Max du Preez se grootste mistasting in sy uitsprake oor die Solidariteit Beweging is dat hy die brandweer met die brandstigters verwar.
Ons gesin het in Desember ’n week saam met vriende in Simonstad deurgebring. Toe ek hoor dat Max du Preez daar bo in die berg met ’n seeuitsig bly, het ek sy wêreld beter verstaan. Simonstad lyk of daar min verander het sedert PW Botha se dae – as jy die vloot miskyk.
In Suid-Afrika bly ons in verskillende wêrelde in een land. Ek bly in die noorde, waar die toekoms reeds gebeur het. Du Preez bly in seker die mees Westerse dorp in die mees Westerse provinsie in die land. Simonstad is geografies én demografies ver verwyderd van Du Preez se staatsideologie waarteen hy homself verskans het.
Hy weet min of niks van die Solidariteit Beweging nie. Hy het ons ook nog nooit gekontak om meer uit te vind nie. Dit verhinder hom nogtans nie om sy vrye toegang tot die media te misbruik om ons te beskimp en te beskinder – én deesdae te beledig en belaster nie.
Selfbeskikking
In sy nuutste onderhoud op Netwerk24 vra hy wat ons “eindspel” is – wat hy smalend selfbeskikking noem. Die antwoord is maklik. Ons wil net hê wat hý reeds het.
Du Preez stem sekerlik vir die DA omdat hy self oor sy provinsie wil beskik sodat die ANC nie sy hande daarop kry nie. Dieselfde vir sy dorp, want hy het net een kyk noord gegee en gesien wat gebeur as die ANC oor ’n dorp of stad beskik. Net so beskik hy oor sy eie privaat medies, en waarskynlik sekuriteit ook – as dit in Simonstad al nodig is. Ek is ook seker hy kyk nie na die ANC beheerde TV-stasies nie en ry nie op die treine waaroor die ANC beskik nie.
Du Preez is ’n groter selfbeskikker as ons wat hier in die noorde bly en gedwing is om provinsiale en munisipale dienste te gebruik waaroor die ANC beskik – wanneer dit beskikbaar is. Hier is die demografie al lankal die demokrasie, en die regering van nasionale eenheid (RNE) en onbestendige munisipale koalisies het nog min daaraan verander.
Normaliteit
Die naam van Du Preez se nuwe boek, The End of Normal, is heel gepas. Die ANC se bewind sal tot die einde van normaliteit lei as hy nie gestop word nie. Daarom is ons “eindspel” bloot om normaliteit te help skep. Dis ’n land waar mense self besluit oor grondliggende sake wat hulle raak. Dís wat demokratiese vryheid is.
Normaliteit is waar mense waarde vir hul swaar verdiende belasting kry en saam oor die besteding daarvan kan “beskik”. Dis waar die munisipale dienste werk; waar misdadige en korrupte politici vervolg word; waar ouers self oor hul kinders se skole kan beskik; waar daar nie kwetsende rassewette is wat mense se normale regte, om oor hul ondernemings, werk of studierigting te beskik, ondemokraties met staatsmag inperk nie.
Normaliteit is waar die president en ministers nie amptelike ooreenkomste oor onderwyswette en rassekwotas met gemeenskapsorganisasies verbreek nog voordat die ink daarop droog is nie. Normaliteit is waar veteraanjoernaliste soos Du Preez nie oor kernsake soos hierdie swyg nie. Hy kritiseer net die ANC vurig as die party die staatsideologie korrup of onbevoeg uitvoer.
Sol-Tech
Ons strewe om ons taal en kultuur te beskerm is ’n strewe na demokratiese vryheid. Hoër onderwys is kulturele selfverwesenliking. Dis wêreldwyd normaal om alle grondwetlike regte te benut, nie regs nie.
Tale het ruimtes nodig waar dit die meerderheid kan wees om te kan voortbestaan. Die bou van vrye ruimtes vir Afrikaans is soos om vir jouself ‘n huis te bou. Jy bou nie ‘n huis om jou bure uit te sluit nie, maar juis om saam met hulle in daardie buurt voort te bou. Dan kan jy hulle oornooi vir ‘n koppie tee of ‘n lekker braai. Dit gaan oor ínsluiting, en juis nie oor uitsluiting nie.
Die staat sluit met sy rassekwotas wit jong mense prakties uit van beroepsopleiding in die openbare én privaat sektor. Daarom is Sol-Tech ‘n projek wat jong Afrikaanse mense wil ínsluit. Die kollege is ook, anders as wat hy kwaadwillig beweer, nie op ras gegrond nie, maar oop vir almal wat in Afrikaans wil studeer.
