Historiese ooreenkoms tussen NEASA en Solidariteit

Die werkgewerorganisasie NEASA, met ongeveer 10 000 lede, en Solidariteit het ʼn groei-ooreenkoms van historiese belang gesluit. Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, moet alle rolspelers in die ekonomie op groei fokus met ʼn spesiale nadruk op jongmense en vaardigheidsontwikkeling.

Volgens die ooreenkoms sal Solidariteit se Ambaggilde deur Sol-Tech opleiding in tegniese vaardighede vir die bedryf bied en sal hy ook voortgesette opleiding en kortkursusse aanbied.

NEASA sal sy lede aanmoedig om Sol-Tech-studente vir praktiese werk in te neem en om hulle ook permanent in diens te neem. Voorts sal NEASA sy lede aanmoedig om studiehulp vir behoeftige studente te borg.

Albei partye het hul kommer oor die ekonomie uitgespreek, maar albei is ook verbind tot groei.

“Die ooreenkoms is histories van aard. Dit draai die tradisionele vakbondwese op sy kop. Om opleiding en werkplasing vir lede en hul kinders te beding, is die grootste voordeel wat ʼn vakbond vir sy lede kan bied.

Werkgewers en werknemers moet veral in krisistye hande vat met die oog op groei. Die verwerwing van vaardighede is die beste groeistrategie wat die grootste opbrengs lewer.

Natuurlik sal Solidariteit nog in konflik met werkgewers oor arbeidsverhoudingekwessies verkeer, maar dit moenie groeivenootskappe neutraliseer nie,” het Hermann gesê.

Solidariteit beplan om soortgelyke ooreenkomste met ander werkgewers en werkgewergroepe te sluit.

Geagte minister, het u al ʼn boer sien huil … saam met sy werkers?

Geagte Minister Kubayi-Ngubane

Het u al ʼn boer sien huil … saam met sy werkers?

Johan en Sanet Stadler het ʼn klein stukkie grond met die prentjiemooi Swartberge in die agtergrond. Hy het in die dorp gewerk en met volstruise geboer. Strenger uitvoerregulasies, mededinging in die internasionale mark en sporadiese voëlgriep het Johan gedwing om sy plasie te omskep in ʼn werkende gasteplaas. Hy doen dit nou voltyds. Hy het ʼn karaktervolle klipskuur, ou onbenutte huisies en die ou melkstal omskep in slaapeenhede. Hy het tien werkers in diens. Twee vroue help in die kombuis, vyf help om skoon te maak en drie mans hou die plaas in stand. Die onderneming se salarisrekening is R53 000 per maand. Die twee vroue in die kombuis is Sarah en Mildrid. Vir Johan en Sanet se kinders is die twee vroue soos hul tweede en derde ma’s.

Vandeesweek het Johan Stadler, die geharde boer van die Klein-Karoo, gehuil. Hy het gehuil toe hy sien hoe Sanet, Sarah en Mildrid saam huil. Hul besigheid het tot stilstand gekom. Die Maart-vakansie, Paastyd en die vakansiedae is hul hoë-inkomstetyd. Hul verlies is groot. Hy het gehuil omdat getroue werkers saam met hom nie meer ʼn inkomste het nie.

So is daar duisende Johan Stadlers wat die afgelope twee maande oor hul besighede en werkers huil. Toerisme gaan dié sektor wees wat laaste gaan herstel ná die Covid-19-krisis.

Hulle is hard getref deur die regering se regulasies. Hulle is dood gereguleer. Die regering moet help. R200 miljoen vir die sektor is te min, maar dit sal minstens help.

U departement, Minister, het egter besluit dat ras as kriterium gebruik gaan word by die toekenning van hulp aan die bedryf. Noodhulp het rassehulp geword. Covid-19 ken nie kleur nie. Nóg die virus, nóg die regering se regulasies het tussen ʼn Joel Musangu en ʼn Johan Stadler onderskei. U onderskei tussen hulle op grond van ras. U sê vir Sarah en Mildred julle gaan nie gehelp word nie, want Johan en Sanet is wit.

