Goeie en regverdige wette is noodsaaklik vir ‘n vry en vreedsame samelewing.
In die dorp Bozen in die noorde van Italië is ‘n aanhaling van die Joodse denker Hannah Arendt aangebring op ‘n muurpaneel uit die Mussolini-era: “Geen mens het die reg om te gehoorsaam nie.”
Die aanhaling is in reaksie op die Fascistiese oorheersing van die Duitse dorp en provinsie van Suid-Tirool deur die Mussolini-regering ná die Eerste Wêreldoorlog.
Die gebied was deel van Oostenryk, maar is ná die oorlog in 1919 aan Italië gegee vir hul ondersteuning van die Geallieerdes. Dis interessant dat genl. Jan Smuts Suid-Tirool gehelp het om outonome status te kry omdat hulle ‘n kommando gestuur het om die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog by te staan.
Ná Mussolini se bewindsoorname het hy begin om die Duitse bevolking te verdruk en Suid-Tirool te veritaliaans. Dit is gedoen deur Duitse skole se taalbeleid met wetgewing te verander, en deur werkgewers te dwing om deur ‘n kwotastelsel Italianers in diens te neem. Daar is vandag nog meer Italianers as Duitssprekendes in Bozen.
Arendt was verstom oor hoe die meeste gewone Italianers die verdrukkende en immorele wette van die Fascistiese regering gehoorsaam het.
Mussolini het die kern van die fascisme saamgevat met sy berugte slagspreuk: “Alles binne die staat, niks buite die staat, niks teen die staat nie.” Vir hom was die staat die kern, en die bevolking, ondernemings, kerke en die burgerlike gemeenskap moes ondergeskik aan die staat wees.
Die wet en die ‘reg’ is nie altyd dieselfde nie
Tydens die verhoor van die Nazi-oorlogsmisdadiger Adolf Eichmann het Arendt opspraak gewek deur te sê dat Eichmann nie ‘n demoniese en sadistiese monster was nie, maar ‘n gewone mens wat bloot gehoorsaam bevele uitgevoer het. Sy het gewaarsku dat sulke dinge nie net in Nazi-Duitsland of Fascistiese Italië kan gebeur nie, maar in enige samelewing waar mense immorele wette blindelings gehoorsaam. Boosheid is dan die verskriklike gevolg van gehoorsaamheid aan onregverdige wette. In kort, niemand het die reg om onreg te gehoorsaam bloot omdat dit die wet is nie. Die wet maak nie outomaties alles “reg” nie.
Verstaatliking
Suid-Afrika is nog ver van Mussolini se Italië, maar dit raak tyd om vroegtydig op Arendt se waarskuwing ag te slaan. Die ANC het die laaste jare met sy Nasionaal-Demokratiese Revolusie en die voortspruitende ideologie van transformatisme die samelewing al hoe meer begin verstaatlik. Dit word bewerkstellig deur staatsmag al hoe sterker te sentraliseer.
Dink maar aan die staatsoorname van water- en mineraalregte, die rassewetgewing wat alles voorskryf, van eienaarskap tot die werknemers- en verskaffersprofiel van ondernemings, staatsoorname van die Setas, die Bela-wetgewing, wat groter staatsbeheer oor skole nastreef, die onteieningswet, beoogde Nasionale Gesondheidsversekering, en die Wetsontwerp op Sakelisensiëring van laat verlede jaar.
Dis nie net mnr. Zuma wat die staat onregmatig gekaap het nie. Staatskaping is die kern van die ANC se ideologie en die doel van transformatisme.
Gehoorsaam
Tot dusver het die burgery selfs onregverdige wette gehoorsaam, ten spyte daarvan dat die praktyk duidelik gewys het dat die verstaatliking rampspoedige gevolge het, en dat dit teen die grondwetlike verstandhouding van die 90’s is.
Boonop het dit dudielik geword dat rassewette nie meer gerig is op regstelling nie, dat dit nie werk nie en nie kan werk nie, en dat dit boonop immoreel in in ‘n sogenaamde nierassige grondwetlike demokrasie.
