Afrikaners was nog nooit so verenig nie

Die ou wysheid lui dat as drie Afrikaners ‘n dorp stig, hulle kort daarna vier kerke stig. Dit het al amper ‘n volksmite geword dat Afrikaners altyd heftig verskil en daar gevolglik altyd ten minste twee kampe Afrikaners is oor enige onderwerp. Ons geskiedenis wys ook dat Afrikaners inderdaad heftig kan polariseer rondom sake van die dag.

Tog, met die verbrokkeling van die nuwe Suid-Afrika se regeerstelsel en Afrikaners se besef en verwerk van hulle status as minderheidsgroep, het hierdie ou waarheid plek gemaak vir ‘n nuwe werklikheid.

As sigbare en kwesbare minderheid is Afrikaners vandag verenig soos min vantevore in ons geskiedenis. Dit is ‘n mite dat daar vandag weer een of twee of meer gelykwaardige opponerende kampe bestaan.

Verskeie stukke navorsing onder Afrikaners toon dat daar inderwaarheid ‘n breë eenstemmigheid ontstaan het die afgelope dekade.

Navorsing

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) onderneem gereeld ‘n verteenwoordigende profielstudie[i] onder Afrikaners. Eenvoudig gestel is dit ‘n navorsingstuk gedoen onder Afrikaners (lede en nie-lede) wat probeer om Afrikaners se vrese, drome en geleefde werklikheid vas te vang.

In 2025 het die SNI ook verskeie fokusgroepe onder Afrikaners van alle ouderdomme gedoen, uitdruklik Afrikaners wat nie lid van enige instelling van die Solidariteit Beweging is nie.

Laastens is daar in Desember 2025 navorsing onderneem deur Ground Control Research (GCR)[ii] onder Afrikaners van reg oor die land wat menings en sienings oor verskeie kwessies getoets het. Al drie hierdie stukke navorsing toon bepaalde neigings wat met mekaar ooreenstem.

Kultuur

Een van die belangrikste neigings is dat Afrikaners weereens met trots na hulleself verwys as Afrikaners. Afrikaner as term het vir groot dele van die nuwe Suid-Afrika agterweë gebly. So byvoorbeeld het slegs 40% van Afrikaners in die SNI se 2019-profielstudie na hulleself as Afrikaners verwys. Hierdie syfer het dramaties gestyg tot ongeveer 80% van Afrikaners in die 2024-studie. Dit is selfs vóór die Amerikaanse president die term Afrikaner weer internasionaal bekend gemaak het in Februarie 2025.

Die hernude omarming van die term Afrikaner gaan gepaard met ‘n kultuurtrots wat nuwe lewe gekry het. Afrikanerkultuur word deur respondente aan die SNI-profielstudie primêr beskryf as Christelik (90%), Afrikaans (88%), lief vir hulle gesinne (77,5%) en hardwerkend (76,7%).

Amper 9 uit 10 Afrikaners beskryf hulleself as trots op hulle kultuur en stel dat dit ‘n belangrike deel van hulle daaglikse lewe uitmaak.

Hierdie verskynsel vind ook neerslag in die GCR-navorsing wat daarop dui dat Geloftedag as ‘n belangrike dag beskou word deur 8 uit 10 Afrikaners, met 82% van Afrikaners tussen 25 en 34 wat aandui dat hulle persoonlik Geloftedag vier.

Die neiging van jonger Afrikaners wat trotser op hulle kultuur is as ouer garde is een wat deurentyd waargeneem word; dit dui op ‘n jonger geslag wat onbeskaamd hulleself as Afrikaners sien.

Diskriminasie en selfstandigheid

Die ander neiging wat duidelik na vore tree uit die 2024 SNI-profielstudie is dat Afrikaners toenemend vervreem, onderdruk en soos tweedeklasburgers voel. Ten spyte daarvan, is Afrikaners nog onwrikbaar deel van Suid-Afrika en baie lief vir hulle land – hulle hou net werklik niks van die ANC-regering nie.

Terselfdertyd voel die meerderheid Afrikaners dat daar tans teen hulle gediskrimineer word. Amper 4 uit 5 Afrikaners vanuit GCR se studie dui aan hulle glo wit Suid-Afrikaners word deesdae meer benadeel as ander bevolkingsgroepe.

Dit eggo resultate van ‘n 2021-SNI-studie oor rasseklassifikasie waar meer as 95% van respondente[iii] aangedui het dat hulle glo sekere rassegroepe het meer regte as ander in Suid-Afrika.

Harde raswerklikhede word daagliks deur Afrikaners beleef in Suid-Afrika. Die beste kandidate word afgekeur, kinders word spanplek ontsê en besighede verloor kontrakte bloot weens hulle velkleur.

Fokusgroepdeelnemers in 2025 eggo die sentiment met geweldige kommer wat uitgespreek word oor “gaan daar vir my kinders werk wees weens hulle velkleur”.

Uiteindelik het die regering se aandrang om hulp tydens die covid-19-pandemie op grond van ras uit te deel ‘n finale besef in Afrikaners wakker gemaak. Eenvoudig gestel het die meerderheid Afrikaners besef ons is op ons eie en gaan na onsself moet kyk, want niemand anders gaan dit doen nie.

‘n Mens sien hierdie drang na groter onafhanklikheid en selfstandigheid vir Afrikaners uit al drie studies se resultate.

Volgens respondente van die 2024-SNI-profielstudie is die drie belangrikste dinge wat gedoen moet word om die Afrikanerkultuur se toekoms te verseker om, eerstens Afrikanerbesighede ekonomies te ondersteun (86,4%), tweedens Afrikaners in diens te neem (86%) en derdens gesinswaardes te versterk (86%).

Buiten ekonomiese selfstandigheid is die daaropvolgende drie dinge wat gedoen moet word, om Afrikaners se toekoms te verseker:

  • Afrikaanse onderwys en vaardigheidsontwikkeling moet bevorder word (85%);

  • Deelname aan gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe (84%);

  • Aktiewe betrokkenheid by organisasies soos Solidariteit, AfriForum en Helpende Hand (82%).

Hierdie behoefte aan groter selfstandigheid word geëggo in GCR se studie, waar ongeveer 77% van respondente aangedui het Afrikaners behoort te mik vir groter selfbeskikking.

Opleiding

Opvoeding en opleiding lê nog altyd besonder na aan Afrikaner-harte, van die Trap der Jeugd op Voortrekkerwaens tot hedendaagse ouerbetrokkenheid by skoolaktiwiteite. Inteendeel, naas kerke is skole die instelling waar Afrikaners die meeste betrokke is in hulle gemeenskap.

Afrikaners is passievol oor Afrikaanse onderrig met 3 uit 4 in die 2024-SNI-profielstudie wat glo kinders moet onderrig in Afrikaans ontvang en 7 uit 10 wat stel dat Afrikanerkinders na ‘n Afrikaanse universiteit toe moet kan gaan. Afrikaners vereenselwig Afrikaanse onderrig met die oordrag van morele waardes (85%), dissipline (85%) en Christelike beginsels (83%).

Terselfdertyd voel 4 uit 5 Afrikaners dat Afrikaans onderdruk word. Die werklikheid van oorvol Afrikaanse skole wat onder toenemende druk kom deur die departement tref iets diep in die psige van Afrikaners. Hierdie bekommernis oor kinders se vermoë om wêreldklasopleiding in Afrikaans te ontvang, kom ook uit in die fokusgroepe van 2025. Sentimente soos “Afrikaner-organisasies moet skole en die jongmense ondersteun” en “ek is bekommerd oor kinders se toekoms, opleiding en onderwys” is volop.

In die lig hiervan maak die geweldige ontsteltenis van Afrikaners met die Bela-wetgewing, asook die ongelooflike positiwiteit en geesdrift teenoor Sol-Tech en Akademia sin. Opleiding lê naby aan Afrikaner-harte.

Toekomsverwagting

Wanneer Afrikaners praat oor die toekoms is daar twee sieninge wat na vore kom.

Die eerste is dat die huidige regering en regeerstelsel nie ‘n beter toekoms kan bewerkstellig nie. In die SNI-profielstudie dui omtrent die helfte van respondente aan dat hulle geen hoop het vir ‘n verbetering in regeringskorrupsie (49%) en misdaad (48,5%) nie.

GCR se navorsing dui ook die sentiment aan met 8 uit 10 Afrikaners wat daar aandui dat hulle minder hoop vir Suid-Afrika vandag het as met die aanvang van demokrasie in 1994.

Afrikaners voel neerslagtig wanneer hulle oor die toekoms van Suid-Afrika vanaf ‘n regeringsperspektief praat. Daar is min na geen vertroue of hoop dat die bestaande regeerstrukture kan herstel of ‘n beter toekoms bewerkstellig nie.

Die tweede siening wat Afrikaners terselfdertyd huldig, is dat Afrikaners ten spyte van die regering ‘n toekoms gaan uitkerf. Ongeveer 3 uit 4 glo dat Afrikaners die reg het om ‘n voorspoedige toekoms vir hulleself te verseker, dat Afrikaners kan saamwerk om hierdie toekoms te bewerkstellig en dat Afrikaners die vermoë het om ‘n voorspoedige toekoms vir hulleself te verseker, aldus die SNI-profielstudie.

Op ‘n vraag oor wat jou die meeste hoop gee vir die toekoms, is die opsie wat in die SNI-profielstudie kop en skouers bo alle ander uitstaan dat Afrikaners hoop Afrikanerorganisasies soos Solidariteit, AfriForum en Helpende Hand ‘n beter toekoms kan bewerkstellig.

Hierdie gevoel rondom Solidariteit word weereens geëggo in GCR se studie: 9 uit 10 respondente het kennis van Solidariteit en AfriForum en ongeveer 4 uit 5 respondente huldig ‘n positiewe siening oor Solidariteit en AfriForum en die werk wat hulle doen.

