Hoofstuk 1: Wie is ons?
“Jode het nie definisies nodig nie. Ons bestaan al 3 000 jaar sonder een. Elkeen weet of hy ‘n Jood is of nie.”
-David Ben-Gurion, voormalige Israelse eerste minister
Hoofstuk 1: Wie is ons?
“Jode het nie definisies nodig nie. Ons bestaan al 3 000 jaar sonder een. Elkeen weet of hy ‘n Jood is of nie.”
-David Ben-Gurion, voormalige Israelse eerste minister
Flip Buys skryf in sy boek: Die pad na selfbestuur (2019), oor hoe dit aan die anderkant van mislukte staatsbestuur lyk. Luister hier na die voorlesing van die INLEIDING uit hierdie boek.
Kan ’n nasionale dialoog tot praktiese oplossings lei?
Freek Robinson gesels met Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.
Luister gerus hier na die onderhoud Nasionale dialoog: net ’n kletskongres? – LitNet
Deur dr. Dirk Hermann
Ons is pas klaar met ons besoeke aan die Verenigde Nasies in Geneve. Ons is tevrede met hoe dit verloop het.
Ons het ‘n verslag ingedien teen die regering se rasbeleide, ‘n aanbieding gedoen en met die Internasionale Arbeidsorganisasie gepraat oor die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering.
Die VN-proses is goed, maar ons heil is nie net by die VN nie. Dis wel een van die vele pyle in ons koker.
Ek wil vier pyle bespreek.
Internasionale druk. Suid-Afrika het internasionale konvensies geratifiseer. Dit is dus deel van ons reg. Internasionale forums is plekke waar ons stem gehoor word. Die onlangse verhoorproses by die Internasionale Arbeidsorganisasie het tot ‘n ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering gelei. Dit was ‘n groot deurbraak wat tot ‘n bevel van die hof gelei het. Dit het internasionaal begin, maar gee nou vir ons plaaslike slaankrag. Die IAO het gevra vir verdere voorleggings. Dit is stadige, maar nodige prosesse.
Plaaslike veg. Internasionale prosesse is egter nie op hulle eie genoeg nie. Die VN gaan nie ons gevegte vir ons veg nie. Solidariteit veg op elke vlak teen die regering se rasmalheid. Ons veg deurlopend in howe en het al verskeie sake in die grondwethof gewen. Ons het die aanvaarding van die nuwe mal rasregulasies, saam met vennote, teruggedruk. Ons is nou in ‘n geveg met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor hul rasgedrewe verslag by die VN.
Helpmekaar. Veg is belangrik, maar daar is nog meer krag in helpmekaar. Solidariteit het onlangs ‘n reuse ‘werkmark’ op www.solidariteit.co.za bekend gemaak. Dis ‘n mark sonder enige rasvereistes en net meriete. Bykans 2000 poste is al deur meer as 700 werkgewers daar gelaai. Ons help mekaar.
Ons sal self. Ons sal internasionale druk plaas en die regering veg, maar ons is nie afhanklik van enige iemand nie. Ons sal self beteken ons neem self verantwoordelikheid vir die toekoms. Daarom help ons bou aan Sol-Tech, Akademia, Bo-Karoo Opleiding, die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut en eersdaags ‘n modelskool. Ons help met voortgesette opleiding, beroepsnetwerke, loopbaanvoorligting, werkbeskerming en meer. Alles om seker te maak ons mense kan goed werk.
Ons skiet verskeie pyle. Alles saam is kragtig.
Die Klein-Karoo, ‘n streek vol stories en pragtige sandsteenkerke, katedrale en sinagoges, bied ‘n unieke geleentheid vir diegene wat hul siel wil voed en terselfdertyd ‘n verskil in die lewens van kinders wil maak. Lees gerus meer by https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/goeie-nuus/kom-stap-camino-van-sandsteenkerke-en-help-kinders-voed/
Internasionale Perspektief 1:
Verkiesing in Suid-Afrika 2024
Geagte buitelandse vriende, kennisse en belangstellendes
Op 29 Mei sal Suid-Afrikaners in die sewende demokratiese verkiesing gaan stem. Hierdie verkiesing is van groot belang vir Suid-Afrika, Afrika en die hele wêreld. Hier volg ons opsomming van waarom die verkiesing belangrik is, waarna gekyk moet word, watter tendense ons reeds waarneem en hoe die wêreld daarop kan en moet reageer. Dit is ook in Engels, Duits en Nederlands beskikbaar.
