In diens van iets Groter as onsself

Akademia is ʼn pragtige projek.Dit is nie benoud nie. Dit weet presies wie dit is en is terselfdertyd verwelkomend. Die hele projek spreek van uitnemendheid – van die akademie tot die bouwerk. Wêreldklas, in Afrikaans.

Dit is Afrikaans en is daar vir die groot Afrikaanse gemeenskap én vir elkeen wat in Afrikaans wil studeer. Dit sluit juis studente in wat in Afrikaans wil studeer, maar op ander plekke uitgesluit word.

Dit staan te midde van die groot Westerse universiteitstradisie wat die wetenskap onbevange oopbreek binne die onbeperkte omvang van Sy skepping.

Dit vorm studente, en juis dít maak Akademia-studente gesog in die arbeidsmark. Hulle ontwikkel ʼn begrip van die geheel en van die ware, die goeie en die skone. Dit is die basis vir goeie werk.

Die analogie is Sol-Tech, wat in Afrikaans oplei en werkgewers oor die hele spektrum in rye staan om dié studente in diens te neem.

Akademia en Sol-Tech lei studente só op dat hulle ook gemaklik in ʼn Engelse wêreld kan werk.

Akademia het ʼn mooi storie.

Die begin was sowat 20 jaar gelede, toe Solidariteit-lede ingestem het om elk R10 per maand ekstra ledegeld te betaal vir ʼn Solidariteit Boufonds.

Dit was ons Dawidsklippies waarmee groot uitdagings oorwin moes word.

Eers is Sol-Tech begin en daarna Akademia. Beide Sol-Tech en Akademia is binne die grondwetlike raamwerk van Suid-Afrika gevestig.

Gewone mense wat werk, het hul bietjies gegee om iets groots te bou. Die grootste daarvan was vir hulle kinders en die gemeenskap.

Later het Solidariteit-lede nog R5 per maand vir studiehulp bygedra.

Hulle was groter as hulself, want bykans 20 jaar later word ander se kinders gehelp wat toe skaars gebore was en wie se name hulle nie eens geken het nie. Dít is die krag van gemeenskap.

Solidariteit-lede het ʼn daad verrig wat groter as hulself was. Hulle het gesê: “Ons beperk hierdie groot instellings nie net tot Solidariteit-lede nie, maar stel dit tot voordeel van die groter Afrikanergemeenskap, asook tot die groter kultuur- en Afrikaanse taalgemeenskap.”

Dit is ʼn gedeelde geskenk aan ʼn groter idee en juis daarom is dit nie om weg te gee nie. Dit is bloot onder rentmeesterskap vir die volgende generasie. Die gemeenskap is gevra om dit saam met ons te bewaar.

Die Solidariteit-lede was en is onbaatsugtig in diens van ʼn groter gemeenskap.

Solidariteit-lede was ook sentraal tot die oprigting van die ontwikkelingsmaatskappy, Kanton, wat eers die Sol-Tech-kampus gebou het en nou die Akademia-kampus bou.

Eers het Solidariteit sy eie geboue in die Kanton-portefeulje geplaas, waarborge is gegee en bates is in aandele omskep.

Dit het die bou van die Sol-Tech-kampus moontlik gemaak en die voorwaardes geskep vir die bou van die Akademia-kampus.

Maar nooit het Solidariteit-lede gesê: “Dit is net ons s’n nie.” Hulle het met dankbaarheid iets gebou vir hulle lede en dié se kinders, maar tot voordeel van die Afrikaanse gemeenskap en as ʼn kleinood vir die toekoms.

Akademia word nou só ʼn kleinood vir die Afrikaanse gemeenskap: ʼn geskenk deur gewone mense wat werk. Nederig begin, trots sien groei.

Vir hierdie groot Afrikaanse kleinood word daar nou deur Kanton ʼn kampus gebou. Die eerste fase beloop R1,8 miljard en die volledige projek meer as R3 miljard.

Die betrokkenheid word al groter. Eers het meer mense tot die Solidariteit Boufonds begin bydra om Akademia sterk te maak. Groot trusts het onbaatsugtig gehelp, en nou begin groter beleggers by Kanton betrokke raak om die kampus te bou.

Grond is gekoop en planne vorder goed vir ʼn kampus in die Paarl.

Solidariteit het nooit probeer om sy inisiatief benoud vir homself te hou nie.

Dit was altyd in diens van iets groters: ʼn groter gemeenskap. En dié groter gemeenskap begin nou al hoe meer betrokke raak. Dit raak ʼn sneeubal.

Daar is dié wat betrokke raak en help bou, en dan is daar kantkommentators wat kritiek lewer en wil breek.

