Skole bly oop sê hof

Skole kan oop bly. Dit volg nadat die Noord-Gautengse hooggeregshof die Educators’ Union of South Africa (EUSA) se aansoek dat die skole moet sluit, van die hand gewys het. Solidariteit het tot die regsgeding toegetree en geargumenteer dat skole wat aan gesondheidsvereistes kan voldoen oop moet bly. Solidariteit het die uitspraak verwelkom.

“Dié uitspraak is ʼn oorwinning vir leerlinge en onderwysers in die land in die lig daarvan dat hul toegang tot onderrig en reg om te werk, deur dié oorwinning bevorder word,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Die hof het bevind dat EUSA se aansoek wesenlike gebreke bevat wat daartoe gelei het dat die saak van die hand gewys is.

“Dit bly betreurenswaardig dat daar, benewens hierdie aansoek, nog steeds pogings aangewend word om die skoolprogram tot stilstand te dwing. Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sal alle moontlike regsweë volg om te verseker dat die skoolprogram kan voortgaan,” het Hermann gesê.

Die meeste skole het op 8 Junie heropen en die skoolprogram verloop vlot.

“Die benadering om álle skole te sluit indien ʼn gelyke vlak van gereedheid nie by álle skole bereik word nie, is onhoudbaar en ongrondwetlik. Beheerliggame is die liggame wat getaak is om besluite in die beste belang van die skool en leerlinge te neem ,” sê Melanie Buys, Hoof van Ontwikkeling van die Skoleondersteuningsentrum.

“Om skole te sluit het verder ʼn enorme negatiewe impak op leerders, onderwysers en die gemeenskap. Dit is nie slegs die reg tot onderrig wat geskend word nie, maar dit hou ook wesenlike praktiese gevolge in soos die skoolprogram wat nie voltooi sal kan word nie en dat afleggings van beheerliggaamposte ʼn werklikheid sal wees,” het Buys bygevoeg.

Solidariteit en die Skoleondersteuningsentrum verwelkom die uitspraak en sal aanhou om betrokke te wees by sake en inisiatiewe wat die selfstandigheid van skole en skoolgemeenskappe bevorder.

Solidariteit en AfriForum nader appèlhof in Bloem oor ras-kriterium vir hulp

Solidariteit en AfriForum gaan na die appèlhof in Bloemfontein petisioneer om hul saak teen die departement van toerisme se ras-kriterium vir hulp aan te hoor. Dit volg na die Noord-Gautengse hooggeregshof nie verlof tot appèl toegestaan het nie.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit is dit uiters teleurstellend dat die hof ’n ruimte in die reg vind waar noodhulp op grond van ras toegeken kan word. Dit is die mees radikale interpretering van regstellende aksie. “Die virus diskrimineer nie op grond van ras nie en hulp mag ook nie. Ons is van mening dat ’n hoër hof tot ’n ander gevolgtrekking sou kom,” voer Hermann aan.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit belangrik dat regsekerheid verkry word om vas te stel of dit werklik so is dat minderhede se regte reeds só ondergeskik in die huidige grondwetlike bedeling gestel word, dat daar selfs tydens ’n noodsituasie blatant teen minderhede gediskrimineer kan word.

“Sou dit wel so wees dat die hoogste hof bevind dat minderhede se regte in kwarantyn geplaas kan word ter wille van rasgebaseerde radikale transformasie, sal AfriForum en Solidariteit se plaaslike remedies uitgeput wees, wat ons in staat sal stel om klagtes teen die huidige bedeling se rassediskriminasie by internasionale forums in te dien,” het Kriel bygevoeg.

“Duisende mense word deur hierdie kortsigtige optrede van die regering geaffekteer, ongeag die kleur van hulle vel. Ons sal aanhou veg dat hierdie diskriminasie nie in ons samelewing genormaliseer word nie,” sluit Hermann af.

Opebrief aan almal wat deur die staat uitgesluit word

Beste vriende en makkers,

 

In elke geslag se leeftyd is daar ʼn plig om nee te sê. Dis nou ons tyd!

 

NP van Wyk Louw waarsku teen die gevaar as ‘n hele geslag sonder protes verbygaan. Anders gestel: die gevaar as die plig om nee te sê versaak word. Dit gaan oor meer as die korttermyn onreg teenoor die individu maar ‘n langtermyn gevolg wat selfs oor geslagte kan strek. Dit is die dieper reg wat ons almal voor moet stry.

 

Sê ons nie nou nee nie, word dit elke keer moeiliker en word ons meer verlam.

 

Solidariteit het saam met AfriForum stukke by die Konstitusionele Hof ingedien om nee te sê vir die Departement Toerisme se planne om hulp te gee op grond van ras.

 

Intussen werk Solidariteit se regspan aan ʼn klag teen die Suid-Afrikaanse regering, by die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van rassediskriminasie, rakende die regering se besluit om die kleur van jou vel vir hulp te oorweeg.

 

Solidariteit het by die Lyttelton-polisiestasie ʼn klag teen die Minister van Kleinsakeontwikkeling, wat ‘n vals eed afgelê het, gelê. Sy het in hofstukke gesê haar departement gaan nie hulp op grond van ras toeken nie.

 

Ten spyte van haar eed wat sy gesweer het, spring sy toe om – en hóé jy lyk, gaan nou wel ʼn maatstaf vir hulp wees.

 

Ons lê ʼn klag, want dit is ons plig om nee te sê.

 

Die hele situasie is, om die minste te sê, bisar. Verlede week lewer ʼn regter uitspraak dat dit reg is dat mense in nood hulp kry op grond van die kleur van hul vel.

 

Waarom skreeu almal nie van die dakke af dat dit gek is nie? Waarom kom die groter gemeenskap nie hul plig na, om nee te sê, nie.

 

Die regering voer dit verder en sê die voedselhulp wat ons bymekaar maak en wil versprei, wil hulle ook beheer en oor besluit.

 

“Nee”, sê ons vir die regering: “dit gaan die regering nie doen nie”. Julle gaan nie hulp aan ons weier en dan die hulp wat ons aan die gemeenskap gee, keer, beheer en reguleer nie.

 

ʼn Radiostasie vra my waar ons argumente in die hof platgeval het. Nee, dis die stelsel wat op ons platgeval het. ʼn Regter bevind dat hulp in ʼn krisis op grond van die kleur van jou vel gegee mag word en die stelsel meen dis reg so.

 

Die stelsel het hierdie saak op morele vlak verloor. Om belastingbetalers se geld te vat om hulp te gee op grond van die kleur van jou vel, is moreel siek.

 

Die regering verwag van ons as wit mense, minderhede en Afrikaners om dit te aanvaar. Die hof het mos nou gespreek, maar die kern bly tog dat reg gespreek moet word.

 

As die reg sê daar is regverdiging om só teen wit mense te diskrimineer, het ons ʼn rassestaat; nie ʼn regstaat nie. Dis ʼn onreg.

 

Ons as minderhede in die algemeen, en Afrikaners spesifiek, moet dit nie aanvaar nie. Ons het ʼn plig om nee te sê.

 

Hulp op grond van wie jy is, is op dieselfde immorele vlak as om die verspreiding van kos eensydig te wil beheer. Die antwoord is nee.

 

Die regering het nie die grondwetlike, morele of selfs godsdienstige reg om ons burgerlike lewe te nasionaliseer nie.

 

Ons gaan ons vryhede verdedig. Ons is niemand se belastingslawe nie.

 

Oor hierdie saak gaan ons die regering beveg, in ʼn strafsaak, in die grondwethof en in die VN.

 

Dié onreg moet reggestel word.

