Afrikaners, slagoffers en slagoffermentaliteit

ʼn Groepie van sowat 40 Afrikaners het onlangs die Amerikaanse ambassadeur, Brent Bozell, vir ʼn ontmoeting genader. Hulle sentrale boodskap was: Afrikaners is nie slagoffers nie.

Afrikaners ís egter slagoffers, maar hulle het nie ʼn slagoffermentaliteit nie. ʼn Slagoffer is iemand aan wie onreg aangedoen is. ʼn Slagoffermentaliteit is iets anders. Dit ontstaan wanneer iemand sy identiteit met sy slagofferskap begin vereenselwig.

ʼn Slagoffer sê: “Onreg is aan my gedoen.” Iemand met ʼn slagoffermentaliteit sê: “Omdat onreg aan my gedoen is, kan ek nie verantwoordelikheid vir my toekoms neem nie.”

Om onreg te ontken, is gevaarlik. Wanneer dit gebeur, word onreg genormaliseer, optrede daarteen geneutraliseer en mense begin magteloos voel en raak uiteindelik vervreemd. Dit lei tot verwydering, polarisasie en onttrekking.

Dit is ook gevaarlik om onreg te relativeer. Om byvoorbeeld te sê dat iemand anders se onreg groter is en dat jou onreg daarom minderwaardig is, lei bloot tot die voortsetting van onreg.

Onreg moet konkreet en genuanseerd erken word voordat dit behoorlik hanteer kan word.

Die groepie argumenteer dat almal in Suid-Afrika onreg beleef en dat Afrikaners daarom nie die onreg teenoor hulle mag uitlig nie. Onreg teenoor Afrikaners word dan deel van ʼn groter pot van onreg, maar die spesifieke aard daarvan verdwyn eenvoudig in die groot kookpot.

Dit is natuurlik waar dat daar meerdere vorme van onreg bestaan en dat Afrikaners nie die enigstes is wat onreg beleef nie. Inteendeel, gewone arm swart Suid-Afrikaners ervaar die onreg van staatsverval en raswette dikwels op ʼn baie akute wyse.

Erkenning van een vorm van onreg is egter nie die ontkenning van ʼn ander nie. Onreg teenoor Afrikaners mag en moet dus erken word.

Raswette diskrimineer direk teen Afrikaners. Hierdie wette definieer mense aan die hand van hoe hulle lyk en wie hulle is, eerder as wat hulle kan doen. Raswette is onreg.

Die manier waarop Afrikaanse instellings soos kolleges, universiteite en skole aangeval word, is eweneens onreg. Die slag by kolleges is reeds gelewer, die slag by universiteite is byna voltooi, en die Bela-kanon is nou op skole gerig.

Voeg daarby die histeriese aanvalle op alles wat Afrikaans is deur die Lesufi’s en kie. Mense voel naderhand nie meer tuis in hul eie land nie.

Natuurlik raak misdaad almal. Dit ruk handuit. Misdaad in “townships” ontwrig mense se lewens daagliks. Dit alles is ernstige onreg.

Plaasaanvalle vorm egter, te midde van die algemene misdaadkrisis, ʼn besondere soort onreg. Dit is buitengewoon wreed en die voorkoms daarvan is ontstellend hoog. Om daarop te fokus, ontken nie ander vorme van onreg nie; dit plaas bloot die kollig op hierdie spesifieke onreg.

Boonop is dit die enigste vorm van misdaad wat deur politieke leiers besing word met die woorde: “Kill the Boer, the farmer”.

Afrikaners is ook, saam met alle ander Suid-Afrikaners, slagoffers van die land se algemene verval. Daar bestaan nie iets soos Afrikaner-slaggate, Afrikaner-kragonderbrekings of Afrikaner-waterlekke nie. Hierdie probleme raak almal. Hulle moet deur almal erken en deur almal aangepak word.

Daar is egter ook spesifieke kwessies wat Afrikaners en Afrikaans raak. Die Solidariteit Beweging, waarvan Solidariteit en AfriForum deel vorm, fokus op sy lede en ondersteuners. Ons lede en ondersteuners kom hoofsaaklik uit die Afrikaanse en Afrikanergemeenskap.

Daarom is ons doel om vir daardie gemeenskap ʼn toekoms te help bou waarin hulle vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Die Solidariteit Beweging gee egter nie voor dat ons alle Afrikaners of alle Afrikaanssprekendes verteenwoordig nie, nog minder alle Suid-Afrikaners. Ons fokus is ons lede en ondersteuners. Dit sou arrogant, en selfs paternalisties, wees om namens almal te probeer optree.

Ander gemeenskappe moet hul eie onreg identifiseer en aanspreek. Waar ons kan saamwerk, sal ons dit doen. Ons het egter ʼn plig om die onreg teenoor ons lede uit te lig en aan te spreek. Niemand kan ons daarvoor kwalik neem nie.

Dit strek dikwels ook tot voordeel van die breër gemeenskap. Akademia en Sol-Tech is byvoorbeeld bates uit die Solidariteit Beweging, vir die Afrikaanse gemeenskap, maar hul waarde strek veel verder. AfriForum se veiligheidsinisiatiewe en werk aan munisipale dienste bevoordeel eweneens baie mense buite ons eie ondersteuningsbasis.

Dit bring my terug by die begrip slagoffermentaliteit.

Afrikaners het oor die algemeen nie ʼn slagoffermentaliteit nie en die Solidariteit Beweging beslis nie. Al is daar onreg, klim ons in en doen dinge self. Die erkenning en verstaan van onreg is juis die voorwaarde om dit aan te spreek.

Daarom is “Ons sal self” die leuse waarop ons Beweging gebou is. Ons help mense om werk te kry, bou opleidingsinstellings, gee studiehulp, ondersteun skole, verbeter veiligheid, help met munisipale dienste, beveg onreg binne die grondwetlike raamwerk en doen nog baie meer.

Ons erken onreg. Ons beveg onreg. Maar ons bou ook verder aan ons toekoms. Ons sal self.

 

Geskryf deur Dirk Hermann, bestuurshoof by Solidariteit.

Só lyk plan om Afrikaanse onderwys te versterk

Die Solidariteit Beweging het Dinsdag ’n omvattende plan vir volhoubare Afrikaanse onderwys bekend gestel, met die doel om ’n geïntegreerde ondersteuningsnetwerk vir die hele Afrikaanse skoolgemeenskap te skep.

