Solidariteit Beweging gaan met Trump-administrasie praat

Die Solidariteit Beweging het aangekondig dat hy met die VSA regering in gesprek gaan tree oor pres. Donald Trump se uitsprake Sondagaand in die media oor Suid-Afrika. Die Beweging gaan terselfdertyd die Suid-Afrikaanse regering skakel en voortgaan met plaaslike druk om beleidsrigtings wat skadelik vir die land is, te takel.

Trump het Sondagaand aangekondig dat alle befondsing aan projekte in Suid-Afrika onmiddellik gestaak word. Verlede jaar het die Amerikaanse regering meer as 400 miljoen dollar se projekte in Suid-Afrika, veral in die bekamping van MIV/vigs gefinansier. Suid-Afrikaanse universiteite het ook finansiering van die Amerikaanse regering ontvang. Trump is duidelik bewus van pres. Ramaphosa se ondertekening van die Onteieningswet en dit, gekombineerd met die Suid-Afrikaanse regering se voortgesette internasionale regstryd teen Israel, was waarskynlik die katalisators wat tot Trump se ingrepe gelei het.
Trump word ook tans deur adviseurs in die Withuis aangemoedig om standpunt oor minderheidsregte in Suid-Afrika in te neem. Dit volg onder meer op verslae oor die omvang van rassediskriminasie teen minderhede in Suid-Afrika, die omvang van plaasaanvalle en -moorde die afgelope drie dekades en die ondertekening van die Bela-wet. Trump is die afgelope paar dae deeglik hieroor deur sy Afrika-adviseurs ingelig.

Die Solidariteit Beweging is een van die grootste burgerlike bewegings in Suid-Afrika en verteenwoordig sowat twee miljoen Suid-Afrikaners en ʼn netwerk burgerlike instellings, waaronder Solidariteit en AfriForum. Die Beweging is reeds die afgelope paar jaar met verskeie Amerikaanse politici in verbinding om te verseker dat Suid-Afrika se verhouding met die VSA nie skipbreuk lei nie.
“Die Solidariteit Beweging gaan die Trump-administrasie vra om druk op die ANC se beleidsrigtings te plaas, maar om nie gewone Suid-Afrikaners te straf deur maatreëls wat groter werkloosheid veroorsaak of die weerloses benadeel nie. “Ons hou nie van die ANC nie, maar ons is lief vir die land. Om hulp aan Suid-Afrika te sny sal die verkeerde mense raak,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

Terselfdertyd is groter buitelandse druk op die ANC noodsaaklik omdat die grondwetlike skikking tans  oor ʼn wye front verbreek word en die ANC voortgaan om alleen te regeer terwyl ʼn regering van nasionale eenheid (RNE) eintlik aan bewind is. Die VSA het ʼn groot verantwoordelikheid om toe te sien dat grondwetlike beloftes soos eiendomsreg, moedertaalskole en -universiteite, en die afskaffing van rassediskriminasie nagekom word, omdat dié beloftes instrumenteel was in die grondwetlike skikking van die 1990’s.

Die Solidariteit Beweging beplan ʼn reeks diplomatieke optredes wat insluit gesprekke met plaaslike diplomate en besoeke aan die Withuis. Die Solidariteit Beweging sal binnekort meer inligting bekend maak.
“Ons gaan gesprek voer oor kwessies soos onteiening, onderwys, gesondheidsorg, rassewette en Agoa. Die uitkoms waarna ons op soek is, is druk vir verandering van beleid, maar nie finansiële tipe sanksies teen die land nie. Om Suid-Afrika uit byvoorbeeld Agoa te skop sal tot die verlies van duisende werksgelenthede lei. Die gevolg sal groter armoede wees en die teelaarde vir meer radikale beleid,” het Buys gesê.

Intussen gaan die Solidariteit Beweging voort met die uitoefening van plaaslike druk. Volgens Buys gaan instellings soos Solidariteit en AfriForum voort met regsaksie oor die nuwe Onteieningswet, die Nasionale Gesondheidsorgversekering, Bela en die land se rassebedeling. “Ons beplan ook gesprekvoering met die ANC oor sy roekelose plaaslike en internasionale beleid wat vernietigende gevolge vir gewone Suid-Afrikaners kan hê,” het Buys gesê.

Dít is waarom die Solidariteit Beweging ons eie onderriginstellings bou

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê: “Ons brand nie en breek nie; ons bou en beskerm. Ons wag nie dat die regering ons probleme oplos nie; ons sal dit self doen, en ons sal dit ook saam doen as dit kan.”

Kritiek wat die Solidariteit Beweging dikwels oor ons onderriginstellings (Sol-Tech, Akadmia, Bo-Karoo Opleiding en Gimnasium) kry, is dat ons ander ras- en kultuurgroepe wil uitsluit en poog om onsself van die res van Suid-Afrika te isoleer.

Dit sal egter meer akkuraat wees om te argumenteer dat openbare universiteite nie ruimte gun vir Afrikaanse kultuur nie. Afrikaans is in die meeste tersiêre staatsinstellings byna uitfaseer. Christelike waardes is nie noodwendig meer die norm nie. Ons universiteite het ’n politieke speelveld geword, eerder as ’n plek waar jongmense hul denke en menswees in ’n veilige omgewing kan vorm.

Die ware redes waarom die Solidariteit Beweging ons eie onderriginstellings bou, is die bevordering van moedertaalonderrig, om ’n plek te skep waar ons Christelike waardes kan beoefen en uitleef, om ruimte te skep waar studente kan deel wees van ’n gemeenskap met ooreenstemmende waardes, om gehalte-onderrig te bied wat behoeftes in die arbeidsmark takel, en om studente voor te berei om uitnemend in hul beroepe te wees.

Die Solidariteit Beweging bou hul eie onderriginstellings, soos die Sol-Tech kampus.
Die Solidariteit Beweging bou hul eie onderriginstellings, soos die Sol-Tech kampus.

 

  1. Die bevordering van moedertaalonderrig

Navorsing bewys dat studente wat in hul moedertaal onderrig word, akademies beter presteer as studente wat in hul tweede of derde taal leer. Jaar na jaar bewys Afrikaans-medium skole se matriekuitslae dat moedertaalonderrig die resep vir sukses is.

By die onderriginstellings van die Solidariteit Beweging word daar slegs in Afrikaans onderrig. Dié instellings is van die enigste tersiêre instellings in die land wat onderrig slegs in Afrikaans aanbied. Met Afrikaans wat toenemend as onderrigtaal bedreig word, skep ons instellings hoop. Sonder om vervolging te vrees, kuier, leer, sing en bid studente in Afrikaans – hul moedertaal.

 

  1. Om ’n plek te skep waar ons Christenskap kan beoefen

Om in die openbaar met skriflesing en gebed te open, is ’n voorreg wat nooit as vanselfsprekend aanvaar mag word nie. Buys verwoord die Solidariteit Beweging se uitgangspunt oor geloof: “Ons voel sterk oor Christenskap, ook omdat dit een van die min samebindende waardes in ons verdeelde land is, waar die Suid-Afrikaanse nasie grootliks net ’n geografiese uitdrukking is.”

By die Solidariteit Beweging se onderriginstellings word Christelike waardes gekoester en openlik onder die studente en personeel bevorder. Christenskap is die enigste geloof wat hier beoefen word en die studente voel veilig om hul geloof uit te leef en te groei in ’n omgewing waar hulle ondersteun word.

 

  1. Om ’n ruimte te skep waar studente deel kan wees van ’n gemeenskap met ooreenstemmende waardes

Akademia, Sol-Tech en Bo-Karoo Opleiding bied verskeie studente-aktiwiteite aan waar studente hul leierskapvaardighede kan slyp en vriende kan maak wat dieselfde as hulle dink en glo.

Hiér is waar jongmense in ’n veilige omgewing geslyp en gevorm word om selfstandige en standvastige volwassenes te wees.