Vriendelike groete
Jaco Kleynhans
Hoof: Internasionale Skakeling
Ná 30 jaar: Onsekerheid, vloeibaarheid en
politieke kruispaaie wat vir SA voorlê
Inleiding
Dertig jaar ná die aanbreek van demokrasie in Suid-Afrika is die politieke toekoms van die land in die weegskaal. Nog nooit sedert die eerste verkiesing op 27 April 1994 was daar soveel onsekerheid oor hoe die nasionale regering en verskeie provinsiale regerings saamgestel gaan word nie. Hoewel Suid-Afrika op munisipale vlak die afgelope paar jaar aan koalisiepolitiek gewoond geraak het, is dit op nasionale en provinsiale vlak nog ʼn onbekende verskynsel.
Dit is duidelik dat die ANC, wat sedert 1994 in elke verkiesing ʼn gemaklike meerderheid setels in die Nasionale Vergadering behaal het en dus nog altyd nasionaal alleen kon regeer, se steun in vanjaar se verkiesing verder kan daal van die vorige laagtepunt van 57% wat in 2019 behaal is. Dit verhoog die kanse op ʼn koalisieregering op nasionale vlak en in twee, drie of selfs vier provinsies.
Ná 30 jaar van ANC-meerderheidsregering staan Suid-Afrika by ʼn kruispad. Gaan tradisionele ANC-kiesers in die laaste dae van die veldtog na die party terugswaai en die party nog een kans gee om sy foute te probeer regmaak? Ná ʼn laagtepunt vir die party in peilings laat verlede jaar, lyk dit wel of die party se verkiesingsveldtog vrugte afwerp met ʼn styging in steun wat gedurende April waargeneem is.
Gaan radikale populistiese partye links van die ANC die party op die agtervoet hou, soos wat in Januarie tot Maart vanjaar in tussenverkiesings die geval was? Is geweld, veral in KwaZulu-Natal, ʼn wesenlike moontlikheid? Gaan kiesers se keuse op 29 Mei deur beleidsvoorstelle bepaal word of, soos meestal in die verlede, deur historiese lojaliteit, etnisiteit en politieke beloftes?
Suid-Afrika is by sy grootste kruispad sedert 1994. Op elke terrein – insluitende ekonomiese beleid, rasseverhoudinge, politieke stabiliteit, demokratiese instellings soos vrye en regverdige verkiesings, die oppergesag van die land se Grondwet, die posisie van die regstaat, die beskerming van eiendomsreg en ook die land se buitelandse beleid – sal die verkiesing op 29 Mei waarskynlik rigtinggewend wees.
Waar staan Suid-Afrika in die aanloop tot die verkiesing?
Historiese konteks: Die era van Mandela en Mbeki
Die afgelope 30 jaar in Suid-Afrika kan in twee dele verdeel word. In die eerste 15 jaar met Nelson Mandela en daarna Thabo Mbeki aan die stuur van sake het meestal sterk ekonomiese groei, internasionale welwillendheid en gesonde monetêre en fiskale beleid geseëvier. Gunstige internasionale ekonomiese omstandighede en die reuse-invloei van buitelandse beleggings, skenkersgeld en bydraes van internasionale organisasies het bygedra tot die sterk ekonomiese groei, wat natuurlik ook tot ʼn gesonde groei in staatsinkomste gelei het.
In hierdie tydperk het miljoene Suid-Afrikaners toegang tot basiese dienste soos elektrisiteit en lopende water verkry, terwyl die instel van ʼn breë maatskaplike veiligheidsnet deur uitgebreide maatskaplike toelae miljoene Suid-Afrikaners uit absolute armoede opgehef het. Verder het verstedeliking snel toegeneem, wat geweldige druk op infrastruktuur en dienste in stedelike gebiede, veral in Gauteng (Johannesburg en Pretoria), Durban en Kaapstad, geplaas het.
Die eerste fases van kaderontplooiing, waardeur onbekwame persone met politieke konneksies orals in plaaslike, provinsiale en nasionale staatsdepartemente aangestel is, het egter reeds teen die 1990’s die krake in regeringsdienslewering en die instandhouding van infrastruktuur sigbaar gemaak. Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging is ingestel en dit het tot die opkoms van ʼn klein elitegroepie superryk swart mense gelei, wat die risiko vir korrupsie verhoog het.
Dienslewering aan miljoene Suid-Afrikaners is uitgebrei, maar daar is geensins vir toekomstige kapasiteit beplan nie. Geen noemenswaardige nuwe damme, kragstasies, watersuiweringsaanlegte en openbare vervoerskemas is tydens die 1990’s en vroeë 2000’s ontwikkel nie. Die klem het sterk verskuif na uitsette in plaas van insette.
