Tag: Solidariteit Beweging
G’n kultuur sonder sy bouwerk bedink
Artikel deur Flip Buys vir Rapport
Kom ons bou leefruimtes vir Afrikaans, want geboue verskaf veiligheid, skryf Flip Buys
Die grootsheid van ’n kultuur word gewoonlik aan die grootsheid van sy bouwerk gemeet.
Daarom staan die mensdom vandag nog verwonderd oor die piramides wat die antieke Egiptenare 4 600 jaar gelede gebou het. Dit word steeds as wonderwerke beskou en argeoloë bespiegel al vir jare hoe hulle dit vermag het. Waaroor daar wel eenstemmigheid is, is dat die bou van die piramides net moontlik kon wees danksy gesofistikeerde ingenieurswese, argitektuur, wiskunde, wetenskap, sterrekunde en logistiek.
Daarbenewens het bouwerk van daardie omvang gevorderde vorme van staatkundige ordening, ekonomiese ontwikkeling, bestuur, organisasie, geletterdheid en opleiding geverg.
Argeoloë; sê vandag dat die antieke Egiptenare die piramides gebou het. Maar in werklikheid het die piramides terselfdertyd die Egiptenare as hoogs ontwikkelde beskawing gebou. Daarmee word bedoel dat die eeue lange bouwerk aan die piramides en ander infrastruktuur wat ’n ontwikkelde samelewing benodig het, ook die Egiptiese kultuur gebou het.
Soos Winston Churchill gesê het: “Eers vorm ons ons geboue en daarna vorm ons geboue ons.”
Bouwerk van die omvang van die piramides vereis immers ’n gevorderde kultuur wat in staat is om groot gesamentlike projekte aan te pak, die hulpbronne daarvoor te monster, doeltreffend te beplan en te organiseer, die arbeidsmag daarvoor op te bou, en dit verg die leierskap en kundigheid om dit suksesvol uit te voer.
Dieselfde geld natuurlik vir al die gevorderde antieke beskawings wat in China, Persië Griekeland en Indië ontstaan het. Die Romeine se paaie, brûe, akwadukte, teaters en stede het ’n Romeinse lewe moontlik gemaak en hulle kultuur wyd oorgedra en versprei. Daardeur is die grondslag van die moderne Wes-Europa gelê. Geen kultuur kan sonder sy bouwerk bedink word nie omdat ’n kultuurgemeenskap in, vanuit en deur sy instellings en die geboue wat dit huisves, leef.
Dit onderlê ook ons eie geskiedenis. Pres. Paul Kruger was byvoorbeeld nie net ’n staatsbouer nie, maar ook ’n stadsbouer. Hy het ’n groot rol gespeel om Pretoria van ’n stowwerige dorpie na ’n hoofstad uit te bou. Dink maar aan die Ou Raadsaal, die Paleis van Justisie, museums, hospitale, skole en die forte rondom Pretoria. Geboue is in werklikheid die kulturele infrastruktuur van ’n volk. Dit “bou” die kultuur deurdat die Raadsaal die kern van die staatkundige Republiek was, die Paleis van Justisie die sentrum van die regsorde was, en die skole kennis en kultuur aan die volgende geslag oorgedra het.
Afrikaners het in latere jare ’n land vol geboue opgerig wat weer hulle (die Afrikaners) se kultuur gebou het. Dink aan die geboue wat vir opvoedkundige, ekonomiese, kulturele, mediese, militêre en ander doeleindes gebou is.
As ’n jong student het die Pukke se universiteitslied vir my maar outyds-hartseer geklink: “Gebore uit die nag van smaad, sien ons jou staan as wonderdaad . . .” Soos die meeste ander studente het ek die moderne kampus waar ek in die laat 1980’s studeer het as ’n gegewe aanvaar. Min het ek geweet dat as jy sélf iets verniet gekry het, dit nie sonder koste daargestel is nie, want ander mense het ’n duur prys daarvoor betaal. Later het ek besef watter wonderwerk die universiteit eintlik was, en met watter geweldige opoffering dit voor en ná die Anglo-Boereoorlog uit die grond verrys het.
