Buys doen beroep op mense om ʼn nalatenskap te laat

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het Dinsdag (29 September) tydens die Helpende Hand Studietrust se sakeontbyt ʼn sterk beroep op mense gedoen om ʼn blywende nalatenskap te laat.

Die geleentheid, wat in samewerking met Akademia aangebied is, het op Akademia se Leriba-kampus in Centurion plaasgevind. Sakeleiers is genooi na ʼn inspirerende oggend waartydens gassprekers soos dr. Steve Booysen, Flip Buys, Hannes Noëth en Dawie Roodt die waarde van nalatenskap onder die loep geneem het.

Die Studietrust bied jaarliks studiehulp ter waarde van R75 miljoen aan meer as 1 200 studente. Buys het benadruk dat ʼn samelewing slegs kan vooruitgaan as elke geslag vir die volgende een leef.

“Studiehulp is die beste moontlike belegging. Hierdie studiehulp is ʼn helpende hand, en nie ʼn bedelhand of ʼn eisvuis nie,” het Buys gesê. Terwyl NSFAS (die Nasionale Studentehulpskema) gereeld in die nuus is weens wanbestuur, spog die Studietrust met ʼn merkwaardige 99%-terugbetalingskoers en jarelange skoon oudits.

“Dit beteken dat die geslag wat ons nou help, ook begryp dat elke geslag vir die volgende geslag moet leef, want met elke terugbetaling word ʼn volgende student weer gehelp. Gratis studie is op die lange duur alles verniet,” het Buys verduidelik.

Volgens Buys spruit huidige voorspoed uit voorouers se kulturele beleggings, wat nou opnuut aangevul moet word deur ʼn Sol-Tech en Akademia te bou. “Kultuur is ʼn verbond tussen geslagte – ʼn agting vir die vorige, ʼn liefde vir die volgende en ʼn verantwoordelikheid vir beide.”

Die Studietrust is bepalend vir die sukses van die nuwe kampus, en Buys het ʼn beroep op almal gedoen om dr. Anton Rupert se woorde uit te voer: “ʼn Klein volk moet groot dink en groot doen.”

Maak ʼn donasie – of eerder ʼn belégging – hier: https://hh-studietrust.co.za/donasie/.

Solidariteit Beweging maak vyf antwoorde op die VSA se versoeke bekend

Uitgereik deur die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel; en die uitvoerende hoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann.

Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, het vandag vyf antwoorde op die VSA se vyf versoeke bekendgemaak. Die Amerikaanse regering het verlede jaar vyf versoeke aan die Suid-Afrikaanse regering gerig oor kwessies wat ʼn geskil tussen die twee lande ontketen het.

Die Solidariteit Beweging se vyf antwoorde het ten doel om oplossings vir die politieke en diplomatieke geskil tussen die twee lande te vind. Ons is daarvan oortuig dat dit in Suid-Afrika se nasionale belang is om goeie betrekkinge met die VSA te handhaaf, net soos met ander moondhede.

Die antwoorde handel oor kwessies soos rassewette, landelike veiligheid, “Kill the Boer”, eiendomsreg en die vlugtelingprogram. Die doel van die antwoorde is nie net om handelsbetrekkinge te herstel nie, maar ook om oplossings vir kritieke brandpunte in Suid-Afrika te vind. Ons wil dit duidelik stel dat ons uitgangspunt is om Suid-Afrika se kant te kies, en nie dié van die Withuis of Luthuli-huis nie. Ons voel ook sterk oor die handhawing van Suid-Afrika se soewereiniteit, maar glo dat dit nie gelyk gestel kan word aan die ANC se soewereiniteit nie. Kiesers het vir ʼn regering van nasionale eenheid (RNE) gestem. Ons glo as die ander partye in die RNE by die formulering van buitelandse beleid betrek word, ʼn oplossing vinnig binne die raamwerk van die Grondwet en ʼn onverbonde buitelandse beleid gevind sal kan word.

Dit is in Suid-Afrika se belang dat antwoorde op Amerikaanse versoeke gevind word. Ons glo die oplossings moet eers in Pretoria en daarna in Washington gevind word. Ons het groot verskille met die regering, maar ons is lief vir ons land en is diep bekommerd oor die uitwerking van langdurige diplomatieke geskille op Suid-Afrika se ekonomie en internasionale beeld.

Maande lange gesprekke

Die voorgestelde vyf antwoorde is die uitkoms van maande se werk, wat besoeke aan die Verenigde State, uitvoerige gesprekke met die Suid-Afrikaanse presidensie en deurlopende skakeling met die Amerikaanse ambassade in Pretoria, asook met besluitnemers in Washington ingesluit het. Ons beplan om steeds in gesprek hieroor met albei regerings te bly.

Ons glo die regerings kan mekaar vind. Ons vra dat voorwaardes in werking gestel moet word om die spanning te de-eskaleer en om gesprekke tussen die regerings te hervat. Dit behels onder meer ʼn bona fide-verbintenis om oplossings te vind en die wil om besluite te neem wat dit moontlik maak.

Ons vyf antwoorde val binne Suid-Afrika se grondwetlike raamwerk en bied terselfdertyd antwoorde op die Amerikaners se versoeke.

Dit is nie eise of ‘n lys van klagtes nie, maar praktiese antwoorde. Die Amerikaanse regering het breë beginselgoedkeuring aan ons vyf antwoorde verleen en ons glo dat dit ook vir die Suid-Afrikaanse regering aanvaarbaar kan wees indien die politieke wil bestaan.

Ons is uiters bekommerd dat die optrede teen Suid-Afrika gaan verskerp. Wanneer Suid-Afrika vir swak beleid en vyandige houdings teenoor ons handelsvennote gestraf word, is dit nie ministers wat die rekening kry nie, maar die vrugteboer in die Wes-Kaap, die fabriekwerker by ʼn motoraanleg in die Oos-Kaap en die sakeman in die Vaaldriehoek wat daarvoor betaal. Ons beleef dat die ANC teen sy eie mense regeer.

Die Suid-Afrikaanse regering maak dit baie moeilik om ʼn skikking tussen die twee lande te bereik. Daar is ʼn lang geskiedenis van keuses en uitsprake teen die Amerikaanse regering. Die spanning tussen Suid-Afrika en die Verenigde State bou al meer as 15 jaar op, sedert die Obama-jare en die aansluiting by Brics in 2010. Die onlangse uitsprake van Suid-Afrika se minister van buitelandse betrekkinge en samewerking, Ronald Lamola, was nog ʼn bevestiging daarvan. Dit is ʼn terugslag vir die Solidariteit Beweging se jare lange steunwerwing in die VSA vir Suid-Afrika se deelname aan Agoa.

Daar is ook ʼn direkte verband tussen die ondertekening van die Onteieningswet en president Trump se uitvoerende bevel van 7 Februarie 2025. Suid-Afrika se buitelandse beleid het ook die Amerikaanse administrasie deurlopend vervreem.

Ten spyte van hierdie verband is gepoog om die Solidariteit Beweging, AfriForum en Solidariteit die skuld vir die verslegtende verhouding te gee. Ons verwerp hierdie soeke na ʼn sondebok vir die ANC se powere diplomatieke skakeling met die VSA. Ons weier om ʼn pion in ʼn diplomatieke skaakspel tussen twee regerings te wees. Hoewel ons nie die oorsaak van die probleem is nie, sal ons saamwerk om ʼn oplossing te vind.

Amerika bly Suid-Afrika se grootste handelsvennoot en 500 000 poste is afhanklik van handel met Amerika. Ons is uiters bekommerd dat strenger strafmaatreëls Suid-Afrika se deelname aan Agoa kan bedreig. ʼn Hersieningsproses om te bepaal watter Afrikalande volgende jaar vir deelname aan Agoa sal kwalifiseer, is tans in die Withuis aan die gang. Gebeure die afgelope twee weke veroorsaak dat daar ʼn wesenlike kans bestaan dat Suid-Afrika van Agoa uitgesluit kan word. Die Withuis sal waarskynlik voor November ʼn aankondiging hieroor maak. Daar is dus ʼn dringendheid om ʼn oplossing te vind.

Om ʼn oplossing te vind vir die geskil tussen die twee lande het niks met Suid-Afrika se soewereiniteit te make nie, en dit bedreig vir seker nie die land se reg om oor sy eie sake te besluit nie. Elke regering het egter wel ʼn reg, maar ook ʼn plig teenoor sy burgers om as soewereine rolspeler oplossings in belang van die land te vind.

Die Solidariteit Beweging se antwoorde kan soos volg opgesom word:

Rassewette

Die regering moet instem dat rassewette, soos wat internasionale konvensies bepaal, uitgefaseer sal word. Intussen sal rasneutrale ekwiteitsekwivalente, wat eienaarskapsvereistes vervang, vir sowel multinasionale as plaaslike maatskappye aanvaar word. Die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering, wat onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) bereik is, en wat beperkings op rassewette in die werkplek plaas, sal in die Staatskoerant gepubliseer word.

Rasneutrale metodes van werknemerbemagtiging sal as voorkeurmeganismes vir bemagtiging deur eienaarskap aanvaar word. Mense se sosio-ekonomiese posisie, eerder as ras, sal gedurende die uitfaseringsproses as maatstaf gebruik word. Jongmense wat ná 1994 gebore is, sal ook as deel van die aangewese groep beskou word.

