30 waarnemings oor die besoek aan die VSA

Dirk Hermann

Bron: Maroela Media

Groot omwentelings vind tans in die wêreld plaas en Suid-Afrika is nie geïsoleer hiervan nie.

President Trump se uitvoerende bevel het Afrikaners in die middel van hierdie debat geplaas, met ʼn helder lig op Suid-Afrikaanse binnelandse en buitelandse beleid. Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, het ʼn afvaardiging na Amerika gestuur om aktief aan die debat deel te neem.

Die Suid-Afrikaanse regering bly egter afwesig. Hulle reaksie is beperk tot luidkeelse beskuldigings teen die Solidariteit Beweging. Die uiteindelike impak van die Solidariteit Beweging se besoek moet nog bepaal word, maar hier volg 30 waarnemings wat ek tydens die besoek gemaak het:

  1. Die verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA is nie bloot ʼn misverstand wat verduidelik moet word nie, maar ʼn diplomatieke krisis. Hierdie krisis speel af teen die groter geopolitieke herstrukturering wat wêreldwyd plaasvind.
  2. Die ontevredenheid en selfs woede oor die ANC se beleidsrigtings is duidelik, veral weens die regering se romanse met Hamas, Iran, China en Rusland.
  3. Suid-Afrika se verbreking van neutraliteit deur die saak teen Israel, sonder enige direkte belang in die konflik, was ʼn belangrike katalisator. Suid-Afrika het ʼn simbool van anti-Westerse sentiment geword en word beskou as ʼn bedreiging vir Amerika se nasionale belange.
  4. Hierdie diplomatieke krisis spruit nie net uit ʼn enkele gebeurtenis, soos die onteieningswet nie, maar is die resultaat van ʼn lang reeks roekelose binnelandse en buitelandse beleidsbesluite deur die ANC, wat oor verskeie Amerikaanse administrasies heen spanning veroorsaak het.
  5. Die afwesigheid van die Suid-Afrikaanse regering was opvallend en dui op ʼn inploffing van diplomatieke vermoëns.
  6. Daar is ʼn hernude selfvertroue in die VSA en die Weste, wat selfs as ʼn rewolusie beskryf word. Enige bondgenoot van Amerika moet hierdie nuwe werklikheid verreken, iets wat Suid-Afrika blykbaar nie doen nie.
  7. Die VSA bly Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot. Dit is ʼn groot voordeel vir Suid-Afrika, maar van minder belang vir Amerika. Suid-Afrika is ook afhanklik van hulp, wat ander bondgenote nie gee nie. Dit plaas Suid-Afrika in ʼn posisie waar die land meer nederig moet wees.
  8. Suid-Afrika loop ʼn werklike gevaar om uit Agoa geskop te word. Agoa is die Amerikaanse wet wat handelstariefvoordele aan Afrikalande bied. Indien Suid-Afrika sy deelname aan Agoa verloor, sal die ANC die volle verantwoordelikheid dra. Dit kan tot die verlies van honderde duisende werksgeleenthede lei.
  9. Die ANC se beleidsrigtings verraai die land en sy mense. Dit skep ʼn omgewing van verhoogde werkloosheid, maar die regering is ideologies blind en is vasgevang in ʼn mislukte en uitgediende wêreldbeeld.
  10. Tydens geen van die besprekings is daar genoem dat die huidige diplomatieke krisis te wyte is aan valse inligting deur AfriForum of Solidariteit nie. Die oorsaak lê by die ANC se beleid. Daar was eerder waardering vir ons deeglike inligting.
  11. Dit is ʼn belediging vir die VSA se diplomatieke en intelligensie-agentskappe om te beweer dat hulle beleid baseer op valse inligting.
  12. Die enigste valse inligting is die bewerings dat die Solidariteit Beweging onwaarhede versprei. Nog niemand kon bewys lewer van valse inligting nie. Ons inligting is akkuraat en deursigtig. Die wêreld moet die waarheid ken, eerder as politiek korrekte inligting deur ʼn ANC-bril.
  13. Ironies genoeg het die Solidariteit Beweging, in die afwesigheid van die Suid-Afrikaanse regering, vir die land se belange ingetree deur te vra vir voortgesette deelname aan Agoa.