Pres. Paul Kruger het in 1897 self £100 –destyds ’n reusebedrag – vir studiebeurse vir studente nagelaat. Die eerste rektor, prof. Jan Lion-Cachet, is deur die Britte in hegtenis geneem en sy seun is in die oorlog doodgeskiet. Die verhaal van die Potchefstroomse Universiteit is egter nie die uitsondering nie. Die geskiedenis van universiteite soos Stellenbosch, Unisa, UP (Tukkies), die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (Kovsies) en die RAU (nou UJ) vertel soortgelyke verhale van groot dink en klein begin. Die meeste is deur kerke en gemeenskappe tot stand gebring sonder groot staatsgeld.
Die Keniaanse denker Ali Mazrui het treffend gesê dat die gemeenskap eers die universiteit moet ophelp voordat die universiteit die gemeenskap kan ophef. Die verband tussen gemeenskap en universiteit is ook deur genl. Jan Smuts bevestig toe hy in 1910 die wens uitgespreek het dat die Universiteit van Pretoria vir die destydse Transvaal sal word wat Oxford vir Engeland was.
Afrikaans, ’n Afrikaanse lewe en die oordrag van ’n taal en kultuur is onmoontlik sonder opvoedkundige instellings wat dit kan huisves. Die vraag is hoekom skole, kolleges en universiteite so belangrik is vir taal- en kultuurgemeenskappe.
Die beste antwoord hierop is deur Albert Einstein gegee. Hy het gesê dat die wonderlike dinge wat kinders in skole en universiteite leer die versamelde werk van vele geslagte is. Dit word alles in hulle hande as erfenis gesit sodat hulle dit kan kry, daarby kan byvoeg, en dit eendag aan hulle kinders kan oorhandig.
Die doel van kulturele infrastruktuur is nie om ’n groep te isoleer of ander uit te sluit nie, maar die teenoorgestelde. Dit skep reeds die ruimte om saam met ander mense te bly, bykans soos wat ’n huis gebou word sodat ’n gesin saam met hulle bure in ’n woongebied kan bly. ’n Huis bestaan uit verskeie vertrekke, elkeen met ’n eie doel. Dieselfde geld vir ’n kultuurhuishouding – daar is vertrekke vir onderwys, opleiding, taal, maatskaplike sorg en erfenisbewaring. Dit is die rede waarom die Solidariteit Beweging oor die afgelope dekade of wat stelselmatig ’n hele kulturele ekosisteem opbou.
Indien die omstandighede geskep word sodat Afrikaners en die Afrikaanse gemeenskap volhoubaar hier kan bly, sal ons ’n blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kan maak.
Geboue is belangrik, want “plek” verskaf veiligheid, en die ruimtes gee vryheid.
Die uitdaging is om hierdie kulturele infrastruktuur sonder staatshulp te bou. Dit is die rede waarom die Solidariteit Beweging ’n paar jaar gelede ’n eiendomsmaatskappy met die naam Kanton gestig het. Die bekendste projek wat Kanton suksesvol aangepak het, is die oprigting van die Sol-Tech-kampus en -koshuise in Centurion. Kanton se doel is om ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal te sluit deur beleggings vanuit die private sektor te werf en daarmee ruimtes vir Afrikaans te bou.
Beleggers verdien ’n geldelike opbrengs en kry ook ’n kulturele dividend in die vorm van ’n universiteit, terwyl ook reeds beplan word aan die daarstelling van ’n onafhanklike skolenetwerk. Ons glo dat ’n Afrikaanse universiteit onontbeerlik is vir die voortbestaan van Afrikaans.
Tweedens bly moedertaalonderrig die beste vorm van opleiding terwyl studente ook toegerus word om hulself in Engelse werkplekke te handhaaf. Die beste bewys hiervan is die top- Afrikaanse mense wat aan enkeltalige Afrikaanse universiteite studeer het en wat nou gesogte poste in die buiteland beklee.
Akademia en Kanton stel ná jare se deurdagte werk en beplanning die Toekomsbouer-veldtog bekend met die doel om kapitaalkragtige mense en instellings die geleentheid te bied om in Akademia se beplande nuwe kampus in Pretoria-Oos te belê. Die breër publiek gaan ook later die kans kry om beleggings te maak.
Die Britse denker Roger Scruton het gesê dat ’n samelewing net kan voortbestaan as elke geslag vir die volgende geslag leef. Kanton bou vir die volgende geslag, en wil die huidige geslag die kans gee om saam te bou.
