“Ons noem dit ‘regstellende aksie’, want die term regverdig homself sodat wit mense dit maklik aanvaar en vrywillig op hulself toepas”. Dit was die antwoord wat ʼn bekende Cosatuen SAKP-leier aan my gegee het toe ek vir hom gevra het hoekom gebruik hy Afrikaans as hy oor rassewette praat.
Dis presies hoekom ek nie die term “regstellende aksie” gebruik nie. Dit het ʼn propagandaterm geword wat glad nie oor regstelling gaan nie. Dit het verhard in ʼn omvattende rassebedeling wat op ʼn drakoniese wyse inbreuk op wit mense en ander minderhede se lewens maak. Veel meer “rastelling” as regstelling.
Dit beteken natuurlik nie wit mense wil nie hê dat swart mense vooruitgaan in die lewe nie. ANC politici wat die leuen verkondig dat iemand wat teen rassewette is terselfdertyd teen swart mense is, misbruik net rassepolitiek om steun vir hulle kwynende party te probeer terugwen.
Dis belangrik dat die ekonomie groei en dat almal in die land meer geleenthede kry sodat armoede opgelos kan word en swart mense ook ʼn voorspoedige toekoms kan hê.
Kwaadwillige politici beweer dat wit mense onregverdig kla, selfsugtig op hul eie probleme fokus en min bereidwilligheid toon om die land se werklike krisisse te help oplos. Hulle verswyg natuurlik dat hulself wit mense uitsluit van geleenthede om die krisisse wat dieselfde politici geskep het op te los. Die bitter ervaring het geleer dat hulle eerder ʼn hele dorp sonder water sal los, eerder as om met die Afrikaners daar saam te werk om die dienste te herstel.
Armoede of ongelykheid?
Die eerste groot fout van die ANC ná 1994, was om wetgewing in te stel gerig op die herverdeling van bestaande poste en welvaart, in plaas daarvan om armoede aan te pak deur nuwe poste en welvaart te skep. Ongelykheid is vir Sosialiste altyd die grootste probleem, en nie armoede nie. Hulle wil eerder die “rykes” armer maak as die armes ryker. Daarom verstaan hulle nie dat ekonomiese groei die vinnigste gelykmaker én die beste oplossing vir armoede is nie.
Soos die Amerikaanse ekonoom Thomas Sowell dit stel: “What do the poor most need? They need to stop being poor. And how can that be done on a mass scale, except by an economy that creates vastly more wealth? Yet the political left has long had a remarkable lack of interest in how wealth is created. As far as they are concerned, wealth exists somehow, and the only interesting question is how to redistribute it.”
Rassewette
Maar kom ons keer terug na die vraag wat aan die begin gestel is. Waarom is Solidariteit en so baie wit mense negatief oor die land se rassewette, wat volgens politici op regstelling gerig is? Die kort antwoord is dat die uitkomste ná drie dekades gewys het dat die Suid-Afrikaanse model van regstellende aksie niks regstel nie, en teenproduktief en skadelik vir die land en al sy mense is.
Niemand is gekant teen die regstelling van wat verkeerd is nie en daar is ook nie weerstand teen gelykheid of maatreëls wat daarop gemik is om groter gelykheid te bewerkstellig nie. Die probleem ontstaan dus nie met werklike regstelling, gelyke geleenthede of die groter verteenwoordiging van swart mense in sekere posvlakke nie.
Die uitdaging vir Suid-Afrika was om ʼn model wat ontwikkel is om minderhede te beskerm, doeltreffend te gebruik om meerderhede te bevorder. Daar het egter ʼn groeiende gaping ontstaan tussen die mooi grondwetlike teorie en die harde praktyk.
Wat meer as drie dekades gelede as ʼn regstellende maatreël begin het, het uitgeloop op ʼn omvattende rassebedeling wat onversoenbaar is met ʼn grondwetlike demokrasie, ʼn werkende staat en ʼn groeiende ekonomie wat vir al sy mense kan sorg. Wat die Grondwet toelaat, het in die praktyk verhard tot ʼn permanente staatsideologie van “radikale transformasie” wat deur die regering én howe onderskryf word. Boonop voldoen hierdie maatreëls nie meer aan internasionale regsvereistes vir tydelikheid, eweredigheid en toepaslikheid nie.
Daar is minstens 20 redes hoekom “regstelling” verkeerd is. Dit kan as volg opgesom word:
- Rassewette is in werklikheid ongrondwetlik, aangesien artikel 1 van die Grondwet bepaal (of beweer?) dat Suid-Afrika ʼn nierassige staat is.
- Die wette voldoen nie aan die internasionale reg nie, wat vereis dat regstellingsmaatreëls tydelik, proporsioneel en genuanseerd moet wees. Internasionale standaarde plaas groter klem op opleiding en mense se sosio-ekonomiese status as op ras. Daarom het die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) Solidariteit se formele klagte aangehoor en ʼn bemiddelingsproses tussen Solidariteit en die regering gefasiliteer wat in 2024 op ʼn ooreenkoms uitgeloop het. Dié ooreenkoms is deur ʼn hofbevel bekragtig en in die Staatskoerant gepubliseer, net om minder as ʼn jaar later weer deur die regering verbreek te word met nuwe rasseregulasies. Solidariteit se hofsaak hierteen kom eersdaags voor.
- Dit is onwerkbaar, aangesien die getalleverhoudinge in die land dit onmoontlik maak dat wette wat teen sowat 7% van die bevolking ingestel word, die ander 93% sal bevoordeel. Daar is ʼn wesenlike verskil tussen ʼn stelsel wat minderhede in ʼn groeiende ekonomie beskerm en een wat poog om meerderhede in ʼn krimpende arbeidsmark op te hef.
