Solidariteit Beweging maak vyf antwoorde op die VSA se versoeke bekend

Uitgereik deur die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel; en die uitvoerende hoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann.

Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, het vandag vyf antwoorde op die VSA se vyf versoeke bekendgemaak. Die Amerikaanse regering het verlede jaar vyf versoeke aan die Suid-Afrikaanse regering gerig oor kwessies wat ʼn geskil tussen die twee lande ontketen het.

Die Solidariteit Beweging se vyf antwoorde het ten doel om oplossings vir die politieke en diplomatieke geskil tussen die twee lande te vind. Ons is daarvan oortuig dat dit in Suid-Afrika se nasionale belang is om goeie betrekkinge met die VSA te handhaaf, net soos met ander moondhede.

Die antwoorde handel oor kwessies soos rassewette, landelike veiligheid, “Kill the Boer”, eiendomsreg en die vlugtelingprogram. Die doel van die antwoorde is nie net om handelsbetrekkinge te herstel nie, maar ook om oplossings vir kritieke brandpunte in Suid-Afrika te vind. Ons wil dit duidelik stel dat ons uitgangspunt is om Suid-Afrika se kant te kies, en nie dié van die Withuis of Luthuli-huis nie. Ons voel ook sterk oor die handhawing van Suid-Afrika se soewereiniteit, maar glo dat dit nie gelyk gestel kan word aan die ANC se soewereiniteit nie. Kiesers het vir ʼn regering van nasionale eenheid (RNE) gestem. Ons glo as die ander partye in die RNE by die formulering van buitelandse beleid betrek word, ʼn oplossing vinnig binne die raamwerk van die Grondwet en ʼn onverbonde buitelandse beleid gevind sal kan word.

Dit is in Suid-Afrika se belang dat antwoorde op Amerikaanse versoeke gevind word. Ons glo die oplossings moet eers in Pretoria en daarna in Washington gevind word. Ons het groot verskille met die regering, maar ons is lief vir ons land en is diep bekommerd oor die uitwerking van langdurige diplomatieke geskille op Suid-Afrika se ekonomie en internasionale beeld.

Maande lange gesprekke

Die voorgestelde vyf antwoorde is die uitkoms van maande se werk, wat besoeke aan die Verenigde State, uitvoerige gesprekke met die Suid-Afrikaanse presidensie en deurlopende skakeling met die Amerikaanse ambassade in Pretoria, asook met besluitnemers in Washington ingesluit het. Ons beplan om steeds in gesprek hieroor met albei regerings te bly.

Ons glo die regerings kan mekaar vind. Ons vra dat voorwaardes in werking gestel moet word om die spanning te de-eskaleer en om gesprekke tussen die regerings te hervat. Dit behels onder meer ʼn bona fide-verbintenis om oplossings te vind en die wil om besluite te neem wat dit moontlik maak.

Ons vyf antwoorde val binne Suid-Afrika se grondwetlike raamwerk en bied terselfdertyd antwoorde op die Amerikaners se versoeke.

Dit is nie eise of ‘n lys van klagtes nie, maar praktiese antwoorde. Die Amerikaanse regering het breë beginselgoedkeuring aan ons vyf antwoorde verleen en ons glo dat dit ook vir die Suid-Afrikaanse regering aanvaarbaar kan wees indien die politieke wil bestaan.

Ons is uiters bekommerd dat die optrede teen Suid-Afrika gaan verskerp. Wanneer Suid-Afrika vir swak beleid en vyandige houdings teenoor ons handelsvennote gestraf word, is dit nie ministers wat die rekening kry nie, maar die vrugteboer in die Wes-Kaap, die fabriekwerker by ʼn motoraanleg in die Oos-Kaap en die sakeman in die Vaaldriehoek wat daarvoor betaal. Ons beleef dat die ANC teen sy eie mense regeer.