 

Ons gaan egter nie plekke afbrand, rommel strooi, vensters breek, klippe gooi en mense aanrand nie.

 

Ons gaan ook nie ons vryhede verwaarloos, neerlê en verskrik raak nie.

 

Ons wil vry wees en sal self doen.

 

Op dieselfde dag as wat die rasse-uitspraak kom, het Solidariteit Helpende Hand R2 miljoen se kos versprei. Om honger te keer is immers die regte en goeie ding om te doen. Miljoene rande en miljoene rande meer se fisiese hulp is deur die Solidariteit Beweging se Krisisfonds ingesamel. Die nood is groot en skenkings stroom steeds in.

 

Die regering skop ons uit en dan help ons onsself. Nee, dít gaan nie van bo af beheer word nie.

 

Dis harde protes. Ons as gemeenskap wat sê: “Basta, ons sê nee en doen self!”

 

Die regering het egter nou weereens gewys – ons moet ons eie ding meer, en op nuwe maniere doen. Ons moet die krag en waarde van mekaar ontdek. Ons moet mekaar in ons beroepe ondersteun, by mekaar koop, mekaar help, na ons ou mense en weerloses kyk en mekaar in diens neem. Ons moet ons kinders laat leer en jongmense laat studeer. Ons moet ons beveilig, ons kultuur uitleef en oppas, saam leef, konsentreer en saam bid. Dis die wapens in ons hande – kragtige wapens.

 

Die wonderlike ding is dat Afrikaners dit al gedoen het: opstaan ná die Anglo-Boereoorlog en Helpmekaar ná die Rebellie van 1914 en die reddingsdaad ná die depressie in die 1930’s. Ons weet hoe om in en na krisisse terug te bons.

 

In die middel van die koronakrisis en die nood wat daarmee gepaard gaan, het die regering en die stelsel ʼn ongelooflike onreg teenoor wit mense, minderhede en Afrikaners gepleeg – hulle het in nood gesê: wit mens jy is op jou eie.

 

Ons kan nie op hierdie staat staatmaak nie.

Ons kan ons nie laat bind deur onreg deur die staat nie.

Ons kan dus ook nie afhanklik van die staat wees nie.

 

Ons kan wel binne en vanuit die gemeenskap in geloof en vertroue optree.

 

Dit is ʼn ander soort protes, wat ons geslag nie mag verbygaan nie en dit is bevrydend.

 

Dus, jammer Minister, ons het ʼn plig om nee te sê.

 

My oproep aan ons almal is dus: sê nee en help mekaar.

 

Groete

 

Dirk Hermann

 

 

Die land brand en julle eet koek

Geagte president Cyril Ramaphosa,

Die land brand.

In Januarie steek misdadige studente die Howard College van die Universiteit van KwaZulu-Natal aan die brand. Ook in Januarie word nóg treine in die Wes-Kaap aan die brand gesteek. Tot soveel soos 140 treinwaens is die afgelope drie jaar in afsonderlike voorvalle aan die brand gesteek.

Op simboliese vlak is staatsondernemings aan die brand en in huise brand kerse. Die Suid-Afrikaanse ekonomie brand en poste word vernietig. In Januarie is ons geskok oor duisende werkers wat afgedank gaan word.

Steeds in Januarie steek die ANC kersies op ʼn verjaarsdagkoek aan die brand en sny die koek. Hulle lag en lyk gelukkig. Hulle vier die stand van die land. Die land brand en die ANC eet koek en drink sjampanje.

En ons gewone mense is kwaad oor die toestand waarin die land is. Terwyl ons die hitte beleef, praat die ANC oor ʼn beter lewe vir almal.

Ek praat graag met u uit my hart met die oog op die staatsrede op 13 Februarie.

Ek is ʼn gewone burger, man van my vrou en pa van my kinders wie se toekoms nou begin. Ek wil hê hulle moet hier bly en daarom kan ek nie stilbly nie.

Ek praat dus brutaal eerlik juis omdat ek nie wil hê die land moet misluk nie. Ek verlekker my nie in die staat wat verswak nie. Nee, ek treur.

Van al die ongelykhede in ons land is daar geeneen so breed soos die ongelykheid tussen die ANC se denkbeeldige prentjie van Suid-Afrika en die werklikheid nie.

Terwyl ons in die koerante lees oor binnegevegte en verskillende faksies in die Suid-Afrika van die ANC, sien ons elke dag hoe die regte Suid-Afrika begin inplof.

Beurtkrag het nou bykans ʼn daaglikse verskynsel geword. By u presidentswoning is die krag nooit af nie. U ministers weet ook nie hoe dit voel om in die verkeer vas te sit weens beurtkrag nie – hulle word deur blouligbrigades deur die verkeer gelei. Ons gewone mense dra die gevolge van die regerende party se mislukking. Ons is moeg van die donker en moeg daarvan om staatsverval in ons huise te beleef.

Mnr. Ramaphosa, die ANC baklei onder mekaar terwyl gewone Suid-Afrikaners om oorlewing moet baklei.

Die land en sy werkers word geoffer vir uitgediende, sentralistiese staatsideologieë.

In 2020 sien ons, weens ʼn krimpende ekonomie, ʼn bloedbad van afleggings oor alle bedrywe en sfere heen. Telkom, Samancor, Glencore, Massmart, Amsa, MultiChoice en soveel ander ondernemings moet werkers in hul duisende aflê. Slegs vier uit tien volwassenes in Suid-Afrika werk. Vir dié wat werk en dié wat nie werk nie, is daar geen rede om koek te sny en “Geluk liewe maatjie” te sing nie.

Ons is nie gelukkig oor die stand van sake nie.

Terwyl tallose Suid-Afrikaners in haglike omstandighede in die openbare gesondheidsektor behandel word en 144 gesinne van die Life Esidimeni-pasiënte oor onbevoegdheid treur, wil die regering nou die totale sektor nasionaliseer.

Terwyl daar na skuld gesoek word, tot sover terug soos Jan van Riebeeck, loop Suid-Afrikaners bekommerd rond oor ʼn land wat besig is om te misluk.

Terwyl 75% van skole disfunksioneel is, is dit Lesufi se missie om presterende Afrikaanse skole te teister. Terwyl die polisiemag verswak en die land verstom is oor die swak dissipline van polisieleiers by ʼn staatsbegrafnis, is Suid-Afrikaners oral onder misdaadbeleg.

Terwyl die res van die wêreld én die geskiedenisboeke bewys dat privaat eiendomsreg ononderhandelbaar vir sukses is, gaan die ANC net eenvoudig voort om eiendomsreg aan te val.

Eskom is die simbool van transformasie in Suid-Afrika. Daar is met trots van wit mense en institusionele geheue ontslae geraak deur plekmaakpakkette en rassetransformasie. Vandag sit ons in die donker en die regering publiseer strenger rassewette

Terwyl duisende staatsdienswerkers hard werk, wil u die staatspensioenfonds gebruik om in die Eskom-put af te gooi. Gewone mense se belastinggeld is by Eskom en talle staatsondernemings geplunder en gewone mense se pensioenfondse moet nou gebruik word om die gevolge van die plunderaars reg te stel.

Ons moet uit die krisis, maar die ANC skep geen voorwaardes om uit die krisis te kom nie.

Ons wil nie die 13de Februarie ʼn mooi toespraak oor die droomwêreld van die ANC hoor nie. Ons wil hoor van die werklike stand van die staat en ons wil hoor van daadwerklike ingrepe.

Dit sal ʼn dapper leier verg wat bereid sal moet wees om met uitgediende ideologie te breek.

