RSG-onderhoud met Flip Buys
Flip Buys gesels Woensdag 19 Maart op RSG se program “Land en Sand” in “Op en Wakker”. Luister die onderhoud hier.

Flip Buys
Bron: Maroela Media
Amerikaanse president Donald Trump het vandeesmaand opspraak verwek met sy uitvoerende bevel wat onder meer voorsiening maak vir Afrikaners wat deur rassewette of onteiening sonder vergoeding benadeel word om na Amerika te vlug.
Die feit dat die ANC alles in die stryd werp om steeds alleen te regeer in plaas van deur ʼn regering van nasionale eenheid, het nou die nuwe regering in Washington heeltemal vervreem. Dit is hoekom die Solidariteit Beweging nou die hand van vriendskap wat deur die Amerikaners uitgereik is, sal vat, en praktiese voorstelle aan hulle sal maak oor hoe Afrikaners gehelp kan word om volhoubaar in Afrika te kan bestaan, sodat ons ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense sal kan maak.
Ons kan ons nie deur ʼn korrupte, onbevoegde en rassistiese regering uit die land laat jaag nie. Dis nie wie ons is nie. Ons is vasbeslote om in die woorde van NP Van Wyk Louw, die skat van ons taal en kultuur veilig deur die skare te dra. Ons het immers nie die oseane deurkruis, deur die eeue oorleef, die onbekende ingetrek, magtige moondhede op die slagveld gepak en op talle gebiede wêreldklasprestasies opgelewer omdat ons van jellie gemaak is nie.
Hier is 10 historiese redes waarom ons sal bly en waarom ons sal self.
Die eerste Buys in Suid-Afrika was ʼn Duitse soldaat wat in 1714 met die Risdam uit Amsterdam gevaar het om vir die VOC te kom werk. Soos die meeste ander Afrikaner-families, bly die Buyse dus al meer as drie eeue in Afrika. Ons het nie as Afrikaners na Afrika gekom nie. Ons het hier Afrikaners geword, lank voordat Suid-Afrika sy ontstaan as land gehad het. Ons taal en kultuur is inheems aan Afrika en nêrens anders nie. Ons het onsself, ons taal en baie van ons instellings na Afrika vernoem.
Afrikaners is ʼn self-gedefinieerde kultuurgemeenskap – ʼn volk – en nie bloot ʼn taalgroep of ʼn rassegroepering nie. Ons het deur Afrikaans ook ʼn taalverbintenis met bruin Suid-Afrikaners, omdat Afrikaans een taal met vele kulture is. Ons kom uit ʼn Christelik-Westerse tradisie, en die meeste van ons vertrou op God se beloftes van hoop vir die toekoms.
NP van Wyk Louw het dit só treffend gestel: “in elke geslag is die taak: om albei ons erfenisse – Europa en Afrika – bloedwarm ná aan die hart te hou; om in Afrika te wees wetende dat ons van die óú Weste is; om Westers te wees sonder om een enkele verskillendheid van Afrika te verontagsaam.”
Louw het ook so mooi oor Afrikaans gesê: “Afrikaans kan vitaal bly alleen solank hy die draer van ons volle noodlot, van ons wete-na-albei-kante-toe bly; solank hy konkreet en abstrak bly dink; solank as Europa en Afrika in hom lewe; Afrika wel, maar tog ook altyd Europa.”
Hy het Afrikaans gesien as die taal wat Wes-Europa en Afrika verbind: “Dit vorm ʼn brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om ontdek te word.”
Die volksdigter Totius het dit net so mooi gestel: “ʼn Fyn mistieke eenheidsband verbind Oranje, Nederland en Afrika, deur alles heen. Hoe ver die golwe ons al omspoel, die diepe hart sal altyd voel – ons is verborge-een.”
Na die Britte Natal en die destydse Boererepubliek van Vryheid in 1843 annekseer het, het die Voortrekkers weer getrek. In die beroemde woorde van Johanna Smit aan die Britse verteenwoordiger: “Ons sal eerder kaalvoet oor die Drakensberge loop as om langer onder die Britse regering gebuk te staan.”