Die plan word saam met verskeie vennote in die onderwyssektor uitgerol en fokus daarop om skole, onderwysers, skoolbestuur, beheerliggame, ouers, leerders en gemeenskappe toe te rus om die toenemende uitdagings in die onderwysomgewing die hoof te bied.

Die Solidariteit Beweging het dié plan tydens die toekomsberaad bekend gestel, waar sowat 800 onderwysers en leiers uit die skoolgemeenskap byeengekom het. Die driedaagse kongres fokus op die uitdagings waarmee Afrikaanse onderrig tans te kampe het, asook op praktiese strategieë om ’n volhoubare toekoms vir Afrikaanse onderwys te verseker.

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, sê Afrikaanse skole verkeer toenemend onder druk en die sentralisering van skole vind al hoe meer plaas.

“Die staat wil 100% sê wat ons moet doen,” sê Hermann. Hy sê egter die plan wat Dinsdag bekend gestel is en die wil van ʼn gemeenskap, vorm die hart van goeie onderrig.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, rus die toekoms van Afrikaanse onderwys op gemeenskappe wat bereid is om self verantwoordelikheid daarvoor te neem.

“Die toekoms van Afrikaanse onderwys behoort aan ’n gemeenskap wat bereid is om daarvoor verantwoordelikheid te neem. By die Solidariteit Beweging glo ons dat ons nie net die reg het om daardie toekoms te help bou nie, maar ook die plig,” sê Buys.

Hy sê dat die beweging saam met sy vennote en Afrikaanse skoolgemeenskappe wil werk om ’n volhoubare toekoms vir Afrikaanse onderwys te verseker.

“Die staat bedreig ʼn goeie Afrikaanse ekostelsel en ons moet begin anders dink oor die volgende jare wat kom,” sê Hermann.

Die nuwe aanbod bring die Solidariteit Beweging se instellings, kundigheid en bestaande ondersteuningsnetwerke in een geïntegreerde model saam, sê Buys.

Die plan behels dat die Solidariteit Beweging sy onderwysaanbod só verpak dat die ideaal van volhoubare gehalte-onderwys in Afrikaans, saam met die breë skoolgemeenskap, bereik kan word.

Werner Human, bedryfshoof van die beweging, sê die model onderskei hom van tradisionele dienslewering omdat dit ’n deelnemende benadering volg waarin die hele skoolgemeenskap betrek word.

“Skole staan vandag voor veel groter uitdagings as net akademiese prestasie. Hierdie aanbod skep ’n ondersteuningsnetwerk wat skole versterk sodat hulle op hul belangrikste taak kan fokus: om kinders vir die toekoms toe te rus,” sê Human.

Volgens Human is die doel nie om skole se rol oor te neem nie, maar om hul kapasiteit te versterk en uit te bou.

Hy sê die beweging wil meer doen as om bloot as ’n diensverskaffer op te tree en fokus eerder daarop om ’n breër onderwys-ekostelsel te help vestig wat skole in staat stel om volhoubaar en uitnemend te funksioneer.

Die Solidariteit Beweging beskou die plan as ’n langtermynbelegging in Afrikaanse onderwys en as deel van sy groter visie om selfstandige gemeenskappe te help bou wat gehalteonderwys vir toekomstige geslagte kan verseker.

Onderwysaanbod

Geskryf deur die Maroela Media redaksiespan.

Wie is die Solidariteit Beweging regtig?

1994 was ‘n ordeverandering vir Suid-Afrika. Die verandering het talle instellings, wat nie die oorgang kon maak nie, vernietig. Die Suid-Afrikaanse landskap sou vir altyd anders lyk.

Instellings wat aan die vorige orde wou vasklou, het eenvoudig verdwyn. Een so ‘n instelling uit die vorige bedeling was die Mynwerkersunie (MWU).

Die MWU was ‘n ou instelling met ‘n ryk geskiedenis en is reeds in 1902 gestig. Soos talle burgerlike organisasies en politieke partye was die MWU in ‘n oorlewingskrisis. Dit was geldelik bankrot en bankrot aan idees.

Binne die nuwe werklikheid
In 1997 is Flip Buys as hoofsekretaris van die MWU verkies. Tydens sy eerste kongres het hy gesê die MWU moet ʼn beweging word. Hy was bekommerd oor die ANC se sentralistiese meerderheidsideologie en wat dit vir staatsbestuur en minderheidsbeskerming kan inhou.

Buys het die bankrot-MWU binne die ná-1994-werklikheid geplaas. Hy het die MWU weggelei van rasdefinisies en dit omskep in ‘n kultuur- en taalinstelling wat beskerming geniet binne die nuwe grondwetlike bedeling. Artikels 29, 30 en 31 van die Grondwet gee aan taal- en kultuurgemeenskappe die reg om eie instellings te vestig, insluitende onderwysinstellings.

Buys het reeds in 1997 besef dat dit noodsaaklik is om van grondwetlike ruimtes gebruik te maak, maar dat instellings daarvoor nodig is. Anders sou artikels 29, 30 en 31 bloot papierartikels bly, sou die sentralistiese staat die samelewing versmoor en sou minderhede se ruimtes verdwyn.

Sy kommer is later reg bewys. Die staat het al meer sentralisties geraak en die grondwetlike ruimtes vir gemeenskappe is verklein tot so ‘n mate dat diegene wat daarop aanspraak maak, as ongrondwetlik beskou word.

Afrikaners gaan nêrens heen nie
Flip Buys se 1998-aankondiging van ʼn Beweging was nie net binne die nuwe grondwetlike werklikheid nie, maar ook ʼn aankondiging dat Afrikaners nêrens heen gaan nie. Baie het gewonder of Afrikaners in die nuwe werklikheid wil bly. Hy het aangekondig dat Afrikaners ruimtes gaan skep om juis hier, aan die suidpunt van Afrika, te bly.

Vandag is die Solidariteit Beweging ʼn netwerk van tientalle selfstandige instellings met ongeveer 600 000 betalende lede en nog sowat 100 000 gebruikers van verskillende dienste. Indien families ook in ag geneem word, is dit ʼn reusebeweging. Dit is nie ʼn elite beweging nie, maar ʼn beweging wat deur gewone werkende mense begin is.