U sluit groot ondernemings, wit ondernemings en mikro-ondernemings, waarvan die meeste in swart besit is, vir hulp uit. Slegs ondernemings met ʼn omset kleiner as R2,5 miljoen per jaar en wat vir belasting geregistreer is, kwalifiseer vir hulp. Dit is toevallig in die deel van die sektor waar baie wit gesinne gastehuise begin het omdat hulle reeds deur die transformasie-ideologie uit die formele arbeidsmark geskop is.

ʼn Klein groepie swart eienaars, slegs 7% van die sektor, kwalifiseer vir die leeueaandeel van die hulp. In totaal word 93% van eienaars, ook duisende klein mikro- swart ondernemings van hulp uitgesluit. Van die 350 000 werknemers in die sektor word meer as 300 000, waarvan 65% swart is, van die hulp uitgesluit. U is suksesvol om rassehulp vir ʼn klein groepie te gee, maar u misluk met noodhulp vir u sektor.

U straf wit ondernemings omdat hulle volgens u nie vinnig transformeer nie. Hulle word skuldig bevind aan wit-wees in die toerismesektor. U departement is so rasseblind dat u bereid is om duisende werkers vir die groter rasse-ideologie te offer. U maak u skuldig aan dubbele diskriminasie in ʼn krisis – eerstens teenoor die wit eienaars van ondernemings en tweedens teenoor alle werkers, wit en swart.

Die doel van die toerisme-verligtingsfonds is om die gevolge van die Covid-19-krisis te verlig. U omskep dit egter in ʼn transformasiefonds. U skryf dat ʼn gesonde toerismesektor gesonde transformasie moet hê. U gebruik dan ʼn hartseer krisis wat duisende mense raak om transformasie te bevorder. U gebruik die krisis om ondernemings aan te kla omdat hulle nie swart genoeg is nie.

U voer swart bemagtiging, wat vir ʼn spesifieke doel ontwerp is, as verweer aan. Die doel van swart bemagtiging is om te bevoordeel om die benadeling van die verlede reg te stel. Hierdie fonds gaan nie oor bevoordeling nie; dit gaan oor oorlewing. Selfs vir die swart ontvanger van hulp gaan dit oor basiese oorlewing; vir die wit persoon gaan dit oor ondergang.

Minister, terwyl ek by swart bemagtiging is, wil ek die volgende noem: Volgens regulasies vir swart bemagtiging is klein maatskappye in normale omstandighede vrygestel van swart bemagtigingsvereistes. In die Covid-19-krisis is swart bemagtiging skielik op die maatskappye van toepassing. In die krisis word die hekkie vir wit maatskappye hoër as in normale omstandighede.

Midde-in ʼn krisis, waar ons saam ʼn vyand moet beveg, maak u van ras ʼn vyand en moet ons hof toe gaan. Op 28 April 2020 sien ons u in die hooggeregshof oor mense wat van hulp uitgesluit word, nie op grond van hul nood nie, maar oor hoe hulle lyk.

Week na week is pres. Ramaphosa op televisie en vra alle Suid-Afrikaners in die idioom van ʼn staatsman om saam te staan. Hy noem ons sy mede-Suid-Afrikaners. Dit is in ʼn tyd soos dié waarin ons mekaar nodig het. Ons word gekonfronteer met ʼn krisis soos nog nooit tevore nie. Suid-Afrika, ons het jul hulp nodig, hoor ons van die president.

Ons help, mnr. die President. Ons offer ons inkomste op. Help ons ook asseblief. En dan Minister, antwoord u: “Jammer, julle is wit.”

Die wêreld en Suid-Afrika huil oor Covid-19. Johan en Sanet Stadler huil saam met Sarah en Mildred.

Bêre die rasse-ideologie in die krisis, Minister, en kom huil eerder saam met Johan en sy werkers.

 

Vriendelike groete

 

Dirk Hermann

Solidariteit wil verlies van duisende poste by skole help keer

Solidariteit gaan met ’n groot veldtog begin om te keer dat personeel in onderwys- en ander poste, wat deur skoolbeheerliggame aangestel is, hul werk verloor. Duisende poste word deur die Covid-19-krisis bedreig.

