Links, regs en die nuwe realiteit

Werner Human

Bron: Maroela Media

 

Die terme links, regs en verregs word al vir ʼn geruime tyd wyd in die internasionale politieke diskoers gebruik – ook in Suid-Afrika. Dit lei dikwels tot groot frustrasie aangesien talle wanopvattings en onwaarhede aan hierdie begrippe gekoppel word.

In Suid-Afrika word enige standpunt wat nie met die ANC se sterk linkse beleidsvertrekpunte ooreenstem nie met allerlei beskuldigings gepeper en aangedik deur aanklagte van “anti-transformasie,” “teenrevolusionêr,” “rassisme” en ander soortgelyke skelname. Onlangs het ʼn ou gunsteling weer sy opwagting gemaak toe die presidensie na die Solidariteit Beweging se besoek aan die VSA verwys het as ʼn “terughunkering na apartheid”.

Onderliggend aan dit alles is die beskouing dat linkse politieke ideale ʼn diep omgee vir ander veronderstel, vooruitgang en voorspoed bewerkstellig en die veiligheid van mense bevorder. Teenstellend kan daar nie genoeg beskrywings gelys word nie waarin regs en verregs as rassisties, gevoelloos, onderdrukkend, abnormaal en sommer botweg as boos voorgehou word.

Die morele aansprake wat met linkse politieke ideale vereenselwig word, het natuurlik tot gevolg dat alles wat buite daardie raamwerk val, vanselfsprekend niemoreel of selfs immoreel is.

En dit is juis hierdie verstaan van die verdeling tussen links en regs op die politieke spektrum – en hoe dit die afgelope dekades uitgespeel het – wat tans uitgedaag word.

Die verkiesing en herverkiesing van Donald Trump is ʼn sprekende voorbeeld hiervan.

ʼn Verdere voorbeeld is die reeks verkiesings vir die Europese Parlement waarin die uitslae van links na die meer behoudendende partye verskuif wat verkies word of deel van koalisies vorm.

Selfs die nasionale verkiesing in Suid-Afrika is ʼn teken dat die linkse politieke ideale die morele aanspraak op openbare en private aangeleenthede begin verloor, en daarmee tesaam, die greep op samelewings en gemeenskappe.

Die foutlyne in die post-Koue Oorlog-era

Die probleem met die hedendaagse “links-regs”-onderskeid lê nie daarin dat daar ʼn onderskeid tussen links en regs in die politieke diskoers kan bestaan nie. Dit op sigself is nie problematies om in die breë na die linker- of regterkant van die politieke spektrum te verwys, of om jouself daarmee te vereenselwig nie. Die werklike probleem ontstaan wanneer die morele vertrekpunte wat aan hierdie posisies gekoppel word nie krities bevraagteken word nie.

Die herwaardering van die tradisionele links-regs-politieke spektrum vereis ʼn ontleding van die nuwe era waarin ons ons tans bevind.

Dit is belangrik om te beklemtoon dat die wêreld – en Suid-Afrika – nie bloot deur ʼn tyd van verandering gaan nie, maar dat ons werklik ʼn verandering van die tyd self beleef.

Die vorige tydvak wat ʼn omwenteling van hierdie aard teweeggebring het, het gekom met die val van die Berlynse Muur wat die einde van die Koue Oorlog ingelui het. Soos vandag, het baie mense destyds geworstel met die vraag oor wat die nuwe era sou inhou en watter vorm dit uiteindelik sou aanneem.

Een van die mees invloedryke denkers in hierdie oorgangstyd was die politieke wetenskaplike Francis Fukuyama. In sy boek The End of History and the Last Man (1992) stel hy die uitgangspunt dat die verloop van geskiedenis gesien kan word as ʼn proses van uitskakeling – waarin verskillende regeringsvorms met verloop van tyd ten opsigte van hul werkbaarheid getoets is.

Fukuyama voer aan dat die politieke ontwikkeling van die mensdom uiteindelik tot ʼn liberale demokrasie as die finale vorm van regering lei. Hy skryf (eie vertaling): “Wat ons moontlik tans beleef, is nie bloot die einde van die Koue Oorlog nie … maar die eindpunt van die mensdom se ideologiese ontwikkeling en die universalisering van Westerse liberale demokrasie as die finale vorm van menslike regerings”.

