In diens van iets Groter as onsself

Akademia is ʼn pragtige projek.Dit is nie benoud nie. Dit weet presies wie dit is en is terselfdertyd verwelkomend. Die hele projek spreek van uitnemendheid – van die akademie tot die bouwerk. Wêreldklas, in Afrikaans.

Dit is Afrikaans en is daar vir die groot Afrikaanse gemeenskap én vir elkeen wat in Afrikaans wil studeer. Dit sluit juis studente in wat in Afrikaans wil studeer, maar op ander plekke uitgesluit word.

Dit staan te midde van die groot Westerse universiteitstradisie wat die wetenskap onbevange oopbreek binne die onbeperkte omvang van Sy skepping.

Dit vorm studente, en juis dít maak Akademia-studente gesog in die arbeidsmark. Hulle ontwikkel ʼn begrip van die geheel en van die ware, die goeie en die skone. Dit is die basis vir goeie werk.

Die analogie is Sol-Tech, wat in Afrikaans oplei en werkgewers oor die hele spektrum in rye staan om dié studente in diens te neem.

Akademia en Sol-Tech lei studente só op dat hulle ook gemaklik in ʼn Engelse wêreld kan werk.

Akademia het ʼn mooi storie.

Die begin was sowat 20 jaar gelede, toe Solidariteit-lede ingestem het om elk R10 per maand ekstra ledegeld te betaal vir ʼn Solidariteit Boufonds.

Dit was ons Dawidsklippies waarmee groot uitdagings oorwin moes word.

Eers is Sol-Tech begin en daarna Akademia. Beide Sol-Tech en Akademia is binne die grondwetlike raamwerk van Suid-Afrika gevestig.

Gewone mense wat werk, het hul bietjies gegee om iets groots te bou. Die grootste daarvan was vir hulle kinders en die gemeenskap.

Later het Solidariteit-lede nog R5 per maand vir studiehulp bygedra.

Hulle was groter as hulself, want bykans 20 jaar later word ander se kinders gehelp wat toe skaars gebore was en wie se name hulle nie eens geken het nie. Dít is die krag van gemeenskap.

Solidariteit-lede het ʼn daad verrig wat groter as hulself was. Hulle het gesê: “Ons beperk hierdie groot instellings nie net tot Solidariteit-lede nie, maar stel dit tot voordeel van die groter Afrikanergemeenskap, asook tot die groter kultuur- en Afrikaanse taalgemeenskap.”

Dit is ʼn gedeelde geskenk aan ʼn groter idee en juis daarom is dit nie om weg te gee nie. Dit is bloot onder rentmeesterskap vir die volgende generasie. Die gemeenskap is gevra om dit saam met ons te bewaar.

Die Solidariteit-lede was en is onbaatsugtig in diens van ʼn groter gemeenskap.

Solidariteit-lede was ook sentraal tot die oprigting van die ontwikkelingsmaatskappy, Kanton, wat eers die Sol-Tech-kampus gebou het en nou die Akademia-kampus bou.

Eers het Solidariteit sy eie geboue in die Kanton-portefeulje geplaas, waarborge is gegee en bates is in aandele omskep.

Dit het die bou van die Sol-Tech-kampus moontlik gemaak en die voorwaardes geskep vir die bou van die Akademia-kampus.

Maar nooit het Solidariteit-lede gesê: “Dit is net ons s’n nie.” Hulle het met dankbaarheid iets gebou vir hulle lede en dié se kinders, maar tot voordeel van die Afrikaanse gemeenskap en as ʼn kleinood vir die toekoms.

Akademia word nou só ʼn kleinood vir die Afrikaanse gemeenskap: ʼn geskenk deur gewone mense wat werk. Nederig begin, trots sien groei.

Vir hierdie groot Afrikaanse kleinood word daar nou deur Kanton ʼn kampus gebou. Die eerste fase beloop R1,8 miljard en die volledige projek meer as R3 miljard.

Die betrokkenheid word al groter. Eers het meer mense tot die Solidariteit Boufonds begin bydra om Akademia sterk te maak. Groot trusts het onbaatsugtig gehelp, en nou begin groter beleggers by Kanton betrokke raak om die kampus te bou.

Grond is gekoop en planne vorder goed vir ʼn kampus in die Paarl.

Solidariteit het nooit probeer om sy inisiatief benoud vir homself te hou nie.

Dit was altyd in diens van iets groters: ʼn groter gemeenskap. En dié groter gemeenskap begin nou al hoe meer betrokke raak. Dit raak ʼn sneeubal.

Daar is dié wat betrokke raak en help bou, en dan is daar kantkommentators wat kritiek lewer en wil breek.

Op die kantlyn skree hulle op Akademia en het hulle die vermetelheid om te wil voorskryf hoe dit moet lyk en wees.

Hulle het nie eens ʼn enkele R10 bygedra nie. Hulle was nie by die sweet en risiko van die begin betrokke nie en is selfs nou nie betrokke nie. Dit word ook nie met hulle belastinggeld gebou nie.

Solidariteit-lede het met hulle bietjies begin, dit in diens van ʼn groter gemeenskap gestel, en nou dink onbetrokke kommentators hulle kan die idee van Akademia vat en voorskryf.

Vir jare het hulle niks gedoen nie. Noudat daar iets is, raak hulle steeds nie betrokke nie, maar lewer hulle kritiek en skryf voor. Hulle is welkom om hulle eie iets te begin. Ons sal nie daarop kritiek lewer nie.

Intussen gaan ons almal voort om aan iets veel groter as onsself te bou. In diens van iets groter as onsself.

Dít is die energie van Akademia en van die hele Solidariteit Beweging.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Afrikaners, slagoffers en slagoffermentaliteit

ʼn Groepie van sowat 40 Afrikaners het onlangs die Amerikaanse ambassadeur, Brent Bozell, vir ʼn ontmoeting genader. Hulle sentrale boodskap was: Afrikaners is nie slagoffers nie.

Afrikaners ís egter slagoffers, maar hulle het nie ʼn slagoffermentaliteit nie. ʼn Slagoffer is iemand aan wie onreg aangedoen is. ʼn Slagoffermentaliteit is iets anders. Dit ontstaan wanneer iemand sy identiteit met sy slagofferskap begin vereenselwig.

ʼn Slagoffer sê: “Onreg is aan my gedoen.” Iemand met ʼn slagoffermentaliteit sê: “Omdat onreg aan my gedoen is, kan ek nie verantwoordelikheid vir my toekoms neem nie.”

Om onreg te ontken, is gevaarlik. Wanneer dit gebeur, word onreg genormaliseer, optrede daarteen geneutraliseer en mense begin magteloos voel en raak uiteindelik vervreemd. Dit lei tot verwydering, polarisasie en onttrekking.

Dit is ook gevaarlik om onreg te relativeer. Om byvoorbeeld te sê dat iemand anders se onreg groter is en dat jou onreg daarom minderwaardig is, lei bloot tot die voortsetting van onreg.

Onreg moet konkreet en genuanseerd erken word voordat dit behoorlik hanteer kan word.

Die groepie argumenteer dat almal in Suid-Afrika onreg beleef en dat Afrikaners daarom nie die onreg teenoor hulle mag uitlig nie. Onreg teenoor Afrikaners word dan deel van ʼn groter pot van onreg, maar die spesifieke aard daarvan verdwyn eenvoudig in die groot kookpot.