Ons wil eerder hoor dat die staat minder gaan doen, inmeng en reguleer. Ons wil hoor dat hande van ons pensioengeld af gehou gaan word. Ons wil hoor dat eiendomsreg gerespekteer sal word.

Ons wil hoor dat die opwekking en verspreiding van elektrisiteit gedesentraliseer word. Ons wil hoor dat die oorregulering van die ekonomie – rasseregulering ingesluit – gestaak word. Ons wil hoor hoe buitelandse vertroue herstel gaan word.

Ons wil hoor dat openbare skole nie staatskole word nie en dat die magte van ouers nie gesentraliseer word nie. Ons wil hoor en die vertroue hê dat die staat ons sal beskerm.

Ons wil hoor hoe die staat sy verantwoordelikheid in die openbare gesondheidsektor gaan nakom en ruimte vir privaat mediese dienste sal skep.

Ons wil hoor dat die privaat sektor en die gemeenskap meer in staat gestel gaan word om probleme self op te los.

Ons wil hoor dat plunderaars vervolg gaan word. Ons wil van radikale ingryp hoor.

Op 13 Februarie 2020 is u geleentheid om as staatsman die land bó die party te plaas.

Ek is egter bevrees dat die party die ideologie bo alles gekies het. Ideologie is werklikheidsvreemd en dit is wat met die ANC gebeur het.

Die prys is ongelukkig ʼn land wat brand.

Groete,
ʼn SA burger wat treur

 

Ope brief aan Ramaphosa: ‘U poog om Afrikaners se geskiedenis te kriminaliseer’

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het ‘n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf na aanleiding van sy Versoeningsdagtoespraak. 

Meneer die president: Vryheidsvegters wat kinders doodmaak, is nie vryheidsvegters nie

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Geagte president Ramaphosa

16 Desember 2019, en u lewer ’n toespraak op Versoeningsdag op Bergville in KwaZulu-Natal. U beskryf die Slag van Bloedrivier van 16 Desember 1838 en noem die Voortrekkers indringers en die Zoeloes vryheidsvegters, want hulle het vir die vryheid van grond geveg.

Gerieflikheidshalwe word vergeet dat die geskiedenis en vorming van die Zoeloes ook die geskiedenis van die Mfekane insluit – indringing, inlywing, uitwissing en verdrywing, veral onder koning Shaka.

Die Voortrekkers se trek was ’n klein deel van groot, gedwonge, wrede volksverskuiwings en verhuisings. Die ontwrigting van daardie tyd was veral swart op swart.

Waarvan u ook nie vertel nie, is die gebeure wat aanleiding gegee het tot 16 Desember 1838.

Die Zoeloe-koning Dingaan en die Voortrekkerleier Piet Retief het oor grond onderhandel. Dingaan was gewillig om grond aan die Voortrekkers te gee in ruil vir beeste wat die Tlokwa van Sekonyela by Dingaan gesteel het.

Op 11 Januarie bring Retief die beeste terug. Op 4 Februarie word ’n traktaat geteken waarin Port Natal en die omliggende gebied, van die Tugela tot die Umzimvuburivier en van die see af noordwaarts, aan die Voortrekkers afgestaan is.

Op 6 Februarie word Piet Retief en sy geselskap wreed gemartel en vermoor. Piet Retief moes eers toekyk hoe sy seun, Pieter, vermoor word voordat hy ook gemartel en vermoor is.

Selfs die onderdane van Dingaan het dit as die wreedaardigste optrede ooit van Dingaan beskou en het respek vir hom verloor.

17 Februarie 1838. Die weerlose laers van Voortrekkers word aangeval. Die grootste kindermoord in een nag vind plaas – 185 kinders en 56 vroue word vermoor. Die wreedste denkbare metodes is gebruik om kinders dood te maak. Dit was so wreed, ek kan dit nie eers hier herhaal nie.

Meneer Ramaphosa, ken u vir Johanna van der Merwe? Dit was my oupa van wie ek die trotse naamdraer is, se oumagrootjie. Sy was 12 jaar oud met die Bloukrans- en Boesmansrivier-moord. Sy en ’n maatjie, Catherina, moes vlug. Sy is 21 keer met assegaaie gesteek; Catherina 24 keer.

Die Zoeloes het gedink hulle is dood en het hulle op ’n hoop liggaampies van ander kinders op ’n plat klip onder ’n suikerbosboompie gegooi. Johanna het die liggaampies van die ander kinders oor hulle getrek sodat die Zoeloes nie kon sien hulle leef nie.

Dit was die soort vryheidsvegters wat u in 2019 gedenk. Vryheidsvegters wat kinders en vroue wreed doodmaak, is nie vryheidsvegters nie.

Later het die Suid-Afrikaanse vloot ’n duikboot na my agtergrootjie, Johanna van der Merwe, vernoem. U regering het die duikboot herdoop na Assegaai.

Dit was die aanloop en agtergrond van 16 Desember 1838, wat u gerieflik uitlaat.

Op 16 Desember 1838 het 464 mans en 64 waens te staan gekom teen ’n reusagtige Zoeloe-oormag van 15 000.

Dit is binne hierdie omstandighede wat die Gelofte afgelê is. Die dag is nie deur die apartheidsregering ingestel soos u sê nie; dit is reeds lank voor apartheid herdenk. Ek voel my ook verbind aan die Gelofte.

Die Zoeloes is oorwin. Dingaan het gevlug en sy stad, Umgungundlovu, is afgebrand. Die beendere van Piet Retief en sy manskappe is gevind en daarmee saam Retief se bladsak en die ongeskonde traktaat, ’n wettige transaksie.

Hierdie gebeure het niks met vryheidsvegters se trotste stryd ter verdediging van grond te doen gehad nie.

Dit het alles te doen gehad met ’n Voortrekkerleier wat onderhandel het vir grond, sy voorwaardes nagekom het en ’n ooreenkoms bereik het. Dit het te doen met ’n wrede diktator wat die Voortrekkers misbruik het, sy woord verbreek het, wrede moorde laat pleeg het en wou terugvat wat regmatig bekom is.

Hierdie gebeure is ’n skandvlek op die trotse Zoeloe-nasie se geskiedenis en is in die onderbewuste van Afrikaners ingeprent.

Die Zoeloe-prins Mangosuthu Buthelezi het dit ingesien en het Afrikaners tydens die Waarheids- en Versoeningskommissie om verskoning gevra vir die moord op Piet Retief. Hy het dit by minstens twee verdere geleenthede herhaal.

Buthelezi skryf oor die besondere band tussen Afrikaners en Zoeloes. Hy skryf hoe generaal Louis Botha sy oupa, Dinuzulu, se vrylating verseker het nadat die Engelse hom opgesluit het. Hy reik ’n hand na Afrikaners en sê die stryd vir vryheid, identiteit en erkenning is iets wat Afrikaners en Zoeloes deel.

Meneer die President, Afrikaners en Zoeloes het reeds in 1839 vrede gemaak toe Andries Pretorius en Mpande kaSenzangakhona hande geskud en ʼn vredesverbond met mekaar gesluit het. Sedertdien was daar in 180 jaar nooit weer oorlog tussen Afrikaners en Zoeloes nie. Afrikaners en Zoeloes onthou, maar het mekaar lankal vergewe. Daar is selfs ’n brug by Bloedrivier geopen wat dit simboliseer. Voormalige president Zuma, ook ’n Zoeloe, het die opening bygewoon. Vandag is daar deur samewerkingsooreenkomste ’n mooi verhouding tussen die huidige Zoeloe-koning, Goodwill Zwelithini, en Afrikaners. Hy deel nie u sentiment nie, en dit is ironies dat hy juis bekommerd oor wat die ANC-regering in 2019 met die Zoeloes se grond gaan doen. Ons kan nie toelaat dat ’n mooi verhouding deur politieke propaganda vertroebel word nie.

