Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 31
Aan die einde van ’n jaar kan ʼn mens nie anders nie as om terug te kyk op die groot veranderinge en mylpale wat Suid-Afrika en die wêreld in 2024 gesien het. Dit was ’n jaar van politieke onstabiliteit en nuwe leierskap oral ter wêreld. In Suid-Afrika het ons vir die eerste keer in 30 jaar ’n nuwe regering – maar ons beleef steeds vele uitdagings. Ons veg vir die behoud vir Afrikaans in ons skole en ons media. In die wêreld heers daar oorloë en word daar gestoei met dringende kwessies soos onwettige immigrasie.
In ’n neutedop is daar ’n paar hoofopskrifte van 2024 wat die moeite werd is om te onthou. In ’n geskiedenishandboek sal 2024 moontlik die inleiding wees om ’n nuwe globale era te verstaan.
Die vyfjaarlikse Suid-Afrikaanse verkiesing het vanjaar internasionale hoofopskrifte gehaal toe die ANC vir die eerste keer in 30 jaar sy volstrekte meerderheid in die parlement verloor het en net 40,18% van Suid-Afrikaners se stemme op hom kon verenig.
Vanjaar se verkiesing was die onsekerste nóg in byna drie dekades. Daar is verskeie redes hiervoor, maar dit was hoofsaaklik omdat Suid-Afrikaners hul vertroue in die regering verloor het weens jarelange korrupsie en agteruitbestuur deur die regerende party.
Baie Suid-Afrikaners is met nuwe hoop vir die toekoms van die land vervul ná die aankondiging dat die DA, Vryheidsfront Plus, PA en ander partye saam met die ANC in die RNE sal dien. Alhoewel die RNE wankelrig is en nog vele vuurtoetse moet deurstaan, breek dit tot ’n groot mate die ANC se destruktiewe mag. Die sukses van die RNE sal miskien die toekoms van Suid-Afrikaanse politiek bepaal. Die RNE blyk steeds onstabiel te wees en daar word steeds intern oor vele kwessies gestry, aangesien die ANC steeds probeer om alleen gesag uit te oefen.
Toe beurtkrag op 26 Maart soos mis voor die son verdwyn, het baie gedink dit is ʼn laaste desperate poging om steun te werf voor die verkiesing. Nou, nege maande later, wonder Suid-Afrikaners of beurtkrag iets van die verlede is. Die eerlike en realistiese antwoord is dat Suid-Afrika se kragnetwerk nog nie in ’n volhoubare en bekostigbare fase is nie. Groot debatte rakende die privatisering van energiehulpbronne duur steeds voort.
Nog voor die aanvang van die verkiesing het president Cyril Ramaphosa twee kontroversiële wette onderteken wat heel moontlik verband hou met die ANC se verlies aan stemme tydens die verkiesing: die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela).
Die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)
Die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) behels kortliks dat nasionale gesondheidsorg deur die regering alleen befonds word en dat dit onwettig sal wees om finansiering vir gesondheid op enige ander wyse te bekom. Lees meer besonderhede oor die wet hier.
Kort ná die ondertekening van NGV-wet het Solidariteit aansoek gedoen om die wet in die hof uit te daag. Solidariteit het intussen ’n deurbraak gemaak in die hof deur ʼn “pilaar van die NGV te laat kantel” toe die Noord-Gautengse Hooggeregshof artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheid van 2003 as ongrondwetlik verklaar het. Volgens Solidariteit was die doel van hierdie artikels om die weg vir die NGV-wet te baan.
Die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela)
Ná volgehoue druk van die gemeenskap het president Cyril Ramaphosa ’n driemaande-tydperk gegee vir gesprekke rakende die klousules in die wet wat op taal en toelating betrekking het. Die Solidariteit Beweging was in onderhandelingsgesprekke met die regering gewikkel, en op 5 November het duisende mense by die Voortrekkermonument byeengekom om hul teenkanting teen die Bela-wet te wys.
Op 28 November het die Solidariteit Beweging aangekondig dat die onderhandelinge oor die Bela-wet vrugte afgewerp het. Die gewraakte artikels oor taal en toelating sal nie op 13 Desember in werking gestel word nie. Lees meer daaroor hier.