Dit is natuurlik waar dat daar meerdere vorme van onreg bestaan en dat Afrikaners nie die enigstes is wat onreg beleef nie. Inteendeel, gewone arm swart Suid-Afrikaners ervaar die onreg van staatsverval en raswette dikwels op ʼn baie akute wyse.

Erkenning van een vorm van onreg is egter nie die ontkenning van ʼn ander nie. Onreg teenoor Afrikaners mag en moet dus erken word.

Raswette diskrimineer direk teen Afrikaners. Hierdie wette definieer mense aan die hand van hoe hulle lyk en wie hulle is, eerder as wat hulle kan doen. Raswette is onreg.

Die manier waarop Afrikaanse instellings soos kolleges, universiteite en skole aangeval word, is eweneens onreg. Die slag by kolleges is reeds gelewer, die slag by universiteite is byna voltooi, en die Bela-kanon is nou op skole gerig.

Voeg daarby die histeriese aanvalle op alles wat Afrikaans is deur die Lesufi’s en kie. Mense voel naderhand nie meer tuis in hul eie land nie.

Natuurlik raak misdaad almal. Dit ruk handuit. Misdaad in “townships” ontwrig mense se lewens daagliks. Dit alles is ernstige onreg.

Plaasaanvalle vorm egter, te midde van die algemene misdaadkrisis, ʼn besondere soort onreg. Dit is buitengewoon wreed en die voorkoms daarvan is ontstellend hoog. Om daarop te fokus, ontken nie ander vorme van onreg nie; dit plaas bloot die kollig op hierdie spesifieke onreg.

Boonop is dit die enigste vorm van misdaad wat deur politieke leiers besing word met die woorde: “Kill the Boer, the farmer”.

Afrikaners is ook, saam met alle ander Suid-Afrikaners, slagoffers van die land se algemene verval. Daar bestaan nie iets soos Afrikaner-slaggate, Afrikaner-kragonderbrekings of Afrikaner-waterlekke nie. Hierdie probleme raak almal. Hulle moet deur almal erken en deur almal aangepak word.

Daar is egter ook spesifieke kwessies wat Afrikaners en Afrikaans raak. Die Solidariteit Beweging, waarvan Solidariteit en AfriForum deel vorm, fokus op sy lede en ondersteuners. Ons lede en ondersteuners kom hoofsaaklik uit die Afrikaanse en Afrikanergemeenskap.

Daarom is ons doel om vir daardie gemeenskap ʼn toekoms te help bou waarin hulle vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Die Solidariteit Beweging gee egter nie voor dat ons alle Afrikaners of alle Afrikaanssprekendes verteenwoordig nie, nog minder alle Suid-Afrikaners. Ons fokus is ons lede en ondersteuners. Dit sou arrogant, en selfs paternalisties, wees om namens almal te probeer optree.

Ander gemeenskappe moet hul eie onreg identifiseer en aanspreek. Waar ons kan saamwerk, sal ons dit doen. Ons het egter ʼn plig om die onreg teenoor ons lede uit te lig en aan te spreek. Niemand kan ons daarvoor kwalik neem nie.

Dit strek dikwels ook tot voordeel van die breër gemeenskap. Akademia en Sol-Tech is byvoorbeeld bates uit die Solidariteit Beweging, vir die Afrikaanse gemeenskap, maar hul waarde strek veel verder. AfriForum se veiligheidsinisiatiewe en werk aan munisipale dienste bevoordeel eweneens baie mense buite ons eie ondersteuningsbasis.

Dit bring my terug by die begrip slagoffermentaliteit.

Afrikaners het oor die algemeen nie ʼn slagoffermentaliteit nie en die Solidariteit Beweging beslis nie. Al is daar onreg, klim ons in en doen dinge self. Die erkenning en verstaan van onreg is juis die voorwaarde om dit aan te spreek.

Daarom is “Ons sal self” die leuse waarop ons Beweging gebou is. Ons help mense om werk te kry, bou opleidingsinstellings, gee studiehulp, ondersteun skole, verbeter veiligheid, help met munisipale dienste, beveg onreg binne die grondwetlike raamwerk en doen nog baie meer.

Ons erken onreg. Ons beveg onreg. Maar ons bou ook verder aan ons toekoms. Ons sal self.

 

Geskryf deur Dirk Hermann, bestuurshoof by Solidariteit.

Só lyk plan om Afrikaanse onderwys te versterk

Die Solidariteit Beweging het Dinsdag ’n omvattende plan vir volhoubare Afrikaanse onderwys bekend gestel, met die doel om ’n geïntegreerde ondersteuningsnetwerk vir die hele Afrikaanse skoolgemeenskap te skep.

Die plan word saam met verskeie vennote in die onderwyssektor uitgerol en fokus daarop om skole, onderwysers, skoolbestuur, beheerliggame, ouers, leerders en gemeenskappe toe te rus om die toenemende uitdagings in die onderwysomgewing die hoof te bied.

Die Solidariteit Beweging het dié plan tydens die toekomsberaad bekend gestel, waar sowat 800 onderwysers en leiers uit die skoolgemeenskap byeengekom het. Die driedaagse kongres fokus op die uitdagings waarmee Afrikaanse onderrig tans te kampe het, asook op praktiese strategieë om ’n volhoubare toekoms vir Afrikaanse onderwys te verseker.

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, sê Afrikaanse skole verkeer toenemend onder druk en die sentralisering van skole vind al hoe meer plaas.

“Die staat wil 100% sê wat ons moet doen,” sê Hermann. Hy sê egter die plan wat Dinsdag bekend gestel is en die wil van ʼn gemeenskap, vorm die hart van goeie onderrig.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, rus die toekoms van Afrikaanse onderwys op gemeenskappe wat bereid is om self verantwoordelikheid daarvoor te neem.

“Die toekoms van Afrikaanse onderwys behoort aan ’n gemeenskap wat bereid is om daarvoor verantwoordelikheid te neem. By die Solidariteit Beweging glo ons dat ons nie net die reg het om daardie toekoms te help bou nie, maar ook die plig,” sê Buys.

Hy sê dat die beweging saam met sy vennote en Afrikaanse skoolgemeenskappe wil werk om ’n volhoubare toekoms vir Afrikaanse onderwys te verseker.

“Die staat bedreig ʼn goeie Afrikaanse ekostelsel en ons moet begin anders dink oor die volgende jare wat kom,” sê Hermann.

Die nuwe aanbod bring die Solidariteit Beweging se instellings, kundigheid en bestaande ondersteuningsnetwerke in een geïntegreerde model saam, sê Buys.

Die plan behels dat die Solidariteit Beweging sy onderwysaanbod só verpak dat die ideaal van volhoubare gehalte-onderwys in Afrikaans, saam met die breë skoolgemeenskap, bereik kan word.

Werner Human, bedryfshoof van die beweging, sê die model onderskei hom van tradisionele dienslewering omdat dit ’n deelnemende benadering volg waarin die hele skoolgemeenskap betrek word.

“Skole staan vandag voor veel groter uitdagings as net akademiese prestasie. Hierdie aanbod skep ’n ondersteuningsnetwerk wat skole versterk sodat hulle op hul belangrikste taak kan fokus: om kinders vir die toekoms toe te rus,” sê Human.

Volgens Human is die doel nie om skole se rol oor te neem nie, maar om hul kapasiteit te versterk en uit te bou.

Hy sê die beweging wil meer doen as om bloot as ’n diensverskaffer op te tree en fokus eerder daarop om ’n breër onderwys-ekostelsel te help vestig wat skole in staat stel om volhoubaar en uitnemend te funksioneer.