 

  1. Die bied van gehalte-onderrig wat behoeftes in die arbeidsmark takel

Sol-Tech is begin omdat gesien is dat daar ’n tekort aan opgeleide ambagslui in die land was. Suid-Afrika het nie oor genoeg gehalte-opleidingskolleges beskik nie en al hoe minder jong persone het hulself in dié loopbaanrigting gekwalifiseer.

Vandag is Sol-Tech tjokvol studente en die leemte in die arbeidsmark word gevul. Studente word nog voor die einde van hul studie by werkgewers geplaas, en baie studente word bemagtig om hul eie ondernemings te begin.

In 2025 open Sol-Tech ook sy eie toetssentrum waar ambagslui akkreditasie kan ontvang. Deur die gapings in die arbeidsmark aan te pak, dra die Solidariteit Beweging by tot die bevordering en groei van die ekonomie. Verder word daar nuwe werksgeleenthede vir jongmense geskep.

 

  1. Studente word voorberei om uitnemend in hul beroepe te wees

In Suid-Afrika verseker ’n tersiêre kwalifikasie alleen nie meer ʼn pos vir ’n jong gegradueerde nie. Die werksloosheidsyfer is 32,1% en byna die helfte van dié werkloses is jongmense. Verder het jong werkendes nie altyd die ervaring of kennis om in hul werksomgewing suksesvol te wees nie.

By die Solidariteit Beweging se onderriginstellings word studente bemagtig om vanaf die eerste dag by ’n nuwe werk uitnemend te wees. Die Solidariteit Beweging lei nie net studente op in ’n vakgebied nie, maar in waardes en werksetiek wat hul kop en skouers bo ander kandidate laat uitstaan.

 

Die Solidariteit Beweging hoop nie op ’n goeie toekoms nie; ons bou vir onsself ’n toekoms waarin ons gemeenskappe en kinders vry, veilig en voorspoedig kan leef en leer. Ons onderriginstellings is nie op politieke motiewe gebou nie, maar eerder om hoop en geleenthede te skep.

 

 

Twaalf wenke vir studente

Flip Buys 

Hierdie artikel is gepubliseer op Maroela Media

Duisende eerstejaarstudente pak eersdaags hulle studie aan. Hoewel Langenhoven gesê het jy moet jou studie met lekkerkry klaarkry, wys die praktyk dat baie jongmense eerder swaarkry as lekkerkry.

  1. Geniet jou studentetyd

is ʼn groot voorreg om te kan studeer. Gryp die geleentheid aan en geniet dit, want jy is net een keer ʼn student! Studente het die voordele van volwassenheid sonder al die verantwoordelikhede. Studentwees is soos om met jou pa se kar rond te ry: Die vryheid en mobiliteit het jy, maar die paaiemente gaan nog van iemand anders se rekening af!

  1. Gebruik jou kans

Gebruik jou kans om te studeer, want ʼn goeie kwalifikasie is ʼn onontbeerlike voorvereiste vir ʼn goeie werk of eie besigheid. Geniet jou studentelewe, maar sorg dat jy jou kwalifikasie suksesvol en in die minimum tyd afhandel. Jy sal die res van jou lewe dankbaar daarvoor wees. ʼn Goeie kwalifikasie kom nie verniet nie; dit kos harde werk en baie geld, maar bied ʼn onvergelykbare opbrengs op die belegging.

  1. Besef wat die doel van studie is

Die doel van studie is nie net om jou vir jou beroep voor te berei nie, maar om jou vir jou roeping toe te rus. ʼn Kwalifikasie help met ʼn werk, maar wie vir sy of haar roeping voorberei, is verseker van ʼn loopbaan, en selfs ʼn snelweg! Werk dus aan jou kwalifikasie, maar ook aan jou eie vorming, ontwikkeling en menswees.Vryheid en verantwoordelikheid

  1. Vryheid en verantwoordelikheid

ʼn Student het ongekende vryheid, want jy is nie meer onder die skool of jou ouers se toesig nie, en is nog nie onderworpe aan die dissipline van die werkplek nie. Hierdie vryheid laat studente soms struikel, want nie almal besef dat dit met verantwoordelikheid gepaard gaan nie. Sorg dus dat jy jou tyd so struktureer dat die vryheid jou nie pootjie nie. Gebruik jou vryheid om doelgerig te werk, en geniet jouself ten volle, maar kom jou belangrikste verantwoordelikheid na, naamlik om jouself te kwalifiseer. Tydbestuur is ʼn groot uitdaging, maar niemand wat sukkel om sy dag te bemeester kan ooit sy graad ten volle bemeester nie.

  1. Bly by

Op skool was die onderwysers deurlopend daar om jou te help om by te bly, en hulle het mede-verantwoordelikheid vir jou sukses geneem. Universiteite en kolleges werk anders. Studente wat nie by die vinnige tempo bybly nie, is seker die grootste rede vir die mislukking van studente wat nie deurkom nie. Sorg dus dat jy nie agter raak nie, anders raak die werk net te veel om in te haal.Byt vas

  1. Byt vas

Dis nie maklik om ʼn kwalifikasie te verwerf nie, anders het almal een gehad. Moenie opgee nie – byt vas en volhard wanneer dit moeilik gaan. Dit bou karakter en vorm jou om eendag uitdagende take in die werkplek aan te pak. As dinge druk, bly kalm en glo in jouself, want soos Henry Ford dit gestel het: Ongeag of jy dink jy kan, of dink jy kan nié, jy sal in albei gevalle reg wees.

  1. Neem deel aan die studentelewe

Die doel van universiteite en kolleges is nie net opleiding nie, maar ook die ontwikkeling en vorming van die student vir sy of haar lewe. Daar word gesê dat deelname aan die studentelewe net soveel werd is as ʼn ekstra graad. Dit bied ʼn veilige omgewing waarin studente veel meer lewensvaardighede kan leer as net wat in die handboek staan.

Daarom is die vormingsideaal so belangrik. ʼn Universiteit of kollege is immers nie net ʼn akademiese supermark nie; dit gaan oor die volle ontwikkeling van jou menswees. Neem dus deel aan die studentelewe, ook as jy nie in ʼn koshuis is nie, en waar moontlik selfs as jy ʼn afstandstudent is. Dit bou ook lewenslange netwerke waaruit jy dekades lank kan put. Die vroeë blootstelling aan leierskap, verantwoordelikheid en gesonde druk in ʼn veilige omgewing sal jou ook in jou werksonderhoude onderskei en jou CV laat uitstaan. Benut elke geleentheid vir ontwikkeling.

  1. Benut elke geleentheid vir ontwikkeling

Studentetyd bied baie geleenthede vir ontwikkeling, maar jy sal dit moet gaan soek en benut, want dit land nie in jou skoot nie. Loop die ekstra myl vir die plek waar jy studeer, vir jou medestudente en vir jou studie. Jy sal verseker die vrugte daarvan pluk, omdat enige werkgewer voorkeur sal gee aan ʼn aansoeker wat meer gedoen het as wat hulle moes.

  1. Beroep en roeping

Leer die verskil tussen ʼn beroep en ʼn roeping. ʼn Beroep is wat jy doen, en ʼn roeping is hoekom jy dit doen. Dis verskriklik om vir dekades lank te werk aan ʼn beroep waar jy voel dat jy jou lewensdoel mis. Soek dus na jou roeping, bid daaroor, en vra raad by mense met wysheid. Ware lewensgeluk spruit uit iemand wat hulle passie lewenslank uitleef, en boonop daarvoor betaal word.

  1. Vra en gebruik hulp

Hulp is dikwels net ʼn e-pos, oproep of besoek vêr. Enige mens het soms hulp nodig. Die universiteit of kollege wil graag hê jy moet suksesvol wees en bied verskeie hulpdienste aan studente. Hierdie dienste strek gewoonlik vanaf bystand met studiemetodes, finansies, persoonlike uitdagings en geestelike behoeftes. Vind uit waar daardie hulp beskikbaar is en gebruik dit as jy dit nodig het.</p><p>Die grootste fout wat jy kan maak, is om nie vir hulp te vra as jy dit nodig het nie. Die tweede grootste fout sou wees om te laat vir hulp te vra. Opleiding is gebou op die skouers en sweet van hulle wat voor ons gekom het. Hulle wou die volgende geslagte help, en het instellings gebou met die uitgesproke doel om jou te help om jou talente te ontgin en jou drome te verwesenlik.