Die Suid-Afrikaanse regering maak dit baie moeilik om ʼn skikking tussen die twee lande te bereik. Daar is ʼn lang geskiedenis van keuses en uitsprake teen die Amerikaanse regering. Die spanning tussen Suid-Afrika en die Verenigde State bou al meer as 15 jaar op, sedert die Obama-jare en die aansluiting by Brics in 2010. Die onlangse uitsprake van Suid-Afrika se minister van buitelandse betrekkinge en samewerking, Ronald Lamola, was nog ʼn bevestiging daarvan. Dit is ʼn terugslag vir die Solidariteit Beweging se jare lange steunwerwing in die VSA vir Suid-Afrika se deelname aan Agoa.

Daar is ook ʼn direkte verband tussen die ondertekening van die Onteieningswet en president Trump se uitvoerende bevel van 7 Februarie 2025. Suid-Afrika se buitelandse beleid het ook die Amerikaanse administrasie deurlopend vervreem.

Ten spyte van hierdie verband is gepoog om die Solidariteit Beweging, AfriForum en Solidariteit die skuld vir die verslegtende verhouding te gee. Ons verwerp hierdie soeke na ʼn sondebok vir die ANC se powere diplomatieke skakeling met die VSA. Ons weier om ʼn pion in ʼn diplomatieke skaakspel tussen twee regerings te wees. Hoewel ons nie die oorsaak van die probleem is nie, sal ons saamwerk om ʼn oplossing te vind.

Amerika bly Suid-Afrika se grootste handelsvennoot en 500 000 poste is afhanklik van handel met Amerika. Ons is uiters bekommerd dat strenger strafmaatreëls Suid-Afrika se deelname aan Agoa kan bedreig. ʼn Hersieningsproses om te bepaal watter Afrikalande volgende jaar vir deelname aan Agoa sal kwalifiseer, is tans in die Withuis aan die gang. Gebeure die afgelope twee weke veroorsaak dat daar ʼn wesenlike kans bestaan dat Suid-Afrika van Agoa uitgesluit kan word. Die Withuis sal waarskynlik voor November ʼn aankondiging hieroor maak. Daar is dus ʼn dringendheid om ʼn oplossing te vind.

Om ʼn oplossing te vind vir die geskil tussen die twee lande het niks met Suid-Afrika se soewereiniteit te make nie, en dit bedreig vir seker nie die land se reg om oor sy eie sake te besluit nie. Elke regering het egter wel ʼn reg, maar ook ʼn plig teenoor sy burgers om as soewereine rolspeler oplossings in belang van die land te vind.

Die Solidariteit Beweging se antwoorde kan soos volg opgesom word:

Rassewette

Die regering moet instem dat rassewette, soos wat internasionale konvensies bepaal, uitgefaseer sal word. Intussen sal rasneutrale ekwiteitsekwivalente, wat eienaarskapsvereistes vervang, vir sowel multinasionale as plaaslike maatskappye aanvaar word. Die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering, wat onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) bereik is, en wat beperkings op rassewette in die werkplek plaas, sal in die Staatskoerant gepubliseer word.

Rasneutrale metodes van werknemerbemagtiging sal as voorkeurmeganismes vir bemagtiging deur eienaarskap aanvaar word. Mense se sosio-ekonomiese posisie, eerder as ras, sal gedurende die uitfaseringsproses as maatstaf gebruik word. Jongmense wat ná 1994 gebore is, sal ook as deel van die aangewese groep beskou word.

Landelike veiligheid

Die regering sal plaasmoorde en misdaad in plattelandse gebiede, soos in die geval van bendegeweld en renosterstropery, tot prioriteitsmisdade verklaar. ʼn Amptelike gemeenskapveiligheidsvennootskap sal gestig word waarin die SAPD, die privaat veiligheidsbedryf en gemeenskapsorganisasies soos AfriForum gelyke verteenwoordiging sal hê.

Die SAPD se bestaande landelike beveiligingstrategie sal uitgebrei word om veel groter betrokkenheid deur gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe moontlik te maak. AfriForum het reeds ʼn omvattende gemeenskapsveiligheidsplan vir landelike veiligheid opgestel en aan die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse regerings oorhandig. ʼn Nasionale gemeenskapsveiligheidsforum sal gestig word om die uitvoering van die Beveiligingsplan te monitor. Die Amerikaanse regering sal deur die forum met befondsing, kundigheid en die verskaffing van toerusting help.

