Afrikaners was nog nooit so verenig nie

Die ou wysheid lui dat as drie Afrikaners ‘n dorp stig, hulle kort daarna vier kerke stig. Dit het al amper ‘n volksmite geword dat Afrikaners altyd heftig verskil en daar gevolglik altyd ten minste twee kampe Afrikaners is oor enige onderwerp. Ons geskiedenis wys ook dat Afrikaners inderdaad heftig kan polariseer rondom sake van die dag.

Tog, met die verbrokkeling van die nuwe Suid-Afrika se regeerstelsel en Afrikaners se besef en verwerk van hulle status as minderheidsgroep, het hierdie ou waarheid plek gemaak vir ‘n nuwe werklikheid.

As sigbare en kwesbare minderheid is Afrikaners vandag verenig soos min vantevore in ons geskiedenis. Dit is ‘n mite dat daar vandag weer een of twee of meer gelykwaardige opponerende kampe bestaan.

Verskeie stukke navorsing onder Afrikaners toon dat daar inderwaarheid ‘n breë eenstemmigheid ontstaan het die afgelope dekade.

Navorsing

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) onderneem gereeld ‘n verteenwoordigende profielstudie[i] onder Afrikaners. Eenvoudig gestel is dit ‘n navorsingstuk gedoen onder Afrikaners (lede en nie-lede) wat probeer om Afrikaners se vrese, drome en geleefde werklikheid vas te vang.

In 2025 het die SNI ook verskeie fokusgroepe onder Afrikaners van alle ouderdomme gedoen, uitdruklik Afrikaners wat nie lid van enige instelling van die Solidariteit Beweging is nie.

Laastens is daar in Desember 2025 navorsing onderneem deur Ground Control Research (GCR)[ii] onder Afrikaners van reg oor die land wat menings en sienings oor verskeie kwessies getoets het. Al drie hierdie stukke navorsing toon bepaalde neigings wat met mekaar ooreenstem.

Kultuur

Een van die belangrikste neigings is dat Afrikaners weereens met trots na hulleself verwys as Afrikaners. Afrikaner as term het vir groot dele van die nuwe Suid-Afrika agterweë gebly. So byvoorbeeld het slegs 40% van Afrikaners in die SNI se 2019-profielstudie na hulleself as Afrikaners verwys. Hierdie syfer het dramaties gestyg tot ongeveer 80% van Afrikaners in die 2024-studie. Dit is selfs vóór die Amerikaanse president die term Afrikaner weer internasionaal bekend gemaak het in Februarie 2025.

Die hernude omarming van die term Afrikaner gaan gepaard met ‘n kultuurtrots wat nuwe lewe gekry het. Afrikanerkultuur word deur respondente aan die SNI-profielstudie primêr beskryf as Christelik (90%), Afrikaans (88%), lief vir hulle gesinne (77,5%) en hardwerkend (76,7%).

Amper 9 uit 10 Afrikaners beskryf hulleself as trots op hulle kultuur en stel dat dit ‘n belangrike deel van hulle daaglikse lewe uitmaak.

Hierdie verskynsel vind ook neerslag in die GCR-navorsing wat daarop dui dat Geloftedag as ‘n belangrike dag beskou word deur 8 uit 10 Afrikaners, met 82% van Afrikaners tussen 25 en 34 wat aandui dat hulle persoonlik Geloftedag vier.

Die neiging van jonger Afrikaners wat trotser op hulle kultuur is as ouer garde is een wat deurentyd waargeneem word; dit dui op ‘n jonger geslag wat onbeskaamd hulleself as Afrikaners sien.

Diskriminasie en selfstandigheid

Die ander neiging wat duidelik na vore tree uit die 2024 SNI-profielstudie is dat Afrikaners toenemend vervreem, onderdruk en soos tweedeklasburgers voel. Ten spyte daarvan, is Afrikaners nog onwrikbaar deel van Suid-Afrika en baie lief vir hulle land – hulle hou net werklik niks van die ANC-regering nie.

Terselfdertyd voel die meerderheid Afrikaners dat daar tans teen hulle gediskrimineer word. Amper 4 uit 5 Afrikaners vanuit GCR se studie dui aan hulle glo wit Suid-Afrikaners word deesdae meer benadeel as ander bevolkingsgroepe.

Dit eggo resultate van ‘n 2021-SNI-studie oor rasseklassifikasie waar meer as 95% van respondente[iii] aangedui het dat hulle glo sekere rassegroepe het meer regte as ander in Suid-Afrika.

Harde raswerklikhede word daagliks deur Afrikaners beleef in Suid-Afrika. Die beste kandidate word afgekeur, kinders word spanplek ontsê en besighede verloor kontrakte bloot weens hulle velkleur.

Fokusgroepdeelnemers in 2025 eggo die sentiment met geweldige kommer wat uitgespreek word oor “gaan daar vir my kinders werk wees weens hulle velkleur”.

Uiteindelik het die regering se aandrang om hulp tydens die covid-19-pandemie op grond van ras uit te deel ‘n finale besef in Afrikaners wakker gemaak. Eenvoudig gestel het die meerderheid Afrikaners besef ons is op ons eie en gaan na onsself moet kyk, want niemand anders gaan dit doen nie.

‘n Mens sien hierdie drang na groter onafhanklikheid en selfstandigheid vir Afrikaners uit al drie studies se resultate.

Volgens respondente van die 2024-SNI-profielstudie is die drie belangrikste dinge wat gedoen moet word om die Afrikanerkultuur se toekoms te verseker om, eerstens Afrikanerbesighede ekonomies te ondersteun (86,4%), tweedens Afrikaners in diens te neem (86%) en derdens gesinswaardes te versterk (86%).

Buiten ekonomiese selfstandigheid is die daaropvolgende drie dinge wat gedoen moet word, om Afrikaners se toekoms te verseker:

  • Afrikaanse onderwys en vaardigheidsontwikkeling moet bevorder word (85%);

  • Deelname aan gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe (84%);

  • Aktiewe betrokkenheid by organisasies soos Solidariteit, AfriForum en Helpende Hand (82%).

Hierdie behoefte aan groter selfstandigheid word geëggo in GCR se studie, waar ongeveer 77% van respondente aangedui het Afrikaners behoort te mik vir groter selfbeskikking.

Opleiding

Opvoeding en opleiding lê nog altyd besonder na aan Afrikaner-harte, van die Trap der Jeugd op Voortrekkerwaens tot hedendaagse ouerbetrokkenheid by skoolaktiwiteite. Inteendeel, naas kerke is skole die instelling waar Afrikaners die meeste betrokke is in hulle gemeenskap.

Afrikaners is passievol oor Afrikaanse onderrig met 3 uit 4 in die 2024-SNI-profielstudie wat glo kinders moet onderrig in Afrikaans ontvang en 7 uit 10 wat stel dat Afrikanerkinders na ‘n Afrikaanse universiteit toe moet kan gaan. Afrikaners vereenselwig Afrikaanse onderrig met die oordrag van morele waardes (85%), dissipline (85%) en Christelike beginsels (83%).

Terselfdertyd voel 4 uit 5 Afrikaners dat Afrikaans onderdruk word. Die werklikheid van oorvol Afrikaanse skole wat onder toenemende druk kom deur die departement tref iets diep in die psige van Afrikaners. Hierdie bekommernis oor kinders se vermoë om wêreldklasopleiding in Afrikaans te ontvang, kom ook uit in die fokusgroepe van 2025. Sentimente soos “Afrikaner-organisasies moet skole en die jongmense ondersteun” en “ek is bekommerd oor kinders se toekoms, opleiding en onderwys” is volop.

In die lig hiervan maak die geweldige ontsteltenis van Afrikaners met die Bela-wetgewing, asook die ongelooflike positiwiteit en geesdrift teenoor Sol-Tech en Akademia sin. Opleiding lê naby aan Afrikaner-harte.

Toekomsverwagting

Wanneer Afrikaners praat oor die toekoms is daar twee sieninge wat na vore kom.

Die eerste is dat die huidige regering en regeerstelsel nie ‘n beter toekoms kan bewerkstellig nie. In die SNI-profielstudie dui omtrent die helfte van respondente aan dat hulle geen hoop het vir ‘n verbetering in regeringskorrupsie (49%) en misdaad (48,5%) nie.

GCR se navorsing dui ook die sentiment aan met 8 uit 10 Afrikaners wat daar aandui dat hulle minder hoop vir Suid-Afrika vandag het as met die aanvang van demokrasie in 1994.

Afrikaners voel neerslagtig wanneer hulle oor die toekoms van Suid-Afrika vanaf ‘n regeringsperspektief praat. Daar is min na geen vertroue of hoop dat die bestaande regeerstrukture kan herstel of ‘n beter toekoms bewerkstellig nie.

Die tweede siening wat Afrikaners terselfdertyd huldig, is dat Afrikaners ten spyte van die regering ‘n toekoms gaan uitkerf. Ongeveer 3 uit 4 glo dat Afrikaners die reg het om ‘n voorspoedige toekoms vir hulleself te verseker, dat Afrikaners kan saamwerk om hierdie toekoms te bewerkstellig en dat Afrikaners die vermoë het om ‘n voorspoedige toekoms vir hulleself te verseker, aldus die SNI-profielstudie.

Op ‘n vraag oor wat jou die meeste hoop gee vir die toekoms, is die opsie wat in die SNI-profielstudie kop en skouers bo alle ander uitstaan dat Afrikaners hoop Afrikanerorganisasies soos Solidariteit, AfriForum en Helpende Hand ‘n beter toekoms kan bewerkstellig.

Hierdie gevoel rondom Solidariteit word weereens geëggo in GCR se studie: 9 uit 10 respondente het kennis van Solidariteit en AfriForum en ongeveer 4 uit 5 respondente huldig ‘n positiewe siening oor Solidariteit en AfriForum en die werk wat hulle doen.

Uit die 2025-fokusgroepe kom dieselfde sentiment. Afrikaners voel Solidariteit en sy instellings moet dien as skans teen die regering se vergrype, namens Afrikaners intree, Afrikaanse opvoeding ondersteun, Afrikaners help om te werk en vir Afrikaners hoop skep.

Gevolgtrekking

Afrikaners het stilweg dog beslis beweeg na ‘n soort Afrikaner-konsensus oor hulle eie kultuuridentiteit asook die nodige oplossings om ‘n toekoms vir Afrikaners in Suid-Afrika te verseker.

