Ons bou volstoom voort aan Akademia

Die Gautengse premier Panyasa Lesufi, het met die bou van Sol-Tech se nuwe kampus in 2020 ’n venynige aanval daarop geloods. Dit het gelei tot ’n stortvloed van steun vir Sol-Tech onder Suid-Afrikaners reg oor die spektrum. Talle swart kommentators het daarop gewys dat Lesufi se aanvalle ’n deursigtige poging is om die aandag weg te lei van ANC-korrupsie en wanbestuur.

Die bou van ’n groot kampus en koshuise teen sowat R300 miljoen sonder staatsgeld, is wyd kontrasteer met die onnodige ontsmetting van leë skole teen sowat R450 miljoen met belastinggeld. Lesufi se publisiteit rondom Sol-Tech het uiteindelik die teenoorgestelde uitwerking gehad. Die hele land het kennis geneem dat die kollege onder begroting en binne die tyd gebou is, en top opleiding aanbied. Dit het tot ’n toestroming van Afrikaanse studente gelei, maar ook tot ’n toevloei van swart besoekers wat kom kyk het wat daar by Sol-Tech se suksesse te leer is, onder meer ’n paar ministers.

Dis nou weer politieke paniek in die ANC, want peilings dui daarop dat die ANC met die komende plaaslike verkiesing baie swak gaan vaar. Akademia se nuwe kampus wat nou in Pretoria gebou word, is die afgelope tyd gekritiseer deur prof. Jonathan Jansen en oudminister Naledi Pandor. Hoewel hierdie twee kommentators se anti-Afrikaanse sentimente wyd bekend is, is dit nogtans nodig om daarop te antwoord.

Die belangrikste beweegredes vir die uitbou van Akademia kan kortliks as volg saamgevat word:

Ons wil wêreldklas in Afrikaans wees

Die Solidariteit Beweging wil aan ’n omvattende kulturele ekosisteem help bou wat uiteindelik die hele pyplyn vanaf Afrikaanse kleuterskole tot beroepskolleges en ʼn universiteit met verskeie sattelietkampusse en ʼn aanlyn studiemodel insluit. Ons wil hê ons kinders en jongmense moet skole, kolleges en universiteite hê waar hulle veilig kan tuisvoel. Dis ʼn strewe na normaliteit, nie na die verlede nie. Ons Beweging begin met die bouwerk, maar Akademia is vir almal bedoel. ʼn Taal se hoër funksies is onontbeerlik om sy langtermyn-volhoubaarheid te verseker. ʼn Kultuurgemeenskap het opvoedkundige instellings nodig om sy taal en kultuur na volgende geslagte oor te dra. Daarby het skole, kolleges en universiteite ʼn opleidings- én ʼn opvoedingsrol. Terselfdertyd word leerders en studente vir ʼn meertalige werksomgewing voorberei. Dit is ʼn bekende feit dat moedertaalonderrig die beste vorm van onderrig is en dat dit studente toerus om hul kennis ten beste in ander tale te kan toepas.

Ons mag wêreldklas in Afrikaans wees

Die Grondwet bepaal in artikel 29 dat enkelmedium-opleidingsinstellings mag bestaan en dat elkeen die rég het om in enige amptelike taal opgelei te word. Dis nie ’n guns wat ons van die regering vra nie, dis ’n reg wat internasionaal erken word. Ingevolge artikel 6 van die Grondwet is Afrikaans ’n amptelike landstaal. Akademia is al 15 jaar gelede geregistreer en geakkrediteer, bied gehalte-opleiding aan en sluit geen persoon of groep uit nie. Dis oop vir enige persoon wat aan die akademiese standaarde voldoen en wat in Afrikaans wil studeer.

In 2019 het die Konstitusionele Hof by monde van hoofregter Mogoeng Mogoeng in sy uitspraak in die Stellenbosch-taalsaak, ’n beroep op die gemeenskap gedoen om self privaat onderriginstellings ter bevordering van Afrikaans en ander inheemse tale te bou. Hy het selfs ’n beroep op korporatiewe welwillendheid gedoen om hulpbronne beskikbaar te stel om te help om privaat moedertaalgebaseerde opleidingsinstellings te befonds.