Die strewe na vryheid as dryfkrag van die Groot Trek is deur Trekleiers soos Andries Pretorius verwoord, toe hy gesê het dat hulle hul geboorteplek sonder ʼn opstand verlaat om vry te wees. Die Nederlandse denker Bob Goudzwaard het na ʼn studie van Afrikaners se geskiedenis dit gestel dat ons verhaal eerder ʼn stryd om oorlewing was as ʼn stryd om oorheersing. Dit is vir my ondenkbaar dat hierdie opofferings van ons voorouers tevergeefs was as ons weg van ons geskiedenis af trek.
Dit is so dat daar vele veldslae en gevegte teen die inheemse swart stamme was. Dit is egter nie die hele verhaal nie, daar was ook ʼn magdom vredesooreenkomste en samewerking met swart groepe.
ʼn Goeie beskrywing hiervan kry ons in die Voortrekkerleier Hendrik Potgieter se terugvoer aan die Kaapse Goewerneur na afloop van die Groot Trek op 3 Desember 1838: “Ten eersten hebben wy aangetroffen de kapetyn Danser en met hem een vrede besluyt, en ten tweede de konieng Maroka en ook met een vrede besluyt, ten derde de kaptyn Pieter Davieds ook met een vreede besluyt, ten vierde de konieng Sikoniala ook met een vreede besluyt, ten veyfde de kapiteyn Makwana ook met een vrede besluyt.”
Die mooiste beskrywing van die Boerekrygers is deur die bekende staatsman Winston Churchill gegee, wat as joernalis hier teen ons kom veg het.
“What men they were, these Boers! I thought of them as I had seen them in the morning riding forward through the rain – thousands of independent riflemen, thinking for themselves, possessed of beautiful weapons, led with skill, living as they rode without commissariat or transport or ammunition column, moving like the wind, and supported by iron constitutions and a stern, hard Old Testament God who should surely smite the Amalekites hip and thigh.
“And then, above the rainstorm that beat loudly on the corrugated iron, I heard the sound of a chaunt. The Boers were singing their evening psalm, and the menacing notes – more full of indignant war than love and mercy – struck a chill into my heart, so that I thought after all that the war was unjust, that the Boers were better men than we, that Heaven was against us, that Ladysmith, Mafeking and Kimberley would fall, that the Estcourt garrison would perish, that foreign Powers would intervene, that we should lose South Africa, and that that would be the beginning of the end. So for the time I despaired of the Empire.”
Die Britte se verskroeideaardebeleid en die konsentrasiekampe was vernietigend. My een oupa en ouma was kinderoorlewendes van die kampe, terwyl my ander oupa se pa in die tronk en sy huis afgebrand was toe hy as koloniale onderdaan perde vir die Vrystaatse Boere gesmokkel het. Prof. David Welsh het die toestand van Afrikaners na die Vryheidsoorlog as volg beskryf:
“After 1902 the Afrikaners of the defeated Trekker republics displayed many of the symptoms of a conquered people: impoverished, defeated, despairing, low in morale, and with a powerfully internalised inferiority complex. They were facing the possible obliteration of their identity by the overwhelming power of their conqueror’s institutions and culture.”
Die opstaan na die oorlog was bitter moeilik, en die historikus Dan O’Meara kon oor my mynwerker-oupa gepraat het toe hy hulle stryd tot 1948 beskryf het: “The structure of South African capitalism offered few opportunities to those whose home language was Afrikaans. Its language was English, and Afrikaans-speakers were powerfully discriminated against. Promotion and advancement required both proficiency in a foreign language – that of the conquerors – and virtual total acceptance of the structure and values dominant in the country.”
Die Koue Oorlog het vuurwarm in Suid-Afrika gewoed, en die ANC was vierkantig in die Kommunistiese kamp. Dit het die destydse weermag lynreg in botsing met die ou Sowjetunie en Rooi China se wapentuig en ondersteuning vir bevrydingsbewegings in Suider Afrika gebring.
Die Koue Oorlog het politieke beweegruimte vasgevries, en die SAW en SAP moes ʼn gewelddadige rewolusionêre oorname verhoed tot die val van die oosblok-onderhandelings moontlik gemaak is. Westerse moondhede soos die VSA se geweldige druk op die NP regering het ʼn groot rol in die uiteindelike grondwetlike skikking gespeel.