Landelike veiligheid

Die regering sal plaasmoorde en misdaad in plattelandse gebiede, soos in die geval van bendegeweld en renosterstropery, tot prioriteitsmisdade verklaar. ʼn Amptelike gemeenskapveiligheidsvennootskap sal gestig word waarin die SAPD, die privaat veiligheidsbedryf en gemeenskapsorganisasies soos AfriForum gelyke verteenwoordiging sal hê.

Die SAPD se bestaande landelike beveiligingstrategie sal uitgebrei word om veel groter betrokkenheid deur gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe moontlik te maak. AfriForum het reeds ʼn omvattende gemeenskapsveiligheidsplan vir landelike veiligheid opgestel en aan die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse regerings oorhandig. ʼn Nasionale gemeenskapsveiligheidsforum sal gestig word om die uitvoering van die Beveiligingsplan te monitor. Die Amerikaanse regering sal deur die forum met befondsing, kundigheid en die verskaffing van toerusting help.

‘Kill the Boer’

Die sing van “Kill the Boer” is, in die hedendaagse konteks, een van die ernstigste brandpunte. Daar moet ooreengekom word dat pres. Ramaphosa en senior regeringsleiers die sing van “Kill the Boer”, asook enige ander haatverwante slagspreuke teen minderhede, onvoorwaardelik sal veroordeel.

Ons belewing is nie dat ʼn grootskaalse regeringsgedrewe volksmoord (“genocide”) hier plaasvind nie, maar ons ervaar wel dat die ANC Afrikaners se voortbestaan teiken deur omvattende rassewetgewing, die onderspeling van plaasmoorde, aanvalle op ons taal en kultuur deur wetgewing soos Bela, en die verbreking van ooreenkomste wat die regering met ons daaroor aangegaan het.

Vlugtelingprogram

Die vlugtelingprogram bestaan reeds. Die regerings van die VSA en Suid-Afrika moet ooreenkom dat individue wat van die program wil gebruikmaak, toegelaat moet word om die proses sonder benadeling te volg. Minder as 1% van Afrikaners sal hulle waarskynlik in die VSA gaan vestig. Die Solidariteit Beweging is nie betrokke by hierdie program nie omdat ons glo dat ons toekoms in Suid-Afrika is en ons aan oplossings vir knelpunte hier werk.

Daar moet ooreengekom word dat ʼn direkte kanaal tussen die Amerikaanse administrasie en die Solidariteit Beweging gevestig sal word, onder meer met die oog op die stigting van ʼn Afrikaner-ontwikkelingsfonds. Dié fonds kan help met die ontwikkeling van opleidings- en kulturele infrastruktuur vir die Afrikanergemeenskap.

Gesprekke sal ook tussen die Solidariteit Beweging en die Amerikaanse administrasie gevoer word oor die uitvoer van vaardighede na daardie land deur middel van aanlyn werk, sonder dat mense Suid-Afrika hoef te verlaat.

Onteiening sonder vergoeding

Die regerings van die VSA en Suid-Afrika neem kennis van die hangende hofsaak in dié verband, maar is steeds van mening dat ʼn skikking verkieslik is bo ʼn hofsaak. In die lig hiervan moet artikel 12(3) van die Onteieningswet geskrap word. Artikel 19(2) moet gewysig word om te voorkom dat grond onteien word voordat ʼn hof ʼn finale beslissing gelewer het. Verdere wysigings moet aangebring word om te verseker dat eiendomsreg beskerm word soos deur die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal.

Só vorder die strategie met ankerdorpe

Die Solidariteit Beweging se Ankerdorpstrategie se doel is om noodsaaklike dienste in stede en streeksdorpe te help verbeter. Só help ons hulle versterk dat die kleiner omliggende dorpe daarvanaf gediens kan word. ‘n Ankerdorp funksioneer byna soos ‘n groot ankerwinkel in ‘n winkelsentrum, wat help om die omliggende kleiner winkels ook lewensvatbaar te maak. Afrikaners se uitdaging is nie klein getalle nie, maar yl verspreiding, en die ankerstrategie is terselfdertyd ‘n konsentrasie strategie.

Hoewel daar ‘n lys ankerdorpe bekendgestel is, was die ankerstrategie meer ‘n sentrale idee as ‘n vasgestelde lys. Die uitdaging is dat stede en dorpe buite die Weskaap meestal swak regeer word. Doeltreffende munisipale dienste soos water, elektrisiteit, sanitasie en paaie verval as gevolg daarvan op baie plekke. Sake ondernemings begin dan swaartrek, noodsaaklike instellings soos skole en ouetehuise kom onder groot druk, en misdaad neem toe. Die kantelpunt kom wanneer ‘n kritiese massa ondernemings, hoër inkomstegroepe en goed opgeleide mense wegtrek. Dit dra by tot die verarming van die omliggende streek, wat daartoe lei dat al meer werkloses na informele behuising rondom die dorpe gaan bly. Die gevolg is ‘n knyptang van ‘n afname in munispale inkomste, en ‘n gelyktydige styging in uitgawes aan munisipale dienste wat uiteindelik die dorpies knak.

Pretoria

Die proses voltrek homself reeds vir die afgelope twee dekades. Die meer welvarende mense wyk uit na stede en streeksdorpe. Daar vorm hulle groter konsentrasiepunte wat dienste soos onderwys, bejaardesorg en veiligheid meer lewensvatbaar maak. Die Pretoria omgewing is die grootste konsentrasie van Afrikaners, en vorm die fokuspunt van die Ankerstrategie. AfriForum het ‘n ooreenkoms met die Munispaliteit om met diensverbeterings te help, wat strek vanaf die verbetering van paaie, die verfraaiing van openbare ruimtes en parke, en die opknapping van sekere infrastruktuur. Voltydse AfriForm Buurtspanne werk hieraan. Misdaad is ook ‘n groot fokuspunt, met voltyde personeel en ‘n Nasionale Beheerkamer as spilpunt van die veiligheidstrategie.

Tweedens het die Beweging ‘n omvattende kulturele ekostelsel in Pretoria gevestig, Dit strek vanaf die kampusse van Sol-Tech en Akademia, en die hoofkantore van Solidariteit, AfriForum, die Solidariteit Helpende hand, die Skole Ondersteuningsentrum, sentrums vir weerlose kinders, en die ander instellings van die Solidariteit Beweging. Omvattende gemeenskapsdienste word hiervandaan gelewer, wat strek vanaf die bewaring van monumente en erfenisse deur die FAK, ‘n wye reeks regsdienste, bystand aan skole, en projekte om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder soos AfriForum se Teater.

Munisipale dienste

Die onmoontlike uitdaging vir gemeenskapsorganisasies soos die Solidariteit Beweging, is om al meer “staatsdienste” sonder staatsinkomste soos belasting te lewer. Daarom rus die Ankerstrategie op vier bene. Die eerste been is om AfriForum takke daar te vestig, en hulle uitvoerende vermoë om noodsaaklike dienste te lewer uit te bou. AfriForum het in 2025 meer as R200 miljoen spandeer om dorpe en stede met die hulp van duisende vrywilligers meer volhoubaar te maak.

Die tweede been is om met die plaaslike owerhede te skakel en saam te werk waar dit moontlik is. Verskeie samewerkingsooreenkomste is reeds met metro’s soos Tswane en Kaapstad gesluit, asook met talle kleiner dorpe. Terselfdertyd word munisipaliteite verantwoordelik gehou om hulle wetlike funksies waarvoor hulle verkies, betaal en befonds word uit belastinggeld, na behore uit te voer. Spesiale moeite word gedoen om na die nie-Afrikaanse gemeenskappe uit te reik om samewerking op “horisontale” vlak te bevorder, met die doel dat dit uiteindelik “vertikale” samewerking (met die stadsraad) sal aanhelp. Derdens word daar “ons sal self” Afrikaanse gemeenskapsforums gestig wat as ‘n soort “vierde” regeringsfeer op gemeenskapsvlak werk naas die nasionale-, provinsiale- en plaaslike regering.

Daar is reeds 24 Buurtspanne in Ankerdorpe aangestel, wat dienste lewer soos vullisverwydering, herwinning, skoonmaak, grassny en die herstel van infrastruktuur soos paaie. Hierdie spanne word sover moontlik toegerus met noodsaaklike toerusting soos bakkies en sleepwaens, trekkers, grassnyers en selfs enkele vragmotors en watertenkers waar nodig.

Wes-Kaap

Die Weskaap is ‘n spesiale fokus vir AfriForum, omdat die provinsie beter regeer word, ons toegang tot die provinsiale owerheid en goeie samewerking met stadsrade het. Daar is ook wye ondersteuning vir die idee van afwenteling van magte vanaf die sentrale regering na die provinsie. Die werksaamhede verskil met die van ander provinsies, en daar is bv ‘n groter behoefte aan die verbetering van veiligheid as aan die opknapping van munisipale dienste.

Veiligheid

Die verbetering van ‘n dorp begin by die opknapping van veiligheid. Daarom het AfriForum sowat 170 buurt- en plaaswagte, en word waar moontlik met Sekuriteitsfirmas en die plaaslike polisie saamgewerk.

AfriForum het in 2025 bykans R70 miljoen rand aan gemeenskapsveiligheid bestee. Die Buurtwagte word goed opgelei, en sover moontlik met hommeltuie, moderne tweeriging radiotoerusting en ander tegnologie toegerus. Die Buurtwagte word bygestaan deur nasionale- en streeksbeheerkamers, vanwaar honderde kameras gemonitor en reaksiepersoneel uitgestuur word. Daar is ook reeds in 33 gemeenskappe opgeleide vrywillige Traumaberaders wat ondersteuning aan slagoffers van misdaad bied.

