Bron: aangepas van AfriForum
ʼn Herdenkingsgeleentheid is op Vrydag 18 Oktober vir die voormalige Zoeloekoning, koning Dinuzulu (1868-1913), op die plaas Rietfontein (KwaThengisangaye) gehou.
Die huidige Zoeloe-koning, Koning Misuzulu KaZwelithini, het AfriForum (’n instelling van die Solidariteit Beweging) na die geleentheid genooi. Vir dié twee partye is dit die begin van formele gesprekke van samewerking tussen die Zoeloe-gemeenskappe en die Afrikaners.
Koning Misuzulu KaZwelithini wil hê die gesprekke moet handel oor samewerking op die terreine van die ekonomie, gemeenskapsveiligheid, grondbestuur en kultuuruitruiling en ander sake van gemeenskaplike belang.
Dié geleentheid het plaasgevind op die plaas waar koning Dinuzulu op 18 Oktober 1913, presies 111 jaar gelede, in ballingskap oorlede is.
ʼn Kort agtergrond oor die Afrikaners en die Zoeloes
Talle mense wat nie so vertroud is met die geskiedenis nie, verkeer onder die indruk dat die Afrikaners en die Zoeloes ʼn geskiedenis van konflik het en vandag steeds in vyandskap voortleef. Hierdie persepsie dateer terug na die gebeure tydens die Groot Trek.
Onder die heerskappy van koning Dingaan, ʼn wrede Zoeloe-koning, het duisende Zoeloes onder sy bevel onskuldige vroue, kinders en gesinne uitgemoor tydens die Slag van Bloukrans. Die Trekkers het hierop wraak geneem met die Slag van Bloedrivier waar bykans tien duisend Zoeloes gesneuwel het.
Ná hierdie gebeure en koning Dingaan se afsterwe, het die Voortrekkers, vandag die Afrikaners, met die Zoeloes vrede gemaak. Die Afrikaners was selfs by die inhuldiging van Dingaan se opvolger, koning Mpande. Die Afrikaners en Zoeloes het daarna by talle geleenthede sy aan sy geveg en saamgewerk waar die geleentheid hom voorgedoen het.
Hierdie samewerking en vrede word veral gesien aan die verhouding wat koning Dinuzulu met die Afrikaners gehad het.
Tydens die Bambata-rebellie teen Britse kolonialiste in 1906, is koning Dinuzulu tronkstraf in Newcastle opgelê. Met Suid-Afrika se uniewording, het die nuwe eerste minister, Louis Botha, opdrag gegee dat die Zoeloe-koning vrygelaat word.
Ná sy vrylating is koning Dinuzulu toegelaat om hom op die plaas Rietfontein te vestig waar hy ook sy laaste jare deurgebring het. Hy was welbekend aan Botha, omdat Botha as ʼn jong man deel van die kommando van kmdt. Lucas Meyer was wat koning Dinuzulu bygestaan het tydens die oorwinning oor die Mandlakazi, ʼn Zoeloe-faksie, tydens die Slag van Spookberg (Tshaneni) in 1884.
Tydens hierdie herdenkingsgeleentheid is daar terugverwys na die verhouding tussen generaal Louis Botha en koning Dinuzulu.
Wat hou die toekoms in?
In sy toespraak het die koning onder meer beklemtoon dat die “historiese bondgenootskappe” wat tussen die Afrikaners en Zoeloes bestaan het, “ʼn herinnering is aan die kompleksiteite en nuanses van ons verlede.”
“Die verhoudinge wat tussen koning Mpande, koning Dinuzulu en die Boereleiers bestaan het, herinner ons aan die ingewikkelde web van diplomasie en bestandheid wat ons geskiedenis gekenmerk het,” het koning Misuzulu KaZwelithini gesê.
Volgens Mwalela Cele, adjunkhoof van Navorsing en Innovasie by Amafa, is die KwaThengisangaye-terrein ʼn bevestiging van die rol wat erfenis kan speel in die bevordering van vreedsame naasbestaan.
“Die terrein en die geskiedenis en erfenis wat daarmee verbind word, bevestig dat daar meer is wat ons saambind as wat ons in hierdie pragtige land verdeel. Dit is vir Amafa baie belangrik dat terreine soos dié bewaar word en dat gedenktekens en -panele opgerig word sodat dit vir die komende geslagte bewaar kan word en sodat mense hul geskiedenis sal kan ken,” verduidelik Cele.
Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, het tydens die herdenkingsgeleentheid onder meer daarop gewys dat die huidige geslag ook, soos vorige geslagte, die verantwoordelikheid het om ʼn toekoms vir die nageslag te verseker. Hy hou vol dat al die volke in die land groot uitdagings in die gesig staar, maar dat oplossings wink.
“AfriForum glo dat al die kultuurgemeenskappe op die grondslag van wedersydse erkenning en respek moet saamwerk oor sake wat vir ons belangrik is. Die historiese vraagstuk wat ons geslag moet oplos, is die vreedsame naasbestaan van al die volke wat die suidpunt van Afrika hul huis noem. Wat vandag hier gebeur, kan dien as ʼn goeie begin om vreedsame naasbestaan te verseker. Ons is besig om vertroue te bou. Ons is besig om die moeilike gesprekke te hê wat nodig is om egte versoening tussen volke te bewerkstellig.”
Uys het koning Misuzulu se positiewe reaksie op ʼn versoek om ʼn dialoog met die Afrikanergemeenskap, verwelkom.
“Ons sien baie uit daarna om in gesprek te tree met die koning oor die kwessies wat ons onderskeie gemeenskappe raak en om met die koning saam te werk,” verduidelik Uys.
“AfriForum en Afrikaners kies om in geregtigheid voort te bestaan. Ons kies wedersydse erkenning en respek. Ons kies vreedsame naasbestaan. Ons beleef dat die ander volke in die land, en veral die tradisionele leiers, ook dié keuse maak en vandag se vieringe was ʼn uitsonderlike voorbeeld daarvan. Ons is ook baie dankbaar vir die groot voorreg dat koning Misuzulu hierdie geleentheid bygewoon het en as hoofspreker opgetree het.”