- Dit is ʼn onreg teen jong wit mense onder 18 jaar, wat slegs 4,6% van die bevolking uitmaak. Hulle word blameer vir gebeure wat voor hul geboorte plaasgevind het, terwyl die ANC nie verantwoordelikheid neem vir dit wat hulle nóú aanvang nie. Dit skep ook valse verwagtinge by die bykans 96% jong swart mense dat die maatreëls teen die 4,6% jong wit mense hulle sal bevoordeel.
- Dit is onbillik, omdat die nuwe bedeling juis veronderstel was om op ʼn hoër morele grondslag te rus as die kru rassemaatreëls van apartheid.
- Dit benadeel wit mense, sonder om swart mense werklik te bevoordeel. Indien alle wit mense dadelik uit die werksmag verwyder sou word, sou swart werkloosheid met slegs 2,6 persentasiepunte daal. The Economist het reeds in 2021 bereken dat 50% van wit mense oor die afgelope drie dekades sowat 50% verarm het. Die primêre probleem vir wit mense is nie werkloosheid nie, maar onderindiensneming (om in poste onder hul kwalifikasies aangestel te word) weens die rassewette.
- Dit is ekonomies skadelik vir die land, soos die Wêreldbank en talle ander instellings al uitgewys het. Dit speel ʼn bepalende rol in die land se jarelange ekonomiese stagnasie. SEB voldoening kos die land elke jaar tussen 2% en 4% van die BBP, oftewel tussen R145 miljard en R290 miljard.
- Dit dra aansienlik by tot die verswakking en verval van talle staatsinstellings, omdat die klem by aanstellings meer op ras as op meriete val. Sodoende benadeel dit die armes deur swak en ongesonde dienste.
- Dit lei daartoe dat die mees gekwalifiseerde persoon nie die werk kry nie, aangesien aanstellings deur uitsetgebaseerde teikens eerder as insetgebaseerde beginsels gedryf word.
- Die strewe na gelyke uitkomste lei tot beperkings op die vryhede van mense en maatskappye.
- Dit het onbedoelde gevolge, soos dat dit die stelsel van tenderpreneurskap moontlik maak en ʼn gevoel van geregtigheid (entitlement) bevorder.
- Dit werk in die naam van die bevordering van diversiteit, eerder eenvormigheid in die hand, omdat dit vereis dat alle posvlakke die demografie moet weerspieël.
- Dit dryf talle werkskeppers, hoëvlak-vaardighede en hoë netto-belastingbetalers landuit. Dit het al soveel families uitmekaar geskeur, met gesinne wat op verskillende kontinente bly en kinders wat sonder hul ouers of grootouers moet grootword.
- Dit is onnodig, omdat ʼn merietegebaseerde stelsel, gegewe die bevolkingsamestelling, steeds daartoe sal lei dat verreweg die meeste aanstellings swart mense sal wees.
- Dit lei tot demografiese oorheersing van minderhede vanweë die afdwinging van die bevolkingsamestelling op alle instellings. In ʼn land met Suid-Afrika se uiteenlopende geografiese en demografiese werklikhede, kan elke instelling nie ten volle verteenwoordigend wees nie. Daarom moet die strewe veel eerder wees dat instellings gesamentlik oorhoofs verteenwoordigend van die bevolking moet wees. Beleide soos kaderontplooiing en “African hegemony” is meer daarop gemik om oorheersing te bewerkstellig as op ware regstelling.
- Dit moedig ʼn “demografiese demokrasie” aan, omdat die ANC probeer om kiesers se lojaliteit te verseker deur die klem op ras en rassebevoordeling te plaas.
- Die feit dat regstellende aksie in die werkplek en SEB vir ondernemings geld, veroorsaak dat minderhede se lewens en lewenskanse op alle gebiede deur ras gereguleer word.
- Die wetgewing dwarsboom die uitoefening van ander grondwetlike regte, soos artikel 22, wat vryheid van keuse van beroep en professie “waarborg”.
- Die Suid-Afrikaanse model van regstellende aksie is ʼn voorbeeld van die onbedoelde gevolge wat ontstaan wanneer ʼn stelsel sy eie loop geneem het, verhard het in ʼn staatsideologie, en veel verder gegaan het as die regstelling van ongeregtighede.
- Die doeltreffendste maatreëls om regstelling en inklusiewe ontwikkeling te bevorder bly ekonomiese groei. Dit moet ondersteun word deur insetgedrewe programme soos opleiding, eerder as uitsetgedrewe teikens wat tot ʼn omvattende kwotastelsel verhard het. So ʼn insetgedrewe benadering bied die vinnigste en natuurlikste manier om rasseverteenwoordiging te verseker, sonder die onbekostigbare onbedoelde gevolge van die huidige stelsel.
Suid-Afrika het volgens verskeie bronne die hoogste werkloosheidskoers ter wêreld. Daarom is dit dringend noodsaaklik om ekonomiese groei te stimuleer, meer werk te skep en ongelykhede te verminder. Tog dui die uitkomste ná drie dekades daarop dat die huidige model nie meer werk nie en dat dit nodig is om terug te keer na die tekenbord, eerder as om ʼn onwerkbare en onregverdigbare stelsel te probeer verdedig. Ware regstelling is soos ʼn skild wat mense help, nie ʼn swaard wat ander benadeel of oorheers nie.
Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.