Die Grondwetlike hof se versoek dat gemeenskappe self instellings moet bou en met eie kapitaal finansier om hul taal te bevorder, is dus presies wat die Solidariteit Beweging en ons vriende en vennote doen.

Die grondliggende reg van enige kultuur is die reg op voortbestaan, wat net moontlik is met outonome kulturele instellings soos skole, kolleges en universiteite.

Ons kan wêreldklas in Afrikaans wees

Solidariteit het Sol-Tech in 2006 begin en duisende studente is al by die kollege opgelei. Daar is vanjaar byna 3 000 studente in die onderskeie opleidingsfases wat opleiding in teorie, praktiese opleiding in ons werkswinkels en indiensopleiding by maatskappye behels. Die eerste R120 miljoen vir die oprigting van Sol-Tech het uit die maandelikse R10-bydraes van Solidariteit-lede gekom.

Waar daar ’n wil is, word die wil die weg! 

Akademia is in 2012 begin, het tans 4 500 studente, en gaan so vinnig van krag tot krag dat ’n reusekampus tans in Pretoria gebou word. Daar is ook reeds grond in die Paarl aangekoop met die doel om vir ons Satellietkampus daar ’n tuiste te bou.

Die Solidariteit Helpende Hand Studietrust is gestig om fondse beskikbaar te stel sodat almal wat wil moet kan leer en studeer. Die Trust word befonds deur Solidariteit-ledebydraes, skenkings, inkomste vanaf die VirSeker Trust, bydraes van die Helpende Hand se Ons Winkels-kettinggroep, en bemaking. Wêreldklasonderrig en -opleiding is geweldig duur en die bekostigbaarheid van onafhanklike instellings wat sonder staatsteun moet klaarkom bly ’n uitdaging. Ons is baie trots op ons jongmense, omdat die terugbetalingskoers van die studielenings nou op 99% te staan gekom het.

Ons kan, want ons het dit klaar bewys.

Ons kan nie alles op ons eie of net met gemeenskapsbydraes doen nie. Daarom sluit ons nou vennootskappe aan tussen kultuur en kapitaal, waar beleggers ’n markverwante opbrengs kry, en terselfdertyd ’n kulturele dividend in die vorm van topklasonderrig en -opleiding. Die doel is om uiteindelik waar prakties moontlik landswyd leefruimtes vir Afrikaans te bou.

Ons kán, want ’n Boer maak ’n plan!

Ons moet wêreldklas in Afrikaans wees

Die ANC is vyandig teenoor Afrikaanse onderwys. ’n Vyandige owerheid is nie iets nuuts in ons geskiedenis nie. Sowat 200 jaar gelede het lord Charles Somerset gedink hy draai Afrikaanse skole nek-om. ’n Eeu later was dit weer lord Milner se dagdroom. Nog ’n eeu later is dit weer “lord” Lesufi en kie se nagmerrie. Ons weet ons kan nie meer op die staat staatmaak om vir ons kinders wêreldklasonderrig en -opleiding te voorsien nie. Wêreldklasonderwys is nie ’n luukse nie, maar ’n móét. Die vraag is dus nie óf nie, maar hóé. Dit is waaraan ons werk. Ons sal nie gaan lê vir ’n regering wat nie eers ’n poskantoor kan bestuur nie.

Ons gaan wêreldklas in Afrikaans wees

Die bou van ’n kulturele infrastruktuur om saam in Afrika te kan bly, is soos iemand wat vir sy gesin ’n huis bou. Dit gaan nie oor die uitsluiting van ander of om homself af te sonder nie. Hy bou sy huis juis om saam met sy bure in ’n bepaalde woonbuurt te bly. Die gebou is net die punt van die ysberg wat bo die water uitsteek. Hierdie geboue kan net so groot en sterk wees soos die minder sigbare kulturele infrastruktuur wat al vir meer as twee dekades “onder” die water gebou word. Dit behels die totale netwerk van instellings wat strek vanaf werksgebied na burgerregte-, media-, finansiële-, kulturele- en opvoedkundige instellings tot by organisasies wat ons erfenisse bewaar.