  14. Ons het spesifiek opgetree namens ons lede in die landbou-, mynbou-, metaal- en ingenieursbedrywe, sowel as die chemiese en motorvervaardigingsektore. Hulle moet nie verder benadeel word weens ANC-beleid nie.
  15. Die regering se swak diplomatieke hantering stel die land bloot. Hulle het brûe verbrand en toon geen begrip of voorneme om dit te herstel nie. Daar is ʼn oordrewe selfvertroue.
  16. Die Suid-Afrikaanse regering sal sukkel om ʼn sinvolle besoek aan die VSA te bring. Hul arrogante hantering van sake die afgelope paar weke het houdings verhard. Amerikaners lees wat die president se woordvoerder en ander sê.
  17. Die ANC se aanvalle en dreigemente teen die Solidariteit Beweging, insluitend beskuldigings van hoogverraad, is swak ontvang in Amerika en het die ANC se posisie verswak terwyl dit ons posisie versterk het.
  18. Suid-Afrika sal konkrete stappe moet neem om diplomatieke verhoudinge te herstel. Blote verduidelikings of groot afvaardigings gaan nie help nie.
  19. Die Solidariteit Beweging is met ope arms ontvang by die Withuis, die kongres, die departement van buitelandse sake en verskeie ander sleutelinstellings. Ons kon ons navorsing en feite duidelik stel.
  20. Daar moet voortgegaan word om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas vir beleidsveranderinge wat ook die hele land sal bevoordeel.
  21. Twee kwessies wat Amerikaners besonders grief, is onteiening sonder vergoeding en raswette. Suid-Afrika sal, ten spyte van ideologiese blindheid, hierdie kwessies moet herbesin. Ons sal deur druk en litigasie help om verandering te bring.
  22. Suid-Afrika moet besef dat die wêreld verander het. Die ANC se sosialistiese ideologie, aanvalle op eiendomsreg en raswette is nie meer aanvaarbaar nie.
  23. President Trump se uitvoerende bevel het Suid-Afrika in die wêreld se oë geplaas. Die ANC kan nie meer staatmaak op die nalatenskap van Nelson Mandela of Westerse skuldgevoelens nie. Hulle word nou beoordeel op wat hulle sê en doen.
  24. Afrikaners staan ook weer in die wêreld se kollig, hierdie keer nie as ʼn muishond nie, maar as ʼn gemeenskap met ʼn saak wat internasionaal erken word. Ons het met navorsing gewys hoe die ANC die 1994-skikking verbreek het.
  25. Ons het die bestaansbedreiging, wat wette soos Bela inhou vir Afrikaners, duidelik uiteengesit en daar is met begrip geluister.
  26. Die Solidariteit Beweging kon met vrymoedigheid namens Afrikaners intree, erkenning vra en steun vra vir die vestiging van kulturele infrastruktuur. Ons kon federalisme en konsentrasie ook op die tafel plaas.
  27. Daar bestaan steeds onsekerheid oor vlugtelingstatus. Dit lyk of ʼn hervestigingsprogram oorweeg word vir mense wat slagoffers is van ernstige geweldsmisdaad op grond van ras of groepsidentiteit. Niemand, wat dit wil opneem, moet weerhou word nie.
  28. Die uitvoerende bevel en nuwe herskikkings in die wêreld is ʼn unieke geleentheid vir Afrikaners. Die Trump-administrasie skep ʼn gunstige klimaat, maar Afrikaners moet self verantwoordelikheid neem en hierdie geleenthede benut.
  29. Ons is nou in ʼn sterker posisie as voor die uitvoerende bevel. Ons het nou oop kommunikasiekanale en waardevolle kontakte. Die aanstelling van die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika sal belangrik wees vir ons toekomstige verhouding.
  30. Ons moet aanhou bou, beskerm en veg. Ons leef in ʼn nuwe era wat groot geleenthede vir ons as ʼn Westerse gemeenskap in Afrika bied.

 

Die afvaardiging: (Links na regs) Jaco Kleynhans, Flip Buys, Dirk Hermann, Kallie Kriel
Die afvaardiging: (Links na regs) Jaco Kleynhans, Flip Buys, Dirk Hermann, Kallie Kriel

