Gedurende die piektyd van die covid-19- pandemie het iemand iewers in die regering die belaglike idee gekry om die uitdeel van alle kos te sentraliseer. Dit het Solidariteit Helpende Hand geen keuse gelaat nie as om die regering noodgedwonge daaroor voor die hof te daag.
Die teorie en praktyk van die sentralisering van die uitdeel van álle kos, is ondenkbaar belaglik, en die hof het uiteraard in die guns van Helpende Hand beslis. Kerke en organisasies kan nie verplig word om hulpverlening te sentraliseer nie. Die impak daarvan as dit sou slaag, is ondenkbaar.
Dit is aan niemand onbekend nie dat hoe meer mag jy verloor, hoe meer wil jy mag sentraliseer. Hoe meer jy sentraliseer, hoe minder gebeur in praktyk. Juis daarom het Helpende Hand lankal begin met die desentralisering van ons werksaamhede na 14 streke en 230 takke. Die antwoord op baie kwessies, is eenvoudig: Gebruik die krag en vermoë van ʼn gedesentraliseerde gemeenskap.
Musa Xulu se bedanking
Bostaande lang inleiding is nodig om die belangrikheid te skets van die professor eerwaarde Musa Xulu se bedanking as voorsitter van die artikel 22-komitee op 15 Januarie vanjaar. By baie mense sal sy bedanking gewoon net verbygaan, maar ons mag dit nie ignoreer nie.
Vergeet wat agter die skerms gebeur en vergeet van interne politiek. Die rede wat Xulu vir sy bedanking aanvoer, is in wese ʼn beginselsaak. Dit maak op ʼn baie interessante wyse indirek van hom ʼn fluitjieblaser oor ʼn kwessie waaroor die kerk moet waak.
As daar een beginsel is wat die kerk nooit mag prysgee nie, is dit haar reg op onafhanklikheid, vryheid van assosiasie en om oor eie sake in eie vergadering te besluit.
Wat het gebeur?
Professor eerwaarde Musa Xulu is in April 2025 aangestel as voorsitter van die artikel 22- komitee van die kommissie vir die bevordering en beskerming van gemeenskappe se kultuur, godsdiens- en taalregte (CRL-kommissie). Die CRL-kommissie is ʼn artikel 9-instelling en moet dus slegs aan die nasionale vergadering verslag doen. Die nasionale vergadering is om die beurt weer verplig om die uitkomste van die kommissie se ondersoek sterk te oorweeg, net soos in die geval van die openbare beskermer.
Een van die kernredes vir prof. Xulu se bedanking is hoe die komitee se werksaamhede in die praktyk uitgespeel het. Hy voer aan dat verskeie vergaderings gehou is, wat hy as voorsitter nooit ten volle self kon lei nie. Hy beweer verder dat hy wel agendas vir die vergaderings opgestel het, maar dat dit nooit gebruik is nie.
Luidens Xulu se aanstellingsbrief sou die CRL slegs administratiewe bystand lewer tot die komitee, maar in praktyk het dit nooit so gebeur nie en was daar intense inmenging van die CRL se topbestuur. Xulu voer aan dat die voorsitter van die CRL, me. Thoko Mkwanazi-Xaluva, by elke geleentheid die vergaderings oorgeneem het, daarom kon hy nooit sy pligte as voorsitter uitvoer nie en is die komitee se praktiese werk nooit gedoen nie. Die verwysingsraamwerk waarbinne die komitee moes werk, het onder meer ʼn ondersoek na die stand van sake in kerke vereis asook om moontlike misbruike in kerke te ondersoek. Hierdie doel het in ʼn oogwink verander.
ʼn Veranderende verwysingsraamwerk
Tydens ʼn openbare geleentheid op 2 Oktober verlede jaar is ʼn totaal nuwe verwysingsraamwerk minute voor Xulu se spreekbeurt aan hom oorhandig. Dit was ʼn radikale ommekeer van die vorige verwysingsraamwerk. Dit het, onder meer, bepaal dat ʼn etiese kode en wetgewende raamwerk ontwikkel moet word om (alle) kerke te reguleer. (Wat ʼn angswekkende gedagte is dit nie!)
In 2015 is reeds beweer dat die staat kerke wil reguleer. Vir 11 jaar is die idee in stilte uitgebou – tot Xulu se bedanking dit weer direk op die tafel geplaas het.
As rede vir sy bedanking voer Xulu verder aan dat hy in ʼn toksiese omgewing moes werk en, let wel, dat hy homself nie kan vereenselwig met die staatse wetlike regulering van kerke nie. Hy merk op dat daar genoegsame wetgewing in plek is om uitdagings te hanteer, insluitend die strafproseswet, maatskappyewet en die Grondwet.
As voorbeeld van die toksiese omgewing verwys hy na Thoko Mkwanazi-Xaluva se rassistiese en lasterlike opmerkings. Sy het onder meer na Michael Swain, die uitvoerende direkteur van Freedom of Religion South Africa (FOR SA), verwys as “die wit man van Engeland wat in 1983 Suid-Afrika toe gekom het om apartheid te kom geniet”. Sy het verder gemeld dat sy klagtes van crimen injuria teen Swain gelê het, dat sy druk plaas dat hy voor Kersfees in hegtenis geneem moet word, en dat sy hoop hy word vyf jaar tronkstraf opgelê. Xulu beskryf die konteks en die opmerkings as van die ergste rassisme wat hy nog beleef het.
Waarna moet ons oplet?
Xulu sê ondubbelsinnig dat daar ʼn duidelike aanslag op Christenskap en Christen-kerke is. Dit is die enigste geloof wat onderhewig is aan so ʼn ondersoek. Hy is verder van mening dat die CRL die Pinkster- en Evangelistiese kerke nog duideliker teiken as ander Christen-kerke.
Die CRL moet slegs aan sy eie statute, die Grondwet en wetgewing gehoor gee. Máár hulle ontvang staatsbefondsing en moet jaarliks aan die nasionale vergadering verslag doen asook kwartaalliks aan die portefeuljekomitee vir samewerkende regering en tradisionele sake. Die 12 kommissarisse wat in die CRL dien, word deur president Cyril Ramaphosa aangestel.
Wat moet ons hieruit leer?
Xulu se bedanking bring ʼn belangrike saak na vore: die geweldige gevaar van die sentralisering van mag. Dit is ʼn waarskuwing aan kerke om te waak teen regulering deur die staat.
Hoekom is die Christelike geloof die enigste godsdiens wat op so ʼn wyse gereguleer moet word? Wat verwag die staat van hierdie artikel 22-komitee as ʼn artikel 9-instelling? Hoe gaan die kerk haarself beskerm teen regulering en inmenging van die staat? Gaan ons naïef genoeg wees om te glo die staat wil nie kerkmag sentraliseer nie?
Hoede af vir Xulu wat met sy bedanking ʼn wesenlike kwessie bevestig. Die vryheid van kerke en die Christendom kan nog minder as die uitdeel van toebroodjies en kospakkies deur die staat gesentraliseer word.
Solidariteit Helpende Hand se 230 takke werk deurlopend saam met honderde kerke in gemeenskappe, daarom hou ons jaarliks ʼn kerkekongres.
Geskryf deur Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.