Alhoewel dit by verre die grootste organisasie in die Afrikaner- en Afrikaanse gemeenskap is, maak die Solidariteit Beweging nie aanspraak daarop dat hy namens alle Afrikaners praat nie, maar verteenwoordig die belange van sy lede en ondersteuners.

Die pad van die Beweging

Werk
Die eerste stap was om die ou bankrot-MWU weer sterk te maak. Finansiële stelsels is verander, werwingsveldtogte is begin en nuwe personeel is aangestel. In 2001 is die naam verander na Solidariteit. Die ou MWU het ongeveer 20 000 betalende lede gehad en vandag is Solidariteit meer as tien keer groter en een van Suid-Afrika se grootste vakbonde. Solidariteit het ʼn skuif gemaak om nie net in werksplekke te organiseer nie, maar ook in beroepe en het vandag beroepsnetwerke in al die groot beroepe. Solidariteit het ook deur tegnologie betrokke geraak by werkfasilitering. Sowat 4 000 werkgewers het reeds 14 000 poste op Solidariteit se platform geplaas.

Maatskaplike ontwikkeling
Binne die Mynwerkersunie is reeds in 1949 ʼn maatskaplike been, Helpende Hand, begin. In 2001 is besluit om Helpende Hand ʼn selfstandige instelling te maak. Daar is op klein skaal begin om studente met studies te help en ʼn eerste voedingsprogram by ʼn skool in Vanderbijlpark te loods.

Solidariteit-lede is gebel en gevra om by te dra tot die Helpende Hand-fonds. Daar was groot entoesiasme. Later het elke Solidariteit-lid R5 per maand vir studiehulp bygedra. Hierdie jaar is meer as R60 miljoen in die vorm van studiehulp aan studente uitbetaal.

Solidariteit Helpende Hand het nou 230 takke en dorpsverteenwoordigers in 14 streke. Daar is 14 streekmaatskaplike werkers en altesaam 30 maatskaplike werkers.

Daar is sewe Ons Plekke met naskoolse sentrums en kleuterskole vir behoeftige kinders. Drie duisend dogters ontvang maandeliks sanitêre produkte, 8 000 kinders kry daagliks kos en 2000 kinders ontvang jaarliks skooltassies en skryfbehoeftes. Solidariteit Helpende Hand het ook ʼn Opleidingsinstituut begin wat tuisversorgers oplei.

Opleiding en onderwys
Daar is besef dat opleiding die hart van enige Beweging is wat ernstig oor die toekoms is. Die bou van opleidingsinstellings is duur en word gewoonlik swaar deur die staat gesubsidieer.

Solidariteit het begin met ʼn landswye toer na fabrieke, myne, skole en ander werksplekke en het lede gevra om elk R10 tot ʼn Boufonds by te dra. Dit is met hierdie R10de waarmee Sol-Tech en later Akademia en Bo-Karoo Opleiding begin is.

Sol-Tech
In 2007 is Sol-Tech met 64 elektriese studente in Solidariteit se kantore begin. Vandag is daar ongeveer 3 000 studente in verskillende fases van opleiding.

Die rigtings sluit vandag in: dieselwerktuigkunde, auto-elektries, elektries, meulmaker, megatroniese tegnikus, pas en draai, gereedskapmaker, sweis, haarkappery, vroeë kinderontwikkeling en inligtingstegnologie.

Sol-Tech beskik oor wêreldklas toerusting, ʼn wêreldklas kampus en koshuise.

Akademia
Akademia is in 2012 met 40 studente begin. Aanvanklik is slegs ʼn telematiese aanbod gebied. Dit het ook in Solidariteit se kantore begin. Sentrums is oor die land gevestig.

In 2021 is ʼn opkampusaanbod met 111 studente in Centurion begin. Vandag is daar sowat 4500 studente by Akademia.

Daar is nou vier fakulteite: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe en Opvoedkunde. ʼn Groot nuwe kampus word gebou en die fakulteite en programaanbod gaan ingrypend uitgebrei word.

Bo-Karoo Opleiding
In 2019 is die eerste vyf voltydse studente by Bo-Karoo Opleiding op Orania ontvang. Die instelling het nou sowat 250 studente, ʼn tweede inname vir die jaar word beplan en dit groei met 40% per jaar. Nuwe werkswinkels is gebou en verdere uitbreidings volg binnekort. Daar is pragtige studenteverblyf, ʼn proefplaas en ʼn klein kampus in aanbou. Die twee grootste bene van BKO is tegnies en landbou en die programaanbod word tans ingrypend uitgebrei.

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum
Afrikaanse skole en skoolonderwys in die algemeen het onder groot druk gekom. Die aantal Afrikaanse skole het van 1 800 tot 900 afgeneem. In 2015 is die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) gestig. Vandag is bykans 50 000 Afrikaanse kinders op Wolkskool. Sowat 20 000 onderwysers maak van Wolkskool gebruik. Jaarliks word 7 000 onderwysers opgelei en daar is 250 lid-skole van SOS.

Daar is ook besef dat onafhanklike skole gebou moet word. ʼn Konsessiemodel, met die naam Gimnasium-skole, gaan gemeenskappe in staat stel om eie skole te bou. Die eerste skool word binnekort gebou.

Solidariteit Leer
Voortgesette opleiding is ook van kritieke belang. Op Solidariteit se platform word 200 voortgesette leerkursusse aangebied.

Eiendomsontwikkeling
Die instellings van die Solidariteit Beweging is met R10de en klein bydraes van lede begin. Om ʼn kampus te bou, is klein skenkings egter nie voldoende nie.

Die eiendomsmaatskappy Kanton is in 2019 gestig. Die doel van Kanton is om leefruimtes vir Afrikaans te bou deur ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal te fasiliteer.

Die eerste groot projek was die Sol-Techkampus, gevolg deur die Sol-Tech-koshuise.

Die grootste projek tot dusver is die Akademia-kampus. Dit is ʼn R3,2 miljardprojek waarvan die eerste fase R1,2 miljard beloop. Dit het reeds afgeskop en beleggers word gewerf.

Sol-Tech en Akademia is die huurders en beleggers weet daar is langtermyn, betroubare huurders.

