Die afgelope paar maande word daar vreeslik óór Solidariteit gepraat, maar min mét Solidariteit. Allerhande bordjies word om ons nekke gehang. Strooipoppe word opgerig, wat die slimjanne dan self afskiet.
Ons word só beskryf dat ek onsself skaars herken: Regses, rassiste, Trump-pionne en selfs Suid-Afrika-haters!
Kom ons sê dit sommer in gewone taal: Hier by Solidariteit hou ons niks van die ANC nie, maar ons is lief vir die land. Soos Flip Buys sê: “Ons verlang nie terug na die verlede onder die NP-regering nie, maar ons is ook nie positief oor die toekoms onder die ANC-regering nie.”
Ons is egter toekomsmense. Ons dink geslagmatig. Die instellings wat ons bou is daarop gemik om jongmense te help om ʼn toekoms te skep. Die laaste ding wat ons is, is slagoffers. Ons ontken nie die onreg wat met ons mense gebeur nie, maar ons maak planne.
Ons is gelowige mense. Ons glo aan woorde soos roeping, werk en verantwoordelikheid. Ons glo almal wat wil werk, moet kan werk en hul volle potensiaal bereik. Ons primêre fokus is mense se werk, want werk bied sekuriteit vir soveel ander aspekte van die lewe.
Ons lede is meestal werkende mense. Hulle is gewone mense en baie van hulle werk dikwels in moeilike omstandighede. Vir jare reeds werk hulle op die werksvloer saam met mense van verskillende agtergronde. Die meesterverhaal dat hulle hulself wil isoleer, is onsin.
Oor die jare heen het Solidariteit saam met ander vakbonde gewerk en ons het tot vandag toe samewerkingsooreenkomste met hierdie vakbonde in verskeie bedrywe. Ons ken van saamwerk.
Ons lede ken die werklikhede en uitdagings van die land baie beter as baie kommentators en ontleders. Hulle weet van diskriminasie. Daarom verwerp ons die regering se rasmalheid. Dit diskrimineer daagliks teen ons mense in werksplekke reg oor die land en is eenvoudig boos.
Hierdie beleide verryk ʼn klein elite en vernietig die ekonomie en werksgeleenthede, met vaardighede wat uitvloei. Ons verwerping van rasbeleid het niks daarmee te doen dat ons nie swart mense wil sien vorder nie. Inteendeel, die wette doen juis die teenoorgestelde. Dit is die groot leuen van ons tyd.
Rasmalheid beperk handel. ʼn Land soos die VSA sien dit as ʼn handelsbeperking en Europese lande toenemend ook. Wanneer ons die regering aanspoor om dit vir maatskappye moontlik te maak om internasionaal handel te dryf, doen ons dit omdat ons positief is oor groei in die land.
Ons kyk nie neer op enigiemand nie en ons glo nie in meerderwaardigheid nie. Ons het ʼn afkeer van rassemeerderwaardigheid. Hier by ons loop daar nie rassiste rond nie. Dit is in elk geval nie wat die Bybel ons leer nie.
Ons glo aan die vrye mark, omdat dit die beste stelsel is om welvaart en werk te skep. Ons hou nie van sosialiste wat ʼn utopie wil bou, maar ʼn geskiedenis van smart nalaat nie. Ons hou ook nie van uitbuiters wat onder die vaandel van die vrye mark skuil nie.
Die kernpilaar van die vrye mark is eiendomsreg. Wanneer ons vir eiendomsreg opstaan, doen ons dit omdat ons vir die mark en vir welvaartskepping opstaan.
Wanneer ons met die Amerikaners praat, tree ons in vir die land ten spyte van die regering. Die regering het sy belangrikste handelsvennoot vervreem. Ons tree in vir Agoa omdat dit goed is vir die ekonomie en vir groei. Ons vra nooit dat die land op enige manier gestraf word nie.
Ons soek oplossings vir Suid-Afrika, nie vir die VSA nie, want dit is waar ons lede leef en werk. Ons versprei geen waninligting nie en talle mediahuise moes reeds om verskoning vra vir hul valse bewerings dat ons waninligting in die VSA versprei het. Wat ons doen sal altyd daarop gemik wees om die situasie in die land in die algemeen en vir ons lede in besonder te verbeter.
Ons is lief vir ons taal, kultuur en gemeenskap. Om vir iets te wees, mag egter nooit beteken dat jy teen ander is nie. Ons sien Afrikaners nie as een of ander uitverkorene nie, maar as deel van Suid-Afrika se groot verskeidenheid.
Ons glo baie sterk aan moedertaalonderrig. Ons sien Bela as boos en as ʼn aanval op ons siel. Ons glo jy mag aan jou eie kant wees, maar nie net aan jou eie kant nie. Ons neem self verantwoordelikheid en bou. Baie van wat ons aanpak is ook ten bate van die land en tot voordeel van mense veel wyer as ons eie gemeenskap.
Ons gaan nie ons kinders se toekoms aan die staat oorlaat nie. Daarom sê ons: “Ons sal self”. Ons sê dit nie net nie, ons doen dit. Ons bou letterlik dat die stof staan. Ons glo nie dat die staat jou toekoms moet beskik nie; ons glo ʼn gemeenskap moet dit self beskik. Ons glo aan minder staatsbetrokkenheid en meer privaat- en gemeenskapsinisiatief. Dit is die beginsel agter ons stryd teen die staat se planne om ons gesondheidstelsel te kaap.
Ons glo aan gemeenskapsfederalisme. Dit staan teenoor staatsentralisme. Dit beteken bloot dat gemeenskappe besluite op die laagste moontlike vlak moet kan neem. Ons gaan nêrens heen nie. Ons hoort hier. Ons is van Afrika, en ons taal en volk se naam is na Afrika vernoem. Die ANC en wie ook al sal maar daarmee moet vrede maak. Ons is hier om te bly.
Dus, mense wat strooipoppe van meerderwaardigheid, rassisme, dislojaliteit, slagofferskap, uitverkorenheid, waninligting, verraad en ander booshede oprig: Julle praat twak. Moenie ons oordeel op grond van wat julle van ons gemaak het nie, maar op grond van wie ons is en wat ons doen.
Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.


