Die reg om self te kan besluit

In 1994 het Suid-Afrika ʼn ingrypende ordeverandering beleef. ʼn Antwoord moes gevind word vir ʼn land met ʼn buitengewoon diverse samelewing.

ʼn Nuwe Grondwet is onderhandel, individuele regte is verskans, maar die groot tekortkoming was die gebrekkige beskerming van ons diverse kultuurlandskap en spesifiek minderheidsgemeenskappe.

Die unitêre model, wat sentralisering bó desentralisering verkies, was terugskouend waarskynlik die minste geskikte stelsel vir so ʼn diverse land.

Wat dikwels vergeet word, is dat daar destyds sterk stemme vir ʼn federale oplossing was. Hierdie denkrigting het ondersteuning geniet binne en buite die Nasionale Party, onder akademici, internasionale drukgroepe en selfs uit swart geledere. Die huidige leierskorps van die Solidariteit Beweging het hulle ook met dié denkskool vereenselwig.

Daar is gepraat oor minderheidsbeskerming, magsdeling, streeksoutonomie en die voorkoming van totale sentralisering – minder staat en meer gemeenskap.

Vandag word dit dikwels voorgehou asof daar slegs twee moontlikhede was: die uitgediende apartheidstelsel of die huidige unitêre stelsel. Indien jy krities teenoor die huidige bedeling staan, word jy maklik daarvan beskuldig dat jy bloot die ou bestel klakkeloos wou beskerm.

Namate Suid-Afrika al meer sentraal bestuur word, word daar al meer besef dat die huidige Suid-Afrikaanse bestel ernstige gebreke toon. ʼn Alternatief kon destyds bedink word – en kan vandag steeds bedink word.

Dwarsoor die wêreld bestaan daar uitstekende federale modelle vir die bestuur van diverse samelewings.

ʼn Groep van die Solidariteit Beweging was onlangs op ʼn studietoer in Europa om federalisme verder te ondersoek. Federalisme is ʼn volkome normale begrip in groot dele van die wêreld. In Vlaandere word dit selfs beskryf met ʼn woord wat vir ons bekend klink: selfbeskikking.

Afrikaners vorm deel van die ryk Westerse tradisie. Daarom was Nederland ons eerste bestemming – nie vanweë Nederland se federalisme nie, maar om weer Afrikaners se verbintenis met die Westerse beskawingstradisie te onthou.

Amsterdam is sekerlik nie die enigste voorbeeld nie, maar wel een van die duidelikste van hoe die Weste se invloed na die Afrikaner deurgespoel het. Ons was in die vertrek waar die besluit geneem is om ʼn verversingstasie aan die Kaap te vestig – die geboorte-oomblik van ʼn volk in die hart van die Westerse handelswêreld.

Die hele Europa getuig van ʼn ryk beskawing waarvan ons deel is. Ons is nie Europeërs nie – ons is van Afrika – maar ons is onteenseglik ook deel van die Westerse tradisie.

België: parlemente vir verskillende gemeenskappe
Ons tweede stop was België – ʼn land met ʼn lang geskiedenis van interne konflik. België bestaan uit drie streke: Vlaandere, ʼn Franse streek en ʼn klein Duitse streek. Elke streek het sy eie parlement waarin plaaslike besluite geneem word, terwyl ʼn federale parlement oor nasionale sake besluit. Selfs binne die federale parlement bestaan daar veto’s vir die onderskeie taalgroepe.

Switserland: radikale demokrasie van onder af
Ons derde bestemming was Switserland met sy kantonstelsel. In Genève het ons eers ʼn toer op die spore van die Reformasie meegemaak. Binne die Westerse tradisie het die Reformasie ʼn enorme invloed op die vorming van Afrikaners gehad: uit genade, deur Christus, tot dankbaarheid.

Dit was ook in Genève waar ons ʼn klag teen die Suid-Afrikaanse regering se rassebedeling by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) van die Verenigde Nasies ingedien het.

In Zürich het ons ʼn lesing oor die Switserse kantonstelsel bygewoon. Switserland bestaan uit 26 kantons – byna soos 26 klein lande – wat elk hul eie unieke behoeftes bestuur. Daar is vier tale: Duits, Frans, Italiaans en ʼn klein taal, Romaans. Die kantons is grootliks rondom dié taalgemeenskappe georganiseer. Switserland maak op plaaslike, kantonnale en federale vlak van referendums gebruik. Besluitneming geskied van onder af, met mag wat oorspronklik by gemeenskappe lê en dan opwaarts vloei.

Suid-Tirool – die reg om selfte besluit
Ons laaste stop was Suid-Tirool, ʼn noordelike provinsie van Italië. Suid-Tirool, oorspronklik ʼn Duitse streek, is ná die Eerste Wêreldoorlog by Italië ingelyf. Skielik het ʼn Duitse gemeenskap van sowat 500 000 mense hulle binne ʼn Italiaanse staat bevind.

Ná ʼn lang stryd het die streek uiteindelik ʼn groot mate van outonomie verkry. Hulle kultuur word beskerm en hulle ontvang 90% van hul belastinggeld terug.

Toe ek vir ʼn Suid-Tiroler vra waarom outonomie vir hulle so belangrik is, was sy antwoord eenvoudig: “Dit gaan oor die reg om self te kan besluit.”

Federalisme – waarvoor die Solidariteit Beweging ook staan – is dus niks buitengewoons nie. Dit is ʼn normale en dikwels noodsaaklike manier waarop volke, tale en kultuurgemeenskappe wêreldwyd hul voortbestaan verseker.

Die Europese model onder druk
Daar is egter iets wat baie Europese lande nie verreken het nie: massa-immigrasie van mense wat kultureel en godsdienstig dikwels nie wil integreer nie. Benewens die groot migrasiegetalle is daar ook die hoë bevolkingsgroei binne sekere immigrantegemeenskappe. In ʼn Turkse kafee sien ʼn mens selfs stootwaentjies te koop.

Europa se hele model word ontwrig. Tot só ʼn mate dat ʼn Nederlandse joernalis vir ons gesê het: “Ons is binnegeval”. ʼn Vlaamse politikus meen dat hulle teen 2040 ʼn minderheid in hul eie land kan wees. Switserland probeer desperaat om deur middel van ʼn referendum hul bevolking op 10 miljoen te beperk. ʼn Suid-Tiroler beskryf die immigrasiekrisis as vernietigend.

Voeg hierby Europa wat grootliks sy Christelike geloof en beskawingsanker verloor het. Sonder daardie ankers kan weerstand teen nuwe kulturele druk moeilik gebied word. Dit is byna soos Simson wat sy hare verloor het – ʼn tragiese beeld van krag wat ongemerk verdwyn het. Baie van die nuwe immigrantegemeenskappe beskik juis oor sterk en selfversekerde geloofsidentiteite wat die vakuum van sekularisme vul.

Ek keer terug na Suid-Afrika met die indruk van ʼn Europa in ʼn krisis. Ek vertrou dat Europeërs weer die rykdom van die Westerse tradisie sal herontdek. Soos ʼn kollega dit gestel het: “Hulle sal weer hul boekrolle moet vind”.

Gemeenskapsfederalisme: Ons sal self
Dit bring my terug by die Solidariteit Beweging se model van gemeenskapsfederalisme, saamgevat in die woorde: “Ons sal self”. Ons het oplossings gevind binne die werklikhede van demografiese verandering. Ons Europese gashere was baie geïnteresseerd in dié model. Ons het reeds sekere uitdagings verreken wat moontlik nog vir hulle voorlê. Ons het minstens planne. Party van hulle het selfs hoop in ons benadering raakgesien.

Ek is steeds van mening dat ʼn federale politieke bestel ook vir Suid-Afrika ʼn beter oplossing sou wees – en steeds kan wees. Die Solidariteit Beweging se model van gemeenskapsfederalisme is juis kragtig omdat ons self beheer daaroor het.

Die krag van “ons sal self” sluit direk aan by die woorde van die Suid-Tiroler: “Dit gaan oor die reg om self te kan besluit”. Dit is reg, dit is normaal en dit is vryheid.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Wie is die Solidariteit Beweging regtig?

1994 was ‘n ordeverandering vir Suid-Afrika. Die verandering het talle instellings, wat nie die oorgang kon maak nie, vernietig. Die Suid-Afrikaanse landskap sou vir altyd anders lyk.

Instellings wat aan die vorige orde wou vasklou, het eenvoudig verdwyn. Een so ‘n instelling uit die vorige bedeling was die Mynwerkersunie (MWU).

Die MWU was ‘n ou instelling met ‘n ryk geskiedenis en is reeds in 1902 gestig. Soos talle burgerlike organisasies en politieke partye was die MWU in ‘n oorlewingskrisis. Dit was geldelik bankrot en bankrot aan idees.

Binne die nuwe werklikheid
In 1997 is Flip Buys as hoofsekretaris van die MWU verkies. Tydens sy eerste kongres het hy gesê die MWU moet ʼn beweging word. Hy was bekommerd oor die ANC se sentralistiese meerderheidsideologie en wat dit vir staatsbestuur en minderheidsbeskerming kan inhou.

Buys het die bankrot-MWU binne die ná-1994-werklikheid geplaas. Hy het die MWU weggelei van rasdefinisies en dit omskep in ‘n kultuur- en taalinstelling wat beskerming geniet binne die nuwe grondwetlike bedeling. Artikels 29, 30 en 31 van die Grondwet gee aan taal- en kultuurgemeenskappe die reg om eie instellings te vestig, insluitende onderwysinstellings.

Buys het reeds in 1997 besef dat dit noodsaaklik is om van grondwetlike ruimtes gebruik te maak, maar dat instellings daarvoor nodig is. Anders sou artikels 29, 30 en 31 bloot papierartikels bly, sou die sentralistiese staat die samelewing versmoor en sou minderhede se ruimtes verdwyn.

Sy kommer is later reg bewys. Die staat het al meer sentralisties geraak en die grondwetlike ruimtes vir gemeenskappe is verklein tot so ‘n mate dat diegene wat daarop aanspraak maak, as ongrondwetlik beskou word.

Afrikaners gaan nêrens heen nie
Flip Buys se 1998-aankondiging van ʼn Beweging was nie net binne die nuwe grondwetlike werklikheid nie, maar ook ʼn aankondiging dat Afrikaners nêrens heen gaan nie. Baie het gewonder of Afrikaners in die nuwe werklikheid wil bly. Hy het aangekondig dat Afrikaners ruimtes gaan skep om juis hier, aan die suidpunt van Afrika, te bly.

