‘Best of Pretoria’ – Solidariteit Beweging trots op uitnemende instellings

Vier van die Solidariteit Beweging se instellings het uitgeblink in die jaarlikse “Best of Pretoria”-toekennings waar die publiek die wenners in verskeie kategorieë aanwys.

Akademia is as die wenner in die kategorie Beste Tersiêre Opleidingsinstelling aangewys en Sol-Tech is die naaswenner. Boonop het die publiek ook AfriForum Teater en Ons Winkel Pretoria-Oos as beste instellings in hul onderskeie kategorieë aangewys. Die “Best of”-gemeenskapstoekennings word landswyd deur Caxton se plaaslike koerante gereël, met Rekord Pretoria wat in die Jakarandastad daarvoor verantwoordelik is.

“Om wenners in hierdie gemeenskapsgedrewe inisiatief te wees waar mense vir hul gunsteling- plaaslike instellings kan stem, maak ons nederig dankbaar want uiteindelik het al die Solidariteit Beweging se instellings ten doel om die gemeenskap te dien,” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Akademia is as die beste tersiêre onderriginstelling aangewys. Dr. Zydèlia Venter, Akademia se hoof van bemarking en kommunikasie, sê: “Hierdie erkenning is ʼn besondere bevestiging van die gemeenskap se volgehoue vertroue in Akademia én van die waarde van dié instelling se roepingsgedrewe verbintenis tot uitnemende hoër onderwys. Ons beskou hierdie erkenning daarom nie bloot as ’n prestasie om te vier nie, maar ook as ʼn oproep om met verantwoordelikheid voort te gaan om ʼn akademiese tuiste te bied waar kennis, karakter en gemeenskapsverbintenis hand aan hand gaan. Akademia is opreg dankbaar teenoor elkeen wat deel is van sy verhaal en saam met ons aan ʼn toekoms met blywende waarde bou.”

Sol-Tech het drie toekennings ontvang: Beste tegniese beroepsopleidingskollege, beste rekenaaropleiding, en is algeheel in die tweede plek in die kategorie beste tersiêre opleidingsinstelling aangewys. “Ons is ongelooflik trots op en dankbaar oor hierdie drie toekennings. Dit is ʼn besondere erkenning van ons span se harde werk en die vertroue wat ons studente, oudstudente en gemeenskap in Sol-Tech stel,” sê Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech.

Marné Jooste, bemarking- en kommunikasiebeampte by AfriForum Teater, sê op haar beurt oor AfriForum Teater se toekenning: “AfriForum Teater is vir die tweede agtereenvolgende jaar as die beste teater in Pretoria aangewys. Dit is vir ons ʼn ongelooflike voorreg, maar ons besef dat hierdie erkenning nie net ons teater toekom nie – ons het ook van die beste teatergangers in Pretoria. Dit is mense wat saam met ons glo in die toekoms van Afrikaanse kunste en dit deur hul ondersteuning help verseker. Ons sal voortgaan om AfriForum Teater ʼn tuiskomplek vir Afrikaanse kunste te maak, waar mense bymekaarkom, goeie produksies geniet en deel word van ʼn gemeenskap wat Afrikaans op die verhoog lewendig hou.”

Oor die toekenning aan Ons Winkel Pretoria-Oos sê Johan Nel, uitvoerende direkteur van Helpende Hand Sake: “Ons is baie trots op die tweede plek wat Ons Winkel Pretoria-Oos in die Best of Pretoria-toekennings in die kategorie beste tweedehandse winkel behaal het. Die toekenning getuig van die harde werk en goeie kliëntediens wat dié winkel bied en wat meegebring het dat skenkers en kliënte vir die betrokke Ons Winkel gestem het. Ons bedank graag die publiek vir hul volgehoue ondersteuning vir die hele Ons Winkel-groep.”

Die Solidariteit Beweging is ʼn netwerk van byna 50 gemeenskapsinstellings wat glo dat Afrikaners se toekoms deur selfdoen en die krag van gemeenskap volhoubaar, vry en voorspoedig sal wees.

Solidariteit Beweging verwerp Ramaphosa se bewering oor onpatriotiese gedrag

Die Solidariteit Beweging verwerp die beskuldigings van onpatriotiese gedrag wat president Cyril Ramaphosa Maandag teen die organisasie gemaak het. Dit is ʼn deursigtige poging om ʼn sondebok en slaansak te vind vir die regering se eie diplomatieke mislukkings. Ramaphosa het die Beweging by name genoem as die rede vir die verslegtende verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA, wat Suid-Afrika se voorkeurhandelstatus ingevolge die Agoa-handelsooreenkoms bedreig, terwyl die Beweging reeds maande lank uitvoerige gesprekke met die Suid-Afrikaanse presidensie, die Amerikaanse ambassade in Pretoria en besluitnemers in Washington voer om oplossings te vind wat almal in die land sal bevoordeel.

“Ons het die afgelope vyf jaar al in die VSA voorspraak gemaak dat Suid-Afrika deel van Agoa bly, omdat dit duidelik geword het dat daar by beide partye in die VSA druk ontstaan het om Suid-Afrika uit te skop vanweë ANC-beleidsrigtings,” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

“Ons kies Suid-Afrika se kant, en nie dié van die Withuis óf Luthuli-huis nie. Hoewel ons van die ANC verskil, is ons lief vir die land. Daarom praat ons nie die land sleg nie, al kritiseer ons die regering. Ons doel is om oplossings te probeer vind vir die ANC se beleide wat die ekonomie kniehalter en nou toenemend tot internasionale spanning lei,” sê Buys.

Hoewel verskeie nuuspublikasies reeds verskoning aan die Solidariteit Beweging moes vra oor die valse bewerings dat die organisasie ʼn narratief van ʼn “white genocide” in die buiteland verkondig, hou Ramaphosa aan om die Beweging vir die ANC se foute te blameer.

Misinformasie

“Die ‘misinformasie’-etiket wat op ons rug geplak word, is ʼn poging om as weerligafleier te dien en die fokus van die eintlike probleem – die ANC-beleide ter sprake – te herlei,” verduidelik Buys. “Die enigste ‘misinformasie’ is die valse bewerings dat ons misinformasie oor die land versprei. Niemand kon nog enige bewyse verskaf om die beskuldigings te regverdig nie. Dis belaglik om te dink dat ʼn supermoondheid soos die VSA, met al sy intelligensiedienste, nie weet wat in Suid-Afrika aangaan nie en sy beleid deur ‘misinformasie’ laat bepaal.”

Die werklike redes vir die Amerikaanse regering se afwysende houding teenoor die Suid-Afrikaanse regering word onder meer in die US-South Africa Bilateral Relations Review Act of 2025 uiteengesit:

  • Strategiese belyning met Amerikaanse teenstanders: Suid-Afrika se bande met lande wat as vyandig teenoor Amerikaanse belange beskou word, veral China, Rusland en Iran.
  • Betrokkenheid by terreurorganisasies: Suid-Afrika se interaksies met Hamas.
  • Suid-Afrika se toenemende vyandige houding teenoor Israel.
  • Besorgdheid oor korrupsie en menseregte: Die VSA se voorneme om senior Suid-Afrikaanse amptenare en ANC-lede te identifiseer wat moontlik by menseregteskendings of ernstige korrupsie betrokke is.
  • Militêre samewerking: Suid-Afrika se deelname aan gesamentlike vlootoefeninge met Rusland en China vroeg in 2023, wat strydig is met Suid-Afrika se verklaarde neutraliteit.

“Die erns van hierdie lang lys besware teen die Suid-Afrikaanse regering dateer van vóór die tweede Trump-presidentskap,” beklemtoon Buys.

Feite

Buys voeg by dat die Beweging voortdurend pleit vir grondwetlikheid, funksionele instellings en selfstandigheid en dikwels ingegryp het waar die regering afwesig of oneffektief was. Te midde van die vals beskuldigings stel die Solidariteit Beweging die feite duidelik:

  • Ons het nie beweer dat grootskaalse staatsgeleide grondonteiening reeds in Suid-Afrika plaasvind nie.
  • Ons het die VSA nooit gevra om befondsing aan Suid-Afrika te sny of sanksies teen die land in te stel nie.
  • Ons het Suid-Afrika se verwydering uit Agoa aktief teengestaan en navorsing met die Amerikaanse ambassade gedeel oor die ekonomiese risiko’s vir die land.
  • Ons het die VSA aangespoor om nie Suid-Afrikaners vir die ANC se optrede te straf nie, maar eerder stappe teen korrupte individuele ANC-amptenare te doen. Die Zondo-kommissie het na bewering 97 ANC-lede geïdentifiseer wat ondersoek moet word. Tog bly betekenisvolle vordering ontwykend, wat ʼn kommerwekkende gebrek aan verantwoordbaarheid onderstreep.
  • Ons is wel in ʼn dispuut met die ANC omdat ons grondwetlike menseregte deur die omvattende rassewetgewing in die land vertrap word. Ons verskil ook met die ANC oor die regering se verbreking van ʼn ooreenkoms oor dié wetgewing wat deur die bemiddeling van die ILO bereik is, die verbreking van die grondwetlike verstandhouding oor Afrikaanse onderwys en die verbreking van ooreenkomste met ons oor dié aangeleenthede. Ons ervaar dat die ANC ons kulturele regte en ruimtes probeer ontneem. Dit alles maak ons tweedeklasburgers, hoewel ons eersteklas-belastingbetalers is en Derdewêrelds regeer word.
  • Mnr. Ramaphosa het al talle kere gesê dat Suid-Afrika oplossings vir Suid-Afrikaanse probleme moet vind, maar hy weier ons versoeke tot gesprekke en verbreek die ooreenkomste wat wel met die presidensie bereik is.
  • Ons is trotse Suid-Afrikaners en patriotiese Afrikaners, verbind tot die land se toekoms en bereid om te help om gesonde verhoudings tussen die VSA en Suid-Afrika te herstel. Dit is tyd dat die RNE die land se beleid bepaal, en nie die ANC alleen nie.

