Die wêreld kan in ʼn Derde Wêreldoorlog strompel – Flip Buys

Deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Duncan Kidd/Unsplash)

“Europa moet voorberei vir ʼn oorlog op ʼn skaal wat ons grootouers en húlle ouers moes deurmaak. Rusland het oorlog teruggebring na Europa,” het Mark Rutte, Navo se hoof in Desember gesê, met verwysing na die Eerste- en Tweede Wêreldoorloë. Hierdie skokkende waarskuwing van Rutte is opgevolg deur soortgelyke waarskuwings oor die gevaar van ʼn kontinentale oorlog teen Rusland deur die Duitste kanselier, Friedrich Merz, die Duitse minister van verdediging, Boris Pistorius, Navo se militêre hoof, admiraal Rob Bauer, asook senior leiers van Brittanje, Pole, Swede en Noorweë.

Hoewel Rusland se konvensionele magte nie sterk genoeg is om teen die hele Navo te veg nie, is daar drie faktore wat die Europeërs slapelose nagte gee:

  • die eerste is dat die Amerikaanse regering wil hê dat Europa vir sy eie veiligheid moet sorg, omdat die VSA op China wil  fokus;
  • dat Europa nie kan kers vashou by die Russiese militêre massaproduksie nie; en
  • dat die Russe die wêreld se grootste kernarsenaal het, en hulle militêre doktrine die gebruik daarvan onder bepaalde voorwaardes insluit.

Die skrikwekkende waarskuwing van die kernfisikus Albert Einstein doem weer voor die mensdom op: “As daar ʼn Derde Wêreldoorlog is, sal die vierde een met stokke en klippe gevoer moet word.” Einstein het natuurlik bedoel dat ʼn volgende globale oorlog die wêreld kan vernietig.

Oekraïne

Militêre kenners beskou die oorlog in Oekraïne as die gevaarlikste internasionale konflik sedert die Kubaanse Missielkrisis van 1962. Die gevaar bestaan dat dit kan eskaleer tot ʼn grootskaalse Europese oorlog, wat taktiese kernwapens kan insluit. Die belangrikste elemente van só ʼn nagmerrie is reeds teenwoordig, en die toestand herinner aan die aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog. Dit is onder meer:

  • twee kante met onversoenbare standpunte wat elkeen sterk in sy saak glo;
  • geen formele vredesonderhandelings nie, en beide magte wat veg vir ʼn militêre oorwinning;
  • beide kante wat hulle doelwitte sedert die aanvang van die oorlog geëskaleer het;
  • dis nie net ʼn streekskonflik nie – verskeie groot moondhede met kernwapens is betrokke; en
  • die alliansiestelsel vergroot die kanse op ʼn groter oorlog, omdat ʼn “aanval op een as ʼn aanval op almal” beskou word.

Die geskiedenis van oorlog wys dat ʼn betreklik beperkte konflik tussen twee lande maklik na ʼn groter oorlog tussen grootmoondhede kan uitbrei. ʼn Toepaslike voorbeeld is die Krim-oorlog van die 1850’s tussen Rusland aan die een kant, en Brittanje, Frankryk, Turkye en Sardinië aan die ander kant.

Prof. Shepard Clough, professor in geskiedenis aan die Universiteit van Columbia, het die aanloop tot hierdie oorlog soos volg beskryf:

“The war was not the result of a calculated plan, nor even of hasty last-minute decisions made under stress. It was the consequence of more than two years of fatal blundering in slow-motion by inept statesmen who had months to reflect upon the actions they took. It arose from [some leaders’] search for prestige; the competing quest for control over the Straits; the mutual naïve miscalculation of the probable reactions of other powers; the failure of those powers to make their positions clear; and the pressure of public opinion in all countries at crucial moments.”

Hierdie woorde geld ook vir die huidige oorlog, omdat daar ʼn baie lang aanloop tot hierdie tragiese gebeure was waartydens dit voorkom moes word.

Doelwitte verander

Die Russe se doelwit was aanvanklik om te keer dat Oekraïne by Navo se militêre bondgenootskap aansluit. Dit sou uit die Russiese oogpunt ʼn “regstreekse gevaar vir Russiese veiligheid” word, in die woorde van president Wladimir Poetin.

Die Russe het hierdie doelwit nou geëskaleer tot ʼn militêre oorwinning en die besetting van grondgebied, veral in die Ooste waar daar ʼn groot aantal Russe woon.

Navo het aanvanklik net beoog om Oekraïne by te staan om ʼn Russiese oorwinning te keer en om ʼn gunstige vredesooreenkoms te help verseker. Intussen het die Weste se doelwit egter ook geëskaleer tot ʼn miltêre oorwinning en die uitskakeling van Rusland as ʼn groot moondheid.

Daar is normaalweg drie roetes na grootskaalse eskalasie wat deel van die dinamika van oorlog is:

  • Een of albei kante eskaleer die oorlog om te wen.
  • Een of albei kante eskaleer die oorlog om ʼn nederlaag te verhoed.
  • Die oorlog eskaleer onbedoeld, bv. as gevolg van ʼn onvoorsiene gebeurtenis wat tipies is van oorloë.

Verdedig na aanval

Die Weste het aanvanklik verdedigende wapens aan Oekraïne verskaf, soos tenks en lugverdedigingswapens. Nadat hulle doelwit na ʼn militêre oorwinning verander het, is groot hoeveelhede moderne aanvalswapens aan Oekraïne gestuur.

Die Amerikaanse staatsman, Henry Kissinger, se waarskuwende woorde oor die foute met die aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog van 1914, is vandag steeds van toepassing:

“They seemed oblivious to the huge casualties of the still relatively recent American Civil War, and expected a short, decisive conflict. It never occurred to them that the failure to make their alliances correspond to rational political objectives, would lead to the destruction of civilization as they knew it. Instead, the Great Powers managed to construct a diplomatic doomsday machine, though they were unaware of what they had done.”

Die Eerste Wêreldoorlog is ook ʼn les dat goeie bedoelings tot verskriklike uitkomste kan lei. Soos die Amerikaanse denker, Thomas Sowell, dit gestel het: The First World War […] was said to be a war ‘to make the word safe for democracy.’ What it actually led to was the replacement of despotic dynasties by totalitarian dictatorships that were far worse”.

Een skoot, drie oorloë

Die moord op die Oostenrykse kroonprins, Frans Ferdinand, deur ʼn jeugdige Serwiese sluipmoordenaar op 28 Junie 1914, het ʼn ketting van gebeure aan die gang gesit. Dit het uiteindelik tot twee wêreldoorloë gelei waarin daar saam sowat 100 miloen mense gesterf het, en daarna die Koue Oorlog tussen Oos en Wes. Die einde van een oorlog het in die geskiedenis dikwels net as aanleiding tot die volgende gedien. Só het die verdrukkende vredesooreenkoms van die Eerste Wêreldoorlog ʼn bepalende rol in die ontstaan van die Tweede Wêreldoorlog gespeel. Daarna het die einde van hierdie oorlog weer die aanvang van die gevaarlike Koue Oorlog gemerk, wat die wêreld vir dekades in twee magsblokke verdeel het wat mekaar oor kernwapens aangegluur het.