Dit is hoe daar versoenend met ’n verdeelde geskiedenis omgegaan word.

U het egter gepoog om ’n onverdedigbare stuk onreg vir politieke kapitaal te regverdig.

U het gekies om die geskiedenis te verdraai en te misbruik vir u politieke ideologie oor grond.

U het die slagoffers van 1838 die indringers en oortreders gemaak, en die oortreders en moordenaars het u vryheidsvegters gemaak.

U poog om Afrikaners se geskiedenis in sy geheel te kriminaliseer.

Ek ken egter die storie van Johanna van der Merwe, Lenie Retief, Anna Steenkamp, Dirkie Uys, en tientalle ander stories, en ek vertel dit vir my kinders. So doen baie ander Afrikaners.

Ons meesterverhale oor die geskiedenis bots en ek gaan my nie in u meesterverhaal laat inboelie nie.

Ons moet eerlik praat oor die geskiedenis, want dit bepaal die toekoms. Die Zoeloe/Afrikaner-verhaal is juis ʼn voorbeeld hoe daar versoenend met ʼn verdeelde geskiedenis omgegaan kan word.

Groete

Dr. Dirk Hermann

Bestuurshoof: Solidariteit Beweging

Ope brief: ’n Reuse-rooikaart vir Totalsports

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het ‘n ope brief geskryf na aanleiding van Totalsports se besluit om kartonafbeeldings van die Springbokslot Eben Etzebeth uit sy winkels te verwyder:

 

Geagte Anthony Thunström, uitvoerende hoof van The Foshini Group, die houermaatskappy van Totalsports,

Eben Etzebeth is jul winkel verbied. Sy kartonweergawe is verwyder. Dit is enkele dae voor die Rugbywêreldbeker-eindstryd. Hy speel sy hart uit vir Suid-Afrika, maar Totalsports verbied hom.

Saru het hom nie die trekpas gegee nie. Die anderkant van die saak moet eers gehoor word. Saru doen ’n behoorlike ondersoek onder leiding van ’n oudregter. Hulle sê Etzebeth is onskuldig tot hy skuldig bevind is.

Saru sê verder: “Ons kan nie net ’n speler skors nie. Wat dan as dit oor ’n paar weke blyk dat hy onskuldig is?”

Die Springbokkaptein Siya Kolisi sê Eben gaan speel.

Nie Totalsports nie! O, nee, hy moet die trekpas kry, want dalk gee hy kliënte aanstoot.

Julle skryf dat julle sport doen en nie in omstredenheid gewikkel wil wees nie. Julle sê julle kies nie kant nie en oordeel nie, en dan verwyder julle vir Eben om almal, volgens julle, gemaklik in die winkels te laat voel. Julle skep omstredenheid, kies kant, vel ’n oordeel en laat ’n groot deel van jul kliënte vervreemd voel.

In die Etzebeth-saak het die omstrede waarnemende regshoof van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK), Buang Jones, Etzebeth tydens ’n gemeenskapvergadering, aangekla, skuldig bevind en gevonnis.

“Eben is daaraan gewoond om met moord weg te kom,” het Jones gesê. Hy sê ook dat Etzebeth in ’n sel in Langebaan hoort, en vele meer.

Dit het later geblyk dat hy al die uitsprake gemaak het nog voordat die slagoffers hul verklarings afgelê het, voor Etzebeth sy kant kom stel het en voor daar enige billike prosesse gevolg is..

Nuwe politiek korrekte regsreëls word geskep. Die een kant van die saak is genoeg. Jy is skuldig op grond van hoe jy lyk. As ras beweer word, is daar nie reëls nie. Dit gaan nie oor jou skuld nie, maar oor hoe mense voel. Die waarheid mag nie in die pad van populisme staan nie.

Dis ’n nuwe soort boendoereg (ook genoem Lesufi-reg) wat buite die reg ontwikkel. Die gevaar is dat dit later die reg word.

Die gemeenskap begin later die boendoereg bevestig, want hulle is bang vir ʼn “gepeupel”.

Deur Eben te verwyder het Totalsports die boendoereg bevestig. Hy is nooit deur enige proses skuldig bevind nie, maar hy moet weg. Hy gaan dalk aanstoot gee. Dit gaan nie oor wat hy gedoen het en of hy dit gedoen het nie; hy moet net weg, want dit is polities korrek om dit te doen.

Dít het aanstoot gegee, nie net onder wit Suid-Afrikaners nie, maar onder almal wat aan basiese regsreëls glo.

Selfs die MRK het Buang Jones oor die vingers getik omdat hy te vinnig geskiet het, maar Totalsports sê Etzebeth moet weg.

Sonder om ’n oog te knip, val Totalsports in by reëls van die boendoehof. Hierdie reëls is egter nie die reëls van die meeste kliënte wat by julle koop nie. Die meeste van hulle, swart en wit, is bloot goeie mense wat sport wil beoefen en wat glo aan reg en regverdigheid.

Hulle is moeg vir dubbele standaarde met rassisme, dik vir vals rassisme-klagtes en siek en sat vir die blitsige rashowe. Hulle wil dit nie sien in die winkel waarheen hulle vir ontspanning gaan nie.

Natuurlik is dit jul reg om uit jul winkel te verwyder wie julle wil. Kliënte het ook die reg om te koop waar hulle wil.

Wat daardie aand in Langebaan gebeur het, weet ek nie, maar Totalsports weet ook nie. Wat ek wel weet, is dat Etzebeth se weergawe van die aand totaal anders as die klaers s’n is. Ek weet ook dat daar verskeie prosesse is om die waarheid te bepaal. Ek gaan nie die uitkoms vooruit loop nie, want ek weet nie. Ek weet egter wel dat Eben onskuldig is tot hy skuldig bevind is.

Terwyl die Springbokke Suid-Afrika se bankvaste steun verdien, besluit ’n sportwinkel om dae voor die eindstryd omstredenheid rondom die Bokke te voed.

Politieke korrektheid is soms ver van die werklikheid.

Saterdag gaan Eben Etzebeth uit Totalsports se winkels wees, maar in miljoene Suid-Afrikaners se huise. Hulle gaan juig as hy ’n lynstaanbal afvat. Miljoene, swart en wit, gaan hulle kele hees skree vir Eben en al die ander spelers in hulle huise. Hulle gaan nie ras sien nie, maar rugby.

Julle het ’n fout gemaak, Totalsports. Vra om verskoning en maak dit reg.

Groete,

Dirk Hermann,
Bestuurshoof van Solidariteit

 

Basta, Zindzi, ons voetspore is in Afrika!

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het hierdie brief geskryf aan Zindzi Mandela na aanleiding van haar uitsprake op Twitter:

Beste Zindzi

So, ons is soos ongenooide gaste wat weier om te loop. Gronddiewe, noem jy ons. Volgens jou het ons mos nie met grond hier aangekom nie. Ons is glo “thieving rapist descendants of Van Riebeck (sic)”.

Mag ek onmiddellik sê jou twiets is walglik, verdelend en ’n vorm van haatspraak wat geweld teen minderhede kan aanblaas. Ons mag dit nie net daar laat en dit normaliseer nie. Volgens die Verenigde Nasies is vertikale haatspraak, dit wil sê deur mense met gesag, net soveel meer onaanvaarbaar en gevaarlik. Jy dra simboliese, morele en politieke gesag.