Op die kantlyn skree hulle op Akademia en het hulle die vermetelheid om te wil voorskryf hoe dit moet lyk en wees.

Hulle het nie eens ʼn enkele R10 bygedra nie. Hulle was nie by die sweet en risiko van die begin betrokke nie en is selfs nou nie betrokke nie. Dit word ook nie met hulle belastinggeld gebou nie.

Solidariteit-lede het met hulle bietjies begin, dit in diens van ʼn groter gemeenskap gestel, en nou dink onbetrokke kommentators hulle kan die idee van Akademia vat en voorskryf.

Vir jare het hulle niks gedoen nie. Noudat daar iets is, raak hulle steeds nie betrokke nie, maar lewer hulle kritiek en skryf voor. Hulle is welkom om hulle eie iets te begin. Ons sal nie daarop kritiek lewer nie.

Intussen gaan ons almal voort om aan iets veel groter as onsself te bou. In diens van iets groter as onsself.

Dít is die energie van Akademia en van die hele Solidariteit Beweging.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Die Solidariteit Beweging wil net hê wat Max du Preez reeds het

Max du Preez se grootste mistasting in sy uitsprake oor die Solidariteit Beweging is dat hy die brandweer met die brandstigters verwar.

Ons gesin het in Desember ’n week saam met vriende in Simonstad deurgebring. Toe ek hoor dat Max du Preez daar bo in die berg met ’n seeuitsig bly, het ek sy wêreld beter verstaan. Simonstad lyk of daar min verander het sedert PW Botha se dae – as jy die vloot miskyk.

In Suid-Afrika bly ons in verskillende wêrelde in een land. Ek bly in die noorde, waar die toekoms reeds gebeur het. Du Preez bly in seker die mees Westerse dorp in die mees Westerse provinsie in die land. Simonstad is geografies én demografies ver verwyderd van Du Preez se staatsideologie waarteen hy homself verskans het.

Hy weet min of niks van die Solidariteit Beweging nie. Hy het ons ook nog nooit gekontak om meer uit te vind nie. Dit verhinder hom nogtans nie om sy vrye toegang tot die media te misbruik om ons te beskimp en te beskinder – én deesdae te beledig en belaster nie.

Selfbeskikking
In sy nuutste onderhoud op Netwerk24 vra hy wat ons “eindspel” is – wat hy smalend selfbeskikking noem. Die antwoord is maklik. Ons wil net hê wat hý reeds het.

Du Preez stem sekerlik vir die DA omdat hy self oor sy provinsie wil beskik sodat die ANC nie sy hande daarop kry nie. Dieselfde vir sy dorp, want hy het net een kyk noord gegee en gesien wat gebeur as die ANC oor ’n dorp of stad beskik. Net so beskik hy oor sy eie privaat medies, en waarskynlik sekuriteit ook – as dit in Simonstad al nodig is. Ek is ook seker hy kyk nie na die ANC beheerde TV-stasies nie en ry nie op die treine waaroor die ANC beskik nie.

Du Preez is ’n groter selfbeskikker as ons wat hier in die noorde bly en gedwing is om provinsiale en munisipale dienste te gebruik waaroor die ANC beskik – wanneer dit beskikbaar is. Hier is die demografie al lankal die demokrasie, en die regering van nasionale eenheid (RNE) en onbestendige munisipale koalisies het nog min daaraan verander.

Normaliteit
Die naam van Du Preez se nuwe boek, The End of Normal, is heel gepas. Die ANC se bewind sal tot die einde van normaliteit lei as hy nie gestop word nie. Daarom is ons “eindspel” bloot om normaliteit te help skep. Dis ’n land waar mense self besluit oor grondliggende sake wat hulle raak. Dís wat demokratiese vryheid is.

Normaliteit is waar mense waarde vir hul swaar verdiende belasting kry en saam oor die besteding daarvan kan “beskik”. Dis waar die munisipale dienste werk; waar misdadige en korrupte politici vervolg word; waar ouers self oor hul kinders se skole kan beskik; waar daar nie kwetsende rassewette is wat mense se normale regte, om oor hul ondernemings, werk of studierigting te beskik, ondemokraties met staatsmag inperk nie.

Normaliteit is waar die president en ministers nie amptelike ooreenkomste oor onderwyswette en rassekwotas met gemeenskapsorganisasies verbreek nog voordat die ink daarop droog is nie. Normaliteit is waar veteraanjoernaliste soos Du Preez nie oor kernsake soos hierdie swyg nie. Hy kritiseer net die ANC vurig as die party die staatsideologie korrup of onbevoeg uitvoer.