Volgens Solidariteit kan tot 20 000 van die ongeveer 27 000 beheerliggaam-aanstellings se diensvoorwaardes en salarisse geraak word. Tot soveel as 10 000 van hierdie poste kan verlore gaan indien daar nie drasties ingegryp word nie. Dit sluit duisende ander beheerliggaamposte soos terapeute, administratiewe poste, afrigters en assistent-onderwysers uit. Sowat 55% van poste by Afrikaanse skole is beheerliggaam-aanstellings wat deur die skoolfonds gefinansier word en wie se salarisse dus deur ouers betaal word.

“Hierdie krisis is nie slegs ’n krisis vir individuele werknemers nie; dit is ’n onderwyskrisis,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Die reaksie van Solidariteit volg na verskeie berigte dat skole landswyd sukkel om skoolgelde in te vorder sedert die inperking in Maart ingestel is. Sedert die uitbreek van die pandemie kry skole gemiddeld tussen 20% en 60% van hul skoolgeld, en in sommige gevalle nog minder.

Solidariteit het, in samewerking met die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), aangekondig dat hy ’n spesiale Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers gestig het. Die doel hiervan is om, in samewerking met skole, ’n grootskaalse verlies aan beheerliggaamposte te verhoed. Solidariteit en die SOS wil met alle rolspelers hande vat om hierdie poste te beskerm en te behou.

Solidariteit beplan ’n nasionale veldtog wat ouers sal aanmoedig om sover dit vir hulle moontlik is, skoolgeld te betaal. Die doel is ook om regsondersteuning en advies aan beheerliggaampersoneel te bied, en gemeenskappe en alumni te mobiliseer om sodoende onderwysers en skole te ondersteun.

“Die poste wat deur skoolbeheerliggame daargestel word, vorm ’n integrale deel van ons onderwysstelsel,” voer Hermann aan.

Ingevolge die Skolewet word beheerliggame en die ouergemeenskap as ’n sentrale deel van onderwysvoorsiening beskou. Dit is dus van uiterste belang dat die rol van die ouergemeenskap beskerm moet word.

Solidariteit verstaan die uitdagings waarmee skole te kampe het, maar ons mag nie toelaat dat ’n tydelike krisis permanente skade vir kinders, skole en onderwysers veroorsaak nie. As beheerliggaamposte verlore raak, sal ons met klasse vol kinders sonder onderwysers sit. Suid-Afrika het ’n gesamentlike reusepoging nodig om spesifiek ons beheerliggaam-aanstellings te beskerm.

“Die verlies aan skoolfonds tydens die korona-krisis wissel van tussen 20% en 60%, en in sommige gevalle selfs meer. Alle skole kry swaar, maar dit is veral plattelandse skole, skole in behoeftige omgewings en skole wat van kontantstelsels gebruik maak wat swaar getref word. Skole probeer hul bes om beheerliggaamposte te behou, maar dit raak al hoe moeiliker en reserwes is beperk.

“Beheerliggaam-onderwysers se salarisse is in baie gevalle met tot soveel as 50% gesny. In verskeie gevalle word ‘tydelike’ afleggings gedoen. Ons verwag ook dat die druk op beheerliggaamposte in die volgende drie maande drasties gaan toeneem. Die werkloosheidsvoorsiening (TERS) het bloot tydelike verligting gebring,” het Hermann gesê. Talle skole het nie vir TERS aansoek gedoen nie of nog nie al hul geld ontvang nie.

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers gaan op ’n unieke manier, as ’n kollektief, die belang van beheerliggaam-aanstellings tydens en na die korona-krisis beskerm. Kreatiewe oplossings moet gevind word, want dit is in belang van almal.  Solidariteit staan nie teenoor skoolbesture en beheerliggame nie. Die krisis is nie deur hulle geskep nie. Die impak van die inperkings wat deur die ANC-regering daargestel is, het hierdie krisis op die spits gedryf. Alle skole is dus nou genoodsaak om te herbegroot. Solidariteit sal die belang van almal, en spesifiek die onderwys, dien.

Beheerliggaam-onderwysers en ander beheerliggaam-aanstellings is uiters kwesbaar. Hulle vorm nie deel van die kollektiewe ooreenkoms wat by die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (RAVO) bereik is nie. Beheerliggaam-aangesteldes is nie as ʼn belangegroep georganiseer nie en dit is selfs moeilik om ʼn nasionale prentjie van die krisis te kry. Omdat beheerliggaam-onderwysers geen spreekbuis het om hul belange te dien nie, is dit moeilik om met oplossings vorendag te kom.

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers het ʼn tienpuntplan aangekondig om werk by skole te beskerm:

1. ʼn Landwye veldtog gaan van stapel gestuur word wat ouers aanmoedig om sover moontlik steeds skoolfonds te betaal.

2. ʼn Veldtog gaan aangepak word om die noodsaak en behoud van beheerliggaamposte in die beste belang van leerlinge te beklemtoon.

3. Gesamentlike werkswinkels sal vir skole aangebied word waar skole planne onder mekaar kan uitruil om oplossings vir brandpunte te vind.

4. Die kollektiewe krag van die Solidariteit Beroepsgilde vir Beheerliggaam-onderwysers sal gebruik word om in gesprek te tree met vennote binne die Afrikaanse Onderwysnetwerk.

5. Strategiese hofsake sal oorweeg word.

6. Beheerliggame sal bewus gemaak word van die regte prosesse wat gevolg moet word en beheerliggaam-onderwysers sal bewus gemaak word van die regte waaroor hulle beskik.

7. Ondersteuning in die vorm van regsadvies en -verteenwoordiging sal aan onderwysers gebied word en ʼn spesiale advieslyn sal daargestel word.

8. Opleidingsprogramme sal saam met die SOS se vakverenigings en S-leer aangebied word om onderwysers en skoolbesture op die voorpunt van kennis en ontwikkelings op hul vakgebied te hou en om hulle op hoogte van relevante tegnologie te hou.

9. Gemeenskappe en plaaslike ondernemings sal gemobiliseer word om skole en onderwysers te ondersteun. Hierdie optrede sluit die skepping van ʼn spesiale fonds in waartoe belanghebbendes soos alumni kan bydra ter ondersteuning van die onderwys.

10. ʼn Vennootskapsbenadering sal gevolg word sodat ʼn balans tussen die belange van almal gevind kan word. Die nuutgestigte Leierskapforum gaan gemobiliseer word om nou saam te werk met die Beroepsgilde van Beheerliggaam-onderwysers sodat daar begrip en respek vir albei se behoeftes kan wees en gesamentlike sukses behaal kan word.

“Dit is met groot kommer dat Solidariteit saam met die Skoleondersteuningsentrum genoodsaak was om hierdie probleem te takel, maar dit is ook met groot opgewondenheid wat die nuwe beroepsgilde bekendgestel word. Danksy hierdie nuwe optrede kan ons werklik as gemeenskap saam ʼn ommeswaai in hierdie onderwyskrisis teweeg bring,” sluit Hermann af.

Skole bly oop sê hof

Skole kan oop bly. Dit volg nadat die Noord-Gautengse hooggeregshof die Educators’ Union of South Africa (EUSA) se aansoek dat die skole moet sluit, van die hand gewys het. Solidariteit het tot die regsgeding toegetree en geargumenteer dat skole wat aan gesondheidsvereistes kan voldoen oop moet bly. Solidariteit het die uitspraak verwelkom.

“Dié uitspraak is ʼn oorwinning vir leerlinge en onderwysers in die land in die lig daarvan dat hul toegang tot onderrig en reg om te werk, deur dié oorwinning bevorder word,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Die hof het bevind dat EUSA se aansoek wesenlike gebreke bevat wat daartoe gelei het dat die saak van die hand gewys is.