Afrikaners was verstaanbaar ook baie skepties oor die kanse op ʼn suksesvolle demokrasie in Suid-Afrika, omdat hulle geweet het tot watter uitkomste Westerse modelle in Afrika gelei het. Martin Meridith som dit treffend op in sy boek oor The Fortunes of Africa na onafhanklikheid: “Die reeks staatsgrepe in Afrika het mekaar so vinnig opgevolg het dat die post-onafhanklikheidsgeskiedenis in ʼn waas verbygeflits het. In die eerste twee dekades van onafhanklikheid was daar sowat veertig suksesvolle staatsgrepe en talle ander onsuksesvolle pogings gewees. Daar was nie een geval waar ʼn Afrika-regering vreedsaam uitgestem is nie.”
Die gemiddelde lewensduur van Afrika-grondwette was volgens die Chicago Law School teen die eeuwending net tien jaar.
“Teen die tagtigers was Afrika berug vir sy ‘Groot Manne’, militêre diktators en een-party-presidente wie se belangrikste prioriteit was om die mag te behou. Die politieke rekord van Afrika sedert onafhanklikheid was star: nie een enkele staatshoof in drie dekades het homself in ʼn verkiesing laat uitstem nie. Vanuit sowat 150 staatshoofde het net ses vrywillig die mag afgestaan, waarvan sommige eers na dekades in die mag.
“Uit ʼn lys van 50 Afrikastate was feitlik almal eenpartystate of militêre diktatorskappe, terwyl in 32 state opposisiepartye onwettig was. Wanneer verkiesings gehou is, was dit bloot om die bewindhebber en sy party se mag te bevestig. In 150 verkiesings wat tussen 1960 en 1989 in 29 lande gehou is, is opposisiepartye nie toegelaat om ʼn enkele setel te wen nie. Net drie lande – Senekal, Botswana en die kleine Gambië, het veelpartystelsels behou en gereelde vry en regverdige verkiesings gehou.”
Die ontstaan van die Solidariteit beweging kan teruggevoer word na die 1998-kongres van die destydse Mynwerkersunie, waar die vakbond se nasionale raad my voorstel aanvaar het om die MWU te omskep in ʼn moderne selfhelp-helpmekaarbeweging.
Die rede hiervoor was tweedledig: ons het nie geglo dat die ANC die land suksesvol sou kon regeer nie, en ons het geglo dat hulle ʼn nuwe rassebedeling sou skep wat Afrikaners in die praktyk tweedeklasburgers sou maak.
Die doel van die Beweging sou wees om die kulturele infrastruktuur te bou wat Afrikaners nodig sou hê om volhoubaar vry, veilig en voorspoedig in suidelike Afrika te kon bly. Sodoende sou Afrikaners terselfdertyd ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kon lewer. Ons destydse aanname dat ons aanvanklik as radikales uitgekryt sou word, maar mettertyd al meer ondersteuning sal kry namate die uitkomste van ANC-beleid sigbaar word, is in die praktyk bewaarheid.
In die negentigs moes die land verander om ʼn verskriklike einde te keer. Die taak van ons beweging is om nou ʼn eindelose verskrikking te help afweer.
Dit was vir jare na 1994 onmoontlik om ondersteuning vir Afrikaners se regmatige strewe na kulturele outonomie te kry, omdat die ANC die morele hoë grond betree het, en omdat die gevolge van hulle beleid nog nie vir die buiteland duidelik was nie.
Die ANC se vrot regeringsrekord wat tot wydverspreide staatsverval lei, en die deurlopende sentralisasie van mag en die gepaardgaande inperking van vryhede, het prof. Welsh se waarskuwing oor ʼn “tirannie van die meerderheid” nuwe betekenis laat kry.
Welsh het gesê: “Simple majority rule… can easily – and commonly does – degenerate into a ‘tyranny of the majority’ when elections assume the form of a racial census. Undeniably, majorities have rights, but so do minorities. If […] majorities use their power to steamroller minorities, denying them influence even in decisions that affect their vital interests, the quality of democracy will deteriorate.