Uit die 2025-fokusgroepe kom dieselfde sentiment. Afrikaners voel Solidariteit en sy instellings moet dien as skans teen die regering se vergrype, namens Afrikaners intree, Afrikaanse opvoeding ondersteun, Afrikaners help om te werk en vir Afrikaners hoop skep.

Gevolgtrekking

Afrikaners het stilweg dog beslis beweeg na ‘n soort Afrikaner-konsensus oor hulle eie kultuuridentiteit asook die nodige oplossings om ‘n toekoms vir Afrikaners in Suid-Afrika te verseker.

Die drie stukke navorsing toon dat Afrikaners trots op hulle kultuur en lief is vir Suid-Afrika. Hulle ervaar geen spanning tussen hulle kultuurgemeenskap uitbou en terselfdertyd ‘n burger van die land wees nie. Inteendeel, hulle voel dat die twee hand-aan-hand loop en onlosmaaklik deel van mekaar is.

Afrikaners voel uitgestoot, vervreem en onderdruk in Suid-Afrika. Die ANC-regering word as vyandig ervaar met sy blinde ras-ideologie en verdelende rasseretoriek.

Afrikaners se antwoord op hierdie vyandigheid is selfstandigheid en onafhanklikheid, terwyl daar waar moontlik met ander groepe saamgewerk word. Afrikaners glo dat ons as gemeenskap die reg, verantwoordelikheid en vermoë het om ons eie toekoms te verseker, want niks of niemand anders gaan nie.

Afrikaners, of hulle lede van die Solidariteit Beweging is of nie, skep moed uit die werk van die Beweging. Afrikaners is positief oor en dankbaar vir die werk wat dié instellings doen.

Ná die heftige verdeling van die Afrikanerdom in die 1980’s het drie dekades van die ANC se nuwe Suid-Afrika ons saamgesnoer tot op die huidige punt waar Afrikaners meer verenig is as ooit tevore.

Alhoewel daar nog verskille is oor kleiner detail, stem die oorweldigende meerderheid Afrikaners saam oor die meeste van die groot kwessies en wat hul oplossings behoort te wees.

Ons is onbeskaamd Afrikaners en hier om te bly.

Ons word sleg deur die ANC-regering hanteer, maar ons sal ten spyte daarvan slaag.

Ons kom goed oor die weg met ons medelandsburgers en gun elkeen ‘n plekkie in die son.

Ons gaan met genade van Bo en deur Afrikaner-instellings sélf ‘n toekoms bou.

 

Geskryf deur Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

 

[i] 1 200 respondente
[ii] 1 000 respondente
[iii] 4 857 respondente

In diens van iets Groter as onsself

Akademia is ʼn pragtige projek.Dit is nie benoud nie. Dit weet presies wie dit is en is terselfdertyd verwelkomend. Die hele projek spreek van uitnemendheid – van die akademie tot die bouwerk. Wêreldklas, in Afrikaans.

Dit is Afrikaans en is daar vir die groot Afrikaanse gemeenskap én vir elkeen wat in Afrikaans wil studeer. Dit sluit juis studente in wat in Afrikaans wil studeer, maar op ander plekke uitgesluit word.

Dit staan te midde van die groot Westerse universiteitstradisie wat die wetenskap onbevange oopbreek binne die onbeperkte omvang van Sy skepping.

Dit vorm studente, en juis dít maak Akademia-studente gesog in die arbeidsmark. Hulle ontwikkel ʼn begrip van die geheel en van die ware, die goeie en die skone. Dit is die basis vir goeie werk.

Die analogie is Sol-Tech, wat in Afrikaans oplei en werkgewers oor die hele spektrum in rye staan om dié studente in diens te neem.

Akademia en Sol-Tech lei studente só op dat hulle ook gemaklik in ʼn Engelse wêreld kan werk.

Akademia het ʼn mooi storie.

Die begin was sowat 20 jaar gelede, toe Solidariteit-lede ingestem het om elk R10 per maand ekstra ledegeld te betaal vir ʼn Solidariteit Boufonds.

Dit was ons Dawidsklippies waarmee groot uitdagings oorwin moes word.

Eers is Sol-Tech begin en daarna Akademia. Beide Sol-Tech en Akademia is binne die grondwetlike raamwerk van Suid-Afrika gevestig.

Gewone mense wat werk, het hul bietjies gegee om iets groots te bou. Die grootste daarvan was vir hulle kinders en die gemeenskap.

Later het Solidariteit-lede nog R5 per maand vir studiehulp bygedra.

Hulle was groter as hulself, want bykans 20 jaar later word ander se kinders gehelp wat toe skaars gebore was en wie se name hulle nie eens geken het nie. Dít is die krag van gemeenskap.

Solidariteit-lede het ʼn daad verrig wat groter as hulself was. Hulle het gesê: “Ons beperk hierdie groot instellings nie net tot Solidariteit-lede nie, maar stel dit tot voordeel van die groter Afrikanergemeenskap, asook tot die groter kultuur- en Afrikaanse taalgemeenskap.”

Dit is ʼn gedeelde geskenk aan ʼn groter idee en juis daarom is dit nie om weg te gee nie. Dit is bloot onder rentmeesterskap vir die volgende generasie. Die gemeenskap is gevra om dit saam met ons te bewaar.

Die Solidariteit-lede was en is onbaatsugtig in diens van ʼn groter gemeenskap.

Solidariteit-lede was ook sentraal tot die oprigting van die ontwikkelingsmaatskappy, Kanton, wat eers die Sol-Tech-kampus gebou het en nou die Akademia-kampus bou.

Eers het Solidariteit sy eie geboue in die Kanton-portefeulje geplaas, waarborge is gegee en bates is in aandele omskep.

Dit het die bou van die Sol-Tech-kampus moontlik gemaak en die voorwaardes geskep vir die bou van die Akademia-kampus.

Maar nooit het Solidariteit-lede gesê: “Dit is net ons s’n nie.” Hulle het met dankbaarheid iets gebou vir hulle lede en dié se kinders, maar tot voordeel van die Afrikaanse gemeenskap en as ʼn kleinood vir die toekoms.

Akademia word nou só ʼn kleinood vir die Afrikaanse gemeenskap: ʼn geskenk deur gewone mense wat werk. Nederig begin, trots sien groei.

Vir hierdie groot Afrikaanse kleinood word daar nou deur Kanton ʼn kampus gebou. Die eerste fase beloop R1,8 miljard en die volledige projek meer as R3 miljard.

Die betrokkenheid word al groter. Eers het meer mense tot die Solidariteit Boufonds begin bydra om Akademia sterk te maak. Groot trusts het onbaatsugtig gehelp, en nou begin groter beleggers by Kanton betrokke raak om die kampus te bou.

Grond is gekoop en planne vorder goed vir ʼn kampus in die Paarl.

Solidariteit het nooit probeer om sy inisiatief benoud vir homself te hou nie.

Dit was altyd in diens van iets groters: ʼn groter gemeenskap. En dié groter gemeenskap begin nou al hoe meer betrokke raak. Dit raak ʼn sneeubal.

Daar is dié wat betrokke raak en help bou, en dan is daar kantkommentators wat kritiek lewer en wil breek.

Op die kantlyn skree hulle op Akademia en het hulle die vermetelheid om te wil voorskryf hoe dit moet lyk en wees.

Hulle het nie eens ʼn enkele R10 bygedra nie. Hulle was nie by die sweet en risiko van die begin betrokke nie en is selfs nou nie betrokke nie. Dit word ook nie met hulle belastinggeld gebou nie.

Solidariteit-lede het met hulle bietjies begin, dit in diens van ʼn groter gemeenskap gestel, en nou dink onbetrokke kommentators hulle kan die idee van Akademia vat en voorskryf.

Vir jare het hulle niks gedoen nie. Noudat daar iets is, raak hulle steeds nie betrokke nie, maar lewer hulle kritiek en skryf voor. Hulle is welkom om hulle eie iets te begin. Ons sal nie daarop kritiek lewer nie.

Intussen gaan ons almal voort om aan iets veel groter as onsself te bou. In diens van iets groter as onsself.

Dít is die energie van Akademia en van die hele Solidariteit Beweging.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Laat ons die goeie stryd waardig stry

Die afgelope paar weke het daar ’n geweldige geraas rondom Akademia en Kanton ontstaan. Dit is ook verstaanbaar dat Kanton deel van die gesprek geword het: Ons ontwikkel die nuwe Akademia-kampus, en die omvang en sigbaarheid van wat daar in Pretoria-Oos verrys, maak dit al moeilikker om te ignoreer.

Eers het prof. Jonathan Jansen sterk kritiek uitgespreek op Afrikaanse private hoër onderwys en Akademia in die besonder. Daarna het dr. Naledi Pandor die bou van die nuwe kampus binne ’n veel groter ideologiese raamwerk geplaas en dit as deel van ’n bedreiging vir die soort Suid-Afrika waarvoor sy en haar “comrades” geveg het, beskryf.

Die felheid van die reaksie sê iets oor die betekenis wat Akademia en die kampusontwikkeling begin aanneem. Mense mors selde veel energie op iets wat hulle as onbeduidend beskou. Wanneer ’n gemeenskap daarin slaag om op eie inisiatief kapitaal, kundigheid en organisasievermoë saam te snoer om ’n universiteitskampus van hierdie omvang te bou, daag dit noodwendig gevestigde idees uit oor hoe ons samelewing behoort te funksioneer.

My eie reaksie op die gewoel was om sover moontlik te konsentreer op dit wat ek kon beheer. Terwyl die lawaai rondom ons aangehou het, het ons voortgegaan om kapitaal te werf, probleme op te los en stene te pak. Dit is immers wat bouers doen.

Daar is intussen wyd en syd op Jansen en Pandor gereageer. Leiers uit ons gemeenskap, kommentators en gewone Suid-Afrikaners uit verskillende oorde het hulle standpunte bevraagteken en gekritiseer. Wat my in die verbygaan opgeval het, is hoe wyd die steun vir Akademia en vir die reg van gemeenskappe om hulle eie instellings te bou strek.

Dit is bemoedigend.