‘Kill the Boer’

Die sing van “Kill the Boer” is, in die hedendaagse konteks, een van die ernstigste brandpunte. Daar moet ooreengekom word dat pres. Ramaphosa en senior regeringsleiers die sing van “Kill the Boer”, asook enige ander haatverwante slagspreuke teen minderhede, onvoorwaardelik sal veroordeel.

Ons belewing is nie dat ʼn grootskaalse regeringsgedrewe volksmoord (“genocide”) hier plaasvind nie, maar ons ervaar wel dat die ANC Afrikaners se voortbestaan teiken deur omvattende rassewetgewing, die onderspeling van plaasmoorde, aanvalle op ons taal en kultuur deur wetgewing soos Bela, en die verbreking van ooreenkomste wat die regering met ons daaroor aangegaan het.

Vlugtelingprogram

Die vlugtelingprogram bestaan reeds. Die regerings van die VSA en Suid-Afrika moet ooreenkom dat individue wat van die program wil gebruikmaak, toegelaat moet word om die proses sonder benadeling te volg. Minder as 1% van Afrikaners sal hulle waarskynlik in die VSA gaan vestig. Die Solidariteit Beweging is nie betrokke by hierdie program nie omdat ons glo dat ons toekoms in Suid-Afrika is en ons aan oplossings vir knelpunte hier werk.

Daar moet ooreengekom word dat ʼn direkte kanaal tussen die Amerikaanse administrasie en die Solidariteit Beweging gevestig sal word, onder meer met die oog op die stigting van ʼn Afrikaner-ontwikkelingsfonds. Dié fonds kan help met die ontwikkeling van opleidings- en kulturele infrastruktuur vir die Afrikanergemeenskap.

Gesprekke sal ook tussen die Solidariteit Beweging en die Amerikaanse administrasie gevoer word oor die uitvoer van vaardighede na daardie land deur middel van aanlyn werk, sonder dat mense Suid-Afrika hoef te verlaat.

Onteiening sonder vergoeding

Die regerings van die VSA en Suid-Afrika neem kennis van die hangende hofsaak in dié verband, maar is steeds van mening dat ʼn skikking verkieslik is bo ʼn hofsaak. In die lig hiervan moet artikel 12(3) van die Onteieningswet geskrap word. Artikel 19(2) moet gewysig word om te voorkom dat grond onteien word voordat ʼn hof ʼn finale beslissing gelewer het. Verdere wysigings moet aangebring word om te verseker dat eiendomsreg beskerm word soos deur die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal.

Links, regs en die nuwe realiteit

Werner Human

Bron: Maroela Media

 

Die terme links, regs en verregs word al vir ʼn geruime tyd wyd in die internasionale politieke diskoers gebruik – ook in Suid-Afrika. Dit lei dikwels tot groot frustrasie aangesien talle wanopvattings en onwaarhede aan hierdie begrippe gekoppel word.

In Suid-Afrika word enige standpunt wat nie met die ANC se sterk linkse beleidsvertrekpunte ooreenstem nie met allerlei beskuldigings gepeper en aangedik deur aanklagte van “anti-transformasie,” “teenrevolusionêr,” “rassisme” en ander soortgelyke skelname. Onlangs het ʼn ou gunsteling weer sy opwagting gemaak toe die presidensie na die Solidariteit Beweging se besoek aan die VSA verwys het as ʼn “terughunkering na apartheid”.

Onderliggend aan dit alles is die beskouing dat linkse politieke ideale ʼn diep omgee vir ander veronderstel, vooruitgang en voorspoed bewerkstellig en die veiligheid van mense bevorder. Teenstellend kan daar nie genoeg beskrywings gelys word nie waarin regs en verregs as rassisties, gevoelloos, onderdrukkend, abnormaal en sommer botweg as boos voorgehou word.

Die morele aansprake wat met linkse politieke ideale vereenselwig word, het natuurlik tot gevolg dat alles wat buite daardie raamwerk val, vanselfsprekend niemoreel of selfs immoreel is.

En dit is juis hierdie verstaan van die verdeling tussen links en regs op die politieke spektrum – en hoe dit die afgelope dekades uitgespeel het – wat tans uitgedaag word.