Kernwapens

Die vraag is onder watter omstandighede een van die twee kante kernwapens sal aanwend. Die Weste maak gebruik hul volle arsenaal van ekonomiese en diplomatieke magsmiddele, en verskaf grootskaalse wapens en finansiële bystand aan Oekraïne, sonder om troepe te stuur

Uit die uitsprake van Westerse leiers blyk dit dat daar vier moontlike beweegredes is waarom die Weste self militêr betrokke kan raak: indien die oorlog lank aanhou; indien daar geen vooruitsig op ʼn diplomatieke oplossing of ʼn Oekraïense oorwinning is nie; indien die ekonomiese koste vir die Weste te hoog raak; of indien hulle desperaat is om die konflik vinnig te beëindig, byvoorbeelduit vrees dat die Chinese die krisis sal gebruik om ‘n aanslag op Taiwan te loods. Indien die Oekraïense leër in gevaar is om te verloor, kan die Weste ook inspring om ʼn nederlaag te voorkom. Die laaste moontlikheid is indien die Oekraïeners Russiese dorpe of stede aanval om ʼn groot Russiese teenreaksie te ontlok wat die Weste by die oorlog kan betrek.

Russiese kernwapens

President Poetin het reeds die strawwe Westerse sanksies as ʼn oorlogsverklaring beskryf, wat uit ʼn Russisese oogpunt die tafel dek vir moontlike kragdadige optrede teen Navo. Die Russiese militêre doktrine maak voorsiening vir omstandighede waaardie Russe kernwapens salaanwend. Dit is:

  • wanneer die Russe besluit om die vloei van Westerse wapentuig te stop, en dan ʼn Navo-land soos Pole, waardeur die wapens beweeg, aanval;
  • wanneer Navo-magte self tot die oorlog toetree;
  • om ʼn Russiese nederlaag te verhoed; en
  • indien die oorlog te lank en uitgerek raak dat hulle dit ten alle koste wil beëindig.

Die  (CIA) neem die gevaar van kernwapens so ernstig op, dat hulle al in 2022 gewaarsku het: “Niemand van ons kan die dreigende gevaar van die gebruik van taktiese kernwapens lig opneem nie.”

Taktiese kernwapens is kleiner wapens om stede of ʼn leër te vernietig, en is nie interkontinentale ballistiese missiele nie. Nogtans kan dit vinnig lei tot ʼn groter eskalasie waar nóg gevaarliker kernwapens gebruik kan word.

Ander moontlikhede

Die gevaar van ʼn eskalasie na kernwapens beteken gelukkig beslis nie dat dit noodwenig gaan gebeur nie. In die verlede was die grusame moontlikheid daarvan genoeg om dit te verhoed. Die Russe het wel reeds verskriklike skade in Oekraïne aangerig, maar was tot dusver baie huiwerig om die oorlog verder te eskaleer. Hulle het nog nie hulle volledige weermag ingestuur, groot getalle soldate opgeroep of ʼn “totale oorlog” verklaar nie.

Die beste afskrikking vir ʼn oorlog bly die lesse van die geskiedenis. Die probleem is dat daar nie oortuigende tekens is dat die hedendaagse wêreldleiers die historiese kennis het om oorloë te verhoed nie. Soos Thomas Sowell dit so treffend stel:

“The monumental tragedies of the 20th century — a world-wide Great Depression, two devastating World Wars, the Holocaust, famines killing millions in the Soviet Union and tens of millions in China — should leave us with a sobering sense of the threats to any society. But this generation’s ignorance of history leaves them free to be frivolous — until the next catastrophe strikes, and catches them completely by surprise.”

Die mensdom kan slegs hoop en bid dat die dreigende gevaar van ʼn eskalerende oorlog, ʼn kragtige aansporing vir die vegtende partye sal wees om voortydig ʼn diplomatieke oplossing te vind. In die praktyk sal ‘n “derde wêreldoorlog” gelukkig nie maklik uitbreek nie, omdat die VSA se militêre mag tans so oorweldigend is dat ander groot moondhede dit nie sommer sal uitdaag nie. Die sleutel tot blywende wêreldvrede was histories tweeledig: afskrikking van vyande, en gerusstelling dat daar nie ‘n aanval teen iemand beplan word nie. Die uitdaging vir die VSA is dus om China byvoorbeeld af te skrik, maar terselfderyd gerus te stel dat hulle nie aangeval sal word nie. Dan is die wêreld ‘n veiliger plek!

Akademia se nuwe kampus moontlik gemaak deur kulturele ekostelsel

Deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

 

Flip Buys, Dirk Hermann, Henk Schalekamp en Marthinus Visser.

In die politieke “wittebroodtydperk” van die Mandela-era ná 1994 het die Afrikaanse gemeenskap gevoel dat die stigting van onafhanklike Afrikaanse universiteite onnodig én boonop onmoontlik was. Onnodig, omdat die Grondwet uitdruklik voorsiening gemaak het vir Afrikaanse staatsuniversiteite en omdat daar skynbaar genoeg universiteite in die land was. Tweedens is dit as onmoontlik beskou omdat die stigting van ʼn nuwe universiteit sonder staatshulp eenvoudig te duur sou wees. Onafhanklike universiteite was boonop in Suid-Afrika grotendeels onbekend, anders as in baie ander dele van die wêreld.

Die werklikhede van sogenaamde “radikale transformasie” en ʼn geweldige toename in studentegetalle het egter reeds teen die vroeë 2000’s begin gewys dat ʼn nuwe Afrikaanse universiteit wél nodig was. Die suksesvolle stigting en groei van Akademia het terselfdertyd bewys dat dit inderdaad moontlik is. In Suid-Afrika is dit dikwels juis dít wat op die oog af moontlik lyk, wat in die praktyk onmoontlik word, en andersom: dit wat onmoontlik lyk, blyk tog moontlik wees.

Waarom die Solidariteit Beweging ontstaan het

Daar is twee hoofredes waarom Solidariteit, en later die breër Solidariteit Beweging, in die vroeë 2000’s tot stand gekom het. Eerstens het die stigters voorsien dat ʼn bevrydingsbeweging soos die ANC nie noodwendig ʼn moderne staat suksesvol sou kon regeer nie. Die Chinese wysgeer, Jia Yi, het al reeds twee eeue voor Christus daarop gewys dat die vereistes om ʼn land deur ʼn “struggle” oor te neem, lynreg bots met die vereistes om ʼn land doeltreffend te regeer.

Die tweede rede was omdat ons die ANC se woord gevat het dat hulle steeds ʼn rewolusionêre party is. Sulke partye is in wese sosialistiese sentraliste, en gebruik ʼn grondwetlike demokrasie om vryheid te ondergrawe. Dit sluit bepaald die vryheid in van taal- en kultuurgemeenskappe om besluite oor hulle grondliggende belange te neem en uit te voer. Rewolusionêre partye se regering “deur” die mense, word in die praktyk regering “oor” die mense. Die dienaars word die heersers.

Uitkoms

Die uitkoms van bykans drie dekades van die ANC-regering bevestig ongelukkig hierdie vrese. Die ANC kon nie die land doeltreffend regeer nie en het die demokratiese stelsel misbruik om vryheid te ondergrawe. Dink maar net aan die verwoestende gevolge van die inperking van ekonomiese vryheid – oftewel sakelui se vryheid om hul ondernemings sonder staatsinmenging te bestuur. Dit het ʼn beduidende rol gespeel in dekade lange ekonomiese stagnasie, rekordwerkloosheidsyfers en Suid-Afrika se status as een van die grootste uitvoerders van werkskeppers, belastingbetalers en hoëvlakvaardighede.