Vandag is die Solidariteit Beweging ʼn netwerk van tientalle selfstandige instellings met ongeveer 600 000 betalende lede en nog sowat 100 000 gebruikers van verskillende dienste. Indien families ook in ag geneem word, is dit ʼn reusebeweging. Dit is nie ʼn elite beweging nie, maar ʼn beweging wat deur gewone werkende mense begin is.

Alhoewel dit by verre die grootste organisasie in die Afrikaner- en Afrikaanse gemeenskap is, maak die Solidariteit Beweging nie aanspraak daarop dat hy namens alle Afrikaners praat nie, maar verteenwoordig die belange van sy lede en ondersteuners.

Die pad van die Beweging

Werk
Die eerste stap was om die ou bankrot-MWU weer sterk te maak. Finansiële stelsels is verander, werwingsveldtogte is begin en nuwe personeel is aangestel. In 2001 is die naam verander na Solidariteit. Die ou MWU het ongeveer 20 000 betalende lede gehad en vandag is Solidariteit meer as tien keer groter en een van Suid-Afrika se grootste vakbonde. Solidariteit het ʼn skuif gemaak om nie net in werksplekke te organiseer nie, maar ook in beroepe en het vandag beroepsnetwerke in al die groot beroepe. Solidariteit het ook deur tegnologie betrokke geraak by werkfasilitering. Sowat 4 000 werkgewers het reeds 14 000 poste op Solidariteit se platform geplaas.

Maatskaplike ontwikkeling
Binne die Mynwerkersunie is reeds in 1949 ʼn maatskaplike been, Helpende Hand, begin. In 2001 is besluit om Helpende Hand ʼn selfstandige instelling te maak. Daar is op klein skaal begin om studente met studies te help en ʼn eerste voedingsprogram by ʼn skool in Vanderbijlpark te loods.

Solidariteit-lede is gebel en gevra om by te dra tot die Helpende Hand-fonds. Daar was groot entoesiasme. Later het elke Solidariteit-lid R5 per maand vir studiehulp bygedra. Hierdie jaar is meer as R60 miljoen in die vorm van studiehulp aan studente uitbetaal.

Solidariteit Helpende Hand het nou 230 takke en dorpsverteenwoordigers in 14 streke. Daar is 14 streekmaatskaplike werkers en altesaam 30 maatskaplike werkers.

Daar is sewe Ons Plekke met naskoolse sentrums en kleuterskole vir behoeftige kinders. Drie duisend dogters ontvang maandeliks sanitêre produkte, 8 000 kinders kry daagliks kos en 2000 kinders ontvang jaarliks skooltassies en skryfbehoeftes. Solidariteit Helpende Hand het ook ʼn Opleidingsinstituut begin wat tuisversorgers oplei.

Opleiding en onderwys
Daar is besef dat opleiding die hart van enige Beweging is wat ernstig oor die toekoms is. Die bou van opleidingsinstellings is duur en word gewoonlik swaar deur die staat gesubsidieer.

Solidariteit het begin met ʼn landswye toer na fabrieke, myne, skole en ander werksplekke en het lede gevra om elk R10 tot ʼn Boufonds by te dra. Dit is met hierdie R10de waarmee Sol-Tech en later Akademia en Bo-Karoo Opleiding begin is.

Sol-Tech
In 2007 is Sol-Tech met 64 elektriese studente in Solidariteit se kantore begin. Vandag is daar ongeveer 3 000 studente in verskillende fases van opleiding.

Die rigtings sluit vandag in: dieselwerktuigkunde, auto-elektries, elektries, meulmaker, megatroniese tegnikus, pas en draai, gereedskapmaker, sweis, haarkappery, vroeë kinderontwikkeling en inligtingstegnologie.

Sol-Tech beskik oor wêreldklas toerusting, ʼn wêreldklas kampus en koshuise.

Akademia
Akademia is in 2012 met 40 studente begin. Aanvanklik is slegs ʼn telematiese aanbod gebied. Dit het ook in Solidariteit se kantore begin. Sentrums is oor die land gevestig.

In 2021 is ʼn opkampusaanbod met 111 studente in Centurion begin. Vandag is daar sowat 4500 studente by Akademia.

Daar is nou vier fakulteite: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe en Opvoedkunde. ʼn Groot nuwe kampus word gebou en die fakulteite en programaanbod gaan ingrypend uitgebrei word.

Bo-Karoo Opleiding
In 2019 is die eerste vyf voltydse studente by Bo-Karoo Opleiding op Orania ontvang. Die instelling het nou sowat 250 studente, ʼn tweede inname vir die jaar word beplan en dit groei met 40% per jaar. Nuwe werkswinkels is gebou en verdere uitbreidings volg binnekort. Daar is pragtige studenteverblyf, ʼn proefplaas en ʼn klein kampus in aanbou. Die twee grootste bene van BKO is tegnies en landbou en die programaanbod word tans ingrypend uitgebrei.

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum
Afrikaanse skole en skoolonderwys in die algemeen het onder groot druk gekom. Die aantal Afrikaanse skole het van 1 800 tot 900 afgeneem. In 2015 is die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) gestig. Vandag is bykans 50 000 Afrikaanse kinders op Wolkskool. Sowat 20 000 onderwysers maak van Wolkskool gebruik. Jaarliks word 7 000 onderwysers opgelei en daar is 250 lid-skole van SOS.

Daar is ook besef dat onafhanklike skole gebou moet word. ʼn Konsessiemodel, met die naam Gimnasium-skole, gaan gemeenskappe in staat stel om eie skole te bou. Die eerste skool word binnekort gebou.

Solidariteit Leer
Voortgesette opleiding is ook van kritieke belang. Op Solidariteit se platform word 200 voortgesette leerkursusse aangebied.

Eiendomsontwikkeling
Die instellings van die Solidariteit Beweging is met R10de en klein bydraes van lede begin. Om ʼn kampus te bou, is klein skenkings egter nie voldoende nie.

Die eiendomsmaatskappy Kanton is in 2019 gestig. Die doel van Kanton is om leefruimtes vir Afrikaans te bou deur ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal te fasiliteer.

Die eerste groot projek was die Sol-Techkampus, gevolg deur die Sol-Tech-koshuise.

Die grootste projek tot dusver is die Akademia-kampus. Dit is ʼn R3,2 miljardprojek waarvan die eerste fase R1,2 miljard beloop. Dit het reeds afgeskop en beleggers word gewerf.

Sol-Tech en Akademia is die huurders en beleggers weet daar is langtermyn, betroubare huurders.

Deur ʼn goeie kommersiële belegging help beleggers ook om kulturele ruimtes te bou. Daar word ook beplan om in die toekoms ʼn Akademia-kampus in die Wes-Kaap te bou asook skole, binne die groter Gimnasium-groep.

Burgerregte, veiligheid en munisipale dienslewering
AfriForum is in 2006 begin. Die belangrikheid van die beskerming van burgerregte is vroeg besef en AfriForum het reeds verskeie hofsake gewen. AfriForum is egter in die eerste plek ʼn gemeenskapsorganisasie en wil gemeenskappe sterk maak.

AfriForum het 10 000 vrywilligers, 165 takke en 177 buurtwagte oor die land. Daar word landswyd gehelp met munisipale dienste oor ʼn wye front, tot voordeel van die hele gemeenskap.

Veiligheidstrukture maak gemeenskappe oor die hele land veiliger. Daar is op munisipale en veiligheidsvlakke samewerking met owerhede op verskeie vlakke, insluitend metro’s, munisipaliteite en die polisie.

Kultuur en media
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het met al hulle werksaamhede ook uiteindelik by die Solidariteit Beweging ingeskakel om die rol van kultuur- en erfenisbewaring te help vervul. By die AfriForum Teater word deurlopend Afrikaanse produksies aangebied.

Maroela Media is gestig en is nou een van die land se grootste mediahuise wat ook inhoud aan tientalle gemeenskapsradiostasies lewer.

AfriForumTV het 200 000 intekenaars. Die instellings van die Solidariteit Beweging het ʼn reuse-sosiale mediateenwoordigheid, met byvoorbeeld meer as 1,8 miljoen volgelinge op Facebook alleen.

Selfstandige gemeenskappe
Vir die Solidariteit Beweging is sterk, selfstandige gemeenskappe noodsaaklik. Die Beweging volg ʼn konsentrasiestrategie wat die natuurlike migrasie van Afrikaners ondersteun en gemeenskapsinfrastruktuur vestig.

Dit sluit werk-, maatskaplike, veiligheids-, dienslewerings-, kulturele en onderwys- en opleidingsondersteuning in.

AfriForum is ook betrokke by selfstandigheidsprojekte by talle tradisionele gemeenskappe en by ʼn netwerk van tradisionele gemeenskappe. AfriForum ondersteun ook die Kaapse Forum.

AfriForum vestig in ankergmeenskappe plaaslike gemeenskapforums wat as platform dien vir skole, kerke en ander gemeenskaporganisasies om mekaar en die gemeenskap te versterk,

Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy is gestig om te help om ʼn selfstandige gemeenskap in die Bo-Karoo te vestig. Dit is deel van die groot konsentrasiestrategie en die versterking van ankergemeenskappe landswyd.

Ander sake-inisiatiewe
Om die Beweging kommersieel te laat funksioneer, is daar verskeie sake-inisiatiewe. Dit sluit in ʼn finansiële diensmaatskappy, Konnek, met ʼn fokus op korttermynversekering, lenings en beleggingsadvies.

Daar is ook ʼn spysenieringsmaatskappy, Spys, wat spyseniering vir personeel en studente doen. Verder is daar die Solidariteit Beleggingsmaatskappy, die AfriForum Beleggingsmaatskappy en Helpende Hand-sake wat 127 tweedehandse winkels bestuur.

Daar is ook ʼn Solidariteit Regsfonds en Solidariteit Boufonds waartoe mense kan bydra.

Hoe word die Beweging befonds?
Die Solidariteit Beweging word nie op enige vreemde manier befonds nie. Die Beweging bestaan uit kulturele entrepreneurs wat deur streng dissipline en gewone sakebeginsels bestuur word. Die bedryfsbegroting van die Beweging is so groot soos dié van ʼn mediumgrootte maatskappy op die Johannesburgse Effektebeurs. Die korporatiewe bestuur van die instellings is dus streng.

Die ledeorganisasies word deur ledegeld befonds. Oorgangsfinansiering vir die oprigting van instellings word uit skenkingsfondse en opbrengste uit finansiële dienste befonds.