Die verkiesing en herverkiesing van Donald Trump is ʼn sprekende voorbeeld hiervan.

ʼn Verdere voorbeeld is die reeks verkiesings vir die Europese Parlement waarin die uitslae van links na die meer behoudendende partye verskuif wat verkies word of deel van koalisies vorm.

Selfs die nasionale verkiesing in Suid-Afrika is ʼn teken dat die linkse politieke ideale die morele aanspraak op openbare en private aangeleenthede begin verloor, en daarmee tesaam, die greep op samelewings en gemeenskappe.

Die foutlyne in die post-Koue Oorlog-era

Die probleem met die hedendaagse “links-regs”-onderskeid lê nie daarin dat daar ʼn onderskeid tussen links en regs in die politieke diskoers kan bestaan nie. Dit op sigself is nie problematies om in die breë na die linker- of regterkant van die politieke spektrum te verwys, of om jouself daarmee te vereenselwig nie. Die werklike probleem ontstaan wanneer die morele vertrekpunte wat aan hierdie posisies gekoppel word nie krities bevraagteken word nie.

Die herwaardering van die tradisionele links-regs-politieke spektrum vereis ʼn ontleding van die nuwe era waarin ons ons tans bevind.

Dit is belangrik om te beklemtoon dat die wêreld – en Suid-Afrika – nie bloot deur ʼn tyd van verandering gaan nie, maar dat ons werklik ʼn verandering van die tyd self beleef.

Die vorige tydvak wat ʼn omwenteling van hierdie aard teweeggebring het, het gekom met die val van die Berlynse Muur wat die einde van die Koue Oorlog ingelui het. Soos vandag, het baie mense destyds geworstel met die vraag oor wat die nuwe era sou inhou en watter vorm dit uiteindelik sou aanneem.

Een van die mees invloedryke denkers in hierdie oorgangstyd was die politieke wetenskaplike Francis Fukuyama. In sy boek The End of History and the Last Man (1992) stel hy die uitgangspunt dat die verloop van geskiedenis gesien kan word as ʼn proses van uitskakeling – waarin verskillende regeringsvorms met verloop van tyd ten opsigte van hul werkbaarheid getoets is.

Fukuyama voer aan dat die politieke ontwikkeling van die mensdom uiteindelik tot ʼn liberale demokrasie as die finale vorm van regering lei. Hy skryf (eie vertaling): “Wat ons moontlik tans beleef, is nie bloot die einde van die Koue Oorlog nie … maar die eindpunt van die mensdom se ideologiese ontwikkeling en die universalisering van Westerse liberale demokrasie as die finale vorm van menslike regerings”.

Die Westerse liberale demokrasie het sy oorsprong in die tydperk van die Verligting, en volgens Fukuyama is dit die regeringsvorm wat ten beste aan die mens se diepste behoeftes voldoen – naamlik erkenning en ekonomiese welvaart. Juis daarom, meen hy, kan die liberale demokrasie as ʼn universele model beskou word wat deur uiteenlopende samelewings aanvaar en geïmplementeer kan word.

Die kernargument van Fukuyama se invloedryke werk is destyds wyd aanvaar as die mees gesaghebbende beskrywing van die post-Koue Oorlog-orde. Dit is egter belangrik om daarop te let dat hy ook verskeie waarskuwings gerig het – onder meer oor die moontlikheid van etniese konflik in verskeie dele van die wêreld wat die verspreiding van die Westerse liberale demokrasie kan knel, sowel as oor kapitalisme wat met politieke mag vervleg word en moontlik ʼn nuwe vorm van outoritêre regering tot gevolg kan hê.

Fukuyama se sentrale uitgangspunt bly egter sy stelling dat die Westerse liberale demokrasie universeel aanvaar kan word en dat die verdere verloop van die geskiedenis uiteindelik in hierdie regeringsvorm sou oorgaan.

Sedert die beëindiging van die Koue Oorlog en die gelyktydige opkoms van die liberale wêreldorde het dit egter al hoe duideliker geword dat verskeie faktore – soos nasionale veiligheidsoorwegings, staatsoewereiniteit, die deurslaggewende rol wat kultuur en kultuurverskille wêreldwyd speel, die belang van Westerse erfenis in Westerse lande en die rol van godsdiens – Fukuyama se uitgangspunte tot ʼn groot mate bevraagteken of selfs ondermyn het.