Deur ʼn goeie kommersiële belegging help beleggers ook om kulturele ruimtes te bou. Daar word ook beplan om in die toekoms ʼn Akademia-kampus in die Wes-Kaap te bou asook skole, binne die groter Gimnasium-groep.

Burgerregte, veiligheid en munisipale dienslewering
AfriForum is in 2006 begin. Die belangrikheid van die beskerming van burgerregte is vroeg besef en AfriForum het reeds verskeie hofsake gewen. AfriForum is egter in die eerste plek ʼn gemeenskapsorganisasie en wil gemeenskappe sterk maak.

AfriForum het 10 000 vrywilligers, 165 takke en 177 buurtwagte oor die land. Daar word landswyd gehelp met munisipale dienste oor ʼn wye front, tot voordeel van die hele gemeenskap.

Veiligheidstrukture maak gemeenskappe oor die hele land veiliger. Daar is op munisipale en veiligheidsvlakke samewerking met owerhede op verskeie vlakke, insluitend metro’s, munisipaliteite en die polisie.

Kultuur en media
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het met al hulle werksaamhede ook uiteindelik by die Solidariteit Beweging ingeskakel om die rol van kultuur- en erfenisbewaring te help vervul. By die AfriForum Teater word deurlopend Afrikaanse produksies aangebied.

Maroela Media is gestig en is nou een van die land se grootste mediahuise wat ook inhoud aan tientalle gemeenskapsradiostasies lewer.

AfriForumTV het 200 000 intekenaars. Die instellings van die Solidariteit Beweging het ʼn reuse-sosiale mediateenwoordigheid, met byvoorbeeld meer as 1,8 miljoen volgelinge op Facebook alleen.

Selfstandige gemeenskappe
Vir die Solidariteit Beweging is sterk, selfstandige gemeenskappe noodsaaklik. Die Beweging volg ʼn konsentrasiestrategie wat die natuurlike migrasie van Afrikaners ondersteun en gemeenskapsinfrastruktuur vestig.

Dit sluit werk-, maatskaplike, veiligheids-, dienslewerings-, kulturele en onderwys- en opleidingsondersteuning in.

AfriForum is ook betrokke by selfstandigheidsprojekte by talle tradisionele gemeenskappe en by ʼn netwerk van tradisionele gemeenskappe. AfriForum ondersteun ook die Kaapse Forum.

AfriForum vestig in ankergmeenskappe plaaslike gemeenskapforums wat as platform dien vir skole, kerke en ander gemeenskaporganisasies om mekaar en die gemeenskap te versterk,

Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy is gestig om te help om ʼn selfstandige gemeenskap in die Bo-Karoo te vestig. Dit is deel van die groot konsentrasiestrategie en die versterking van ankergemeenskappe landswyd.

Ander sake-inisiatiewe
Om die Beweging kommersieel te laat funksioneer, is daar verskeie sake-inisiatiewe. Dit sluit in ʼn finansiële diensmaatskappy, Konnek, met ʼn fokus op korttermynversekering, lenings en beleggingsadvies.

Daar is ook ʼn spysenieringsmaatskappy, Spys, wat spyseniering vir personeel en studente doen. Verder is daar die Solidariteit Beleggingsmaatskappy, die AfriForum Beleggingsmaatskappy en Helpende Hand-sake wat 127 tweedehandse winkels bestuur.

Daar is ook ʼn Solidariteit Regsfonds en Solidariteit Boufonds waartoe mense kan bydra.

Hoe word die Beweging befonds?
Die Solidariteit Beweging word nie op enige vreemde manier befonds nie. Die Beweging bestaan uit kulturele entrepreneurs wat deur streng dissipline en gewone sakebeginsels bestuur word. Die bedryfsbegroting van die Beweging is so groot soos dié van ʼn mediumgrootte maatskappy op die Johannesburgse Effektebeurs. Die korporatiewe bestuur van die instellings is dus streng.

Die ledeorganisasies word deur ledegeld befonds. Oorgangsfinansiering vir die oprigting van instellings word uit skenkingsfondse en opbrengste uit finansiële dienste befonds.

Elke instelling het sy eie unieke finansiële enjin. Studente is byvoorbeeld die grootste befondsers van die opleidingsinstellings, advertensies befonds Maroela Media, en tweedehandse winkels befonds Solidariteit Helpende Hand. Kanton, wat verantwoordelik is vir eiendomsontwikkeling, insluitend kampusse, werf aandeelhouers op ʼn kommersiële grondslag.

Wie besit wie en wat?
Die instellings van die Solidariteit Beweging word belyn binne die Solidariteit Beweging Trust. Die naam van die Trust dui bloot daarop dat die groter Beweging uit Solidariteit ontstaan het.

Solidariteit of die Trust besit egter nie die instellings van die Beweging nie. Al die ledeinstellings en opleidingsinstellings is maatskappye sonder winsbejag. Daar is dus geen aandeelhouers wat geld uit ledeorganisasies verdien nie. Alle inkomste fokus op die uitvoering van ledeorganisasies se doelwitte.

Direkteure moet toesien dat elke instelling in diens van sy missie en die gemeenskap funksioneer.

Solidariteit het ook ʼn netwerk van vriende en vennote wat insluit die landbouorganisasie Saai, die organisasies van die Afrikaner Leiersnetwerk, ander gemeenskapsleiers en gemeenskapmedia. Solidariteit is nie betrokke in die partypolitiek nie, maar het goeie verhoudings met verskeie politieke partye wat die belang van die Beweging se lede beskerm.

Alhoewel die Solidariteit Beweging gereeld in dispuut met die regering is, is ons lief vir die land. Wanneer ons met die regering bots, is dit ter wille van die land. Ons is hier om te bly, en daarom sal ons soms veg en baie bou. Ons is nie van die regering afhanklik vir ʼn toekoms nie. Daarom het ons hoop, want ons sal self.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Dit is wie en wat Solidariteit is, so hou nou op twak praat

Die afgelope paar maande word daar vreeslik óór Solidariteit gepraat, maar min mét Solidariteit. Allerhande bordjies word om ons nekke gehang. Strooipoppe word opgerig, wat die slimjanne dan self afskiet.

Ons word só beskryf dat ek onsself skaars herken: Regses, rassiste, Trump-pionne en selfs Suid-Afrika-haters!

