Ernstige gevolge vir gewone Suid-Afrikaners as VSA sy ambassade afskaal en konsulate sluit 

Bron: Solidariteit

Nóg uitgebreide ekonomiese en diplomatieke skade, verdere werksverliese, ʼn uittog van beleggers én hindernisse met die uitreik van noodsaaklike handelspermitte en reisigersvisums.
Solidariteit glo dit alles tel onder die moontlike gevolge wat die afskaling van die Amerikaanse ambassade in Pretoria, asook die moontlike sluiting van die Amerikaanse konsulaat in Johannesburg, vir Suid-Afrikaners kan inhou.

Hierdie werklikhede dreig as gevolg van die Suid-Afrikaanse regering se verbrokkelende verhouding met die Verenigde State van Amerika. Dié diplomatieke krisis kan veroorsaak dat die omvang van die Amerikaanse diplomatieke missie in Suid-Afrika dramaties verklein word.
ʼn Geskil oor Suid-Afrika se amptelike beleidsposisies het ʼn diplomatieke krisis tussen die lande ontketen, en dit word tans vererger deur pogings van die Johannesburgse metroraad om die straat waarin die VSA konsulaat in Sandton geleë is na ʼn Palestynse vryheidsvegter te vernoem.
Die risiko bestaan dat die VSA sy Johannesburgse konsulaat sal wil sluit, terwyl die oorblywende konsulate in Kaapstad en Durban ook in die gedrang kan kom.

Solidariteit glo ʼn verdere diplomatieke misrekening, soos die geval sal wees met die straatnaamverandering wat tans deur die metroraad oorweeg word, sal ʼn reeds brose verhouding met die VSA verder skaad.
Volgens die Solidariteit Navorsinginstituut (SNI) sal selfs net die sluiting van die Johannesburgse konsulaat ʼn gevoelige slag wees, aangesien Johannesburg die ekonomiese hoofstad van Suid-Afrika, en ook die tuiste van etlike Amerikaanse en multinasionale maatskappye in die land is.

Die SNI glo die sluiting sal onder meer:

•    die proses vir Suid-Afrikaanse reisigers wat visums wil bekom, bemoeilik;
•    die proses wat Suid-Afrikaanse sakelui moet volg wat visums wil bekom en ondernemings wat noodsaaklike handelspermitte en -dokumentasie wil bekom, belemmer;
•    beleggersvertroue skaad aangesien die sluiting op ʼn verdere verbrokkeling van die diplomatieke verhouding dui;
•    werksverliese vir Suid-Afrikaners meebring aangesien groot Amerikaanse maatskappye hul teenwoordigheid in Suid-Afrika kan beëindig of heroorweeg;
•    meebring dat hotelle, restaurante en diensverskaffers wat afhanklik is van konsulêre besoekers, inkomste sal verloor, wat tot verdere werksverliese kan lei; en
•    Amerikaanse bydraes inperk wat die konsulaat tot waardevolle intelligensie oor transnasionale misdaad, geldwassery en terrorisme lewer, en Suid-Afrika se weerstand teen georganiseerde misdaad verminder.

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, kan veel ernstiger gevolge as die sluiting van ʼn konsulaat volg indien radikale regeringsamptenare met ʼn ideologiese stryd teen die VSA volhard.
“Dit is in geen Suid-Afrikaner se belang om ter wille van ANC-beleid en -agendas aan die risiko van verdere ekonomiese agteruitgang en internasionale isolasie blootgestel te word nie.
“Dit is wat die afskaal van die Amerikaanse missie en die sluiting van ʼn konsulaat sal teweegbring.
“Hou ook in gedagte dat Amerikaanse maatskappye, waarvan talle se kantore in Johannesburg geleë is, sommiges digby die konsulaat in Sandton, duisende Suid-Afrikaners in diens neem. Hulle dra boonop miljarde rand in belasting tot die tesourie by.
“Ongelukkig lyk dit of ons regering met sy anti-Westerse narratief gaan volhard en dus gemaklik is as gewone Suid-Afrikaners vir regeringsondes gestraf word,” waarsku Kleynhans.

Suid-Afrika se verhouding met die regering van president Donald Trump beleef tans ʼn ongekende laagtepunt.
Die verhouding het die afgelope paar weke verdere terugslae beleef weens kwetsende uitlatings teenoor die VSA deur die voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Washington, Ebrahim Rasool, en beledigings deur die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula.
Die VSA het ook kennis geneem van die Ramaphosa-regering se stilswye oor die EFF-party se sing van die “Kill the Boer”-strugglelied op Menseregtedag.