Die emosioneel belaaide, histories skewe meesterverhaal het al so neerslag gevind dat dit moeilik raak om dit te weerlê sonder om as rassis en apartheidsontkenner gebrandmerk te word. Hoe meer dit herhaal word, hoe meer word dit ’n waarheid totdat ons in ’n postwaarheidwêreld leef.

Ek het ʼn ander storie, en ek stel graag my 11 geslagte hier aan die suidpunt van Afrika aan jou bekend.

Ontmoet vir Hans (1636-1671), getroud met Tryn. Hy was my eerste voorvader hier en het in 1657 voet aan wal gesit. Hy was werkloos ná die Dertigjarige Oorlog en word toe soldaat vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Hans was een van die eerste Vryburgers. Van Riebeeck was ’n amptenaar wat die Kaap ná 10 jaar verlaat het, maar die Vryburgers soos Hans het hul gesig na Afrika en hul rug op Europa gedraai. Die Vryburgers was die werklike geboorte van Afrikaners. Hulle het in daardie stadium Afrika gekies – nie as gaste nie, maar om op hierdie grond te bly. Hans is deur ’n leeu doodgebyt.

Ontmoet Hans se seun, Nicolaas (1666-1713), getroud met Maria. In dié tyd het die Franse Hugenote in Suid-Afrika aangekom. Ook Duitsers en ander, selfs van die inheemse bevolking, was deel van die Afrikaner-mengsel. Afrikaners het nie as Afrikaners hier aangekom nie. Ons het nie grond hier aangebring nie; ons het op hierdie grond Afrikaners geword.

Ontmoet vir Hendrik en Maria (1709 – sterfdatum onbekend). Teen hierdie tyd het ’n sterk Afrikaner-identiteit begin ontwikkel. Hy was deel van die leierskap van die Barbier-opstand teen die regering van die dag. Afrikaners wou weg van die Nederlandse heersers. Later het ons ons taal en mense na Afrika genoem, want ons is van en uit Afrika.

Ontmoet vir Marthinus David (1735 – sterfdatum onbekend), getroud met Adriana. Die trekboere het al verder begin wegtrek. Dit het die klimaat vir die Groot Trek geskep.

Ontmoet vir Marthinus Nicolaas (1780 – sterfdatum onbekend), getroud met Anna. Moord, diefstal en plundering aan die Oosgrens was ondraaglik. Daar was ’n drang na vryheid onder ’n selfstandige regering. Dit was die begin van die Groot Trek.

Dit was ook die tyd van die Mfecane. Honderde duisende mense is deur veral Shaka se magte doodgemaak en massas meer moes vlug. Die veroweraars het nie met grond rondgetrek nie, maar het met uiters wrede metodes grond verower. Dit is die deel van die geskiedenis waaroor daar geswyg word. Daar was ’n reuse-emigrasie en reusestryd vir grond. Afrikaners was deel daarvan.

Dit was ook die tyd toe Piet Retief en sy manskappe wreed deur Dingaan vermoor is, en dit nadat daar oor grond onderhandel is. Die bewys was ’n traktaat. Dit was ook die tyd van die grootste kindermoord in Suid-Afrika by Bloukrans- en Boesmansrivier. In een nag is 185 Afrikanerkindertjies wreed doodgemaak. Soos Europa, en die res van die wêreld, het Afrika ook ’n donker kant in die geskiedenis wat nie gekonfronteer word nie.

Dit was die tyd van slag van Bloedrivier en Dingaan se mag wat verbreek is. Britse beheer van die Kaap sedert 1806 was die begin van ’n eeu van vernedering van Afrikaners. Die Engelse het Afrikaners met minagting behandel. Hulle het ons as onbeskaaf geag – ’n siening oor Afrikaners wat later konsentrasiekampe “geregverdig” het.

Ontmoet vir Willem Adriaan (1824-1890), getroud met Tienie. Die Engelse het Natal weer besit en die Afrikaners wou vry wees. Hulle trek weer en vestig twee klein en arm republieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek (oftewel die Transvaal) en die Oranje-Vrystaat.

Ontmoet vir Marthinus Nicolaas (1856-1942), getroud met Hester. In hierdie tyd annekseer die Engelse die Transvaal en die Eerste Vryheidsoorlog breek uit. Marthinus neem deel aan die Slag van Majuba. Die Afrikaners word die eerste Afrika-stam wat die koloniale moondheid in ’n oorlog oorwin. Die koningin van Engeland is verneder. Die Engelse wou steeds die goud hê en ’n tweede oorlog breek uit. Die Boere veg ’n dapper stryd, maar die Engelse gooi ons vroue en kinders in konsentrasiekampe waar 33 000 dood is. Hul plase is ook afgebrand. Marthinus Nicolaas is as banneling weggestuur. Hester is dood in ’n kamp. Haar dogter, Christina, my pa se ma, oorleef die kamp. Koningin Victoria het haar vernedering gewreek.

Marthinus was ook deel van die opstaan ná die oorlog. Die Afrikaners het gekies om self verantwoordelikheid te neem en het deur selfdoen hul vernedering gewreek. Marthinus was deel van die rebellie tydens die Eerste Wêreldoorlog, en deel van die merkwaardige Helpmekaarbeweging daarna. Alles het gekom uit die gemeenskap, los van die staat.

Ontmoet vir Jacobus Johannes, getroud met Christina (1900-1970). Christina het die Irene-konsentrasiekamp oorleef. Hulle het die volle impak van die 1930-depressie en die armblankevraagstuk beleef. Een derde van Afrikaners was werkloos en nog ’n derde was behoeftig, met al die maatskaplike uitdagings wat daarmee saamgegaan het. Dit was weer ’n krisis en weer ’n merkwaardige tyd van opstaan deur die Reddingsdaadbond, Federale Volksbeleggings en verskeie kultuurorganisasies.

Ontmoet Marthinus Nicolaas (1936 – ) en Moira. Dit is my ma en pa. Hulle was beide kinders uit die tyd van blanke armoede. Pa het vertel van sy opgewondenheid toe hy sy eerste langbroek in die hoërskool gekry het. Sy hele lewe is egter ’n merkwaardige storie. Hy het bo sy omstandighede uitgestyg en deur harde werk besturende direkteur van Clover SA geword. Vir die eerste keer in ons geslagslyn is die kringloop van armoede en swaarkry verbreek.

My pa se geslag het daarin geslaag om Suid-Afrika te moderniseer. Hy vertel hoe sy oupa hom vertel het van die Boere-oorlog en die hartseer van sy vrou en sy seuntjie, Petrus, wat in die kamp dood is. Hy vertel hoe sy geslag besluit het dat Afrikaners nooit weer deur so ʼn trauma sal gaan nie. Hy vertel hoe koloniale owerhede uit Afrika gevlug het en hoe Afrikaners hier moes bly, want ons het Afrika geword. Hy vertel van oorlewingsangs.

So is ’n stelsel ontwikkel wat nie moreel of prakties volhoubaar of regverdigbaar was nie – ’n stelsel wat, ironies genoeg, die vernedering van Afrikaners op ander oorgedra het. Die apartheidstelsel het Afrikaners ook van die krag van die gemeenskap ontneem deurdat die staat die verantwoordelikheid van die gemeenskap begin oorneem het.

Ontmoet Dirk Johannes (1972 – ) en Elsha. Dit is ek en my vrou. Ons is die postapartheidgeslag. Ons geslag se verantwoordelikheid is om postapartheidantwoorde te soek vir ’n volgende geslag. Mense van my geslag oorweeg dit om die land te verlaat, maar baie gaan net hier bly. Ons wat hier bly, gaan bou, en ons geskiedenis leer ons van uithou en aanhou. Ons geslag gaan nie die geslag wees wat daardie geskiedenislyn verbreek nie. ’n Voorwaarde daarvoor is wedersydse erkenning en respek.

