Die reg om self te kan besluit

In 1994 het Suid-Afrika ʼn ingrypende ordeverandering beleef. ʼn Antwoord moes gevind word vir ʼn land met ʼn buitengewoon diverse samelewing.

ʼn Nuwe Grondwet is onderhandel, individuele regte is verskans, maar die groot tekortkoming was die gebrekkige beskerming van ons diverse kultuurlandskap en spesifiek minderheidsgemeenskappe.

Die unitêre model, wat sentralisering bó desentralisering verkies, was terugskouend waarskynlik die minste geskikte stelsel vir so ʼn diverse land.

Wat dikwels vergeet word, is dat daar destyds sterk stemme vir ʼn federale oplossing was. Hierdie denkrigting het ondersteuning geniet binne en buite die Nasionale Party, onder akademici, internasionale drukgroepe en selfs uit swart geledere. Die huidige leierskorps van die Solidariteit Beweging het hulle ook met dié denkskool vereenselwig.

Daar is gepraat oor minderheidsbeskerming, magsdeling, streeksoutonomie en die voorkoming van totale sentralisering – minder staat en meer gemeenskap.

Vandag word dit dikwels voorgehou asof daar slegs twee moontlikhede was: die uitgediende apartheidstelsel of die huidige unitêre stelsel. Indien jy krities teenoor die huidige bedeling staan, word jy maklik daarvan beskuldig dat jy bloot die ou bestel klakkeloos wou beskerm.

Namate Suid-Afrika al meer sentraal bestuur word, word daar al meer besef dat die huidige Suid-Afrikaanse bestel ernstige gebreke toon. ʼn Alternatief kon destyds bedink word – en kan vandag steeds bedink word.

Dwarsoor die wêreld bestaan daar uitstekende federale modelle vir die bestuur van diverse samelewings.

ʼn Groep van die Solidariteit Beweging was onlangs op ʼn studietoer in Europa om federalisme verder te ondersoek. Federalisme is ʼn volkome normale begrip in groot dele van die wêreld. In Vlaandere word dit selfs beskryf met ʼn woord wat vir ons bekend klink: selfbeskikking.

Afrikaners vorm deel van die ryk Westerse tradisie. Daarom was Nederland ons eerste bestemming – nie vanweë Nederland se federalisme nie, maar om weer Afrikaners se verbintenis met die Westerse beskawingstradisie te onthou.

Amsterdam is sekerlik nie die enigste voorbeeld nie, maar wel een van die duidelikste van hoe die Weste se invloed na die Afrikaner deurgespoel het. Ons was in die vertrek waar die besluit geneem is om ʼn verversingstasie aan die Kaap te vestig – die geboorte-oomblik van ʼn volk in die hart van die Westerse handelswêreld.

Die hele Europa getuig van ʼn ryk beskawing waarvan ons deel is. Ons is nie Europeërs nie – ons is van Afrika – maar ons is onteenseglik ook deel van die Westerse tradisie.

België: parlemente vir verskillende gemeenskappe
Ons tweede stop was België – ʼn land met ʼn lang geskiedenis van interne konflik. België bestaan uit drie streke: Vlaandere, ʼn Franse streek en ʼn klein Duitse streek. Elke streek het sy eie parlement waarin plaaslike besluite geneem word, terwyl ʼn federale parlement oor nasionale sake besluit. Selfs binne die federale parlement bestaan daar veto’s vir die onderskeie taalgroepe.

Switserland: radikale demokrasie van onder af
Ons derde bestemming was Switserland met sy kantonstelsel. In Genève het ons eers ʼn toer op die spore van die Reformasie meegemaak. Binne die Westerse tradisie het die Reformasie ʼn enorme invloed op die vorming van Afrikaners gehad: uit genade, deur Christus, tot dankbaarheid.

Dit was ook in Genève waar ons ʼn klag teen die Suid-Afrikaanse regering se rassebedeling by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) van die Verenigde Nasies ingedien het.

In Zürich het ons ʼn lesing oor die Switserse kantonstelsel bygewoon. Switserland bestaan uit 26 kantons – byna soos 26 klein lande – wat elk hul eie unieke behoeftes bestuur. Daar is vier tale: Duits, Frans, Italiaans en ʼn klein taal, Romaans. Die kantons is grootliks rondom dié taalgemeenskappe georganiseer. Switserland maak op plaaslike, kantonnale en federale vlak van referendums gebruik. Besluitneming geskied van onder af, met mag wat oorspronklik by gemeenskappe lê en dan opwaarts vloei.

Suid-Tirool – die reg om selfte besluit
Ons laaste stop was Suid-Tirool, ʼn noordelike provinsie van Italië. Suid-Tirool, oorspronklik ʼn Duitse streek, is ná die Eerste Wêreldoorlog by Italië ingelyf. Skielik het ʼn Duitse gemeenskap van sowat 500 000 mense hulle binne ʼn Italiaanse staat bevind.

Ná ʼn lang stryd het die streek uiteindelik ʼn groot mate van outonomie verkry. Hulle kultuur word beskerm en hulle ontvang 90% van hul belastinggeld terug.

Toe ek vir ʼn Suid-Tiroler vra waarom outonomie vir hulle so belangrik is, was sy antwoord eenvoudig: “Dit gaan oor die reg om self te kan besluit.”

Federalisme – waarvoor die Solidariteit Beweging ook staan – is dus niks buitengewoons nie. Dit is ʼn normale en dikwels noodsaaklike manier waarop volke, tale en kultuurgemeenskappe wêreldwyd hul voortbestaan verseker.

Die Europese model onder druk
Daar is egter iets wat baie Europese lande nie verreken het nie: massa-immigrasie van mense wat kultureel en godsdienstig dikwels nie wil integreer nie. Benewens die groot migrasiegetalle is daar ook die hoë bevolkingsgroei binne sekere immigrantegemeenskappe. In ʼn Turkse kafee sien ʼn mens selfs stootwaentjies te koop.

Europa se hele model word ontwrig. Tot só ʼn mate dat ʼn Nederlandse joernalis vir ons gesê het: “Ons is binnegeval”. ʼn Vlaamse politikus meen dat hulle teen 2040 ʼn minderheid in hul eie land kan wees. Switserland probeer desperaat om deur middel van ʼn referendum hul bevolking op 10 miljoen te beperk. ʼn Suid-Tiroler beskryf die immigrasiekrisis as vernietigend.

Voeg hierby Europa wat grootliks sy Christelike geloof en beskawingsanker verloor het. Sonder daardie ankers kan weerstand teen nuwe kulturele druk moeilik gebied word. Dit is byna soos Simson wat sy hare verloor het – ʼn tragiese beeld van krag wat ongemerk verdwyn het. Baie van die nuwe immigrantegemeenskappe beskik juis oor sterk en selfversekerde geloofsidentiteite wat die vakuum van sekularisme vul.