30 waarnemings oor die besoek aan die VSA

Dirk Hermann

Bron: Maroela Media

Groot omwentelings vind tans in die wêreld plaas en Suid-Afrika is nie geïsoleer hiervan nie.

President Trump se uitvoerende bevel het Afrikaners in die middel van hierdie debat geplaas, met ʼn helder lig op Suid-Afrikaanse binnelandse en buitelandse beleid. Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, het ʼn afvaardiging na Amerika gestuur om aktief aan die debat deel te neem.

Die Suid-Afrikaanse regering bly egter afwesig. Hulle reaksie is beperk tot luidkeelse beskuldigings teen die Solidariteit Beweging. Die uiteindelike impak van die Solidariteit Beweging se besoek moet nog bepaal word, maar hier volg 30 waarnemings wat ek tydens die besoek gemaak het:

  1. Die verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA is nie bloot ʼn misverstand wat verduidelik moet word nie, maar ʼn diplomatieke krisis. Hierdie krisis speel af teen die groter geopolitieke herstrukturering wat wêreldwyd plaasvind.
  2. Die ontevredenheid en selfs woede oor die ANC se beleidsrigtings is duidelik, veral weens die regering se romanse met Hamas, Iran, China en Rusland.
  3. Suid-Afrika se verbreking van neutraliteit deur die saak teen Israel, sonder enige direkte belang in die konflik, was ʼn belangrike katalisator. Suid-Afrika het ʼn simbool van anti-Westerse sentiment geword en word beskou as ʼn bedreiging vir Amerika se nasionale belange.
  4. Hierdie diplomatieke krisis spruit nie net uit ʼn enkele gebeurtenis, soos die onteieningswet nie, maar is die resultaat van ʼn lang reeks roekelose binnelandse en buitelandse beleidsbesluite deur die ANC, wat oor verskeie Amerikaanse administrasies heen spanning veroorsaak het.
  5. Die afwesigheid van die Suid-Afrikaanse regering was opvallend en dui op ʼn inploffing van diplomatieke vermoëns.
  6. Daar is ʼn hernude selfvertroue in die VSA en die Weste, wat selfs as ʼn rewolusie beskryf word. Enige bondgenoot van Amerika moet hierdie nuwe werklikheid verreken, iets wat Suid-Afrika blykbaar nie doen nie.
  7. Die VSA bly Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot. Dit is ʼn groot voordeel vir Suid-Afrika, maar van minder belang vir Amerika. Suid-Afrika is ook afhanklik van hulp, wat ander bondgenote nie gee nie. Dit plaas Suid-Afrika in ʼn posisie waar die land meer nederig moet wees.
  8. Suid-Afrika loop ʼn werklike gevaar om uit Agoa geskop te word. Agoa is die Amerikaanse wet wat handelstariefvoordele aan Afrikalande bied. Indien Suid-Afrika sy deelname aan Agoa verloor, sal die ANC die volle verantwoordelikheid dra. Dit kan tot die verlies van honderde duisende werksgeleenthede lei.
  9. Die ANC se beleidsrigtings verraai die land en sy mense. Dit skep ʼn omgewing van verhoogde werkloosheid, maar die regering is ideologies blind en is vasgevang in ʼn mislukte en uitgediende wêreldbeeld.
  10. Tydens geen van die besprekings is daar genoem dat die huidige diplomatieke krisis te wyte is aan valse inligting deur AfriForum of Solidariteit nie. Die oorsaak lê by die ANC se beleid. Daar was eerder waardering vir ons deeglike inligting.
  11. Dit is ʼn belediging vir die VSA se diplomatieke en intelligensie-agentskappe om te beweer dat hulle beleid baseer op valse inligting.
  12. Die enigste valse inligting is die bewerings dat die Solidariteit Beweging onwaarhede versprei. Nog niemand kon bewys lewer van valse inligting nie. Ons inligting is akkuraat en deursigtig. Die wêreld moet die waarheid ken, eerder as politiek korrekte inligting deur ʼn ANC-bril.
  13. Ironies genoeg het die Solidariteit Beweging, in die afwesigheid van die Suid-Afrikaanse regering, vir die land se belange ingetree deur te vra vir voortgesette deelname aan Agoa.