“Ons herbevestig hiermee ons onwrikbare lojaliteit teenoor Suid-Afrika en verwerp enige bewerings dat ons optrede – in landsbelang – onpatrioties is omdat ons demokraties van die ANC se rampspoedige beleidsrigtings verskil,” sluit Buys af.

Buys doen beroep op mense om ʼn nalatenskap te laat

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het Dinsdag (29 September) tydens die Helpende Hand Studietrust se sakeontbyt ʼn sterk beroep op mense gedoen om ʼn blywende nalatenskap te laat.

Die geleentheid, wat in samewerking met Akademia aangebied is, het op Akademia se Leriba-kampus in Centurion plaasgevind. Sakeleiers is genooi na ʼn inspirerende oggend waartydens gassprekers soos dr. Steve Booysen, Flip Buys, Hannes Noëth en Dawie Roodt die waarde van nalatenskap onder die loep geneem het.

Die Studietrust bied jaarliks studiehulp ter waarde van R75 miljoen aan meer as 1 200 studente. Buys het benadruk dat ʼn samelewing slegs kan vooruitgaan as elke geslag vir die volgende een leef.

“Studiehulp is die beste moontlike belegging. Hierdie studiehulp is ʼn helpende hand, en nie ʼn bedelhand of ʼn eisvuis nie,” het Buys gesê. Terwyl NSFAS (die Nasionale Studentehulpskema) gereeld in die nuus is weens wanbestuur, spog die Studietrust met ʼn merkwaardige 99%-terugbetalingskoers en jarelange skoon oudits.

“Dit beteken dat die geslag wat ons nou help, ook begryp dat elke geslag vir die volgende geslag moet leef, want met elke terugbetaling word ʼn volgende student weer gehelp. Gratis studie is op die lange duur alles verniet,” het Buys verduidelik.

Volgens Buys spruit huidige voorspoed uit voorouers se kulturele beleggings, wat nou opnuut aangevul moet word deur ʼn Sol-Tech en Akademia te bou. “Kultuur is ʼn verbond tussen geslagte – ʼn agting vir die vorige, ʼn liefde vir die volgende en ʼn verantwoordelikheid vir beide.”

Die Studietrust is bepalend vir die sukses van die nuwe kampus, en Buys het ʼn beroep op almal gedoen om dr. Anton Rupert se woorde uit te voer: “ʼn Klein volk moet groot dink en groot doen.”

Maak ʼn donasie – of eerder ʼn belégging – hier: https://hh-studietrust.co.za/donasie/.

Afrikaners was nog nooit so verenig nie

Die ou wysheid lui dat as drie Afrikaners ‘n dorp stig, hulle kort daarna vier kerke stig. Dit het al amper ‘n volksmite geword dat Afrikaners altyd heftig verskil en daar gevolglik altyd ten minste twee kampe Afrikaners is oor enige onderwerp. Ons geskiedenis wys ook dat Afrikaners inderdaad heftig kan polariseer rondom sake van die dag.

Tog, met die verbrokkeling van die nuwe Suid-Afrika se regeerstelsel en Afrikaners se besef en verwerk van hulle status as minderheidsgroep, het hierdie ou waarheid plek gemaak vir ‘n nuwe werklikheid.

As sigbare en kwesbare minderheid is Afrikaners vandag verenig soos min vantevore in ons geskiedenis. Dit is ‘n mite dat daar vandag weer een of twee of meer gelykwaardige opponerende kampe bestaan.

Verskeie stukke navorsing onder Afrikaners toon dat daar inderwaarheid ‘n breë eenstemmigheid ontstaan het die afgelope dekade.

Navorsing

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) onderneem gereeld ‘n verteenwoordigende profielstudie[i] onder Afrikaners. Eenvoudig gestel is dit ‘n navorsingstuk gedoen onder Afrikaners (lede en nie-lede) wat probeer om Afrikaners se vrese, drome en geleefde werklikheid vas te vang.

In 2025 het die SNI ook verskeie fokusgroepe onder Afrikaners van alle ouderdomme gedoen, uitdruklik Afrikaners wat nie lid van enige instelling van die Solidariteit Beweging is nie.

Laastens is daar in Desember 2025 navorsing onderneem deur Ground Control Research (GCR)[ii] onder Afrikaners van reg oor die land wat menings en sienings oor verskeie kwessies getoets het. Al drie hierdie stukke navorsing toon bepaalde neigings wat met mekaar ooreenstem.

Kultuur

Een van die belangrikste neigings is dat Afrikaners weereens met trots na hulleself verwys as Afrikaners. Afrikaner as term het vir groot dele van die nuwe Suid-Afrika agterweë gebly. So byvoorbeeld het slegs 40% van Afrikaners in die SNI se 2019-profielstudie na hulleself as Afrikaners verwys. Hierdie syfer het dramaties gestyg tot ongeveer 80% van Afrikaners in die 2024-studie. Dit is selfs vóór die Amerikaanse president die term Afrikaner weer internasionaal bekend gemaak het in Februarie 2025.

Die hernude omarming van die term Afrikaner gaan gepaard met ‘n kultuurtrots wat nuwe lewe gekry het. Afrikanerkultuur word deur respondente aan die SNI-profielstudie primêr beskryf as Christelik (90%), Afrikaans (88%), lief vir hulle gesinne (77,5%) en hardwerkend (76,7%).

Amper 9 uit 10 Afrikaners beskryf hulleself as trots op hulle kultuur en stel dat dit ‘n belangrike deel van hulle daaglikse lewe uitmaak.

Hierdie verskynsel vind ook neerslag in die GCR-navorsing wat daarop dui dat Geloftedag as ‘n belangrike dag beskou word deur 8 uit 10 Afrikaners, met 82% van Afrikaners tussen 25 en 34 wat aandui dat hulle persoonlik Geloftedag vier.

Die neiging van jonger Afrikaners wat trotser op hulle kultuur is as ouer garde is een wat deurentyd waargeneem word; dit dui op ‘n jonger geslag wat onbeskaamd hulleself as Afrikaners sien.

Diskriminasie en selfstandigheid

Die ander neiging wat duidelik na vore tree uit die 2024 SNI-profielstudie is dat Afrikaners toenemend vervreem, onderdruk en soos tweedeklasburgers voel. Ten spyte daarvan, is Afrikaners nog onwrikbaar deel van Suid-Afrika en baie lief vir hulle land – hulle hou net werklik niks van die ANC-regering nie.

Terselfdertyd voel die meerderheid Afrikaners dat daar tans teen hulle gediskrimineer word. Amper 4 uit 5 Afrikaners vanuit GCR se studie dui aan hulle glo wit Suid-Afrikaners word deesdae meer benadeel as ander bevolkingsgroepe.

Dit eggo resultate van ‘n 2021-SNI-studie oor rasseklassifikasie waar meer as 95% van respondente[iii] aangedui het dat hulle glo sekere rassegroepe het meer regte as ander in Suid-Afrika.

Harde raswerklikhede word daagliks deur Afrikaners beleef in Suid-Afrika. Die beste kandidate word afgekeur, kinders word spanplek ontsê en besighede verloor kontrakte bloot weens hulle velkleur.

Fokusgroepdeelnemers in 2025 eggo die sentiment met geweldige kommer wat uitgespreek word oor “gaan daar vir my kinders werk wees weens hulle velkleur”.

Uiteindelik het die regering se aandrang om hulp tydens die covid-19-pandemie op grond van ras uit te deel ‘n finale besef in Afrikaners wakker gemaak. Eenvoudig gestel het die meerderheid Afrikaners besef ons is op ons eie en gaan na onsself moet kyk, want niemand anders gaan dit doen nie.

‘n Mens sien hierdie drang na groter onafhanklikheid en selfstandigheid vir Afrikaners uit al drie studies se resultate.

Volgens respondente van die 2024-SNI-profielstudie is die drie belangrikste dinge wat gedoen moet word om die Afrikanerkultuur se toekoms te verseker om, eerstens Afrikanerbesighede ekonomies te ondersteun (86,4%), tweedens Afrikaners in diens te neem (86%) en derdens gesinswaardes te versterk (86%).

Buiten ekonomiese selfstandigheid is die daaropvolgende drie dinge wat gedoen moet word, om Afrikaners se toekoms te verseker:

  • Afrikaanse onderwys en vaardigheidsontwikkeling moet bevorder word (85%);

  • Deelname aan gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe (84%);

  • Aktiewe betrokkenheid by organisasies soos Solidariteit, AfriForum en Helpende Hand (82%).

Hierdie behoefte aan groter selfstandigheid word geëggo in GCR se studie, waar ongeveer 77% van respondente aangedui het Afrikaners behoort te mik vir groter selfbeskikking.

Opleiding

Opvoeding en opleiding lê nog altyd besonder na aan Afrikaner-harte, van die Trap der Jeugd op Voortrekkerwaens tot hedendaagse ouerbetrokkenheid by skoolaktiwiteite. Inteendeel, naas kerke is skole die instelling waar Afrikaners die meeste betrokke is in hulle gemeenskap.

Afrikaners is passievol oor Afrikaanse onderrig met 3 uit 4 in die 2024-SNI-profielstudie wat glo kinders moet onderrig in Afrikaans ontvang en 7 uit 10 wat stel dat Afrikanerkinders na ‘n Afrikaanse universiteit toe moet kan gaan. Afrikaners vereenselwig Afrikaanse onderrig met die oordrag van morele waardes (85%), dissipline (85%) en Christelike beginsels (83%).

Terselfdertyd voel 4 uit 5 Afrikaners dat Afrikaans onderdruk word. Die werklikheid van oorvol Afrikaanse skole wat onder toenemende druk kom deur die departement tref iets diep in die psige van Afrikaners. Hierdie bekommernis oor kinders se vermoë om wêreldklasopleiding in Afrikaans te ontvang, kom ook uit in die fokusgroepe van 2025. Sentimente soos “Afrikaner-organisasies moet skole en die jongmense ondersteun” en “ek is bekommerd oor kinders se toekoms, opleiding en onderwys” is volop.