Sol-Tech
Ons strewe om ons taal en kultuur te beskerm is ’n strewe na demokratiese vryheid. Hoër onderwys is kulturele selfverwesenliking. Dis wêreldwyd normaal om alle grondwetlike regte te benut, nie regs nie.

Tale het ruimtes nodig waar dit die meerderheid kan wees om te kan voortbestaan. Die bou van vrye ruimtes vir Afrikaans is soos om vir jouself ‘n huis te bou. Jy bou nie ‘n huis om jou bure uit te sluit nie, maar juis om saam met hulle in daardie buurt voort te bou. Dan kan jy hulle oornooi vir ‘n koppie tee of ‘n lekker braai. Dit gaan oor ínsluiting, en juis nie oor uitsluiting nie.

Die staat sluit met sy rassekwotas wit jong mense prakties uit van beroepsopleiding in die openbare én privaat sektor. Daarom is Sol-Tech ‘n projek wat jong Afrikaanse mense wil ínsluit. Die kollege is ook, anders as wat hy kwaadwillig beweer, nie op ras gegrond nie, maar oop vir almal wat in Afrikaans wil studeer.

Terloops, ek wonder of Du Preez en kie besef wat dit geverg het om Sol-Tech van die grond af op te bou tot die wêreldklaskollege wat hy vandag is? Met die eerste R120 miljoen was ons grootse skenking net R10. Duisende gewone Solidariteit-lede het jare lank maandeliks tot hierdie helpmekaarprojek bygedra om die volgende geslag ‘n kans in die lewe te gee.

Ons kan nie die wêreld verander nie, Max, maar ons kon al duisende jong mense se wêrelde verander. Ons glo ook nie net aan binding (van Afrikaanse mense en Afrikaners) nie, maar ook aan brugbou. Sol-Tech probeer kliphard om brûe met die staat en ander kolleges in die land te bou en te help waar daar ’n wil en vermoë is om hande te vat.

Akademia
Du Preez vra (in die media om verdagtheid te saai, nie vir ons om ’n opregte antwoord te kry nie) of wit jong mense voldoende voorberei word op ’n meertalige werkslewe as hulle in Afrikaans opgelei word. Die antwoord is ’n besliste ja.

Die beste voorbereiding vir die wêreld daar buite is om wêreldklasopleiding in jou moedertaal te ontvang, omdat dit jou ten beste gereedmaak om jou kennis in ‘n ander taal toe te pas. Buitendien is Akademia (én Sol-Tech) se taalbeleid om studente net so goed in Engels toe te rus. Akademia se vormingsideaal is boonop daarop gerig om studente vir hul totale loopbane voor te berei, en nie net om ‘n werk te kry nie.

Die probleem is dat Du Preez die omvang en uiteinde van transformatisme hopeloos onderskat. Die meeste staatsbeskikte skole, TVET-beroepskolleges, en baie universiteite is al onderdeur getransformeer. Ons strewe na staatsbestande en selfstandige instellings behels nie net ‘n strewe na moedertaalonderwys nie, maar na vrye ruimtes sódat wêreldklasonderrig kan plaasvind.

Slagoffers
Die meeste Afrikaners se betreklike ekonomiese sukses is nie vanweë Du Preez se nuutste siening dat diskriminasie teen hulle ’n verbeeldingsvlug is nie. Hy het in 2003 al in sy boek Pale Native gesê dat wit mense onwelkom in hul eie land voel omdat ANC-leiers dit duidelik gemaak het dat hulle wit mense en Afrikaners as vreemde “kolonialiste-van-‘n-spesiale-soort-betreders” sien. In dieselfde boek skryf hy ook oor dieselfde rassewette wat hy nou skielik ontken.

Die feit dat Afrikaners nie slagoffers is nie, is ten spyte van die ANC se verdrukking. Dit spruit nie uit voortgesette bevoorregting nie, maar uit volgehoue prestasie ten spyte van struikelblokke.

Dit is só dat ons ‘n fokus op Afrikaners en die Afrikaanse taal en kultuurgemeenskappe het. Terselfdertyd doen ons veel meer vir die land en ál sy mense as Du Preez en die 44 wat die staatsagentskap se brief onderteken het. Ons het talle samewerkingsprojekte met swart instellings.

Du Preez se grootste mistasting is dat hy die brandweer met die brandstigters verwar. Die ANC met sy beleid, vrot regering, korrupsie en rassewette is die werklike brandstigters. AfriForum en Solidariteit, wat hy neerhalend “Afrisol” noem, is die brandweer wat probeer keer dat die land afbrand. Die sirenes mag moontlik soms te skril wees, maar as daar ‘n brand is, weet almal wie om te kontak.