Die drie stukke navorsing toon dat Afrikaners trots op hulle kultuur en lief is vir Suid-Afrika. Hulle ervaar geen spanning tussen hulle kultuurgemeenskap uitbou en terselfdertyd ‘n burger van die land wees nie. Inteendeel, hulle voel dat die twee hand-aan-hand loop en onlosmaaklik deel van mekaar is.

Afrikaners voel uitgestoot, vervreem en onderdruk in Suid-Afrika. Die ANC-regering word as vyandig ervaar met sy blinde ras-ideologie en verdelende rasseretoriek.

Afrikaners se antwoord op hierdie vyandigheid is selfstandigheid en onafhanklikheid, terwyl daar waar moontlik met ander groepe saamgewerk word. Afrikaners glo dat ons as gemeenskap die reg, verantwoordelikheid en vermoë het om ons eie toekoms te verseker, want niks of niemand anders gaan nie.

Afrikaners, of hulle lede van die Solidariteit Beweging is of nie, skep moed uit die werk van die Beweging. Afrikaners is positief oor en dankbaar vir die werk wat dié instellings doen.

Ná die heftige verdeling van die Afrikanerdom in die 1980’s het drie dekades van die ANC se nuwe Suid-Afrika ons saamgesnoer tot op die huidige punt waar Afrikaners meer verenig is as ooit tevore.

Alhoewel daar nog verskille is oor kleiner detail, stem die oorweldigende meerderheid Afrikaners saam oor die meeste van die groot kwessies en wat hul oplossings behoort te wees.

Ons is onbeskaamd Afrikaners en hier om te bly.

Ons word sleg deur die ANC-regering hanteer, maar ons sal ten spyte daarvan slaag.

Ons kom goed oor die weg met ons medelandsburgers en gun elkeen ‘n plekkie in die son.

Ons gaan met genade van Bo en deur Afrikaner-instellings sélf ‘n toekoms bou.

 

Geskryf deur Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

 

[i] 1 200 respondente
[ii] 1 000 respondente
[iii] 4 857 respondente

In diens van iets Groter as onsself

Akademia is ʼn pragtige projek.Dit is nie benoud nie. Dit weet presies wie dit is en is terselfdertyd verwelkomend. Die hele projek spreek van uitnemendheid – van die akademie tot die bouwerk. Wêreldklas, in Afrikaans.

Dit is Afrikaans en is daar vir die groot Afrikaanse gemeenskap én vir elkeen wat in Afrikaans wil studeer. Dit sluit juis studente in wat in Afrikaans wil studeer, maar op ander plekke uitgesluit word.

Dit staan te midde van die groot Westerse universiteitstradisie wat die wetenskap onbevange oopbreek binne die onbeperkte omvang van Sy skepping.

Dit vorm studente, en juis dít maak Akademia-studente gesog in die arbeidsmark. Hulle ontwikkel ʼn begrip van die geheel en van die ware, die goeie en die skone. Dit is die basis vir goeie werk.

Die analogie is Sol-Tech, wat in Afrikaans oplei en werkgewers oor die hele spektrum in rye staan om dié studente in diens te neem.

Akademia en Sol-Tech lei studente só op dat hulle ook gemaklik in ʼn Engelse wêreld kan werk.

Akademia het ʼn mooi storie.

Die begin was sowat 20 jaar gelede, toe Solidariteit-lede ingestem het om elk R10 per maand ekstra ledegeld te betaal vir ʼn Solidariteit Boufonds.

Dit was ons Dawidsklippies waarmee groot uitdagings oorwin moes word.

Eers is Sol-Tech begin en daarna Akademia. Beide Sol-Tech en Akademia is binne die grondwetlike raamwerk van Suid-Afrika gevestig.

Gewone mense wat werk, het hul bietjies gegee om iets groots te bou. Die grootste daarvan was vir hulle kinders en die gemeenskap.

Later het Solidariteit-lede nog R5 per maand vir studiehulp bygedra.

Hulle was groter as hulself, want bykans 20 jaar later word ander se kinders gehelp wat toe skaars gebore was en wie se name hulle nie eens geken het nie. Dít is die krag van gemeenskap.

Solidariteit-lede het ʼn daad verrig wat groter as hulself was. Hulle het gesê: “Ons beperk hierdie groot instellings nie net tot Solidariteit-lede nie, maar stel dit tot voordeel van die groter Afrikanergemeenskap, asook tot die groter kultuur- en Afrikaanse taalgemeenskap.”

Dit is ʼn gedeelde geskenk aan ʼn groter idee en juis daarom is dit nie om weg te gee nie. Dit is bloot onder rentmeesterskap vir die volgende generasie. Die gemeenskap is gevra om dit saam met ons te bewaar.

Die Solidariteit-lede was en is onbaatsugtig in diens van ʼn groter gemeenskap.

Solidariteit-lede was ook sentraal tot die oprigting van die ontwikkelingsmaatskappy, Kanton, wat eers die Sol-Tech-kampus gebou het en nou die Akademia-kampus bou.

Eers het Solidariteit sy eie geboue in die Kanton-portefeulje geplaas, waarborge is gegee en bates is in aandele omskep.

Dit het die bou van die Sol-Tech-kampus moontlik gemaak en die voorwaardes geskep vir die bou van die Akademia-kampus.

Maar nooit het Solidariteit-lede gesê: “Dit is net ons s’n nie.” Hulle het met dankbaarheid iets gebou vir hulle lede en dié se kinders, maar tot voordeel van die Afrikaanse gemeenskap en as ʼn kleinood vir die toekoms.

Akademia word nou só ʼn kleinood vir die Afrikaanse gemeenskap: ʼn geskenk deur gewone mense wat werk. Nederig begin, trots sien groei.

Vir hierdie groot Afrikaanse kleinood word daar nou deur Kanton ʼn kampus gebou. Die eerste fase beloop R1,8 miljard en die volledige projek meer as R3 miljard.

Die betrokkenheid word al groter. Eers het meer mense tot die Solidariteit Boufonds begin bydra om Akademia sterk te maak. Groot trusts het onbaatsugtig gehelp, en nou begin groter beleggers by Kanton betrokke raak om die kampus te bou.

Grond is gekoop en planne vorder goed vir ʼn kampus in die Paarl.

Solidariteit het nooit probeer om sy inisiatief benoud vir homself te hou nie.

Dit was altyd in diens van iets groters: ʼn groter gemeenskap. En dié groter gemeenskap begin nou al hoe meer betrokke raak. Dit raak ʼn sneeubal.

Daar is dié wat betrokke raak en help bou, en dan is daar kantkommentators wat kritiek lewer en wil breek.

Op die kantlyn skree hulle op Akademia en het hulle die vermetelheid om te wil voorskryf hoe dit moet lyk en wees.

Hulle het nie eens ʼn enkele R10 bygedra nie. Hulle was nie by die sweet en risiko van die begin betrokke nie en is selfs nou nie betrokke nie. Dit word ook nie met hulle belastinggeld gebou nie.

Solidariteit-lede het met hulle bietjies begin, dit in diens van ʼn groter gemeenskap gestel, en nou dink onbetrokke kommentators hulle kan die idee van Akademia vat en voorskryf.

Vir jare het hulle niks gedoen nie. Noudat daar iets is, raak hulle steeds nie betrokke nie, maar lewer hulle kritiek en skryf voor. Hulle is welkom om hulle eie iets te begin. Ons sal nie daarop kritiek lewer nie.

Intussen gaan ons almal voort om aan iets veel groter as onsself te bou. In diens van iets groter as onsself.

Dít is die energie van Akademia en van die hele Solidariteit Beweging.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Media moet waghonde wees, nie bloedhonde of skoothondjies

“Daar is drie soorte honde,” het korporaal Strauss vir ons gesê gedurende my dienspligtyd by die hondeskool: “Waghonde, bloedhonde en skoothonde.” Die News24-redakteur se jarelange vete teen die Solidariteit Beweging het my die afgelope tyd weer aan my ou korporaal se woorde herinner. Die media speel ʼn belangrike waghondrol in die samelewing. Hulle doel is nie om enigiemand se bloedhonde of skoothonde te wees nie, maar om as waghonde oor die belange van die publiek te dien.

Ons ervaring oor baie jare is ongelukkig dat Adriaan Basson, sedert sy dae toe hy as Beeld se redakteur die Puk op Potchefstroom as ʼn Nazi-nes probeer swartsmeer het, meer soos ʼn bloedhond as ʼn waghond teen Afrikaans optree. Daarteenoor gedra hy homself soos ʼn skoothondjie van die ANC. Ons waarskuwing dat sy sogenaamde “Nazi”-beriggewing ʼn stok in die hande van radikale politici sou plaas wat uiteindelik die PUK en Beeld sou benadeel, is ongelukkig bewaarheid. Basson se stories het gerespekteerde akademici se loopbane groot skade berokken, talle onskuldige studente beswadder en die reputasie van ʼn top-universiteit deur die modder gesleep.

ANC-skoothondjie

Basson kon dit nie verdra dat ons die PUK-studente en leiers se kant gekies het teen sy boeliegedrag nie, en dat hy daarna by Beeld uitgeskuif is nie. Hy het toe gereeld sy platform by News24 begin gebruik om meer soos ʼn aktivis as ʼn joernalis op te tree, oftewel meer soos ʼn bloedhond as ʼn waghond. Sy (soms) vurige kritiek op korrupsie deur sekere ANC-leiers is afgewissel met sonskyn-berigte oor ander ANC-leiers. Sy selfopgelegde rol is egter dié van ʼn skoothondjie as dit by onderliggende ANC-beleid kom. Die grondslae van die ANC se revolusionêre radikale transformasiebeleid wat die land en sy mense al soveel skade berokken het, kom nooit uit sy pen onder skoot nie. Inteendeel, hy doen sy bes om hierdie beleid te verdedig en aan sy lesers te verduidelik en te vertolk. Die staatsideologie wat die ANC se wanbestuur en staatsverval help veroorsaak, word nie gekritiseer nie. In plaas daarvan word diegene wat, soos ons Beweging, die ANC se totalitêre sosiale ingenieurswese teenstaan in belang van vryheid en demokrasie, in talle artikels gedemoniseer, beledig en belaster.