Elke instelling het sy eie unieke finansiële enjin. Studente is byvoorbeeld die grootste befondsers van die opleidingsinstellings, advertensies befonds Maroela Media, en tweedehandse winkels befonds Solidariteit Helpende Hand. Kanton, wat verantwoordelik is vir eiendomsontwikkeling, insluitend kampusse, werf aandeelhouers op ʼn kommersiële grondslag.

Wie besit wie en wat?
Die instellings van die Solidariteit Beweging word belyn binne die Solidariteit Beweging Trust. Die naam van die Trust dui bloot daarop dat die groter Beweging uit Solidariteit ontstaan het.

Solidariteit of die Trust besit egter nie die instellings van die Beweging nie. Al die ledeinstellings en opleidingsinstellings is maatskappye sonder winsbejag. Daar is dus geen aandeelhouers wat geld uit ledeorganisasies verdien nie. Alle inkomste fokus op die uitvoering van ledeorganisasies se doelwitte.

Direkteure moet toesien dat elke instelling in diens van sy missie en die gemeenskap funksioneer.

Solidariteit het ook ʼn netwerk van vriende en vennote wat insluit die landbouorganisasie Saai, die organisasies van die Afrikaner Leiersnetwerk, ander gemeenskapsleiers en gemeenskapmedia. Solidariteit is nie betrokke in die partypolitiek nie, maar het goeie verhoudings met verskeie politieke partye wat die belang van die Beweging se lede beskerm.

Alhoewel die Solidariteit Beweging gereeld in dispuut met die regering is, is ons lief vir die land. Wanneer ons met die regering bots, is dit ter wille van die land. Ons is hier om te bly, en daarom sal ons soms veg en baie bou. Ons is nie van die regering afhanklik vir ʼn toekoms nie. Daarom het ons hoop, want ons sal self.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Krag van gemeenskap, nie mag van sameswering

Talle kritici probeer die Solidariteit Beweging se reusesukses vandag met samesweringsteorieë verklaar; hulle aanvaar daar moet een of ander groter mag hier agter sit.

“Hulle dínk nie eers daaraan dat ʼn gemeenskap dalk sukses kan bereik deur hard te werk, slim te werk en bloot die regte ding te doen nie.”

Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, is die politieke idee waarvoor hulle in die 1990’s van links én regs gekasty is, die einste idee wat die Beweging se sukses die afgelope dekades help verseker het.

“En daardie idee is federalisme,” het Hermann gesê in ʼn onderhoud met Maroela Media oor die pad wat hy die afgelope 29 jaar gestap het – vanaf organiseerder by die destydse Mynwerkersunie (MWU) in 1997 tot uitvoerende hoof van Solidariteit in 2026.

“Ons was in die meer konserwatiewe skool van denke wat geglo het in federalisme as antwoord op die politieke oorgang wat Suid-Afrika in die 1990’s moes maak.”

Hierdie idee is destyds van alkante gekritiseer; enersyds deur diegene wat gemeen het SuidAfrika moes bly soos dit was en andersyds deur diegene wat gemeen het ʼn sentrale eenheidstaat is die toekoms.

Hoewel die 1990’s uiteindelik ʼn relatief gladde oorgangstydperk was, het dit talle Afrikanerorganisasies in ‘n krisis gelaat, verduidelik Hermann.

“Daar val die twee Afrikaner-politieke partye, en die georganiseerde Afrikaner-wêreld is in ʼn politieke krisis. Nie net die MWU nie, maar talle Afrikaner-organisasies. ʼn Klomp van hulle was in die ou Afrikaner-politiek vasgeverf, baie as stutorganisasies van die NP of KP.”

Volgens Hermann was die MWU in ʼn besonder moeilike posisie, omdat hulle op daardie stadium nie net bankrot aan geld was nie, maar ook aan idees.

“Die MWU was redelik aan die regterkant van die politieke spektrum, en ’n groot deel van hulle bestaansrede was om die oorgang na ʼn nuwe bedeling te probeer stuit. Hier gebeur die verandering, wat die organisasie grotendeels sonder ʼn bestaansrede gelaat het.”

Dit was teen dié agtergrond wat Flip Buys in 1997 tot hoofsekretaris van die MWU verkies is en ʼn nuwe era aanvang geneem het. Buys het reeds op die kongres waartydens hy verkies is melding gemaak dat die vakbond uiteindelik omvorm en uitgebrei moet word tot ʼn beweging van taal- en kultuurinstellings om Afrikanerbelange en hul plek in die nuwe bedeling te beskerm en te bevorder.

“Dít was hoekom ek destyds by die MWU aangesluit het. Ek het nie die [gebroke] instelling gesien nie, maar Flip se droom.”

So het Hermann, Buys en enersdenkendes wat by die organisasie aangesluit het nooit weggestap van hulle ideaal van federalisme nie. Omdat daar op die ou end nooit ʼn federalistiese politieke bestel tot stand gekom het nie, het die MWU, later Solidariteit en uiteindelik die Solidariteit Beweging bloot ʼn ander soort bestel gaan bou waaroor hulle wel beheer het.

“Die een waaroor ons beheer het, is gemeenskapsfederalisme waar ʼn gemeenskap besluit om sélf van onder af federalisme uit te bou deur besluitneming tot op die laagste moontlike vlak neer te sit.”

Hermann beskryf dít as Buys se “visie anderkant die woestyn”; Solidariteit se antwoord op die politieke vraagstuk van die tyd. ʼn Idee wat aanvanklik ongewild was, maar oor die afgelope 29 jaar reusesukses in die praktyk behaal het.

“Vandag het talle mense samesweringsteorieë dat om só suksesvol te wees, daar een of ander mag moet wees. Mense dink nie eers daaraan dat dit net die werk van suksesvolle kulturele entrepreneurs kan wees nie.”

“Mense moet ons eerder erkenning gee vir ons insig dat daar federalisme moes wees as wat hulle ons daarvoor kritiseer. Boonop werk die mense wat ons vandag steeds kritiseer se bestel [van sentrale eenheidsregering] glad nie!”

Dit was so eenvoudig soos dat ons bloot gekyk het na die werklikhede voor ons, hoe ʼn gemeenskap hiermee kan omgaan en ʼn moontlike antwoord op die werklikheid van sy tyd kan bied, verduidelik Hermann.

Dit is egter makliker gesê as gedaan.

“Ons het nie die staat se ondersteuning of geld gehad nie. Daar was nie ʼn instaatstellende statutêre omgewing nie. Ons het dus met ons gemeenskapsinstellings begin. Agter dié instellings is steeds ʼn dieper politieke idee van hoe ʼn ander bestel kan lyk ten spyte van die mislukte eenheidstaatsmodel wat ons nou sien.”

ʼn Instelling vir elke gemeenskapsfeer waarin breër Afrikanerbelange beskerming en bevordering verlang.

Om só ʼn groot versameling instellings egter goed te bestuur en te bedryf, is federalisme ook in die organisatoriese karakter ingebou – te vind in die doel én middele van die Solidariteit Beweging.

“So is die Beweging ook federaal van aard; met instellings wat soveel moontlik selfstandigheid het, maar steeds in verbondenheid met mekaar staan.”

Die samebindende ideaal?

“Ons wil ʼn toekoms aan die suidpunt van Afrika hê waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan voortleef. Ons bou dit vanuit ʼn Christelike grondslag en fokus op die Afrikaanse taal en Afrikanerkultuurgemeenskap spesifiek. Tussenin het instellings vryheid, hul eie kultuur, eie manier van doen en eie missie.”

Dit is volgens Hermann hoe die breër Beweging, met die hulp van gewone mense, gegroei het tot wat dit vandag is.

Nie met die mag van sameswering nie, maar met die krag van gemeenskap.

 

Geskryf deur die Maroela Media redaksie.

Flip Buys betree ná 29 jaar nuwe fase

In 1997 is Flip Buys op 34-jarige ouderdom verkies tot hoofsekretaris van die destydse Mynwerkersunie, wat later Solidariteit sou word. Sedertdien sit Buys op twee stoele: aan die een kant as uitvoerende hoof van die vakbond en aan die ander kant as voorsitter van die sambreelorganisasie die Solidariteit Beweging.

Nou, ná 29 jaar maak Buys klaar by die vakbond Solidariteit, die organisasie waaruit alles gebore is.

“Aan die een kant tree ek uit by die vakbond, sodat ek kan aantree by die Solidariteit Beweging,” het Buys in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Voortaan gaan Buys dus net fokus op voorsitterskap van die Solidariteit Beweging, wat onder meer insluit organisasies soos Solidariteit, AfriForum, die Solidariteit Helpende Hand, Sol-Tech, Akademia en Maroela Media.

Met sy formele en uitvoerende pligte by die vakbond wat tot ʼn einde kom, gaan hy een van die twee hoede wat hy tot dusver gedra het, neerlê. Die Solidariteit Beweging-hoed bly, die rol waarvoor hy buitendien meer algemeen bekend is.

“Dirk Hermann is deur die Solidariteit-hoofraad aangewys as my opvolger as uitvoerende hoof. [Hy] het vir ʼn lang tyd buitendien reeds waargeneem as bestuurshoof, wat beteken die oorgang is glad en goed vooruitbeplan.”

“Ná omtrent 30 jaar het ek darem al my kant gebring aan die vakbondkant,” sê Buys met glimlag.

“Dit is ʼn groot voorreg om te kan sê die vakbond is in ʼn goeie toestand en ons het ʼn goeie hoof wat daarop fokus, dat ek kan fokus op die Beweging en wat daarmee saamgaan.”

Dié groot nuwe fase waarin die Solidariteit Beweging is, met die omvang van aktiwiteite wat oor die jare heen aangeneem is, is deel van ʼn organisatoriese versnelling wat volgens Buys meer toegewyde aandag nodig het.

“Met die bou van die verskillende Bewegingsinstellings, wat altyd die doel was, het dit naderhand onmoontlik geword om op albei stoele te bly sit, en dit is waarom besluit is om die rolle te skei sodat beide in hul eie reg vervul kan word.”

Dit is ʼn reuse-organisasie en gebeur nie vanself nie, verduidelik Buys.

Reeds op die kongres waar Buys in 1997 verkies is, het hy daarvan melding gemaak dat die vakbond uiteindelik uitgebrei moet word tot ʼn beweging van taal- en kultuurinstellings met die breë oogmerk om Afrikanerbelange en hul plek in die nuwe bedeling te beskerm en bevorder.

Sedertdien het die Beweging inderdaad gegroei tot bykans 50 instellings met meer as 570 000 lede.

