Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 41
Flip Buys
Bron: Maroela Media
Amerikaanse president Donald Trump het vandeesmaand opspraak verwek met sy uitvoerende bevel wat onder meer voorsiening maak vir Afrikaners wat deur rassewette of onteiening sonder vergoeding benadeel word om na Amerika te vlug.
Die feit dat die ANC alles in die stryd werp om steeds alleen te regeer in plaas van deur ʼn regering van nasionale eenheid, het nou die nuwe regering in Washington heeltemal vervreem. Dit is hoekom die Solidariteit Beweging nou die hand van vriendskap wat deur die Amerikaners uitgereik is, sal vat, en praktiese voorstelle aan hulle sal maak oor hoe Afrikaners gehelp kan word om volhoubaar in Afrika te kan bestaan, sodat ons ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense sal kan maak.
Ons kan ons nie deur ʼn korrupte, onbevoegde en rassistiese regering uit die land laat jaag nie. Dis nie wie ons is nie. Ons is vasbeslote om in die woorde van NP Van Wyk Louw, die skat van ons taal en kultuur veilig deur die skare te dra. Ons het immers nie die oseane deurkruis, deur die eeue oorleef, die onbekende ingetrek, magtige moondhede op die slagveld gepak en op talle gebiede wêreldklasprestasies opgelewer omdat ons van jellie gemaak is nie.
Hier is 10 historiese redes waarom ons sal bly en waarom ons sal self.
Die eerste Buys in Suid-Afrika was ʼn Duitse soldaat wat in 1714 met die Risdam uit Amsterdam gevaar het om vir die VOC te kom werk. Soos die meeste ander Afrikaner-families, bly die Buyse dus al meer as drie eeue in Afrika. Ons het nie as Afrikaners na Afrika gekom nie. Ons het hier Afrikaners geword, lank voordat Suid-Afrika sy ontstaan as land gehad het. Ons taal en kultuur is inheems aan Afrika en nêrens anders nie. Ons het onsself, ons taal en baie van ons instellings na Afrika vernoem.
Afrikaners is ʼn self-gedefinieerde kultuurgemeenskap – ʼn volk – en nie bloot ʼn taalgroep of ʼn rassegroepering nie. Ons het deur Afrikaans ook ʼn taalverbintenis met bruin Suid-Afrikaners, omdat Afrikaans een taal met vele kulture is. Ons kom uit ʼn Christelik-Westerse tradisie, en die meeste van ons vertrou op God se beloftes van hoop vir die toekoms.
NP van Wyk Louw het dit só treffend gestel: “in elke geslag is die taak: om albei ons erfenisse – Europa en Afrika – bloedwarm ná aan die hart te hou; om in Afrika te wees wetende dat ons van die óú Weste is; om Westers te wees sonder om een enkele verskillendheid van Afrika te verontagsaam.”
Louw het ook so mooi oor Afrikaans gesê: “Afrikaans kan vitaal bly alleen solank hy die draer van ons volle noodlot, van ons wete-na-albei-kante-toe bly; solank hy konkreet en abstrak bly dink; solank as Europa en Afrika in hom lewe; Afrika wel, maar tog ook altyd Europa.”
Hy het Afrikaans gesien as die taal wat Wes-Europa en Afrika verbind: “Dit vorm ʼn brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om ontdek te word.”
Die volksdigter Totius het dit net so mooi gestel: “ʼn Fyn mistieke eenheidsband verbind Oranje, Nederland en Afrika, deur alles heen. Hoe ver die golwe ons al omspoel, die diepe hart sal altyd voel – ons is verborge-een.”
Na die Britte Natal en die destydse Boererepubliek van Vryheid in 1843 annekseer het, het die Voortrekkers weer getrek. In die beroemde woorde van Johanna Smit aan die Britse verteenwoordiger: “Ons sal eerder kaalvoet oor die Drakensberge loop as om langer onder die Britse regering gebuk te staan.”