Kom ons sê dit sommer in gewone taal: Hier by Solidariteit hou ons niks van die ANC nie, maar ons is lief vir die land. Soos Flip Buys sê: “Ons verlang nie terug na die verlede onder die NP-regering nie, maar ons is ook nie positief oor die toekoms onder die ANC-regering nie.”

Ons is egter toekomsmense. Ons dink geslagmatig. Die instellings wat ons bou is daarop gemik om jongmense te help om ʼn toekoms te skep. Die laaste ding wat ons is, is slagoffers. Ons ontken nie die onreg wat met ons mense gebeur nie, maar ons maak planne.

Ons is gelowige mense. Ons glo aan woorde soos roeping, werk en verantwoordelikheid. Ons glo almal wat wil werk, moet kan werk en hul volle potensiaal bereik. Ons primêre fokus is mense se werk, want werk bied sekuriteit vir soveel ander aspekte van die lewe.

Ons lede is meestal werkende mense. Hulle is gewone mense en baie van hulle werk dikwels in moeilike omstandighede. Vir jare reeds werk hulle op die werksvloer saam met mense van verskillende agtergronde. Die meesterverhaal dat hulle hulself wil isoleer, is onsin.

Oor die jare heen het Solidariteit saam met ander vakbonde gewerk en ons het tot vandag toe samewerkingsooreenkomste met hierdie vakbonde in verskeie bedrywe. Ons ken van saamwerk.

Ons lede ken die werklikhede en uitdagings van die land baie beter as baie kommentators en ontleders. Hulle weet van diskriminasie. Daarom verwerp ons die regering se rasmalheid. Dit diskrimineer daagliks teen ons mense in werksplekke reg oor die land en is eenvoudig boos.

Hierdie beleide verryk ʼn klein elite en vernietig die ekonomie en werksgeleenthede, met vaardighede wat uitvloei. Ons verwerping van rasbeleid het niks daarmee te doen dat ons nie swart mense wil sien vorder nie. Inteendeel, die wette doen juis die teenoorgestelde. Dit is die groot leuen van ons tyd.

Rasmalheid beperk handel. ʼn Land soos die VSA sien dit as ʼn handelsbeperking en Europese lande toenemend ook. Wanneer ons die regering aanspoor om dit vir maatskappye moontlik te maak om internasionaal handel te dryf, doen ons dit omdat ons positief is oor groei in die land.

Ons kyk nie neer op enigiemand nie en ons glo nie in meerderwaardigheid nie. Ons het ʼn afkeer van rassemeerderwaardigheid. Hier by ons loop daar nie rassiste rond nie. Dit is in elk geval nie wat die Bybel ons leer nie.

Ons glo aan die vrye mark, omdat dit die beste stelsel is om welvaart en werk te skep. Ons hou nie van sosialiste wat ʼn utopie wil bou, maar ʼn geskiedenis van smart nalaat nie. Ons hou ook nie van uitbuiters wat onder die vaandel van die vrye mark skuil nie.

Die kernpilaar van die vrye mark is eiendomsreg. Wanneer ons vir eiendomsreg opstaan, doen ons dit omdat ons vir die mark en vir welvaartskepping opstaan.

Wanneer ons met die Amerikaners praat, tree ons in vir die land ten spyte van die regering. Die regering het sy belangrikste handelsvennoot vervreem. Ons tree in vir Agoa omdat dit goed is vir die ekonomie en vir groei. Ons vra nooit dat die land op enige manier gestraf word nie.

Ons soek oplossings vir Suid-Afrika, nie vir die VSA nie, want dit is waar ons lede leef en werk. Ons versprei geen waninligting nie en talle mediahuise moes reeds om verskoning vra vir hul valse bewerings dat ons waninligting in die VSA versprei het. Wat ons doen sal altyd daarop gemik wees om die situasie in die land in die algemeen en vir ons lede in besonder te verbeter.

Ons is lief vir ons taal, kultuur en gemeenskap. Om vir iets te wees, mag egter nooit beteken dat jy teen ander is nie. Ons sien Afrikaners nie as een of ander uitverkorene nie, maar as deel van Suid-Afrika se groot verskeidenheid.

Ons glo baie sterk aan moedertaalonderrig. Ons sien Bela as boos en as ʼn aanval op ons siel. Ons glo jy mag aan jou eie kant wees, maar nie net aan jou eie kant nie. Ons neem self verantwoordelikheid en bou. Baie van wat ons aanpak is ook ten bate van die land en tot voordeel van mense veel wyer as ons eie gemeenskap.

Ons gaan nie ons kinders se toekoms aan die staat oorlaat nie. Daarom sê ons: “Ons sal self”. Ons sê dit nie net nie, ons doen dit. Ons bou letterlik dat die stof staan. Ons glo nie dat die staat jou toekoms moet beskik nie; ons glo ʼn gemeenskap moet dit self beskik. Ons glo aan minder staatsbetrokkenheid en meer privaat- en gemeenskapsinisiatief. Dit is die beginsel agter ons stryd teen die staat se planne om ons gesondheidstelsel te kaap.

Ons glo aan gemeenskapsfederalisme. Dit staan teenoor staatsentralisme. Dit beteken bloot dat gemeenskappe besluite op die laagste moontlike vlak moet kan neem. Ons gaan nêrens heen nie. Ons hoort hier. Ons is van Afrika, en ons taal en volk se naam is na Afrika vernoem. Die ANC en wie ook al sal maar daarmee moet vrede maak. Ons is hier om te bly.

Dus, mense wat strooipoppe van meerderwaardigheid, rassisme, dislojaliteit, slagofferskap, uitverkorenheid, waninligting, verraad en ander booshede oprig: Julle praat twak. Moenie ons oordeel op grond van wat julle van ons gemaak het nie, maar op grond van wie ons is en wat ons doen.

 

Geskryf deur Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

30 waarnemings oor die besoek aan die VSA

Dirk Hermann

Bron: Maroela Media

Groot omwentelings vind tans in die wêreld plaas en Suid-Afrika is nie geïsoleer hiervan nie.

President Trump se uitvoerende bevel het Afrikaners in die middel van hierdie debat geplaas, met ʼn helder lig op Suid-Afrikaanse binnelandse en buitelandse beleid. Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, het ʼn afvaardiging na Amerika gestuur om aktief aan die debat deel te neem.