Die hantering van die groeiende misdaadkrisis, die MIV/vigs-pandemie en regeringskorrupsie was reeds onder sowel Mandela as Mbeki onder verdenking. Suid-Afrika se verhouding met Kuba, Iran en ander twyfelagtige lande het die oë laat rek, maar internasionale welwillendheid het geseëvier. Suid-Afrika het by uitstek die ekonomiese voorkeurbestemming in Afrika geword.
Die Zuma-era
Tydens die Zuma-era (2009 – 2018) het die een bom na die ander egter gebars. Misdaad het handuit geruk, ʼn gebalanseerde begroting het feitlik oornag in ontsaglike begrotingstekorte en groeiende staatskuld ontaard, buitelandse beleggings het begin opdroog en korrupsie het krisisafmetings aangeneem, wat uiteindelik tot sogenaamde staatskaping deur ʼn groepie Zuma-lojaliste gelei het.
Terwyl ekonomiese groei en werkskepping deur stagnasie, werkverliese en groeiende armoede vervang is, het populisme sy kop al hoe meer begin uitsteek in planne om grond te onteien, mediese dienste te nasionaliseer, selfs nóg strenger regstellende aksie in werking te stel en natuurlik om minderhede en die Weste toenemend die skuld te gee vir Suid-Afrika se probleme.
Grootskaalse immigrasie uit die res van Afrika, maar ook uit die Midde-Ooste en die Verre Ooste, het tot xenofobie in arm woonbuurte begin lei en tot ʼn geweldige toename in die stryd om toegang tot dienste tussen die armstes van die armes aanleiding gegee.
Die Ramaphosa-era
Teen die einde van die Zuma-presidentskap was dit duidelik dat Suid-Afrika in ʼn falende staat sou ontaard indien ʼn alternatiewe roete nie gevind kon word nie. Die ANC se antwoord hierop was die bekwame, intelligente, ervare en gerespekteerde ANC-strydros en meer onlangs sakeman, Cyril Ramaphosa, wat ook van 2012 tot 2017 adjunkpresident was. Ramaphosa was gereed om Suid-Afrika op ʼn meer volhoubare spoor terug te plaas.
Hy het egter die geweldige verdeeldheid binne die ANC onderskat. Daarmee saam het korrupsie deel van die DNS van die party geword, en dit was gou duidelik dat dit byna onmoontlik is om die korrupte kultuur van die staatsdiens te verander. Ramaphosa se halfhartige pogings om Suid-Afrika se aansien te verbeter en die land se ekonomie te herstel, is ondergrawe deur sy eie lae vlakke van energie, sy swak leierskap, sy onvermoë om moeilike besluite te neem en deur te voer en sy voortdurende geswig voor die eise van radikale faksies in sy party.
Ramaphosa het ook begin toelaat dat populistiese beleid deurgevoer word in ʼn poging om die onrustigheid onder die mees lojale ANC-ondersteuners te kalmeer. Dit het ons gebring by die 2024-verkiesing, een waar die ANC van Mandela en Mbeki nie meer bestaan nie en die ANC van Zuma gediskrediteer is. Wat bied die ANC van Ramaphosa? Waarskynlik niks meer nie as ʼn halfgebakte poging om politieke faksies bymekaar te hou en kiesers met populisme en leë beloftes te probeer oorreed om net nog een keer, ʼn agste keer, vir die ANC ʼn regeermandaat te gee.
Saam met die vernietigende gevolge wat korrupsie en staatskaping vir infrastruktuur en dienste soos elektrisiteit, paaie, spoorweë, hawens, watervoorsiening, behuisingsprojekte en onderwys ingehou het, het die afgelope 15 jaar se reuse- politieke foute ook Suid-Afrika se rasseverhoudinge groot skade berokken deur populisme soos hernude diskriminasie teen minderhede. Etniese foutlyne is toenemend weer ontbloot, wat tot hernude politieke sluipmoorde en etniese faksies binne die ANC aanleiding gegee het.
Byna ʼn volle dekade van geen ekonomiese groei, ʼn snel verswakkende geldeenheid, vervallende infrastruktuur en strenger rassediskriminasie in die werkplek – in die toekenning van staatskontrakte en in die regulering van onder meer grondbesit, onderwys, toegang tot naskoolse opleiding en elke denkbare ekonomiese aktiwiteit – het tot ʼn toename in die uitvloei van kapitaal en emigrasie deur hoogs geskoolde, ryker en hoërmiddelklas Suid-Afrikaners gelei.