Die Solidariteit Beweging beskou die plan as ’n langtermynbelegging in Afrikaanse onderwys en as deel van sy groter visie om selfstandige gemeenskappe te help bou wat gehalteonderwys vir toekomstige geslagte kan verseker.

Onderwysaanbod

Geskryf deur die Maroela Media redaksiespan.

Die reg om self te kan besluit

In 1994 het Suid-Afrika ʼn ingrypende ordeverandering beleef. ʼn Antwoord moes gevind word vir ʼn land met ʼn buitengewoon diverse samelewing.

ʼn Nuwe Grondwet is onderhandel, individuele regte is verskans, maar die groot tekortkoming was die gebrekkige beskerming van ons diverse kultuurlandskap en spesifiek minderheidsgemeenskappe.

Die unitêre model, wat sentralisering bó desentralisering verkies, was terugskouend waarskynlik die minste geskikte stelsel vir so ʼn diverse land.

Wat dikwels vergeet word, is dat daar destyds sterk stemme vir ʼn federale oplossing was. Hierdie denkrigting het ondersteuning geniet binne en buite die Nasionale Party, onder akademici, internasionale drukgroepe en selfs uit swart geledere. Die huidige leierskorps van die Solidariteit Beweging het hulle ook met dié denkskool vereenselwig.

Daar is gepraat oor minderheidsbeskerming, magsdeling, streeksoutonomie en die voorkoming van totale sentralisering – minder staat en meer gemeenskap.

Vandag word dit dikwels voorgehou asof daar slegs twee moontlikhede was: die uitgediende apartheidstelsel of die huidige unitêre stelsel. Indien jy krities teenoor die huidige bedeling staan, word jy maklik daarvan beskuldig dat jy bloot die ou bestel klakkeloos wou beskerm.

Namate Suid-Afrika al meer sentraal bestuur word, word daar al meer besef dat die huidige Suid-Afrikaanse bestel ernstige gebreke toon. ʼn Alternatief kon destyds bedink word – en kan vandag steeds bedink word.

Dwarsoor die wêreld bestaan daar uitstekende federale modelle vir die bestuur van diverse samelewings.

ʼn Groep van die Solidariteit Beweging was onlangs op ʼn studietoer in Europa om federalisme verder te ondersoek. Federalisme is ʼn volkome normale begrip in groot dele van die wêreld. In Vlaandere word dit selfs beskryf met ʼn woord wat vir ons bekend klink: selfbeskikking.

Afrikaners vorm deel van die ryk Westerse tradisie. Daarom was Nederland ons eerste bestemming – nie vanweë Nederland se federalisme nie, maar om weer Afrikaners se verbintenis met die Westerse beskawingstradisie te onthou.

Amsterdam is sekerlik nie die enigste voorbeeld nie, maar wel een van die duidelikste van hoe die Weste se invloed na die Afrikaner deurgespoel het. Ons was in die vertrek waar die besluit geneem is om ʼn verversingstasie aan die Kaap te vestig – die geboorte-oomblik van ʼn volk in die hart van die Westerse handelswêreld.

Die hele Europa getuig van ʼn ryk beskawing waarvan ons deel is. Ons is nie Europeërs nie – ons is van Afrika – maar ons is onteenseglik ook deel van die Westerse tradisie.

België: parlemente vir verskillende gemeenskappe
Ons tweede stop was België – ʼn land met ʼn lang geskiedenis van interne konflik. België bestaan uit drie streke: Vlaandere, ʼn Franse streek en ʼn klein Duitse streek. Elke streek het sy eie parlement waarin plaaslike besluite geneem word, terwyl ʼn federale parlement oor nasionale sake besluit. Selfs binne die federale parlement bestaan daar veto’s vir die onderskeie taalgroepe.

Switserland: radikale demokrasie van onder af
Ons derde bestemming was Switserland met sy kantonstelsel. In Genève het ons eers ʼn toer op die spore van die Reformasie meegemaak. Binne die Westerse tradisie het die Reformasie ʼn enorme invloed op die vorming van Afrikaners gehad: uit genade, deur Christus, tot dankbaarheid.

Dit was ook in Genève waar ons ʼn klag teen die Suid-Afrikaanse regering se rassebedeling by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) van die Verenigde Nasies ingedien het.

In Zürich het ons ʼn lesing oor die Switserse kantonstelsel bygewoon. Switserland bestaan uit 26 kantons – byna soos 26 klein lande – wat elk hul eie unieke behoeftes bestuur. Daar is vier tale: Duits, Frans, Italiaans en ʼn klein taal, Romaans. Die kantons is grootliks rondom dié taalgemeenskappe georganiseer. Switserland maak op plaaslike, kantonnale en federale vlak van referendums gebruik. Besluitneming geskied van onder af, met mag wat oorspronklik by gemeenskappe lê en dan opwaarts vloei.

Suid-Tirool – die reg om selfte besluit
Ons laaste stop was Suid-Tirool, ʼn noordelike provinsie van Italië. Suid-Tirool, oorspronklik ʼn Duitse streek, is ná die Eerste Wêreldoorlog by Italië ingelyf. Skielik het ʼn Duitse gemeenskap van sowat 500 000 mense hulle binne ʼn Italiaanse staat bevind.

Ná ʼn lang stryd het die streek uiteindelik ʼn groot mate van outonomie verkry. Hulle kultuur word beskerm en hulle ontvang 90% van hul belastinggeld terug.

Toe ek vir ʼn Suid-Tiroler vra waarom outonomie vir hulle so belangrik is, was sy antwoord eenvoudig: “Dit gaan oor die reg om self te kan besluit.”

Federalisme – waarvoor die Solidariteit Beweging ook staan – is dus niks buitengewoons nie. Dit is ʼn normale en dikwels noodsaaklike manier waarop volke, tale en kultuurgemeenskappe wêreldwyd hul voortbestaan verseker.

Die Europese model onder druk
Daar is egter iets wat baie Europese lande nie verreken het nie: massa-immigrasie van mense wat kultureel en godsdienstig dikwels nie wil integreer nie. Benewens die groot migrasiegetalle is daar ook die hoë bevolkingsgroei binne sekere immigrantegemeenskappe. In ʼn Turkse kafee sien ʼn mens selfs stootwaentjies te koop.

Europa se hele model word ontwrig. Tot só ʼn mate dat ʼn Nederlandse joernalis vir ons gesê het: “Ons is binnegeval”. ʼn Vlaamse politikus meen dat hulle teen 2040 ʼn minderheid in hul eie land kan wees. Switserland probeer desperaat om deur middel van ʼn referendum hul bevolking op 10 miljoen te beperk. ʼn Suid-Tiroler beskryf die immigrasiekrisis as vernietigend.

Voeg hierby Europa wat grootliks sy Christelike geloof en beskawingsanker verloor het. Sonder daardie ankers kan weerstand teen nuwe kulturele druk moeilik gebied word. Dit is byna soos Simson wat sy hare verloor het – ʼn tragiese beeld van krag wat ongemerk verdwyn het. Baie van die nuwe immigrantegemeenskappe beskik juis oor sterk en selfversekerde geloofsidentiteite wat die vakuum van sekularisme vul.

Ek keer terug na Suid-Afrika met die indruk van ʼn Europa in ʼn krisis. Ek vertrou dat Europeërs weer die rykdom van die Westerse tradisie sal herontdek. Soos ʼn kollega dit gestel het: “Hulle sal weer hul boekrolle moet vind”.