Regsaksies

Dit is gereeld nodig om regsaksies te onderneem om munisipaliteite te dwing om hulle wetlike verpligtinge na te kom. Daar word ook gekeer dat buitensporige tariefverhogings of nuwe tariewe ingestel word sonder dat inwoners dienste kry waarvoor hulle betaal. AfriForum het al bv regsgeskiedenis gemaak toe die Appélhof ‘n aansoek toegestaan het om die disfunksionele stadsraad van Parys te ontbind. In ander sake het die howe bevele uitgereik dat sekere stadsrade met AfriForum moét saamwerk om bepaalde dienste te verbeter.

Gemeenskapsdienste

Die Solidariteit vakbond het kantore in feitlik alle stede en streeksdorpe, vanwaar ‘n wye reeks werksdienste gelewer word. Die Helpende hand help met noodvoeding by skole aan meer as 8 000 kleuters landswyd, en gee studiehulp ter waarde van meer as R70 miloen jaarliks aan meer as ‘n duisend studente. Hulle is ook betrokke by dienste aan bejaardes by sowat 250 Ouetehuise in die land. Die Helpende hand ondersteun Afrikaanse leerders in die platteland waar daar nie Afrikaanse skole is nie, en help met vervoer en koshuisverblyf op groter streeksdorpe. AfriForum ondersteun ook Afrikaanse sport, wat wissel vanaf die uitsendings van sportgeleenthede op AfriForum TV en borgskappe aan groter geleenthede soos die Bokkieweek.

Die SOS lewer ondersteuningsdienste aan honderde Afrikaanse skole, gee opleiding aan sowat 12 000 onderwysers per jaar, terwyl die SOS se Wolkskool duisende Afrikaanse leerders deur moderne tegnologie en hulpmiddels help.

Dis belangrik om te noem dat die konsentrasiestrategie nie ‘n eenvormige bloudruk kan wees wat dieselfde op elke plek toegepas kan word nie. Dit moet pasgemaak word vir elke plek se eiesoortige omstandighede. Bloemfontein in die Manguang is bv die swakste bestuurde metro in die land, en AfriForum Buurtspanne doen selfs vullisverwydering daar. Een van die ander uitdagings is dat die grootste nood soms in kleiner dorpe voorkom, waar dit moeilik is om daardie dienste aan te bied.

Orania

Die Solidariteit Beweging ondersteun Orania as Ankerdorp in die Noordkaap. Die rede is dat Kimberley se verval en ANC beheer die dorp nie geskik vir die ankerstrategie maak nie. Orania is taamlik klein, maar die dorp word goed bestuur, daar is goeie infrastruktuur, energiesekerheid, dis veilig en die gemeenskap wil graag hulle dorp opbou en uitbrei. Orania is reeds ‘n streeksdorp, en bied noodsaaklike dienste soos onderwys, gesondheidsorg, sekuriteit, professionele dienste, ontspanning, bejaardesorg, en veel meer aan die omgewing. Hierdie dienste word aan ‘n gebied so groot soos Oostenryk of Ierland gelewer, min of meer in ‘n radius van 160 km om Orania.

Die rede is dat noodsaaklike dienste en – instellings soos skole en ouetehuise se volhoubaarheid deur ‘n see van vervallende dorpies bedreig word. Munisipaliteite in hierdie sentrale Suid-Afrika lê volgens Good Governance Africa se 2024 verslag feitelik almal in die onderste kwadrant van munispale prestasie, met die meeste wat gekwalifiseerde ouditmenings kry en groot probleme met water, elektrisiteit, sanitasie en algemene munisipale bestuur het.

Daarom het Solidariteit ‘n Ontwikkelingsmaatskappy op die dorp gestig om met belangrike dienste te help wat ‘n streeksdorp nodig het. ‘n Beroepskollege is op die dorp gevestig, wat reeds ‘n top Landbou- én tegniese kollege is, met studenteverblyf in ‘n veilige Afrikaanse omgewing.

Veelvuldige identiteite

Die Solidariteit Beweging is ‘n Suid-Afrikaanse, Afrikaanse én Afrikaner instelling. Daarom is sekere dienste wat gelewer word gemik op alle Suid-Afrikaners, ander is gefokus op alle Afrikaanssprekendes, terwyl bepaalde dienste op Afrikaners gerig is. Ons ledebasis van meer as 600 000 bly verspreid oor die land, en daarom word dienste landswyd gelewer. Ons respekteer ook ons lede se uiteenlopende sienings oor sake, en maak daarom voorsiening vir ‘n wye verskeidenheid oplossings vir knelpunte. Yl verspreiding is die uitdaging, en groter konsentrasie met die Ankerstrategie is ons oplossing.

 

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Media moet waghonde wees, nie bloedhonde of skoothondjies

“Daar is drie soorte honde,” het korporaal Strauss vir ons gesê gedurende my dienspligtyd by die hondeskool: “Waghonde, bloedhonde en skoothonde.” Die News24-redakteur se jarelange vete teen die Solidariteit Beweging het my die afgelope tyd weer aan my ou korporaal se woorde herinner. Die media speel ʼn belangrike waghondrol in die samelewing. Hulle doel is nie om enigiemand se bloedhonde of skoothonde te wees nie, maar om as waghonde oor die belange van die publiek te dien.

Ons ervaring oor baie jare is ongelukkig dat Adriaan Basson, sedert sy dae toe hy as Beeld se redakteur die Puk op Potchefstroom as ʼn Nazi-nes probeer swartsmeer het, meer soos ʼn bloedhond as ʼn waghond teen Afrikaans optree. Daarteenoor gedra hy homself soos ʼn skoothondjie van die ANC. Ons waarskuwing dat sy sogenaamde “Nazi”-beriggewing ʼn stok in die hande van radikale politici sou plaas wat uiteindelik die PUK en Beeld sou benadeel, is ongelukkig bewaarheid. Basson se stories het gerespekteerde akademici se loopbane groot skade berokken, talle onskuldige studente beswadder en die reputasie van ʼn top-universiteit deur die modder gesleep.

ANC-skoothondjie

Basson kon dit nie verdra dat ons die PUK-studente en leiers se kant gekies het teen sy boeliegedrag nie, en dat hy daarna by Beeld uitgeskuif is nie. Hy het toe gereeld sy platform by News24 begin gebruik om meer soos ʼn aktivis as ʼn joernalis op te tree, oftewel meer soos ʼn bloedhond as ʼn waghond. Sy (soms) vurige kritiek op korrupsie deur sekere ANC-leiers is afgewissel met sonskyn-berigte oor ander ANC-leiers. Sy selfopgelegde rol is egter dié van ʼn skoothondjie as dit by onderliggende ANC-beleid kom. Die grondslae van die ANC se revolusionêre radikale transformasiebeleid wat die land en sy mense al soveel skade berokken het, kom nooit uit sy pen onder skoot nie. Inteendeel, hy doen sy bes om hierdie beleid te verdedig en aan sy lesers te verduidelik en te vertolk. Die staatsideologie wat die ANC se wanbestuur en staatsverval help veroorsaak, word nie gekritiseer nie. In plaas daarvan word diegene wat, soos ons Beweging, die ANC se totalitêre sosiale ingenieurswese teenstaan in belang van vryheid en demokrasie, in talle artikels gedemoniseer, beledig en belaster.

VSA-verhoudinge

News24 se histerie teen ons het ʼn hoogtepunt (of laagtepunt?) bereik toe ons ons toegang tot die Trump-administrasie gebruik het om met die Amerikaners te onderhandel oor knelpunte soos Agoa en tariewe. Ons het dit nodig geag weens die ANC se bepalende rol in die verswakking van die verhoudinge tussen die twee lande. Dit is so dat ons ook die ANC se verbreking van die 1994-ooreenkoms op die tafel geplaas het met die versoek dat die Amerikaners, soos vóór 1994, intree om menseregte te beskerm. Ons het nie met die VSA gepraat omdat ons met alles wat hulle sê en doen saamstem nie, maar omdat hulle die regering van ʼn supermoondheid is wat baie vir (en teen) die land kan doen as gevolg van die ANC. Ons moes vir die Amerikaners sê: “Ons is nie almal so (ANC) nie” – anders sou daar dalk veel sterker optrede gewees het wat nóg duisende se lewensbrood kon bedreig.

“Disinformasie”

Basson en kie het toe losgetrek met beskuldigings van “disinformasie” oor “genocide” en groot ruimte afgestaan aan onbekwame en korrupte politici wat ons van “hoogverraad” en onpatriotiese gedrag beskuldig het. Die Persombudsman het by talle geleenthede teen hulle beslis, waarna hulle verskonings moes publiseer, wat Basson waarskynlik net meer haatlik gemaak het.

Visvangekspedisie

Dit het hom sekerlik aangespoor om AfriForum se finansiële state by die Registrateur te bekom, waarna ons met honderde vrae gepeper is in ʼn soort “visvangekspedisie” wat bedoel was om êrens fout te vind. Verskeie berigte het hieruit voortgespruit, deurspek met halwe waarhede, blatante leuns en verdraaide inligting. Meer bloedhond as waghond. Wat hulle waarskynlik die kwaadste maak, is dat hulle geen korrupsie of wanbestuur kon opspoor nie. Terselfdertyd wou hulle nie Kallie Kriel se teenvrae oor hul beheermaatskappy se skenkings aan die ANC beantwoord nie, of verduidelik waarom News24 al vir jare nie hul eie finansiële state publiseer nie.