VSA-verhoudinge

News24 se histerie teen ons het ʼn hoogtepunt (of laagtepunt?) bereik toe ons ons toegang tot die Trump-administrasie gebruik het om met die Amerikaners te onderhandel oor knelpunte soos Agoa en tariewe. Ons het dit nodig geag weens die ANC se bepalende rol in die verswakking van die verhoudinge tussen die twee lande. Dit is so dat ons ook die ANC se verbreking van die 1994-ooreenkoms op die tafel geplaas het met die versoek dat die Amerikaners, soos vóór 1994, intree om menseregte te beskerm. Ons het nie met die VSA gepraat omdat ons met alles wat hulle sê en doen saamstem nie, maar omdat hulle die regering van ʼn supermoondheid is wat baie vir (en teen) die land kan doen as gevolg van die ANC. Ons moes vir die Amerikaners sê: “Ons is nie almal so (ANC) nie” – anders sou daar dalk veel sterker optrede gewees het wat nóg duisende se lewensbrood kon bedreig.

“Disinformasie”

Basson en kie het toe losgetrek met beskuldigings van “disinformasie” oor “genocide” en groot ruimte afgestaan aan onbekwame en korrupte politici wat ons van “hoogverraad” en onpatriotiese gedrag beskuldig het. Die Persombudsman het by talle geleenthede teen hulle beslis, waarna hulle verskonings moes publiseer, wat Basson waarskynlik net meer haatlik gemaak het.

Visvangekspedisie

Dit het hom sekerlik aangespoor om AfriForum se finansiële state by die Registrateur te bekom, waarna ons met honderde vrae gepeper is in ʼn soort “visvangekspedisie” wat bedoel was om êrens fout te vind. Verskeie berigte het hieruit voortgespruit, deurspek met halwe waarhede, blatante leuns en verdraaide inligting. Meer bloedhond as waghond. Wat hulle waarskynlik die kwaadste maak, is dat hulle geen korrupsie of wanbestuur kon opspoor nie. Terselfdertyd wou hulle nie Kallie Kriel se teenvrae oor hul beheermaatskappy se skenkings aan die ANC beantwoord nie, of verduidelik waarom News24 al vir jare nie hul eie finansiële state publiseer nie.

Fopnuus

Sekere joernaliste kla die afgelope paar jaar breedvoerig oor “fopnuus” op sosiale media, terwyl hulle hul politieke teenstanders daarvan beskuldig dat hulle sogenaamde “post-waarheid” leuens versprei. Ek weet dat daar baie nonsens en vals nuus op sosiale media verskyn. Tog is die gevaarlikste vals nuus nie die ongeloofwaardige liegstories wat op ooglopend amateuragtige sosialemediablaaie verskyn nie. Die ergste fopnuus is die leuens, halwe waarhede en eensydige beriggewing wat in sommige hoofstroommedia met histories geloofwaardige titels verskyn. Dít is onderliggend aan die groeiende wantroue in die tradisionele media. In die VSA het hierdie vertroue volgens Gallup teen 2025 tot slegs 28% gedaal, terwyl in Suid-Afrika minder as die helfte van die bevolking nog die media vertrou.

Die media speel ʼn uiters belangrike waghondrol in die land en het die afgelope jare ʼn reusebydrae gelewer tot die blootlegging van korrupsie en wanbestuur. Daarom is dit belangrik dat joernaliste hul waghondrol verstaan en besef dat hul geloofwaardigheid hul belangrikste bate is wat ten alle tye beskerm moet word. Die media het dus ʼn kritieke verantwoordelikheid om altyd professioneel op te tree en nie toe te laat dat hulle aktivisme onder die dekmantel van joernalisme nastreef nie. Anders gestel, joernaliste moet waghonde bly en nie bytende bloedhonde of lekkende skoothondjies word nie.

 

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Volhoubare Afrikaanse onderwys vir die volgende geslag

Die Solidariteit Beweging het tydens die Onderwys Toekomsberaad ʼn omvattende plan vir volhoubare Afrikaanse onderwys bekendgestel. Hierdie plan gaan saam met ander rolspelers en vennote uitgevoer word.

Die belangrikste beweegredes vir hierdie plan is soos volg:

Ons wil wêreldklas in Afrikaans wees

Die Solidariteit Beweging wil aan ‘n omvattende kulturele ekosisteem help bou wat uiteindelik die hele pyplyn vanaf Afrikaanse Kleuterskole tot Beroepskolleges en ‘n universiteit met verskeie Sattelietkampusse en ‘n aanlyn studiemodel insluit. Ons wil hê ons kinders en jongmense moet skole, kolleges en universiteite hê waar hulle veilig kan tuisvoel. Dis ‘n strewe na normaliteit, nie na die verlede nie. ʼn Taal se hoër funksies is onontbeerlik om sy langtermyn-volhoubaarheid te verseker. ʼn Kultuurgemeenskap het opvoedkundige instellings nodig om sy taal en kultuur na volgende geslagte oor te dra. Daarby het skole, kolleges en universiteite ʼn opleidings- én ʼn opvoedingsrol. Terselfdertyd word leerders en studente vir ʼn meertalige werksomgewing voorberei. Dit is ʼn bekende feit dat moedertaalonderrig die beste vorm van onderrig is en dat dit studente toerus om hul kennis in ander tale te kan toepas.

Ons mag wêreldklas in Afrikaans wees

Die Grondwet bepaal in artikel 29 dat enkelmedium-opleidingsinstellings mág bestaan en dat elkeen die rég het om in enige amptelike taal opgelei te word. Dis nie ‘n guns wat ons van die regering vra nie, dis ‘n reg wat internasionaal erken word. Ingevolge artikel 6 van die Grondwet is Afrikaans ʼn amptelike landstaal. Ons hoër onderrig instellings soos Sol-Tech en Akademia is al jare lank geregistreer en geakkrediteer, bied gehalte-opleiding aan en sluit geen persoon of groep uit nie. Dis oop vir enige persoon wat aan die akademiese standaarde voldoen en wat in Afrikaans wil studeer.

In 2019 het die Konstitusionele Hof by monde van hoofregter Mogoeng Mogoeng in sy uitspraak in die Stellenbosch-taalsaak, ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om self privaat onderriginstellings ter bevordering van Afrikaans en ander inheemse tale te bou. Regter Mogoeng het selfs ʼn beroep op korporatiewe welwillendheid gedoen om hulpbronne beskikbaar te stel om te help om privaat moedertaalgebaseerde opleidingsinstellings te befonds.

Die Grondwetlike hof se versoek dat gemeenskappe self instellings moet bou en met eie kapitaal finansier om hul taal te bevorder, is dus presies wat die Solidariteit Beweging en ons vriende en vennote doen.

Die grondliggende reg van enige kultuur is die reg op voortbestaan, wat net moontlik is met outonome kulturele instellings soos skole, kolleges en universiteite.

Ons kan wêreldklas in Afrikaans wees

Solidariteit het Sol-Tech in 2006 begin en duisende studente is al by die kollege opgelei. Daar is vanjaar byna 3000 studente in die onderskeie opleidingsfases wat opleiding in teorie, praktiese opleiding in ons werkswinkels en indiensopleiding by maatskappye behels. Die eerste R120 miljoen vir die oprigting van Sol-Tech het uit die maandelikse R10-bydraes van Solidariteit-lede gekom. Waar daar ‘n wil is, word die wil die weg!

Akademia is in 2012 begin en gaan so vinnig van krag tot krag dat ‘n reuse kampus tans in Pretoria gebou word, terwyl daar ook grond in die Paarl aangekoop is met planne om vir ons Satellietkampus daar ‘n tuiste te bou.

Die Solidariteit Helpende hand Studietrust se doel is om fondse beskikbaar te stel sodat almal wat wil moet kan leer en studeer. Die Trust word befonds deur Solidariteit ledebydraes, skenkings, inkomste vanaf die Virseker Trust, bydraes van die Helpende hand se Ons Winkels ketting groep, en bemakings. Wêreldklas onderrig en opleiding is geweldig duur en die bekostigbaarheid van onafhanklike instellings wat sonder staatsteun moet klaarkom bly ‘n uitdaging. Ons is baie  trots op ons jongmense, omdat die terugbetalingskoers van die studielenings nou op 99% te staan gekom het.

Ons kan, want ons het dit klaar bewys.

Ons kan nie alles op ons eie of net met gemeenskapbydraes doen nie. Daarom sluit ons nou vennootskappe aan tussen kultuur en kapitaal, waar beleggers ‘n markverwante opbrengs kry, en terselfdertyd ‘n kulturele dividend in die vorm van topklas onderrig en opleiding. Die doel is om uiteindelik waar prakties moontlik landswyd leefruimtes vir Afrikaans te bou.

Ek sê weer- ons kán, want ‘n Boer maak ‘n plan!

Ons moet wêreldklas in Afrikaans wees 

Dis algemene kennis dat die ANC vyandig teenoor Afrikaanse onderwys is. ‘n Vyandige owerheid is nie iets nuuts in ons geskiedenis nie. Sowat 200 jaar gelede het Lord Charles Somerset gedink hy draai Afrikaanse skole nek-om. ‘n Eeu later was dit weer Lord Milner se dagdroom. Nog ‘n ‘n eeu later is dit weer Lord Lesufi en kie se nagmerrie. Ons weet ons kan nie meer op die staat staatmaak om vir ons kinders wêreldklas onderrig en opleiding te voorsien nie. Wêreldklas onderwys is nie ‘n luukse nie, maar ‘n moét. Die vraag is dus nie óf nie, maar hoé. Dit is waaraan ons werk. Ons sal nie gaan lê voor ‘n regering wat nie eers ‘n Poskantoor kan bestuur nie.

Ons gaan wêreldklas in Afrikaans wees 

Die Solidariteit Beweging is besig om aan die kulturele infrastruktuur te bou om saam in Afrika te kan bly. Iemand wat ʼn huis bou, probeer nie ander uitsluit of homself afsonder deur die huis te bou nie. Hy bou sy huis juis om saam met sy bure in ʼn bepaalde woonbuurt te bly. Die gebou is net eie punt van die Ysberg wat bo die water uitsteek. Hierdie geboue kan net so groot en sterk wees soos die minder sigbare kulturele infrastruktuur wat al vir meer as twee dekades “onder’ die water gebou word. Dit behels die totale netwerk van instellings wat strek vanaf werksgebied na burgerregte-, media-, finansiële-, kulturele- en opvoedkundige instellings tot by organisasies wat ons erfenisse bewaar.