Omdat die vakbond Solidariteit as moederinstelling die afgelope dekades in ʼn groot mate nog die enjin van die breër sambreelorganisasie was, met talle gedeelde dienste ter wille van optimalisering, was daar nog heelwat verweefdheid tussen Bewegingsinstellings. Dit is ook die rede waarom Buys by die vakbond aangebly het in die jare selfs ná die Solidariteit Beweging as breër beweging vorm begin aanneem het.

“Namate die ander organisasies gegroei het, het hulle egter selfstandigheid en outonome uitvoerende vermoë ontwikkel wat die Beweging in hierdie nuwe fase inneem.”

Buys verwag ʼn gladde oorgang van leierskap in Solidariteit, omdat hy en Hermann reeds jare saamwerk en met weldeurdagte opvolgbeplanning die afgelope jare besig was met ʼn stelselmatige oorhandiging.

“Werksgewys gaan daar [dus] nie veel verander nie, maar verantwoordelikheidsgewys [laat dit my] met een groot bestuursverantwoordelikheid minder. Ek is baie dankbaar dat daar iemand soos Dirk is aan wie die stokkie oorgegee kan word.”

Goeie opvolgbeplanning het volgens Buys ʼn groot rol in die Beweging se ontwikkeling tot dusver gespeel.

“Die finale toets vir leierskap is dikwels die opvolger. Die kuns is nie daarin om ʼn span te bestuur nie, maar om ʼn span te bou; om leiers te versamel wat leiers rondom hulle versamel. Dit is hoe ʼn mens organisatoriese diepte kry.”

Die Solidariteit Beweging wat vandag bestaan, is daarom ook nie oornag of sonder moeite gebou nie.

“Ons het destyds nie die geld, uitvoerende vermoë, leiers of mense gehad nie, en moes dit na aanleiding van ʼn visie stelselmatig bou en ontwikkel.”

Afgesien van die reuse-organisatoriese taak was die post-1994-tydsgees selfs meer uitdagend. Dit was ʼn tyd waarin talle van die idees wat Solidariteit aangehang het, van die minder utopiese

scenario’s vir die land waarvoor hulle voorsiening gemaak en beplan het, baie ongewild was en waarvoor ek dikwels hewige kritiek ontvang het.

“Daarom is ek ook baie dankbaar dat die hoofraad ons altyd ondersteun het en begrip gehad vir dit wat besig was om te ontvou, omdat hulle heelwat nader aan mense op die grondvlak beweeg het as die kritici in ivoortorings.”

Ons was nie negatief oor die land nie, net realisties. Ons het die ANC se dokumente gelees en dit gegló. Ons het dus nie met ons wense gewerk nie, maar met die werklikhede, verduidelik Buys.

Die gevolgtrekking waartoe hulle eindelik gekom het?

“Ter wille van demokrasie, ter wille van vryheid, ter wille van oorlewing moet ons binne elke samelewingsfeer ʼn organisasie ter bevordering en beskerming van Afrikanerbelange begin.”

Namate talle waarskuwings ongelukkig werklikheid geword het, die regering stelselmatig verval en die Solidariteit Beweging stelselmatig geslaag het, het oorwegende kritiek in oorwegende ondersteuning verander.

“Vroeër het mense gedink dit is onnodig en onmoontlik [om self alternatiewe te bou]. Die meeste mense het nou begin agterkom dat dit wel nodig én moontlik is, wat is waarom ons vandag meer ondersteuning kry as in die verlede.”

Om nou, ná 29 jaar, terug te kyk op die verskillende groeifases in sy tyd by die vakbond is vir Buys bittersoet.

“Dit was dikwels ʼn harde tyd, maar ook ʼn baie lekker tyd. ʼn Mens het baie lief geword vir die mense van die vakbond. Die uittrede is dus aan die een kant hartseer, maar aan die ander kant is ek ook bly dat hulle steeds in goeie hande is met ʼn sterk en bestendige leierskorps.

“Ek kyk met dankbaarheid terug en verwagting vorentoe.”

Omdat Buys glo jou visie vir die toekoms altyd sterker moet wees as jou geheue van die verlede, is hy baie positief oor die toekoms van die Solidariteit Beweging wat hy nou toegewyd voorsit.

“Mense kyk dikwels vas in die grootskaalse verval wat in die land plaasvind. Hoewel dit ons almal neerslagtig maak, is dit egter nie al wat gebeur nie. Daar is ook ʼn reuse-opbouproses in die private en gemeenskapsektor. Hoewel daar verval van bo is, is daar ook opbou van onder af.”

Daarom gaan die Solidariteit Beweging ook in dié nuwe versnelde fase voort om te bou aan ruimtes “wat vry is van die swaar hand van die staat”.

Met die nuwe fase wat aanbreek bly Buys se moue vir die afsienbare toekoms hoopvol opgerol.

“Ons is nog so besig met soveel projekte, want daar is nog baie werk om te doen. Ek is nou 63, en as die Here wil, wil ek nog ʼn paar jaar voltyds betrokke wees.”

 

Geskryf deur Maroela Media redaksie.

Hokaai, regter – dis mos nie reg om onreg te gehoorsaam nie

Goeie en regverdige wette is noodsaaklik vir ‘n vry en vreedsame samelewing.

In die dorp Bozen in die noorde van Italië is ‘n aanhaling van die Joodse denker Hannah Arendt aangebring op ‘n muurpaneel uit die Mussolini-era: “Geen mens het die reg om te gehoorsaam nie.”

Die aanhaling is in reaksie op die Fascistiese oorheersing van die Duitse dorp en provinsie van Suid-Tirool deur die Mussolini-regering ná die Eerste Wêreldoorlog.

Die gebied was deel van Oostenryk, maar is ná die oorlog in 1919 aan Italië gegee vir hul ondersteuning van die Geallieerdes. Dis interessant dat genl. Jan Smuts Suid-Tirool gehelp het om outonome status te kry omdat hulle ‘n kommando gestuur het om die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog by te staan.

Ná Mussolini se bewindsoorname het hy begin om die Duitse bevolking te verdruk en Suid-Tirool te veritaliaans. Dit is gedoen deur Duitse skole se taalbeleid met wetgewing te verander, en deur werkgewers te dwing om deur ‘n kwotastelsel Italianers in diens te neem. Daar is vandag nog meer Italianers as Duitssprekendes in Bozen.

Arendt was verstom oor hoe die meeste gewone Italianers die verdrukkende en immorele wette van die Fascistiese regering gehoorsaam het.

Mussolini het die kern van die fascisme saamgevat met sy berugte slagspreuk: “Alles binne die staat, niks buite die staat, niks teen die staat nie.” Vir hom was die staat die kern, en die bevolking, ondernemings, kerke en die burgerlike gemeenskap moes ondergeskik aan die staat wees.

Die wet en die ‘reg’ is nie altyd dieselfde nie

Tydens die verhoor van die Nazi-oorlogsmisdadiger Adolf Eichmann het Arendt opspraak gewek deur te sê dat Eichmann nie ‘n demoniese en sadistiese monster was nie, maar ‘n gewone mens wat bloot gehoorsaam bevele uitgevoer het. Sy het gewaarsku dat sulke dinge nie net in Nazi-Duitsland of Fascistiese Italië kan gebeur nie, maar in enige samelewing waar mense immorele wette blindelings gehoorsaam. Boosheid is dan die verskriklike gevolg van gehoorsaamheid aan onregverdige wette. In kort, niemand het die reg om onreg te gehoorsaam bloot omdat dit die wet is nie. Die wet maak nie outomaties alles “reg” nie.

Verstaatliking

Suid-Afrika is nog ver van Mussolini se Italië, maar dit raak tyd om vroegtydig op Arendt se waarskuwing ag te slaan. Die ANC het die laaste jare met sy Nasionaal-Demokratiese Revolusie en die voortspruitende ideologie van transformatisme die samelewing al hoe meer begin verstaatlik. Dit word bewerkstellig deur staatsmag al hoe sterker te sentraliseer.

Dink maar aan die staatsoorname van water- en mineraalregte, die rassewetgewing wat alles voorskryf, van eienaarskap tot die werknemers- en verskaffersprofiel van ondernemings, staatsoorname van die Setas, die Bela-wetgewing, wat groter staatsbeheer oor skole nastreef, die onteieningswet, beoogde Nasionale Gesondheidsversekering, en die Wetsontwerp op Sakelisensiëring van laat verlede jaar.

Dis nie net mnr. Zuma wat die staat onregmatig gekaap het nie. Staatskaping is die kern van die ANC se ideologie en die doel van transformatisme.

Gehoorsaam

Tot dusver het die burgery selfs onregverdige wette gehoorsaam, ten spyte daarvan dat die praktyk duidelik gewys het dat die verstaatliking rampspoedige gevolge het, en dat dit teen die grondwetlike verstandhouding van die 90’s is.

Boonop het dit dudielik geword dat rassewette nie meer gerig is op regstelling nie, dat dit nie werk nie en nie kan werk nie, en dat dit boonop immoreel in in ‘n sogenaamde nierassige grondwetlike demokrasie.

In kort, dit is die wet, maar dit is nie die reg nie. Daarom het niemand die reg om onreg te gehoorsaam nie.

Transformatisme

Transformatisme gaan nie oor ‘n beter lewe vir almal nie, maar om die staatsideologie van radikale gelykmaking deur rasseformules af te dwing. Dit is onvermydelik dat kernsake soos vryheid, voorspoed, gelykheid voor die reg, ‘n werkende land en gelyke burgerskap die slagoffers van hierdie beleid is.

Mense is aan die wet gehoorsaam, omdat dit afgedwing word deur die staatsapparaat, en deurdat die konstitusionele hof transformatisme as ‘n grondwetlike opdrag vertolk, al kom die woord nie in die Grondwet voor nie.

Onwerkbare en immorele wette word gehoorsaam omdat daar leidende mense is wat dit normaliseer, die immoraliteit daarvan ontken, die wette regverdig en verdedig, en dit selfs help afdwing. Diesulkes het so diep in hierdie staatsideologie ingekoop dat hulle nie eens agterkom of omgee dat hulle aandadig is aan die lyding van miljoene gewone mense weens die staatsverval, werkloosheid en geweldsmisdaad nie.

Die Franse denker Frédéric Bastiat verduidelik die “normaliteit” van hierdie abnormaliteit treffend soos volg: “Wanneer plundering ‘n lewenswyse word vir ‘n groep mans in ‘n samelewing, skep hulle vir hulself ‘n regstelsel wat dit magtig en ‘n morele kode wat dit verheerlik.”

