RSG-onderhoud met Flip Buys
Flip Buys gesels Woensdag 19 Maart op RSG se program “Land en Sand” in “Op en Wakker”. Luister die onderhoud hier.

Dirk Hermann
Bron: Maroela Media
Groot omwentelings vind tans in die wêreld plaas en Suid-Afrika is nie geïsoleer hiervan nie.
President Trump se uitvoerende bevel het Afrikaners in die middel van hierdie debat geplaas, met ʼn helder lig op Suid-Afrikaanse binnelandse en buitelandse beleid. Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, het ʼn afvaardiging na Amerika gestuur om aktief aan die debat deel te neem.
Die Suid-Afrikaanse regering bly egter afwesig. Hulle reaksie is beperk tot luidkeelse beskuldigings teen die Solidariteit Beweging. Die uiteindelike impak van die Solidariteit Beweging se besoek moet nog bepaal word, maar hier volg 30 waarnemings wat ek tydens die besoek gemaak het:
Daar is groeiende woede in die VSA regering oor Suid-Afrika se buitelandse beleid. Dit gaan Suid-Afrika duur te staan kom en tienduisende mense gaan met hulle werk betaal vir die regering se roekelose beleidsrigtings.
Dit is die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, se reaksie ná gesprekke gister met senior lede van die buitelandse sakekomitee in die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat in die VSA. Dit volg ook na gesprekke vroeër die week met senior lede van die Trump-administrasie in die Withuis.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê die ANC-regering het oor die jare heen die wêreld se grootste ekonomie vervreem – iets wat ʼn enorme invloed op Suid-Afrika kan hê.
“Dit blyk egter dat die Suid-Afrikaanse regering nie die erns van die situasie besef nie. Hulle soek sondebokke en glo dat die huidige situasie net ʼn diplomatieke misverstand is. In werklikheid is dit ʼn diplomatieke krisis, maar die ANC hou vol dat hulle nie geboelie sal word nie.
“Die vlakke van frustrasie in Washington is só hoog dat ʼn wetsontwerp oorweeg word om die bilaterale verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika te hersien,” sê Buys.
Dié konsepwetsontwerp is reeds in 2024 deur die Huis van Verteenwoordigers goedgekeur, maar nie deur die Senaat opgeneem nie. Lede van die buitelandse sakekomitee oorweeg tans om die wet, gegewe die snelveranderende verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA, opnuut aan die Huis van Verteenwoordigers voor te lê.
Aangesien Republikeine nou ook die Senaat beheer sal die wet ʼn beter kans staan om aanvaar te word. Die klimaat vir nuwe wetgewing oor die VSA se verhouding met Suid-Afrika is selfs nou beter gegewe die kritiese houding wat die Withuis en lede van die Trump-administrasie jeens Suid-Afrika ingeneem het.
Hierdie wetsontwerp sit Suid-Afrika se historiese bande met die terreurgroep Hamas, en lande soos China, Iran en Rusland in detail uiteen en argumenteer dat Suid-Afrika sy beleid van neutraliteit prysgegee het.
Verder gaan die wetsontwerp ook in op Suid-Afrika se gebrekkige binnelandse beleid, die regering se onvermoë om die land te bestuur en sy laksheid teen korrupsie.
ʼn Omvattende hersiening van die bilaterale verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika word daarin voorgestel.
Indien dié wetsontwerp aanvaar word, sal dit uitsluitlik die regering, en spesifiek die ANC, se skuld wees. Hierdie situasie het oor baie jare opgebou, en die onlangse aanvaarding van die Onteieningswet was bloot die sneller.
Hierdie wetsontwerp kan rampspoedige gevolge inhou vir Suid-Afrika se deelname aan die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) – ʼn wet wat tariefverligting aan Afrikalande bied.
Agoa en handel met die VSA skep tans werk vir sowat 500 000 Suid-Afrikaners.
Die Solidariteit Beweging het voorgestel dat, in plaas daarvan om gewone Suid-Afrikaners te straf, daar eerder gefokus word op sanksies teen korrupte individue en druk op ANC-leiers.
“Die Suid-Afrikaanse regering skitter egter in sy afwesigheid in die VSA. Dit blyk dat sy diplomatieke vermoëns ineengestort het.
Die Solidariteit Beweging kan nie en wil nie namens die regering optree nie, maar ons glo dat ons versoek vir verskerpte politieke druk om beleidsverandering te weeg te bring, ten behoewe van alle Suid-Afrikaners is,” sê Buys.
Verder het die Solidariteit Beweging lede van die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers versoek om by die Amerikaanse president aan te beveel dat Suid-Afrika ʼn lid van Agoa moet bly.
Daar is egter ook ʼn versoek om die diplomatieke druk op Suid-Afrika te behou om ʼn beleidsverandering te bewerkstellig.
Sien die wetsontwerp hier.
Bron: Solidariteit
Solidariteit gaan tydens sy besoek aan die VSA vra dat druk op die regering volgehou word tot die regering aandui wanneer raswetgewing uitgefaseer gaan word. Lees meer oor Solidariteit se rasverlsag hieronder.
Solidariteit gaan tydens sy komende besoek aan die VSA vra dat druk op die regering volgehou word tot die regering aandui wanneer raswetgewing uitgefaseer gaan word.
Dit is volgens ‘n verslag oor Suid-Afrika se rasbedeling wat aan die Amerikaanse regering oorhandig gaan word. Solidariteit beplan ook om die G20-lande van Suid-Afrika se rasbeleid bewus te maak.
‘n Opvolgverslag oor die koste van rasbeleide vir die ekonomie en die invloed daarop op werkloosheid gaan later vanjaar gepubliseer word.
Solidariteit voer in die verslag aan dat rasgebaseerde beleide volgens internasionale norme en ooreenkomste, insluitend dié van die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) en die Konvensie oor die Uitwissing van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD), van ‘n tydelike aard moet wees.