Fopnuus

Sekere joernaliste kla die afgelope paar jaar breedvoerig oor “fopnuus” op sosiale media, terwyl hulle hul politieke teenstanders daarvan beskuldig dat hulle sogenaamde “post-waarheid” leuens versprei. Ek weet dat daar baie nonsens en vals nuus op sosiale media verskyn. Tog is die gevaarlikste vals nuus nie die ongeloofwaardige liegstories wat op ooglopend amateuragtige sosialemediablaaie verskyn nie. Die ergste fopnuus is die leuens, halwe waarhede en eensydige beriggewing wat in sommige hoofstroommedia met histories geloofwaardige titels verskyn. Dít is onderliggend aan die groeiende wantroue in die tradisionele media. In die VSA het hierdie vertroue volgens Gallup teen 2025 tot slegs 28% gedaal, terwyl in Suid-Afrika minder as die helfte van die bevolking nog die media vertrou.

Die media speel ʼn uiters belangrike waghondrol in die land en het die afgelope jare ʼn reusebydrae gelewer tot die blootlegging van korrupsie en wanbestuur. Daarom is dit belangrik dat joernaliste hul waghondrol verstaan en besef dat hul geloofwaardigheid hul belangrikste bate is wat ten alle tye beskerm moet word. Die media het dus ʼn kritieke verantwoordelikheid om altyd professioneel op te tree en nie toe te laat dat hulle aktivisme onder die dekmantel van joernalisme nastreef nie. Anders gestel, joernaliste moet waghonde bly en nie bytende bloedhonde of lekkende skoothondjies word nie.

 

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Volhoubare Afrikaanse onderwys vir die volgende geslag

Die Solidariteit Beweging het tydens die Onderwys Toekomsberaad ʼn omvattende plan vir volhoubare Afrikaanse onderwys bekendgestel. Hierdie plan gaan saam met ander rolspelers en vennote uitgevoer word.

Die belangrikste beweegredes vir hierdie plan is soos volg:

Ons wil wêreldklas in Afrikaans wees

Die Solidariteit Beweging wil aan ‘n omvattende kulturele ekosisteem help bou wat uiteindelik die hele pyplyn vanaf Afrikaanse Kleuterskole tot Beroepskolleges en ‘n universiteit met verskeie Sattelietkampusse en ‘n aanlyn studiemodel insluit. Ons wil hê ons kinders en jongmense moet skole, kolleges en universiteite hê waar hulle veilig kan tuisvoel. Dis ‘n strewe na normaliteit, nie na die verlede nie. ʼn Taal se hoër funksies is onontbeerlik om sy langtermyn-volhoubaarheid te verseker. ʼn Kultuurgemeenskap het opvoedkundige instellings nodig om sy taal en kultuur na volgende geslagte oor te dra. Daarby het skole, kolleges en universiteite ʼn opleidings- én ʼn opvoedingsrol. Terselfdertyd word leerders en studente vir ʼn meertalige werksomgewing voorberei. Dit is ʼn bekende feit dat moedertaalonderrig die beste vorm van onderrig is en dat dit studente toerus om hul kennis in ander tale te kan toepas.

Ons mag wêreldklas in Afrikaans wees

Die Grondwet bepaal in artikel 29 dat enkelmedium-opleidingsinstellings mág bestaan en dat elkeen die rég het om in enige amptelike taal opgelei te word. Dis nie ‘n guns wat ons van die regering vra nie, dis ‘n reg wat internasionaal erken word. Ingevolge artikel 6 van die Grondwet is Afrikaans ʼn amptelike landstaal. Ons hoër onderrig instellings soos Sol-Tech en Akademia is al jare lank geregistreer en geakkrediteer, bied gehalte-opleiding aan en sluit geen persoon of groep uit nie. Dis oop vir enige persoon wat aan die akademiese standaarde voldoen en wat in Afrikaans wil studeer.

In 2019 het die Konstitusionele Hof by monde van hoofregter Mogoeng Mogoeng in sy uitspraak in die Stellenbosch-taalsaak, ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om self privaat onderriginstellings ter bevordering van Afrikaans en ander inheemse tale te bou. Regter Mogoeng het selfs ʼn beroep op korporatiewe welwillendheid gedoen om hulpbronne beskikbaar te stel om te help om privaat moedertaalgebaseerde opleidingsinstellings te befonds.

Die Grondwetlike hof se versoek dat gemeenskappe self instellings moet bou en met eie kapitaal finansier om hul taal te bevorder, is dus presies wat die Solidariteit Beweging en ons vriende en vennote doen.

Die grondliggende reg van enige kultuur is die reg op voortbestaan, wat net moontlik is met outonome kulturele instellings soos skole, kolleges en universiteite.

Ons kan wêreldklas in Afrikaans wees

Solidariteit het Sol-Tech in 2006 begin en duisende studente is al by die kollege opgelei. Daar is vanjaar byna 3000 studente in die onderskeie opleidingsfases wat opleiding in teorie, praktiese opleiding in ons werkswinkels en indiensopleiding by maatskappye behels. Die eerste R120 miljoen vir die oprigting van Sol-Tech het uit die maandelikse R10-bydraes van Solidariteit-lede gekom. Waar daar ‘n wil is, word die wil die weg!

Akademia is in 2012 begin en gaan so vinnig van krag tot krag dat ‘n reuse kampus tans in Pretoria gebou word, terwyl daar ook grond in die Paarl aangekoop is met planne om vir ons Satellietkampus daar ‘n tuiste te bou.

Die Solidariteit Helpende hand Studietrust se doel is om fondse beskikbaar te stel sodat almal wat wil moet kan leer en studeer. Die Trust word befonds deur Solidariteit ledebydraes, skenkings, inkomste vanaf die Virseker Trust, bydraes van die Helpende hand se Ons Winkels ketting groep, en bemakings. Wêreldklas onderrig en opleiding is geweldig duur en die bekostigbaarheid van onafhanklike instellings wat sonder staatsteun moet klaarkom bly ‘n uitdaging. Ons is baie  trots op ons jongmense, omdat die terugbetalingskoers van die studielenings nou op 99% te staan gekom het.

Ons kan, want ons het dit klaar bewys.

Ons kan nie alles op ons eie of net met gemeenskapbydraes doen nie. Daarom sluit ons nou vennootskappe aan tussen kultuur en kapitaal, waar beleggers ‘n markverwante opbrengs kry, en terselfdertyd ‘n kulturele dividend in die vorm van topklas onderrig en opleiding. Die doel is om uiteindelik waar prakties moontlik landswyd leefruimtes vir Afrikaans te bou.

Ek sê weer- ons kán, want ‘n Boer maak ‘n plan!

Ons moet wêreldklas in Afrikaans wees 

Dis algemene kennis dat die ANC vyandig teenoor Afrikaanse onderwys is. ‘n Vyandige owerheid is nie iets nuuts in ons geskiedenis nie. Sowat 200 jaar gelede het Lord Charles Somerset gedink hy draai Afrikaanse skole nek-om. ‘n Eeu later was dit weer Lord Milner se dagdroom. Nog ‘n ‘n eeu later is dit weer Lord Lesufi en kie se nagmerrie. Ons weet ons kan nie meer op die staat staatmaak om vir ons kinders wêreldklas onderrig en opleiding te voorsien nie. Wêreldklas onderwys is nie ‘n luukse nie, maar ‘n moét. Die vraag is dus nie óf nie, maar hoé. Dit is waaraan ons werk. Ons sal nie gaan lê voor ‘n regering wat nie eers ‘n Poskantoor kan bestuur nie.

Ons gaan wêreldklas in Afrikaans wees 

Die Solidariteit Beweging is besig om aan die kulturele infrastruktuur te bou om saam in Afrika te kan bly. Iemand wat ʼn huis bou, probeer nie ander uitsluit of homself afsonder deur die huis te bou nie. Hy bou sy huis juis om saam met sy bure in ʼn bepaalde woonbuurt te bly. Die gebou is net eie punt van die Ysberg wat bo die water uitsteek. Hierdie geboue kan net so groot en sterk wees soos die minder sigbare kulturele infrastruktuur wat al vir meer as twee dekades “onder’ die water gebou word. Dit behels die totale netwerk van instellings wat strek vanaf werksgebied na burgerregte-, media-, finansiële-, kulturele- en opvoedkundige instellings tot by organisasies wat ons erfenisse bewaar.

‘n Onderwysplan is deel van die pyplyn van Afrikaanse onderrig en opleiding waaraan ons saam met vriende en vennote bou.

Ons sal self

Die Afrikaanse gemeenskap het alles in sy vermoë gedoen om Afrikaanse hoër onderwys in die openbare sektor ingevolge die grondwetlike voorsiening daarvoor te laat voortbestaan. Ná talle gesprekke, pleidooie, versoeke en selfs hofsake is die openbare sektor se deure in ons gesig toegeslaan. Ons enigste uitweg is om dit self te begin doen. Vandaar ons leuse, “Ons sal self”. Dit is nie ‘n oproep vol heimweë terug na die verlede nie, maar ‘n wekroep om saam ‘n toekoms te bou.

Ons sal self, en ons sal saam as ‘n helpmekaarbeweging. Dit gaan nie oor die herlewing van ‘n uitgediende nasionalisme nie, maar oor gesonde kulturele selfvertroue, -selfrespek en selfverwesenliking.

Dieselfde geld vir ons skole. Ons sal saam met die Afrikaanse skoolgemeenskap werk, praat, en veg om ons openbare skole wêreldklas te hou, maar ons sal terselfdertyd ook met planne vir onafhanklike onderwys begin – saam met ander instellings wat met ons wil saamwerk.