‘n Onderwysplan is deel van die pyplyn van Afrikaanse onderrig en opleiding waaraan ons saam met vriende en vennote bou.

Ons sal self

Die Afrikaanse gemeenskap het alles in sy vermoë gedoen om Afrikaanse hoër onderwys in die openbare sektor ingevolge die grondwetlike voorsiening daarvoor te laat voortbestaan. Ná talle gesprekke, pleidooie, versoeke en selfs hofsake is die openbare sektor se deure in ons gesig toegeslaan. Ons enigste uitweg is om dit self te begin doen. Vandaar ons leuse, “Ons sal self”. Dit is nie ’n oproep vol heimwee terug na die verlede nie, maar ’n wekroep om saam ’n toekoms te bou. Ons sal self, en ons sal saam as helpmekaarbeweging. Dit gaan nie oor die herlewing van ’n uitgediende nasionalisme nie, maar oor gesonde kulturele selfvertroue, selfrespek en selfverwesenliking.

Dieselfde geld vir ons skole. Ons sal saam met die Afrikaanse skoolgemeenskap werk, praat, en veg om ons openbare skole wêreldklas te hou, maar ons sal terselfdertyd ook met planne vir onafhanklike onderwys begin – saam met ander instellings wat met ons wil saamwerk.

Toekomsbouers

Ons wil beslis nie voorgee dat ons al die antwoorde het, of dat ons alles alleen kan doen nie. Ons het mekaar nodig, en ons sal met ander rolspelers wat Afrikaanse onderrig op die hart dra saamwerk waar enigsins moontlik. Ons nooi by Kanton Eiendomme almal uit om saam Toekomsbouers te wees.

Jare gelede het mense gedink dis onnodig én onmoontlik om onafhanklike Afrikaanse onderwysinstellings te bou. Die tyd het geleer dat dit nodig én moontlik is. Suid-Afrika is ’n land waar dit wat teoreties moontlik is, in die praktyk soms onmoontlik is. Gelukkig is dit ook ’n land waar dit wat teoreties onmoontlik is, in die praktyk wel moontlik is.

Afrikaanse skat

Afrikaanse jongmense word vandag blameer vir dinge wat gebeur het voor hulle gebore is, terwyl die regering nie die verantwoordelikheid aanvaar vir wat hulle vandag doen nie. Onthou, ’n kultuur kan net voortbestaan as elke geslag vir die volgende een leef.

Die Solidariteit Beweging wil graag die tradisie van wêreldklas-Afrikaanse onderrig en opleiding op nuwe maniere voortsit. Ons wil, ons mag, ons moet, ons kan, ons gaan en ons sal dit as gemeenskap self doen.

Afrikaners het immers nie die oseane deurkruis, deur die eeue oorleef, die onbekende ingetrek, magtige moondhede op die slagveld gepak en op talle gebiede wêreldklasprestasies gelewer, omdat ons van jellie gemaak is nie. Ons is vrye burgers, nie dienswillige onderdane nie. Ons is vasbeslote om in die woorde van Van Wyk Louw, die skat van ons taal en kultuur veilig deur die skare te dra.

Die hede gaan nie weggaan nie, die verlede gaan nie terugkom nie, en die toekoms gaan nie vanself gebeur nie.

My oproep is dus: kom laat ons bou!

Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Afrikaners, slagoffers en slagoffermentaliteit

ʼn Groepie van sowat 40 Afrikaners het onlangs die Amerikaanse ambassadeur, Brent Bozell, vir ʼn ontmoeting genader. Hulle sentrale boodskap was: Afrikaners is nie slagoffers nie.

Afrikaners ís egter slagoffers, maar hulle het nie ʼn slagoffermentaliteit nie. ʼn Slagoffer is iemand aan wie onreg aangedoen is. ʼn Slagoffermentaliteit is iets anders. Dit ontstaan wanneer iemand sy identiteit met sy slagofferskap begin vereenselwig.

ʼn Slagoffer sê: “Onreg is aan my gedoen.” Iemand met ʼn slagoffermentaliteit sê: “Omdat onreg aan my gedoen is, kan ek nie verantwoordelikheid vir my toekoms neem nie.”

