G’n kultuur sonder sy bouwerk bedink

Artikel deur Flip Buys vir Rapport

Kom ons bou leefruimtes vir Afrikaans, want geboue verskaf veiligheid, skryf Flip Buys

Die grootsheid van ’n kultuur word gewoonlik aan die grootsheid van sy bouwerk gemeet.

Daarom staan die mensdom vandag nog verwonderd oor die piramides wat die antieke Egiptenare 4 600 jaar gelede gebou het. Dit word steeds as wonderwerke beskou en argeoloë bespiegel al vir jare hoe hulle dit vermag het. Waaroor daar wel eenstemmigheid is, is dat die bou van die piramides net moontlik kon wees danksy gesofistikeerde ingenieurswese, argitektuur, wiskunde, wetenskap, sterrekunde en logistiek.

Daarbenewens het bouwerk van daardie omvang gevorderde vorme van staatkundige ordening, ekonomiese ontwikkeling, bestuur, organisasie, geletterdheid en opleiding geverg.

Argeoloë; sê vandag dat die antieke Egiptenare die piramides gebou het. Maar in werklikheid het die piramides terselfdertyd die Egiptenare as hoogs ontwikkelde beskawing gebou. Daarmee word bedoel dat die eeue lange bouwerk aan die piramides en ander infrastruktuur wat ’n ontwikkelde samelewing benodig het, ook die Egiptiese kultuur gebou het.

Soos Winston Churchill gesê het: “Eers vorm ons ons geboue en daarna vorm ons geboue ons.”

Bouwerk van die omvang van die piramides vereis immers ’n gevorderde kultuur wat in staat is om groot gesamentlike projekte aan te pak, die hulpbronne daarvoor te monster, doeltreffend te beplan en te organiseer, die arbeidsmag daarvoor op te bou, en dit verg die leierskap en kundigheid om dit suksesvol uit te voer.

Dieselfde geld natuurlik vir al die gevorderde antieke beskawings wat in China, Persië Griekeland en Indië ontstaan het. Die Romeine se paaie, brûe, akwadukte, teaters en stede het ’n Romeinse lewe moontlik gemaak en hulle kultuur wyd oorgedra en versprei. Daardeur is die grondslag van die moderne Wes-Europa gelê. Geen kultuur kan sonder sy bouwerk bedink word nie omdat ’n kultuurgemeenskap in, vanuit en deur sy instellings en die geboue wat dit huisves, leef.

Dit onderlê ook ons eie geskiedenis. Pres. Paul Kruger was byvoorbeeld nie net ’n staatsbouer nie, maar ook ’n stadsbouer. Hy het ’n groot rol gespeel om Pretoria van ’n stowwerige dorpie na ’n hoofstad uit te bou. Dink maar aan die Ou Raadsaal, die Paleis van Justisie, museums, hospitale, skole en die forte rondom Pretoria. Geboue is in werklikheid die kulturele infrastruktuur van ’n volk. Dit “bou” die kultuur deurdat die Raadsaal die kern van die staatkundige Republiek was, die Paleis van Justisie die sentrum van die regsorde was, en die skole kennis en kultuur aan die volgende geslag oorgedra het.

Afrikaners het in latere jare ’n land vol geboue opgerig wat weer hulle (die Afrikaners) se kultuur gebou het. Dink aan die geboue wat vir opvoedkundige, ekonomiese, kulturele, mediese, militêre en ander doeleindes gebou is.

As ’n jong student het die Pukke se universiteitslied vir my maar outyds-hartseer geklink: “Gebore uit die nag van smaad, sien ons jou staan as wonderdaad . . .” Soos die meeste ander studente het ek die moderne kampus waar ek in die laat 1980’s studeer het as ’n gegewe aanvaar. Min het ek geweet dat as jy sélf iets verniet gekry het, dit nie sonder koste daargestel is nie, want ander mense het ’n duur prys daarvoor betaal. Later het ek besef watter wonderwerk die universiteit eintlik was, en met watter geweldige opoffering dit voor en ná die Anglo-Boereoorlog uit die grond verrys het.

