Afrikaners, slagoffers en slagoffermentaliteit

ʼn Groepie van sowat 40 Afrikaners het onlangs die Amerikaanse ambassadeur, Brent Bozell, vir ʼn ontmoeting genader. Hulle sentrale boodskap was: Afrikaners is nie slagoffers nie.

Afrikaners ís egter slagoffers, maar hulle het nie ʼn slagoffermentaliteit nie. ʼn Slagoffer is iemand aan wie onreg aangedoen is. ʼn Slagoffermentaliteit is iets anders. Dit ontstaan wanneer iemand sy identiteit met sy slagofferskap begin vereenselwig.

ʼn Slagoffer sê: “Onreg is aan my gedoen.” Iemand met ʼn slagoffermentaliteit sê: “Omdat onreg aan my gedoen is, kan ek nie verantwoordelikheid vir my toekoms neem nie.”

Om onreg te ontken, is gevaarlik. Wanneer dit gebeur, word onreg genormaliseer, optrede daarteen geneutraliseer en mense begin magteloos voel en raak uiteindelik vervreemd. Dit lei tot verwydering, polarisasie en onttrekking.

Dit is ook gevaarlik om onreg te relativeer. Om byvoorbeeld te sê dat iemand anders se onreg groter is en dat jou onreg daarom minderwaardig is, lei bloot tot die voortsetting van onreg.

Onreg moet konkreet en genuanseerd erken word voordat dit behoorlik hanteer kan word.

Die groepie argumenteer dat almal in Suid-Afrika onreg beleef en dat Afrikaners daarom nie die onreg teenoor hulle mag uitlig nie. Onreg teenoor Afrikaners word dan deel van ʼn groter pot van onreg, maar die spesifieke aard daarvan verdwyn eenvoudig in die groot kookpot.

Dit is natuurlik waar dat daar meerdere vorme van onreg bestaan en dat Afrikaners nie die enigstes is wat onreg beleef nie. Inteendeel, gewone arm swart Suid-Afrikaners ervaar die onreg van staatsverval en raswette dikwels op ʼn baie akute wyse.

Erkenning van een vorm van onreg is egter nie die ontkenning van ʼn ander nie. Onreg teenoor Afrikaners mag en moet dus erken word.

Raswette diskrimineer direk teen Afrikaners. Hierdie wette definieer mense aan die hand van hoe hulle lyk en wie hulle is, eerder as wat hulle kan doen. Raswette is onreg.

Die manier waarop Afrikaanse instellings soos kolleges, universiteite en skole aangeval word, is eweneens onreg. Die slag by kolleges is reeds gelewer, die slag by universiteite is byna voltooi, en die Bela-kanon is nou op skole gerig.

Voeg daarby die histeriese aanvalle op alles wat Afrikaans is deur die Lesufi’s en kie. Mense voel naderhand nie meer tuis in hul eie land nie.

Natuurlik raak misdaad almal. Dit ruk handuit. Misdaad in “townships” ontwrig mense se lewens daagliks. Dit alles is ernstige onreg.

Plaasaanvalle vorm egter, te midde van die algemene misdaadkrisis, ʼn besondere soort onreg. Dit is buitengewoon wreed en die voorkoms daarvan is ontstellend hoog. Om daarop te fokus, ontken nie ander vorme van onreg nie; dit plaas bloot die kollig op hierdie spesifieke onreg.

Boonop is dit die enigste vorm van misdaad wat deur politieke leiers besing word met die woorde: “Kill the Boer, the farmer”.

Afrikaners is ook, saam met alle ander Suid-Afrikaners, slagoffers van die land se algemene verval. Daar bestaan nie iets soos Afrikaner-slaggate, Afrikaner-kragonderbrekings of Afrikaner-waterlekke nie. Hierdie probleme raak almal. Hulle moet deur almal erken en deur almal aangepak word.

Daar is egter ook spesifieke kwessies wat Afrikaners en Afrikaans raak. Die Solidariteit Beweging, waarvan Solidariteit en AfriForum deel vorm, fokus op sy lede en ondersteuners. Ons lede en ondersteuners kom hoofsaaklik uit die Afrikaanse en Afrikanergemeenskap.

Daarom is ons doel om vir daardie gemeenskap ʼn toekoms te help bou waarin hulle vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Die Solidariteit Beweging gee egter nie voor dat ons alle Afrikaners of alle Afrikaanssprekendes verteenwoordig nie, nog minder alle Suid-Afrikaners. Ons fokus is ons lede en ondersteuners. Dit sou arrogant, en selfs paternalisties, wees om namens almal te probeer optree.

Ander gemeenskappe moet hul eie onreg identifiseer en aanspreek. Waar ons kan saamwerk, sal ons dit doen. Ons het egter ʼn plig om die onreg teenoor ons lede uit te lig en aan te spreek. Niemand kan ons daarvoor kwalik neem nie.

Dit strek dikwels ook tot voordeel van die breër gemeenskap. Akademia en Sol-Tech is byvoorbeeld bates uit die Solidariteit Beweging, vir die Afrikaanse gemeenskap, maar hul waarde strek veel verder. AfriForum se veiligheidsinisiatiewe en werk aan munisipale dienste bevoordeel eweneens baie mense buite ons eie ondersteuningsbasis.

Dit bring my terug by die begrip slagoffermentaliteit.

Afrikaners het oor die algemeen nie ʼn slagoffermentaliteit nie en die Solidariteit Beweging beslis nie. Al is daar onreg, klim ons in en doen dinge self. Die erkenning en verstaan van onreg is juis die voorwaarde om dit aan te spreek.

Daarom is “Ons sal self” die leuse waarop ons Beweging gebou is. Ons help mense om werk te kry, bou opleidingsinstellings, gee studiehulp, ondersteun skole, verbeter veiligheid, help met munisipale dienste, beveg onreg binne die grondwetlike raamwerk en doen nog baie meer.

Ons erken onreg. Ons beveg onreg. Maar ons bou ook verder aan ons toekoms. Ons sal self.

 

Geskryf deur Dirk Hermann, bestuurshoof by Solidariteit.

Wie is die Solidariteit Beweging regtig?

1994 was ‘n ordeverandering vir Suid-Afrika. Die verandering het talle instellings, wat nie die oorgang kon maak nie, vernietig. Die Suid-Afrikaanse landskap sou vir altyd anders lyk.

Instellings wat aan die vorige orde wou vasklou, het eenvoudig verdwyn. Een so ‘n instelling uit die vorige bedeling was die Mynwerkersunie (MWU).

Die MWU was ‘n ou instelling met ‘n ryk geskiedenis en is reeds in 1902 gestig. Soos talle burgerlike organisasies en politieke partye was die MWU in ‘n oorlewingskrisis. Dit was geldelik bankrot en bankrot aan idees.

Binne die nuwe werklikheid
In 1997 is Flip Buys as hoofsekretaris van die MWU verkies. Tydens sy eerste kongres het hy gesê die MWU moet ʼn beweging word. Hy was bekommerd oor die ANC se sentralistiese meerderheidsideologie en wat dit vir staatsbestuur en minderheidsbeskerming kan inhou.

Buys het die bankrot-MWU binne die ná-1994-werklikheid geplaas. Hy het die MWU weggelei van rasdefinisies en dit omskep in ‘n kultuur- en taalinstelling wat beskerming geniet binne die nuwe grondwetlike bedeling. Artikels 29, 30 en 31 van die Grondwet gee aan taal- en kultuurgemeenskappe die reg om eie instellings te vestig, insluitende onderwysinstellings.

Buys het reeds in 1997 besef dat dit noodsaaklik is om van grondwetlike ruimtes gebruik te maak, maar dat instellings daarvoor nodig is. Anders sou artikels 29, 30 en 31 bloot papierartikels bly, sou die sentralistiese staat die samelewing versmoor en sou minderhede se ruimtes verdwyn.

Sy kommer is later reg bewys. Die staat het al meer sentralisties geraak en die grondwetlike ruimtes vir gemeenskappe is verklein tot so ‘n mate dat diegene wat daarop aanspraak maak, as ongrondwetlik beskou word.