In die lig hiervan maak die geweldige ontsteltenis van Afrikaners met die Bela-wetgewing, asook die ongelooflike positiwiteit en geesdrift teenoor Sol-Tech en Akademia sin. Opleiding lê naby aan Afrikaner-harte.

Toekomsverwagting

Wanneer Afrikaners praat oor die toekoms is daar twee sieninge wat na vore kom.

Die eerste is dat die huidige regering en regeerstelsel nie ‘n beter toekoms kan bewerkstellig nie. In die SNI-profielstudie dui omtrent die helfte van respondente aan dat hulle geen hoop het vir ‘n verbetering in regeringskorrupsie (49%) en misdaad (48,5%) nie.

GCR se navorsing dui ook die sentiment aan met 8 uit 10 Afrikaners wat daar aandui dat hulle minder hoop vir Suid-Afrika vandag het as met die aanvang van demokrasie in 1994.

Afrikaners voel neerslagtig wanneer hulle oor die toekoms van Suid-Afrika vanaf ‘n regeringsperspektief praat. Daar is min na geen vertroue of hoop dat die bestaande regeerstrukture kan herstel of ‘n beter toekoms bewerkstellig nie.

Die tweede siening wat Afrikaners terselfdertyd huldig, is dat Afrikaners ten spyte van die regering ‘n toekoms gaan uitkerf. Ongeveer 3 uit 4 glo dat Afrikaners die reg het om ‘n voorspoedige toekoms vir hulleself te verseker, dat Afrikaners kan saamwerk om hierdie toekoms te bewerkstellig en dat Afrikaners die vermoë het om ‘n voorspoedige toekoms vir hulleself te verseker, aldus die SNI-profielstudie.

Op ‘n vraag oor wat jou die meeste hoop gee vir die toekoms, is die opsie wat in die SNI-profielstudie kop en skouers bo alle ander uitstaan dat Afrikaners hoop Afrikanerorganisasies soos Solidariteit, AfriForum en Helpende Hand ‘n beter toekoms kan bewerkstellig.

Hierdie gevoel rondom Solidariteit word weereens geëggo in GCR se studie: 9 uit 10 respondente het kennis van Solidariteit en AfriForum en ongeveer 4 uit 5 respondente huldig ‘n positiewe siening oor Solidariteit en AfriForum en die werk wat hulle doen.

Uit die 2025-fokusgroepe kom dieselfde sentiment. Afrikaners voel Solidariteit en sy instellings moet dien as skans teen die regering se vergrype, namens Afrikaners intree, Afrikaanse opvoeding ondersteun, Afrikaners help om te werk en vir Afrikaners hoop skep.

Gevolgtrekking

Afrikaners het stilweg dog beslis beweeg na ‘n soort Afrikaner-konsensus oor hulle eie kultuuridentiteit asook die nodige oplossings om ‘n toekoms vir Afrikaners in Suid-Afrika te verseker.

Die drie stukke navorsing toon dat Afrikaners trots op hulle kultuur en lief is vir Suid-Afrika. Hulle ervaar geen spanning tussen hulle kultuurgemeenskap uitbou en terselfdertyd ‘n burger van die land wees nie. Inteendeel, hulle voel dat die twee hand-aan-hand loop en onlosmaaklik deel van mekaar is.

Afrikaners voel uitgestoot, vervreem en onderdruk in Suid-Afrika. Die ANC-regering word as vyandig ervaar met sy blinde ras-ideologie en verdelende rasseretoriek.

Afrikaners se antwoord op hierdie vyandigheid is selfstandigheid en onafhanklikheid, terwyl daar waar moontlik met ander groepe saamgewerk word. Afrikaners glo dat ons as gemeenskap die reg, verantwoordelikheid en vermoë het om ons eie toekoms te verseker, want niks of niemand anders gaan nie.

Afrikaners, of hulle lede van die Solidariteit Beweging is of nie, skep moed uit die werk van die Beweging. Afrikaners is positief oor en dankbaar vir die werk wat dié instellings doen.

Ná die heftige verdeling van die Afrikanerdom in die 1980’s het drie dekades van die ANC se nuwe Suid-Afrika ons saamgesnoer tot op die huidige punt waar Afrikaners meer verenig is as ooit tevore.

Alhoewel daar nog verskille is oor kleiner detail, stem die oorweldigende meerderheid Afrikaners saam oor die meeste van die groot kwessies en wat hul oplossings behoort te wees.

Ons is onbeskaamd Afrikaners en hier om te bly.

Ons word sleg deur die ANC-regering hanteer, maar ons sal ten spyte daarvan slaag.

Ons kom goed oor die weg met ons medelandsburgers en gun elkeen ‘n plekkie in die son.

Ons gaan met genade van Bo en deur Afrikaner-instellings sélf ‘n toekoms bou.

 

Geskryf deur Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

 

[i] 1 200 respondente
[ii] 1 000 respondente
[iii] 4 857 respondente

Solidariteit Beweging maak vyf antwoorde op die VSA se versoeke bekend

Uitgereik deur die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel; en die uitvoerende hoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann.

Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, het vandag vyf antwoorde op die VSA se vyf versoeke bekendgemaak. Die Amerikaanse regering het verlede jaar vyf versoeke aan die Suid-Afrikaanse regering gerig oor kwessies wat ʼn geskil tussen die twee lande ontketen het.

Die Solidariteit Beweging se vyf antwoorde het ten doel om oplossings vir die politieke en diplomatieke geskil tussen die twee lande te vind. Ons is daarvan oortuig dat dit in Suid-Afrika se nasionale belang is om goeie betrekkinge met die VSA te handhaaf, net soos met ander moondhede.

Die antwoorde handel oor kwessies soos rassewette, landelike veiligheid, “Kill the Boer”, eiendomsreg en die vlugtelingprogram. Die doel van die antwoorde is nie net om handelsbetrekkinge te herstel nie, maar ook om oplossings vir kritieke brandpunte in Suid-Afrika te vind. Ons wil dit duidelik stel dat ons uitgangspunt is om Suid-Afrika se kant te kies, en nie dié van die Withuis of Luthuli-huis nie. Ons voel ook sterk oor die handhawing van Suid-Afrika se soewereiniteit, maar glo dat dit nie gelyk gestel kan word aan die ANC se soewereiniteit nie. Kiesers het vir ʼn regering van nasionale eenheid (RNE) gestem. Ons glo as die ander partye in die RNE by die formulering van buitelandse beleid betrek word, ʼn oplossing vinnig binne die raamwerk van die Grondwet en ʼn onverbonde buitelandse beleid gevind sal kan word.

Dit is in Suid-Afrika se belang dat antwoorde op Amerikaanse versoeke gevind word. Ons glo die oplossings moet eers in Pretoria en daarna in Washington gevind word. Ons het groot verskille met die regering, maar ons is lief vir ons land en is diep bekommerd oor die uitwerking van langdurige diplomatieke geskille op Suid-Afrika se ekonomie en internasionale beeld.

Maande lange gesprekke

Die voorgestelde vyf antwoorde is die uitkoms van maande se werk, wat besoeke aan die Verenigde State, uitvoerige gesprekke met die Suid-Afrikaanse presidensie en deurlopende skakeling met die Amerikaanse ambassade in Pretoria, asook met besluitnemers in Washington ingesluit het. Ons beplan om steeds in gesprek hieroor met albei regerings te bly.

Ons glo die regerings kan mekaar vind. Ons vra dat voorwaardes in werking gestel moet word om die spanning te de-eskaleer en om gesprekke tussen die regerings te hervat. Dit behels onder meer ʼn bona fide-verbintenis om oplossings te vind en die wil om besluite te neem wat dit moontlik maak.

Ons vyf antwoorde val binne Suid-Afrika se grondwetlike raamwerk en bied terselfdertyd antwoorde op die Amerikaners se versoeke.

Dit is nie eise of ‘n lys van klagtes nie, maar praktiese antwoorde. Die Amerikaanse regering het breë beginselgoedkeuring aan ons vyf antwoorde verleen en ons glo dat dit ook vir die Suid-Afrikaanse regering aanvaarbaar kan wees indien die politieke wil bestaan.

Ons is uiters bekommerd dat die optrede teen Suid-Afrika gaan verskerp. Wanneer Suid-Afrika vir swak beleid en vyandige houdings teenoor ons handelsvennote gestraf word, is dit nie ministers wat die rekening kry nie, maar die vrugteboer in die Wes-Kaap, die fabriekwerker by ʼn motoraanleg in die Oos-Kaap en die sakeman in die Vaaldriehoek wat daarvoor betaal. Ons beleef dat die ANC teen sy eie mense regeer.

Die Suid-Afrikaanse regering maak dit baie moeilik om ʼn skikking tussen die twee lande te bereik. Daar is ʼn lang geskiedenis van keuses en uitsprake teen die Amerikaanse regering. Die spanning tussen Suid-Afrika en die Verenigde State bou al meer as 15 jaar op, sedert die Obama-jare en die aansluiting by Brics in 2010. Die onlangse uitsprake van Suid-Afrika se minister van buitelandse betrekkinge en samewerking, Ronald Lamola, was nog ʼn bevestiging daarvan. Dit is ʼn terugslag vir die Solidariteit Beweging se jare lange steunwerwing in die VSA vir Suid-Afrika se deelname aan Agoa.

Daar is ook ʼn direkte verband tussen die ondertekening van die Onteieningswet en president Trump se uitvoerende bevel van 7 Februarie 2025. Suid-Afrika se buitelandse beleid het ook die Amerikaanse administrasie deurlopend vervreem.

Ten spyte van hierdie verband is gepoog om die Solidariteit Beweging, AfriForum en Solidariteit die skuld vir die verslegtende verhouding te gee. Ons verwerp hierdie soeke na ʼn sondebok vir die ANC se powere diplomatieke skakeling met die VSA. Ons weier om ʼn pion in ʼn diplomatieke skaakspel tussen twee regerings te wees. Hoewel ons nie die oorsaak van die probleem is nie, sal ons saamwerk om ʼn oplossing te vind.