Die pyle in ons koker

Deur dr. Dirk Hermann

Ons is pas klaar met ons besoeke aan die Verenigde Nasies in Geneve. Ons is tevrede met hoe dit verloop het.
Ons het ‘n verslag ingedien teen die regering se rasbeleide, ‘n aanbieding gedoen en met die Internasionale Arbeidsorganisasie gepraat oor die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering.
Die VN-proses is goed, maar ons heil is nie net by die VN nie. Dis wel een van die vele pyle in ons koker.
Ek wil vier pyle bespreek.
Internasionale druk. Suid-Afrika het internasionale konvensies geratifiseer. Dit is dus deel van ons reg. Internasionale forums is plekke waar ons stem gehoor word. Die onlangse verhoorproses by die Internasionale Arbeidsorganisasie het tot ‘n ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering gelei. Dit was ‘n groot deurbraak wat tot ‘n bevel van die hof gelei het. Dit het internasionaal begin, maar gee nou vir ons plaaslike slaankrag. Die IAO het gevra vir verdere voorleggings. Dit is stadige, maar nodige prosesse.
Plaaslike veg. Internasionale prosesse is egter nie op hulle eie genoeg nie. Die VN gaan nie ons gevegte vir ons veg nie. Solidariteit veg op elke vlak teen die regering se rasmalheid. Ons veg deurlopend in howe en het al verskeie sake in die grondwethof gewen. Ons het die aanvaarding van die nuwe mal rasregulasies, saam met vennote, teruggedruk. Ons is nou in ‘n geveg met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor hul rasgedrewe verslag by die VN.

Helpmekaar. Veg is belangrik, maar daar is nog meer krag in helpmekaar. Solidariteit het onlangs ‘n reuse ‘werkmark’ op www.solidariteit.co.za bekend gemaak. Dis ‘n mark sonder enige rasvereistes en net meriete. Bykans 2000 poste is al deur meer as 700 werkgewers daar gelaai. Ons help mekaar.
Ons sal self. Ons sal internasionale druk plaas en die regering veg, maar ons is nie afhanklik van enige iemand nie. Ons sal self beteken ons neem self verantwoordelikheid vir die toekoms. Daarom help ons bou aan Sol-Tech, Akademia, Bo-Karoo Opleiding, die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut en eersdaags ‘n modelskool. Ons help met voortgesette opleiding, beroepsnetwerke, loopbaanvoorligting, werkbeskerming en meer. Alles om seker te maak ons mense kan goed werk.
Ons skiet verskeie pyle. Alles saam is kragtig.

Ons staan gereed om te help met waterkrisis

Deur dr. Dirk Hermann

Adjunkpresident Paul Mashatile het gesê hy gaan onder andere vir AfriForum en Solidariteit nader in sy groot waterplan.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het al voorheen gesê dat ons nie van die regering hou nie, maar dat ons lief is vir die land. Daarom sal ons graag help. Ons sal opreg wees met ons aanbod om te help. Dit is as die regering opreg wíl help en nie net geraas maak voor die verkiesing nie.

Solidariteit beskik reeds oor ʼn lys van die land se beste ingenieurs en ambagslui wat bereid is om met die land se infrastruktuuruitdagings te help. Die lys is spesifiek opgestel vir elektrisiteitsuitdagings, maar sal vinnig en maklik uitgebrei kan word om met die land se wateruitdagings te help.

Solidariteit het ʼn reuse-aanlynplatform wat letterlik oornag kundiges kan mobiliseer. Ons is meer as gewillig om, ter wille van die land, te help. Ons ervaring is dat die land se kundiges graag wil help, maar in die verlede het hulle ʼn gebrek aan wil by die regering ervaar. As die regering sy rasbril afhaal en die land se uitdagings voorop stel, kan kenners ʼn reuserol speel.

Ons kollegas by AfriForum het kundiges in die organisasie wat oor ongelooflike kennis beskik.

Hulle doen reeds reusewerk in verskeie gemeenskappe. Samewerking met AfriForum sal ʼn reuseverskil maak. AfriForum het reeds verskeie plaaslike samewerkingsooreenkomste daargestel en sal nasionaal ʼn groot verskil kan maak.

Rasseherrie by Curro só onnodig

Blog deur dr. Dirk Hermann

Party is kopers en ander is die kassier. Party is ʼn dokter of ʼn advokaat, ander is ʼn veearts en nog een ʼn tandarts. Party is wit en party is swart, maar almal is kindertjies.

Op ʼn spesifieke tydstip word ʼn foto geneem. Op daardie tydstip is die een kindjie ʼn kassier en toevallig swart, en ʼn ander een is die koper en toevallig wit. Dit is bloot die werklikheid van ʼn enkele oomblik. Op ʼn ander tydstip sal die advokaat dalk swart wees en die dokter wit. Daar sal heel moontlik nog ʼn kassier wees en hierdie keer wit. Daar is nie sprake van raskassies vir die kindertjies nie.

