Ekonomiese groei het die afgelope drie dekades miljoene mense uit armoede help ontsnap. The Economist het selfs al die moontlikheid van die “einde van armoede” voorsien.
Die geskiedenis wys onomwonde dat daar net een manier is om armoede op te los en dit is ekonomiese groei. Die Nobelprys-wenner, Milton Friedman, het dit treffend gestel: “Daar is geen ander manier om die lot van gewone mense te verbeter wat by die produktiewe aktiwiteite kan kers vashou wat deur ’n vryeondernemingstelsel ontketen word nie.”
Geen sosialistiese regering se sogenaamde “pro-armoede” beleidsrigtings kon histories meer mense uit armoede lig as ’n groeiende vryemarkekonomie nie.
Sosialiste glo dat armoede altyd deur iemand anders veroorsaak word en deur iemand anders – die staat en die “rykes – opgelos moet word. Hulle vra nie: “Wat het ons verkeerd gedoen en wat moet ons nou reg doen nie?” Hulle vra: “Wie het dit aan ons gedoen en wat moet ons nou aan hulle doen?
Daarteenoor sê die Afro-Amerikaanse denker, Thomas Sowell: “Geen verduideliking vir armoede is nodig nie. Die mensdom het in armoede begin en duisende jare lank in armoede gebly. Wat ’n mens dus regtig moet weet, is wat dit is wat sommige lande en sommige groepe in lande in staat stel om voorspoedig te wees.”
Voorspoed en armoede
Die fokus moet dus meer op die oorsake van voorspoed as op die oorsake van armoede wees.
Sowell se standpunt is tereg dat “wat die armes die nodigste het, is om nie méér arm te wees nie”. “En hoe kan dit op groot skaal bewerkstellig word, anders as deur ’n ekonomie wat beduidend meer welvaart skep? Tog toon politieke linkses al lank ’n merkwaardige gebrek aan belangstelling in hoe welvaart geskep word. Wat hulle betref, bestaan welvaart op die een of ander manier en die enigste vraag is hoe om dit te herverdeel.”
Die ANC het al talle ekonomiese planne aangekondig, maar die uitkoms was bloot nog meer armoede en hoër werkloosheid. Die rede is dat politici en die staat nie welvaart kan skep nie en nie weet hoe om dit te doen nie. Volhoubare ekonomiese groei verg ’n omvattende en wel funksionerende ekostelsel, waarin alle komponente soos ’n magdom ratte in ’n masjien moet saamwerk om ’n ekonomie so vinnig te laat groei dat armoede prakties verdwyn.
Ekonomiese groeimodel
Die doel van enige ekonomie is om die per capita-inkomste van die burgery te verhoog sodat almal se lewenstandaard verbeter. Die ekonomie bestaan dus vir die mens en nie die mens vir die ekonomie nie. Die verhoging van almal se inkomste is egter net moontlik as elkeen se gemiddelde produksie hoër as hul verbruik is.
Daar is minstens 10 voorwaardes vir ekonomiese groei wat moet deel vorm van ’n ekonomiese ekostelsel en waarvan die meeste nie regstreeks ekonomies van aard is nie.
Die eerste voorwaarde is goeie regering. In ’n land soos Suid-Afrika bepaal die politiek die ekonomie en nie andersom soos in ontwikkelde state nie. So ’n regering moet betroubare munisipale dienste lewer wat as platforms vir ekonomiese groei kan dien. Verder moet die politieke leiers beleidsekerheid vestig, wat beleggersvertroue skep en die burgery se kulturele en persoonlike vryhede beskerm en respekteer. ’n Swak regering verarm die burgery terwyl die heersers in weelde leef.
Die tweede vereiste is behoorlike infrastruktuur soos elektrisiteit, water, paaie, hawens, lughawens en goeie optiese veselnetwerke.
Veiligheid is die derde vereiste en is onontbeerlik vir groeiende voorspoed. Op sy beurt is voorspoed net so belangrik vir veiligheid.
Vierdens volg die regsorde omdat enige ekonomie afhanklik is van ’n ordelike en wetsgehoorsame samelewing wat respek vir die oppergesag van die reg en eiendomsreg het. Die strafregstelsel moet soos ’n goed geoliede masjien werk, anders ly die reg van onskuldige mense én hul ekonomiese voorspoed daaronder.
Die vyfde vereiste vir ekonomiese groei behels die hele pyplyn van gehalteonderwys en -opleiding, vanaf kleuterskool tot by universiteit. Dit sluit skole, beroepsopleiding én voortgesette opleiding vir volwassenes in. Daar is ’n regstreekse verband tussen mense se vlak van opleiding en hul inkomste. Daarom is dit nodig om almal die kans te gee om hul volle vermoë te verwesentlik. Opleiding bly dié belegging met die hoogste opbrengs, het Friedman aangevoer.