Die Suid-Afrikaanse regering bly egter afwesig. Hulle reaksie is beperk tot luidkeelse beskuldigings teen die Solidariteit Beweging. Die uiteindelike impak van die Solidariteit Beweging se besoek moet nog bepaal word, maar hier volg 30 waarnemings wat ek tydens die besoek gemaak het:

  1. Die verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA is nie bloot ʼn misverstand wat verduidelik moet word nie, maar ʼn diplomatieke krisis. Hierdie krisis speel af teen die groter geopolitieke herstrukturering wat wêreldwyd plaasvind.
  2. Die ontevredenheid en selfs woede oor die ANC se beleidsrigtings is duidelik, veral weens die regering se romanse met Hamas, Iran, China en Rusland.
  3. Suid-Afrika se verbreking van neutraliteit deur die saak teen Israel, sonder enige direkte belang in die konflik, was ʼn belangrike katalisator. Suid-Afrika het ʼn simbool van anti-Westerse sentiment geword en word beskou as ʼn bedreiging vir Amerika se nasionale belange.
  4. Hierdie diplomatieke krisis spruit nie net uit ʼn enkele gebeurtenis, soos die onteieningswet nie, maar is die resultaat van ʼn lang reeks roekelose binnelandse en buitelandse beleidsbesluite deur die ANC, wat oor verskeie Amerikaanse administrasies heen spanning veroorsaak het.
  5. Die afwesigheid van die Suid-Afrikaanse regering was opvallend en dui op ʼn inploffing van diplomatieke vermoëns.
  6. Daar is ʼn hernude selfvertroue in die VSA en die Weste, wat selfs as ʼn rewolusie beskryf word. Enige bondgenoot van Amerika moet hierdie nuwe werklikheid verreken, iets wat Suid-Afrika blykbaar nie doen nie.
  7. Die VSA bly Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot. Dit is ʼn groot voordeel vir Suid-Afrika, maar van minder belang vir Amerika. Suid-Afrika is ook afhanklik van hulp, wat ander bondgenote nie gee nie. Dit plaas Suid-Afrika in ʼn posisie waar die land meer nederig moet wees.
  8. Suid-Afrika loop ʼn werklike gevaar om uit Agoa geskop te word. Agoa is die Amerikaanse wet wat handelstariefvoordele aan Afrikalande bied. Indien Suid-Afrika sy deelname aan Agoa verloor, sal die ANC die volle verantwoordelikheid dra. Dit kan tot die verlies van honderde duisende werksgeleenthede lei.
  9. Die ANC se beleidsrigtings verraai die land en sy mense. Dit skep ʼn omgewing van verhoogde werkloosheid, maar die regering is ideologies blind en is vasgevang in ʼn mislukte en uitgediende wêreldbeeld.
  10. Tydens geen van die besprekings is daar genoem dat die huidige diplomatieke krisis te wyte is aan valse inligting deur AfriForum of Solidariteit nie. Die oorsaak lê by die ANC se beleid. Daar was eerder waardering vir ons deeglike inligting.
  11. Dit is ʼn belediging vir die VSA se diplomatieke en intelligensie-agentskappe om te beweer dat hulle beleid baseer op valse inligting.
  12. Die enigste valse inligting is die bewerings dat die Solidariteit Beweging onwaarhede versprei. Nog niemand kon bewys lewer van valse inligting nie. Ons inligting is akkuraat en deursigtig. Die wêreld moet die waarheid ken, eerder as politiek korrekte inligting deur ʼn ANC-bril.
  13. Ironies genoeg het die Solidariteit Beweging, in die afwesigheid van die Suid-Afrikaanse regering, vir die land se belange ingetree deur te vra vir voortgesette deelname aan Agoa.
  14. Ons het spesifiek opgetree namens ons lede in die landbou-, mynbou-, metaal- en ingenieursbedrywe, sowel as die chemiese en motorvervaardigingsektore. Hulle moet nie verder benadeel word weens ANC-beleid nie.
  15. Die regering se swak diplomatieke hantering stel die land bloot. Hulle het brûe verbrand en toon geen begrip of voorneme om dit te herstel nie. Daar is ʼn oordrewe selfvertroue.
  16. Die Suid-Afrikaanse regering sal sukkel om ʼn sinvolle besoek aan die VSA te bring. Hul arrogante hantering van sake die afgelope paar weke het houdings verhard. Amerikaners lees wat die president se woordvoerder en ander sê.
  17. Die ANC se aanvalle en dreigemente teen die Solidariteit Beweging, insluitend beskuldigings van hoogverraad, is swak ontvang in Amerika en het die ANC se posisie verswak terwyl dit ons posisie versterk het.
  18. Suid-Afrika sal konkrete stappe moet neem om diplomatieke verhoudinge te herstel. Blote verduidelikings of groot afvaardigings gaan nie help nie.
  19. Die Solidariteit Beweging is met ope arms ontvang by die Withuis, die kongres, die departement van buitelandse sake en verskeie ander sleutelinstellings. Ons kon ons navorsing en feite duidelik stel.
  20. Daar moet voortgegaan word om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas vir beleidsveranderinge wat ook die hele land sal bevoordeel.
  21. Twee kwessies wat Amerikaners besonders grief, is onteiening sonder vergoeding en raswette. Suid-Afrika sal, ten spyte van ideologiese blindheid, hierdie kwessies moet herbesin. Ons sal deur druk en litigasie help om verandering te bring.
  22. Suid-Afrika moet besef dat die wêreld verander het. Die ANC se sosialistiese ideologie, aanvalle op eiendomsreg en raswette is nie meer aanvaarbaar nie.
  23. President Trump se uitvoerende bevel het Suid-Afrika in die wêreld se oë geplaas. Die ANC kan nie meer staatmaak op die nalatenskap van Nelson Mandela of Westerse skuldgevoelens nie. Hulle word nou beoordeel op wat hulle sê en doen.
  24. Afrikaners staan ook weer in die wêreld se kollig, hierdie keer nie as ʼn muishond nie, maar as ʼn gemeenskap met ʼn saak wat internasionaal erken word. Ons het met navorsing gewys hoe die ANC die 1994-skikking verbreek het.
  25. Ons het die bestaansbedreiging, wat wette soos Bela inhou vir Afrikaners, duidelik uiteengesit en daar is met begrip geluister.
  26. Die Solidariteit Beweging kon met vrymoedigheid namens Afrikaners intree, erkenning vra en steun vra vir die vestiging van kulturele infrastruktuur. Ons kon federalisme en konsentrasie ook op die tafel plaas.
  27. Daar bestaan steeds onsekerheid oor vlugtelingstatus. Dit lyk of ʼn hervestigingsprogram oorweeg word vir mense wat slagoffers is van ernstige geweldsmisdaad op grond van ras of groepsidentiteit. Niemand, wat dit wil opneem, moet weerhou word nie.
  28. Die uitvoerende bevel en nuwe herskikkings in die wêreld is ʼn unieke geleentheid vir Afrikaners. Die Trump-administrasie skep ʼn gunstige klimaat, maar Afrikaners moet self verantwoordelikheid neem en hierdie geleenthede benut.
  29. Ons is nou in ʼn sterker posisie as voor die uitvoerende bevel. Ons het nou oop kommunikasiekanale en waardevolle kontakte. Die aanstelling van die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika sal belangrik wees vir ons toekomstige verhouding.
  30. Ons moet aanhou bou, beskerm en veg. Ons leef in ʼn nuwe era wat groot geleenthede vir ons as ʼn Westerse gemeenskap in Afrika bied.

