Deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

In die politieke “wittebroodtydperk” van die Mandela-era ná 1994 het die Afrikaanse gemeenskap gevoel dat die stigting van onafhanklike Afrikaanse universiteite onnodig én boonop onmoontlik was. Onnodig, omdat die Grondwet uitdruklik voorsiening gemaak het vir Afrikaanse staatsuniversiteite en omdat daar skynbaar genoeg universiteite in die land was. Tweedens is dit as onmoontlik beskou omdat die stigting van ʼn nuwe universiteit sonder staatshulp eenvoudig te duur sou wees. Onafhanklike universiteite was boonop in Suid-Afrika grotendeels onbekend, anders as in baie ander dele van die wêreld.
Die werklikhede van sogenaamde “radikale transformasie” en ʼn geweldige toename in studentegetalle het egter reeds teen die vroeë 2000’s begin gewys dat ʼn nuwe Afrikaanse universiteit wél nodig was. Die suksesvolle stigting en groei van Akademia het terselfdertyd bewys dat dit inderdaad moontlik is. In Suid-Afrika is dit dikwels juis dít wat op die oog af moontlik lyk, wat in die praktyk onmoontlik word, en andersom: dit wat onmoontlik lyk, blyk tog moontlik wees.
Waarom die Solidariteit Beweging ontstaan het
Daar is twee hoofredes waarom Solidariteit, en later die breër Solidariteit Beweging, in die vroeë 2000’s tot stand gekom het. Eerstens het die stigters voorsien dat ʼn bevrydingsbeweging soos die ANC nie noodwendig ʼn moderne staat suksesvol sou kon regeer nie. Die Chinese wysgeer, Jia Yi, het al reeds twee eeue voor Christus daarop gewys dat die vereistes om ʼn land deur ʼn “struggle” oor te neem, lynreg bots met die vereistes om ʼn land doeltreffend te regeer.
Die tweede rede was omdat ons die ANC se woord gevat het dat hulle steeds ʼn rewolusionêre party is. Sulke partye is in wese sosialistiese sentraliste, en gebruik ʼn grondwetlike demokrasie om vryheid te ondergrawe. Dit sluit bepaald die vryheid in van taal- en kultuurgemeenskappe om besluite oor hulle grondliggende belange te neem en uit te voer. Rewolusionêre partye se regering “deur” die mense, word in die praktyk regering “oor” die mense. Die dienaars word die heersers.
Uitkoms
Die uitkoms van bykans drie dekades van die ANC-regering bevestig ongelukkig hierdie vrese. Die ANC kon nie die land doeltreffend regeer nie en het die demokratiese stelsel misbruik om vryheid te ondergrawe. Dink maar net aan die verwoestende gevolge van die inperking van ekonomiese vryheid – oftewel sakelui se vryheid om hul ondernemings sonder staatsinmenging te bestuur. Dit het ʼn beduidende rol gespeel in dekade lange ekonomiese stagnasie, rekordwerkloosheidsyfers en Suid-Afrika se status as een van die grootste uitvoerders van werkskeppers, belastingbetalers en hoëvlakvaardighede.
Die ANC het die pad van ʼn sogenaamde “ontwikkelingstaat” gevolg, soortgelyk aan die model wat onder meer in kommunistiese China toegepas is, waar staatsentiteite die ekonomie moes dryf. Die gevolge vir Suid-Afrikaanse staatsinstellings soos Eskom, Transnet, die Poskantoor en Denel is welbekend – om nie eens te praat van die verval van munisipaliteite en ander dele van die staatsdiens nie. Suid-Afrika moes eerder ʼn “ontwikkelingsamelewing” geword het, soos deur verskeie senior sakelui voorgestel, met restourasie eerder as transformasie as nasionale rigtingwyser.
Bevrydingsbewegings wat aan bewind kom, eindig dikwels in armoede en onderdrukking omdat hulle in die praktyk meer “gelykheidsbewegings” as vryheidsbewegings is. Hulle gebruik staatsmag om gelyke uitkomste af te dwing, met die gevolg dat individuele vryheid en algemene voorspoed skade ly. Die prosedurele vorm van demokrasie, soos gereelde verkiesings, bly staan, maar vryheid as die kern van demokrasie word ondermyn.
Daarby is wit Suid-Afrikaners se politieke, ekonomiese en kulturele vryhede nie deel van die ANC se toekomsvisie nie. In die nuutste (2025) weergawe van die ANC se “Strategy and Tactics”-dokument word die land steeds beskryf asof dit in die 1980’s vasgevang is. Wit mense word wel as deel van die samelewing geduld, maar is in werklikheid tweedeklasburgers oor wie se belange die regering min besorgdheid toon: “Die hoofdoel van ons vryheidstryd bly die bereiking van politieke- en ekonomiese vryheid van die onderdruktes – Afrikane in besonder en swart mense in die algemeen, binne ʼn samelewing waarvan die wit minderheid onlosmaaklik deel is.”