‘n Onderwysplan is deel van die pyplyn van Afrikaanse onderrig en opleiding waaraan ons saam met vriende en vennote bou.

Ons sal self

Die Afrikaanse gemeenskap het alles in sy vermoë gedoen om Afrikaanse hoër onderwys in die openbare sektor ingevolge die grondwetlike voorsiening daarvoor te laat voortbestaan. Ná talle gesprekke, pleidooie, versoeke en selfs hofsake is die openbare sektor se deure in ons gesig toegeslaan. Ons enigste uitweg is om dit self te begin doen. Vandaar ons leuse, “Ons sal self”. Dit is nie ‘n oproep vol heimweë terug na die verlede nie, maar ‘n wekroep om saam ‘n toekoms te bou.

Ons sal self, en ons sal saam as ‘n helpmekaarbeweging. Dit gaan nie oor die herlewing van ‘n uitgediende nasionalisme nie, maar oor gesonde kulturele selfvertroue, -selfrespek en selfverwesenliking.

Dieselfde geld vir ons skole. Ons sal saam met die Afrikaanse skoolgemeenskap werk, praat, en veg om ons openbare skole wêreldklas te hou, maar ons sal terselfdertyd ook met planne vir onafhanklike onderwys begin – saam met ander instellings wat met ons wil saamwerk.

Toekomsbouers

Ons wil beslis nie voorgee dat ons al die antwoorde het, of dat ons alles alleen kan doen nie. Ons het mekaar nodig, en ons sal met ander rolspelers wat Afrikaanse onderrig op die hart dra saamwerk waar enigsins moontlik. Ons nooi by Kanton Eiendomme almal uit om saam Toekomsbouers te wees.

Jare gelede het mense gedink dis onnodig én onmoontlik om onafhanklike Afrikaanse onderwysinstellings te bou. Die tyd het geleer dat dit nodig én moontlik is. Suid-Afrika is ‘n land waar dit wat teoreties moontlik is, in die praktyk soms onmoontlik is. Gelukkig is dit ook ‘n land waar dit wat teoreties onmoontlik is, in die praktyk wel moontlik is.

Afrikaanse skat

Afrikaanse jongmense word vandag blameer vir dinge wat gebeur het voor hulle gebore is, terwyl die regering nie die verantwoordelikheid aanvaar vir wat hulle vandag doen nie. Onthou, ‘n Kultuur kan net voortbestaan as elke geslag vir die volgende een leef.

Die Solidariteit Beweging wil graag die tradisie van wêreldklas- Afrikaanse onderrig en opleiding op nuwe maniere voortsit. Ons wil, ons mag, ons moet, ons kan, ons gaan en ons sal dit as gemeenskap self doen.

Afrikaners het immers nie die oseane deurkruis, deur die eeue oorleef, die onbekende ingetrek, magtige moondhede op die slagveld gepak en op talle gebiede wêreldklasprestasies opgelewer, omdat ons van jellie gemaak is nie. Ons is vrye burgers, nie dienswillige onderdane nie. Ons is vasbeslote om in die woorde van Van Wyk Louw, die skat van ons taal en kultuur veilig deur die skare te dra.

Die hede gaan nie weggaan nie, die verlede gaan nie terugkom nie, en die toekoms gaan nie vanself gebeur nie. My oproep is dus: kom laat ons bou!

 

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Só lyk plan om Afrikaanse onderwys te versterk

Die Solidariteit Beweging het Dinsdag ’n omvattende plan vir volhoubare Afrikaanse onderwys bekend gestel, met die doel om ’n geïntegreerde ondersteuningsnetwerk vir die hele Afrikaanse skoolgemeenskap te skep.

Die plan word saam met verskeie vennote in die onderwyssektor uitgerol en fokus daarop om skole, onderwysers, skoolbestuur, beheerliggame, ouers, leerders en gemeenskappe toe te rus om die toenemende uitdagings in die onderwysomgewing die hoof te bied.

Die Solidariteit Beweging het dié plan tydens die toekomsberaad bekend gestel, waar sowat 800 onderwysers en leiers uit die skoolgemeenskap byeengekom het. Die driedaagse kongres fokus op die uitdagings waarmee Afrikaanse onderrig tans te kampe het, asook op praktiese strategieë om ’n volhoubare toekoms vir Afrikaanse onderwys te verseker.

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, sê Afrikaanse skole verkeer toenemend onder druk en die sentralisering van skole vind al hoe meer plaas.

“Die staat wil 100% sê wat ons moet doen,” sê Hermann. Hy sê egter die plan wat Dinsdag bekend gestel is en die wil van ʼn gemeenskap, vorm die hart van goeie onderrig.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, rus die toekoms van Afrikaanse onderwys op gemeenskappe wat bereid is om self verantwoordelikheid daarvoor te neem.

“Die toekoms van Afrikaanse onderwys behoort aan ’n gemeenskap wat bereid is om daarvoor verantwoordelikheid te neem. By die Solidariteit Beweging glo ons dat ons nie net die reg het om daardie toekoms te help bou nie, maar ook die plig,” sê Buys.

Hy sê dat die beweging saam met sy vennote en Afrikaanse skoolgemeenskappe wil werk om ’n volhoubare toekoms vir Afrikaanse onderwys te verseker.

“Die staat bedreig ʼn goeie Afrikaanse ekostelsel en ons moet begin anders dink oor die volgende jare wat kom,” sê Hermann.

Die nuwe aanbod bring die Solidariteit Beweging se instellings, kundigheid en bestaande ondersteuningsnetwerke in een geïntegreerde model saam, sê Buys.

Die plan behels dat die Solidariteit Beweging sy onderwysaanbod só verpak dat die ideaal van volhoubare gehalte-onderwys in Afrikaans, saam met die breë skoolgemeenskap, bereik kan word.

Werner Human, bedryfshoof van die beweging, sê die model onderskei hom van tradisionele dienslewering omdat dit ’n deelnemende benadering volg waarin die hele skoolgemeenskap betrek word.

“Skole staan vandag voor veel groter uitdagings as net akademiese prestasie. Hierdie aanbod skep ’n ondersteuningsnetwerk wat skole versterk sodat hulle op hul belangrikste taak kan fokus: om kinders vir die toekoms toe te rus,” sê Human.

Volgens Human is die doel nie om skole se rol oor te neem nie, maar om hul kapasiteit te versterk en uit te bou.

Hy sê die beweging wil meer doen as om bloot as ’n diensverskaffer op te tree en fokus eerder daarop om ’n breër onderwys-ekostelsel te help vestig wat skole in staat stel om volhoubaar en uitnemend te funksioneer.

Die Solidariteit Beweging beskou die plan as ’n langtermynbelegging in Afrikaanse onderwys en as deel van sy groter visie om selfstandige gemeenskappe te help bou wat gehalteonderwys vir toekomstige geslagte kan verseker.

Onderwysaanbod

Geskryf deur die Maroela Media redaksiespan.

Die reg om self te kan besluit

In 1994 het Suid-Afrika ʼn ingrypende ordeverandering beleef. ʼn Antwoord moes gevind word vir ʼn land met ʼn buitengewoon diverse samelewing.

ʼn Nuwe Grondwet is onderhandel, individuele regte is verskans, maar die groot tekortkoming was die gebrekkige beskerming van ons diverse kultuurlandskap en spesifiek minderheidsgemeenskappe.

Die unitêre model, wat sentralisering bó desentralisering verkies, was terugskouend waarskynlik die minste geskikte stelsel vir so ʼn diverse land.

Wat dikwels vergeet word, is dat daar destyds sterk stemme vir ʼn federale oplossing was. Hierdie denkrigting het ondersteuning geniet binne en buite die Nasionale Party, onder akademici, internasionale drukgroepe en selfs uit swart geledere. Die huidige leierskorps van die Solidariteit Beweging het hulle ook met dié denkskool vereenselwig.

Daar is gepraat oor minderheidsbeskerming, magsdeling, streeksoutonomie en die voorkoming van totale sentralisering – minder staat en meer gemeenskap.

Vandag word dit dikwels voorgehou asof daar slegs twee moontlikhede was: die uitgediende apartheidstelsel of die huidige unitêre stelsel. Indien jy krities teenoor die huidige bedeling staan, word jy maklik daarvan beskuldig dat jy bloot die ou bestel klakkeloos wou beskerm.

Namate Suid-Afrika al meer sentraal bestuur word, word daar al meer besef dat die huidige Suid-Afrikaanse bestel ernstige gebreke toon. ʼn Alternatief kon destyds bedink word – en kan vandag steeds bedink word.

Dwarsoor die wêreld bestaan daar uitstekende federale modelle vir die bestuur van diverse samelewings.

ʼn Groep van die Solidariteit Beweging was onlangs op ʼn studietoer in Europa om federalisme verder te ondersoek. Federalisme is ʼn volkome normale begrip in groot dele van die wêreld. In Vlaandere word dit selfs beskryf met ʼn woord wat vir ons bekend klink: selfbeskikking.

Afrikaners vorm deel van die ryk Westerse tradisie. Daarom was Nederland ons eerste bestemming – nie vanweë Nederland se federalisme nie, maar om weer Afrikaners se verbintenis met die Westerse beskawingstradisie te onthou.

Amsterdam is sekerlik nie die enigste voorbeeld nie, maar wel een van die duidelikste van hoe die Weste se invloed na die Afrikaner deurgespoel het. Ons was in die vertrek waar die besluit geneem is om ʼn verversingstasie aan die Kaap te vestig – die geboorte-oomblik van ʼn volk in die hart van die Westerse handelswêreld.

Die hele Europa getuig van ʼn ryk beskawing waarvan ons deel is. Ons is nie Europeërs nie – ons is van Afrika – maar ons is onteenseglik ook deel van die Westerse tradisie.

België: parlemente vir verskillende gemeenskappe
Ons tweede stop was België – ʼn land met ʼn lang geskiedenis van interne konflik. België bestaan uit drie streke: Vlaandere, ʼn Franse streek en ʼn klein Duitse streek. Elke streek het sy eie parlement waarin plaaslike besluite geneem word, terwyl ʼn federale parlement oor nasionale sake besluit. Selfs binne die federale parlement bestaan daar veto’s vir die onderskeie taalgroepe.