“Die werklikheid in Suid-Afrika is egter dat hierdie beleide permanent geraak het, sonder enige duidelike einddatum of meetbare doelwitte om ongelykheid regtig aan te spreek,” het Connie Mulder hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) gesê.
Die verslag wys hoe Suid-Afrika na 30 jaar een van die mees rasgereguleerde lande ter wêreld geword het met nagenoeg 140 rassewette,
Mulder, sê Suid-Afrika is weens sy G20-voorsitterskap én politieke omwentelinge in die VSA meteens in die kollig en die wêreld is ontnugter oor Suid-Afrika. Hy sê ook dat die VSA en ander G20-lande druk op Suid-Afrika moet plaas om van rasbeleide ontslae te raak om Suid-Afrika meer beleggersvriendelik te maak.
“Hierdie rasbeleide, wat veronderstel was om ongelykhede van die verlede reg te stel, het beslis nie daarin geslaag om werkloosheid of armoede te verminder nie. Pleks daarvan het ʼn nuwe elite van tenderpreneurs en kaderontplooiing die lig gesien,” sê Mulder.
• Eskom: Ingenieurs is vervang op grond van ras, wat bygedra het tot die energiekrisis.
• COVID-19-hulp: Fondse is slegs aan besighede gegee met ‘n meerderheid swart eienaarskap.
• Sportkwotas: Spanne verloor wedstryde weens hul sogenaamde “onverteenwoordigende” samestelling. Daar is selfs rasskeidsregters.
• Waterlisensies: Nuwe lisensies vereis nou 75% swart eienaarskap.
• Internasionale belegging: Starlink kon nie in Suid-Afrika sake doen sonder om 30% van sy aandele aan ‘n swart aandeelhouer af te staan nie.
Ná pres. Donald Trump se uitvoerende bevel dat die VSA Afrikaners as vlugtelinge sal verwelkom, het die Suid-Afrikaanse Sakekamer in die VSA (Saccusa) binne een naweek navrae van 20 000 Afrikaners gekry oor dié aanbod.
Die Solidariteit Beweging wil egter ’n beroep doen op diegene wat dit sterk oorweeg om die aanbod te aanvaar, om eers al die feite te oorweeg voor daar oorhaastig besluite geneem word.
Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, sê dat die aanbod van vlugtelingstatus nugter benader moet word. Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, raai Afrikaners ten sterkste af om vlugtelingstatus te probeer verkry, “selfs al voel jy bekommerd oor die toekoms”.
Vlugtelingstatus beteken nie outomatiese burgerskap, verblyfreg en beter geleenthede nie. Hiér is wat jy oor vlugtelingstatus in die VSA moet weet:
Afrikaners kan nie vir vlugtelingstatus in Amerika aansoek doen voordat die Amerikaanse regering nie regulasies ontwikkel het nie. Kleynhans verduidelik:
“Vlugtelingstatus word internasionaal aan die hand van verskeie handveste gedefinieer, maar lande bepaal grootliks hul eie beleid hieroor. Die uitvoerende bevel wat deur pres. Trump onderteken is, verwys na ’n plan wat nog opgestel moet word waarvolgens vlugtelingstatus gereguleer sal word. Niemand kan vir vlugtelingstatus aansoek doen voordat hierdie plan nie bekend gemaak en goedgekeur is nie.”
Die proses om vir vlugtelingstatus aansoek te doen, kan dus nog lank neem en sal stelselmatig plaasvind. Dit is voortydig en naïef om te glo dat duisende Afrikaners net uit Suid-Afrika kan stroom en as vlugtelinge in Amerika kan aanmeld.
Indien jy as vlugteling uit vrye wil na jou tuisland terugkeer, verloor jy onmiddellik jou vlugtelingstatus en jou reg om langer in Amerika te woon. Dit beteken jy sal nie vinnig “huis toe” kan vlieg vir ’n begrafnis, troue of krisis met geliefdes tuis nie.
Om jou tuisland en geliefdes wat hier agterbly permanent te groet, is ’n gewigtige en emosionele besluit wat nie oorhaastig geneem moet word nie.
Kleynhans waarsku dat vlugtelingstatus nie verwar moet word met verblyfreg of selfs burgerskap nie. Vlugtelinge word onder baie streng regulasies beheer en jy as individu het baie min seggenskap. Vlugtelinge se voorregte is ook baie beperk teenoor dié van ander immigrante.
Dit is belangrik om te onthou dat alle vlugtelinge immigrante is, maar nie alle immigrante is vlugtelinge nie. Owerhede sal byvoorbeeld alle reëlings rakende behuising, werk, basiese behoeftes, beweegruimte, huwelike en kinders onder streng toesig beheer.
Om aan te sluit by die vorige punt, jy as vlugteling het nie vrye teuels om jou eie keuses oor jou leefwyse in die VSA te maak nie. Jy word in behuising spesifiek vir vlugtelinge geplaas waar jy geen beheer oor die verblyfomstandighede het nie. Verder kan jy nie enige beroep van jou keuse volg nie – die vlugtelingplan bepaal watter werk jy moet doen.
Afrikaners moet beslis nie verwag om ’n middelklassalaris te verdien nie. Die hoë lewenskoste in Amerika moet in gedagte gehou word en jou kwalifikasies en ondervinding sal nie noodwendig in ag geneem word wanneer daar oor jou beroep besluit word nie. Vlugtelinge verrig dikwels lae-inkomste werk teen die minimum loon.
Wanneer die VSA-regering hul beleid verander of besluit dat die situasie in Suid-Afrika verbeter het, kan die vlugtelinge enige tyd terug na Suid-Afrika gedeporteer word.
Jou verblyf in die VSA is dus nie gewaarborg nie, wat dit moeilik maak om met stabiliteit en sekerheid te leef. Dit is nie onmoontlik vir Afrikaners om as vlugtelinge te “begin en hulself op te werk” tot Amerikaanse burgers nie, maar die moontlikheid hang af van baie veranderlikes wat nog onseker is.