Gemeenskapsfederalisme: Ons sal self
Dit bring my terug by die Solidariteit Beweging se model van gemeenskapsfederalisme, saamgevat in die woorde: “Ons sal self”. Ons het oplossings gevind binne die werklikhede van demografiese verandering. Ons Europese gashere was baie geïnteresseerd in dié model. Ons het reeds sekere uitdagings verreken wat moontlik nog vir hulle voorlê. Ons het minstens planne. Party van hulle het selfs hoop in ons benadering raakgesien.

Ek is steeds van mening dat ʼn federale politieke bestel ook vir Suid-Afrika ʼn beter oplossing sou wees – en steeds kan wees. Die Solidariteit Beweging se model van gemeenskapsfederalisme is juis kragtig omdat ons self beheer daaroor het.

Die krag van “ons sal self” sluit direk aan by die woorde van die Suid-Tiroler: “Dit gaan oor die reg om self te kan besluit”. Dit is reg, dit is normaal en dit is vryheid.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Wie is die Solidariteit Beweging regtig?

1994 was ‘n ordeverandering vir Suid-Afrika. Die verandering het talle instellings, wat nie die oorgang kon maak nie, vernietig. Die Suid-Afrikaanse landskap sou vir altyd anders lyk.

Instellings wat aan die vorige orde wou vasklou, het eenvoudig verdwyn. Een so ‘n instelling uit die vorige bedeling was die Mynwerkersunie (MWU).

Die MWU was ‘n ou instelling met ‘n ryk geskiedenis en is reeds in 1902 gestig. Soos talle burgerlike organisasies en politieke partye was die MWU in ‘n oorlewingskrisis. Dit was geldelik bankrot en bankrot aan idees.

Binne die nuwe werklikheid
In 1997 is Flip Buys as hoofsekretaris van die MWU verkies. Tydens sy eerste kongres het hy gesê die MWU moet ʼn beweging word. Hy was bekommerd oor die ANC se sentralistiese meerderheidsideologie en wat dit vir staatsbestuur en minderheidsbeskerming kan inhou.

Buys het die bankrot-MWU binne die ná-1994-werklikheid geplaas. Hy het die MWU weggelei van rasdefinisies en dit omskep in ‘n kultuur- en taalinstelling wat beskerming geniet binne die nuwe grondwetlike bedeling. Artikels 29, 30 en 31 van die Grondwet gee aan taal- en kultuurgemeenskappe die reg om eie instellings te vestig, insluitende onderwysinstellings.

Buys het reeds in 1997 besef dat dit noodsaaklik is om van grondwetlike ruimtes gebruik te maak, maar dat instellings daarvoor nodig is. Anders sou artikels 29, 30 en 31 bloot papierartikels bly, sou die sentralistiese staat die samelewing versmoor en sou minderhede se ruimtes verdwyn.

Sy kommer is later reg bewys. Die staat het al meer sentralisties geraak en die grondwetlike ruimtes vir gemeenskappe is verklein tot so ‘n mate dat diegene wat daarop aanspraak maak, as ongrondwetlik beskou word.

Afrikaners gaan nêrens heen nie
Flip Buys se 1998-aankondiging van ʼn Beweging was nie net binne die nuwe grondwetlike werklikheid nie, maar ook ʼn aankondiging dat Afrikaners nêrens heen gaan nie. Baie het gewonder of Afrikaners in die nuwe werklikheid wil bly. Hy het aangekondig dat Afrikaners ruimtes gaan skep om juis hier, aan die suidpunt van Afrika, te bly.

Vandag is die Solidariteit Beweging ʼn netwerk van tientalle selfstandige instellings met ongeveer 600 000 betalende lede en nog sowat 100 000 gebruikers van verskillende dienste. Indien families ook in ag geneem word, is dit ʼn reusebeweging. Dit is nie ʼn elite beweging nie, maar ʼn beweging wat deur gewone werkende mense begin is.

Alhoewel dit by verre die grootste organisasie in die Afrikaner- en Afrikaanse gemeenskap is, maak die Solidariteit Beweging nie aanspraak daarop dat hy namens alle Afrikaners praat nie, maar verteenwoordig die belange van sy lede en ondersteuners.

Die pad van die Beweging

Werk
Die eerste stap was om die ou bankrot-MWU weer sterk te maak. Finansiële stelsels is verander, werwingsveldtogte is begin en nuwe personeel is aangestel. In 2001 is die naam verander na Solidariteit. Die ou MWU het ongeveer 20 000 betalende lede gehad en vandag is Solidariteit meer as tien keer groter en een van Suid-Afrika se grootste vakbonde. Solidariteit het ʼn skuif gemaak om nie net in werksplekke te organiseer nie, maar ook in beroepe en het vandag beroepsnetwerke in al die groot beroepe. Solidariteit het ook deur tegnologie betrokke geraak by werkfasilitering. Sowat 4 000 werkgewers het reeds 14 000 poste op Solidariteit se platform geplaas.

Maatskaplike ontwikkeling
Binne die Mynwerkersunie is reeds in 1949 ʼn maatskaplike been, Helpende Hand, begin. In 2001 is besluit om Helpende Hand ʼn selfstandige instelling te maak. Daar is op klein skaal begin om studente met studies te help en ʼn eerste voedingsprogram by ʼn skool in Vanderbijlpark te loods.

Solidariteit-lede is gebel en gevra om by te dra tot die Helpende Hand-fonds. Daar was groot entoesiasme. Later het elke Solidariteit-lid R5 per maand vir studiehulp bygedra. Hierdie jaar is meer as R60 miljoen in die vorm van studiehulp aan studente uitbetaal.

Solidariteit Helpende Hand het nou 230 takke en dorpsverteenwoordigers in 14 streke. Daar is 14 streekmaatskaplike werkers en altesaam 30 maatskaplike werkers.

Daar is sewe Ons Plekke met naskoolse sentrums en kleuterskole vir behoeftige kinders. Drie duisend dogters ontvang maandeliks sanitêre produkte, 8 000 kinders kry daagliks kos en 2000 kinders ontvang jaarliks skooltassies en skryfbehoeftes. Solidariteit Helpende Hand het ook ʼn Opleidingsinstituut begin wat tuisversorgers oplei.

Opleiding en onderwys
Daar is besef dat opleiding die hart van enige Beweging is wat ernstig oor die toekoms is. Die bou van opleidingsinstellings is duur en word gewoonlik swaar deur die staat gesubsidieer.

Solidariteit het begin met ʼn landswye toer na fabrieke, myne, skole en ander werksplekke en het lede gevra om elk R10 tot ʼn Boufonds by te dra. Dit is met hierdie R10de waarmee Sol-Tech en later Akademia en Bo-Karoo Opleiding begin is.

Sol-Tech
In 2007 is Sol-Tech met 64 elektriese studente in Solidariteit se kantore begin. Vandag is daar ongeveer 3 000 studente in verskillende fases van opleiding.

Die rigtings sluit vandag in: dieselwerktuigkunde, auto-elektries, elektries, meulmaker, megatroniese tegnikus, pas en draai, gereedskapmaker, sweis, haarkappery, vroeë kinderontwikkeling en inligtingstegnologie.

Sol-Tech beskik oor wêreldklas toerusting, ʼn wêreldklas kampus en koshuise.

Akademia
Akademia is in 2012 met 40 studente begin. Aanvanklik is slegs ʼn telematiese aanbod gebied. Dit het ook in Solidariteit se kantore begin. Sentrums is oor die land gevestig.