Ek keer terug na Suid-Afrika met die indruk van ʼn Europa in ʼn krisis. Ek vertrou dat Europeërs weer die rykdom van die Westerse tradisie sal herontdek. Soos ʼn kollega dit gestel het: “Hulle sal weer hul boekrolle moet vind”.

Gemeenskapsfederalisme: Ons sal self
Dit bring my terug by die Solidariteit Beweging se model van gemeenskapsfederalisme, saamgevat in die woorde: “Ons sal self”. Ons het oplossings gevind binne die werklikhede van demografiese verandering. Ons Europese gashere was baie geïnteresseerd in dié model. Ons het reeds sekere uitdagings verreken wat moontlik nog vir hulle voorlê. Ons het minstens planne. Party van hulle het selfs hoop in ons benadering raakgesien.

Ek is steeds van mening dat ʼn federale politieke bestel ook vir Suid-Afrika ʼn beter oplossing sou wees – en steeds kan wees. Die Solidariteit Beweging se model van gemeenskapsfederalisme is juis kragtig omdat ons self beheer daaroor het.

Die krag van “ons sal self” sluit direk aan by die woorde van die Suid-Tiroler: “Dit gaan oor die reg om self te kan besluit”. Dit is reg, dit is normaal en dit is vryheid.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Wie is die Solidariteit Beweging regtig?

1994 was ‘n ordeverandering vir Suid-Afrika. Die verandering het talle instellings, wat nie die oorgang kon maak nie, vernietig. Die Suid-Afrikaanse landskap sou vir altyd anders lyk.

Instellings wat aan die vorige orde wou vasklou, het eenvoudig verdwyn. Een so ‘n instelling uit die vorige bedeling was die Mynwerkersunie (MWU).

Die MWU was ‘n ou instelling met ‘n ryk geskiedenis en is reeds in 1902 gestig. Soos talle burgerlike organisasies en politieke partye was die MWU in ‘n oorlewingskrisis. Dit was geldelik bankrot en bankrot aan idees.

Binne die nuwe werklikheid
In 1997 is Flip Buys as hoofsekretaris van die MWU verkies. Tydens sy eerste kongres het hy gesê die MWU moet ʼn beweging word. Hy was bekommerd oor die ANC se sentralistiese meerderheidsideologie en wat dit vir staatsbestuur en minderheidsbeskerming kan inhou.

Buys het die bankrot-MWU binne die ná-1994-werklikheid geplaas. Hy het die MWU weggelei van rasdefinisies en dit omskep in ‘n kultuur- en taalinstelling wat beskerming geniet binne die nuwe grondwetlike bedeling. Artikels 29, 30 en 31 van die Grondwet gee aan taal- en kultuurgemeenskappe die reg om eie instellings te vestig, insluitende onderwysinstellings.

Buys het reeds in 1997 besef dat dit noodsaaklik is om van grondwetlike ruimtes gebruik te maak, maar dat instellings daarvoor nodig is. Anders sou artikels 29, 30 en 31 bloot papierartikels bly, sou die sentralistiese staat die samelewing versmoor en sou minderhede se ruimtes verdwyn.

Sy kommer is later reg bewys. Die staat het al meer sentralisties geraak en die grondwetlike ruimtes vir gemeenskappe is verklein tot so ‘n mate dat diegene wat daarop aanspraak maak, as ongrondwetlik beskou word.

Afrikaners gaan nêrens heen nie
Flip Buys se 1998-aankondiging van ʼn Beweging was nie net binne die nuwe grondwetlike werklikheid nie, maar ook ʼn aankondiging dat Afrikaners nêrens heen gaan nie. Baie het gewonder of Afrikaners in die nuwe werklikheid wil bly. Hy het aangekondig dat Afrikaners ruimtes gaan skep om juis hier, aan die suidpunt van Afrika, te bly.

Vandag is die Solidariteit Beweging ʼn netwerk van tientalle selfstandige instellings met ongeveer 600 000 betalende lede en nog sowat 100 000 gebruikers van verskillende dienste. Indien families ook in ag geneem word, is dit ʼn reusebeweging. Dit is nie ʼn elite beweging nie, maar ʼn beweging wat deur gewone werkende mense begin is.

Alhoewel dit by verre die grootste organisasie in die Afrikaner- en Afrikaanse gemeenskap is, maak die Solidariteit Beweging nie aanspraak daarop dat hy namens alle Afrikaners praat nie, maar verteenwoordig die belange van sy lede en ondersteuners.

Die pad van die Beweging

Werk
Die eerste stap was om die ou bankrot-MWU weer sterk te maak. Finansiële stelsels is verander, werwingsveldtogte is begin en nuwe personeel is aangestel. In 2001 is die naam verander na Solidariteit. Die ou MWU het ongeveer 20 000 betalende lede gehad en vandag is Solidariteit meer as tien keer groter en een van Suid-Afrika se grootste vakbonde. Solidariteit het ʼn skuif gemaak om nie net in werksplekke te organiseer nie, maar ook in beroepe en het vandag beroepsnetwerke in al die groot beroepe. Solidariteit het ook deur tegnologie betrokke geraak by werkfasilitering. Sowat 4 000 werkgewers het reeds 14 000 poste op Solidariteit se platform geplaas.

Maatskaplike ontwikkeling
Binne die Mynwerkersunie is reeds in 1949 ʼn maatskaplike been, Helpende Hand, begin. In 2001 is besluit om Helpende Hand ʼn selfstandige instelling te maak. Daar is op klein skaal begin om studente met studies te help en ʼn eerste voedingsprogram by ʼn skool in Vanderbijlpark te loods.

Solidariteit-lede is gebel en gevra om by te dra tot die Helpende Hand-fonds. Daar was groot entoesiasme. Later het elke Solidariteit-lid R5 per maand vir studiehulp bygedra. Hierdie jaar is meer as R60 miljoen in die vorm van studiehulp aan studente uitbetaal.

Solidariteit Helpende Hand het nou 230 takke en dorpsverteenwoordigers in 14 streke. Daar is 14 streekmaatskaplike werkers en altesaam 30 maatskaplike werkers.

Daar is sewe Ons Plekke met naskoolse sentrums en kleuterskole vir behoeftige kinders. Drie duisend dogters ontvang maandeliks sanitêre produkte, 8 000 kinders kry daagliks kos en 2000 kinders ontvang jaarliks skooltassies en skryfbehoeftes. Solidariteit Helpende Hand het ook ʼn Opleidingsinstituut begin wat tuisversorgers oplei.