Geen mens sal mos dit doen nie. Geen juffrou sal ʼn kind agter ʼn kasregister sit omdat hy/sy swart is nie. Die persoon wat die plasing gemaak het, is so min rasbewus dat hy/sy dit geplaas het.

Rasbeheptes sien toe kleur. Dit is ʼn siek wêreldbeskouing wat rassisme in ʼn kleuterskoolklassie kry. Jy vra nie vir sulke mense om verskoning nie. Hulle maak van die arme kindertjies ras-objekte. Onskuldige kindertjies word gebruik vir rassepolitiek. Hierdie was nie ʼn ras-insident nie. Rasbeheptes het dit ʼn ras-insident gemaak. Dit is nie Curro, die onderwysers of die kinders wat rasstereotipering gepleeg het nie. Dit was die rasstryders op sosiale media.

Die reaksie op sosiale media was kunsmatige woede. Daar was nie ʼn groot reaksie nie.

Curro het toe om verskoning gevra. Die Departement van Onderwys het nie eers van hierdie insident geweet nie en is eers ná die Curro-verklaring daarvan bewus gemaak. Hulle skrik só dat hulle sommer self bieg. Curro is tog só jammer vir die aanstootlike stereotipering. Curro probeer om die rasstryders te bestuur deur soos ʼn hondjie om te rol en om verskoning te vra en op die mat te piepie.

My maggies, Curro, dit was nie ʼn ras-insident nie! Deur julle jammerlike houding het julle dit ʼn ras-insident gemaak waaraan julle skuldig is. Julle het die raskrokodil gevoer wat net méér rashonger raak.

Die rasstryders retireer nie as daar om verskoning gevra word nie. Daar is nie vergifnis nie. Hulle sien dit as skulderkenning en swakheid en val aan om die situasie te laat eskaleer.

Die Departement van Onderwys gaan dus verder en die grondwetlikheid van Curro se waardestelsel moet nou ondersoek word. Daar moet gekyk word of hulle menseregte en rassegelykheid verstaan. Dít is wat gebeur as jy wil paai deur ʼn verskoning en skulderkenning waaraan jy nie skuldig is nie. Die rasstryders is nie paaibaar nie.

Die departement reageer heftig, skaars twee weke nadat die Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) vir Onderwys in Noordwes deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gedwing is om vir Elana Barkhuizen om verskoning te vra ná ʼn vorige heftige rasreaksie. Sy het ook ʼn foto van ʼn spesifieke oomblik geneem. Die hof het egter in haar guns beslis en die SAMRK het gesê haar menseregte is geskend. Hulle leer niks nie en Curro rol om.

Al waarvoor daar nou gewag word, is ʼn arme onderwyseres wat net goed bedoel het, se kop wat met ʼn rasbyl afgekap word.

Moenie dit doen nie! Ons wag vir julle.

‘n Goeie werk is ‘n voorwaarde vir ‘n hoopvolle toekoms

Deur dr. Dirk Hermann

Solidariteit het een groot fokus en dit is om elke Afrikaner en Solidariteit-lid wat wil werk te help om goed te werk en hulle volle potensiaal te bereik. ‘n Goeie werk is ‘n voorwaarde vir ‘n hoopvolle toekoms. Om dit te doen gaan ons, saam met julle in 2024:

Op groot skaal skoliere toerus om die regte beroepskeuses te maak.

Ons het ‘n indrukwekkende loopbaanpad vir skoliere op ons platform, wat ongekend in die wêreld is, gebou en in Afrikaans.

Ons gaan deur die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum help dat alle Afrikaanse skole uitnemend bly. Die SOS gaan planne vir ‘n model onafhanklike skool bekend maak.

Ons gaan studente help om te studeer met studiehulp. Ons gaan hulle beroepsgereed maak en ons gaan die eerste slypskole begin om hul gereed te maak vir die werkplek.

Ons gaan weer op groot skaal betrokke wees by opleidingsinstellings. Dit sluit in die uitbou van Sol-Tech, Akademia, Bo-Karoo Opleiding en die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut.

Ons gaan mense op ‘n groot skaal help om werk te kry. In 2023 het ons ons werkplatform bekend gemaak. Dit was ‘n reuse sukses. Die gemeenskap help mekaar op ‘n groot skaal, sonder rasvereiste.

Ons gaan mense beskerm in die werkplek. Ons gaan weer meer as 1000 regsake namens lede voer en namens lede onderhandel.

Ons gaan steeds die regering se rasmal beleid oral waar ons kan beveg.

