pro-Westerse nasionaliste en anti-Westerse globaliste.
Hierdie swaai na regs kan oor die hele Weste gesien en gehoor word.
Waar regse partye soms misluk, wen die regse politiek steeds omdat die ou konserwatiewe en selfs linkse partye die regse beleid moet oorvat om te oorleef. Meer lande kan dalk, soos Brittanje, hul onafhanklikheid “terugvat”. Hierdie regse of nasionalistiese partye is nie rassistiese of aggressiewe nasionalistiese partye wat hulle bure wil aanval of ander kulture verag of minderwaardig ag nie. Dis positiewe pro-Westerse groepe, al noem die massamedia hulle “verregs” en beledig hulle met skeldname.
Die Russies Amerikaanse denker Ayn Rand beskryf hierdie nasionalisme as volg: “But nationalism properly understood – as a man’s devotion to his country because of an approval of its basic premises, principles, and social system, as well as its culture – is the common bond among men of that nation. It is a commonly understood culture, and an affection for it, that permits a society of men to live together peacefully. But a country and its system must earn this approval. It must be worthy of that kind of devotion.”
Nasionalisme vs. globalisme
Dit is interessant dat hierdie twee kampe se groot kampvegters wat teenoor mekaar staan albei Israeli’s is, naamlik die konserwatiewe Yoram Hazony teenoor die linkse Yuval Harari.
Hazony verwoord die nasionaliste se kant van die saak teen globale imperialisme in sy The Virtue of Nationalism soos volg:
“Nasionalisme is nie een of ander onpeilbare politieke siekte wat lande met bose bedoelings oorneem nie. Dit is ʼn beginselvaste standpunt wat meen dat die wêreld die beste regeer word wanneer nasies in staat is om hul eie onafhanklike koers te bepaal, hul eie tradisies te volg en hul eie belange sonder inmenging kan nastreef. Dit staan teenoor imperialisme, wat daarna streef om vrede en voorspoed na die wêreld te bring deur die mensdom onder ʼn enkele politieke regime te verenig.”
Daarteenoor stel Yuval Harari sy ideaal van een globale wêreldregering soos volg:
“Al hoe meer mense glo dat die ganse mensdom, eerder as die lede van ʼn bepaalde nasionaliteit, die regmatige bron van politieke gesag is. Hulle voel dat die beskerming van die ganse menslike spesie die rigtinggewende lig in die politiek behoort te wees. Hiervolgens is die bestaan van by die 200 onafhanklike state ʼn hindernis eerder as ʼn hulp. Aangesien Swede, Indonesiërs en Nigeriërs dieselfde menseregte verdien, sou dit makliker wees as ʼn enkele globale regering hierdie regte waarborg.”
Globalisme word imperialisme
Die groot probleem met Harari en sy aanhangers in die Europese Unie en onder die (vreemd genaamde) neokonserwatiewes in die VSA, is dat globalisme imperialisme die einde van vryheid en demokrasie vereis. Globalisme kan nie tot stand kom as dit nie deur die inperking van demokrasie en vryheid afgedwing word nie.
Die Harvard-professor Samuel Huntington reken dat die globaliste ʼn klein maar invloedryke minderheid is. Hy noem hulle die “Davos people” na aanleiding van die jaarlikse byeenkoms van die globale elite in Davos.
Huntington verwys na hulle as die sogenaamde gouekraag-kosmokrate (“gold-collar cosmocrats”) wat min behoefte het aan nasionale lojaliteit, landsgrense as struikelblokke beskou wat gelukkig aan die verdwyn is, en wat nasionale regerings beskou as oorblyfsels van die verlede met die enigste nuttige funksie om die elite se globale bedrywighede te vergemaklik.
Demokratiese opstand
Die vraag is wat die onderliggende redes vir hierdie grondverskuiwing is.
Die oppervlakkige ontledings wat die nuwe konserwatiewes vyandig probeer afskryf en as verregse rassiste en ongeskoolde dommes bespotlik maak, vuur eerder die momentum aan. Baie kiesers voel reeds dat die liberale elite beterweterig op hulle neersien en hulle net vir stemvee misbruik. Dit help ook nie om “populistiese” leiers wat net sê wat mense dink te verwyt nie. Hierdie leiers ry net die golf; hulle het dit nie geskep nie.
Die kort antwoord is dat dit grootliks ʼn demokratiese opstand van gewone kiesers teen die gevestigde magsorde se globalistiese beleidsrigtings is. Huntington het hierdie opstand al in 2004 in sy boek Who Are We? voorsien.
Verdeling
Hy het gewaarsku dat Westerse elites gevaarlik uit voeling raak met die publiek, veral waar dit by sake soos patriotisme, identiteit en buitelandse beleid kom. Volgens hom word die publiek veral gekwel deur persoonlike veiligheid en gemeenskapsbelange soos taal, kultuur, godsdiens en nasionale identiteit. Daarteenoor staan die elite beleidsrigtings voor soos globalisering, oop grense, massamigrasie, liberale sosiale waardes en die belange van nie-Westerse minderhede in Westerse state.
Die publiek se Westerse patriotisme staan dus teenoor die elite se liberale internasionalisme. Die liberale elite is klein, maar magtig, vanweë hul oorverteenwoordiging in die regerende klasse, die media, onder die sake-elite en in die kunste. Hierdie gedenasionaliseerde elite sien hulself as wêreldburgers. Hulle waardes en gedrag verskil skerp van die patriotisme en nasionale identifikasie van die breër publiek. Huntington het die groeiende gaping tussen die groepe gesien as die oorsaak vir die kommerwekkende afname van vertroue in demokratiese instellings. Daarom het hy gewaarsku teen die geneigdheid van die politieke klasse om die breë publiek se voorkeur vir landsbelang, identiteit en kultuur te ignoreer of te minag.