Opleiding en onderwys
Daar is besef dat opleiding die hart van enige Beweging is wat ernstig oor die toekoms is. Die bou van opleidingsinstellings is duur en word gewoonlik swaar deur die staat gesubsidieer.

Solidariteit het begin met ʼn landswye toer na fabrieke, myne, skole en ander werksplekke en het lede gevra om elk R10 tot ʼn Boufonds by te dra. Dit is met hierdie R10de waarmee Sol-Tech en later Akademia en Bo-Karoo Opleiding begin is.

Sol-Tech
In 2007 is Sol-Tech met 64 elektriese studente in Solidariteit se kantore begin. Vandag is daar ongeveer 3 000 studente in verskillende fases van opleiding.

Die rigtings sluit vandag in: dieselwerktuigkunde, auto-elektries, elektries, meulmaker, megatroniese tegnikus, pas en draai, gereedskapmaker, sweis, haarkappery, vroeë kinderontwikkeling en inligtingstegnologie.

Sol-Tech beskik oor wêreldklas toerusting, ʼn wêreldklas kampus en koshuise.

Akademia
Akademia is in 2012 met 40 studente begin. Aanvanklik is slegs ʼn telematiese aanbod gebied. Dit het ook in Solidariteit se kantore begin. Sentrums is oor die land gevestig.

In 2021 is ʼn opkampusaanbod met 111 studente in Centurion begin. Vandag is daar sowat 4500 studente by Akademia.

Daar is nou vier fakulteite: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe en Opvoedkunde. ʼn Groot nuwe kampus word gebou en die fakulteite en programaanbod gaan ingrypend uitgebrei word.

Bo-Karoo Opleiding
In 2019 is die eerste vyf voltydse studente by Bo-Karoo Opleiding op Orania ontvang. Die instelling het nou sowat 250 studente, ʼn tweede inname vir die jaar word beplan en dit groei met 40% per jaar. Nuwe werkswinkels is gebou en verdere uitbreidings volg binnekort. Daar is pragtige studenteverblyf, ʼn proefplaas en ʼn klein kampus in aanbou. Die twee grootste bene van BKO is tegnies en landbou en die programaanbod word tans ingrypend uitgebrei.

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum
Afrikaanse skole en skoolonderwys in die algemeen het onder groot druk gekom. Die aantal Afrikaanse skole het van 1 800 tot 900 afgeneem. In 2015 is die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) gestig. Vandag is bykans 50 000 Afrikaanse kinders op Wolkskool. Sowat 20 000 onderwysers maak van Wolkskool gebruik. Jaarliks word 7 000 onderwysers opgelei en daar is 250 lid-skole van SOS.

Daar is ook besef dat onafhanklike skole gebou moet word. ʼn Konsessiemodel, met die naam Gimnasium-skole, gaan gemeenskappe in staat stel om eie skole te bou. Die eerste skool word binnekort gebou.

Solidariteit Leer
Voortgesette opleiding is ook van kritieke belang. Op Solidariteit se platform word 200 voortgesette leerkursusse aangebied.

Eiendomsontwikkeling
Die instellings van die Solidariteit Beweging is met R10de en klein bydraes van lede begin. Om ʼn kampus te bou, is klein skenkings egter nie voldoende nie.

Die eiendomsmaatskappy Kanton is in 2019 gestig. Die doel van Kanton is om leefruimtes vir Afrikaans te bou deur ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal te fasiliteer.

Die eerste groot projek was die Sol-Techkampus, gevolg deur die Sol-Tech-koshuise.

Die grootste projek tot dusver is die Akademia-kampus. Dit is ʼn R3,2 miljardprojek waarvan die eerste fase R1,2 miljard beloop. Dit het reeds afgeskop en beleggers word gewerf.

Sol-Tech en Akademia is die huurders en beleggers weet daar is langtermyn, betroubare huurders.

Deur ʼn goeie kommersiële belegging help beleggers ook om kulturele ruimtes te bou. Daar word ook beplan om in die toekoms ʼn Akademia-kampus in die Wes-Kaap te bou asook skole, binne die groter Gimnasium-groep.

Burgerregte, veiligheid en munisipale dienslewering
AfriForum is in 2006 begin. Die belangrikheid van die beskerming van burgerregte is vroeg besef en AfriForum het reeds verskeie hofsake gewen. AfriForum is egter in die eerste plek ʼn gemeenskapsorganisasie en wil gemeenskappe sterk maak.

AfriForum het 10 000 vrywilligers, 165 takke en 177 buurtwagte oor die land. Daar word landswyd gehelp met munisipale dienste oor ʼn wye front, tot voordeel van die hele gemeenskap.

Veiligheidstrukture maak gemeenskappe oor die hele land veiliger. Daar is op munisipale en veiligheidsvlakke samewerking met owerhede op verskeie vlakke, insluitend metro’s, munisipaliteite en die polisie.

Kultuur en media
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het met al hulle werksaamhede ook uiteindelik by die Solidariteit Beweging ingeskakel om die rol van kultuur- en erfenisbewaring te help vervul. By die AfriForum Teater word deurlopend Afrikaanse produksies aangebied.

Maroela Media is gestig en is nou een van die land se grootste mediahuise wat ook inhoud aan tientalle gemeenskapsradiostasies lewer.

AfriForumTV het 200 000 intekenaars. Die instellings van die Solidariteit Beweging het ʼn reuse-sosiale mediateenwoordigheid, met byvoorbeeld meer as 1,8 miljoen volgelinge op Facebook alleen.

Selfstandige gemeenskappe
Vir die Solidariteit Beweging is sterk, selfstandige gemeenskappe noodsaaklik. Die Beweging volg ʼn konsentrasiestrategie wat die natuurlike migrasie van Afrikaners ondersteun en gemeenskapsinfrastruktuur vestig.

Dit sluit werk-, maatskaplike, veiligheids-, dienslewerings-, kulturele en onderwys- en opleidingsondersteuning in.

AfriForum is ook betrokke by selfstandigheidsprojekte by talle tradisionele gemeenskappe en by ʼn netwerk van tradisionele gemeenskappe. AfriForum ondersteun ook die Kaapse Forum.

AfriForum vestig in ankergmeenskappe plaaslike gemeenskapforums wat as platform dien vir skole, kerke en ander gemeenskaporganisasies om mekaar en die gemeenskap te versterk,

Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy is gestig om te help om ʼn selfstandige gemeenskap in die Bo-Karoo te vestig. Dit is deel van die groot konsentrasiestrategie en die versterking van ankergemeenskappe landswyd.

