Flip Buys
Bron: Maroela Media
Amerikaanse president Donald Trump het vandeesmaand opspraak verwek met sy uitvoerende bevel wat onder meer voorsiening maak vir Afrikaners wat deur rassewette of onteiening sonder vergoeding benadeel word om na Amerika te vlug.
Die feit dat die ANC alles in die stryd werp om steeds alleen te regeer in plaas van deur ʼn regering van nasionale eenheid, het nou die nuwe regering in Washington heeltemal vervreem. Dit is hoekom die Solidariteit Beweging nou die hand van vriendskap wat deur die Amerikaners uitgereik is, sal vat, en praktiese voorstelle aan hulle sal maak oor hoe Afrikaners gehelp kan word om volhoubaar in Afrika te kan bestaan, sodat ons ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense sal kan maak.
Ons kan ons nie deur ʼn korrupte, onbevoegde en rassistiese regering uit die land laat jaag nie. Dis nie wie ons is nie. Ons is vasbeslote om in die woorde van NP Van Wyk Louw, die skat van ons taal en kultuur veilig deur die skare te dra. Ons het immers nie die oseane deurkruis, deur die eeue oorleef, die onbekende ingetrek, magtige moondhede op die slagveld gepak en op talle gebiede wêreldklasprestasies opgelewer omdat ons van jellie gemaak is nie.
Hier is 10 historiese redes waarom ons sal bly en waarom ons sal self.
Ons het in Afrika Afrikaners geword
Die eerste Buys in Suid-Afrika was ʼn Duitse soldaat wat in 1714 met die Risdam uit Amsterdam gevaar het om vir die VOC te kom werk. Soos die meeste ander Afrikaner-families, bly die Buyse dus al meer as drie eeue in Afrika. Ons het nie as Afrikaners na Afrika gekom nie. Ons het hier Afrikaners geword, lank voordat Suid-Afrika sy ontstaan as land gehad het. Ons taal en kultuur is inheems aan Afrika en nêrens anders nie. Ons het onsself, ons taal en baie van ons instellings na Afrika vernoem.
Afrikaners is ʼn self-gedefinieerde kultuurgemeenskap – ʼn volk – en nie bloot ʼn taalgroep of ʼn rassegroepering nie. Ons het deur Afrikaans ook ʼn taalverbintenis met bruin Suid-Afrikaners, omdat Afrikaans een taal met vele kulture is. Ons kom uit ʼn Christelik-Westerse tradisie, en die meeste van ons vertrou op God se beloftes van hoop vir die toekoms.
Ons is Westerlinge in en van Afrika
NP van Wyk Louw het dit só treffend gestel: “in elke geslag is die taak: om albei ons erfenisse – Europa en Afrika – bloedwarm ná aan die hart te hou; om in Afrika te wees wetende dat ons van die óú Weste is; om Westers te wees sonder om een enkele verskillendheid van Afrika te verontagsaam.”
Louw het ook so mooi oor Afrikaans gesê: “Afrikaans kan vitaal bly alleen solank hy die draer van ons volle noodlot, van ons wete-na-albei-kante-toe bly; solank hy konkreet en abstrak bly dink; solank as Europa en Afrika in hom lewe; Afrika wel, maar tog ook altyd Europa.”
Hy het Afrikaans gesien as die taal wat Wes-Europa en Afrika verbind: “Dit vorm ʼn brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om ontdek te word.”
Die volksdigter Totius het dit net so mooi gestel: “ʼn Fyn mistieke eenheidsband verbind Oranje, Nederland en Afrika, deur alles heen. Hoe ver die golwe ons al omspoel, die diepe hart sal altyd voel – ons is verborge-een.”
Liewer kaalvoet oor die berge…
Na die Britte Natal en die destydse Boererepubliek van Vryheid in 1843 annekseer het, het die Voortrekkers weer getrek. In die beroemde woorde van Johanna Smit aan die Britse verteenwoordiger: “Ons sal eerder kaalvoet oor die Drakensberge loop as om langer onder die Britse regering gebuk te staan.”
Die strewe na vryheid as dryfkrag van die Groot Trek is deur Trekleiers soos Andries Pretorius verwoord, toe hy gesê het dat hulle hul geboorteplek sonder ʼn opstand verlaat om vry te wees. Die Nederlandse denker Bob Goudzwaard het na ʼn studie van Afrikaners se geskiedenis dit gestel dat ons verhaal eerder ʼn stryd om oorlewing was as ʼn stryd om oorheersing. Dit is vir my ondenkbaar dat hierdie opofferings van ons voorouers tevergeefs was as ons weg van ons geskiedenis af trek.
Samewerking met ander gemeenskappe
Dit is so dat daar vele veldslae en gevegte teen die inheemse swart stamme was. Dit is egter nie die hele verhaal nie, daar was ook ʼn magdom vredesooreenkomste en samewerking met swart groepe.
ʼn Goeie beskrywing hiervan kry ons in die Voortrekkerleier Hendrik Potgieter se terugvoer aan die Kaapse Goewerneur na afloop van die Groot Trek op 3 Desember 1838: “Ten eersten hebben wy aangetroffen de kapetyn Danser en met hem een vrede besluyt, en ten tweede de konieng Maroka en ook met een vrede besluyt, ten derde de kaptyn Pieter Davieds ook met een vreede besluyt, ten vierde de konieng Sikoniala ook met een vreede besluyt, ten veyfde de kapiteyn Makwana ook met een vrede besluyt.”
Churchill oor Boerekrygers
Die mooiste beskrywing van die Boerekrygers is deur die bekende staatsman Winston Churchill gegee, wat as joernalis hier teen ons kom veg het.
“What men they were, these Boers! I thought of them as I had seen them in the morning riding forward through the rain – thousands of independent riflemen, thinking for themselves, possessed of beautiful weapons, led with skill, living as they rode without commissariat or transport or ammunition column, moving like the wind, and supported by iron constitutions and a stern, hard Old Testament God who should surely smite the Amalekites hip and thigh.
“And then, above the rainstorm that beat loudly on the corrugated iron, I heard the sound of a chaunt. The Boers were singing their evening psalm, and the menacing notes – more full of indignant war than love and mercy – struck a chill into my heart, so that I thought after all that the war was unjust, that the Boers were better men than we, that Heaven was against us, that Ladysmith, Mafeking and Kimberley would fall, that the Estcourt garrison would perish, that foreign Powers would intervene, that we should lose South Africa, and that that would be the beginning of the end. So for the time I despaired of the Empire.”
Verslane en verslae
Die Britte se verskroeideaardebeleid en die konsentrasiekampe was vernietigend. My een oupa en ouma was kinderoorlewendes van die kampe, terwyl my ander oupa se pa in die tronk en sy huis afgebrand was toe hy as koloniale onderdaan perde vir die Vrystaatse Boere gesmokkel het. Prof. David Welsh het die toestand van Afrikaners na die Vryheidsoorlog as volg beskryf:
“After 1902 the Afrikaners of the defeated Trekker republics displayed many of the symptoms of a conquered people: impoverished, defeated, despairing, low in morale, and with a powerfully internalised inferiority complex. They were facing the possible obliteration of their identity by the overwhelming power of their conqueror’s institutions and culture.”
Die opstaan na die oorlog was bitter moeilik, en die historikus Dan O’Meara kon oor my mynwerker-oupa gepraat het toe hy hulle stryd tot 1948 beskryf het: “The structure of South African capitalism offered few opportunities to those whose home language was Afrikaans. Its language was English, and Afrikaans-speakers were powerfully discriminated against. Promotion and advancement required both proficiency in a foreign language – that of the conquerors – and virtual total acceptance of the structure and values dominant in the country.”
Vuurwarm Koue Oorlog
Die Koue Oorlog het vuurwarm in Suid-Afrika gewoed, en die ANC was vierkantig in die Kommunistiese kamp. Dit het die destydse weermag lynreg in botsing met die ou Sowjetunie en Rooi China se wapentuig en ondersteuning vir bevrydingsbewegings in Suider Afrika gebring.
Die Koue Oorlog het politieke beweegruimte vasgevries, en die SAW en SAP moes ʼn gewelddadige rewolusionêre oorname verhoed tot die val van die oosblok-onderhandelings moontlik gemaak is. Westerse moondhede soos die VSA se geweldige druk op die NP regering het ʼn groot rol in die uiteindelike grondwetlike skikking gespeel.
