Talle kritici probeer die Solidariteit Beweging se reusesukses vandag met samesweringsteorieë verklaar; hulle aanvaar daar moet een of ander groter mag hier agter sit.
“Hulle dínk nie eers daaraan dat ʼn gemeenskap dalk sukses kan bereik deur hard te werk, slim te werk en bloot die regte ding te doen nie.”
Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, is die politieke idee waarvoor hulle in die 1990’s van links én regs gekasty is, die einste idee wat die Beweging se sukses die afgelope dekades help verseker het.
“En daardie idee is federalisme,” het Hermann gesê in ʼn onderhoud met Maroela Media oor die pad wat hy die afgelope 29 jaar gestap het – vanaf organiseerder by die destydse Mynwerkersunie (MWU) in 1997 tot uitvoerende hoof van Solidariteit in 2026.
“Ons was in die meer konserwatiewe skool van denke wat geglo het in federalisme as antwoord op die politieke oorgang wat Suid-Afrika in die 1990’s moes maak.”
Hierdie idee is destyds van alkante gekritiseer; enersyds deur diegene wat gemeen het SuidAfrika moes bly soos dit was en andersyds deur diegene wat gemeen het ʼn sentrale eenheidstaat is die toekoms.
Hoewel die 1990’s uiteindelik ʼn relatief gladde oorgangstydperk was, het dit talle Afrikanerorganisasies in ‘n krisis gelaat, verduidelik Hermann.
“Daar val die twee Afrikaner-politieke partye, en die georganiseerde Afrikaner-wêreld is in ʼn politieke krisis. Nie net die MWU nie, maar talle Afrikaner-organisasies. ʼn Klomp van hulle was in die ou Afrikaner-politiek vasgeverf, baie as stutorganisasies van die NP of KP.”
Volgens Hermann was die MWU in ʼn besonder moeilike posisie, omdat hulle op daardie stadium nie net bankrot aan geld was nie, maar ook aan idees.
“Die MWU was redelik aan die regterkant van die politieke spektrum, en ’n groot deel van hulle bestaansrede was om die oorgang na ʼn nuwe bedeling te probeer stuit. Hier gebeur die verandering, wat die organisasie grotendeels sonder ʼn bestaansrede gelaat het.”
Dit was teen dié agtergrond wat Flip Buys in 1997 tot hoofsekretaris van die MWU verkies is en ʼn nuwe era aanvang geneem het. Buys het reeds op die kongres waartydens hy verkies is melding gemaak dat die vakbond uiteindelik omvorm en uitgebrei moet word tot ʼn beweging van taal- en kultuurinstellings om Afrikanerbelange en hul plek in die nuwe bedeling te beskerm en te bevorder.
“Dít was hoekom ek destyds by die MWU aangesluit het. Ek het nie die [gebroke] instelling gesien nie, maar Flip se droom.”
So het Hermann, Buys en enersdenkendes wat by die organisasie aangesluit het nooit weggestap van hulle ideaal van federalisme nie. Omdat daar op die ou end nooit ʼn federalistiese politieke bestel tot stand gekom het nie, het die MWU, later Solidariteit en uiteindelik die Solidariteit Beweging bloot ʼn ander soort bestel gaan bou waaroor hulle wel beheer het.
“Die een waaroor ons beheer het, is gemeenskapsfederalisme waar ʼn gemeenskap besluit om sélf van onder af federalisme uit te bou deur besluitneming tot op die laagste moontlike vlak neer te sit.”
Hermann beskryf dít as Buys se “visie anderkant die woestyn”; Solidariteit se antwoord op die politieke vraagstuk van die tyd. ʼn Idee wat aanvanklik ongewild was, maar oor die afgelope 29 jaar reusesukses in die praktyk behaal het.
“Vandag het talle mense samesweringsteorieë dat om só suksesvol te wees, daar een of ander mag moet wees. Mense dink nie eers daaraan dat dit net die werk van suksesvolle kulturele entrepreneurs kan wees nie.”
“Mense moet ons eerder erkenning gee vir ons insig dat daar federalisme moes wees as wat hulle ons daarvoor kritiseer. Boonop werk die mense wat ons vandag steeds kritiseer se bestel [van sentrale eenheidsregering] glad nie!”
Dit was so eenvoudig soos dat ons bloot gekyk het na die werklikhede voor ons, hoe ʼn gemeenskap hiermee kan omgaan en ʼn moontlike antwoord op die werklikheid van sy tyd kan bied, verduidelik Hermann.
Dit is egter makliker gesê as gedaan.
“Ons het nie die staat se ondersteuning of geld gehad nie. Daar was nie ʼn instaatstellende statutêre omgewing nie. Ons het dus met ons gemeenskapsinstellings begin. Agter dié instellings is steeds ʼn dieper politieke idee van hoe ʼn ander bestel kan lyk ten spyte van die mislukte eenheidstaatsmodel wat ons nou sien.”
ʼn Instelling vir elke gemeenskapsfeer waarin breër Afrikanerbelange beskerming en bevordering verlang.
Om só ʼn groot versameling instellings egter goed te bestuur en te bedryf, is federalisme ook in die organisatoriese karakter ingebou – te vind in die doel én middele van die Solidariteit Beweging.
“So is die Beweging ook federaal van aard; met instellings wat soveel moontlik selfstandigheid het, maar steeds in verbondenheid met mekaar staan.”
Die samebindende ideaal?
“Ons wil ʼn toekoms aan die suidpunt van Afrika hê waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan voortleef. Ons bou dit vanuit ʼn Christelike grondslag en fokus op die Afrikaanse taal en Afrikanerkultuurgemeenskap spesifiek. Tussenin het instellings vryheid, hul eie kultuur, eie manier van doen en eie missie.”
Dit is volgens Hermann hoe die breër Beweging, met die hulp van gewone mense, gegroei het tot wat dit vandag is.
Nie met die mag van sameswering nie, maar met die krag van gemeenskap.
Geskryf deur die Maroela Media redaksie.