“Moreover, the comparative evidence from divided societies does not offer much support for the view that the salience of ethnic or racial identities will eventually give way to voting alignments that are shaped more by, say, class, interests or ideology. Democratic constitutional forms have been maintained, but a single-party dominant system become entrenched.”
Hierdie artikel is gepubliseer op Maroela Media.
Duisende eerstejaarstudente pak eersdaags hulle studie aan. Hoewel Langenhoven gesê het jy moet jou studie met lekkerkry klaarkry, wys die praktyk dat baie jongmense eerder swaarkry as lekkerkry.
is ʼn groot voorreg om te kan studeer. Gryp die geleentheid aan en geniet dit, want jy is net een keer ʼn student! Studente het die voordele van volwassenheid sonder al die verantwoordelikhede. Studentwees is soos om met jou pa se kar rond te ry: Die vryheid en mobiliteit het jy, maar die paaiemente gaan nog van iemand anders se rekening af!
Gebruik jou kans om te studeer, want ʼn goeie kwalifikasie is ʼn onontbeerlike voorvereiste vir ʼn goeie werk of eie besigheid. Geniet jou studentelewe, maar sorg dat jy jou kwalifikasie suksesvol en in die minimum tyd afhandel. Jy sal die res van jou lewe dankbaar daarvoor wees. ʼn Goeie kwalifikasie kom nie verniet nie; dit kos harde werk en baie geld, maar bied ʼn onvergelykbare opbrengs op die belegging.
Die doel van studie is nie net om jou vir jou beroep voor te berei nie, maar om jou vir jou roeping toe te rus. ʼn Kwalifikasie help met ʼn werk, maar wie vir sy of haar roeping voorberei, is verseker van ʼn loopbaan, en selfs ʼn snelweg! Werk dus aan jou kwalifikasie, maar ook aan jou eie vorming, ontwikkeling en menswees.Vryheid en verantwoordelikheid
ʼn Student het ongekende vryheid, want jy is nie meer onder die skool of jou ouers se toesig nie, en is nog nie onderworpe aan die dissipline van die werkplek nie. Hierdie vryheid laat studente soms struikel, want nie almal besef dat dit met verantwoordelikheid gepaard gaan nie. Sorg dus dat jy jou tyd so struktureer dat die vryheid jou nie pootjie nie. Gebruik jou vryheid om doelgerig te werk, en geniet jouself ten volle, maar kom jou belangrikste verantwoordelikheid na, naamlik om jouself te kwalifiseer. Tydbestuur is ʼn groot uitdaging, maar niemand wat sukkel om sy dag te bemeester kan ooit sy graad ten volle bemeester nie.
Op skool was die onderwysers deurlopend daar om jou te help om by te bly, en hulle het mede-verantwoordelikheid vir jou sukses geneem. Universiteite en kolleges werk anders. Studente wat nie by die vinnige tempo bybly nie, is seker die grootste rede vir die mislukking van studente wat nie deurkom nie. Sorg dus dat jy nie agter raak nie, anders raak die werk net te veel om in te haal.Byt vas
Dis nie maklik om ʼn kwalifikasie te verwerf nie, anders het almal een gehad. Moenie opgee nie – byt vas en volhard wanneer dit moeilik gaan. Dit bou karakter en vorm jou om eendag uitdagende take in die werkplek aan te pak. As dinge druk, bly kalm en glo in jouself, want soos Henry Ford dit gestel het: Ongeag of jy dink jy kan, of dink jy kan nié, jy sal in albei gevalle reg wees.
Die doel van universiteite en kolleges is nie net opleiding nie, maar ook die ontwikkeling en vorming van die student vir sy of haar lewe. Daar word gesê dat deelname aan die studentelewe net soveel werd is as ʼn ekstra graad. Dit bied ʼn veilige omgewing waarin studente veel meer lewensvaardighede kan leer as net wat in die handboek staan.