  14. Ons het spesifiek opgetree namens ons lede in die landbou-, mynbou-, metaal- en ingenieursbedrywe, sowel as die chemiese en motorvervaardigingsektore. Hulle moet nie verder benadeel word weens ANC-beleid nie.
  15. Die regering se swak diplomatieke hantering stel die land bloot. Hulle het brûe verbrand en toon geen begrip of voorneme om dit te herstel nie. Daar is ʼn oordrewe selfvertroue.
  16. Die Suid-Afrikaanse regering sal sukkel om ʼn sinvolle besoek aan die VSA te bring. Hul arrogante hantering van sake die afgelope paar weke het houdings verhard. Amerikaners lees wat die president se woordvoerder en ander sê.
  17. Die ANC se aanvalle en dreigemente teen die Solidariteit Beweging, insluitend beskuldigings van hoogverraad, is swak ontvang in Amerika en het die ANC se posisie verswak terwyl dit ons posisie versterk het.
  18. Suid-Afrika sal konkrete stappe moet neem om diplomatieke verhoudinge te herstel. Blote verduidelikings of groot afvaardigings gaan nie help nie.
  19. Die Solidariteit Beweging is met ope arms ontvang by die Withuis, die kongres, die departement van buitelandse sake en verskeie ander sleutelinstellings. Ons kon ons navorsing en feite duidelik stel.
  20. Daar moet voortgegaan word om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas vir beleidsveranderinge wat ook die hele land sal bevoordeel.
  21. Twee kwessies wat Amerikaners besonders grief, is onteiening sonder vergoeding en raswette. Suid-Afrika sal, ten spyte van ideologiese blindheid, hierdie kwessies moet herbesin. Ons sal deur druk en litigasie help om verandering te bring.
  22. Suid-Afrika moet besef dat die wêreld verander het. Die ANC se sosialistiese ideologie, aanvalle op eiendomsreg en raswette is nie meer aanvaarbaar nie.
  23. President Trump se uitvoerende bevel het Suid-Afrika in die wêreld se oë geplaas. Die ANC kan nie meer staatmaak op die nalatenskap van Nelson Mandela of Westerse skuldgevoelens nie. Hulle word nou beoordeel op wat hulle sê en doen.
  24. Afrikaners staan ook weer in die wêreld se kollig, hierdie keer nie as ʼn muishond nie, maar as ʼn gemeenskap met ʼn saak wat internasionaal erken word. Ons het met navorsing gewys hoe die ANC die 1994-skikking verbreek het.
  25. Ons het die bestaansbedreiging, wat wette soos Bela inhou vir Afrikaners, duidelik uiteengesit en daar is met begrip geluister.
  26. Die Solidariteit Beweging kon met vrymoedigheid namens Afrikaners intree, erkenning vra en steun vra vir die vestiging van kulturele infrastruktuur. Ons kon federalisme en konsentrasie ook op die tafel plaas.
  27. Daar bestaan steeds onsekerheid oor vlugtelingstatus. Dit lyk of ʼn hervestigingsprogram oorweeg word vir mense wat slagoffers is van ernstige geweldsmisdaad op grond van ras of groepsidentiteit. Niemand, wat dit wil opneem, moet weerhou word nie.
  28. Die uitvoerende bevel en nuwe herskikkings in die wêreld is ʼn unieke geleentheid vir Afrikaners. Die Trump-administrasie skep ʼn gunstige klimaat, maar Afrikaners moet self verantwoordelikheid neem en hierdie geleenthede benut.
  29. Ons is nou in ʼn sterker posisie as voor die uitvoerende bevel. Ons het nou oop kommunikasiekanale en waardevolle kontakte. Die aanstelling van die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika sal belangrik wees vir ons toekomstige verhouding.
  30. Ons moet aanhou bou, beskerm en veg. Ons leef in ʼn nuwe era wat groot geleenthede vir ons as ʼn Westerse gemeenskap in Afrika bied.

 

Die afvaardiging: (Links na regs) Jaco Kleynhans, Flip Buys, Dirk Hermann, Kallie Kriel
Die afvaardiging: (Links na regs) Jaco Kleynhans, Flip Buys, Dirk Hermann, Kallie Kriel

VSA woede oor SA buitelandse beleid kan duisende hul werk kos

Daar is groeiende woede in die VSA regering oor Suid-Afrika se buitelandse beleid. Dit gaan Suid-Afrika duur te staan kom en tienduisende mense gaan met hulle werk betaal vir die regering se roekelose beleidsrigtings.