Afrikaners gaan nêrens heen nie
Flip Buys se 1998-aankondiging van ʼn Beweging was nie net binne die nuwe grondwetlike werklikheid nie, maar ook ʼn aankondiging dat Afrikaners nêrens heen gaan nie. Baie het gewonder of Afrikaners in die nuwe werklikheid wil bly. Hy het aangekondig dat Afrikaners ruimtes gaan skep om juis hier, aan die suidpunt van Afrika, te bly.

Vandag is die Solidariteit Beweging ʼn netwerk van tientalle selfstandige instellings met ongeveer 600 000 betalende lede en nog sowat 100 000 gebruikers van verskillende dienste. Indien families ook in ag geneem word, is dit ʼn reusebeweging. Dit is nie ʼn elite beweging nie, maar ʼn beweging wat deur gewone werkende mense begin is.

Alhoewel dit by verre die grootste organisasie in die Afrikaner- en Afrikaanse gemeenskap is, maak die Solidariteit Beweging nie aanspraak daarop dat hy namens alle Afrikaners praat nie, maar verteenwoordig die belange van sy lede en ondersteuners.

Die pad van die Beweging

Werk
Die eerste stap was om die ou bankrot-MWU weer sterk te maak. Finansiële stelsels is verander, werwingsveldtogte is begin en nuwe personeel is aangestel. In 2001 is die naam verander na Solidariteit. Die ou MWU het ongeveer 20 000 betalende lede gehad en vandag is Solidariteit meer as tien keer groter en een van Suid-Afrika se grootste vakbonde. Solidariteit het ʼn skuif gemaak om nie net in werksplekke te organiseer nie, maar ook in beroepe en het vandag beroepsnetwerke in al die groot beroepe. Solidariteit het ook deur tegnologie betrokke geraak by werkfasilitering. Sowat 4 000 werkgewers het reeds 14 000 poste op Solidariteit se platform geplaas.

Maatskaplike ontwikkeling
Binne die Mynwerkersunie is reeds in 1949 ʼn maatskaplike been, Helpende Hand, begin. In 2001 is besluit om Helpende Hand ʼn selfstandige instelling te maak. Daar is op klein skaal begin om studente met studies te help en ʼn eerste voedingsprogram by ʼn skool in Vanderbijlpark te loods.

Solidariteit-lede is gebel en gevra om by te dra tot die Helpende Hand-fonds. Daar was groot entoesiasme. Later het elke Solidariteit-lid R5 per maand vir studiehulp bygedra. Hierdie jaar is meer as R60 miljoen in die vorm van studiehulp aan studente uitbetaal.

Solidariteit Helpende Hand het nou 230 takke en dorpsverteenwoordigers in 14 streke. Daar is 14 streekmaatskaplike werkers en altesaam 30 maatskaplike werkers.

Daar is sewe Ons Plekke met naskoolse sentrums en kleuterskole vir behoeftige kinders. Drie duisend dogters ontvang maandeliks sanitêre produkte, 8 000 kinders kry daagliks kos en 2000 kinders ontvang jaarliks skooltassies en skryfbehoeftes. Solidariteit Helpende Hand het ook ʼn Opleidingsinstituut begin wat tuisversorgers oplei.

Opleiding en onderwys
Daar is besef dat opleiding die hart van enige Beweging is wat ernstig oor die toekoms is. Die bou van opleidingsinstellings is duur en word gewoonlik swaar deur die staat gesubsidieer.

Solidariteit het begin met ʼn landswye toer na fabrieke, myne, skole en ander werksplekke en het lede gevra om elk R10 tot ʼn Boufonds by te dra. Dit is met hierdie R10de waarmee Sol-Tech en later Akademia en Bo-Karoo Opleiding begin is.

Sol-Tech
In 2007 is Sol-Tech met 64 elektriese studente in Solidariteit se kantore begin. Vandag is daar ongeveer 3 000 studente in verskillende fases van opleiding.

Die rigtings sluit vandag in: dieselwerktuigkunde, auto-elektries, elektries, meulmaker, megatroniese tegnikus, pas en draai, gereedskapmaker, sweis, haarkappery, vroeë kinderontwikkeling en inligtingstegnologie.

Sol-Tech beskik oor wêreldklas toerusting, ʼn wêreldklas kampus en koshuise.

Akademia
Akademia is in 2012 met 40 studente begin. Aanvanklik is slegs ʼn telematiese aanbod gebied. Dit het ook in Solidariteit se kantore begin. Sentrums is oor die land gevestig.

In 2021 is ʼn opkampusaanbod met 111 studente in Centurion begin. Vandag is daar sowat 4500 studente by Akademia.

Daar is nou vier fakulteite: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe en Opvoedkunde. ʼn Groot nuwe kampus word gebou en die fakulteite en programaanbod gaan ingrypend uitgebrei word.

Bo-Karoo Opleiding
In 2019 is die eerste vyf voltydse studente by Bo-Karoo Opleiding op Orania ontvang. Die instelling het nou sowat 250 studente, ʼn tweede inname vir die jaar word beplan en dit groei met 40% per jaar. Nuwe werkswinkels is gebou en verdere uitbreidings volg binnekort. Daar is pragtige studenteverblyf, ʼn proefplaas en ʼn klein kampus in aanbou. Die twee grootste bene van BKO is tegnies en landbou en die programaanbod word tans ingrypend uitgebrei.

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum
Afrikaanse skole en skoolonderwys in die algemeen het onder groot druk gekom. Die aantal Afrikaanse skole het van 1 800 tot 900 afgeneem. In 2015 is die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) gestig. Vandag is bykans 50 000 Afrikaanse kinders op Wolkskool. Sowat 20 000 onderwysers maak van Wolkskool gebruik. Jaarliks word 7 000 onderwysers opgelei en daar is 250 lid-skole van SOS.

Daar is ook besef dat onafhanklike skole gebou moet word. ʼn Konsessiemodel, met die naam Gimnasium-skole, gaan gemeenskappe in staat stel om eie skole te bou. Die eerste skool word binnekort gebou.

Solidariteit Leer
Voortgesette opleiding is ook van kritieke belang. Op Solidariteit se platform word 200 voortgesette leerkursusse aangebied.

Eiendomsontwikkeling
Die instellings van die Solidariteit Beweging is met R10de en klein bydraes van lede begin. Om ʼn kampus te bou, is klein skenkings egter nie voldoende nie.

Die eiendomsmaatskappy Kanton is in 2019 gestig. Die doel van Kanton is om leefruimtes vir Afrikaans te bou deur ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal te fasiliteer.

Die eerste groot projek was die Sol-Techkampus, gevolg deur die Sol-Tech-koshuise.

Die grootste projek tot dusver is die Akademia-kampus. Dit is ʼn R3,2 miljardprojek waarvan die eerste fase R1,2 miljard beloop. Dit het reeds afgeskop en beleggers word gewerf.

Sol-Tech en Akademia is die huurders en beleggers weet daar is langtermyn, betroubare huurders.

Deur ʼn goeie kommersiële belegging help beleggers ook om kulturele ruimtes te bou. Daar word ook beplan om in die toekoms ʼn Akademia-kampus in die Wes-Kaap te bou asook skole, binne die groter Gimnasium-groep.

Burgerregte, veiligheid en munisipale dienslewering
AfriForum is in 2006 begin. Die belangrikheid van die beskerming van burgerregte is vroeg besef en AfriForum het reeds verskeie hofsake gewen. AfriForum is egter in die eerste plek ʼn gemeenskapsorganisasie en wil gemeenskappe sterk maak.

AfriForum het 10 000 vrywilligers, 165 takke en 177 buurtwagte oor die land. Daar word landswyd gehelp met munisipale dienste oor ʼn wye front, tot voordeel van die hele gemeenskap.

Veiligheidstrukture maak gemeenskappe oor die hele land veiliger. Daar is op munisipale en veiligheidsvlakke samewerking met owerhede op verskeie vlakke, insluitend metro’s, munisipaliteite en die polisie.

Kultuur en media
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het met al hulle werksaamhede ook uiteindelik by die Solidariteit Beweging ingeskakel om die rol van kultuur- en erfenisbewaring te help vervul. By die AfriForum Teater word deurlopend Afrikaanse produksies aangebied.