  1. Werk aan jou welstand

Mense is veelkantig. Daarom gaan menslike welstand oor welstand in die wydste sin: fisiek, akademies, geestelik, emosioneel, finansieel en sosiaal. Handhaaf ʼn balans tussen al hierdie fasette, en werk gedurig aan almal.

  1. Kulturele burgerskap

ʼn Samelewing kan net voortbestaan as elke geslag vir die volgende een leef. Diegene wat voor jou was, het die universiteit of kollege opgerig waar jy nou die versamelde kennis en wysheid van baie geslagte kan leer. Bemeester dit, bewaar dit, voeg jou deel daarby, en gee dit dan aan vir die volgende geslag sodat hulle ook daaruit kan put.

ʼn Universiteit of kollege is nie net ʼn plek waar jy moet leer nie; dit is ook ʼn ruimte waar ons kultuur van geslag tot geslag oorgedra word. Jy is nie net ʼn landsburger nie, maar ook ʼn “kultuurburger”, oftewel lid van ʼn kultuurgemeenskap soos Afrikaners wat uit ʼn ketting van geslagte bestaan. Dis dié wat reeds weggeval het, dié wat nou leef, en dié wat nog kom. Dis hoekom die gemeenskap hierdie universiteit of kollege vir jou opgebou het.

Al kry jy dit verniet, was dit beslis nie gratis nie. Bou voort op wat ander vir jou opgebou het.

Skooltassie-projek vier 18 jaar van hoop

Graad 1-leerders van nagenoeg 130 skole landwyd het die nuwe skooljaar met ʼn breë glimlag afgeskop ná hulle skooltassies propvol skryfbehoeftes ontvang het.

Solidariteit Helpende Hand dryf jaarliks die skooltassie-projek, wat behoeftige kinders reeds vir 18 jaar met ʼn skooltas, gevul met al die nodige skryfbehoeftes vir die eerste jaar van hulle skoolloopbaan, toerus.

Alhoewel baie van die tassies verlede jaar uitgedeel is, het Helpende Hand Woensdag (17 Januarie) ʼn simboliese uitdeeldag by Laerskool Saamspan in die weste van Pretoria gehou. Die organisasie se gelukbringer, Braaf die Boerboel, het sommer ook sy spiere ingespan om van die tassies aan leerders te oorhandig.

“Ons missie is om kinders ʼn gelyke kans te gee op sukses deur hulle met die regte gereedskap te bemagtig. Hierdie tassies is meer as net houers – dit is ʼn simbool van hoop, selfvertroue en die moontlikheid van ʼn blink toekoms,” sê Danelle du Plessis, die organiseerder van die projek.

Elke tassie bevat ʼn pennesakkie, grys potlode, inkleurpotlode, uitdraaikryte, ʼn skêr, uitveër, gom, liniaal, witbordjie en witbordpenne. Elke tassies bevat ook ʼn Christelike leesboekie.

Met die ondersteuning van verskeie borge soos Pretoria FM, Boerboel Wear, Lig in Duisternis Uitgewers (verskaffers van die Witrokkie-boekie) BIC (verskaffer van HB- en inkleurpotlode), Finesse Voelgoed Media (skenking van kontant) en KIMOsource (verskaffers van liniale), was die dag ʼn feestelike geleentheid.

Leerders het hul tasse met groot opgewondenheid ontvang en is nou gereed om hul akademiese reis te begin.

Die “Witrokkie”-boekie verskaf deur Lig in Duisternis Uitgewers is by elke tassie ingesluit. (Foto: Verskaf)

Die projek is oor die jare moontlik gemaak danksy vrygewige donasies van die publiek en die betrokkenheid van plaaslike gemeenskappe. Helpende Hand nooi alle Suid-Afrikaners om deel van hierdie inisiatief te word deur ʼn skooltassie te skenk en só die lewe van ʼn kind te verander.

Vir meer inligting of om by te dra, besoek Solidariteit Helpende Hand se webwerf by Tassie.co.za.

Afrikaner-opkoms in die 21ste eeu

Ernst Roets 

Hierdie artikel is op Maroela Media gepubliseer. 

Meer as drie dekades het verloop sedert politieke oorgang in Suid-Afrika in 1994. Die wêreld het dit gevier toe die ANC, onder leiding van Nelson Mandela, die bewind oorgeneem het in wat algemeen beskou is as die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika.

Die viering is in 1995 herhaal toe Suid-Afrika die Rugbywêreldbeker gewen het – wat geneem is as ʼn teken dat die Suid-Afrikaanse politieke projek werk. Die viering is ook in 1996 herhaal toe Suid-Afrika dít wat as die mees liberale, mees moderne en mees demokratiese grondwet in die wêreld beskryf is, aangeneem het.

Die BBC het ʼn dokumentêr getiteld Miracle Rising vervaardig waarin bekendes soos Oprah Winfrey, Bono (van die rock-groep U2) en Charlize Theron die situasie in Suid-Afrika ontleed en verduidelik het tot watter mate die politieke oorgang die gevolg van ʼn goddelike ingryping moes wees. Suid-Afrika het ook die ná-kindertydse suksesverhaal van die Verenigde Nasies geword – ʼn voorbeeld dat die toepassing van moderne globalistiese ideologieë op diverse samelewings tot sukses lei.

Natuurlik was daar, benewens die feit dat die oorgang nie tot die burgeroorlog gelei het wat deur talle voorspel is nie, regtig geen tasbare aanduiding dat die stelsel sou werk nie. Die destydse viering was grootliks daaraan te danke dat mense werklik gehou het van die ANC en Nelson Mandela wat die status van ʼn heilige verkry het – meestal as gevolg van sy passievolle pleidooi vir versoening ondanks sy tronkstraf, en danksy die feit dat die geskrewe teks van die Suid-Afrikaanse Grondwet ʼn manifestasie van die liberale demokrasie was.

Op daardie tydstip was dit bykans onmoontlik om enigiets hiervan teë te staan. Die narratief was net té sterk. En ʼn poging om ʼn teenargument te bied of om te waarsku teen die vooruitsigte van ʼn sosialistiese ANC-geleide regering is met aggressiewe beskuldigings van rassisme en anti-demokratiese sentiment begroet.

Mense het blykbaar vergeet dat die meeste Afrikaners ook ʼn einde wou maak aan die apartheidstelsel wat gevestig was op die idee van verskillende tuislande vir verskillende volke, maar wat op die ou end ʼn onverdedigbare stelsel van gedwonge skeiding geword het, kompleet met banke en strande wat volgens ras toegewys is.

Die vraag was nie of die stelsel moes eindig nie, maar hoe dit beëindig behoort te word, en nog belangriker waarmee dit vervang moes word. Maar, om aan te voer dat ʼn stelsel wat in ʼn land so groot en so divers soos Suid-Afrika eksklusief op Westerse individualistiese menseregte gebou is, nie ʼn volhoubare alternatief sou wees nie aangesien dit nie na behore voorsiening sou maak vir die aspirasies van die diversiteit van kulturele gemeenskappe nie, is met fel skeptisisme begroet. Om so te argumenteer is as ʼn aanval op die demokrasie geïnterpreteer.

Dit was ʼn rampspoedige tyd vir die Afrikaners. Alles wat as “Afrikaner” geëtiketteer kon word, is fundamenteel as rassisties en agterlik bestempel. Ons kon nie eers die woord “Afrikaner” gebruik om ons gemeenskap te beskryf nie. Nie vanweë een of ander wet nie, maar bloot omdat dit algemeen as onvanpas beskou is om ʼn Afrikaner te wees. Voorts het feitlik elke Afrikaner-instelling in duie gestort – insluitend die politieke partye en drukgroepe. Dit is deels toe te skryf aan die feit dat talle van hierdie instellings op een of ander manier afhanklik was van, of met die staat verbind was.