Pres. Paul Kruger het in 1897 self £100 –destyds ’n reusebedrag – vir studiebeurse vir studente nagelaat. Die eerste rektor, prof. Jan Lion-Cachet, is deur die Britte in hegtenis geneem en sy seun is in die oorlog doodgeskiet. Die verhaal van die Potchefstroomse Universiteit is egter nie die uitsondering nie. Die geskiedenis van universiteite soos Stellenbosch, Unisa, UP (Tukkies), die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (Kovsies) en die RAU (nou UJ) vertel soortgelyke verhale van groot dink en klein begin. Die meeste is deur kerke en gemeenskappe tot stand gebring sonder groot staatsgeld.

Die Keniaanse denker Ali Mazrui het treffend gesê dat die gemeenskap eers die universiteit moet ophelp voordat die universiteit die gemeenskap kan ophef. Die verband tussen gemeenskap en universiteit is ook deur genl. Jan Smuts bevestig toe hy in 1910 die wens uitgespreek het dat die Universiteit van Pretoria vir die destydse Transvaal sal word wat Oxford vir Engeland was.

Afrikaans, ’n Afrikaanse lewe en die oordrag van ’n taal en kultuur is onmoontlik sonder opvoedkundige instellings wat dit kan huisves. Die vraag is hoekom skole, kolleges en universiteite so belangrik is vir taal- en kultuurgemeenskappe.

Die beste antwoord hierop is deur Albert Einstein gegee. Hy het gesê dat die wonderlike dinge wat kinders in skole en universiteite leer die versamelde werk van vele geslagte is. Dit word alles in hulle hande as erfenis gesit sodat hulle dit kan kry, daarby kan byvoeg, en dit eendag aan hulle kinders kan oorhandig.

Die doel van kulturele infrastruktuur is nie om ’n groep te isoleer of ander uit te sluit nie, maar die teenoorgestelde. Dit skep reeds die ruimte om saam met ander mense te bly, bykans soos wat ’n huis gebou word sodat ’n gesin saam met hulle bure in ’n woongebied kan bly. ’n Huis bestaan uit verskeie vertrekke, elkeen met ’n eie doel. Dieselfde geld vir ’n kultuurhuishouding – daar is vertrekke vir onderwys, opleiding, taal, maatskaplike sorg en erfenisbewaring. Dit is die rede waarom die Solidariteit Beweging oor die afgelope dekade of wat stelselmatig ’n hele kulturele ekosisteem opbou.

Indien die omstandighede geskep word sodat Afrikaners en die Afrikaanse gemeenskap volhoubaar hier kan bly, sal ons ’n blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kan maak.

Geboue is belangrik, want “plek” verskaf veiligheid, en die ruimtes gee vryheid.

Die uitdaging is om hierdie kulturele infrastruktuur sonder staatshulp te bou. Dit is die rede waarom die Solidariteit Beweging ’n paar jaar gelede ’n eiendomsmaatskappy met die naam Kanton gestig het. Die bekendste projek wat Kanton suksesvol aangepak het, is die oprigting van die Sol-Tech-kampus en -koshuise in Centurion. Kanton se doel is om ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal te sluit deur beleggings vanuit die private sektor te werf en daarmee ruimtes vir Afrikaans te bou.

Beleggers verdien ’n geldelike opbrengs en kry ook ’n kulturele dividend in die vorm van ’n universiteit, terwyl ook reeds beplan word aan die daarstelling van ’n onafhanklike skolenetwerk. Ons glo dat ’n Afrikaanse universiteit onontbeerlik is vir die voortbestaan van Afrikaans.

Tweedens bly moedertaalonderrig die beste vorm van opleiding terwyl studente ook toegerus word om hulself in Engelse werkplekke te handhaaf. Die beste bewys hiervan is die top- Afrikaanse mense wat aan enkeltalige Afrikaanse universiteite studeer het en wat nou gesogte poste in die buiteland beklee.

Akademia en Kanton stel ná jare se deurdagte werk en beplanning die Toekomsbouer-veldtog bekend met die doel om kapitaalkragtige mense en instellings die geleentheid te bied om in Akademia se beplande nuwe kampus in Pretoria-Oos te belê. Die breër publiek gaan ook later die kans kry om beleggings te maak.

Die Britse denker Roger Scruton het gesê dat ’n samelewing net kan voortbestaan as elke geslag vir die volgende geslag leef. Kanton bou vir die volgende geslag, en wil die huidige geslag die kans gee om saam te bou.

Die idee is nie om monumente vir ons voorouers te bou nie, maar lewende instellings vir die nuwe geslag. Dit is nou tyd vir skeppende vernuwing, gegrond op beproefde waardes.