Die afgelope vyf jaar het Ramaphosa geen antwoord hierop gebied nie. Uit desperaatheid het die ANC onder sy leiding ʼn party geword wat minstens harder probeer om nie korrup te wees nie, maar die populisme van die Zuma-era is teen ʼn oortreffende tempo versnel met die eerste stappe om grond sonder vergoeding te kan onteien, alle mediese dienste (Suid-Afrika het van die beste privaat mediese sorg ter wêreld) in ‘n nasionale gesondheidsorgskema saam te voeg en volledige sentrale beheer oor alle skole en onderwys te kry.
Die een uitsondering op die reël is tans die Wes-Kaap en veral Kaapstad. Dié provinsie en stad word deur die opposisie regeer en volgens alle billike internasionale maatstawwe word dit beter regeer as enige provinsie of stad waar die ANC in beheer is.
In ʼn omgewing waar die ANC alles sentraal wil beheer, teen desentralisasie gekant is en alles moontlik doen om die opposisie te ondermyn, hou vanjaar se verkiesing ook ʼn toets in vir plekke soos die Wes-Kaap om voortdurend as ʼn alternatiewe model vir Suid-Afrika te kan funksioneer.
Suid-Afrika in 2024
Suid-Afrika bly ʼn land van ontsaglike potensiaal, maar in 2024 is Suid-Afrika ook ʼn land met wesenlike risiko’s. Die redes daarvoor lê juis opgesluit in die ANC se desperate pogings om die mag te behou, maar ook in harde data soos die volgende 15 punte:
Verkiesing 2024
Die politieke partye
In die Nasionale Vergadering van die Suid-Afrikaanse Parlement is daar tans 14 politieke partye. Die ANC het 230 van die 400 setels. Die gematig-liberale Demokratiese Alliansie is gemaklik tweede met 84 setels. Die radikaal Marxisties-Leninistiese Economic Freedom Fighters is derde met 44 setels. Die konserwatiewe Zoeloe-party, die Inkatha Vryheidsparty, met 14 setels en die konserwatiewe Afrikanerparty, die Vryheidsfront Plus, met 10 setels is die enigste ander partye met 10 of meer setels. Die res het almal vier of minder setels.
Vanjaar sal 52 politieke partye aan die verkiesing deelneem, met ʼn ander mengsel in elke provinsie, terwyl daar ook vir die heel eerste keer onafhanklike kandidate sal deelneem omdat die wetgewing wat daarvoor voorsiening maak, onlangs goedgekeur is. Daar is egter net ʼn baie skraal kans dat enige onafhanklike kandidaat tot die Parlement verkies sal word.
Die fokus in hierdie verkiesing is hoofsaaklik op minder as tien politieke partye, wat minstens twee nuwe toetreders insluit:
Die ANC
Die belangrikste vraag op almal se lippe in aanloop tot vanjaar se verkiesing is: Presies hoeveel steun gaan die ANC verloor? Die party het ʼn ontsaglike verkiesingsmasjien, die grootste van alle partye, en dit moet nie onderskat word nie. Dat die party se steun van 57% in 2019 tot minder as 40% vanjaar kan daal, is ʼn oordrywing. Die party gaan waarskynlik daarin slaag om uiteindelik tussen 45% en 50% van die stemme op hom te verenig. Dit beteken egter meer koalisieregerings. Koalisieregerings in Suid-Afrika is ryk aan geleenthede en risiko’s. Dit sal goed wees indien die ANC se mag gebreek kan word. ʼn Koalisie met byvoorbeeld die radikale EFF kan rampspoedig wees. Dié twee partye werk die afgelope paar maande saam in ʼn koalisie in die Ekurhuleni Metro, een van die grootste stedelike munisipaliteite in Suid-Afrika, en vir dié gebied oos van Johannesburg was dit tot dusver rampspoedig.
Sal die ANC dit aanvaar indien hy beheer oor verskeie provinsies en dalk selfs die nasionale regering verloor? Dit is ʼn belangrike vraag. Nog ʼn belangrike vraag is met wie die ANC in ʼn koalisie sal saamwerk.
Die Demokratiese Alliansie
Vanjaar se verkiesing sal die eerste wees sedert John Steenhuisen leier van die party geword het. Die DA se hele veldtog is geskoei op sy regeervermoë en spesifiek wat die party in die Wes-Kaap en in die besonder Kaapstad vermag het.
Tydens die vorige verkiesing het die DA onder ʼn swart leier steun verloor. Ernstige vrae bestaan oor die party se groeipotensiaal met ʼn blanke leier. Ras en etnisiteit is deel van die Suid-Afrikaanse politieke werklikheid – selfs nog in 2024.
