’n Teiken op my voorkop. Dit is die reaksie van een van die prominente lede van die groepie Afrikaners wat sê Afrikaners is nie slagoffers nie.
Dit volg op my artikel in Rapport waarin ek geskryf het dat die raswal in Suid-Afrika stukkie vir stukkie afgebreek moet word, sodat die stroom van ekonomiese groei weer voluit kan vloei.
Dit is iets waarna bykans elke Suid-Afrikaner, met die uitsondering van enkele eliteplunderaars wat by die huidige stelsel baat vind, behoort te streef. Ons moet die raswette wat ons ekonomie, ons samelewing en ons mense verstik, uit die weg ruim.
Vir daardie standpunt kry ek toe ’n teiken op my voorkop.
Die teiken is nie die grootste probleem nie. Dit is wat dit simboliseer en oor die toestand van ons openbare debat sê wat my bekommer.
Dit bring die vraag oor die aard van debat in ons gemeenskap na vore.
NP van Wyk Louw het die idee van die oop gesprek verdedig. Die oop gesprek is juis nie klakkelose instemming nie. Dit is die bereidheid om mekaar se standpunte ernstig op te neem, dit krities te toets en met beter argumente te antwoord. Dit is die asem van ’n vry gemeenskap.
Geen standpunt is bo kritiek verhewe nie, maar die saak moet die kern van die kritiek wees en nie die mens nie.
Ons mag nie toelaat dat debat in Afrikaans daal tot die vlak waar iemand met ’n teiken gemerk word omdat hy ’n ander standpunt as myne huldig nie.
Dit is die logika van hierdie onverdraagsaamheid. Dit gaan nie meer oor die argument nie, maar oor die persoon. Die persoon wat verskil, word nie verkeerd verklaar nie; hy word boos verklaar.
En wanneer iemand eers as boos verklaar is, word buitengewone optrede teen hom maklik geregverdig.
Die argument hoef nie meer weerlê te word nie; die persoon moet eenvoudig stilgemaak word.
Die geskiedenis wys telkens dieselfde patroon. Geweld begin selde met geweld. Dit begin met taal. Dit begin wanneer mense as vyande, as onwaardig of as ’n gevaar uitgebeeld word.
Wanneer dit gebeur, raak die stap na intimidasie al kleiner en die stap na geweld al makliker. Ons het dit onlangs weer gesien met die sluipmoord op Charlie Kirk.
Daarom moet ons waaksaam wees wanneer die eerste tekens van ontmensliking hul verskyning maak. Al is dit klein. Al is dit ’n teiken of kruis op ’n voorkop.
Beskaafde gemeenskappe wag nie vir geweld voordat hulle optree nie. Hulle keer die denkpatrone en die taal wat geweld voorafgaan.
Nog ’n bekende in dieselfde groep beskryf Solidariteit se ondersteuners as “halfgeletterde, fascistiese agterryers en ploerte”. Hy ken nie eens ons lede nie, maar verklaar hulle kollektief as minderwaardig en bykans boos.
Ek ken hulle.
Ek ken die ambagsman wat elke dag voor sonop opstaan. Ek ken die verpleegster wat nagdiens werk. Ek ken die onderwyser, die ingenieur, die polisielid, die entrepreneur en die jong student wat net ’n regverdige kans wil hê.
Hulle is ordentlike mense wat onder moeilike omstandighede hard werk om vir hul gesinne te sorg. Hulle leef in ’n rasbedeling wat hulle daagliks benadeel, en hulle vra bloot dat meriete weer moet tel.
Ek ken ook die persoon wat dit oor ons lede geskryf het. Ek het groot respek vir sy werk. Ons moenie die gesprek beëindig nie, maar beskerm.
Ons mag verskil, en ons móét verskil. Die oop gesprek is nie ’n luukse nie; dit is een van die grondbeginsels van ’n beskaafde gemeenskap. Dit moet robuus wees. Ons mag mekaar se argumente uitdaag.
Maar ’n onderliggende geweldsdreigement, of die simboliek daarvan, mag nooit deel van daardie gesprek word nie.
Nadat die teiken geplaas is, het ander lede van die “verligtes” ingetree. Hulle verweer was dat dit nie ’n teiken is nie, maar bloot ’n teken dat ek “gecancel” moet word.
Wat ’n vreemde verweer.
Met daardie verweer word die probleem nie opgelos nie; dit word bloot herformuleer.
Die uitgangspunt van die oop gesprek is dat verkeerde idees met beter idees vervang word. Die uitgangspunt van die kansellasiekultuur (cancel culture) is dat mense met verkeerde idees verwyder moet word. Dit gaan nie meer daaroor om iemand te oortuig nie, maar om sy stem te laat verdwyn.
Om iemand te “cancel” is dikwels ’n erkenning dat jy opgehou het om hom met argumente te probeer oortuig. Jou argumente het op geraak.
’n Boendoehof merk eers iemand. Daarna daal die skare op hom neer. Die primitiewe instink vervang die reg. Die massa vervang die argument.
In die oop gesprek is daar plek vir twee mense wat diep verskil. In die kansellasiekultuur is daar uiteindelik net plek vir een. Dit is óf ek óf jy. Nie ons albei nie.
En dit is waarom die kansellasiekultuur die einde van die oop gesprek is. Dit is nie ’n alternatief vir debat nie. Dit is die ontkenning daarvan.
Hierdie waarskuwing geld natuurlik ook vir my en vir elkeen van ons.
Ons moet almal gereeld in die spieël kyk. Ons moet waak dat ons nie self in onverdraagsaamheid verval nie. Ons moet praat, debatteer, verskil en selfs kwaad wees. Maar ons moet swak idees met beter idees beantwoord. Ons moenie mense verneder, etiketteer of ontmens nie. As ons die oop gesprek wil beskerm, moet ons dit ook self beoefen.
Die Solidariteit-lede het nie iemand “gecancel” nie. Hulle het gekies.
Sowat 600 000 mense het die Solidariteit Beweging gekies. Hulle het gekies om te bou, te beskerm en te veg. Hulle kies om te bly, maar nie om stil te bly nie.
Die Betereinders, waarvan sommige ook deel is van hierdie groep “verligtes”, se eie navorsing het gewys dat meer as 80% van Afrikaners meen die groter Solidariteit Beweging doen goeie werk. ’n Groot groep is neutraal, en slegs ongeveer 2% verskil sterk met ons.
Daardie 2% het elke reg om met ons te verskil. Die oop gesprek vereis juis dat hulle dit doen.
Maar hulle behoort nie te probeer om die res te “cancel” omdat hulle anders gekies het nie. 2% kan nie besluit dat die ander se stem nie meer gehoor mag word nie.
Wanneer mense herhaaldelik deur die argument verloor, ontstaan die versoeking om die teenstander eerder stil te maak. Dit is ’n gevaarlike vorm van geweld.
Intussen gaan ons voort.
Ons bou verder. Ons beskerm ons lede in die werkplek. Ons veg vir ’n land waar mense op meriete beoordeel word. Ons kap daardie raswal stukkie vir stukkie af totdat dit breek.
En ons sal aanhou om dit te doen. Nie deur ander stil te maak nie, maar deur die oop gesprek te verdedig. Juis omdat ’n vry gemeenskap dit werd is.


