Die Solidariteit Beweging verwerp die beskuldigings van onpatriotiese gedrag wat president Cyril Ramaphosa Maandag teen die organisasie gemaak het. Dit is ʼn deursigtige poging om ʼn sondebok en slaansak te vind vir die regering se eie diplomatieke mislukkings. Ramaphosa het die Beweging by name genoem as die rede vir die verslegtende verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA, wat Suid-Afrika se voorkeurhandelstatus ingevolge die Agoa-handelsooreenkoms bedreig, terwyl die Beweging reeds maande lank uitvoerige gesprekke met die Suid-Afrikaanse presidensie, die Amerikaanse ambassade in Pretoria en besluitnemers in Washington voer om oplossings te vind wat almal in die land sal bevoordeel.
“Ons het die afgelope vyf jaar al in die VSA voorspraak gemaak dat Suid-Afrika deel van Agoa bly, omdat dit duidelik geword het dat daar by beide partye in die VSA druk ontstaan het om Suid-Afrika uit te skop vanweë ANC-beleidsrigtings,” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.
“Ons kies Suid-Afrika se kant, en nie dié van die Withuis óf Luthuli-huis nie. Hoewel ons van die ANC verskil, is ons lief vir die land. Daarom praat ons nie die land sleg nie, al kritiseer ons die regering. Ons doel is om oplossings te probeer vind vir die ANC se beleide wat die ekonomie kniehalter en nou toenemend tot internasionale spanning lei,” sê Buys.
Hoewel verskeie nuuspublikasies reeds verskoning aan die Solidariteit Beweging moes vra oor die valse bewerings dat die organisasie ʼn narratief van ʼn “white genocide” in die buiteland verkondig, hou Ramaphosa aan om die Beweging vir die ANC se foute te blameer.
Misinformasie
“Die ‘misinformasie’-etiket wat op ons rug geplak word, is ʼn poging om as weerligafleier te dien en die fokus van die eintlike probleem – die ANC-beleide ter sprake – te herlei,” verduidelik Buys. “Die enigste ‘misinformasie’ is die valse bewerings dat ons misinformasie oor die land versprei. Niemand kon nog enige bewyse verskaf om die beskuldigings te regverdig nie. Dis belaglik om te dink dat ʼn supermoondheid soos die VSA, met al sy intelligensiedienste, nie weet wat in Suid-Afrika aangaan nie en sy beleid deur ‘misinformasie’ laat bepaal.”
Die werklike redes vir die Amerikaanse regering se afwysende houding teenoor die Suid-Afrikaanse regering word onder meer in die US-South Africa Bilateral Relations Review Act of 2025 uiteengesit:
- Strategiese belyning met Amerikaanse teenstanders: Suid-Afrika se bande met lande wat as vyandig teenoor Amerikaanse belange beskou word, veral China, Rusland en Iran.
- Betrokkenheid by terreurorganisasies: Suid-Afrika se interaksies met Hamas.
- Suid-Afrika se toenemende vyandige houding teenoor Israel.
- Besorgdheid oor korrupsie en menseregte: Die VSA se voorneme om senior Suid-Afrikaanse amptenare en ANC-lede te identifiseer wat moontlik by menseregteskendings of ernstige korrupsie betrokke is.
- Militêre samewerking: Suid-Afrika se deelname aan gesamentlike vlootoefeninge met Rusland en China vroeg in 2023, wat strydig is met Suid-Afrika se verklaarde neutraliteit.
“Die erns van hierdie lang lys besware teen die Suid-Afrikaanse regering dateer van vóór die tweede Trump-presidentskap,” beklemtoon Buys.
Feite
Buys voeg by dat die Beweging voortdurend pleit vir grondwetlikheid, funksionele instellings en selfstandigheid en dikwels ingegryp het waar die regering afwesig of oneffektief was. Te midde van die vals beskuldigings stel die Solidariteit Beweging die feite duidelik:
- Ons het nie beweer dat grootskaalse staatsgeleide grondonteiening reeds in Suid-Afrika plaasvind nie.
- Ons het die VSA nooit gevra om befondsing aan Suid-Afrika te sny of sanksies teen die land in te stel nie.
- Ons het Suid-Afrika se verwydering uit Agoa aktief teengestaan en navorsing met die Amerikaanse ambassade gedeel oor die ekonomiese risiko’s vir die land.
- Ons het die VSA aangespoor om nie Suid-Afrikaners vir die ANC se optrede te straf nie, maar eerder stappe teen korrupte individuele ANC-amptenare te doen. Die Zondo-kommissie het na bewering 97 ANC-lede geïdentifiseer wat ondersoek moet word. Tog bly betekenisvolle vordering ontwykend, wat ʼn kommerwekkende gebrek aan verantwoordbaarheid onderstreep.
- Ons is wel in ʼn dispuut met die ANC omdat ons grondwetlike menseregte deur die omvattende rassewetgewing in die land vertrap word. Ons verskil ook met die ANC oor die regering se verbreking van ʼn ooreenkoms oor dié wetgewing wat deur die bemiddeling van die ILO bereik is, die verbreking van die grondwetlike verstandhouding oor Afrikaanse onderwys en die verbreking van ooreenkomste met ons oor dié aangeleenthede. Ons ervaar dat die ANC ons kulturele regte en ruimtes probeer ontneem. Dit alles maak ons tweedeklasburgers, hoewel ons eersteklas-belastingbetalers is en Derdewêrelds regeer word.
- Mnr. Ramaphosa het al talle kere gesê dat Suid-Afrika oplossings vir Suid-Afrikaanse probleme moet vind, maar hy weier ons versoeke tot gesprekke en verbreek die ooreenkomste wat wel met die presidensie bereik is.
- Ons is trotse Suid-Afrikaners en patriotiese Afrikaners, verbind tot die land se toekoms en bereid om te help om gesonde verhoudings tussen die VSA en Suid-Afrika te herstel. Dit is tyd dat die RNE die land se beleid bepaal, en nie die ANC alleen nie.
“Ons herbevestig hiermee ons onwrikbare lojaliteit teenoor Suid-Afrika en verwerp enige bewerings dat ons optrede – in landsbelang – onpatrioties is omdat ons demokraties van die ANC se rampspoedige beleidsrigtings verskil,” sluit Buys af.