Die ANC het die pad van ʼn sogenaamde “ontwikkelingstaat” gevolg, soortgelyk aan die model wat onder meer in kommunistiese China toegepas is, waar staatsentiteite die ekonomie moes dryf. Die gevolge vir Suid-Afrikaanse staatsinstellings soos Eskom, Transnet, die Poskantoor en Denel is welbekend – om nie eens te praat van die verval van munisipaliteite en ander dele van die staatsdiens nie. Suid-Afrika moes eerder ʼn “ontwikkelingsamelewing” geword het, soos deur verskeie senior sakelui voorgestel, met restourasie eerder as transformasie as nasionale rigtingwyser.

Bevrydingsbewegings wat aan bewind kom, eindig dikwels in armoede en onderdrukking omdat hulle in die praktyk meer “gelykheidsbewegings” as vryheidsbewegings is. Hulle gebruik staatsmag om gelyke uitkomste af te dwing, met die gevolg dat individuele vryheid en algemene voorspoed skade ly. Die prosedurele vorm van demokrasie, soos gereelde verkiesings, bly staan, maar vryheid as die kern van demokrasie word ondermyn.

Daarby is wit Suid-Afrikaners se politieke, ekonomiese en kulturele vryhede nie deel van die ANC se toekomsvisie nie. In die nuutste (2025) weergawe van die ANC se “Strategy and Tactics”-dokument word die land steeds beskryf asof dit in die 1980’s vasgevang is. Wit mense word wel as deel van die samelewing geduld, maar is in werklikheid tweedeklasburgers oor wie se belange die regering min besorgdheid toon: “Die hoofdoel van ons vryheidstryd bly die bereiking van politieke- en ekonomiese vryheid van die onderdruktes – Afrikane in besonder en swart mense in die algemeen, binne ʼn samelewing waarvan die wit minderheid onlosmaaklik deel is.”

Daarom bly dit belangrik dat ons na ons eie belange omsien, waarvan ʼn wêreldklas Afrikaanse universiteit ʼn belangrike deel uitmaak.

Universiteite

Volgens denkers soos die Keniaan Ali Mazrui het universiteite in postkoloniale Afrika tipies deur agt fases beweeg:

  • Massifikasie deur “toegang vir almal”, dikwels via gratis studies
  • Kultuur van “slaag vir almal”
  • Sogenaamde “dekolonisering” van instellings
  • Aantasting van universiteitsoutonomie, akademiese vryheid en standaarde
  • Finansiële druk weens massifikasie en krimpende begrotings
  • Studente- en dosente-onrus
  • Toenemende regeringsbeheer
  • Opkoms van privaat universiteite wat staatsuniversiteite begin verbysteek
Die nuwe Akademia-kampus in wording.

Ekostelsel

Die strategiese uitdaging vir die Solidariteit Beweging was om volhoubare “staatsdienste” te lewer sonder staatsinkomste. Daarom moes ons eers stelselmatig ʼn omvattende kulturele ekostelsel bou, wat ons in staat sou stel om ʼn universiteit op te rig. Die gemeenskap moet eers die universiteit help voordat die universiteit die gemeenskap kan help.

Die beginpunt was om Solidariteit as ʼn “80%-organisasie” te stig uit verskeie Afrikaanse vakbonde, waarvan die eertydse MWU die bekendste was. ʼn “80%-organisasie verwys daarna dat die 80% middelgroep daarin moes tuisvoel, sonder die twee uiterste kante van die spektrum. Ons wou wegkom van die mislukte historiese verdelingslyne wat soveel skade aan Afrikaners én die land gedoen het.

Die volgende stappe was om binne Solidariteit ʼn Boufonds en Opleidingsfonds te stig, omdat gewone ledegeld vir lededienste bedoel was, en ook nie naastenby voldoende sou wees om ʼn universiteit te finansier nie.

Die derde stap was om die Solidariteit Helpende Hand te begin, om armoede wat ontstaan het as gevolg van die nuwe rassewette, die reuse-afskalings ná 1994 en die ekonomiese stagnasie teen te werk. Vierdens is die Helpende Hand Studietrust gestig om studielenings aan verdienstelike jongmense toe te ken sodat hulle kan studeer. Die hele idee is dat elke geslag die volgende geslag moet help om te studeer, en dat hulle daardie studiehulp wat aan hulle verleen is terugbetaal sodat die daaropvolgende geslag ook kan studeer. Die sukses van die Helpende Hand Studietrust is dat die terugbetalingskoers ʼn allemintige 99% is. Dit stel die Trust in staat om hierdie jaar sowat 1 200 studente met meer as R70 miljoen se studiehulp by te staan. Grootskaalse studiehulp is ʼn voorwaarde vir ʼn universiteit wat nie staatsfondse ontvang nie, anders kan net ʼn ryk elitegroep dit bekostig.

Die vyfde blokkie van die kulturele legkaart was die stigting van ʼn landswye netwerk van “Ons Winkels” – tweedehandse winkels onder die vleuel van die Helpende Hand. Die winste wat in hierdie winkels gemaak word, word in elke winkel se gebied aangewend vir maatskaplike dienste, en om deur die Studietrust jongmense van die omgewing te laat studeer.

Die Solidariteit Beleggingsmaatskappy (SBM) was die sesde stap in die ekostelsel. Die sewende stap was om onder die SBM-sambreel ʼn finansiëledienstemaatskappy te stig, waarvan die belang wat in die Afrikaanse versekeraar Virseker gehou word, die bekendste is. Die opbrengs van die Virseker Trust gaan vir Afrikaanse onderwys en opleiding, en word na Akademia, die Helpende Hand Studietrust en die Skoleondersteuningsentrum gekanaliseer.

Die agtste blokkie was die stigting van ʼn eiendomsmaatskappy, wat later tot Kanton Beleggings uitgebrei het. Kanton is ʼn eiendomsbeleggingsmaatskappy, en is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal waarin privaat beleggers belê vir ʼn wins én ʼn kulturele dividend. Kanton het al verskeie suksesvolle projekte ontwikkel, waarvan die bou van die wêreldklas Sol-Tech-kampus met hul koshuise die bekendste is. SBM bied, deur sy finansiëledienstemaatskappy, ook rentedraende lenings vir studente wat nie vir die Helpende Hand Studietrust se rentevrye studielenings kwalifiseer nie.

Die negende blokkie was die stigting van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), wat ten doel het om wêreldklas Afrikaanse onderwys te bevorder. Die rede hiervoor is dat goeie onderrig op skool ʼn voorvereiste vir goeie naskoolse onderrig is. Die SOS bedryf talle projekte, soos die gewilde Wolkskool, en het ook verskeie vakverenigings, soos die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers, wat voortgesette opleiding vir Wiskunde-onderwysers aanbied. Benewens ondersteuning aan Afrikaanse openbare skole, werk die SOS ook aan nuwe oplossings vir onderwys in Afrikaans.

