Solidariteit Beweging bereik skikking met regering by Nedlac oor Bela

Die Solidariteit Beweging, waarvan Solidariteit en AfriForum deel is, het ʼn skikking met die regering by Nedlac oor die Bela-dispuut bereik. Die partye tot die dispuut by Nedlac was Solidariteit, die Presidensie en die Minister van Basiese Onderwys. Nedlac het bevestig dat die dispuut opgelos is. Volgens die skikking gaan die omstrede artikels in die Bela-wet nie meer op 13 Desember geïmplementeer word nie. Norme en standaarde, nasionale beleide en regulasies, moet eers ontwikkel word wat onder meer sal bepaal dat skole wat op hul volle kapasiteit is nie instruksie mag ontvang om hul taal- en toelatingbeleid te verander nie. Wat taal- en toelatingsbeleid betref, moet die onmiddellike omgewing van die skool en/of sy voedingsone, en nie die groter onderwysdistrik nie, in ag geneem word. Die uitvoering van die aanbevelings sluit nie die moontlikheid uit dat daar ʼn behoefte mag wees vir toekomstige wetswysigings aan artikel 4 en/of 5 van die Bela-wet nie. Dit alles sal deel vorm van ‘n proses waarin omvattende aanbevelings van die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, aan pres. Ramaphosa gemaak word vir sy behoorlike oorweging. Hierdie skikking raak egter nie die proses van die Regering van Nasionale eenheid of enige ander prosesse rakende Bela nie. Die Solidariteit Beweging sal wel die uitkoms van die skikking aan die regering van Nasionale Eenheid voorhou. Die ooreenkoms word deur die Solidariteit Beweging, AfriForum, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum en die Afrikaanse Onderwysnetwerk ondersteun. Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is die ooreenkoms die uitkoms van ʼn verskeidenheid van prosesse. Dit sluit in gesprekke met pres. Ramaphosa, onderhandelinge met politieke partye, insluitend die ANC, DA en VF+, die groot optog vanaf die Voortrekkermonument na Freedom Park, gesprekke met tradisionele leiers, ʼn proses by PanSAT en die Nedlac-proses. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê alhoewel die skikking ʼn groot deurbraak is, lê harde werk nog voor. Die belangrike deurbraak is dat ons nou weer tyd aan ons kant het dat Afrikaanse skole waarvan die kapasiteit vol is, nie ʼn instruksie sal kry oor taal en toelating nie. Dit is ʼn groot verligting vir Afrikaanse skole. In hierdie tyd gaan hard gepraat word oor norme en standaarde en Solidariteit gaan ook moontlike wetswysigings voorstel. Skole hoef nie toe te laat dat hulle deur amptenare geboelie word nie. “Die Bela-stryd is die belangrikste geveg waarby AfriForum sedert sy ontstaan betrokke was. Bela se bepalings oor skole se taalbeleid, sou dit geïmplementeer word, het ʼn ernstige bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse kultuurgemeenskappe ingehou. Dit is nie net Afrikaanse skole en kinders wat geteiken sal word deur die implementering daarvan nie, maar ook die strewe na moedertaalonderring vir alle kultuurgemeenskappe. Ons het reeds verskeie gesprekke met tradisionele leiers gevoer en dit is duidelik dat hulle die strewe deel dat kinders in hul onderskeie gemeenskappe onderrig in hul moedertaal ontvang. Ons kan net dankie sê aan almal wat die veldtog teen Bela ondersteun het. Die oorweldigende steun van die publiek en die feit dat duisende mense aan die optog teen Bela deelgeneem het, het die deurslag gegee,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê. Die skikking bevestig ook die verskillende rolle van die Minister van Basiese Onderwys en die President. Die rol van die president met betrekking tot die Bela-wet is om die inwerkingtreding van die bepalings van die Wet te bekragtig en om die aanvang van die bepalings af te kondig. Die rol van die minister van basiese onderwys, as die primêre verantwoordelike persoon vir die portefeulje van basiese onderwys, is om die behoorlike implementering van die Bela-wet te verseker, insluitend:
  • die maak van aanbevelings aan die president oor die inwerkingtreding van die Wet; en
  • om te verseker dat die implementering van die Wet ondersteun word deur toepaslike nasionale regulasies, nasionale norme en standaarde en/of nasionale beleide.
Die skikking maak ook voorsiening vir verdere ontwikkelinge oor moedertaalonderrig wat wyer strek as net Afrikaans. Die Solidariteit Beweging gee erkenning aan al die rolspelers vir die opbouende wyse waarop die dispuut hanteer is. Die uitkoms is ʼn wen vir al die partye en die land.

