Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 43

 Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 42

In die jongste aflewering van Wêreldwys gesels Jaco Kleynhans met Alida Kok, dosent in politiek aan Akademia, oor die manier waarop diplomasie oor die afgelope dekades verander het. ou modelle van diplomasie is nie meer voldoen nie. In hierdie werklikheid is dit nodig om ʼn nuwe balans te vind tussen dialoog en druk. Om hierdie balans te vind en strategies te kan toepas, is wat groepe op dié komplekse speelveld sal kan onderskei. Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.

Links, regs en die nuwe realiteit

Werner Human

Bron: Maroela Media

 

Die terme links, regs en verregs word al vir ʼn geruime tyd wyd in die internasionale politieke diskoers gebruik – ook in Suid-Afrika. Dit lei dikwels tot groot frustrasie aangesien talle wanopvattings en onwaarhede aan hierdie begrippe gekoppel word.

In Suid-Afrika word enige standpunt wat nie met die ANC se sterk linkse beleidsvertrekpunte ooreenstem nie met allerlei beskuldigings gepeper en aangedik deur aanklagte van “anti-transformasie,” “teenrevolusionêr,” “rassisme” en ander soortgelyke skelname. Onlangs het ʼn ou gunsteling weer sy opwagting gemaak toe die presidensie na die Solidariteit Beweging se besoek aan die VSA verwys het as ʼn “terughunkering na apartheid”.

Onderliggend aan dit alles is die beskouing dat linkse politieke ideale ʼn diep omgee vir ander veronderstel, vooruitgang en voorspoed bewerkstellig en die veiligheid van mense bevorder. Teenstellend kan daar nie genoeg beskrywings gelys word nie waarin regs en verregs as rassisties, gevoelloos, onderdrukkend, abnormaal en sommer botweg as boos voorgehou word.

Die morele aansprake wat met linkse politieke ideale vereenselwig word, het natuurlik tot gevolg dat alles wat buite daardie raamwerk val, vanselfsprekend niemoreel of selfs immoreel is.

En dit is juis hierdie verstaan van die verdeling tussen links en regs op die politieke spektrum – en hoe dit die afgelope dekades uitgespeel het – wat tans uitgedaag word.

Die verkiesing en herverkiesing van Donald Trump is ʼn sprekende voorbeeld hiervan.

ʼn Verdere voorbeeld is die reeks verkiesings vir die Europese Parlement waarin die uitslae van links na die meer behoudendende partye verskuif wat verkies word of deel van koalisies vorm.

Selfs die nasionale verkiesing in Suid-Afrika is ʼn teken dat die linkse politieke ideale die morele aanspraak op openbare en private aangeleenthede begin verloor, en daarmee tesaam, die greep op samelewings en gemeenskappe.

Die foutlyne in die post-Koue Oorlog-era

Die probleem met die hedendaagse “links-regs”-onderskeid lê nie daarin dat daar ʼn onderskeid tussen links en regs in die politieke diskoers kan bestaan nie. Dit op sigself is nie problematies om in die breë na die linker- of regterkant van die politieke spektrum te verwys, of om jouself daarmee te vereenselwig nie. Die werklike probleem ontstaan wanneer die morele vertrekpunte wat aan hierdie posisies gekoppel word nie krities bevraagteken word nie.

Die herwaardering van die tradisionele links-regs-politieke spektrum vereis ʼn ontleding van die nuwe era waarin ons ons tans bevind.

Dit is belangrik om te beklemtoon dat die wêreld – en Suid-Afrika – nie bloot deur ʼn tyd van verandering gaan nie, maar dat ons werklik ʼn verandering van die tyd self beleef.

Die vorige tydvak wat ʼn omwenteling van hierdie aard teweeggebring het, het gekom met die val van die Berlynse Muur wat die einde van die Koue Oorlog ingelui het. Soos vandag, het baie mense destyds geworstel met die vraag oor wat die nuwe era sou inhou en watter vorm dit uiteindelik sou aanneem.

Een van die mees invloedryke denkers in hierdie oorgangstyd was die politieke wetenskaplike Francis Fukuyama. In sy boek The End of History and the Last Man (1992) stel hy die uitgangspunt dat die verloop van geskiedenis gesien kan word as ʼn proses van uitskakeling – waarin verskillende regeringsvorms met verloop van tyd ten opsigte van hul werkbaarheid getoets is.

Fukuyama voer aan dat die politieke ontwikkeling van die mensdom uiteindelik tot ʼn liberale demokrasie as die finale vorm van regering lei. Hy skryf (eie vertaling): “Wat ons moontlik tans beleef, is nie bloot die einde van die Koue Oorlog nie … maar die eindpunt van die mensdom se ideologiese ontwikkeling en die universalisering van Westerse liberale demokrasie as die finale vorm van menslike regerings”.