Switserland: radikale demokrasie van onder af
Ons derde bestemming was Switserland met sy kantonstelsel. In Genève het ons eers ʼn toer op die spore van die Reformasie meegemaak. Binne die Westerse tradisie het die Reformasie ʼn enorme invloed op die vorming van Afrikaners gehad: uit genade, deur Christus, tot dankbaarheid.

Dit was ook in Genève waar ons ʼn klag teen die Suid-Afrikaanse regering se rassebedeling by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) van die Verenigde Nasies ingedien het.

In Zürich het ons ʼn lesing oor die Switserse kantonstelsel bygewoon. Switserland bestaan uit 26 kantons – byna soos 26 klein lande – wat elk hul eie unieke behoeftes bestuur. Daar is vier tale: Duits, Frans, Italiaans en ʼn klein taal, Romaans. Die kantons is grootliks rondom dié taalgemeenskappe georganiseer. Switserland maak op plaaslike, kantonnale en federale vlak van referendums gebruik. Besluitneming geskied van onder af, met mag wat oorspronklik by gemeenskappe lê en dan opwaarts vloei.

Suid-Tirool – die reg om selfte besluit
Ons laaste stop was Suid-Tirool, ʼn noordelike provinsie van Italië. Suid-Tirool, oorspronklik ʼn Duitse streek, is ná die Eerste Wêreldoorlog by Italië ingelyf. Skielik het ʼn Duitse gemeenskap van sowat 500 000 mense hulle binne ʼn Italiaanse staat bevind.

Ná ʼn lang stryd het die streek uiteindelik ʼn groot mate van outonomie verkry. Hulle kultuur word beskerm en hulle ontvang 90% van hul belastinggeld terug.

Toe ek vir ʼn Suid-Tiroler vra waarom outonomie vir hulle so belangrik is, was sy antwoord eenvoudig: “Dit gaan oor die reg om self te kan besluit.”

Federalisme – waarvoor die Solidariteit Beweging ook staan – is dus niks buitengewoons nie. Dit is ʼn normale en dikwels noodsaaklike manier waarop volke, tale en kultuurgemeenskappe wêreldwyd hul voortbestaan verseker.

Die Europese model onder druk
Daar is egter iets wat baie Europese lande nie verreken het nie: massa-immigrasie van mense wat kultureel en godsdienstig dikwels nie wil integreer nie. Benewens die groot migrasiegetalle is daar ook die hoë bevolkingsgroei binne sekere immigrantegemeenskappe. In ʼn Turkse kafee sien ʼn mens selfs stootwaentjies te koop.

Europa se hele model word ontwrig. Tot só ʼn mate dat ʼn Nederlandse joernalis vir ons gesê het: “Ons is binnegeval”. ʼn Vlaamse politikus meen dat hulle teen 2040 ʼn minderheid in hul eie land kan wees. Switserland probeer desperaat om deur middel van ʼn referendum hul bevolking op 10 miljoen te beperk. ʼn Suid-Tiroler beskryf die immigrasiekrisis as vernietigend.

Voeg hierby Europa wat grootliks sy Christelike geloof en beskawingsanker verloor het. Sonder daardie ankers kan weerstand teen nuwe kulturele druk moeilik gebied word. Dit is byna soos Simson wat sy hare verloor het – ʼn tragiese beeld van krag wat ongemerk verdwyn het. Baie van die nuwe immigrantegemeenskappe beskik juis oor sterk en selfversekerde geloofsidentiteite wat die vakuum van sekularisme vul.

Ek keer terug na Suid-Afrika met die indruk van ʼn Europa in ʼn krisis. Ek vertrou dat Europeërs weer die rykdom van die Westerse tradisie sal herontdek. Soos ʼn kollega dit gestel het: “Hulle sal weer hul boekrolle moet vind”.

Gemeenskapsfederalisme: Ons sal self
Dit bring my terug by die Solidariteit Beweging se model van gemeenskapsfederalisme, saamgevat in die woorde: “Ons sal self”. Ons het oplossings gevind binne die werklikhede van demografiese verandering. Ons Europese gashere was baie geïnteresseerd in dié model. Ons het reeds sekere uitdagings verreken wat moontlik nog vir hulle voorlê. Ons het minstens planne. Party van hulle het selfs hoop in ons benadering raakgesien.

Ek is steeds van mening dat ʼn federale politieke bestel ook vir Suid-Afrika ʼn beter oplossing sou wees – en steeds kan wees. Die Solidariteit Beweging se model van gemeenskapsfederalisme is juis kragtig omdat ons self beheer daaroor het.

Die krag van “ons sal self” sluit direk aan by die woorde van die Suid-Tiroler: “Dit gaan oor die reg om self te kan besluit”. Dit is reg, dit is normaal en dit is vryheid.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Wie is die Solidariteit Beweging regtig?

1994 was ‘n ordeverandering vir Suid-Afrika. Die verandering het talle instellings, wat nie die oorgang kon maak nie, vernietig. Die Suid-Afrikaanse landskap sou vir altyd anders lyk.

Instellings wat aan die vorige orde wou vasklou, het eenvoudig verdwyn. Een so ‘n instelling uit die vorige bedeling was die Mynwerkersunie (MWU).

Die MWU was ‘n ou instelling met ‘n ryk geskiedenis en is reeds in 1902 gestig. Soos talle burgerlike organisasies en politieke partye was die MWU in ‘n oorlewingskrisis. Dit was geldelik bankrot en bankrot aan idees.

Binne die nuwe werklikheid
In 1997 is Flip Buys as hoofsekretaris van die MWU verkies. Tydens sy eerste kongres het hy gesê die MWU moet ʼn beweging word. Hy was bekommerd oor die ANC se sentralistiese meerderheidsideologie en wat dit vir staatsbestuur en minderheidsbeskerming kan inhou.

Buys het die bankrot-MWU binne die ná-1994-werklikheid geplaas. Hy het die MWU weggelei van rasdefinisies en dit omskep in ‘n kultuur- en taalinstelling wat beskerming geniet binne die nuwe grondwetlike bedeling. Artikels 29, 30 en 31 van die Grondwet gee aan taal- en kultuurgemeenskappe die reg om eie instellings te vestig, insluitende onderwysinstellings.

Buys het reeds in 1997 besef dat dit noodsaaklik is om van grondwetlike ruimtes gebruik te maak, maar dat instellings daarvoor nodig is. Anders sou artikels 29, 30 en 31 bloot papierartikels bly, sou die sentralistiese staat die samelewing versmoor en sou minderhede se ruimtes verdwyn.

Sy kommer is later reg bewys. Die staat het al meer sentralisties geraak en die grondwetlike ruimtes vir gemeenskappe is verklein tot so ‘n mate dat diegene wat daarop aanspraak maak, as ongrondwetlik beskou word.

Afrikaners gaan nêrens heen nie
Flip Buys se 1998-aankondiging van ʼn Beweging was nie net binne die nuwe grondwetlike werklikheid nie, maar ook ʼn aankondiging dat Afrikaners nêrens heen gaan nie. Baie het gewonder of Afrikaners in die nuwe werklikheid wil bly. Hy het aangekondig dat Afrikaners ruimtes gaan skep om juis hier, aan die suidpunt van Afrika, te bly.

Vandag is die Solidariteit Beweging ʼn netwerk van tientalle selfstandige instellings met ongeveer 600 000 betalende lede en nog sowat 100 000 gebruikers van verskillende dienste. Indien families ook in ag geneem word, is dit ʼn reusebeweging. Dit is nie ʼn elite beweging nie, maar ʼn beweging wat deur gewone werkende mense begin is.

Alhoewel dit by verre die grootste organisasie in die Afrikaner- en Afrikaanse gemeenskap is, maak die Solidariteit Beweging nie aanspraak daarop dat hy namens alle Afrikaners praat nie, maar verteenwoordig die belange van sy lede en ondersteuners.

Die pad van die Beweging

Werk
Die eerste stap was om die ou bankrot-MWU weer sterk te maak. Finansiële stelsels is verander, werwingsveldtogte is begin en nuwe personeel is aangestel. In 2001 is die naam verander na Solidariteit. Die ou MWU het ongeveer 20 000 betalende lede gehad en vandag is Solidariteit meer as tien keer groter en een van Suid-Afrika se grootste vakbonde. Solidariteit het ʼn skuif gemaak om nie net in werksplekke te organiseer nie, maar ook in beroepe en het vandag beroepsnetwerke in al die groot beroepe. Solidariteit het ook deur tegnologie betrokke geraak by werkfasilitering. Sowat 4 000 werkgewers het reeds 14 000 poste op Solidariteit se platform geplaas.

Maatskaplike ontwikkeling
Binne die Mynwerkersunie is reeds in 1949 ʼn maatskaplike been, Helpende Hand, begin. In 2001 is besluit om Helpende Hand ʼn selfstandige instelling te maak. Daar is op klein skaal begin om studente met studies te help en ʼn eerste voedingsprogram by ʼn skool in Vanderbijlpark te loods.

Solidariteit-lede is gebel en gevra om by te dra tot die Helpende Hand-fonds. Daar was groot entoesiasme. Later het elke Solidariteit-lid R5 per maand vir studiehulp bygedra. Hierdie jaar is meer as R60 miljoen in die vorm van studiehulp aan studente uitbetaal.

Solidariteit Helpende Hand het nou 230 takke en dorpsverteenwoordigers in 14 streke. Daar is 14 streekmaatskaplike werkers en altesaam 30 maatskaplike werkers.

Daar is sewe Ons Plekke met naskoolse sentrums en kleuterskole vir behoeftige kinders. Drie duisend dogters ontvang maandeliks sanitêre produkte, 8 000 kinders kry daagliks kos en 2000 kinders ontvang jaarliks skooltassies en skryfbehoeftes. Solidariteit Helpende Hand het ook ʼn Opleidingsinstituut begin wat tuisversorgers oplei.

Opleiding en onderwys
Daar is besef dat opleiding die hart van enige Beweging is wat ernstig oor die toekoms is. Die bou van opleidingsinstellings is duur en word gewoonlik swaar deur die staat gesubsidieer.