Die DA se steun blyk stabiel te wees volgens peilings, maar daar is aanduidings dat die party steun onder bruin kiesers in die Wes-Kaap verloor. Daar is selfs ʼn kans dat die DA sy meerderheid in dié provinsie kan verloor. Dit sal beteken dat die DA ʼn koalisie met ander partye sal moet sluit om beheer oor die Wes-Kaap te behou.
Die beste scenario tans vir die DA is om beheer oor die Wes-Kaap te behou en sy steun effens tot 25% te laat toeneem. Selfs dít lyk egter baie moeilik, ten spyte van ʼn uitstekende verkiesingsveldtog. Sal die party die onwaarskynlike doen en met die ANC in koalisie-onderhandelinge tree om ná die verkiesing te verhoed dat ʼn ANC-EFF-regering op nasionale vlak gevorm word?
uMkhonto weSizwe (MK)
Die MK-party is in Desember 2023 opgerig. Die party verteenwoordig hoofsaaklik die Zuma-faksie wat uit die ANC losgebreek het en bestaan uit veral Zuma-lojaliste wat die afgelope paar jaar deur die ANC uitgewerk is, dikwels weens hulle korrupte optrede. Die party het ook ʼn sterk etniese aanslag en fokus veral op die Zoeloe-bevolking in KwaZulu-Natal en dele van Mpumalanga en Gauteng.
In tussenverkiesings die afgelope drie maande het die party baie goed presteer, en peilings wys dat die party wesenlike steun onder Zoeloe-kiesers geniet. Dit staan te besien of die party volhoubaar daarin kan slaag om sy huidige steunvlakke te behou. Die party gaan egter sonder twyfel die kaarte vir ander partye in KwaZulu-Natal deurmekaar krap. Die kans is skraal dat die ANC ʼn meerderheid in dié provinsie sal behou, en MK kan dus ná die verkiesing ʼn belangrike rolspeler in koalisie-onderhandeling wees in wat een van die belangrikste provinsies van die land is. Hoewel MK nasionaal waarskynlik nie meer as tussen 5% en 10% van die stemme gaan trek nie, kan die party in KwaZulu-Natal maklik meer as 20% van die stemme kry en daardeur ʼn belangrike rolspeler word.
Die EFF
Die Ekonomiese Vryheidsvegters verteenwoordig ʼn radikaal linkse beweging in die Suid-Afrikaanse politiek. Die party beskryf homself as Marxisties-Leninisties en is ook ʼn sterk aanhanger van die gedagtegoed van Franz Fanon, wat in die 1950’s en 1960’s oor die noodsaak vir geweld in die stryd om dekolonisasie geskryf het. Fanon se hiper-Afrika-nasionalisme en sy totale afkeer van die Weste en goedpraat van geweld teen Westerlinge en Westerse instellings in Afrika vind neerslag in die EFF.
Die EFF bepleit die nasionalisering van talle bedrywe en maatskappye, en hy wil ook alle grond nasionaliseer en onder swart mense herverdeel. Die party se leier, Julius Malema, is wêreldwyd bekend vir sy sing van die lied “Kill the Boer, Kill the Farmer”, en die party se radikale anti-blanke retoriek lei dikwels tot vrese vir meer geweld in Suid-Afrika.
Geweld is nie die enigste risiko wat die EFF na die tafel bring nie. Die party se ekonomiese beleid kan katastrofies vir Suid-Afrika wees en kan tot ʼn ekonomiese inploffing lei.
Hoewel die EFF aanvanklik tydens die verkiesingsveldtog groei getoon het, lyk dit of die party se groeipotensiaal gedemp is. Nadat die EFF in 2019 10% van die stemme gewen het, is die beste scenario vir die party tans ʼn resultaat van tussen 10% en 15% van die stemme.
Inkatha Vryheidsparty
Die IVP toon die afgelope paar jaar hernude groei in KwaZulu-Natal en veral in landelike gebiede. Dit het te make met die ANC se verlies van steun onder Zoeloe-kiesers, maar ook die IVP se goeie baanrekord in talle munisipaliteite waar die party regeer.
Die IVP het tans goeie leierskap en voer ʼn sterk veldtog. Die party het potensiaal om effense groei te toon, maar dit sal tot gebiede met ʼn wesenlik Zoeloe-bevolking beperk wees. Die IVP kan egter ná die verkiesing ʼn belangrik rol in koalisie-onderhandelinge speel.