Maroela Media is gestig en is nou een van die land se grootste mediahuise wat ook inhoud aan tientalle gemeenskapsradiostasies lewer.

AfriForumTV het 200 000 intekenaars. Die instellings van die Solidariteit Beweging het ʼn reuse-sosiale mediateenwoordigheid, met byvoorbeeld meer as 1,8 miljoen volgelinge op Facebook alleen.

Selfstandige gemeenskappe
Vir die Solidariteit Beweging is sterk, selfstandige gemeenskappe noodsaaklik. Die Beweging volg ʼn konsentrasiestrategie wat die natuurlike migrasie van Afrikaners ondersteun en gemeenskapsinfrastruktuur vestig.

Dit sluit werk-, maatskaplike, veiligheids-, dienslewerings-, kulturele en onderwys- en opleidingsondersteuning in.

AfriForum is ook betrokke by selfstandigheidsprojekte by talle tradisionele gemeenskappe en by ʼn netwerk van tradisionele gemeenskappe. AfriForum ondersteun ook die Kaapse Forum.

AfriForum vestig in ankergmeenskappe plaaslike gemeenskapforums wat as platform dien vir skole, kerke en ander gemeenskaporganisasies om mekaar en die gemeenskap te versterk,

Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy is gestig om te help om ʼn selfstandige gemeenskap in die Bo-Karoo te vestig. Dit is deel van die groot konsentrasiestrategie en die versterking van ankergemeenskappe landswyd.

Ander sake-inisiatiewe
Om die Beweging kommersieel te laat funksioneer, is daar verskeie sake-inisiatiewe. Dit sluit in ʼn finansiële diensmaatskappy, Konnek, met ʼn fokus op korttermynversekering, lenings en beleggingsadvies.

Daar is ook ʼn spysenieringsmaatskappy, Spys, wat spyseniering vir personeel en studente doen. Verder is daar die Solidariteit Beleggingsmaatskappy, die AfriForum Beleggingsmaatskappy en Helpende Hand-sake wat 127 tweedehandse winkels bestuur.

Daar is ook ʼn Solidariteit Regsfonds en Solidariteit Boufonds waartoe mense kan bydra.

Hoe word die Beweging befonds?
Die Solidariteit Beweging word nie op enige vreemde manier befonds nie. Die Beweging bestaan uit kulturele entrepreneurs wat deur streng dissipline en gewone sakebeginsels bestuur word. Die bedryfsbegroting van die Beweging is so groot soos dié van ʼn mediumgrootte maatskappy op die Johannesburgse Effektebeurs. Die korporatiewe bestuur van die instellings is dus streng.

Die ledeorganisasies word deur ledegeld befonds. Oorgangsfinansiering vir die oprigting van instellings word uit skenkingsfondse en opbrengste uit finansiële dienste befonds.

Elke instelling het sy eie unieke finansiële enjin. Studente is byvoorbeeld die grootste befondsers van die opleidingsinstellings, advertensies befonds Maroela Media, en tweedehandse winkels befonds Solidariteit Helpende Hand. Kanton, wat verantwoordelik is vir eiendomsontwikkeling, insluitend kampusse, werf aandeelhouers op ʼn kommersiële grondslag.

Wie besit wie en wat?
Die instellings van die Solidariteit Beweging word belyn binne die Solidariteit Beweging Trust. Die naam van die Trust dui bloot daarop dat die groter Beweging uit Solidariteit ontstaan het.

Solidariteit of die Trust besit egter nie die instellings van die Beweging nie. Al die ledeinstellings en opleidingsinstellings is maatskappye sonder winsbejag. Daar is dus geen aandeelhouers wat geld uit ledeorganisasies verdien nie. Alle inkomste fokus op die uitvoering van ledeorganisasies se doelwitte.

Direkteure moet toesien dat elke instelling in diens van sy missie en die gemeenskap funksioneer.

Solidariteit het ook ʼn netwerk van vriende en vennote wat insluit die landbouorganisasie Saai, die organisasies van die Afrikaner Leiersnetwerk, ander gemeenskapsleiers en gemeenskapmedia. Solidariteit is nie betrokke in die partypolitiek nie, maar het goeie verhoudings met verskeie politieke partye wat die belang van die Beweging se lede beskerm.

Alhoewel die Solidariteit Beweging gereeld in dispuut met die regering is, is ons lief vir die land. Wanneer ons met die regering bots, is dit ter wille van die land. Ons is hier om te bly, en daarom sal ons soms veg en baie bou. Ons is nie van die regering afhanklik vir ʼn toekoms nie. Daarom het ons hoop, want ons sal self.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Dit is wie en wat Solidariteit is, so hou nou op twak praat

Die afgelope paar maande word daar vreeslik óór Solidariteit gepraat, maar min mét Solidariteit. Allerhande bordjies word om ons nekke gehang. Strooipoppe word opgerig, wat die slimjanne dan self afskiet.

Ons word só beskryf dat ek onsself skaars herken: Regses, rassiste, Trump-pionne en selfs Suid-Afrika-haters!

Kom ons sê dit sommer in gewone taal: Hier by Solidariteit hou ons niks van die ANC nie, maar ons is lief vir die land. Soos Flip Buys sê: “Ons verlang nie terug na die verlede onder die NP-regering nie, maar ons is ook nie positief oor die toekoms onder die ANC-regering nie.”

Ons is egter toekomsmense. Ons dink geslagmatig. Die instellings wat ons bou is daarop gemik om jongmense te help om ʼn toekoms te skep. Die laaste ding wat ons is, is slagoffers. Ons ontken nie die onreg wat met ons mense gebeur nie, maar ons maak planne.

Ons is gelowige mense. Ons glo aan woorde soos roeping, werk en verantwoordelikheid. Ons glo almal wat wil werk, moet kan werk en hul volle potensiaal bereik. Ons primêre fokus is mense se werk, want werk bied sekuriteit vir soveel ander aspekte van die lewe.

Ons lede is meestal werkende mense. Hulle is gewone mense en baie van hulle werk dikwels in moeilike omstandighede. Vir jare reeds werk hulle op die werksvloer saam met mense van verskillende agtergronde. Die meesterverhaal dat hulle hulself wil isoleer, is onsin.

Oor die jare heen het Solidariteit saam met ander vakbonde gewerk en ons het tot vandag toe samewerkingsooreenkomste met hierdie vakbonde in verskeie bedrywe. Ons ken van saamwerk.

Ons lede ken die werklikhede en uitdagings van die land baie beter as baie kommentators en ontleders. Hulle weet van diskriminasie. Daarom verwerp ons die regering se rasmalheid. Dit diskrimineer daagliks teen ons mense in werksplekke reg oor die land en is eenvoudig boos.

Hierdie beleide verryk ʼn klein elite en vernietig die ekonomie en werksgeleenthede, met vaardighede wat uitvloei. Ons verwerping van rasbeleid het niks daarmee te doen dat ons nie swart mense wil sien vorder nie. Inteendeel, die wette doen juis die teenoorgestelde. Dit is die groot leuen van ons tyd.

Rasmalheid beperk handel. ʼn Land soos die VSA sien dit as ʼn handelsbeperking en Europese lande toenemend ook. Wanneer ons die regering aanspoor om dit vir maatskappye moontlik te maak om internasionaal handel te dryf, doen ons dit omdat ons positief is oor groei in die land.

Ons kyk nie neer op enigiemand nie en ons glo nie in meerderwaardigheid nie. Ons het ʼn afkeer van rassemeerderwaardigheid. Hier by ons loop daar nie rassiste rond nie. Dit is in elk geval nie wat die Bybel ons leer nie.

Ons glo aan die vrye mark, omdat dit die beste stelsel is om welvaart en werk te skep. Ons hou nie van sosialiste wat ʼn utopie wil bou, maar ʼn geskiedenis van smart nalaat nie. Ons hou ook nie van uitbuiters wat onder die vaandel van die vrye mark skuil nie.

Die kernpilaar van die vrye mark is eiendomsreg. Wanneer ons vir eiendomsreg opstaan, doen ons dit omdat ons vir die mark en vir welvaartskepping opstaan.