 

Die afvaardiging: (Links na regs) Jaco Kleynhans, Flip Buys, Dirk Hermann, Kallie Kriel
Die afvaardiging: (Links na regs) Jaco Kleynhans, Flip Buys, Dirk Hermann, Kallie Kriel

Die pyle in ons koker

Deur dr. Dirk Hermann

Ons is pas klaar met ons besoeke aan die Verenigde Nasies in Geneve. Ons is tevrede met hoe dit verloop het.
Ons het ‘n verslag ingedien teen die regering se rasbeleide, ‘n aanbieding gedoen en met die Internasionale Arbeidsorganisasie gepraat oor die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering.
Die VN-proses is goed, maar ons heil is nie net by die VN nie. Dis wel een van die vele pyle in ons koker.
Ek wil vier pyle bespreek.
Internasionale druk. Suid-Afrika het internasionale konvensies geratifiseer. Dit is dus deel van ons reg. Internasionale forums is plekke waar ons stem gehoor word. Die onlangse verhoorproses by die Internasionale Arbeidsorganisasie het tot ‘n ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering gelei. Dit was ‘n groot deurbraak wat tot ‘n bevel van die hof gelei het. Dit het internasionaal begin, maar gee nou vir ons plaaslike slaankrag. Die IAO het gevra vir verdere voorleggings. Dit is stadige, maar nodige prosesse.
Plaaslike veg. Internasionale prosesse is egter nie op hulle eie genoeg nie. Die VN gaan nie ons gevegte vir ons veg nie. Solidariteit veg op elke vlak teen die regering se rasmalheid. Ons veg deurlopend in howe en het al verskeie sake in die grondwethof gewen. Ons het die aanvaarding van die nuwe mal rasregulasies, saam met vennote, teruggedruk. Ons is nou in ‘n geveg met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor hul rasgedrewe verslag by die VN.

Helpmekaar. Veg is belangrik, maar daar is nog meer krag in helpmekaar. Solidariteit het onlangs ‘n reuse ‘werkmark’ op www.solidariteit.co.za bekend gemaak. Dis ‘n mark sonder enige rasvereistes en net meriete. Bykans 2000 poste is al deur meer as 700 werkgewers daar gelaai. Ons help mekaar.
Ons sal self. Ons sal internasionale druk plaas en die regering veg, maar ons is nie afhanklik van enige iemand nie. Ons sal self beteken ons neem self verantwoordelikheid vir die toekoms. Daarom help ons bou aan Sol-Tech, Akademia, Bo-Karoo Opleiding, die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut en eersdaags ‘n modelskool. Ons help met voortgesette opleiding, beroepsnetwerke, loopbaanvoorligting, werkbeskerming en meer. Alles om seker te maak ons mense kan goed werk.
Ons skiet verskeie pyle. Alles saam is kragtig.

Ons staan gereed om te help met waterkrisis

Deur dr. Dirk Hermann

Adjunkpresident Paul Mashatile het gesê hy gaan onder andere vir AfriForum en Solidariteit nader in sy groot waterplan.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het al voorheen gesê dat ons nie van die regering hou nie, maar dat ons lief is vir die land. Daarom sal ons graag help. Ons sal opreg wees met ons aanbod om te help. Dit is as die regering opreg wíl help en nie net geraas maak voor die verkiesing nie.

Solidariteit beskik reeds oor ʼn lys van die land se beste ingenieurs en ambagslui wat bereid is om met die land se infrastruktuuruitdagings te help. Die lys is spesifiek opgestel vir elektrisiteitsuitdagings, maar sal vinnig en maklik uitgebrei kan word om met die land se wateruitdagings te help.

Solidariteit het ʼn reuse-aanlynplatform wat letterlik oornag kundiges kan mobiliseer. Ons is meer as gewillig om, ter wille van die land, te help. Ons ervaring is dat die land se kundiges graag wil help, maar in die verlede het hulle ʼn gebrek aan wil by die regering ervaar. As die regering sy rasbril afhaal en die land se uitdagings voorop stel, kan kenners ʼn reuserol speel.

Ons kollegas by AfriForum het kundiges in die organisasie wat oor ongelooflike kennis beskik.

Hulle doen reeds reusewerk in verskeie gemeenskappe. Samewerking met AfriForum sal ʼn reuseverskil maak. AfriForum het reeds verskeie plaaslike samewerkingsooreenkomste daargestel en sal nasionaal ʼn groot verskil kan maak.

Rasseherrie by Curro só onnodig

Blog deur dr. Dirk Hermann

Party is kopers en ander is die kassier. Party is ʼn dokter of ʼn advokaat, ander is ʼn veearts en nog een ʼn tandarts. Party is wit en party is swart, maar almal is kindertjies.

Op ʼn spesifieke tydstip word ʼn foto geneem. Op daardie tydstip is die een kindjie ʼn kassier en toevallig swart, en ʼn ander een is die koper en toevallig wit. Dit is bloot die werklikheid van ʼn enkele oomblik. Op ʼn ander tydstip sal die advokaat dalk swart wees en die dokter wit. Daar sal heel moontlik nog ʼn kassier wees en hierdie keer wit. Daar is nie sprake van raskassies vir die kindertjies nie.