Die Westerse liberale demokrasie het sy oorsprong in die tydperk van die Verligting, en volgens Fukuyama is dit die regeringsvorm wat ten beste aan die mens se diepste behoeftes voldoen – naamlik erkenning en ekonomiese welvaart. Juis daarom, meen hy, kan die liberale demokrasie as ʼn universele model beskou word wat deur uiteenlopende samelewings aanvaar en geïmplementeer kan word.

Die kernargument van Fukuyama se invloedryke werk is destyds wyd aanvaar as die mees gesaghebbende beskrywing van die post-Koue Oorlog-orde. Dit is egter belangrik om daarop te let dat hy ook verskeie waarskuwings gerig het – onder meer oor die moontlikheid van etniese konflik in verskeie dele van die wêreld wat die verspreiding van die Westerse liberale demokrasie kan knel, sowel as oor kapitalisme wat met politieke mag vervleg word en moontlik ʼn nuwe vorm van outoritêre regering tot gevolg kan hê.

Fukuyama se sentrale uitgangspunt bly egter sy stelling dat die Westerse liberale demokrasie universeel aanvaar kan word en dat die verdere verloop van die geskiedenis uiteindelik in hierdie regeringsvorm sou oorgaan.

Sedert die beëindiging van die Koue Oorlog en die gelyktydige opkoms van die liberale wêreldorde het dit egter al hoe duideliker geword dat verskeie faktore – soos nasionale veiligheidsoorwegings, staatsoewereiniteit, die deurslaggewende rol wat kultuur en kultuurverskille wêreldwyd speel, die belang van Westerse erfenis in Westerse lande en die rol van godsdiens – Fukuyama se uitgangspunte tot ʼn groot mate bevraagteken of selfs ondermyn het.

Twee van Fukuyama se tydgenote het die post-Koue Oorlog-wêreldorde op ʼn heel ander manier benader.

John Mearsheimer, verbonde aan die Universiteit van Chicago, het reeds in 1990 – enkele maande ná die val van die Berlynse Muur – in sy invloedryke essay Back to the Future, sy kommer uitgespreek oor sekere scenario’s wat in die nuwe wêreldorde kon ontstaan.

Volgens Mearsheimer is die liberale ekonomiese orde wat deur Fukuyama voorgehou word nie in staat om werklike vrede en veiligheid te verseker nie. Die primêre waarborg vir vrede lê nie in die afskaal van veiligheidsbelange deur wêreld- of streeksmagte nie, maar in die handhawing van hierdie oorwegings as kernvoorwaarde vir blywende stabiliteit.

Ekonomiese liberalisme gaan van die aanname uit dat vrye handel tussen state, saam met die interafhanklikheid wat dit meebring en die groeiende mag wat daarmee gepaardgaan, uiteindelik die hoogste graad van vrede en voorspoed tot gevolg sal hê. Mearsheimer bevraagteken egter hierdie uitgangspunt fundamenteel.

Dit is inderwaarheid die breër politieke omgewing wat die deurslag gee aangesien dit oor veiligheid, sekuriteit en uiteindelik oorlewing handel. Binne die groter ekonomiese sfeer bring interafhanklikheid egter ʼn mate van afhanklikheid mee, en wanneer daardie afhanklikheid oorgaan in volslae afhanklikheid word staatsoewereiniteit ondermyn – wat weer die veiligheid van lande in gevaar stel.

Daarom voer Mearsheimer aan dat, alhoewel die liberale ekonomiese orde moontlik nie onmiddellik tot grootskaalse oorloë sal lei soos dié in die eerste helfte van die twintigste eeu nie, die potensiaal vir konflik onder so ʼn orde selfs groter kan wees as gedurende die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog.

Met die oog op die huidige wêreldpolitieke landskap is die waarde van Mearsheimer se insigte van 35 jaar gelede besonder relevant. Sy kritiek op die ekonomiese liberale orde dui daarop dat die stelsel se neiging om state se veiligheidsoorwegings te onderskat, juis die ruimte vir groter spanning en konflik skep.

Samuel Huntington, ook ʼn toonaangewende stem in daardie tyd, voer in teenstelling met die posisie wat Fukuyama voorhou, aan dat die ganse wêreld nie maklik met Westerse liberale denke versoen kan word nie.

In sy boek Clash of Civilisations (1996) skryf Huntington: “Westerse universalisme is gevaarlik vir die wêreld omdat dit ʼn globale oorlog tussen beskawings kan ontketen. Dit is gevaarlik vir die Weste self omdat dit tot die Weste se eie ondergang kan lei.” En voorts: “Die voortbestaan van die Verenigde State en die Weste vereis die hernuwing van Westerse identiteit. Die veiligheid van die wêreld vereis die aanvaarding van globale veelbeskaafdheid. Die poging om Westerse politieke en ekonomiese waardes op ander beskawings af te dwing, is beide nutteloos en moreel onverdedigbaar.”