Maar tussen al die goeie, deurdagte en soms baie skerp kritiek is daar ook iets wat my ontstel. Dit is die platvloerse, beledigende en soms eenvoudig gemene reaksies uit ons eie geledere.

Ek probeer nie skryf uit ‘n posisie van hoogheiligheid nie. Ek weet hoe dit voel wanneer jou taal, jou kultuur, jou geskiedenis en die instellings waaraan jy bou, telkens onder verdenking geplaas word. Ek verstaan die frustrasie van Afrikaners wat voel dat daar oor baie jare van hulle verwag is om skuld te dra, plek af te staan en soms selfs verskoning te maak vir die eenvoudige en regmatige begeerte om as ‘n taal- en kultuurgemeenskap voort te bestaan.

Ek verstaan ook die gevoel van genoeg is genoeg. Ek beleef dit self en word self kwaad.

Maar juis daarom moet ons versigtig wees met hoe ons reageer.

Om te bou is moeilik

Ek skryf hieroor as iemand wat al 28 jaar aan instellings bou en wat weet hoe moeilik dit is.

‘n Kampus verrys nie omdat iemand ‘n mooi toespraak gelewer of ‘n sterk mening op sosiale media geplaas het nie. Dit vra jare se werk. Jy moet mense van ‘n saak oortuig. Jy moet vertroue wen. Jy moet kapitaal mobiliseer. Jy moet deur ‘n komplekse regulatoriese omgewing werk. Jy moet met staatsinstellings, finansiers, professionele spanne, gemeenskappe en talle ander rolspelers verhoudings bou.

En niemand kry dit alleen reg nie. Instellings van hierdie omvang verg die volgehoue inspanning van ‘n hele gemeenskap.

Jy moet soms geduldig wees wanneer jy eintlik kwaad is.

Jy moet soms weer verduidelik wanneer jy voel jy het reeds tien keer verduidelik.

Jy moet soms aanhou bou terwyl mense jou motiewe bevraagteken.

Dit is die aard van die uitdaging om instellings te bou.

Ons leiers wat oor die vermoë beskik om op aanvalle soos dié van Jansen en Pandor te antwoord, doen dit telkens uitstekend en met waardigheid. Hulle skram nie weg van fel kritiek nie. Hulle verdedig beginsels, wys swak argumente uit en staan hulle man in die openbare debat. Maar hulle probeer dit doen sonder om die persoon aan die kant te verontmenslik of die gesprek tot ’n moddergeveg te laat ontaard.

Daarom pla dit my wanneer mense wat meen hulle verdedig dieselfde saak, met platvloerse en persoonlike uitlatings die hoë grond afbreek waarop ander met groot moeite probeer staan.

Ons kan nie met beton ’n kampus bou en met ons woorde aan die gemeenskap afbreek nie.

Beskaafd beteken nie mak nie

Ek pleit nie vir ’n slap of verskonende reaksie op kritiek nie.

Inteendeel.

Waar argumente verkeerd is, moet hulle weerlê word. Waar mense ons grondwetlike regte bevraagteken, moet ons dit ferm verdedig. Waar ons verkeerd voorgestel word, moet ons die waarheid vertel. Waar ideologiese onverdraagsaamheid sigbaar word, moet ons dit by die naam noem.

Ons mag skerp wees.

Ons mag fel wees.

Ons hoef nie toestemming te vra om wettige instellings vir ons gemeenskap te bou nie.

Maar daar is ’n wêreld se verskil tussen om ’n argument af te breek en ’n mens te verneder; tussen satire en gemeenheid; tussen moed en ’n gebrek aan selfbeheer.

Die sterkste reaksies op die afgelope week se uitsprake was juis sterk omdat dit nie nodig was om vuil te speel nie. Die beginsel is eenvoudig, ons gaan voort. Ons bou binne die Grondwet. Ons mobiliseer ons eie vermoë. Ons sluit niemand op grond van ras uit nie. Ons glo dat ’n pluralistiese Suid-Afrika ruimte behoort te hê vir ’n verskeidenheid gemeenskappe en instellings.

Dit is ’n sterk posisie.

Waarom sou ons dit met ons eie taalgebruik verswak?

Die goeie, die ware en die skone

Akademia is ’n Christelike private hoëronderwysinstelling wat hom onder meer oriënteer aan die goeie, die ware en die skone.

Daardie woorde kan nie bloot op ’n webblad of in ’n waardestelling staan nie. Dit moet uiteindelik sigbaar word in die soort mense wat ons vorm en in die manier waarop ons optree wanneer ons onder druk kom.

Die ware vra van ons om leuens, verdraaiings en swak argumente teen te staan.

Die goeie vra dat ons dit doen sonder om die menswaardigheid van ander prys te gee.

En die skone herinner ons dat daar ook iets soos waardigheid, orde en goeie maniere in die openbare lewe behoort te wees.

As ons instellings wil bou wat vir die goeie, die ware en die skone staan, kan ons nie bekostig dat ons openbare gedrag die teenoorgestelde daarvan beliggaam nie.

Ons Christelike etos maak die opdrag eerder moeiliker as makliker. Ons word nie geroep om die stryd te vermy nie. Ons word geroep om die goeie stryd te stry.

Maar dan moet ons dit ook waardig stry.

Vryheid vra selfbeheersing

Ons praat met reg oor groter onafhanklikheid vir ons gemeenskapsinstellings.

Maar onafhanklikheid vra meer as geld, grond, geboue en regulatoriese ruimte.

Dit vra mense wat die verantwoordelikheid van vryheid kan dra.

Ons kan nie na groter selfstandigheid streef en terselfdertyd slawe van ons eie woede bly nie.

Ons het dus nog baie vormingswerk om te doen. Nie net in ons skole en universiteite nie, maar ook in onsself en in ons gemeenskap. Ons moet weer leer dat impulsbeheer nie swakheid is nie. Dat goeie maniere nie oorgawe is nie. Dat respek vir ’n teenstander nie beteken dat jy met hom saamstem nie.

Dit is juis wanneer ons kwaad is dat ons karakter getoets word.

CJ Langenhoven het lank voor sosiale media reeds die gevaar van die haastige reaksie verstaan. Sy bekende raad oor die “parmantige brief” was eenvoudig: Bêre hom tot môre voordat jy hom pos.

In sy tyd moes ‘n mens nog ‘n koevert lek, ‘n seël plak en ‘n brief in ‘n posbus gooi. Vandag kan ons binne sekondes, op die hoogtepunt van ons woede, iets publiseer wat duisende mense kan bereik en wat ons later nooit behoorlik kan terugtrek nie.

Ons het Langenhoven se raad waarskynlik nou nodiger as ooit.

Die volgende keer wanneer ons woedend is oor wat iemand oor ons, Afrikaans of ons instellings sê, is dit dalk die moeite werd om eers ‘n bietjie te wag.

Ek vra dit met begrip vir die frustrasie en die gevoel van verlies wat baie mense swaar dra. Maar ons kan nie toelaat dat daardie verlies ons vorm tot iets wat ons self nie wil wees nie.

Ons het te veel werk om te doen om ons energie aan die laagtepunte van die openbare gesprek te verspil.

Daar is skole om te bou en te beskerm. Daar is universiteite om te bou. Daar is ondernemings en gemeenskapsinstellings om sterker te maak. Daar is ‘n volgende geslag om te vorm. En daar is ‘n groter onafhanklikheid vir ons gemeenskap om verantwoordelik uit te bou.

Laat ander skree as hulle wil.

Ons werk is om aan te hou bou.

En selfs wanneer ons die felste kritiek lewer, laat ons dit doen soos mense wat weet waarvoor hulle staan, waarheen hulle op pad is en watter soort gemeenskap hulle vir die volgende geslag wil nalaat.

Laat ons die goeie stryd stry – maar laat ons hom waardig stry.

Geskryf deur Henk Schalekamp, Besturende Direkteur van Kanton.

Ons bou volstoom voort aan Akademia

Die Gautengse premier Panyasa Lesufi, het met die bou van Sol-Tech se nuwe kampus in 2020 ’n venynige aanval daarop geloods. Dit het gelei tot ’n stortvloed van steun vir Sol-Tech onder Suid-Afrikaners reg oor die spektrum. Talle swart kommentators het daarop gewys dat Lesufi se aanvalle ’n deursigtige poging is om die aandag weg te lei van ANC-korrupsie en wanbestuur.

Die bou van ’n groot kampus en koshuise teen sowat R300 miljoen sonder staatsgeld, is wyd kontrasteer met die onnodige ontsmetting van leë skole teen sowat R450 miljoen met belastinggeld. Lesufi se publisiteit rondom Sol-Tech het uiteindelik die teenoorgestelde uitwerking gehad. Die hele land het kennis geneem dat die kollege onder begroting en binne die tyd gebou is, en top opleiding aanbied. Dit het tot ’n toestroming van Afrikaanse studente gelei, maar ook tot ’n toevloei van swart besoekers wat kom kyk het wat daar by Sol-Tech se suksesse te leer is, onder meer ’n paar ministers.

Dis nou weer politieke paniek in die ANC, want peilings dui daarop dat die ANC met die komende plaaslike verkiesing baie swak gaan vaar. Akademia se nuwe kampus wat nou in Pretoria gebou word, is die afgelope tyd gekritiseer deur prof. Jonathan Jansen en oudminister Naledi Pandor. Hoewel hierdie twee kommentators se anti-Afrikaanse sentimente wyd bekend is, is dit nogtans nodig om daarop te antwoord.