Vlugtelingstatus beteken nie dieselfde as emigrasie nie. Jou meubels en aardse besittings sal ongelukkig nie saam met jou kan reis nie. Jy kan in Amerika aanmeld met slegs die nodigste.
Dit sal vir die middelklaspersoon in Suid-Afrika ’n geweldige ekonomiese verlies wees.
Kleynhans vestig die aandag daarop dat vlugtelingstatus vir mense bedoel is wat werklik swaarkry, alles verloor het, deur erge trauma (soos geweldsmisdade) gegaan het en nog talle ander gevalle. Vir hierdie mense is dit ’n werkbare opsie, en in hierdie gevalle moet die individu se keuse gerespekteer word.
Vlugtelinge mag nie sonder toestemming oor die grense van die gasheerland reis nie. Weens die streng regulasies is jou beweging ook beperk.
Bailey waarsku ook: “As ’n mens boonop een keer ’n vlugteling was of om vlugtelingstatus probeer aansoek doen het, sal jy internasionaal ook moeiliker ’n visum kry omdat jy as ʼn risikogeval beskou word wat moontlik ’n onwettige immigrant kan word.”
Emigrasie en om vir vlugtelingstatus aansoek te doen, is ’n persoonlike besluit en behoort met empatie en ondersteuning benader te word.
Die Solidariteit Beweging se mening is dat dit nie vir almal ’n opsie is om te vlug nie en dat die bogenoemde aspekte deeglik oorweeg moet word.
“Die belangrikste is om te besef dat die Trump-administrasie die eerste Amerikaanse regering is wat direk op die hoogste vlak weer na Afrikaners verwys en dus Afrikaners as ’n wesenlike rolspeler, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in geopolitiek beskou. Dit opsigself is ’n reusedeurbraak. Afrikaners staan nou sentraal in die globale magstryd. Dit hou baie geleenthede in, maar selfs groter risiko’s,” sê Kleynhans.
Die Solidariteit Beweging verwelkom pres. Trump se erkenning van die Afrikaner. Dié wat egter in die land moet of wil agterbly, benodig erkenning en steun om vir onsself ’n toekoms in die land te bou waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan leef.
Om te vlug is nie noodwendig die antwoord op die uitdagings wat ons in Suid-Afrika beleef nie. In baie opsigte is dit meer voordelig vir Afrikaners om in die land te bly en te help bou aan ’n beter toekoms. Indien jy regtig graag wil emigreer, moenie vlugtelingstatus as ’n “maklike uitweg” sien nie. Volg eerder die regte kanale vir emigrasie en maak seker van die vereistes en voorwaardes van verblyf in jou nuwe land. Om met Kleynhans se woorde af te sluit:
“Afrikaners se toekoms is in Suid-Afrika, maar altyd met ’n wete dat daar voortdurend geleenthede vir ons mense sal oopgaan om oorsee te gaan woon en werk – soms tydelik, soms permanent. Dit moet ons met groot sensitiwiteit en respek bejeën.”
Ernst Roets
Hierdie artikel is op Maroela Media gepubliseer.
Meer as drie dekades het verloop sedert politieke oorgang in Suid-Afrika in 1994. Die wêreld het dit gevier toe die ANC, onder leiding van Nelson Mandela, die bewind oorgeneem het in wat algemeen beskou is as die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika.
Die viering is in 1995 herhaal toe Suid-Afrika die Rugbywêreldbeker gewen het – wat geneem is as ʼn teken dat die Suid-Afrikaanse politieke projek werk. Die viering is ook in 1996 herhaal toe Suid-Afrika dít wat as die mees liberale, mees moderne en mees demokratiese grondwet in die wêreld beskryf is, aangeneem het.
Die BBC het ʼn dokumentêr getiteld Miracle Rising vervaardig waarin bekendes soos Oprah Winfrey, Bono (van die rock-groep U2) en Charlize Theron die situasie in Suid-Afrika ontleed en verduidelik het tot watter mate die politieke oorgang die gevolg van ʼn goddelike ingryping moes wees. Suid-Afrika het ook die ná-kindertydse suksesverhaal van die Verenigde Nasies geword – ʼn voorbeeld dat die toepassing van moderne globalistiese ideologieë op diverse samelewings tot sukses lei.
Natuurlik was daar, benewens die feit dat die oorgang nie tot die burgeroorlog gelei het wat deur talle voorspel is nie, regtig geen tasbare aanduiding dat die stelsel sou werk nie. Die destydse viering was grootliks daaraan te danke dat mense werklik gehou het van die ANC en Nelson Mandela wat die status van ʼn heilige verkry het – meestal as gevolg van sy passievolle pleidooi vir versoening ondanks sy tronkstraf, en danksy die feit dat die geskrewe teks van die Suid-Afrikaanse Grondwet ʼn manifestasie van die liberale demokrasie was.
Op daardie tydstip was dit bykans onmoontlik om enigiets hiervan teë te staan. Die narratief was net té sterk. En ʼn poging om ʼn teenargument te bied of om te waarsku teen die vooruitsigte van ʼn sosialistiese ANC-geleide regering is met aggressiewe beskuldigings van rassisme en anti-demokratiese sentiment begroet.
Mense het blykbaar vergeet dat die meeste Afrikaners ook ʼn einde wou maak aan die apartheidstelsel wat gevestig was op die idee van verskillende tuislande vir verskillende volke, maar wat op die ou end ʼn onverdedigbare stelsel van gedwonge skeiding geword het, kompleet met banke en strande wat volgens ras toegewys is.
Die vraag was nie of die stelsel moes eindig nie, maar hoe dit beëindig behoort te word, en nog belangriker waarmee dit vervang moes word. Maar, om aan te voer dat ʼn stelsel wat in ʼn land so groot en so divers soos Suid-Afrika eksklusief op Westerse individualistiese menseregte gebou is, nie ʼn volhoubare alternatief sou wees nie aangesien dit nie na behore voorsiening sou maak vir die aspirasies van die diversiteit van kulturele gemeenskappe nie, is met fel skeptisisme begroet. Om so te argumenteer is as ʼn aanval op die demokrasie geïnterpreteer.