Waar Mearsheimer ʼn meer realistiese posisie inneem deur te pleit dat die politieke omgewing wat vir veiligheid en soewereiniteit van magte daargestel word die botoon moet voer vir blywende vrede, voer Huntington aanvullend tot die posisie aan dat kultuur- en beskawingswerklikhede insgelyks verreken moet word om vrede en verdraagsaamheid te bevorder.

Die toepassing van Mearsheimer en Huntington in die post-Koue Oorlog-era

Heelwat van die bekommernisse van Mearsheimer en Huntington is bewaarheid. Die uitbreiding van Navo het ʼn bydraende rol tot die aggressie van Rusland gespeel, veral met verwysing na die anneksering van die Krim-skiereiland in 2014 in Oekraïne en die oorlog wat Rusland in Oekraïne sedert 2022 voer.

Rusland se aggressie dui ook op die verwerping van Westerse universaliteit en die heropkoms van kultuur wat ʼn kernrol in internasionale betrekkinge speel.

Die Westerse beskawing worstel tans met die behoud van sy eie identiteit onder die druk van immigrasie, globalisering en universele aansprake van die liberale wêreldorde.

In hierdie konteks kan die verkiesing van Donald Trump in 2016 ʼn keerpunt verteenwoordig. Trump se veldtog is telkens gebou op die beginsels van ekonomiese nasionalisme, kulturele bewaring en die herbevestiging van ʼn Westerse (en spesifiek Amerikaanse) identiteit. Slagspreuke soos “Make America Great Again” en “America First” spreek tot ʼn breër behoefte aan kulturele erkenning en grensoorkoepelende selfbehoud. Vir Huntington sou Trump se opkoms ʼn bewys wees van hoe Westerse burgers hul beskawing as bedreiging begin sien – nie net deur buitelandse magte nie, maar deur interne verval en liberale universalistiese idees.

In Europa het ʼn soortgelyke verskuiwing plaasgevind. Politieke leiers soos Viktor Orbán in Hongarye, Giorgia Meloni in Italië, Geert Wilders in Nederland en Marine Le Pen in Frankryk fokus almal sterk op kulturele identiteit, godsdiens, erfenis en nasionale soewereiniteit. Die partye wat hulle verteenwoordig is dikwels krities teenoor immigrasie, die verwerping van Europese integrasie en teenoor liberale norme wat – volgens hulle – Westerse beskawingswaardes verwater of ondermyn.

Sowel Trump as hierdie Europese partye verteenwoordig ʼn breër reaksie op globalisering en die liberale wêreldorde wat Westerse elite-strukture ná die Koue Oorlog probeer vestig het. Nou, ironies genoeg, begin Westerse beskawings self daardie universele aansprake bevraagteken, en begin hulle eerder fokus op hul eie kulturele oorlewing.

In die lig hiervan is Huntington se werk besonder relevant: Hy het voorsien dat beskawingspolitiek nie net tussen die Weste en “die res” sou afspeel nie, maar ook binne die Weste self. Die kulturele herlewing, die behoefte aan identiteit en die opkoms van leiers wat hulself sien as beskermers van kultuur en geskiedenis, bevestig dat die wêreldpolitiek weer rondom kultuur – nie ideologie alleen nie – gesentreer is. Huntington se waarskuwing teen die selfversekerde universaliteit van die liberale orde was nie ʼn pleidooi vir isolasie nie, maar ʼn beroep op selfkennis, balans en die aanvaarding van wêreldwye veelvormigheid.

Links, regs aan’t verander

Daar kan met reg gestel word dat die manier waarop die politieke posisies van links en regs oor die afgelope drie dekades verstaan is, tans uitgedien en ontoereikend is.

Dit is duidelik dat die wêreldorde wat ná die Koue Oorlog ontstaan het, nie die finale fase van vrede, vooruitgang en universele liberalisme verteenwoordig het nie. Inteendeel, ons bevind ons nou in ʼn nuwe tydvak waarin kultuur, identiteit, nasionale belange en magsbalans weer sentraal staan. Die liberale wêreldorde sal moontlik nie heeltemal verdwyn nie, maar die era van Westerse liberale hegemonie is klaarblyklik verby.

Daar is dus nie meer ruimte om sonder meer aan te neem dat linkse politieke uitgangspunte inherent goed en edel is terwyl regse posisies as boos of agterlik afgemaak word nie. So ʼn benadering is onvanpas in ʼn wêreld waarin die kompleksiteit van kulture, geskiedenisse en magsbelange nie in eenvoudige morele raamwerke vasgevang kan word nie.