Wanneer ons met die Amerikaners praat, tree ons in vir die land ten spyte van die regering. Die regering het sy belangrikste handelsvennoot vervreem. Ons tree in vir Agoa omdat dit goed is vir die ekonomie en vir groei. Ons vra nooit dat die land op enige manier gestraf word nie.

Ons soek oplossings vir Suid-Afrika, nie vir die VSA nie, want dit is waar ons lede leef en werk. Ons versprei geen waninligting nie en talle mediahuise moes reeds om verskoning vra vir hul valse bewerings dat ons waninligting in die VSA versprei het. Wat ons doen sal altyd daarop gemik wees om die situasie in die land in die algemeen en vir ons lede in besonder te verbeter.

Ons is lief vir ons taal, kultuur en gemeenskap. Om vir iets te wees, mag egter nooit beteken dat jy teen ander is nie. Ons sien Afrikaners nie as een of ander uitverkorene nie, maar as deel van Suid-Afrika se groot verskeidenheid.

Ons glo baie sterk aan moedertaalonderrig. Ons sien Bela as boos en as ʼn aanval op ons siel. Ons glo jy mag aan jou eie kant wees, maar nie net aan jou eie kant nie. Ons neem self verantwoordelikheid en bou. Baie van wat ons aanpak is ook ten bate van die land en tot voordeel van mense veel wyer as ons eie gemeenskap.

Ons gaan nie ons kinders se toekoms aan die staat oorlaat nie. Daarom sê ons: “Ons sal self”. Ons sê dit nie net nie, ons doen dit. Ons bou letterlik dat die stof staan. Ons glo nie dat die staat jou toekoms moet beskik nie; ons glo ʼn gemeenskap moet dit self beskik. Ons glo aan minder staatsbetrokkenheid en meer privaat- en gemeenskapsinisiatief. Dit is die beginsel agter ons stryd teen die staat se planne om ons gesondheidstelsel te kaap.

Ons glo aan gemeenskapsfederalisme. Dit staan teenoor staatsentralisme. Dit beteken bloot dat gemeenskappe besluite op die laagste moontlike vlak moet kan neem. Ons gaan nêrens heen nie. Ons hoort hier. Ons is van Afrika, en ons taal en volk se naam is na Afrika vernoem. Die ANC en wie ook al sal maar daarmee moet vrede maak. Ons is hier om te bly.

Dus, mense wat strooipoppe van meerderwaardigheid, rassisme, dislojaliteit, slagofferskap, uitverkorenheid, waninligting, verraad en ander booshede oprig: Julle praat twak. Moenie ons oordeel op grond van wat julle van ons gemaak het nie, maar op grond van wie ons is en wat ons doen.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Solidariteit se platform breek ‘n nuwe werkmark oop

Deur dr. Dirk Hermann

Vriende,

Ons wil ʼn veldbrand begin en die gemeenskap op groot skaal mobiliseer om mekaar in diens te neem.

Solidariteit se platform het ʼn werkmark waar meer as 650 maatskappye binne 2 maande sowat 1 600 poste gelaai het. 

Meer as 9 000 mense het hul CV’s gelaai. Dit is ʼn reuse-netwerk waar mense mekaar help om te werk sonder enige rasbepalings.

As die regering wette wil maak wat ons keer om te werk, help ons mekaar en word net sterker.

As iemand werk of ʼn nuwe geleentheid soek, óf as jy dalk ʼn pos het wat jy wil adverteer, gebruik die skakel hieronder.

Stuur dit vir almal wat jy ken, plaas dit op al wat ʼn groep is en deel dit wyd.

Dit is ʼn klein daad wat vir iemand anders lewensveranderend kan wees.

Dit is sommer ʼn maklike politieke daad in protes teen die regering en vir ons gemeenskap.

Ons sal mos self!

Gratis en in Afrikaans: https://aanlyn.solidariteit.co.za

Die tyd is nóú! Solidariteit op pad na VN om rassewette te stop

Solidariteit gaan Verenigde Nasies (VN) toe om te eis dat die Suid-Afrikaanse regering ’n besliste einddatum gee wanneer sy beleid van rastellende aksie, asook alle gepaardgaande rassewette, sal verstryk.
Hierdie verskerpte VN-veldtog het ten doel om ’n einde te maak aan die regering se beheptheid met rassewetgewing wat strydig is met die Internasionale Konvensie  vir die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD).
Sowel die Suid-Afrikaanse regering as Solidariteit sal dus laat in November voor die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) verskyn.
“Al hierdie rasmalheid vind plaas onder die vaandel van mooi woorde soos regstelling, gelykheid, diversiteit en transformasie. Maar pleks daarvan is die uitkoms ongelykheid, plundering, selfverryking en die vernietiging van die staatsdiens,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
“Vroeër die jaar wou die regering ook wetgewing deurdruk waarmee die privaat sektor aan rassekwotas gemeet sou word. Daardie mal rasplanne is tans deur die gemeenskap – en danksy ’n skikking – gestuit.
“Tog is die groot stryd nog nie gewonne nie en veg ons voort. Ons veg selfs harder. Ons mik om rassewette in die geheel te smoor en ons boodskap word deur honderde duisende mense ondersteun. Die boodskap sê dat rassewette moet stop. En die tyd daarvoor is nóú,” sê Hermann.
Volgens Anton van der Bijl, Solidariteit se adjunkbestuurshoof vir regsake, is die regering se beheptheid met statistiese rasseverteenwoordiging alombekend, en die beheptheid blyk duidelik uit hulle toepassing van regstellendeaksiebeleid.
“Ons regering se toepassing van rastellende aksie is nie net strydig met die VN se konvensie wat oor rassediskriminasie handel nie. Dit is ook in stryd met die wêreldwye siening oor regstellende aksie, wat die beginsel onderskryf dat regstellende aksie tydelik van aard moet wees en ʼn spesifieke eindpunt moet hê,” sê Van der Bijl.
Solidariteit gaan tydens die VN-besoek die feit dat regstellende aksie ingevolge internasionale riglyne en konvensies tydelik van aard moet wees, beklemtoon en gaan daarop aandring dat die Suid-Afrikaanse regering ʼn einddatum daarvoor stel.
Hermann glo ook die suksesse van die vorige VN-besoeke voorspel goeie uitkomste vir die nuwe veldtog.
“Solidariteit glo hy kan nou met die hulp van, en namens die gemeenskap, ʼn nóg groter deurbraak bewerkstellig. Sodoende kan ons begin om uiteindelik ʼn einde te maak aan rassewetgewing.”
Lees Solidariteit se skaduverslag hier: https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2023/10/Solidariteit-VN-Verslag-Nov-2023.pdf
Kyk vanaf 13:00 na die mediakonferensie: https://fb.me/e/4RjwvEq4g

Groot deurbraak oor regering se rasbeleid

Daar is die afgelope tyd baie gepraat oor die regering se drakoniese raswet en rasseregulasies. Ingevolge dié regulasies moet maatskappye aan streng rassekwotas voldoen, en die enigste maatstaf wat daarvoor gebruik word, is rasseverteenwoordiging.

Terselfdertyd was Solidariteit in ’n bemiddelingsproses onder toesig van die Verenigde Nasies se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO).

Dit volg ná ’n klag van Solidariteit by die IAO oor die regering se rigiede rasbenadering. Solidariteit het aangevoer dat dit ’n oortreding van Konvensie 111 van die IAO is, wat bepaal dat rasprosesse toelaatbaar is, maar buigsaam moet wees.

Die uitkoms van die proses het ingrypende gevolge vir enige rasprogram in Suid-Afrika.