Dit was ʼn rampspoedige tyd vir die Afrikaners. Alles wat as “Afrikaner” geëtiketteer kon word, is fundamenteel as rassisties en agterlik bestempel. Ons kon nie eers die woord “Afrikaner” gebruik om ons gemeenskap te beskryf nie. Nie vanweë een of ander wet nie, maar bloot omdat dit algemeen as onvanpas beskou is om ʼn Afrikaner te wees. Voorts het feitlik elke Afrikaner-instelling in duie gestort – insluitend die politieke partye en drukgroepe. Dit is deels toe te skryf aan die feit dat talle van hierdie instellings op een of ander manier afhanklik was van, of met die staat verbind was.
Tog het dinge nie uitgedraai soos wat Oprah Winfrey, Bono en Charlize Theron voorspel het nie. Die destydse politieke golf was koorsagtig ten gunste van die nuwe Suid-Afrikaanse regering en die regerende ANC – ʼn beweging wat sy eie ideologie met trots as ʼn mengsel van ras-nasionalisme en sosialisme beskryf het. En so, in ʼn tragies ironiese draai, het ʼn self-toegedigte nasionaal-sosialistiese beweging ná die val van die Berlynse Muur, die gevierde gesig van liberale demokrasie geword.
Op daardie tydstip het die jong Flip Buys, wat die leier van die hoofsaaklik Afrikaanse Mynwerkersunie (MWU) van Suid-Afrika geword het, gemeen dat wanneer politiek beoordeel word, dit belangriker is om die getye as die golwe in ag te neem. Al was die golwe oorweldigend heuglik, was die gety ook duidelik – geen sosialistiese, revolusionêre beweging kon nog ooit verantwoordelik regeer nie.
Toe die ANC aan bewind gekom het, het hulle seker gemaak om dit te stel dat hulle nie as ʼn politieke party of as ʼn regering beskou moes word nie, maar as ʼn bevrydingsbeweging-aan-bewind, wat steeds tot revolusie verbind was. Dit moes ʼn ooglopende rooi lig gewees het. Tog was die vreugdevolle stemming net te oorweldigend om oor sulke ongemaklikhede bekommerd te wees.
En so het die Afrikaners begin beplan.
Die prys om ons identiteit, kultuur en tradisie te laat vaar, was net té hoog, al is dit wat van ons verwag was. Die nuwe Suid-Afrikaanse projek kan in die woorde van Samora Machel beskryf word: “ … for the nation to prosper, the tribe must die”. Met ander woorde, om die nuwe Suid-Afrikaanse identiteit te laat slaag, moet die kultuurgemeenskappe wat Suid-Afrikaanse burgers as lede het ontbind. Dit is omdat die ANC en sy rasieleiers kultuur en gemeenskaplike identiteit beskou het as “agterlik” en as “stamdenke” wat tot die verlede behoort.
Dit was in hierdie tyd wat die Afrikaners besluit het om ʼn beweging te bou. Gegrond op dit wat ons uit historiese ervaring kon leer, was die mees waarskynlike toekomsvooruitsig dat Suid-Afrika nie die suksesverhaal sou wees wat van die dakke af uitgebasuin is nie.
Ons het die uiters belangrike les oor die gevare van statisme geleer – die Afrikaners het ʼn groot deel van die tweede helfte van die 20ste eeu daaraan bestee om ʼn sterk staat te bou wat eerstens moreel onverdedigbaar geword het en tweedens amper oornag ingehaal is, en onmiddellik teen ons gedraai is. Weens die feit dat ons ʼn numeriese minderheid is, het die vooruitsig om sake deur verkiesings te verander onrealisties geword.</p>
En so het ons omstandighede daartoe gelei dat ons ʼn fundamentele waarheid oor die menslike toestand herontdek het. Dit is die belangrikste feit waarop nie net die Afrikanerdom nie, maar die Weste gebou is. Eerstens en primêr is dit die feit dat mense van nature gemeenskapswesens is. Ons wil instinktief ons gemeenskappe en die dinge wat ons geërf het bewaar, al is moderne globalistiese ideologieë hewig daarteen gekant. Tweedens is dit ʼn feit dat die enigste weg na voorspoed en sukses deur gemeenskapsinstellings loop.
Al bly verantwoordelike burgerskap vir ons belangrik, het ons besef dat die staat net probleme en geen oplossings nie sou oplewer. As ons as ʼn gemeenskap wou oorleef, moes ons ons eie oplossings vind. Ons het weer geïnspireer geraak deur die woorde van die Afrikaner-godsdiensleier Vader Kestell wat gedurende die 1930’s gesê het: “ʼn Volk red homself” en uiteindelik het ons ʼn aangepaste weergawe daarvan aangeneem as slagspreuk van ons tyd: “Ons sal self”.
En so is die Afrikanerprojek van die 21ste eeu daarop gemik om ʼn toekoms vir ons gemeenskappe te verseker deur die bou en versterking van ʼn netwerk van gemeenskapsinstellings. Dit het begin met die herbenaming en verandering van die beeld van die Mynwerkersunie tot Solidariteit, die herskryf van sy grondwet en Buys se aankondiging dat hierdie instelling die basis van ʼn nuwe beweging van instellings moet vorm.
Al het feitlik al die Afrikanerinstellings teen die einde van die 20ste eeu in duie gestort, het die Solidariteit Beweging, soos ons dit vandag ken, in ʼn kwessie van ʼn paar dekades tot ʼn netwerk van meer as 50 instellings gegroei wat aktief in verskeie sfere van die Afrikanergemeenskapslewe werk om ʼn toekoms vir ons gemeenskap te verseker.