Om goed te werk moet lede gesond wees. 2024 gaan die groot regstryd teen die regering se planne om alle gesondheidsorg te kaap, begin.

Ons gaan ons beroepsnetwerke versterk. Beroepe gaan mekaar help, help om ons jongmense in werke te kry, verdere opleiding fasiliteer, netwerke skep en die belang van die beroep beskerm.

Wanneer ons hierdie agenda suksesvol implementeer help ons ons gemeenskap en lede om ‘n toekoms te bou waar ons vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Solidariteit se platform breek ‘n nuwe werkmark oop

Deur dr. Dirk Hermann

Vriende,

Ons wil ʼn veldbrand begin en die gemeenskap op groot skaal mobiliseer om mekaar in diens te neem.

Solidariteit se platform het ʼn werkmark waar meer as 650 maatskappye binne 2 maande sowat 1 600 poste gelaai het. 

Meer as 9 000 mense het hul CV’s gelaai. Dit is ʼn reuse-netwerk waar mense mekaar help om te werk sonder enige rasbepalings.

As die regering wette wil maak wat ons keer om te werk, help ons mekaar en word net sterker.

As iemand werk of ʼn nuwe geleentheid soek, óf as jy dalk ʼn pos het wat jy wil adverteer, gebruik die skakel hieronder.

Stuur dit vir almal wat jy ken, plaas dit op al wat ʼn groep is en deel dit wyd.

Dit is ʼn klein daad wat vir iemand anders lewensveranderend kan wees.

Dit is sommer ʼn maklike politieke daad in protes teen die regering en vir ons gemeenskap.

Ons sal mos self!

Gratis en in Afrikaans: https://aanlyn.solidariteit.co.za

Staak NGV-planne voor Solidariteit tot ernstiger stappe moet oorgaan

Solidariteit het ʼn vars aanmaningskrywe aan die vernaamste rolspelers in die totstandkoming van die beplande Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gestuur en aanbeveel dat hulle planne daarvoor onmiddellik gestaak word.
Dit kom op die vooraand van die sitting van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) waartydens daar oor die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering gestem moet word.
In die aanmaning beklemtoon Solidariteit sy voorneme om die rolspelers in hulle persoonlike hoedanigheid aanspreeklik te hou indien daar met die NGV-proses voortgegaan word. Die rolspelers sluit in pres. Cyril Ramaphosa, die ministers van finansies en gesondheid, asook die nasionale tesourie.
Nie een van die partye het op Solidariteit se oorspronklike aanmaningskrywe van 5 Oktober gereageer nie.
“Terwyl ons optimisties is dat verstandigheid sal seëvier deurdat die NGV-skema en -wetsontwerp uiteindelik in die geheel sal sneuwel, dui die geskiedenis daarop dat die NGV ondanks al sy ooglopende gebreke goedgekeur gaan word,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Volgens Hermann is die nodige intussen gedoen om vir die onvermydelike hofstryd voor te berei.
“Ons sal dit in so ʼn geval duidelik maak dat die partye die geleentheid gehad het om vóór litigasie met ons in gesprek te getree het om sodoende ʼn kostebevel in persoon vry te spring. Ons sal dan ook noem dat die betrokke partye verkies het om nie met ons daaroor te praat nie,” sê Hermann.
Solidariteit het by verskeie geleenthede aangedui waarom die NGV in sy huidige gedaante onwerkbaar, onbekostigbaar en onnodig is.
Sien Solidariteit se jongste aanmaningskrywe hier.