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 28

In hierdie week se aflewering van Wêreldwys gesels ons met dr. Ernst Roets oor die krisis waarin die Westerse beskawing verkeer – die dubbele krisis van skuld (guilt) en skuld (debt). Geen ander beskawing dra dié swaar eksistensiële las nie, omdat net die Weste hulself hierteen meet. Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 27

Met Trump in die Withuis en die Republikeine wat in 2025 beide huise van die Amerikaanse kongres sal beheer, lê ’n onseker tyd ryk aan geleenthede en risiko’s voor. Hoe moet die privaat sektor, politieke partye en die burgerlike samelewing hierop reageer? Dit is van die vrae wat in hierdie week se episode van Wêreldwys onder die loep geneem word. Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.

Vlaamse LP plaas ook druk oor Bela

Bron: Maroela Media

Die wysigingswet op Basiese Onderwys (Bela) trek ook internasionale aandag weens die impak wat dit op Afrikaanse onderrig kan hê.

Vir baie lede van die Afrikaanse gemeenskap, sowel as buitelandse ondersteuners van Afrikaans, word die Bela-wet as ʼn bedreiging vir die behoud van Afrikaans as onderrigmedium en selfs die kultuur van die Afrikanergemeenskap beskou.

Kristof Slagmulder, ʼn parlementslid van Vlaams Belang, het Woensdag tydens ʼn parlementêre sitting in België sy kommer oor die toekoms van Afrikaans in Suid-Afrika aan die minister-president van Vlaandere, Matthias Diependaele, te kenne gegee; dít veral omdat Vlaandere en Suid-Afrika sterk historiese en taalkundige bande deel.

“Die Afrikanergemeenskap in Suid-Afrika ervaar nou al geruime tyd druk op sy taal en kultuur. Hoewel dit ontken word, lyk dit of die Suid-Afrikaanse regering ook aandring om die Afrikaner-identiteit en die Afrikaanse taal uit te wis.

“Ek was al twee keer in Suid-Afrika en het dit met my eie oë gesien,” het Slagmulder aan Diependaele gesê.

“Die wysiging aan die Bela-wet dreig om Afrikaans in die toekoms as onderwystaal onmoontlik te maak. Ek het die protesaksie deur duisende Afrikaners by die Voortrekkermonument gesien. Daarom het ek besluit om die Vlaamse minister-president hieroor te nader.”

Hy het verder aan Diependaele verduidelik dat die wetsontwerp se klousules 4 en 5 die Suid-Afrikaanse regering die mag gee om taal- en toelatingsbeleid by skole te bepaal.

“Dít wek kommer dat skole gedwing kan word om hul huidige taalbeleid, wat dalk in Afrikaans is, aan te pas; dit sal uiteindelik die toekoms van Afrikaans as ʼn onderrigtaal in gedrang bring.”

Vir Slagmulder en ander Europese bondgenote van die Afrikaanssprekende gemeenskap is die kwessie van taalsensitiewe onderwys fundamenteel.

“As die Bela-wet in sy huidige formaat aanvaar word, vrees baie Afrikaners en Afrikaner-verenigings dat dit die einde van byna alle openbare Afrikaanse skole sal wees, en sonder hierdie skole sal dit baie moeilik wees vir die Afrikaanse taalgemeenskap om voort te bestaan.”

Slagmulder sê hy het die wet se ontwikkeling noukeurig dopgehou en gereeld die Vlaamse minister-president gevra oor die moontlikheid om die Belgiese en Vlaamse regering se ondersteuning vir Afrikaanse taal- en kultuurinisiatiewe in Suid-Afrika uit te brei.

“As lid van die buitelandse beleidskomitee in die Vlaamse parlement volg ek al geruime tyd die politiek en die media in Suid-Afrika.

