Dit is net meer as twee jaar sedert die inhuldiging van die vuurvreter Argentynse President, Javier Milei. In die aanloop tot die verkiesing in 2023 het hy ’n veldtog gevoer wat hom wêreldwyd bekend gemaak het – ten minste veel meer as enige van sy voorgangers.
Nieteenstaande sy ongekamde bos hare, charismatiese persoonlikheid en die ondubbelsinnige taal waarmee hy die stand van Argentinië beskryf het, is dit sy boodskap van destyds wat by gewone Argentyne aanklank gevind het.
Die boodskap was doodgewoon: die Argentynse ekonomie het “skokterapie” nodig om te herstel. “Daar is geen ander alternatief as skokterapie nie,” het Milei tydens sy inhuldigingstoespraak gesê. Anders as ander politieke leiers wat lugkastele van voorspoed en vooruitgang aan kiesers belowe, was Milei se boodskap gewees dat swaarkry die daeraad sou voorafgaan.
Milei se prioriteit was om inflasie nek om te draai, alle versperrings tot ekonomiese groei te verwyder, die ekonomie te stabiliseer en om beleggersvertroue in die Argentynse ekonomie te herstel.
Om dit te bereik was streng besuinigingsmaatreëls nodig, insluitend die halvering van staatsdepartemente, die opskorting van staatstoelae, die skrapping van oorbodige regulasies en enige reëls wat handel inperk, die privatisering van staatsondernemings, die devaluering van die peso-geldeenheid om dit meer in lyn met die werklike dollar-wisselkoers te bring, en nog meer.
Dit is die soort stappe wat tipiese linkse regerings nie kan neem nie. Die hoofrede is dat sulke ingrypende stappe die mislukking van ’n ideologie wat gewortel is in sentralisme en herverdeling impliseer. ’n Tweede verwante rede, is dat die sentrale regering onvermydelik mag sou moes afstaan.
’n Vorige artikel op Maroela Media bespreek die aanloop tot die 2023-verkiesing, sowel as die oorsake van die treurige stand van die ekonomie en politiek in Argentinië gedurende die 20ste eeu.
Wat sê die syfers?
In teenstelling met Argentinië se sukkelende tog belowende ekonomie – ’n land met buitengewoon ryk en unieke natuurlike hulpbronne – verteenwoordig Milei die skerpste breuk van die mislukte Peronistiese ekonomiese beleide van die afgelope agt dekades in Argentinië.
Sy beleidsverandering het onder meer die volgende teweeg gebring: die jaarlikse inflasiekoers het tot ongeveer 30% gedaal, vanaf ’n halstarrige 211%; die armoedesyfer (die maatstaaf wat oor die algemeen aangewend word om werkskepping en die lewenstandaard van die armste mense aan te dui) staan op 36%, af van 42%, met die Wêreldbank wat bereken dat dit tot so laag as 14,5% in 2026 kan daal; ’n begrotingsurplus is bereik, wat ’n begrotingstekort van 15% omgekeer het; ekonomiese groei het ongeveer 4,5% bereik, ’n styging vanaf 1,6% negatiewe groei; staatskuld wat skerp afneem; en Argentinië wat ’n handelstekort van ongeveer R115 miljard in 2023 na ’n handelsurplus van byna R312 miljard kon omskakel.
Hierdie syfers dien as sterk bewyse dat Milei se ingrypings vrugte afwerp. Dit beteken nie dat die pad na herstel seepglad verloop nie. Sy administrasie kry steeds teenkanting van die sosialistiese vakbonde, omdat hy die arbeidsmark hervorm en die werkloosheidskoers tussen 5% en 7% bly dobber, wat volgens Argentynse maatstawwe steeds hoog is.
Nogtans bly Milei se ingrypings merkwaardig en dit is vreemd dat daar nie groter belangstelling vanaf die wêreldmedia is om hieroor te berig nie. Die liberale Friedrich Naumann-stigting het in ’n onlangse artikel na Milei se gewildheid in Argentinië verwys. Milei geniet steun van meer as 49% Argentyne, teenoor die Duitse bondskanselier, Friedrich Merz, wat op 23% in Duitsland staan. In ’n tyd waarin baie hedendaagse Westerse leiers sukkel om ’n visie vir hul land te vertolk en om sin te maak van verskuiwings in wêreldmagte, doen Milei uitstekend op albei fronte. Hy stel ten doel dat hy Argentinië “groot wil maak” (“Make Argentina Great Again”), en hy staan nie terug om die regte (moeilike) besluite te neem nie, al is dit ongewild.