Die Westerse liberale demokrasie het sy oorsprong in die tydperk van die Verligting, en volgens Fukuyama is dit die regeringsvorm wat ten beste aan die mens se diepste behoeftes voldoen – naamlik erkenning en ekonomiese welvaart. Juis daarom, meen hy, kan die liberale demokrasie as ʼn universele model beskou word wat deur uiteenlopende samelewings aanvaar en geïmplementeer kan word.

Die kernargument van Fukuyama se invloedryke werk is destyds wyd aanvaar as die mees gesaghebbende beskrywing van die post-Koue Oorlog-orde. Dit is egter belangrik om daarop te let dat hy ook verskeie waarskuwings gerig het – onder meer oor die moontlikheid van etniese konflik in verskeie dele van die wêreld wat die verspreiding van die Westerse liberale demokrasie kan knel, sowel as oor kapitalisme wat met politieke mag vervleg word en moontlik ʼn nuwe vorm van outoritêre regering tot gevolg kan hê.

Fukuyama se sentrale uitgangspunt bly egter sy stelling dat die Westerse liberale demokrasie universeel aanvaar kan word en dat die verdere verloop van die geskiedenis uiteindelik in hierdie regeringsvorm sou oorgaan.

Sedert die beëindiging van die Koue Oorlog en die gelyktydige opkoms van die liberale wêreldorde het dit egter al hoe duideliker geword dat verskeie faktore – soos nasionale veiligheidsoorwegings, staatsoewereiniteit, die deurslaggewende rol wat kultuur en kultuurverskille wêreldwyd speel, die belang van Westerse erfenis in Westerse lande en die rol van godsdiens – Fukuyama se uitgangspunte tot ʼn groot mate bevraagteken of selfs ondermyn het.

Twee van Fukuyama se tydgenote het die post-Koue Oorlog-wêreldorde op ʼn heel ander manier benader.

John Mearsheimer, verbonde aan die Universiteit van Chicago, het reeds in 1990 – enkele maande ná die val van die Berlynse Muur – in sy invloedryke essay Back to the Future, sy kommer uitgespreek oor sekere scenario’s wat in die nuwe wêreldorde kon ontstaan.

Volgens Mearsheimer is die liberale ekonomiese orde wat deur Fukuyama voorgehou word nie in staat om werklike vrede en veiligheid te verseker nie. Die primêre waarborg vir vrede lê nie in die afskaal van veiligheidsbelange deur wêreld- of streeksmagte nie, maar in die handhawing van hierdie oorwegings as kernvoorwaarde vir blywende stabiliteit.

Ekonomiese liberalisme gaan van die aanname uit dat vrye handel tussen state, saam met die interafhanklikheid wat dit meebring en die groeiende mag wat daarmee gepaardgaan, uiteindelik die hoogste graad van vrede en voorspoed tot gevolg sal hê. Mearsheimer bevraagteken egter hierdie uitgangspunt fundamenteel.

Dit is inderwaarheid die breër politieke omgewing wat die deurslag gee aangesien dit oor veiligheid, sekuriteit en uiteindelik oorlewing handel. Binne die groter ekonomiese sfeer bring interafhanklikheid egter ʼn mate van afhanklikheid mee, en wanneer daardie afhanklikheid oorgaan in volslae afhanklikheid word staatsoewereiniteit ondermyn – wat weer die veiligheid van lande in gevaar stel.

Daarom voer Mearsheimer aan dat, alhoewel die liberale ekonomiese orde moontlik nie onmiddellik tot grootskaalse oorloë sal lei soos dié in die eerste helfte van die twintigste eeu nie, die potensiaal vir konflik onder so ʼn orde selfs groter kan wees as gedurende die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog.

Met die oog op die huidige wêreldpolitieke landskap is die waarde van Mearsheimer se insigte van 35 jaar gelede besonder relevant. Sy kritiek op die ekonomiese liberale orde dui daarop dat die stelsel se neiging om state se veiligheidsoorwegings te onderskat, juis die ruimte vir groter spanning en konflik skep.

Samuel Huntington, ook ʼn toonaangewende stem in daardie tyd, voer in teenstelling met die posisie wat Fukuyama voorhou, aan dat die ganse wêreld nie maklik met Westerse liberale denke versoen kan word nie.

In sy boek Clash of Civilisations (1996) skryf Huntington: “Westerse universalisme is gevaarlik vir die wêreld omdat dit ʼn globale oorlog tussen beskawings kan ontketen. Dit is gevaarlik vir die Weste self omdat dit tot die Weste se eie ondergang kan lei.” En voorts: “Die voortbestaan van die Verenigde State en die Weste vereis die hernuwing van Westerse identiteit. Die veiligheid van die wêreld vereis die aanvaarding van globale veelbeskaafdheid. Die poging om Westerse politieke en ekonomiese waardes op ander beskawings af te dwing, is beide nutteloos en moreel onverdedigbaar.”