Die belangrikste bepalings van die ooreenkoms is soos volg:

  1. Daar mag geen diensbeëindiging van enige aard as gevolg van rasprogramme wees nie.
  2. Rasprogramme moet tydelik wees en spesifiek op regstelling gefokus wees.
  3. Rasprogramme moet buigsaam wees, en ras is slegs een van vele faktore wat in ag geneem kan word met die voorbereiding, implementering en voldoening.
  4. Daar mag geen absolute plafonne vir indiensneming of bevordering vir enige groep wees nie.
  5. Die volgende moet in ag geneem word met die voorbereiding, toepassing en voldoening:
    • die inherente vereistes van ’n pos;
    • die poel van toepaslik gekwalifiseerde persone;
    • kwalifikasies, vaardighede en ondervinding;
    • natuurlike personeelomset; en
    • werwings- en bevorderingstendense in die werkplek.
  6. Geregverdigde gronde vir nie-voldoening kan die volgende insluit:
    • werwings- en bevorderingsgeleenthede;
    • onvoldoende persone uit die aangewese groep met die regte opleiding, vaardighede en ondervinding;
    • nige KVBA-toekenning, hofbevel, oordrag van besigheid, samesmelting en oornames wat ’n rol kan speel; en
    • ie sakeonderneming se ekonomiese omstandighede.

Die uitkoms is in die vorm van ’n ooreenkoms wat tussen Solidariteit en die regering vasgemaak is. Die ooreenkoms gaan nou as regulasies in die Staatskoerant gepubliseer word en ’n bevel van die hof gemaak word.

Dit is die einde van ras as enigste maatstaf.

Alhoewel dit die geskil oor die rigiede toepassing van ras by die IAO ontknoop, is dit nie die einde van alle rasprogramme in Suid-Afrika nie. Die stryd duur voor.

My oproep aan elkeen van julle is om hierdie ooreenkoms onder die aandag van julle maatskappye te bring en sorg te dra dat hulle dit toepas.

Om julle in staat te stel om te help om rigiede rasbeleide die nek in te slaan, is hierby ook ’n skakel ingesluit wat julle na die oooreenkoms self sal neem.

Hierdie oorwinning is ’n strategiese stryd wat gewen is, maar die oorlog teen die regering se rasse-ideologie duur voort.

Groete

Dirk Hermann
Bestuurshoof: Solidariteit

Geagte minister, het u al ʼn boer sien huil … saam met sy werkers?

Geagte Minister Kubayi-Ngubane

Het u al ʼn boer sien huil … saam met sy werkers?

Johan en Sanet Stadler het ʼn klein stukkie grond met die prentjiemooi Swartberge in die agtergrond. Hy het in die dorp gewerk en met volstruise geboer. Strenger uitvoerregulasies, mededinging in die internasionale mark en sporadiese voëlgriep het Johan gedwing om sy plasie te omskep in ʼn werkende gasteplaas. Hy doen dit nou voltyds. Hy het ʼn karaktervolle klipskuur, ou onbenutte huisies en die ou melkstal omskep in slaapeenhede. Hy het tien werkers in diens. Twee vroue help in die kombuis, vyf help om skoon te maak en drie mans hou die plaas in stand. Die onderneming se salarisrekening is R53 000 per maand. Die twee vroue in die kombuis is Sarah en Mildrid. Vir Johan en Sanet se kinders is die twee vroue soos hul tweede en derde ma’s.

Vandeesweek het Johan Stadler, die geharde boer van die Klein-Karoo, gehuil. Hy het gehuil toe hy sien hoe Sanet, Sarah en Mildrid saam huil. Hul besigheid het tot stilstand gekom. Die Maart-vakansie, Paastyd en die vakansiedae is hul hoë-inkomstetyd. Hul verlies is groot. Hy het gehuil omdat getroue werkers saam met hom nie meer ʼn inkomste het nie.

So is daar duisende Johan Stadlers wat die afgelope twee maande oor hul besighede en werkers huil. Toerisme gaan dié sektor wees wat laaste gaan herstel ná die Covid-19-krisis.

Hulle is hard getref deur die regering se regulasies. Hulle is dood gereguleer. Die regering moet help. R200 miljoen vir die sektor is te min, maar dit sal minstens help.

U departement, Minister, het egter besluit dat ras as kriterium gebruik gaan word by die toekenning van hulp aan die bedryf. Noodhulp het rassehulp geword. Covid-19 ken nie kleur nie. Nóg die virus, nóg die regering se regulasies het tussen ʼn Joel Musangu en ʼn Johan Stadler onderskei. U onderskei tussen hulle op grond van ras. U sê vir Sarah en Mildred julle gaan nie gehelp word nie, want Johan en Sanet is wit.

U sluit groot ondernemings, wit ondernemings en mikro-ondernemings, waarvan die meeste in swart besit is, vir hulp uit. Slegs ondernemings met ʼn omset kleiner as R2,5 miljoen per jaar en wat vir belasting geregistreer is, kwalifiseer vir hulp. Dit is toevallig in die deel van die sektor waar baie wit gesinne gastehuise begin het omdat hulle reeds deur die transformasie-ideologie uit die formele arbeidsmark geskop is.

ʼn Klein groepie swart eienaars, slegs 7% van die sektor, kwalifiseer vir die leeueaandeel van die hulp. In totaal word 93% van eienaars, ook duisende klein mikro- swart ondernemings van hulp uitgesluit. Van die 350 000 werknemers in die sektor word meer as 300 000, waarvan 65% swart is, van die hulp uitgesluit. U is suksesvol om rassehulp vir ʼn klein groepie te gee, maar u misluk met noodhulp vir u sektor.

U straf wit ondernemings omdat hulle volgens u nie vinnig transformeer nie. Hulle word skuldig bevind aan wit-wees in die toerismesektor. U departement is so rasseblind dat u bereid is om duisende werkers vir die groter rasse-ideologie te offer. U maak u skuldig aan dubbele diskriminasie in ʼn krisis – eerstens teenoor die wit eienaars van ondernemings en tweedens teenoor alle werkers, wit en swart.

Die doel van die toerisme-verligtingsfonds is om die gevolge van die Covid-19-krisis te verlig. U omskep dit egter in ʼn transformasiefonds. U skryf dat ʼn gesonde toerismesektor gesonde transformasie moet hê. U gebruik dan ʼn hartseer krisis wat duisende mense raak om transformasie te bevorder. U gebruik die krisis om ondernemings aan te kla omdat hulle nie swart genoeg is nie.

U voer swart bemagtiging, wat vir ʼn spesifieke doel ontwerp is, as verweer aan. Die doel van swart bemagtiging is om te bevoordeel om die benadeling van die verlede reg te stel. Hierdie fonds gaan nie oor bevoordeling nie; dit gaan oor oorlewing. Selfs vir die swart ontvanger van hulp gaan dit oor basiese oorlewing; vir die wit persoon gaan dit oor ondergang.

Minister, terwyl ek by swart bemagtiging is, wil ek die volgende noem: Volgens regulasies vir swart bemagtiging is klein maatskappye in normale omstandighede vrygestel van swart bemagtigingsvereistes. In die Covid-19-krisis is swart bemagtiging skielik op die maatskappye van toepassing. In die krisis word die hekkie vir wit maatskappye hoër as in normale omstandighede.

Midde-in ʼn krisis, waar ons saam ʼn vyand moet beveg, maak u van ras ʼn vyand en moet ons hof toe gaan. Op 28 April 2020 sien ons u in die hooggeregshof oor mense wat van hulp uitgesluit word, nie op grond van hul nood nie, maar oor hoe hulle lyk.

Week na week is pres. Ramaphosa op televisie en vra alle Suid-Afrikaners in die idioom van ʼn staatsman om saam te staan. Hy noem ons sy mede-Suid-Afrikaners. Dit is in ʼn tyd soos dié waarin ons mekaar nodig het. Ons word gekonfronteer met ʼn krisis soos nog nooit tevore nie. Suid-Afrika, ons het jul hulp nodig, hoor ons van die president.

Ons help, mnr. die President. Ons offer ons inkomste op. Help ons ook asseblief. En dan Minister, antwoord u: “Jammer, julle is wit.”

Die wêreld en Suid-Afrika huil oor Covid-19. Johan en Sanet Stadler huil saam met Sarah en Mildred.

Bêre die rasse-ideologie in die krisis, Minister, en kom huil eerder saam met Johan en sy werkers.

 

Vriendelike groete

 

Dirk Hermann

Solidariteit wil verlies van duisende poste by skole help keer

Solidariteit gaan met ’n groot veldtog begin om te keer dat personeel in onderwys- en ander poste, wat deur skoolbeheerliggame aangestel is, hul werk verloor. Duisende poste word deur die Covid-19-krisis bedreig.

