Deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

“Europa moet voorberei vir ʼn oorlog op ʼn skaal wat ons grootouers en húlle ouers moes deurmaak. Rusland het oorlog teruggebring na Europa,” het Mark Rutte, Navo se hoof in Desember gesê, met verwysing na die Eerste- en Tweede Wêreldoorloë. Hierdie skokkende waarskuwing van Rutte is opgevolg deur soortgelyke waarskuwings oor die gevaar van ʼn kontinentale oorlog teen Rusland deur die Duitste kanselier, Friedrich Merz, die Duitse minister van verdediging, Boris Pistorius, Navo se militêre hoof, admiraal Rob Bauer, asook senior leiers van Brittanje, Pole, Swede en Noorweë.
Hoewel Rusland se konvensionele magte nie sterk genoeg is om teen die hele Navo te veg nie, is daar drie faktore wat die Europeërs slapelose nagte gee:
- die eerste is dat die Amerikaanse regering wil hê dat Europa vir sy eie veiligheid moet sorg, omdat die VSA op China wil fokus;
- dat Europa nie kan kers vashou by die Russiese militêre massaproduksie nie; en
- dat die Russe die wêreld se grootste kernarsenaal het, en hulle militêre doktrine die gebruik daarvan onder bepaalde voorwaardes insluit.
Die skrikwekkende waarskuwing van die kernfisikus Albert Einstein doem weer voor die mensdom op: “As daar ʼn Derde Wêreldoorlog is, sal die vierde een met stokke en klippe gevoer moet word.” Einstein het natuurlik bedoel dat ʼn volgende globale oorlog die wêreld kan vernietig.
Oekraïne
Militêre kenners beskou die oorlog in Oekraïne as die gevaarlikste internasionale konflik sedert die Kubaanse Missielkrisis van 1962. Die gevaar bestaan dat dit kan eskaleer tot ʼn grootskaalse Europese oorlog, wat taktiese kernwapens kan insluit. Die belangrikste elemente van só ʼn nagmerrie is reeds teenwoordig, en die toestand herinner aan die aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog. Dit is onder meer:
- twee kante met onversoenbare standpunte wat elkeen sterk in sy saak glo;
- geen formele vredesonderhandelings nie, en beide magte wat veg vir ʼn militêre oorwinning;
- beide kante wat hulle doelwitte sedert die aanvang van die oorlog geëskaleer het;
- dis nie net ʼn streekskonflik nie – verskeie groot moondhede met kernwapens is betrokke; en
- die alliansiestelsel vergroot die kanse op ʼn groter oorlog, omdat ʼn “aanval op een as ʼn aanval op almal” beskou word.
Die geskiedenis van oorlog wys dat ʼn betreklik beperkte konflik tussen twee lande maklik na ʼn groter oorlog tussen grootmoondhede kan uitbrei. ʼn Toepaslike voorbeeld is die Krim-oorlog van die 1850’s tussen Rusland aan die een kant, en Brittanje, Frankryk, Turkye en Sardinië aan die ander kant.
Prof. Shepard Clough, professor in geskiedenis aan die Universiteit van Columbia, het die aanloop tot hierdie oorlog soos volg beskryf:
“The war was not the result of a calculated plan, nor even of hasty last-minute decisions made under stress. It was the consequence of more than two years of fatal blundering in slow-motion by inept statesmen who had months to reflect upon the actions they took. It arose from [some leaders’] search for prestige; the competing quest for control over the Straits; the mutual naïve miscalculation of the probable reactions of other powers; the failure of those powers to make their positions clear; and the pressure of public opinion in all countries at crucial moments.”
Hierdie woorde geld ook vir die huidige oorlog, omdat daar ʼn baie lang aanloop tot hierdie tragiese gebeure was waartydens dit voorkom moes word.
Doelwitte verander
Die Russe se doelwit was aanvanklik om te keer dat Oekraïne by Navo se militêre bondgenootskap aansluit. Dit sou uit die Russiese oogpunt ʼn “regstreekse gevaar vir Russiese veiligheid” word, in die woorde van president Wladimir Poetin.
Die Russe het hierdie doelwit nou geëskaleer tot ʼn militêre oorwinning en die besetting van grondgebied, veral in die Ooste waar daar ʼn groot aantal Russe woon.
Navo het aanvanklik net beoog om Oekraïne by te staan om ʼn Russiese oorwinning te keer en om ʼn gunstige vredesooreenkoms te help verseker. Intussen het die Weste se doelwit egter ook geëskaleer tot ʼn miltêre oorwinning en die uitskakeling van Rusland as ʼn groot moondheid.
Daar is normaalweg drie roetes na grootskaalse eskalasie wat deel van die dinamika van oorlog is:
- Een of albei kante eskaleer die oorlog om te wen.
- Een of albei kante eskaleer die oorlog om ʼn nederlaag te verhoed.
- Die oorlog eskaleer onbedoeld, bv. as gevolg van ʼn onvoorsiene gebeurtenis wat tipies is van oorloë.
Verdedig na aanval
Die Weste het aanvanklik verdedigende wapens aan Oekraïne verskaf, soos tenks en lugverdedigingswapens. Nadat hulle doelwit na ʼn militêre oorwinning verander het, is groot hoeveelhede moderne aanvalswapens aan Oekraïne gestuur.
Die Amerikaanse staatsman, Henry Kissinger, se waarskuwende woorde oor die foute met die aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog van 1914, is vandag steeds van toepassing:
“They seemed oblivious to the huge casualties of the still relatively recent American Civil War, and expected a short, decisive conflict. It never occurred to them that the failure to make their alliances correspond to rational political objectives, would lead to the destruction of civilization as they knew it. Instead, the Great Powers managed to construct a diplomatic doomsday machine, though they were unaware of what they had done.”