Hierdie instellings sluit in:
Ons glo dat die enigste volhoubare toekoms een is waarin gemeenskappe deur hul eie instellings verantwoordelikheid vir hulself aanvaar en waarin wedersydse erkenning en respek en vreedsame naasbestaan aangemoedig word. Gevolglik is ons benadering gebaseer op dit wat ons binding en brugbou kan noem. Binding impliseer om aktief binne ons eie gemeenskap te werk en om trots te wees op wie ons is en waarvoor ons staan. Brugbou beteken om uit te reik na ander gemeenskappe om saam te werk in die geval van sake waaroor ons saamstem.
Intussen lyk dit of die politieke bedeling in Suid-Afrika na alle waarskynlikheid gaan misluk. Suid-Afrika is volgens amper elke denkbare maatstaf op pad na mislukking. Tog is dit eenvoudig te vergesog om oplossings van die regering te verwag. Ons sal met die regering saamwerk waar ons kan, maar ons is dankbaar vir die feit dat ons weer ontdek het wat dit van ʼn gemeenskap verg om te floreer.
Om hierdie redes vind die woorde van Winston Churchill, dat die toekoms reeds gebeur het al is dit nie eweredig versprei nie, diep aanklank by ons. Ons glo dat wat die krisis betref die toekoms van die Westerse wêreld op sekere belangrike maniere reeds in Suid-Afrika gebeur het. Maar meer as dit, ons glo ook dat wat die oplossings betref, die toekoms op sekere belangrike maniere reeds aan die gebeur is.
Aan die einde van ’n jaar kan ʼn mens nie anders nie as om terug te kyk op die groot veranderinge en mylpale wat Suid-Afrika en die wêreld in 2024 gesien het. Dit was ’n jaar van politieke onstabiliteit en nuwe leierskap oral ter wêreld. In Suid-Afrika het ons vir die eerste keer in 30 jaar ’n nuwe regering – maar ons beleef steeds vele uitdagings. Ons veg vir die behoud vir Afrikaans in ons skole en ons media. In die wêreld heers daar oorloë en word daar gestoei met dringende kwessies soos onwettige immigrasie.
In ’n neutedop is daar ’n paar hoofopskrifte van 2024 wat die moeite werd is om te onthou. In ’n geskiedenishandboek sal 2024 moontlik die inleiding wees om ’n nuwe globale era te verstaan.
Die vyfjaarlikse Suid-Afrikaanse verkiesing het vanjaar internasionale hoofopskrifte gehaal toe die ANC vir die eerste keer in 30 jaar sy volstrekte meerderheid in die parlement verloor het en net 40,18% van Suid-Afrikaners se stemme op hom kon verenig.
Vanjaar se verkiesing was die onsekerste nóg in byna drie dekades. Daar is verskeie redes hiervoor, maar dit was hoofsaaklik omdat Suid-Afrikaners hul vertroue in die regering verloor het weens jarelange korrupsie en agteruitbestuur deur die regerende party.
Baie Suid-Afrikaners is met nuwe hoop vir die toekoms van die land vervul ná die aankondiging dat die DA, Vryheidsfront Plus, PA en ander partye saam met die ANC in die RNE sal dien. Alhoewel die RNE wankelrig is en nog vele vuurtoetse moet deurstaan, breek dit tot ’n groot mate die ANC se destruktiewe mag. Die sukses van die RNE sal miskien die toekoms van Suid-Afrikaanse politiek bepaal. Die RNE blyk steeds onstabiel te wees en daar word steeds intern oor vele kwessies gestry, aangesien die ANC steeds probeer om alleen gesag uit te oefen.
Toe beurtkrag op 26 Maart soos mis voor die son verdwyn, het baie gedink dit is ʼn laaste desperate poging om steun te werf voor die verkiesing. Nou, nege maande later, wonder Suid-Afrikaners of beurtkrag iets van die verlede is. Die eerlike en realistiese antwoord is dat Suid-Afrika se kragnetwerk nog nie in ’n volhoubare en bekostigbare fase is nie. Groot debatte rakende die privatisering van energiehulpbronne duur steeds voort.
Nog voor die aanvang van die verkiesing het president Cyril Ramaphosa twee kontroversiële wette onderteken wat heel moontlik verband hou met die ANC se verlies aan stemme tydens die verkiesing: die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela).
Die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)
Die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) behels kortliks dat nasionale gesondheidsorg deur die regering alleen befonds word en dat dit onwettig sal wees om finansiering vir gesondheid op enige ander wyse te bekom. Lees meer besonderhede oor die wet hier.
Kort ná die ondertekening van NGV-wet het Solidariteit aansoek gedoen om die wet in die hof uit te daag. Solidariteit het intussen ’n deurbraak gemaak in die hof deur ʼn “pilaar van die NGV te laat kantel” toe die Noord-Gautengse Hooggeregshof artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheid van 2003 as ongrondwetlik verklaar het. Volgens Solidariteit was die doel van hierdie artikels om die weg vir die NGV-wet te baan.
Die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela)
Ná volgehoue druk van die gemeenskap het president Cyril Ramaphosa ’n driemaande-tydperk gegee vir gesprekke rakende die klousules in die wet wat op taal en toelating betrekking het. Die Solidariteit Beweging was in onderhandelingsgesprekke met die regering gewikkel, en op 5 November het duisende mense by die Voortrekkermonument byeengekom om hul teenkanting teen die Bela-wet te wys.
Op 28 November het die Solidariteit Beweging aangekondig dat die onderhandelinge oor die Bela-wet vrugte afgewerp het. Die gewraakte artikels oor taal en toelating sal nie op 13 Desember in werking gestel word nie. Lees meer daaroor hier.
Die laaste dag waarop koerantlesers die kraakvars Beeld– en Rapport-koerantpapier onder hul vingers kon voel, was op 20 Desember 2024. Dit word deur baie as ’n hartseer dag vir Afrikaanse joernalistiek beskou. Vroeër vanjaar het taaldebatte losgebars oor Media24 se besluit om die Afrikaanse drukname Rapport en Beeld heeltemal te digitaliseer. Danksy ondersteuning van die gemeenskap en druk van Solidariteit kon die beplande aantal personeellede wat afgelê sou word, minstens verminder word.