In ’n wêreld van stadige ekonomiese groei moet die ontwikkelinge in Argentinië verwelkom word.
Ontsluiting van innovasie en skeppende denke
Die vrugte van ’n oper en vryer ekonomie strek verder as gunstige ekonomiese syfers.
Totalitêre, sosialistiese en linksgesinde regerings soos Kuba, Venezuela (ten minste voor Januarie 2026), Noord-Korea en dies meer, onderdruk innovasie en kreatiwiteit wat nodig is vir ’n vrye samelewing en ’n groeiende ekonomie.
Die feitestudie van die Sowjet-Unie is sekerlik die beste voorbeeld van ’n staatsbestel wat gebaseer is op die oortuiging dat ’n sentrale staat ’n samelewing in sy geheel moet orden – of meer direk, dit moet herkonstrueer. Die diktator Josef Stalin het geglo dat ’n revolusie “van bo af” plaasvind, menend dat die staat die eindbepaler is van die ekonomie, die politiek en selfs hoe mense moet dink, glo en optree.
Die gevolge en lewensverlies wat met die Sowjet-Unie geassosieer word, is welbekend. Tog is die vertrekpunte van die beskouing van die rol van die staat ongelukkig vandag nog in talle lande teenwoordig.
Onderdrukkende regimes onderdruk vrye denke, kreatiwiteit en innovasie deur gesentraliseerde beheer en beperkte politieke vryheid. In sulke stelsels word nuwe idees versmoor, aangesien die regime poog om ideologiese en sosiale eenvormigheid af te dwing.
In teenstelling hiermee bevorder die verligting van onderdrukking en die oorskakeling na vryer stelsels met minder regeringsinmenging innovasie. Wanneer mense vry is om idees uit te ruil, eiendom te beskerm en risiko’s te aanvaar sonder vrees, word skeppende denke ontsluit.
’n Nuttige voorbeeld is Pole ná die val van Kommunisme in 1989. Onder die Sowjet-beheerde regime was alles gesentraliseer en idees is onderdruk. Ná die land sy vryheid verkry het en regeringsinmenging afgeneem het, het entrepreneuriese denke begin posvat. Nuwe ondernemings het vinnig uitgebrei en Pole het een van die vinnigste groeiende ekonomieë in Europa geword – hoofsaaklik omdat mense sonder volgehoue staatsdruk skeppend kon dink en innoveer.
In Argentinië onder Milei sien ons iets soortgelyks: Danksy minder regulasies, meer privatisering en ’n sterker fokus op vrye markte, word ruimte vir entrepreneurs en beleggings geskep. Al is daar steeds uitdagings (soos teenkanting van vakbonde), wys die vinnige ekonomiese herstel dat minder staatsbeheer idees en ekonomiese groei stimuleer – presies soos in Pole gebeur het.
Die Suid-Afrikaanse regering, daarenteen, glo nog dat die rol van die staat uitgebrei moet word om die samelewing te orden. Ten spyte van vrome woorde soos “gelykheid”, “inklusiwiteit” en “billikheid”, is die werklikheid dat hulle alle magshefbome wil gebruik om volle beheer oor die samelewing te probeer uitoefen.
Al is die ANC se steun aan die kwyn, is die staatsmasjinerie, wetgewing en staatsdepartemente nog vas in die verkeerde rigting gestel. Die totstandkoming van die RNE kon dalk daarin slaag om die gevaarliker linkse sameflansing van partye af te weer, maar daar is nog geen duik gemaak aan die skadelike regeringsbestel wat ekonomiese groei en vryhede van mense kelder nie.
Veral politieke partye binne die RNE moet kennis dra dat sagte beleidskuiwe en sekere verslappings nie voldoende sal wees om die skip om te draai nie.
Die les wat Suid-Afrika by Argentinië – en meer spesifiek by die leierskap van president Javier Milei – kan leer, is as dit kom by regeringsbeleide en die aanspreek van swak ekonomiese groei, Suid-Afrika ook ’n vorm van “skokterapie” nodig het.
… En Milei se roetekaart kan omtrent net so gevolg word.
- Werner Human is die operasionele hoof van die Solidariteit Beweging