Toekomsbouers

Ons wil beslis nie voorgee dat ons al die antwoorde het, of dat ons alles alleen kan doen nie. Ons het mekaar nodig, en ons sal met ander rolspelers wat Afrikaanse onderrig op die hart dra saamwerk waar enigsins moontlik. Ons nooi by Kanton Eiendomme almal uit om saam Toekomsbouers te wees.

Jare gelede het mense gedink dis onnodig én onmoontlik om onafhanklike Afrikaanse onderwysinstellings te bou. Die tyd het geleer dat dit nodig én moontlik is. Suid-Afrika is ‘n land waar dit wat teoreties moontlik is, in die praktyk soms onmoontlik is. Gelukkig is dit ook ‘n land waar dit wat teoreties onmoontlik is, in die praktyk wel moontlik is.

Afrikaanse skat

Afrikaanse jongmense word vandag blameer vir dinge wat gebeur het voor hulle gebore is, terwyl die regering nie die verantwoordelikheid aanvaar vir wat hulle vandag doen nie. Onthou, ‘n Kultuur kan net voortbestaan as elke geslag vir die volgende een leef.

Die Solidariteit Beweging wil graag die tradisie van wêreldklas- Afrikaanse onderrig en opleiding op nuwe maniere voortsit. Ons wil, ons mag, ons moet, ons kan, ons gaan en ons sal dit as gemeenskap self doen.

Afrikaners het immers nie die oseane deurkruis, deur die eeue oorleef, die onbekende ingetrek, magtige moondhede op die slagveld gepak en op talle gebiede wêreldklasprestasies opgelewer, omdat ons van jellie gemaak is nie. Ons is vrye burgers, nie dienswillige onderdane nie. Ons is vasbeslote om in die woorde van Van Wyk Louw, die skat van ons taal en kultuur veilig deur die skare te dra.

Die hede gaan nie weggaan nie, die verlede gaan nie terugkom nie, en die toekoms gaan nie vanself gebeur nie. My oproep is dus: kom laat ons bou!

 

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Só lyk plan om Afrikaanse onderwys te versterk

Die Solidariteit Beweging het Dinsdag ’n omvattende plan vir volhoubare Afrikaanse onderwys bekend gestel, met die doel om ’n geïntegreerde ondersteuningsnetwerk vir die hele Afrikaanse skoolgemeenskap te skep.

Die plan word saam met verskeie vennote in die onderwyssektor uitgerol en fokus daarop om skole, onderwysers, skoolbestuur, beheerliggame, ouers, leerders en gemeenskappe toe te rus om die toenemende uitdagings in die onderwysomgewing die hoof te bied.

Die Solidariteit Beweging het dié plan tydens die toekomsberaad bekend gestel, waar sowat 800 onderwysers en leiers uit die skoolgemeenskap byeengekom het. Die driedaagse kongres fokus op die uitdagings waarmee Afrikaanse onderrig tans te kampe het, asook op praktiese strategieë om ’n volhoubare toekoms vir Afrikaanse onderwys te verseker.

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, sê Afrikaanse skole verkeer toenemend onder druk en die sentralisering van skole vind al hoe meer plaas.

“Die staat wil 100% sê wat ons moet doen,” sê Hermann. Hy sê egter die plan wat Dinsdag bekend gestel is en die wil van ʼn gemeenskap, vorm die hart van goeie onderrig.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, rus die toekoms van Afrikaanse onderwys op gemeenskappe wat bereid is om self verantwoordelikheid daarvoor te neem.

“Die toekoms van Afrikaanse onderwys behoort aan ’n gemeenskap wat bereid is om daarvoor verantwoordelikheid te neem. By die Solidariteit Beweging glo ons dat ons nie net die reg het om daardie toekoms te help bou nie, maar ook die plig,” sê Buys.

Hy sê dat die beweging saam met sy vennote en Afrikaanse skoolgemeenskappe wil werk om ’n volhoubare toekoms vir Afrikaanse onderwys te verseker.

“Die staat bedreig ʼn goeie Afrikaanse ekostelsel en ons moet begin anders dink oor die volgende jare wat kom,” sê Hermann.

Die nuwe aanbod bring die Solidariteit Beweging se instellings, kundigheid en bestaande ondersteuningsnetwerke in een geïntegreerde model saam, sê Buys.

Die plan behels dat die Solidariteit Beweging sy onderwysaanbod só verpak dat die ideaal van volhoubare gehalte-onderwys in Afrikaans, saam met die breë skoolgemeenskap, bereik kan word.

Werner Human, bedryfshoof van die beweging, sê die model onderskei hom van tradisionele dienslewering omdat dit ’n deelnemende benadering volg waarin die hele skoolgemeenskap betrek word.

“Skole staan vandag voor veel groter uitdagings as net akademiese prestasie. Hierdie aanbod skep ’n ondersteuningsnetwerk wat skole versterk sodat hulle op hul belangrikste taak kan fokus: om kinders vir die toekoms toe te rus,” sê Human.

Volgens Human is die doel nie om skole se rol oor te neem nie, maar om hul kapasiteit te versterk en uit te bou.

Hy sê die beweging wil meer doen as om bloot as ’n diensverskaffer op te tree en fokus eerder daarop om ’n breër onderwys-ekostelsel te help vestig wat skole in staat stel om volhoubaar en uitnemend te funksioneer.

Die Solidariteit Beweging beskou die plan as ’n langtermynbelegging in Afrikaanse onderwys en as deel van sy groter visie om selfstandige gemeenskappe te help bou wat gehalteonderwys vir toekomstige geslagte kan verseker.

Onderwysaanbod

Geskryf deur die Maroela Media redaksiespan.

Flip Buys betree ná 29 jaar nuwe fase

In 1997 is Flip Buys op 34-jarige ouderdom verkies tot hoofsekretaris van die destydse Mynwerkersunie, wat later Solidariteit sou word. Sedertdien sit Buys op twee stoele: aan die een kant as uitvoerende hoof van die vakbond en aan die ander kant as voorsitter van die sambreelorganisasie die Solidariteit Beweging.

Nou, ná 29 jaar maak Buys klaar by die vakbond Solidariteit, die organisasie waaruit alles gebore is.

“Aan die een kant tree ek uit by die vakbond, sodat ek kan aantree by die Solidariteit Beweging,” het Buys in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Voortaan gaan Buys dus net fokus op voorsitterskap van die Solidariteit Beweging, wat onder meer insluit organisasies soos Solidariteit, AfriForum, die Solidariteit Helpende Hand, Sol-Tech, Akademia en Maroela Media.

Met sy formele en uitvoerende pligte by die vakbond wat tot ʼn einde kom, gaan hy een van die twee hoede wat hy tot dusver gedra het, neerlê. Die Solidariteit Beweging-hoed bly, die rol waarvoor hy buitendien meer algemeen bekend is.

“Dirk Hermann is deur die Solidariteit-hoofraad aangewys as my opvolger as uitvoerende hoof. [Hy] het vir ʼn lang tyd buitendien reeds waargeneem as bestuurshoof, wat beteken die oorgang is glad en goed vooruitbeplan.”

“Ná omtrent 30 jaar het ek darem al my kant gebring aan die vakbondkant,” sê Buys met glimlag.

“Dit is ʼn groot voorreg om te kan sê die vakbond is in ʼn goeie toestand en ons het ʼn goeie hoof wat daarop fokus, dat ek kan fokus op die Beweging en wat daarmee saamgaan.”

Dié groot nuwe fase waarin die Solidariteit Beweging is, met die omvang van aktiwiteite wat oor die jare heen aangeneem is, is deel van ʼn organisatoriese versnelling wat volgens Buys meer toegewyde aandag nodig het.

“Met die bou van die verskillende Bewegingsinstellings, wat altyd die doel was, het dit naderhand onmoontlik geword om op albei stoele te bly sit, en dit is waarom besluit is om die rolle te skei sodat beide in hul eie reg vervul kan word.”

Dit is ʼn reuse-organisasie en gebeur nie vanself nie, verduidelik Buys.

Reeds op die kongres waar Buys in 1997 verkies is, het hy daarvan melding gemaak dat die vakbond uiteindelik uitgebrei moet word tot ʼn beweging van taal- en kultuurinstellings met die breë oogmerk om Afrikanerbelange en hul plek in die nuwe bedeling te beskerm en bevorder.

Sedertdien het die Beweging inderdaad gegroei tot bykans 50 instellings met meer as 570 000 lede.

Omdat die vakbond Solidariteit as moederinstelling die afgelope dekades in ʼn groot mate nog die enjin van die breër sambreelorganisasie was, met talle gedeelde dienste ter wille van optimalisering, was daar nog heelwat verweefdheid tussen Bewegingsinstellings. Dit is ook die rede waarom Buys by die vakbond aangebly het in die jare selfs ná die Solidariteit Beweging as breër beweging vorm begin aanneem het.

“Namate die ander organisasies gegroei het, het hulle egter selfstandigheid en outonome uitvoerende vermoë ontwikkel wat die Beweging in hierdie nuwe fase inneem.”

Buys verwag ʼn gladde oorgang van leierskap in Solidariteit, omdat hy en Hermann reeds jare saamwerk en met weldeurdagte opvolgbeplanning die afgelope jare besig was met ʼn stelselmatige oorhandiging.

“Werksgewys gaan daar [dus] nie veel verander nie, maar verantwoordelikheidsgewys [laat dit my] met een groot bestuursverantwoordelikheid minder. Ek is baie dankbaar dat daar iemand soos Dirk is aan wie die stokkie oorgegee kan word.”