Twee van Fukuyama se tydgenote het die post-Koue Oorlog-wêreldorde op ʼn heel ander manier benader.

John Mearsheimer, verbonde aan die Universiteit van Chicago, het reeds in 1990 – enkele maande ná die val van die Berlynse Muur – in sy invloedryke essay Back to the Future, sy kommer uitgespreek oor sekere scenario’s wat in die nuwe wêreldorde kon ontstaan.

Volgens Mearsheimer is die liberale ekonomiese orde wat deur Fukuyama voorgehou word nie in staat om werklike vrede en veiligheid te verseker nie. Die primêre waarborg vir vrede lê nie in die afskaal van veiligheidsbelange deur wêreld- of streeksmagte nie, maar in die handhawing van hierdie oorwegings as kernvoorwaarde vir blywende stabiliteit.

Ekonomiese liberalisme gaan van die aanname uit dat vrye handel tussen state, saam met die interafhanklikheid wat dit meebring en die groeiende mag wat daarmee gepaardgaan, uiteindelik die hoogste graad van vrede en voorspoed tot gevolg sal hê. Mearsheimer bevraagteken egter hierdie uitgangspunt fundamenteel.

Dit is inderwaarheid die breër politieke omgewing wat die deurslag gee aangesien dit oor veiligheid, sekuriteit en uiteindelik oorlewing handel. Binne die groter ekonomiese sfeer bring interafhanklikheid egter ʼn mate van afhanklikheid mee, en wanneer daardie afhanklikheid oorgaan in volslae afhanklikheid word staatsoewereiniteit ondermyn – wat weer die veiligheid van lande in gevaar stel.

Daarom voer Mearsheimer aan dat, alhoewel die liberale ekonomiese orde moontlik nie onmiddellik tot grootskaalse oorloë sal lei soos dié in die eerste helfte van die twintigste eeu nie, die potensiaal vir konflik onder so ʼn orde selfs groter kan wees as gedurende die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog.

Met die oog op die huidige wêreldpolitieke landskap is die waarde van Mearsheimer se insigte van 35 jaar gelede besonder relevant. Sy kritiek op die ekonomiese liberale orde dui daarop dat die stelsel se neiging om state se veiligheidsoorwegings te onderskat, juis die ruimte vir groter spanning en konflik skep.

Samuel Huntington, ook ʼn toonaangewende stem in daardie tyd, voer in teenstelling met die posisie wat Fukuyama voorhou, aan dat die ganse wêreld nie maklik met Westerse liberale denke versoen kan word nie.

In sy boek Clash of Civilisations (1996) skryf Huntington: “Westerse universalisme is gevaarlik vir die wêreld omdat dit ʼn globale oorlog tussen beskawings kan ontketen. Dit is gevaarlik vir die Weste self omdat dit tot die Weste se eie ondergang kan lei.” En voorts: “Die voortbestaan van die Verenigde State en die Weste vereis die hernuwing van Westerse identiteit. Die veiligheid van die wêreld vereis die aanvaarding van globale veelbeskaafdheid. Die poging om Westerse politieke en ekonomiese waardes op ander beskawings af te dwing, is beide nutteloos en moreel onverdedigbaar.”

Waar Mearsheimer ʼn meer realistiese posisie inneem deur te pleit dat die politieke omgewing wat vir veiligheid en soewereiniteit van magte daargestel word die botoon moet voer vir blywende vrede, voer Huntington aanvullend tot die posisie aan dat kultuur- en beskawingswerklikhede insgelyks verreken moet word om vrede en verdraagsaamheid te bevorder.

Die toepassing van Mearsheimer en Huntington in die post-Koue Oorlog-era

Heelwat van die bekommernisse van Mearsheimer en Huntington is bewaarheid. Die uitbreiding van Navo het ʼn bydraende rol tot die aggressie van Rusland gespeel, veral met verwysing na die anneksering van die Krim-skiereiland in 2014 in Oekraïne en die oorlog wat Rusland in Oekraïne sedert 2022 voer.