Daarom is die vormingsideaal so belangrik. ʼn Universiteit of kollege is immers nie net ʼn akademiese supermark nie; dit gaan oor die volle ontwikkeling van jou menswees. Neem dus deel aan die studentelewe, ook as jy nie in ʼn koshuis is nie, en waar moontlik selfs as jy ʼn afstandstudent is. Dit bou ook lewenslange netwerke waaruit jy dekades lank kan put. Die vroeë blootstelling aan leierskap, verantwoordelikheid en gesonde druk in ʼn veilige omgewing sal jou ook in jou werksonderhoude onderskei en jou CV laat uitstaan. Benut elke geleentheid vir ontwikkeling.
Studentetyd bied baie geleenthede vir ontwikkeling, maar jy sal dit moet gaan soek en benut, want dit land nie in jou skoot nie. Loop die ekstra myl vir die plek waar jy studeer, vir jou medestudente en vir jou studie. Jy sal verseker die vrugte daarvan pluk, omdat enige werkgewer voorkeur sal gee aan ʼn aansoeker wat meer gedoen het as wat hulle moes.
Leer die verskil tussen ʼn beroep en ʼn roeping. ʼn Beroep is wat jy doen, en ʼn roeping is hoekom jy dit doen. Dis verskriklik om vir dekades lank te werk aan ʼn beroep waar jy voel dat jy jou lewensdoel mis. Soek dus na jou roeping, bid daaroor, en vra raad by mense met wysheid. Ware lewensgeluk spruit uit iemand wat hulle passie lewenslank uitleef, en boonop daarvoor betaal word.
Hulp is dikwels net ʼn e-pos, oproep of besoek vêr. Enige mens het soms hulp nodig. Die universiteit of kollege wil graag hê jy moet suksesvol wees en bied verskeie hulpdienste aan studente. Hierdie dienste strek gewoonlik vanaf bystand met studiemetodes, finansies, persoonlike uitdagings en geestelike behoeftes. Vind uit waar daardie hulp beskikbaar is en gebruik dit as jy dit nodig het.</p><p>Die grootste fout wat jy kan maak, is om nie vir hulp te vra as jy dit nodig het nie. Die tweede grootste fout sou wees om te laat vir hulp te vra. Opleiding is gebou op die skouers en sweet van hulle wat voor ons gekom het. Hulle wou die volgende geslagte help, en het instellings gebou met die uitgesproke doel om jou te help om jou talente te ontgin en jou drome te verwesenlik.
Mense is veelkantig. Daarom gaan menslike welstand oor welstand in die wydste sin: fisiek, akademies, geestelik, emosioneel, finansieel en sosiaal. Handhaaf ʼn balans tussen al hierdie fasette, en werk gedurig aan almal.
ʼn Samelewing kan net voortbestaan as elke geslag vir die volgende een leef. Diegene wat voor jou was, het die universiteit of kollege opgerig waar jy nou die versamelde kennis en wysheid van baie geslagte kan leer. Bemeester dit, bewaar dit, voeg jou deel daarby, en gee dit dan aan vir die volgende geslag sodat hulle ook daaruit kan put.
ʼn Universiteit of kollege is nie net ʼn plek waar jy moet leer nie; dit is ook ʼn ruimte waar ons kultuur van geslag tot geslag oorgedra word. Jy is nie net ʼn landsburger nie, maar ook ʼn “kultuurburger”, oftewel lid van ʼn kultuurgemeenskap soos Afrikaners wat uit ʼn ketting van geslagte bestaan. Dis dié wat reeds weggeval het, dié wat nou leef, en dié wat nog kom. Dis hoekom die gemeenskap hierdie universiteit of kollege vir jou opgebou het.
Al kry jy dit verniet, was dit beslis nie gratis nie. Bou voort op wat ander vir jou opgebou het.
Artikel deur Flip Buys vir Rapport
Kom ons bou leefruimtes vir Afrikaans, want geboue verskaf veiligheid, skryf Flip Buys
Die grootsheid van ’n kultuur word gewoonlik aan die grootsheid van sy bouwerk gemeet.