’n Donker wolk het in die laaste helfte van 2024 oor die Tshwane munisipaliteit gehang ná die verraad van Action SA teenoor die DA in hul koalisieregering van die Tshwane-munisipaliteit. Pretoria val in dié munisipaliteit. Burgermeester Cilliers Brink is brutaal uit sy amp verwyder met ’n mosie van wantroue. ActionSA het met die EFF-party saamgewerk om van Brink ontslae te raak. Dr. Nasiphi Moya van ActionSA beklee sedert Oktober die amp van burgemeester van hierdie metropolitaanse munisipaliteit. .
Die redes wat vir die mosie van wantroue teen Brink aangevoer is, was swak dienslewering, alhoewel 64% van inwoners aangedui het dat hulle tevrede was met die gehalte van dienslewering in die munisipaliteit. Die DA voer aan dat ActionSA weens hul eie politieke agenda nie in die skadu van die sukses van die DA wou staan nie.
Ten midde van al die politieke gebeure met die Bela-wet en die bedreiging vir Afrikaans in skole en universiteite, kondig die ontwikkelingsmaatskappy Kanton die nuwe kampusontwikkelingsprojek van Akademia in Pretoria aan. Dié kampusprojek is die grootste ontwikkelingsprojek in die geskiedenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe en verteenwoordig ’n groot historiese mylpaal om die volhoubaarheid van hoër onderwys in Afrikaans te verseker. Die koste van die projek sal nagenoeg R3 miljard beloop, en die eerste fase sal in 2028 voltooi word.
Die 2024-verkiesing in die VSA is een wat in die toekoms onthou sal word. Vir die eerste keer sedert 1884 het ’n voormalige president wat ná sy eerste termyn die daaropvolgende verkiesing verloor het, ’n historiese oorwinning behaal. Daar was min verwagting dat Donald Trump só ver sou wen. Hy het in al vyftig deelstate meer stemme as in 2020 verwerf en in al sewe swaaistate is reuseverskuiwings bewerkstellig. Daar is ook ’n verskuiwing gesien onder minderheidsgroepe, onder wie steun vir Trump van 9% tot 21% toegeneem het.
Konflik in die Midde-Ooste is reeds ’n bekende fenomeen. Ou etniese konflik van 100 jaar gelede duur vandag steeds voort. Wat is dan nuus vir 2024?
Met die huidige politieke leierskap is die hoop op ’n vreedsame oplossing in die Midde-Ooste baie beperk.
Reg oor die wêreld het daar vanjaar nasionale verkiesings plaasgevind wat globale gevolge kan oplewer. Drie belangrike verkiesings het vanjaar in die Verenigde Koninkryk, Iran en Frankryk plaasgevind.
Verkiesing in die Verenigde Koninkryk
Ná 14 jaar het kiesers hul rug op die Konserwatiewe Party in die Verenigde Koninkryk gekeer. Die Arbeidersparty het sy setels tot 412 verdubbel en die verkiesing gemaklik gewen. Dit beteken egter nie dat mense na links gestem het nie. Ongeveer 3 miljoen minder kiesers as met die vorige verkiesing het gaan stem. Selfs die Arbeidersparty het ’n halfmiljoen stemme verloor. Die Arbeidersparty het ook in Skotland gewen en het vrye teuels wanneer dit by wetgewing kom. Hierdie verkiesing bring wesenlike politieke verandering wat globale gevolge kan hê.
Verkiesing in Iran
Vanjaar het daar ook ’n belangrike verkiesing in Iran plaasgevind. Soos voorheen genoem, is Iran ’n bron van onstabiliteit in die Midde-Ooste. Tydens hierdie verkiesing was daar ’n sterk opkoms van gematigde kiesers wat gestem het vir ’n regering ten gunste van handel en onderhandeling met die Weste en dat vroue kan besluit wat hulle wil aantrek. Hierdie verkiesingsuitslag skep hoop vir die situasie in die Midde-Ooste. Hopelik kan Iran uit sy isolasie opstaan.
Verkiesing in Frankryk
Frankryk se regse National Rally-party het verras met die sukses wat in vanjaar se verkiesing behaal is. Die links-liberale Renaissance-party het egter steeds gewen deur samespanning om die meeste setels in die parlement te kry. Die wêreld kan in die toekoms politieke onstabiliteit in Frankryk verwag. Die linkse blok is die grootste blok en gaan moontlik op beleidsveranderinge aandring wat onder andere kontroversiële kwessies soos immigrasie, aftree-ouderdom en maatskaplike besteding sal insluit.
In Augustus vanjaar was dit die eerste keer sedert 1941 wat Rusland binnegeval is, maar hierdie keer was dit ’n verrassingsaanval deur Oekraïne. Nie eens Oekraïne se bondgenote was bewus van die beplande aanval nie en Rusland was nie gereed om homself te verdedig nie. Swak grensbeheer en onervare soldate wat maklik oorrompel is, het gelei tot Oekraïne se suksesvolle inval.
Die redes vir die aanval is onseker, maar dit kon moontlik ’n strategiese poging gewees het om die Russiese aanslag in Oekraïne te verswak of om die besetting in toekomstige onderhandelinge te gebruik. Nietemin, hierdie aanval was die begin van ’n gevaarlike nuwe fase van die oorlog.
Weens die ontwrigting kan die aanval tot meer binnelandse steun vir president Poetin lei. Verder het die aanval belangrike onderhandelinge gestuit wat Oekraïne se steun beïnvloed. Hierdie aanval het die oorlog verdiep en gevaarlike nuwe terreine is betree wat die moontlikheid van eskalasie verhoog, wat vele politieke implikasies vir Europa inhou.
Onwettige immigrasie in die VSA en Europa is ’n reusekrisis wat dringend aangepak moet word. Dié onderwerp is onder andere vir ’n dag lank bespreek tydens die tweemaandelikse vergadering van die Europese Raad en was ook ’n kwelpunt in die debatte tydens die Amerikaanse verkiesing.