Lees meer: Akademia en Kanton stel monumentale kampusontwikkeling bekend

Flip Buys is die hoof van die Solidariteit Beweging
Flip Buys is die hoof van die Solidariteit Beweging

Akademia en Kanton stel monumentale kampusontwikkeling bekend

Die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton het vandag op 1 Augustus die nuwe kampusontwikkelingprojek van Akademia in Pretoria as deel van die Toekomsbouer-veldtog bekendgestel. Dié kampusprojek is die grootste ontwikkelingsprojek in die geskiedenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe en verteenwoordig ’n groot historiese keerpunt om die volhoubaarheid van hoër onderwys in Afrikaans te verseker. Akademia maak sedert 2012 van tussentydse infrastruktuuroplossings gebruik. Die voltydse kampusmodel het in 2021 aanvang geneem en so uitgebrei dat daar tans twee kampusse, vier koshuise, twee daghuise sowel as die administratiewe hoofkantoor is wat tans oor verskeie persele in Centurion versprei is. Die nuwe omvattende residensiële kampus in die ooste van Pretoria sal aan die instelling die geleentheid bied om sy groei oor die afgelope dekade te konsolideer en ’n vaste adres vir sy toekomstige kampusstudente te bied wat ’n veerkragtige en opwindende studentelewe gaan ondersteun. “Die nuwe kampus is die verwesenliking van ’n groot droom. Dit vereis die krag van ’n belynde gemeenskap wat deur eensgesindheid en samewerking die oënskynlik onmoontlike kan verwesenlik,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia. “In die lig hiervan is die Toekomsbouer-veldtog ’n oproep aan die gemeenskap om deel te word van ’n ongelooflike geleentheid – iets soos wat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe nie in ’n geruime tyd beleef het nie. Dit bied ’n geleentheid waar hoop en ’n nalatenskap fisies opgerig gaan word.”

Projekomvang

Die ontwikkeling sal in Pretoria geleë wees, agt kilometer vanaf Solomon Mahlangu-rylaan op die Boschkop-pad in die ooste van Pretoria. Die nuwe kampus bied aan Akademia die geleentheid om ’n volledige en uitgebreide akademiese programaanbod oor al sy fakulteite beskikbaar te maak wat aan die omvattende vraag van voornemende studente sal voldoen. Dié kampus sal voorts voorsiening maak vir 5 000 voltydse voorgraadse studente en nagenoeg 1 500 nagraadse studente. Vier mans- en vier dameskoshuise sal 1 500 studente op die kampus kan huisves. “Fase een van die projek sal nagenoeg R1,8 miljard beloop en op 1 Januarie 2028 voltooi wees, terwyl die totale ontwikkelingskoste meer as R3 miljard sal wees. Die tweede fase behels die voltooiing van die akademiese kampus en koshuise waarna die sportfasiliteite, kapel en ouditorium volg,” verduidelik Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton. “Ons gaan ’n reusemonument vir Afrikaanse hoër onderwys oprig. Dit gaan kantoorblokke, lesingsale, laboratoriums, ’n ouditorium, doelgerigte navorsingslokale, ’n kafeteria, restaurante, koffiewinkels, ’n studentesentrum, biblioteek, koshuise, personeelverblyf én wêreldklas sportfasiliteite vir rugby, krieket, netbal, tennis, atletiek, hokkie, swem en binnenshuise sportsoorte insluit,” voeg Schalekamp by. “Daar word ook ’n proefplaas vir die Natuurwetenskappe- en Landboufakulteite beplan.”
Marthinus Visser (links) en Henk Schalekamp (regs)
Marthinus Visser (links) en Henk Schalekamp (regs)