Die laaste dag waarop koerantlesers die kraakvars Beeld– en Rapport-koerantpapier onder hul vingers kon voel, was op 20 Desember 2024. Dit word deur baie as ’n hartseer dag vir Afrikaanse joernalistiek beskou. Vroeër vanjaar het taaldebatte losgebars oor Media24 se besluit om die Afrikaanse drukname Rapport en Beeld heeltemal te digitaliseer. Danksy ondersteuning van die gemeenskap en druk van Solidariteit kon die beplande aantal personeellede wat afgelê sou word, minstens verminder word.
’n Donker wolk het in die laaste helfte van 2024 oor die Tshwane munisipaliteit gehang ná die verraad van Action SA teenoor die DA in hul koalisieregering van die Tshwane-munisipaliteit. Pretoria val in dié munisipaliteit. Burgermeester Cilliers Brink is brutaal uit sy amp verwyder met ’n mosie van wantroue. ActionSA het met die EFF-party saamgewerk om van Brink ontslae te raak. Dr. Nasiphi Moya van ActionSA beklee sedert Oktober die amp van burgemeester van hierdie metropolitaanse munisipaliteit. .
Die redes wat vir die mosie van wantroue teen Brink aangevoer is, was swak dienslewering, alhoewel 64% van inwoners aangedui het dat hulle tevrede was met die gehalte van dienslewering in die munisipaliteit. Die DA voer aan dat ActionSA weens hul eie politieke agenda nie in die skadu van die sukses van die DA wou staan nie.
Ten midde van al die politieke gebeure met die Bela-wet en die bedreiging vir Afrikaans in skole en universiteite, kondig die ontwikkelingsmaatskappy Kanton die nuwe kampusontwikkelingsprojek van Akademia in Pretoria aan. Dié kampusprojek is die grootste ontwikkelingsprojek in die geskiedenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe en verteenwoordig ’n groot historiese mylpaal om die volhoubaarheid van hoër onderwys in Afrikaans te verseker. Die koste van die projek sal nagenoeg R3 miljard beloop, en die eerste fase sal in 2028 voltooi word.
Die 2024-verkiesing in die VSA is een wat in die toekoms onthou sal word. Vir die eerste keer sedert 1884 het ’n voormalige president wat ná sy eerste termyn die daaropvolgende verkiesing verloor het, ’n historiese oorwinning behaal. Daar was min verwagting dat Donald Trump só ver sou wen. Hy het in al vyftig deelstate meer stemme as in 2020 verwerf en in al sewe swaaistate is reuseverskuiwings bewerkstellig. Daar is ook ’n verskuiwing gesien onder minderheidsgroepe, onder wie steun vir Trump van 9% tot 21% toegeneem het.
Konflik in die Midde-Ooste is reeds ’n bekende fenomeen. Ou etniese konflik van 100 jaar gelede duur vandag steeds voort. Wat is dan nuus vir 2024?
Met die huidige politieke leierskap is die hoop op ’n vreedsame oplossing in die Midde-Ooste baie beperk.
Reg oor die wêreld het daar vanjaar nasionale verkiesings plaasgevind wat globale gevolge kan oplewer. Drie belangrike verkiesings het vanjaar in die Verenigde Koninkryk, Iran en Frankryk plaasgevind.
Verkiesing in die Verenigde Koninkryk
Ná 14 jaar het kiesers hul rug op die Konserwatiewe Party in die Verenigde Koninkryk gekeer. Die Arbeidersparty het sy setels tot 412 verdubbel en die verkiesing gemaklik gewen. Dit beteken egter nie dat mense na links gestem het nie. Ongeveer 3 miljoen minder kiesers as met die vorige verkiesing het gaan stem. Selfs die Arbeidersparty het ’n halfmiljoen stemme verloor. Die Arbeidersparty het ook in Skotland gewen en het vrye teuels wanneer dit by wetgewing kom. Hierdie verkiesing bring wesenlike politieke verandering wat globale gevolge kan hê.
Verkiesing in Iran
Vanjaar het daar ook ’n belangrike verkiesing in Iran plaasgevind. Soos voorheen genoem, is Iran ’n bron van onstabiliteit in die Midde-Ooste. Tydens hierdie verkiesing was daar ’n sterk opkoms van gematigde kiesers wat gestem het vir ’n regering ten gunste van handel en onderhandeling met die Weste en dat vroue kan besluit wat hulle wil aantrek. Hierdie verkiesingsuitslag skep hoop vir die situasie in die Midde-Ooste. Hopelik kan Iran uit sy isolasie opstaan.