Tog het dinge nie uitgedraai soos wat Oprah Winfrey, Bono en Charlize Theron voorspel het nie. Die destydse politieke golf was koorsagtig ten gunste van die nuwe Suid-Afrikaanse regering en die regerende ANC – ʼn beweging wat sy eie ideologie met trots as ʼn mengsel van ras-nasionalisme en sosialisme beskryf het. En so, in ʼn tragies ironiese draai, het ʼn self-toegedigte nasionaal-sosialistiese beweging ná die val van die Berlynse Muur, die gevierde gesig van liberale demokrasie geword.

Op daardie tydstip het die jong Flip Buys, wat die leier van die hoofsaaklik Afrikaanse Mynwerkersunie (MWU) van Suid-Afrika geword het, gemeen dat wanneer politiek beoordeel word, dit belangriker is om die getye as die golwe in ag te neem. Al was die golwe oorweldigend heuglik, was die gety ook duidelik – geen sosialistiese, revolusionêre beweging kon nog ooit verantwoordelik regeer nie.

Toe die ANC aan bewind gekom het, het hulle seker gemaak om dit te stel dat hulle nie as ʼn politieke party of as ʼn regering beskou moes word nie, maar as ʼn bevrydingsbeweging-aan-bewind, wat steeds tot revolusie verbind was. Dit moes ʼn ooglopende rooi lig gewees het. Tog was die vreugdevolle stemming net te oorweldigend om oor sulke ongemaklikhede bekommerd te wees.

En so het die Afrikaners begin beplan.

Die prys om ons identiteit, kultuur en tradisie te laat vaar, was net té hoog, al is dit wat van ons verwag was. Die nuwe Suid-Afrikaanse projek kan in die woorde van Samora Machel beskryf word: “ … for the nation to prosper, the tribe must die”. Met ander woorde, om die nuwe Suid-Afrikaanse identiteit te laat slaag, moet die kultuurgemeenskappe wat Suid-Afrikaanse burgers as lede het ontbind. Dit is omdat die ANC en sy rasieleiers kultuur en gemeenskaplike identiteit beskou het as “agterlik” en as “stamdenke” wat tot die verlede behoort.

Dit was in hierdie tyd wat die Afrikaners besluit het om ʼn beweging te bou. Gegrond op dit wat ons uit historiese ervaring kon leer, was die mees waarskynlike toekomsvooruitsig dat Suid-Afrika nie die suksesverhaal sou wees wat van die dakke af uitgebasuin is nie.

Ons het die uiters belangrike les oor die gevare van statisme geleer – die Afrikaners het ʼn groot deel van die tweede helfte van die 20ste eeu daaraan bestee om ʼn sterk staat te bou wat eerstens moreel onverdedigbaar geword het en tweedens amper oornag ingehaal is, en onmiddellik teen ons gedraai is. Weens die feit dat ons ʼn numeriese minderheid is, het die vooruitsig om sake deur verkiesings te verander onrealisties geword.</p>

En so het ons omstandighede daartoe gelei dat ons ʼn fundamentele waarheid oor die menslike toestand herontdek het. Dit is die belangrikste feit waarop nie net die Afrikanerdom nie, maar die Weste gebou is. Eerstens en primêr is dit die feit dat mense van nature gemeenskapswesens is. Ons wil instinktief ons gemeenskappe en die dinge wat ons geërf het bewaar, al is moderne globalistiese ideologieë hewig daarteen gekant. Tweedens is dit ʼn feit dat die enigste weg na voorspoed en sukses deur gemeenskapsinstellings loop.

Al bly verantwoordelike burgerskap vir ons belangrik, het ons besef dat die staat net probleme en geen oplossings nie sou oplewer. As ons as ʼn gemeenskap wou oorleef, moes ons ons eie oplossings vind. Ons het weer geïnspireer geraak deur die woorde van die Afrikaner-godsdiensleier Vader Kestell wat gedurende die 1930’s gesê het: “ʼn Volk red homself” en uiteindelik het ons ʼn aangepaste weergawe daarvan aangeneem as slagspreuk van ons tyd: “Ons sal self”.

En so is die Afrikanerprojek van die 21ste eeu daarop gemik om ʼn toekoms vir ons gemeenskappe te verseker deur die bou en versterking van ʼn netwerk van gemeenskapsinstellings. Dit het begin met die herbenaming en verandering van die beeld van die Mynwerkersunie tot Solidariteit, die herskryf van sy grondwet en Buys se aankondiging dat hierdie instelling die basis van ʼn nuwe beweging van instellings moet vorm.

Al het feitlik al die Afrikanerinstellings teen die einde van die 20ste eeu in duie gestort, het die Solidariteit Beweging, soos ons dit vandag ken, in ʼn kwessie van ʼn paar dekades tot ʼn netwerk van meer as 50 instellings gegroei wat aktief in verskeie sfere van die Afrikanergemeenskapslewe werk om ʼn toekoms vir ons gemeenskap te verseker.

Hierdie instellings sluit in:

  • die Christelike werkersinstelling Solidariteit;
  • die burgerregtegroep AfriForum;
  • die gemeenskapsopheffingsinstelling Solidariteit Helpende Hand;
  • die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, die FAK;
  • verskeie akademiese instellings, insluitend die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, die ambagsopleidingskollege, Sol-Tech, en die hoëronderwysinstelling, Akademia;
  • verskeie media-instellings, insluitend Maroela Media, die grootste Afrikaanse aanlyn nuusplatform;
  • die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton;
  • die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, OOM; en talle ander.

Ons glo dat die enigste volhoubare toekoms een is waarin gemeenskappe deur hul eie instellings verantwoordelikheid vir hulself aanvaar en waarin wedersydse erkenning en respek en vreedsame naasbestaan aangemoedig word. Gevolglik is ons benadering gebaseer op dit wat ons binding en brugbou kan noem. Binding impliseer om aktief binne ons eie gemeenskap te werk en om trots te wees op wie ons is en waarvoor ons staan. Brugbou beteken om uit te reik na ander gemeenskappe om saam te werk in die geval van sake waaroor ons saamstem.

Intussen lyk dit of die politieke bedeling in Suid-Afrika na alle waarskynlikheid gaan misluk. Suid-Afrika is volgens amper elke denkbare maatstaf op pad na mislukking. Tog is dit eenvoudig te vergesog om oplossings van die regering te verwag. Ons sal met die regering saamwerk waar ons kan, maar ons is dankbaar vir die feit dat ons weer ontdek het wat dit van ʼn gemeenskap verg om te floreer.

Om hierdie redes vind die woorde van Winston Churchill, dat die toekoms reeds gebeur het al is dit nie eweredig versprei nie, diep aanklank by ons. Ons glo dat wat die krisis betref die toekoms van die Westerse wêreld op sekere belangrike maniere reeds in Suid-Afrika gebeur het. Maar meer as dit, ons glo ook dat wat die oplossings betref, die toekoms op sekere belangrike maniere reeds aan die gebeur is.

Ernst Roets is die hoof van die Afrikanerstigting
Ernst Roets is die hoof van die Afrikanerstigting

Solidariteit, AfriForum en SOS begin met regsaksie teen die Bela-wysigingswet

Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het met regsaksie teen die promulgering van die Bela-wet begin.

Volgens dié organisasies het president Cyril Ramaphosa irrasioneel en strydig met verskeie ooreenkomste en ʼn aanbeveling van die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, opgetree deur die Bela-wysigingswet in sy geheel te promulgeer. Gwarube het aanbeveel dat die implementering van die taal- en toelatingsartikels in die wet weens die afwesigheid van toepaslike norme en standaarde uitgestel moes word.
Die minister het volgens dié organisasies ook irrasioneel opgetree deurdat sy die promulgeringskennisgewing mede-onderteken het, en strydig met haar aanbevelings van skaars twee weke tevore aan Ramaphosa dat die wet nie ten volle gepromulgeer moet word nie. Die minister het ook aanbevelings aan Ramaphosa gemaak wat sekere beskerming aan onder meer moedertaalonderrig en Afrikaanse skole sou kon bied.

