Solidariteit gaan met ’n groot veldtog begin om te keer dat personeel in onderwys- en ander poste, wat deur skoolbeheerliggame aangestel is, hul werk verloor. Duisende poste word deur die Covid-19-krisis bedreig.
Volgens Solidariteit kan tot 20 000 van die ongeveer 27 000 beheerliggaam-aanstellings se diensvoorwaardes en salarisse geraak word. Tot soveel as 10 000 van hierdie poste kan verlore gaan indien daar nie drasties ingegryp word nie. Dit sluit duisende ander beheerliggaamposte soos terapeute, administratiewe poste, afrigters en assistent-onderwysers uit. Sowat 55% van poste by Afrikaanse skole is beheerliggaam-aanstellings wat deur die skoolfonds gefinansier word en wie se salarisse dus deur ouers betaal word.
“Hierdie krisis is nie slegs ’n krisis vir individuele werknemers nie; dit is ’n onderwyskrisis,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Die reaksie van Solidariteit volg na verskeie berigte dat skole landswyd sukkel om skoolgelde in te vorder sedert die inperking in Maart ingestel is. Sedert die uitbreek van die pandemie kry skole gemiddeld tussen 20% en 60% van hul skoolgeld, en in sommige gevalle nog minder.
Solidariteit het, in samewerking met die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), aangekondig dat hy ’n spesiale Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers gestig het. Die doel hiervan is om, in samewerking met skole, ’n grootskaalse verlies aan beheerliggaamposte te verhoed. Solidariteit en die SOS wil met alle rolspelers hande vat om hierdie poste te beskerm en te behou.
Solidariteit beplan ’n nasionale veldtog wat ouers sal aanmoedig om sover dit vir hulle moontlik is, skoolgeld te betaal. Die doel is ook om regsondersteuning en advies aan beheerliggaampersoneel te bied, en gemeenskappe en alumni te mobiliseer om sodoende onderwysers en skole te ondersteun.
“Die poste wat deur skoolbeheerliggame daargestel word, vorm ’n integrale deel van ons onderwysstelsel,” voer Hermann aan.
Ingevolge die Skolewet word beheerliggame en die ouergemeenskap as ’n sentrale deel van onderwysvoorsiening beskou. Dit is dus van uiterste belang dat die rol van die ouergemeenskap beskerm moet word.
Solidariteit verstaan die uitdagings waarmee skole te kampe het, maar ons mag nie toelaat dat ’n tydelike krisis permanente skade vir kinders, skole en onderwysers veroorsaak nie. As beheerliggaamposte verlore raak, sal ons met klasse vol kinders sonder onderwysers sit. Suid-Afrika het ’n gesamentlike reusepoging nodig om spesifiek ons beheerliggaam-aanstellings te beskerm.
“Die verlies aan skoolfonds tydens die korona-krisis wissel van tussen 20% en 60%, en in sommige gevalle selfs meer. Alle skole kry swaar, maar dit is veral plattelandse skole, skole in behoeftige omgewings en skole wat van kontantstelsels gebruik maak wat swaar getref word. Skole probeer hul bes om beheerliggaamposte te behou, maar dit raak al hoe moeiliker en reserwes is beperk.
“Beheerliggaam-onderwysers se salarisse is in baie gevalle met tot soveel as 50% gesny. In verskeie gevalle word ‘tydelike’ afleggings gedoen. Ons verwag ook dat die druk op beheerliggaamposte in die volgende drie maande drasties gaan toeneem. Die werkloosheidsvoorsiening (TERS) het bloot tydelike verligting gebring,” het Hermann gesê. Talle skole het nie vir TERS aansoek gedoen nie of nog nie al hul geld ontvang nie.
Die Solidariteit Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers gaan op ’n unieke manier, as ’n kollektief, die belang van beheerliggaam-aanstellings tydens en na die korona-krisis beskerm. Kreatiewe oplossings moet gevind word, want dit is in belang van almal. Solidariteit staan nie teenoor skoolbesture en beheerliggame nie. Die krisis is nie deur hulle geskep nie. Die impak van die inperkings wat deur die ANC-regering daargestel is, het hierdie krisis op die spits gedryf. Alle skole is dus nou genoodsaak om te herbegroot. Solidariteit sal die belang van almal, en spesifiek die onderwys, dien.
Beheerliggaam-onderwysers en ander beheerliggaam-aanstellings is uiters kwesbaar. Hulle vorm nie deel van die kollektiewe ooreenkoms wat by die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (RAVO) bereik is nie. Beheerliggaam-aangesteldes is nie as ʼn belangegroep georganiseer nie en dit is selfs moeilik om ʼn nasionale prentjie van die krisis te kry. Omdat beheerliggaam-onderwysers geen spreekbuis het om hul belange te dien nie, is dit moeilik om met oplossings vorendag te kom.
Die Solidariteit Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers het ʼn tienpuntplan aangekondig om werk by skole te beskerm:
1. ʼn Landwye veldtog gaan van stapel gestuur word wat ouers aanmoedig om sover moontlik steeds skoolfonds te betaal.
2. ʼn Veldtog gaan aangepak word om die noodsaak en behoud van beheerliggaamposte in die beste belang van leerlinge te beklemtoon.
3. Gesamentlike werkswinkels sal vir skole aangebied word waar skole planne onder mekaar kan uitruil om oplossings vir brandpunte te vind.
4. Die kollektiewe krag van die Solidariteit Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers sal gebruik word om in gesprek te tree met vennote binne die Afrikaanse Onderwysnetwerk.
5. Strategiese hofsake sal oorweeg word.
6. Beheerliggame sal bewus gemaak word van die regte prosesse wat gevolg moet word en beheerliggaam-onderwysers sal bewus gemaak word van die regte waaroor hulle beskik.
7. Ondersteuning in die vorm van regsadvies en -verteenwoordiging sal aan onderwysers gebied word en ʼn spesiale advieslyn sal daargestel word.
8. Opleidingsprogramme sal saam met die SOS se vakverenigings en S-leer aangebied word om onderwysers en skoolbesture op die voorpunt van kennis en ontwikkelings op hul vakgebied te hou en om hulle op hoogte van relevante tegnologie te hou.
9. Gemeenskappe en plaaslike ondernemings sal gemobiliseer word om skole en onderwysers te ondersteun. Hierdie optrede sluit die skepping van ʼn spesiale fonds in waartoe belanghebbendes soos alumni kan bydra ter ondersteuning van die onderwys.
10. ʼn Vennootskapsbenadering sal gevolg word sodat ʼn balans tussen die belange van almal gevind kan word. Die nuutgestigte Leierskapforum gaan gemobiliseer word om nou saam te werk met die Beroepsgilde van Beheerliggaam-onderwysers sodat daar begrip en respek vir albei se behoeftes kan wees en gesamentlike sukses behaal kan word.
“Dit is met groot kommer dat Solidariteit saam met die Skoleondersteuningsentrum genoodsaak was om hierdie probleem te takel, maar dit is ook met groot opgewondenheid wat die nuwe beroepsgilde bekendgestel word. Danksy hierdie nuwe optrede kan ons werklik as gemeenskap saam ʼn ommeswaai in hierdie onderwyskrisis teweeg bring,” sluit Hermann af.