Daar is ongeveer 87 miljoen immigrante (20% van die bevolking) in Europese lidlande, en die stelsel kan nie meer die aantal vlugtelinge wat die land binnestroom, hanteer nie. Tydens Biden se termyn as president van die VSA het bykans 10 miljoen persone onwettig oor die Amerikaanse grens gestap. Verder is daar duisende persone wat met visums na die Weste reis en bloot net nooit weer terugkeer na hul tuislande nie.
Onwettige immigrasie skep reusagtige maatskaplike en kulturele uitdagings waarvoor Europa en Amerika dringend oplossings sal moet vind.
Met nuwe leierskap reg oor die wêreld gaan ons 2025 binne met moontlike globale en politieke veranderinge. Suid-Afrikaners kan hoop dat die RNE in 2025 sal stabiliseer en dat ekonomiese groei in dié jaar sal verbeter. Dit sal tot die wêreld se voordeel wees om vreedsame oplossings vir die oorlog in Oekraïne en die Midde-Ooste te vind, want indien skikkings nie bereik word nie, stuur die konflik die wêreld gevaarlike nuwe terreine binne. Dit lyk asof konflikte oor elektrisiteitsvoorsiening
en gewraakte wette in Suid-Afrika, en onwettige immigrasie in die Weste, in 2025 en nog lank daarna geskilpunte sal bly.
Ernst van Zyl | hoof van openbare betrekkinge by AfriForum
Suid-Afrika het ’n insiggewende gevallestudie geword om veral twee redes: Dit is eerstens ’n puik voorbeeld van langdurige, volgehoue regeringsmislukkings en ‑vermoëverswakking. Tweedens is dit ’n voorbeeld van hoe orde en standvastigheid uit dié chaos kan verrys deur gemeenskappe wat hulself organiseer. In sy artikel The disintegration of the South African order skryf prof. Koos Malan dat die toekoms van Suid-Afrika ’n “woestyn van wanorde” is waarin daar “oases van orde” is.
Bykans elke regeringsdiens (buiten belastinginvordering) is in ’n staat van verval – en dis so vir dekades al. Voorbeelde sluit in voortslepende kragonderbrekings te wyte aan ’n ondoeltreffende, mislukkende regeringsmonopolie; die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat oor drie jaar heen miljoene oproepe om hulp onbeantwoord gelaat het; wegholkorrupsie; en ’n immer groeiende werkloosheidskoers van meer as 35%. Boonop is meer as 50% van die bevolking op een of ander vorm van maatskaplike toelaag van die regering afhanklik, terwyl infrastruktuur in elke sektor aan die verval is, van water en elektrisiteit tot riool en paaie. In my 2023-artikel vir The American Conservative bespreek ek hierdie kwessies in meer besonderhede.
Afrikaners is een van die kulturele gemeenskappe wat aan die voorpunt staan wat die skep van “oases van orde” in die konteks van die teenontwikkeling behels. Deur gemeenskapsgebaseerde organisasies soos AfriForum is ons besig om baanbrekerswerk met ’n nuwe model te doen, wat ’n enorme skuif vereis in die wyse waarop ons oor die bou van oplossings dink. AfriForum is besig om ’n antwoord te ontwikkel op die vraag: Hoe behoort gemeenskappe te reageer ondanks voortgesette verswakking van die regering se vermoë, ’n groeiende lys diskriminerende, rasgebaseerde beleide en wette wat jou teiken, en ’n politieke omgewing waarin jy die teiken is van demonisering en geweldsretoriek deur hoëprofielpolitici. Bykomend bepeins AfriForum ook die volgende vraag: Hoe bou jy ’n toekoms as een van die eerste volke wat ’n fundamentele Westerse erfenis het, maar in een van die wêreld se post-Westerse lande leef?
AfriForum se antwoord, gebou op ’n grondslag van Christelike waardes en ’n Afrikaner- kulturele identiteit, is die nastrewing van staatsbestandheid op elke vlak deur ’n ons-sal-self-filosofie te omhels wat outonomie en pragmatisme voorop stel. Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum, beskryf dié benadering soos volg: “Om ’n helder, vry toekoms vir ons kinders te verseker, moet ons gemeenskappe georganiseer word. Ons moet die afwenteling van mag verseker deur so veel moontlik verantwoordelikhede op voetsoolvlak op te neem. Ons sal die toekoms kry wat ons bou.” In 2023 het AfriForum ’n dokumentêr vrygestel waarin sy filosofie en model uiteengesit word.
AfriForum vorm deel van Solidariteit Beweging, wat uit meer as 50 instellings en organisasies bestaan en wat elkeen meewerk om te verseker dat Afrikaners ’n toekoms in Suider-Afrika het waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan wees.
AfriForum is die grootste burgerregteorganisasie in die Suidelike Halfrond en verenig meer as 315 000 lede met ’n gemeenskaplike saak. AfriForum het meer as 175 buurt- en plaaswagte gestig, noodondersteuningdienste ontwikkel en het selfs ’n privaat brandbestrydingseenheid. AfriForum se meer as 170 takke reg oor die land maak woonbuurte en riviere skoon, lê gemeenskapsgroentetuine aan en plant bome, verf straattekens en herstel slaggate. AfriForum het ook sy eie stroomdiens-, film- en dokumentêrproduksiemaatskappy, AfriForumTV, die lig laat sien, en spog boonop met sy eie kunsteteater. AfriForum bestuur ook ’n aantal intergemeenskaplike en interkulturele samewerkingsprojekte.
Dit word alles moontlik gemaak sonder enige staatsbefondsing of die welwillendheid van miljardêrs nie, maar deur duisende alledaagse mense wat maandeliks bydra. As mens in ag neem dat daar gewoonlik slegs een AfriForum-lid per huishouding is, kan die ledetal van 315 000 as 315 000 gesinne beskou word.