Solidariteit, AfriForum en die SOS, wat almal deel van die Solidariteit Beweging is, het reeds regsbriewe aan onderskeidelik Ramaphosa en Gwarube gestuur waarin uitgewys word dat die ondertekening van die promulgeringskennisgewing irrasioneel is.
Ingevolge die regsbriewe het die minister en president tien dae om die dispuut op te los. Indien daar nie ʼn oplossing is nie, het die partye geen ander keuse as om hof toe te gaan nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die promulgering van die Bela-wet in sy geheel ʼn daad van aggressie deur die regering teen Afrikaanse skole en kinders. “Die promulgering is ʼn aanduiding dat die ANC besig is om die regering van nasionale eenheid in ʼn regering van nasionale onenigheid te omskep wat poog om partye soos die DA en VF+ bloot te koöpteer om die ANC se beleid te help uitvoer,” voeg Kriel by.

Kallie Kriel
Kallie Kriel

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het aangedui dat sy organisasie onaangenaam verras was om te sien dat die Bela-wet in sy geheel gepromulgeer is, sonder enige voorwaardes soos deur die minister aan die president aanbeveel. Volgens hom is die promulgering ʼn oneerbare verbreking van die ooreenkoms wat die regering by Nedlac met Solidariteit onderteken het. “Die Grondwet en regspraak bevestig dat die minister se aanbeveling, as verantwoordelike persoon vir die implementering van die wet, swaar weeg. Die promulgering van ʼn wet is nie die alleentaak van die president nie. Die doel van die aanbevelings van die minister is om die inwerkingstelling van die wet uit te stel sodat die nodige stappe gedoen kan word om die wetgewing effektief in werking te stel,” sê Hermann.

Dirk Hermann
Dirk Hermann

Volgens Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, het die president geen redes aangevoer waarom hy die minister se aanbevelings en ooreenkomste wat bereik is bloot geïgnoreer het nie. “Dit wil dus voorkom of die president se irrasionele promulgering van die Bela-wet in sy geheel geswig het voor die politieke druk van die anti-Afrikaanse elemente in die ANC,” aldus Fourie.

Leon Fourie
Leon Fourie

Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging, het aangedui dat die instellings van die Solidariteit Beweging nou, benewens die regstappe wat teen die Bela-wet se promulgeringskennisgewing gedoen word, ook in die komende jaar sal fokus om te help toesien dat die norme en standaarde, en regulasies rakende die taal- en toelatingsbeleid van skole wat nou deur die minister van basies onderwys opgestel moet word, bepalings bevat wat sal poog om magsmisbruik deur onderwysamptenare om Afrikaanse skole te teiken, te help verhoed. “Die instellings van die Solidariteit Beweging behou ook die reg voor om ná die afhandeling van die regsaksie teen die promulgeringskennisgewing, ook regstappe te doen teen die ongrondwetlikheid van die Bela-wet self,” voeg Human by.

Werner Human
Werner Human

Klik hier vir die aanmaning vir die President en vir die minister.

Watter gebeure van 2024 gaan onthou word?

Aan die einde van ’n jaar kan ʼn mens nie anders nie as om terug te kyk op die groot veranderinge en mylpale wat Suid-Afrika en die wêreld in 2024 gesien het. Dit was ’n jaar van politieke onstabiliteit en nuwe leierskap oral ter wêreld. In Suid-Afrika het ons vir die eerste keer in 30 jaar ’n nuwe regering – maar ons beleef steeds vele uitdagings. Ons veg vir die behoud vir Afrikaans in ons skole en ons media. In die wêreld heers daar oorloë en word daar gestoei met dringende kwessies soos onwettige immigrasie.

In ’n neutedop is daar ’n paar hoofopskrifte van 2024 wat die moeite werd is om te onthou. In ’n geskiedenishandboek sal 2024 moontlik die inleiding wees om ’n nuwe globale era te verstaan.

Suid-Afrika in 2024

ANC verloor sy volstrekte meerderheid vir die eerste keer in 30 jaar

Die vyfjaarlikse Suid-Afrikaanse verkiesing het vanjaar internasionale hoofopskrifte gehaal toe die ANC vir die eerste keer in 30 jaar sy volstrekte meerderheid in die parlement verloor het en net 40,18% van Suid-Afrikaners se stemme op hom kon verenig.

Vanjaar se verkiesing was die onsekerste nóg in byna drie dekades. Daar is verskeie redes hiervoor, maar dit was hoofsaaklik omdat Suid-Afrikaners hul vertroue in die regering verloor het weens jarelange korrupsie en agteruitbestuur deur die regerende party.

Regering van Nasionale Eenheid (RNE) bring hoop, maar moet homself nog bewys

Baie Suid-Afrikaners is met nuwe hoop vir die toekoms van die land vervul ná die aankondiging dat die DA, Vryheidsfront Plus, PA en ander partye saam met die ANC in die RNE sal dien. Alhoewel die RNE wankelrig is en nog vele vuurtoetse moet deurstaan, breek dit tot ’n groot mate die ANC se destruktiewe mag. Die sukses van die RNE sal miskien die toekoms van Suid-Afrikaanse politiek bepaal. Die RNE blyk steeds onstabiel te wees en daar word steeds intern oor vele kwessies gestry, aangesien die ANC steeds probeer om alleen gesag uit te oefen.

Suid-Afrikaners sien die lig ná byna ’n jaar sonder beurtkrag

Toe beurtkrag op 26 Maart soos mis voor die son verdwyn, het baie gedink dit is ʼn laaste desperate poging om steun te werf voor die verkiesing. Nou, nege maande later, wonder Suid-Afrikaners of beurtkrag iets van die verlede is. Die eerlike en realistiese antwoord is dat Suid-Afrika se kragnetwerk nog nie in ’n volhoubare en bekostigbare fase is nie. Groot debatte rakende die privatisering van energiehulpbronne duur steeds voort.

Die president het sy pen gekry – en ry aan die pen daaroor

Nog voor die aanvang van die verkiesing het president Cyril Ramaphosa twee kontroversiële wette onderteken wat heel moontlik verband hou met die ANC se verlies aan stemme tydens die verkiesing: die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela).

Die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)

Die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) behels kortliks dat nasionale gesondheidsorg deur die regering alleen befonds word en dat dit onwettig sal wees om finansiering vir gesondheid op enige ander wyse te bekom. Lees meer besonderhede oor die wet hier.

Kort ná die ondertekening van NGV-wet het Solidariteit aansoek gedoen om die wet in die hof uit te daag. Solidariteit het intussen ’n deurbraak gemaak in die hof deur ʼn “pilaar van die NGV te laat kantel” toe die Noord-Gautengse Hooggeregshof artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheid van 2003 as ongrondwetlik verklaar het. Volgens Solidariteit was die doel van hierdie artikels om die weg vir die NGV-wet te baan.

Die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela)  

Ná volgehoue druk van die gemeenskap het president Cyril Ramaphosa ’n driemaande-tydperk gegee vir gesprekke rakende die klousules in die wet wat op taal en toelating betrekking het. Die Solidariteit Beweging was in onderhandelingsgesprekke met die regering gewikkel, en op 5 November het duisende mense by die Voortrekkermonument byeengekom om hul teenkanting teen die Bela-wet te wys.

Op 28 November het die Solidariteit Beweging aangekondig dat die onderhandelinge oor die Bela-wet vrugte afgewerp het. Die gewraakte artikels oor taal en toelating sal nie op 13 Desember in werking gestel word nie. Lees meer daaroor hier.

Die einde van gedrukte Afrikaanse koerante

Die laaste dag waarop koerantlesers die kraakvars Beeld– en Rapport-koerantpapier onder hul vingers kon voel, was op 20 Desember 2024. Dit word deur baie as ’n hartseer dag vir Afrikaanse joernalistiek beskou. Vroeër vanjaar het taaldebatte losgebars oor Media24 se besluit om die Afrikaanse drukname Rapport en Beeld heeltemal te digitaliseer. Danksy ondersteuning van die gemeenskap en druk van Solidariteit kon die beplande aantal personeellede wat afgelê sou word, minstens verminder word.