Solidariteit neem sterk standpunt in teen SAMRK se skaamtelose rasse-ommekeer

Solidariteit eis antwoorde van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) oor sy rasseverslag aan die Verenigde Nasies se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD).
Die SAMRK-verslag is in November 2023 aan CERD voorgelê kort nadat Solidariteit sowel as die regering óók voor die komitee verskyn het.
Solidariteit dring veral op antwoorde aan omdat die SAMRK as CERD se waghond in Suid-Afrika ’n volslae ommeswaai in sy eie standpunte rakende rassewette gemaak het. Die jongste SAMRK-verslag weerspreek sy eie gelykheidsverslag van 2018, en Solidariteit gaan dit nie aanvaar nie.
In die 2018-verslag het die SAMRK aanbeveel dat regstellende aksie-wetgewing aangepas moes word om groepe meer genuanseerd op grond van behoefte en sosiale en ekonomiese omstandighede te teiken. Daar is toe ook geëis dat die regering binne ses maande nadat die gelykheidsverslag vrygestel is, aan die SAMRK moes terugvoer gee.
Hulle jongste VN-verslag skets egter ’n ander prentjie.
“Dié verslag verwelkom selfs ’n kwotastelsel en vra dan boonop ook vir nóg strenger toepassing van rassewette – so asof hulle eie gelykheidsverslag skielik nie meer bestaan nie.
“Hulle steun dan ook die voorgestelde wetswysigings oor gelyke indiensneming, maar glo ook dit is nie rigied genoeg nie. Die SAMRK glo skielik ondernemings wat kwytgeskeld word omdat hulle 50 of minder werknemers het, moet ook aan die rassevoorskrifte onderwerp word,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Solidariteit het in ʼn skrywe aan die SAMRK ʼn verduideliking hieroor geëis, en ook gevra of die SAMRK se gelykheidsverslag van 2018 aangepas is of nog enigsins bestaan.
Verder moet die SAMRK ook ʼn verduideliking gee waarom die regering klaarblyklik nie aan die 2018-verslag gehoor gegee het nie, en waarom die SAMRK oënskynlik niks daaromtrent gedoen het nie.
As CERD-waghond is die SAMRK boonop verplig om nie-nakoming van die VN-konvensie oor rassediskriminasie te rapporteer.
“Wat hulle versoek vir selfs sterker rassevoorskrifte betref, sal ons graag wil weet hoe dit aan die VN-konvensie se eise vir maatreëls wat kontekssensitief en tydelik is, voldoen, en hoe daar gesê kan word dit is gegrond op sosio-ekonomiese behoeftes,” sê Hermann.
“Die een oomblik vra die SAMRK dat streng rassekwotas hersien moet word, en die volgende eis hulle selfs strenger maatreëls van dieselfde soort.”
Sien Solidariteit se skrywe aan die SAMRK hier

Die tyd is nóú! Solidariteit op pad na VN om rassewette te stop

Solidariteit gaan Verenigde Nasies (VN) toe om te eis dat die Suid-Afrikaanse regering ’n besliste einddatum gee wanneer sy beleid van rastellende aksie, asook alle gepaardgaande rassewette, sal verstryk.
Hierdie verskerpte VN-veldtog het ten doel om ’n einde te maak aan die regering se beheptheid met rassewetgewing wat strydig is met die Internasionale Konvensie  vir die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD).
Sowel die Suid-Afrikaanse regering as Solidariteit sal dus laat in November voor die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) verskyn.
“Al hierdie rasmalheid vind plaas onder die vaandel van mooi woorde soos regstelling, gelykheid, diversiteit en transformasie. Maar pleks daarvan is die uitkoms ongelykheid, plundering, selfverryking en die vernietiging van die staatsdiens,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
“Vroeër die jaar wou die regering ook wetgewing deurdruk waarmee die privaat sektor aan rassekwotas gemeet sou word. Daardie mal rasplanne is tans deur die gemeenskap – en danksy ’n skikking – gestuit.
“Tog is die groot stryd nog nie gewonne nie en veg ons voort. Ons veg selfs harder. Ons mik om rassewette in die geheel te smoor en ons boodskap word deur honderde duisende mense ondersteun. Die boodskap sê dat rassewette moet stop. En die tyd daarvoor is nóú,” sê Hermann.
Volgens Anton van der Bijl, Solidariteit se adjunkbestuurshoof vir regsake, is die regering se beheptheid met statistiese rasseverteenwoordiging alombekend, en die beheptheid blyk duidelik uit hulle toepassing van regstellendeaksiebeleid.
“Ons regering se toepassing van rastellende aksie is nie net strydig met die VN se konvensie wat oor rassediskriminasie handel nie. Dit is ook in stryd met die wêreldwye siening oor regstellende aksie, wat die beginsel onderskryf dat regstellende aksie tydelik van aard moet wees en ʼn spesifieke eindpunt moet hê,” sê Van der Bijl.
Solidariteit gaan tydens die VN-besoek die feit dat regstellende aksie ingevolge internasionale riglyne en konvensies tydelik van aard moet wees, beklemtoon en gaan daarop aandring dat die Suid-Afrikaanse regering ʼn einddatum daarvoor stel.
Hermann glo ook die suksesse van die vorige VN-besoeke voorspel goeie uitkomste vir die nuwe veldtog.
“Solidariteit glo hy kan nou met die hulp van, en namens die gemeenskap, ʼn nóg groter deurbraak bewerkstellig. Sodoende kan ons begin om uiteindelik ʼn einde te maak aan rassewetgewing.”
Lees Solidariteit se skaduverslag hier: https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2023/10/Solidariteit-VN-Verslag-Nov-2023.pdf
Kyk vanaf 13:00 na die mediakonferensie: https://fb.me/e/4RjwvEq4g

Sentrale rasbeplanning – verkeerd in elke opsig

Niemand het die reg om die onreg te gehoorsaam nie

Deur Dr. Dirk Hermann

Die nuwe raswet van die regering gee aan die minister van indiensneming en arbeid drakoniese magte om die samelewing sentraal volgens ras te beplan.