Die realiteit van die toekoms is dat dit wat voorlê nie noodwendig gekenmerk sal word deur ʼn wêreld van konsensus en eenvormigheid nie, maar eerder deur herskikking en aanpassing.

In hierdie nuwe era sal volhoubare vrede en samewerking nie gesmee word deur die oplegging van universele ideale nie, maar deur die erkenning van en verdraagsaamheid teenoor verskille, die hantering van magsrealiteite, en die verantwoordelike bestuur van spanninge binne ʼn wêreldorde sonder ʼn enkele sentrum van gesag.

Die ANC moet nou sy voortgesette waninligting stop

Die voortgesette valse bewerings dat Solidariteit en AfriForum waninligting in die buiteland versprei, is niks anders nie as waninligting en ʼn poging om ons die sondebok vir die ANC se foute te maak.
Dit is nou tyd dat die ANC verantwoordelikheid aanvaar vir die diplomatieke krisis met die VSA waarin die land gedompel is weens die party se roekelose beleidsrigtings, en hulle moet ophou om Solidariteit en AfriForum daarvoor te blameer.
Indien die VSA Suid-Afrika uit die Agoa-ooreenkoms skop, moet die skuld vierkantig voor die deur van die Ramaphosa-regering gelê word. Solidariteit en AfriForum se jare lange pogings om die VSA met behulp van gesaghebbende navorsing te probeer oortuig om Suid-Afrika as ʼn begunstigde van Agoa te behou, word keer op keer deur die ANC se eie beleidsrigtings en optredes gesaboteer.

Volksmoord en sanksies

Ons wil dit duidelik stel dat ons nooit bewerings van ʼn “volksmoord” van wit mense in Suid-Afrika gemaak het nie. Ons het nie gevra vir sanksies teen Suid-Afrika nie. Ons het nie gevra dat die VSA enige fondse aan Suid-Afrika afsny nie. Ons het uitdruklik gevra dat Suid-Afrika nie uit Agoa geskop word nie omdat dit duisende Suid-Afrikaners hulle werk sal kos. As patriotiese Suid-Afrikaners het ons ʼn beroep op die VSA gedoen om nie die mense van Suid-Afrika te straf as die Trump-administrasie kwaad is vir die ANC nie.

Ons is lief vir die land en sy mense, al stem ons nie met die ANC se beleid en optrede saam nie. Hoewel ons gewaarsku het oor die gevare van die Onteieningswet, het ons nie bewerings teenoor die Amerikaanse regering gemaak dat grootskaalse onteiening sonder vergoeding reeds in Suid-Afrika plaasvind nie.

Die Solidariteit Beweging was verlede jaar deel van ʼn groep van ongeveer twee miljoen Afrikaners wat ʼn verklaring ondersteun het waarin ons ons lojaliteit aan die land en sy mense beklemtoon en waarin ons terselfdertyd voorstelle gemaak het oor die voorwaardes wat Afrikaners benodig om in die land te bly om ʼn blywende bydrae tot Suid-Afrika te maak. Die ANC het hierdie opbouende voorstelle geïgnoreer.

Suid-Afrikaanse oplossings

Ons verwerp die ANC se skynheilige uitsprake dat ons probleme intern in Suid-Afrika moet uitsorteer eerder as om in die buiteland daaroor te kla. Die ANC het met die Bela-onderhandelinge duidelik gewys dat hulle nie bereid is om die grondwetlike voorsiening vir Afrikaanse onderwys te respekteer nie. Hulle weiering om in goeie trou Suid-Afrikaanse oplossings te vind vir grondliggende sake wat die voortbestaan van ons taal en kultuur ten diepste raak, laat ons met geen keuse nie as om ons saak te internasionaliseer nie.

Ons vra niemand se toestemming om ons fundamentele menseregte en regmatige belange te verdedig nie omdat die ANC oor en oor bewys het dat hulle nie daarmee vertrou kan word nie.

Ons sal voortgaan om dit feitelik en ewewigtig te doen om nie die land skade te berokken nie, anders as die ANC wat voortgaan om die land te wanbestuur, korrupsie te laat gedy en die armoede en werkloosheid in die land nog verder te vererger.

Lees ook: Alles wat jy van die Solidariteit Beweging se besoek aan die VSA moet weet.