Om onreg te ontken, is gevaarlik. Wanneer dit gebeur, word onreg genormaliseer, optrede daarteen geneutraliseer en mense begin magteloos voel en raak uiteindelik vervreemd. Dit lei tot verwydering, polarisasie en onttrekking.

Dit is ook gevaarlik om onreg te relativeer. Om byvoorbeeld te sê dat iemand anders se onreg groter is en dat jou onreg daarom minderwaardig is, lei bloot tot die voortsetting van onreg.

Onreg moet konkreet en genuanseerd erken word voordat dit behoorlik hanteer kan word.

Die groepie argumenteer dat almal in Suid-Afrika onreg beleef en dat Afrikaners daarom nie die onreg teenoor hulle mag uitlig nie. Onreg teenoor Afrikaners word dan deel van ʼn groter pot van onreg, maar die spesifieke aard daarvan verdwyn eenvoudig in die groot kookpot.

Dit is natuurlik waar dat daar meerdere vorme van onreg bestaan en dat Afrikaners nie die enigstes is wat onreg beleef nie. Inteendeel, gewone arm swart Suid-Afrikaners ervaar die onreg van staatsverval en raswette dikwels op ʼn baie akute wyse.

Erkenning van een vorm van onreg is egter nie die ontkenning van ʼn ander nie. Onreg teenoor Afrikaners mag en moet dus erken word.

Raswette diskrimineer direk teen Afrikaners. Hierdie wette definieer mense aan die hand van hoe hulle lyk en wie hulle is, eerder as wat hulle kan doen. Raswette is onreg.

Die manier waarop Afrikaanse instellings soos kolleges, universiteite en skole aangeval word, is eweneens onreg. Die slag by kolleges is reeds gelewer, die slag by universiteite is byna voltooi, en die Bela-kanon is nou op skole gerig.

Voeg daarby die histeriese aanvalle op alles wat Afrikaans is deur die Lesufi’s en kie. Mense voel naderhand nie meer tuis in hul eie land nie.

Natuurlik raak misdaad almal. Dit ruk handuit. Misdaad in “townships” ontwrig mense se lewens daagliks. Dit alles is ernstige onreg.

Plaasaanvalle vorm egter, te midde van die algemene misdaadkrisis, ʼn besondere soort onreg. Dit is buitengewoon wreed en die voorkoms daarvan is ontstellend hoog. Om daarop te fokus, ontken nie ander vorme van onreg nie; dit plaas bloot die kollig op hierdie spesifieke onreg.

Boonop is dit die enigste vorm van misdaad wat deur politieke leiers besing word met die woorde: “Kill the Boer, the farmer”.

Afrikaners is ook, saam met alle ander Suid-Afrikaners, slagoffers van die land se algemene verval. Daar bestaan nie iets soos Afrikaner-slaggate, Afrikaner-kragonderbrekings of Afrikaner-waterlekke nie. Hierdie probleme raak almal. Hulle moet deur almal erken en deur almal aangepak word.

Daar is egter ook spesifieke kwessies wat Afrikaners en Afrikaans raak. Die Solidariteit Beweging, waarvan Solidariteit en AfriForum deel vorm, fokus op sy lede en ondersteuners. Ons lede en ondersteuners kom hoofsaaklik uit die Afrikaanse en Afrikanergemeenskap.

Daarom is ons doel om vir daardie gemeenskap ʼn toekoms te help bou waarin hulle vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Die Solidariteit Beweging gee egter nie voor dat ons alle Afrikaners of alle Afrikaanssprekendes verteenwoordig nie, nog minder alle Suid-Afrikaners. Ons fokus is ons lede en ondersteuners. Dit sou arrogant, en selfs paternalisties, wees om namens almal te probeer optree.

Ander gemeenskappe moet hul eie onreg identifiseer en aanspreek. Waar ons kan saamwerk, sal ons dit doen. Ons het egter ʼn plig om die onreg teenoor ons lede uit te lig en aan te spreek. Niemand kan ons daarvoor kwalik neem nie.