Waar Mearsheimer ʼn meer realistiese posisie inneem deur te pleit dat die politieke omgewing wat vir veiligheid en soewereiniteit van magte daargestel word die botoon moet voer vir blywende vrede, voer Huntington aanvullend tot die posisie aan dat kultuur- en beskawingswerklikhede insgelyks verreken moet word om vrede en verdraagsaamheid te bevorder.

Die toepassing van Mearsheimer en Huntington in die post-Koue Oorlog-era

Heelwat van die bekommernisse van Mearsheimer en Huntington is bewaarheid. Die uitbreiding van Navo het ʼn bydraende rol tot die aggressie van Rusland gespeel, veral met verwysing na die anneksering van die Krim-skiereiland in 2014 in Oekraïne en die oorlog wat Rusland in Oekraïne sedert 2022 voer.

Rusland se aggressie dui ook op die verwerping van Westerse universaliteit en die heropkoms van kultuur wat ʼn kernrol in internasionale betrekkinge speel.

Die Westerse beskawing worstel tans met die behoud van sy eie identiteit onder die druk van immigrasie, globalisering en universele aansprake van die liberale wêreldorde.

In hierdie konteks kan die verkiesing van Donald Trump in 2016 ʼn keerpunt verteenwoordig. Trump se veldtog is telkens gebou op die beginsels van ekonomiese nasionalisme, kulturele bewaring en die herbevestiging van ʼn Westerse (en spesifiek Amerikaanse) identiteit. Slagspreuke soos “Make America Great Again” en “America First” spreek tot ʼn breër behoefte aan kulturele erkenning en grensoorkoepelende selfbehoud. Vir Huntington sou Trump se opkoms ʼn bewys wees van hoe Westerse burgers hul beskawing as bedreiging begin sien – nie net deur buitelandse magte nie, maar deur interne verval en liberale universalistiese idees.

In Europa het ʼn soortgelyke verskuiwing plaasgevind. Politieke leiers soos Viktor Orbán in Hongarye, Giorgia Meloni in Italië, Geert Wilders in Nederland en Marine Le Pen in Frankryk fokus almal sterk op kulturele identiteit, godsdiens, erfenis en nasionale soewereiniteit. Die partye wat hulle verteenwoordig is dikwels krities teenoor immigrasie, die verwerping van Europese integrasie en teenoor liberale norme wat – volgens hulle – Westerse beskawingswaardes verwater of ondermyn.

Sowel Trump as hierdie Europese partye verteenwoordig ʼn breër reaksie op globalisering en die liberale wêreldorde wat Westerse elite-strukture ná die Koue Oorlog probeer vestig het. Nou, ironies genoeg, begin Westerse beskawings self daardie universele aansprake bevraagteken, en begin hulle eerder fokus op hul eie kulturele oorlewing.

In die lig hiervan is Huntington se werk besonder relevant: Hy het voorsien dat beskawingspolitiek nie net tussen die Weste en “die res” sou afspeel nie, maar ook binne die Weste self. Die kulturele herlewing, die behoefte aan identiteit en die opkoms van leiers wat hulself sien as beskermers van kultuur en geskiedenis, bevestig dat die wêreldpolitiek weer rondom kultuur – nie ideologie alleen nie – gesentreer is. Huntington se waarskuwing teen die selfversekerde universaliteit van die liberale orde was nie ʼn pleidooi vir isolasie nie, maar ʼn beroep op selfkennis, balans en die aanvaarding van wêreldwye veelvormigheid.

Links, regs aan’t verander

Daar kan met reg gestel word dat die manier waarop die politieke posisies van links en regs oor die afgelope drie dekades verstaan is, tans uitgedien en ontoereikend is.

Dit is duidelik dat die wêreldorde wat ná die Koue Oorlog ontstaan het, nie die finale fase van vrede, vooruitgang en universele liberalisme verteenwoordig het nie. Inteendeel, ons bevind ons nou in ʼn nuwe tydvak waarin kultuur, identiteit, nasionale belange en magsbalans weer sentraal staan. Die liberale wêreldorde sal moontlik nie heeltemal verdwyn nie, maar die era van Westerse liberale hegemonie is klaarblyklik verby.