Ernstige gevolge vir gewone Suid-Afrikaners as VSA sy ambassade afskaal en konsulate sluit 

Bron: Solidariteit

Nóg uitgebreide ekonomiese en diplomatieke skade, verdere werksverliese, ʼn uittog van beleggers én hindernisse met die uitreik van noodsaaklike handelspermitte en reisigersvisums.
Solidariteit glo dit alles tel onder die moontlike gevolge wat die afskaling van die Amerikaanse ambassade in Pretoria, asook die moontlike sluiting van die Amerikaanse konsulaat in Johannesburg, vir Suid-Afrikaners kan inhou.

Hierdie werklikhede dreig as gevolg van die Suid-Afrikaanse regering se verbrokkelende verhouding met die Verenigde State van Amerika. Dié diplomatieke krisis kan veroorsaak dat die omvang van die Amerikaanse diplomatieke missie in Suid-Afrika dramaties verklein word.
ʼn Geskil oor Suid-Afrika se amptelike beleidsposisies het ʼn diplomatieke krisis tussen die lande ontketen, en dit word tans vererger deur pogings van die Johannesburgse metroraad om die straat waarin die VSA konsulaat in Sandton geleë is na ʼn Palestynse vryheidsvegter te vernoem.
Die risiko bestaan dat die VSA sy Johannesburgse konsulaat sal wil sluit, terwyl die oorblywende konsulate in Kaapstad en Durban ook in die gedrang kan kom.

Solidariteit glo ʼn verdere diplomatieke misrekening, soos die geval sal wees met die straatnaamverandering wat tans deur die metroraad oorweeg word, sal ʼn reeds brose verhouding met die VSA verder skaad.
Volgens die Solidariteit Navorsinginstituut (SNI) sal selfs net die sluiting van die Johannesburgse konsulaat ʼn gevoelige slag wees, aangesien Johannesburg die ekonomiese hoofstad van Suid-Afrika, en ook die tuiste van etlike Amerikaanse en multinasionale maatskappye in die land is.

Die SNI glo die sluiting sal onder meer:

•    die proses vir Suid-Afrikaanse reisigers wat visums wil bekom, bemoeilik;
•    die proses wat Suid-Afrikaanse sakelui moet volg wat visums wil bekom en ondernemings wat noodsaaklike handelspermitte en -dokumentasie wil bekom, belemmer;
•    beleggersvertroue skaad aangesien die sluiting op ʼn verdere verbrokkeling van die diplomatieke verhouding dui;
•    werksverliese vir Suid-Afrikaners meebring aangesien groot Amerikaanse maatskappye hul teenwoordigheid in Suid-Afrika kan beëindig of heroorweeg;
•    meebring dat hotelle, restaurante en diensverskaffers wat afhanklik is van konsulêre besoekers, inkomste sal verloor, wat tot verdere werksverliese kan lei; en
•    Amerikaanse bydraes inperk wat die konsulaat tot waardevolle intelligensie oor transnasionale misdaad, geldwassery en terrorisme lewer, en Suid-Afrika se weerstand teen georganiseerde misdaad verminder.

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, kan veel ernstiger gevolge as die sluiting van ʼn konsulaat volg indien radikale regeringsamptenare met ʼn ideologiese stryd teen die VSA volhard.
“Dit is in geen Suid-Afrikaner se belang om ter wille van ANC-beleid en -agendas aan die risiko van verdere ekonomiese agteruitgang en internasionale isolasie blootgestel te word nie.
“Dit is wat die afskaal van die Amerikaanse missie en die sluiting van ʼn konsulaat sal teweegbring.
“Hou ook in gedagte dat Amerikaanse maatskappye, waarvan talle se kantore in Johannesburg geleë is, sommiges digby die konsulaat in Sandton, duisende Suid-Afrikaners in diens neem. Hulle dra boonop miljarde rand in belasting tot die tesourie by.
“Ongelukkig lyk dit of ons regering met sy anti-Westerse narratief gaan volhard en dus gemaklik is as gewone Suid-Afrikaners vir regeringsondes gestraf word,” waarsku Kleynhans.

Suid-Afrika se verhouding met die regering van president Donald Trump beleef tans ʼn ongekende laagtepunt.
Die verhouding het die afgelope paar weke verdere terugslae beleef weens kwetsende uitlatings teenoor die VSA deur die voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Washington, Ebrahim Rasool, en beledigings deur die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula.
Die VSA het ook kennis geneem van die Ramaphosa-regering se stilswye oor die EFF-party se sing van die “Kill the Boer”-strugglelied op Menseregtedag.

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 41

In hierdie week se episode van Wêreldwys gesels ons met Pollak oor die verhouding tussen SA en die VSA en wat nodig is om dit reg te ruk. Joel Pollak is ʼn senior redakteur by Breitbart in Los Angeles in die VSA. Breitbart is een van die grootste en mees invloedryke bronne van konserwatiewe, alternatiewe media in Amerika. Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 40

In hierdie week se uitgawe van Wêreldwys gesels ons oor hoe Trump die globale herskikking van magte versnel en hoe lande soos China, Indië, Iran, Rusland, verskeie Europese reuse soos Duitsland en andere hierop reageer en wat dit vir die toekoms inhou. Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.