Arbeid is die sesde vereiste. Die welstand van ’n land hang af van die welstand van sy werksmag. Om voorspoedig te funksioneer benodig ’n land ’n hoogs opgeleide, produktiewe en goed betaalde werksmag. Dit gee die land ’n mededingende ekonomiese voordeel en moedig sakelui aan om nog meer in die land te belê.
Vrye mark bied groter koek
“Wanneer die regering hoër lone aan sy werknemers betaal, is daardie hoër lone ten koste van die belastingbetaler. Maar wanneer werkers hoër lone deur die vrye mark ontvang, wanneer hulle verhogings ontvang omdat maatskappye met mekaar om die beste werkers meeding, omdat werkers met mekaar vir die beste werksgeleenthede meeding, geskied daardie hoër lone nie ten koste van iemand anders nie. Dit kan slegs voortspruit uit hoër produktiwiteit, groter kapitaalbelegging en vaardighede wat wyer versprei is. Die hele koek is groter – daar is meer vir die werker, die belegger, die verbruiker en selfs die belastinggaarder.” – Milton Friedman, Nobelprys-wenner
Geen ekonomie kan sonder kapitaal groei nie omdat kapitaal die brandstof is wat ’n land se ekonomiese enjin aandryf. Daarom is kapitaalinstellings soos banke, beleggingsfondse en ander finansiële instellings die sewende vereiste wat benodig word. Hulle verskaf nie net kapitaal nie, maar lewer ook ’n opbrengs vir beleggers soos lede van pensioenfondse. Terselfdertyd help dit
om die ekonomie te finansier en om mense se lewenstandaard te verhoog en hul welvaart te bou.
Die agtste vereiste is dat die belangrikste noodsaaklike dienste beskikbaar moet wees omdat mense nie daarsonder kan lewe nie. Dit behels onder meer goeie en bekostigbare mediese geriewe, bejaardesorg, maatskaplike ondersteuning en gemeenskapsontwikkeling. Sonder hierdie dienste word lewensgehalte negatief geraak.
Die negende vereiste gaan oor die ekonomie self. Die bestanddele van ’n suksesvolle ekonomie is goeie beleid, min regeringsinmenging, ’n kultuur van ondernemerskap, gesonde mededinging, lae inflasie, waarde vir belasting, hoë vlakke van besparing en belegging, sekerheid by die produsent dat die vrug van sy arbeid nie afgevat kan word nie en die volhoubare benutting van hulpbronne.
Die tiende en laaste vereiste is kultuur. Die ekonomiese historikus van die Harvard-Universiteit, David Landes, sê in sy The Wealth and Poverty of Nations, wat oor vyf eeue se ekonomiese geskiedenis van die wêreld handel, dat kultuur die belangrikste rede is vir die verskil in welvaart of armoede in lande en gemeenskappe. Politiek en ekonomie is stroomaf van kultuur. Daarom
moet ’n ekonomiese kultuur gekweek word waar die bevolking verstaan hoe ’n vrye ekonomie werk en wat dit vereis.
Welvaartstelsel
Die toekomskundige Alvin Toffler het in sy boek, Revolutionary Wealth, gesê: “Geen welvaartstelsel bestaan in afsondering nie. ’n Welvaartstelsel is net een kragtige komponent van ’n nog groter makrostelsel, waarvan die ander dele – maatskaplik, kultureel, godsdienstig en polities – in voortdurende terugvoering daarmee en met mekaar verkeer. Saam vorm hulle ’n beskawing of lewenswyse wat min of meer met die welvaartstelsel versoenbaar is.”
’n Land se politieke ideale moet ondersteun word deur ’n ekonomiese ondernemingsgees om suksesvol te kan wees. Hierdie soort ekonomiese leierskap is treffend verwoord deur die Oostenrykse ekonoom, Joseph Schumpeter, wat die rol van entrepreneurs beklemtoon het.
“Die entrepreneuriese soort leierskap het niks van die glans wat ander soorte leierskap kenmerk nie. Dit bestaan daaruit om ’n baie spesiale taak te onderneem wat slegs in weinige gevalle tot die verbeelding van die publiek spreek. Dit lewer ’n diens waarvoor volle waardering gespesialiseerde kennis van die saak verg,” sê hy.
“Dit word nie sommer so maklik verstaan deur die breë publiek soos ’n politikus se geslaagde toespraak of ’n generaal se oorwinning op die slagveld nie.”
Dit is goed en nodig dat ’n volk en ’n land sy politieke, militêre en kulturele leiers vier. Dit is net so nodig om terselfdertyd erkenning te gee aan sy ekonomiese ekostelsel, kan Suid-Afrika se ekonomie vinnig groei om ’n behoorlike lewe aan sy mense te verseker. Die regering het nie meer verskonings nie: Die geskiedenis se resepte van sukses én mislukking is daar vir almal om uit te leer.
Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.