Amerika bly Suid-Afrika se grootste handelsvennoot en 500 000 poste is afhanklik van handel met Amerika. Ons is uiters bekommerd dat strenger strafmaatreëls Suid-Afrika se deelname aan Agoa kan bedreig. ʼn Hersieningsproses om te bepaal watter Afrikalande volgende jaar vir deelname aan Agoa sal kwalifiseer, is tans in die Withuis aan die gang. Gebeure die afgelope twee weke veroorsaak dat daar ʼn wesenlike kans bestaan dat Suid-Afrika van Agoa uitgesluit kan word. Die Withuis sal waarskynlik voor November ʼn aankondiging hieroor maak. Daar is dus ʼn dringendheid om ʼn oplossing te vind.

Om ʼn oplossing te vind vir die geskil tussen die twee lande het niks met Suid-Afrika se soewereiniteit te make nie, en dit bedreig vir seker nie die land se reg om oor sy eie sake te besluit nie. Elke regering het egter wel ʼn reg, maar ook ʼn plig teenoor sy burgers om as soewereine rolspeler oplossings in belang van die land te vind.

Die Solidariteit Beweging se antwoorde kan soos volg opgesom word:

Rassewette

Die regering moet instem dat rassewette, soos wat internasionale konvensies bepaal, uitgefaseer sal word. Intussen sal rasneutrale ekwiteitsekwivalente, wat eienaarskapsvereistes vervang, vir sowel multinasionale as plaaslike maatskappye aanvaar word. Die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering, wat onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) bereik is, en wat beperkings op rassewette in die werkplek plaas, sal in die Staatskoerant gepubliseer word.

Rasneutrale metodes van werknemerbemagtiging sal as voorkeurmeganismes vir bemagtiging deur eienaarskap aanvaar word. Mense se sosio-ekonomiese posisie, eerder as ras, sal gedurende die uitfaseringsproses as maatstaf gebruik word. Jongmense wat ná 1994 gebore is, sal ook as deel van die aangewese groep beskou word.

Landelike veiligheid

Die regering sal plaasmoorde en misdaad in plattelandse gebiede, soos in die geval van bendegeweld en renosterstropery, tot prioriteitsmisdade verklaar. ʼn Amptelike gemeenskapveiligheidsvennootskap sal gestig word waarin die SAPD, die privaat veiligheidsbedryf en gemeenskapsorganisasies soos AfriForum gelyke verteenwoordiging sal hê.

Die SAPD se bestaande landelike beveiligingstrategie sal uitgebrei word om veel groter betrokkenheid deur gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe moontlik te maak. AfriForum het reeds ʼn omvattende gemeenskapsveiligheidsplan vir landelike veiligheid opgestel en aan die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse regerings oorhandig. ʼn Nasionale gemeenskapsveiligheidsforum sal gestig word om die uitvoering van die Beveiligingsplan te monitor. Die Amerikaanse regering sal deur die forum met befondsing, kundigheid en die verskaffing van toerusting help.

‘Kill the Boer’

Die sing van “Kill the Boer” is, in die hedendaagse konteks, een van die ernstigste brandpunte. Daar moet ooreengekom word dat pres. Ramaphosa en senior regeringsleiers die sing van “Kill the Boer”, asook enige ander haatverwante slagspreuke teen minderhede, onvoorwaardelik sal veroordeel.

Ons belewing is nie dat ʼn grootskaalse regeringsgedrewe volksmoord (“genocide”) hier plaasvind nie, maar ons ervaar wel dat die ANC Afrikaners se voortbestaan teiken deur omvattende rassewetgewing, die onderspeling van plaasmoorde, aanvalle op ons taal en kultuur deur wetgewing soos Bela, en die verbreking van ooreenkomste wat die regering met ons daaroor aangegaan het.

Vlugtelingprogram

Die vlugtelingprogram bestaan reeds. Die regerings van die VSA en Suid-Afrika moet ooreenkom dat individue wat van die program wil gebruikmaak, toegelaat moet word om die proses sonder benadeling te volg. Minder as 1% van Afrikaners sal hulle waarskynlik in die VSA gaan vestig. Die Solidariteit Beweging is nie betrokke by hierdie program nie omdat ons glo dat ons toekoms in Suid-Afrika is en ons aan oplossings vir knelpunte hier werk.

Daar moet ooreengekom word dat ʼn direkte kanaal tussen die Amerikaanse administrasie en die Solidariteit Beweging gevestig sal word, onder meer met die oog op die stigting van ʼn Afrikaner-ontwikkelingsfonds. Dié fonds kan help met die ontwikkeling van opleidings- en kulturele infrastruktuur vir die Afrikanergemeenskap.

Gesprekke sal ook tussen die Solidariteit Beweging en die Amerikaanse administrasie gevoer word oor die uitvoer van vaardighede na daardie land deur middel van aanlyn werk, sonder dat mense Suid-Afrika hoef te verlaat.

Onteiening sonder vergoeding

Die regerings van die VSA en Suid-Afrika neem kennis van die hangende hofsaak in dié verband, maar is steeds van mening dat ʼn skikking verkieslik is bo ʼn hofsaak. In die lig hiervan moet artikel 12(3) van die Onteieningswet geskrap word. Artikel 19(2) moet gewysig word om te voorkom dat grond onteien word voordat ʼn hof ʼn finale beslissing gelewer het. Verdere wysigings moet aangebring word om te verseker dat eiendomsreg beskerm word soos deur die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal.

In diens van iets Groter as onsself

Akademia is ʼn pragtige projek.Dit is nie benoud nie. Dit weet presies wie dit is en is terselfdertyd verwelkomend. Die hele projek spreek van uitnemendheid – van die akademie tot die bouwerk. Wêreldklas, in Afrikaans.

Dit is Afrikaans en is daar vir die groot Afrikaanse gemeenskap én vir elkeen wat in Afrikaans wil studeer. Dit sluit juis studente in wat in Afrikaans wil studeer, maar op ander plekke uitgesluit word.

Dit staan te midde van die groot Westerse universiteitstradisie wat die wetenskap onbevange oopbreek binne die onbeperkte omvang van Sy skepping.

Dit vorm studente, en juis dít maak Akademia-studente gesog in die arbeidsmark. Hulle ontwikkel ʼn begrip van die geheel en van die ware, die goeie en die skone. Dit is die basis vir goeie werk.

Die analogie is Sol-Tech, wat in Afrikaans oplei en werkgewers oor die hele spektrum in rye staan om dié studente in diens te neem.

Akademia en Sol-Tech lei studente só op dat hulle ook gemaklik in ʼn Engelse wêreld kan werk.

Akademia het ʼn mooi storie.

Die begin was sowat 20 jaar gelede, toe Solidariteit-lede ingestem het om elk R10 per maand ekstra ledegeld te betaal vir ʼn Solidariteit Boufonds.

Dit was ons Dawidsklippies waarmee groot uitdagings oorwin moes word.

Eers is Sol-Tech begin en daarna Akademia. Beide Sol-Tech en Akademia is binne die grondwetlike raamwerk van Suid-Afrika gevestig.

Gewone mense wat werk, het hul bietjies gegee om iets groots te bou. Die grootste daarvan was vir hulle kinders en die gemeenskap.

Later het Solidariteit-lede nog R5 per maand vir studiehulp bygedra.

Hulle was groter as hulself, want bykans 20 jaar later word ander se kinders gehelp wat toe skaars gebore was en wie se name hulle nie eens geken het nie. Dít is die krag van gemeenskap.

Solidariteit-lede het ʼn daad verrig wat groter as hulself was. Hulle het gesê: “Ons beperk hierdie groot instellings nie net tot Solidariteit-lede nie, maar stel dit tot voordeel van die groter Afrikanergemeenskap, asook tot die groter kultuur- en Afrikaanse taalgemeenskap.”

Dit is ʼn gedeelde geskenk aan ʼn groter idee en juis daarom is dit nie om weg te gee nie. Dit is bloot onder rentmeesterskap vir die volgende generasie. Die gemeenskap is gevra om dit saam met ons te bewaar.

Die Solidariteit-lede was en is onbaatsugtig in diens van ʼn groter gemeenskap.

Solidariteit-lede was ook sentraal tot die oprigting van die ontwikkelingsmaatskappy, Kanton, wat eers die Sol-Tech-kampus gebou het en nou die Akademia-kampus bou.

Eers het Solidariteit sy eie geboue in die Kanton-portefeulje geplaas, waarborge is gegee en bates is in aandele omskep.

Dit het die bou van die Sol-Tech-kampus moontlik gemaak en die voorwaardes geskep vir die bou van die Akademia-kampus.

Maar nooit het Solidariteit-lede gesê: “Dit is net ons s’n nie.” Hulle het met dankbaarheid iets gebou vir hulle lede en dié se kinders, maar tot voordeel van die Afrikaanse gemeenskap en as ʼn kleinood vir die toekoms.

Akademia word nou só ʼn kleinood vir die Afrikaanse gemeenskap: ʼn geskenk deur gewone mense wat werk. Nederig begin, trots sien groei.

Vir hierdie groot Afrikaanse kleinood word daar nou deur Kanton ʼn kampus gebou. Die eerste fase beloop R1,8 miljard en die volledige projek meer as R3 miljard.

Die betrokkenheid word al groter. Eers het meer mense tot die Solidariteit Boufonds begin bydra om Akademia sterk te maak. Groot trusts het onbaatsugtig gehelp, en nou begin groter beleggers by Kanton betrokke raak om die kampus te bou.

Grond is gekoop en planne vorder goed vir ʼn kampus in die Paarl.

Solidariteit het nooit probeer om sy inisiatief benoud vir homself te hou nie.

Dit was altyd in diens van iets groters: ʼn groter gemeenskap. En dié groter gemeenskap begin nou al hoe meer betrokke raak. Dit raak ʼn sneeubal.

Daar is dié wat betrokke raak en help bou, en dan is daar kantkommentators wat kritiek lewer en wil breek.

Op die kantlyn skree hulle op Akademia en het hulle die vermetelheid om te wil voorskryf hoe dit moet lyk en wees.