Donald Trump
Ons besoek aan Washington het ten doel gehad om ons toegang in landsbelang te gebruik om die administrasie van pres. Donald Trump te probeer oorreed om nie die land te straf as hy vir die ANC kwaad is nie. Ons het sterk standpunt téén tariefmure en vír die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) ingeneem.

Ons versoek aan die VSA om soos voor 1994 op te tree, om versoening in Suid-Afrika te bevorder deur die ANC se verbreking van die grondwetlike skikking aan te pak, is ‘n regmatige reaksie op dit wat die ANC aanvang.

Kriminaliseer
Du Preez probeer ons beweging se leierskap kriminaliseer deur te beweer dat ons die staat ondermyn en nie net die ANC demokraties teenstaan nie. Hy beskryf ons nie net as verkeerd nie, maar as boos.

Die toekoms sal wys dat ons beweging ‘n onontbeerlike rol speel om demokratiese vryhede te beskerm, die verstaatliking van die samelewing teen te staan, ANC-wanbestuur en korrupsie te beveg, en op te bou waar ander afbreek. Ons bou die kulturele ekostelsel dat Afrikaners hier kan bly, sodat hulle ‘n volhoubare bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kan lewer.

Ons is nie net kommentators wat self niks doen en dan kritiseer wat ander doen om Suid-Afrika ‘n beter plek te maak nie.

 

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Akademia: ʼn Fakkeldraer vir die Afrikaanse universiteitswese

Suksesvolle en veerkragtige taal- en kultuurgemeenskappe word gekenmerk deur gesonde, stabiele en florerende onderwys en beroepsopleiding. Wat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe betref, dra Akademia trots die fakkel van die Afrikaanse universiteitswese. As onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit die Christelike en klassieke universiteitstradisie vier die instelling onomwonde sy roeping as moedertaalstudietuiste en word daar roepingsgedrewe na ʼn vrye toekoms gewerk.

Akademia: ʼn Hoopgewende alternatief vir Afrikaanssprekendes

Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, meen die instelling verteenwoordig ʼn hoopgewende alternatief vir Afrikaanssprekendes binne die Suid-Afrikaanse universiteitswese. Hierdie roepingsgedrewe bestaansreg word veral genoodsaak in ʼn tyd waarin Afrikaans as primêre onderrigtaal by openbare universiteite verskraal óf selfs mee weggedoen word. As gemeenskapsinstelling is Akademia daarop gerig om die universitêre ideale van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te dien en ʼn akademiese tuiste te bied waar denke sowel as die hart gevorm word. Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van die instelling, streef Akademia daarna om méér as net wêreldklas opleiding te bied. Die instelling is ook verbonde tot die klassieke rol van die universiteitswese – om studente tot intellektuele, emosionele en lewensbeskoulike volwassenheid te bring. “Akademia werk onverpoosd in geloof, hoop en liefde om op hierdie manier diensbaar tot ons gemeenskap te wees. Op dié manier vestig ons ʼn vernuwende Afrikaanse universiteitswese,” verduidelik Visser.

Van ʼn nederige begin tot ʼn beduidende rolspeler

Die instelling bied sedert 2012 verskeie studieopsies aan studente en het snel ontwikkel tot ʼn voorkeur- Afrikaanse studietuiste. Behalwe vir vyf dinamiese fakulteite, het studente ook die geleentheid om by wyse van óf die voltydse kampusmodel óf die nauurse afstandsmodel te studeer. Eersgenoemde word by die instellings se kampusse in Centurion, en eersdaags ook in die Paarl, aangebied, terwyl die tweede opsie studente by wyse van ʼn sentrumnetwerk dwarsoor die land óf via ʼn e-leeropsie in staat stel om hul studie te voltooi. Laasgenoemde bied ook aan Afrikaanssprekendes buite die Suid-Afrikaanse landsgrense die geleentheid om in hul moedertaal te studeer. Akademia se internasionale voetspoor sluit lande soos onder meer Australië, Namibië, Nederland, Nieu-Seeland, Rusland, Swede, Thailand, die Verenigde Emirate en die Verenigde State van Amerika in.

