Akademia se nuwe kampus moontlik gemaak deur kulturele ekostelsel

Deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

 

Flip Buys, Dirk Hermann, Henk Schalekamp en Marthinus Visser.

In die politieke “wittebroodtydperk” van die Mandela-era ná 1994 het die Afrikaanse gemeenskap gevoel dat die stigting van onafhanklike Afrikaanse universiteite onnodig én boonop onmoontlik was. Onnodig, omdat die Grondwet uitdruklik voorsiening gemaak het vir Afrikaanse staatsuniversiteite en omdat daar skynbaar genoeg universiteite in die land was. Tweedens is dit as onmoontlik beskou omdat die stigting van ʼn nuwe universiteit sonder staatshulp eenvoudig te duur sou wees. Onafhanklike universiteite was boonop in Suid-Afrika grotendeels onbekend, anders as in baie ander dele van die wêreld.

Die werklikhede van sogenaamde “radikale transformasie” en ʼn geweldige toename in studentegetalle het egter reeds teen die vroeë 2000’s begin gewys dat ʼn nuwe Afrikaanse universiteit wél nodig was. Die suksesvolle stigting en groei van Akademia het terselfdertyd bewys dat dit inderdaad moontlik is. In Suid-Afrika is dit dikwels juis dít wat op die oog af moontlik lyk, wat in die praktyk onmoontlik word, en andersom: dit wat onmoontlik lyk, blyk tog moontlik wees.

Waarom die Solidariteit Beweging ontstaan het

Daar is twee hoofredes waarom Solidariteit, en later die breër Solidariteit Beweging, in die vroeë 2000’s tot stand gekom het. Eerstens het die stigters voorsien dat ʼn bevrydingsbeweging soos die ANC nie noodwendig ʼn moderne staat suksesvol sou kon regeer nie. Die Chinese wysgeer, Jia Yi, het al reeds twee eeue voor Christus daarop gewys dat die vereistes om ʼn land deur ʼn “struggle” oor te neem, lynreg bots met die vereistes om ʼn land doeltreffend te regeer.

Die tweede rede was omdat ons die ANC se woord gevat het dat hulle steeds ʼn rewolusionêre party is. Sulke partye is in wese sosialistiese sentraliste, en gebruik ʼn grondwetlike demokrasie om vryheid te ondergrawe. Dit sluit bepaald die vryheid in van taal- en kultuurgemeenskappe om besluite oor hulle grondliggende belange te neem en uit te voer. Rewolusionêre partye se regering “deur” die mense, word in die praktyk regering “oor” die mense. Die dienaars word die heersers.

Uitkoms

Die uitkoms van bykans drie dekades van die ANC-regering bevestig ongelukkig hierdie vrese. Die ANC kon nie die land doeltreffend regeer nie en het die demokratiese stelsel misbruik om vryheid te ondergrawe. Dink maar net aan die verwoestende gevolge van die inperking van ekonomiese vryheid – oftewel sakelui se vryheid om hul ondernemings sonder staatsinmenging te bestuur. Dit het ʼn beduidende rol gespeel in dekade lange ekonomiese stagnasie, rekordwerkloosheidsyfers en Suid-Afrika se status as een van die grootste uitvoerders van werkskeppers, belastingbetalers en hoëvlakvaardighede.

Die ANC het die pad van ʼn sogenaamde “ontwikkelingstaat” gevolg, soortgelyk aan die model wat onder meer in kommunistiese China toegepas is, waar staatsentiteite die ekonomie moes dryf. Die gevolge vir Suid-Afrikaanse staatsinstellings soos Eskom, Transnet, die Poskantoor en Denel is welbekend – om nie eens te praat van die verval van munisipaliteite en ander dele van die staatsdiens nie. Suid-Afrika moes eerder ʼn “ontwikkelingsamelewing” geword het, soos deur verskeie senior sakelui voorgestel, met restourasie eerder as transformasie as nasionale rigtingwyser.

Bevrydingsbewegings wat aan bewind kom, eindig dikwels in armoede en onderdrukking omdat hulle in die praktyk meer “gelykheidsbewegings” as vryheidsbewegings is. Hulle gebruik staatsmag om gelyke uitkomste af te dwing, met die gevolg dat individuele vryheid en algemene voorspoed skade ly. Die prosedurele vorm van demokrasie, soos gereelde verkiesings, bly staan, maar vryheid as die kern van demokrasie word ondermyn.

Daarby is wit Suid-Afrikaners se politieke, ekonomiese en kulturele vryhede nie deel van die ANC se toekomsvisie nie. In die nuutste (2025) weergawe van die ANC se “Strategy and Tactics”-dokument word die land steeds beskryf asof dit in die 1980’s vasgevang is. Wit mense word wel as deel van die samelewing geduld, maar is in werklikheid tweedeklasburgers oor wie se belange die regering min besorgdheid toon: “Die hoofdoel van ons vryheidstryd bly die bereiking van politieke- en ekonomiese vryheid van die onderdruktes – Afrikane in besonder en swart mense in die algemeen, binne ʼn samelewing waarvan die wit minderheid onlosmaaklik deel is.”