Land en Sand: Flip Buys

RSG-onderhoud met Flip Buys 

Flip Buys gesels Woensdag 19 Maart op RSG se program “Land en Sand” in “Op en Wakker”.  Luister die onderhoud hier.

 

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 39

In hierdie week se episode van Wêreldwys gesels ons met die bekende Nederlandse joernalis en skrywer Wierd Duk wat ook ’n kenner is van Rusland, waar hy self 12 jaar lank gewoon het. Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die VSA ’n sterk militêre teenwoordigheid in Europa. Europese lande het oor die afgelope paar dekades stelselmatig hulle militêre begrotings besnoei tot op ’n punt waar baie EU-lidlande vandag nie meer oor enige vermoë beskik om hulself militêr te kan verdedig nie. Europa het ook grootliks sy vermoë om self wapens te vervaardig, verloor. Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.

Tien historiese redes om te bly

Flip Buys

Bron: Maroela Media

 

Amerikaanse president Donald Trump het vandeesmaand opspraak verwek met sy uitvoerende bevel wat onder meer voorsiening maak vir Afrikaners wat deur rassewette of onteiening sonder vergoeding benadeel word om na Amerika te vlug.

Die feit dat die ANC alles in die stryd werp om steeds alleen te regeer in plaas van deur ʼn regering van nasionale eenheid, het nou die nuwe regering in Washington heeltemal vervreem. Dit is hoekom die Solidariteit Beweging nou die hand van vriendskap wat deur die Amerikaners uitgereik is, sal vat, en praktiese voorstelle aan hulle sal maak oor hoe Afrikaners gehelp kan word om volhoubaar in Afrika te kan bestaan, sodat ons ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense sal kan maak.

Ons kan ons nie deur ʼn korrupte, onbevoegde en rassistiese regering uit die land laat jaag nie. Dis nie wie ons is nie. Ons is vasbeslote om in die woorde van NP Van Wyk Louw, die skat van ons taal en kultuur veilig deur die skare te dra. Ons het immers nie die oseane deurkruis, deur die eeue oorleef, die onbekende ingetrek, magtige moondhede op die slagveld gepak en op talle gebiede wêreldklasprestasies opgelewer omdat ons van jellie gemaak is nie.

Hier is 10 historiese redes waarom ons sal bly en waarom ons sal self.

Ons het in Afrika Afrikaners geword

Die eerste Buys in Suid-Afrika was ʼn Duitse soldaat wat in 1714 met die Risdam uit Amsterdam gevaar het om vir die VOC te kom werk. Soos die meeste ander Afrikaner-families, bly die Buyse dus al meer as drie eeue in Afrika. Ons het nie as Afrikaners na Afrika gekom nie. Ons het hier Afrikaners geword, lank voordat Suid-Afrika sy ontstaan as land gehad het. Ons taal en kultuur is inheems aan Afrika en nêrens anders nie. Ons het onsself, ons taal en baie van ons instellings na Afrika vernoem.

Afrikaners is ʼn self-gedefinieerde kultuurgemeenskap – ʼn volk – en nie bloot ʼn taalgroep of ʼn rassegroepering nie. Ons het deur Afrikaans ook ʼn taalverbintenis met bruin Suid-Afrikaners, omdat Afrikaans een taal met vele kulture is. Ons kom uit ʼn Christelik-Westerse tradisie, en die meeste van ons vertrou op God se beloftes van hoop vir die toekoms.

 

Ons is Westerlinge in en van Afrika

NP van Wyk Louw het dit só treffend gestel: “in elke geslag is die taak: om albei ons erfenisse – Europa en Afrika – bloedwarm ná aan die hart te hou; om in Afrika te wees wetende dat ons van die óú Weste is; om Westers te wees sonder om een enkele verskillendheid van Afrika te verontagsaam.”

Louw het ook so mooi oor Afrikaans gesê: “Afrikaans kan vitaal bly alleen solank hy die draer van ons volle noodlot, van ons wete-na-albei-kante-toe bly; solank hy konkreet en abstrak bly dink; solank as Europa en Afrika in hom lewe; Afrika wel, maar tog ook altyd Europa.”

Hy het Afrikaans gesien as die taal wat Wes-Europa en Afrika verbind: “Dit vorm ʼn brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om ontdek te word.”

Die volksdigter Totius het dit net so mooi gestel: “ʼn Fyn mistieke eenheidsband verbind Oranje, Nederland en Afrika, deur alles heen. Hoe ver die golwe ons al omspoel, die diepe hart sal altyd voel – ons is verborge-een.”

