Sowat 20 jaar gelede is die musiekblyspel Ons vir Jou in die Staatsteater opgevoer. Solidariteit was ’n bemarkingsvennoot en ons hele hoofraad het dit bygewoon. Een van die aangrypendste liedjies in die opvoering beskryf hoe Dawid met sy klippies teen Goliat opgestaan het: “Laat Goliat kom, die Dawid binne my is reg vir hom.”
Die volgende dag het Solidariteit se hoofraadsvergadering plaasgevind. Die raad bestaan uit verkose verteenwoordigers uit verskillende bedrywe en werkplekke – gewone mense wat elke dag werk.
Daardie dag is daar besluit om ’n mandaat by lede te kry om elke maand R10 se ledegeld van elke lid te gebruik vir bouprojekte. Kollega Henk Schalekamp het dit treffend gestel: “Dit is ons Dawid-klippies vir die byna ondenkbare taak wat voorlê.” Daardie tien rande het eers gehelp om Sol-Tech te bou en daarna Akademia.
Ons Dawid-klippies is nie die tien rande self nie, maar eerder elkeen van ons lede wat dit gee. Hul voete is stewig op die grond. Hulle verstaan die werklikheid. Hulle maak ons sterk. Solidariteit is ’n organisasie van gewone werkende mense, van wie ons ons mandate kry en aan wie ons deeglik verslag doen.
Tog bly dieselfde handjievol professore, kenners en kommentators Solidariteit en die groter Solidariteit Beweging “ontleed”. Verlede week is in Rapport selfs gevra of ons demokraties en deursigtig is. Ek weet nie of dit onkunde, moedswilligheid of ‘n kombinasie is nie, maar dit mis elke keer die kol.
Solidariteit se hoogste gesag is die nasionale raad, wat jaarliks deur lede verkies word. Dié raad keur die jaarstate goed en aanvaar mosies wat die organisasie se agenda bepaal. Die bestuur van Solidariteit doen aan hierdie raad verslag.
Uit die nasionale raad word die hoofraad verkies. Dit is die hoogste gesag tussen kongresse en vergader maandeliks. Hulle ontvang maandelikse verslae, hanteer finansiële state en gee of bevestig mandate.
Die hoofraad het ‘n ouditkomitee met ‘n eksterne lid. Solidariteit se finansies word jaarliks deur ‘n onafhanklike ouditeur geoudit – nog nooit is ‘n gekwalifiseerde oudit uitgereik nie.
Elke maand en elke jaar het die verkose verteenwoordigers van ons lede volle insae in ons werksaamhede en finansies. Benewens die nasionale strukture het elke bedryf sy eie bedryfsraad en elke beroepsnetwerk sy eie adviesraad. Ons het honderde verteenwoordigers en adviesraadslede. Elke vyf jaar vind verkiesings vir al die verkose strukture plaas.
Dit is ‘n hoogs demokratiese en deursigtige organisasie. Solidariteit se wegholsukses, soos prof. Pieter Duvenage dit noem, is juis danksy ons interne demokratiese karakter, want dit hou ons in voeling met ons lede en ons gemeenskap.
Solidariteit tree nie namens alle Afrikaners of alle Suid-Afrikaners op nie – ons tree op namens ons lede. Dit is húlle wat ons verantwoordbaar hou, mandate gee en aan wie ons verslag doen.
Tog strek ons aksies dikwels veel wyer, tot voordeel van die groter Afrikaanse en Suid-Afrikaanse gemeenskap.
Dit is in Solidariteit se raadsale dat besluit is om Sol-Tech en Akademia aanvanklik met daardie R10 per maand van lede te bou. Vandag is dit selfstandige instellings tot voordeel van die hele Afrikaanse gemeenskap, as deel van die groter Solidariteit Beweging.
Dieselfde geld wanneer AfriForum slaggate regmaak. AfriForum doen dit nie net vir sy lede nie, maar vir almal in die woongebiede waar sy takke bedrywig is.
Deur hierdie netwerk van verkose strukture word die werklikheid van ons lede direk aan voltydse amptenare soos ek deurgegee. Ons is bloot in diens van hulle. Dit is by hulle wat ons hoor wat gebeur wanneer produkte weens vervalle spoorlyne nie by die hawens kom nie. Dit is hulle wat vertel wat met smelters gebeur wanneer die krag onderbreek word en wanneer elektrisiteitspryse handuit ruk. Dit is hulle wat die prys sal betaal as Suid-Afrika se deelname aan die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) beëindig moet word.
Hulle is die eerstes wat korttyd weens skroottekorte moet werk, wat met afleggings gedreig word, wat die druk in sentraliserende skole voel en wat jaar ná jaar in rasverslae as “oorverteenwoordig” gebrandmerk word. Hulle staan aan die voorste linie van die werkstryd. Hulle is hoogs ingelig. En dit is húlle wat besluit het dat Solidariteit moet bou.
Hulle het die bydraes van R10 per lid per maand goedgekeur. Hulle het Helpende Hand, Sol-Tech, Akademia, Bo-Karoo Opleiding en talle ander nuwe instellings en inisiatiewe in ons beweging goedgekeur. Hulle is die werklike helde van ons tyd.
Dit staan in skrille kontras met die enkele kommentators wat die krag van hierdie gewone mense onderskat omdat hulle dit eenvoudig nie verstaan nie.
Sedert 2001 het Solidariteit gehelp om talle instellings te vestig: Sol-Tech, Akademia, Kanton, AfriForum, Solidariteit Helpende Hand, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, Maroela Media, Bo-Karoo Opleiding en die Orania Ontwikkelingsmaatskappy om slegs enkeles te noem.
Al hierdie instellings vorm die groter Solidariteit Beweging. Ons wou hulle nie sentraal beheer nie. Binne die federale gees van die beweging is hulle selfstandig, maar deel van ‘n groter geheel.
Geen instelling behoort aan Solidariteit nie. Ledeorganisasies behoort aan hul lede en opleidingsinstellings is maatskappye sonder winsoogmerk, gedryf deur hul missies. Hulle het hul eie direksies, mandate en verslagdoening.
Ledeinstellings soos AfriForum en Solidariteit word maandeliks deur hul lede getoets. Lede kan bloot ophou betaal as hulle ontevrede is. Opleidingsinstellings word getoets deur studente-inskrywings en Helpende Hand deur tienduisende donateurs. Die 600 000 gesinne wat aan die beweging deelneem, is waarskynlik die grootste demokratiese toets.
Al die instellings word onafhanklik geoudit. Sedert die beweging se ontstaan het nie een ’n gekwalifiseerde oudit ontvang nie. Goeie korporatiewe bestuur en organisatoriese uitnemendheid is vir ons ononderhandelbaar.
Solidariteit is vanjaar 124 jaar oud. Ons was nog altyd gewone mense wat onder moeilike omstandighede planne maak vir die toekoms. Vandag is ons ‘n baie groter beweging in diens van gewone mense. Mense wat nie wag vir beter tye nie, maar dit self help skep.
Elke lid van Solidariteit is ‘n Dawid-klippie. Groot uitdagings maak ons nie bang nie.
“Laat Goliat kom, die Dawid binne my is reg vir hom.”
Geskryf deur dr. Dirk Hermann, bestuurshof van Solidariteit.