Dit is die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, se reaksie ná gesprekke gister  met senior lede van die buitelandse sakekomitee in die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat in die VSA. Dit volg ook na gesprekke vroeër die week met senior lede van die Trump-administrasie in die Withuis.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê die ANC-regering het oor die jare heen die wêreld se grootste ekonomie vervreem – iets wat ʼn enorme invloed op Suid-Afrika kan hê.
“Dit blyk egter dat die Suid-Afrikaanse regering nie die erns van die situasie besef nie. Hulle soek sondebokke en glo dat die huidige situasie net ʼn diplomatieke misverstand is. In werklikheid is dit ʼn diplomatieke krisis, maar die ANC hou vol dat hulle nie geboelie sal word nie.

“Die vlakke van frustrasie in Washington is só hoog dat ʼn wetsontwerp oorweeg word om die bilaterale verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika te hersien,” sê Buys.

Dié konsepwetsontwerp is reeds in 2024 deur die Huis van Verteenwoordigers goedgekeur, maar nie deur die Senaat opgeneem nie. Lede van die buitelandse sakekomitee oorweeg tans om die wet, gegewe die snelveranderende verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA, opnuut aan die Huis van Verteenwoordigers voor te lê.

Aangesien Republikeine nou ook die Senaat beheer sal die wet ʼn beter kans staan om aanvaar te word. Die klimaat vir nuwe wetgewing oor die VSA se verhouding met Suid-Afrika is selfs nou beter gegewe die kritiese houding wat die Withuis en lede van die Trump-administrasie jeens Suid-Afrika ingeneem het.

Hierdie wetsontwerp sit Suid-Afrika se historiese bande met die terreurgroep Hamas, en lande soos China, Iran en Rusland in detail uiteen en argumenteer dat Suid-Afrika sy beleid van neutraliteit prysgegee het.

Verder gaan die wetsontwerp ook in op Suid-Afrika se gebrekkige binnelandse beleid, die regering se onvermoë om die land te bestuur en sy laksheid teen korrupsie.

ʼn Omvattende hersiening van die bilaterale verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika word daarin voorgestel.
Indien dié wetsontwerp aanvaar word, sal dit uitsluitlik die regering, en spesifiek die ANC, se skuld wees. Hierdie situasie het oor baie jare opgebou, en die onlangse aanvaarding van die Onteieningswet was bloot die sneller.

Hierdie wetsontwerp kan rampspoedige gevolge inhou vir Suid-Afrika se deelname aan die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) – ʼn wet wat tariefverligting aan Afrikalande bied.
Agoa en handel met die VSA skep tans werk vir sowat 500 000 Suid-Afrikaners.

Die Solidariteit Beweging het voorgestel dat, in plaas daarvan om gewone Suid-Afrikaners te straf, daar eerder gefokus word op sanksies teen korrupte individue en druk op ANC-leiers.

“Die Suid-Afrikaanse regering skitter egter in sy afwesigheid in die VSA. Dit blyk dat sy diplomatieke vermoëns ineengestort het.
Die Solidariteit Beweging kan nie en wil nie namens die regering optree nie, maar ons glo dat ons versoek vir verskerpte politieke druk om beleidsverandering te weeg te bring, ten behoewe van alle Suid-Afrikaners is,” sê Buys.

Verder het die Solidariteit Beweging lede van die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers versoek om by die Amerikaanse president aan te beveel dat Suid-Afrika ʼn lid van Agoa moet bly.
Daar is egter ook ʼn versoek om die diplomatieke druk op Suid-Afrika te behou om ʼn beleidsverandering te bewerkstellig.

Sien die wetsontwerp hier.

Solidariteit Beweging-afvaardiging vergader in Withuis met Trump-administrasie

Die afvaardiging vra vir verskerpte druk op ANC-leiers in belang van Afrikaners en Suid-Afrika. Die afvaardiging is dankbaar teenoor die Trump-administrasie nadat Trump die kollig op die menseregteskending van Afrikaners, én die ANC se roekelose beleidsrigtings en swak regering van die land geplaas het.


ʼn Afvaardiging van die Solidariteit Beweging, Solidariteit en AfriForum het vandag in die Withuis in Washington DC met senior verteenwoordigers van pres. Donald Trump se administrasie vergader ter bevordering van die belange van Afrikaners en Suid-Afrika.