“Dit bly betreurenswaardig dat daar, benewens hierdie aansoek, nog steeds pogings aangewend word om die skoolprogram tot stilstand te dwing. Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sal alle moontlike regsweë volg om te verseker dat die skoolprogram kan voortgaan,” het Hermann gesê.

Die meeste skole het op 8 Junie heropen en die skoolprogram verloop vlot.

“Die benadering om álle skole te sluit indien ʼn gelyke vlak van gereedheid nie by álle skole bereik word nie, is onhoudbaar en ongrondwetlik. Beheerliggame is die liggame wat getaak is om besluite in die beste belang van die skool en leerlinge te neem ,” sê Melanie Buys, Hoof van Ontwikkeling van die Skoleondersteuningsentrum.

“Om skole te sluit het verder ʼn enorme negatiewe impak op leerders, onderwysers en die gemeenskap. Dit is nie slegs die reg tot onderrig wat geskend word nie, maar dit hou ook wesenlike praktiese gevolge in soos die skoolprogram wat nie voltooi sal kan word nie en dat afleggings van beheerliggaamposte ʼn werklikheid sal wees,” het Buys bygevoeg.

Solidariteit en die Skoleondersteuningsentrum verwelkom die uitspraak en sal aanhou om betrokke te wees by sake en inisiatiewe wat die selfstandigheid van skole en skoolgemeenskappe bevorder.

Solidariteit en AfriForum nader appèlhof in Bloem oor ras-kriterium vir hulp

Solidariteit en AfriForum gaan na die appèlhof in Bloemfontein petisioneer om hul saak teen die departement van toerisme se ras-kriterium vir hulp aan te hoor. Dit volg na die Noord-Gautengse hooggeregshof nie verlof tot appèl toegestaan het nie.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit is dit uiters teleurstellend dat die hof ’n ruimte in die reg vind waar noodhulp op grond van ras toegeken kan word. Dit is die mees radikale interpretering van regstellende aksie. “Die virus diskrimineer nie op grond van ras nie en hulp mag ook nie. Ons is van mening dat ’n hoër hof tot ’n ander gevolgtrekking sou kom,” voer Hermann aan.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit belangrik dat regsekerheid verkry word om vas te stel of dit werklik so is dat minderhede se regte reeds só ondergeskik in die huidige grondwetlike bedeling gestel word, dat daar selfs tydens ’n noodsituasie blatant teen minderhede gediskrimineer kan word.

“Sou dit wel so wees dat die hoogste hof bevind dat minderhede se regte in kwarantyn geplaas kan word ter wille van rasgebaseerde radikale transformasie, sal AfriForum en Solidariteit se plaaslike remedies uitgeput wees, wat ons in staat sal stel om klagtes teen die huidige bedeling se rassediskriminasie by internasionale forums in te dien,” het Kriel bygevoeg.

“Duisende mense word deur hierdie kortsigtige optrede van die regering geaffekteer, ongeag die kleur van hulle vel. Ons sal aanhou veg dat hierdie diskriminasie nie in ons samelewing genormaliseer word nie,” sluit Hermann af.

ʼn Brief oor Orania

“Pappa, kan ons gaan stap?” vra my tweede jongste. “Gaan stap gerus.” Sy kyk my skepties aan. “Ons moet seker die huisie sien pappa?” “Julle moet net nie verdwaal nie,” antwoord ek. “Is dit veilig op Orania?” vra sy, duidelik nie oortuig nie. “Dis baie veilig,” probeer ek haar gerus stel. “Die veiligste in die wêreld?” “Van die veiligste plekke in die wêreld,” antwoord ek weer. “Dit kan nie wees nie. Hier is nie mure en drade om nie,” speel sy haar troefkaart.

 

Hierdie stukkie dialoog oor my kind se siening van normaal het my geskok. Vryheid kan nie normaal wees nie.

 

Ek het Orania al verskeie kere besoek en het besluit om verder te gaan ondersoek instel na, soos baie dit sien, hierdie vreemde, abnormale gemeenskap.