Daarom staan die mensdom vandag nog verwonderd oor die piramides wat die antieke Egiptenare 4 600 jaar gelede gebou het. Dit word steeds as wonderwerke beskou en argeoloë bespiegel al vir jare hoe hulle dit vermag het. Waaroor daar wel eenstemmigheid is, is dat die bou van die piramides net moontlik kon wees danksy gesofistikeerde ingenieurswese, argitektuur, wiskunde, wetenskap, sterrekunde en logistiek.
Daarbenewens het bouwerk van daardie omvang gevorderde vorme van staatkundige ordening, ekonomiese ontwikkeling, bestuur, organisasie, geletterdheid en opleiding geverg.
Argeoloë; sê vandag dat die antieke Egiptenare die piramides gebou het. Maar in werklikheid het die piramides terselfdertyd die Egiptenare as hoogs ontwikkelde beskawing gebou. Daarmee word bedoel dat die eeue lange bouwerk aan die piramides en ander infrastruktuur wat ’n ontwikkelde samelewing benodig het, ook die Egiptiese kultuur gebou het.
Soos Winston Churchill gesê het: “Eers vorm ons ons geboue en daarna vorm ons geboue ons.”
Bouwerk van die omvang van die piramides vereis immers ’n gevorderde kultuur wat in staat is om groot gesamentlike projekte aan te pak, die hulpbronne daarvoor te monster, doeltreffend te beplan en te organiseer, die arbeidsmag daarvoor op te bou, en dit verg die leierskap en kundigheid om dit suksesvol uit te voer.
Dieselfde geld natuurlik vir al die gevorderde antieke beskawings wat in China, Persië Griekeland en Indië ontstaan het. Die Romeine se paaie, brûe, akwadukte, teaters en stede het ’n Romeinse lewe moontlik gemaak en hulle kultuur wyd oorgedra en versprei. Daardeur is die grondslag van die moderne Wes-Europa gelê. Geen kultuur kan sonder sy bouwerk bedink word nie omdat ’n kultuurgemeenskap in, vanuit en deur sy instellings en die geboue wat dit huisves, leef.
Dit onderlê ook ons eie geskiedenis. Pres. Paul Kruger was byvoorbeeld nie net ’n staatsbouer nie, maar ook ’n stadsbouer. Hy het ’n groot rol gespeel om Pretoria van ’n stowwerige dorpie na ’n hoofstad uit te bou. Dink maar aan die Ou Raadsaal, die Paleis van Justisie, museums, hospitale, skole en die forte rondom Pretoria. Geboue is in werklikheid die kulturele infrastruktuur van ’n volk. Dit “bou” die kultuur deurdat die Raadsaal die kern van die staatkundige Republiek was, die Paleis van Justisie die sentrum van die regsorde was, en die skole kennis en kultuur aan die volgende geslag oorgedra het.
Afrikaners het in latere jare ’n land vol geboue opgerig wat weer hulle (die Afrikaners) se kultuur gebou het. Dink aan die geboue wat vir opvoedkundige, ekonomiese, kulturele, mediese, militêre en ander doeleindes gebou is.
As ’n jong student het die Pukke se universiteitslied vir my maar outyds-hartseer geklink: “Gebore uit die nag van smaad, sien ons jou staan as wonderdaad . . .” Soos die meeste ander studente het ek die moderne kampus waar ek in die laat 1980’s studeer het as ’n gegewe aanvaar. Min het ek geweet dat as jy sélf iets verniet gekry het, dit nie sonder koste daargestel is nie, want ander mense het ’n duur prys daarvoor betaal. Later het ek besef watter wonderwerk die universiteit eintlik was, en met watter geweldige opoffering dit voor en ná die Anglo-Boereoorlog uit die grond verrys het.
Pres. Paul Kruger het in 1897 self £100 –destyds ’n reusebedrag – vir studiebeurse vir studente nagelaat. Die eerste rektor, prof. Jan Lion-Cachet, is deur die Britte in hegtenis geneem en sy seun is in die oorlog doodgeskiet. Die verhaal van die Potchefstroomse Universiteit is egter nie die uitsondering nie. Die geskiedenis van universiteite soos Stellenbosch, Unisa, UP (Tukkies), die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (Kovsies) en die RAU (nou UJ) vertel soortgelyke verhale van groot dink en klein begin. Die meeste is deur kerke en gemeenskappe tot stand gebring sonder groot staatsgeld.