Die tiende blokkie om die kulturele legkaart te voltooi, was die stigting van Akademia, vernoem na die eerste universiteit in die Westerse wêreld, Plato se Akademia wat in 387 voor Christus in Atene gestig is. Die bekende Aristoteles, leermeester van Alexander die Grote, het daar Wiskunde, Filosofie en Politiek studeer. Akademia sluit aan by die klassieke tradisie, en is gegrond op wêreldklas-opleiding en ook die breër vorming en toerusting van studente op ʼn Christelike grondslag. Akademia is ʼn nuwe universiteit wat 15 jaar gelede begin is, maar is op ou en tydlose fondamente gebou, om jongmense vir die toekoms toe te rus.

Eksterne ekostelsel

Die sukses van Akademia word nie net deur hierdie “interne” ekostelsel bepaal nie, maar ook deur ʼn eksterne kulturele ekostelsel, soos goeie skole, toegewyde leerders, betrokke ouers, ʼn helpmekaar-kultuur en werkgewers wat hierdie studente ʼn kans sal gee. Onafhanklike Afrikaanse trusts en sakelui wat die vennootskap tussen kultuur en kapitaal steun, speel ook ʼn onontbeerlike rol. Die feit dat Sol-Tech se studente reeds so gesog in die mark is, is ʼn goeie teken dat werkgewers selfs in ʼn tyd van rassewette, graag studente aanstel wat goed opgeleide en gevormde mense is.

Nuwe kampus

Akademia is deur die Solidariteit Beweging begin, maar is ʼn outonome hoëronderwysinstelling wat vir alle Afrikaanse studente oop is. Akademia het hierdie jaar sy eerste satelliet-kampus in Paarl in die Wes-Kaap geopen, en beplan om die huidige vyf fakulteite vinnig verder uit te brei. ʼn Belangrike rede vir Akademia se sukses is die topdosente wat aangestel is om aan ʼn wêreldklas universiteit te bou. Akademia het dus nie van “voor” af nuut begin nie, maar voortgebou op die akademiese werk wat oor baie jare opgebou is. Die afgelope jare is daar ook bande gebou met top- buitelandse universiteite. Akademia verwag hierdie jaar sowat 5 000 studente in totaal. Dit is hoekom nuwe en groter geriewe dringend noodsaaklik geword het. Die volgende stap vorentoe is Kanton Beleggings wat eersdaags begin om ʼn splinternuwe wêreldklas-kampus in die ooste van Pretoria te bou. Die eerste fase gaan sowat R1,8 miljard beloop, en gaan bykans twee jaar neem om te bou. Dit behels nuwe akademiese geboue, koshuise en al die moderne geriewe wat daarmee gepaardgaan. Daar word beoog om die kampus in 2028 in gebruik te neem.

Hierdie kampus is die grootse Afrikaanse bouprojek in baie dekades in Suid-Afrika, en is voorafgegaan deur twee dekades se opbou van hierdie omvattende ekostelsel wat nodig is vir kulturele selfverwesenliking. Hierdie ekostelsel maak ʼn wêreldklas, onafhanklike, klassieke Christelike Afrikaanse hoëronderwysinstelling moontlik. ʼn Taal het ʼn universiteit nodig vir sy voortbestaan, en ʼn universiteit het ʼn taal nodig om werklik wêreldklas te kan wees. Dit wys die sukses van talle mense wat in enkeltalige Afrikaanse universiteite opgelei is, maar wat nou met groot sukses hul kennis in ʼn ander taal toepas. Akademia is wel Afrikaans, maar studente bemeester terselfdertyd Engels om die oorgang na die wêreld van werk makliker te maak.

Hierdie kulturele ekostelsel se onderbou is skeppende vernuwing, gegrond op beproefde waardes. Die onderliggende filosofie is dat elke geslag dit wat hy van sy voorgeslagte gekry het moet bewaar, en dit dan in ʼn beter toestand vir die volgende geslag moet oorgee. Dít is ons Beweging se plegtige onderneming aan ons jongmense! Ons wil help om ʼn toekoms vir jongmense te skep, sodat hulle volhoubaar hier kan woon en werk, en sodoende ʼn blywende bydrae kan lewer tot die welstand van hulle gemeenskap, die land en al sy mense.

 

*Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging, en ʼn direksielid van Akademia en Kanton Beleggings.

Solidariteit Beweging se Nuwejaarsboodskap vir 2026: ‘Ons is verbind tot SA oplossings’

Die Solidariteit Beweging gaan in 2026 volstoom voort met ons strategie om ʼn omvattende kulturele ekostelsel vir Afrikaners se voortbestaan uit te bou. Die kern van ons kultuur is steeds “’n Boer maak ʼn plan.”

Terselfdertyd werk ons ook landswyd aan projekte ten bate van almal in Suid-Afrika en van ander Afrikaanssprekendes. Ons wag nie vir die regering om van die land ʼn beter plek te maak nie, maar slaan self die hand aan die ploeg. Daarom is ons leuse vir 2026 “Ons sal self!” Ons sal egter ook sáám met vennote werk wat wil saamwerk aan die herbou van die land.

Die grootste projek van ons Beweging is die bou van ʼn nuwe kampus vir Akademia, die grootste onafhanklike universiteit in die land. Daarbenewens gaan ons vanjaar groot uitbreidings aan Sol-Tech, ons beroepskollege, onderneem en ook die Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike en welstandsprojekte uitbrei. Groei van die Solidariteit Helpende Hand Studietrust is ʼn hoë prioriteit omdat al hoe meer mense nie meer naskoolse opleiding kan bekostig nie.

Solidariteit se werksnetwerk is ook hoog op die agenda, asook AfriForum se landswye buurtwagte en aksiespanne wat dienste in dorpe en stede verbeter. AfriForum gaan sy interkulturele projekte uitbrei om in ʼn gees van wedersydse erkenning en respek met ander gemeenskappe te skakel.

Daarmee tesaam gaan Afrikaanse onderwys in ʼn nog groter mate deur ons Skoleondersteuningsentrum (SOS) ondersteun word en gaan die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (die FAK) op groter skaal voort om die Afrikaanse taal, kultuur en erfenisse te bevorder en te bewaar. Daar is ook talle ander projekte wat vanjaar aangepak gaan word om groter kulturele outonomie te bevorder.

Suid-Afrika

Die Solidariteit Beweging glo dat Suid-Afrika se uitdagings ten beste aangepak kan word as Afrikaners by die land se heropbou betrek word. Tweedens is die herstel van die verhoudinge met die VSA noodsaaklik om die land se ekonomiese uitdagings te bowe te kom. Die oplossing vir albei hierdie uitdagings is om met een stem en een boodskap met die VSA-regering te gaan praat.

Ons Beweging verteenwoordig nagenoeg 2 miljoen Afrikaners. Ons is lojaal aan Suid-Afrika, selfs al is ons ontevrede met die ANC-geleide regering. Daarom glo ons dit is nie reg as gewone burgers die prys vir die ANC se swak regering én hul vyandige optrede teenoor die VSA as supermoondheid moet betaal nie. Ons glo dat die regering Suid-Afrika se nasionale belang eerste moet stel en nie die grootse ekonomie ter wêreld ten koste van duisende mense se werk en bestaan moet vervreem nie.