Die praktyk waar daar aandele van arm pensioenfondslede gevat is en aan ryk BEE-magnate gegee word, roep nog ‘n stelling van Bastiat op: “Daar is mense wat dink dat plundering moreel regverdigbaar word sodra dit wettig gemaak word.”

Indien onregverdige wette afgedwing word, kom die hele regsorde in die gedrang. Dan is die wet nie meer die reg nie, maar, soos Alvin Toffler dit beskryf, net verbloemde geweld.

Skuldkompleks

Die verskoning van oorlogsmisdadigers dat hulle net bevele uitgevoer het, of dat hulle nie geweet het van wandade nie, is nie geldige verwere nie. Hulle móét geweet het, of hulle wóú nie weet nie. Dit geld veral mense soos oudregter Johann van der Westhuizen, wat steeds die mislukte en immorele staatsideologie van transformatisme normaliseer, regverdig, verdedig en dit selfs help afdwing het.

Daarmee saam probeer hy ‘n kollektiewe skuldkompleks om Afrikaners se nekke hang, deur die verlede subtiel aan Nazisme te koppel soos in Rapport van 29 Maart.

Dr. Victor Frankl, filosoof en sielkundige, was ‘n oorlewende van die Nazi-konsentrasiekampe, en was bekend om sy verwerping van die idee van kollektiewe skuld. Hy het gesê dat niemand verantwoordelik gehou kan word vir iemand anders se dade nie.

Daarby, om apartheid met die Joodse volksmoord te vergelyk, kom in werklikheid neer op ‘n gesofistikeerde onderspeling van die gruwelike massamoord op Jode.

Daarom moet ons leer uit die lesse van die geskiedenis. Goeie en regverdige wette is noodsaaklik vir ‘n vry en vreedsame samelewing.

Daarteenoor lei blinde gehoorsaamheid aan onregverdige wette tot die vertrapping van die reg van mense.

Kom ons luister na die waarskuwing van Thomas Sowell, wat gesê het: “As jy die regering genoeg mag gee om sogenaamde sosiale geregtigheid te skep, het jy dit genoeg mag gegee om despotisme te skep. Miljoene mense oor die wêreld heen het met hul lewens betaal omdat hulle daardie eenvoudige feit oor die hoof gesien het.”

Vryheid vereis immers ewigdurende waaksaamheid.

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

AfriForum – die grootste burgerregteorganisasie in die land – vier 20 jaar van gemeenskapsbou

AfriForum, die organisasie wat reeds in die volksmond sinoniem geword het met die beskerming van Afrikaners, Afrikaanssprekendes en ander minderhede se regte, die bevordering van gemeenskapsveiligheid en gemeenskapsbou vier vandag sy 20ste bestaansjaar.

Die organisasie het, nadat dit amptelik op 26 Maart 2006 tot stand gekom het, binne die bestek van slegs twee dekades ongeëwenaarde groei ondervind en is opgebou vanaf ’n nuweling op die terrein van burgerregte tot die grootste organisasie van sy soort in die land met werksaamhede wat strek tot voordeel van almal in die land.

Teen Maart 2006 het die nuwe organisasie nog geen lede gehad nie en oor slegs drie personeellede beskik. AfriForum het sedertdien aangegroei tot die voorste rolspeler in die Suid-Afrikaanse burgerregtelandskap met nagenoeg 300 000 lede en 182 voltydse personeellede.

Luidens die mediaverklaring oor AfriForum se stigting wat op 26 Maart 2006 uitgereik is, is die organisasie deur die vakbond Solidariteit in die lewe geroep om “’n forum te bied vir die konstruktiewe aktivering van minderhede […] tot deelname aan die openbare debat en aksies”.

Kallie Kriel staan reeds sedert die ontstaan van AfriForum aan die stuur van dié organisasie. In sy 2006-aankondiging oor die stigting het hy aangevoer dat die vestiging van die burgerregteorganisasie genoodsaak is as teenvoeter vir die apatie wat in daardie stadium onder veral Afrikaners geheers het. Dié apatie het luidens Kriel negatiewe gevolge ingehou vir minderhede, demokratiese beginsels en die land as geheel. “Die negatiewe gevolge van onttrekking sluit in dat die regering vrye teuels kry om die Grondwet te koöpteer, selektief te interpreteer en nie ’n balans te handhaaf tussen die belange van die meerderheid en minderhede nie,” het Kriel destyds gesê.

In die afgelope 20 jaar het AfriForum reeds sukses behaal in sy strewe na die ommekeer van Afrikaner-apatie. Die organisasie se reuse-ledebasis, 165 aktiewe takke en 177 buurtwagte, nagenoeg 10 000 vrywilligers en reusesteun vir veldtogte teen  die skending van burgerregte is ’n tasbare bewys van dié ontwaking wat onder veral Afrikaners aangeteken is sedert die organisasie se ontstaan.

“AfriForum se uiteenlopende suksesse in die vestiging van ’n beter hede én toekoms vir ons gesinne, gemeenskappe en nageslag hier aan die suidpunt van Afrika is tekenend van die praktiese haalbaarheid van AfriForum se toekomsbouplanne,” verduidelik Kriel. “Dié suksesse is geskoei op ’n ons-sal-self-benadering waarin ons met die genade, krag en leiding wat ons van Bo ontvang, self die toekoms bou wat ons vir ons kinders en gemeenskappe wil hê,” benadruk Kriel.

Ten opsigte van die toekoms, stel Kriel dit duidelik dat AfriForum, ongeag die mislukkende en korrupte regering se wanbestuur, gereed is om as gemeenskapsbouorganisasie sy “geheime wapen” selfs verder in te span. “Ons geheime wapen is dat elkeen van ons hande, verstand en ’n roeping ontvang het waarmee ons op elke lewensterrein beheer oor ons gemeenskappe se toekoms kan neem. Met dié ingesteldheid is AfriForum toegerus om die volgende 20 jaar met selfvertroue aan te pak en die verdere vestiging van selfstandige plaaslike gemeenskappe, as teenvoeter vir staatsverval, te vestig.”

AfriForum sal voortgaan om as waghond teen onreg en agteruitgang op te staan en te veg vir geregtigheid. Die organisasie sal egter ook meer van sy tyd, energie en hulpbronne daaraan toewy om doeltreffende gemeenskapsbouers te wees. Dit word reeds, volgens Kriel, in terme van die organisasie se gemeenskapsbouplan geïmplementeer en fokus op die versterking en uitbreiding van AfriForum se selfdoeninisiatiewe in plaaslike gemeenskappe; die gekoördineerde samewerking met ander gemeenskapsinstellings; en waar moontlik, die sluit van samewerkingsooreenkomste met die owerhede.

Kriel sluit af: “Ons sien uit na die volgende 20 jaar en die bou van ’n toekoms vir ons gesinne en nageslag waar ons vry, veilig en voorspoedig kan leef. Elkeen van ons het as gemeenskapsbouers ’n rol om te speel, hande vuil te maak en waarlik te bou. Jy kan dit deur AfriForum, jou kinders se skool, jou kerk of ander gemeenskapsinstellings doen. Ek nooi jou – kom bou saam!”

Geskryf deur AfriForum.

Hoe Suid-Afrika gered kan word

Suid-Afrika het 32 jaar gelede met wêreldwye applous ʼn demokrasie geword, waarna ʼn goue toekoms vir die land voorspel is. Drie dekades later is daar ʼn wye ontnugtering met die uitkomste van ANC aan bewind, en staar die land regeringsgedrewe staatsverval in die gesig. ʼn Paar syfers som die toestand op:

  • Na die goue groeijare van die Mandela- en Mbeki-administrasies, het die land sedert 2007 twee verlore dekades beleef, met ʼn gemiddeld van 1% groei per jaar.
  • Die rand het 77% van sy waarde sedert 1994 verloor.
  • Werkloosheid het vanaf 20% in 1994 na 32% verhoog, met jeugwerkloosheid van meer as 60%.
  • Sowat 50% van die bevolking is afhanklik van staatshulp.
  • Daar is wydverspreide munisipale verval, met net 16% van stadsrade wat skoon oudits kry.
  • Die strafregstelsel is in ʼn krisis, met net 8% van geweldsmisdade wat uiteindelik tot skuldigbevindings lei.

Wat het verkeerd geloop?

Die vraag is eerstens wat het verkeerd geloop, en tweedens hoe kan dit reggestel word?

Die eerste fout was dat die ANC se historiese rigtingwyser eerder die Russiese rewolusie as die Japanse restourasie was. Die ANC se beleid is vandag nog amptelik ʼn “Nasionaal demokratiese rewolusie”, wat polities handel dryf as radikale transformasie. Die mikpunt was ʼn “ontwikkelingstaat” breedweg geskoei op die Chinese model, wat deur ʼn ekonomie gedryf moes word wat uit instellings in staatsbesit bestaan. ʼn Beleid van “kaderontplooing”  moes alle magsentrums onder ANC beheer bring. Die ontwikkelingstaat het misluk a.g.v. die verval van die meeste staatsmonopolieë oor elektrisiteit, spoorweë en hawens. Beheer deur kaders het hervoming prakties onmoontlik gemaak.

Tweedens was die ANC eerder ʼn gelykheidsbeweging as ʼn vryheidsbeweging. In plaas daarvan om armoede met ekonomiese groei aan te spreek, het die party herverdeling geprioritiseer en gelyke uitkomste nagestreef. Hierdie projek was meer daarop gerig om rykes armer te maak as om armes ryker te maak. Namate die ekonomie al hoe meer begin stagneer het, het die ANC al hoe meer teruggekeer na sy sosialistiese wortels deur al skerper herverdeling en al hoe meer staatsbeheer oor die ekonomie, water, minerale, grond, en onderwys. Hoewel die gereelde verkiesings nog vry en regverdig is, word vryheid in hierdie sentraliseringsproses al hoe meer ingeperk.

Derdens het die ANC ʼn staat wat geografies en demografies (12 amptelike tale) baie uiteenlopend is, as ʼn sentrale eenheidstaat instede van ʼn  federasie probeer regeer. Die ANC is sterk gekant teen federalisme omrede hulle mag sterker wil sentraliseer in plaas van versprei. Die uiteinde hiervan is ʼn land wat in vyf gebiede verdeel kan word: gebiede soos die opposisie beheerde Wes-Kaap wat goed regeer word; dié wat swak regeer word (ANC-beheerd); gebiede soos sekere middestede wat onregeerbaar is; gebiede wat glad nie regeer word nie (diep platttelands); en areas wat hulself regeer, soos privaat dorpe. Die land het dus nie net ʼn regeringsprobleem nie, maar ʼn bedelingsvraagstuk.