Ontmoet my dogters, Marisha, Minè, Elzaan en Hanri. Hulle moet jou en ander se tirades absorbeer. Ironies genoeg projekteer jy jou gevoel van vernedering op my kinders, en dit vanuit Denemarke en vanuit ’n hoogs betaalde ambassadeurspos. Woede soos joune word op hulle gerig en dit word geïnstitusionaliseer in rassewetgewing wat niks te doen het met wie hulle is en wat hulle doen nie; dit is gebaseer op hoe hulle lyk.

Hulle het egter ’n storie – dit is ʼn storie wat baie groter is as jou gebrekkige meesterverhaal.

Dat daar vergrype en vernedering in ons verhaal was, is waar, maar dat Afrikaners ’n ongelooflike storie van swaarkry, opstaan, saamwerk en uitreik het, is ook waar. Foute en ’n donker kant het ons wel en ons erken dit. Erkenning maak ons juis sterker, maar dit maak nie van ons gaste wat moet loop nie. Ons haal die goeie uit die verlede en bou eerder die toekoms daarop.

My dogters is die elfde geslag hier. Oor 11 geslagte heen het ons hiér ons beslag gekry. Ons identiteit is hier ontwikkel. Ons is nie ’n koloniale moondheid nie, maar ’n wit stam van Afrika.

Jy het die foute van Afrikaners geneem en dit geëskaleer tot ’n absolute boosheid. Jou storie het, soos almal sʼn, ook ’n donker kant waarmee jy jouself moet konfronteer, maar jy het dit verromantiseer tot slegs edele vryheidstryde.

Ek ken my familie se storie en alles daarvan is deel van my, foute en al.

Vandag is my voltydse werk om ’n nuwe, moderne helpmekaarbeweging te bou. Ons het ’n storie van opstaan uit die gemeenskap. Ons het ’n kragtige DNS. Tot jou frustrasie gaan ons hier bly, maar ons gaan nie stilbly nie. Gaste is ons nie, was ons nie, en gaan ons nie word nie. Ons het nie ʼn ander huis nie. Ons is hier om te bly, want dis ons plek.

Basta, Zindzi, ons voetspore is in Afrika!

‘Die land’ is weg

Dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, het dié ope brief aan Heidi Edeling, uitvoerende hoof van die Ghoemas, geskryf nadat die musiekvideo van “Die Land” waarin Steve Hofmeyr sing van die benoemingslys van die Ghoema-musiektoekennings verwyder is.

Beste Heidi

Baie mense in die Afrikaanse gemeenskap is kwaad. Ons is kwaad omdat “Die land” weg is. Een van Afrikaans se beste liedjies en video’s van die afgelope jaar is deur die Ghoema Trust by die spogtoekenningsaand verban ná druk deur die hoofborg, MultiChoice.

Die lied begin met die woorde: “Ek en my vriende het saamgekom om ʼn boodskap van hoop te deel.” Die res van die lied is inspirerend. Die sentrale boodskap is dat die land aan elkeen van ons behoort.

Die Afrikaanse gemeenskap voel vervreemd; hulle voel magteloos en geïsoleerd. Hulle voel hulle is in die land, maar nie meer deel van die land nie. Hier kom ʼn groep kunstenaars en sê: Ek belowe jou, die land behoort aan jou. Hulle vervolg met ʼn positiewe boodskap dat my vlag sal aanhou waai en die sade sal ek saai. Kortom: Ek sal steeds bly plant in my land. Die lied het ʼn oproep tot liefde en vra verder: “Wat is nog reg en verkeerd, wil ek weet.” Die kunstenaars vra: “Wat los ons vir ons kinders. Wat gaan ons eendag kan wys?”

Hierdie lied is nou verbied. Die Ghoemas het nie “Die land” onttrek oor die inhoud of gehalte van die lied nie; selfs nie eens omdat Steve Hofmeyr een van die sangers is nie, maar omdat die borg dit geëis het.

Jy skryf in die brief waarin julle jul gewraakte besluit bekend maak: “Ek het ʼn offisiële versoekskrif van Joe Hesu, MultiChoice se groephoof ontvang. As gevolg van Steve Hofmeyr se deelname in die video, versoek MultiChoice dat die benoeming van “Die Land” onttrek word. Verder verklaar hulle dat indien dit nie plaasvind nie, hulle geen opsie het as om hul borgskap van die Ghoema Musiektoekennings 2019 te onttrek nie.”

Op grond hiervan onttrek die Raad van Trustees van die Ghoema Trust die benoeming van die video.

Die borg manipuleer dus die uitkoms van ʼn spogtoekenningsaand. Die een bestanddeel waarsonder ʼn aand soos die Ghoemas nie kan bestaan nie, is integriteit. Onafhanklike beoordelaars, leiers in die bedryf, moet kuns onbevange beoordeel. Jul eie reëls bepaal dat Die Ghoemas ʼn onafhanklike toekenningsgeleentheid is waar die musiekbedryf vir sekere prestasies vereer word. Julle het jul eie reël oortree.

Kunstenaars is vrye geeste en daardie vryheid moet beskerm word. Dit skep ʼn ongelooflike slegte presedent indien borge begin voorskryf wat in is en wat uit is. Vandag besluit ʼn borg watter lied onttrek moet word, maar môre skryf ʼn borg voor watter lied bygevoeg moet word. Vandag besluit ʼn borg hulle hou nie van ʼn kunstenaar se standpunt nie en môre hou hulle nie van ʼn spesifieke lewenstyl nie. Vandag is dit ʼn borg en môre is dit die staat.

Jul besluit om “Die land” te onttrek, het die Ghoemas van sy integriteit en vryheid ontneem. Julle het die Afrikaanse musieklandskap verskraal tot ʼn wêreld gesien uit die oog van ʼn enkele borg. Julle het eenvoudig gedienstig aan hul wêreldbeskouing geraak. Ongelukkig is hul beskouing weer gedienstig aan die algemene politiek korrekte siening wat die heersende idees van die staat weerspieël.

Die regte ding sou wees om aan jul eie missie gehoorsaam te bly en dit is om prestasie in die musiekbedryf te vereer. Omdat julle weggetree het van jul missie ter wille van ʼn borg is daar woede. Adam Tas, Dewald Wasserfall, Corlea Botha, Bok van Blerk, Bobby van Jaarsveld en ander het hul weersin in jul besluit uitgespreek. Hulle almal is hul vryheid deur die besluit ontneem.

Bobby van Jaarsveld som dit raak op: “As ons musiek nie welkom is daar nie, is ons seker nie welkom daar nie. Raak moeg om stil te bly terwyl hulle ons boelie.”

Bobby som ʼn groter gevoel op – ʼn algemene gevoel dat ons moeg is daarvan om geboelie te word. Die Ghoemas het net nog ʼn simbool van daardie geboelie geword. Die reaksie van die Afrikaanse gemeenskap is oorweldigend teen jul besluit. Julle het hulle vervreem. Strategies het julle met jul gesig na die verkeerde kant toe gaan staan. Dit is jammer, want die Ghoemas is ʼn mooi inisiatief.

Corlea Botha spreek haar diepliggende kommer uit oor die vrees onder Afrikaanse kunstenaars dat hul werk nou gesensor word: “… of gaan ons net met sekere mense mag werk?” vra sy. Bok van Blerk het ook reeds laat weet dat hy nie meer die Ghoemas gaan bywoon nie.