Afrika na onafhanklikheid
Afrikaners was verstaanbaar ook baie skepties oor die kanse op ʼn suksesvolle demokrasie in Suid-Afrika, omdat hulle geweet het tot watter uitkomste Westerse modelle in Afrika gelei het. Martin Meridith som dit treffend op in sy boek oor The Fortunes of Africa na onafhanklikheid: “Die reeks staatsgrepe in Afrika het mekaar so vinnig opgevolg het dat die post-onafhanklikheidsgeskiedenis in ʼn waas verbygeflits het. In die eerste twee dekades van onafhanklikheid was daar sowat veertig suksesvolle staatsgrepe en talle ander onsuksesvolle pogings gewees. Daar was nie een geval waar ʼn Afrika-regering vreedsaam uitgestem is nie.”
Die gemiddelde lewensduur van Afrika-grondwette was volgens die Chicago Law School teen die eeuwending net tien jaar.
“Teen die tagtigers was Afrika berug vir sy ‘Groot Manne’, militêre diktators en een-party-presidente wie se belangrikste prioriteit was om die mag te behou. Die politieke rekord van Afrika sedert onafhanklikheid was star: nie een enkele staatshoof in drie dekades het homself in ʼn verkiesing laat uitstem nie. Vanuit sowat 150 staatshoofde het net ses vrywillig die mag afgestaan, waarvan sommige eers na dekades in die mag.
“Uit ʼn lys van 50 Afrikastate was feitlik almal eenpartystate of militêre diktatorskappe, terwyl in 32 state opposisiepartye onwettig was. Wanneer verkiesings gehou is, was dit bloot om die bewindhebber en sy party se mag te bevestig. In 150 verkiesings wat tussen 1960 en 1989 in 29 lande gehou is, is opposisiepartye nie toegelaat om ʼn enkele setel te wen nie. Net drie lande – Senekal, Botswana en die kleine Gambië, het veelpartystelsels behou en gereelde vry en regverdige verkiesings gehou.”
ʼn Beweging gestig
Die ontstaan van die Solidariteit beweging kan teruggevoer word na die 1998-kongres van die destydse Mynwerkersunie, waar die vakbond se nasionale raad my voorstel aanvaar het om die MWU te omskep in ʼn moderne selfhelp-helpmekaarbeweging.
Die rede hiervoor was tweedledig: ons het nie geglo dat die ANC die land suksesvol sou kon regeer nie, en ons het geglo dat hulle ʼn nuwe rassebedeling sou skep wat Afrikaners in die praktyk tweedeklasburgers sou maak.
Die doel van die Beweging sou wees om die kulturele infrastruktuur te bou wat Afrikaners nodig sou hê om volhoubaar vry, veilig en voorspoedig in suidelike Afrika te kon bly. Sodoende sou Afrikaners terselfdertyd ʼn blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kon lewer. Ons destydse aanname dat ons aanvanklik as radikales uitgekryt sou word, maar mettertyd al meer ondersteuning sal kry namate die uitkomste van ANC-beleid sigbaar word, is in die praktyk bewaarheid.
In die negentigs moes die land verander om ʼn verskriklike einde te keer. Die taak van ons beweging is om nou ʼn eindelose verskrikking te help afweer.
Buitelandse ondersteuning
Dit was vir jare na 1994 onmoontlik om ondersteuning vir Afrikaners se regmatige strewe na kulturele outonomie te kry, omdat die ANC die morele hoë grond betree het, en omdat die gevolge van hulle beleid nog nie vir die buiteland duidelik was nie.
Die ANC se vrot regeringsrekord wat tot wydverspreide staatsverval lei, en die deurlopende sentralisasie van mag en die gepaardgaande inperking van vryhede, het prof. Welsh se waarskuwing oor ʼn “tirannie van die meerderheid” nuwe betekenis laat kry.
Welsh het gesê: “Simple majority rule… can easily – and commonly does – degenerate into a ‘tyranny of the majority’ when elections assume the form of a racial census. Undeniably, majorities have rights, but so do minorities. If […] majorities use their power to steamroller minorities, denying them influence even in decisions that affect their vital interests, the quality of democracy will deteriorate.
“Moreover, the comparative evidence from divided societies does not offer much support for the view that the salience of ethnic or racial identities will eventually give way to voting alignments that are shaped more by, say, class, interests or ideology. Democratic constitutional forms have been maintained, but a single-party dominant system become entrenched.”