Burgermeester-herrie breek in Tshwane los

’n Donker wolk het in die laaste helfte van 2024 oor die Tshwane munisipaliteit gehang ná die verraad van Action SA teenoor die DA in hul koalisieregering van die Tshwane-munisipaliteit. Pretoria val in dié munisipaliteit. Burgermeester Cilliers Brink is brutaal uit sy amp verwyder met ’n mosie van wantroue. ActionSA het met die EFF-party saamgewerk om van Brink ontslae te raak. Dr. Nasiphi Moya van ActionSA beklee sedert Oktober die amp van burgemeester van hierdie metropolitaanse munisipaliteit. .

Die redes wat vir die mosie van wantroue teen Brink aangevoer is, was swak dienslewering, alhoewel 64% van inwoners aangedui het dat hulle tevrede was met die gehalte van dienslewering in die munisipaliteit. Die DA voer aan dat ActionSA weens hul eie politieke agenda nie in die skadu van die sukses van die DA wou staan nie.

Akademia kondig sy planne vir ’n nuwe kampus aan

Ten midde van al die politieke gebeure met die Bela-wet en die bedreiging vir Afrikaans in skole en universiteite, kondig die ontwikkelingsmaatskappy Kanton die nuwe kampusontwikkelingsprojek van Akademia in Pretoria aan. Dié kampusprojek is die grootste ontwikkelingsprojek in die geskiedenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe en verteenwoordig ’n groot historiese mylpaal om die volhoubaarheid van hoër onderwys in Afrikaans te verseker. Die koste van die projek sal nagenoeg R3 miljard beloop, en die eerste fase sal in 2028 voltooi word.

 

Die wêreld in 2024

Geskiedkundige oorwinning vir Trump in die Amerikaanse verkiesing

Die 2024-verkiesing in die VSA is een wat in die toekoms onthou sal word. Vir die eerste keer sedert 1884 het ’n voormalige president wat ná sy eerste termyn die daaropvolgende verkiesing verloor het, ’n historiese oorwinning behaal. Daar was min verwagting dat Donald Trump só ver sou wen. Hy het in al vyftig deelstate meer stemme as in 2020 verwerf en in al sewe swaaistate is reuseverskuiwings bewerkstellig.  Daar is ook ’n verskuiwing gesien onder minderheidsgroepe, onder wie steun vir Trump van 9% tot 21% toegeneem het.

Dreigende oorlog in die Midde-Ooste

Konflik in die Midde-Ooste is reeds ’n bekende fenomeen. Ou etniese konflik van 100 jaar gelede duur vandag steeds voort. Wat is dan nuus vir 2024?

  • Die krisis tussen Israel en Arabiese lande verdiep soos buitelandse invloede onttrek en Iran die leemtes vul.
  • Iran kry ’n nuwe president wat hoop vir hervorming onder burgers geskep het.
  • Israel het binne Iran se grense ’n suksesvolle sluipmoordpoging op die politieke hoof van Hamas uitgevoer. Hierdie aanval het tot ’n vergeldingsaanval deur Iran op Israel gelei en kan moontlik tot verdere konflik lei.
  • Die wêreld is tans nader as ooit in die laaste paar dekades aan ’n groot oorlog. ’n Volskaalse streekoorlog in die Midde-Ooste sal globale gevolge hê.
  • Lande met invloed, soos Amerika, is minder bereid om by die konflik betrokke te raak en sal alles in hul vermoë doen om vrede tussen Israel en Iran te handhaaf.

Met die huidige politieke leierskap is die hoop op ’n vreedsame oplossing in die Midde-Ooste baie beperk.

Globale verkiesings beloof verandering in die wêreld

Reg oor die wêreld het daar vanjaar nasionale verkiesings plaasgevind wat globale gevolge kan oplewer. Drie belangrike verkiesings het vanjaar in die Verenigde Koninkryk, Iran en Frankryk plaasgevind.

Verkiesing in die Verenigde Koninkryk

Ná 14 jaar het kiesers hul rug op die Konserwatiewe Party in die Verenigde Koninkryk gekeer. Die Arbeidersparty het sy setels tot 412 verdubbel en die verkiesing gemaklik gewen. Dit beteken egter nie dat mense na links gestem het nie. Ongeveer 3 miljoen minder kiesers as met die vorige verkiesing het gaan stem. Selfs die Arbeidersparty het ’n halfmiljoen stemme verloor. Die Arbeidersparty het ook in Skotland gewen en het vrye teuels wanneer dit by wetgewing kom. Hierdie verkiesing bring wesenlike politieke verandering wat globale gevolge kan hê.

Verkiesing in Iran

Vanjaar het daar ook ’n belangrike verkiesing in Iran plaasgevind. Soos voorheen genoem, is Iran ’n bron van onstabiliteit in die Midde-Ooste. Tydens hierdie verkiesing was daar ’n sterk opkoms van gematigde kiesers wat gestem het vir ’n regering ten gunste van handel en onderhandeling met die Weste en dat vroue kan besluit wat hulle wil aantrek. Hierdie verkiesingsuitslag skep hoop vir die situasie in die Midde-Ooste. Hopelik kan Iran uit sy isolasie opstaan.

Verkiesing in Frankryk

Frankryk se regse National Rally-party het verras met die sukses wat in vanjaar se verkiesing behaal is. Die links-liberale Renaissance-party het egter steeds gewen deur samespanning om die meeste setels in die parlement te kry. Die wêreld kan in die toekoms politieke onstabiliteit in Frankryk verwag. Die linkse blok is die grootste blok en gaan moontlik op beleidsveranderinge aandring wat onder andere kontroversiële kwessies soos immigrasie, aftree-ouderdom en maatskaplike besteding sal insluit.

Oekraïne val Rusland binne

In Augustus vanjaar was dit die eerste keer sedert 1941 wat Rusland binnegeval is, maar hierdie keer was dit ’n verrassingsaanval deur Oekraïne. Nie eens Oekraïne se bondgenote was bewus van die beplande aanval nie en Rusland was nie gereed om homself te verdedig nie. Swak grensbeheer en onervare soldate wat maklik oorrompel is, het gelei tot Oekraïne se suksesvolle inval.

Die redes vir die aanval is onseker, maar dit kon moontlik ’n strategiese poging gewees het om die Russiese aanslag in Oekraïne te verswak of om die besetting in toekomstige onderhandelinge te gebruik. Nietemin, hierdie aanval was die begin van ’n gevaarlike nuwe fase van die oorlog.

Weens die ontwrigting kan die aanval tot meer binnelandse steun vir president Poetin lei. Verder het die aanval belangrike onderhandelinge gestuit wat Oekraïne se steun beïnvloed. Hierdie aanval het die oorlog verdiep en gevaarlike nuwe terreine is betree wat die moontlikheid van eskalasie verhoog, wat vele politieke implikasies vir Europa inhou.

Weste soek antwoorde vir onwettige immigrasie

Onwettige immigrasie in die VSA en Europa is ’n reusekrisis wat dringend aangepak moet word. Dié onderwerp is onder andere vir ’n dag lank bespreek tydens die tweemaandelikse vergadering van die Europese Raad en was ook ’n kwelpunt in die debatte tydens die Amerikaanse verkiesing.

Daar is ongeveer 87 miljoen immigrante (20% van die bevolking) in Europese lidlande, en die stelsel kan nie meer die aantal vlugtelinge wat die land binnestroom, hanteer nie. Tydens Biden se termyn as president van die VSA het bykans 10 miljoen persone onwettig oor die Amerikaanse grens gestap. Verder is daar duisende persone wat met visums na die Weste reis en bloot net nooit weer terugkeer na hul tuislande nie.

Onwettige immigrasie skep reusagtige maatskaplike en kulturele uitdagings waarvoor Europa en Amerika dringend oplossings sal moet vind.