Ironies genoeg kla die woorde van die lied wat julle verbied julle aan. Ons as lede van die publiek wil weet wat is nog reg en verkeerd? Ons vra wat los ons vir ons kinders? Wat gaan ons eendag kan wys? Dit is hierdie vrae wat maak dat ons jul besluit nie net daar kan los nie.

“Die land” het nou ʼn proteslied geword. Dit het iets groters geword as bloot ʼn Ghoema-benoeming. Dit het ʼn simbool geword van hoe mense voel. Dit was oorspronklik ʼn lied van hoop en dit sal ʼn lied van hoop bly, maar dit wys nou ook dat protes soms nodig is om hoop lewend te hou.

Solidariteit het pas ʼn gilde vir Afrikaanse kunstenaars gestig. Die doel van die gilde is juis om ons kunstenaars teen boelies te beskerm sodat hulle vry kan wees.

Ons kan nie jul besluit omdraai nie, maar ons kunstenaarsgilde gaan met ʼn veldtog begin om te verseker dat minstens net soveel mense na “Die land” op sosiale media kyk as wat mense na die Ghoemas op TV gaan kyk. Ons gaan hierdie video wyd versprei. In die nuwe wêreld van nuwe media kan geen tradisionele media-instelling voorskryf wat gekyk en nie gekyk mag word nie. As die Ghoemas “Die land” onttrek, benoem die gemeenskap self die lied as gemeenskapskeuse.

“Die land” is weg by die Ghoemas, maar die land is nie weg van ons nie. Die land behoort aan my en aan jou. Ek belowe jou.

Ek sluit ʼn skakel van die video by die skrywe in.

Discovery: Wit mense is as vredeoffers vir die regerende elite aangebied en hulle is woedend

Discovery se aankondiging dat 10% aandele van die Discovery Bank eksklusief aan swart kliënte beskikbaar gestel gaan word, het groot reaksie op sosiale media tot gevolg gehad. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het ʼn ope brief aan Adrian Gore, die uitvoerende hoof van Discovery geskryf waarop Gore gereageer het. Dr. Hermann antwoord in ʼn tweede ope brief op Gore se reaksie.

Geagte mnr. Gore

Ek sien u het gereageer op my ope brief. Opsommenderwys sê u dat Discovery, in u eie woorde, moet optree op ʼn manier wat ooreenstem met die maatskaplike en wetsvereistes wat op die groep van toepassing is.

U sê dat wetgewing swart eienaarskap in die nuwe Discovery Bank vereis en dat dit spesifiek as deel van u lisensiëringsproses vereis word. U het ook ʼn onderneming aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank gegee dat daar swart eienaarskap in die nuwe Discovery Bank gaan wees.

Ek sou graag wou weet na watter maatskaplike vereiste (imperative) u verwys. As ek na u skrywe kyk, wil dit lyk of die heersende politieke ideologie ook u maatskaplike raamwerk geword het. As een van Suid-Afrika se sakereuse, het u klakkeloos ingeval by die transformasie-ideologie van die regerende elite en dit sommer onkrities u eie gemaak.

Wat as dit moreel verkeerd is? Dit is jammer dat groot besigheid nie ʼn kultuur het om die moraliteit van ʼn magsorde uit te daag nie. Om ʼn groep suiwer op grond van ras uit te sluit, was, is en bly moreel verkeerd.

U moes intree vir u kliënte, maar u het nie. Inteendeel, u het ʼn groot deel van hulle as vredeoffer vir die regerende elite aangebied. U wit kliënte is tereg ontstoke daaroor. Hulle wil nie soos offerdiere voel nie. ʼn Mediese fonds of versekeraar word in jou persoonlike ruimte toegelaat. Daar bestaan ʼn band van vertroue en daardie band is gebreek.

U het u wit kliënte geminag omdat u aan die regering se maatskaplike vereistes wou voldoen. Hulle het dit nie aanvaar nie en daag u uit. U het die maatskaplike vereiste wat u kliënte stel, onderskat.

Die tweede vraag is: Wat is die wetsraamwerk waarna u verwys? U het die sogenaamde maatskaplike vereiste al so deel van uself gemaak dat u dit in regsterme aanbied.

U voer aan wetgewing vereis van u om swart mense in te sluit en wit mense uit te sluit. Dit is wat u transaksie doen. Daar is egter geen wetgewing wat dit vereis nie.

Die Bankwet het nêrens ʼn bepaling wat rassetransformasie as voorvereiste vir lisensiëring stel nie.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se lisensiëringsdokument noem nie een keer enige vereistes met betrekking tot rassetransformasie nie.

Die finansiële sektor het wel ʼn handves waarin teikens vervat is. Dit is egter nie wetgewing nie. Dit is ʼn vrywillige dokument met riglyne en geen harde teikens nie. Geen lisensie is daaraan onderworpe nie.

Daar moet vrywillig aan die handves voldoen word, maar dit is geen wet nie.

Hierdie handves maak voorsiening vir verskeie ander opsies wat nie absolute uitsluiting op grond van ras vereis nie. Daar kan dus aan die handves voldoen word sonder om uit te sluit. Daar kan aan alle ander wetgewings voldoen word sonder om uit te sluit.

Die enigste ander wetgewing is die swart bemagtigingswetgewing wat bepaal dat staatsliggame en openbare instellings kodes vir goeie praktyk in ag moet neem wanneer lisensies uitgereik word.

Die Reserwebank gee geen aanduiding dat hulle dit doen nie en is in elk geval privaat en nie ʼn staatsliggaam of openbare onderneming nie. Selfs al sou daar ʼn kode vir goeie praktyk wees, sal geen kode ʼn plig plaas om wit mense uit te sluit om ʼn lisensie te bekom nie.

Ons het begrip daarvoor dat besigheid binne die werklikhede van Suid-Afrika gedoen moet word, maar ʼn koue benadering van uitsluiting is verkeerd en is nie nodig nie.

U het geen moeite gedoen om ʼn kreatiewe skema, wat nie uitsluitend is nie, te ontwikkel. Inteendeel – u het met trots op ʼn verhoog gestaan en rasse-uitsluiting as vindingryk aangebied.

U het die mees radikale opsie gekies. Dit was volgens wetsvereistes nie nodig nie, maar u het dié weg ingeslaan omdat dit, volgens u, die beste aan die magselite se maatskaplike vereistes voldoen.

Wat u egter totaal onderskat het, is die maatskaplike vereiste van ʼn reusegroep van u huidige en toekomstige kliënte. Hulle vereis lojaliteit van Discovery, want hulle is lojaal. Hulle verwag om as volle belanghebbers erken te word, want hulle het Discovery gebou. Hulle wil bloot net so deel wees van u transaksies as u ander kliënte. Hulle is nie lus om deel te wees van ʼn maatskappy se sosiale manipulasie nie. Hulle is al genoeg as slaansak deur die regering gebruik en nou kom Discovery en slaan hulle ook – toe slaan hulle terug.

Die maatskaplike vereistes van ʼn groot deel van u kliënte gaan dit vir u baie moeilik maak om u nuwe bank van stapel te stuur. U het dit reeds gestel dat die bank swaar steun op bestaande Discovery- kliënte wat daarby inkoop. U het egter nagelaat om u kliënte toe te laat om in te koop.

Die stem van u werkers kla u moreel aan

Hierdie is die dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, se ope brief aan die hoofde van Sasol:

Geagte mnre. Nqwababa en Cornell

Die afgelope week het ʼn historiese gebeurtenis hom by u aanlegte en myne afgespeel. Duisende wit werknemers het gestaak en gestap teen rasse-uitsluiting.