Solidariteit het begin met ʼn landswye toer na fabrieke, myne, skole en ander werksplekke en het lede gevra om elk R10 tot ʼn Boufonds by te dra. Dit is met hierdie R10de waarmee Sol-Tech en later Akademia en Bo-Karoo Opleiding begin is.

Sol-Tech
In 2007 is Sol-Tech met 64 elektriese studente in Solidariteit se kantore begin. Vandag is daar ongeveer 3 000 studente in verskillende fases van opleiding.

Die rigtings sluit vandag in: dieselwerktuigkunde, auto-elektries, elektries, meulmaker, megatroniese tegnikus, pas en draai, gereedskapmaker, sweis, haarkappery, vroeë kinderontwikkeling en inligtingstegnologie.

Sol-Tech beskik oor wêreldklas toerusting, ʼn wêreldklas kampus en koshuise.

Akademia
Akademia is in 2012 met 40 studente begin. Aanvanklik is slegs ʼn telematiese aanbod gebied. Dit het ook in Solidariteit se kantore begin. Sentrums is oor die land gevestig.

In 2021 is ʼn opkampusaanbod met 111 studente in Centurion begin. Vandag is daar sowat 4500 studente by Akademia.

Daar is nou vier fakulteite: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe en Opvoedkunde. ʼn Groot nuwe kampus word gebou en die fakulteite en programaanbod gaan ingrypend uitgebrei word.

Bo-Karoo Opleiding
In 2019 is die eerste vyf voltydse studente by Bo-Karoo Opleiding op Orania ontvang. Die instelling het nou sowat 250 studente, ʼn tweede inname vir die jaar word beplan en dit groei met 40% per jaar. Nuwe werkswinkels is gebou en verdere uitbreidings volg binnekort. Daar is pragtige studenteverblyf, ʼn proefplaas en ʼn klein kampus in aanbou. Die twee grootste bene van BKO is tegnies en landbou en die programaanbod word tans ingrypend uitgebrei.

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum
Afrikaanse skole en skoolonderwys in die algemeen het onder groot druk gekom. Die aantal Afrikaanse skole het van 1 800 tot 900 afgeneem. In 2015 is die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) gestig. Vandag is bykans 50 000 Afrikaanse kinders op Wolkskool. Sowat 20 000 onderwysers maak van Wolkskool gebruik. Jaarliks word 7 000 onderwysers opgelei en daar is 250 lid-skole van SOS.

Daar is ook besef dat onafhanklike skole gebou moet word. ʼn Konsessiemodel, met die naam Gimnasium-skole, gaan gemeenskappe in staat stel om eie skole te bou. Die eerste skool word binnekort gebou.

Solidariteit Leer
Voortgesette opleiding is ook van kritieke belang. Op Solidariteit se platform word 200 voortgesette leerkursusse aangebied.

Eiendomsontwikkeling
Die instellings van die Solidariteit Beweging is met R10de en klein bydraes van lede begin. Om ʼn kampus te bou, is klein skenkings egter nie voldoende nie.

Die eiendomsmaatskappy Kanton is in 2019 gestig. Die doel van Kanton is om leefruimtes vir Afrikaans te bou deur ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal te fasiliteer.

Die eerste groot projek was die Sol-Techkampus, gevolg deur die Sol-Tech-koshuise.

Die grootste projek tot dusver is die Akademia-kampus. Dit is ʼn R3,2 miljardprojek waarvan die eerste fase R1,2 miljard beloop. Dit het reeds afgeskop en beleggers word gewerf.

Sol-Tech en Akademia is die huurders en beleggers weet daar is langtermyn, betroubare huurders.

Deur ʼn goeie kommersiële belegging help beleggers ook om kulturele ruimtes te bou. Daar word ook beplan om in die toekoms ʼn Akademia-kampus in die Wes-Kaap te bou asook skole, binne die groter Gimnasium-groep.

Burgerregte, veiligheid en munisipale dienslewering
AfriForum is in 2006 begin. Die belangrikheid van die beskerming van burgerregte is vroeg besef en AfriForum het reeds verskeie hofsake gewen. AfriForum is egter in die eerste plek ʼn gemeenskapsorganisasie en wil gemeenskappe sterk maak.

AfriForum het 10 000 vrywilligers, 165 takke en 177 buurtwagte oor die land. Daar word landswyd gehelp met munisipale dienste oor ʼn wye front, tot voordeel van die hele gemeenskap.

Veiligheidstrukture maak gemeenskappe oor die hele land veiliger. Daar is op munisipale en veiligheidsvlakke samewerking met owerhede op verskeie vlakke, insluitend metro’s, munisipaliteite en die polisie.

Kultuur en media
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het met al hulle werksaamhede ook uiteindelik by die Solidariteit Beweging ingeskakel om die rol van kultuur- en erfenisbewaring te help vervul. By die AfriForum Teater word deurlopend Afrikaanse produksies aangebied.

Maroela Media is gestig en is nou een van die land se grootste mediahuise wat ook inhoud aan tientalle gemeenskapsradiostasies lewer.

AfriForumTV het 200 000 intekenaars. Die instellings van die Solidariteit Beweging het ʼn reuse-sosiale mediateenwoordigheid, met byvoorbeeld meer as 1,8 miljoen volgelinge op Facebook alleen.

Selfstandige gemeenskappe
Vir die Solidariteit Beweging is sterk, selfstandige gemeenskappe noodsaaklik. Die Beweging volg ʼn konsentrasiestrategie wat die natuurlike migrasie van Afrikaners ondersteun en gemeenskapsinfrastruktuur vestig.

Dit sluit werk-, maatskaplike, veiligheids-, dienslewerings-, kulturele en onderwys- en opleidingsondersteuning in.

AfriForum is ook betrokke by selfstandigheidsprojekte by talle tradisionele gemeenskappe en by ʼn netwerk van tradisionele gemeenskappe. AfriForum ondersteun ook die Kaapse Forum.

AfriForum vestig in ankergmeenskappe plaaslike gemeenskapforums wat as platform dien vir skole, kerke en ander gemeenskaporganisasies om mekaar en die gemeenskap te versterk,

Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy is gestig om te help om ʼn selfstandige gemeenskap in die Bo-Karoo te vestig. Dit is deel van die groot konsentrasiestrategie en die versterking van ankergemeenskappe landswyd.

Ander sake-inisiatiewe
Om die Beweging kommersieel te laat funksioneer, is daar verskeie sake-inisiatiewe. Dit sluit in ʼn finansiële diensmaatskappy, Konnek, met ʼn fokus op korttermynversekering, lenings en beleggingsadvies.

Daar is ook ʼn spysenieringsmaatskappy, Spys, wat spyseniering vir personeel en studente doen. Verder is daar die Solidariteit Beleggingsmaatskappy, die AfriForum Beleggingsmaatskappy en Helpende Hand-sake wat 127 tweedehandse winkels bestuur.

Daar is ook ʼn Solidariteit Regsfonds en Solidariteit Boufonds waartoe mense kan bydra.

Hoe word die Beweging befonds?
Die Solidariteit Beweging word nie op enige vreemde manier befonds nie. Die Beweging bestaan uit kulturele entrepreneurs wat deur streng dissipline en gewone sakebeginsels bestuur word. Die bedryfsbegroting van die Beweging is so groot soos dié van ʼn mediumgrootte maatskappy op die Johannesburgse Effektebeurs. Die korporatiewe bestuur van die instellings is dus streng.

Die ledeorganisasies word deur ledegeld befonds. Oorgangsfinansiering vir die oprigting van instellings word uit skenkingsfondse en opbrengste uit finansiële dienste befonds.

Elke instelling het sy eie unieke finansiële enjin. Studente is byvoorbeeld die grootste befondsers van die opleidingsinstellings, advertensies befonds Maroela Media, en tweedehandse winkels befonds Solidariteit Helpende Hand. Kanton, wat verantwoordelik is vir eiendomsontwikkeling, insluitend kampusse, werf aandeelhouers op ʼn kommersiële grondslag.

Wie besit wie en wat?
Die instellings van die Solidariteit Beweging word belyn binne die Solidariteit Beweging Trust. Die naam van die Trust dui bloot daarop dat die groter Beweging uit Solidariteit ontstaan het.

Solidariteit of die Trust besit egter nie die instellings van die Beweging nie. Al die ledeinstellings en opleidingsinstellings is maatskappye sonder winsbejag. Daar is dus geen aandeelhouers wat geld uit ledeorganisasies verdien nie. Alle inkomste fokus op die uitvoering van ledeorganisasies se doelwitte.

Direkteure moet toesien dat elke instelling in diens van sy missie en die gemeenskap funksioneer.

Solidariteit het ook ʼn netwerk van vriende en vennote wat insluit die landbouorganisasie Saai, die organisasies van die Afrikaner Leiersnetwerk, ander gemeenskapsleiers en gemeenskapmedia. Solidariteit is nie betrokke in die partypolitiek nie, maar het goeie verhoudings met verskeie politieke partye wat die belang van die Beweging se lede beskerm.

Alhoewel die Solidariteit Beweging gereeld in dispuut met die regering is, is ons lief vir die land. Wanneer ons met die regering bots, is dit ter wille van die land. Ons is hier om te bly, en daarom sal ons soms veg en baie bou. Ons is nie van die regering afhanklik vir ʼn toekoms nie. Daarom het ons hoop, want ons sal self.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Krag van gemeenskap, nie mag van sameswering

Talle kritici probeer die Solidariteit Beweging se reusesukses vandag met samesweringsteorieë verklaar; hulle aanvaar daar moet een of ander groter mag hier agter sit.

“Hulle dínk nie eers daaraan dat ʼn gemeenskap dalk sukses kan bereik deur hard te werk, slim te werk en bloot die regte ding te doen nie.”

Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, is die politieke idee waarvoor hulle in die 1990’s van links én regs gekasty is, die einste idee wat die Beweging se sukses die afgelope dekades help verseker het.

“En daardie idee is federalisme,” het Hermann gesê in ʼn onderhoud met Maroela Media oor die pad wat hy die afgelope 29 jaar gestap het – vanaf organiseerder by die destydse Mynwerkersunie (MWU) in 1997 tot uitvoerende hoof van Solidariteit in 2026.

“Ons was in die meer konserwatiewe skool van denke wat geglo het in federalisme as antwoord op die politieke oorgang wat Suid-Afrika in die 1990’s moes maak.”