SA oplossings

Ons is verbind tot Suid-Afrikaanse oplossings vir Suid-Afrikaanse probleme, en vind dit jammer dat die ANC steeds weier om Afrikaners se grondwetlike regte te respekteer en ons as gelyke burgers te behandel. Ons verlang nie na die verlede onder die Nasionale Party en apartheid nie, maar sien nie uit na die toekoms onder die ANC en hulle rassesosialisme nie.

Daarom werk ons vir ʼn ander Suid-Afrika as die een wat nou bykans orals weens die ANC se korrupsie en swak regering verval. Ons praat nie namens alle Afrikaners of Suid-Afrikaners nie, maar ons glo dat dit ten behoewe van almal is as dit beter gaan met die land.

Daarom is ons van plan om ook met ander Afrikanergroepe, sowel as die breër Afrikaanse gemeenskap en ander kultuurgemeenskappe in die land saam te werk en om saam aan oplossings vir knelpunte te werk.

Ons vind dit jammer dat die VSA strafmaatreëls teen Suid-Afrika ingestel het omdat dit derduisende onskuldige mense, waaronder baie van ons eie lede en ondersteuners, benadeel. Ons glo dat dit ook in die VSA se belang is om goeie betrekkinge met Suid-Afrika as die grootste ekonomie in Afrika te handhaaf.

Afrikaners

Die Trump-administrasie het Suid-Afrika ʼn fokuspunt van Amerikaanse buitelandse beleid gemaak en het terselfdertyd Afrikaners uitgesonder vir ondersteuning en beskerming. Die ANC-regering se verskil hiermee verander niks aan die werklikheid daarvan nie.

Suid-Afrika is ʼn onafhanklike en soewereine land en het die reg om sy eie beleid te bepaal. Die uitdaging lê daarin dat dit ernstige gevolge vir ʼn klein land se mense inhou as sy regering vyandig teenoor ʼn supermoondheid optree. Ons wil ook nie hê dat die VSA vyandig teenoor Suid-Afrika moet optree nie.

Daarom wil ons Beweging, as die grootste georganiseerde groep Afrikaners, daadwerklik help om die konflik met die VSA te ontlont. Dit sal moontlik wees indien die ANC bereid is om ons billike en grondwetlike eise vir kulturele outonomie te respekteer. ʼn Kultuurakkoord met Afrikaners kan die weg baan om die Amerikaanse regering gesamentlik te nader met ʼn handelsooreenkoms wat in belang van die land en al sy mense sal wees.

Die Afrikaner Verklaring

Dit is nodig om daarop te wys dat ʼn wyd verteenwoordigende groep Afrikaners bykans twee jaar gelede reeds ʼn hand van vriendskap en samewerking na die regering uitgesteek het, ʼn hand wat die ANC ongelukkig nie geneem het nie. Die Solidariteit Beweging was betrokke by die opstel van die Afrikaner Verklaring en is ‘n ondertekenaar van dié verklaring wat vroeg in 2024 uitgereik is.

Dit het onder meer ons verbintenis tot Suid-Afrika en ʼn aanbod om in ʼn gees van wedersydse erkenning en respek te help om die krisisse wat almal in die land raak, op te los. In hierdie verklaring onderskryf ons ook die gelykwaardigheid van alle gemeenskappe in die land as grondslag vir ons almal se deelname aan die mensdom. Terselfdertyd het ons dit ook duidelik gestel dat ʼn rassebedeling nie versoenbaar is met ʼn grondwetlike demokrasie, ʼn werkende staat en ʼn groeiende ekonomie wat vir al sy mense kan sorg nie.

Die Afrikaner Verklaring meld ook dat ons dit betreur dat van ons volksgenote die land teen hulle sin moes verlaat omdat hulle nie meer ʼn toekoms hier gesien het nie. Ons voel steeds dat die omstandighede eerder geskep moet word dat Afrikaners volhoubaar vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika kan bly sodat ons ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense sal kan lewer.

Die ANC het ongelukkig ons hand van samewerking afgewys deur selfs onder ʼn regering van nasionale eenheid wetgewing teen Afrikaanse skole, oor onteiening en selfs skerper rassewette in te stel.

Die uitkomste van die ANC se beleidsrigtings is die beste aanduider daarvan dat ANC-beleid misluk het en selfs die teenoorgestelde uitwerking het as wat daarmee beoog is. Ons glo steeds dat restourasie die beste model is om die krisisse, soos armoede, werkloosheid en ongelykheid, wat ons land teister aan te pak, veel eerder as die transformasiemodel wat gevolg word en wat homself as deel van die probleem eerder as die oplossing bewys het.

Oplossing vir geskil tussen VSA- en SA-regerings is dringend nodig

Mnr. Cyril Ramaphosa hou aan om “misinformasie” te blameer vir die swak betrekkinge met die VSA, in plaas daarvan om verantwoordelikheid te aanvaar vir die veelvuldige krisisse waarin hy en sy party die land gedompel het. Dit is in beide Suid-Afrika én die VSA se belang dat die geskil tussen hul regerings dringend opgelos word.

Die Solidariteit Beweging neem met kommer kennis van die afwaartse spiraal van uitsprake deur senior leiers van dié twee lande. Die twee regerings moenie voortgaan om op mekaar se uitsprake te reageer nie, maar moet eerder fokus op die werklike oorsake van die konflik.

Die eerste stap na die normalisering van verhoudinge behoort die onmiddellike aanstelling van ambassadeurs in beide lande te wees om die verstopte diplomatieke kanale weer te open. Daarna kan die twee lande ʼn gesamentlike taakspan aanstel om die kleiner geskilpunte te ondersoek en uit te stryk. Die groter vraagstukke kan dan volgende aangepak word.

Die nasionale belange van Suid-Afrika en die VSA moet die grondslag van sulke gesprekke vorm, nie verskille tussen die regerings of botsende beleide of uitsprake nie. Die ANC is verantwoordelik vir die verswakking van verhoudinge wat nou al jare lank opbou en hy kan nie langer agter wanvoorstellings en beskuldigings van “misinformasie” skuil nie.

Nasionale belange

Dit is in beide lande se nasionale belang om die verswakkende verhoudinge te herstel. Suid-Afrika se werkloosheidskoers is van die hoogste ter wêreld, terwyl dit ook nie in die VSA se belang is dat die Suid-Afrikaanse regering hom by Amerika se opponente skaar nie. Die oplossing is nie om Suid-Afrika uit die G20 te laat nie, maar om die regering te oorreed om die noodsaaklike beleidshervormings in te stel wat Suid-Afrika op ʼn versnelde groeitrajek kan plaas om een van grootste 20 ekonomieë te word.

Ons glo die VSA se onderliggende redes vir die verslegting van verhoudinge tussen die twee lande is die volgende:

  • Die VSA se oortuiging dat die ANC se buitelandse beleid die VSA se nasionale sekuriteit bedreig;
  • Die VSA-regering se siening dat Suid-Afrikaanse rassewette nie versoenbaar is met ʼn grondwetlike demokrasie, ʼn funksionerende staat en ʼn groeiende ekonomie nie;
  • Die feit dat die ANC histories en tans homself eerder by die globale nie-Westerse blok skaar;
  • Die ANC se ideologiese teenstand teen die VSA-regering se konserwatiewe vryemarkbeleid;
  • Die VSA-president se siening dat plaasmoorde aangevuur word deur opswepende liedjies soos “Kill the Boer”, dat dit die Afrikanerminderheid se menseregte bedreig, en dat die Suid-Afrikaanse president dit nie veroordeel en die Konstitusionele Hof dit nie as haatspraak beskou nie;
  • Die ANC se verbreking van die 1994-ooreenkoms rakende Afrikaners se kulturele regte, bv. deur die Bela-wetgewing;
  • Dat Suid-Afrikaanse wetgewing die eiendomsreg van die Afrikanerminderheid bedreig en die land op ʼn glybaan na ʼn Zimbabwe kan plaas.