Projekvennote en finansiering

Kanton dien as voertuig vir die finansiering van die ontwikkeling van die nuwe Akademia-kampus. Kanton is gebore uit ’n innoverende nuwe benadering vir die ondersteuning van Afrikaanse kulturele instellings. “Ons sakemodel is gebaseer op ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal wat die doelstellings van gemeenskapsinstellings bevorder deur toegang tot die nodige leefruimtes te bied, maar dan ook as ’n volwaardige eiendomsbeleggingsmaatskappy beide ’n finansiële en kulturele opbrengs aan sy beleggers te bied,” verduidelik Schalekamp. Kanton se sukses word bevestig deur die Sol-Tech-kampus, wat betyds en binne begroting afgelewer is. Deur projekte soos ’n koshuis vir Sol-Tech en nou ’n kampus vir Akademia te ontwikkel, bewys Kanton sy vermoë om portefeuljes winsgewend te laat groei en bestuur. Dit terwyl eksterne beleggers ook die geleentheid gebied gaan word om deel te vorm van hierdie unieke geleentheid,” sê Schalekamp. Om te verseker dat die struktuur en beleggingsplatform die doelwitte van Kanton ondersteun, is die beplanning en strukturering van die maatskappy gedoen in samewerking met Pallidus. Laasgenoemde spesialiseer in onafhanklike korporatiewe finansiële advies, beleggingsbankdienste en beleggingsbestuur om die groei en uitbou van Kanton in die verskillende fases moontlik te maak. Die befondsingsmodel het die eienskappe van normale eiendoms- en infrastruktuurmodelle en word gebruik om beleggingsgeleenthede te bied. Kanton gaan aanvanklik instellings en welvarende individue nader om betrokke te raak deur ’n belegging. Ná afloop van ’n kritiese hoeveelheid fondse wat gewerf is vir die projek om voort te gaan sal ’n geleentheid aan die gemeenskap gebied word om deur kleiner beleggings betrokke te raak. Vir nou is die oproep aan elkeen wat saam met vennote opgewonde is oor die projek eenvoudig: Droom saam deur ’n toekomsbouer te word en die vordering van hierdie groot projek te volg by www.toekomsbouer.co.za. Verdere inligting vir individuele beleggings sal weldra aan veldtogdeelnemers bekendgemaak word.

Medianavrae:

media@kanton.co.za

Meer oor Akademia

Akademia is ’n Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Akademia streef daarna om ’n akademiese tuiste te bied waar denke én hart gevorm word met die oog op ’n vrye toekoms. Studente het ’n keuse tussen nauurse afstandstudie oor ’n landwye netwerk van sentrums of via e-leer en voltydse studie by twee tussentydse kampusse in Centurion. Die nauurse afstandmodel is ideaal vir studente wat wil werk of ander belangstellings nastreef, terwyl hulle studeer. Die voltydse kampusmodel bied sedert 2021 ’n veilige tuiste vir Fonties (Akademia-studente) wat bedags wil klasdraf en aan ’n bruisende studentelewe wil deelneem. Klik hier vir meer inligting oor Akademia.   

Afrikanerstigting, AfriForum werf steun in VSA

Bron: Maroela Media 

Die internasionale samelewing word toenemend bewus van die uitdagings waarmee minderhede soos Afrikaners in Suid-Afrika gekonfronteer word, sowel as die soort oplossings waarmee die instellings van die Solidariteit Beweging vorendag kom om hierdie uitdagings die hoof te bied. Dit is die oorhoofse waarneming van die verteenwoordigers van die Afrikanerstigting en AfriForum wat sopas van ʼn steunwerwingstoer na die VSA teruggekeer het.

Tydens hierdie besoek het Ernst Roets, uitvoerende direkteur van die Afrikanerstigting, en Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge van AfriForum, aan verskeie konferensies, funksies en netwerkgesprekke deelgeneem. Twee hoogtepunte van die besoek was die NatCon-konferensie in Washington, D.C. (ook bekend as NatCon 4), waartydens Roets as spreker opgetree het en die bekendstelling van die Afrikanerstigting in New York by ’n geleentheid wat deur die New York Young Republicans aangebied is. Roets het by albei hierdie geleenthede verwys na die roekelose beleidsraamwerk van die Suid-Afrikaanse regering en die oplossings waarmee Afrikaners onder hierdie omstandighede vorendag kom om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms aan die suidpunt van Afrika te skep. In hierdie verband is die klem veral gelê op die bou van ʼn netwerk van gemeenskapsinstellings.