Goeie opvolgbeplanning het volgens Buys ʼn groot rol in die Beweging se ontwikkeling tot dusver gespeel.

“Die finale toets vir leierskap is dikwels die opvolger. Die kuns is nie daarin om ʼn span te bestuur nie, maar om ʼn span te bou; om leiers te versamel wat leiers rondom hulle versamel. Dit is hoe ʼn mens organisatoriese diepte kry.”

Die Solidariteit Beweging wat vandag bestaan, is daarom ook nie oornag of sonder moeite gebou nie.

“Ons het destyds nie die geld, uitvoerende vermoë, leiers of mense gehad nie, en moes dit na aanleiding van ʼn visie stelselmatig bou en ontwikkel.”

Afgesien van die reuse-organisatoriese taak was die post-1994-tydsgees selfs meer uitdagend. Dit was ʼn tyd waarin talle van die idees wat Solidariteit aangehang het, van die minder utopiese

scenario’s vir die land waarvoor hulle voorsiening gemaak en beplan het, baie ongewild was en waarvoor ek dikwels hewige kritiek ontvang het.

“Daarom is ek ook baie dankbaar dat die hoofraad ons altyd ondersteun het en begrip gehad vir dit wat besig was om te ontvou, omdat hulle heelwat nader aan mense op die grondvlak beweeg het as die kritici in ivoortorings.”

Ons was nie negatief oor die land nie, net realisties. Ons het die ANC se dokumente gelees en dit gegló. Ons het dus nie met ons wense gewerk nie, maar met die werklikhede, verduidelik Buys.

Die gevolgtrekking waartoe hulle eindelik gekom het?

“Ter wille van demokrasie, ter wille van vryheid, ter wille van oorlewing moet ons binne elke samelewingsfeer ʼn organisasie ter bevordering en beskerming van Afrikanerbelange begin.”

Namate talle waarskuwings ongelukkig werklikheid geword het, die regering stelselmatig verval en die Solidariteit Beweging stelselmatig geslaag het, het oorwegende kritiek in oorwegende ondersteuning verander.

“Vroeër het mense gedink dit is onnodig en onmoontlik [om self alternatiewe te bou]. Die meeste mense het nou begin agterkom dat dit wel nodig én moontlik is, wat is waarom ons vandag meer ondersteuning kry as in die verlede.”

Om nou, ná 29 jaar, terug te kyk op die verskillende groeifases in sy tyd by die vakbond is vir Buys bittersoet.

“Dit was dikwels ʼn harde tyd, maar ook ʼn baie lekker tyd. ʼn Mens het baie lief geword vir die mense van die vakbond. Die uittrede is dus aan die een kant hartseer, maar aan die ander kant is ek ook bly dat hulle steeds in goeie hande is met ʼn sterk en bestendige leierskorps.

“Ek kyk met dankbaarheid terug en verwagting vorentoe.”

Omdat Buys glo jou visie vir die toekoms altyd sterker moet wees as jou geheue van die verlede, is hy baie positief oor die toekoms van die Solidariteit Beweging wat hy nou toegewyd voorsit.

“Mense kyk dikwels vas in die grootskaalse verval wat in die land plaasvind. Hoewel dit ons almal neerslagtig maak, is dit egter nie al wat gebeur nie. Daar is ook ʼn reuse-opbouproses in die private en gemeenskapsektor. Hoewel daar verval van bo is, is daar ook opbou van onder af.”

Daarom gaan die Solidariteit Beweging ook in dié nuwe versnelde fase voort om te bou aan ruimtes “wat vry is van die swaar hand van die staat”.

Met die nuwe fase wat aanbreek bly Buys se moue vir die afsienbare toekoms hoopvol opgerol.

“Ons is nog so besig met soveel projekte, want daar is nog baie werk om te doen. Ek is nou 63, en as die Here wil, wil ek nog ʼn paar jaar voltyds betrokke wees.”

 

Geskryf deur Maroela Media redaksie.

Hokaai, regter – dis mos nie reg om onreg te gehoorsaam nie

Goeie en regverdige wette is noodsaaklik vir ‘n vry en vreedsame samelewing.

In die dorp Bozen in die noorde van Italië is ‘n aanhaling van die Joodse denker Hannah Arendt aangebring op ‘n muurpaneel uit die Mussolini-era: “Geen mens het die reg om te gehoorsaam nie.”

Die aanhaling is in reaksie op die Fascistiese oorheersing van die Duitse dorp en provinsie van Suid-Tirool deur die Mussolini-regering ná die Eerste Wêreldoorlog.

Die gebied was deel van Oostenryk, maar is ná die oorlog in 1919 aan Italië gegee vir hul ondersteuning van die Geallieerdes. Dis interessant dat genl. Jan Smuts Suid-Tirool gehelp het om outonome status te kry omdat hulle ‘n kommando gestuur het om die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog by te staan.

Ná Mussolini se bewindsoorname het hy begin om die Duitse bevolking te verdruk en Suid-Tirool te veritaliaans. Dit is gedoen deur Duitse skole se taalbeleid met wetgewing te verander, en deur werkgewers te dwing om deur ‘n kwotastelsel Italianers in diens te neem. Daar is vandag nog meer Italianers as Duitssprekendes in Bozen.

Arendt was verstom oor hoe die meeste gewone Italianers die verdrukkende en immorele wette van die Fascistiese regering gehoorsaam het.

Mussolini het die kern van die fascisme saamgevat met sy berugte slagspreuk: “Alles binne die staat, niks buite die staat, niks teen die staat nie.” Vir hom was die staat die kern, en die bevolking, ondernemings, kerke en die burgerlike gemeenskap moes ondergeskik aan die staat wees.

Die wet en die ‘reg’ is nie altyd dieselfde nie

Tydens die verhoor van die Nazi-oorlogsmisdadiger Adolf Eichmann het Arendt opspraak gewek deur te sê dat Eichmann nie ‘n demoniese en sadistiese monster was nie, maar ‘n gewone mens wat bloot gehoorsaam bevele uitgevoer het. Sy het gewaarsku dat sulke dinge nie net in Nazi-Duitsland of Fascistiese Italië kan gebeur nie, maar in enige samelewing waar mense immorele wette blindelings gehoorsaam. Boosheid is dan die verskriklike gevolg van gehoorsaamheid aan onregverdige wette. In kort, niemand het die reg om onreg te gehoorsaam bloot omdat dit die wet is nie. Die wet maak nie outomaties alles “reg” nie.

Verstaatliking

Suid-Afrika is nog ver van Mussolini se Italië, maar dit raak tyd om vroegtydig op Arendt se waarskuwing ag te slaan. Die ANC het die laaste jare met sy Nasionaal-Demokratiese Revolusie en die voortspruitende ideologie van transformatisme die samelewing al hoe meer begin verstaatlik. Dit word bewerkstellig deur staatsmag al hoe sterker te sentraliseer.

Dink maar aan die staatsoorname van water- en mineraalregte, die rassewetgewing wat alles voorskryf, van eienaarskap tot die werknemers- en verskaffersprofiel van ondernemings, staatsoorname van die Setas, die Bela-wetgewing, wat groter staatsbeheer oor skole nastreef, die onteieningswet, beoogde Nasionale Gesondheidsversekering, en die Wetsontwerp op Sakelisensiëring van laat verlede jaar.

Dis nie net mnr. Zuma wat die staat onregmatig gekaap het nie. Staatskaping is die kern van die ANC se ideologie en die doel van transformatisme.

Gehoorsaam

Tot dusver het die burgery selfs onregverdige wette gehoorsaam, ten spyte daarvan dat die praktyk duidelik gewys het dat die verstaatliking rampspoedige gevolge het, en dat dit teen die grondwetlike verstandhouding van die 90’s is.

Boonop het dit dudielik geword dat rassewette nie meer gerig is op regstelling nie, dat dit nie werk nie en nie kan werk nie, en dat dit boonop immoreel in in ‘n sogenaamde nierassige grondwetlike demokrasie.

In kort, dit is die wet, maar dit is nie die reg nie. Daarom het niemand die reg om onreg te gehoorsaam nie.

Transformatisme

Transformatisme gaan nie oor ‘n beter lewe vir almal nie, maar om die staatsideologie van radikale gelykmaking deur rasseformules af te dwing. Dit is onvermydelik dat kernsake soos vryheid, voorspoed, gelykheid voor die reg, ‘n werkende land en gelyke burgerskap die slagoffers van hierdie beleid is.

Mense is aan die wet gehoorsaam, omdat dit afgedwing word deur die staatsapparaat, en deurdat die konstitusionele hof transformatisme as ‘n grondwetlike opdrag vertolk, al kom die woord nie in die Grondwet voor nie.

Onwerkbare en immorele wette word gehoorsaam omdat daar leidende mense is wat dit normaliseer, die immoraliteit daarvan ontken, die wette regverdig en verdedig, en dit selfs help afdwing. Diesulkes het so diep in hierdie staatsideologie ingekoop dat hulle nie eens agterkom of omgee dat hulle aandadig is aan die lyding van miljoene gewone mense weens die staatsverval, werkloosheid en geweldsmisdaad nie.

Die Franse denker Frédéric Bastiat verduidelik die “normaliteit” van hierdie abnormaliteit treffend soos volg: “Wanneer plundering ‘n lewenswyse word vir ‘n groep mans in ‘n samelewing, skep hulle vir hulself ‘n regstelsel wat dit magtig en ‘n morele kode wat dit verheerlik.”