AfriForum en die Solidariteit Beweging het verklaar dat ons bou om te bly en bly om te bou. AfriForum beoog nie om gemeenskappe te isoleer nie, maar om eerder te help om veerkragtige, gesonde gemeenskappe te skep wat met ander gemeenskappe saamwerk op die grondslag van wedersydse erkenning en respek. In die wêreld van gemeenskapsgebaseerde, gedesentraliseerde en staatsbestande instellings het AfriForum die weg gebaan, en ons het nog net begin. Hoe meer lede AfriForum kry, hoe meer kan ons doen. Word vandag ’n lid.
Dít was die eenvoudige, maar duidelike boodskap wat ’n skare van meer as 10 000 mense vandag tydens die Bela-protesoptog aan elke party en politikus betrokke by Suid-Afrika se regering van nasionale eenheid (RNE) oorgedra het.
Die protesoptog is gelei deur die Solidariteit Beweging, Solidariteit, AfriForum, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en organisasies wat ‘n belang by Afrikaanse onderwys het in protes teen die huidige formaat van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette 32 van 2024 (die Bela-wet) se bepalings oor openbare skole se toelatings- en taalbeleide.
’n Memorandum met eise is aan die DA en VF+, as ondersteuners van die protesaksie, oorhandig waarna ’n vreedsame tog van nagenoeg 1,8 km op Reconciliationweg, vanaf die Voortrekkermonument tot by Freedom Park, aangepak is. Hier is die memorandum – wat deur meer as 40 organisasies onderteken is – aan Gayton McKenzie as verteenwoordiger van die Presidensie oorhandig.
John Steenhuisen (DA-leier) en Pieter Groenewald (VF+-leier) en die hoofde van die Solidariteit Bewegingsinstellings het die voorste linie van die prosessie gevorm.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, probeer hedendaagse kolonialiste soos Panyaza Lesufi, die premier van Gauteng, en Matome Chiloane, die LUR vir Onderwys in dié provinsie, om Afrikaanse skole soos die kolonialiste van ouds te verengels. “Hulle sal nie slaag nie. Afrikaans sal bly. Wat ons vandag hier doen is uit liefde. Dit is nie soos Lesufi en kie uit haat vir ander groepe nie. Dis uit liefde vir ons kinders. Dit is uit liefde vir ons skole. Dit is uit liefde vir ons taak, ons erfenis en die land,” verduidelik Buys.
“Bela is ons rooi lyn. Ons sê dit vir al die politieke partye in die RNE sodat hulle kan verstaan hoe sterk die gemeenskap voel. Meer as 10 000 mense het vandag gesê hulle sal nie toelaat dat hulle kinders se toekoms gevat word nie,” verduidelik dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, bestempel die protesoptog as ’n “historiese dag” en die grootste optog van Afrikaanssprekendes sedert 1994. “Mense is kwaad en dit het hulle vandag hier kom wys. Hulle is kwaad, want ons kinders word geteiken deur ’n wet wat Afrikaanse skole aanval en eintlik ons kulturele voortbestaan bedreig.”
Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, hou vol dat vandag se protesaksie ’n duidelike boodskap aan die regering oordra. Hy veroordeel ook die regering se laksheid en apatie, en benadruk dat die regering nie net oor die afgelope 30 jaar nie ’n enkele Afrikaanse skool gebou het nie, maar ook geen erns maak met moedertaalonderrig nie en openlik haat teenoor Afrikaanse skole uitspreek. “Vandag gaan dit oor meer as net onsself of ons generasie,” verduidelik hy. “Dit gaan oor generasies wat nog moet kom.”
Tydens die ondertekening van die memorandum wat aan die Departement van Onderwys oorhandig is, het Steenhuisen benadruk dat die taal- en toelatingsbeleid klousule in die wet te veel mag gee aan die staat en te veel mag van ouers en gemeenskappe wegvat. “Ons Grondwet is duidelik. Elke persoon het die reg tot onderwys in die taal of tale van hul keuse. Hierdie regte wat in ons Grondwet is, kan nie meer net met ’n pen uitgevee word nie,” meen hy. “Ons kan nie hierdie mag aan ’n provinsiale beampte in ’n kantoor oorhandig wat ver van die skool en plaaslike gemeenskap sit nie.”
Groenewald het op sy beurt uitgevaar teen die ANC se magsmisbruik met die aanvaarding van die wet in die parlement voor die nasionale verkiesing, “want hulle het geweet hulle gaan ná die verkiesing dalk nie meer die regering wees nie”. Hy het gepleit vir ’n verandering deur middel van die invloed in die RNE. “Elke tree wat julle hier gee vandag, is ’n tree van verandering.” Hy het afgesluit deur te verwys na die belang van moedertaal: “Ek is ’n Afrikaner en ek is trots daarop. Deel van my trotswees is my moedertaal. Daarom moet ons sorg dat ons trots nie vertrap word nie.”
Die PA-leier, McKenzie, deur wie se toetrede toegang tot die perseel van Freedom Park ook verseker is, het die memorandum namens die Presidensie ontvang. Hy het president Cyril Ramaphosa bedank dat hy na die stem van die Afrikaanse gemeenskap geluister het deur die implementering van die twee artikels uit te stel. Hy het egter benadruk dat die geveg voortgesit sal word. “Ons sal baklei vir Afrikaans, want Afrikaans gaan nêrens heen nie.”
Die instellings van die Solidariteit Beweging het hulle vandag weer tot die voortgesette stryd teen die implementering van artikels 4 en 5 van Bela verbind. Vandag se sigbare demonstrasie is ’n kragtige gebaar, maar slegs één wyse waarop die instellings vir moedertaalonderrig, Afrikaans, onderwysers en kinders in die bresse tree.
Volgens Buys gaan die onderhandelinge met verteenwoordigers van die RNE nou met duidelike bewyse in die hand tegemoet gegaan word – bewyse van die duisende Suid-Afrikaners wat Bela as ’n rooi lyn beskou en nie gaan terugstaan en toekyk hoe Afrikaanse onderrig vir politieke gewin van kant gemaak word nie.
Vind ook aangeheg: