Akademia: ʼn Fakkeldraer vir die Afrikaanse universiteitswese

Suksesvolle en veerkragtige taal- en kultuurgemeenskappe word gekenmerk deur gesonde, stabiele en florerende onderwys en beroepsopleiding. Wat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe betref, dra Akademia trots die fakkel van die Afrikaanse universiteitswese. As onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit die Christelike en klassieke universiteitstradisie vier die instelling onomwonde sy roeping as moedertaalstudietuiste en word daar roepingsgedrewe na ʼn vrye toekoms gewerk.

Akademia: ʼn Hoopgewende alternatief vir Afrikaanssprekendes

Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, meen die instelling verteenwoordig ʼn hoopgewende alternatief vir Afrikaanssprekendes binne die Suid-Afrikaanse universiteitswese. Hierdie roepingsgedrewe bestaansreg word veral genoodsaak in ʼn tyd waarin Afrikaans as primêre onderrigtaal by openbare universiteite verskraal óf selfs mee weggedoen word. As gemeenskapsinstelling is Akademia daarop gerig om die universitêre ideale van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te dien en ʼn akademiese tuiste te bied waar denke sowel as die hart gevorm word. Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van die instelling, streef Akademia daarna om méér as net wêreldklas opleiding te bied. Die instelling is ook verbonde tot die klassieke rol van die universiteitswese – om studente tot intellektuele, emosionele en lewensbeskoulike volwassenheid te bring. “Akademia werk onverpoosd in geloof, hoop en liefde om op hierdie manier diensbaar tot ons gemeenskap te wees. Op dié manier vestig ons ʼn vernuwende Afrikaanse universiteitswese,” verduidelik Visser.

Van ʼn nederige begin tot ʼn beduidende rolspeler

Die instelling bied sedert 2012 verskeie studieopsies aan studente en het snel ontwikkel tot ʼn voorkeur- Afrikaanse studietuiste. Behalwe vir vyf dinamiese fakulteite, het studente ook die geleentheid om by wyse van óf die voltydse kampusmodel óf die nauurse afstandsmodel te studeer. Eersgenoemde word by die instellings se kampusse in Centurion, en eersdaags ook in die Paarl, aangebied, terwyl die tweede opsie studente by wyse van ʼn sentrumnetwerk dwarsoor die land óf via ʼn e-leeropsie in staat stel om hul studie te voltooi. Laasgenoemde bied ook aan Afrikaanssprekendes buite die Suid-Afrikaanse landsgrense die geleentheid om in hul moedertaal te studeer. Akademia se internasionale voetspoor sluit lande soos onder meer Australië, Namibië, Nederland, Nieu-Seeland, Rusland, Swede, Thailand, die Verenigde Emirate en die Verenigde State van Amerika in.

Dertien jaar van groei

Die instelling kyk vanjaar terug op dertien jaar van klas aanbied en volgens Visser sal daar doelgerig voortgebou word op die positiewe momentum wat in die voorafgaande jare ontsluit is. Hierdie momentum verleen volgens Visser verdere stukrag aan die instelling se bestaansrede as gemeenskapsinstelling. “Akademia het oor die bestek van sy bestaan reeds verskeie gróót en betekenisvolle tree geneem en daar is nougeset gewerk om doelwitte oor verskeie terreine te verwesenlik. Óf dit nou die uitbouing van ons akademiese programaanbod, die vestiging van nuwe studentelewetradisies, geografiese uitbreidingsgeleenthede óf die groei van personeel- en studentegetalle was, die standaard is hóóg gestel en die grondslag is gelê vir selfs groter impak,” verduidelik Visser. Vanaf die registrasie van Akademia as ʼn onafhanklike hoëronderwysinstelling op 3 Januarie 2012 en met ʼn studentetal van 42 studente oor vyf programme het die instelling gegroei na ongeveer 3 800 studente, vyf fakulteite en 23 programme.

Verdere uitbouing van die Afrikaanse universiteitswese

Visser beklemtoon dat Akademia dankbaar is om dié groei van die afgelope dertien jaar te kan vier, maar dat die instelling opnuut die groter roepingsbesef ervaar wat betref die verantwoordelikheid jeens die toekoms. “Akademia is nou gevestig en die tyd van verdieping, verbreding en uitbou het aangebreek. Met ons waardes as kompas en ons visie as eindpunt, werk ons toegewyd om hierdie belangrike taak te verwesenlik,” sê Visser. Die instelling sal vanaf 2026 ʼn kampusteenwoordigheid in die Paarl, in die Wes-Kaap geniet. Hierdie geografiese uitbreiding sal nie net Akademia se bestaande voetspoor in dié streek uitbrei nie, maar ook sy verbondenheid tot die gemeenskap verder versterk. Akademia se kampusdroom, naamlik om ʼn wêreldklas residensiële kampus in Pretoria te vestig waar 5 000 voltydse voorgraadse studente en nagenoeg 1 500 nagraadse studente tuis sal wees, is tans in sy ontwikkelingsfase. Die doeldatum vir dié projek, in vennootskap met die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton, word op Januarie 2028 gestel. Die Toekomsbouer-projek bied aan lede van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe die geleentheid om nie net saam oor die toekoms te droom nie, maar ook aktief saam te bou by wyse van skenkings, beleggings en testamentêre bemakings ten einde hierdie kampusdroom te verwesenlik. Stuur gerus ʼn e-pos na skenking@akademia.ac.za en een van Akademia se fondsbestuurders sal spoedig met jou kontak maak om ʼn besoek te reël en die aard van jou skenking, bydrae of nalatenskap te bespreek.  

ʼn Wêreldklas kampus in wording. Dié argiteksvoorstelling bied ʼn oorsig van hoe die nuwe Akademia-kampus daarvan sal uitsien.

Die Toekomsbouer-veldtog is van stapel gestuur om Akademia se droom van ʼn wêreldklas residensiële kampus in Pretoria te help verwesenlik en só die voortbestaan van Afrikaanse universiteitswese te help verseker.

G’n kultuur sonder sy bouwerk bedink

Artikel deur Flip Buys vir Rapport

Kom ons bou leefruimtes vir Afrikaans, want geboue verskaf veiligheid, skryf Flip Buys

Die grootsheid van ’n kultuur word gewoonlik aan die grootsheid van sy bouwerk gemeet.

Daarom staan die mensdom vandag nog verwonderd oor die piramides wat die antieke Egiptenare 4 600 jaar gelede gebou het. Dit word steeds as wonderwerke beskou en argeoloë bespiegel al vir jare hoe hulle dit vermag het. Waaroor daar wel eenstemmigheid is, is dat die bou van die piramides net moontlik kon wees danksy gesofistikeerde ingenieurswese, argitektuur, wiskunde, wetenskap, sterrekunde en logistiek.

Daarbenewens het bouwerk van daardie omvang gevorderde vorme van staatkundige ordening, ekonomiese ontwikkeling, bestuur, organisasie, geletterdheid en opleiding geverg.

Argeoloë; sê vandag dat die antieke Egiptenare die piramides gebou het. Maar in werklikheid het die piramides terselfdertyd die Egiptenare as hoogs ontwikkelde beskawing gebou. Daarmee word bedoel dat die eeue lange bouwerk aan die piramides en ander infrastruktuur wat ’n ontwikkelde samelewing benodig het, ook die Egiptiese kultuur gebou het.

Soos Winston Churchill gesê het: “Eers vorm ons ons geboue en daarna vorm ons geboue ons.”

Bouwerk van die omvang van die piramides vereis immers ’n gevorderde kultuur wat in staat is om groot gesamentlike projekte aan te pak, die hulpbronne daarvoor te monster, doeltreffend te beplan en te organiseer, die arbeidsmag daarvoor op te bou, en dit verg die leierskap en kundigheid om dit suksesvol uit te voer.

Dieselfde geld natuurlik vir al die gevorderde antieke beskawings wat in China, Persië Griekeland en Indië ontstaan het. Die Romeine se paaie, brûe, akwadukte, teaters en stede het ’n Romeinse lewe moontlik gemaak en hulle kultuur wyd oorgedra en versprei. Daardeur is die grondslag van die moderne Wes-Europa gelê. Geen kultuur kan sonder sy bouwerk bedink word nie omdat ’n kultuurgemeenskap in, vanuit en deur sy instellings en die geboue wat dit huisves, leef.

Dit onderlê ook ons eie geskiedenis. Pres. Paul Kruger was byvoorbeeld nie net ’n staatsbouer nie, maar ook ’n stadsbouer. Hy het ’n groot rol gespeel om Pretoria van ’n stowwerige dorpie na ’n hoofstad uit te bou. Dink maar aan die Ou Raadsaal, die Paleis van Justisie, museums, hospitale, skole en die forte rondom Pretoria. Geboue is in werklikheid die kulturele infrastruktuur van ’n volk. Dit “bou” die kultuur deurdat die Raadsaal die kern van die staatkundige Republiek was, die Paleis van Justisie die sentrum van die regsorde was, en die skole kennis en kultuur aan die volgende geslag oorgedra het.

Afrikaners het in latere jare ’n land vol geboue opgerig wat weer hulle (die Afrikaners) se kultuur gebou het. Dink aan die geboue wat vir opvoedkundige, ekonomiese, kulturele, mediese, militêre en ander doeleindes gebou is.

As ’n jong student het die Pukke se universiteitslied vir my maar outyds-hartseer geklink: “Gebore uit die nag van smaad, sien ons jou staan as wonderdaad . . .” Soos die meeste ander studente het ek die moderne kampus waar ek in die laat 1980’s studeer het as ’n gegewe aanvaar. Min het ek geweet dat as jy sélf iets verniet gekry het, dit nie sonder koste daargestel is nie, want ander mense het ’n duur prys daarvoor betaal. Later het ek besef watter wonderwerk die universiteit eintlik was, en met watter geweldige opoffering dit voor en ná die Anglo-Boereoorlog uit die grond verrys het.

Pres. Paul Kruger het in 1897 self £100 –destyds ’n reusebedrag – vir studiebeurse vir studente nagelaat. Die eerste rektor, prof. Jan Lion-Cachet, is deur die Britte in hegtenis geneem en sy seun is in die oorlog doodgeskiet. Die verhaal van die Potchefstroomse Universiteit is egter nie die uitsondering nie. Die geskiedenis van universiteite soos Stellenbosch, Unisa, UP (Tukkies), die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (Kovsies) en die RAU (nou UJ) vertel soortgelyke verhale van groot dink en klein begin. Die meeste is deur kerke en gemeenskappe tot stand gebring sonder groot staatsgeld.

Die Keniaanse denker Ali Mazrui het treffend gesê dat die gemeenskap eers die universiteit moet ophelp voordat die universiteit die gemeenskap kan ophef. Die verband tussen gemeenskap en universiteit is ook deur genl. Jan Smuts bevestig toe hy in 1910 die wens uitgespreek het dat die Universiteit van Pretoria vir die destydse Transvaal sal word wat Oxford vir Engeland was.

Afrikaans, ’n Afrikaanse lewe en die oordrag van ’n taal en kultuur is onmoontlik sonder opvoedkundige instellings wat dit kan huisves. Die vraag is hoekom skole, kolleges en universiteite so belangrik is vir taal- en kultuurgemeenskappe.

Die beste antwoord hierop is deur Albert Einstein gegee. Hy het gesê dat die wonderlike dinge wat kinders in skole en universiteite leer die versamelde werk van vele geslagte is. Dit word alles in hulle hande as erfenis gesit sodat hulle dit kan kry, daarby kan byvoeg, en dit eendag aan hulle kinders kan oorhandig.

Die doel van kulturele infrastruktuur is nie om ’n groep te isoleer of ander uit te sluit nie, maar die teenoorgestelde. Dit skep reeds die ruimte om saam met ander mense te bly, bykans soos wat ’n huis gebou word sodat ’n gesin saam met hulle bure in ’n woongebied kan bly. ’n Huis bestaan uit verskeie vertrekke, elkeen met ’n eie doel. Dieselfde geld vir ’n kultuurhuishouding – daar is vertrekke vir onderwys, opleiding, taal, maatskaplike sorg en erfenisbewaring. Dit is die rede waarom die Solidariteit Beweging oor die afgelope dekade of wat stelselmatig ’n hele kulturele ekosisteem opbou.

Indien die omstandighede geskep word sodat Afrikaners en die Afrikaanse gemeenskap volhoubaar hier kan bly, sal ons ’n blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kan maak.

Geboue is belangrik, want “plek” verskaf veiligheid, en die ruimtes gee vryheid.

Die uitdaging is om hierdie kulturele infrastruktuur sonder staatshulp te bou. Dit is die rede waarom die Solidariteit Beweging ’n paar jaar gelede ’n eiendomsmaatskappy met die naam Kanton gestig het. Die bekendste projek wat Kanton suksesvol aangepak het, is die oprigting van die Sol-Tech-kampus en -koshuise in Centurion. Kanton se doel is om ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal te sluit deur beleggings vanuit die private sektor te werf en daarmee ruimtes vir Afrikaans te bou.

Beleggers verdien ’n geldelike opbrengs en kry ook ’n kulturele dividend in die vorm van ’n universiteit, terwyl ook reeds beplan word aan die daarstelling van ’n onafhanklike skolenetwerk. Ons glo dat ’n Afrikaanse universiteit onontbeerlik is vir die voortbestaan van Afrikaans.

Tweedens bly moedertaalonderrig die beste vorm van opleiding terwyl studente ook toegerus word om hulself in Engelse werkplekke te handhaaf. Die beste bewys hiervan is die top- Afrikaanse mense wat aan enkeltalige Afrikaanse universiteite studeer het en wat nou gesogte poste in die buiteland beklee.

Akademia en Kanton stel ná jare se deurdagte werk en beplanning die Toekomsbouer-veldtog bekend met die doel om kapitaalkragtige mense en instellings die geleentheid te bied om in Akademia se beplande nuwe kampus in Pretoria-Oos te belê. Die breër publiek gaan ook later die kans kry om beleggings te maak.

Die Britse denker Roger Scruton het gesê dat ’n samelewing net kan voortbestaan as elke geslag vir die volgende geslag leef. Kanton bou vir die volgende geslag, en wil die huidige geslag die kans gee om saam te bou.

Die idee is nie om monumente vir ons voorouers te bou nie, maar lewende instellings vir die nuwe geslag. Dit is nou tyd vir skeppende vernuwing, gegrond op beproefde waardes.

Lees meer: Akademia en Kanton stel monumentale kampusontwikkeling bekend

Flip Buys is die hoof van die Solidariteit Beweging
Flip Buys is die hoof van die Solidariteit Beweging

Akademia en Kanton stel monumentale kampusontwikkeling bekend

Die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton het vandag op 1 Augustus die nuwe kampusontwikkelingprojek van Akademia in Pretoria as deel van die Toekomsbouer-veldtog bekendgestel. Dié kampusprojek is die grootste ontwikkelingsprojek in die geskiedenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe en verteenwoordig ’n groot historiese keerpunt om die volhoubaarheid van hoër onderwys in Afrikaans te verseker. Akademia maak sedert 2012 van tussentydse infrastruktuuroplossings gebruik. Die voltydse kampusmodel het in 2021 aanvang geneem en so uitgebrei dat daar tans twee kampusse, vier koshuise, twee daghuise sowel as die administratiewe hoofkantoor is wat tans oor verskeie persele in Centurion versprei is. Die nuwe omvattende residensiële kampus in die ooste van Pretoria sal aan die instelling die geleentheid bied om sy groei oor die afgelope dekade te konsolideer en ’n vaste adres vir sy toekomstige kampusstudente te bied wat ’n veerkragtige en opwindende studentelewe gaan ondersteun. “Die nuwe kampus is die verwesenliking van ’n groot droom. Dit vereis die krag van ’n belynde gemeenskap wat deur eensgesindheid en samewerking die oënskynlik onmoontlike kan verwesenlik,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia. “In die lig hiervan is die Toekomsbouer-veldtog ’n oproep aan die gemeenskap om deel te word van ’n ongelooflike geleentheid – iets soos wat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe nie in ’n geruime tyd beleef het nie. Dit bied ’n geleentheid waar hoop en ’n nalatenskap fisies opgerig gaan word.”

Projekomvang

Die ontwikkeling sal in Pretoria geleë wees, agt kilometer vanaf Solomon Mahlangu-rylaan op die Boschkop-pad in die ooste van Pretoria. Die nuwe kampus bied aan Akademia die geleentheid om ’n volledige en uitgebreide akademiese programaanbod oor al sy fakulteite beskikbaar te maak wat aan die omvattende vraag van voornemende studente sal voldoen. Dié kampus sal voorts voorsiening maak vir 5 000 voltydse voorgraadse studente en nagenoeg 1 500 nagraadse studente. Vier mans- en vier dameskoshuise sal 1 500 studente op die kampus kan huisves. “Fase een van die projek sal nagenoeg R1,8 miljard beloop en op 1 Januarie 2028 voltooi wees, terwyl die totale ontwikkelingskoste meer as R3 miljard sal wees. Die tweede fase behels die voltooiing van die akademiese kampus en koshuise waarna die sportfasiliteite, kapel en ouditorium volg,” verduidelik Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton. “Ons gaan ’n reusemonument vir Afrikaanse hoër onderwys oprig. Dit gaan kantoorblokke, lesingsale, laboratoriums, ’n ouditorium, doelgerigte navorsingslokale, ’n kafeteria, restaurante, koffiewinkels, ’n studentesentrum, biblioteek, koshuise, personeelverblyf én wêreldklas sportfasiliteite vir rugby, krieket, netbal, tennis, atletiek, hokkie, swem en binnenshuise sportsoorte insluit,” voeg Schalekamp by. “Daar word ook ’n proefplaas vir die Natuurwetenskappe- en Landboufakulteite beplan.”
Marthinus Visser (links) en Henk Schalekamp (regs)
Marthinus Visser (links) en Henk Schalekamp (regs)

Projekvennote en finansiering

Kanton dien as voertuig vir die finansiering van die ontwikkeling van die nuwe Akademia-kampus. Kanton is gebore uit ’n innoverende nuwe benadering vir die ondersteuning van Afrikaanse kulturele instellings. “Ons sakemodel is gebaseer op ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal wat die doelstellings van gemeenskapsinstellings bevorder deur toegang tot die nodige leefruimtes te bied, maar dan ook as ’n volwaardige eiendomsbeleggingsmaatskappy beide ’n finansiële en kulturele opbrengs aan sy beleggers te bied,” verduidelik Schalekamp. Kanton se sukses word bevestig deur die Sol-Tech-kampus, wat betyds en binne begroting afgelewer is. Deur projekte soos ’n koshuis vir Sol-Tech en nou ’n kampus vir Akademia te ontwikkel, bewys Kanton sy vermoë om portefeuljes winsgewend te laat groei en bestuur. Dit terwyl eksterne beleggers ook die geleentheid gebied gaan word om deel te vorm van hierdie unieke geleentheid,” sê Schalekamp. Om te verseker dat die struktuur en beleggingsplatform die doelwitte van Kanton ondersteun, is die beplanning en strukturering van die maatskappy gedoen in samewerking met Pallidus. Laasgenoemde spesialiseer in onafhanklike korporatiewe finansiële advies, beleggingsbankdienste en beleggingsbestuur om die groei en uitbou van Kanton in die verskillende fases moontlik te maak. Die befondsingsmodel het die eienskappe van normale eiendoms- en infrastruktuurmodelle en word gebruik om beleggingsgeleenthede te bied. Kanton gaan aanvanklik instellings en welvarende individue nader om betrokke te raak deur ’n belegging. Ná afloop van ’n kritiese hoeveelheid fondse wat gewerf is vir die projek om voort te gaan sal ’n geleentheid aan die gemeenskap gebied word om deur kleiner beleggings betrokke te raak. Vir nou is die oproep aan elkeen wat saam met vennote opgewonde is oor die projek eenvoudig: Droom saam deur ’n toekomsbouer te word en die vordering van hierdie groot projek te volg by www.toekomsbouer.co.za. Verdere inligting vir individuele beleggings sal weldra aan veldtogdeelnemers bekendgemaak word.

Medianavrae:

media@kanton.co.za

Meer oor Akademia

Akademia is ’n Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Akademia streef daarna om ’n akademiese tuiste te bied waar denke én hart gevorm word met die oog op ’n vrye toekoms. Studente het ’n keuse tussen nauurse afstandstudie oor ’n landwye netwerk van sentrums of via e-leer en voltydse studie by twee tussentydse kampusse in Centurion. Die nauurse afstandmodel is ideaal vir studente wat wil werk of ander belangstellings nastreef, terwyl hulle studeer. Die voltydse kampusmodel bied sedert 2021 ’n veilige tuiste vir Fonties (Akademia-studente) wat bedags wil klasdraf en aan ’n bruisende studentelewe wil deelneem. Klik hier vir meer inligting oor Akademia.