Hulle het nie eens ʼn enkele R10 bygedra nie. Hulle was nie by die sweet en risiko van die begin betrokke nie en is selfs nou nie betrokke nie. Dit word ook nie met hulle belastinggeld gebou nie.

Solidariteit-lede het met hulle bietjies begin, dit in diens van ʼn groter gemeenskap gestel, en nou dink onbetrokke kommentators hulle kan die idee van Akademia vat en voorskryf.

Vir jare het hulle niks gedoen nie. Noudat daar iets is, raak hulle steeds nie betrokke nie, maar lewer hulle kritiek en skryf voor. Hulle is welkom om hulle eie iets te begin. Ons sal nie daarop kritiek lewer nie.

Intussen gaan ons almal voort om aan iets veel groter as onsself te bou. In diens van iets groter as onsself.

Dít is die energie van Akademia en van die hele Solidariteit Beweging.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Só vorder die strategie met ankerdorpe

Die Solidariteit Beweging se Ankerdorpstrategie se doel is om noodsaaklike dienste in stede en streeksdorpe te help verbeter. Só help ons hulle versterk dat die kleiner omliggende dorpe daarvanaf gediens kan word. ‘n Ankerdorp funksioneer byna soos ‘n groot ankerwinkel in ‘n winkelsentrum, wat help om die omliggende kleiner winkels ook lewensvatbaar te maak. Afrikaners se uitdaging is nie klein getalle nie, maar yl verspreiding, en die ankerstrategie is terselfdertyd ‘n konsentrasie strategie.

Hoewel daar ‘n lys ankerdorpe bekendgestel is, was die ankerstrategie meer ‘n sentrale idee as ‘n vasgestelde lys. Die uitdaging is dat stede en dorpe buite die Weskaap meestal swak regeer word. Doeltreffende munisipale dienste soos water, elektrisiteit, sanitasie en paaie verval as gevolg daarvan op baie plekke. Sake ondernemings begin dan swaartrek, noodsaaklike instellings soos skole en ouetehuise kom onder groot druk, en misdaad neem toe. Die kantelpunt kom wanneer ‘n kritiese massa ondernemings, hoër inkomstegroepe en goed opgeleide mense wegtrek. Dit dra by tot die verarming van die omliggende streek, wat daartoe lei dat al meer werkloses na informele behuising rondom die dorpe gaan bly. Die gevolg is ‘n knyptang van ‘n afname in munispale inkomste, en ‘n gelyktydige styging in uitgawes aan munisipale dienste wat uiteindelik die dorpies knak.

Pretoria

Die proses voltrek homself reeds vir die afgelope twee dekades. Die meer welvarende mense wyk uit na stede en streeksdorpe. Daar vorm hulle groter konsentrasiepunte wat dienste soos onderwys, bejaardesorg en veiligheid meer lewensvatbaar maak. Die Pretoria omgewing is die grootste konsentrasie van Afrikaners, en vorm die fokuspunt van die Ankerstrategie. AfriForum het ‘n ooreenkoms met die Munispaliteit om met diensverbeterings te help, wat strek vanaf die verbetering van paaie, die verfraaiing van openbare ruimtes en parke, en die opknapping van sekere infrastruktuur. Voltydse AfriForm Buurtspanne werk hieraan. Misdaad is ook ‘n groot fokuspunt, met voltyde personeel en ‘n Nasionale Beheerkamer as spilpunt van die veiligheidstrategie.

Tweedens het die Beweging ‘n omvattende kulturele ekostelsel in Pretoria gevestig, Dit strek vanaf die kampusse van Sol-Tech en Akademia, en die hoofkantore van Solidariteit, AfriForum, die Solidariteit Helpende hand, die Skole Ondersteuningsentrum, sentrums vir weerlose kinders, en die ander instellings van die Solidariteit Beweging. Omvattende gemeenskapsdienste word hiervandaan gelewer, wat strek vanaf die bewaring van monumente en erfenisse deur die FAK, ‘n wye reeks regsdienste, bystand aan skole, en projekte om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder soos AfriForum se Teater.

Munisipale dienste

Die onmoontlike uitdaging vir gemeenskapsorganisasies soos die Solidariteit Beweging, is om al meer “staatsdienste” sonder staatsinkomste soos belasting te lewer. Daarom rus die Ankerstrategie op vier bene. Die eerste been is om AfriForum takke daar te vestig, en hulle uitvoerende vermoë om noodsaaklike dienste te lewer uit te bou. AfriForum het in 2025 meer as R200 miljoen spandeer om dorpe en stede met die hulp van duisende vrywilligers meer volhoubaar te maak.

Die tweede been is om met die plaaslike owerhede te skakel en saam te werk waar dit moontlik is. Verskeie samewerkingsooreenkomste is reeds met metro’s soos Tswane en Kaapstad gesluit, asook met talle kleiner dorpe. Terselfdertyd word munisipaliteite verantwoordelik gehou om hulle wetlike funksies waarvoor hulle verkies, betaal en befonds word uit belastinggeld, na behore uit te voer. Spesiale moeite word gedoen om na die nie-Afrikaanse gemeenskappe uit te reik om samewerking op “horisontale” vlak te bevorder, met die doel dat dit uiteindelik “vertikale” samewerking (met die stadsraad) sal aanhelp. Derdens word daar “ons sal self” Afrikaanse gemeenskapsforums gestig wat as ‘n soort “vierde” regeringsfeer op gemeenskapsvlak werk naas die nasionale-, provinsiale- en plaaslike regering.

Daar is reeds 24 Buurtspanne in Ankerdorpe aangestel, wat dienste lewer soos vullisverwydering, herwinning, skoonmaak, grassny en die herstel van infrastruktuur soos paaie. Hierdie spanne word sover moontlik toegerus met noodsaaklike toerusting soos bakkies en sleepwaens, trekkers, grassnyers en selfs enkele vragmotors en watertenkers waar nodig.

Wes-Kaap

Die Weskaap is ‘n spesiale fokus vir AfriForum, omdat die provinsie beter regeer word, ons toegang tot die provinsiale owerheid en goeie samewerking met stadsrade het. Daar is ook wye ondersteuning vir die idee van afwenteling van magte vanaf die sentrale regering na die provinsie. Die werksaamhede verskil met die van ander provinsies, en daar is bv ‘n groter behoefte aan die verbetering van veiligheid as aan die opknapping van munisipale dienste.

Veiligheid

Die verbetering van ‘n dorp begin by die opknapping van veiligheid. Daarom het AfriForum sowat 170 buurt- en plaaswagte, en word waar moontlik met Sekuriteitsfirmas en die plaaslike polisie saamgewerk.

AfriForum het in 2025 bykans R70 miljoen rand aan gemeenskapsveiligheid bestee. Die Buurtwagte word goed opgelei, en sover moontlik met hommeltuie, moderne tweeriging radiotoerusting en ander tegnologie toegerus. Die Buurtwagte word bygestaan deur nasionale- en streeksbeheerkamers, vanwaar honderde kameras gemonitor en reaksiepersoneel uitgestuur word. Daar is ook reeds in 33 gemeenskappe opgeleide vrywillige Traumaberaders wat ondersteuning aan slagoffers van misdaad bied.

Regsaksies

Dit is gereeld nodig om regsaksies te onderneem om munisipaliteite te dwing om hulle wetlike verpligtinge na te kom. Daar word ook gekeer dat buitensporige tariefverhogings of nuwe tariewe ingestel word sonder dat inwoners dienste kry waarvoor hulle betaal. AfriForum het al bv regsgeskiedenis gemaak toe die Appélhof ‘n aansoek toegestaan het om die disfunksionele stadsraad van Parys te ontbind. In ander sake het die howe bevele uitgereik dat sekere stadsrade met AfriForum moét saamwerk om bepaalde dienste te verbeter.

Gemeenskapsdienste

Die Solidariteit vakbond het kantore in feitlik alle stede en streeksdorpe, vanwaar ‘n wye reeks werksdienste gelewer word. Die Helpende hand help met noodvoeding by skole aan meer as 8 000 kleuters landswyd, en gee studiehulp ter waarde van meer as R70 miloen jaarliks aan meer as ‘n duisend studente. Hulle is ook betrokke by dienste aan bejaardes by sowat 250 Ouetehuise in die land. Die Helpende hand ondersteun Afrikaanse leerders in die platteland waar daar nie Afrikaanse skole is nie, en help met vervoer en koshuisverblyf op groter streeksdorpe. AfriForum ondersteun ook Afrikaanse sport, wat wissel vanaf die uitsendings van sportgeleenthede op AfriForum TV en borgskappe aan groter geleenthede soos die Bokkieweek.

Die SOS lewer ondersteuningsdienste aan honderde Afrikaanse skole, gee opleiding aan sowat 12 000 onderwysers per jaar, terwyl die SOS se Wolkskool duisende Afrikaanse leerders deur moderne tegnologie en hulpmiddels help.

Dis belangrik om te noem dat die konsentrasiestrategie nie ‘n eenvormige bloudruk kan wees wat dieselfde op elke plek toegepas kan word nie. Dit moet pasgemaak word vir elke plek se eiesoortige omstandighede. Bloemfontein in die Manguang is bv die swakste bestuurde metro in die land, en AfriForum Buurtspanne doen selfs vullisverwydering daar. Een van die ander uitdagings is dat die grootste nood soms in kleiner dorpe voorkom, waar dit moeilik is om daardie dienste aan te bied.

Orania

Die Solidariteit Beweging ondersteun Orania as Ankerdorp in die Noordkaap. Die rede is dat Kimberley se verval en ANC beheer die dorp nie geskik vir die ankerstrategie maak nie. Orania is taamlik klein, maar die dorp word goed bestuur, daar is goeie infrastruktuur, energiesekerheid, dis veilig en die gemeenskap wil graag hulle dorp opbou en uitbrei. Orania is reeds ‘n streeksdorp, en bied noodsaaklike dienste soos onderwys, gesondheidsorg, sekuriteit, professionele dienste, ontspanning, bejaardesorg, en veel meer aan die omgewing. Hierdie dienste word aan ‘n gebied so groot soos Oostenryk of Ierland gelewer, min of meer in ‘n radius van 160 km om Orania.