Daarom bly dit belangrik dat ons na ons eie belange omsien, waarvan ʼn wêreldklas Afrikaanse universiteit ʼn belangrike deel uitmaak.
Universiteite
Volgens denkers soos die Keniaan Ali Mazrui het universiteite in postkoloniale Afrika tipies deur agt fases beweeg:
- Massifikasie deur “toegang vir almal”, dikwels via gratis studies
- Kultuur van “slaag vir almal”
- Sogenaamde “dekolonisering” van instellings
- Aantasting van universiteitsoutonomie, akademiese vryheid en standaarde
- Finansiële druk weens massifikasie en krimpende begrotings
- Studente- en dosente-onrus
- Toenemende regeringsbeheer
- Opkoms van privaat universiteite wat staatsuniversiteite begin verbysteek

Ekostelsel
Die strategiese uitdaging vir die Solidariteit Beweging was om volhoubare “staatsdienste” te lewer sonder staatsinkomste. Daarom moes ons eers stelselmatig ʼn omvattende kulturele ekostelsel bou, wat ons in staat sou stel om ʼn universiteit op te rig. Die gemeenskap moet eers die universiteit help voordat die universiteit die gemeenskap kan help.
Die beginpunt was om Solidariteit as ʼn “80%-organisasie” te stig uit verskeie Afrikaanse vakbonde, waarvan die eertydse MWU die bekendste was. ʼn “80%-organisasie verwys daarna dat die 80% middelgroep daarin moes tuisvoel, sonder die twee uiterste kante van die spektrum. Ons wou wegkom van die mislukte historiese verdelingslyne wat soveel skade aan Afrikaners én die land gedoen het.
Die volgende stappe was om binne Solidariteit ʼn Boufonds en Opleidingsfonds te stig, omdat gewone ledegeld vir lededienste bedoel was, en ook nie naastenby voldoende sou wees om ʼn universiteit te finansier nie.
Die derde stap was om die Solidariteit Helpende Hand te begin, om armoede wat ontstaan het as gevolg van die nuwe rassewette, die reuse-afskalings ná 1994 en die ekonomiese stagnasie teen te werk. Vierdens is die Helpende Hand Studietrust gestig om studielenings aan verdienstelike jongmense toe te ken sodat hulle kan studeer. Die hele idee is dat elke geslag die volgende geslag moet help om te studeer, en dat hulle daardie studiehulp wat aan hulle verleen is terugbetaal sodat die daaropvolgende geslag ook kan studeer. Die sukses van die Helpende Hand Studietrust is dat die terugbetalingskoers ʼn allemintige 99% is. Dit stel die Trust in staat om hierdie jaar sowat 1 200 studente met meer as R70 miljoen se studiehulp by te staan. Grootskaalse studiehulp is ʼn voorwaarde vir ʼn universiteit wat nie staatsfondse ontvang nie, anders kan net ʼn ryk elitegroep dit bekostig.
Die vyfde blokkie van die kulturele legkaart was die stigting van ʼn landswye netwerk van “Ons Winkels” – tweedehandse winkels onder die vleuel van die Helpende Hand. Die winste wat in hierdie winkels gemaak word, word in elke winkel se gebied aangewend vir maatskaplike dienste, en om deur die Studietrust jongmense van die omgewing te laat studeer.
Die Solidariteit Beleggingsmaatskappy (SBM) was die sesde stap in die ekostelsel. Die sewende stap was om onder die SBM-sambreel ʼn finansiëledienstemaatskappy te stig, waarvan die belang wat in die Afrikaanse versekeraar Virseker gehou word, die bekendste is. Die opbrengs van die Virseker Trust gaan vir Afrikaanse onderwys en opleiding, en word na Akademia, die Helpende Hand Studietrust en die Skoleondersteuningsentrum gekanaliseer.
Die agtste blokkie was die stigting van ʼn eiendomsmaatskappy, wat later tot Kanton Beleggings uitgebrei het. Kanton is ʼn eiendomsbeleggingsmaatskappy, en is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal waarin privaat beleggers belê vir ʼn wins én ʼn kulturele dividend. Kanton het al verskeie suksesvolle projekte ontwikkel, waarvan die bou van die wêreldklas Sol-Tech-kampus met hul koshuise die bekendste is. SBM bied, deur sy finansiëledienstemaatskappy, ook rentedraende lenings vir studente wat nie vir die Helpende Hand Studietrust se rentevrye studielenings kwalifiseer nie.