Die strewe na vryheid as dryfkrag van die Groot Trek is deur Trekleiers soos Andries Pretorius verwoord, toe hy gesê het dat hulle hul geboorteplek sonder ʼn opstand verlaat om vry te wees. Die Nederlandse denker Bob Goudzwaard het na ʼn studie van Afrikaners se geskiedenis dit gestel dat ons verhaal eerder ʼn stryd om oorlewing was as ʼn stryd om oorheersing. Dit is vir my ondenkbaar dat hierdie opofferings van ons voorouers tevergeefs was as ons weg van ons geskiedenis af trek.
Dit is so dat daar vele veldslae en gevegte teen die inheemse swart stamme was. Dit is egter nie die hele verhaal nie, daar was ook ʼn magdom vredesooreenkomste en samewerking met swart groepe.
ʼn Goeie beskrywing hiervan kry ons in die Voortrekkerleier Hendrik Potgieter se terugvoer aan die Kaapse Goewerneur na afloop van die Groot Trek op 3 Desember 1838: “Ten eersten hebben wy aangetroffen de kapetyn Danser en met hem een vrede besluyt, en ten tweede de konieng Maroka en ook met een vrede besluyt, ten derde de kaptyn Pieter Davieds ook met een vreede besluyt, ten vierde de konieng Sikoniala ook met een vreede besluyt, ten veyfde de kapiteyn Makwana ook met een vrede besluyt.”
Die mooiste beskrywing van die Boerekrygers is deur die bekende staatsman Winston Churchill gegee, wat as joernalis hier teen ons kom veg het.
“What men they were, these Boers! I thought of them as I had seen them in the morning riding forward through the rain – thousands of independent riflemen, thinking for themselves, possessed of beautiful weapons, led with skill, living as they rode without commissariat or transport or ammunition column, moving like the wind, and supported by iron constitutions and a stern, hard Old Testament God who should surely smite the Amalekites hip and thigh.
“And then, above the rainstorm that beat loudly on the corrugated iron, I heard the sound of a chaunt. The Boers were singing their evening psalm, and the menacing notes – more full of indignant war than love and mercy – struck a chill into my heart, so that I thought after all that the war was unjust, that the Boers were better men than we, that Heaven was against us, that Ladysmith, Mafeking and Kimberley would fall, that the Estcourt garrison would perish, that foreign Powers would intervene, that we should lose South Africa, and that that would be the beginning of the end. So for the time I despaired of the Empire.”
Die Britte se verskroeideaardebeleid en die konsentrasiekampe was vernietigend. My een oupa en ouma was kinderoorlewendes van die kampe, terwyl my ander oupa se pa in die tronk en sy huis afgebrand was toe hy as koloniale onderdaan perde vir die Vrystaatse Boere gesmokkel het. Prof. David Welsh het die toestand van Afrikaners na die Vryheidsoorlog as volg beskryf:
“After 1902 the Afrikaners of the defeated Trekker republics displayed many of the symptoms of a conquered people: impoverished, defeated, despairing, low in morale, and with a powerfully internalised inferiority complex. They were facing the possible obliteration of their identity by the overwhelming power of their conqueror’s institutions and culture.”
Die opstaan na die oorlog was bitter moeilik, en die historikus Dan O’Meara kon oor my mynwerker-oupa gepraat het toe hy hulle stryd tot 1948 beskryf het: “The structure of South African capitalism offered few opportunities to those whose home language was Afrikaans. Its language was English, and Afrikaans-speakers were powerfully discriminated against. Promotion and advancement required both proficiency in a foreign language – that of the conquerors – and virtual total acceptance of the structure and values dominant in the country.”
Die Koue Oorlog het vuurwarm in Suid-Afrika gewoed, en die ANC was vierkantig in die Kommunistiese kamp. Dit het die destydse weermag lynreg in botsing met die ou Sowjetunie en Rooi China se wapentuig en ondersteuning vir bevrydingsbewegings in Suider Afrika gebring.