Vryheidsfront Plus
Die VF Plus is histories ʼn konserwatiewe party wat hoofsaaklik Afrikanerbelange verteenwoordig. Die afgelope tyd het die party se fokus verbreed om ook ander minderhede in te sluit en die party het in 2019 sterk groei getoon, met sy parlementêre setels wat van 4 tot 10 gegroei het.
Die VF Plus se manifes fokus sterk op ʼn meer gedesentraliseerde Suid-Afrikaanse bestel en die regte van gemeenskappe. Die party se groeipotensiaal is beperk. Sou die DA in die Wes-Kaap minder as 50% van die steun kry, sal die VF Plus, soos in talle munisipaliteite, ʼn belangrike koalisievennoot wees.
Patriotic Alliance
Die populistiese PA het die afgelope tyd skerp groei in steun onder die bruin minderheid getoon, veral in die Wes-Kaap. Die party vreet in die steun van die DA in en het talle munisipale setels by die DA weggeneem.
Die party se boodskap is ʼn regs-konserwatiewe bruin populisme wat onder andere die herinstel van militêre diensplig, Christelike onderrig in skole en die herinstel van die doodstraf voorstel.
Die party praat tot die hart van baie bruin gemeenskappe wat agtergelaat voel. Die party kan ʼn belangrike rolspeler in veral die Wes-Kaap en die Noord-Kaap word. Ook in Gauteng moet die party se steun dopgehou word, veral omdat die kanse goed is dat Gauteng ná die verkiesing deur ʼn koalisie regeer sal word.
Ander
Verskeie ander partye sal ook op 29 Mei daarin slaag om een of twee setels in die parlement te verower. Die grootste nuwe toetreder is sekerlik Action SA, in ‘n groot mate ‘n afsplitsing van die DA en ‘n party wat aanvanklik groot verwagtinge gekoester het, maar intussen grootliks in peilings terug gesak het. Ander partye sluit in partye soos die Afrika Christen Demokratiese Party, die United Democratic Movement en klein streek- of etniese partye. Die meeste van hierdie partye gaan min impak op die Suid-Afrikaanse politieke landskap maak.
Daar is wel ʼn scenario waar enkele klein partye belangrike rolspelers kan word, in ʼn geval waar die ANC se steun tot net minder as 50% daal. Die party sal waarskynlik dan verkies om een, twee of drie klein partye in ʼn koalisieregering te betrek eerder as om met die DA, EFF of MK saam te werk. Dit is daarom belangrik om dop te hou watter klein partye wel daarin gaan slaag om setels te wen.
Die verkiesingsveldtog
ʼn Meerderheid van Suid-Afrikaners van alle agtergronde is diep ongelukkig met die huidige situasie in die land en is taamlik pessimisties oor die toekoms. Werkloosheid, armoede, misdaad, vervallende infrastruktuur en korrupsie is waarskynlik die grootste drywers hiervan.
Die politieke reaksie hierop is gevaarlik populisties. Swak mediese dienste moet met genasionaliseerde mediese dienste vervang word. Die antwoord op werkloosheid volgens die ANC se verkiesingsmanifes is die skep van 2,5 miljoen ekstra poste deur die regering. Landbou- en ander grond moet sonder vergoeding onteien word. Pensioenfondse moet verplig word om in sekere infrastruktuur- en ander projekte te belê.
Erger selfs as die ANC se voorstelle in sy verkiesingsmanifes is die opkoms van radikale populistiese partye soos die EFF en MK. Desperate kiesers is toenemend bereid om na radikale idees te luister.
Daar was nog nooit die afgelope drie dekades ʼn verkiesing in Suid-Afrika waarvan die uitslag so moeilik voorspelbaar was nie. Baie kiesers kan en gaan nog hulle keuse verander en dit skep ʼn vloeibaarheid wat tot groot onsekerheid lei.
Vrese vir geweld voor die verkiesing bestaan steeds, en veral in KwaZulu-Natal is daar ʼn wesenlike risiko. Die kanse vir geweld ná die verkiesing is egter groter, veral sou moeilike koalisie-onderhandelinge voorlê.
Die belangrikste vraag is egter hoeveel Suid-Afrikaners wel op 29 Mei sal gaan stem. Die afgelope jare was daar ʼn voortdurende afname in kiesersdeelname. Die grootste stem kan dalk net weer die wegblystem wees. In ʼn onlangse peiling deur IPSOS het 35% van Suid-Afrikaanse kiesers aangedui dat geen politieke party hulle sienings verteenwoordig nie. Dit skep groot negatiwiteit teenoor die politiek en ongelukkig ook ʼn afname in vertroue in die demokrasie.