Ander sake-inisiatiewe
Om die Beweging kommersieel te laat funksioneer, is daar verskeie sake-inisiatiewe. Dit sluit in ʼn finansiële diensmaatskappy, Konnek, met ʼn fokus op korttermynversekering, lenings en beleggingsadvies.

Daar is ook ʼn spysenieringsmaatskappy, Spys, wat spyseniering vir personeel en studente doen. Verder is daar die Solidariteit Beleggingsmaatskappy, die AfriForum Beleggingsmaatskappy en Helpende Hand-sake wat 127 tweedehandse winkels bestuur.

Daar is ook ʼn Solidariteit Regsfonds en Solidariteit Boufonds waartoe mense kan bydra.

Hoe word die Beweging befonds?
Die Solidariteit Beweging word nie op enige vreemde manier befonds nie. Die Beweging bestaan uit kulturele entrepreneurs wat deur streng dissipline en gewone sakebeginsels bestuur word. Die bedryfsbegroting van die Beweging is so groot soos dié van ʼn mediumgrootte maatskappy op die Johannesburgse Effektebeurs. Die korporatiewe bestuur van die instellings is dus streng.

Die ledeorganisasies word deur ledegeld befonds. Oorgangsfinansiering vir die oprigting van instellings word uit skenkingsfondse en opbrengste uit finansiële dienste befonds.

Elke instelling het sy eie unieke finansiële enjin. Studente is byvoorbeeld die grootste befondsers van die opleidingsinstellings, advertensies befonds Maroela Media, en tweedehandse winkels befonds Solidariteit Helpende Hand. Kanton, wat verantwoordelik is vir eiendomsontwikkeling, insluitend kampusse, werf aandeelhouers op ʼn kommersiële grondslag.

Wie besit wie en wat?
Die instellings van die Solidariteit Beweging word belyn binne die Solidariteit Beweging Trust. Die naam van die Trust dui bloot daarop dat die groter Beweging uit Solidariteit ontstaan het.

Solidariteit of die Trust besit egter nie die instellings van die Beweging nie. Al die ledeinstellings en opleidingsinstellings is maatskappye sonder winsbejag. Daar is dus geen aandeelhouers wat geld uit ledeorganisasies verdien nie. Alle inkomste fokus op die uitvoering van ledeorganisasies se doelwitte.

Direkteure moet toesien dat elke instelling in diens van sy missie en die gemeenskap funksioneer.

Solidariteit het ook ʼn netwerk van vriende en vennote wat insluit die landbouorganisasie Saai, die organisasies van die Afrikaner Leiersnetwerk, ander gemeenskapsleiers en gemeenskapmedia. Solidariteit is nie betrokke in die partypolitiek nie, maar het goeie verhoudings met verskeie politieke partye wat die belang van die Beweging se lede beskerm.

Alhoewel die Solidariteit Beweging gereeld in dispuut met die regering is, is ons lief vir die land. Wanneer ons met die regering bots, is dit ter wille van die land. Ons is hier om te bly, en daarom sal ons soms veg en baie bou. Ons is nie van die regering afhanklik vir ʼn toekoms nie. Daarom het ons hoop, want ons sal self.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

30 waarnemings oor die besoek aan die VSA

Dirk Hermann

Bron: Maroela Media

Groot omwentelings vind tans in die wêreld plaas en Suid-Afrika is nie geïsoleer hiervan nie.

President Trump se uitvoerende bevel het Afrikaners in die middel van hierdie debat geplaas, met ʼn helder lig op Suid-Afrikaanse binnelandse en buitelandse beleid. Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, het ʼn afvaardiging na Amerika gestuur om aktief aan die debat deel te neem.

Die Suid-Afrikaanse regering bly egter afwesig. Hulle reaksie is beperk tot luidkeelse beskuldigings teen die Solidariteit Beweging. Die uiteindelike impak van die Solidariteit Beweging se besoek moet nog bepaal word, maar hier volg 30 waarnemings wat ek tydens die besoek gemaak het:

  1. Die verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA is nie bloot ʼn misverstand wat verduidelik moet word nie, maar ʼn diplomatieke krisis. Hierdie krisis speel af teen die groter geopolitieke herstrukturering wat wêreldwyd plaasvind.
  2. Die ontevredenheid en selfs woede oor die ANC se beleidsrigtings is duidelik, veral weens die regering se romanse met Hamas, Iran, China en Rusland.
  3. Suid-Afrika se verbreking van neutraliteit deur die saak teen Israel, sonder enige direkte belang in die konflik, was ʼn belangrike katalisator. Suid-Afrika het ʼn simbool van anti-Westerse sentiment geword en word beskou as ʼn bedreiging vir Amerika se nasionale belange.
  4. Hierdie diplomatieke krisis spruit nie net uit ʼn enkele gebeurtenis, soos die onteieningswet nie, maar is die resultaat van ʼn lang reeks roekelose binnelandse en buitelandse beleidsbesluite deur die ANC, wat oor verskeie Amerikaanse administrasies heen spanning veroorsaak het.
  5. Die afwesigheid van die Suid-Afrikaanse regering was opvallend en dui op ʼn inploffing van diplomatieke vermoëns.
  6. Daar is ʼn hernude selfvertroue in die VSA en die Weste, wat selfs as ʼn rewolusie beskryf word. Enige bondgenoot van Amerika moet hierdie nuwe werklikheid verreken, iets wat Suid-Afrika blykbaar nie doen nie.
  7. Die VSA bly Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot. Dit is ʼn groot voordeel vir Suid-Afrika, maar van minder belang vir Amerika. Suid-Afrika is ook afhanklik van hulp, wat ander bondgenote nie gee nie. Dit plaas Suid-Afrika in ʼn posisie waar die land meer nederig moet wees.
  8. Suid-Afrika loop ʼn werklike gevaar om uit Agoa geskop te word. Agoa is die Amerikaanse wet wat handelstariefvoordele aan Afrikalande bied. Indien Suid-Afrika sy deelname aan Agoa verloor, sal die ANC die volle verantwoordelikheid dra. Dit kan tot die verlies van honderde duisende werksgeleenthede lei.
  9. Die ANC se beleidsrigtings verraai die land en sy mense. Dit skep ʼn omgewing van verhoogde werkloosheid, maar die regering is ideologies blind en is vasgevang in ʼn mislukte en uitgediende wêreldbeeld.
  10. Tydens geen van die besprekings is daar genoem dat die huidige diplomatieke krisis te wyte is aan valse inligting deur AfriForum of Solidariteit nie. Die oorsaak lê by die ANC se beleid. Daar was eerder waardering vir ons deeglike inligting.
  11. Dit is ʼn belediging vir die VSA se diplomatieke en intelligensie-agentskappe om te beweer dat hulle beleid baseer op valse inligting.
  12. Die enigste valse inligting is die bewerings dat die Solidariteit Beweging onwaarhede versprei. Nog niemand kon bewys lewer van valse inligting nie. Ons inligting is akkuraat en deursigtig. Die wêreld moet die waarheid ken, eerder as politiek korrekte inligting deur ʼn ANC-bril.
  13. Ironies genoeg het die Solidariteit Beweging, in die afwesigheid van die Suid-Afrikaanse regering, vir die land se belange ingetree deur te vra vir voortgesette deelname aan Agoa.
  14. Ons het spesifiek opgetree namens ons lede in die landbou-, mynbou-, metaal- en ingenieursbedrywe, sowel as die chemiese en motorvervaardigingsektore. Hulle moet nie verder benadeel word weens ANC-beleid nie.
  15. Die regering se swak diplomatieke hantering stel die land bloot. Hulle het brûe verbrand en toon geen begrip of voorneme om dit te herstel nie. Daar is ʼn oordrewe selfvertroue.
  16. Die Suid-Afrikaanse regering sal sukkel om ʼn sinvolle besoek aan die VSA te bring. Hul arrogante hantering van sake die afgelope paar weke het houdings verhard. Amerikaners lees wat die president se woordvoerder en ander sê.
  17. Die ANC se aanvalle en dreigemente teen die Solidariteit Beweging, insluitend beskuldigings van hoogverraad, is swak ontvang in Amerika en het die ANC se posisie verswak terwyl dit ons posisie versterk het.
  18. Suid-Afrika sal konkrete stappe moet neem om diplomatieke verhoudinge te herstel. Blote verduidelikings of groot afvaardigings gaan nie help nie.
  19. Die Solidariteit Beweging is met ope arms ontvang by die Withuis, die kongres, die departement van buitelandse sake en verskeie ander sleutelinstellings. Ons kon ons navorsing en feite duidelik stel.
  20. Daar moet voortgegaan word om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas vir beleidsveranderinge wat ook die hele land sal bevoordeel.
  21. Twee kwessies wat Amerikaners besonders grief, is onteiening sonder vergoeding en raswette. Suid-Afrika sal, ten spyte van ideologiese blindheid, hierdie kwessies moet herbesin. Ons sal deur druk en litigasie help om verandering te bring.
  22. Suid-Afrika moet besef dat die wêreld verander het. Die ANC se sosialistiese ideologie, aanvalle op eiendomsreg en raswette is nie meer aanvaarbaar nie.
  23. President Trump se uitvoerende bevel het Suid-Afrika in die wêreld se oë geplaas. Die ANC kan nie meer staatmaak op die nalatenskap van Nelson Mandela of Westerse skuldgevoelens nie. Hulle word nou beoordeel op wat hulle sê en doen.
  24. Afrikaners staan ook weer in die wêreld se kollig, hierdie keer nie as ʼn muishond nie, maar as ʼn gemeenskap met ʼn saak wat internasionaal erken word. Ons het met navorsing gewys hoe die ANC die 1994-skikking verbreek het.
  25. Ons het die bestaansbedreiging, wat wette soos Bela inhou vir Afrikaners, duidelik uiteengesit en daar is met begrip geluister.
  26. Die Solidariteit Beweging kon met vrymoedigheid namens Afrikaners intree, erkenning vra en steun vra vir die vestiging van kulturele infrastruktuur. Ons kon federalisme en konsentrasie ook op die tafel plaas.
  27. Daar bestaan steeds onsekerheid oor vlugtelingstatus. Dit lyk of ʼn hervestigingsprogram oorweeg word vir mense wat slagoffers is van ernstige geweldsmisdaad op grond van ras of groepsidentiteit. Niemand, wat dit wil opneem, moet weerhou word nie.
  28. Die uitvoerende bevel en nuwe herskikkings in die wêreld is ʼn unieke geleentheid vir Afrikaners. Die Trump-administrasie skep ʼn gunstige klimaat, maar Afrikaners moet self verantwoordelikheid neem en hierdie geleenthede benut.
  29. Ons is nou in ʼn sterker posisie as voor die uitvoerende bevel. Ons het nou oop kommunikasiekanale en waardevolle kontakte. Die aanstelling van die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika sal belangrik wees vir ons toekomstige verhouding.
  30. Ons moet aanhou bou, beskerm en veg. Ons leef in ʼn nuwe era wat groot geleenthede vir ons as ʼn Westerse gemeenskap in Afrika bied.

 

Die afvaardiging: (Links na regs) Jaco Kleynhans, Flip Buys, Dirk Hermann, Kallie Kriel
Die afvaardiging: (Links na regs) Jaco Kleynhans, Flip Buys, Dirk Hermann, Kallie Kriel

Staak NGV-planne voor Solidariteit tot ernstiger stappe moet oorgaan

Solidariteit het ʼn vars aanmaningskrywe aan die vernaamste rolspelers in die totstandkoming van die beplande Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gestuur en aanbeveel dat hulle planne daarvoor onmiddellik gestaak word.
Dit kom op die vooraand van die sitting van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) waartydens daar oor die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering gestem moet word.
In die aanmaning beklemtoon Solidariteit sy voorneme om die rolspelers in hulle persoonlike hoedanigheid aanspreeklik te hou indien daar met die NGV-proses voortgegaan word. Die rolspelers sluit in pres. Cyril Ramaphosa, die ministers van finansies en gesondheid, asook die nasionale tesourie.
Nie een van die partye het op Solidariteit se oorspronklike aanmaningskrywe van 5 Oktober gereageer nie.
“Terwyl ons optimisties is dat verstandigheid sal seëvier deurdat die NGV-skema en -wetsontwerp uiteindelik in die geheel sal sneuwel, dui die geskiedenis daarop dat die NGV ondanks al sy ooglopende gebreke goedgekeur gaan word,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Volgens Hermann is die nodige intussen gedoen om vir die onvermydelike hofstryd voor te berei.
“Ons sal dit in so ʼn geval duidelik maak dat die partye die geleentheid gehad het om vóór litigasie met ons in gesprek te getree het om sodoende ʼn kostebevel in persoon vry te spring. Ons sal dan ook noem dat die betrokke partye verkies het om nie met ons daaroor te praat nie,” sê Hermann.
Solidariteit het by verskeie geleenthede aangedui waarom die NGV in sy huidige gedaante onwerkbaar, onbekostigbaar en onnodig is.
Sien Solidariteit se jongste aanmaningskrywe hier.