Volgens Solidariteit kan tot 20 000 van die ongeveer 27 000 beheerliggaam-aanstellings se diensvoorwaardes en salarisse geraak word. Tot soveel as 10 000 van hierdie poste kan verlore gaan indien daar nie drasties ingegryp word nie. Dit sluit duisende ander beheerliggaamposte soos terapeute, administratiewe poste, afrigters en assistent-onderwysers uit. Sowat 55% van poste by Afrikaanse skole is beheerliggaam-aanstellings wat deur die skoolfonds gefinansier word en wie se salarisse dus deur ouers betaal word.

“Hierdie krisis is nie slegs ’n krisis vir individuele werknemers nie; dit is ’n onderwyskrisis,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Die reaksie van Solidariteit volg na verskeie berigte dat skole landswyd sukkel om skoolgelde in te vorder sedert die inperking in Maart ingestel is. Sedert die uitbreek van die pandemie kry skole gemiddeld tussen 20% en 60% van hul skoolgeld, en in sommige gevalle nog minder.

Solidariteit het, in samewerking met die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), aangekondig dat hy ’n spesiale Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers gestig het. Die doel hiervan is om, in samewerking met skole, ’n grootskaalse verlies aan beheerliggaamposte te verhoed. Solidariteit en die SOS wil met alle rolspelers hande vat om hierdie poste te beskerm en te behou.

Solidariteit beplan ’n nasionale veldtog wat ouers sal aanmoedig om sover dit vir hulle moontlik is, skoolgeld te betaal. Die doel is ook om regsondersteuning en advies aan beheerliggaampersoneel te bied, en gemeenskappe en alumni te mobiliseer om sodoende onderwysers en skole te ondersteun.

“Die poste wat deur skoolbeheerliggame daargestel word, vorm ’n integrale deel van ons onderwysstelsel,” voer Hermann aan.

Ingevolge die Skolewet word beheerliggame en die ouergemeenskap as ’n sentrale deel van onderwysvoorsiening beskou. Dit is dus van uiterste belang dat die rol van die ouergemeenskap beskerm moet word.

Solidariteit verstaan die uitdagings waarmee skole te kampe het, maar ons mag nie toelaat dat ’n tydelike krisis permanente skade vir kinders, skole en onderwysers veroorsaak nie. As beheerliggaamposte verlore raak, sal ons met klasse vol kinders sonder onderwysers sit. Suid-Afrika het ’n gesamentlike reusepoging nodig om spesifiek ons beheerliggaam-aanstellings te beskerm.

“Die verlies aan skoolfonds tydens die korona-krisis wissel van tussen 20% en 60%, en in sommige gevalle selfs meer. Alle skole kry swaar, maar dit is veral plattelandse skole, skole in behoeftige omgewings en skole wat van kontantstelsels gebruik maak wat swaar getref word. Skole probeer hul bes om beheerliggaamposte te behou, maar dit raak al hoe moeiliker en reserwes is beperk.

“Beheerliggaam-onderwysers se salarisse is in baie gevalle met tot soveel as 50% gesny. In verskeie gevalle word ‘tydelike’ afleggings gedoen. Ons verwag ook dat die druk op beheerliggaamposte in die volgende drie maande drasties gaan toeneem. Die werkloosheidsvoorsiening (TERS) het bloot tydelike verligting gebring,” het Hermann gesê. Talle skole het nie vir TERS aansoek gedoen nie of nog nie al hul geld ontvang nie.

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers gaan op ’n unieke manier, as ’n kollektief, die belang van beheerliggaam-aanstellings tydens en na die korona-krisis beskerm. Kreatiewe oplossings moet gevind word, want dit is in belang van almal.  Solidariteit staan nie teenoor skoolbesture en beheerliggame nie. Die krisis is nie deur hulle geskep nie. Die impak van die inperkings wat deur die ANC-regering daargestel is, het hierdie krisis op die spits gedryf. Alle skole is dus nou genoodsaak om te herbegroot. Solidariteit sal die belang van almal, en spesifiek die onderwys, dien.

Beheerliggaam-onderwysers en ander beheerliggaam-aanstellings is uiters kwesbaar. Hulle vorm nie deel van die kollektiewe ooreenkoms wat by die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (RAVO) bereik is nie. Beheerliggaam-aangesteldes is nie as ʼn belangegroep georganiseer nie en dit is selfs moeilik om ʼn nasionale prentjie van die krisis te kry. Omdat beheerliggaam-onderwysers geen spreekbuis het om hul belange te dien nie, is dit moeilik om met oplossings vorendag te kom.

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers het ʼn tienpuntplan aangekondig om werk by skole te beskerm:

1. ʼn Landwye veldtog gaan van stapel gestuur word wat ouers aanmoedig om sover moontlik steeds skoolfonds te betaal.

2. ʼn Veldtog gaan aangepak word om die noodsaak en behoud van beheerliggaamposte in die beste belang van leerlinge te beklemtoon.

3. Gesamentlike werkswinkels sal vir skole aangebied word waar skole planne onder mekaar kan uitruil om oplossings vir brandpunte te vind.

4. Die kollektiewe krag van die Solidariteit Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers sal gebruik word om in gesprek te tree met vennote binne die Afrikaanse Onderwysnetwerk.

5. Strategiese hofsake sal oorweeg word.

6. Beheerliggame sal bewus gemaak word van die regte prosesse wat gevolg moet word en beheerliggaam-onderwysers sal bewus gemaak word van die regte waaroor hulle beskik.

7. Ondersteuning in die vorm van regsadvies en -verteenwoordiging sal aan onderwysers gebied word en ʼn spesiale advieslyn sal daargestel word.

8. Opleidingsprogramme sal saam met die SOS se vakverenigings en S-leer aangebied word om onderwysers en skoolbesture op die voorpunt van kennis en ontwikkelings op hul vakgebied te hou en om hulle op hoogte van relevante tegnologie te hou.

9. Gemeenskappe en plaaslike ondernemings sal gemobiliseer word om skole en onderwysers te ondersteun. Hierdie optrede sluit die skepping van ʼn spesiale fonds in waartoe belanghebbendes soos alumni kan bydra ter ondersteuning van die onderwys.

10. ʼn Vennootskapsbenadering sal gevolg word sodat ʼn balans tussen die belange van almal gevind kan word. Die nuutgestigte Leierskapforum gaan gemobiliseer word om nou saam te werk met die Beroepsgilde van Beheerliggaam-onderwysers sodat daar begrip en respek vir albei se behoeftes kan wees en gesamentlike sukses behaal kan word.

“Dit is met groot kommer dat Solidariteit saam met die Skoleondersteuningsentrum genoodsaak was om hierdie probleem te takel, maar dit is ook met groot opgewondenheid wat die nuwe beroepsgilde bekendgestel word. Danksy hierdie nuwe optrede kan ons werklik as gemeenskap saam ʼn ommeswaai in hierdie onderwyskrisis teweeg bring,” sluit Hermann af.

Solidariteit en AfriForum nader appèlhof in Bloem oor ras-kriterium vir hulp

Solidariteit en AfriForum gaan na die appèlhof in Bloemfontein petisioneer om hul saak teen die departement van toerisme se ras-kriterium vir hulp aan te hoor. Dit volg na die Noord-Gautengse hooggeregshof nie verlof tot appèl toegestaan het nie.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit is dit uiters teleurstellend dat die hof ’n ruimte in die reg vind waar noodhulp op grond van ras toegeken kan word. Dit is die mees radikale interpretering van regstellende aksie. “Die virus diskrimineer nie op grond van ras nie en hulp mag ook nie. Ons is van mening dat ’n hoër hof tot ’n ander gevolgtrekking sou kom,” voer Hermann aan.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit belangrik dat regsekerheid verkry word om vas te stel of dit werklik so is dat minderhede se regte reeds só ondergeskik in die huidige grondwetlike bedeling gestel word, dat daar selfs tydens ’n noodsituasie blatant teen minderhede gediskrimineer kan word.