Internasionale uitsaaiers en nuusagentskappe soos die BBC (British Broadcasting Corporation), AFP (Agence France Presse), Russia Today, Fox News, Reuters, Bloomberg en talle ander het die stem van die werkers die wêreld ingedra. Dit was ʼn stem wat vir ʼn lang ruk nie gehoor was nie.

Die wêreld het die frustrasie van u werkers raakgesien – niemand kan dit meer ignoreer nie. Dit is ʼn werklikheid. Die vraag is of u dit raaksien.

Geen demokrasie of werkgewer mag toelaat dat ʼn deel van sy samelewing of werksmag so vervreemd raak nie. Die ware toets van ʼn demokrasie is of hy sy minderhede ook beskerm.

Wat ons op u aanlegte sien afspeel het, is ʼn demokrasie in werking en wording. Dit was ʼn historiese oomblik, maar ook ʼn historiese geleentheid. Indien dit geïgnoreer word, het ons ons demokrasie ʼn geleentheid van vorming ontsê.

Die stem van die wit werkers is ʼn stem vir balans. Dit is nie ʼn stem teen die herstel van wanbalans nie, maar vir die herstel van balans.

Indien Sasol se antwoord op uitsluiting van die verlede ʼn simplistiese uitsluiting in die toekoms is, plaas dit Suid-Afrika op ʼn wankelrige morele basis vir die toekoms.

Om in ʼn skema wat wanbalanse van die verlede moet regstel ʼn eenvoudige rassebenadering te volg wat wit werkers uitsluit, is ʼn lui benadering.

Selfs ʼn tydelike ingryp moet moreel regverdigbaar wees. Tydelike steierwerk wat die pad na gelykheid moet staande hou, maar self moreel wankelrig is, kan maklik die norm en later normaal word, maar dit sal nie volhoubaar wees nie. Suid-Afrika se toekoms kan dan ʼn immorele normaal word.

Om wit werkers in blou oorpakke se waarde te bereken op grond van hul ras en dit aan te bied as ʼn normale ingryp om wanbalanse te herstel, is immoreel.

Selfs regstellende aksie en transformasieprojekte het ʼn morele rivierbedding waarbinne dit moet plaasvind. Dit is nie onbeperk nie. Transformasie moet binne die raamwerk van die Grondwet plaasvind en die Grondwet moenie binne die raamwerk van transformasie plaasvind nie.

Wit werkers se reg op waardigheid en gelykheid moet ook beskerm word, anders bou ons presies dit wat herstel moet word in ʼn nuwe stelsel in.

Ek verwys u na die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se verslag oor gelykheid wat vroeër vanjaar gepubliseer is. Die verslag is binne die konteks van die Verenigde Nasies se Komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD) se riglyne vir regstellendeaksieprogramme geskryf.

Dié riglyne sluit die volgende in: Regstellende aksie mag nie net ras as maatstaf gebruik nie; behoefte moet in ag geneem word; dit moet konteks-sensitief wees; dit moenie rigied wees nie; en dit mag nie tot rassekwotas lei nie. Sasol se lui oplossing om wit werkers net eenvoudig uit te sluit, oortree elkeen van die SAMRK se riglyne.

In die onderhandelinge tussen die regering, vakbonde en die sakewêreld oor die mynbouhandves is die kwessie van uitsluiting van rasse uit personeelaandeleskemas suksesvol opgelos. Die uitkoms van die gesprek was dat werkers álle werkers insluit. Werknemers wat in die werkersklas val, mag nie op grond van ras verdeel word nie.

Die ongelykheid in Suid-Afrika is nie tussen werkers in blou oorpakke nie. Om hulle op grond van ras te verdeel, gaan net ʼn nuwe vlak van ongelykheid in Suid-Afrika skep. Werkers op werksvloervlak tussen wie daar, anders as in die politiek, goeie verhoudinge heers, word skielik weer volgens ras geklassifiseer.

Growwe rasseklassifikasie lei tot absurde resultate. Een van ons lede wat sy been verloor het en dus as gestremde deel van die aangewese groep is, wou by Sasol weet of hy deel van Khanyisa kan wees. Sasol antwoord klinies en hard daarop dat hy nie daaraan kan deelneem nie, want hy is wit.

ʼn Indiër-lid van Solidariteit, wat met ʼn wit vrou getroud is, is woedend want, hoewel hý deel is van Khanyisa, bepaal die skema dat ʼn wit persoon (dus sy vrou) nie Khanyisa-aandele mag erf nie.

ʼn Wit lid van Solidariteit, wat al 30 jaar by Sasol werk, kry geen aandele nie maar ʼn swart werknemer van Sasol wat maar nog net drie weke lank daar werk, ontvang aandeelwaarde van R500 000. Wit werknemers se waarde vir aandeelhouding word nie volgens hul bydrae, lojaliteit of werksetiek bepaal nie, maar bloot volgens ras.

Dit is die absurde resultate van ʼn skema wat op ʼn wankelrige morele grondslag rus.

Op Donderdag 6 September, dieselfde dag as wat werkers gestaak het, het dit aan die lig gekom dat Sasol R106 miljoen se aandele-opsies aan sy topbestuurspan toegeken het. U albei is bevoordeeldes daarvan en u ontvang meer as R20 miljoen se aandele-opsies elk. Mnr. Cornell, u en die ander wit uitvoerende direkteure is daarby ingesluit, al is u wit.

Die grondwetlike plig van transformasie en historiese regverdiging van rasse-uitsluiting geld nie op top- uitvoerende vlak nie. U argument is waarskynlik dat u dit verdien. Die morele vraag is wel hoekom u nie aan uself doen wat u aan u werkers doen nie.

Sasol het dus ʼn aandeleskema vir sy top- uitvoerende vlakke en nou ook een vir swart werkers en die enigste vlak wat uitgesluit word, is wit werkers. Om uitgesluit te word van eienaarskap, terwyl ander ingesluit word, stuur ʼn boodskap aan hulle dat hulle nie deel van Sasol is nie.

Dit is wat gelei het tot die woede en ʼn wekroep om erken en gehoor te word.

Ek stel dit aan u dat Sasol se besluit om wit werkers uit te sluit, nie moreel was nie, maar bloot kommersieel. Dit het bloot gegaan oor die verwerwing van punte op ʼn transformasiehandves. Wat die werkers se stem vra, is dat ʼn morele grondslag by die kommersiële besluit ingesluit word. Talle ander personeelaandeleskemas by ander maatskappye sluit nie werkers op grond van ras uit nie.

Sasol kan nou besluit om nie te luister nie en om met die skema voort te gaan. Die werkers se staking het egter die morele foutlyn in u argument uitgewys. Die morele foutlyn is nie dat u swart werkers wil bemagtig nie, maar die lui manier van rasse-uitsluiting waarop u dit wil doen. Die morele antwoord vra vir meer genuanseerde antwoorde, soos wat die SAMRK ook voorstel.

Sasol is ʼn Suid-Afrikaanse en globale leier en sy morele leierskap kan leierskap vir Suid-Afrika gee oor hoe om met ʼn komplekse saak soos hierdie een om te gaan.

Die beginpunt vir die antwoord gaan u in die konsepmynbouhandves vind, waarin wysheid oor personeelaandeelskemas gevind is ná vele ure se gesprekvoering.

Wat ons van u vra, is om nie hierdie geleentheid (om nuwe inhoud en vorm aan die demokrasie te gee) te bederf met simplistiese rasse-oplossings nie. Kom ons takel ʼn wanbalans sonder om ʼn wanbalans in ʼn nuwe vorm te skep. Dit gaan ekstra dink en praat verg.

Indien u die stem van die werkers ignoreer, gaan die historiese staking van wit werkers u in die toekoms aankla.

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.