Solidariteit neem sterk standpunt in teen SAMRK se skaamtelose rasse-ommekeer

Solidariteit eis antwoorde van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) oor sy rasseverslag aan die Verenigde Nasies se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD).
Die SAMRK-verslag is in November 2023 aan CERD voorgelê kort nadat Solidariteit sowel as die regering óók voor die komitee verskyn het.
Solidariteit dring veral op antwoorde aan omdat die SAMRK as CERD se waghond in Suid-Afrika ’n volslae ommeswaai in sy eie standpunte rakende rassewette gemaak het. Die jongste SAMRK-verslag weerspreek sy eie gelykheidsverslag van 2018, en Solidariteit gaan dit nie aanvaar nie.
In die 2018-verslag het die SAMRK aanbeveel dat regstellende aksie-wetgewing aangepas moes word om groepe meer genuanseerd op grond van behoefte en sosiale en ekonomiese omstandighede te teiken. Daar is toe ook geëis dat die regering binne ses maande nadat die gelykheidsverslag vrygestel is, aan die SAMRK moes terugvoer gee.
Hulle jongste VN-verslag skets egter ’n ander prentjie.
“Dié verslag verwelkom selfs ’n kwotastelsel en vra dan boonop ook vir nóg strenger toepassing van rassewette – so asof hulle eie gelykheidsverslag skielik nie meer bestaan nie.
“Hulle steun dan ook die voorgestelde wetswysigings oor gelyke indiensneming, maar glo ook dit is nie rigied genoeg nie. Die SAMRK glo skielik ondernemings wat kwytgeskeld word omdat hulle 50 of minder werknemers het, moet ook aan die rassevoorskrifte onderwerp word,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Solidariteit het in ʼn skrywe aan die SAMRK ʼn verduideliking hieroor geëis, en ook gevra of die SAMRK se gelykheidsverslag van 2018 aangepas is of nog enigsins bestaan.
Verder moet die SAMRK ook ʼn verduideliking gee waarom die regering klaarblyklik nie aan die 2018-verslag gehoor gegee het nie, en waarom die SAMRK oënskynlik niks daaromtrent gedoen het nie.
As CERD-waghond is die SAMRK boonop verplig om nie-nakoming van die VN-konvensie oor rassediskriminasie te rapporteer.
“Wat hulle versoek vir selfs sterker rassevoorskrifte betref, sal ons graag wil weet hoe dit aan die VN-konvensie se eise vir maatreëls wat kontekssensitief en tydelik is, voldoen, en hoe daar gesê kan word dit is gegrond op sosio-ekonomiese behoeftes,” sê Hermann.
“Die een oomblik vra die SAMRK dat streng rassekwotas hersien moet word, en die volgende eis hulle selfs strenger maatreëls van dieselfde soort.”
Sien Solidariteit se skrywe aan die SAMRK hier

Die tyd is nóú! Solidariteit op pad na VN om rassewette te stop

Solidariteit gaan Verenigde Nasies (VN) toe om te eis dat die Suid-Afrikaanse regering ’n besliste einddatum gee wanneer sy beleid van rastellende aksie, asook alle gepaardgaande rassewette, sal verstryk.
Hierdie verskerpte VN-veldtog het ten doel om ’n einde te maak aan die regering se beheptheid met rassewetgewing wat strydig is met die Internasionale Konvensie  vir die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD).
Sowel die Suid-Afrikaanse regering as Solidariteit sal dus laat in November voor die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) verskyn.
“Al hierdie rasmalheid vind plaas onder die vaandel van mooi woorde soos regstelling, gelykheid, diversiteit en transformasie. Maar pleks daarvan is die uitkoms ongelykheid, plundering, selfverryking en die vernietiging van die staatsdiens,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
“Vroeër die jaar wou die regering ook wetgewing deurdruk waarmee die privaat sektor aan rassekwotas gemeet sou word. Daardie mal rasplanne is tans deur die gemeenskap – en danksy ’n skikking – gestuit.
“Tog is die groot stryd nog nie gewonne nie en veg ons voort. Ons veg selfs harder. Ons mik om rassewette in die geheel te smoor en ons boodskap word deur honderde duisende mense ondersteun. Die boodskap sê dat rassewette moet stop. En die tyd daarvoor is nóú,” sê Hermann.
Volgens Anton van der Bijl, Solidariteit se adjunkbestuurshoof vir regsake, is die regering se beheptheid met statistiese rasseverteenwoordiging alombekend, en die beheptheid blyk duidelik uit hulle toepassing van regstellendeaksiebeleid.
“Ons regering se toepassing van rastellende aksie is nie net strydig met die VN se konvensie wat oor rassediskriminasie handel nie. Dit is ook in stryd met die wêreldwye siening oor regstellende aksie, wat die beginsel onderskryf dat regstellende aksie tydelik van aard moet wees en ʼn spesifieke eindpunt moet hê,” sê Van der Bijl.
Solidariteit gaan tydens die VN-besoek die feit dat regstellende aksie ingevolge internasionale riglyne en konvensies tydelik van aard moet wees, beklemtoon en gaan daarop aandring dat die Suid-Afrikaanse regering ʼn einddatum daarvoor stel.
Hermann glo ook die suksesse van die vorige VN-besoeke voorspel goeie uitkomste vir die nuwe veldtog.
“Solidariteit glo hy kan nou met die hulp van, en namens die gemeenskap, ʼn nóg groter deurbraak bewerkstellig. Sodoende kan ons begin om uiteindelik ʼn einde te maak aan rassewetgewing.”
Lees Solidariteit se skaduverslag hier: https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2023/10/Solidariteit-VN-Verslag-Nov-2023.pdf
Kyk vanaf 13:00 na die mediakonferensie: https://fb.me/e/4RjwvEq4g

Groot deurbraak oor regering se rasbeleid

Daar is die afgelope tyd baie gepraat oor die regering se drakoniese raswet en rasseregulasies. Ingevolge dié regulasies moet maatskappye aan streng rassekwotas voldoen, en die enigste maatstaf wat daarvoor gebruik word, is rasseverteenwoordiging.

Terselfdertyd was Solidariteit in ’n bemiddelingsproses onder toesig van die Verenigde Nasies se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO).

Dit volg ná ’n klag van Solidariteit by die IAO oor die regering se rigiede rasbenadering. Solidariteit het aangevoer dat dit ’n oortreding van Konvensie 111 van die IAO is, wat bepaal dat rasprosesse toelaatbaar is, maar buigsaam moet wees.

Die uitkoms van die proses het ingrypende gevolge vir enige rasprogram in Suid-Afrika.