Ernst Roets tydens 'n geleentheid van die New York Young Reblicans 

Ernst Roets tydens ‘n geleentheid van die New York Young Republicans

Roets het gesê dat dit nodig is om die soort probleme waarmee minderhede soos Afrikaners in Suid-Afrika gekonfronteer word onder die internasionale samelewing se aandag te bring, juis omdat daar nou al vir ’n geruime tyd ’n persepsie bestaan dat die Suid-Afrikaanse politieke bedeling ’n soort goudstandaard is wat deur die res van die wêreld nagevolg word, terwyl die teenoorgestelde in vele opsigte waar is. “Dit is egter veel belangriker om oor oplossings as oor probleme te praat. Ons ervaring is dat dit veral in ons benadering tot oplossings en ons optimisme oor die toekoms is dat Afrikaners in die internasionale samelewing, maar in die Westerse wêreld in die besonder, herontdek word,” het hy bygevoeg.

Van Zyl het gesê dat die opregte belangstelling in en bewondering vir Afrikaners se staatbestande oplossings dramaties toegeneem het in die buiteland, veral onder Amerikaners en Europeërs. “‘’n Boer maak ’n plan’ het uitgebrei van ’n plaaslike gesegde na ’n internasionale een. Dit is bemoedigend om te weet dat ons suksesse, en dít wat ons bou nie slegs vir ons mense in Suid-Afrika hoop gee en inspireer nie, maar óók vir mense oorsee,” sluit Van Zyl af.

Die Afrikanerstigting is ’n nuwe instelling in die breër Solidariteit Beweging en is daarop ingestel is om steun vanuit die buiteland te mobiliseer.

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – Episode 10

Onsekerheid ná politieke chaos in die VSA

Wie sou drie weke gelede kon dink dat die voormalige Amerikaanse president en huidige presidentskandidaat Donald Trump ʼn sluipmoordaanval nouliks sou oorleef? En dat die Demokrate hulle presidentskandidaat, ten spyte van sy onwilligheid, sou oortuig om hom aan die verkiesingswedloop te onttrek? In hierdie week se episode van Wêreldwys neem ons die gebeure sedert die debat tussen Biden en Trump in oënskou. Hoe het die Amerikaners hier beland? Wat moet ons daarvan maak? Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.  

Joe Biden onttrek as presidensiële kandidaat

Op en Wakker (RSG) – Onderhoud met Jaco Kleynhans

Verlede naweek was daar ‘n sluipmoordpoging op Donald Trump, en die afgelope naweek het Joe Biden onttrek as die Demokrate se presidentskandidaat in die Amerikaanse verkiesing. Verlede week was dit ook die Republikeine se kongres in Milwaukee. Biden se ontrekking is histories, en die vorige keer wat dit gebeur het, was toe Lyndon Johnson in 1968 onttrek het. Ons praat hieroor met Jaco Kleynhans van Solidariteit, wat self al by ‘n Amerikaanse verkiesingsveldtog betrokke was.    

Die Afrikaner maak só

Kallie Kriel skryf op Maroela Media:

Die nuwe veelpartyregering is ʼn positiewe tree in die regte rigting. Ons kon veel slegter af gewees het indien die MK-party en die EFF ook deel van die regering sou vorm. Dit sou egter wensdenkery wees om te dink dat die veelpartyregering die einde van staatsverval en ander uitdagings sal beteken.

Lees die volledige artikel hier.

Die Afrikaner maak so wys in Oktober in die AfriForum Teater
Die Afrikaner maak so wys in Oktober in die AfriForum Teater

Trump en Vance beloof ’n ander soort Amerikaanse buitelandse beleid

Nuuskommentaar vir Pretoria FM deur Jaco Kleynhans 

Die groot Duitse staatsman en kanselier, Otto von Bismarck, het byna ’n eeu en ’n half gelede opgemerk dat die Verenigde State van Amerika deur swak bure in sy noorde en suide, en deur visse in sy weste en ooste gekenmerk gaan word. Bismarck se opmerking is natuurlik in ’n tyd gemaak toe die VSA nog volgehou het met redelike globale isolasie en weinig aptyt om by globale konflik of selfs net internasionale knelpunte betrokke te raak.

Uiteindelik is die VSA by die Eerste Wêreldoorlog ingetrek en ten spyte van ’n sterk afkeur vir verdere buitelandse intervensionisme is die land tydens die Tweede Wêreldoorlog uiteindelik ook weer volledig by die konflik, maar uiteindelik ook die herskikking van globale magsverhoudinge ingetrek. Die res is geskiedenis. Tydens die afgelope agt dekades het die VSA die polisieman van die wêreld geword.