Die vierde fout was om Afrikaners uit te sluit en te vervreem. Terwyl die Gealieerdes net vier jaar na die Tweede Wêreldoorlog die Duitsers vanaf vyande na vennote in die heropbou van Europa behandel het, regeer die ANC 32 jaar na apartheid nog steeds teen Afrikaners. Hulle lewens word gereguleer met rassebepalings (onder die vaandel van regstelling) en deur grondwetlike bepalings oor skole en universiteite te verbreek. SA se grootste uitvoerproduk is hoëvlakvaardighede, werkskeppers en belastingbetalers. Afrikaners se belewing dat hulle vryheid al hoe meer bedreig word, word deur die ANC gerieflik as ʼn “terugverlang na apartheid” afgemaak.

Die vyfde fout is om Suid-Afrika se buitelandse beleid op grond van ideolo hgiese- en historiese gronde in plaas van nasionale belang te baseer. Die ANC-regering se toetrede tot Brics in 2010 was die voorloper van ʼn naderbeweeg aan lande soos China, Iran, Rusland en Kuba, en die verswakking in verhoudings met die VSA, Israel en ander Westerse moondhede.

Sosialisme

Terugskouend gesien, was die skeptiese stemme oor Suid-Afrika se toekoms uitgedoof deur die wêreldwye vreugde oor die 1994 “wonderwerk”. Francis Fukuyama van Stanford het byvoorbeeld gewaarsku dat: “South Africa’s constitutional democracy is a sort of foreign body that’s sitting on top of a society that’s not modernised in other respects.” Die spanning spruit onder meer daaruit dat die land ʼn sosiaal konserwatiewe bevolking, ʼn liberale Grondwet en ʼn linkse regering het. Hoewel die ANC ʼn “regering van nasionale eenheid” in 2024 gevorm het wat lede van die opposisie insluit, bepaal die ANC in praktyk steeds die nasionale beleid.

Fukuyama het reeds in 1993 teen sosialisme gewaarsku:

“The main obstacle to black social modernization in the future may well be the belief in socialism on the part of the ANC and its communist allies. Socialism has always presented itself as a higher and more progressive form of social organization than capitalism. But in the contemporary world, socialism has been revealed to be an obstacle to social and economic modernization – the hallmark of a certain kind of backwardness that needs to be overcome, just like illiteracy and superstition. The countries of Eastern Europe are now moving rapidly backward into the future, undoing the legacy of forty years of dictatorship and socialist planning. Let us hope that South Africa, as it makes the necessary transition to democracy, does not move forward into the past.”

Hervormings

Daar is nog hoop vir Suid-Afrika. Al kan die klein veranderings wat te min te laat is nog nie as grondige hervormings beskou word nie, is daar groen spruite sigbaar. Daar sal egter omvattende hervormings moet kom om die land blywend suksesvol te maak. Dit sluit onder meer in:

  • die bevryding van die ekonomie deur die staat se rol in die samelewing te verklein en onomwonde die privaat sektor in plaas van die staat as die enjin van die ekonomie te aanvaar – ʼn groeiende ekonomie bly die beste verskaffer van werk en is die beste gelykmaker, en die vinnigste manier om armoede te verklein;
  • die verandering in strategie van die regering vanaf ʼn ontwikkelingstaat na ʼn ontwikkelingsamelewing, met ʼn klem op die ontwikkeling van die land se mense;
  • die vervanging van sentralisme met federalisme deur die ANC – ʼn voorwaarde vir werklike demokrasie, vryheid en doeltreffende regering;
  • die vestiging van beter verhoudinge met die VSA deur buitelandse beleid wat in nasionale belang is, en wat minstens onverbonde is; en
  • die behandeling van Afrikaners as vennote deur die ANC om die land te herbou, asook die sluit van ʼn kultuurakkoord wat Afrikaners se grondwetlike regte respekteer.

 

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Twintig redes hoekom “regstelling” verkeerd is

“Ons noem dit ‘regstellende aksie’, want die term regverdig homself sodat wit mense dit maklik aanvaar en vrywillig op hulself toepas”. Dit was die antwoord wat ʼn bekende Cosatuen SAKP-leier aan my gegee het toe ek vir hom gevra het hoekom gebruik hy Afrikaans as hy oor rassewette praat.

Dis presies hoekom ek nie die term “regstellende aksie” gebruik nie. Dit het ʼn propagandaterm geword wat glad nie oor regstelling gaan nie. Dit het verhard in ʼn omvattende rassebedeling wat op ʼn drakoniese wyse inbreuk op wit mense en ander minderhede se lewens maak. Veel meer “rastelling” as regstelling.

Dit beteken natuurlik nie wit mense wil nie hê dat swart mense vooruitgaan in die lewe nie. ANC politici wat die leuen verkondig dat iemand wat teen rassewette is terselfdertyd teen swart mense is, misbruik net rassepolitiek om steun vir hulle kwynende party te probeer terugwen.

Dis belangrik dat die ekonomie groei en dat almal in die land meer geleenthede kry sodat armoede opgelos kan word en swart mense ook ʼn voorspoedige toekoms kan hê.

Kwaadwillige politici beweer dat wit mense onregverdig kla, selfsugtig op hul eie probleme fokus en min bereidwilligheid toon om die land se werklike krisisse te help oplos. Hulle verswyg natuurlik dat hulself wit mense uitsluit van geleenthede om die krisisse wat dieselfde politici geskep het op te los. Die bitter ervaring het geleer dat hulle eerder ʼn hele dorp sonder water sal los, eerder as om met die Afrikaners daar saam te werk om die dienste te herstel.

Armoede of ongelykheid?
Die eerste groot fout van die ANC ná 1994, was om wetgewing in te stel gerig op die herverdeling van bestaande poste en welvaart, in plaas daarvan om armoede aan te pak deur nuwe poste en welvaart te skep. Ongelykheid is vir Sosialiste altyd die grootste probleem, en nie armoede nie. Hulle wil eerder die “rykes” armer maak as die armes ryker. Daarom verstaan hulle nie dat ekonomiese groei die vinnigste gelykmaker én die beste oplossing vir armoede is nie.

Soos die Amerikaanse ekonoom Thomas Sowell dit stel: “What do the poor most need? They need to stop being poor. And how can that be done on a mass scale, except by an economy that creates vastly more wealth? Yet the political left has long had a remarkable lack of interest in how wealth is created. As far as they are concerned, wealth exists somehow, and the only interesting question is how to redistribute it.”

Rassewette
Maar kom ons keer terug na die vraag wat aan die begin gestel is. Waarom is Solidariteit en so baie wit mense negatief oor die land se rassewette, wat volgens politici op regstelling gerig is? Die kort antwoord is dat die uitkomste ná drie dekades gewys het dat die Suid-Afrikaanse model van regstellende aksie niks regstel nie, en teenproduktief en skadelik vir die land en al sy mense is.

Niemand is gekant teen die regstelling van wat verkeerd is nie en daar is ook nie weerstand teen gelykheid of maatreëls wat daarop gemik is om groter gelykheid te bewerkstellig nie. Die probleem ontstaan dus nie met werklike regstelling, gelyke geleenthede of die groter verteenwoordiging van swart mense in sekere posvlakke nie.

Die uitdaging vir Suid-Afrika was om ʼn model wat ontwikkel is om minderhede te beskerm, doeltreffend te gebruik om meerderhede te bevorder. Daar het egter ʼn groeiende gaping ontstaan tussen die mooi grondwetlike teorie en die harde praktyk.

Wat meer as drie dekades gelede as ʼn regstellende maatreël begin het, het uitgeloop op ʼn omvattende rassebedeling wat onversoenbaar is met ʼn grondwetlike demokrasie, ʼn werkende staat en ʼn groeiende ekonomie wat vir al sy mense kan sorg. Wat die Grondwet toelaat, het in die praktyk verhard tot ʼn permanente staatsideologie van “radikale transformasie” wat deur die regering én howe onderskryf word. Boonop voldoen hierdie maatreëls nie meer aan internasionale regsvereistes vir tydelikheid, eweredigheid en toepaslikheid nie.

Daar is minstens 20 redes hoekom “regstelling” verkeerd is. Dit kan as volg opgesom word:

  1. Rassewette is in werklikheid ongrondwetlik, aangesien artikel 1 van die Grondwet bepaal (of beweer?) dat Suid-Afrika ʼn nierassige staat is.
  2. Die wette voldoen nie aan die internasionale reg nie, wat vereis dat regstellingsmaatreëls tydelik, proporsioneel en genuanseerd moet wees. Internasionale standaarde plaas groter klem op opleiding en mense se sosio-ekonomiese status as op ras. Daarom het die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) Solidariteit se formele klagte aangehoor en ʼn bemiddelingsproses tussen Solidariteit en die regering gefasiliteer wat in 2024 op ʼn ooreenkoms uitgeloop het. Dié ooreenkoms is deur ʼn hofbevel bekragtig en in die Staatskoerant gepubliseer, net om minder as ʼn jaar later weer deur die regering verbreek te word met nuwe rasseregulasies. Solidariteit se hofsaak hierteen kom eersdaags voor.
  3. Dit is onwerkbaar, aangesien die getalleverhoudinge in die land dit onmoontlik maak dat wette wat teen sowat 7% van die bevolking ingestel word, die ander 93% sal bevoordeel. Daar is ʼn wesenlike verskil tussen ʼn stelsel wat minderhede in ʼn groeiende ekonomie beskerm en een wat poog om meerderhede in ʼn krimpende arbeidsmark op te hef.
  4. Dit is ʼn onreg teen jong wit mense onder 18 jaar, wat slegs 4,6% van die bevolking uitmaak. Hulle word blameer vir gebeure wat voor hul geboorte plaasgevind het, terwyl die ANC nie verantwoordelikheid neem vir dit wat hulle nóú aanvang nie. Dit skep ook valse verwagtinge by die bykans 96% jong swart mense dat die maatreëls teen die 4,6% jong wit mense hulle sal bevoordeel.
  5. Dit is onbillik, omdat die nuwe bedeling juis veronderstel was om op ʼn hoër morele grondslag te rus as die kru rassemaatreëls van apartheid.
  6. Dit benadeel wit mense, sonder om swart mense werklik te bevoordeel. Indien alle wit mense dadelik uit die werksmag verwyder sou word, sou swart werkloosheid met slegs 2,6 persentasiepunte daal. The Economist het reeds in 2021 bereken dat 50% van wit mense oor die afgelope drie dekades sowat 50% verarm het. Die primêre probleem vir wit mense is nie werkloosheid nie, maar onderindiensneming (om in poste onder hul kwalifikasies aangestel te word) weens die rassewette.
  7. Dit is ekonomies skadelik vir die land, soos die Wêreldbank en talle ander instellings al uitgewys het. Dit speel ʼn bepalende rol in die land se jarelange ekonomiese stagnasie. SEB voldoening kos die land elke jaar tussen 2% en 4% van die BBP, oftewel tussen R145 miljard en R290 miljard.
  8. Dit dra aansienlik by tot die verswakking en verval van talle staatsinstellings, omdat die klem by aanstellings meer op ras as op meriete val. Sodoende benadeel dit die armes deur swak en ongesonde dienste.
  9. Dit lei daartoe dat die mees gekwalifiseerde persoon nie die werk kry nie, aangesien aanstellings deur uitsetgebaseerde teikens eerder as insetgebaseerde beginsels gedryf word.
  10. Die strewe na gelyke uitkomste lei tot beperkings op die vryhede van mense en maatskappye.
  11. Dit het onbedoelde gevolge, soos dat dit die stelsel van tenderpreneurskap moontlik maak en ʼn gevoel van geregtigheid (entitlement) bevorder.
  12. Dit werk in die naam van die bevordering van diversiteit, eerder eenvormigheid in die hand, omdat dit vereis dat alle posvlakke die demografie moet weerspieël.
  13. Dit dryf talle werkskeppers, hoëvlak-vaardighede en hoë netto-belastingbetalers landuit. Dit het al soveel families uitmekaar geskeur, met gesinne wat op verskillende kontinente bly en kinders wat sonder hul ouers of grootouers moet grootword.
  14. Dit is onnodig, omdat ʼn merietegebaseerde stelsel, gegewe die bevolkingsamestelling, steeds daartoe sal lei dat verreweg die meeste aanstellings swart mense sal wees.
  15. Dit lei tot demografiese oorheersing van minderhede vanweë die afdwinging van die bevolkingsamestelling op alle instellings. In ʼn land met Suid-Afrika se uiteenlopende geografiese en demografiese werklikhede, kan elke instelling nie ten volle verteenwoordigend wees nie. Daarom moet die strewe veel eerder wees dat instellings gesamentlik oorhoofs verteenwoordigend van die bevolking moet wees. Beleide soos kaderontplooiing en “African hegemony” is meer daarop gemik om oorheersing te bewerkstellig as op ware regstelling.
  16. Dit moedig ʼn “demografiese demokrasie” aan, omdat die ANC probeer om kiesers se lojaliteit te verseker deur die klem op ras en rassebevoordeling te plaas.
  17. Die feit dat regstellende aksie in die werkplek en SEB vir ondernemings geld, veroorsaak dat minderhede se lewens en lewenskanse op alle gebiede deur ras gereguleer word.
  18. Die wetgewing dwarsboom die uitoefening van ander grondwetlike regte, soos artikel 22, wat vryheid van keuse van beroep en professie “waarborg”.
  19. Die Suid-Afrikaanse model van regstellende aksie is ʼn voorbeeld van die onbedoelde gevolge wat ontstaan wanneer ʼn stelsel sy eie loop geneem het, verhard het in ʼn staatsideologie, en veel verder gegaan het as die regstelling van ongeregtighede.
  20. Die doeltreffendste maatreëls om regstelling en inklusiewe ontwikkeling te bevorder bly ekonomiese groei. Dit moet ondersteun word deur insetgedrewe programme soos opleiding, eerder as uitsetgedrewe teikens wat tot ʼn omvattende kwotastelsel verhard het. So ʼn insetgedrewe benadering bied die vinnigste en natuurlikste manier om rasseverteenwoordiging te verseker, sonder die onbekostigbare onbedoelde gevolge van die huidige stelsel.

Suid-Afrika het volgens verskeie bronne die hoogste werkloosheidskoers ter wêreld. Daarom is dit dringend noodsaaklik om ekonomiese groei te stimuleer, meer werk te skep en ongelykhede te verminder. Tog dui die uitkomste ná drie dekades daarop dat die huidige model nie meer werk nie en dat dit nodig is om terug te keer na die tekenbord, eerder as om ʼn onwerkbare en onregverdigbare stelsel te probeer verdedig. Ware regstelling is soos ʼn skild wat mense help, nie ʼn swaard wat ander benadeel of oorheers nie.

 

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Flip Buys: Wat nodig is om armoede te troef

Ekonomiese groei het die afgelope drie dekades miljoene mense uit armoede help ontsnap. The Economist het selfs al die moontlikheid van die “einde van armoede” voorsien.

Die geskiedenis wys onomwonde dat daar net een manier is om armoede op te los en dit is ekonomiese groei. Die Nobelprys-wenner, Milton Friedman, het dit treffend gestel: “Daar is geen ander manier om die lot van gewone mense te verbeter wat by die produktiewe aktiwiteite kan kers vashou wat deur ’n vryeondernemingstelsel ontketen word nie.”

Geen sosialistiese regering se sogenaamde “pro-armoede” beleidsrigtings kon histories meer mense uit armoede lig as ’n groeiende vryemarkekonomie nie.

Sosialiste glo dat armoede altyd deur iemand anders veroorsaak word en deur iemand anders – die staat en die “rykes – opgelos moet word. Hulle vra nie: “Wat het ons verkeerd gedoen en wat moet ons nou reg doen nie?” Hulle vra: “Wie het dit aan ons gedoen en wat moet ons nou aan hulle doen?

Daarteenoor sê die Afro-Amerikaanse denker, Thomas Sowell: “Geen verduideliking vir armoede is nodig nie. Die mensdom het in armoede begin en duisende jare lank in armoede gebly. Wat ’n mens dus regtig moet weet, is wat dit is wat sommige lande en sommige groepe in lande in staat stel om voorspoedig te wees.”

Voorspoed en armoede

Die fokus moet dus meer op die oorsake van voorspoed as op die oorsake van armoede wees.

Sowell se standpunt is tereg dat “wat die armes die nodigste het, is om nie méér arm te wees nie”. “En hoe kan dit op groot skaal bewerkstellig word, anders as deur ’n ekonomie wat beduidend meer welvaart skep? Tog toon politieke linkses al lank ’n merkwaardige gebrek aan belangstelling in hoe welvaart geskep word. Wat hulle betref, bestaan welvaart op die een of ander manier en die enigste vraag is hoe om dit te herverdeel.”

Die ANC het al talle ekonomiese planne aangekondig, maar die uitkoms was bloot nog meer armoede en hoër werkloosheid. Die rede is dat politici en die staat nie welvaart kan skep nie en nie weet hoe om dit te doen nie. Volhoubare ekonomiese groei verg ’n omvattende en wel funksionerende ekostelsel, waarin alle komponente soos ’n magdom ratte in ’n masjien moet saamwerk om ’n ekonomie so vinnig te laat groei dat armoede prakties verdwyn.

Ekonomiese groeimodel

Die doel van enige ekonomie is om die per capita-inkomste van die burgery te verhoog sodat almal se lewenstandaard verbeter. Die ekonomie bestaan dus vir die mens en nie die mens vir die ekonomie nie. Die verhoging van almal se inkomste is egter net moontlik as elkeen se gemiddelde produksie hoër as hul verbruik is.

Daar is minstens 10 voorwaardes vir ekonomiese groei wat moet deel vorm van ’n ekonomiese ekostelsel en waarvan die meeste nie regstreeks ekonomies van aard is nie.

Die eerste voorwaarde is goeie regering. In ’n land soos Suid-Afrika bepaal die politiek die ekonomie en nie andersom soos in ontwikkelde state nie. So ’n regering moet betroubare munisipale dienste lewer wat as platforms vir ekonomiese groei kan dien. Verder moet die politieke leiers beleidsekerheid vestig, wat beleggersvertroue skep en die burgery se kulturele en persoonlike vryhede beskerm en respekteer. ’n Swak regering verarm die burgery terwyl die heersers in weelde leef.

Die tweede vereiste is behoorlike infrastruktuur soos elektrisiteit, water, paaie, hawens, lughawens en goeie optiese veselnetwerke.

Veiligheid is die derde vereiste en is onontbeerlik vir groeiende voorspoed. Op sy beurt is voorspoed net so belangrik vir veiligheid.

Vierdens volg die regsorde omdat enige ekonomie afhanklik is van ’n ordelike en wetsgehoorsame samelewing wat respek vir die oppergesag van die reg en eiendomsreg het. Die strafregstelsel moet soos ’n goed geoliede masjien werk, anders ly die reg van onskuldige mense én hul ekonomiese voorspoed daaronder.

Die vyfde vereiste vir ekonomiese groei behels die hele pyplyn van gehalteonderwys en -opleiding, vanaf kleuterskool tot by universiteit. Dit sluit skole, beroepsopleiding én voortgesette opleiding vir volwassenes in. Daar is ’n regstreekse verband tussen mense se vlak van opleiding en hul inkomste. Daarom is dit nodig om almal die kans te gee om hul volle vermoë te verwesentlik. Opleiding bly dié belegging met die hoogste opbrengs, het Friedman aangevoer.

Arbeid is die sesde vereiste. Die welstand van ’n land hang af van die welstand van sy werksmag. Om voorspoedig te funksioneer benodig ’n land ’n hoogs opgeleide, produktiewe en goed betaalde werksmag. Dit gee die land ’n mededingende ekonomiese voordeel en moedig sakelui aan om nog meer in die land te belê.

Vrye mark bied groter koek

“Wanneer die regering hoër lone aan sy werknemers betaal, is daardie hoër lone ten koste van die belastingbetaler. Maar wanneer werkers hoër lone deur die vrye mark ontvang, wanneer hulle verhogings ontvang omdat maatskappye met mekaar om die beste werkers meeding, omdat werkers met mekaar vir die beste werksgeleenthede meeding, geskied daardie hoër lone nie ten koste van iemand anders nie. Dit kan slegs voortspruit uit hoër produktiwiteit, groter kapitaalbelegging en vaardighede wat wyer versprei is. Die hele koek is groter – daar is meer vir die werker, die belegger, die verbruiker en selfs die belastinggaarder.” – Milton Friedman, Nobelprys-wenner

Geen ekonomie kan sonder kapitaal groei nie omdat kapitaal die brandstof is wat ’n land se ekonomiese enjin aandryf. Daarom is kapitaalinstellings soos banke, beleggingsfondse en ander finansiële instellings die sewende vereiste wat benodig word. Hulle verskaf nie net kapitaal nie, maar lewer ook ’n opbrengs vir beleggers soos lede van pensioenfondse. Terselfdertyd help dit
om die ekonomie te finansier en om mense se lewenstandaard te verhoog en hul welvaart te bou.