Verkiesing in Frankryk
Frankryk se regse National Rally-party het verras met die sukses wat in vanjaar se verkiesing behaal is. Die links-liberale Renaissance-party het egter steeds gewen deur samespanning om die meeste setels in die parlement te kry. Die wêreld kan in die toekoms politieke onstabiliteit in Frankryk verwag. Die linkse blok is die grootste blok en gaan moontlik op beleidsveranderinge aandring wat onder andere kontroversiële kwessies soos immigrasie, aftree-ouderdom en maatskaplike besteding sal insluit.
In Augustus vanjaar was dit die eerste keer sedert 1941 wat Rusland binnegeval is, maar hierdie keer was dit ’n verrassingsaanval deur Oekraïne. Nie eens Oekraïne se bondgenote was bewus van die beplande aanval nie en Rusland was nie gereed om homself te verdedig nie. Swak grensbeheer en onervare soldate wat maklik oorrompel is, het gelei tot Oekraïne se suksesvolle inval.
Die redes vir die aanval is onseker, maar dit kon moontlik ’n strategiese poging gewees het om die Russiese aanslag in Oekraïne te verswak of om die besetting in toekomstige onderhandelinge te gebruik. Nietemin, hierdie aanval was die begin van ’n gevaarlike nuwe fase van die oorlog.
Weens die ontwrigting kan die aanval tot meer binnelandse steun vir president Poetin lei. Verder het die aanval belangrike onderhandelinge gestuit wat Oekraïne se steun beïnvloed. Hierdie aanval het die oorlog verdiep en gevaarlike nuwe terreine is betree wat die moontlikheid van eskalasie verhoog, wat vele politieke implikasies vir Europa inhou.
Onwettige immigrasie in die VSA en Europa is ’n reusekrisis wat dringend aangepak moet word. Dié onderwerp is onder andere vir ’n dag lank bespreek tydens die tweemaandelikse vergadering van die Europese Raad en was ook ’n kwelpunt in die debatte tydens die Amerikaanse verkiesing.
Daar is ongeveer 87 miljoen immigrante (20% van die bevolking) in Europese lidlande, en die stelsel kan nie meer die aantal vlugtelinge wat die land binnestroom, hanteer nie. Tydens Biden se termyn as president van die VSA het bykans 10 miljoen persone onwettig oor die Amerikaanse grens gestap. Verder is daar duisende persone wat met visums na die Weste reis en bloot net nooit weer terugkeer na hul tuislande nie.
Onwettige immigrasie skep reusagtige maatskaplike en kulturele uitdagings waarvoor Europa en Amerika dringend oplossings sal moet vind.
Met nuwe leierskap reg oor die wêreld gaan ons 2025 binne met moontlike globale en politieke veranderinge. Suid-Afrikaners kan hoop dat die RNE in 2025 sal stabiliseer en dat ekonomiese groei in dié jaar sal verbeter. Dit sal tot die wêreld se voordeel wees om vreedsame oplossings vir die oorlog in Oekraïne en die Midde-Ooste te vind, want indien skikkings nie bereik word nie, stuur die konflik die wêreld gevaarlike nuwe terreine binne. Dit lyk asof konflikte oor elektrisiteitsvoorsiening
en gewraakte wette in Suid-Afrika, en onwettige immigrasie in die Weste, in 2025 en nog lank daarna geskilpunte sal bly.
Waarom moet enige iemand wat geëmigreer het, steeds Geloftedag vier? Baie Afrikaners wat van hul vaderland weggetrek het, kan moontlik by hierdie vraag aanklank vind.
Geloftedag, wat histories op 16 Desember as ’n dag van herinnering en toewyding waargeneem word, is meer as ’n simboliese kopknik na die verlede. Dit beklemtoon die kan-kultuur, uithouvermoë, geloof en eenheid wat die Afrikanergees deur tye van swaarkry en triomf gedefinieer het.
Vir diegene wat geëmigreer het, kan deelname aan Geloftedag ’n unieke brug tussen hul huidige lewens en hul erfenis bied. Dit kan so eenvoudig wees soos om met vriende en familie bymekaar te kom, stories te deel of deel te neem aan aanlyn geleenthede wat deur die FAK en ander kultuurorganisasies aangebied word.
Kan ook wyle president Paul Kruger hier aanhaal: “Want wie vir hom ’n toekoms wil bou, mag die verlede nie uit die oog laat nie.” Alhoewel ‘’ persoon dalk kies om ’n toekoms buite hiérdie landsgrense te gaan bou, bly ’n deel van jou identiteit gekoppel aan jou herkoms en dit lê aan die suidekant en onder die Afrika-son. ’n Persoon wat Geloftedag herdenk, gee hierdie waarheid sy regmatige plek in hul menswees/lewe.