 Speelbal

Die Solidariteit Beweging is dankbaar vir die VSA-president se besorgdheid oor Afrikaners se lewens en menseregte. Terselfdertyd wil ons verhoed dat Afrikanerbelange ʼn politieke speelbal tussen Suid-Afrika en die VSA word. Sekere Suid-Afrikaanse politici het ons reeds onbillik en ongegrond van hoogverraad en onpatriotisme beskuldig, en hou ons verkeerdelik verantwoordelik vir die instel van handelstariewe en die staking van finansiële hulp aan kwesbare groepe.

Die Solidariteit Beweging het dit al herhaaldelik duidelik gestel dat ons nie ʼn boodskap van volksmoord aan die VSA-president oorgedra het nie. Ons beskou ook nie vlugtelingstatus vir Afrikaners na die VSA in geheel as ʼn oplossing nie, maar bloot as ʼn manier om ʼn minderheid te help wie se lewens deur geweldsmisdaad geraak is of bedreig word. Daarom is dit nodig dat beide die VSA- én Suid-Afrikaanse regerings eerder mét Afrikaners praat as óór ons, sodat misverstande oor die situasie in Suid-Afrika en die posisie van Afrikaners uitgeklaar kan word.

Daarom het ons al verlede jaar ʼn Afrikanerverklaring onderteken, waarin ons onsself tot die skepping van ʼn toekoms vir Afrikaners en Suid-Afrika verbind het. Ons het dit ook duidelik gemaak dat ons nie gediend is daarmee om as tweedeklasburgers behandel te word en deur die ANC as slaansakke en sondebokke misbruik te word om die aandag van hul mislukkings af te lei nie. Dit help nie dat die ANC kla dat die VSA hulle boelie terwyl die ANC self Afrikaners boelie met rassewetgewing en kulturele diskriminasie nie.

Nuwe kampus

Die Solidariteit Beweging se projek om die kulturele infrastruktuur vir ʼn vry, veilige en voorspoedige voortbestaan te bou, gaan in Januarie 2026 nuwe momentum kry met die bou van ʼn nuwe kampus vir ons onafhanklike universiteit. Terselfdertyd herbevestig dit ons verbintenis tot plaaslike oplossings. Ons bou om te bly, en bly om te bou. Ons is nie slagoffers of vlugtelinge nie. Ons doel is om die kulturele infrastruktuur te bou wat ons in staat sal stel om volhoubaar hier te bly, sodat ons ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kan lewer.

‘Afrikaners’ se ope brief lyk al meer na ANC-staatsveiligheidsprojek

Dit lyk al hoe meer of die “ope brief” wat deur 44 Afrikaanse mense onderteken is, ʼn gekoördineerde ANC-staatsveiligheidsprojek was. Rapport het onthul dat Karen Burger, ʼn direkteur in die kantoor van die direkteur-generaal van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), die eerste konsep geskryf het. Sy het steun vir die ondertekening daarvan gewerf en beweer nou dit was in haar persoonlike hoedanigheid. Burger was tot onlangs by die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington werksaam.

Die raaisel rakende die ope brief het verdiep nadat betroubaar verneem is dat Burger die mees senior Afrikaanse persoon by die Suid-Afrikaanse Staatsveiligheidsagentskap (SSA) is. Die feit dat sy dit nie self onderteken het nie, maar slegs agter die skerms bedrywig was, versterk die vermoede dat dit ʼn projek van die ANC-beheerde geheime diens is. Die ANC se geesdriftige verwelkoming van die ope brief laat dit ook na ʼn georkestreerde poging lyk.

ANC-staatsprojek

Sowat 44 bekende linkse Afrikaanse persone het die ope brief onderteken. Die ondertekenaars was heel waarskynlik onbewus daarvan dat dit ʼn ANC-staatsprojek was en het dit op eie inisiatief onderteken. Die onderliggende temas van die ope brief sluit ten nouste aan by die ANC se propaganda dat Solidariteit en AfriForum “waninligting” aan Republikeinse leiers in Washington versprei het. Die ANC kon nog geen bewyse vir hierdie bewering verskaf nie, en vyf van die grootste mediahuise in die land moes al verskonings aan AfriForum en Solidariteit publiseer. Solidariteit het ook die minister in die presidensie vir laster gedagvaar.

Strafmaatreëls

Die waarheid is dat ons verlede jaar reeds verneem het dat die Amerikaanse regering beplan het om strafmaatreëls teen Suid-Afrika in te stel. Daarom het ons die Amerikaners gevra om nie die land te straf as die ANC droogmaak nie. Daarby het ons die feite oor die gevolge van drie dekades van ANC-regering bekendgemaak en gewaarsku teen die gevare van onteiening en rassewette, asook die kwessie van landelike veiligheid. Die ANC het egter voortgegaan om vyande van die Amerikaanse regering te maak, waarna die Trump-administrasie 30%-tariewe ingestel het.

Blaam

Die ANC blameer AfriForum en Solidariteit nou valslik vir die Amerikaanse regering se optrede teen Suid-Afrika, in plaas daarvan om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul beleidsfoute. Die leiers van die twee organisasies word selfs vir hoogverraad ondersoek, ten spyte daarvan dat daar geen regsgronde daarvoor bestaan nie. Die jongste uitgawe van ANC Today bestempel AfriForum se leiers kamtig selfs as “vyande van die staat”.

Slagoffers

Kom ons stel dit duidelik: Ons hou nie van die ANC-regering nie, maar ons is lief vir ons land en sy mense. Ons is nie teen die staat nie, maar teen die korrupte en onbevoegde ANC. Ons kan nie toelaat dat die ANC almal in die land se toekoms vernietig met kommunistiese en rassistiese beleidsrigtings wat nog altyd orals misluk het nie. Die voorbeeld is Zimbabwe. Die boere wie se plase gesteel is, kon meestal weer opstaan en van voor af begin – al was dit in ander lande. Die grootste slagoffers was egter die miljoene swart Zimbabwiërs wat in werkloosheid en hongersnood gedompel is weens Mugabe se rassistiese optrede.

Dit sal nie die land baat as daar geheime projekte geloods word om Solidariteit en AfriForum verdag te maak nie, selfs nie deur Afrikaanse linkses onwetend daarby te betrek nie. Hierdie linkses val ons al jare lank aan oor verskeie kwessies en het nog nooit om verskoning gevra nadat ons uiteindelik reg bewys is nie. Hulle moes nooit toegelaat het dat hulle misbruik word om ANC-beleidsrigtings soos rassewette goed te praat nie. Daarom moet hulle nie kwaad word as talle mense hulle as “nuttige idiote” – Lenin se term vir meelopers – bestempel nie.