Die agtste vereiste is dat die belangrikste noodsaaklike dienste beskikbaar moet wees omdat mense nie daarsonder kan lewe nie. Dit behels onder meer goeie en bekostigbare mediese geriewe, bejaardesorg, maatskaplike ondersteuning en gemeenskapsontwikkeling. Sonder hierdie dienste word lewensgehalte negatief geraak.

Die negende vereiste gaan oor die ekonomie self. Die bestanddele van ’n suksesvolle ekonomie is goeie beleid, min regeringsinmenging, ’n kultuur van ondernemerskap, gesonde mededinging, lae inflasie, waarde vir belasting, hoë vlakke van besparing en belegging, sekerheid by die produsent dat die vrug van sy arbeid nie afgevat kan word nie en die volhoubare benutting van hulpbronne.

Die tiende en laaste vereiste is kultuur. Die ekonomiese historikus van die Harvard-Universiteit, David Landes, sê in sy The Wealth and Poverty of Nations, wat oor vyf eeue se ekonomiese geskiedenis van die wêreld handel, dat kultuur die belangrikste rede is vir die verskil in welvaart of armoede in lande en gemeenskappe. Politiek en ekonomie is stroomaf van kultuur. Daarom
moet ’n ekonomiese kultuur gekweek word waar die bevolking verstaan hoe ’n vrye ekonomie werk en wat dit vereis.

Welvaartstelsel
Die toekomskundige Alvin Toffler het in sy boek, Revolutionary Wealth, gesê: “Geen welvaartstelsel bestaan in afsondering nie. ’n Welvaartstelsel is net een kragtige komponent van ’n nog groter makrostelsel, waarvan die ander dele – maatskaplik, kultureel, godsdienstig en polities – in voortdurende terugvoering daarmee en met mekaar verkeer. Saam vorm hulle ’n beskawing of lewenswyse wat min of meer met die welvaartstelsel versoenbaar is.”

’n Land se politieke ideale moet ondersteun word deur ’n ekonomiese ondernemingsgees om suksesvol te kan wees. Hierdie soort ekonomiese leierskap is treffend verwoord deur die Oostenrykse ekonoom, Joseph Schumpeter, wat die rol van entrepreneurs beklemtoon het.

“Die entrepreneuriese soort leierskap het niks van die glans wat ander soorte leierskap kenmerk nie. Dit bestaan daaruit om ’n baie spesiale taak te onderneem wat slegs in weinige gevalle tot die verbeelding van die publiek spreek. Dit lewer ’n diens waarvoor volle waardering gespesialiseerde kennis van die saak verg,” sê hy.

“Dit word nie sommer so maklik verstaan deur die breë publiek soos ’n politikus se geslaagde toespraak of ’n generaal se oorwinning op die slagveld nie.”

Dit is goed en nodig dat ’n volk en ’n land sy politieke, militêre en kulturele leiers vier. Dit is net so nodig om terselfdertyd erkenning te gee aan sy ekonomiese ekostelsel, kan Suid-Afrika se ekonomie vinnig groei om ’n behoorlike lewe aan sy mense te verseker. Die regering het nie meer verskonings nie: Die geskiedenis se resepte van sukses én mislukking is daar vir almal om uit te leer.

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Kerklike onafhanklikheid: tyd vir waaksaam wees

Gedurende die piektyd van die covid-19- pandemie het iemand iewers in die regering die belaglike idee gekry om die uitdeel van alle kos te sentraliseer. Dit het Solidariteit Helpende Hand geen keuse gelaat nie as om die regering noodgedwonge daaroor voor die hof te daag.

Die teorie en praktyk van die sentralisering van die uitdeel van álle kos, is ondenkbaar belaglik, en die hof het uiteraard in die guns van Helpende Hand beslis. Kerke en organisasies kan nie verplig word om hulpverlening te sentraliseer nie. Die impak daarvan as dit sou slaag, is ondenkbaar.

Dit is aan niemand onbekend nie dat hoe meer mag jy verloor, hoe meer wil jy mag sentraliseer. Hoe meer jy sentraliseer, hoe minder gebeur in praktyk. Juis daarom het Helpende Hand lankal begin met die desentralisering van ons werksaamhede na 14 streke en 230 takke. Die antwoord op baie kwessies, is eenvoudig: Gebruik die krag en vermoë van ʼn gedesentraliseerde gemeenskap.

Musa Xulu se bedanking

Bostaande lang inleiding is nodig om die belangrikheid te skets van die professor eerwaarde Musa Xulu se bedanking as voorsitter van die artikel 22-komitee op 15 Januarie vanjaar. By baie mense sal sy bedanking gewoon net verbygaan, maar ons mag dit nie ignoreer nie.

Vergeet wat agter die skerms gebeur en vergeet van interne politiek. Die rede wat Xulu vir sy bedanking aanvoer, is in wese ʼn beginselsaak. Dit maak op ʼn baie interessante wyse indirek van hom ʼn fluitjieblaser oor ʼn kwessie waaroor die kerk moet waak.

As daar een beginsel is wat die kerk nooit mag prysgee nie, is dit haar reg op onafhanklikheid, vryheid van assosiasie en om oor eie sake in eie vergadering te besluit.

Wat het gebeur?

Professor eerwaarde Musa Xulu is in April 2025 aangestel as voorsitter van die artikel 22- komitee van die kommissie vir die bevordering en beskerming van gemeenskappe se kultuur, godsdiens- en taalregte (CRL-kommissie). Die CRL-kommissie is ʼn artikel 9-instelling en moet dus slegs aan die nasionale vergadering verslag doen. Die nasionale vergadering is om die beurt weer verplig om die uitkomste van die kommissie se ondersoek sterk te oorweeg, net soos in die geval van die openbare beskermer.

Een van die kernredes vir prof. Xulu se bedanking is hoe die komitee se werksaamhede in die praktyk uitgespeel het. Hy voer aan dat verskeie vergaderings gehou is, wat hy as voorsitter nooit ten volle self kon lei nie. Hy beweer verder dat hy wel agendas vir die vergaderings opgestel het, maar dat dit nooit gebruik is nie.

Luidens Xulu se aanstellingsbrief sou die CRL slegs administratiewe bystand lewer tot die komitee, maar in praktyk het dit nooit so gebeur nie en was daar intense inmenging van die CRL se topbestuur. Xulu voer aan dat die voorsitter van die CRL, me. Thoko Mkwanazi-Xaluva, by elke geleentheid die vergaderings oorgeneem het, daarom kon hy nooit sy pligte as voorsitter uitvoer nie en is die komitee se praktiese werk nooit gedoen nie. Die verwysingsraamwerk waarbinne die komitee moes werk, het onder meer ʼn ondersoek na die stand van sake in kerke vereis asook om moontlike misbruike in kerke te ondersoek. Hierdie doel het in ʼn oogwink verander.

ʼn Veranderende verwysingsraamwerk

Tydens ʼn openbare geleentheid op 2 Oktober verlede jaar is ʼn totaal nuwe verwysingsraamwerk minute voor Xulu se spreekbeurt aan hom oorhandig. Dit was ʼn radikale ommekeer van die vorige verwysingsraamwerk. Dit het, onder meer, bepaal dat ʼn etiese kode en wetgewende raamwerk ontwikkel moet word om (alle) kerke te reguleer. (Wat ʼn angswekkende gedagte is dit nie!)

In 2015 is reeds beweer dat die staat kerke wil reguleer. Vir 11 jaar is die idee in stilte uitgebou – tot Xulu se bedanking dit weer direk op die tafel geplaas het.

As rede vir sy bedanking voer Xulu verder aan dat hy in ʼn toksiese omgewing moes werk en, let wel, dat hy homself nie kan vereenselwig met die staatse wetlike regulering van kerke nie. Hy merk op dat daar genoegsame wetgewing in plek is om uitdagings te hanteer, insluitend die strafproseswet, maatskappyewet en die Grondwet.

As voorbeeld van die toksiese omgewing verwys hy na Thoko Mkwanazi-Xaluva se rassistiese en lasterlike opmerkings. Sy het onder meer na Michael Swain, die uitvoerende direkteur van Freedom of Religion South Africa (FOR SA), verwys as “die wit man van Engeland wat in 1983 Suid-Afrika toe gekom het om apartheid te kom geniet”. Sy het verder gemeld dat sy klagtes van crimen injuria teen Swain gelê het, dat sy druk plaas dat hy voor Kersfees in hegtenis geneem moet word, en dat sy hoop hy word vyf jaar tronkstraf opgelê. Xulu beskryf die konteks en die opmerkings as van die ergste rassisme wat hy nog beleef het.

Waarna moet ons oplet?

Xulu sê ondubbelsinnig dat daar ʼn duidelike aanslag op Christenskap en Christen-kerke is. Dit is die enigste geloof wat onderhewig is aan so ʼn ondersoek. Hy is verder van mening dat die CRL die Pinkster- en Evangelistiese kerke nog duideliker teiken as ander Christen-kerke.

Die CRL moet slegs aan sy eie statute, die Grondwet en wetgewing gehoor gee. Máár hulle ontvang staatsbefondsing en moet jaarliks aan die nasionale vergadering verslag doen asook kwartaalliks aan die portefeuljekomitee vir samewerkende regering en tradisionele sake. Die 12 kommissarisse wat in die CRL dien, word deur president Cyril Ramaphosa aangestel.

Wat moet ons hieruit leer?

Xulu se bedanking bring ʼn belangrike saak na vore: die geweldige gevaar van die sentralisering van mag. Dit is ʼn waarskuwing aan kerke om te waak teen regulering deur die staat.

Hoekom is die Christelike geloof die enigste godsdiens wat op so ʼn wyse gereguleer moet word? Wat verwag die staat van hierdie artikel 22-komitee as ʼn artikel 9-instelling? Hoe gaan die kerk haarself beskerm teen regulering en inmenging van die staat? Gaan ons naïef genoeg wees om te glo die staat wil nie kerkmag sentraliseer nie?

Hoede af vir Xulu wat met sy bedanking ʼn wesenlike kwessie bevestig. Die vryheid van kerke en die Christendom kan nog minder as die uitdeel van toebroodjies en kospakkies deur die staat gesentraliseer word.

Solidariteit Helpende Hand se 230 takke werk deurlopend saam met honderde kerke in gemeenskappe, daarom hou ons jaarliks ʼn kerkekongres.

 

Geskryf deur Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.