Die afvaardiging het tydens dié vergadering sy dank teenoor die Trump-administrasie uitgespreek nadat Trump die kollig op die menseregteskending van Afrikaners, én die ANC se roekelose beleidsrigtings en swak regering van die land geplaas het.

Die Beweging is ook dankbaar vir die VSA se bereidwilligheid om bystand aan Afrikaners te bied. “Ons neem graag die hand van vriendskap wat die VSA-regering na Afrikaners uitsteek,” het Flip Buys, voorsitter van die Beweging, aan die verteenwoordigers van die VSA-regering gesê.

Die Solidariteit Beweging het ook ʼn memorandum, getiteld die Washington Memorandum, tydens die vergadering aan die Trump-administrasie oorhandig. In dié memorandum word aangedui dat die belange van Suid-Afrika se inwoners, insluitend Afrikaners, ten beste bevorder kan word deur verskerpte druk op ANC-leiers, eerder as druk op die land.

Hierdie druk moet onder meer poog om eiendomsreg te beskerm, diskriminasie teen Afrikaners te staak deur omvattende rassewetgewing en die Bela-wet te keer, kulturele ruimte aan Afrikaners te bied deur ʼn kultuurakkoord met Afrikaners te sluit, en toe te sien dat ANC-leiers hulle noue bande met Iran en terreurgroepe, soos Hamas, beëindig.

Verskeie ondersteunende dokumente en navorsingsverslae is saam met die memorandum aan die Trump-administrasie oorhandig.

Die VSA word ook in die memorandum versoek om die humanitêre bystand wat die VSA aan Afrikaners bied, beskikbaar te stel om die kulturele infrastruktuur te help bou wat Afrikaners nodig het om voorspoedig in Suid-Afrika te bly.

Die Solidariteit Beweging se afvaardiging na die Withuis is gelei deur die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, en het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit en Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, ingesluit.

Suid-Afrika se deelname aan die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) is ook bespreek. Volgens Buys is Suid-Afrika se voortgesette deelname aan Agoa in belang van al die gewone mense, ondernemings en boere in die land en daarom word die VSA versoek om nie Suid-Afrika te straf deur Suid-Afrika se deelname aan Agoa op te sê nie, maar om eerder druk te plaas op ANC-leiers wat verantwoordelik is vir Suid-Afrika se onverantwoordelike beleidsrigtings.

“Diegene wat Agoa wil red deur probleme in Suid-Afrika as ‘disinformasie’ af te maak, sal ongelukkig nie daarin slaag om Agoa te red nie. Die Solidariteit Beweging is lojaal teenoor die land, en besef dat Agoa slegs gered kan word deur met druk op ANC-leiers toe te sien dat Suid-Afrika voldoen aan die vereistes wat Agoa stel.
“Deelnemende lande moet eiendomsreg en menseregte respekteer en nie direk teen die VSA se belange optree nie,” het Buys gesê.

Volgens Kriel het ANC-leiers in die regering minagtend opgetree teenoor AfriForum en die Solidariteit Beweging se opbouende pogings om die ondertekening van die Bela-wet, wat Afrikaanse skole en gevolglik die kulturele voortbestaan van Afrikaners en Afrikaanssprekendes bedreig, en die Onteieningswet te verhoed.

“Sou die ANC-leiers weier om hierdie wette, diskriminerende rassewette en Suid-Afrika se roekelose buitelandse beleid te hersien, sal hulle net hulself kan blameer indien die VSA teen hulle as individue optree.
“Dit is veral ANC-leiers wat hulle aan menseregteskendings en die skending van eiendomsreg skuldig maak. Diegene in die land wat korrupsie pleeg, oproepe tot geweld teen Afrikaners maak of bande met terreurorganisasies het, kan swaar gestraf word.”

Kriel het namens AfriForum se privaatvervolgingseenheid name van leiersfigure, wat volgens die Zondo-kommissie met bedrog en korrupsie verbind word, aan die Trump-administrasie oorhandig. Die VSA het spesiale wetgewing, soos die Magnitsky-wetgewing, vir korrupte politieke leiers wat reeds gebruik is om byvoorbeeld teen die Zimbabwiese regeringsleiers op te tree.

Hermann het tydens die vergadering in die Withuis ook ʼn verslag namens Solidariteit aan die Trump-administrasie oorhandig waarin die wye omvang van diskriminerende rassewetgewing in Suid-Afrika uitgewys word. Volgens Hermann is Suid-Afrika die mees rasgereguleerde land ter wêreld.