In 2021 is ʼn opkampusaanbod met 111 studente in Centurion begin. Vandag is daar sowat 4500 studente by Akademia.

Daar is nou vier fakulteite: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe en Opvoedkunde. ʼn Groot nuwe kampus word gebou en die fakulteite en programaanbod gaan ingrypend uitgebrei word.

Bo-Karoo Opleiding
In 2019 is die eerste vyf voltydse studente by Bo-Karoo Opleiding op Orania ontvang. Die instelling het nou sowat 250 studente, ʼn tweede inname vir die jaar word beplan en dit groei met 40% per jaar. Nuwe werkswinkels is gebou en verdere uitbreidings volg binnekort. Daar is pragtige studenteverblyf, ʼn proefplaas en ʼn klein kampus in aanbou. Die twee grootste bene van BKO is tegnies en landbou en die programaanbod word tans ingrypend uitgebrei.

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum
Afrikaanse skole en skoolonderwys in die algemeen het onder groot druk gekom. Die aantal Afrikaanse skole het van 1 800 tot 900 afgeneem. In 2015 is die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) gestig. Vandag is bykans 50 000 Afrikaanse kinders op Wolkskool. Sowat 20 000 onderwysers maak van Wolkskool gebruik. Jaarliks word 7 000 onderwysers opgelei en daar is 250 lid-skole van SOS.

Daar is ook besef dat onafhanklike skole gebou moet word. ʼn Konsessiemodel, met die naam Gimnasium-skole, gaan gemeenskappe in staat stel om eie skole te bou. Die eerste skool word binnekort gebou.

Solidariteit Leer
Voortgesette opleiding is ook van kritieke belang. Op Solidariteit se platform word 200 voortgesette leerkursusse aangebied.

Eiendomsontwikkeling
Die instellings van die Solidariteit Beweging is met R10de en klein bydraes van lede begin. Om ʼn kampus te bou, is klein skenkings egter nie voldoende nie.

Die eiendomsmaatskappy Kanton is in 2019 gestig. Die doel van Kanton is om leefruimtes vir Afrikaans te bou deur ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal te fasiliteer.

Die eerste groot projek was die Sol-Techkampus, gevolg deur die Sol-Tech-koshuise.

Die grootste projek tot dusver is die Akademia-kampus. Dit is ʼn R3,2 miljardprojek waarvan die eerste fase R1,2 miljard beloop. Dit het reeds afgeskop en beleggers word gewerf.

Sol-Tech en Akademia is die huurders en beleggers weet daar is langtermyn, betroubare huurders.

Deur ʼn goeie kommersiële belegging help beleggers ook om kulturele ruimtes te bou. Daar word ook beplan om in die toekoms ʼn Akademia-kampus in die Wes-Kaap te bou asook skole, binne die groter Gimnasium-groep.

Burgerregte, veiligheid en munisipale dienslewering
AfriForum is in 2006 begin. Die belangrikheid van die beskerming van burgerregte is vroeg besef en AfriForum het reeds verskeie hofsake gewen. AfriForum is egter in die eerste plek ʼn gemeenskapsorganisasie en wil gemeenskappe sterk maak.

AfriForum het 10 000 vrywilligers, 165 takke en 177 buurtwagte oor die land. Daar word landswyd gehelp met munisipale dienste oor ʼn wye front, tot voordeel van die hele gemeenskap.

Veiligheidstrukture maak gemeenskappe oor die hele land veiliger. Daar is op munisipale en veiligheidsvlakke samewerking met owerhede op verskeie vlakke, insluitend metro’s, munisipaliteite en die polisie.

Kultuur en media
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het met al hulle werksaamhede ook uiteindelik by die Solidariteit Beweging ingeskakel om die rol van kultuur- en erfenisbewaring te help vervul. By die AfriForum Teater word deurlopend Afrikaanse produksies aangebied.

Maroela Media is gestig en is nou een van die land se grootste mediahuise wat ook inhoud aan tientalle gemeenskapsradiostasies lewer.

AfriForumTV het 200 000 intekenaars. Die instellings van die Solidariteit Beweging het ʼn reuse-sosiale mediateenwoordigheid, met byvoorbeeld meer as 1,8 miljoen volgelinge op Facebook alleen.

Selfstandige gemeenskappe
Vir die Solidariteit Beweging is sterk, selfstandige gemeenskappe noodsaaklik. Die Beweging volg ʼn konsentrasiestrategie wat die natuurlike migrasie van Afrikaners ondersteun en gemeenskapsinfrastruktuur vestig.

Dit sluit werk-, maatskaplike, veiligheids-, dienslewerings-, kulturele en onderwys- en opleidingsondersteuning in.

AfriForum is ook betrokke by selfstandigheidsprojekte by talle tradisionele gemeenskappe en by ʼn netwerk van tradisionele gemeenskappe. AfriForum ondersteun ook die Kaapse Forum.

AfriForum vestig in ankergmeenskappe plaaslike gemeenskapforums wat as platform dien vir skole, kerke en ander gemeenskaporganisasies om mekaar en die gemeenskap te versterk,

Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy is gestig om te help om ʼn selfstandige gemeenskap in die Bo-Karoo te vestig. Dit is deel van die groot konsentrasiestrategie en die versterking van ankergemeenskappe landswyd.

Ander sake-inisiatiewe
Om die Beweging kommersieel te laat funksioneer, is daar verskeie sake-inisiatiewe. Dit sluit in ʼn finansiële diensmaatskappy, Konnek, met ʼn fokus op korttermynversekering, lenings en beleggingsadvies.

Daar is ook ʼn spysenieringsmaatskappy, Spys, wat spyseniering vir personeel en studente doen. Verder is daar die Solidariteit Beleggingsmaatskappy, die AfriForum Beleggingsmaatskappy en Helpende Hand-sake wat 127 tweedehandse winkels bestuur.

Daar is ook ʼn Solidariteit Regsfonds en Solidariteit Boufonds waartoe mense kan bydra.

Hoe word die Beweging befonds?
Die Solidariteit Beweging word nie op enige vreemde manier befonds nie. Die Beweging bestaan uit kulturele entrepreneurs wat deur streng dissipline en gewone sakebeginsels bestuur word. Die bedryfsbegroting van die Beweging is so groot soos dié van ʼn mediumgrootte maatskappy op die Johannesburgse Effektebeurs. Die korporatiewe bestuur van die instellings is dus streng.

Die ledeorganisasies word deur ledegeld befonds. Oorgangsfinansiering vir die oprigting van instellings word uit skenkingsfondse en opbrengste uit finansiële dienste befonds.

Elke instelling het sy eie unieke finansiële enjin. Studente is byvoorbeeld die grootste befondsers van die opleidingsinstellings, advertensies befonds Maroela Media, en tweedehandse winkels befonds Solidariteit Helpende Hand. Kanton, wat verantwoordelik is vir eiendomsontwikkeling, insluitend kampusse, werf aandeelhouers op ʼn kommersiële grondslag.

Wie besit wie en wat?
Die instellings van die Solidariteit Beweging word belyn binne die Solidariteit Beweging Trust. Die naam van die Trust dui bloot daarop dat die groter Beweging uit Solidariteit ontstaan het.