Die praktyk waar daar aandele van arm pensioenfondslede gevat is en aan ryk BEE-magnate gegee word, roep nog ‘n stelling van Bastiat op: “Daar is mense wat dink dat plundering moreel regverdigbaar word sodra dit wettig gemaak word.”

Indien onregverdige wette afgedwing word, kom die hele regsorde in die gedrang. Dan is die wet nie meer die reg nie, maar, soos Alvin Toffler dit beskryf, net verbloemde geweld.

Skuldkompleks

Die verskoning van oorlogsmisdadigers dat hulle net bevele uitgevoer het, of dat hulle nie geweet het van wandade nie, is nie geldige verwere nie. Hulle móét geweet het, of hulle wóú nie weet nie. Dit geld veral mense soos oudregter Johann van der Westhuizen, wat steeds die mislukte en immorele staatsideologie van transformatisme normaliseer, regverdig, verdedig en dit selfs help afdwing het.

Daarmee saam probeer hy ‘n kollektiewe skuldkompleks om Afrikaners se nekke hang, deur die verlede subtiel aan Nazisme te koppel soos in Rapport van 29 Maart.

Dr. Victor Frankl, filosoof en sielkundige, was ‘n oorlewende van die Nazi-konsentrasiekampe, en was bekend om sy verwerping van die idee van kollektiewe skuld. Hy het gesê dat niemand verantwoordelik gehou kan word vir iemand anders se dade nie.

Daarby, om apartheid met die Joodse volksmoord te vergelyk, kom in werklikheid neer op ‘n gesofistikeerde onderspeling van die gruwelike massamoord op Jode.

Daarom moet ons leer uit die lesse van die geskiedenis. Goeie en regverdige wette is noodsaaklik vir ‘n vry en vreedsame samelewing.

Daarteenoor lei blinde gehoorsaamheid aan onregverdige wette tot die vertrapping van die reg van mense.

Kom ons luister na die waarskuwing van Thomas Sowell, wat gesê het: “As jy die regering genoeg mag gee om sogenaamde sosiale geregtigheid te skep, het jy dit genoeg mag gegee om despotisme te skep. Miljoene mense oor die wêreld heen het met hul lewens betaal omdat hulle daardie eenvoudige feit oor die hoof gesien het.”

Vryheid vereis immers ewigdurende waaksaamheid.

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Hoe Suid-Afrika gered kan word

Suid-Afrika het 32 jaar gelede met wêreldwye applous ʼn demokrasie geword, waarna ʼn goue toekoms vir die land voorspel is. Drie dekades later is daar ʼn wye ontnugtering met die uitkomste van ANC aan bewind, en staar die land regeringsgedrewe staatsverval in die gesig. ʼn Paar syfers som die toestand op:

  • Na die goue groeijare van die Mandela- en Mbeki-administrasies, het die land sedert 2007 twee verlore dekades beleef, met ʼn gemiddeld van 1% groei per jaar.
  • Die rand het 77% van sy waarde sedert 1994 verloor.
  • Werkloosheid het vanaf 20% in 1994 na 32% verhoog, met jeugwerkloosheid van meer as 60%.
  • Sowat 50% van die bevolking is afhanklik van staatshulp.
  • Daar is wydverspreide munisipale verval, met net 16% van stadsrade wat skoon oudits kry.
  • Die strafregstelsel is in ʼn krisis, met net 8% van geweldsmisdade wat uiteindelik tot skuldigbevindings lei.

Wat het verkeerd geloop?

Die vraag is eerstens wat het verkeerd geloop, en tweedens hoe kan dit reggestel word?

Die eerste fout was dat die ANC se historiese rigtingwyser eerder die Russiese rewolusie as die Japanse restourasie was. Die ANC se beleid is vandag nog amptelik ʼn “Nasionaal demokratiese rewolusie”, wat polities handel dryf as radikale transformasie. Die mikpunt was ʼn “ontwikkelingstaat” breedweg geskoei op die Chinese model, wat deur ʼn ekonomie gedryf moes word wat uit instellings in staatsbesit bestaan. ʼn Beleid van “kaderontplooing”  moes alle magsentrums onder ANC beheer bring. Die ontwikkelingstaat het misluk a.g.v. die verval van die meeste staatsmonopolieë oor elektrisiteit, spoorweë en hawens. Beheer deur kaders het hervoming prakties onmoontlik gemaak.

Tweedens was die ANC eerder ʼn gelykheidsbeweging as ʼn vryheidsbeweging. In plaas daarvan om armoede met ekonomiese groei aan te spreek, het die party herverdeling geprioritiseer en gelyke uitkomste nagestreef. Hierdie projek was meer daarop gerig om rykes armer te maak as om armes ryker te maak. Namate die ekonomie al hoe meer begin stagneer het, het die ANC al hoe meer teruggekeer na sy sosialistiese wortels deur al skerper herverdeling en al hoe meer staatsbeheer oor die ekonomie, water, minerale, grond, en onderwys. Hoewel die gereelde verkiesings nog vry en regverdig is, word vryheid in hierdie sentraliseringsproses al hoe meer ingeperk.

Derdens het die ANC ʼn staat wat geografies en demografies (12 amptelike tale) baie uiteenlopend is, as ʼn sentrale eenheidstaat instede van ʼn  federasie probeer regeer. Die ANC is sterk gekant teen federalisme omrede hulle mag sterker wil sentraliseer in plaas van versprei. Die uiteinde hiervan is ʼn land wat in vyf gebiede verdeel kan word: gebiede soos die opposisie beheerde Wes-Kaap wat goed regeer word; dié wat swak regeer word (ANC-beheerd); gebiede soos sekere middestede wat onregeerbaar is; gebiede wat glad nie regeer word nie (diep platttelands); en areas wat hulself regeer, soos privaat dorpe. Die land het dus nie net ʼn regeringsprobleem nie, maar ʼn bedelingsvraagstuk.

Die vierde fout was om Afrikaners uit te sluit en te vervreem. Terwyl die Gealieerdes net vier jaar na die Tweede Wêreldoorlog die Duitsers vanaf vyande na vennote in die heropbou van Europa behandel het, regeer die ANC 32 jaar na apartheid nog steeds teen Afrikaners. Hulle lewens word gereguleer met rassebepalings (onder die vaandel van regstelling) en deur grondwetlike bepalings oor skole en universiteite te verbreek. SA se grootste uitvoerproduk is hoëvlakvaardighede, werkskeppers en belastingbetalers. Afrikaners se belewing dat hulle vryheid al hoe meer bedreig word, word deur die ANC gerieflik as ʼn “terugverlang na apartheid” afgemaak.

Die vyfde fout is om Suid-Afrika se buitelandse beleid op grond van ideolo hgiese- en historiese gronde in plaas van nasionale belang te baseer. Die ANC-regering se toetrede tot Brics in 2010 was die voorloper van ʼn naderbeweeg aan lande soos China, Iran, Rusland en Kuba, en die verswakking in verhoudings met die VSA, Israel en ander Westerse moondhede.

Sosialisme

Terugskouend gesien, was die skeptiese stemme oor Suid-Afrika se toekoms uitgedoof deur die wêreldwye vreugde oor die 1994 “wonderwerk”. Francis Fukuyama van Stanford het byvoorbeeld gewaarsku dat: “South Africa’s constitutional democracy is a sort of foreign body that’s sitting on top of a society that’s not modernised in other respects.” Die spanning spruit onder meer daaruit dat die land ʼn sosiaal konserwatiewe bevolking, ʼn liberale Grondwet en ʼn linkse regering het. Hoewel die ANC ʼn “regering van nasionale eenheid” in 2024 gevorm het wat lede van die opposisie insluit, bepaal die ANC in praktyk steeds die nasionale beleid.

Fukuyama het reeds in 1993 teen sosialisme gewaarsku:

“The main obstacle to black social modernization in the future may well be the belief in socialism on the part of the ANC and its communist allies. Socialism has always presented itself as a higher and more progressive form of social organization than capitalism. But in the contemporary world, socialism has been revealed to be an obstacle to social and economic modernization – the hallmark of a certain kind of backwardness that needs to be overcome, just like illiteracy and superstition. The countries of Eastern Europe are now moving rapidly backward into the future, undoing the legacy of forty years of dictatorship and socialist planning. Let us hope that South Africa, as it makes the necessary transition to democracy, does not move forward into the past.”

Hervormings

Daar is nog hoop vir Suid-Afrika. Al kan die klein veranderings wat te min te laat is nog nie as grondige hervormings beskou word nie, is daar groen spruite sigbaar. Daar sal egter omvattende hervormings moet kom om die land blywend suksesvol te maak. Dit sluit onder meer in:

  • die bevryding van die ekonomie deur die staat se rol in die samelewing te verklein en onomwonde die privaat sektor in plaas van die staat as die enjin van die ekonomie te aanvaar – ʼn groeiende ekonomie bly die beste verskaffer van werk en is die beste gelykmaker, en die vinnigste manier om armoede te verklein;
  • die verandering in strategie van die regering vanaf ʼn ontwikkelingstaat na ʼn ontwikkelingsamelewing, met ʼn klem op die ontwikkeling van die land se mense;
  • die vervanging van sentralisme met federalisme deur die ANC – ʼn voorwaarde vir werklike demokrasie, vryheid en doeltreffende regering;
  • die vestiging van beter verhoudinge met die VSA deur buitelandse beleid wat in nasionale belang is, en wat minstens onverbonde is; en
  • die behandeling van Afrikaners as vennote deur die ANC om die land te herbou, asook die sluit van ʼn kultuurakkoord wat Afrikaners se grondwetlike regte respekteer.