Dertien jaar van groei

Die instelling kyk vanjaar terug op dertien jaar van klas aanbied en volgens Visser sal daar doelgerig voortgebou word op die positiewe momentum wat in die voorafgaande jare ontsluit is. Hierdie momentum verleen volgens Visser verdere stukrag aan die instelling se bestaansrede as gemeenskapsinstelling. “Akademia het oor die bestek van sy bestaan reeds verskeie gróót en betekenisvolle tree geneem en daar is nougeset gewerk om doelwitte oor verskeie terreine te verwesenlik. Óf dit nou die uitbouing van ons akademiese programaanbod, die vestiging van nuwe studentelewetradisies, geografiese uitbreidingsgeleenthede óf die groei van personeel- en studentegetalle was, die standaard is hóóg gestel en die grondslag is gelê vir selfs groter impak,” verduidelik Visser. Vanaf die registrasie van Akademia as ʼn onafhanklike hoëronderwysinstelling op 3 Januarie 2012 en met ʼn studentetal van 42 studente oor vyf programme het die instelling gegroei na ongeveer 3 800 studente, vyf fakulteite en 23 programme.

Verdere uitbouing van die Afrikaanse universiteitswese

Visser beklemtoon dat Akademia dankbaar is om dié groei van die afgelope dertien jaar te kan vier, maar dat die instelling opnuut die groter roepingsbesef ervaar wat betref die verantwoordelikheid jeens die toekoms. “Akademia is nou gevestig en die tyd van verdieping, verbreding en uitbou het aangebreek. Met ons waardes as kompas en ons visie as eindpunt, werk ons toegewyd om hierdie belangrike taak te verwesenlik,” sê Visser. Die instelling sal vanaf 2026 ʼn kampusteenwoordigheid in die Paarl, in die Wes-Kaap geniet. Hierdie geografiese uitbreiding sal nie net Akademia se bestaande voetspoor in dié streek uitbrei nie, maar ook sy verbondenheid tot die gemeenskap verder versterk. Akademia se kampusdroom, naamlik om ʼn wêreldklas residensiële kampus in Pretoria te vestig waar 5 000 voltydse voorgraadse studente en nagenoeg 1 500 nagraadse studente tuis sal wees, is tans in sy ontwikkelingsfase. Die doeldatum vir dié projek, in vennootskap met die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton, word op Januarie 2028 gestel. Die Toekomsbouer-projek bied aan lede van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe die geleentheid om nie net saam oor die toekoms te droom nie, maar ook aktief saam te bou by wyse van skenkings, beleggings en testamentêre bemakings ten einde hierdie kampusdroom te verwesenlik. Stuur gerus ʼn e-pos na skenking@akademia.ac.za en een van Akademia se fondsbestuurders sal spoedig met jou kontak maak om ʼn besoek te reël en die aard van jou skenking, bydrae of nalatenskap te bespreek.  

ʼn Wêreldklas kampus in wording. Dié argiteksvoorstelling bied ʼn oorsig van hoe die nuwe Akademia-kampus daarvan sal uitsien.

Die Toekomsbouer-veldtog is van stapel gestuur om Akademia se droom van ʼn wêreldklas residensiële kampus in Pretoria te help verwesenlik en só die voortbestaan van Afrikaanse universiteitswese te help verseker.

G’n kultuur sonder sy bouwerk bedink

Artikel deur Flip Buys vir Rapport

Kom ons bou leefruimtes vir Afrikaans, want geboue verskaf veiligheid, skryf Flip Buys

Die grootsheid van ’n kultuur word gewoonlik aan die grootsheid van sy bouwerk gemeet.

Daarom staan die mensdom vandag nog verwonderd oor die piramides wat die antieke Egiptenare 4 600 jaar gelede gebou het. Dit word steeds as wonderwerke beskou en argeoloë bespiegel al vir jare hoe hulle dit vermag het. Waaroor daar wel eenstemmigheid is, is dat die bou van die piramides net moontlik kon wees danksy gesofistikeerde ingenieurswese, argitektuur, wiskunde, wetenskap, sterrekunde en logistiek.

Daarbenewens het bouwerk van daardie omvang gevorderde vorme van staatkundige ordening, ekonomiese ontwikkeling, bestuur, organisasie, geletterdheid en opleiding geverg.

Argeoloë; sê vandag dat die antieke Egiptenare die piramides gebou het. Maar in werklikheid het die piramides terselfdertyd die Egiptenare as hoogs ontwikkelde beskawing gebou. Daarmee word bedoel dat die eeue lange bouwerk aan die piramides en ander infrastruktuur wat ’n ontwikkelde samelewing benodig het, ook die Egiptiese kultuur gebou het.

Soos Winston Churchill gesê het: “Eers vorm ons ons geboue en daarna vorm ons geboue ons.”