Solidariteit of die Trust besit egter nie die instellings van die Beweging nie. Al die ledeinstellings en opleidingsinstellings is maatskappye sonder winsbejag. Daar is dus geen aandeelhouers wat geld uit ledeorganisasies verdien nie. Alle inkomste fokus op die uitvoering van ledeorganisasies se doelwitte.

Direkteure moet toesien dat elke instelling in diens van sy missie en die gemeenskap funksioneer.

Solidariteit het ook ʼn netwerk van vriende en vennote wat insluit die landbouorganisasie Saai, die organisasies van die Afrikaner Leiersnetwerk, ander gemeenskapsleiers en gemeenskapmedia. Solidariteit is nie betrokke in die partypolitiek nie, maar het goeie verhoudings met verskeie politieke partye wat die belang van die Beweging se lede beskerm.

Alhoewel die Solidariteit Beweging gereeld in dispuut met die regering is, is ons lief vir die land. Wanneer ons met die regering bots, is dit ter wille van die land. Ons is hier om te bly, en daarom sal ons soms veg en baie bou. Ons is nie van die regering afhanklik vir ʼn toekoms nie. Daarom het ons hoop, want ons sal self.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Krag van gemeenskap, nie mag van sameswering

Talle kritici probeer die Solidariteit Beweging se reusesukses vandag met samesweringsteorieë verklaar; hulle aanvaar daar moet een of ander groter mag hier agter sit.

“Hulle dínk nie eers daaraan dat ʼn gemeenskap dalk sukses kan bereik deur hard te werk, slim te werk en bloot die regte ding te doen nie.”

Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, is die politieke idee waarvoor hulle in die 1990’s van links én regs gekasty is, die einste idee wat die Beweging se sukses die afgelope dekades help verseker het.

“En daardie idee is federalisme,” het Hermann gesê in ʼn onderhoud met Maroela Media oor die pad wat hy die afgelope 29 jaar gestap het – vanaf organiseerder by die destydse Mynwerkersunie (MWU) in 1997 tot uitvoerende hoof van Solidariteit in 2026.

“Ons was in die meer konserwatiewe skool van denke wat geglo het in federalisme as antwoord op die politieke oorgang wat Suid-Afrika in die 1990’s moes maak.”

Hierdie idee is destyds van alkante gekritiseer; enersyds deur diegene wat gemeen het SuidAfrika moes bly soos dit was en andersyds deur diegene wat gemeen het ʼn sentrale eenheidstaat is die toekoms.

Hoewel die 1990’s uiteindelik ʼn relatief gladde oorgangstydperk was, het dit talle Afrikanerorganisasies in ‘n krisis gelaat, verduidelik Hermann.

“Daar val die twee Afrikaner-politieke partye, en die georganiseerde Afrikaner-wêreld is in ʼn politieke krisis. Nie net die MWU nie, maar talle Afrikaner-organisasies. ʼn Klomp van hulle was in die ou Afrikaner-politiek vasgeverf, baie as stutorganisasies van die NP of KP.”

Volgens Hermann was die MWU in ʼn besonder moeilike posisie, omdat hulle op daardie stadium nie net bankrot aan geld was nie, maar ook aan idees.

“Die MWU was redelik aan die regterkant van die politieke spektrum, en ’n groot deel van hulle bestaansrede was om die oorgang na ʼn nuwe bedeling te probeer stuit. Hier gebeur die verandering, wat die organisasie grotendeels sonder ʼn bestaansrede gelaat het.”

Dit was teen dié agtergrond wat Flip Buys in 1997 tot hoofsekretaris van die MWU verkies is en ʼn nuwe era aanvang geneem het. Buys het reeds op die kongres waartydens hy verkies is melding gemaak dat die vakbond uiteindelik omvorm en uitgebrei moet word tot ʼn beweging van taal- en kultuurinstellings om Afrikanerbelange en hul plek in die nuwe bedeling te beskerm en te bevorder.

“Dít was hoekom ek destyds by die MWU aangesluit het. Ek het nie die [gebroke] instelling gesien nie, maar Flip se droom.”

So het Hermann, Buys en enersdenkendes wat by die organisasie aangesluit het nooit weggestap van hulle ideaal van federalisme nie. Omdat daar op die ou end nooit ʼn federalistiese politieke bestel tot stand gekom het nie, het die MWU, later Solidariteit en uiteindelik die Solidariteit Beweging bloot ʼn ander soort bestel gaan bou waaroor hulle wel beheer het.

“Die een waaroor ons beheer het, is gemeenskapsfederalisme waar ʼn gemeenskap besluit om sélf van onder af federalisme uit te bou deur besluitneming tot op die laagste moontlike vlak neer te sit.”

Hermann beskryf dít as Buys se “visie anderkant die woestyn”; Solidariteit se antwoord op die politieke vraagstuk van die tyd. ʼn Idee wat aanvanklik ongewild was, maar oor die afgelope 29 jaar reusesukses in die praktyk behaal het.

“Vandag het talle mense samesweringsteorieë dat om só suksesvol te wees, daar een of ander mag moet wees. Mense dink nie eers daaraan dat dit net die werk van suksesvolle kulturele entrepreneurs kan wees nie.”

“Mense moet ons eerder erkenning gee vir ons insig dat daar federalisme moes wees as wat hulle ons daarvoor kritiseer. Boonop werk die mense wat ons vandag steeds kritiseer se bestel [van sentrale eenheidsregering] glad nie!”

Dit was so eenvoudig soos dat ons bloot gekyk het na die werklikhede voor ons, hoe ʼn gemeenskap hiermee kan omgaan en ʼn moontlike antwoord op die werklikheid van sy tyd kan bied, verduidelik Hermann.

Dit is egter makliker gesê as gedaan.

“Ons het nie die staat se ondersteuning of geld gehad nie. Daar was nie ʼn instaatstellende statutêre omgewing nie. Ons het dus met ons gemeenskapsinstellings begin. Agter dié instellings is steeds ʼn dieper politieke idee van hoe ʼn ander bestel kan lyk ten spyte van die mislukte eenheidstaatsmodel wat ons nou sien.”

ʼn Instelling vir elke gemeenskapsfeer waarin breër Afrikanerbelange beskerming en bevordering verlang.

Om só ʼn groot versameling instellings egter goed te bestuur en te bedryf, is federalisme ook in die organisatoriese karakter ingebou – te vind in die doel én middele van die Solidariteit Beweging.

“So is die Beweging ook federaal van aard; met instellings wat soveel moontlik selfstandigheid het, maar steeds in verbondenheid met mekaar staan.”

Die samebindende ideaal?

“Ons wil ʼn toekoms aan die suidpunt van Afrika hê waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan voortleef. Ons bou dit vanuit ʼn Christelike grondslag en fokus op die Afrikaanse taal en Afrikanerkultuurgemeenskap spesifiek. Tussenin het instellings vryheid, hul eie kultuur, eie manier van doen en eie missie.”

Dit is volgens Hermann hoe die breër Beweging, met die hulp van gewone mense, gegroei het tot wat dit vandag is.

Nie met die mag van sameswering nie, maar met die krag van gemeenskap.

 

Geskryf deur die Maroela Media redaksie.

Dit is wie en wat Solidariteit is, so hou nou op twak praat

Die afgelope paar maande word daar vreeslik óór Solidariteit gepraat, maar min mét Solidariteit. Allerhande bordjies word om ons nekke gehang. Strooipoppe word opgerig, wat die slimjanne dan self afskiet.

Ons word só beskryf dat ek onsself skaars herken: Regses, rassiste, Trump-pionne en selfs Suid-Afrika-haters!