Die rede is dat noodsaaklike dienste en – instellings soos skole en ouetehuise se volhoubaarheid deur ‘n see van vervallende dorpies bedreig word. Munisipaliteite in hierdie sentrale Suid-Afrika lê volgens Good Governance Africa se 2024 verslag feitelik almal in die onderste kwadrant van munispale prestasie, met die meeste wat gekwalifiseerde ouditmenings kry en groot probleme met water, elektrisiteit, sanitasie en algemene munisipale bestuur het.

Daarom het Solidariteit ‘n Ontwikkelingsmaatskappy op die dorp gestig om met belangrike dienste te help wat ‘n streeksdorp nodig het. ‘n Beroepskollege is op die dorp gevestig, wat reeds ‘n top Landbou- én tegniese kollege is, met studenteverblyf in ‘n veilige Afrikaanse omgewing.

Veelvuldige identiteite

Die Solidariteit Beweging is ‘n Suid-Afrikaanse, Afrikaanse én Afrikaner instelling. Daarom is sekere dienste wat gelewer word gemik op alle Suid-Afrikaners, ander is gefokus op alle Afrikaanssprekendes, terwyl bepaalde dienste op Afrikaners gerig is. Ons ledebasis van meer as 600 000 bly verspreid oor die land, en daarom word dienste landswyd gelewer. Ons respekteer ook ons lede se uiteenlopende sienings oor sake, en maak daarom voorsiening vir ‘n wye verskeidenheid oplossings vir knelpunte. Yl verspreiding is die uitdaging, en groter konsentrasie met die Ankerstrategie is ons oplossing.

 

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Laat ons die goeie stryd waardig stry

Die afgelope paar weke het daar ’n geweldige geraas rondom Akademia en Kanton ontstaan. Dit is ook verstaanbaar dat Kanton deel van die gesprek geword het: Ons ontwikkel die nuwe Akademia-kampus, en die omvang en sigbaarheid van wat daar in Pretoria-Oos verrys, maak dit al moeilikker om te ignoreer.

Eers het prof. Jonathan Jansen sterk kritiek uitgespreek op Afrikaanse private hoër onderwys en Akademia in die besonder. Daarna het dr. Naledi Pandor die bou van die nuwe kampus binne ’n veel groter ideologiese raamwerk geplaas en dit as deel van ’n bedreiging vir die soort Suid-Afrika waarvoor sy en haar “comrades” geveg het, beskryf.

Die felheid van die reaksie sê iets oor die betekenis wat Akademia en die kampusontwikkeling begin aanneem. Mense mors selde veel energie op iets wat hulle as onbeduidend beskou. Wanneer ’n gemeenskap daarin slaag om op eie inisiatief kapitaal, kundigheid en organisasievermoë saam te snoer om ’n universiteitskampus van hierdie omvang te bou, daag dit noodwendig gevestigde idees uit oor hoe ons samelewing behoort te funksioneer.

My eie reaksie op die gewoel was om sover moontlik te konsentreer op dit wat ek kon beheer. Terwyl die lawaai rondom ons aangehou het, het ons voortgegaan om kapitaal te werf, probleme op te los en stene te pak. Dit is immers wat bouers doen.

Daar is intussen wyd en syd op Jansen en Pandor gereageer. Leiers uit ons gemeenskap, kommentators en gewone Suid-Afrikaners uit verskillende oorde het hulle standpunte bevraagteken en gekritiseer. Wat my in die verbygaan opgeval het, is hoe wyd die steun vir Akademia en vir die reg van gemeenskappe om hulle eie instellings te bou strek.

Dit is bemoedigend.

Maar tussen al die goeie, deurdagte en soms baie skerp kritiek is daar ook iets wat my ontstel. Dit is die platvloerse, beledigende en soms eenvoudig gemene reaksies uit ons eie geledere.

Ek probeer nie skryf uit ‘n posisie van hoogheiligheid nie. Ek weet hoe dit voel wanneer jou taal, jou kultuur, jou geskiedenis en die instellings waaraan jy bou, telkens onder verdenking geplaas word. Ek verstaan die frustrasie van Afrikaners wat voel dat daar oor baie jare van hulle verwag is om skuld te dra, plek af te staan en soms selfs verskoning te maak vir die eenvoudige en regmatige begeerte om as ‘n taal- en kultuurgemeenskap voort te bestaan.

Ek verstaan ook die gevoel van genoeg is genoeg. Ek beleef dit self en word self kwaad.

Maar juis daarom moet ons versigtig wees met hoe ons reageer.

Om te bou is moeilik

Ek skryf hieroor as iemand wat al 28 jaar aan instellings bou en wat weet hoe moeilik dit is.

‘n Kampus verrys nie omdat iemand ‘n mooi toespraak gelewer of ‘n sterk mening op sosiale media geplaas het nie. Dit vra jare se werk. Jy moet mense van ‘n saak oortuig. Jy moet vertroue wen. Jy moet kapitaal mobiliseer. Jy moet deur ‘n komplekse regulatoriese omgewing werk. Jy moet met staatsinstellings, finansiers, professionele spanne, gemeenskappe en talle ander rolspelers verhoudings bou.

En niemand kry dit alleen reg nie. Instellings van hierdie omvang verg die volgehoue inspanning van ‘n hele gemeenskap.

Jy moet soms geduldig wees wanneer jy eintlik kwaad is.

Jy moet soms weer verduidelik wanneer jy voel jy het reeds tien keer verduidelik.

Jy moet soms aanhou bou terwyl mense jou motiewe bevraagteken.

Dit is die aard van die uitdaging om instellings te bou.

Ons leiers wat oor die vermoë beskik om op aanvalle soos dié van Jansen en Pandor te antwoord, doen dit telkens uitstekend en met waardigheid. Hulle skram nie weg van fel kritiek nie. Hulle verdedig beginsels, wys swak argumente uit en staan hulle man in die openbare debat. Maar hulle probeer dit doen sonder om die persoon aan die kant te verontmenslik of die gesprek tot ’n moddergeveg te laat ontaard.

Daarom pla dit my wanneer mense wat meen hulle verdedig dieselfde saak, met platvloerse en persoonlike uitlatings die hoë grond afbreek waarop ander met groot moeite probeer staan.

Ons kan nie met beton ’n kampus bou en met ons woorde aan die gemeenskap afbreek nie.

Beskaafd beteken nie mak nie

Ek pleit nie vir ’n slap of verskonende reaksie op kritiek nie.

Inteendeel.

Waar argumente verkeerd is, moet hulle weerlê word. Waar mense ons grondwetlike regte bevraagteken, moet ons dit ferm verdedig. Waar ons verkeerd voorgestel word, moet ons die waarheid vertel. Waar ideologiese onverdraagsaamheid sigbaar word, moet ons dit by die naam noem.

Ons mag skerp wees.

Ons mag fel wees.

Ons hoef nie toestemming te vra om wettige instellings vir ons gemeenskap te bou nie.

Maar daar is ’n wêreld se verskil tussen om ’n argument af te breek en ’n mens te verneder; tussen satire en gemeenheid; tussen moed en ’n gebrek aan selfbeheer.

Die sterkste reaksies op die afgelope week se uitsprake was juis sterk omdat dit nie nodig was om vuil te speel nie. Die beginsel is eenvoudig, ons gaan voort. Ons bou binne die Grondwet. Ons mobiliseer ons eie vermoë. Ons sluit niemand op grond van ras uit nie. Ons glo dat ’n pluralistiese Suid-Afrika ruimte behoort te hê vir ’n verskeidenheid gemeenskappe en instellings.

Dit is ’n sterk posisie.

Waarom sou ons dit met ons eie taalgebruik verswak?

Die goeie, die ware en die skone

Akademia is ’n Christelike private hoëronderwysinstelling wat hom onder meer oriënteer aan die goeie, die ware en die skone.

Daardie woorde kan nie bloot op ’n webblad of in ’n waardestelling staan nie. Dit moet uiteindelik sigbaar word in die soort mense wat ons vorm en in die manier waarop ons optree wanneer ons onder druk kom.

Die ware vra van ons om leuens, verdraaiings en swak argumente teen te staan.

Die goeie vra dat ons dit doen sonder om die menswaardigheid van ander prys te gee.

En die skone herinner ons dat daar ook iets soos waardigheid, orde en goeie maniere in die openbare lewe behoort te wees.

As ons instellings wil bou wat vir die goeie, die ware en die skone staan, kan ons nie bekostig dat ons openbare gedrag die teenoorgestelde daarvan beliggaam nie.

Ons Christelike etos maak die opdrag eerder moeiliker as makliker. Ons word nie geroep om die stryd te vermy nie. Ons word geroep om die goeie stryd te stry.

Maar dan moet ons dit ook waardig stry.

Vryheid vra selfbeheersing

Ons praat met reg oor groter onafhanklikheid vir ons gemeenskapsinstellings.

Maar onafhanklikheid vra meer as geld, grond, geboue en regulatoriese ruimte.

Dit vra mense wat die verantwoordelikheid van vryheid kan dra.

Ons kan nie na groter selfstandigheid streef en terselfdertyd slawe van ons eie woede bly nie.

Ons het dus nog baie vormingswerk om te doen. Nie net in ons skole en universiteite nie, maar ook in onsself en in ons gemeenskap. Ons moet weer leer dat impulsbeheer nie swakheid is nie. Dat goeie maniere nie oorgawe is nie. Dat respek vir ’n teenstander nie beteken dat jy met hom saamstem nie.

Dit is juis wanneer ons kwaad is dat ons karakter getoets word.

CJ Langenhoven het lank voor sosiale media reeds die gevaar van die haastige reaksie verstaan. Sy bekende raad oor die “parmantige brief” was eenvoudig: Bêre hom tot môre voordat jy hom pos.