Die enigste uitweg is daadwerklike hervorming en beleidsverandering deur die regering. Die ANC klou egter aan hul kommunistiese beleidsrigtings en diepgewortelde korrupsie vas, en gaan deur die geskiedenis agtergelaat word. Ons bepleit nie ʼn terugkeer na die verlede nie, maar glo aan samewerking vir ʼn beter toekoms, waar Afrikaners nie die ANC se sondebokke en melkkoeie is nie.

Feit of versinsel | Hoe gemaak met ‘wit skuld’?

Hoe hou jy op om “𝗷𝗮𝗺𝗺𝗲𝗿 𝘁𝗲 𝘄𝗲𝗲𝘀” oor dinge buite jou beheer, wil Christel Cornelissen, nuusredakteur by Maroela Media, by Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, weet.

Luister die volledige episode hier:

Kyk die volledige episode hier:

Twaalf Bybelse lesse vir die hantering van armoede

 Saamgestel deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

Continue reading “Twaalf Bybelse lesse vir die hantering van armoede”

Feit of versinsel | ‘Ons sal SA verdedig maar nié die ANC’

Dit is maklik om kritiek en vals beskuldigings met feite te weerlê, en dít is presies wat Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, in Maroela Media se nuwe podsending Feit of versinsel doen.

Luister die volledige episode hier:

Kyk die volledige episode hier:

 

Die toekoms van Afrikaans

Hierdie jaar is ʼn groot jaar vir Afrikaans. Dis nie net die honderdste herdenking van Afrikaans as amptelike taal nie, maar ook die 150ste herdenking van die stigting van die GRA, oftewel die Genootskap van Regte Afrikaners. Die amptelike erkenning van Afrikaans is voorafgegaan en moontlik gemaak deur die GRA en skrywers en digters soos CJ Langenhoven, Totius en Eugene Marais.

Die groot vraag is nou wat is die toekoms van Afrikaans? Doemprofete meen die einde van Afrikaans as hoëfunksietaal het aangebreek, gegewe die regering se strewe om ons taal uit die openbare lewe te druk. Teenoor die doemprofete staan die “doenprofete”, wat ook die gevare sien, maar wat besluit het om iets daaraan te dóén.

Niemand is bang dat Afrikaans as informele taal uit ons huise en kombuise sal verdwyn nie, maar die groot vraag is wat gedoen kan word om te verseker dat Afrikaans ʼn volle funksionele taal bly. ʼn Taal wat nie in al sy funksies gebruik kan word nie, is geneig om deur ʼn proses van taalverskuiwing na ʼn wêreldtaal uiteindelik bedreig te word en selfs kan verdwyn. Daarom is dit nodig om ʼn oorsig te skets van die faktore wat inspeel op enige taal se oorlewing, en in die proses seker te maak dat Afrikaans se toekoms veilig is.

  1. Kultuur

Die eerste en belangrikste bepaler van ʼn taal se toekoms, is die welstand van die kultuur of kulture wat die taal gebruik. Indien die bestaansvoorwaardes vir Afrikaners en ʼn kritiese massa ander Afrikaanssprekendes verval om in Suid-Afrika te bly, kan die taal nie oorleef as sy sprekers wegtrek of wegkwyn nie. Daarom behoort die begin van ʼn taalstrategie te wees om die voorwaardes te skep wat nodig is vir die kultuur om voort te bestaan. Die Romeine se taal, Latyn, kon uiteindelik nie die val van die Romeinse Ryk oorleef nie, behalwe in akademiese kringe waar Latynse terme nog gebruik word, soos in die regswese.

  1. Taalwil

Die tweede bestaansvoorwaarde vir Afrikaans is die wíl van haar sprekers om hulle taal nie net te laat oorleef nie, maar te laat floreer. Die wil om Afrikaans te laat voortbestaan deur mense wat die bedreigings raaksien, ʼn plan vir die oorlewing en florering van Afrikaans kan maak, en wat genoeg mense kan begeester om die plan uit te voer is bepalend vir ʼn taal se toekoms. Daar word gesê ʼn Boer maak ʼn plan. Gelukkig bestaan daar oortuigende tekens dat die wil onder ʼn groot deel van die sprekers wel daar is om Afrikaans se voortbestaan te verseker.

  1. Taalinstellings

ʼn Taal- of kultuurgemeenskap leef ín en deur instellings op elke belangrike gebied. ʼn Taal het onder meer skole, kolleges, universiteite, media, kultuurorganisasies, jeugbewegings, partye, vakbonde, maatskappye, ouetehuise en beroepsverenigings nodig om te kan voortbestaan.

  1. Taalgebied

Die Frans-Kanadese taalkundige, Jean Laponce, meen dat ʼn taal ʼn eie gebied of gebiede nodig het waar sy die meerderheid is en nie daar met ʼn wêreldtaal hoef mee te ding nie. Frans sal nie in Kanada as ʼn betekenisvolle taal voortbestaan sonder Quebec nie, en Vlaams sal heel waarskynlik verdwyn as Vlaandere sou ophou bestaan.

  1. Taalstad

ʼn Mens kan moeilik jouself ʼn betekenisvolle taal indink sonder ʼn stad of stede wat die taal anker en wat vol taalinstellings is wat die taal in al sy funksies gebruik. Was dit nie vir Londen, Parys of Berlyn nie, sou Engels, Frans of Duits groot uitdagings gehad het om in alle taalfunksies voort te bestaan. Talle kleiner streekstale word geanker deur groter streeksdorpe waarin daardie taal gebruik en beveilig word.

  1. Demografie

ʼn Kritiese massa gekonsentreerde sprekers is nodig vir ʼn taal se voortbestaan. Afrikaans se uitdaging is dat sy sprekers yl verspreid bly, en daar min plekke is waar Afrikaans die meerderheidstaal uitmaak. Omdat Afrikaans nie ʼn natuurlike taalgebied of taalstad het nie, is dit nodig dat daar taalinstellings en taalruimtes is waar die minderheid ʼn meerderheid kan wees. Die rede is dat die meerderheid die taal van ʼn gebied of instelling bepaal, en dat byvoorbeeld ʼn skool of universiteit waar die meerderheid mense Afrikaans is, die taal se toekoms kan beveilig.

  1. Tegnologie

Tegnologie is aan die een kant ʼn bedreiging vir kleiner tale, maar kan terselfdertyd ʼn belangrike hulpmiddel wees om ʼn taal te bevorder. Die Afrikaanse gemeenskap sal dus moet bybly in die tegnologiese wedloop, en daarom is dit verblydend dat kunsmatige intelligensie reeds in Afrikaans gebruik kan word.

  1. Hoër funksies

ʼn Taal se hoër funksies soos onderwys en opleiding is baie belangrik vir voortbestaan. Daarom is die vinnige groei van ʼn universiteit soos Akademia ʼn riem onder die hart van mense wat lief is vir Afrikaans. Hier is Afrikaanse studente veilig, tuis en welkom.

  1. Letterkunde

Dit is verblydend dat dit nog so goed gaan met die Afrikaanse letterkunde, soos gesien kan word in die hoeveelheid Afrikaanse boeke wat gepubliseer word. Daarom moet die Afrikaanse publiek aangemoedig word om hierdie boeke te koop. Dit is ook noodsaaklik dat skole seker maak dat die top Afrikaanse letterkunde soos Van Wyk Louw se Raka aan kinders oorgedra word.