Dit misken nie net Afrikaners en ander minderhede se menseregte nie, maar vererger die land se probleme soos rekordhoë werkloosheidsyfers. Dit skrik beleggers af, benadeel ekonomiese groei en vernietig werksgeleenthede. Suid-Afrika moet beleggersvriendelik gemaak word en daarvoor moet rassewetgewing uitfaseer word.

Daarom vra die Solidariteit Beweging dat die Suid-Afrikaanse regering ter wille van Suid-Afrika en al sy mense hierdie uitgediende rassewetgewing moet uitfaseer. Die regering kan nie meer rassewette regverdig deur na die verlede te verwys nie, omdat die uitkoms ná dekades van rassewette wys dat dit nie werk nie, maar net armoede vererger omdat dit werkskeppers en belastingbetalers landuit dryf.

“Die huidige diplomatieke krisis is deur die ANC veroorsaak. Dit is nie net ʼn klein diplomatieke misverstand nie. Die Solidariteit Beweging is nie in die VSA om te paai nie, maar om antwoorde vir Suid-Afrika te kry deur die waarheid aan die lig te bring.
“Die uitkoms waarvoor ons sal werk is tot voordeel van die land ten spyte van die ANC. Druk vir harde beleidsveranderings sal juis goed vir die land wees,” het Hermann bygevoeg.

Die Washington Memorandum, wat aan die Withuis oorhandig is, asook foto’s van die besoek word hierby aangeheg.

Memorandum

(Links na regs) Jaco Kleynhans, Flip Buys, Dirk Hermann, Kallie Kriel
(Links na regs) Jaco Kleynhans, Flip Buys, Dirk Hermann, Kallie Kriel

 

Hier is Solidariteit se rasverslag wat saamgaan VSA toe

Bron: Solidariteit  

Solidariteit gaan tydens sy besoek aan die VSA vra dat druk op die regering volgehou word tot die regering aandui wanneer raswetgewing uitgefaseer gaan word. Lees meer oor Solidariteit se rasverlsag hieronder.

(Links na regs) Kallie Kriel, Flip Buys, Dirk Hermann en Jaco Kleynhans is deel van die afvaardiging van die Solidariteit Beweging wat die VSA gaan besoek.
(Links na regs) Kallie Kriel, Flip Buys, Dirk Hermann en Jaco Kleynhans is deel van die afvaardiging van die Solidariteit Beweging wat die VSA  besoek.

 

Jaco Kleynhans
Jaco Kleynhans

Solidariteit gaan tydens sy komende besoek aan die VSA vra dat druk op die regering volgehou word tot die regering aandui wanneer raswetgewing uitgefaseer gaan word.

Dit is volgens ‘n verslag oor Suid-Afrika se rasbedeling wat aan die Amerikaanse regering oorhandig gaan word. Solidariteit beplan ook om die G20-lande van Suid-Afrika se rasbeleid bewus te maak.

‘n Opvolgverslag oor die koste van rasbeleide vir die ekonomie en die invloed daarop op werkloosheid gaan later vanjaar gepubliseer word.
Solidariteit voer in die verslag aan dat rasgebaseerde beleide volgens internasionale norme en ooreenkomste, insluitend dié van die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) en die Konvensie oor die Uitwissing van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD), van ‘n tydelike aard moet wees.

“Die werklikheid in Suid-Afrika is egter dat hierdie beleide permanent geraak het, sonder enige duidelike einddatum of meetbare doelwitte om ongelykheid regtig aan te spreek,” het Connie Mulder hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) gesê.

Die verslag wys hoe Suid-Afrika na 30 jaar een van die mees rasgereguleerde lande ter wêreld geword het met nagenoeg 140 rassewette,
Mulder, sê Suid-Afrika is weens sy G20-voorsitterskap én politieke omwentelinge in die VSA meteens in die kollig en die wêreld is ontnugter oor Suid-Afrika. Hy sê ook dat die VSA en ander G20-lande druk op Suid-Afrika moet plaas om van rasbeleide ontslae te raak om Suid-Afrika meer beleggersvriendelik te maak.

“Hierdie rasbeleide, wat veronderstel was om ongelykhede van die verlede reg te stel, het beslis nie daarin geslaag om werkloosheid of armoede te verminder nie. Pleks daarvan het ʼn nuwe elite van tenderpreneurs en kaderontplooiing die lig gesien,” sê Mulder.