Die idee is nie om monumente vir ons voorouers te bou nie, maar lewende instellings vir die nuwe geslag. Dit is nou tyd vir skeppende vernuwing, gegrond op beproefde waardes.
Lees meer: Akademia en Kanton stel monumentale kampusontwikkeling bekend
Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 13
Wêreldwys met Jaco Kleynhans – episode 12
Akademia en Kanton stel monumentale kampusontwikkeling bekend
Afrikanerstigting, AfriForum werf steun in VSA
Wêreldwys met Jaco Kleynhans – Episode 10
Trump en Vance beloof ’n ander soort Amerikaanse buitelandse beleid
Nuuskommentaar vir Pretoria FM deur Jaco Kleynhans
Die groot Duitse staatsman en kanselier, Otto von Bismarck, het byna ’n eeu en ’n half gelede opgemerk dat die Verenigde State van Amerika deur swak bure in sy noorde en suide, en deur visse in sy weste en ooste gekenmerk gaan word. Bismarck se opmerking is natuurlik in ’n tyd gemaak toe die VSA nog volgehou het met redelike globale isolasie en weinig aptyt om by globale konflik of selfs net internasionale knelpunte betrokke te raak.
Uiteindelik is die VSA by die Eerste Wêreldoorlog ingetrek en ten spyte van ’n sterk afkeur vir verdere buitelandse intervensionisme is die land tydens die Tweede Wêreldoorlog uiteindelik ook weer volledig by die konflik, maar uiteindelik ook die herskikking van globale magsverhoudinge ingetrek. Die res is geskiedenis. Tydens die afgelope agt dekades het die VSA die polisieman van die wêreld geword.
Vandag is daar 90 000 Amerikaanse soldate in Europese lande soos Duitsland, Brittanje, Italië, Pole en selfs die Baltiese State, Georgië en Finland wat almal ’n grens met Rusland deel. Nog honderde duisende Amerikaanse soldate is regoor die wêreld versprei. Daar is tans 750 Amerikaanse weermagbasisse in 80 lande buite die VSA, in veral Europa, die Midde-Ooste, Asië en die Stille Oseaan-gebied.
Terwyl die natuurlike Amerikaanse inslag meer isolanisties was, het die Japanese se aanval op Pearl Harbor dit byna beëindig. Na die terugkeer na ’n uiters gereserveerde buitelandse betrokkenheid in die 1920’s en 1930’s het die Tweede Wêreldoorlog die vraag laat ontstaan of Amerikaanse isolanisme finaal beëindig is.
Die probleem is egter dat byna die hele Europa, maar ook talle lande in Asië, soos Suid-Korea en Japan, en ook talle lande in die Midde-Ooste die afgelope sewentig jaar toenemend afhanklik van Amerikaanse verdediging geraak het.
Volgens ’n onlangse peiling deur die Associated Press verkies 42% van Amerikaners dat hulle land heeltemal van globale konflik en ander internasionale probleme wegbly. Net 23% van Amerikaners voel dat hulle land meer internasionaal betrokke moet raak. Die toename in isolanisme het al tydens die later jare van die rampspoedige oorloë In Irak en Afganistan ontstaan.
Donald Trump se keuse van JD Vance as sy adjunkpresidentskandidaat verteenwoordig ‘n nuwe klem op isolanisme in die VSA. Vance verteenwoordig ’n sterk begronde en intellektuele beweging wat ten minste na die werk van Pat Buchanan in die 1990’s terugstrek en toenemend sedert 2016 onder leiding van Donald Trump weer momentum kry. Hierdie beweging vra nie vir ’n terugkeer na die soort Amerikaanse isolasie van voor die Eerste Wêreldoorlog nie, maar dring wel daarop aan dat Europa, Taiwan, Japan, Suid-Korea en selfs Israel meer moet doen om hulleself te verdedig.