Die belangrikste bepalings van die ooreenkoms is soos volg:

  1. Daar mag geen diensbeëindiging van enige aard as gevolg van rasprogramme wees nie.
  2. Rasprogramme moet tydelik wees en spesifiek op regstelling gefokus wees.
  3. Rasprogramme moet buigsaam wees, en ras is slegs een van vele faktore wat in ag geneem kan word met die voorbereiding, implementering en voldoening.
  4. Daar mag geen absolute plafonne vir indiensneming of bevordering vir enige groep wees nie.
  5. Die volgende moet in ag geneem word met die voorbereiding, toepassing en voldoening:
    • die inherente vereistes van ’n pos;
    • die poel van toepaslik gekwalifiseerde persone;
    • kwalifikasies, vaardighede en ondervinding;
    • natuurlike personeelomset; en
    • werwings- en bevorderingstendense in die werkplek.
  6. Geregverdigde gronde vir nie-voldoening kan die volgende insluit:
    • werwings- en bevorderingsgeleenthede;
    • onvoldoende persone uit die aangewese groep met die regte opleiding, vaardighede en ondervinding;
    • nige KVBA-toekenning, hofbevel, oordrag van besigheid, samesmelting en oornames wat ’n rol kan speel; en
    • ie sakeonderneming se ekonomiese omstandighede.

Die uitkoms is in die vorm van ’n ooreenkoms wat tussen Solidariteit en die regering vasgemaak is. Die ooreenkoms gaan nou as regulasies in die Staatskoerant gepubliseer word en ’n bevel van die hof gemaak word.

Dit is die einde van ras as enigste maatstaf.

Alhoewel dit die geskil oor die rigiede toepassing van ras by die IAO ontknoop, is dit nie die einde van alle rasprogramme in Suid-Afrika nie. Die stryd duur voor.

My oproep aan elkeen van julle is om hierdie ooreenkoms onder die aandag van julle maatskappye te bring en sorg te dra dat hulle dit toepas.

Om julle in staat te stel om te help om rigiede rasbeleide die nek in te slaan, is hierby ook ’n skakel ingesluit wat julle na die oooreenkoms self sal neem.

Hierdie oorwinning is ’n strategiese stryd wat gewen is, maar die oorlog teen die regering se rasse-ideologie duur voort.

Groete

Dirk Hermann
Bestuurshoof: Solidariteit

Historiese ooreenkoms tussen NEASA en Solidariteit

Die werkgewerorganisasie NEASA, met ongeveer 10 000 lede, en Solidariteit het ʼn groei-ooreenkoms van historiese belang gesluit. Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, moet alle rolspelers in die ekonomie op groei fokus met ʼn spesiale nadruk op jongmense en vaardigheidsontwikkeling.

Volgens die ooreenkoms sal Solidariteit se Ambaggilde deur Sol-Tech opleiding in tegniese vaardighede vir die bedryf bied en sal hy ook voortgesette opleiding en kortkursusse aanbied.

NEASA sal sy lede aanmoedig om Sol-Tech-studente vir praktiese werk in te neem en om hulle ook permanent in diens te neem. Voorts sal NEASA sy lede aanmoedig om studiehulp vir behoeftige studente te borg.

Albei partye het hul kommer oor die ekonomie uitgespreek, maar albei is ook verbind tot groei.

“Die ooreenkoms is histories van aard. Dit draai die tradisionele vakbondwese op sy kop. Om opleiding en werkplasing vir lede en hul kinders te beding, is die grootste voordeel wat ʼn vakbond vir sy lede kan bied.

Werkgewers en werknemers moet veral in krisistye hande vat met die oog op groei. Die verwerwing van vaardighede is die beste groeistrategie wat die grootste opbrengs lewer.

Natuurlik sal Solidariteit nog in konflik met werkgewers oor arbeidsverhoudingekwessies verkeer, maar dit moenie groeivenootskappe neutraliseer nie,” het Hermann gesê.

Solidariteit beplan om soortgelyke ooreenkomste met ander werkgewers en werkgewergroepe te sluit.

Solidariteit wil verlies van duisende poste by skole help keer

Solidariteit gaan met ’n groot veldtog begin om te keer dat personeel in onderwys- en ander poste, wat deur skoolbeheerliggame aangestel is, hul werk verloor. Duisende poste word deur die Covid-19-krisis bedreig.

Volgens Solidariteit kan tot 20 000 van die ongeveer 27 000 beheerliggaam-aanstellings se diensvoorwaardes en salarisse geraak word. Tot soveel as 10 000 van hierdie poste kan verlore gaan indien daar nie drasties ingegryp word nie. Dit sluit duisende ander beheerliggaamposte soos terapeute, administratiewe poste, afrigters en assistent-onderwysers uit. Sowat 55% van poste by Afrikaanse skole is beheerliggaam-aanstellings wat deur die skoolfonds gefinansier word en wie se salarisse dus deur ouers betaal word.

“Hierdie krisis is nie slegs ’n krisis vir individuele werknemers nie; dit is ’n onderwyskrisis,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Die reaksie van Solidariteit volg na verskeie berigte dat skole landswyd sukkel om skoolgelde in te vorder sedert die inperking in Maart ingestel is. Sedert die uitbreek van die pandemie kry skole gemiddeld tussen 20% en 60% van hul skoolgeld, en in sommige gevalle nog minder.

Solidariteit het, in samewerking met die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), aangekondig dat hy ’n spesiale Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers gestig het. Die doel hiervan is om, in samewerking met skole, ’n grootskaalse verlies aan beheerliggaamposte te verhoed. Solidariteit en die SOS wil met alle rolspelers hande vat om hierdie poste te beskerm en te behou.

Solidariteit beplan ’n nasionale veldtog wat ouers sal aanmoedig om sover dit vir hulle moontlik is, skoolgeld te betaal. Die doel is ook om regsondersteuning en advies aan beheerliggaampersoneel te bied, en gemeenskappe en alumni te mobiliseer om sodoende onderwysers en skole te ondersteun.

“Die poste wat deur skoolbeheerliggame daargestel word, vorm ’n integrale deel van ons onderwysstelsel,” voer Hermann aan.

Ingevolge die Skolewet word beheerliggame en die ouergemeenskap as ’n sentrale deel van onderwysvoorsiening beskou. Dit is dus van uiterste belang dat die rol van die ouergemeenskap beskerm moet word.

Solidariteit verstaan die uitdagings waarmee skole te kampe het, maar ons mag nie toelaat dat ’n tydelike krisis permanente skade vir kinders, skole en onderwysers veroorsaak nie. As beheerliggaamposte verlore raak, sal ons met klasse vol kinders sonder onderwysers sit. Suid-Afrika het ’n gesamentlike reusepoging nodig om spesifiek ons beheerliggaam-aanstellings te beskerm.