Kom ons sê dit sommer in gewone taal: Hier by Solidariteit hou ons niks van die ANC nie, maar ons is lief vir die land. Soos Flip Buys sê: “Ons verlang nie terug na die verlede onder die NP-regering nie, maar ons is ook nie positief oor die toekoms onder die ANC-regering nie.”

Ons is egter toekomsmense. Ons dink geslagmatig. Die instellings wat ons bou is daarop gemik om jongmense te help om ʼn toekoms te skep. Die laaste ding wat ons is, is slagoffers. Ons ontken nie die onreg wat met ons mense gebeur nie, maar ons maak planne.

Ons is gelowige mense. Ons glo aan woorde soos roeping, werk en verantwoordelikheid. Ons glo almal wat wil werk, moet kan werk en hul volle potensiaal bereik. Ons primêre fokus is mense se werk, want werk bied sekuriteit vir soveel ander aspekte van die lewe.

Ons lede is meestal werkende mense. Hulle is gewone mense en baie van hulle werk dikwels in moeilike omstandighede. Vir jare reeds werk hulle op die werksvloer saam met mense van verskillende agtergronde. Die meesterverhaal dat hulle hulself wil isoleer, is onsin.

Oor die jare heen het Solidariteit saam met ander vakbonde gewerk en ons het tot vandag toe samewerkingsooreenkomste met hierdie vakbonde in verskeie bedrywe. Ons ken van saamwerk.

Ons lede ken die werklikhede en uitdagings van die land baie beter as baie kommentators en ontleders. Hulle weet van diskriminasie. Daarom verwerp ons die regering se rasmalheid. Dit diskrimineer daagliks teen ons mense in werksplekke reg oor die land en is eenvoudig boos.

Hierdie beleide verryk ʼn klein elite en vernietig die ekonomie en werksgeleenthede, met vaardighede wat uitvloei. Ons verwerping van rasbeleid het niks daarmee te doen dat ons nie swart mense wil sien vorder nie. Inteendeel, die wette doen juis die teenoorgestelde. Dit is die groot leuen van ons tyd.

Rasmalheid beperk handel. ʼn Land soos die VSA sien dit as ʼn handelsbeperking en Europese lande toenemend ook. Wanneer ons die regering aanspoor om dit vir maatskappye moontlik te maak om internasionaal handel te dryf, doen ons dit omdat ons positief is oor groei in die land.

Ons kyk nie neer op enigiemand nie en ons glo nie in meerderwaardigheid nie. Ons het ʼn afkeer van rassemeerderwaardigheid. Hier by ons loop daar nie rassiste rond nie. Dit is in elk geval nie wat die Bybel ons leer nie.

Ons glo aan die vrye mark, omdat dit die beste stelsel is om welvaart en werk te skep. Ons hou nie van sosialiste wat ʼn utopie wil bou, maar ʼn geskiedenis van smart nalaat nie. Ons hou ook nie van uitbuiters wat onder die vaandel van die vrye mark skuil nie.

Die kernpilaar van die vrye mark is eiendomsreg. Wanneer ons vir eiendomsreg opstaan, doen ons dit omdat ons vir die mark en vir welvaartskepping opstaan.

Wanneer ons met die Amerikaners praat, tree ons in vir die land ten spyte van die regering. Die regering het sy belangrikste handelsvennoot vervreem. Ons tree in vir Agoa omdat dit goed is vir die ekonomie en vir groei. Ons vra nooit dat die land op enige manier gestraf word nie.

Ons soek oplossings vir Suid-Afrika, nie vir die VSA nie, want dit is waar ons lede leef en werk. Ons versprei geen waninligting nie en talle mediahuise moes reeds om verskoning vra vir hul valse bewerings dat ons waninligting in die VSA versprei het. Wat ons doen sal altyd daarop gemik wees om die situasie in die land in die algemeen en vir ons lede in besonder te verbeter.

Ons is lief vir ons taal, kultuur en gemeenskap. Om vir iets te wees, mag egter nooit beteken dat jy teen ander is nie. Ons sien Afrikaners nie as een of ander uitverkorene nie, maar as deel van Suid-Afrika se groot verskeidenheid.

Ons glo baie sterk aan moedertaalonderrig. Ons sien Bela as boos en as ʼn aanval op ons siel. Ons glo jy mag aan jou eie kant wees, maar nie net aan jou eie kant nie. Ons neem self verantwoordelikheid en bou. Baie van wat ons aanpak is ook ten bate van die land en tot voordeel van mense veel wyer as ons eie gemeenskap.

Ons gaan nie ons kinders se toekoms aan die staat oorlaat nie. Daarom sê ons: “Ons sal self”. Ons sê dit nie net nie, ons doen dit. Ons bou letterlik dat die stof staan. Ons glo nie dat die staat jou toekoms moet beskik nie; ons glo ʼn gemeenskap moet dit self beskik. Ons glo aan minder staatsbetrokkenheid en meer privaat- en gemeenskapsinisiatief. Dit is die beginsel agter ons stryd teen die staat se planne om ons gesondheidstelsel te kaap.

Ons glo aan gemeenskapsfederalisme. Dit staan teenoor staatsentralisme. Dit beteken bloot dat gemeenskappe besluite op die laagste moontlike vlak moet kan neem. Ons gaan nêrens heen nie. Ons hoort hier. Ons is van Afrika, en ons taal en volk se naam is na Afrika vernoem. Die ANC en wie ook al sal maar daarmee moet vrede maak. Ons is hier om te bly.

Dus, mense wat strooipoppe van meerderwaardigheid, rassisme, dislojaliteit, slagofferskap, uitverkorenheid, waninligting, verraad en ander booshede oprig: Julle praat twak. Moenie ons oordeel op grond van wat julle van ons gemaak het nie, maar op grond van wie ons is en wat ons doen.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Beste Mediese Praktisyn, ‘n brief van dr. Dirk Hermann

Beste Mediese Praktisyn

Ons is almal diep bewus van die Nasionale Gesondheidsversekeringwet (NGV) wat pas deur president Ramaphosa onderteken is. Dié drakoniese wet is nou ʼn werklikheid.

Die NGV gaan mediese sorg ingrypend verander.

Die NGV is nie bloot ʼn befondsingsmodel nie, maar ʼn omvattende staatsbeheerde gesondheidsorgmodel wat vir mislukking opgestel is.

Dit stel die regering in staat om alle aankope sentraal te doen, om te bepaal wat voorgeskryf kan word, wie dit mag voorskryf, waar dokters mag praktiseer, na watter dokter jy mag gaan en talle ander dinge. Alle mediese sorg word sentraal deur die regering bestuur.

ʼn Mens mag dalk argumenteer dit gaan nooit werk nie, maar dit stel die regering in staat om dit te doen.

Dit kan ons mediese sorg vernietig. Ons moet dié wet keer. Al wat tot ons beskikking oorbly, is litigasie.

As die wet geïmplementeer word, is ons permanent uitgelewer aan die genade van ʼn regering. Ons moenie in so ʼn posisie verkeer nie. My ervaring van die regering is dat hulle eers iets vernietig voordat hulle agterkom dit werk nie.

Dit gaan tot onsekerheid, disinvestering in mediese sorg en die verlies van honderde mediese praktisyns lei. Die blote aanvaarding van die wet gaan tot groot skade lei.

Geen aspek van mediese sorg gaan dit vryspring nie. Die bos in die mediese sektor gaan brand en almal wat in die sektor betrokke is gaan in die proses ook brand.