 

Orania is geleë in die Noord-Kaap, so rapsie meer as 150 km van Kimberley, so 40 km van Hopetown en 30 km van die Vanderkloofdam. Die dorpie lê reg langs die Oranjerivier. Die Karoo-omgewing het die tipe bekoring wat mense soos Coenie de Villiers al besing het en die Oranjerivier gee die dorpie toegang tot water. Dis baie groener in Orania as wat die prentjie van die Karoo in jou kop oproep.

 

Ek het met verskeie Oraniërs oor hulle dorp en idees gepraat en hier is hoe ek hulle Orania-idees verstaan.

 

“Waarom vestig julle ʼn Afrikanerdorpie so ver van alles?” het ek vir Carel Boshoff gevra. Hy lag: “My pa (prof. Carel Boshoff) sou jou antwoord dat dit Pretoria is wat so ver is.”

 

Demografie bepaal die keuse van die plek. Afrikaners is die slagoffer van demografiese strome.

 

Hulle het hulle histories binne demografiese stroomversnellings geplaas. Die oorweldigende getalle plaas druk op skole, universiteite, veiligheid, werk en vele meer. Jy kan net vir solank keer. Die regering regeer vir die meerderheid. Die Lesufi’s van die wêreld veroorsaak dat Afrikaners die hele tyd moet retireer.

 

Orania word gevestig buite die demografiese strome. In Orania is Afrikaners ʼn meerderheid. Dit help dat Afrikaners konsentreer en konsentrasie maak dit moontlik om ʼn gemeenskap in te rig waar mense normaal kan leef.

 

Vir die Oraniërs gaan dit oor die reg om self te besluit. Hulle wil nie hê die staat moet oor hulle beskik nie; hulle wil oor hulleself beskik. Die staat kan nie meer met Afrikaners se toekoms vertrou word nie.

 

Hulle maak gebruik van die grondwetlike ruimtes vir selfbeskikking. Die Suid-Afrikaanse Grondwet het artikel 235 wat selfs territoriale selfbeskikking binne die Republiek moontlik maak. Volgens hulle is dit juis normaal om minder van die staat afhanklik te wees. Meer gemeenskap en minder staat is ʼn kerndeel van hul idees. Hulle glo in die toekoms, want hulle wil dit self bepaal.

 

Afgesien daarvan dat hulle binne die Suid-Afrikaanse grondwetlike raamwerk werk, vind hulle aansluiting by honderde internasionale voorbeelde van selfbeskikking binne ʼn meerderheidsomgewing waarvan die Duitsers in die noordelike provinsie van Italië, Suid-Tirool, ʼn uitstekende voorbeeld is. Ten spyte daarvan dat die groepie Duitsers minder as 1% van die Italiaanse bevolking uitmaak, het hulle grootskaalse selfbesluitneming omdat hulle gekonsentreerd is.

 

In die wêreldkonteks is wat Orania doen normaal, en in die Suid-Afrikaanse konteks wettig. ʼn  Goeie demokrasie word geken aan sy vermoë om minderhede te beskerm.

 

My dogter neem ʼn foto van jong Afrikanerseuns wat bakstene op ʼn bouperseel gooi. Hulle bou aan Gannabos. Dit is sowat 120 nuwe woonstelle wat behuising op intreevlakke in die behuisingsmark moet verskaf. Die Afrikaners wat bou en sement aanmaak lyk eintlik vreemd. Net so vreemd soos die Afrikanervrou wat ons huis skoongemaak het en die jong seun met sulke opvallende bakore wat in die tuin voor ons huisie gewerk het.

 

In Orania is dit egter normaal dat Afrikaners hul eie werk doen. Hulle glo in arbeid adel en die protestantse idee dat alle werk edel is. Hulle dink dis vreemd dat ons dink dis vreemd. Tydens die vorige regering is baie Afrikaners wat eenvoudige handewerk verrig het deur die staat in diens geneem.

 

Nou spoeg die gemeenskap in Suid-Afrika hulle uit. Die sosiale infrastruktuur maak dit bykans onmoontlik vir jong wit mense om op die onderste posvlakke te werk.