Die Koue Oorlog het politieke beweegruimte vasgevries, en die SAW en SAP moes ʼn gewelddadige rewolusionêre oorname verhoed tot die val van die oosblok-onderhandelings moontlik gemaak is. Westerse moondhede soos die VSA se geweldige druk op die NP regering het ʼn groot rol in die uiteindelike grondwetlike skikking gespeel.
Afrikaners was verstaanbaar ook baie skepties oor die kanse op ʼn suksesvolle demokrasie in Suid-Afrika, omdat hulle geweet het tot watter uitkomste Westerse modelle in Afrika gelei het. Martin Meridith som dit treffend op in sy boek oor The Fortunes of Africa na onafhanklikheid: “Die reeks staatsgrepe in Afrika het mekaar so vinnig opgevolg het dat die post-onafhanklikheidsgeskiedenis in ʼn waas verbygeflits het. In die eerste twee dekades van onafhanklikheid was daar sowat veertig suksesvolle staatsgrepe en talle ander onsuksesvolle pogings gewees. Daar was nie een geval waar ʼn Afrika-regering vreedsaam uitgestem is nie.”
Die gemiddelde lewensduur van Afrika-grondwette was volgens die Chicago Law School teen die eeuwending net tien jaar.
“Teen die tagtigers was Afrika berug vir sy ‘Groot Manne’, militêre diktators en een-party-presidente wie se belangrikste prioriteit was om die mag te behou. Die politieke rekord van Afrika sedert onafhanklikheid was star: nie een enkele staatshoof in drie dekades het homself in ʼn verkiesing laat uitstem nie. Vanuit sowat 150 staatshoofde het net ses vrywillig die mag afgestaan, waarvan sommige eers na dekades in die mag.
“Uit ʼn lys van 50 Afrikastate was feitlik almal eenpartystate of militêre diktatorskappe, terwyl in 32 state opposisiepartye onwettig was. Wanneer verkiesings gehou is, was dit bloot om die bewindhebber en sy party se mag te bevestig. In 150 verkiesings wat tussen 1960 en 1989 in 29 lande gehou is, is opposisiepartye nie toegelaat om ʼn enkele setel te wen nie. Net drie lande – Senekal, Botswana en die kleine Gambië, het veelpartystelsels behou en gereelde vry en regverdige verkiesings gehou.”
Die ontstaan van die Solidariteit beweging kan teruggevoer word na die 1998-kongres van die destydse Mynwerkersunie, waar die vakbond se nasionale raad my voorstel aanvaar het om die MWU te omskep in ʼn moderne selfhelp-helpmekaarbeweging.
Die rede hiervoor was tweedledig: ons het nie geglo dat die ANC die land suksesvol sou kon regeer nie, en ons het geglo dat hulle ʼn nuwe rassebedeling sou skep wat Afrikaners in die praktyk tweedeklasburgers sou maak.
Die doel van die Beweging sou wees om die kulturele infrastruktuur te bou wat Afrikaners nodig sou hê om volhoubaar vry, veilig en voorspoedig in suidelike Afrika te kon bly. Sodoende sou Afrikaners terselfdertyd ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kon lewer. Ons destydse aanname dat ons aanvanklik as radikales uitgekryt sou word, maar mettertyd al meer ondersteuning sal kry namate die uitkomste van ANC-beleid sigbaar word, is in die praktyk bewaarheid.
In die negentigs moes die land verander om ʼn verskriklike einde te keer. Die taak van ons beweging is om nou ʼn eindelose verskrikking te help afweer.
Dit was vir jare na 1994 onmoontlik om ondersteuning vir Afrikaners se regmatige strewe na kulturele outonomie te kry, omdat die ANC die morele hoë grond betree het, en omdat die gevolge van hulle beleid nog nie vir die buiteland duidelik was nie.
Die ANC se vrot regeringsrekord wat tot wydverspreide staatsverval lei, en die deurlopende sentralisasie van mag en die gepaardgaande inperking van vryhede, het prof. Welsh se waarskuwing oor ʼn “tirannie van die meerderheid” nuwe betekenis laat kry.