 

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Flip Buys: Wat nodig is om armoede te troef

Ekonomiese groei het die afgelope drie dekades miljoene mense uit armoede help ontsnap. The Economist het selfs al die moontlikheid van die “einde van armoede” voorsien.

Die geskiedenis wys onomwonde dat daar net een manier is om armoede op te los en dit is ekonomiese groei. Die Nobelprys-wenner, Milton Friedman, het dit treffend gestel: “Daar is geen ander manier om die lot van gewone mense te verbeter wat by die produktiewe aktiwiteite kan kers vashou wat deur ’n vryeondernemingstelsel ontketen word nie.”

Geen sosialistiese regering se sogenaamde “pro-armoede” beleidsrigtings kon histories meer mense uit armoede lig as ’n groeiende vryemarkekonomie nie.

Sosialiste glo dat armoede altyd deur iemand anders veroorsaak word en deur iemand anders – die staat en die “rykes – opgelos moet word. Hulle vra nie: “Wat het ons verkeerd gedoen en wat moet ons nou reg doen nie?” Hulle vra: “Wie het dit aan ons gedoen en wat moet ons nou aan hulle doen?

Daarteenoor sê die Afro-Amerikaanse denker, Thomas Sowell: “Geen verduideliking vir armoede is nodig nie. Die mensdom het in armoede begin en duisende jare lank in armoede gebly. Wat ’n mens dus regtig moet weet, is wat dit is wat sommige lande en sommige groepe in lande in staat stel om voorspoedig te wees.”

Voorspoed en armoede

Die fokus moet dus meer op die oorsake van voorspoed as op die oorsake van armoede wees.

Sowell se standpunt is tereg dat “wat die armes die nodigste het, is om nie méér arm te wees nie”. “En hoe kan dit op groot skaal bewerkstellig word, anders as deur ’n ekonomie wat beduidend meer welvaart skep? Tog toon politieke linkses al lank ’n merkwaardige gebrek aan belangstelling in hoe welvaart geskep word. Wat hulle betref, bestaan welvaart op die een of ander manier en die enigste vraag is hoe om dit te herverdeel.”

Die ANC het al talle ekonomiese planne aangekondig, maar die uitkoms was bloot nog meer armoede en hoër werkloosheid. Die rede is dat politici en die staat nie welvaart kan skep nie en nie weet hoe om dit te doen nie. Volhoubare ekonomiese groei verg ’n omvattende en wel funksionerende ekostelsel, waarin alle komponente soos ’n magdom ratte in ’n masjien moet saamwerk om ’n ekonomie so vinnig te laat groei dat armoede prakties verdwyn.

Ekonomiese groeimodel

Die doel van enige ekonomie is om die per capita-inkomste van die burgery te verhoog sodat almal se lewenstandaard verbeter. Die ekonomie bestaan dus vir die mens en nie die mens vir die ekonomie nie. Die verhoging van almal se inkomste is egter net moontlik as elkeen se gemiddelde produksie hoër as hul verbruik is.

Daar is minstens 10 voorwaardes vir ekonomiese groei wat moet deel vorm van ’n ekonomiese ekostelsel en waarvan die meeste nie regstreeks ekonomies van aard is nie.

Die eerste voorwaarde is goeie regering. In ’n land soos Suid-Afrika bepaal die politiek die ekonomie en nie andersom soos in ontwikkelde state nie. So ’n regering moet betroubare munisipale dienste lewer wat as platforms vir ekonomiese groei kan dien. Verder moet die politieke leiers beleidsekerheid vestig, wat beleggersvertroue skep en die burgery se kulturele en persoonlike vryhede beskerm en respekteer. ’n Swak regering verarm die burgery terwyl die heersers in weelde leef.

Die tweede vereiste is behoorlike infrastruktuur soos elektrisiteit, water, paaie, hawens, lughawens en goeie optiese veselnetwerke.

Veiligheid is die derde vereiste en is onontbeerlik vir groeiende voorspoed. Op sy beurt is voorspoed net so belangrik vir veiligheid.

Vierdens volg die regsorde omdat enige ekonomie afhanklik is van ’n ordelike en wetsgehoorsame samelewing wat respek vir die oppergesag van die reg en eiendomsreg het. Die strafregstelsel moet soos ’n goed geoliede masjien werk, anders ly die reg van onskuldige mense én hul ekonomiese voorspoed daaronder.

Die vyfde vereiste vir ekonomiese groei behels die hele pyplyn van gehalteonderwys en -opleiding, vanaf kleuterskool tot by universiteit. Dit sluit skole, beroepsopleiding én voortgesette opleiding vir volwassenes in. Daar is ’n regstreekse verband tussen mense se vlak van opleiding en hul inkomste. Daarom is dit nodig om almal die kans te gee om hul volle vermoë te verwesentlik. Opleiding bly dié belegging met die hoogste opbrengs, het Friedman aangevoer.

Arbeid is die sesde vereiste. Die welstand van ’n land hang af van die welstand van sy werksmag. Om voorspoedig te funksioneer benodig ’n land ’n hoogs opgeleide, produktiewe en goed betaalde werksmag. Dit gee die land ’n mededingende ekonomiese voordeel en moedig sakelui aan om nog meer in die land te belê.

Vrye mark bied groter koek

“Wanneer die regering hoër lone aan sy werknemers betaal, is daardie hoër lone ten koste van die belastingbetaler. Maar wanneer werkers hoër lone deur die vrye mark ontvang, wanneer hulle verhogings ontvang omdat maatskappye met mekaar om die beste werkers meeding, omdat werkers met mekaar vir die beste werksgeleenthede meeding, geskied daardie hoër lone nie ten koste van iemand anders nie. Dit kan slegs voortspruit uit hoër produktiwiteit, groter kapitaalbelegging en vaardighede wat wyer versprei is. Die hele koek is groter – daar is meer vir die werker, die belegger, die verbruiker en selfs die belastinggaarder.” – Milton Friedman, Nobelprys-wenner

Geen ekonomie kan sonder kapitaal groei nie omdat kapitaal die brandstof is wat ’n land se ekonomiese enjin aandryf. Daarom is kapitaalinstellings soos banke, beleggingsfondse en ander finansiële instellings die sewende vereiste wat benodig word. Hulle verskaf nie net kapitaal nie, maar lewer ook ’n opbrengs vir beleggers soos lede van pensioenfondse. Terselfdertyd help dit
om die ekonomie te finansier en om mense se lewenstandaard te verhoog en hul welvaart te bou.

Die agtste vereiste is dat die belangrikste noodsaaklike dienste beskikbaar moet wees omdat mense nie daarsonder kan lewe nie. Dit behels onder meer goeie en bekostigbare mediese geriewe, bejaardesorg, maatskaplike ondersteuning en gemeenskapsontwikkeling. Sonder hierdie dienste word lewensgehalte negatief geraak.

Die negende vereiste gaan oor die ekonomie self. Die bestanddele van ’n suksesvolle ekonomie is goeie beleid, min regeringsinmenging, ’n kultuur van ondernemerskap, gesonde mededinging, lae inflasie, waarde vir belasting, hoë vlakke van besparing en belegging, sekerheid by die produsent dat die vrug van sy arbeid nie afgevat kan word nie en die volhoubare benutting van hulpbronne.

Die tiende en laaste vereiste is kultuur. Die ekonomiese historikus van die Harvard-Universiteit, David Landes, sê in sy The Wealth and Poverty of Nations, wat oor vyf eeue se ekonomiese geskiedenis van die wêreld handel, dat kultuur die belangrikste rede is vir die verskil in welvaart of armoede in lande en gemeenskappe. Politiek en ekonomie is stroomaf van kultuur. Daarom
moet ’n ekonomiese kultuur gekweek word waar die bevolking verstaan hoe ’n vrye ekonomie werk en wat dit vereis.

Welvaartstelsel
Die toekomskundige Alvin Toffler het in sy boek, Revolutionary Wealth, gesê: “Geen welvaartstelsel bestaan in afsondering nie. ’n Welvaartstelsel is net een kragtige komponent van ’n nog groter makrostelsel, waarvan die ander dele – maatskaplik, kultureel, godsdienstig en polities – in voortdurende terugvoering daarmee en met mekaar verkeer. Saam vorm hulle ’n beskawing of lewenswyse wat min of meer met die welvaartstelsel versoenbaar is.”

’n Land se politieke ideale moet ondersteun word deur ’n ekonomiese ondernemingsgees om suksesvol te kan wees. Hierdie soort ekonomiese leierskap is treffend verwoord deur die Oostenrykse ekonoom, Joseph Schumpeter, wat die rol van entrepreneurs beklemtoon het.

“Die entrepreneuriese soort leierskap het niks van die glans wat ander soorte leierskap kenmerk nie. Dit bestaan daaruit om ’n baie spesiale taak te onderneem wat slegs in weinige gevalle tot die verbeelding van die publiek spreek. Dit lewer ’n diens waarvoor volle waardering gespesialiseerde kennis van die saak verg,” sê hy.

“Dit word nie sommer so maklik verstaan deur die breë publiek soos ’n politikus se geslaagde toespraak of ’n generaal se oorwinning op die slagveld nie.”

Dit is goed en nodig dat ’n volk en ’n land sy politieke, militêre en kulturele leiers vier. Dit is net so nodig om terselfdertyd erkenning te gee aan sy ekonomiese ekostelsel, kan Suid-Afrika se ekonomie vinnig groei om ’n behoorlike lewe aan sy mense te verseker. Die regering het nie meer verskonings nie: Die geskiedenis se resepte van sukses én mislukking is daar vir almal om uit te leer.

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.