Terloops, ek wonder of Du Preez en kie besef wat dit geverg het om Sol-Tech van die grond af op te bou tot die wêreldklaskollege wat hy vandag is? Met die eerste R120 miljoen was ons grootse skenking net R10. Duisende gewone Solidariteit-lede het jare lank maandeliks tot hierdie helpmekaarprojek bygedra om die volgende geslag ‘n kans in die lewe te gee.
Ons kan nie die wêreld verander nie, Max, maar ons kon al duisende jong mense se wêrelde verander. Ons glo ook nie net aan binding (van Afrikaanse mense en Afrikaners) nie, maar ook aan brugbou. Sol-Tech probeer kliphard om brûe met die staat en ander kolleges in die land te bou en te help waar daar ’n wil en vermoë is om hande te vat.
Akademia
Du Preez vra (in die media om verdagtheid te saai, nie vir ons om ’n opregte antwoord te kry nie) of wit jong mense voldoende voorberei word op ’n meertalige werkslewe as hulle in Afrikaans opgelei word. Die antwoord is ’n besliste ja.
Die beste voorbereiding vir die wêreld daar buite is om wêreldklasopleiding in jou moedertaal te ontvang, omdat dit jou ten beste gereedmaak om jou kennis in ‘n ander taal toe te pas. Buitendien is Akademia (én Sol-Tech) se taalbeleid om studente net so goed in Engels toe te rus. Akademia se vormingsideaal is boonop daarop gerig om studente vir hul totale loopbane voor te berei, en nie net om ‘n werk te kry nie.
Die probleem is dat Du Preez die omvang en uiteinde van transformatisme hopeloos onderskat. Die meeste staatsbeskikte skole, TVET-beroepskolleges, en baie universiteite is al onderdeur getransformeer. Ons strewe na staatsbestande en selfstandige instellings behels nie net ‘n strewe na moedertaalonderwys nie, maar na vrye ruimtes sódat wêreldklasonderrig kan plaasvind.
Slagoffers
Die meeste Afrikaners se betreklike ekonomiese sukses is nie vanweë Du Preez se nuutste siening dat diskriminasie teen hulle ’n verbeeldingsvlug is nie. Hy het in 2003 al in sy boek Pale Native gesê dat wit mense onwelkom in hul eie land voel omdat ANC-leiers dit duidelik gemaak het dat hulle wit mense en Afrikaners as vreemde “kolonialiste-van-‘n-spesiale-soort-betreders” sien. In dieselfde boek skryf hy ook oor dieselfde rassewette wat hy nou skielik ontken.
Die feit dat Afrikaners nie slagoffers is nie, is ten spyte van die ANC se verdrukking. Dit spruit nie uit voortgesette bevoorregting nie, maar uit volgehoue prestasie ten spyte van struikelblokke.
Dit is só dat ons ‘n fokus op Afrikaners en die Afrikaanse taal en kultuurgemeenskappe het. Terselfdertyd doen ons veel meer vir die land en ál sy mense as Du Preez en die 44 wat die staatsagentskap se brief onderteken het. Ons het talle samewerkingsprojekte met swart instellings.
Du Preez se grootste mistasting is dat hy die brandweer met die brandstigters verwar. Die ANC met sy beleid, vrot regering, korrupsie en rassewette is die werklike brandstigters. AfriForum en Solidariteit, wat hy neerhalend “Afrisol” noem, is die brandweer wat probeer keer dat die land afbrand. Die sirenes mag moontlik soms te skril wees, maar as daar ‘n brand is, weet almal wie om te kontak.
Donald Trump
Ons besoek aan Washington het ten doel gehad om ons toegang in landsbelang te gebruik om die administrasie van pres. Donald Trump te probeer oorreed om nie die land te straf as hy vir die ANC kwaad is nie. Ons het sterk standpunt téén tariefmure en vír die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) ingeneem.
Ons versoek aan die VSA om soos voor 1994 op te tree, om versoening in Suid-Afrika te bevorder deur die ANC se verbreking van die grondwetlike skikking aan te pak, is ‘n regmatige reaksie op dit wat die ANC aanvang.
Kriminaliseer
Du Preez probeer ons beweging se leierskap kriminaliseer deur te beweer dat ons die staat ondermyn en nie net die ANC demokraties teenstaan nie. Hy beskryf ons nie net as verkeerd nie, maar as boos.
Die toekoms sal wys dat ons beweging ‘n onontbeerlike rol speel om demokratiese vryhede te beskerm, die verstaatliking van die samelewing teen te staan, ANC-wanbestuur en korrupsie te beveg, en op te bou waar ander afbreek. Ons bou die kulturele ekostelsel dat Afrikaners hier kan bly, sodat hulle ‘n volhoubare bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kan lewer.
Ons is nie net kommentators wat self niks doen en dan kritiseer wat ander doen om Suid-Afrika ‘n beter plek te maak nie.
Geskryf deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.