Ten slotte

Met nuwe leierskap reg oor die wêreld gaan ons 2025 binne met moontlike globale en politieke veranderinge. Suid-Afrikaners kan hoop dat die RNE in 2025 sal stabiliseer en dat ekonomiese groei in dié jaar sal verbeter. Dit sal tot die wêreld se voordeel wees om vreedsame oplossings vir die oorlog in Oekraïne en die Midde-Ooste te vind, want indien skikkings nie bereik word nie, stuur die konflik die wêreld gevaarlike nuwe terreine binne. Dit lyk asof konflikte oor elektrisiteitsvoorsiening

en gewraakte wette in Suid-Afrika, en onwettige immigrasie in die Weste, in 2025 en nog lank daarna geskilpunte sal bly.

Ek het geëmigreer – hoekom moet ek steeds Geloftedag vier?

Marianne Pouwels | kommunikasiebeampte by die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK)

 

Waarom moet enige iemand wat geëmigreer het, steeds Geloftedag vier? Baie Afrikaners wat van hul vaderland weggetrek het, kan moontlik by hierdie vraag aanklank vind.

Geloftedag, wat histories op 16 Desember as ’n dag van herinnering en toewyding waargeneem word, is meer as ’n simboliese kopknik na die verlede. Dit beklemtoon die kan-kultuur, uithouvermoë, geloof en eenheid wat die Afrikanergees deur tye van swaarkry en triomf gedefinieer het.

Vir diegene wat geëmigreer het, kan deelname aan Geloftedag ’n unieke brug tussen hul huidige lewens en hul erfenis bied. Dit kan so eenvoudig wees soos om met vriende en familie bymekaar te kom, stories te deel of deel te neem aan aanlyn geleenthede wat deur die FAK en ander kultuurorganisasies aangebied word.

Kan ook wyle president Paul Kruger hier aanhaal: “Want wie vir hom ’n toekoms wil bou, mag die verlede nie uit die oog laat nie.” Alhoewel ‘’ persoon dalk kies om ’n toekoms buite hiérdie landsgrense te gaan bou, bly ’n deel van jou identiteit gekoppel aan jou herkoms en dit lê aan die suidekant en onder die Afrika-son. ’n Persoon wat Geloftedag herdenk, gee hierdie waarheid sy regmatige plek in hul menswees/lewe.

Die krag van herdenking

Geloftedag staan ​​as ’n herinnering aan die Afrikaner se blywende nalatenskap, gewortel in kollektiewe krag en gedeelde waardes. Die historiese konteks van die dag, wat oorspronklik die Gelofte wat tydens die Slag van Bloedrivier gemaak is, gekenmerk het, het oor die jare ontwikkel tot ’n breër herdenking van volharding en eenheid.

Deur Geloftedag te vier, selfs van ver af, bewys Afrikaners aan hulself en aan die wêreld dat die beginsels van geloof, solidariteit en hoop hulle steeds lei. Dit dien as ’n oomblik om na te dink oor die opofferings wat vorige geslagte gemaak het en om opnuut te belowe om hierdie ideale te handhaaf. Hierdeur erken ons ook ons diepe afhanklikheid van die Here en dat Sy genade deur die Slag van Bloedrivier, en elke dag daarna, gedra het.

 

Geloftedag word wêreldwyd gevier

“Is dit moontlik dat 185 000 Afrikaners ter herdenking van Groot Trek 185 regoor Suid-Afrika, Namibië en in die buiteland Geloftedag kan vier? Verseker!” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK. “Vandag word op ses kontinente en in 24 lande Geloftedag gevier. Behalwe Suid-Afrika kom Afrikaners byeen in Australië, Botswana, China, Duitsland, Engeland, Japan, Kanada, Luxemburg, Mosambiek, Namibië, Nederland, Nieu-Seeland, Nigerië, Paraguay, Mexico, Pole, Portugal, Rusland, Skotland, Swede, Verenigde Arabiese Emirate en die Verenigde State van Amerika.”

“In 2012 het slegs 80 Geloftefeeste nog bestaan. In 2022 vind ’n rekordgetal van 297 Geloftefeeste regoor Suid-Afrika en Namibië plaas. Van oraloor word berig van baie kinders, jongmense en gesinne wat Geloftefeeste bywoon,” sê Langner. Tans word Geloftedag oor ses kontinente gevier en word alle Afrikaners, regoor die wêreld, op hierdie dag in tradisie verenig.

Die bestaansrede van die Federasie van Afrikaanse kultuurvereniginge (FAK)

Die Federasie van Afrikaanse kultuurvereniginge (FAK) dien as ’n hoeksteen vir die bewaring en bevordering van die kultuur, erfenis, tradisies en waardes van die Afrikanergemeenskap. Die FAK is gestig met die visie om kulturele integriteit te handhaaf en speel ’n deurslaggewende rol in die bevordering van ’n eenheidsgevoel, kontinuïteit en identiteit onder Afrikaners. Die FAK ondersteun hiérdie saak hier in Suid-Afrika en ook in die buiteland.

Die FAK se missie strek egter verder as blote bewaring. Dit is toegewy aan die behoud en bevordering van Afrikanertradisies deur betekenisvolle kulturele en opvoedingsprojekte sowel as gemeenskapsbetrokkenheid, om te verseker dat toekomstige geslagte aan hul wortels verbind bly.

 

Hoe kan jou bydrae ’n verskil maak?

Om by te dra tot die pogings van die FAK en te help verseker dat die viering van Afrikanerkultuur lewendig en toeganklik bly. Skenkings ondersteun projekte wat monumente bewaar, opvoedkundige programme befonds en gemeenskapsuitreik bevorder.

Jou bydrae maak saak omdat dit die belangrikheid van kultuur ondersteun en ’n gedeelde identiteit vir toekomstige geslagte versterk. Hetsy deur tyd of hulpbronne te skenk, help elke poging om die kern van wat dit beteken om ’n Afrikaner te wees, te bewaar.

 

Vier, dra by, verbind

Of jy nou in Suid-Afrika of in die buiteland woon, die viering van Geloftedag versterk die gedeelde nalatenskap van volharding en hoop. Word ’n vriend en oorweeg dit om by te dra tot die werk van die FAK. Jou deelname help dat Afrikanererfenis nog jare lank bly inspireer en verenig.

Geloftedag: Die sonkol skyn op die Senotaaf by die Voortrekkermonument
Geloftedag: Die sonkol skyn op die Senotaaf by die Voortrekkermonument

AfriForum: staatsbestand met een gemeenskap op ’n slag

Ernst van Zyl | hoof van openbare betrekkinge by AfriForum

 

Oases van orde in ’n woestyn van wanorde

Suid-Afrika het ’n insiggewende gevallestudie geword om veral twee redes: Dit is eerstens ’n puik voorbeeld van langdurige, volgehoue regeringsmislukkings en ‑vermoëverswakking. Tweedens is dit ’n voorbeeld van hoe orde en standvastigheid uit dié chaos kan verrys deur gemeenskappe wat hulself organiseer. In sy artikel The disintegration of the South African order skryf prof. Koos Malan dat die toekoms van Suid-Afrika ’n “woestyn van wanorde” is waarin daar “oases van orde” is.

Bykans elke regeringsdiens (buiten belastinginvordering) is in ’n staat van verval – en dis so vir dekades al. Voorbeelde sluit in voortslepende kragonderbrekings te wyte aan ’n ondoeltreffende, mislukkende regeringsmonopolie; die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat oor drie jaar heen miljoene oproepe om hulp onbeantwoord gelaat het; wegholkorrupsie; en ’n immer groeiende werkloosheidskoers van meer as 35%. Boonop is meer as 50% van die bevolking op een of ander vorm van maatskaplike toelaag van die regering afhanklik, terwyl infrastruktuur in elke sektor aan die verval is, van water en elektrisiteit tot riool en paaie. In my 2023-artikel vir The American Conservative bespreek ek hierdie kwessies in meer besonderhede.