Geen mens sal mos dit doen nie. Geen juffrou sal ʼn kind agter ʼn kasregister sit omdat hy/sy swart is nie. Die persoon wat die plasing gemaak het, is so min rasbewus dat hy/sy dit geplaas het.

Rasbeheptes sien toe kleur. Dit is ʼn siek wêreldbeskouing wat rassisme in ʼn kleuterskoolklassie kry. Jy vra nie vir sulke mense om verskoning nie. Hulle maak van die arme kindertjies ras-objekte. Onskuldige kindertjies word gebruik vir rassepolitiek. Hierdie was nie ʼn ras-insident nie. Rasbeheptes het dit ʼn ras-insident gemaak. Dit is nie Curro, die onderwysers of die kinders wat rasstereotipering gepleeg het nie. Dit was die rasstryders op sosiale media.

Die reaksie op sosiale media was kunsmatige woede. Daar was nie ʼn groot reaksie nie.

Curro het toe om verskoning gevra. Die Departement van Onderwys het nie eers van hierdie insident geweet nie en is eers ná die Curro-verklaring daarvan bewus gemaak. Hulle skrik só dat hulle sommer self bieg. Curro is tog só jammer vir die aanstootlike stereotipering. Curro probeer om die rasstryders te bestuur deur soos ʼn hondjie om te rol en om verskoning te vra en op die mat te piepie.

My maggies, Curro, dit was nie ʼn ras-insident nie! Deur julle jammerlike houding het julle dit ʼn ras-insident gemaak waaraan julle skuldig is. Julle het die raskrokodil gevoer wat net méér rashonger raak.

Die rasstryders retireer nie as daar om verskoning gevra word nie. Daar is nie vergifnis nie. Hulle sien dit as skulderkenning en swakheid en val aan om die situasie te laat eskaleer.

Die Departement van Onderwys gaan dus verder en die grondwetlikheid van Curro se waardestelsel moet nou ondersoek word. Daar moet gekyk word of hulle menseregte en rassegelykheid verstaan. Dít is wat gebeur as jy wil paai deur ʼn verskoning en skulderkenning waaraan jy nie skuldig is nie. Die rasstryders is nie paaibaar nie.

Die departement reageer heftig, skaars twee weke nadat die Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) vir Onderwys in Noordwes deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gedwing is om vir Elana Barkhuizen om verskoning te vra ná ʼn vorige heftige rasreaksie. Sy het ook ʼn foto van ʼn spesifieke oomblik geneem. Die hof het egter in haar guns beslis en die SAMRK het gesê haar menseregte is geskend. Hulle leer niks nie en Curro rol om.

Al waarvoor daar nou gewag word, is ʼn arme onderwyseres wat net goed bedoel het, se kop wat met ʼn rasbyl afgekap word.

Moenie dit doen nie! Ons wag vir julle.

‘n Goeie werk is ‘n voorwaarde vir ‘n hoopvolle toekoms

Deur dr. Dirk Hermann

Solidariteit het een groot fokus en dit is om elke Afrikaner en Solidariteit-lid wat wil werk te help om goed te werk en hulle volle potensiaal te bereik. ‘n Goeie werk is ‘n voorwaarde vir ‘n hoopvolle toekoms. Om dit te doen gaan ons, saam met julle in 2024:

Op groot skaal skoliere toerus om die regte beroepskeuses te maak.

Ons het ‘n indrukwekkende loopbaanpad vir skoliere op ons platform, wat ongekend in die wêreld is, gebou en in Afrikaans.

Ons gaan deur die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum help dat alle Afrikaanse skole uitnemend bly. Die SOS gaan planne vir ‘n model onafhanklike skool bekend maak.

Ons gaan studente help om te studeer met studiehulp. Ons gaan hulle beroepsgereed maak en ons gaan die eerste slypskole begin om hul gereed te maak vir die werkplek.

Ons gaan weer op groot skaal betrokke wees by opleidingsinstellings. Dit sluit in die uitbou van Sol-Tech, Akademia, Bo-Karoo Opleiding en die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut.

Ons gaan mense op ‘n groot skaal help om werk te kry. In 2023 het ons ons werkplatform bekend gemaak. Dit was ‘n reuse sukses. Die gemeenskap help mekaar op ‘n groot skaal, sonder rasvereiste.

Ons gaan mense beskerm in die werkplek. Ons gaan weer meer as 1000 regsake namens lede voer en namens lede onderhandel.

Ons gaan steeds die regering se rasmal beleid oral waar ons kan beveg.

Om goed te werk moet lede gesond wees. 2024 gaan die groot regstryd teen die regering se planne om alle gesondheidsorg te kaap, begin.

Ons gaan ons beroepsnetwerke versterk. Beroepe gaan mekaar help, help om ons jongmense in werke te kry, verdere opleiding fasiliteer, netwerke skep en die belang van die beroep beskerm.

Wanneer ons hierdie agenda suksesvol implementeer help ons ons gemeenskap en lede om ‘n toekoms te bou waar ons vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Solidariteit se platform breek ‘n nuwe werkmark oop

Deur dr. Dirk Hermann

Vriende,

Ons wil ʼn veldbrand begin en die gemeenskap op groot skaal mobiliseer om mekaar in diens te neem.

Solidariteit se platform het ʼn werkmark waar meer as 650 maatskappye binne 2 maande sowat 1 600 poste gelaai het. 

Meer as 9 000 mense het hul CV’s gelaai. Dit is ʼn reuse-netwerk waar mense mekaar help om te werk sonder enige rasbepalings.

As die regering wette wil maak wat ons keer om te werk, help ons mekaar en word net sterker.

As iemand werk of ʼn nuwe geleentheid soek, óf as jy dalk ʼn pos het wat jy wil adverteer, gebruik die skakel hieronder.

Stuur dit vir almal wat jy ken, plaas dit op al wat ʼn groep is en deel dit wyd.

Dit is ʼn klein daad wat vir iemand anders lewensveranderend kan wees.

Dit is sommer ʼn maklike politieke daad in protes teen die regering en vir ons gemeenskap.

Ons sal mos self!

Gratis en in Afrikaans: https://aanlyn.solidariteit.co.za

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.