“Die verlies aan skoolfonds tydens die korona-krisis wissel van tussen 20% en 60%, en in sommige gevalle selfs meer. Alle skole kry swaar, maar dit is veral plattelandse skole, skole in behoeftige omgewings en skole wat van kontantstelsels gebruik maak wat swaar getref word. Skole probeer hul bes om beheerliggaamposte te behou, maar dit raak al hoe moeiliker en reserwes is beperk.

“Beheerliggaam-onderwysers se salarisse is in baie gevalle met tot soveel as 50% gesny. In verskeie gevalle word ‘tydelike’ afleggings gedoen. Ons verwag ook dat die druk op beheerliggaamposte in die volgende drie maande drasties gaan toeneem. Die werkloosheidsvoorsiening (TERS) het bloot tydelike verligting gebring,” het Hermann gesê. Talle skole het nie vir TERS aansoek gedoen nie of nog nie al hul geld ontvang nie.

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers gaan op ’n unieke manier, as ’n kollektief, die belang van beheerliggaam-aanstellings tydens en na die korona-krisis beskerm. Kreatiewe oplossings moet gevind word, want dit is in belang van almal.  Solidariteit staan nie teenoor skoolbesture en beheerliggame nie. Die krisis is nie deur hulle geskep nie. Die impak van die inperkings wat deur die ANC-regering daargestel is, het hierdie krisis op die spits gedryf. Alle skole is dus nou genoodsaak om te herbegroot. Solidariteit sal die belang van almal, en spesifiek die onderwys, dien.

Beheerliggaam-onderwysers en ander beheerliggaam-aanstellings is uiters kwesbaar. Hulle vorm nie deel van die kollektiewe ooreenkoms wat by die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (RAVO) bereik is nie. Beheerliggaam-aangesteldes is nie as ʼn belangegroep georganiseer nie en dit is selfs moeilik om ʼn nasionale prentjie van die krisis te kry. Omdat beheerliggaam-onderwysers geen spreekbuis het om hul belange te dien nie, is dit moeilik om met oplossings vorendag te kom.

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers het ʼn tienpuntplan aangekondig om werk by skole te beskerm:

1. ʼn Landwye veldtog gaan van stapel gestuur word wat ouers aanmoedig om sover moontlik steeds skoolfonds te betaal.

2. ʼn Veldtog gaan aangepak word om die noodsaak en behoud van beheerliggaamposte in die beste belang van leerlinge te beklemtoon.

3. Gesamentlike werkswinkels sal vir skole aangebied word waar skole planne onder mekaar kan uitruil om oplossings vir brandpunte te vind.

4. Die kollektiewe krag van die Solidariteit Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers sal gebruik word om in gesprek te tree met vennote binne die Afrikaanse Onderwysnetwerk.

5. Strategiese hofsake sal oorweeg word.

6. Beheerliggame sal bewus gemaak word van die regte prosesse wat gevolg moet word en beheerliggaam-onderwysers sal bewus gemaak word van die regte waaroor hulle beskik.

7. Ondersteuning in die vorm van regsadvies en -verteenwoordiging sal aan onderwysers gebied word en ʼn spesiale advieslyn sal daargestel word.

8. Opleidingsprogramme sal saam met die SOS se vakverenigings en S-leer aangebied word om onderwysers en skoolbesture op die voorpunt van kennis en ontwikkelings op hul vakgebied te hou en om hulle op hoogte van relevante tegnologie te hou.

9. Gemeenskappe en plaaslike ondernemings sal gemobiliseer word om skole en onderwysers te ondersteun. Hierdie optrede sluit die skepping van ʼn spesiale fonds in waartoe belanghebbendes soos alumni kan bydra ter ondersteuning van die onderwys.

10. ʼn Vennootskapsbenadering sal gevolg word sodat ʼn balans tussen die belange van almal gevind kan word. Die nuutgestigte Leierskapforum gaan gemobiliseer word om nou saam te werk met die Beroepsgilde van Beheerliggaam-onderwysers sodat daar begrip en respek vir albei se behoeftes kan wees en gesamentlike sukses behaal kan word.

“Dit is met groot kommer dat Solidariteit saam met die Skoleondersteuningsentrum genoodsaak was om hierdie probleem te takel, maar dit is ook met groot opgewondenheid wat die nuwe beroepsgilde bekendgestel word. Danksy hierdie nuwe optrede kan ons werklik as gemeenskap saam ʼn ommeswaai in hierdie onderwyskrisis teweeg bring,” sluit Hermann af.

Skole bly oop sê hof

Skole kan oop bly. Dit volg nadat die Noord-Gautengse hooggeregshof die Educators’ Union of South Africa (EUSA) se aansoek dat die skole moet sluit, van die hand gewys het. Solidariteit het tot die regsgeding toegetree en geargumenteer dat skole wat aan gesondheidsvereistes kan voldoen oop moet bly. Solidariteit het die uitspraak verwelkom.

“Dié uitspraak is ʼn oorwinning vir leerlinge en onderwysers in die land in die lig daarvan dat hul toegang tot onderrig en reg om te werk, deur dié oorwinning bevorder word,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Die hof het bevind dat EUSA se aansoek wesenlike gebreke bevat wat daartoe gelei het dat die saak van die hand gewys is.

“Dit bly betreurenswaardig dat daar, benewens hierdie aansoek, nog steeds pogings aangewend word om die skoolprogram tot stilstand te dwing. Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sal alle moontlike regsweë volg om te verseker dat die skoolprogram kan voortgaan,” het Hermann gesê.

Die meeste skole het op 8 Junie heropen en die skoolprogram verloop vlot.

“Die benadering om álle skole te sluit indien ʼn gelyke vlak van gereedheid nie by álle skole bereik word nie, is onhoudbaar en ongrondwetlik. Beheerliggame is die liggame wat getaak is om besluite in die beste belang van die skool en leerlinge te neem ,” sê Melanie Buys, Hoof van Ontwikkeling van die Skoleondersteuningsentrum.

“Om skole te sluit het verder ʼn enorme negatiewe impak op leerders, onderwysers en die gemeenskap. Dit is nie slegs die reg tot onderrig wat geskend word nie, maar dit hou ook wesenlike praktiese gevolge in soos die skoolprogram wat nie voltooi sal kan word nie en dat afleggings van beheerliggaamposte ʼn werklikheid sal wees,” het Buys bygevoeg.

Solidariteit en die Skoleondersteuningsentrum verwelkom die uitspraak en sal aanhou om betrokke te wees by sake en inisiatiewe wat die selfstandigheid van skole en skoolgemeenskappe bevorder.

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.