Die belangrikste beweegredes vir die uitbou van Akademia kan kortliks as volg saamgevat word:

Ons wil wêreldklas in Afrikaans wees

Die Solidariteit Beweging wil aan ’n omvattende kulturele ekosisteem help bou wat uiteindelik die hele pyplyn vanaf Afrikaanse kleuterskole tot beroepskolleges en ʼn universiteit met verskeie sattelietkampusse en ʼn aanlyn studiemodel insluit. Ons wil hê ons kinders en jongmense moet skole, kolleges en universiteite hê waar hulle veilig kan tuisvoel. Dis ʼn strewe na normaliteit, nie na die verlede nie. Ons Beweging begin met die bouwerk, maar Akademia is vir almal bedoel. ʼn Taal se hoër funksies is onontbeerlik om sy langtermyn-volhoubaarheid te verseker. ʼn Kultuurgemeenskap het opvoedkundige instellings nodig om sy taal en kultuur na volgende geslagte oor te dra. Daarby het skole, kolleges en universiteite ʼn opleidings- én ʼn opvoedingsrol. Terselfdertyd word leerders en studente vir ʼn meertalige werksomgewing voorberei. Dit is ʼn bekende feit dat moedertaalonderrig die beste vorm van onderrig is en dat dit studente toerus om hul kennis ten beste in ander tale te kan toepas.

Ons mag wêreldklas in Afrikaans wees

Die Grondwet bepaal in artikel 29 dat enkelmedium-opleidingsinstellings mag bestaan en dat elkeen die rég het om in enige amptelike taal opgelei te word. Dis nie ’n guns wat ons van die regering vra nie, dis ’n reg wat internasionaal erken word. Ingevolge artikel 6 van die Grondwet is Afrikaans ’n amptelike landstaal. Akademia is al 15 jaar gelede geregistreer en geakkrediteer, bied gehalte-opleiding aan en sluit geen persoon of groep uit nie. Dis oop vir enige persoon wat aan die akademiese standaarde voldoen en wat in Afrikaans wil studeer.

In 2019 het die Konstitusionele Hof by monde van hoofregter Mogoeng Mogoeng in sy uitspraak in die Stellenbosch-taalsaak, ’n beroep op die gemeenskap gedoen om self privaat onderriginstellings ter bevordering van Afrikaans en ander inheemse tale te bou. Hy het selfs ’n beroep op korporatiewe welwillendheid gedoen om hulpbronne beskikbaar te stel om te help om privaat moedertaalgebaseerde opleidingsinstellings te befonds.

Die Grondwetlike hof se versoek dat gemeenskappe self instellings moet bou en met eie kapitaal finansier om hul taal te bevorder, is dus presies wat die Solidariteit Beweging en ons vriende en vennote doen.

Die grondliggende reg van enige kultuur is die reg op voortbestaan, wat net moontlik is met outonome kulturele instellings soos skole, kolleges en universiteite.

Ons kan wêreldklas in Afrikaans wees

Solidariteit het Sol-Tech in 2006 begin en duisende studente is al by die kollege opgelei. Daar is vanjaar byna 3 000 studente in die onderskeie opleidingsfases wat opleiding in teorie, praktiese opleiding in ons werkswinkels en indiensopleiding by maatskappye behels. Die eerste R120 miljoen vir die oprigting van Sol-Tech het uit die maandelikse R10-bydraes van Solidariteit-lede gekom.

Waar daar ’n wil is, word die wil die weg! 

Akademia is in 2012 begin, het tans 4 500 studente, en gaan so vinnig van krag tot krag dat ’n reusekampus tans in Pretoria gebou word. Daar is ook reeds grond in die Paarl aangekoop met die doel om vir ons Satellietkampus daar ’n tuiste te bou.

Die Solidariteit Helpende Hand Studietrust is gestig om fondse beskikbaar te stel sodat almal wat wil moet kan leer en studeer. Die Trust word befonds deur Solidariteit-ledebydraes, skenkings, inkomste vanaf die VirSeker Trust, bydraes van die Helpende Hand se Ons Winkels-kettinggroep, en bemaking. Wêreldklasonderrig en -opleiding is geweldig duur en die bekostigbaarheid van onafhanklike instellings wat sonder staatsteun moet klaarkom bly ’n uitdaging. Ons is baie trots op ons jongmense, omdat die terugbetalingskoers van die studielenings nou op 99% te staan gekom het.

Ons kan, want ons het dit klaar bewys.

Ons kan nie alles op ons eie of net met gemeenskapsbydraes doen nie. Daarom sluit ons nou vennootskappe aan tussen kultuur en kapitaal, waar beleggers ’n markverwante opbrengs kry, en terselfdertyd ’n kulturele dividend in die vorm van topklasonderrig en -opleiding. Die doel is om uiteindelik waar prakties moontlik landswyd leefruimtes vir Afrikaans te bou.

Ons kán, want ’n Boer maak ’n plan!

Ons moet wêreldklas in Afrikaans wees

Die ANC is vyandig teenoor Afrikaanse onderwys. ’n Vyandige owerheid is nie iets nuuts in ons geskiedenis nie. Sowat 200 jaar gelede het lord Charles Somerset gedink hy draai Afrikaanse skole nek-om. ’n Eeu later was dit weer lord Milner se dagdroom. Nog ’n eeu later is dit weer “lord” Lesufi en kie se nagmerrie. Ons weet ons kan nie meer op die staat staatmaak om vir ons kinders wêreldklasonderrig en -opleiding te voorsien nie. Wêreldklasonderwys is nie ’n luukse nie, maar ’n móét. Die vraag is dus nie óf nie, maar hóé. Dit is waaraan ons werk. Ons sal nie gaan lê vir ’n regering wat nie eers ’n poskantoor kan bestuur nie.

Ons gaan wêreldklas in Afrikaans wees

Die bou van ’n kulturele infrastruktuur om saam in Afrika te kan bly, is soos iemand wat vir sy gesin ’n huis bou. Dit gaan nie oor die uitsluiting van ander of om homself af te sonder nie. Hy bou sy huis juis om saam met sy bure in ’n bepaalde woonbuurt te bly. Die gebou is net die punt van die ysberg wat bo die water uitsteek. Hierdie geboue kan net so groot en sterk wees soos die minder sigbare kulturele infrastruktuur wat al vir meer as twee dekades “onder” die water gebou word. Dit behels die totale netwerk van instellings wat strek vanaf werksgebied na burgerregte-, media-, finansiële-, kulturele- en opvoedkundige instellings tot by organisasies wat ons erfenisse bewaar.

‘n Onderwysplan is deel van die pyplyn van Afrikaanse onderrig en opleiding waaraan ons saam met vriende en vennote bou.

Ons sal self

Die Afrikaanse gemeenskap het alles in sy vermoë gedoen om Afrikaanse hoër onderwys in die openbare sektor ingevolge die grondwetlike voorsiening daarvoor te laat voortbestaan. Ná talle gesprekke, pleidooie, versoeke en selfs hofsake is die openbare sektor se deure in ons gesig toegeslaan. Ons enigste uitweg is om dit self te begin doen. Vandaar ons leuse, “Ons sal self”. Dit is nie ’n oproep vol heimwee terug na die verlede nie, maar ’n wekroep om saam ’n toekoms te bou. Ons sal self, en ons sal saam as helpmekaarbeweging. Dit gaan nie oor die herlewing van ’n uitgediende nasionalisme nie, maar oor gesonde kulturele selfvertroue, selfrespek en selfverwesenliking.

Dieselfde geld vir ons skole. Ons sal saam met die Afrikaanse skoolgemeenskap werk, praat, en veg om ons openbare skole wêreldklas te hou, maar ons sal terselfdertyd ook met planne vir onafhanklike onderwys begin – saam met ander instellings wat met ons wil saamwerk.

Toekomsbouers

Ons wil beslis nie voorgee dat ons al die antwoorde het, of dat ons alles alleen kan doen nie. Ons het mekaar nodig, en ons sal met ander rolspelers wat Afrikaanse onderrig op die hart dra saamwerk waar enigsins moontlik. Ons nooi by Kanton Eiendomme almal uit om saam Toekomsbouers te wees.

Jare gelede het mense gedink dis onnodig én onmoontlik om onafhanklike Afrikaanse onderwysinstellings te bou. Die tyd het geleer dat dit nodig én moontlik is. Suid-Afrika is ’n land waar dit wat teoreties moontlik is, in die praktyk soms onmoontlik is. Gelukkig is dit ook ’n land waar dit wat teoreties onmoontlik is, in die praktyk wel moontlik is.

Afrikaanse skat

Afrikaanse jongmense word vandag blameer vir dinge wat gebeur het voor hulle gebore is, terwyl die regering nie die verantwoordelikheid aanvaar vir wat hulle vandag doen nie. Onthou, ’n kultuur kan net voortbestaan as elke geslag vir die volgende een leef.

Die Solidariteit Beweging wil graag die tradisie van wêreldklas-Afrikaanse onderrig en opleiding op nuwe maniere voortsit. Ons wil, ons mag, ons moet, ons kan, ons gaan en ons sal dit as gemeenskap self doen.

Afrikaners het immers nie die oseane deurkruis, deur die eeue oorleef, die onbekende ingetrek, magtige moondhede op die slagveld gepak en op talle gebiede wêreldklasprestasies gelewer, omdat ons van jellie gemaak is nie. Ons is vrye burgers, nie dienswillige onderdane nie. Ons is vasbeslote om in die woorde van Van Wyk Louw, die skat van ons taal en kultuur veilig deur die skare te dra.

Die hede gaan nie weggaan nie, die verlede gaan nie terugkom nie, en die toekoms gaan nie vanself gebeur nie.

My oproep is dus: kom laat ons bou!

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

’n Teiken op die voorkop

’n Teiken op my voorkop. Dit is die reaksie van een van die prominente lede van die groepie Afrikaners wat sê Afrikaners is nie slagoffers nie.

Dit volg op my artikel in Rapport waarin ek geskryf het dat die raswal in Suid-Afrika stukkie vir stukkie afgebreek moet word, sodat die stroom van ekonomiese groei weer voluit kan vloei.

Dit is iets waarna bykans elke Suid-Afrikaner, met die uitsondering van enkele eliteplunderaars wat by die huidige stelsel baat vind, behoort te streef. Ons moet die raswette wat ons ekonomie, ons samelewing en ons mense verstik, uit die weg ruim.

Vir daardie standpunt kry ek toe ’n teiken op my voorkop.