Die wêreldgeskiedenis getuig van die tragiese gevolge van die sentrale beplanning van mense. Dit is verkeerd in elke opsig.

Sakrekenaar-samelewing

Die ink van president Cyril Ramphosa se pen, waarmee hy hierdie wet onderteken het, was skaars droog toe demonstreer die minister hoe wyd sy magte strek. 60 bladsye se regulasies sit in detail uiteen hoe 18 verskillende sektore, in elke provinsie en op elke posvlak moet lyk.

ʼn Sakrekenaar werk in detail uit hoe die Suid-Afrikaanse samelewing moet lyk. Op Sowjet-styl word rassehulpbronne deur ʼn sentrale agentskap in die minister se kantoor verdeel.

Maatskappye moet hieraan voldoen anders word hulle swaar gestraf met boetes en staatskontrakte word nie aan hulle toegeken nie. Die minimum boete is R1,5 miljoen en die maksimum boete is R2,7 miljoen of 10% van die maatskappy se omset – watter een ook al die meeste is.

Hierdie maatskaplike manipulering beplan ʼn samelewing, nié op grond van wie hul is óf wat hulle kan doen nie, maar hoe hulle lyk.

Bloedbad vir minderhede

Die som se antwoord is ʼn bloedbad vir minderhede. Met die uitsondering van ongeskoolde en semi-geskoolde posvlakke moet drie uit elke vier wit mense en Indiërs weg uit die werkplek en een uit elke vier bruin mense. Dit is meer as 500 000 mense.

Die regulasies is ʼn totale vertrouensbreuk met minderhede.

Mooi woorde soos gelykheid, billikheid, regstelling, verskeidenheid en inklusiwiteit word gebruik. Die uitkoms is egter ongelykheid, onbillikheid, verkeerdstelling, homogeniteit en eksklusiwiteit. Hierdie het niks met regstelling te doen nie, maar alles met ras. Dit is nie ʼn “regstelwet” nie, maar suiwer ʼn “velkleurwet”.

ʼn Streep deur internasionale standaarde

Suid-Afrika het minstens twee konvensies rakende diskriminasie in die werkplek geratifiseer. Die eerste is die konvensie vir die uitskakeling van alle vorme van rassediskriminasie (ICERD) en die tweede is konvensie 111 van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO). Beide die konvensies gee riglyne vir positiewe maatreëls om wanbalanse te herstel. Die doel is om grense van billikheid daar te stel.

Aangesien Suid-Afrika die konvensies geratifiseer het moet dit by regspraak in ag geneem word en Suid-Afrika se wette moet daarvolgens belyn word.

Beide hierdie konvensies bepaal dat positiewe maatreëls genuanseerd moet wees. Dit beteken dat ras nie die enigste kriteria kan wees nie. Die sosio ekonomiese posisie van ʼn persoon, beskikbare vaardighede en die unieke aard van ʼn onderneming moet in ag geneem word. Aparte kategorieë vir verskillende rasgroepe mag nie geskep word nie, maatreëls moet regstellend wees asook tydelik. Daar moet ook eerder op insetgebaseerde maatreëls, naamlik opleiding en ontwikkeling gefokus word eerder as uitsetgebaseerde rassekwotas.

SA is internasionaal aangekla

In 2017 het Solidariteit ʼn klag ingevolge ICERD by die VN ingedien. Die komitee het in ʼn aanbeveling die Suid-Afrikaanse regering se apartheidrasseklasifikasie gekritiseer. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het op grond hiervan ʼn verslag gepubliseer waarin bevind is dat Suid-Afrika se program van regstellende aksie ongrondwetlik is en nie voldoen aan die internasionale konvensies nie. Daar is bevind dat die Suid-Afrikaanse regering binne ses maande wetswysigings moet aanbring.