Die Eerste Wêreldoorlog is ook ʼn les dat goeie bedoelings tot verskriklike uitkomste kan lei. Soos die Amerikaanse denker, Thomas Sowell, dit gestel het: “The First World War […] was said to be a war ‘to make the word safe for democracy.’ What it actually led to was the replacement of despotic dynasties by totalitarian dictatorships that were far worse”.
Een skoot, drie oorloë
Die moord op die Oostenrykse kroonprins, Frans Ferdinand, deur ʼn jeugdige Serwiese sluipmoordenaar op 28 Junie 1914, het ʼn ketting van gebeure aan die gang gesit. Dit het uiteindelik tot twee wêreldoorloë gelei waarin daar saam sowat 100 miloen mense gesterf het, en daarna die Koue Oorlog tussen Oos en Wes. Die einde van een oorlog het in die geskiedenis dikwels net as aanleiding tot die volgende gedien. Só het die verdrukkende vredesooreenkoms van die Eerste Wêreldoorlog ʼn bepalende rol in die ontstaan van die Tweede Wêreldoorlog gespeel. Daarna het die einde van hierdie oorlog weer die aanvang van die gevaarlike Koue Oorlog gemerk, wat die wêreld vir dekades in twee magsblokke verdeel het wat mekaar oor kernwapens aangegluur het.
Kernwapens
Die vraag is onder watter omstandighede een van die twee kante kernwapens sal aanwend. Die Weste maak gebruik hul volle arsenaal van ekonomiese en diplomatieke magsmiddele, en verskaf grootskaalse wapens en finansiële bystand aan Oekraïne, sonder om troepe te stuur
Uit die uitsprake van Westerse leiers blyk dit dat daar vier moontlike beweegredes is waarom die Weste self militêr betrokke kan raak: indien die oorlog lank aanhou; indien daar geen vooruitsig op ʼn diplomatieke oplossing of ʼn Oekraïense oorwinning is nie; indien die ekonomiese koste vir die Weste te hoog raak; of indien hulle desperaat is om die konflik vinnig te beëindig, byvoorbeelduit vrees dat die Chinese die krisis sal gebruik om ‘n aanslag op Taiwan te loods. Indien die Oekraïense leër in gevaar is om te verloor, kan die Weste ook inspring om ʼn nederlaag te voorkom. Die laaste moontlikheid is indien die Oekraïeners Russiese dorpe of stede aanval om ʼn groot Russiese teenreaksie te ontlok wat die Weste by die oorlog kan betrek.
Russiese kernwapens
President Poetin het reeds die strawwe Westerse sanksies as ʼn oorlogsverklaring beskryf, wat uit ʼn Russisese oogpunt die tafel dek vir moontlike kragdadige optrede teen Navo. Die Russiese militêre doktrine maak voorsiening vir omstandighede waaardie Russe kernwapens salaanwend. Dit is:
- wanneer die Russe besluit om die vloei van Westerse wapentuig te stop, en dan ʼn Navo-land soos Pole, waardeur die wapens beweeg, aanval;
- wanneer Navo-magte self tot die oorlog toetree;
- om ʼn Russiese nederlaag te verhoed; en
- indien die oorlog te lank en uitgerek raak dat hulle dit ten alle koste wil beëindig.
Die (CIA) neem die gevaar van kernwapens so ernstig op, dat hulle al in 2022 gewaarsku het: “Niemand van ons kan die dreigende gevaar van die gebruik van taktiese kernwapens lig opneem nie.”
Taktiese kernwapens is kleiner wapens om stede of ʼn leër te vernietig, en is nie interkontinentale ballistiese missiele nie. Nogtans kan dit vinnig lei tot ʼn groter eskalasie waar nóg gevaarliker kernwapens gebruik kan word.
Ander moontlikhede
Die gevaar van ʼn eskalasie na kernwapens beteken gelukkig beslis nie dat dit noodwenig gaan gebeur nie. In die verlede was die grusame moontlikheid daarvan genoeg om dit te verhoed. Die Russe het wel reeds verskriklike skade in Oekraïne aangerig, maar was tot dusver baie huiwerig om die oorlog verder te eskaleer. Hulle het nog nie hulle volledige weermag ingestuur, groot getalle soldate opgeroep of ʼn “totale oorlog” verklaar nie.
Die beste afskrikking vir ʼn oorlog bly die lesse van die geskiedenis. Die probleem is dat daar nie oortuigende tekens is dat die hedendaagse wêreldleiers die historiese kennis het om oorloë te verhoed nie. Soos Thomas Sowell dit so treffend stel:
“The monumental tragedies of the 20th century — a world-wide Great Depression, two devastating World Wars, the Holocaust, famines killing millions in the Soviet Union and tens of millions in China — should leave us with a sobering sense of the threats to any society. But this generation’s ignorance of history leaves them free to be frivolous — until the next catastrophe strikes, and catches them completely by surprise.”
Die mensdom kan slegs hoop en bid dat die dreigende gevaar van ʼn eskalerende oorlog, ʼn kragtige aansporing vir die vegtende partye sal wees om voortydig ʼn diplomatieke oplossing te vind. In die praktyk sal ‘n “derde wêreldoorlog” gelukkig nie maklik uitbreek nie, omdat die VSA se militêre mag tans so oorweldigend is dat ander groot moondhede dit nie sommer sal uitdaag nie. Die sleutel tot blywende wêreldvrede was histories tweeledig: afskrikking van vyande, en gerusstelling dat daar nie ‘n aanval teen iemand beplan word nie. Die uitdaging vir die VSA is dus om China byvoorbeeld af te skrik, maar terselfderyd gerus te stel dat hulle nie aangeval sal word nie. Dan is die wêreld ‘n veiliger plek!