Die Keniaanse denker Ali Mazrui het treffend gesê dat die gemeenskap eers die universiteit moet ophelp voordat die universiteit die gemeenskap kan ophef. Die verband tussen gemeenskap en universiteit is ook deur genl. Jan Smuts bevestig toe hy in 1910 die wens uitgespreek het dat die Universiteit van Pretoria vir die destydse Transvaal sal word wat Oxford vir Engeland was.
Afrikaans, ’n Afrikaanse lewe en die oordrag van ’n taal en kultuur is onmoontlik sonder opvoedkundige instellings wat dit kan huisves. Die vraag is hoekom skole, kolleges en universiteite so belangrik is vir taal- en kultuurgemeenskappe.
Die beste antwoord hierop is deur Albert Einstein gegee. Hy het gesê dat die wonderlike dinge wat kinders in skole en universiteite leer die versamelde werk van vele geslagte is. Dit word alles in hulle hande as erfenis gesit sodat hulle dit kan kry, daarby kan byvoeg, en dit eendag aan hulle kinders kan oorhandig.
Die doel van kulturele infrastruktuur is nie om ’n groep te isoleer of ander uit te sluit nie, maar die teenoorgestelde. Dit skep reeds die ruimte om saam met ander mense te bly, bykans soos wat ’n huis gebou word sodat ’n gesin saam met hulle bure in ’n woongebied kan bly. ’n Huis bestaan uit verskeie vertrekke, elkeen met ’n eie doel. Dieselfde geld vir ’n kultuurhuishouding – daar is vertrekke vir onderwys, opleiding, taal, maatskaplike sorg en erfenisbewaring. Dit is die rede waarom die Solidariteit Beweging oor die afgelope dekade of wat stelselmatig ’n hele kulturele ekosisteem opbou.
Indien die omstandighede geskep word sodat Afrikaners en die Afrikaanse gemeenskap volhoubaar hier kan bly, sal ons ’n blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kan maak.
Geboue is belangrik, want “plek” verskaf veiligheid, en die ruimtes gee vryheid.
Die uitdaging is om hierdie kulturele infrastruktuur sonder staatshulp te bou. Dit is die rede waarom die Solidariteit Beweging ’n paar jaar gelede ’n eiendomsmaatskappy met die naam Kanton gestig het. Die bekendste projek wat Kanton suksesvol aangepak het, is die oprigting van die Sol-Tech-kampus en -koshuise in Centurion. Kanton se doel is om ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal te sluit deur beleggings vanuit die private sektor te werf en daarmee ruimtes vir Afrikaans te bou.
Beleggers verdien ’n geldelike opbrengs en kry ook ’n kulturele dividend in die vorm van ’n universiteit, terwyl ook reeds beplan word aan die daarstelling van ’n onafhanklike skolenetwerk. Ons glo dat ’n Afrikaanse universiteit onontbeerlik is vir die voortbestaan van Afrikaans.
Tweedens bly moedertaalonderrig die beste vorm van opleiding terwyl studente ook toegerus word om hulself in Engelse werkplekke te handhaaf. Die beste bewys hiervan is die top- Afrikaanse mense wat aan enkeltalige Afrikaanse universiteite studeer het en wat nou gesogte poste in die buiteland beklee.
Akademia en Kanton stel ná jare se deurdagte werk en beplanning die Toekomsbouer-veldtog bekend met die doel om kapitaalkragtige mense en instellings die geleentheid te bied om in Akademia se beplande nuwe kampus in Pretoria-Oos te belê. Die breër publiek gaan ook later die kans kry om beleggings te maak.
Die Britse denker Roger Scruton het gesê dat ’n samelewing net kan voortbestaan as elke geslag vir die volgende geslag leef. Kanton bou vir die volgende geslag, en wil die huidige geslag die kans gee om saam te bou.
Die idee is nie om monumente vir ons voorouers te bou nie, maar lewende instellings vir die nuwe geslag. Dit is nou tyd vir skeppende vernuwing, gegrond op beproefde waardes.
Lees meer: Akademia en Kanton stel monumentale kampusontwikkeling bekend