Welsh het gesê: “Simple majority rule… can easily – and commonly does – degenerate into a ‘tyranny of the majority’ when elections assume the form of a racial census. Undeniably, majorities have rights, but so do minorities. If […] majorities use their power to steamroller minorities, denying them influence even in decisions that affect their vital interests, the quality of democracy will deteriorate.
“Moreover, the comparative evidence from divided societies does not offer much support for the view that the salience of ethnic or racial identities will eventually give way to voting alignments that are shaped more by, say, class, interests or ideology. Democratic constitutional forms have been maintained, but a single-party dominant system become entrenched.”
Dirk Hermann
Bron: Maroela Media
Groot omwentelings vind tans in die wêreld plaas en Suid-Afrika is nie geïsoleer hiervan nie.
President Trump se uitvoerende bevel het Afrikaners in die middel van hierdie debat geplaas, met ʼn helder lig op Suid-Afrikaanse binnelandse en buitelandse beleid. Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, het ʼn afvaardiging na Amerika gestuur om aktief aan die debat deel te neem.
Die Suid-Afrikaanse regering bly egter afwesig. Hulle reaksie is beperk tot luidkeelse beskuldigings teen die Solidariteit Beweging. Die uiteindelike impak van die Solidariteit Beweging se besoek moet nog bepaal word, maar hier volg 30 waarnemings wat ek tydens die besoek gemaak het:

Daar is groeiende woede in die VSA regering oor Suid-Afrika se buitelandse beleid. Dit gaan Suid-Afrika duur te staan kom en tienduisende mense gaan met hulle werk betaal vir die regering se roekelose beleidsrigtings.
Dit is die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, se reaksie ná gesprekke gister met senior lede van die buitelandse sakekomitee in die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat in die VSA. Dit volg ook na gesprekke vroeër die week met senior lede van die Trump-administrasie in die Withuis.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê die ANC-regering het oor die jare heen die wêreld se grootste ekonomie vervreem – iets wat ʼn enorme invloed op Suid-Afrika kan hê.
“Dit blyk egter dat die Suid-Afrikaanse regering nie die erns van die situasie besef nie. Hulle soek sondebokke en glo dat die huidige situasie net ʼn diplomatieke misverstand is. In werklikheid is dit ʼn diplomatieke krisis, maar die ANC hou vol dat hulle nie geboelie sal word nie.
“Die vlakke van frustrasie in Washington is só hoog dat ʼn wetsontwerp oorweeg word om die bilaterale verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika te hersien,” sê Buys.
Dié konsepwetsontwerp is reeds in 2024 deur die Huis van Verteenwoordigers goedgekeur, maar nie deur die Senaat opgeneem nie. Lede van die buitelandse sakekomitee oorweeg tans om die wet, gegewe die snelveranderende verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA, opnuut aan die Huis van Verteenwoordigers voor te lê.
Aangesien Republikeine nou ook die Senaat beheer sal die wet ʼn beter kans staan om aanvaar te word. Die klimaat vir nuwe wetgewing oor die VSA se verhouding met Suid-Afrika is selfs nou beter gegewe die kritiese houding wat die Withuis en lede van die Trump-administrasie jeens Suid-Afrika ingeneem het.
Hierdie wetsontwerp sit Suid-Afrika se historiese bande met die terreurgroep Hamas, en lande soos China, Iran en Rusland in detail uiteen en argumenteer dat Suid-Afrika sy beleid van neutraliteit prysgegee het.
Verder gaan die wetsontwerp ook in op Suid-Afrika se gebrekkige binnelandse beleid, die regering se onvermoë om die land te bestuur en sy laksheid teen korrupsie.
ʼn Omvattende hersiening van die bilaterale verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika word daarin voorgestel.
Indien dié wetsontwerp aanvaar word, sal dit uitsluitlik die regering, en spesifiek die ANC, se skuld wees. Hierdie situasie het oor baie jare opgebou, en die onlangse aanvaarding van die Onteieningswet was bloot die sneller.