In kort, dit is die wet, maar dit is nie die reg nie. Daarom het niemand die reg om onreg te gehoorsaam nie.
Transformatisme
Transformatisme gaan nie oor ‘n beter lewe vir almal nie, maar om die staatsideologie van radikale gelykmaking deur rasseformules af te dwing. Dit is onvermydelik dat kernsake soos vryheid, voorspoed, gelykheid voor die reg, ‘n werkende land en gelyke burgerskap die slagoffers van hierdie beleid is.
Mense is aan die wet gehoorsaam, omdat dit afgedwing word deur die staatsapparaat, en deurdat die konstitusionele hof transformatisme as ‘n grondwetlike opdrag vertolk, al kom die woord nie in die Grondwet voor nie.
Onwerkbare en immorele wette word gehoorsaam omdat daar leidende mense is wat dit normaliseer, die immoraliteit daarvan ontken, die wette regverdig en verdedig, en dit selfs help afdwing. Diesulkes het so diep in hierdie staatsideologie ingekoop dat hulle nie eens agterkom of omgee dat hulle aandadig is aan die lyding van miljoene gewone mense weens die staatsverval, werkloosheid en geweldsmisdaad nie.
Die Franse denker Frédéric Bastiat verduidelik die “normaliteit” van hierdie abnormaliteit treffend soos volg: “Wanneer plundering ‘n lewenswyse word vir ‘n groep mans in ‘n samelewing, skep hulle vir hulself ‘n regstelsel wat dit magtig en ‘n morele kode wat dit verheerlik.”
Die praktyk waar daar aandele van arm pensioenfondslede gevat is en aan ryk BEE-magnate gegee word, roep nog ‘n stelling van Bastiat op: “Daar is mense wat dink dat plundering moreel regverdigbaar word sodra dit wettig gemaak word.”
Indien onregverdige wette afgedwing word, kom die hele regsorde in die gedrang. Dan is die wet nie meer die reg nie, maar, soos Alvin Toffler dit beskryf, net verbloemde geweld.
Skuldkompleks
Die verskoning van oorlogsmisdadigers dat hulle net bevele uitgevoer het, of dat hulle nie geweet het van wandade nie, is nie geldige verwere nie. Hulle móét geweet het, of hulle wóú nie weet nie. Dit geld veral mense soos oudregter Johann van der Westhuizen, wat steeds die mislukte en immorele staatsideologie van transformatisme normaliseer, regverdig, verdedig en dit selfs help afdwing het.
Daarmee saam probeer hy ‘n kollektiewe skuldkompleks om Afrikaners se nekke hang, deur die verlede subtiel aan Nazisme te koppel soos in Rapport van 29 Maart.
Dr. Victor Frankl, filosoof en sielkundige, was ‘n oorlewende van die Nazi-konsentrasiekampe, en was bekend om sy verwerping van die idee van kollektiewe skuld. Hy het gesê dat niemand verantwoordelik gehou kan word vir iemand anders se dade nie.
Daarby, om apartheid met die Joodse volksmoord te vergelyk, kom in werklikheid neer op ‘n gesofistikeerde onderspeling van die gruwelike massamoord op Jode.
Daarom moet ons leer uit die lesse van die geskiedenis. Goeie en regverdige wette is noodsaaklik vir ‘n vry en vreedsame samelewing.
Daarteenoor lei blinde gehoorsaamheid aan onregverdige wette tot die vertrapping van die reg van mense.
Kom ons luister na die waarskuwing van Thomas Sowell, wat gesê het: “As jy die regering genoeg mag gee om sogenaamde sosiale geregtigheid te skep, het jy dit genoeg mag gegee om despotisme te skep. Miljoene mense oor die wêreld heen het met hul lewens betaal omdat hulle daardie eenvoudige feit oor die hoof gesien het.”
Vryheid vereis immers ewigdurende waaksaamheid.
Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.