Dit strek dikwels ook tot voordeel van die breër gemeenskap. Akademia en Sol-Tech is byvoorbeeld bates uit die Solidariteit Beweging, vir die Afrikaanse gemeenskap, maar hul waarde strek veel verder. AfriForum se veiligheidsinisiatiewe en werk aan munisipale dienste bevoordeel eweneens baie mense buite ons eie ondersteuningsbasis.

Dit bring my terug by die begrip slagoffermentaliteit.

Afrikaners het oor die algemeen nie ʼn slagoffermentaliteit nie en die Solidariteit Beweging beslis nie. Al is daar onreg, klim ons in en doen dinge self. Die erkenning en verstaan van onreg is juis die voorwaarde om dit aan te spreek.

Daarom is “Ons sal self” die leuse waarop ons Beweging gebou is. Ons help mense om werk te kry, bou opleidingsinstellings, gee studiehulp, ondersteun skole, verbeter veiligheid, help met munisipale dienste, beveg onreg binne die grondwetlike raamwerk en doen nog baie meer.

Ons erken onreg. Ons beveg onreg. Maar ons bou ook verder aan ons toekoms. Ons sal self.

 

Geskryf deur Dirk Hermann, bestuurshoof by Solidariteit.

Die reg om self te kan besluit

In 1994 het Suid-Afrika ʼn ingrypende ordeverandering beleef. ʼn Antwoord moes gevind word vir ʼn land met ʼn buitengewoon diverse samelewing.

ʼn Nuwe Grondwet is onderhandel, individuele regte is verskans, maar die groot tekortkoming was die gebrekkige beskerming van ons diverse kultuurlandskap en spesifiek minderheidsgemeenskappe.

Die unitêre model, wat sentralisering bó desentralisering verkies, was terugskouend waarskynlik die minste geskikte stelsel vir so ʼn diverse land.

Wat dikwels vergeet word, is dat daar destyds sterk stemme vir ʼn federale oplossing was. Hierdie denkrigting het ondersteuning geniet binne en buite die Nasionale Party, onder akademici, internasionale drukgroepe en selfs uit swart geledere. Die huidige leierskorps van die Solidariteit Beweging het hulle ook met dié denkskool vereenselwig.

Daar is gepraat oor minderheidsbeskerming, magsdeling, streeksoutonomie en die voorkoming van totale sentralisering – minder staat en meer gemeenskap.

Vandag word dit dikwels voorgehou asof daar slegs twee moontlikhede was: die uitgediende apartheidstelsel of die huidige unitêre stelsel. Indien jy krities teenoor die huidige bedeling staan, word jy maklik daarvan beskuldig dat jy bloot die ou bestel klakkeloos wou beskerm.

Namate Suid-Afrika al meer sentraal bestuur word, word daar al meer besef dat die huidige Suid-Afrikaanse bestel ernstige gebreke toon. ʼn Alternatief kon destyds bedink word – en kan vandag steeds bedink word.

Dwarsoor die wêreld bestaan daar uitstekende federale modelle vir die bestuur van diverse samelewings.

ʼn Groep van die Solidariteit Beweging was onlangs op ʼn studietoer in Europa om federalisme verder te ondersoek. Federalisme is ʼn volkome normale begrip in groot dele van die wêreld. In Vlaandere word dit selfs beskryf met ʼn woord wat vir ons bekend klink: selfbeskikking.

Afrikaners vorm deel van die ryk Westerse tradisie. Daarom was Nederland ons eerste bestemming – nie vanweë Nederland se federalisme nie, maar om weer Afrikaners se verbintenis met die Westerse beskawingstradisie te onthou.

Amsterdam is sekerlik nie die enigste voorbeeld nie, maar wel een van die duidelikste van hoe die Weste se invloed na die Afrikaner deurgespoel het. Ons was in die vertrek waar die besluit geneem is om ʼn verversingstasie aan die Kaap te vestig – die geboorte-oomblik van ʼn volk in die hart van die Westerse handelswêreld.

Die hele Europa getuig van ʼn ryk beskawing waarvan ons deel is. Ons is nie Europeërs nie – ons is van Afrika – maar ons is onteenseglik ook deel van die Westerse tradisie.