Rusland se aggressie dui ook op die verwerping van Westerse universaliteit en die heropkoms van kultuur wat ʼn kernrol in internasionale betrekkinge speel.

Die Westerse beskawing worstel tans met die behoud van sy eie identiteit onder die druk van immigrasie, globalisering en universele aansprake van die liberale wêreldorde.

In hierdie konteks kan die verkiesing van Donald Trump in 2016 ʼn keerpunt verteenwoordig. Trump se veldtog is telkens gebou op die beginsels van ekonomiese nasionalisme, kulturele bewaring en die herbevestiging van ʼn Westerse (en spesifiek Amerikaanse) identiteit. Slagspreuke soos “Make America Great Again” en “America First” spreek tot ʼn breër behoefte aan kulturele erkenning en grensoorkoepelende selfbehoud. Vir Huntington sou Trump se opkoms ʼn bewys wees van hoe Westerse burgers hul beskawing as bedreiging begin sien – nie net deur buitelandse magte nie, maar deur interne verval en liberale universalistiese idees.

In Europa het ʼn soortgelyke verskuiwing plaasgevind. Politieke leiers soos Viktor Orbán in Hongarye, Giorgia Meloni in Italië, Geert Wilders in Nederland en Marine Le Pen in Frankryk fokus almal sterk op kulturele identiteit, godsdiens, erfenis en nasionale soewereiniteit. Die partye wat hulle verteenwoordig is dikwels krities teenoor immigrasie, die verwerping van Europese integrasie en teenoor liberale norme wat – volgens hulle – Westerse beskawingswaardes verwater of ondermyn.

Sowel Trump as hierdie Europese partye verteenwoordig ʼn breër reaksie op globalisering en die liberale wêreldorde wat Westerse elite-strukture ná die Koue Oorlog probeer vestig het. Nou, ironies genoeg, begin Westerse beskawings self daardie universele aansprake bevraagteken, en begin hulle eerder fokus op hul eie kulturele oorlewing.

In die lig hiervan is Huntington se werk besonder relevant: Hy het voorsien dat beskawingspolitiek nie net tussen die Weste en “die res” sou afspeel nie, maar ook binne die Weste self. Die kulturele herlewing, die behoefte aan identiteit en die opkoms van leiers wat hulself sien as beskermers van kultuur en geskiedenis, bevestig dat die wêreldpolitiek weer rondom kultuur – nie ideologie alleen nie – gesentreer is. Huntington se waarskuwing teen die selfversekerde universaliteit van die liberale orde was nie ʼn pleidooi vir isolasie nie, maar ʼn beroep op selfkennis, balans en die aanvaarding van wêreldwye veelvormigheid.

Links, regs aan’t verander

Daar kan met reg gestel word dat die manier waarop die politieke posisies van links en regs oor die afgelope drie dekades verstaan is, tans uitgedien en ontoereikend is.

Dit is duidelik dat die wêreldorde wat ná die Koue Oorlog ontstaan het, nie die finale fase van vrede, vooruitgang en universele liberalisme verteenwoordig het nie. Inteendeel, ons bevind ons nou in ʼn nuwe tydvak waarin kultuur, identiteit, nasionale belange en magsbalans weer sentraal staan. Die liberale wêreldorde sal moontlik nie heeltemal verdwyn nie, maar die era van Westerse liberale hegemonie is klaarblyklik verby.

Daar is dus nie meer ruimte om sonder meer aan te neem dat linkse politieke uitgangspunte inherent goed en edel is terwyl regse posisies as boos of agterlik afgemaak word nie. So ʼn benadering is onvanpas in ʼn wêreld waarin die kompleksiteit van kulture, geskiedenisse en magsbelange nie in eenvoudige morele raamwerke vasgevang kan word nie.

Die realiteit van die toekoms is dat dit wat voorlê nie noodwendig gekenmerk sal word deur ʼn wêreld van konsensus en eenvormigheid nie, maar eerder deur herskikking en aanpassing.