 

Liewer kaalvoet oor die berge…

Na die Britte Natal en die destydse Boererepubliek van Vryheid in 1843 annekseer het, het die Voortrekkers weer getrek. In die beroemde woorde van Johanna Smit aan die Britse verteenwoordiger: “Ons sal eerder kaalvoet oor die Drakensberge loop as om langer onder die Britse regering gebuk te staan.”

Die strewe na vryheid as dryfkrag van die Groot Trek is deur Trekleiers soos Andries Pretorius verwoord, toe hy gesê het dat hulle hul geboorteplek sonder ʼn opstand verlaat om vry te wees. Die Nederlandse denker Bob Goudzwaard het na ʼn studie van Afrikaners se geskiedenis dit gestel dat ons verhaal eerder ʼn stryd om oorlewing was as ʼn stryd om oorheersing. Dit is vir my ondenkbaar dat hierdie opofferings van ons voorouers tevergeefs was as ons weg van ons geskiedenis af trek.

 

Samewerking met ander gemeenskappe

Dit is so dat daar vele veldslae en gevegte teen die inheemse swart stamme was. Dit is egter nie die hele verhaal nie, daar was ook ʼn magdom vredesooreenkomste en samewerking met swart groepe.

ʼn Goeie beskrywing hiervan kry ons in die Voortrekkerleier Hendrik Potgieter se terugvoer aan die Kaapse Goewerneur na afloop van die Groot Trek op 3 Desember 1838: “Ten eersten hebben wy aangetroffen de kapetyn Danser en met hem een vrede besluyt, en ten tweede de konieng Maroka en ook met een vrede besluyt, ten derde de kaptyn Pieter Davieds ook met een vreede besluyt, ten vierde de konieng Sikoniala ook met een vreede besluyt, ten veyfde de kapiteyn Makwana ook met een vrede besluyt.

 

Churchill oor Boerekrygers

Die mooiste beskrywing van die Boerekrygers is deur die bekende staatsman Winston Churchill gegee, wat as joernalis hier teen ons kom veg het.

“What men they were, these Boers! I thought of them as I had seen them in the morning riding forward through the rain – thousands of independent riflemen, thinking for themselves, possessed of beautiful weapons, led with skill, living as they rode without commissariat or transport or ammunition column, moving like the wind, and supported by iron constitutions and a stern, hard Old Testament God who should surely smite the Amalekites hip and thigh.

And then, above the rainstorm that beat loudly on the corrugated iron, I heard the sound of a chaunt. The Boers were singing their evening psalm, and the menacing notes – more full of indignant war than love and mercy – struck a chill into my heart, so that I thought after all that the war was unjust, that the Boers were better men than we, that Heaven was against us, that Ladysmith, Mafeking and Kimberley would fall, that the Estcourt garrison would perish, that foreign Powers would intervene, that we should lose South Africa, and that that would be the beginning of the end. So for the time I despaired of the Empire.”

 

Verslane en verslae

Die Britte se verskroeideaardebeleid en die konsentrasiekampe was vernietigend. My een oupa en ouma was kinderoorlewendes van die kampe, terwyl my ander oupa se pa in die tronk en sy huis afgebrand was toe hy as koloniale onderdaan perde vir die Vrystaatse Boere gesmokkel het. Prof. David Welsh het die toestand van Afrikaners na die Vryheidsoorlog as volg beskryf:

After 1902 the Afrikaners of the defeated Trekker republics displayed many of the symptoms of a conquered people: impoverished, defeated, despairing, low in morale, and with a powerfully internalised inferiority complex. They were facing the possible obliteration of their identity by the overwhelming power of their conqueror’s institutions and culture.”

Die opstaan na die oorlog was bitter moeilik, en die historikus Dan O’Meara kon oor my mynwerker-oupa gepraat het toe hy hulle stryd tot 1948 beskryf het: “The structure of South African capitalism offered few opportunities to those whose home language was Afrikaans. Its language was English, and Afrikaans-speakers were powerfully discriminated against. Promotion and advancement required both proficiency in a foreign language – that of the conquerors – and virtual total acceptance of the structure and values dominant in the country.”

 

Vuurwarm Koue Oorlog

Die Koue Oorlog het vuurwarm in Suid-Afrika gewoed, en die ANC was vierkantig in die Kommunistiese kamp. Dit het die destydse weermag lynreg in botsing met die ou Sowjetunie en Rooi China se wapentuig en ondersteuning vir bevrydingsbewegings in Suider Afrika gebring.