  1. Onderwys-pyplyn

Dit is nodig dat daar gewerk word aan die hele Afrikaanse pyplyn, vanaf kleuterskole tot universiteite. Die goeie nuus is dat daar verskeie organisasies is wat hulself daarvoor beywer, te meer so omdat die ANC teen Afrikaanse skole regeer.

  1. Universiteit

Hoewel die belangrikheid van ʼn universiteit reeds as deel van Afrikaans se hoër funksies genoem is, is dit nodig om dit weer te noem. Die goeie nuus is dat daar reeds ʼn hele paar instellings ontstaan het wat opleiding op universiteitsvlak aanbied.

  1. Laer informele funksies

Dit is ook nodig dat Afrikaans se informele funksies aandag kry, of dit nou by braaivleis of troues is. Die belangrikheid om ons taal aan die jonger geslag oor te dra kan nie oorbeklemtoon word nie.

  1. Taalaktivisme

Daar is ook ʼn rol vir taalaktivisme, omdat dit soms nodig is dat ʼn sterk organisasie met spierkrag en getalle standpunt teen die benadeling van Afrikaans inneem. Dink maar hoeveel hofsake oor Afrikaans AfriForum al suksesvol gemaak het.

  1. Taalproduksie en -verbruik

Afrikaans geniet tans nog die momentum van die werk en beleggings van die verlede. Taalverbruik verwys onder meer na ligte musiek of populêre vermaak, en is belangrik vir Afrikaans. Terselfdertyd is dit nodig dat meer aandag aan taalproduksie gegee word, wat onder meer verwys na navorsing en die hoër funksies van Afrikaans.

  1. Kulturele selfvertroue

Afrikaners se kulturele selfvertroue is vir dekades aangeval en ondermyn, wat die lojaliteit aan Afrikaans nadelig geraak het. Dit hang saam met die kriminalisering van Afrikaners se geskiedenis, in ʼn poging om ons “op ons plek” en onderdanig aan die ANC-regering te hou. Daarom is dit noodsaaklik dat Afrikaners se geskiedenis “genormaliseer” word, en dat ons ons verlede “terugvat” en ewewigtig aan die volgende geslagte oordra.

  1. Kulturele selfverwesenliking

ʼn Taal wat net in sy informele funksies gebruik word se sprekers gaan mettertyd oorskuif na ʼn wêreldtaal met meer funksies en ʼn hoër status. Daarom is dit nodig dat platforms geskep word vir die hoogste vorme van kulturele selfverwesenliking, of dit nou die Afrikaanse filosofie, kuns en letterkunde, drama en teater, of wetenskap en die akademie is. Dit is ook nodig dat daar genoeg kulturele energie oftewel kulturele “kapitaal” moet wees om steeds groot prestasies in Afrikaans moontlik te maak. Spesiale aandag moet aan geleenthede vir Afrikaanse denkers en skrywers gegee word, omdat hulle ʼn bepalende rol in ʼn taal se toekoms speel.

  1. Taalmedia

Taalmedia speel ʼn onmisbare rol in die voortbestaan en florering van ʼn taal, veral  omdat dit as taalvermenigvuldiger dien. Dis noodsaaklik dat daar gratis gehalte Afrikaanse inligting op die internet beskikbaar is, soos Maroela Media, anders begin mense net die Engelse media lees. Afrikaanse radio en ander Afrikaanse media is net so belangrik. WEET, die nuwe Afrikaanse kinderensiklopedie, en die Afrikaanse Wikipedia is ook kernbelangrik vir Afrikaans.

  1. Kulturele ondernemingsgees

Dis belangrik dat daar ondernemers is wat nie net vir hulleself besighede begin nie, maar hulle ondernemingsgees gebruik om Afrikaanse gemeenskapsinstellings op te rig. Dit geld vir die hele spektrum van instellings soos skole, kunstefeeste, Afrikaanse media en ander kulturele instellings, groot en klein.

  1. Taalekonomie

ʼn Taal moet ʼn ekonomiese waarde hê. Daarom moet Afrikaans in die ekonomie bevorder word, en nuwe tegnologie kan hier goed gebruik word. Dit is merkwaardig hoeveel Afrikaanse ondernemings die afgelope jare ontstaan het, vanaf LekkeSlaap, Virseker tot Boerboel en De Afrikander Handelshuis.

  1. Kuns en kultuur

Die kunste, soos drama en teater, blyspele, musiek en ander kunsvorme moet deur die Afrikaanse publiek ondersteun word. Kinders en jongmense moet ook daaraan blootgestel word, omdat ʼn liefde van kleins as gekweek moet word.

  1. Taalontwikkeling

Die wêreld ontwikkel geweldig vinnig, en Afrikaans moet bybly met woordeskat en vakterme. Daarom is dit belangrik dat instellings soos die SA Akademie, Akademia, en VivA ondersteun moet word sodat Afrikaans voortdurend verder kan ontwikkel.

  1. Taalbeplanning

ʼn Kleiner taal kan nie net sy toekoms aan die toeval of ʼn regering oorlaat nie. Daar moet doelbewus taalbeplanning gedoen word deur alle instellings wat ʼn belang by die voortbestaan van Afrikaans het.

Ten slotte

Die toekoms behoort nie aan die doemprofete nie, maar aan die “doenprofete” wat planne maak en dan skouer aan die wiel sit om dit uit te voer. Afrikaans het ʼn blink toekoms voor as daar genoeg mense met ʼn taalwil is wat die hand aan die ploeg slaan om ʼn toekoms vir ons taal en sy sprekers te verseker.

VSA-tariewe: ANC-politiek ondermyn SA ekonomie

Politieke oorwegings weeg swaarder as ekonomiese faktore wanneer dit by die VSA-tariewe kom. Senior ANC-leiers soos Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, en Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne, hou aan om die VSA te beledig in plaas daarvan om diplomatieke verhoudinge te bou.

Dít ten spyte van VSA-leiers wat gewaarsku het “you’re not going to insult America for free”.
Hul openlike politieke weersin in die VSA-regering ondermyn die Suid-Afrikaanse ekonomie en veroorsaak nóg groter werkloosheid. Hul pogings om die ANC se politieke probleme op te los, gaan tot ekonomiese krisisse lei wat meestal hul kiesers gaan raak.

Terselfdertyd weier die ANC om die VSA se aandrang op noodsaaklike politieke hervormings ernstig op te neem en hanteer dit bloot as ʼn ekonomiese kwessie.
Die ANC is klaarblyklik vasgevang in die Koue Oorlog-era. Hulle bly klou aan die destydse anti-Westerse politieke beleide en alliansies, ten spyte van die ekonomiese krisis wat hulle veroorsaak.

Hul benepe rassebeleid gaan veel meer oor hul historiese anti-Westerse houding as oor regstelling. Hul vyandigheid strek tot die geboelie van wit burgers van Suid-Afrika as deel van hul diepgewortelde weersin in die Weste.

Die ANC probeer vergeefs om die winde van verandering te weerstaan en dink hulle is steeds die liefling van die wêreld. Daarom soek hulle aanhoudend en onnodig skoor met ʼn supermoondheid. Hierdie benadering gaan nog ernstige gevolge hê, en hulle gaan skoppend en skreeuend die toekoms ingesleep word.

Die ANC sal nog leer: Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie, en die toekoms gaan nie vanself regkom nie.

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.