Bou ’n toekoms van onder af op

Afrikaners is een van die kulturele gemeenskappe wat aan die voorpunt staan wat die skep van “oases van orde” in die konteks van die teenontwikkeling behels. Deur gemeenskapsgebaseerde organisasies soos AfriForum is ons besig om baanbrekerswerk met ’n nuwe model te doen, wat ’n enorme skuif vereis in die wyse waarop ons oor die bou van oplossings dink. AfriForum is besig om ’n antwoord te ontwikkel op die vraag: Hoe behoort gemeenskappe te reageer ondanks voortgesette verswakking van die regering se vermoë, ’n groeiende lys diskriminerende, rasgebaseerde beleide en wette wat jou teiken, en ’n politieke omgewing waarin jy die teiken is van demonisering en geweldsretoriek deur hoëprofielpolitici. Bykomend bepeins AfriForum ook die volgende vraag: Hoe bou jy ’n toekoms as een van die eerste volke wat ’n fundamentele Westerse erfenis het, maar in een van die wêreld se post-Westerse lande leef?

AfriForum se antwoord, gebou op ’n grondslag van Christelike waardes en ’n Afrikaner- kulturele identiteit, is die nastrewing van staatsbestandheid op elke vlak deur ’n ons-sal-self-filosofie te omhels wat outonomie en pragmatisme voorop stel. Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum, beskryf dié benadering soos volg: “Om ’n helder, vry toekoms vir ons kinders te verseker, moet ons gemeenskappe georganiseer word. Ons moet die afwenteling van mag verseker deur so veel moontlik verantwoordelikhede op voetsoolvlak  op te neem. Ons sal die toekoms kry wat ons bou.” In 2023 het AfriForum ’n dokumentêr vrygestel waarin sy filosofie en model uiteengesit word.

AfriForum se model

AfriForum vorm deel van Solidariteit Beweging, wat uit meer as 50 instellings en organisasies bestaan en wat elkeen meewerk om te verseker dat Afrikaners ’n toekoms in Suider-Afrika het waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan wees.

AfriForum is die grootste burgerregteorganisasie in die Suidelike Halfrond en verenig meer as 315 000 lede met ’n gemeenskaplike saak. AfriForum het meer as 175 buurt- en plaaswagte gestig, noodondersteuningdienste ontwikkel en het selfs ’n privaat brandbestrydingseenheid. AfriForum se meer as 170 takke reg oor die land maak woonbuurte en riviere skoon, lê gemeenskapsgroentetuine aan en plant bome, verf straattekens en herstel slaggate. AfriForum het ook sy eie stroomdiens-, film- en dokumentêrproduksiemaatskappy, AfriForumTV, die lig laat sien, en spog boonop met sy eie kunsteteater. AfriForum bestuur ook ’n aantal intergemeenskaplike en interkulturele samewerkingsprojekte.

Dit word alles moontlik gemaak sonder enige staatsbefondsing of die welwillendheid van miljardêrs nie, maar deur duisende alledaagse mense wat maandeliks bydra. As mens in ag neem dat daar gewoonlik slegs een AfriForum-lid per huishouding is, kan die ledetal van 315 000 as 315 000 gesinne beskou word.

Samevatting

AfriForum en die Solidariteit Beweging het verklaar dat ons bou om te bly en bly om te bou. AfriForum beoog nie om gemeenskappe te isoleer nie, maar om eerder te help om veerkragtige, gesonde gemeenskappe te skep wat met ander gemeenskappe saamwerk op die grondslag van wedersydse erkenning en respek. In die wêreld van gemeenskapsgebaseerde, gedesentraliseerde en staatsbestande instellings het AfriForum die weg gebaan, en ons het nog net begin. Hoe meer lede AfriForum kry, hoe meer kan ons doen. Word vandag ’n lid.

Solidariteit Beweging bereik skikking met regering by Nedlac oor Bela

Die Solidariteit Beweging, waarvan Solidariteit en AfriForum deel is, het ʼn skikking met die regering by Nedlac oor die Bela-dispuut bereik. Die partye tot die dispuut by Nedlac was Solidariteit, die Presidensie en die Minister van Basiese Onderwys. Nedlac het bevestig dat die dispuut opgelos is. Volgens die skikking gaan die omstrede artikels in die Bela-wet nie meer op 13 Desember geïmplementeer word nie. Norme en standaarde, nasionale beleide en regulasies, moet eers ontwikkel word wat onder meer sal bepaal dat skole wat op hul volle kapasiteit is nie instruksie mag ontvang om hul taal- en toelatingbeleid te verander nie. Wat taal- en toelatingsbeleid betref, moet die onmiddellike omgewing van die skool en/of sy voedingsone, en nie die groter onderwysdistrik nie, in ag geneem word. Die uitvoering van die aanbevelings sluit nie die moontlikheid uit dat daar ʼn behoefte mag wees vir toekomstige wetswysigings aan artikel 4 en/of 5 van die Bela-wet nie. Dit alles sal deel vorm van ‘n proses waarin omvattende aanbevelings van die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, aan pres. Ramaphosa gemaak word vir sy behoorlike oorweging. Hierdie skikking raak egter nie die proses van die Regering van Nasionale eenheid of enige ander prosesse rakende Bela nie. Die Solidariteit Beweging sal wel die uitkoms van die skikking aan die regering van Nasionale Eenheid voorhou. Die ooreenkoms word deur die Solidariteit Beweging, AfriForum, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum en die Afrikaanse Onderwysnetwerk ondersteun. Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is die ooreenkoms die uitkoms van ʼn verskeidenheid van prosesse. Dit sluit in gesprekke met pres. Ramaphosa, onderhandelinge met politieke partye, insluitend die ANC, DA en VF+, die groot optog vanaf die Voortrekkermonument na Freedom Park, gesprekke met tradisionele leiers, ʼn proses by PanSAT en die Nedlac-proses. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê alhoewel die skikking ʼn groot deurbraak is, lê harde werk nog voor. Die belangrike deurbraak is dat ons nou weer tyd aan ons kant het dat Afrikaanse skole waarvan die kapasiteit vol is, nie ʼn instruksie sal kry oor taal en toelating nie. Dit is ʼn groot verligting vir Afrikaanse skole. In hierdie tyd gaan hard gepraat word oor norme en standaarde en Solidariteit gaan ook moontlike wetswysigings voorstel. Skole hoef nie toe te laat dat hulle deur amptenare geboelie word nie. “Die Bela-stryd is die belangrikste geveg waarby AfriForum sedert sy ontstaan betrokke was. Bela se bepalings oor skole se taalbeleid, sou dit geïmplementeer word, het ʼn ernstige bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse kultuurgemeenskappe ingehou. Dit is nie net Afrikaanse skole en kinders wat geteiken sal word deur die implementering daarvan nie, maar ook die strewe na moedertaalonderring vir alle kultuurgemeenskappe. Ons het reeds verskeie gesprekke met tradisionele leiers gevoer en dit is duidelik dat hulle die strewe deel dat kinders in hul onderskeie gemeenskappe onderrig in hul moedertaal ontvang. Ons kan net dankie sê aan almal wat die veldtog teen Bela ondersteun het. Die oorweldigende steun van die publiek en die feit dat duisende mense aan die optog teen Bela deelgeneem het, het die deurslag gegee,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê. Die skikking bevestig ook die verskillende rolle van die Minister van Basiese Onderwys en die President. Die rol van die president met betrekking tot die Bela-wet is om die inwerkingtreding van die bepalings van die Wet te bekragtig en om die aanvang van die bepalings af te kondig. Die rol van die minister van basiese onderwys, as die primêre verantwoordelike persoon vir die portefeulje van basiese onderwys, is om die behoorlike implementering van die Bela-wet te verseker, insluitend:
  • die maak van aanbevelings aan die president oor die inwerkingtreding van die Wet; en
  • om te verseker dat die implementering van die Wet ondersteun word deur toepaslike nasionale regulasies, nasionale norme en standaarde en/of nasionale beleide.
Die skikking maak ook voorsiening vir verdere ontwikkelinge oor moedertaalonderrig wat wyer strek as net Afrikaans. Die Solidariteit Beweging gee erkenning aan al die rolspelers vir die opbouende wyse waarop die dispuut hanteer is. Die uitkoms is ʼn wen vir al die partye en die land.
Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.