Hierdie wetsontwerp kan rampspoedige gevolge inhou vir Suid-Afrika se deelname aan die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) – ʼn wet wat tariefverligting aan Afrikalande bied.
Agoa en handel met die VSA skep tans werk vir sowat 500 000 Suid-Afrikaners.
Die Solidariteit Beweging het voorgestel dat, in plaas daarvan om gewone Suid-Afrikaners te straf, daar eerder gefokus word op sanksies teen korrupte individue en druk op ANC-leiers.
“Die Suid-Afrikaanse regering skitter egter in sy afwesigheid in die VSA. Dit blyk dat sy diplomatieke vermoëns ineengestort het.
Die Solidariteit Beweging kan nie en wil nie namens die regering optree nie, maar ons glo dat ons versoek vir verskerpte politieke druk om beleidsverandering te weeg te bring, ten behoewe van alle Suid-Afrikaners is,” sê Buys.
Verder het die Solidariteit Beweging lede van die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers versoek om by die Amerikaanse president aan te beveel dat Suid-Afrika ʼn lid van Agoa moet bly.
Daar is egter ook ʼn versoek om die diplomatieke druk op Suid-Afrika te behou om ʼn beleidsverandering te bewerkstellig.
Sien die wetsontwerp hier.
Die afvaardiging vra vir verskerpte druk op ANC-leiers in belang van Afrikaners en Suid-Afrika. Die afvaardiging is dankbaar teenoor die Trump-administrasie nadat Trump die kollig op die menseregteskending van Afrikaners, én die ANC se roekelose beleidsrigtings en swak regering van die land geplaas het.
ʼn Afvaardiging van die Solidariteit Beweging, Solidariteit en AfriForum het vandag in die Withuis in Washington DC met senior verteenwoordigers van pres. Donald Trump se administrasie vergader ter bevordering van die belange van Afrikaners en Suid-Afrika.
Die afvaardiging het tydens dié vergadering sy dank teenoor die Trump-administrasie uitgespreek nadat Trump die kollig op die menseregteskending van Afrikaners, én die ANC se roekelose beleidsrigtings en swak regering van die land geplaas het.
Die Beweging is ook dankbaar vir die VSA se bereidwilligheid om bystand aan Afrikaners te bied. “Ons neem graag die hand van vriendskap wat die VSA-regering na Afrikaners uitsteek,” het Flip Buys, voorsitter van die Beweging, aan die verteenwoordigers van die VSA-regering gesê.
Die Solidariteit Beweging het ook ʼn memorandum, getiteld die Washington Memorandum, tydens die vergadering aan die Trump-administrasie oorhandig. In dié memorandum word aangedui dat die belange van Suid-Afrika se inwoners, insluitend Afrikaners, ten beste bevorder kan word deur verskerpte druk op ANC-leiers, eerder as druk op die land.
Hierdie druk moet onder meer poog om eiendomsreg te beskerm, diskriminasie teen Afrikaners te staak deur omvattende rassewetgewing en die Bela-wet te keer, kulturele ruimte aan Afrikaners te bied deur ʼn kultuurakkoord met Afrikaners te sluit, en toe te sien dat ANC-leiers hulle noue bande met Iran en terreurgroepe, soos Hamas, beëindig.
Verskeie ondersteunende dokumente en navorsingsverslae is saam met die memorandum aan die Trump-administrasie oorhandig.
Die VSA word ook in die memorandum versoek om die humanitêre bystand wat die VSA aan Afrikaners bied, beskikbaar te stel om die kulturele infrastruktuur te help bou wat Afrikaners nodig het om voorspoedig in Suid-Afrika te bly.
Die Solidariteit Beweging se afvaardiging na die Withuis is gelei deur die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, en het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit en Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, ingesluit.