Bouwerk van die omvang van die piramides vereis immers ’n gevorderde kultuur wat in staat is om groot gesamentlike projekte aan te pak, die hulpbronne daarvoor te monster, doeltreffend te beplan en te organiseer, die arbeidsmag daarvoor op te bou, en dit verg die leierskap en kundigheid om dit suksesvol uit te voer.

Dieselfde geld natuurlik vir al die gevorderde antieke beskawings wat in China, Persië Griekeland en Indië ontstaan het. Die Romeine se paaie, brûe, akwadukte, teaters en stede het ’n Romeinse lewe moontlik gemaak en hulle kultuur wyd oorgedra en versprei. Daardeur is die grondslag van die moderne Wes-Europa gelê. Geen kultuur kan sonder sy bouwerk bedink word nie omdat ’n kultuurgemeenskap in, vanuit en deur sy instellings en die geboue wat dit huisves, leef.

Dit onderlê ook ons eie geskiedenis. Pres. Paul Kruger was byvoorbeeld nie net ’n staatsbouer nie, maar ook ’n stadsbouer. Hy het ’n groot rol gespeel om Pretoria van ’n stowwerige dorpie na ’n hoofstad uit te bou. Dink maar aan die Ou Raadsaal, die Paleis van Justisie, museums, hospitale, skole en die forte rondom Pretoria. Geboue is in werklikheid die kulturele infrastruktuur van ’n volk. Dit “bou” die kultuur deurdat die Raadsaal die kern van die staatkundige Republiek was, die Paleis van Justisie die sentrum van die regsorde was, en die skole kennis en kultuur aan die volgende geslag oorgedra het.

Afrikaners het in latere jare ’n land vol geboue opgerig wat weer hulle (die Afrikaners) se kultuur gebou het. Dink aan die geboue wat vir opvoedkundige, ekonomiese, kulturele, mediese, militêre en ander doeleindes gebou is.

As ’n jong student het die Pukke se universiteitslied vir my maar outyds-hartseer geklink: “Gebore uit die nag van smaad, sien ons jou staan as wonderdaad . . .” Soos die meeste ander studente het ek die moderne kampus waar ek in die laat 1980’s studeer het as ’n gegewe aanvaar. Min het ek geweet dat as jy sélf iets verniet gekry het, dit nie sonder koste daargestel is nie, want ander mense het ’n duur prys daarvoor betaal. Later het ek besef watter wonderwerk die universiteit eintlik was, en met watter geweldige opoffering dit voor en ná die Anglo-Boereoorlog uit die grond verrys het.

Pres. Paul Kruger het in 1897 self £100 –destyds ’n reusebedrag – vir studiebeurse vir studente nagelaat. Die eerste rektor, prof. Jan Lion-Cachet, is deur die Britte in hegtenis geneem en sy seun is in die oorlog doodgeskiet. Die verhaal van die Potchefstroomse Universiteit is egter nie die uitsondering nie. Die geskiedenis van universiteite soos Stellenbosch, Unisa, UP (Tukkies), die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (Kovsies) en die RAU (nou UJ) vertel soortgelyke verhale van groot dink en klein begin. Die meeste is deur kerke en gemeenskappe tot stand gebring sonder groot staatsgeld.

Die Keniaanse denker Ali Mazrui het treffend gesê dat die gemeenskap eers die universiteit moet ophelp voordat die universiteit die gemeenskap kan ophef. Die verband tussen gemeenskap en universiteit is ook deur genl. Jan Smuts bevestig toe hy in 1910 die wens uitgespreek het dat die Universiteit van Pretoria vir die destydse Transvaal sal word wat Oxford vir Engeland was.

Afrikaans, ’n Afrikaanse lewe en die oordrag van ’n taal en kultuur is onmoontlik sonder opvoedkundige instellings wat dit kan huisves. Die vraag is hoekom skole, kolleges en universiteite so belangrik is vir taal- en kultuurgemeenskappe.

Die beste antwoord hierop is deur Albert Einstein gegee. Hy het gesê dat die wonderlike dinge wat kinders in skole en universiteite leer die versamelde werk van vele geslagte is. Dit word alles in hulle hande as erfenis gesit sodat hulle dit kan kry, daarby kan byvoeg, en dit eendag aan hulle kinders kan oorhandig.

Die doel van kulturele infrastruktuur is nie om ’n groep te isoleer of ander uit te sluit nie, maar die teenoorgestelde. Dit skep reeds die ruimte om saam met ander mense te bly, bykans soos wat ’n huis gebou word sodat ’n gesin saam met hulle bure in ’n woongebied kan bly. ’n Huis bestaan uit verskeie vertrekke, elkeen met ’n eie doel. Dieselfde geld vir ’n kultuurhuishouding – daar is vertrekke vir onderwys, opleiding, taal, maatskaplike sorg en erfenisbewaring. Dit is die rede waarom die Solidariteit Beweging oor die afgelope dekade of wat stelselmatig ’n hele kulturele ekosisteem opbou.