Vandag is daar 90 000 Amerikaanse soldate in Europese lande soos Duitsland, Brittanje, Italië, Pole en selfs die Baltiese State, Georgië en Finland wat almal ’n grens met Rusland deel. Nog honderde duisende Amerikaanse soldate is regoor die wêreld versprei. Daar is tans 750 Amerikaanse weermagbasisse in 80 lande buite die VSA, in veral Europa, die Midde-Ooste, Asië en die Stille Oseaan-gebied.

Terwyl die natuurlike Amerikaanse inslag meer isolanisties was, het die Japanese se aanval op Pearl Harbor dit byna beëindig. Na die terugkeer na ’n uiters gereserveerde buitelandse betrokkenheid in die 1920’s en 1930’s het die Tweede Wêreldoorlog die vraag laat ontstaan of Amerikaanse isolanisme finaal beëindig is.

Die probleem is egter dat byna die hele Europa, maar ook talle lande in Asië, soos Suid-Korea en Japan, en ook talle lande in die Midde-Ooste die afgelope sewentig jaar toenemend afhanklik van Amerikaanse verdediging geraak het.

Volgens ’n onlangse peiling deur die Associated Press verkies 42% van Amerikaners dat hulle land heeltemal van globale konflik en ander internasionale probleme wegbly. Net 23% van Amerikaners voel dat hulle land meer internasionaal betrokke moet raak. Die toename in isolanisme het al tydens die later jare van die rampspoedige oorloë In Irak en Afganistan ontstaan.

Donald Trump se keuse van JD Vance as sy adjunkpresidentskandidaat verteenwoordig ‘n nuwe klem op isolanisme in die VSA. Vance verteenwoordig ’n sterk begronde en intellektuele beweging wat ten minste na die werk van Pat Buchanan in die 1990’s terugstrek en toenemend sedert 2016 onder leiding van Donald Trump weer momentum kry. Hierdie beweging vra nie vir ’n terugkeer na die soort Amerikaanse isolasie van voor die Eerste Wêreldoorlog nie, maar dring wel daarop aan dat Europa, Taiwan, Japan, Suid-Korea en selfs Israel meer moet doen om hulleself te verdedig.

President Donald Trump (regs) en JD Vance (links)
President Donald Trump (regs) en JD Vance (links)

Vance se benoeming het verlede week behoorlik ’n gegons in Londen, Brussel, Den Haag, Berlyn en natuurlik Kiëf veroorsaak. Die Trump/Vance-buitelandse beleid behoort egter niemand af te skrik nie. Dit is steeds gebaseer op kollektiewe verdediging met vennote, maar meer op ’n gelyke grondslag waar almal billik bydrae. Tweedens is dit gebaseer op ’n beëindiging van konflik met langtermyn skikkings en oplossings in plaas van ’n verlenging van oorloë soos in Oekraïne en die Palestynse gebiede. En derdens vereis dit ’n baie sterker fokus op die beskerming van Amerikaanse industrieë en werksgeleenthede teen onbillike internasionale handelspraktyke. Sou Trump in November verkies word, kan dit beteken dat Amerika volgende jaar ’n noodsaaklike herskikking in internasionale magsverhoudinge, handelspraktyke en die voortslepende oorloë mag sien.

Jaco Kleynhans is die hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging.
Jaco Kleynhans is die hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging.

Forum Tydskrif: Kallie Kriel se bydraes

Lees al Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, se bydraes in die Forum tydskrif.

Forum Tydskrifis propvol nuus oor die organisasie se burgerregteprojekte, -veldtogte en -aksies. Dis ’n ledetydskrif van AfriForum wat daarop gemik is om lede op verskillende terreine en oor allerlei gebeure ingelig te hou, maar ook te laat saampraat en saamdink.

(Volume 1-30)

Volume 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30.

Forum Tydskrif
Forum Tydskrif

 

 

 

 

 

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – Episode 9

Na aanleiding van verlede week se Navo-beraad in die Amerikaanse hoofstad en die toenemende spanning tussen die Weste aan die een kant en Rusland en China aan die ander kant, word die vraag gevra of Suid-Afrika se huidige buitelandse beleid in diens van die mense van die land staan.

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – Episode 8

Hoe moet ons die uitslae van Frankryk, Brittanje en Iran se verkiesings interpreteer? In hierdie week se uitgawe van Wêreldwys bespreek ons al die belangrike vrae oor hierdie en ander internasionale nuusgebeure.
Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.