Hierdie idee is destyds van alkante gekritiseer; enersyds deur diegene wat gemeen het SuidAfrika moes bly soos dit was en andersyds deur diegene wat gemeen het ʼn sentrale eenheidstaat is die toekoms.

Hoewel die 1990’s uiteindelik ʼn relatief gladde oorgangstydperk was, het dit talle Afrikanerorganisasies in ‘n krisis gelaat, verduidelik Hermann.

“Daar val die twee Afrikaner-politieke partye, en die georganiseerde Afrikaner-wêreld is in ʼn politieke krisis. Nie net die MWU nie, maar talle Afrikaner-organisasies. ʼn Klomp van hulle was in die ou Afrikaner-politiek vasgeverf, baie as stutorganisasies van die NP of KP.”

Volgens Hermann was die MWU in ʼn besonder moeilike posisie, omdat hulle op daardie stadium nie net bankrot aan geld was nie, maar ook aan idees.

“Die MWU was redelik aan die regterkant van die politieke spektrum, en ’n groot deel van hulle bestaansrede was om die oorgang na ʼn nuwe bedeling te probeer stuit. Hier gebeur die verandering, wat die organisasie grotendeels sonder ʼn bestaansrede gelaat het.”

Dit was teen dié agtergrond wat Flip Buys in 1997 tot hoofsekretaris van die MWU verkies is en ʼn nuwe era aanvang geneem het. Buys het reeds op die kongres waartydens hy verkies is melding gemaak dat die vakbond uiteindelik omvorm en uitgebrei moet word tot ʼn beweging van taal- en kultuurinstellings om Afrikanerbelange en hul plek in die nuwe bedeling te beskerm en te bevorder.

“Dít was hoekom ek destyds by die MWU aangesluit het. Ek het nie die [gebroke] instelling gesien nie, maar Flip se droom.”

So het Hermann, Buys en enersdenkendes wat by die organisasie aangesluit het nooit weggestap van hulle ideaal van federalisme nie. Omdat daar op die ou end nooit ʼn federalistiese politieke bestel tot stand gekom het nie, het die MWU, later Solidariteit en uiteindelik die Solidariteit Beweging bloot ʼn ander soort bestel gaan bou waaroor hulle wel beheer het.

“Die een waaroor ons beheer het, is gemeenskapsfederalisme waar ʼn gemeenskap besluit om sélf van onder af federalisme uit te bou deur besluitneming tot op die laagste moontlike vlak neer te sit.”

Hermann beskryf dít as Buys se “visie anderkant die woestyn”; Solidariteit se antwoord op die politieke vraagstuk van die tyd. ʼn Idee wat aanvanklik ongewild was, maar oor die afgelope 29 jaar reusesukses in die praktyk behaal het.

“Vandag het talle mense samesweringsteorieë dat om só suksesvol te wees, daar een of ander mag moet wees. Mense dink nie eers daaraan dat dit net die werk van suksesvolle kulturele entrepreneurs kan wees nie.”

“Mense moet ons eerder erkenning gee vir ons insig dat daar federalisme moes wees as wat hulle ons daarvoor kritiseer. Boonop werk die mense wat ons vandag steeds kritiseer se bestel [van sentrale eenheidsregering] glad nie!”

Dit was so eenvoudig soos dat ons bloot gekyk het na die werklikhede voor ons, hoe ʼn gemeenskap hiermee kan omgaan en ʼn moontlike antwoord op die werklikheid van sy tyd kan bied, verduidelik Hermann.

Dit is egter makliker gesê as gedaan.

“Ons het nie die staat se ondersteuning of geld gehad nie. Daar was nie ʼn instaatstellende statutêre omgewing nie. Ons het dus met ons gemeenskapsinstellings begin. Agter dié instellings is steeds ʼn dieper politieke idee van hoe ʼn ander bestel kan lyk ten spyte van die mislukte eenheidstaatsmodel wat ons nou sien.”

ʼn Instelling vir elke gemeenskapsfeer waarin breër Afrikanerbelange beskerming en bevordering verlang.

Om só ʼn groot versameling instellings egter goed te bestuur en te bedryf, is federalisme ook in die organisatoriese karakter ingebou – te vind in die doel én middele van die Solidariteit Beweging.

“So is die Beweging ook federaal van aard; met instellings wat soveel moontlik selfstandigheid het, maar steeds in verbondenheid met mekaar staan.”

Die samebindende ideaal?

“Ons wil ʼn toekoms aan die suidpunt van Afrika hê waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan voortleef. Ons bou dit vanuit ʼn Christelike grondslag en fokus op die Afrikaanse taal en Afrikanerkultuurgemeenskap spesifiek. Tussenin het instellings vryheid, hul eie kultuur, eie manier van doen en eie missie.”

Dit is volgens Hermann hoe die breër Beweging, met die hulp van gewone mense, gegroei het tot wat dit vandag is.

Nie met die mag van sameswering nie, maar met die krag van gemeenskap.

 

Geskryf deur die Maroela Media redaksie.

Flip Buys betree ná 29 jaar nuwe fase

In 1997 is Flip Buys op 34-jarige ouderdom verkies tot hoofsekretaris van die destydse Mynwerkersunie, wat later Solidariteit sou word. Sedertdien sit Buys op twee stoele: aan die een kant as uitvoerende hoof van die vakbond en aan die ander kant as voorsitter van die sambreelorganisasie die Solidariteit Beweging.

Nou, ná 29 jaar maak Buys klaar by die vakbond Solidariteit, die organisasie waaruit alles gebore is.

“Aan die een kant tree ek uit by die vakbond, sodat ek kan aantree by die Solidariteit Beweging,” het Buys in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Voortaan gaan Buys dus net fokus op voorsitterskap van die Solidariteit Beweging, wat onder meer insluit organisasies soos Solidariteit, AfriForum, die Solidariteit Helpende Hand, Sol-Tech, Akademia en Maroela Media.

Met sy formele en uitvoerende pligte by die vakbond wat tot ʼn einde kom, gaan hy een van die twee hoede wat hy tot dusver gedra het, neerlê. Die Solidariteit Beweging-hoed bly, die rol waarvoor hy buitendien meer algemeen bekend is.

“Dirk Hermann is deur die Solidariteit-hoofraad aangewys as my opvolger as uitvoerende hoof. [Hy] het vir ʼn lang tyd buitendien reeds waargeneem as bestuurshoof, wat beteken die oorgang is glad en goed vooruitbeplan.”

“Ná omtrent 30 jaar het ek darem al my kant gebring aan die vakbondkant,” sê Buys met glimlag.

“Dit is ʼn groot voorreg om te kan sê die vakbond is in ʼn goeie toestand en ons het ʼn goeie hoof wat daarop fokus, dat ek kan fokus op die Beweging en wat daarmee saamgaan.”

Dié groot nuwe fase waarin die Solidariteit Beweging is, met die omvang van aktiwiteite wat oor die jare heen aangeneem is, is deel van ʼn organisatoriese versnelling wat volgens Buys meer toegewyde aandag nodig het.

“Met die bou van die verskillende Bewegingsinstellings, wat altyd die doel was, het dit naderhand onmoontlik geword om op albei stoele te bly sit, en dit is waarom besluit is om die rolle te skei sodat beide in hul eie reg vervul kan word.”

Dit is ʼn reuse-organisasie en gebeur nie vanself nie, verduidelik Buys.

Reeds op die kongres waar Buys in 1997 verkies is, het hy daarvan melding gemaak dat die vakbond uiteindelik uitgebrei moet word tot ʼn beweging van taal- en kultuurinstellings met die breë oogmerk om Afrikanerbelange en hul plek in die nuwe bedeling te beskerm en bevorder.

Sedertdien het die Beweging inderdaad gegroei tot bykans 50 instellings met meer as 570 000 lede.

Omdat die vakbond Solidariteit as moederinstelling die afgelope dekades in ʼn groot mate nog die enjin van die breër sambreelorganisasie was, met talle gedeelde dienste ter wille van optimalisering, was daar nog heelwat verweefdheid tussen Bewegingsinstellings. Dit is ook die rede waarom Buys by die vakbond aangebly het in die jare selfs ná die Solidariteit Beweging as breër beweging vorm begin aanneem het.

“Namate die ander organisasies gegroei het, het hulle egter selfstandigheid en outonome uitvoerende vermoë ontwikkel wat die Beweging in hierdie nuwe fase inneem.”

Buys verwag ʼn gladde oorgang van leierskap in Solidariteit, omdat hy en Hermann reeds jare saamwerk en met weldeurdagte opvolgbeplanning die afgelope jare besig was met ʼn stelselmatige oorhandiging.

“Werksgewys gaan daar [dus] nie veel verander nie, maar verantwoordelikheidsgewys [laat dit my] met een groot bestuursverantwoordelikheid minder. Ek is baie dankbaar dat daar iemand soos Dirk is aan wie die stokkie oorgegee kan word.”

Goeie opvolgbeplanning het volgens Buys ʼn groot rol in die Beweging se ontwikkeling tot dusver gespeel.

“Die finale toets vir leierskap is dikwels die opvolger. Die kuns is nie daarin om ʼn span te bestuur nie, maar om ʼn span te bou; om leiers te versamel wat leiers rondom hulle versamel. Dit is hoe ʼn mens organisatoriese diepte kry.”

Die Solidariteit Beweging wat vandag bestaan, is daarom ook nie oornag of sonder moeite gebou nie.

“Ons het destyds nie die geld, uitvoerende vermoë, leiers of mense gehad nie, en moes dit na aanleiding van ʼn visie stelselmatig bou en ontwikkel.”

Afgesien van die reuse-organisatoriese taak was die post-1994-tydsgees selfs meer uitdagend. Dit was ʼn tyd waarin talle van die idees wat Solidariteit aangehang het, van die minder utopiese

scenario’s vir die land waarvoor hulle voorsiening gemaak en beplan het, baie ongewild was en waarvoor ek dikwels hewige kritiek ontvang het.

“Daarom is ek ook baie dankbaar dat die hoofraad ons altyd ondersteun het en begrip gehad vir dit wat besig was om te ontvou, omdat hulle heelwat nader aan mense op die grondvlak beweeg het as die kritici in ivoortorings.”

Ons was nie negatief oor die land nie, net realisties. Ons het die ANC se dokumente gelees en dit gegló. Ons het dus nie met ons wense gewerk nie, maar met die werklikhede, verduidelik Buys.

Die gevolgtrekking waartoe hulle eindelik gekom het?

“Ter wille van demokrasie, ter wille van vryheid, ter wille van oorlewing moet ons binne elke samelewingsfeer ʼn organisasie ter bevordering en beskerming van Afrikanerbelange begin.”

Namate talle waarskuwings ongelukkig werklikheid geword het, die regering stelselmatig verval en die Solidariteit Beweging stelselmatig geslaag het, het oorwegende kritiek in oorwegende ondersteuning verander.

“Vroeër het mense gedink dit is onnodig en onmoontlik [om self alternatiewe te bou]. Die meeste mense het nou begin agterkom dat dit wel nodig én moontlik is, wat is waarom ons vandag meer ondersteuning kry as in die verlede.”

Om nou, ná 29 jaar, terug te kyk op die verskillende groeifases in sy tyd by die vakbond is vir Buys bittersoet.

“Dit was dikwels ʼn harde tyd, maar ook ʼn baie lekker tyd. ʼn Mens het baie lief geword vir die mense van die vakbond. Die uittrede is dus aan die een kant hartseer, maar aan die ander kant is ek ook bly dat hulle steeds in goeie hande is met ʼn sterk en bestendige leierskorps.

“Ek kyk met dankbaarheid terug en verwagting vorentoe.”

Omdat Buys glo jou visie vir die toekoms altyd sterker moet wees as jou geheue van die verlede, is hy baie positief oor die toekoms van die Solidariteit Beweging wat hy nou toegewyd voorsit.

“Mense kyk dikwels vas in die grootskaalse verval wat in die land plaasvind. Hoewel dit ons almal neerslagtig maak, is dit egter nie al wat gebeur nie. Daar is ook ʼn reuse-opbouproses in die private en gemeenskapsektor. Hoewel daar verval van bo is, is daar ook opbou van onder af.”

Daarom gaan die Solidariteit Beweging ook in dié nuwe versnelde fase voort om te bou aan ruimtes “wat vry is van die swaar hand van die staat”.

Met die nuwe fase wat aanbreek bly Buys se moue vir die afsienbare toekoms hoopvol opgerol.

“Ons is nog so besig met soveel projekte, want daar is nog baie werk om te doen. Ek is nou 63, en as die Here wil, wil ek nog ʼn paar jaar voltyds betrokke wees.”

 

Geskryf deur Maroela Media redaksie.

Hokaai, regter – dis mos nie reg om onreg te gehoorsaam nie

Goeie en regverdige wette is noodsaaklik vir ‘n vry en vreedsame samelewing.

In die dorp Bozen in die noorde van Italië is ‘n aanhaling van die Joodse denker Hannah Arendt aangebring op ‘n muurpaneel uit die Mussolini-era: “Geen mens het die reg om te gehoorsaam nie.”

Die aanhaling is in reaksie op die Fascistiese oorheersing van die Duitse dorp en provinsie van Suid-Tirool deur die Mussolini-regering ná die Eerste Wêreldoorlog.

Die gebied was deel van Oostenryk, maar is ná die oorlog in 1919 aan Italië gegee vir hul ondersteuning van die Geallieerdes. Dis interessant dat genl. Jan Smuts Suid-Tirool gehelp het om outonome status te kry omdat hulle ‘n kommando gestuur het om die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog by te staan.

Ná Mussolini se bewindsoorname het hy begin om die Duitse bevolking te verdruk en Suid-Tirool te veritaliaans. Dit is gedoen deur Duitse skole se taalbeleid met wetgewing te verander, en deur werkgewers te dwing om deur ‘n kwotastelsel Italianers in diens te neem. Daar is vandag nog meer Italianers as Duitssprekendes in Bozen.

Arendt was verstom oor hoe die meeste gewone Italianers die verdrukkende en immorele wette van die Fascistiese regering gehoorsaam het.

Mussolini het die kern van die fascisme saamgevat met sy berugte slagspreuk: “Alles binne die staat, niks buite die staat, niks teen die staat nie.” Vir hom was die staat die kern, en die bevolking, ondernemings, kerke en die burgerlike gemeenskap moes ondergeskik aan die staat wees.

Die wet en die ‘reg’ is nie altyd dieselfde nie

Tydens die verhoor van die Nazi-oorlogsmisdadiger Adolf Eichmann het Arendt opspraak gewek deur te sê dat Eichmann nie ‘n demoniese en sadistiese monster was nie, maar ‘n gewone mens wat bloot gehoorsaam bevele uitgevoer het. Sy het gewaarsku dat sulke dinge nie net in Nazi-Duitsland of Fascistiese Italië kan gebeur nie, maar in enige samelewing waar mense immorele wette blindelings gehoorsaam. Boosheid is dan die verskriklike gevolg van gehoorsaamheid aan onregverdige wette. In kort, niemand het die reg om onreg te gehoorsaam bloot omdat dit die wet is nie. Die wet maak nie outomaties alles “reg” nie.

Verstaatliking

Suid-Afrika is nog ver van Mussolini se Italië, maar dit raak tyd om vroegtydig op Arendt se waarskuwing ag te slaan. Die ANC het die laaste jare met sy Nasionaal-Demokratiese Revolusie en die voortspruitende ideologie van transformatisme die samelewing al hoe meer begin verstaatlik. Dit word bewerkstellig deur staatsmag al hoe sterker te sentraliseer.

Dink maar aan die staatsoorname van water- en mineraalregte, die rassewetgewing wat alles voorskryf, van eienaarskap tot die werknemers- en verskaffersprofiel van ondernemings, staatsoorname van die Setas, die Bela-wetgewing, wat groter staatsbeheer oor skole nastreef, die onteieningswet, beoogde Nasionale Gesondheidsversekering, en die Wetsontwerp op Sakelisensiëring van laat verlede jaar.

Dis nie net mnr. Zuma wat die staat onregmatig gekaap het nie. Staatskaping is die kern van die ANC se ideologie en die doel van transformatisme.

Gehoorsaam

Tot dusver het die burgery selfs onregverdige wette gehoorsaam, ten spyte daarvan dat die praktyk duidelik gewys het dat die verstaatliking rampspoedige gevolge het, en dat dit teen die grondwetlike verstandhouding van die 90’s is.

Boonop het dit dudielik geword dat rassewette nie meer gerig is op regstelling nie, dat dit nie werk nie en nie kan werk nie, en dat dit boonop immoreel in in ‘n sogenaamde nierassige grondwetlike demokrasie.

In kort, dit is die wet, maar dit is nie die reg nie. Daarom het niemand die reg om onreg te gehoorsaam nie.

Transformatisme

Transformatisme gaan nie oor ‘n beter lewe vir almal nie, maar om die staatsideologie van radikale gelykmaking deur rasseformules af te dwing. Dit is onvermydelik dat kernsake soos vryheid, voorspoed, gelykheid voor die reg, ‘n werkende land en gelyke burgerskap die slagoffers van hierdie beleid is.

Mense is aan die wet gehoorsaam, omdat dit afgedwing word deur die staatsapparaat, en deurdat die konstitusionele hof transformatisme as ‘n grondwetlike opdrag vertolk, al kom die woord nie in die Grondwet voor nie.

Onwerkbare en immorele wette word gehoorsaam omdat daar leidende mense is wat dit normaliseer, die immoraliteit daarvan ontken, die wette regverdig en verdedig, en dit selfs help afdwing. Diesulkes het so diep in hierdie staatsideologie ingekoop dat hulle nie eens agterkom of omgee dat hulle aandadig is aan die lyding van miljoene gewone mense weens die staatsverval, werkloosheid en geweldsmisdaad nie.

Die Franse denker Frédéric Bastiat verduidelik die “normaliteit” van hierdie abnormaliteit treffend soos volg: “Wanneer plundering ‘n lewenswyse word vir ‘n groep mans in ‘n samelewing, skep hulle vir hulself ‘n regstelsel wat dit magtig en ‘n morele kode wat dit verheerlik.”

Die praktyk waar daar aandele van arm pensioenfondslede gevat is en aan ryk BEE-magnate gegee word, roep nog ‘n stelling van Bastiat op: “Daar is mense wat dink dat plundering moreel regverdigbaar word sodra dit wettig gemaak word.”

Indien onregverdige wette afgedwing word, kom die hele regsorde in die gedrang. Dan is die wet nie meer die reg nie, maar, soos Alvin Toffler dit beskryf, net verbloemde geweld.

Skuldkompleks

Die verskoning van oorlogsmisdadigers dat hulle net bevele uitgevoer het, of dat hulle nie geweet het van wandade nie, is nie geldige verwere nie. Hulle móét geweet het, of hulle wóú nie weet nie. Dit geld veral mense soos oudregter Johann van der Westhuizen, wat steeds die mislukte en immorele staatsideologie van transformatisme normaliseer, regverdig, verdedig en dit selfs help afdwing het.

Daarmee saam probeer hy ‘n kollektiewe skuldkompleks om Afrikaners se nekke hang, deur die verlede subtiel aan Nazisme te koppel soos in Rapport van 29 Maart.

Dr. Victor Frankl, filosoof en sielkundige, was ‘n oorlewende van die Nazi-konsentrasiekampe, en was bekend om sy verwerping van die idee van kollektiewe skuld. Hy het gesê dat niemand verantwoordelik gehou kan word vir iemand anders se dade nie.

Daarby, om apartheid met die Joodse volksmoord te vergelyk, kom in werklikheid neer op ‘n gesofistikeerde onderspeling van die gruwelike massamoord op Jode.

Daarom moet ons leer uit die lesse van die geskiedenis. Goeie en regverdige wette is noodsaaklik vir ‘n vry en vreedsame samelewing.

Daarteenoor lei blinde gehoorsaamheid aan onregverdige wette tot die vertrapping van die reg van mense.

Kom ons luister na die waarskuwing van Thomas Sowell, wat gesê het: “As jy die regering genoeg mag gee om sogenaamde sosiale geregtigheid te skep, het jy dit genoeg mag gegee om despotisme te skep. Miljoene mense oor die wêreld heen het met hul lewens betaal omdat hulle daardie eenvoudige feit oor die hoof gesien het.”

Vryheid vereis immers ewigdurende waaksaamheid.

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.