Geloftedag staan as ’n herinnering aan die Afrikaner se blywende nalatenskap, gewortel in kollektiewe krag en gedeelde waardes. Die historiese konteks van die dag, wat oorspronklik die Gelofte wat tydens die Slag van Bloedrivier gemaak is, gekenmerk het, het oor die jare ontwikkel tot ’n breër herdenking van volharding en eenheid.
Deur Geloftedag te vier, selfs van ver af, bewys Afrikaners aan hulself en aan die wêreld dat die beginsels van geloof, solidariteit en hoop hulle steeds lei. Dit dien as ’n oomblik om na te dink oor die opofferings wat vorige geslagte gemaak het en om opnuut te belowe om hierdie ideale te handhaaf. Hierdeur erken ons ook ons diepe afhanklikheid van die Here en dat Sy genade deur die Slag van Bloedrivier, en elke dag daarna, gedra het.
“Is dit moontlik dat 185 000 Afrikaners ter herdenking van Groot Trek 185 regoor Suid-Afrika, Namibië en in die buiteland Geloftedag kan vier? Verseker!” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK. “Vandag word op ses kontinente en in 24 lande Geloftedag gevier. Behalwe Suid-Afrika kom Afrikaners byeen in Australië, Botswana, China, Duitsland, Engeland, Japan, Kanada, Luxemburg, Mosambiek, Namibië, Nederland, Nieu-Seeland, Nigerië, Paraguay, Mexico, Pole, Portugal, Rusland, Skotland, Swede, Verenigde Arabiese Emirate en die Verenigde State van Amerika.”
“In 2012 het slegs 80 Geloftefeeste nog bestaan. In 2022 vind ’n rekordgetal van 297 Geloftefeeste regoor Suid-Afrika en Namibië plaas. Van oraloor word berig van baie kinders, jongmense en gesinne wat Geloftefeeste bywoon,” sê Langner. Tans word Geloftedag oor ses kontinente gevier en word alle Afrikaners, regoor die wêreld, op hierdie dag in tradisie verenig.
Die Federasie van Afrikaanse kultuurvereniginge (FAK) dien as ’n hoeksteen vir die bewaring en bevordering van die kultuur, erfenis, tradisies en waardes van die Afrikanergemeenskap. Die FAK is gestig met die visie om kulturele integriteit te handhaaf en speel ’n deurslaggewende rol in die bevordering van ’n eenheidsgevoel, kontinuïteit en identiteit onder Afrikaners. Die FAK ondersteun hiérdie saak hier in Suid-Afrika en ook in die buiteland.
Die FAK se missie strek egter verder as blote bewaring. Dit is toegewy aan die behoud en bevordering van Afrikanertradisies deur betekenisvolle kulturele en opvoedingsprojekte sowel as gemeenskapsbetrokkenheid, om te verseker dat toekomstige geslagte aan hul wortels verbind bly.
Om by te dra tot die pogings van die FAK en te help verseker dat die viering van Afrikanerkultuur lewendig en toeganklik bly. Skenkings ondersteun projekte wat monumente bewaar, opvoedkundige programme befonds en gemeenskapsuitreik bevorder.
Jou bydrae maak saak omdat dit die belangrikheid van kultuur ondersteun en ’n gedeelde identiteit vir toekomstige geslagte versterk. Hetsy deur tyd of hulpbronne te skenk, help elke poging om die kern van wat dit beteken om ’n Afrikaner te wees, te bewaar.
Of jy nou in Suid-Afrika of in die buiteland woon, die viering van Geloftedag versterk die gedeelde nalatenskap van volharding en hoop. Word ’n vriend en oorweeg dit om by te dra tot die werk van die FAK. Jou deelname help dat Afrikanererfenis nog jare lank bly inspireer en verenig.

Ernst van Zyl | hoof van openbare betrekkinge by AfriForum
Suid-Afrika het ’n insiggewende gevallestudie geword om veral twee redes: Dit is eerstens ’n puik voorbeeld van langdurige, volgehoue regeringsmislukkings en ‑vermoëverswakking. Tweedens is dit ’n voorbeeld van hoe orde en standvastigheid uit dié chaos kan verrys deur gemeenskappe wat hulself organiseer. In sy artikel The disintegration of the South African order skryf prof. Koos Malan dat die toekoms van Suid-Afrika ’n “woestyn van wanorde” is waarin daar “oases van orde” is.