In hierdie nuwe era sal volhoubare vrede en samewerking nie gesmee word deur die oplegging van universele ideale nie, maar deur die erkenning van en verdraagsaamheid teenoor verskille, die hantering van magsrealiteite, en die verantwoordelike bestuur van spanninge binne ʼn wêreldorde sonder ʼn enkele sentrum van gesag.

Daar is ‘n nuwe regering op die dorp

Maroela Media

16 Januarie 2024

Kallie Kriel

 

Suid-Afrika het nie net ‘n regeringsprobleem nie. Dit het ook ‘n diepliggende bedelingsprobleem. Die lofsange wat die land se Grondwet en nuwe bedeling in die verlede toegesing is ten spyt, bly die werklikheid dat die huidige sentralistiese bedeling nie aan die bedoelings aan sommige destyds gemeet moet word nie, maar eerder aan die uitkomste daarvan.

Lees die volledige artikel in Maroela Media hier.

Spreekbuys: Die pad vorentoe ná die inperking en Covid-19

Dit was op Alexanderbaai (van alle plekke!) dat ek die eerste keer die ANC se Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP) gesien het. Ek was nog nuut in die vakbondwese toe ek in daardie afgeleë gebied namens ons lede gaan onderhandel het. Langs my het ’n jong NUM-verteenwoordiger gesit, met ’n fakspapier in die hand waaruit hy ’n lang lys eise vir die mynbestuur voorgelees het.

Ek het dadelik agtergekom dat hy nie self die lys opgestel het nie, maar dat dit deel van ’n groter plan was. Dit het my nuuskierigheid geprikkel, en in teetyd het ek met hom begin gesels. Hy het ’n afskrif van die dokument vir my gegee, wat – in Afrikaans, nogal – getiteld was “Heropbou en Ontwikkelingsprogram (HOP)”. Die subtitel was “ANC – Reg om te regeer”. My eerste gedagte by die lees daarvan was iets soos aitsa, die ANC sal nog leer dat dit makliker is om te protesteer as te regeer!

Dié aand by die gastehuis het ek die dokument deurgelees, en nog meer bekommerd geraak oor die gevolge wat ’n ANC-regering vir die land sou inhou. Hoewel die HOP in redelike en gematigde terme geskryf was, was dit op dieselfde sosialistiese grondslae gebaseer wat al sovele keer misluk het.

Ek onthou die kern daarvan was dat dit ’n baie groot magsrol vir die staat voorsien het, wat dan daardie mag moes gebruik om “gelykheid” te bewerkstellig. Hulle regmatige strewe om swartmense op te hef, was oorheers deur die verdoeseling van ’n plan om witmense in die proses af te trek. Die klem was nie om armes ryker te maak deur ekonomiese groei nie, maar om die rykes armer te maak deur radikale herverdeling op rassegronde. Met “rykes” is daar nie die miljoenêrs bedoel nie, maar gewone produktiewe witmense wie se poste en bates nou herverdeel moes word om almal gelyker te maak. Dit het my verstom dat hulle steeds gedink het dat ’n politieke strategie mense uit armoede kan lig, eerder as ’n ekonomiese strategie. My gevolgtrekking was dat die noodsaak om swartmense op te hef, sal misluk weens hulle eie beleid om teen wittes te regeer.

 

Transformation

Die nou vergete HOP was die ANC se bloudruk vol beloftes en goeie voornemens waarmee hulle die land oorgevat en begin regeer het. Hoewel die HOP taamlik gou deur ander bloudrukke opgevolg is, het die goue draad in al die dokumente dieselfde gebly. Dit was dat die regering sy mag moes gebruik om met “radikale transformasie” minderhede se poste, bates en instellings te teiken vir herverdeling aan hulle kiesers. Dit was nie “meer vir ons almal” nie, maar “julle s’n vir ons”.

Die destydse hoof van die liberale Institute for Race Relations, John Kane-Berman, het dit soos volg gestel: “The term ‘revolution’ sounded too harsh for sensitive post-’94 ears, so the ANC seized the term ‘transformation’ and designated it the official state ideology. The problem with this is that it could be understood simultaneously in an innocent and revolutionary manner. Being against transformation is being completely politically incorrect – almost like being against motherhood and apple pie! But supporting it implies support for the ANC’s National Democratic Revolution.”