Die verslag wys op verskeie absurde gevolge van Suid-Afrika se rasbeleide. Dit sluit in:

• Eskom: Ingenieurs is vervang op grond van ras, wat bygedra het tot die energiekrisis.
• COVID-19-hulp: Fondse is slegs aan besighede gegee met ‘n meerderheid swart eienaarskap.
• Sportkwotas: Spanne verloor wedstryde weens hul sogenaamde “onverteenwoordigende” samestelling. Daar is selfs rasskeidsregters.
• Waterlisensies: Nuwe lisensies vereis nou 75% swart eienaarskap.
• Internasionale belegging: Starlink kon nie in Suid-Afrika sake doen sonder om 30% van sy aandele aan ‘n swart aandeelhouer af te staan nie.

Klik hier vir die volledige verslag.

Agt dinge wat jy moet weet voordat jy vir vlugtelingstatus aansoek doen

Ná pres. Donald Trump se uitvoerende bevel dat die VSA Afrikaners as vlugtelinge sal verwelkom, het die Suid-Afrikaanse Sakekamer in die VSA (Saccusa) binne een naweek navrae van 20 000 Afrikaners gekry oor dié aanbod.

Die Solidariteit Beweging wil egter ’n beroep doen op diegene wat dit sterk oorweeg om die aanbod te aanvaar, om eers al die feite te oorweeg voor daar oorhaastig besluite geneem word.

Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, sê dat die aanbod van vlugtelingstatus nugter benader moet word. Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, raai Afrikaners ten sterkste af om vlugtelingstatus te probeer verkry, “selfs al voel jy bekommerd oor die toekoms”.

Vlugtelingstatus beteken nie outomatiese burgerskap, verblyfreg en beter geleenthede nie. Hiér is wat jy oor vlugtelingstatus in die VSA moet weet:

 

  1. Jy kan nog nie vir vlugtelingstatus in die VSA aansoek doen nie

Afrikaners kan nie vir vlugtelingstatus in Amerika aansoek doen voordat die Amerikaanse regering nie regulasies ontwikkel het nie. Kleynhans verduidelik:

“Vlugtelingstatus word internasionaal aan die hand van verskeie handveste gedefinieer, maar lande bepaal grootliks hul eie beleid hieroor. Die uitvoerende bevel wat deur pres. Trump onderteken is, verwys na ’n plan wat nog opgestel moet word waarvolgens vlugtelingstatus gereguleer sal word. Niemand kan vir vlugtelingstatus aansoek doen voordat hierdie plan nie bekend gemaak en goedgekeur is nie.”

Die proses om vir vlugtelingstatus aansoek te doen, kan dus nog lank neem en sal stelselmatig plaasvind. Dit is voortydig en naïef om te glo dat duisende Afrikaners net uit Suid-Afrika kan stroom en as vlugtelinge in Amerika kan aanmeld.

 

  1. As jy vlugtelingstatus het, kan jy nooit weer terugkeer na Suid-Afrika nie – nie eens vir ’n begrafnis nie

Indien jy as vlugteling uit vrye wil na jou tuisland terugkeer, verloor jy onmiddellik jou vlugtelingstatus en jou reg om langer in Amerika te woon. Dit beteken jy sal nie vinnig “huis toe” kan vlieg vir ’n begrafnis, troue of krisis met geliefdes tuis nie.

Om jou tuisland en geliefdes wat hier agterbly permanent te groet, is ’n gewigtige en emosionele besluit wat nie oorhaastig geneem moet word nie.

 

  1. As vlugteling is jy onderhewig aan streng regulasies

Kleynhans waarsku dat vlugtelingstatus nie verwar moet word met verblyfreg of selfs burgerskap nie. Vlugtelinge word onder baie streng regulasies beheer en jy as individu het baie min seggenskap. Vlugtelinge se voorregte is ook baie beperk teenoor dié van ander immigrante.

Dit is belangrik om te onthou dat alle vlugtelinge immigrante is, maar nie alle immigrante is vlugtelinge nie. Owerhede sal byvoorbeeld alle reëlings rakende behuising, werk, basiese behoeftes, beweegruimte, huwelike en kinders onder streng toesig beheer.

 

  1. Jy kan nie werk en bly waar jy wil nie

Om aan te sluit by die vorige punt, jy as vlugteling het nie vrye teuels om jou eie keuses oor jou leefwyse in die VSA te maak nie. Jy word in behuising spesifiek vir vlugtelinge geplaas waar jy geen beheer oor die verblyfomstandighede het nie. Verder kan jy nie enige beroep van jou keuse volg nie – die vlugtelingplan bepaal watter werk jy moet doen.