Voorspellings, peilings en moontlike scenario’s
Die IPSOS+-peiling van 27 April plaas die ANC se steun op 40,2%, die DA se steun op 21,9%, die EFF se steun op 11,5%, MK se steun op 8,4% en die IVP op 4,4%. Byna 10% van kiesers is steeds onseker vir wie hulle gaan stem, maar baie kiesers is bereid om nog hulle keuse te verander.
Talle peilings deur verskillende peilingsagentskappe die afgelope paar maande toon ʼn skerp afname in steun vir die ANC, min groei vir die DA en die EFF, die opkoms van MK en klein groei vir ʼn aantal kleiner partye.
Ons verwagting is dat die ANC beter gaan vaar as wat peilings tans toon, maar dat die party gaan sukkel om by 50% uit te kom. Die EFF gaan effens groei. Die DA gaan sukkel om veel beter as in 2019 te doen. MK is nog ʼn nuwe party waarvan steunvlakke moeilik voorspel kan word.
Suid-Afrika gaan dus ná die verkiesing ʼn meer versplinterde politieke landskap hê. Die kanse is baie goed dat die land op nasionale vlak deur ʼn koalisie regeer sal word. Die kanse neem ook toe dat Gauteng, die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en moontlik selfs die Noord-Kaap deur koalisies beheer sal word. Dit beteken dat moeilike onderhandelinge ná die verkiesing sal voorlê, wat tot groter risiko’s en onsekerheid oor die kort termyn sal lei.
Ons aanbevelings aan buitelandse rolspelers
Suid-Afrika is by ʼn belangrike kruispad. Die ANC is na 30 jaar aan bewind ʼn party wat deurtrek is van korrupsie, verdeeldheid en uitgediende ideologiese benaderings tot moderne en komplekse geopolitieke en ekonomiese uitdagings. Baie van die politieke alternatiewe tot die ANC is egter selfs meer korrup, ideologies verstok en radikaal en is eintlik (soos die EFF en MK) bloot afsplinterings van die ANC.
Billike gematigde partye en leiers is verdeeld en slaag nie daarin om historiese ANC-kiesers van ʼn gematigde sentristiese politieke oplossing vir Suid-Afrika se talle probleme te oortuig nie.
Terwyl Suid-Afrikaners toenemend negatief oor die toekoms van hulle land raak, neem kommer in veral Westerse lande maar ook talle Afrikalande toe oor Suid-Afrika se toekomstige politieke en ekonomiese stabiliteit. ʼn Onsekere beleidsomgewing, vervallende infrastruktuur, misdaad, oorregulering en Suid-Afrika se vervreemding van Westerse bondgenote in ruil vir nouer bande met China, Rusland en Iran is van die redes waarom die land tans buitelandse beleggings verloor.
Sou Suid-Afrika ʼn falende staat word, kan dit tot wesenlike konflik aanleiding gee en kan die hele suidelike Afrika gedestabiliseer word. Dit is in belang van die mense van Suid-Afrika, volgehoue stabiliteit in suidelike Afrika en ook die vooruitgang van die hele Afrika-kontinent dat Suid-Afrika reggeruk moet word.
Buitelandse rolspelers het hier ʼn belangrik rol om te speel. Die huidige regering se foute moet ontbloot word, terwyl die politieke opposisie, die privaat sektor, burgerlike organisasies en gemeenskappe ondersteun moet word. Internasionale organisasies en forums moet gebruik word om druk op die ANC en die Suid-Afrikaanse regering te plaas.
In hierdie opsig gaan die verkiesing op 29 Mei nie soveel verander nie. Die huidige ANC-beleid gaan ná die verkiesing voortgesit word. Meer populisme, gebore uit politieke desperaatheid, gaan waarskynlik volg. Internasionale fokus hierop is noodsaaklik. Suid-Afrika kan reggeruk word, maar dit sal nie sonder ʼn wesenlike rol deur die internasionale gemeenskap moontlik wees nie.
Deur dr. Dirk Hermann
Adjunkpresident Paul Mashatile het gesê hy gaan onder andere vir AfriForum en Solidariteit nader in sy groot waterplan.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het al voorheen gesê dat ons nie van die regering hou nie, maar dat ons lief is vir die land. Daarom sal ons graag help. Ons sal opreg wees met ons aanbod om te help. Dit is as die regering opreg wíl help en nie net geraas maak voor die verkiesing nie.