België: parlemente vir verskillende gemeenskappe
Ons tweede stop was België – ʼn land met ʼn lang geskiedenis van interne konflik. België bestaan uit drie streke: Vlaandere, ʼn Franse streek en ʼn klein Duitse streek. Elke streek het sy eie parlement waarin plaaslike besluite geneem word, terwyl ʼn federale parlement oor nasionale sake besluit. Selfs binne die federale parlement bestaan daar veto’s vir die onderskeie taalgroepe.

Switserland: radikale demokrasie van onder af
Ons derde bestemming was Switserland met sy kantonstelsel. In Genève het ons eers ʼn toer op die spore van die Reformasie meegemaak. Binne die Westerse tradisie het die Reformasie ʼn enorme invloed op die vorming van Afrikaners gehad: uit genade, deur Christus, tot dankbaarheid.

Dit was ook in Genève waar ons ʼn klag teen die Suid-Afrikaanse regering se rassebedeling by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) van die Verenigde Nasies ingedien het.

In Zürich het ons ʼn lesing oor die Switserse kantonstelsel bygewoon. Switserland bestaan uit 26 kantons – byna soos 26 klein lande – wat elk hul eie unieke behoeftes bestuur. Daar is vier tale: Duits, Frans, Italiaans en ʼn klein taal, Romaans. Die kantons is grootliks rondom dié taalgemeenskappe georganiseer. Switserland maak op plaaslike, kantonnale en federale vlak van referendums gebruik. Besluitneming geskied van onder af, met mag wat oorspronklik by gemeenskappe lê en dan opwaarts vloei.

Suid-Tirool – die reg om selfte besluit
Ons laaste stop was Suid-Tirool, ʼn noordelike provinsie van Italië. Suid-Tirool, oorspronklik ʼn Duitse streek, is ná die Eerste Wêreldoorlog by Italië ingelyf. Skielik het ʼn Duitse gemeenskap van sowat 500 000 mense hulle binne ʼn Italiaanse staat bevind.

Ná ʼn lang stryd het die streek uiteindelik ʼn groot mate van outonomie verkry. Hulle kultuur word beskerm en hulle ontvang 90% van hul belastinggeld terug.

Toe ek vir ʼn Suid-Tiroler vra waarom outonomie vir hulle so belangrik is, was sy antwoord eenvoudig: “Dit gaan oor die reg om self te kan besluit.”

Federalisme – waarvoor die Solidariteit Beweging ook staan – is dus niks buitengewoons nie. Dit is ʼn normale en dikwels noodsaaklike manier waarop volke, tale en kultuurgemeenskappe wêreldwyd hul voortbestaan verseker.

Die Europese model onder druk
Daar is egter iets wat baie Europese lande nie verreken het nie: massa-immigrasie van mense wat kultureel en godsdienstig dikwels nie wil integreer nie. Benewens die groot migrasiegetalle is daar ook die hoë bevolkingsgroei binne sekere immigrantegemeenskappe. In ʼn Turkse kafee sien ʼn mens selfs stootwaentjies te koop.

Europa se hele model word ontwrig. Tot só ʼn mate dat ʼn Nederlandse joernalis vir ons gesê het: “Ons is binnegeval”. ʼn Vlaamse politikus meen dat hulle teen 2040 ʼn minderheid in hul eie land kan wees. Switserland probeer desperaat om deur middel van ʼn referendum hul bevolking op 10 miljoen te beperk. ʼn Suid-Tiroler beskryf die immigrasiekrisis as vernietigend.

Voeg hierby Europa wat grootliks sy Christelike geloof en beskawingsanker verloor het. Sonder daardie ankers kan weerstand teen nuwe kulturele druk moeilik gebied word. Dit is byna soos Simson wat sy hare verloor het – ʼn tragiese beeld van krag wat ongemerk verdwyn het. Baie van die nuwe immigrantegemeenskappe beskik juis oor sterk en selfversekerde geloofsidentiteite wat die vakuum van sekularisme vul.

Ek keer terug na Suid-Afrika met die indruk van ʼn Europa in ʼn krisis. Ek vertrou dat Europeërs weer die rykdom van die Westerse tradisie sal herontdek. Soos ʼn kollega dit gestel het: “Hulle sal weer hul boekrolle moet vind”.