Daarom bly dit belangrik dat ons na ons eie belange omsien, waarvan ʼn wêreldklas Afrikaanse universiteit ʼn belangrike deel uitmaak.

Universiteite

Volgens denkers soos die Keniaan Ali Mazrui het universiteite in postkoloniale Afrika tipies deur agt fases beweeg:

  • Massifikasie deur “toegang vir almal”, dikwels via gratis studies
  • Kultuur van “slaag vir almal”
  • Sogenaamde “dekolonisering” van instellings
  • Aantasting van universiteitsoutonomie, akademiese vryheid en standaarde
  • Finansiële druk weens massifikasie en krimpende begrotings
  • Studente- en dosente-onrus
  • Toenemende regeringsbeheer
  • Opkoms van privaat universiteite wat staatsuniversiteite begin verbysteek
Die nuwe Akademia-kampus in wording.

Ekostelsel

Die strategiese uitdaging vir die Solidariteit Beweging was om volhoubare “staatsdienste” te lewer sonder staatsinkomste. Daarom moes ons eers stelselmatig ʼn omvattende kulturele ekostelsel bou, wat ons in staat sou stel om ʼn universiteit op te rig. Die gemeenskap moet eers die universiteit help voordat die universiteit die gemeenskap kan help.

Die beginpunt was om Solidariteit as ʼn “80%-organisasie” te stig uit verskeie Afrikaanse vakbonde, waarvan die eertydse MWU die bekendste was. ʼn “80%-organisasie verwys daarna dat die 80% middelgroep daarin moes tuisvoel, sonder die twee uiterste kante van die spektrum. Ons wou wegkom van die mislukte historiese verdelingslyne wat soveel skade aan Afrikaners én die land gedoen het.

Die volgende stappe was om binne Solidariteit ʼn Boufonds en Opleidingsfonds te stig, omdat gewone ledegeld vir lededienste bedoel was, en ook nie naastenby voldoende sou wees om ʼn universiteit te finansier nie.

Die derde stap was om die Solidariteit Helpende Hand te begin, om armoede wat ontstaan het as gevolg van die nuwe rassewette, die reuse-afskalings ná 1994 en die ekonomiese stagnasie teen te werk. Vierdens is die Helpende Hand Studietrust gestig om studielenings aan verdienstelike jongmense toe te ken sodat hulle kan studeer. Die hele idee is dat elke geslag die volgende geslag moet help om te studeer, en dat hulle daardie studiehulp wat aan hulle verleen is terugbetaal sodat die daaropvolgende geslag ook kan studeer. Die sukses van die Helpende Hand Studietrust is dat die terugbetalingskoers ʼn allemintige 99% is. Dit stel die Trust in staat om hierdie jaar sowat 1 200 studente met meer as R70 miljoen se studiehulp by te staan. Grootskaalse studiehulp is ʼn voorwaarde vir ʼn universiteit wat nie staatsfondse ontvang nie, anders kan net ʼn ryk elitegroep dit bekostig.

Die vyfde blokkie van die kulturele legkaart was die stigting van ʼn landswye netwerk van “Ons Winkels” – tweedehandse winkels onder die vleuel van die Helpende Hand. Die winste wat in hierdie winkels gemaak word, word in elke winkel se gebied aangewend vir maatskaplike dienste, en om deur die Studietrust jongmense van die omgewing te laat studeer.

Die Solidariteit Beleggingsmaatskappy (SBM) was die sesde stap in die ekostelsel. Die sewende stap was om onder die SBM-sambreel ʼn finansiëledienstemaatskappy te stig, waarvan die belang wat in die Afrikaanse versekeraar Virseker gehou word, die bekendste is. Die opbrengs van die Virseker Trust gaan vir Afrikaanse onderwys en opleiding, en word na Akademia, die Helpende Hand Studietrust en die Skoleondersteuningsentrum gekanaliseer.

Die agtste blokkie was die stigting van ʼn eiendomsmaatskappy, wat later tot Kanton Beleggings uitgebrei het. Kanton is ʼn eiendomsbeleggingsmaatskappy, en is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal waarin privaat beleggers belê vir ʼn wins én ʼn kulturele dividend. Kanton het al verskeie suksesvolle projekte ontwikkel, waarvan die bou van die wêreldklas Sol-Tech-kampus met hul koshuise die bekendste is. SBM bied, deur sy finansiëledienstemaatskappy, ook rentedraende lenings vir studente wat nie vir die Helpende Hand Studietrust se rentevrye studielenings kwalifiseer nie.

Die negende blokkie was die stigting van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), wat ten doel het om wêreldklas Afrikaanse onderwys te bevorder. Die rede hiervoor is dat goeie onderrig op skool ʼn voorvereiste vir goeie naskoolse onderrig is. Die SOS bedryf talle projekte, soos die gewilde Wolkskool, en het ook verskeie vakverenigings, soos die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers, wat voortgesette opleiding vir Wiskunde-onderwysers aanbied. Benewens ondersteuning aan Afrikaanse openbare skole, werk die SOS ook aan nuwe oplossings vir onderwys in Afrikaans.

Die tiende blokkie om die kulturele legkaart te voltooi, was die stigting van Akademia, vernoem na die eerste universiteit in die Westerse wêreld, Plato se Akademia wat in 387 voor Christus in Atene gestig is. Die bekende Aristoteles, leermeester van Alexander die Grote, het daar Wiskunde, Filosofie en Politiek studeer. Akademia sluit aan by die klassieke tradisie, en is gegrond op wêreldklas-opleiding en ook die breër vorming en toerusting van studente op ʼn Christelike grondslag. Akademia is ʼn nuwe universiteit wat 15 jaar gelede begin is, maar is op ou en tydlose fondamente gebou, om jongmense vir die toekoms toe te rus.

Eksterne ekostelsel

Die sukses van Akademia word nie net deur hierdie “interne” ekostelsel bepaal nie, maar ook deur ʼn eksterne kulturele ekostelsel, soos goeie skole, toegewyde leerders, betrokke ouers, ʼn helpmekaar-kultuur en werkgewers wat hierdie studente ʼn kans sal gee. Onafhanklike Afrikaanse trusts en sakelui wat die vennootskap tussen kultuur en kapitaal steun, speel ook ʼn onontbeerlike rol. Die feit dat Sol-Tech se studente reeds so gesog in die mark is, is ʼn goeie teken dat werkgewers selfs in ʼn tyd van rassewette, graag studente aanstel wat goed opgeleide en gevormde mense is.

Nuwe kampus

Akademia is deur die Solidariteit Beweging begin, maar is ʼn outonome hoëronderwysinstelling wat vir alle Afrikaanse studente oop is. Akademia het hierdie jaar sy eerste satelliet-kampus in Paarl in die Wes-Kaap geopen, en beplan om die huidige vyf fakulteite vinnig verder uit te brei. ʼn Belangrike rede vir Akademia se sukses is die topdosente wat aangestel is om aan ʼn wêreldklas universiteit te bou. Akademia het dus nie van “voor” af nuut begin nie, maar voortgebou op die akademiese werk wat oor baie jare opgebou is. Die afgelope jare is daar ook bande gebou met top- buitelandse universiteite. Akademia verwag hierdie jaar sowat 5 000 studente in totaal. Dit is hoekom nuwe en groter geriewe dringend noodsaaklik geword het. Die volgende stap vorentoe is Kanton Beleggings wat eersdaags begin om ʼn splinternuwe wêreldklas-kampus in die ooste van Pretoria te bou. Die eerste fase gaan sowat R1,8 miljard beloop, en gaan bykans twee jaar neem om te bou. Dit behels nuwe akademiese geboue, koshuise en al die moderne geriewe wat daarmee gepaardgaan. Daar word beoog om die kampus in 2028 in gebruik te neem.

Hierdie kampus is die grootse Afrikaanse bouprojek in baie dekades in Suid-Afrika, en is voorafgegaan deur twee dekades se opbou van hierdie omvattende ekostelsel wat nodig is vir kulturele selfverwesenliking. Hierdie ekostelsel maak ʼn wêreldklas, onafhanklike, klassieke Christelike Afrikaanse hoëronderwysinstelling moontlik. ʼn Taal het ʼn universiteit nodig vir sy voortbestaan, en ʼn universiteit het ʼn taal nodig om werklik wêreldklas te kan wees. Dit wys die sukses van talle mense wat in enkeltalige Afrikaanse universiteite opgelei is, maar wat nou met groot sukses hul kennis in ʼn ander taal toepas. Akademia is wel Afrikaans, maar studente bemeester terselfdertyd Engels om die oorgang na die wêreld van werk makliker te maak.

Hierdie kulturele ekostelsel se onderbou is skeppende vernuwing, gegrond op beproefde waardes. Die onderliggende filosofie is dat elke geslag dit wat hy van sy voorgeslagte gekry het moet bewaar, en dit dan in ʼn beter toestand vir die volgende geslag moet oorgee. Dít is ons Beweging se plegtige onderneming aan ons jongmense! Ons wil help om ʼn toekoms vir jongmense te skep, sodat hulle volhoubaar hier kan woon en werk, en sodoende ʼn blywende bydrae kan lewer tot die welstand van hulle gemeenskap, die land en al sy mense.

 

*Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging, en ʼn direksielid van Akademia en Kanton Beleggings.

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 22

In hierdie week se episode van Wêreldwys gesels ons met Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, oor sy waarnemings in Amerika na aanleiding van ʼn onlangse besoek aan die VSA, asook oor die hernude debatte, veral onder konserwatiewe denkers, oor die toekoms van die Weste. Wêreldwys is ’n podsending van Maroela Media.

Die Afrikaner maak só

Kallie Kriel skryf op Maroela Media:

Die nuwe veelpartyregering is ʼn positiewe tree in die regte rigting. Ons kon veel slegter af gewees het indien die MK-party en die EFF ook deel van die regering sou vorm. Dit sou egter wensdenkery wees om te dink dat die veelpartyregering die einde van staatsverval en ander uitdagings sal beteken.

Lees die volledige artikel hier.

Die Afrikaner maak so wys in Oktober in die AfriForum Teater
Die Afrikaner maak so wys in Oktober in die AfriForum Teater

Forum Tydskrif: Kallie Kriel se bydraes

Lees al Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, se bydraes in die Forum tydskrif.

Forum Tydskrifis propvol nuus oor die organisasie se burgerregteprojekte, -veldtogte en -aksies. Dis ’n ledetydskrif van AfriForum wat daarop gemik is om lede op verskillende terreine en oor allerlei gebeure ingelig te hou, maar ook te laat saampraat en saamdink.

(Volume 1-30)

Volume 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30.

Forum Tydskrif
Forum Tydskrif

 

 

 

 

 

Daar is ‘n nuwe regering op die dorp

Maroela Media

16 Januarie 2024

Kallie Kriel

 

Suid-Afrika het nie net ‘n regeringsprobleem nie. Dit het ook ‘n diepliggende bedelingsprobleem. Die lofsange wat die land se Grondwet en nuwe bedeling in die verlede toegesing is ten spyt, bly die werklikheid dat die huidige sentralistiese bedeling nie aan die bedoelings aan sommige destyds gemeet moet word nie, maar eerder aan die uitkomste daarvan.

Lees die volledige artikel in Maroela Media hier.

Kallie Kriel oor Buthelezi: Maklik om klippe te gooi na een wat dood is

Die redakteur van City Press, Mondli Makhanya, se striemende aanval op prins Mangosuthu Buthelezi verlede week op hierdie blaaie is misleidend en onbillik.

Dit is jammer dat hy dit skryf oor ’n man wat nie meer hier is om homself te verdedig nie.

Makhanya se wanvoorstelling van Buthelezi se rol tydens die politieke oorgang is bloot ’n voortsetting van die ANC se destydse propagandastrategie om Inkatha te diskrediteer.

Dr. Anthea Jeffery se gesaghebbende navorsing, soos vervat in haar boek People’s War, asook die dokumentêr Tainted Heroes, wat gratis gestroom kan op word afriforumtv.co.za, sit hierdie strategie van die ANC duidelik uiteen. ’n ANC-afvaardiging het Viëtnam in 1978 besoek met die uitsluitlike doel om hulself te vergewis van die strategie wat tydens die kommunistiese “volksoorlog”daar gebruik is deur die revolusionêre groepering om hul opponente te vernietig. Die ANC het hierdie strategie met Sowjet-wapens en -finansiering gebruik om op plaaslike bodem Inkatha, Azapo en die PAC met geweld te probeer verswak sodat die ANC uiteindelik die toneel kon oorheers tydens die onderhandelings vir ’n politieke oorgang.

In die ANC se strewe om ook mag oor gemeenskappe te verkry, het hierdie strategie om geweld te gebruik selfs gelei tot wreedaardige halssnoermoorde op gewone swart mense.

Buthelezi verdien krediet dat hy hom om gewetensredes nie wou skaar by die Sowjet-gesteunde gewapende stryd nie en dat hy gekies het om apartheid op ’n niegewelddadige wyse teen te staan. Makhanya en ander sal Buthelezi waarskynlik nooit vergewe dat hy geweier het dat Inkatha aan die ANC se terreuraanvalle op burgerlikes meedoen nie. Om gegewe hierdie werklikheid nou vir prins Buthelezi as die leidende oorsaak van die geweld tydens die politieke oorgang te probeer voorhou, is dus misleidend.

Ek glo nie daarin dat ’n persoon ná hul afsterwe tot “heilige” verhef moet word nie, maar dit is eenvoudig ’n miskenning van Buthelezi se menswaardigheid en sy familie en volgelinge se hartseer deur hom kort ná sy afsterwe te verguis deur leuens oor sy rol tydens die politieke oorgang te verkondig.

Lees die volledige artikel op Netwerk24.

Kallie Kriel oor Buthelezi: Maklik om klippe te gooi na een wat dood is

Prins Mangosuthu Buthelezi was ’n indrukwekkende leier wat lief was vir sy kultuur en mense, skryf Kallie Kriel.

Bron: Netwerk24, 24 September 2023

Die redakteur van City Press, Mondli Makhanya, se striemende aanval op prins Mangosuthu Buthelezi verlede week op hierdie blaaie is misleidend en onbillik.

Dit is jammer dat hy dit skryf oor ’n man wat nie meer hier is om homself te verdedig nie.

Prince Mangosuthu Buthelezi
Prince Mangosuthu Buthelezi

Makhanya se wanvoorstelling van Buthelezi se rol tydens die politieke oorgang is bloot ’n voortsetting van die ANC se destydse propagandastrategie om Inkatha te diskrediteer.

Dr. Anthea Jeffery se gesaghebbende navorsing, soos vervat in haar boek People’s War, asook die dokumentêr Tainted Heroes, wat gratis gestroom kan op word afriforumtv.co.za, sit hierdie strategie van die ANC duidelik uiteen. ’n ANC-afvaardiging het Viëtnam in 1978 besoek met die uitsluitlike doel om hulself te vergewis van die strategie wat tydens die kommunistiese “volksoorlog”daar gebruik is deur die revolusionêre groepering om hul opponente te vernietig. Die ANC het hierdie strategie met Sowjet-wapens en -finansiering gebruik om op plaaslike bodem Inkatha, Azapo en die PAC met geweld te probeer verswak sodat die ANC uiteindelik die toneel kon oorheers tydens die onderhandelings vir ’n politieke oorgang.

In die ANC se strewe om ook mag oor gemeenskappe te verkry, het hierdie strategie om geweld te gebruik selfs gelei tot wreedaardige halssnoermoorde op gewone swart mense.

Buthelezi verdien krediet dat hy hom om gewetensredes nie wou skaar by die Sowjet-gesteunde gewapende stryd nie en dat hy gekies het om apartheid op ’n niegewelddadige wyse teen te staan. Makhanya en ander sal Buthelezi waarskynlik nooit vergewe dat hy geweier het dat Inkatha aan die ANC se terreuraanvalle op burgerlikes meedoen nie. Om gegewe hierdie werklikheid nou vir prins Buthelezi as die leidende oorsaak van die geweld tydens die politieke oorgang te probeer voorhou, is dus misleidend.

Ek glo nie daarin dat ’n persoon ná hul afsterwe tot “heilige” verhef moet word nie, maar dit is eenvoudig ’n miskenning van Buthelezi se menswaardigheid en sy familie en volgelinge se hartseer deur hom kort ná sy afsterwe te verguis deur leuens oor sy rol tydens die politieke oorgang te verkondig.

In sy aanval op Buthelezi versuim Makhanya om te noem dat hyself saam met ander ANC-kaders ’n rol gespeel het in die swart-teen-swart-geweld wat destyds plaasgevind het. Die ANC, en nie Inkatha nie, was die hoofoorsaak van die tragiese verlies van meer as 20 000 menselewens in die aanloop tot die politieke oorgang. Eerder as om die ANC se rol daarin te erken, probeer Makhanya nou om al die blaam te plaas op ’n man wat nie meer met ons is om die ander kant van die saak te stel nie.

’n Beseerde Inkatha-man se oë is uitgesteek en sy geslagsdele afgesny, terwyl Makhanya as meedoener toegekyk het.

Makhanya voer in sy meningstuk aan hy was destyds ’n jong verslaggewer wat verslag gedoen het oor “Inkatha-massamoorde”. Die waarheid is dat Makhanya veel meer as ’n verslaggewer was.

Jeffery wys met stawende bronne in haar boek daarop dat Makhanya aan die ANC se oorlog teen “swart” groeperings meegedoen het wat deur die ANC as mededingers beskou is. Makhanya het byvoorbeeld, volgens Jeffery, in 1991 onder ’n skuilnaam geskryf dat hy op 11 Februarie 1990 huise afgebrand het, terwyl sy kamerade gewonde Inkatha-vegters doodgemaak het. ’n Beseerde Inkatha-man se oë is uitgesteek en sy geslagsdele afgesny, terwyl Makhanya as meedoener toegekyk het.

’n Ander Inkatha-ondersteuner is in die pad af gesleep en aan die brand gesteek, terwyl rommel op hom gepak is sodat hy nie kon ontsnap nie. Jeffery wys daarop dat Makhanya geskryf het dat dié man nie vir hom ’n mens was nie, maar ’n vyand wat gekry het wat hy verdien.

Makhanya het ook gemeld dat hy trots is op sy rol, dat hy die gevegte opwindend gevind het, asook om onder meer te sien hoe desperate mans hardloop vir hul lewe.

Dit is dus jammer dat Makhanya prins Buthelezi die “prins van strydlus” noem, terwyl Makhanya en die ANC self meegedoen het aan die tragiese moorddadige konflik van destyds.

Niemand van ons is perfek nie. Maar tydens die geleenthede waar ek die voorreg gehad het om persoonlik met Buthelezi te skakel, het ek onder die diep indruk gekom van ’n indrukwekkende leier wat lief was vir sy kultuur en mense, en sy lewe daaraan gewy het om hulle onbaatsugtig te dien. Hy was ook sonder huiwering bereid om ’n hand van vriendskap uit te reik om verhoudings gegrond op wedersydse erkenning en respek met ander groepe te vestig.

Buthelezi het ook onbeskaamd ’n hand van vriendskap na Afrikaners uitgereik en dit onlangs weer gedoen met ’n videoboodskap aan die Voortrekkermonument. Hy het dit ook gedoen deur by verskeie geleenthede verskoning te vra vir koning Dingane se moord op Piet Retief – ten spyte daarvan dat niemand van hom verwag het om dit te doen nie. Ook tydens Buthelezi se deelname aan die regering van nasionale eenheid ná die oorgang het hy gewerk om te verseker dat die Voortrekkermonument ’n staatsubsidie kry.

Dié subsidie het opgedroog ná sy vertrek as minister.

Dié ingesteldheid om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder, is navolgenswaardig vir almal van ons wat ’n toekoms vir ons kinders hier aan die suidpunt van Afrika wil bou. Juis daarom sal AfriForum voortgaan om samewerkingsooreenkomste aan te gaan met die onderskeie kultuurgemeenskappe, wat ook Zoeloe-gemeenskappe insluit.

As AfriForum dra ons ons meegevoel oor aan die Zoeloe-volk met die heengaan van ’n groot leier soos Buthelezi.

’n AfriForum-afvaardiging het die prins se familie besoek om ons meegevoel persoonlik oor te dra en het ook sy begrafnis bygewoon.

Kom ons respekteer Buthelezi se geliefdes en gun aan hulle die geleentheid om te rou. Ons kan dit doen deur ons uit te spreek teen die ongevoelige aanvalle op prins Buthelezi deur mense wat probeer om sy dood nou te misbruik om die propagandastryd oor die verlede voort te sit.

  • Kallie Kriel is uitvoerende hoof van AfriForum.

Onderwyswetsontwerp = kulturele etniese suiwering

Kallie Kriel skryf op Maroela Media (23 Augustus 2023):

Indien die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) ʼn wet word, sal dit aan die staat die mag gee om openbare skole se taalbeleid te bepaal. Dit is kommerwekkend omdat die ANC-regering se geskiedenis wys dat hulle daarop uit is om Afrikaans as onderrigtaal in openbare onderwys te vernietig.

Lees die volledige artikel hier.

Kallie Kriel
Kallie Kriel

Kallie: Aanvalle op AfriForum misluk

Bron: Netwerk24, 24 Mei 2023

Kritici van AfriForum staan aan die linker- en verregse kante van die Afrikaanse gemeenskap en hou daarom nie ’n bedreiging vir dié organisasie in nie, skryf Kallie Kriel.

Die aanvalle op AfriForum deur ’n paar kommentators wie se siening gereeld op Netwerk24 en in Media24 se dagblaaie gepubliseer word, begin nou aan ’n histeriese reaksie grens.

Ongelukkig is daar ook ’n paar joernaliste wat lustig hieraan meedoen. Terwyl die aanvalle daarop gemik is om AfriForum valslik uit te beeld as ’n onverdraagsame organisasie wat wanvoorstellings maak, hoef ’n mens nie ’n vuurpylwetenskaplike te wees om te kan sien dit is eerder diegene wat AfriForum aanval, wat hulle aan venynige onverdraagsaamheid en wanvoorstellings skuldig maak nie.

Die jongste aanval op AfriForum deur Amanda Gouws in haar artikel getuig juis van die soort onverdraagsaamheid en wanvoorstellings waarvan sy en ’n paar ander AfriForum beskuldig.

Gouws se onverdraagsaamheid blyk duidelik uit haar gebruik van woorde soos “walglik” en “minagting wat dit verdien” in haar verwysings na AfriForum. Dat Gouws in haar artikel ’n lang aanhaling waarna Ernst Roets verwys het, aanhaal asof dit sy eie woorde is, is verstommend. Dit is ook ’n verdraaiing van die waarheid deurdat Gouws versuim om te noem dat Roets duidelik gesê het dat hy niemand leed wil aandoen nie en die aanhaling genoem het om te wys dat daar in die geskiedenis verskeie voorbeelde is van sommige akademici wat voeling met die lot van gewone mense verloor het. Dit is soortgelyk aan sommige hedendaagse akademici wat wil voorgee dat die ernstige bedreiging wat plaasmoorde en die skending van eiendomsreg inhou, kwansuis nie so erg is as wat AfriForum sou voorgee nie.

Die ironie is dat onophoudelike aanvalle op AfriForum nie net daarin misluk om AfriForum te diskrediteer nie, maar dat dit AfriForum sterker maak.

Ook Gouws se aanspraak dat ek kwansuis sou gesê het Max du Preez is ’n “rassis” wat AfriForum aanval om homself “links” te posisioneer, is vals. As sy my uitspraak gelees het, sou sy gesien het dat ek gesê het dat daar verskeie swart mense is wat Du Preez van rassisme beskuldig en dat hy nou AfriForum as strooipop opstel en aanval om die aanval uit swart geledere verkeerd te bewys. Ook Gouws se bewering dat AfriForum nie apartheid as ’n “onreg” sien nie, is vals. Ons erken die onregte, die debat handel of dit gelykgestel kan word met Hitler se optrede as misdaad teen die mensdom. Anders as wat Gouws beweer, voer AfriForum geen “vete” teen mense uit haar dampkring nie.

‘Ons reageer slegs op aanvalle’

Om die waarheid te sê, ons het elke keer slegs gereageer op hul aanvalle. Gewoonlik sou ons hulle ignoreer, maar omdat sy en haar geesgenote ondanks hul beperkte steun in die Afrikaanse wêreld, byna onbeperkte toegang tot mediablootstelling in sommige media kry, is dit nodig om AfriForum se kant te stel sodat Afrikaanse luisteraars en lesers ten minste die ander kant van die saak kan hoor.

Die ironie is dat onophoudelike aanvalle op AfriForum nie net daarin misluk om AfriForum te diskrediteer nie, maar dat dit AfriForum sterker maak. Die kommentaar van lesers onderaan die aanvalle op AfriForum wat op Netwerk24 gepubliseer word, getuig daarvan dat die gewone Afrikaanse lesers hulle oorweldigend aan AfriForum se kant skaar. Natuurlik is die kommentaar nie ’n wetenskaplike peiling nie, daarom gebruik ek ook AfriForum se ledetal as akkurate barometer.

Met die aanslag op AfriForum op sy felste die afgelope twee weke het slegs 0,0002% van AfriForum se meer as 208 000 lede bedank as gevolg van die wanvoorstellings wat oor ons gemaak word.

Dit is natuurlik jammer, maar moet gesien word in die lig daarvan dat AfriForum in dieselfde tydperk sowat 17 nuwe lede bygekry het vir elke lid wat bedank het.

Die positiefste gevolg van die opkoms van sosiale en elektroniese media is dat die gewone Afrikaanse mense nou toegang tot alle sienings kan kry en dan vir hulself kan dink.

Die rede waarom die fel aanslag teen AfriForum deur ’n groep kommentators en enkele joernaliste misluk, is omdat die tyd vir ewig verby is dat ’n klein groepie mense wat ’n monopolie oor die tradisionele media het, aan mense kan voorskryf hoe hulle moet dink.

In die ou dae kon ’n paar meningsvormers in die “hoofstroommedia” na hartelus etikette soos “verlig”, “verkramp”, “regs”, “links” en “liberalis” skep en mense wat anders as hulle dink, diskrediteer deur hulle in eng kampe te plaas.

Die koms van die sosiale en ander elektroniese media het die mag van ’n paar mense oor die openbare mening finaal gebreek. Skynbaar sukkel sommige kommentators om dit te aanvaar en probeer hulle om hul invloed te behou deur al hoe onbilliker en onverdraagsamer te raak teenoor enige persoon wat dit durf waag om van hulle te verskil. Hoe harder hulle aanval, hoe meer vervreem hulle die gewone Afrikaanse lesers en luisteraars.

Die positiefste gevolg van die opkoms van sosiale en elektroniese media is dat die gewone Afrikaanse mense nou toegang tot alle sienings kan kry en dan vir hulself kan dink.

‘Selfrespek ’n voorvereiste vir wedersydse respek’

’n Groot groep Afrikaanse lesers en luisteraars weet dat die mening van ’n paar kommentators lankal nie meer aan die openbare mening gelyk gestel kan word nie. Dit is soos Winston Churchill gesê het: “Published opinion should not be confused with public opinion.”

Baie Afrikaanse lesers en luisteraars weet dus ook dat plaasmoorde en die marteling wat soms daarmee gepaardgaan, krisisafmetings aanneem. Hulle weet ook dat die bedreiging wat onteiening sonder vergoeding inhou, ’n werklikheid is. Dit is immers die regerende party se beleid. Hulle weet ook dat probleme soos hierdie en die vele ander nie vanself sal verdwyn nie en dat dit noodsaaklik is dat ’n organisasie soos AfriForum alles moontlik moet doen om hierdie probleme te pak.

Die grootste pluspunt is dat ’n groot groep Afrikaanse lesers en luisteraars hulle nie laat mislei om te glo dat AfriForum en die Solidariteit Beweging, wat saam sowat 450 000 gesinne verteenwoordig, ’n randverskynsel is nie. Hulle weet dat hulle saam met AfriForum en die Solidariteit Beweging binne die 80%-middelgroep- Afrikaanssprekendes en -Afrikaners staan en dat ons hard werk vir ’n beter toekoms gebou op ’n basis van wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe. Hulle besef egter ook dat selfrespek ’n voorvereiste vir wedersydse respek is en daarom mag ’n mens maar met selfvertroue standpunt teen plaasmoorde, die skending van eiendomsreg en ander brandpunte inneem.

’n Beduidende groep Afrikaanse luisteraars en lesers staan ook verstom dat ’n paar kommentators vra dat die middelgroep in die Afrikaanse en Afrikanergemeenskap ’n stem moet kry.

Hulle weet dat die Solidariteit Beweging en AfriForum reeds oorweldigende steun in die middelgroep het en as stem vir hulle kan optree. Hulle weet ook dat AfriForum se kritici aan die linker- en verregse rande van die Afrikaanse wêreld staan en juis daarom hou hulle aan om AfriForum in groterwordende getalle te steun.

Kallie Kriel: Dís hoekom ek Lesufi se plan steun

Bron: Netwerk24, 8 Mei 2023

Die Gautengse premier se “bewaarders” van misdaad is verdag, maar desentralisering van polisiëring is wel nodig, skryf Kallie Kriel.

Die Gautengse regering se nuwe “misdaadvoorkomingsbewaarders” is met goeie rede deur baie mense met skeptisisme begroet. Die beeldmateriaal van dié groep se bekendstellingsparade het nou nie juis die indruk geskep van ’n goed opgeleide en gedissiplineerde eenheid wat deur misdadigers gevrees sal word nie.

Verder wys ANC-beheerde regerings op verskillende regeringsvlakke se baanrekord dat hulle eenvoudig nie in staat is om ’n sukses te maak van die meeste projekte wat hulle aanpak nie. Grootskaalse korrupsie, kaderontplooiing, nepotisme, wanbestuur, rasbeheptheid en ondoeltreffendheid het onlosmaaklik deel van ANC-regerings geword. Dit geld ook die Gautengse regering.

Die man wat homself as die groot kampvegter teen misdaad voorhou met sy nuwe “bewaarders”, premier Panyaza Lesufi, word natuurlik ook onthou vir die feit dat die Gautengse onderwysdepartement R431 miljoen op die ontsmetting van skole wanbestee het terwyl hy as LUR in beheer was en dat hy Afrikaanse skole geteiken het om sy eie onvermoë om genoeg skole te laat bou te verdoesel. Ook sy huidige pogings om fondse vir noodsaaklike maatskaplike dienste te sny laat ’n bitter smaak in die mond.

Ten spyte hiervan is dit wel belangrik om raak te sien dat Lesufi met sy jongste poging om homself op die voorgrond te plaas, onbedoeld en onwetend die deur begin oopmaak het vir die afwenteling van mag vanaf ’n ewe onbeholpe nasionale ANC-regering, na provinsies, dorpe en gemeenskappe.

Lesufi sal dit nie graag wil hoor nie, want hy en die ander ideoloë in die ANC is verknog aan die sentralisering van mag en verafsku enige sprake van federalisme en desentralisering.

Die huidige sentralistiese bedeling het homself reeds as ’n mislukking bewys. Die klaaglike agteruitgang van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Eskom, die SAL, Denel, regeringsdepartemente en munisipaliteite is maar ’n paar van die wrang vrugte van sentralisme wat ons nou pluk. Om hierdie probleme te pak is die afwenteling van mag nodig. Dán kan probleme in kleiner dele opgedeel word en gemeenskappe se energie ontsluit word om ’n groter rol te speel en inspraak te kry oor hoe probleme opgelos moet word. Gemeenskappe verstaan hul eie behoeftes baie beter as byvoorbeeld Bheki Cele, die minister van polisie, wat iewers ver in ’n kantoor sit en toekyk hoe misdaadsyfers jaar ná jaar styg.

Met dié stap het Lesufi onwetend erken dat die huidige sentralistiese model van polisiëring misluk.

‘Gedesentraliseerde werklikheid’

Terwyl Cele verbete aan sy sentrale beheer vasklou, is ons as gemeenskappe se hande gelukkig nie afgekap nie. Dit is moontlik dat gemeenskappe nou reeds sonder om enigiemand se toestemming te vra, kan toetree om binne die raamwerk van die wet buurt- en plaaswagte te skep om self misdaad te beveg. AfriForum het reeds met hierdie ons-sal-self-ingesteldheid 165 buurtwagte landswyd gevestig, wat sowat 10 000 vrywilligers, duisende radio’s, honderde koeëlvaste baadjies en tientalle hommeltuie en opgeleide hommeltuigvlieëniers het. Die waarde wat hierdie buurtwagte met byvoorbeeld hul hommeltuie toevoeg tot die stryd teen misdaad, het daartoe gelei dat plaaslike polisielede op die meeste plekke graag met AfriForum se buurtwagte saamwerk. Die werk van buurtwagte het in praktyk daartoe gelei dat ’n nuwe gedesentraliseerde werklikheid geskep is wat die sentraliste nie meer kan misken nie.

Gemeenskapsfederalisme en gedesentraliseerde dienslewering en polisiëring moet nou verder uitgebou word as ’n normale verskynsel wat oplossings bied. Dit is in hierdie verband dat Lesufi se vestiging van sy “bewaarders” onbedoeld in desentraliseerders se hande speel.

Met dié stap het Lesufi onwetend erken dat die huidige sentralistiese model van polisiëring misluk. As die model gewerk het, sou daar immers nie nut vir sy “bewaarders” gewees het nie. Lesufi se optrede sal dit ook vir die DA-beheerde Wes-Kaap makliker maak om nog meer afwenteling van mag te vra. As ’n ANC-beheerde provinsie dit begin doen, waarom kan die Wes-Kaap nie? En sou die ANC dalk net in 2024 die mag in Gauteng verloor, het Lesufi reeds die grondslag gelê vir ’n nuwe koalisie om die desentralisering van magte verder te dryf.

Intussen hoef ons as burgerlike samelewing nie net te hoop op bepaalde verkiesingsuitslae nie, ons kan onverpoosd voortgaan om ons gemeenskappe sterk en selfstandig te maak.

Ons doen dit deur misdaad binne die raamwerk van die wet te bekamp deur ons buurtwagte en in samewerking met sekuriteitsmaatskappye, GPF’s en plaaslike polisielede. Lesufi se optrede het nou immers bevestig dat polisiëring in die praktyk nie meer onder die uitsluitlike beheer van die nasionale regering is nie. Dit is ’n welkome wending.

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, op ’n nuuskonferensie waar hy die provinsie se nuwe misdaadvoorkomingsbewaarders bekend gestel het
Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, op ’n nuuskonferensie waar hy die provinsie se nuwe misdaadvoorkomingsbewaarders bekend gestel het
Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.