In sy tyd moes ‘n mens nog ‘n koevert lek, ‘n seël plak en ‘n brief in ‘n posbus gooi. Vandag kan ons binne sekondes, op die hoogtepunt van ons woede, iets publiseer wat duisende mense kan bereik en wat ons later nooit behoorlik kan terugtrek nie.

Ons het Langenhoven se raad waarskynlik nou nodiger as ooit.

Die volgende keer wanneer ons woedend is oor wat iemand oor ons, Afrikaans of ons instellings sê, is dit dalk die moeite werd om eers ‘n bietjie te wag.

Ek vra dit met begrip vir die frustrasie en die gevoel van verlies wat baie mense swaar dra. Maar ons kan nie toelaat dat daardie verlies ons vorm tot iets wat ons self nie wil wees nie.

Ons het te veel werk om te doen om ons energie aan die laagtepunte van die openbare gesprek te verspil.

Daar is skole om te bou en te beskerm. Daar is universiteite om te bou. Daar is ondernemings en gemeenskapsinstellings om sterker te maak. Daar is ‘n volgende geslag om te vorm. En daar is ‘n groter onafhanklikheid vir ons gemeenskap om verantwoordelik uit te bou.

Laat ander skree as hulle wil.

Ons werk is om aan te hou bou.

En selfs wanneer ons die felste kritiek lewer, laat ons dit doen soos mense wat weet waarvoor hulle staan, waarheen hulle op pad is en watter soort gemeenskap hulle vir die volgende geslag wil nalaat.

Laat ons die goeie stryd stry – maar laat ons hom waardig stry.

Geskryf deur Henk Schalekamp, Besturende Direkteur van Kanton.

Ons bou volstoom voort aan Akademia

Die Gautengse premier Panyasa Lesufi, het met die bou van Sol-Tech se nuwe kampus in 2020 ’n venynige aanval daarop geloods. Dit het gelei tot ’n stortvloed van steun vir Sol-Tech onder Suid-Afrikaners reg oor die spektrum. Talle swart kommentators het daarop gewys dat Lesufi se aanvalle ’n deursigtige poging is om die aandag weg te lei van ANC-korrupsie en wanbestuur.

Die bou van ’n groot kampus en koshuise teen sowat R300 miljoen sonder staatsgeld, is wyd kontrasteer met die onnodige ontsmetting van leë skole teen sowat R450 miljoen met belastinggeld. Lesufi se publisiteit rondom Sol-Tech het uiteindelik die teenoorgestelde uitwerking gehad. Die hele land het kennis geneem dat die kollege onder begroting en binne die tyd gebou is, en top opleiding aanbied. Dit het tot ’n toestroming van Afrikaanse studente gelei, maar ook tot ’n toevloei van swart besoekers wat kom kyk het wat daar by Sol-Tech se suksesse te leer is, onder meer ’n paar ministers.

Dis nou weer politieke paniek in die ANC, want peilings dui daarop dat die ANC met die komende plaaslike verkiesing baie swak gaan vaar. Akademia se nuwe kampus wat nou in Pretoria gebou word, is die afgelope tyd gekritiseer deur prof. Jonathan Jansen en oudminister Naledi Pandor. Hoewel hierdie twee kommentators se anti-Afrikaanse sentimente wyd bekend is, is dit nogtans nodig om daarop te antwoord.

Die belangrikste beweegredes vir die uitbou van Akademia kan kortliks as volg saamgevat word:

Ons wil wêreldklas in Afrikaans wees

Die Solidariteit Beweging wil aan ’n omvattende kulturele ekosisteem help bou wat uiteindelik die hele pyplyn vanaf Afrikaanse kleuterskole tot beroepskolleges en ʼn universiteit met verskeie sattelietkampusse en ʼn aanlyn studiemodel insluit. Ons wil hê ons kinders en jongmense moet skole, kolleges en universiteite hê waar hulle veilig kan tuisvoel. Dis ʼn strewe na normaliteit, nie na die verlede nie. Ons Beweging begin met die bouwerk, maar Akademia is vir almal bedoel. ʼn Taal se hoër funksies is onontbeerlik om sy langtermyn-volhoubaarheid te verseker. ʼn Kultuurgemeenskap het opvoedkundige instellings nodig om sy taal en kultuur na volgende geslagte oor te dra. Daarby het skole, kolleges en universiteite ʼn opleidings- én ʼn opvoedingsrol. Terselfdertyd word leerders en studente vir ʼn meertalige werksomgewing voorberei. Dit is ʼn bekende feit dat moedertaalonderrig die beste vorm van onderrig is en dat dit studente toerus om hul kennis ten beste in ander tale te kan toepas.

Ons mag wêreldklas in Afrikaans wees

Die Grondwet bepaal in artikel 29 dat enkelmedium-opleidingsinstellings mag bestaan en dat elkeen die rég het om in enige amptelike taal opgelei te word. Dis nie ’n guns wat ons van die regering vra nie, dis ’n reg wat internasionaal erken word. Ingevolge artikel 6 van die Grondwet is Afrikaans ’n amptelike landstaal. Akademia is al 15 jaar gelede geregistreer en geakkrediteer, bied gehalte-opleiding aan en sluit geen persoon of groep uit nie. Dis oop vir enige persoon wat aan die akademiese standaarde voldoen en wat in Afrikaans wil studeer.

In 2019 het die Konstitusionele Hof by monde van hoofregter Mogoeng Mogoeng in sy uitspraak in die Stellenbosch-taalsaak, ’n beroep op die gemeenskap gedoen om self privaat onderriginstellings ter bevordering van Afrikaans en ander inheemse tale te bou. Hy het selfs ’n beroep op korporatiewe welwillendheid gedoen om hulpbronne beskikbaar te stel om te help om privaat moedertaalgebaseerde opleidingsinstellings te befonds.

Die Grondwetlike hof se versoek dat gemeenskappe self instellings moet bou en met eie kapitaal finansier om hul taal te bevorder, is dus presies wat die Solidariteit Beweging en ons vriende en vennote doen.

Die grondliggende reg van enige kultuur is die reg op voortbestaan, wat net moontlik is met outonome kulturele instellings soos skole, kolleges en universiteite.

Ons kan wêreldklas in Afrikaans wees

Solidariteit het Sol-Tech in 2006 begin en duisende studente is al by die kollege opgelei. Daar is vanjaar byna 3 000 studente in die onderskeie opleidingsfases wat opleiding in teorie, praktiese opleiding in ons werkswinkels en indiensopleiding by maatskappye behels. Die eerste R120 miljoen vir die oprigting van Sol-Tech het uit die maandelikse R10-bydraes van Solidariteit-lede gekom.

Waar daar ’n wil is, word die wil die weg! 

Akademia is in 2012 begin, het tans 4 500 studente, en gaan so vinnig van krag tot krag dat ’n reusekampus tans in Pretoria gebou word. Daar is ook reeds grond in die Paarl aangekoop met die doel om vir ons Satellietkampus daar ’n tuiste te bou.

Die Solidariteit Helpende Hand Studietrust is gestig om fondse beskikbaar te stel sodat almal wat wil moet kan leer en studeer. Die Trust word befonds deur Solidariteit-ledebydraes, skenkings, inkomste vanaf die VirSeker Trust, bydraes van die Helpende Hand se Ons Winkels-kettinggroep, en bemaking. Wêreldklasonderrig en -opleiding is geweldig duur en die bekostigbaarheid van onafhanklike instellings wat sonder staatsteun moet klaarkom bly ’n uitdaging. Ons is baie trots op ons jongmense, omdat die terugbetalingskoers van die studielenings nou op 99% te staan gekom het.

Ons kan, want ons het dit klaar bewys.

Ons kan nie alles op ons eie of net met gemeenskapsbydraes doen nie. Daarom sluit ons nou vennootskappe aan tussen kultuur en kapitaal, waar beleggers ’n markverwante opbrengs kry, en terselfdertyd ’n kulturele dividend in die vorm van topklasonderrig en -opleiding. Die doel is om uiteindelik waar prakties moontlik landswyd leefruimtes vir Afrikaans te bou.

Ons kán, want ’n Boer maak ’n plan!

Ons moet wêreldklas in Afrikaans wees

Die ANC is vyandig teenoor Afrikaanse onderwys. ’n Vyandige owerheid is nie iets nuuts in ons geskiedenis nie. Sowat 200 jaar gelede het lord Charles Somerset gedink hy draai Afrikaanse skole nek-om. ’n Eeu later was dit weer lord Milner se dagdroom. Nog ’n eeu later is dit weer “lord” Lesufi en kie se nagmerrie. Ons weet ons kan nie meer op die staat staatmaak om vir ons kinders wêreldklasonderrig en -opleiding te voorsien nie. Wêreldklasonderwys is nie ’n luukse nie, maar ’n móét. Die vraag is dus nie óf nie, maar hóé. Dit is waaraan ons werk. Ons sal nie gaan lê vir ’n regering wat nie eers ’n poskantoor kan bestuur nie.

Ons gaan wêreldklas in Afrikaans wees

Die bou van ’n kulturele infrastruktuur om saam in Afrika te kan bly, is soos iemand wat vir sy gesin ’n huis bou. Dit gaan nie oor die uitsluiting van ander of om homself af te sonder nie. Hy bou sy huis juis om saam met sy bure in ’n bepaalde woonbuurt te bly. Die gebou is net die punt van die ysberg wat bo die water uitsteek. Hierdie geboue kan net so groot en sterk wees soos die minder sigbare kulturele infrastruktuur wat al vir meer as twee dekades “onder” die water gebou word. Dit behels die totale netwerk van instellings wat strek vanaf werksgebied na burgerregte-, media-, finansiële-, kulturele- en opvoedkundige instellings tot by organisasies wat ons erfenisse bewaar.

‘n Onderwysplan is deel van die pyplyn van Afrikaanse onderrig en opleiding waaraan ons saam met vriende en vennote bou.