Gemeenskapsfederalisme: Ons sal self
Dit bring my terug by die Solidariteit Beweging se model van gemeenskapsfederalisme, saamgevat in die woorde: “Ons sal self”. Ons het oplossings gevind binne die werklikhede van demografiese verandering. Ons Europese gashere was baie geïnteresseerd in dié model. Ons het reeds sekere uitdagings verreken wat moontlik nog vir hulle voorlê. Ons het minstens planne. Party van hulle het selfs hoop in ons benadering raakgesien.

Ek is steeds van mening dat ʼn federale politieke bestel ook vir Suid-Afrika ʼn beter oplossing sou wees – en steeds kan wees. Die Solidariteit Beweging se model van gemeenskapsfederalisme is juis kragtig omdat ons self beheer daaroor het.

Die krag van “ons sal self” sluit direk aan by die woorde van die Suid-Tiroler: “Dit gaan oor die reg om self te kan besluit”. Dit is reg, dit is normaal en dit is vryheid.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Gee die teer en ons doen die werk

Bron: Netwerk24, 15 Januarie 2014 – Kallie Kriel

Die oplossing vir baie probleme in plaaslike regerings is dat gemeenskapslede aktief ’n positiewe rol begin speel om die verval te keer, eerder as om in moedeloosheid te verval, skryf Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Plaaslike regerings in Suid-Afrika is in ’n ernstige krisis.

Belastingbetalers word landwyd gekonfronteer deur swak diens­lewering, korrupsie, wanbesteding, onveilige woonbuurte en ’n natuurlike omgewing wat toenemend besoedel word.

Ons kan aan die begin van 2014 op een van twee maniere daarop reageer.

Eerstens kan ons in moedeloosheid verval en onsself laat glo dat ons niks daaraan kan doen nie.

So ’n reaksie sal beteken dat ons plaaslike regerings net verder sal verval en dat ons maar moet aanvaar dat die omgewings waarin ons woon in 2014 net verder agteruit sal gaan.

Die tweede moontlikheid is dat ons besluit om nie die agteruitgang goedsmoeds te aanvaar nie en 2014 omskep in ’n waterskeidingsjaar waarin aktiewe gemeenskappe ’n positiewe rol gaan speel om ons dorpe en stede te help red. AfriForum het besluit om hierdie rigting in 2014 met nóg groter vasbeslotenheid in te slaan. Natuurlik is dit nie ’n maklike pad om te stap nie, maar deur goeie beplanning en toewyding is dit moontlik.

Die suksesse wat die 120 takke landwyd die laaste paar jaar in plaaslike gemeenskappe behaal het, bevestig dat aktiewe gemeenskappe nie net plaas­like regerings verantwoordbaar kan hou nie, maar ook self prakties dinge kan doen om hul lewensomstandig­hede te verbeter.

Ná maande se beplanning, navorsing en aanvoorprojekte is daar op die nasionale takkongres in 2013 ’n gemeenskapplan en -handleiding bekend gestel.

Die eerste is ’n riglyn vir die ordelike inrigting van gemeenskapsorganisasies en die tweede is ’n lewende dokument wat praktiese “resepte” bevat oor hoe om spesifiek uitdagings in gemeenskappe te pak. Dit is onder meer ’n poging om die apatie in gemeenskappe teen te werk deur gemeenskappe en gemeenskapsleiers te bemagtig en by te staan in die stryd teen swak dienslewering.

Georganiseerde gemeenskappe kry dit reeds toenemend reg om ’n verskil in hul gemeenskappe te maak.

Ek noem maar ’n paar enkele voorbeelde:

Die gemeenskap van Dealesville in die Vrystaat het ernstige watervoorsieningsprobleme ondervind omdat die munisipaliteit versuim het om die infrastruktuur in stand te hou. Die tak daar het ’n waterpomp gekoop en geïnstalleer en Dealesville se waterprobleme is sedertdien iets van die verlede. Die koste is van die Tokologo- munisipaliteit verhaal.

Ook in Louis Trichardt is die gemeenskap maande lank sonder water gelaat, maar AfriForum het deur middel van bedinging, regstappe en uiteindelik ’n skikking, wat ’n bevel van die hof gemaak is, die owerhede gedwing om hulle te verbind tot ’n praktiese plan om volhoubare watervoorsiening te verseker.