Indien die omstandighede geskep word sodat Afrikaners en die Afrikaanse gemeenskap volhoubaar hier kan bly, sal ons ’n blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kan maak.

Geboue is belangrik, want “plek” verskaf veiligheid, en die ruimtes gee vryheid.

Die uitdaging is om hierdie kulturele infrastruktuur sonder staatshulp te bou. Dit is die rede waarom die Solidariteit Beweging ’n paar jaar gelede ’n eiendomsmaatskappy met die naam Kanton gestig het. Die bekendste projek wat Kanton suksesvol aangepak het, is die oprigting van die Sol-Tech-kampus en -koshuise in Centurion. Kanton se doel is om ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal te sluit deur beleggings vanuit die private sektor te werf en daarmee ruimtes vir Afrikaans te bou.

Beleggers verdien ’n geldelike opbrengs en kry ook ’n kulturele dividend in die vorm van ’n universiteit, terwyl ook reeds beplan word aan die daarstelling van ’n onafhanklike skolenetwerk. Ons glo dat ’n Afrikaanse universiteit onontbeerlik is vir die voortbestaan van Afrikaans.

Tweedens bly moedertaalonderrig die beste vorm van opleiding terwyl studente ook toegerus word om hulself in Engelse werkplekke te handhaaf. Die beste bewys hiervan is die top- Afrikaanse mense wat aan enkeltalige Afrikaanse universiteite studeer het en wat nou gesogte poste in die buiteland beklee.

Akademia en Kanton stel ná jare se deurdagte werk en beplanning die Toekomsbouer-veldtog bekend met die doel om kapitaalkragtige mense en instellings die geleentheid te bied om in Akademia se beplande nuwe kampus in Pretoria-Oos te belê. Die breër publiek gaan ook later die kans kry om beleggings te maak.

Die Britse denker Roger Scruton het gesê dat ’n samelewing net kan voortbestaan as elke geslag vir die volgende geslag leef. Kanton bou vir die volgende geslag, en wil die huidige geslag die kans gee om saam te bou.

Die idee is nie om monumente vir ons voorouers te bou nie, maar lewende instellings vir die nuwe geslag. Dit is nou tyd vir skeppende vernuwing, gegrond op beproefde waardes.

Lees meer: Akademia en Kanton stel monumentale kampusontwikkeling bekend

Flip Buys is die hoof van die Solidariteit Beweging
Flip Buys is die hoof van die Solidariteit Beweging

Akademia en Kanton stel monumentale kampusontwikkeling bekend

Die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton het vandag op 1 Augustus die nuwe kampusontwikkelingprojek van Akademia in Pretoria as deel van die Toekomsbouer-veldtog bekendgestel. Dié kampusprojek is die grootste ontwikkelingsprojek in die geskiedenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe en verteenwoordig ’n groot historiese keerpunt om die volhoubaarheid van hoër onderwys in Afrikaans te verseker. Akademia maak sedert 2012 van tussentydse infrastruktuuroplossings gebruik. Die voltydse kampusmodel het in 2021 aanvang geneem en so uitgebrei dat daar tans twee kampusse, vier koshuise, twee daghuise sowel as die administratiewe hoofkantoor is wat tans oor verskeie persele in Centurion versprei is. Die nuwe omvattende residensiële kampus in die ooste van Pretoria sal aan die instelling die geleentheid bied om sy groei oor die afgelope dekade te konsolideer en ’n vaste adres vir sy toekomstige kampusstudente te bied wat ’n veerkragtige en opwindende studentelewe gaan ondersteun. “Die nuwe kampus is die verwesenliking van ’n groot droom. Dit vereis die krag van ’n belynde gemeenskap wat deur eensgesindheid en samewerking die oënskynlik onmoontlike kan verwesenlik,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia. “In die lig hiervan is die Toekomsbouer-veldtog ’n oproep aan die gemeenskap om deel te word van ’n ongelooflike geleentheid – iets soos wat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe nie in ’n geruime tyd beleef het nie. Dit bied ’n geleentheid waar hoop en ’n nalatenskap fisies opgerig gaan word.”