Ons sal self

Die Afrikaanse gemeenskap het alles in sy vermoë gedoen om Afrikaanse hoër onderwys in die openbare sektor ingevolge die grondwetlike voorsiening daarvoor te laat voortbestaan. Ná talle gesprekke, pleidooie, versoeke en selfs hofsake is die openbare sektor se deure in ons gesig toegeslaan. Ons enigste uitweg is om dit self te begin doen. Vandaar ons leuse, “Ons sal self”. Dit is nie ’n oproep vol heimwee terug na die verlede nie, maar ’n wekroep om saam ’n toekoms te bou. Ons sal self, en ons sal saam as helpmekaarbeweging. Dit gaan nie oor die herlewing van ’n uitgediende nasionalisme nie, maar oor gesonde kulturele selfvertroue, selfrespek en selfverwesenliking.

Dieselfde geld vir ons skole. Ons sal saam met die Afrikaanse skoolgemeenskap werk, praat, en veg om ons openbare skole wêreldklas te hou, maar ons sal terselfdertyd ook met planne vir onafhanklike onderwys begin – saam met ander instellings wat met ons wil saamwerk.

Toekomsbouers

Ons wil beslis nie voorgee dat ons al die antwoorde het, of dat ons alles alleen kan doen nie. Ons het mekaar nodig, en ons sal met ander rolspelers wat Afrikaanse onderrig op die hart dra saamwerk waar enigsins moontlik. Ons nooi by Kanton Eiendomme almal uit om saam Toekomsbouers te wees.

Jare gelede het mense gedink dis onnodig én onmoontlik om onafhanklike Afrikaanse onderwysinstellings te bou. Die tyd het geleer dat dit nodig én moontlik is. Suid-Afrika is ’n land waar dit wat teoreties moontlik is, in die praktyk soms onmoontlik is. Gelukkig is dit ook ’n land waar dit wat teoreties onmoontlik is, in die praktyk wel moontlik is.

Afrikaanse skat

Afrikaanse jongmense word vandag blameer vir dinge wat gebeur het voor hulle gebore is, terwyl die regering nie die verantwoordelikheid aanvaar vir wat hulle vandag doen nie. Onthou, ’n kultuur kan net voortbestaan as elke geslag vir die volgende een leef.

Die Solidariteit Beweging wil graag die tradisie van wêreldklas-Afrikaanse onderrig en opleiding op nuwe maniere voortsit. Ons wil, ons mag, ons moet, ons kan, ons gaan en ons sal dit as gemeenskap self doen.

Afrikaners het immers nie die oseane deurkruis, deur die eeue oorleef, die onbekende ingetrek, magtige moondhede op die slagveld gepak en op talle gebiede wêreldklasprestasies gelewer, omdat ons van jellie gemaak is nie. Ons is vrye burgers, nie dienswillige onderdane nie. Ons is vasbeslote om in die woorde van Van Wyk Louw, die skat van ons taal en kultuur veilig deur die skare te dra.

Die hede gaan nie weggaan nie, die verlede gaan nie terugkom nie, en die toekoms gaan nie vanself gebeur nie.

My oproep is dus: kom laat ons bou!

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

’n Teiken op die voorkop

’n Teiken op my voorkop. Dit is die reaksie van een van die prominente lede van die groepie Afrikaners wat sê Afrikaners is nie slagoffers nie.

Dit volg op my artikel in Rapport waarin ek geskryf het dat die raswal in Suid-Afrika stukkie vir stukkie afgebreek moet word, sodat die stroom van ekonomiese groei weer voluit kan vloei.

Dit is iets waarna bykans elke Suid-Afrikaner, met die uitsondering van enkele eliteplunderaars wat by die huidige stelsel baat vind, behoort te streef. Ons moet die raswette wat ons ekonomie, ons samelewing en ons mense verstik, uit die weg ruim.

Vir daardie standpunt kry ek toe ’n teiken op my voorkop.

Die teiken is nie die grootste probleem nie. Dit is wat dit simboliseer en oor die toestand van ons openbare debat sê wat my bekommer.

Dit bring die vraag oor die aard van debat in ons gemeenskap na vore.

NP van Wyk Louw het die idee van die oop gesprek verdedig. Die oop gesprek is juis nie klakkelose instemming nie. Dit is die bereidheid om mekaar se standpunte ernstig op te neem, dit krities te toets en met beter argumente te antwoord. Dit is die asem van ’n vry gemeenskap.

Geen standpunt is bo kritiek verhewe nie, maar die saak moet die kern van die kritiek wees en nie die mens nie.

Ons mag nie toelaat dat debat in Afrikaans daal tot die vlak waar iemand met ’n teiken gemerk word omdat hy ’n ander standpunt as myne huldig nie.

Dit is die logika van hierdie onverdraagsaamheid. Dit gaan nie meer oor die argument nie, maar oor die persoon. Die persoon wat verskil, word nie verkeerd verklaar nie; hy word boos verklaar.

En wanneer iemand eers as boos verklaar is, word buitengewone optrede teen hom maklik geregverdig.

Die argument hoef nie meer weerlê te word nie; die persoon moet eenvoudig stilgemaak word.

Die geskiedenis wys telkens dieselfde patroon. Geweld begin selde met geweld. Dit begin met taal. Dit begin wanneer mense as vyande, as onwaardig of as ’n gevaar uitgebeeld word.

Wanneer dit gebeur, raak die stap na intimidasie al kleiner en die stap na geweld al makliker. Ons het dit onlangs weer gesien met die sluipmoord op Charlie Kirk.

Daarom moet ons waaksaam wees wanneer die eerste tekens van ontmensliking hul verskyning maak. Al is dit klein. Al is dit ’n teiken of kruis op ’n voorkop.

Beskaafde gemeenskappe wag nie vir geweld voordat hulle optree nie. Hulle keer die denkpatrone en die taal wat geweld voorafgaan.

Nog ’n bekende in dieselfde groep beskryf Solidariteit se ondersteuners as “halfgeletterde, fascistiese agterryers en ploerte”. Hy ken nie eens ons lede nie, maar verklaar hulle kollektief as minderwaardig en bykans boos.

Ek ken hulle.

Ek ken die ambagsman wat elke dag voor sonop opstaan. Ek ken die verpleegster wat nagdiens werk. Ek ken die onderwyser, die ingenieur, die polisielid, die entrepreneur en die jong student wat net ’n regverdige kans wil hê.

Hulle is ordentlike mense wat onder moeilike omstandighede hard werk om vir hul gesinne te sorg. Hulle leef in ’n rasbedeling wat hulle daagliks benadeel, en hulle vra bloot dat meriete weer moet tel.

Ek ken ook die persoon wat dit oor ons lede geskryf het. Ek het groot respek vir sy werk. Ons moenie die gesprek beëindig nie, maar beskerm.

Ons mag verskil, en ons móét verskil. Die oop gesprek is nie ’n luukse nie; dit is een van die grondbeginsels van ’n beskaafde gemeenskap. Dit moet robuus wees. Ons mag mekaar se argumente uitdaag.

Maar ’n onderliggende geweldsdreigement, of die simboliek daarvan, mag nooit deel van daardie gesprek word nie.

Nadat die teiken geplaas is, het ander lede van die “verligtes” ingetree. Hulle verweer was dat dit nie ’n teiken is nie, maar bloot ’n teken dat ek “gecancel” moet word.

Wat ’n vreemde verweer.

Met daardie verweer word die probleem nie opgelos nie; dit word bloot herformuleer.

Die uitgangspunt van die oop gesprek is dat verkeerde idees met beter idees vervang word. Die uitgangspunt van die kansellasiekultuur (cancel culture) is dat mense met verkeerde idees verwyder moet word. Dit gaan nie meer daaroor om iemand te oortuig nie, maar om sy stem te laat verdwyn.

Om iemand te “cancel” is dikwels ’n erkenning dat jy opgehou het om hom met argumente te probeer oortuig. Jou argumente het op geraak.

’n Boendoehof merk eers iemand. Daarna daal die skare op hom neer. Die primitiewe instink vervang die reg. Die massa vervang die argument.

In die oop gesprek is daar plek vir twee mense wat diep verskil. In die kansellasiekultuur is daar uiteindelik net plek vir een. Dit is óf ek óf jy. Nie ons albei nie.

En dit is waarom die kansellasiekultuur die einde van die oop gesprek is. Dit is nie ’n alternatief vir debat nie. Dit is die ontkenning daarvan.

Hierdie waarskuwing geld natuurlik ook vir my en vir elkeen van ons.

Ons moet almal gereeld in die spieël kyk. Ons moet waak dat ons nie self in onverdraagsaamheid verval nie. Ons moet praat, debatteer, verskil en selfs kwaad wees. Maar ons moet swak idees met beter idees beantwoord. Ons moenie mense verneder, etiketteer of ontmens nie. As ons die oop gesprek wil beskerm, moet ons dit ook self beoefen.

Die Solidariteit-lede het nie iemand “gecancel” nie. Hulle het gekies.

Sowat 600 000 mense het die Solidariteit Beweging gekies. Hulle het gekies om te bou, te beskerm en te veg. Hulle kies om te bly, maar nie om stil te bly nie.

Die Betereinders, waarvan sommige ook deel is van hierdie groep “verligtes”, se eie navorsing het gewys dat meer as 80% van Afrikaners meen die groter Solidariteit Beweging doen goeie werk. ’n Groot groep is neutraal, en slegs ongeveer 2% verskil sterk met ons.

Daardie 2% het elke reg om met ons te verskil. Die oop gesprek vereis juis dat hulle dit doen.

Maar hulle behoort nie te probeer om die res te “cancel” omdat hulle anders gekies het nie. 2% kan nie besluit dat die ander se stem nie meer gehoor mag word nie.

Wanneer mense herhaaldelik deur die argument verloor, ontstaan die versoeking om die teenstander eerder stil te maak. Dit is ’n gevaarlike vorm van geweld.

Intussen gaan ons voort.

Ons bou verder. Ons beskerm ons lede in die werkplek. Ons veg vir ’n land waar mense op meriete beoordeel word. Ons kap daardie raswal stukkie vir stukkie af totdat dit breek.

En ons sal aanhou om dit te doen. Nie deur ander stil te maak nie, maar deur die oop gesprek te verdedig. Juis omdat ’n vry gemeenskap dit werd is.

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.