Die Mogalakwena-stadsraad het ’n senior amptenaar van Mokopane (Potgietersrus) in sy pos behou, al is hy skuldig bevind aan 26 aanklagte wat verband hou met bedrog en wanbesteding. AfriForum het ingetree en die hooggeregshof genader vir die hersiening en tersydestelling van dié besluit. Die munisipaliteit het gesê dat hy nie die aansoek sal teenstaan nie en het die amptenaar van sy pos onthef.

Die gemeenskappe van Steynsburg en Burgersdorp in die Oos-Kaap was in oproer nadat hulle kennis gekry het dat hul elektrisiteit afgesny sou word omdat die Gariep-munisipaliteit nie hul Eskom-rekeninge betaal het nie.

Met ’n donker vooruitsig is ’n tak in Burgersdorp gestig. Daarna is die hooggeregshof in Grahamstad genader om ’n dringende interdik te verkry om die afsny van elektrisiteit te stuit.

Die munisipaliteit het egter op die drumpel van die hof tot ander insigte gekom en ’n skikkingsooreenkoms onderteken waarin die munisipaliteit beloof het om die rekeninge te vereffen.

Eskom het die ooreenkoms aanvaar en het sy personeel, wat reeds op pad was om die elektrisiteit af te sny, gekeer.

Dieselfde stappe is ook onlangs gedoen om te verseker dat inwoners van Lydenburg se elektrisiteit nie deur Eskom afgesny word nie.

In Piet Retief is ’n ooreenkoms met die Mkhondo-munisipaliteit gesluit om van die paaie in die omgewing te herstel. Ingevolge die ooreenkoms het AfriForum-lede die arbeid en brandstof voorsien en Mkhondo die teer.

Oor ’n tydperk van twee weke is van die belangrikste paaie in Piet Retief herstel.

In Vryburg is ’n buurtwag in samewerking met die polisie en ondernemings in dié landboudorp op die been gebring.

Met die instelling van patrollies, ’n radionetwerk en ’n motorwagstelsel het misdaad binne maande met 47% afgeneem.

Weens die druk wat op die Naledi- munisipaliteit geplaas word, word straat- en verkeersligte vinniger herstel. Ander sake in Vryburg sluit ’n veldtog om die stortingsterrein te sluit en te rehabiliteer in én die daarstelling van ’n nuwe stortingsterrein, asook die herstelling en verbetering van die rioolsuiweringswerke.

In Kuruman is ’n skoonmaakprojek van stapel gestuur om Kuruman reg te ruk sodat die gemeenskap weer trots kan wees op hul dorp.

In Volksrust is die boere bygestaan met buitensporige heffings op grondbelasting. ’n Skrywe is aan die munisipaliteit gerig met voorgestelde tariewe om die onderhandelinge tot ’n positiewe beslissing vir die boere te bring.

In Brits is ’n bedrogverslag oor die Madibeng-munisipaliteit bekend gemaak nadat die munisipaliteit dit eers probeer toesmeer en toe gemanipuleer het om die skuldiges te beskerm.

Beweerde bedrog van meer as R250 miljoen is ter sprake.

Geen belastingbetaler hoef terug te sit en toe te laat dat ons aan onbeholpe owerhede uitgelewer word nie.

AfriForum verkies om in vennootskap met owerhede te werk om beter en veiliger dorpe en stede te help teweegbring. Indien owerhede nie hul samewerking gee nie, dan doen ons nie net regstappe nie, maar organiseer ons gemeenskappe om self hul probleme op te los.

Dit het tyd geword dat ons almal in 2014 begin om ons strate, dorpe en stede te help red deur onbeholpe stadsrade verantwoordbaar te hou én self te doen wat ons kan om ons omgewings te verbeter. Jy word genooi om deel te word van die groeiende groep mense wat betrokke wil raak om volhoubaar ’n beter toekoms in 2014 en daarna te help verseker.

Ons sal self
“Ons sal self.”

Lees ook: Ons geslag se taak is om ons bestaanskrisis aan te pak

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.