Die negende blokkie was die stigting van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), wat ten doel het om wêreldklas Afrikaanse onderwys te bevorder. Die rede hiervoor is dat goeie onderrig op skool ʼn voorvereiste vir goeie naskoolse onderrig is. Die SOS bedryf talle projekte, soos die gewilde Wolkskool, en het ook verskeie vakverenigings, soos die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers, wat voortgesette opleiding vir Wiskunde-onderwysers aanbied. Benewens ondersteuning aan Afrikaanse openbare skole, werk die SOS ook aan nuwe oplossings vir onderwys in Afrikaans.
Die tiende blokkie om die kulturele legkaart te voltooi, was die stigting van Akademia, vernoem na die eerste universiteit in die Westerse wêreld, Plato se Akademia wat in 387 voor Christus in Atene gestig is. Die bekende Aristoteles, leermeester van Alexander die Grote, het daar Wiskunde, Filosofie en Politiek studeer. Akademia sluit aan by die klassieke tradisie, en is gegrond op wêreldklas-opleiding en ook die breër vorming en toerusting van studente op ʼn Christelike grondslag. Akademia is ʼn nuwe universiteit wat 15 jaar gelede begin is, maar is op ou en tydlose fondamente gebou, om jongmense vir die toekoms toe te rus.
Eksterne ekostelsel
Die sukses van Akademia word nie net deur hierdie “interne” ekostelsel bepaal nie, maar ook deur ʼn eksterne kulturele ekostelsel, soos goeie skole, toegewyde leerders, betrokke ouers, ʼn helpmekaar-kultuur en werkgewers wat hierdie studente ʼn kans sal gee. Onafhanklike Afrikaanse trusts en sakelui wat die vennootskap tussen kultuur en kapitaal steun, speel ook ʼn onontbeerlike rol. Die feit dat Sol-Tech se studente reeds so gesog in die mark is, is ʼn goeie teken dat werkgewers selfs in ʼn tyd van rassewette, graag studente aanstel wat goed opgeleide en gevormde mense is.
Nuwe kampus
Akademia is deur die Solidariteit Beweging begin, maar is ʼn outonome hoëronderwysinstelling wat vir alle Afrikaanse studente oop is. Akademia het hierdie jaar sy eerste satelliet-kampus in Paarl in die Wes-Kaap geopen, en beplan om die huidige vyf fakulteite vinnig verder uit te brei. ʼn Belangrike rede vir Akademia se sukses is die topdosente wat aangestel is om aan ʼn wêreldklas universiteit te bou. Akademia het dus nie van “voor” af nuut begin nie, maar voortgebou op die akademiese werk wat oor baie jare opgebou is. Die afgelope jare is daar ook bande gebou met top- buitelandse universiteite. Akademia verwag hierdie jaar sowat 5 000 studente in totaal. Dit is hoekom nuwe en groter geriewe dringend noodsaaklik geword het. Die volgende stap vorentoe is Kanton Beleggings wat eersdaags begin om ʼn splinternuwe wêreldklas-kampus in die ooste van Pretoria te bou. Die eerste fase gaan sowat R1,8 miljard beloop, en gaan bykans twee jaar neem om te bou. Dit behels nuwe akademiese geboue, koshuise en al die moderne geriewe wat daarmee gepaardgaan. Daar word beoog om die kampus in 2028 in gebruik te neem.
Hierdie kampus is die grootse Afrikaanse bouprojek in baie dekades in Suid-Afrika, en is voorafgegaan deur twee dekades se opbou van hierdie omvattende ekostelsel wat nodig is vir kulturele selfverwesenliking. Hierdie ekostelsel maak ʼn wêreldklas, onafhanklike, klassieke Christelike Afrikaanse hoëronderwysinstelling moontlik. ʼn Taal het ʼn universiteit nodig vir sy voortbestaan, en ʼn universiteit het ʼn taal nodig om werklik wêreldklas te kan wees. Dit wys die sukses van talle mense wat in enkeltalige Afrikaanse universiteite opgelei is, maar wat nou met groot sukses hul kennis in ʼn ander taal toepas. Akademia is wel Afrikaans, maar studente bemeester terselfdertyd Engels om die oorgang na die wêreld van werk makliker te maak.
Hierdie kulturele ekostelsel se onderbou is skeppende vernuwing, gegrond op beproefde waardes. Die onderliggende filosofie is dat elke geslag dit wat hy van sy voorgeslagte gekry het moet bewaar, en dit dan in ʼn beter toestand vir die volgende geslag moet oorgee. Dít is ons Beweging se plegtige onderneming aan ons jongmense! Ons wil help om ʼn toekoms vir jongmense te skep, sodat hulle volhoubaar hier kan woon en werk, en sodoende ʼn blywende bydrae kan lewer tot die welstand van hulle gemeenskap, die land en al sy mense.
*Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging, en ʼn direksielid van Akademia en Kanton Beleggings.