Die teiken is nie die grootste probleem nie. Dit is wat dit simboliseer en oor die toestand van ons openbare debat sê wat my bekommer.

Dit bring die vraag oor die aard van debat in ons gemeenskap na vore.

NP van Wyk Louw het die idee van die oop gesprek verdedig. Die oop gesprek is juis nie klakkelose instemming nie. Dit is die bereidheid om mekaar se standpunte ernstig op te neem, dit krities te toets en met beter argumente te antwoord. Dit is die asem van ’n vry gemeenskap.

Geen standpunt is bo kritiek verhewe nie, maar die saak moet die kern van die kritiek wees en nie die mens nie.

Ons mag nie toelaat dat debat in Afrikaans daal tot die vlak waar iemand met ’n teiken gemerk word omdat hy ’n ander standpunt as myne huldig nie.

Dit is die logika van hierdie onverdraagsaamheid. Dit gaan nie meer oor die argument nie, maar oor die persoon. Die persoon wat verskil, word nie verkeerd verklaar nie; hy word boos verklaar.

En wanneer iemand eers as boos verklaar is, word buitengewone optrede teen hom maklik geregverdig.

Die argument hoef nie meer weerlê te word nie; die persoon moet eenvoudig stilgemaak word.

Die geskiedenis wys telkens dieselfde patroon. Geweld begin selde met geweld. Dit begin met taal. Dit begin wanneer mense as vyande, as onwaardig of as ’n gevaar uitgebeeld word.

Wanneer dit gebeur, raak die stap na intimidasie al kleiner en die stap na geweld al makliker. Ons het dit onlangs weer gesien met die sluipmoord op Charlie Kirk.

Daarom moet ons waaksaam wees wanneer die eerste tekens van ontmensliking hul verskyning maak. Al is dit klein. Al is dit ’n teiken of kruis op ’n voorkop.

Beskaafde gemeenskappe wag nie vir geweld voordat hulle optree nie. Hulle keer die denkpatrone en die taal wat geweld voorafgaan.

Nog ’n bekende in dieselfde groep beskryf Solidariteit se ondersteuners as “halfgeletterde, fascistiese agterryers en ploerte”. Hy ken nie eens ons lede nie, maar verklaar hulle kollektief as minderwaardig en bykans boos.

Ek ken hulle.

Ek ken die ambagsman wat elke dag voor sonop opstaan. Ek ken die verpleegster wat nagdiens werk. Ek ken die onderwyser, die ingenieur, die polisielid, die entrepreneur en die jong student wat net ’n regverdige kans wil hê.

Hulle is ordentlike mense wat onder moeilike omstandighede hard werk om vir hul gesinne te sorg. Hulle leef in ’n rasbedeling wat hulle daagliks benadeel, en hulle vra bloot dat meriete weer moet tel.

Ek ken ook die persoon wat dit oor ons lede geskryf het. Ek het groot respek vir sy werk. Ons moenie die gesprek beëindig nie, maar beskerm.

Ons mag verskil, en ons móét verskil. Die oop gesprek is nie ’n luukse nie; dit is een van die grondbeginsels van ’n beskaafde gemeenskap. Dit moet robuus wees. Ons mag mekaar se argumente uitdaag.

Maar ’n onderliggende geweldsdreigement, of die simboliek daarvan, mag nooit deel van daardie gesprek word nie.

Nadat die teiken geplaas is, het ander lede van die “verligtes” ingetree. Hulle verweer was dat dit nie ’n teiken is nie, maar bloot ’n teken dat ek “gecancel” moet word.

Wat ’n vreemde verweer.

Met daardie verweer word die probleem nie opgelos nie; dit word bloot herformuleer.

Die uitgangspunt van die oop gesprek is dat verkeerde idees met beter idees vervang word. Die uitgangspunt van die kansellasiekultuur (cancel culture) is dat mense met verkeerde idees verwyder moet word. Dit gaan nie meer daaroor om iemand te oortuig nie, maar om sy stem te laat verdwyn.

Om iemand te “cancel” is dikwels ’n erkenning dat jy opgehou het om hom met argumente te probeer oortuig. Jou argumente het op geraak.

’n Boendoehof merk eers iemand. Daarna daal die skare op hom neer. Die primitiewe instink vervang die reg. Die massa vervang die argument.

In die oop gesprek is daar plek vir twee mense wat diep verskil. In die kansellasiekultuur is daar uiteindelik net plek vir een. Dit is óf ek óf jy. Nie ons albei nie.

En dit is waarom die kansellasiekultuur die einde van die oop gesprek is. Dit is nie ’n alternatief vir debat nie. Dit is die ontkenning daarvan.

Hierdie waarskuwing geld natuurlik ook vir my en vir elkeen van ons.

Ons moet almal gereeld in die spieël kyk. Ons moet waak dat ons nie self in onverdraagsaamheid verval nie. Ons moet praat, debatteer, verskil en selfs kwaad wees. Maar ons moet swak idees met beter idees beantwoord. Ons moenie mense verneder, etiketteer of ontmens nie. As ons die oop gesprek wil beskerm, moet ons dit ook self beoefen.

Die Solidariteit-lede het nie iemand “gecancel” nie. Hulle het gekies.

Sowat 600 000 mense het die Solidariteit Beweging gekies. Hulle het gekies om te bou, te beskerm en te veg. Hulle kies om te bly, maar nie om stil te bly nie.

Die Betereinders, waarvan sommige ook deel is van hierdie groep “verligtes”, se eie navorsing het gewys dat meer as 80% van Afrikaners meen die groter Solidariteit Beweging doen goeie werk. ’n Groot groep is neutraal, en slegs ongeveer 2% verskil sterk met ons.

Daardie 2% het elke reg om met ons te verskil. Die oop gesprek vereis juis dat hulle dit doen.

Maar hulle behoort nie te probeer om die res te “cancel” omdat hulle anders gekies het nie. 2% kan nie besluit dat die ander se stem nie meer gehoor mag word nie.

Wanneer mense herhaaldelik deur die argument verloor, ontstaan die versoeking om die teenstander eerder stil te maak. Dit is ’n gevaarlike vorm van geweld.

Intussen gaan ons voort.

Ons bou verder. Ons beskerm ons lede in die werkplek. Ons veg vir ’n land waar mense op meriete beoordeel word. Ons kap daardie raswal stukkie vir stukkie af totdat dit breek.

En ons sal aanhou om dit te doen. Nie deur ander stil te maak nie, maar deur die oop gesprek te verdedig. Juis omdat ’n vry gemeenskap dit werd is.

Media moet waghonde wees, nie bloedhonde of skoothondjies

“Daar is drie soorte honde,” het korporaal Strauss vir ons gesê gedurende my dienspligtyd by die hondeskool: “Waghonde, bloedhonde en skoothonde.” Die News24-redakteur se jarelange vete teen die Solidariteit Beweging het my die afgelope tyd weer aan my ou korporaal se woorde herinner. Die media speel ʼn belangrike waghondrol in die samelewing. Hulle doel is nie om enigiemand se bloedhonde of skoothonde te wees nie, maar om as waghonde oor die belange van die publiek te dien.

Ons ervaring oor baie jare is ongelukkig dat Adriaan Basson, sedert sy dae toe hy as Beeld se redakteur die Puk op Potchefstroom as ʼn Nazi-nes probeer swartsmeer het, meer soos ʼn bloedhond as ʼn waghond teen Afrikaans optree. Daarteenoor gedra hy homself soos ʼn skoothondjie van die ANC. Ons waarskuwing dat sy sogenaamde “Nazi”-beriggewing ʼn stok in die hande van radikale politici sou plaas wat uiteindelik die PUK en Beeld sou benadeel, is ongelukkig bewaarheid. Basson se stories het gerespekteerde akademici se loopbane groot skade berokken, talle onskuldige studente beswadder en die reputasie van ʼn top-universiteit deur die modder gesleep.

ANC-skoothondjie

Basson kon dit nie verdra dat ons die PUK-studente en leiers se kant gekies het teen sy boeliegedrag nie, en dat hy daarna by Beeld uitgeskuif is nie. Hy het toe gereeld sy platform by News24 begin gebruik om meer soos ʼn aktivis as ʼn joernalis op te tree, oftewel meer soos ʼn bloedhond as ʼn waghond. Sy (soms) vurige kritiek op korrupsie deur sekere ANC-leiers is afgewissel met sonskyn-berigte oor ander ANC-leiers. Sy selfopgelegde rol is egter dié van ʼn skoothondjie as dit by onderliggende ANC-beleid kom. Die grondslae van die ANC se revolusionêre radikale transformasiebeleid wat die land en sy mense al soveel skade berokken het, kom nooit uit sy pen onder skoot nie. Inteendeel, hy doen sy bes om hierdie beleid te verdedig en aan sy lesers te verduidelik en te vertolk. Die staatsideologie wat die ANC se wanbestuur en staatsverval help veroorsaak, word nie gekritiseer nie. In plaas daarvan word diegene wat, soos ons Beweging, die ANC se totalitêre sosiale ingenieurswese teenstaan in belang van vryheid en demokrasie, in talle artikels gedemoniseer, beledig en belaster.

VSA-verhoudinge

News24 se histerie teen ons het ʼn hoogtepunt (of laagtepunt?) bereik toe ons ons toegang tot die Trump-administrasie gebruik het om met die Amerikaners te onderhandel oor knelpunte soos Agoa en tariewe. Ons het dit nodig geag weens die ANC se bepalende rol in die verswakking van die verhoudinge tussen die twee lande. Dit is so dat ons ook die ANC se verbreking van die 1994-ooreenkoms op die tafel geplaas het met die versoek dat die Amerikaners, soos vóór 1994, intree om menseregte te beskerm. Ons het nie met die VSA gepraat omdat ons met alles wat hulle sê en doen saamstem nie, maar omdat hulle die regering van ʼn supermoondheid is wat baie vir (en teen) die land kan doen as gevolg van die ANC. Ons moes vir die Amerikaners sê: “Ons is nie almal so (ANC) nie” – anders sou daar dalk veel sterker optrede gewees het wat nóg duisende se lewensbrood kon bedreig.