Daar is dus nie meer ruimte om sonder meer aan te neem dat linkse politieke uitgangspunte inherent goed en edel is terwyl regse posisies as boos of agterlik afgemaak word nie. So ʼn benadering is onvanpas in ʼn wêreld waarin die kompleksiteit van kulture, geskiedenisse en magsbelange nie in eenvoudige morele raamwerke vasgevang kan word nie.

Die realiteit van die toekoms is dat dit wat voorlê nie noodwendig gekenmerk sal word deur ʼn wêreld van konsensus en eenvormigheid nie, maar eerder deur herskikking en aanpassing.

In hierdie nuwe era sal volhoubare vrede en samewerking nie gesmee word deur die oplegging van universele ideale nie, maar deur die erkenning van en verdraagsaamheid teenoor verskille, die hantering van magsrealiteite, en die verantwoordelike bestuur van spanninge binne ʼn wêreldorde sonder ʼn enkele sentrum van gesag.

Daar is ‘n nuwe regering op die dorp

Maroela Media

16 Januarie 2024

Kallie Kriel

 

Suid-Afrika het nie net ‘n regeringsprobleem nie. Dit het ook ‘n diepliggende bedelingsprobleem. Die lofsange wat die land se Grondwet en nuwe bedeling in die verlede toegesing is ten spyt, bly die werklikheid dat die huidige sentralistiese bedeling nie aan die bedoelings aan sommige destyds gemeet moet word nie, maar eerder aan die uitkomste daarvan.

Lees die volledige artikel in Maroela Media hier.

Spreekbuys: Die pad vorentoe ná die inperking en Covid-19

Dit was op Alexanderbaai (van alle plekke!) dat ek die eerste keer die ANC se Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP) gesien het. Ek was nog nuut in die vakbondwese toe ek in daardie afgeleë gebied namens ons lede gaan onderhandel het. Langs my het ’n jong NUM-verteenwoordiger gesit, met ’n fakspapier in die hand waaruit hy ’n lang lys eise vir die mynbestuur voorgelees het.

Ek het dadelik agtergekom dat hy nie self die lys opgestel het nie, maar dat dit deel van ’n groter plan was. Dit het my nuuskierigheid geprikkel, en in teetyd het ek met hom begin gesels. Hy het ’n afskrif van die dokument vir my gegee, wat – in Afrikaans, nogal – getiteld was “Heropbou en Ontwikkelingsprogram (HOP)”. Die subtitel was “ANC – Reg om te regeer”. My eerste gedagte by die lees daarvan was iets soos aitsa, die ANC sal nog leer dat dit makliker is om te protesteer as te regeer!

Dié aand by die gastehuis het ek die dokument deurgelees, en nog meer bekommerd geraak oor die gevolge wat ’n ANC-regering vir die land sou inhou. Hoewel die HOP in redelike en gematigde terme geskryf was, was dit op dieselfde sosialistiese grondslae gebaseer wat al sovele keer misluk het.

Ek onthou die kern daarvan was dat dit ’n baie groot magsrol vir die staat voorsien het, wat dan daardie mag moes gebruik om “gelykheid” te bewerkstellig. Hulle regmatige strewe om swartmense op te hef, was oorheers deur die verdoeseling van ’n plan om witmense in die proses af te trek. Die klem was nie om armes ryker te maak deur ekonomiese groei nie, maar om die rykes armer te maak deur radikale herverdeling op rassegronde. Met “rykes” is daar nie die miljoenêrs bedoel nie, maar gewone produktiewe witmense wie se poste en bates nou herverdeel moes word om almal gelyker te maak. Dit het my verstom dat hulle steeds gedink het dat ’n politieke strategie mense uit armoede kan lig, eerder as ’n ekonomiese strategie. My gevolgtrekking was dat die noodsaak om swartmense op te hef, sal misluk weens hulle eie beleid om teen wittes te regeer.

 

Transformation

Die nou vergete HOP was die ANC se bloudruk vol beloftes en goeie voornemens waarmee hulle die land oorgevat en begin regeer het. Hoewel die HOP taamlik gou deur ander bloudrukke opgevolg is, het die goue draad in al die dokumente dieselfde gebly. Dit was dat die regering sy mag moes gebruik om met “radikale transformasie” minderhede se poste, bates en instellings te teiken vir herverdeling aan hulle kiesers. Dit was nie “meer vir ons almal” nie, maar “julle s’n vir ons”.