 

Uitkoms

Daar het ná 26 jaar van ANC-bewind genoeg tyd verloop om die uitkomste van die HOP en sy opvolgers te beoordeel, en nie net politici se uitsprake nie. ’n Beleid word immers nie aan sy bedoelings gemeet nie, maar aan sy uitkomste, het die Nobel-ekonoom Milton Friedman gesê. Die uitkoms van die ANC se beleid en regering was dat die land net voor die Covid-19-krisis ná jare van waarskuwings deur graderingsagentskappe na rommelstatus afgegradeer is. Daarmee was die mislukking van die ANC-regering net amptelik bevestig. Die feite het dit reeds gewys in die rekordsyfer-werkloosheidskoers, voortdurende resessies, groeiende staatskuld en swak staatsbestuur. Die HOP se beloftes van “heropbou en ontwikkeling” het in die praktyk “afbreek en agteruitgang” geword.

 

Nuwe “BBB” in plek van mislukte HOP

Maar hoe lyk die pad vorentoe ná die inperking en Covid-19?. Die uitdaging is dat die ANC steeds aan bewind gaan wees, al kon hulle die land nie eers voor die krisis suksesvol regeer nie. Dit help egter nie om net daaroor te kla nie, want dit gaan niks verander nie. Die krisis het weer gewys dat ons op ons eie is. Daarom sal ons moet terugval op die ou spreekwoord waarmee ons al vir meer as drie eeue in die land oorleef het: ’n Boer maak ’n plan.

Dis nie so moeilik as wat dit klink nie – ons het al ver gevorder. Nadat ek daardie HOP-bloudruk van die ANC op Alexanderbaai gesien het, was ek oortuig dat dit gaan misluk, en dat ons weer eendag ’n helpmekaarbeweging sou moes stig. Ons kon nie die ANC se HOP stop nie, maar niks keer ons om ’n “BBB-plan” – beskerm, bewaar en bou – te begin nie. Natuurlik het ek en my kollegas nie presies geweet wanneer en wat die krisis presies sou wees nie. Ons breë aanname was wel dat staatsbestuur sal misluk, en dat ons aan groeiende selfbestuur sal moet begin bou deur sterk selfhelporganisasies te stig. Hoewel ons dus nie presies kon beplan nie, kon ons voorberei. Daarom het ons oor die afgelope paar jaar vir elke staatsfunksie wat misluk of wat ons uitsluit, ’n alternatief gebou.

Die ANC se hantering van die krisis het dit duidelik gemaak dat hulle witmense as tweedeklasburgers sien, ’n minderheid wat minder regte het as ander in die land. Daarom is ons enigste uitweg om ons eie gemeenskap van eersteklas-kultuurburgers te maak.

Die Solidariteit Beweging is as krisisbeweging gestig vir ’n krisis wat jare gelede reeds voorsien is. Daarom was ons ook gerat vir die huidige krisis, al kon niks ’n mens genoegsaam voorberei vir die hartseer van baie lede wat hulle werk of inkomste daardeur verloor het nie. Maar ons kan nie gaan lê nie, ons sal te midde van die krisis weer moet begin herbou. Die uitdaging is om ons planne in hierdie tyd te versnel om mense met hul werk en ander behoeftes in baie moeilike omstandighede te help. Ons het nou vir dekades lank probeer om staatsbestuur reg te ruk, maar dit het misluk. Daarom is ons besig met beplanning om selfbestuur op elke denkbare gebied te versnel. Ons toekoms is heeltemal te belangrik om aan ’n party oor te laat wat ons nie kan of wil help nie.

(Bron: Solidariteit Tydskrif, Maart 2020)

Flip Buys gesels met Podlitiek

(Hierdie video is van ‘n aanlynonderhoud wat Flip Buys in Junie 2022 met die podsening Podlitiek gevoer het)

(Bron: YouTube/Podlitiek)

Flip Buys vertel vir E-Nuus oor ANC

(Hierdie video is op 8 Mei 2012 op Solidariteit se YouTube kanaal geplaas)

(Bron: YouTube/Solidariteit)

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.