“Disinformasie”

Basson en kie het toe losgetrek met beskuldigings van “disinformasie” oor “genocide” en groot ruimte afgestaan aan onbekwame en korrupte politici wat ons van “hoogverraad” en onpatriotiese gedrag beskuldig het. Die Persombudsman het by talle geleenthede teen hulle beslis, waarna hulle verskonings moes publiseer, wat Basson waarskynlik net meer haatlik gemaak het.

Visvangekspedisie

Dit het hom sekerlik aangespoor om AfriForum se finansiële state by die Registrateur te bekom, waarna ons met honderde vrae gepeper is in ʼn soort “visvangekspedisie” wat bedoel was om êrens fout te vind. Verskeie berigte het hieruit voortgespruit, deurspek met halwe waarhede, blatante leuns en verdraaide inligting. Meer bloedhond as waghond. Wat hulle waarskynlik die kwaadste maak, is dat hulle geen korrupsie of wanbestuur kon opspoor nie. Terselfdertyd wou hulle nie Kallie Kriel se teenvrae oor hul beheermaatskappy se skenkings aan die ANC beantwoord nie, of verduidelik waarom News24 al vir jare nie hul eie finansiële state publiseer nie.

Fopnuus

Sekere joernaliste kla die afgelope paar jaar breedvoerig oor “fopnuus” op sosiale media, terwyl hulle hul politieke teenstanders daarvan beskuldig dat hulle sogenaamde “post-waarheid” leuens versprei. Ek weet dat daar baie nonsens en vals nuus op sosiale media verskyn. Tog is die gevaarlikste vals nuus nie die ongeloofwaardige liegstories wat op ooglopend amateuragtige sosialemediablaaie verskyn nie. Die ergste fopnuus is die leuens, halwe waarhede en eensydige beriggewing wat in sommige hoofstroommedia met histories geloofwaardige titels verskyn. Dít is onderliggend aan die groeiende wantroue in die tradisionele media. In die VSA het hierdie vertroue volgens Gallup teen 2025 tot slegs 28% gedaal, terwyl in Suid-Afrika minder as die helfte van die bevolking nog die media vertrou.

Die media speel ʼn uiters belangrike waghondrol in die land en het die afgelope jare ʼn reusebydrae gelewer tot die blootlegging van korrupsie en wanbestuur. Daarom is dit belangrik dat joernaliste hul waghondrol verstaan en besef dat hul geloofwaardigheid hul belangrikste bate is wat ten alle tye beskerm moet word. Die media het dus ʼn kritieke verantwoordelikheid om altyd professioneel op te tree en nie toe te laat dat hulle aktivisme onder die dekmantel van joernalisme nastreef nie. Anders gestel, joernaliste moet waghonde bly en nie bytende bloedhonde of lekkende skoothondjies word nie.

 

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Afrikaners, slagoffers en slagoffermentaliteit

ʼn Groepie van sowat 40 Afrikaners het onlangs die Amerikaanse ambassadeur, Brent Bozell, vir ʼn ontmoeting genader. Hulle sentrale boodskap was: Afrikaners is nie slagoffers nie.

Afrikaners ís egter slagoffers, maar hulle het nie ʼn slagoffermentaliteit nie. ʼn Slagoffer is iemand aan wie onreg aangedoen is. ʼn Slagoffermentaliteit is iets anders. Dit ontstaan wanneer iemand sy identiteit met sy slagofferskap begin vereenselwig.

ʼn Slagoffer sê: “Onreg is aan my gedoen.” Iemand met ʼn slagoffermentaliteit sê: “Omdat onreg aan my gedoen is, kan ek nie verantwoordelikheid vir my toekoms neem nie.”

Om onreg te ontken, is gevaarlik. Wanneer dit gebeur, word onreg genormaliseer, optrede daarteen geneutraliseer en mense begin magteloos voel en raak uiteindelik vervreemd. Dit lei tot verwydering, polarisasie en onttrekking.

Dit is ook gevaarlik om onreg te relativeer. Om byvoorbeeld te sê dat iemand anders se onreg groter is en dat jou onreg daarom minderwaardig is, lei bloot tot die voortsetting van onreg.

Onreg moet konkreet en genuanseerd erken word voordat dit behoorlik hanteer kan word.

Die groepie argumenteer dat almal in Suid-Afrika onreg beleef en dat Afrikaners daarom nie die onreg teenoor hulle mag uitlig nie. Onreg teenoor Afrikaners word dan deel van ʼn groter pot van onreg, maar die spesifieke aard daarvan verdwyn eenvoudig in die groot kookpot.

Dit is natuurlik waar dat daar meerdere vorme van onreg bestaan en dat Afrikaners nie die enigstes is wat onreg beleef nie. Inteendeel, gewone arm swart Suid-Afrikaners ervaar die onreg van staatsverval en raswette dikwels op ʼn baie akute wyse.

Erkenning van een vorm van onreg is egter nie die ontkenning van ʼn ander nie. Onreg teenoor Afrikaners mag en moet dus erken word.

Raswette diskrimineer direk teen Afrikaners. Hierdie wette definieer mense aan die hand van hoe hulle lyk en wie hulle is, eerder as wat hulle kan doen. Raswette is onreg.

Die manier waarop Afrikaanse instellings soos kolleges, universiteite en skole aangeval word, is eweneens onreg. Die slag by kolleges is reeds gelewer, die slag by universiteite is byna voltooi, en die Bela-kanon is nou op skole gerig.

Voeg daarby die histeriese aanvalle op alles wat Afrikaans is deur die Lesufi’s en kie. Mense voel naderhand nie meer tuis in hul eie land nie.

Natuurlik raak misdaad almal. Dit ruk handuit. Misdaad in “townships” ontwrig mense se lewens daagliks. Dit alles is ernstige onreg.

Plaasaanvalle vorm egter, te midde van die algemene misdaadkrisis, ʼn besondere soort onreg. Dit is buitengewoon wreed en die voorkoms daarvan is ontstellend hoog. Om daarop te fokus, ontken nie ander vorme van onreg nie; dit plaas bloot die kollig op hierdie spesifieke onreg.

Boonop is dit die enigste vorm van misdaad wat deur politieke leiers besing word met die woorde: “Kill the Boer, the farmer”.

Afrikaners is ook, saam met alle ander Suid-Afrikaners, slagoffers van die land se algemene verval. Daar bestaan nie iets soos Afrikaner-slaggate, Afrikaner-kragonderbrekings of Afrikaner-waterlekke nie. Hierdie probleme raak almal. Hulle moet deur almal erken en deur almal aangepak word.

Daar is egter ook spesifieke kwessies wat Afrikaners en Afrikaans raak. Die Solidariteit Beweging, waarvan Solidariteit en AfriForum deel vorm, fokus op sy lede en ondersteuners. Ons lede en ondersteuners kom hoofsaaklik uit die Afrikaanse en Afrikanergemeenskap.

Daarom is ons doel om vir daardie gemeenskap ʼn toekoms te help bou waarin hulle vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Die Solidariteit Beweging gee egter nie voor dat ons alle Afrikaners of alle Afrikaanssprekendes verteenwoordig nie, nog minder alle Suid-Afrikaners. Ons fokus is ons lede en ondersteuners. Dit sou arrogant, en selfs paternalisties, wees om namens almal te probeer optree.

Ander gemeenskappe moet hul eie onreg identifiseer en aanspreek. Waar ons kan saamwerk, sal ons dit doen. Ons het egter ʼn plig om die onreg teenoor ons lede uit te lig en aan te spreek. Niemand kan ons daarvoor kwalik neem nie.

Dit strek dikwels ook tot voordeel van die breër gemeenskap. Akademia en Sol-Tech is byvoorbeeld bates uit die Solidariteit Beweging, vir die Afrikaanse gemeenskap, maar hul waarde strek veel verder. AfriForum se veiligheidsinisiatiewe en werk aan munisipale dienste bevoordeel eweneens baie mense buite ons eie ondersteuningsbasis.

Dit bring my terug by die begrip slagoffermentaliteit.

Afrikaners het oor die algemeen nie ʼn slagoffermentaliteit nie en die Solidariteit Beweging beslis nie. Al is daar onreg, klim ons in en doen dinge self. Die erkenning en verstaan van onreg is juis die voorwaarde om dit aan te spreek.

Daarom is “Ons sal self” die leuse waarop ons Beweging gebou is. Ons help mense om werk te kry, bou opleidingsinstellings, gee studiehulp, ondersteun skole, verbeter veiligheid, help met munisipale dienste, beveg onreg binne die grondwetlike raamwerk en doen nog baie meer.

Ons erken onreg. Ons beveg onreg. Maar ons bou ook verder aan ons toekoms. Ons sal self.

 

Geskryf deur Dirk Hermann, bestuurshoof by Solidariteit.

Gewone lede se Dawid-klippies bou Solidariteit – en húlle is ons baas.

Sowat 20 jaar gelede is die musiekblyspel Ons vir Jou in die Staatsteater opgevoer. Solidariteit was ’n bemarkingsvennoot en ons hele hoofraad het dit bygewoon. Een van die aangrypendste liedjies in die opvoering beskryf hoe Dawid met sy klippies teen Goliat opgestaan het: “Laat Goliat kom, die Dawid binne my is reg vir hom.”

Die volgende dag het Solidariteit se hoofraadsvergadering plaasgevind. Die raad bestaan uit verkose verteenwoordigers uit verskillende bedrywe en werkplekke – gewone mense wat elke dag werk.

Daardie dag is daar besluit om ’n mandaat by lede te kry om elke maand R10 se ledegeld van elke lid te gebruik vir bouprojekte. Kollega Henk Schalekamp het dit treffend gestel: “Dit is ons Dawid-klippies vir die byna ondenkbare taak wat voorlê.” Daardie tien rande het eers gehelp om Sol-Tech te bou en daarna Akademia.