“Sou dit wel so wees dat die hoogste hof bevind dat minderhede se regte in kwarantyn geplaas kan word ter wille van rasgebaseerde radikale transformasie, sal AfriForum en Solidariteit se plaaslike remedies uitgeput wees, wat ons in staat sal stel om klagtes teen die huidige bedeling se rassediskriminasie by internasionale forums in te dien,” het Kriel bygevoeg.

“Duisende mense word deur hierdie kortsigtige optrede van die regering geaffekteer, ongeag die kleur van hulle vel. Ons sal aanhou veg dat hierdie diskriminasie nie in ons samelewing genormaliseer word nie,” sluit Hermann af.

ʼn Brief oor Orania

“Pappa, kan ons gaan stap?” vra my tweede jongste. “Gaan stap gerus.” Sy kyk my skepties aan. “Ons moet seker die huisie sien pappa?” “Julle moet net nie verdwaal nie,” antwoord ek. “Is dit veilig op Orania?” vra sy, duidelik nie oortuig nie. “Dis baie veilig,” probeer ek haar gerus stel. “Die veiligste in die wêreld?” “Van die veiligste plekke in die wêreld,” antwoord ek weer. “Dit kan nie wees nie. Hier is nie mure en drade om nie,” speel sy haar troefkaart.

 

Hierdie stukkie dialoog oor my kind se siening van normaal het my geskok. Vryheid kan nie normaal wees nie.

 

Ek het Orania al verskeie kere besoek en het besluit om verder te gaan ondersoek instel na, soos baie dit sien, hierdie vreemde, abnormale gemeenskap.

 

Orania is geleë in die Noord-Kaap, so rapsie meer as 150 km van Kimberley, so 40 km van Hopetown en 30 km van die Vanderkloofdam. Die dorpie lê reg langs die Oranjerivier. Die Karoo-omgewing het die tipe bekoring wat mense soos Coenie de Villiers al besing het en die Oranjerivier gee die dorpie toegang tot water. Dis baie groener in Orania as wat die prentjie van die Karoo in jou kop oproep.

 

Ek het met verskeie Oraniërs oor hulle dorp en idees gepraat en hier is hoe ek hulle Orania-idees verstaan.

 

“Waarom vestig julle ʼn Afrikanerdorpie so ver van alles?” het ek vir Carel Boshoff gevra. Hy lag: “My pa (prof. Carel Boshoff) sou jou antwoord dat dit Pretoria is wat so ver is.”

 

Demografie bepaal die keuse van die plek. Afrikaners is die slagoffer van demografiese strome.

 

Hulle het hulle histories binne demografiese stroomversnellings geplaas. Die oorweldigende getalle plaas druk op skole, universiteite, veiligheid, werk en vele meer. Jy kan net vir solank keer. Die regering regeer vir die meerderheid. Die Lesufi’s van die wêreld veroorsaak dat Afrikaners die hele tyd moet retireer.

 

Orania word gevestig buite die demografiese strome. In Orania is Afrikaners ʼn meerderheid. Dit help dat Afrikaners konsentreer en konsentrasie maak dit moontlik om ʼn gemeenskap in te rig waar mense normaal kan leef.

 

Vir die Oraniërs gaan dit oor die reg om self te besluit. Hulle wil nie hê die staat moet oor hulle beskik nie; hulle wil oor hulleself beskik. Die staat kan nie meer met Afrikaners se toekoms vertrou word nie.

 

Hulle maak gebruik van die grondwetlike ruimtes vir selfbeskikking. Die Suid-Afrikaanse Grondwet het artikel 235 wat selfs territoriale selfbeskikking binne die Republiek moontlik maak. Volgens hulle is dit juis normaal om minder van die staat afhanklik te wees. Meer gemeenskap en minder staat is ʼn kerndeel van hul idees. Hulle glo in die toekoms, want hulle wil dit self bepaal.

 

Afgesien daarvan dat hulle binne die Suid-Afrikaanse grondwetlike raamwerk werk, vind hulle aansluiting by honderde internasionale voorbeelde van selfbeskikking binne ʼn meerderheidsomgewing waarvan die Duitsers in die noordelike provinsie van Italië, Suid-Tirool, ʼn uitstekende voorbeeld is. Ten spyte daarvan dat die groepie Duitsers minder as 1% van die Italiaanse bevolking uitmaak, het hulle grootskaalse selfbesluitneming omdat hulle gekonsentreerd is.

 

In die wêreldkonteks is wat Orania doen normaal, en in die Suid-Afrikaanse konteks wettig. ʼn  Goeie demokrasie word geken aan sy vermoë om minderhede te beskerm.

 

My dogter neem ʼn foto van jong Afrikanerseuns wat bakstene op ʼn bouperseel gooi. Hulle bou aan Gannabos. Dit is sowat 120 nuwe woonstelle wat behuising op intreevlakke in die behuisingsmark moet verskaf. Die Afrikaners wat bou en sement aanmaak lyk eintlik vreemd. Net so vreemd soos die Afrikanervrou wat ons huis skoongemaak het en die jong seun met sulke opvallende bakore wat in die tuin voor ons huisie gewerk het.

 

In Orania is dit egter normaal dat Afrikaners hul eie werk doen. Hulle glo in arbeid adel en die protestantse idee dat alle werk edel is. Hulle dink dis vreemd dat ons dink dis vreemd. Tydens die vorige regering is baie Afrikaners wat eenvoudige handewerk verrig het deur die staat in diens geneem.

 

Nou spoeg die gemeenskap in Suid-Afrika hulle uit. Die sosiale infrastruktuur maak dit bykans onmoontlik vir jong wit mense om op die onderste posvlakke te werk.

 

Die sosiale infrastruktuur in Orania maak dit juis moontlik. Arbeid word in Orania genormaliseer.

 

Vir ʼn oomblik dink ek dat dit rassisties is dat Oraniërs hul eie werk doen. Ek skrik toe ek die rassisme in my eie gedagtes raaksien. Dit het byna normaal geword dat sekere werk deur ander gedoen moet word. Dit is diep rassisties om te dink dat ander my werk moet doen. Ironies genoeg ontras en normaliseer Orania arbeid.

 

Die Solidariteit Helpende Hand het ʼn maatskaplike behoeftebepaling op Orania gedoen. Net soos in ander gemeenskappe is daar ook hier verskeie maatskaplike uitdagings. Een abnormale ding wat die studie oor die Oraniërs bevind het, is dat 90% van hulle gelukkig is. Die res van Suid-Afrika is dit beslis nie.

 

Op pad na Orania is ons deur verskeie plattelandse dorpies in Noordwes en die Noord-Kaap. Die agteruitgang is hartseer. Die lyn is afwaarts. By Orania word gewoel, gewerskaf en gebou. Oral is boupersele en nuwe erwe word uitgelê. Lida Strydom van Orania sê mens hoor Orania groei. In Orania is die lyn opwaarts. Dis in kontras met Suid-Afrika.

 

Orania is egter nog ʼn klein dorpie. Die nuutste sensus wys op sowat 1 600 inwoners en dit groei teen ongeveer 10% per jaar. Dit lyk ook maar nog soos ʼn gewone Karoo-dorpie.

 

Die Oraniërs is uitgesproke dat hulle van dorp na stad wil ontwikkel. Hulle mik nou na 10 000 mense en daarna meer.

 

Die groot uitdaging is om infrastruktuur, sonder ʼn staat, vir die 10 000 wat nog kom, gereed te hê.

 

Die elektrisiteitsinfrastruktuur is reeds opgegradeer en is gereed vir die volgende groeifase. Oral is slote vir die nuwe rioolinfrastruktuur. Beplanning is aan die gang vir optiese vesel wat Orania hoogs mededingend gaan maak watt vinnige, bekostigbare internet betref. Ondergrondse infrastruktuur kos baie en maak nog nie die dorp mooi nie, maar dit stel die dorp in staat om te ontwikkel. Frans de Klerk, Orania se dorpsbestuurder, vertel dat iemand hom gevra het wat hul volgende stap na selfbeskikking is: “Ons gaan ʼn sloopgrawer koop,” was sy onverwagse antwoord.