“Ek het al verskeie vrae gevra oor die Afrikaner, sy taal en sy erfenis asook oor die plaasmoorde in die land.

“Ek het byvoorbeeld die vorige Vlaamse minister-president van ʼn lys van vermoorde boere en hul gesinne in Suid-Afrika voorsien. Die lys was 65 bladsye lank.”

Slagmulder sê die verlies aan moedertaalonderrig sal nie net ʼn taal se oorlewing bedreig nie, maar ook die kulturele identiteit van die gemeenskap wat dié taal gebruik in die gevaar stel.

“Minister-president, sal jy ekstra inisiatiewe neem om die behoud van Afrikaans op die agenda by internasionale taal- en kultuurorganisasies te plaas? Is jy bereid om hierdie kwessie onder die organisasies se aandag te bring,” het Slagmulder aan Diependaele gevra.

Hy sê Vlaandere en Nederland deel historiese en taalkundige bande met Suid-Afrika en Afrikaans.

“Daarom dink ek daar moet solidariteit met die Afrikaanssprekende gemeenskap wees.

“Daar is ook taalprobleme in Vlaandere. Ek woon in die Denderstreek en Nederlands is ook besig om te verdwyn weens toenemende verfransing. Ons ervaar ook baie druk om ons universiteite verder te verengels.”

Slagmulder sê hoewel die Bela-wet ʼn Suid-Afrikaanse wet is en geen invloed in Vlaandere het nie, gaan dit vir hom oor die beginsel.

“’n Taalgemeenskap sal dit moeilik vind om te oorleef as sy kinders nie meer onderrig in hul moedertaal sal kan ontvang nie. In hierdie geval is dit Afrikaans, wat deur etlike miljoene mense gepraat word.”

Hy glo dat diplomatieke druk en internasionale bewustheid tot ʼn mate kan bydra om die regte van Afrikaanse skole en gemeenskappe te help beskerm.

“Vanuit Vlaandere kan ons nie sommer die wet in Suid-Afrika verander nie. Dit is beslis nie die bedoeling nie. Elke land maak sy eie wette. Maar dit beteken nie dat ons, gegewe ons historiese bande, nie internasionale aandag kan trek om Afrikaans as volwaardige onderwystaal te beskerm en te bevorder nie.

“Ek hoop beslis dat daar in die toekoms samewerking tussen Vlaamse en Afrikaanse universiteite soos Akademia sal wees.

“Die Vlaamse regering het vroeër aangedui dat hy baie simpatiek hierna sal kyk, maar dan moet die vraag vanuit Suid-Afrika gevra word. Dit sal lekker wees as daar wel samewerking kan plaasvind,” sê Slagmulder.

 

 

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 26

Ons kyk in nog ‘n spesiale aflewering van Wêreldwys spesifiek na Texas en ontleed dié deelstaat se rol in die verkiesing, met spesifieke klem op onwettige immigrasie. Die grens tussen Texas en Mexiko word besoek, sowel as plattelandse dorpe wat al hoe armer word, die dorp Uvalde waar daar meer as twee jaar gelede ’n bloedige skietvoorval by ’n laerskool was, en natuurlik die hoofstad van Texas, Austin. Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 25

In hierdie spesiale uitsending van Wêreldwys vanuit die VSA, bespreek ons hoe Trump hierdie oorwinning behaal het. Wat het gemaak dat gewone Amerikaners deur die geraas in die media gekyk en uiteindelik in hul miljoene vir Trump gestem het? Wat hou dit vir die toekoms van die Republikeinse Party spesifiek, Amerika in die algemeen en uiteindelik ook die wêreldpolitiek in? Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.

Meer as 10 000 protesgangers laat dit hoor – Bela is ons rooi lyn

Bela is ’n rooi lyn wat nié oortree mag word nie.

Dít was die eenvoudige, maar duidelike boodskap wat ’n skare van meer as 10 000 mense vandag tydens die Bela-protesoptog aan elke party en politikus betrokke by Suid-Afrika se regering van nasionale eenheid (RNE) oorgedra het.
Die protesoptog is gelei deur die Solidariteit Beweging, Solidariteit, AfriForum, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en organisasies wat ‘n belang by Afrikaanse onderwys het in protes teen die huidige formaat van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette 32 van 2024 (die Bela-wet) se bepalings oor openbare skole se toelatings- en taalbeleide.

Duisende mense het saamgestap teen die Bela-wet
Duisende mense het saamgestap teen die Bela-wet

’n Memorandum met eise is aan die DA en VF+, as ondersteuners van die protesaksie, oorhandig waarna ’n vreedsame tog van nagenoeg 1,8 km op Reconciliationweg, vanaf die Voortrekkermonument tot by Freedom Park, aangepak is. Hier is die memorandum – wat deur meer as 40 organisasies onderteken is – aan Gayton McKenzie as verteenwoordiger van die Presidensie oorhandig.

John Steenhuisen (DA-leier) en Pieter Groenewald (VF+-leier) en die hoofde van die Solidariteit Bewegingsinstellings het die voorste linie van die prosessie gevorm.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, probeer hedendaagse kolonialiste soos Panyaza Lesufi, die premier van Gauteng, en Matome Chiloane, die LUR vir Onderwys in dié provinsie, om Afrikaanse skole soos die kolonialiste van ouds te verengels. “Hulle sal nie slaag nie. Afrikaans sal bly. Wat ons vandag hier doen is uit liefde. Dit is nie soos Lesufi en kie uit haat vir ander groepe nie. Dis uit liefde vir ons kinders. Dit is uit liefde vir ons skole. Dit is uit liefde vir ons taak, ons erfenis en die land,” verduidelik Buys.

Flip Buys, hoof van die Solidariteit Beweging
Flip Buys, hoof van die Solidariteit Beweging

“Bela is ons rooi lyn. Ons sê dit vir al die politieke partye in die RNE sodat hulle kan verstaan hoe sterk die gemeenskap voel. Meer as 10 000 mense het vandag gesê hulle sal nie toelaat dat hulle kinders se toekoms gevat word nie,” verduidelik dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit
Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, bestempel die protesoptog as ’n “historiese dag” en die grootste optog van Afrikaanssprekendes sedert 1994. “Mense is kwaad en dit het hulle vandag hier kom wys. Hulle is kwaad, want ons kinders word geteiken deur ’n wet wat Afrikaanse skole aanval en eintlik ons kulturele voortbestaan bedreig.”

Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, hou vol dat vandag se protesaksie ’n duidelike boodskap aan die regering oordra. Hy veroordeel ook die regering se laksheid en apatie, en benadruk dat die regering nie net oor die afgelope 30 jaar nie ’n enkele Afrikaanse skool gebou het nie, maar ook geen erns maak met moedertaalonderrig nie en openlik haat teenoor Afrikaanse skole uitspreek. “Vandag gaan dit oor meer as net onsself of ons generasie,” verduidelik hy. “Dit gaan oor generasies wat nog moet kom.”

Tydens die ondertekening van die memorandum wat aan die Departement van Onderwys oorhandig is, het Steenhuisen benadruk dat die taal- en toelatingsbeleid klousule in die wet te veel mag gee aan die staat en te veel mag van ouers en gemeenskappe wegvat. “Ons Grondwet is duidelik. Elke persoon het die reg tot onderwys in die taal of tale van hul keuse. Hierdie regte wat in ons Grondwet is, kan nie meer net met ’n pen uitgevee word nie,” meen hy. “Ons kan nie hierdie mag aan ’n provinsiale beampte in ’n kantoor oorhandig wat ver van die skool en plaaslike gemeenskap sit nie.”

John Steenhuisen, leier van die DA
John Steenhuisen, leier van die DA

Groenewald het op sy beurt uitgevaar teen die ANC se magsmisbruik met die aanvaarding van die wet in die parlement voor die nasionale verkiesing, “want hulle het geweet hulle gaan ná die verkiesing dalk nie meer die regering wees nie”. Hy het gepleit vir ’n verandering deur middel van die invloed in die RNE. “Elke tree wat julle hier gee vandag, is ’n tree van verandering.” Hy het afgesluit deur te verwys na die belang van moedertaal: “Ek is ’n Afrikaner en ek is trots daarop. Deel van my trotswees is my moedertaal. Daarom moet ons sorg dat ons trots nie vertrap word nie.”

Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus
Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus

Die PA-leier, McKenzie, deur wie se toetrede toegang tot die perseel van Freedom Park ook verseker is, het die memorandum namens die Presidensie ontvang. Hy het president Cyril Ramaphosa bedank dat hy na die stem van die Afrikaanse gemeenskap geluister het deur die implementering van die twee artikels uit te stel. Hy het egter benadruk dat die geveg voortgesit sal word. “Ons sal baklei vir Afrikaans, want Afrikaans gaan nêrens heen nie.”

Gayton McKenzie, leier van die PA
Gayton McKenzie, leier van die PA

Die instellings van die Solidariteit Beweging het hulle vandag weer tot die voortgesette stryd teen die implementering van artikels 4 en 5 van Bela verbind. Vandag se sigbare demonstrasie is ’n kragtige gebaar, maar slegs één wyse waarop die instellings vir moedertaalonderrig, Afrikaans, onderwysers en kinders in die bresse tree.

Volgens Buys gaan die onderhandelinge met verteenwoordigers van die RNE nou met duidelike bewyse in die hand tegemoet gegaan word – bewyse van die duisende Suid-Afrikaners wat Bela as ’n rooi lyn beskou en nie gaan terugstaan en toekyk hoe Afrikaanse onderrig vir politieke gewin van kant gemaak word nie.

Vind ook aangeheg:

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 24

In hierdie week se episode van Wêreldwys doen ons saam met dr. Jakkie Cilliers ʼn deeglike ontleding van die probleme op die Afrika-kontinent, die oorsake daarvan en wat nodig is om uiteindelik meer Afrika-lande op ʼn pad van sukses te plaas. Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.

Wat jy van die Amerikaanse verkiesing moet weet – ʼn onderhoud met Jaco Kleynhans

Ná twee sluipmoordpogings, Covid-19, ʼn skielike verandering van presidensiële kandidaat, vele nuuswaardige debatte, twee reuse-orkane en ʼn besoek aan McDonald’s, is ons uiteindelik op die vooraand van die Amerikaanse verkiesing.

Dié tuimeltrein van gebeure die afgelope paar maande in Amerika laat Gold Reef City se Tower of Terror soos kinderspeletjies lyk.

Dit is nie aldag ʼn maklike taak om betroubare en georganiseerde inligting te bekom nie, veral te midde van talle menings, beeldmateriaal-flitse, verwronge waarhede en teorieë wat op sosiale media en in die media versprei word.

Dit is dan wanneer Suid-Afrikaners met dankbaarheid staatmaak op kenners soos Jaco Kleynhans wat sy diepgaande kennis op ʼn georganiseerde, verstaanbare wyse in Afrikaans met die publiek deel.

Jaco is die hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging en beskik oor jare se kennis en ondervinding van internasionale politiek. Hy was self eens deel van ʼn Amerikaanse verkiesingsveldtog vir George W. Bush.

In sy podsending, Wêreldwys, in samewerking met Maroela Media, gesels Jaco tweeweekliks oor die belangrikste wêreldgebeure waarvan Suid-Afrikaners moet kennis neem. Verder verskyn sy artikels gereeld in Rapport en gesels hy op talle radiostasies oor wêreldgebeure.

Wanneer die Amerikaanse verkiesing op 5 November plaasvind, sal Jaco in Amerika wees om vir Suid-Afrika eerstehandse inligting te stuur. Daarna toer hy vir drie weke onder meer deur Michigan, Wisconsin en Texas om Suid-Afrika en die Solidariteit Beweging se sake met belanghebbendes te bespreek.

Jaco antwoord ʼn paar vrae oor die verkiesing, waarom Suid-Afrikaners op hoogte moet wees van die jongste nuus  en wat die uitslag van die verkiesing vir Suid-Afrika inhou.

Die belangrikste vraag eerste: Wie dink jy gaan die verkiesing wen?