Solidariteit beskik reeds oor ʼn lys van die land se beste ingenieurs en ambagslui wat bereid is om met die land se infrastruktuuruitdagings te help. Die lys is spesifiek opgestel vir elektrisiteitsuitdagings, maar sal vinnig en maklik uitgebrei kan word om met die land se wateruitdagings te help.
Solidariteit het ʼn reuse-aanlynplatform wat letterlik oornag kundiges kan mobiliseer. Ons is meer as gewillig om, ter wille van die land, te help. Ons ervaring is dat die land se kundiges graag wil help, maar in die verlede het hulle ʼn gebrek aan wil by die regering ervaar. As die regering sy rasbril afhaal en die land se uitdagings voorop stel, kan kenners ʼn reuserol speel.
Ons kollegas by AfriForum het kundiges in die organisasie wat oor ongelooflike kennis beskik.
Hulle doen reeds reusewerk in verskeie gemeenskappe. Samewerking met AfriForum sal ʼn reuseverskil maak. AfriForum het reeds verskeie plaaslike samewerkingsooreenkomste daargestel en sal nasionaal ʼn groot verskil kan maak.
Party is kopers en ander is die kassier. Party is ʼn dokter of ʼn advokaat, ander is ʼn veearts en nog een ʼn tandarts. Party is wit en party is swart, maar almal is kindertjies.
Op ʼn spesifieke tydstip word ʼn foto geneem. Op daardie tydstip is die een kindjie ʼn kassier en toevallig swart, en ʼn ander een is die koper en toevallig wit. Dit is bloot die werklikheid van ʼn enkele oomblik. Op ʼn ander tydstip sal die advokaat dalk swart wees en die dokter wit. Daar sal heel moontlik nog ʼn kassier wees en hierdie keer wit. Daar is nie sprake van raskassies vir die kindertjies nie.
Geen mens sal mos dit doen nie. Geen juffrou sal ʼn kind agter ʼn kasregister sit omdat hy/sy swart is nie. Die persoon wat die plasing gemaak het, is so min rasbewus dat hy/sy dit geplaas het.
Rasbeheptes sien toe kleur. Dit is ʼn siek wêreldbeskouing wat rassisme in ʼn kleuterskoolklassie kry. Jy vra nie vir sulke mense om verskoning nie. Hulle maak van die arme kindertjies ras-objekte. Onskuldige kindertjies word gebruik vir rassepolitiek. Hierdie was nie ʼn ras-insident nie. Rasbeheptes het dit ʼn ras-insident gemaak. Dit is nie Curro, die onderwysers of die kinders wat rasstereotipering gepleeg het nie. Dit was die rasstryders op sosiale media.
Die reaksie op sosiale media was kunsmatige woede. Daar was nie ʼn groot reaksie nie.
Curro het toe om verskoning gevra. Die Departement van Onderwys het nie eers van hierdie insident geweet nie en is eers ná die Curro-verklaring daarvan bewus gemaak. Hulle skrik só dat hulle sommer self bieg. Curro is tog só jammer vir die aanstootlike stereotipering. Curro probeer om die rasstryders te bestuur deur soos ʼn hondjie om te rol en om verskoning te vra en op die mat te piepie.
My maggies, Curro, dit was nie ʼn ras-insident nie! Deur julle jammerlike houding het julle dit ʼn ras-insident gemaak waaraan julle skuldig is. Julle het die raskrokodil gevoer wat net méér rashonger raak.
Die rasstryders retireer nie as daar om verskoning gevra word nie. Daar is nie vergifnis nie. Hulle sien dit as skulderkenning en swakheid en val aan om die situasie te laat eskaleer.
Die Departement van Onderwys gaan dus verder en die grondwetlikheid van Curro se waardestelsel moet nou ondersoek word. Daar moet gekyk word of hulle menseregte en rassegelykheid verstaan. Dít is wat gebeur as jy wil paai deur ʼn verskoning en skulderkenning waaraan jy nie skuldig is nie. Die rasstryders is nie paaibaar nie.
Die departement reageer heftig, skaars twee weke nadat die Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) vir Onderwys in Noordwes deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gedwing is om vir Elana Barkhuizen om verskoning te vra ná ʼn vorige heftige rasreaksie. Sy het ook ʼn foto van ʼn spesifieke oomblik geneem. Die hof het egter in haar guns beslis en die SAMRK het gesê haar menseregte is geskend. Hulle leer niks nie en Curro rol om.
Al waarvoor daar nou gewag word, is ʼn arme onderwyseres wat net goed bedoel het, se kop wat met ʼn rasbyl afgekap word.
Moenie dit doen nie! Ons wag vir julle.