 

By Willie Nel se uiters suksesvolle vervoerbesigheid staan ʼn betonaanleg. Die aanleg het van die beste tegnologie en soos Willie sê, die gehalte wat hy lewer, kan brûe bou. Dit lyk ook so ʼn bietjie abnormaal. In hierdie klein dorpie staan hierdie groot aanleg wat genoeg beton kan vervaardig om honderde huise te kan bou. Byna soos ʼn Noag se ark wagtend op reën. “Ons gaan ʼn stad bou,” sê Willie met selfvertroue.

 

Hoe meer ek kyk, hoe meer sien ek die stad wat kom. Pieter Bischoff gaan wys my hoe Bo-Karoo Opleiding lyk. Dis nog ʼn klein kollege, maar hulle bou dat dit klap aan ʼn nuwe koshuis, want hulle maak gereed vir 300 studente, die meeste van hulle in die bou-ambagte. Hulle gaan opgelei word en vir hul prakties gaan hulle sommer ʼn stad bou. Orania het ʼn totale tersiêre strategie in gedagte wat insluit beroeps- en universiteitsopleiding.

 

“Waarom ʼn stad?” wou ek by Frans weet. Hy het ook ʼn boek, Van Dorp tot Stad, geskryf.

 

Stede bied sekuriteit. Hierdie sekuriteit is op vele vlakke. So klein soos Orania nou is, beleef hulle die vryheid van veiligheid. ʼn Reuse- nuwe veiligheidskompleks word gebou. ʼn Helikopterlandingsplek,ʼn ambulans- en brandweerdiens en mediese fasiliteite en ʼn hoëtegnologie-beheerkamer, wat ʼn groot radius rondom Orania veilig gaan hou, is deel van die kompleks.

 

Stede maak spesialisasie moontlik. Hoe meer gekonsentreerd mense bly hoe veiliger is hulle en hoe meer dienste wat gespesialiseer is, kan aangebied word. Orania moet ook antwoorde bied vir ons ingenieurs, mediese praktisyns en ander professionele beroepe.

 

ʼn Stad skep ʼn kragtige politieke sentrum. Die gemeenskap het tot ʼn groot mate selfstandigheid en kan talle besluite self neem. Volgens Frans het stede in die verlede die val van ryke oorleef. Werklikhede wat binne ʼn stad geskep word, kan nie geïgnoreer word nie. Werklikhede op die grond het sterk politieke krag wat nie net geïgnoreer kan word nie.

 

Stede maak ook ʼn ekonomie moontlik. In ʼn stad kan basiese ekonomiese praktyke floreer, maar ʼn stad kan per definisie nie in isolasie bestaan nie. Hoe sterker die stad, hoe meer interaksie is daar met die groter wêreld. Orania wil nie en kan nie ʼn klein, geïsoleerde eilandjie wees nie. Orania het die markekonomie gekies wat isolasie onmoontlik maak.

 

Prof. Carel Boshoff het tereg Suid-Afrika se groot vraagstuk opgesom met die opmerking dat die grondvraag die grondvraag is. In grond is daar egter ook antwoorde vir Afrikaners.

 

Ek vra vir Frans om in een sin op te som wat hulle doen: “Ons bou ʼn unieke stad waarin Afrikaners vry, veilig en voorspoedig kan wees.”

 

Hy antwoord verder dat uniek ook ’n stad waarbinne Afrikaners tuis is, beteken. Afrikaners hou eintlik nie van die stede waarin hulle nou woon nie. Hulle hunker na die platteland of plaas. Orania gaan ʼn stad wees waarbinne Afrikaners tuis gaan voel, ʼn plek met oop ruimtes, byna ʼn landelike atmosfeer. Orania gaan ook ʼn gemeenskapstad wees en nie net ʼn versameling van koue individue wat toevallig saam bly nie. Orania kry dit alreeds reg.

 

Orania het sy eie “geldeenheid”, die Ora. Dit is eintlik ʼn ruilmiddel waarmee die plaaslike ekonomie gestimuleer word. Die ekonoom, Dawie Roodt, is besig met ʼn projek om die Ora te digitaliseer. Die grootste korporatiewe bank in die land is ook op die dorp.

 

Volgens Carel is die bou van die stad Orania die volgende groot waagstuk van Afrikaners. Ons het al getrek, ʼn taal gemaak, groot oorloë gevoer, daarna opgestaan en gemoderniseer. Ons het die historiese energie om ʼn stad te bou en ons het nie ʼn keuse nie. Afrikaners moet ʼn ingrypende antwoord aanpak vir die ingrypende krisis waarin hy verkeer. Vasgevang in die Suid-Afrikaanse demografiese see gaan meer van dieselfde nie genoeg wees nie.

 

Die geborgenheid en veiligheid van ʼn stad is deel van die antwoord van die Afrikaner in Afrika. Die stad is dus juis nie om te vlug nie, maar om te kan bly. Die stad is juis die plek waaruit met selfvertroue geskakel en uitgereik kan word. Orania skakel reeds met verskeie ander swart gemeenskappe en deel graag sy model as model van bemagtiging deur gemeenskapselfstandigheid.

 

Frans neem ons teen ʼn koppie uit wat ʼn uitsig oor Orania bied. “Verbeel jou jy sit ʼn 3D-bril op en kyk na die stad wat kom,” sê hy.

 

Toe sien ek dit.

 

ʼn Stadplein met ʼn Europese gevoel. Klein winkeltjies en mense wat kuier, in Afrikaans. ʼn Mens kan sien hulle is gelukkig. Skuins links agter die skool is die universiteit en die beroepskollege. Die stad het ʼn studentekarakter ontwikkel. Die skool maak gebruik van die nuutste tegnologie en word as een van die bestes in die land geag. Kinders stap skool toe of ry fiets. Hulle lyk vry en veilig. Groen stroke en fietspaadjies maak dit makliker dat mense kan fietsry. Agter my is die wildspark, ʼn gewilde ontspanningsgebied en by die rivier is ʼn bos aangeplant wat romantiese staproetes bied. Op die rivieroewer is ʼn gewilde vakansieoord. Die stadsraad se moderne vullisverwyderingsvragmotor ry verby en Afrikaners spring af om die vullisdromme op te tel. Afval word georganiseer om herwin te word. Naby die stadsplein word ʼn teater gebou. Regs onder is die sportvelde waar groot sportbyeenkomste aangebied word. Dit is ook die plek waar die grootste kunstefees in die land aangebied word. Die bekostigbare en betroubare digitale infrastruktuur help dat mense vanuit Orania gemaklik kan sake doen in die res van die land en globaal. Afrikaners hou daarvan om hier vakansie te hou. Dit is veilig en Afrikaans. Ook links van my lê die groot nywerheidsgebied. Die meeste van die ondernemings is klein vervaardigers. In die verte kan die duisende pekanneutbome van een van Suid-Afrika se grootste pekkanneutboorde gesien word. Die meeste Afrikaners bly nie in Orania nie, maar vir baie is dit hul plek in Afrika. Byna soos Israel vir die Jode wêreldwyd is. Hulle help om Orania te bou en belê in projekte en winsgewende maatskappye in die stad. Baie borg ʼn kind om op Orania te studeer. Dit het ʼn kulturele ding vir Afrikaners geword om ook in Orania te belê. Hulle belê want eendag, al is dit ook die volgende geslag, trek hulle na Orania.

 

Ek haal my 3D-bril af en sien toe weer die klein dorpie, maar verstaan nou baie beter wat vir my gesê is. Ek kan sien waarheen alles op pad is. Elke bakstaan wat ek nou sien, is deel van ʼn stad wat kom.

 

Die Oraniërs het baie van wat ek normaal aanvaar, uitgedaag. Baie van wat mense as abnormaal aan hulle sien, daag hulle ook uit. Hulle het my geïnspireer met hulle droom en hulle vasberadenheid om die droom te verwesenlik. Hulle is seker dat dit gaan gebeur.

 

Orania kan nie die volle antwoord vir Afrikaners wees nie. Die prentjie wat Oraniërs vir my geskets het, het my oortuig dat dit deel van die groter oplossing is vir dié van ons wat net hier gaan bly.

 

 

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.