Solidariteit gaan die wet tot in die hoogste hof beveg. Ons het al ʼn senior advokaat en ʼn regspan aangestel. Ons het reeds met ʼn regsproses teen die NGV-wet begin. Ons staan dus op namens die mediese professie. Ons moet minstens R2,5 miljoen vir die litigasie begroot. Dit kan meer beloop as ons kostebevele teen ons kry. Ons neem ʼn groot, maar goed berekende risiko. Ons het ook die koste daarvan bereken as ons die kwessie net laat vaar.

Ons staan op vir die professie, maar vra die professie om ons te steun. Geen dokter, apteker, hospitaal of enige praktyk of mediese praktisyn kan die saak op hulle eie voer en bekostig nie, maar almal kan minstens bydra om so ʼn saak moontlik te maak.

Deur ʼn bydrae te maak, al is dit klein, steun u ook ons kollektiewe litigasie. Ons wil namens honderde mediese praktisyns optree. Hoe meer ondersteuning, hoe sterkter is ons in die hof. Dit is tyd om op groot skaal saam te staan. Ons wil u dus vra om ʼn bedrag tot die NGV-regsfonds by te dra. Dit gaan ʼn groot hofstryd wees en die staat het byna onbeperkte toegang tot ons belastinggeld vir hul litigasie.

Dink u in wat die alternatief gaan wees as niemand vir die mediese professie opstaan nie!

Solidariteit sal opstaan, maar meen dit is billik as die professie ons in staat stel om dit te doen.

Word deel van die litigasie!

Klik op die skakel om die bydrae van u keuse te maak:

https://veldtogte.solidariteit.co.za/ngv-donasieblad/

U kan verseker wees dat die fonds aan ons kant streng bestuur sal word. Stuur asseblief hierdie boodskap so wyd as moontlik aan.

Vriendelike groete

Dr. Dirk Hermann

Bestuurshoof: Solidariteit

https://aanlyn.solidariteit.co.za/publieke/artikel/beste-mediese-praktisyn-n-brief-van-dr-dirk-hermann/

Taktiese deurbraak oor Bela!

Deur dr. Dirk Hermann – https://aanlyn.solidariteit.co.za/publieke/artikel/taktiese-deurbraak-oor-bela/

President Ramaphosa gaan nie nou die gewraakte artikels van Bela oor taal en toelating in werking stel nie.

Dit volg op die volgehoue druk van gewone mense. Solidariteit en AfriForum het Donderdag tot laat in die nag gesprekke met president Ramaphosa gevoer en voorstelle gemaak. Verdere gesprekke is net voor die ondertekening gevoer. Die gesprekke het in ʼn goeie gees plaasgevind.

Daar is nou drie maande vir gesprekvoering en onderhandeling oor ʼn alternatiewe oplossing vir dié twee kwessies.

Dit is bloot ʼn taktiese oorwinning, want die stryd is nog nie naastenby gewonne nie. Die druk begin nóú eers. Indien daar nie veranderinge aangebring word nie, gaan Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum steeds voort met ons hofaksie. Ons gaan nie die druk verslap nie.

Die res van die wet bevat steeds sekere problematiese artikels, soos byvoorbeeld dié oor tuisskole wat waarskynlik steeds in die howe getoets gaan word.

Dankie aan almal. Hierdie deurbraak is bereik danksy julle druk!

Bombardeer steeds president Ramaphosa se inboks hier met jóú beswaar. Klik hier.

Agt dinge wat ons huis toe bring van die VSA-toer af

Deur dr. Dirk Hermann – https://aanlyn.solidariteit.co.za/publieke/artikel/agt-dinge-wat-ons-huis-toe-bring-van-die-vsa-toer-af/

1. ʼn Nuwe wêreld

Ons keer terug huis toe met ʼn diepgaande besef dat die wêreld verander het. President Trump het ʼn soort revolusie begin. Die momentum van “wokeness” is gestuit, skuldkomplekse word uitgedaag, en daar is weer ruimte vir die konserwatiewe idee. Dit daag Suid-Afrika uit, maar skep ook geleenthede vir ons as ʼn kultuurgemeenskap.

2. ANC-beleid in die ope

Die ANC gebruik al vir lank die Mandela-kapitaal. Daar is ʼn weersin in Amerika in die ANC se binnelandse en buitelandse beleid. Trump se uitvoerende bevel het die ANC se beleid onder die vergrootglas geplaas, nie net in Amerika nie maar ook wêreldwyd. Die Solidariteit Beweging se Washington Memorandum kon dit danksy goeie navorsingstukke beklemtoon. Die ANC kan nie meer wegkruip nie.

3. Druk vir beleidsverandering

Daar is nou meer druk vir beleidsverandering in Suid-Afrika. Dit sluit kwessies soos onteiening, rassewette, Bela en internasionale beleid in. Ons kan verdere druk van die VSA op die SA regering verwag, aangesien hulle die SA regering se beleid as ʼn bedreiging vir hul nasionale sekuriteit beskou. Ons moet ook plaaslik die druk volhou.

4. Bondgenote en vriende

Ons keer terug nadat nuwe bondgenote en vriende gemaak is. Ons bevind ons in die vreemde posisie waar die grootste ekonomie in die wêreld Afrikaners as ʼn soort bondgenoot sien. Dit is betekenisvol. Ons het ook vriende in dinkskrums, die media, en selfs die sakewêreld. Die tyd is dus ryp om verskillende wyses van hulp te aanvaar.

5. ʼn Simpatieke oor vir voortgesette deelname aan Agoa

Daar is ʼn sterk moontlikheid dat Agoa nie voortgesit gaan word nie of dat Suid-Afrika nie meer daaraan gaan mag deelneem nie. Dit is weens die SA regering se buitelandse beleid en die bedreiging van eiendomsreg, wat die voorwaardes vir Agoa verbreek. Agoa bied tariefvoordele aan Afrikalande. Deelname daaraan strek tot voordeel van baie Suid-Afrikaners, maar veral van ons lede in die landbou-, nywerheids- en vervaardigingsektore. Die Solidariteit Beweging het ten minste ʼn simpatieke oor by die Amerikaanse regering gevind om Agoa te red, ondanks teenkanting van die SA regering, en spesifiek die ANC.

6. Erkenning van Afrikaners

President Trump se uitvoerende bevel verleen erkenning aan die Afrikaner as ʼn kultuurgemeenskap. Dit het ook groter positiewe internasionale gevolge. Die Afrikaner word erken, en hierdie keer nie as die muishond van die wêreld nie.

7. Kulturele selfvertroue

Die erkenning van die Afrikaner en die herskikking in die wêreld het Afrikaners se kulturele selfvertroue herstel. Ons kan weer ons kop omhoog hou.

8. Ons sal self

Erkenning, kulturele selfvertroue, nuwe bondgenote en vriende skep ʼn nuwe klimaat vir die Solidariteit Beweging se Ons sal self-plan. Die Trump-administrasie gaan nie dinge vir ons doen nie. Hulle skep ʼn klimaat, maar dit is ons verantwoordelikheid om kulturele infrastruktuur soos skole, opleidingsinstellings, werknetwerke, veiligheidstrukture, maatskaplike strukture, kultuurnetwerke, medianetwerke en vele meer uit te bou. Ons doen dit met wedersydse erkenning vir en gesprekke met ander gemeenskappe.

Ons keer beslis terug in ʼn sterker posisie as voor die uitvoerende bevel.

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.