Suid-Afrika se deelname aan die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) is ook bespreek. Volgens Buys is Suid-Afrika se voortgesette deelname aan Agoa in belang van al die gewone mense, ondernemings en boere in die land en daarom word die VSA versoek om nie Suid-Afrika te straf deur Suid-Afrika se deelname aan Agoa op te sê nie, maar om eerder druk te plaas op ANC-leiers wat verantwoordelik is vir Suid-Afrika se onverantwoordelike beleidsrigtings.
“Diegene wat Agoa wil red deur probleme in Suid-Afrika as ‘disinformasie’ af te maak, sal ongelukkig nie daarin slaag om Agoa te red nie. Die Solidariteit Beweging is lojaal teenoor die land, en besef dat Agoa slegs gered kan word deur met druk op ANC-leiers toe te sien dat Suid-Afrika voldoen aan die vereistes wat Agoa stel.
“Deelnemende lande moet eiendomsreg en menseregte respekteer en nie direk teen die VSA se belange optree nie,” het Buys gesê.
Volgens Kriel het ANC-leiers in die regering minagtend opgetree teenoor AfriForum en die Solidariteit Beweging se opbouende pogings om die ondertekening van die Bela-wet, wat Afrikaanse skole en gevolglik die kulturele voortbestaan van Afrikaners en Afrikaanssprekendes bedreig, en die Onteieningswet te verhoed.
“Sou die ANC-leiers weier om hierdie wette, diskriminerende rassewette en Suid-Afrika se roekelose buitelandse beleid te hersien, sal hulle net hulself kan blameer indien die VSA teen hulle as individue optree.
“Dit is veral ANC-leiers wat hulle aan menseregteskendings en die skending van eiendomsreg skuldig maak. Diegene in die land wat korrupsie pleeg, oproepe tot geweld teen Afrikaners maak of bande met terreurorganisasies het, kan swaar gestraf word.”
Kriel het namens AfriForum se privaatvervolgingseenheid name van leiersfigure, wat volgens die Zondo-kommissie met bedrog en korrupsie verbind word, aan die Trump-administrasie oorhandig. Die VSA het spesiale wetgewing, soos die Magnitsky-wetgewing, vir korrupte politieke leiers wat reeds gebruik is om byvoorbeeld teen die Zimbabwiese regeringsleiers op te tree.
Hermann het tydens die vergadering in die Withuis ook ʼn verslag namens Solidariteit aan die Trump-administrasie oorhandig waarin die wye omvang van diskriminerende rassewetgewing in Suid-Afrika uitgewys word. Volgens Hermann is Suid-Afrika die mees rasgereguleerde land ter wêreld.
Dit misken nie net Afrikaners en ander minderhede se menseregte nie, maar vererger die land se probleme soos rekordhoë werkloosheidsyfers. Dit skrik beleggers af, benadeel ekonomiese groei en vernietig werksgeleenthede. Suid-Afrika moet beleggersvriendelik gemaak word en daarvoor moet rassewetgewing uitfaseer word.
Daarom vra die Solidariteit Beweging dat die Suid-Afrikaanse regering ter wille van Suid-Afrika en al sy mense hierdie uitgediende rassewetgewing moet uitfaseer. Die regering kan nie meer rassewette regverdig deur na die verlede te verwys nie, omdat die uitkoms ná dekades van rassewette wys dat dit nie werk nie, maar net armoede vererger omdat dit werkskeppers en belastingbetalers landuit dryf.
“Die huidige diplomatieke krisis is deur die ANC veroorsaak. Dit is nie net ʼn klein diplomatieke misverstand nie. Die Solidariteit Beweging is nie in die VSA om te paai nie, maar om antwoorde vir Suid-Afrika te kry deur die waarheid aan die lig te bring.
“Die uitkoms waarvoor ons sal werk is tot voordeel van die land ten spyte van die ANC. Druk vir harde beleidsveranderings sal juis goed vir die land wees,” het Hermann bygevoeg.
Die Washington Memorandum, wat aan die Withuis oorhandig is, asook foto’s van die besoek word hierby aangeheg.