Bykans elke regeringsdiens (buiten belastinginvordering) is in ’n staat van verval – en dis so vir dekades al. Voorbeelde sluit in voortslepende kragonderbrekings te wyte aan ’n ondoeltreffende, mislukkende regeringsmonopolie; die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat oor drie jaar heen miljoene oproepe om hulp onbeantwoord gelaat het; wegholkorrupsie; en ’n immer groeiende werkloosheidskoers van meer as 35%. Boonop is meer as 50% van die bevolking op een of ander vorm van maatskaplike toelaag van die regering afhanklik, terwyl infrastruktuur in elke sektor aan die verval is, van water en elektrisiteit tot riool en paaie. In my 2023-artikel vir The American Conservative bespreek ek hierdie kwessies in meer besonderhede.
Afrikaners is een van die kulturele gemeenskappe wat aan die voorpunt staan wat die skep van “oases van orde” in die konteks van die teenontwikkeling behels. Deur gemeenskapsgebaseerde organisasies soos AfriForum is ons besig om baanbrekerswerk met ’n nuwe model te doen, wat ’n enorme skuif vereis in die wyse waarop ons oor die bou van oplossings dink. AfriForum is besig om ’n antwoord te ontwikkel op die vraag: Hoe behoort gemeenskappe te reageer ondanks voortgesette verswakking van die regering se vermoë, ’n groeiende lys diskriminerende, rasgebaseerde beleide en wette wat jou teiken, en ’n politieke omgewing waarin jy die teiken is van demonisering en geweldsretoriek deur hoëprofielpolitici. Bykomend bepeins AfriForum ook die volgende vraag: Hoe bou jy ’n toekoms as een van die eerste volke wat ’n fundamentele Westerse erfenis het, maar in een van die wêreld se post-Westerse lande leef?
AfriForum se antwoord, gebou op ’n grondslag van Christelike waardes en ’n Afrikaner- kulturele identiteit, is die nastrewing van staatsbestandheid op elke vlak deur ’n ons-sal-self-filosofie te omhels wat outonomie en pragmatisme voorop stel. Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum, beskryf dié benadering soos volg: “Om ’n helder, vry toekoms vir ons kinders te verseker, moet ons gemeenskappe georganiseer word. Ons moet die afwenteling van mag verseker deur so veel moontlik verantwoordelikhede op voetsoolvlak op te neem. Ons sal die toekoms kry wat ons bou.” In 2023 het AfriForum ’n dokumentêr vrygestel waarin sy filosofie en model uiteengesit word.
AfriForum vorm deel van Solidariteit Beweging, wat uit meer as 50 instellings en organisasies bestaan en wat elkeen meewerk om te verseker dat Afrikaners ’n toekoms in Suider-Afrika het waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan wees.
AfriForum is die grootste burgerregteorganisasie in die Suidelike Halfrond en verenig meer as 315 000 lede met ’n gemeenskaplike saak. AfriForum het meer as 175 buurt- en plaaswagte gestig, noodondersteuningdienste ontwikkel en het selfs ’n privaat brandbestrydingseenheid. AfriForum se meer as 170 takke reg oor die land maak woonbuurte en riviere skoon, lê gemeenskapsgroentetuine aan en plant bome, verf straattekens en herstel slaggate. AfriForum het ook sy eie stroomdiens-, film- en dokumentêrproduksiemaatskappy, AfriForumTV, die lig laat sien, en spog boonop met sy eie kunsteteater. AfriForum bestuur ook ’n aantal intergemeenskaplike en interkulturele samewerkingsprojekte.
Dit word alles moontlik gemaak sonder enige staatsbefondsing of die welwillendheid van miljardêrs nie, maar deur duisende alledaagse mense wat maandeliks bydra. As mens in ag neem dat daar gewoonlik slegs een AfriForum-lid per huishouding is, kan die ledetal van 315 000 as 315 000 gesinne beskou word.
AfriForum en die Solidariteit Beweging het verklaar dat ons bou om te bly en bly om te bou. AfriForum beoog nie om gemeenskappe te isoleer nie, maar om eerder te help om veerkragtige, gesonde gemeenskappe te skep wat met ander gemeenskappe saamwerk op die grondslag van wedersydse erkenning en respek. In die wêreld van gemeenskapsgebaseerde, gedesentraliseerde en staatsbestande instellings het AfriForum die weg gebaan, en ons het nog net begin. Hoe meer lede AfriForum kry, hoe meer kan ons doen. Word vandag ’n lid.