Woede
Die kloof tussen die heersende liberale internasionalistiese gesagsorde en die patriotiese Westerse publiek het mettertyd té groot geword. ʼn Diep ontevredenheid en selfs woede het ontstaan. ʼn Groeiende deel van die publiek voel dat die politici net hul eie belang dien, dat die media hulle wil manipuleer, dat politieke korrektheid wil voorskryf wat hulle mag dink en sê, en dat die globale ekonomie hulle verarm. In die VSA het mense boonop begin voel dat hul kinders misbruik word om in verafgeleë oorloë te gaan veg ter wille van die elite se politieke doelwitte in plaas van nasionale belang.
Die gevolge kan nou gesien word in ʼn Westers-wye demokratiese opstand teen die gesagsorde se liberale agenda. Die publiek vind aanklank by regse partye se standpunt dat die elite eerder internasionale as hul eie nasionale belange dien, dat oop grense en grootskaalse immigrasie hul lewenswyse bedreig en dat hul heersers Westerse waardes ter wille van internasionalisme opoffer. Die kwessie van massamigrasie staan sentraal in hierdie opstand omdat mense voel dat niemand ooit demokraties daarvoor gestem het nie, maar dat die elite dit sonder mandaat afgedwing het. Brexit, die kontinentwye swaai na regs in Europa en die Republikeinse oorwinnings in die VSA is die politieke wraak op die internasionalistiese elite in die politiek, die staatsburokrasie en die media.
Luister na kiesers
Die vraag is: Wat gaan volgende gebeur?
Dit is duidelik dat die media en die politieke gesagsorde se geloofwaardigheid ʼn ernstige knou gekry het. Voorheen betroubare meningspeilings was skouspelagtig verkeerd met Brexit ʼn paar jaar gelede, moontlik omdat die elite onbewus hul eie menings probeer weerspieël of hulself begin glo het. Die liberale internasionaliste sal die demokratiese wil van die Westerse publiek moet begin respekteer as hulle nie opsy gevee wil word nie. Die beledigende verwysings na “verregse, ondemokratiese populiste” waarmee die elite konserwatiewe politici beplak, gaan die woede en vervreemding net vererger.
Die politieke klasse sal die ondenkbare moet doen: Hulle sal na hul kiesers se drome en vrese moet begin luister en hul demokratiese wil moet uitvoer as hulle nie uitgeskop wil word nie.
Dieselfde geld vir die media wat met politieke preke te veel aan hul gebruikers wil voorskryf in plaas van om hulle gebalanseerd in te lig en te respekteer. Die globalistiese media se probleem is dat hulle hul monopolie op inligting en meningsvorming verloor het vanweë die demokratisering van die media danksy sosiale media en vanweë sakereuse soos Elon Musk wat X gekoop het om spraakvryheid te verskans.
Horisontale bondgenootskap
Opkomende konserwatiewe politici dink reeds aan ʼn soort “horisontale bondgenootskap” van lande en gemeenskappe wat dieselfde waardes aanhang. Dit staan teenoor die “vertikale verdeling” tussen mededingende magsblokke, soos in die ou en nuwe Koue Oorlog. Hulle glo dit kan politieke, kulturele en godsdienstige grense oorspan en wêreldvrede en die internasionale ekonomie bevorder. So kan die VSA, konserwatiewe Europese lande, en selfs lande soos Indië en China met mekaar saamwerk sonder die verwaande aandrang dat hulle liberale Westerse waardes moet aanvaar.
Politieke leiers in die Weste sal moet kennis neem dat die wêreld dalk onder hul neuse verander. Die Westerse liberale elite se projek om die “wêreld soos hul lande te maak en hul lande soos die wêreld”, kan homself op die rotse van die openbare mening te pletter loop.
Gewone Westerlinge begeer eerder ʼn besadigde Westerse herlewing as liberale Westerse oorheersing of die self-aftakeling van die Westerse kultuur. Die elite stel hul liberale ideologie voorop; die publiek stel hul Westerse kultuur voorop. Die publiek is kwaad omdat hulle voel dat die massas immigrante net die voordele van die Westerse kultuur wil geniet, maar nie wil verwesters nie en eerder hul eie kulture op al groter wordende eilande wil voortsit en die Weste wil afbreek.
Suid-Afrika en Afrikaners
Hierdie verdelingslyne het na Suid-Afrika oorgespoel. Dit kan gesien word in die klein maar invloedryke groepie “kommentators”, wat danksy hul toegang tot die media die selfvertroue het om Afrikaners te probeer “ontbind” en by die meerderheid in te lyf.
Hoewel hulle die ANC se korrupsie en swak regering soms hewig kritiseer, ondersteun hulle die onderliggende beleid wat dit veroorsaak.
Daarom bly dit noodsaaklik dat Afrikaners nie probeer oorheers nie, maar oorleef en herleef deur die kulturele infrastruktuur te bou om dit moontlik te maak, en dan saam met ander gemeenskappe te werk in ʼn gees van wedersydse erkenning en respek. Dít is ʼn voorvereiste vir ware vryheid en demokrasie vir almal.
Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