Vance se benoeming het verlede week behoorlik ’n gegons in Londen, Brussel, Den Haag, Berlyn en natuurlik Kiëf veroorsaak. Die Trump/Vance-buitelandse beleid behoort egter niemand af te skrik nie. Dit is steeds gebaseer op kollektiewe verdediging met vennote, maar meer op ’n gelyke grondslag waar almal billik bydrae. Tweedens is dit gebaseer op ’n beëindiging van konflik met langtermyn skikkings en oplossings in plaas van ’n verlenging van oorloë soos in Oekraïne en die Palestynse gebiede. En derdens vereis dit ’n baie sterker fokus op die beskerming van Amerikaanse industrieë en werksgeleenthede teen onbillike internasionale handelspraktyke. Sou Trump in November verkies word, kan dit beteken dat Amerika volgende jaar ’n noodsaaklike herskikking in internasionale magsverhoudinge, handelspraktyke en die voortslepende oorloë mag sien.
Regering van nasionale eenheid: Suid-Afrikaners verlang na ’n DA-ANC ooreenkoms
Na dertig jaar van teenstanders wees in die politieke landskap, is die DA en ANC gewillig om saam te werk in ’n regering van nasionale eenheid. Die onverwagse aankondiging word verwelkom, aangesien nuwe statistieke toon dat die meeste DA- en ANC-ondersteuners hierdie partye vir ’n koalisie-ooreenkoms verkies.
Die Brenthurst-stigting het statistieke gepubliseer wat wys dat beide DA- en ANC-ondersteuners ‘n regering van nasionale eenheid waar die ANC en DA die grootste rolspelers is, verkies.
40,2% van die deelnemers het gestem vir ‘n DA-ANC-ooreenkoms, terwyl 37,4% van die ANC-ondersteuners aangedui het dat hulle ‘n ooreenkoms met die DA verkies bo die MK of EFF.
‘n Koalisie- of eenheidsregering met die DA sal tot Suid-Afrika se voordeel strek op verskeie maniere, insluitend die beskerming van die Grondwet en belowende ekonomiese groei. Die DA het ook sy bevoegdheid bewys deur provinsies, waar dit die meeste stemme het, soos die Wes-Kaap te regeer.
Die uurglas is besig om leeg te loop na Vrydag, wanneer die eerste parlementêre sitting sal plaasvind en die spanning loop hoog. Sal die DA en ANC in staat wees om voor Vrydag ’n skikking te bereik?
John Steenhuisen, partyleier van die DA, sê die aankondiging van die eerste parlementêre sitting op Vrydag maak die onderhandelinge vir ‘n regering van nasionale eenheid ingewikkeld. As daar teen Vrydag nog geen ooreenkoms bereik is nie, sal die DA weer as die opposisie terugkeer na die parlement. Vrydag se sitting sluit die inhuldiging van die nuwe president in.
Die onderhandelinge tussen die DA en ANC is nog ver van afgehandel. Volgens Steenhuisen moet die proses dringend spoed vang as hulle hoop om ‘n ooreenkoms voor Vrydag se sitting te bereik.
Die EFF en MK neem tans nie deel aan die onderhandelinge en gesprekke nie. Beide partye het hul afkeur teenoor die ANC se gesprekke met die DA in die publiek aangekondig. Teenstanders van president Cyril Ramaphosa in die ANC kritiseer ook die onderhandelinge met die DA. Daar word ook verwag dat protesaksies in Kwa-Zulu Natal mettertyd sal toeneem om ’n ANC-DA samewerking te betwis.
Protesaksies is egter ‘n kleinigheid en maklik om aan te spreek, teenoor die alternatief van die Grondwet wat ondermyn word vir verouderde sosialistiese ideologieë en die ekonomie wat ly as beleggers bates uit die mark onttrek.
Suid-Afrikaners plaas hul hoop in die DA en ANC om ’n ooreenkoms voor Vrydag te vind en hul samewerking in die regering van nasionale eenheid amptelik aan te kondig.
Daar is ‘n nuwe regering op die dorp
Maroela Media
16 Januarie 2024
Kallie Kriel
Suid-Afrika het nie net ‘n regeringsprobleem nie. Dit het ook ‘n diepliggende bedelingsprobleem. Die lofsange wat die land se Grondwet en nuwe bedeling in die verlede toegesing is ten spyt, bly die werklikheid dat die huidige sentralistiese bedeling nie aan die bedoelings aan sommige destyds gemeet moet word nie, maar eerder aan die uitkomste daarvan.
Lees die volledige artikel in Maroela Media hier.