Ons Dawid-klippies is nie die tien rande self nie, maar eerder elkeen van ons lede wat dit gee. Hul voete is stewig op die grond. Hulle verstaan die werklikheid. Hulle maak ons sterk. Solidariteit is ’n organisasie van gewone werkende mense, van wie ons ons mandate kry en aan wie ons deeglik verslag doen.

Tog bly dieselfde handjievol professore, kenners en kommentators Solidariteit en die groter Solidariteit Beweging “ontleed”. Verlede week is in Rapport selfs gevra of ons demokraties en deursigtig is. Ek weet nie of dit onkunde, moedswilligheid of ‘n kombinasie is nie, maar dit mis elke keer die kol.

Solidariteit se hoogste gesag is die nasionale raad, wat jaarliks deur lede verkies word. Dié raad keur die jaarstate goed en aanvaar mosies wat die organisasie se agenda bepaal. Die bestuur van Solidariteit doen aan hierdie raad verslag.

Uit die nasionale raad word die hoofraad verkies. Dit is die hoogste gesag tussen kongresse en vergader maandeliks. Hulle ontvang maandelikse verslae, hanteer finansiële state en gee of bevestig mandate.

Die hoofraad het ‘n ouditkomitee met ‘n eksterne lid. Solidariteit se finansies word jaarliks deur ‘n onafhanklike ouditeur geoudit – nog nooit is ‘n gekwalifiseerde oudit uitgereik nie.

Elke maand en elke jaar het die verkose verteenwoordigers van ons lede volle insae in ons werksaamhede en finansies. Benewens die nasionale strukture het elke bedryf sy eie bedryfsraad en elke beroepsnetwerk sy eie adviesraad. Ons het honderde verteenwoordigers en adviesraadslede. Elke vyf jaar vind verkiesings vir al die verkose strukture plaas.

Dit is ‘n hoogs demokratiese en deursigtige organisasie. Solidariteit se wegholsukses, soos prof. Pieter Duvenage dit noem, is juis danksy ons interne demokratiese karakter, want dit hou ons in voeling met ons lede en ons gemeenskap.

Solidariteit tree nie namens alle Afrikaners of alle Suid-Afrikaners op nie – ons tree op namens ons lede. Dit is húlle wat ons verantwoordbaar hou, mandate gee en aan wie ons verslag doen.

Tog strek ons aksies dikwels veel wyer, tot voordeel van die groter Afrikaanse en Suid-Afrikaanse gemeenskap.

Dit is in Solidariteit se raadsale dat besluit is om Sol-Tech en Akademia aanvanklik met daardie R10 per maand van lede te bou. Vandag is dit selfstandige instellings tot voordeel van die hele Afrikaanse gemeenskap, as deel van die groter Solidariteit Beweging.

Dieselfde geld wanneer AfriForum slaggate regmaak. AfriForum doen dit nie net vir sy lede nie, maar vir almal in die woongebiede waar sy takke bedrywig is.

Deur hierdie netwerk van verkose strukture word die werklikheid van ons lede direk aan voltydse amptenare soos ek deurgegee. Ons is bloot in diens van hulle. Dit is by hulle wat ons hoor wat gebeur wanneer produkte weens vervalle spoorlyne nie by die hawens kom nie. Dit is hulle wat vertel wat met smelters gebeur wanneer die krag onderbreek word en wanneer elektrisiteitspryse handuit ruk. Dit is hulle wat die prys sal betaal as Suid-Afrika se deelname aan die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) beëindig moet word.

Hulle is die eerstes wat korttyd weens skroottekorte moet werk, wat met afleggings gedreig word, wat die druk in sentraliserende skole voel en wat jaar ná jaar in rasverslae as “oorverteenwoordig” gebrandmerk word. Hulle staan aan die voorste linie van die werkstryd. Hulle is hoogs ingelig. En dit is húlle wat besluit het dat Solidariteit moet bou.

Hulle het die bydraes van R10 per lid per maand goedgekeur. Hulle het Helpende Hand, Sol-Tech, Akademia, Bo-Karoo Opleiding en talle ander nuwe instellings en inisiatiewe in ons beweging goedgekeur. Hulle is die werklike helde van ons tyd.

Dit staan in skrille kontras met die enkele kommentators wat die krag van hierdie gewone mense onderskat omdat hulle dit eenvoudig nie verstaan nie.

Sedert 2001 het Solidariteit gehelp om talle instellings te vestig: Sol-Tech, Akademia, Kanton, AfriForum, Solidariteit Helpende Hand, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, Maroela Media, Bo-Karoo Opleiding en die Orania Ontwikkelingsmaatskappy om slegs enkeles te noem.

Al hierdie instellings vorm die groter Solidariteit Beweging. Ons wou hulle nie sentraal beheer nie. Binne die federale gees van die beweging is hulle selfstandig, maar deel van ‘n groter geheel.

Geen instelling behoort aan Solidariteit nie. Ledeorganisasies behoort aan hul lede en opleidingsinstellings is maatskappye sonder winsoogmerk, gedryf deur hul missies. Hulle het hul eie direksies, mandate en verslagdoening.

Ledeinstellings soos AfriForum en Solidariteit word maandeliks deur hul lede getoets. Lede kan bloot ophou betaal as hulle ontevrede is. Opleidingsinstellings word getoets deur studente-inskrywings en Helpende Hand deur tienduisende donateurs. Die 600 000 gesinne wat aan die beweging deelneem, is waarskynlik die grootste demokratiese toets.

Al die instellings word onafhanklik geoudit. Sedert die beweging se ontstaan het nie een ’n gekwalifiseerde oudit ontvang nie. Goeie korporatiewe bestuur en organisatoriese uitnemendheid is vir ons ononderhandelbaar.

Solidariteit is vanjaar 124 jaar oud. Ons was nog altyd gewone mense wat onder moeilike omstandighede planne maak vir die toekoms. Vandag is ons ‘n baie groter beweging in diens van gewone mense. Mense wat nie wag vir beter tye nie, maar dit self help skep.

Elke lid van Solidariteit is ‘n Dawid-klippie. Groot uitdagings maak ons nie bang nie.

“Laat Goliat kom, die Dawid binne my is reg vir hom.”

Geskryf deur dr. Dirk Hermann, bestuurshof van Solidariteit.

Volhoubare Afrikaanse onderwys vir die volgende geslag

Die Solidariteit Beweging het tydens die Onderwys Toekomsberaad ʼn omvattende plan vir volhoubare Afrikaanse onderwys bekendgestel. Hierdie plan gaan saam met ander rolspelers en vennote uitgevoer word.

Die belangrikste beweegredes vir hierdie plan is soos volg:

Ons wil wêreldklas in Afrikaans wees

Die Solidariteit Beweging wil aan ‘n omvattende kulturele ekosisteem help bou wat uiteindelik die hele pyplyn vanaf Afrikaanse Kleuterskole tot Beroepskolleges en ‘n universiteit met verskeie Sattelietkampusse en ‘n aanlyn studiemodel insluit. Ons wil hê ons kinders en jongmense moet skole, kolleges en universiteite hê waar hulle veilig kan tuisvoel. Dis ‘n strewe na normaliteit, nie na die verlede nie. ʼn Taal se hoër funksies is onontbeerlik om sy langtermyn-volhoubaarheid te verseker. ʼn Kultuurgemeenskap het opvoedkundige instellings nodig om sy taal en kultuur na volgende geslagte oor te dra. Daarby het skole, kolleges en universiteite ʼn opleidings- én ʼn opvoedingsrol. Terselfdertyd word leerders en studente vir ʼn meertalige werksomgewing voorberei. Dit is ʼn bekende feit dat moedertaalonderrig die beste vorm van onderrig is en dat dit studente toerus om hul kennis in ander tale te kan toepas.

Ons mag wêreldklas in Afrikaans wees

Die Grondwet bepaal in artikel 29 dat enkelmedium-opleidingsinstellings mág bestaan en dat elkeen die rég het om in enige amptelike taal opgelei te word. Dis nie ‘n guns wat ons van die regering vra nie, dis ‘n reg wat internasionaal erken word. Ingevolge artikel 6 van die Grondwet is Afrikaans ʼn amptelike landstaal. Ons hoër onderrig instellings soos Sol-Tech en Akademia is al jare lank geregistreer en geakkrediteer, bied gehalte-opleiding aan en sluit geen persoon of groep uit nie. Dis oop vir enige persoon wat aan die akademiese standaarde voldoen en wat in Afrikaans wil studeer.

In 2019 het die Konstitusionele Hof by monde van hoofregter Mogoeng Mogoeng in sy uitspraak in die Stellenbosch-taalsaak, ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om self privaat onderriginstellings ter bevordering van Afrikaans en ander inheemse tale te bou. Regter Mogoeng het selfs ʼn beroep op korporatiewe welwillendheid gedoen om hulpbronne beskikbaar te stel om te help om privaat moedertaalgebaseerde opleidingsinstellings te befonds.

Die Grondwetlike hof se versoek dat gemeenskappe self instellings moet bou en met eie kapitaal finansier om hul taal te bevorder, is dus presies wat die Solidariteit Beweging en ons vriende en vennote doen.

Die grondliggende reg van enige kultuur is die reg op voortbestaan, wat net moontlik is met outonome kulturele instellings soos skole, kolleges en universiteite.

Ons kan wêreldklas in Afrikaans wees

Solidariteit het Sol-Tech in 2006 begin en duisende studente is al by die kollege opgelei. Daar is vanjaar byna 3000 studente in die onderskeie opleidingsfases wat opleiding in teorie, praktiese opleiding in ons werkswinkels en indiensopleiding by maatskappye behels. Die eerste R120 miljoen vir die oprigting van Sol-Tech het uit die maandelikse R10-bydraes van Solidariteit-lede gekom. Waar daar ‘n wil is, word die wil die weg!