Projekomvang

Die ontwikkeling sal in Pretoria geleë wees, agt kilometer vanaf Solomon Mahlangu-rylaan op die Boschkop-pad in die ooste van Pretoria. Die nuwe kampus bied aan Akademia die geleentheid om ’n volledige en uitgebreide akademiese programaanbod oor al sy fakulteite beskikbaar te maak wat aan die omvattende vraag van voornemende studente sal voldoen. Dié kampus sal voorts voorsiening maak vir 5 000 voltydse voorgraadse studente en nagenoeg 1 500 nagraadse studente. Vier mans- en vier dameskoshuise sal 1 500 studente op die kampus kan huisves. “Fase een van die projek sal nagenoeg R1,8 miljard beloop en op 1 Januarie 2028 voltooi wees, terwyl die totale ontwikkelingskoste meer as R3 miljard sal wees. Die tweede fase behels die voltooiing van die akademiese kampus en koshuise waarna die sportfasiliteite, kapel en ouditorium volg,” verduidelik Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton. “Ons gaan ’n reusemonument vir Afrikaanse hoër onderwys oprig. Dit gaan kantoorblokke, lesingsale, laboratoriums, ’n ouditorium, doelgerigte navorsingslokale, ’n kafeteria, restaurante, koffiewinkels, ’n studentesentrum, biblioteek, koshuise, personeelverblyf én wêreldklas sportfasiliteite vir rugby, krieket, netbal, tennis, atletiek, hokkie, swem en binnenshuise sportsoorte insluit,” voeg Schalekamp by. “Daar word ook ’n proefplaas vir die Natuurwetenskappe- en Landboufakulteite beplan.”
Marthinus Visser (links) en Henk Schalekamp (regs)
Marthinus Visser (links) en Henk Schalekamp (regs)

Projekvennote en finansiering

Kanton dien as voertuig vir die finansiering van die ontwikkeling van die nuwe Akademia-kampus. Kanton is gebore uit ’n innoverende nuwe benadering vir die ondersteuning van Afrikaanse kulturele instellings. “Ons sakemodel is gebaseer op ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal wat die doelstellings van gemeenskapsinstellings bevorder deur toegang tot die nodige leefruimtes te bied, maar dan ook as ’n volwaardige eiendomsbeleggingsmaatskappy beide ’n finansiële en kulturele opbrengs aan sy beleggers te bied,” verduidelik Schalekamp. Kanton se sukses word bevestig deur die Sol-Tech-kampus, wat betyds en binne begroting afgelewer is. Deur projekte soos ’n koshuis vir Sol-Tech en nou ’n kampus vir Akademia te ontwikkel, bewys Kanton sy vermoë om portefeuljes winsgewend te laat groei en bestuur. Dit terwyl eksterne beleggers ook die geleentheid gebied gaan word om deel te vorm van hierdie unieke geleentheid,” sê Schalekamp. Om te verseker dat die struktuur en beleggingsplatform die doelwitte van Kanton ondersteun, is die beplanning en strukturering van die maatskappy gedoen in samewerking met Pallidus. Laasgenoemde spesialiseer in onafhanklike korporatiewe finansiële advies, beleggingsbankdienste en beleggingsbestuur om die groei en uitbou van Kanton in die verskillende fases moontlik te maak. Die befondsingsmodel het die eienskappe van normale eiendoms- en infrastruktuurmodelle en word gebruik om beleggingsgeleenthede te bied. Kanton gaan aanvanklik instellings en welvarende individue nader om betrokke te raak deur ’n belegging. Ná afloop van ’n kritiese hoeveelheid fondse wat gewerf is vir die projek om voort te gaan sal ’n geleentheid aan die gemeenskap gebied word om deur kleiner beleggings betrokke te raak. Vir nou is die oproep aan elkeen wat saam met vennote opgewonde is oor die projek eenvoudig: Droom saam deur ’n toekomsbouer te word en die vordering van hierdie groot projek te volg by www.toekomsbouer.co.za. Verdere inligting vir individuele beleggings sal weldra aan veldtogdeelnemers bekendgemaak word.

Medianavrae:

media@kanton.co.za

Meer oor Akademia

Akademia is ’n Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Akademia streef daarna om ’n akademiese tuiste te bied waar denke én hart gevorm word met die oog op ’n vrye toekoms. Studente het ’n keuse tussen nauurse afstandstudie oor ’n landwye netwerk van sentrums of via e-leer en voltydse studie by twee tussentydse kampusse in Centurion. Die nauurse afstandmodel is ideaal vir studente wat wil werk of ander belangstellings nastreef, terwyl hulle studeer. Die voltydse kampusmodel bied sedert 2021 ’n veilige tuiste vir Fonties (Akademia-studente) wat bedags wil klasdraf en aan ’n bruisende studentelewe wil deelneem. Klik hier vir meer inligting oor Akademia.   
Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.