Die Suid-Afrikaanse regering het egter ʼn streep daardeur getrek en nou ʼn nóg strenger raswet aanvaar met regulasies wat suiwer op grond van ras maatskappye dwing om aanstellings te maak. Daar is nou géén sprake van ʼn genuanseerde benadering nie.

In 2021 het Solidariteit ʼn klag teen Suid-Afrika by die IAO gelê vir die oortreding van konvensie 111. Die IAO het bevind dat Solidariteit se klag ontvanklik is. Dit beteken dat daar aan al die tegniese vereistes voldoen is, dat daar op sigwaarde meriete is en dat die interne remedies uitgeput is. Die eerste stap is bemiddeling. Die Suid-Afrikaanse regering het hiertoe ingestem en daar is tot einde Augustus ʼn  bemiddelingsproses tussen Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering aan die gang. Indien dit nie suksesvol is nie, gaan dit oor tot arbitrasie by die IAO.

Solidariteit behoort weer in Desember 2023 voor die komitee van ICERD te verskyn oor hierdie oortreding van die regering.

Ten spyte van die internasionale prosesse gaan die Suid-Afrikaanse regering egter voluit voort met sy rasbeleid.

Indien Solidariteit by enige van die internasionale forums slaag sal internasionale diplomatieke druk op die regering toeneem. Die krag van ʼn internasionale uitspraak is egter eerder die spierkrag wat dit vir plaaslike litigasie gee.

Die bron van die kwaad is die wet

Daar is nou tyd vir kommentare op hierdie regulasies. Groot weerstand word verwag. Duisende Suid-Afrikaners en organisasies, insluitend die Afrikanerbond gaan kommentaar oor die gewraakte regulasies lewer. Dit is ook reg só. Die regulasies is boos.

Die probleem is egter die raswet wat hierdie regulasies moontlik gemaak het. Dit is dus hierdie nuwe wet wat ongrondwetlik verklaar moet word. Beide Solidariteit en Sakeliga het aansoeke teen die wet gebring en ʼn goeie handvol organisasies het al kennis gegee dat hul as vriende van die hof gaan toetree. Weerstand strek oor al die minderheidsgroepe.

Dit gaan ʼn epiese stryd teen die regering wees.

Maatskappye het nie die reg om die onreg te gehoorsaam nie 

Die onus vir hierdie stryd lê op elkeen wat in Suid-Afrika woon, maar veral maatskappye.

Dit is hulle wat nie meer die reg het om besigheid te doen soos hulle wil nie.

Dis nie nou die tyd vir klakkelose gehoorsaamheid nie, maar vir positiewe protes. Positiewe protes het die e-tolstelsel tot ʼn stilstand gebring. Positiewe protes van verál ondernemings kan hierdie drakoniese raswet ook tot stilstand bring.

Hierdie wet is ʼn stuk onreg teenoor minderhede spesifiek en Suid-Afrika oor die algemeen.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het in ʼn artikel wat in die Rapport op 21 Mei verskyn het, geskryf dat die Joodse denker Hannah Arendt ʼn belangrike uitspraak hieroor gemaak het, n.a.v. Italianers se gehoorsaamheid aan Mussolini se verdrukkende rassewette. Sy het gesê dat niemand die reg het om onreg te gehoorsaam nie. Net omdat iets in ʼn wet staan beteken dit nie dis “reg” nie.

Hy skryf verder, onbekookte raswette het ʼn bepalende rol in die verval van groot dele van die staatsdiens en openbare ondernemings gespeel. Die rede hiervoor was dat duisende bekwame en ervare werknemers en bestuurders uit hul poste verwyder is vanweë hulle ras, en dikwels met kaders sonder die nodige kundigheid vervang is. Indien toegelaat word dat dieselfde beleid in die privaat sektor toegepas gaan word, kan dit net dieselfde gevolge hê. Dit gaan rampspoedige gevolge vir die land en al sy mense inhou. Maatskappye wat goedsmoeds hierdie nuwe onreg gehoorsaam, maak hulself nie net aan onreg medepligtig nie, maar aan die groeiende krisis in die land. Steun aan on-reg is onreg-verdigbaar. Daarom het Arendt gesê om verdrukking van ʼn groep mense sommerso te aanvaar, is om aandadig daaraan te wees.

Suid-Afrika moet dus in opstand kom teen dié stuk onreg onder die dekmantel van ʼn wet. Dit is ons plig. Dit is die regte ding om te doen, want niemand het die reg om onreg te gehoorsaam nie.

Klik hier en ondersteun Solidariteit se stryd teen die raswet.