Akademia is in 2012 begin en gaan so vinnig van krag tot krag dat ‘n reuse kampus tans in Pretoria gebou word, terwyl daar ook grond in die Paarl aangekoop is met planne om vir ons Satellietkampus daar ‘n tuiste te bou.

Die Solidariteit Helpende hand Studietrust se doel is om fondse beskikbaar te stel sodat almal wat wil moet kan leer en studeer. Die Trust word befonds deur Solidariteit ledebydraes, skenkings, inkomste vanaf die Virseker Trust, bydraes van die Helpende hand se Ons Winkels ketting groep, en bemakings. Wêreldklas onderrig en opleiding is geweldig duur en die bekostigbaarheid van onafhanklike instellings wat sonder staatsteun moet klaarkom bly ‘n uitdaging. Ons is baie  trots op ons jongmense, omdat die terugbetalingskoers van die studielenings nou op 99% te staan gekom het.

Ons kan, want ons het dit klaar bewys.

Ons kan nie alles op ons eie of net met gemeenskapbydraes doen nie. Daarom sluit ons nou vennootskappe aan tussen kultuur en kapitaal, waar beleggers ‘n markverwante opbrengs kry, en terselfdertyd ‘n kulturele dividend in die vorm van topklas onderrig en opleiding. Die doel is om uiteindelik waar prakties moontlik landswyd leefruimtes vir Afrikaans te bou.

Ek sê weer- ons kán, want ‘n Boer maak ‘n plan!

Ons moet wêreldklas in Afrikaans wees 

Dis algemene kennis dat die ANC vyandig teenoor Afrikaanse onderwys is. ‘n Vyandige owerheid is nie iets nuuts in ons geskiedenis nie. Sowat 200 jaar gelede het Lord Charles Somerset gedink hy draai Afrikaanse skole nek-om. ‘n Eeu later was dit weer Lord Milner se dagdroom. Nog ‘n ‘n eeu later is dit weer Lord Lesufi en kie se nagmerrie. Ons weet ons kan nie meer op die staat staatmaak om vir ons kinders wêreldklas onderrig en opleiding te voorsien nie. Wêreldklas onderwys is nie ‘n luukse nie, maar ‘n moét. Die vraag is dus nie óf nie, maar hoé. Dit is waaraan ons werk. Ons sal nie gaan lê voor ‘n regering wat nie eers ‘n Poskantoor kan bestuur nie.

Ons gaan wêreldklas in Afrikaans wees 

Die Solidariteit Beweging is besig om aan die kulturele infrastruktuur te bou om saam in Afrika te kan bly. Iemand wat ʼn huis bou, probeer nie ander uitsluit of homself afsonder deur die huis te bou nie. Hy bou sy huis juis om saam met sy bure in ʼn bepaalde woonbuurt te bly. Die gebou is net eie punt van die Ysberg wat bo die water uitsteek. Hierdie geboue kan net so groot en sterk wees soos die minder sigbare kulturele infrastruktuur wat al vir meer as twee dekades “onder’ die water gebou word. Dit behels die totale netwerk van instellings wat strek vanaf werksgebied na burgerregte-, media-, finansiële-, kulturele- en opvoedkundige instellings tot by organisasies wat ons erfenisse bewaar.

‘n Onderwysplan is deel van die pyplyn van Afrikaanse onderrig en opleiding waaraan ons saam met vriende en vennote bou.

Ons sal self

Die Afrikaanse gemeenskap het alles in sy vermoë gedoen om Afrikaanse hoër onderwys in die openbare sektor ingevolge die grondwetlike voorsiening daarvoor te laat voortbestaan. Ná talle gesprekke, pleidooie, versoeke en selfs hofsake is die openbare sektor se deure in ons gesig toegeslaan. Ons enigste uitweg is om dit self te begin doen. Vandaar ons leuse, “Ons sal self”. Dit is nie ‘n oproep vol heimweë terug na die verlede nie, maar ‘n wekroep om saam ‘n toekoms te bou.

Ons sal self, en ons sal saam as ‘n helpmekaarbeweging. Dit gaan nie oor die herlewing van ‘n uitgediende nasionalisme nie, maar oor gesonde kulturele selfvertroue, -selfrespek en selfverwesenliking.

Dieselfde geld vir ons skole. Ons sal saam met die Afrikaanse skoolgemeenskap werk, praat, en veg om ons openbare skole wêreldklas te hou, maar ons sal terselfdertyd ook met planne vir onafhanklike onderwys begin – saam met ander instellings wat met ons wil saamwerk.

Toekomsbouers

Ons wil beslis nie voorgee dat ons al die antwoorde het, of dat ons alles alleen kan doen nie. Ons het mekaar nodig, en ons sal met ander rolspelers wat Afrikaanse onderrig op die hart dra saamwerk waar enigsins moontlik. Ons nooi by Kanton Eiendomme almal uit om saam Toekomsbouers te wees.

Jare gelede het mense gedink dis onnodig én onmoontlik om onafhanklike Afrikaanse onderwysinstellings te bou. Die tyd het geleer dat dit nodig én moontlik is. Suid-Afrika is ‘n land waar dit wat teoreties moontlik is, in die praktyk soms onmoontlik is. Gelukkig is dit ook ‘n land waar dit wat teoreties onmoontlik is, in die praktyk wel moontlik is.

Afrikaanse skat

Afrikaanse jongmense word vandag blameer vir dinge wat gebeur het voor hulle gebore is, terwyl die regering nie die verantwoordelikheid aanvaar vir wat hulle vandag doen nie. Onthou, ‘n Kultuur kan net voortbestaan as elke geslag vir die volgende een leef.

Die Solidariteit Beweging wil graag die tradisie van wêreldklas- Afrikaanse onderrig en opleiding op nuwe maniere voortsit. Ons wil, ons mag, ons moet, ons kan, ons gaan en ons sal dit as gemeenskap self doen.

Afrikaners het immers nie die oseane deurkruis, deur die eeue oorleef, die onbekende ingetrek, magtige moondhede op die slagveld gepak en op talle gebiede wêreldklasprestasies opgelewer, omdat ons van jellie gemaak is nie. Ons is vrye burgers, nie dienswillige onderdane nie. Ons is vasbeslote om in die woorde van Van Wyk Louw, die skat van ons taal en kultuur veilig deur die skare te dra.

Die hede gaan nie weggaan nie, die verlede gaan nie terugkom nie, en die toekoms gaan nie vanself gebeur nie. My oproep is dus: kom laat ons bou!

 

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Só lyk plan om Afrikaanse onderwys te versterk

Die Solidariteit Beweging het Dinsdag ’n omvattende plan vir volhoubare Afrikaanse onderwys bekend gestel, met die doel om ’n geïntegreerde ondersteuningsnetwerk vir die hele Afrikaanse skoolgemeenskap te skep.

Die plan word saam met verskeie vennote in die onderwyssektor uitgerol en fokus daarop om skole, onderwysers, skoolbestuur, beheerliggame, ouers, leerders en gemeenskappe toe te rus om die toenemende uitdagings in die onderwysomgewing die hoof te bied.

Die Solidariteit Beweging het dié plan tydens die toekomsberaad bekend gestel, waar sowat 800 onderwysers en leiers uit die skoolgemeenskap byeengekom het. Die driedaagse kongres fokus op die uitdagings waarmee Afrikaanse onderrig tans te kampe het, asook op praktiese strategieë om ’n volhoubare toekoms vir Afrikaanse onderwys te verseker.

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, sê Afrikaanse skole verkeer toenemend onder druk en die sentralisering van skole vind al hoe meer plaas.

“Die staat wil 100% sê wat ons moet doen,” sê Hermann. Hy sê egter die plan wat Dinsdag bekend gestel is en die wil van ʼn gemeenskap, vorm die hart van goeie onderrig.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, rus die toekoms van Afrikaanse onderwys op gemeenskappe wat bereid is om self verantwoordelikheid daarvoor te neem.

“Die toekoms van Afrikaanse onderwys behoort aan ’n gemeenskap wat bereid is om daarvoor verantwoordelikheid te neem. By die Solidariteit Beweging glo ons dat ons nie net die reg het om daardie toekoms te help bou nie, maar ook die plig,” sê Buys.

Hy sê dat die beweging saam met sy vennote en Afrikaanse skoolgemeenskappe wil werk om ’n volhoubare toekoms vir Afrikaanse onderwys te verseker.

“Die staat bedreig ʼn goeie Afrikaanse ekostelsel en ons moet begin anders dink oor die volgende jare wat kom,” sê Hermann.

Die nuwe aanbod bring die Solidariteit Beweging se instellings, kundigheid en bestaande ondersteuningsnetwerke in een geïntegreerde model saam, sê Buys.

Die plan behels dat die Solidariteit Beweging sy onderwysaanbod só verpak dat die ideaal van volhoubare gehalte-onderwys in Afrikaans, saam met die breë skoolgemeenskap, bereik kan word.

Werner Human, bedryfshoof van die beweging, sê die model onderskei hom van tradisionele dienslewering omdat dit ’n deelnemende benadering volg waarin die hele skoolgemeenskap betrek word.

“Skole staan vandag voor veel groter uitdagings as net akademiese prestasie. Hierdie aanbod skep ’n ondersteuningsnetwerk wat skole versterk sodat hulle op hul belangrikste taak kan fokus: om kinders vir die toekoms toe te rus,” sê Human.

Volgens Human is die doel nie om skole se rol oor te neem nie, maar om hul kapasiteit te versterk en uit te bou.

Hy sê die beweging wil meer doen as om bloot as ’n diensverskaffer op te tree en fokus eerder daarop om ’n breër onderwys-ekostelsel te help vestig wat skole in staat stel om volhoubaar en uitnemend te funksioneer.

Die Solidariteit Beweging beskou die plan as ’n langtermynbelegging in Afrikaanse onderwys en as deel van sy groter visie om selfstandige gemeenskappe te help bou wat gehalteonderwys vir toekomstige geslagte kan verseker.

Onderwysaanbod

Geskryf deur die Maroela Media redaksiespan.

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.