As ek ʼn raaiskoot kan waag, sal ek voorspel dat Trump gaan wen. Trump is in ʼn sterker posisie in die peilings as in 2016 en 2020, maar ook in terme van Amerikaners se persepsie van hom, sy beleid en sy persoonlikheid. Kamala Harris word deur baie Amerikaners as té ekstreem beskou en ook as iemand wat bloot die Biden-beleid sal voortsit. Trump behoort te wen, maar dit kom uiteindelik alles neer op wie gaan stem. In die VSA stem hoogstens tweederdes van kiesers. Daardie derde wat tuisbly, kan ʼn kandidaat se oorwinning kos.

Watter voordele hou dit vir Suid-Afrika in sou die Republikeinse party wen?

ʼn Trump-oorwinning kan groot ekonomiese geleenthede én risiko’s meebring. Die grootste geleenthede is vir handel, aangesien Trump groot stappe teen China beplan. Dit skep nuwe geleenthede vir Suid-Afrika om nóg meer produkte na die VSA uit te voer.

Republikeine, Trump en die verlede het reeds gewys dat daar groot geleenthede vir Afrikaners bestaan indien die Republikeinse party wen, aangesien hulle dikwels meer geneig is om die ANC se beleid teenoor minderhede, veral Afrikaners, asook die ANC se denke oor sosialisme en simpatie met byvoorbeeld Rusland, Iran, Kuba en Venezuela, te veroordeel.

Skakel die Solidariteit Beweging eerder met die Republikeine of die Demokrate?

Ons skakel met beide Republikeine en Demokrate, en het geen motief om kant te kies nie. Ek sal oor die volgende drie weke met lede van beide partye regoor Amerika en veral in Washington DC ontmoet. In die Amerikaanse kongres is daar baie Republikeine en Demokrate wat in die gebeure in Suid-Afrika belangstel en met wie ons reeds goeie kontakte opgebou het.

Behalwe vir persoonlike nuuskierigheid en vermaaklikheidsredes, hoekom dink jy is dit belangrik dat Suid-Afrikaners op hoogte bly van die politieke gebeure in Amerika?

Amerika is steeds die magtigste supermoondheid in die wêreld en dit gaan nog vir ʼn hele paar jaar die geval wees. Suid-Afrika is ekonomies baie afhanklik van handel met die VSA en van beleggings uit dié land. Wat in Amerika gebeur, raak ons almal omdat dit ʼn invloed op ons wisselkoers sowel as kommoditeitspryse, handelsbetrekkinge en globale politieke en ekonomiese veranderlikes het.

Waar kan Suid-Afrikaners inskakel om eerstehandse inligting van jou te kry oor die verloop van die verkiesing?

Die Suid-Afrikaanse media, en veral die Afrikaanse media, doen baie moeite om behoorlik oor die Amerikaanse verkiesing te berig. Ek sal self voor en ná afloop van die verkiesing op Maroela Media, Pretoria FM, RSG, Nuuspod en ander Afrikaanse media hieroor berig. Daar sal dus ʼn goeie aanbod van nuus oor die verkiesing in ons eie Afrikaanse media wees.

Vertel ʼn bietjie meer oor die res van jou besoek en die hoogtepunte waarna jy uitsien.

Ek werk die afgelope twee jaar aan bande met wetgewers in verskillende deelstate. Ons is op die punt om belangrike resolusies in wetgewers in sommige deelstate in te stel. Dit kan verrykende gevolge hê.

Verder het ons baie goeie kontakte in Washington DC by die kongres en by organisasies wat politieke beleid beïnvloed. Ek gaan hier met tientalle invloedryke persone skakel oor verskeie kwessies soos die regering van nasionale eenheid (RNE), Agoa, die posisie van minderhede in Suid-Afrika, die Bela-wet, die beplande NGV, misdaad, Brics, die ANC se bande met Rusland, China en Iran, en die werk van die Solidariteit Beweging.

Jaco Kleynhans is die hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging.
Jaco Kleynhans is die hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging en gaan in Amerika wees tydens die verkiesing.

Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 23

In hierdie week se episode gee ons ʼn inleiding tot die huidige uitdagings op die Afrika-kontinent. Is Afrika en die meeste van die kontinent se 54 lande tot mislukking gedoem of is daar ligpunte? Ons bespreek die afgelope tien jaar se agteruitgang in demokrasie en die toename in konflik en oorloë op die kontinent. Wêreldwys is ‘n podsending van Maroela Media.
Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.