Die Koue Oorlog het politieke beweegruimte vasgevries, en die SAW en SAP moes ʼn gewelddadige rewolusionêre oorname verhoed tot die val van die oosblok-onderhandelings moontlik gemaak is. Westerse moondhede soos die VSA se geweldige druk op die NP regering het ʼn groot rol in die uiteindelike grondwetlike skikking gespeel.

 

Afrika na onafhanklikheid

Afrikaners was verstaanbaar ook baie skepties oor die kanse op ʼn suksesvolle demokrasie in Suid-Afrika, omdat hulle geweet het tot watter uitkomste Westerse modelle in Afrika gelei het. Martin Meridith som dit treffend op in sy boek oor The Fortunes of Africa na onafhanklikheid: “Die reeks staatsgrepe in Afrika het mekaar so vinnig opgevolg het dat die post-onafhanklikheidsgeskiedenis in ʼn waas verbygeflits het. In die eerste twee dekades van onafhanklikheid was daar sowat veertig suksesvolle staatsgrepe en talle ander onsuksesvolle pogings gewees. Daar was nie een geval waar ʼn Afrika-regering vreedsaam uitgestem is nie.”

Die gemiddelde lewensduur van Afrika-grondwette was volgens die Chicago Law School teen die eeuwending net tien jaar.

“Teen die tagtigers was Afrika berug vir sy ‘Groot Manne’, militêre diktators en een-party-presidente wie se belangrikste prioriteit was om die mag te behou. Die politieke rekord van Afrika sedert onafhanklikheid was star: nie een enkele staatshoof in drie dekades het homself in ʼn verkiesing laat uitstem nie. Vanuit sowat 150 staatshoofde het net ses vrywillig die mag afgestaan, waarvan sommige eers na dekades in die mag.

“Uit ʼn lys van 50 Afrikastate was feitlik almal eenpartystate of militêre diktatorskappe, terwyl in 32 state opposisiepartye onwettig was. Wanneer verkiesings gehou is, was dit bloot om die bewindhebber en sy party se mag te bevestig. In 150 verkiesings wat tussen 1960 en 1989 in 29 lande gehou is, is opposisiepartye nie toegelaat om ʼn enkele setel te wen nie. Net drie lande – Senekal, Botswana en die kleine Gambië, het veelpartystelsels behou en gereelde vry en regverdige verkiesings gehou.”

 

ʼn Beweging gestig

Die ontstaan van die Solidariteit beweging kan teruggevoer word na die 1998-kongres van die destydse Mynwerkersunie, waar die vakbond se nasionale raad my voorstel aanvaar het om die MWU te omskep in ʼn moderne selfhelp-helpmekaarbeweging.

Die rede hiervoor was tweedledig: ons het nie geglo dat die ANC die land suksesvol sou kon regeer nie, en ons het geglo dat hulle ʼn nuwe rassebedeling sou skep wat Afrikaners in die praktyk tweedeklasburgers sou maak.

 

Die doel van die Beweging sou wees om die kulturele infrastruktuur te bou wat Afrikaners nodig sou hê om volhoubaar vry, veilig en voorspoedig in suidelike Afrika te kon bly. Sodoende sou Afrikaners terselfdertyd ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kon lewer. Ons destydse aanname dat ons aanvanklik as radikales uitgekryt sou word, maar mettertyd al meer ondersteuning sal kry namate die uitkomste van ANC-beleid sigbaar word, is in die praktyk bewaarheid.

In die negentigs moes die land verander om ʼn verskriklike einde te keer. Die taak van ons beweging is om nou ʼn eindelose verskrikking te help afweer.

 

Buitelandse ondersteuning

Dit was vir jare na 1994 onmoontlik om ondersteuning vir Afrikaners se regmatige strewe na kulturele outonomie te kry, omdat die ANC die morele hoë grond betree het, en omdat die gevolge van hulle beleid nog nie vir die buiteland duidelik was nie.

Die ANC se vrot regeringsrekord wat tot wydverspreide staatsverval lei, en die deurlopende sentralisasie van mag en die gepaardgaande inperking van vryhede, het prof. Welsh se waarskuwing oor ʼn “tirannie van die meerderheid” nuwe betekenis laat kry.

Welsh het gesê: “Simple majority rule… can easily – and commonly does – degenerate into a ‘tyranny of the majority’ when elections assume the form of a racial census. Undeniably, majorities have rights, but so do minorities. If […] majorities use their power to steamroller minorities, denying them influence even in decisions that affect their vital interests, the quality of democracy will deteriorate.

Moreover, the comparative evidence from divided societies does not offer much support for the view that the salience of ethnic or racial identities will eventually give way to voting alignments that are shaped more by, say, class, interests or ideology. Democratic constitutional forms have been maintained, but a single-party dominant system become entrenched.”

 

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.