Afrikaners moet beslis nie verwag om ’n middelklassalaris te verdien nie. Die hoë lewenskoste in Amerika moet in gedagte gehou word en jou kwalifikasies en ondervinding sal nie noodwendig in ag geneem word wanneer daar oor jou beroep besluit word nie. Vlugtelinge verrig dikwels lae-inkomste werk teen die minimum loon.

 

  1. Jy kan enige tyd beveel word om terug te keer na Suid-Afrika

Wanneer die VSA-regering hul beleid verander of besluit dat die situasie in Suid-Afrika verbeter het, kan die vlugtelinge enige tyd terug na Suid-Afrika gedeporteer word.

Jou verblyf in die VSA is dus nie gewaarborg nie, wat dit moeilik maak om met stabiliteit en sekerheid te leef. Dit is nie onmoontlik vir Afrikaners om as vlugtelinge te “begin en hulself op te werk” tot Amerikaanse burgers nie, maar die moontlikheid hang af van baie veranderlikes wat nog onseker is.

 

  1. Jy mag slegs met beperkte besittings aanmeld

Vlugtelingstatus beteken nie dieselfde as emigrasie nie. Jou meubels en aardse besittings sal ongelukkig nie saam met jou kan reis nie. Jy kan in Amerika aanmeld met slegs die nodigste.

Dit sal vir die middelklaspersoon in Suid-Afrika ’n geweldige ekonomiese verlies wees.

Kleynhans vestig die aandag daarop dat vlugtelingstatus vir mense bedoel is wat werklik swaarkry, alles verloor het, deur erge trauma (soos geweldsmisdade) gegaan het en nog talle ander gevalle. Vir hierdie mense is dit ’n werkbare opsie, en in hierdie gevalle moet die individu se keuse gerespekteer word.

 

  1. Jy sal nie oor grense heen kan reis nie

Vlugtelinge mag nie sonder toestemming oor die grense van die gasheerland reis nie. Weens die streng regulasies is jou beweging ook beperk.

Bailey waarsku ook: “As ’n mens boonop een keer ’n vlugteling was of om vlugtelingstatus probeer aansoek doen het, sal jy internasionaal ook moeiliker ’n visum kry omdat jy as ʼn risikogeval beskou word wat moontlik ’n onwettige immigrant kan word.”

 

  1. Dit is onwaar dat die Solidariteit Beweging “nee dankie” gesê het vir pres. Trump se aanbod

Emigrasie en om vir vlugtelingstatus aansoek te doen, is ’n persoonlike besluit en behoort met empatie en ondersteuning benader te word.

Die Solidariteit Beweging se mening is dat dit nie vir almal ’n opsie is om te vlug nie en dat die bogenoemde aspekte deeglik oorweeg moet word.

“Die belangrikste is om te besef dat die Trump-administrasie die eerste Amerikaanse regering is wat direk op die hoogste vlak weer na Afrikaners verwys en dus Afrikaners as ’n wesenlike rolspeler, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in geopolitiek beskou. Dit opsigself is ’n reusedeurbraak. Afrikaners staan nou sentraal in die globale magstryd. Dit hou baie geleenthede in, maar selfs groter risiko’s,” sê Kleynhans.

Die Solidariteit Beweging verwelkom pres. Trump se erkenning van die Afrikaner. Dié wat egter in die land moet of wil agterbly, benodig erkenning en steun om vir onsself ’n toekoms in die land te bou waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan leef.

 

Om te vlug is nie noodwendig die antwoord op die uitdagings wat ons in Suid-Afrika beleef nie. In baie opsigte is dit meer voordelig vir Afrikaners om in die land te bly en te help bou aan ’n beter toekoms. Indien jy regtig graag wil emigreer, moenie vlugtelingstatus as ’n “maklike uitweg” sien nie. Volg eerder die regte kanale vir emigrasie en maak seker van die vereistes en voorwaardes van verblyf in jou nuwe land. Om met Kleynhans se woorde af te sluit:

“Afrikaners se toekoms is in Suid-Afrika, maar altyd met ’n wete dat daar voortdurend geleenthede vir ons mense sal oopgaan om oorsee te gaan woon en werk – soms tydelik, soms permanent. Dit moet ons met groot sensitiwiteit en respek bejeën.”

 

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.