Die destydse hoof van die liberale Institute for Race Relations, John Kane-Berman, het dit soos volg gestel: “The term ‘revolution’ sounded too harsh for sensitive post-’94 ears, so the ANC seized the term ‘transformation’ and designated it the official state ideology. The problem with this is that it could be understood simultaneously in an innocent and revolutionary manner. Being against transformation is being completely politically incorrect – almost like being against motherhood and apple pie! But supporting it implies support for the ANC’s National Democratic Revolution.”

 

Uitkoms

Daar het ná 26 jaar van ANC-bewind genoeg tyd verloop om die uitkomste van die HOP en sy opvolgers te beoordeel, en nie net politici se uitsprake nie. ’n Beleid word immers nie aan sy bedoelings gemeet nie, maar aan sy uitkomste, het die Nobel-ekonoom Milton Friedman gesê. Die uitkoms van die ANC se beleid en regering was dat die land net voor die Covid-19-krisis ná jare van waarskuwings deur graderingsagentskappe na rommelstatus afgegradeer is. Daarmee was die mislukking van die ANC-regering net amptelik bevestig. Die feite het dit reeds gewys in die rekordsyfer-werkloosheidskoers, voortdurende resessies, groeiende staatskuld en swak staatsbestuur. Die HOP se beloftes van “heropbou en ontwikkeling” het in die praktyk “afbreek en agteruitgang” geword.

 

Nuwe “BBB” in plek van mislukte HOP

Maar hoe lyk die pad vorentoe ná die inperking en Covid-19?. Die uitdaging is dat die ANC steeds aan bewind gaan wees, al kon hulle die land nie eers voor die krisis suksesvol regeer nie. Dit help egter nie om net daaroor te kla nie, want dit gaan niks verander nie. Die krisis het weer gewys dat ons op ons eie is. Daarom sal ons moet terugval op die ou spreekwoord waarmee ons al vir meer as drie eeue in die land oorleef het: ’n Boer maak ’n plan.

Dis nie so moeilik as wat dit klink nie – ons het al ver gevorder. Nadat ek daardie HOP-bloudruk van die ANC op Alexanderbaai gesien het, was ek oortuig dat dit gaan misluk, en dat ons weer eendag ’n helpmekaarbeweging sou moes stig. Ons kon nie die ANC se HOP stop nie, maar niks keer ons om ’n “BBB-plan” – beskerm, bewaar en bou – te begin nie. Natuurlik het ek en my kollegas nie presies geweet wanneer en wat die krisis presies sou wees nie. Ons breë aanname was wel dat staatsbestuur sal misluk, en dat ons aan groeiende selfbestuur sal moet begin bou deur sterk selfhelporganisasies te stig. Hoewel ons dus nie presies kon beplan nie, kon ons voorberei. Daarom het ons oor die afgelope paar jaar vir elke staatsfunksie wat misluk of wat ons uitsluit, ’n alternatief gebou.

Die ANC se hantering van die krisis het dit duidelik gemaak dat hulle witmense as tweedeklasburgers sien, ’n minderheid wat minder regte het as ander in die land. Daarom is ons enigste uitweg om ons eie gemeenskap van eersteklas-kultuurburgers te maak.

Die Solidariteit Beweging is as krisisbeweging gestig vir ’n krisis wat jare gelede reeds voorsien is. Daarom was ons ook gerat vir die huidige krisis, al kon niks ’n mens genoegsaam voorberei vir die hartseer van baie lede wat hulle werk of inkomste daardeur verloor het nie. Maar ons kan nie gaan lê nie, ons sal te midde van die krisis weer moet begin herbou. Die uitdaging is om ons planne in hierdie tyd te versnel om mense met hul werk en ander behoeftes in baie moeilike omstandighede te help. Ons het nou vir dekades lank probeer om staatsbestuur reg te ruk, maar dit het misluk. Daarom is ons besig met beplanning om selfbestuur op elke denkbare gebied te versnel. Ons toekoms is heeltemal te belangrik om aan ’n party oor te laat wat ons nie kan of wil help nie.

(Bron: Solidariteit Tydskrif, Maart 2020)

Flip Buys gesels met Podlitiek

(Hierdie video is van ‘n aanlynonderhoud wat Flip Buys in Junie 2022 met die podsening Podlitiek gevoer het)

(Bron: YouTube/Podlitiek)

Flip Buys vertel vir E-Nuus oor ANC

(Hierdie video is op 8 Mei 2012 op Solidariteit se YouTube kanaal geplaas)

(Bron: YouTube/Solidariteit)