 

Die sosiale infrastruktuur in Orania maak dit juis moontlik. Arbeid word in Orania genormaliseer.

 

Vir ʼn oomblik dink ek dat dit rassisties is dat Oraniërs hul eie werk doen. Ek skrik toe ek die rassisme in my eie gedagtes raaksien. Dit het byna normaal geword dat sekere werk deur ander gedoen moet word. Dit is diep rassisties om te dink dat ander my werk moet doen. Ironies genoeg ontras en normaliseer Orania arbeid.

 

Die Solidariteit Helpende Hand het ʼn maatskaplike behoeftebepaling op Orania gedoen. Net soos in ander gemeenskappe is daar ook hier verskeie maatskaplike uitdagings. Een abnormale ding wat die studie oor die Oraniërs bevind het, is dat 90% van hulle gelukkig is. Die res van Suid-Afrika is dit beslis nie.

 

Op pad na Orania is ons deur verskeie plattelandse dorpies in Noordwes en die Noord-Kaap. Die agteruitgang is hartseer. Die lyn is afwaarts. By Orania word gewoel, gewerskaf en gebou. Oral is boupersele en nuwe erwe word uitgelê. Lida Strydom van Orania sê mens hoor Orania groei. In Orania is die lyn opwaarts. Dis in kontras met Suid-Afrika.

 

Orania is egter nog ʼn klein dorpie. Die nuutste sensus wys op sowat 1 600 inwoners en dit groei teen ongeveer 10% per jaar. Dit lyk ook maar nog soos ʼn gewone Karoo-dorpie.

 

Die Oraniërs is uitgesproke dat hulle van dorp na stad wil ontwikkel. Hulle mik nou na 10 000 mense en daarna meer.

 

Die groot uitdaging is om infrastruktuur, sonder ʼn staat, vir die 10 000 wat nog kom, gereed te hê.

 

Die elektrisiteitsinfrastruktuur is reeds opgegradeer en is gereed vir die volgende groeifase. Oral is slote vir die nuwe rioolinfrastruktuur. Beplanning is aan die gang vir optiese vesel wat Orania hoogs mededingend gaan maak watt vinnige, bekostigbare internet betref. Ondergrondse infrastruktuur kos baie en maak nog nie die dorp mooi nie, maar dit stel die dorp in staat om te ontwikkel. Frans de Klerk, Orania se dorpsbestuurder, vertel dat iemand hom gevra het wat hul volgende stap na selfbeskikking is: “Ons gaan ʼn sloopgrawer koop,” was sy onverwagse antwoord.

 

By Willie Nel se uiters suksesvolle vervoerbesigheid staan ʼn betonaanleg. Die aanleg het van die beste tegnologie en soos Willie sê, die gehalte wat hy lewer, kan brûe bou. Dit lyk ook so ʼn bietjie abnormaal. In hierdie klein dorpie staan hierdie groot aanleg wat genoeg beton kan vervaardig om honderde huise te kan bou. Byna soos ʼn Noag se ark wagtend op reën. “Ons gaan ʼn stad bou,” sê Willie met selfvertroue.

 

Hoe meer ek kyk, hoe meer sien ek die stad wat kom. Pieter Bischoff gaan wys my hoe Bo-Karoo Opleiding lyk. Dis nog ʼn klein kollege, maar hulle bou dat dit klap aan ʼn nuwe koshuis, want hulle maak gereed vir 300 studente, die meeste van hulle in die bou-ambagte. Hulle gaan opgelei word en vir hul prakties gaan hulle sommer ʼn stad bou. Orania het ʼn totale tersiêre strategie in gedagte wat insluit beroeps- en universiteitsopleiding.

 

“Waarom ʼn stad?” wou ek by Frans weet. Hy het ook ʼn boek, Van Dorp tot Stad, geskryf.

 

Stede bied sekuriteit. Hierdie sekuriteit is op vele vlakke. So klein soos Orania nou is, beleef hulle die vryheid van veiligheid. ʼn Reuse- nuwe veiligheidskompleks word gebou. ʼn Helikopterlandingsplek,ʼn ambulans- en brandweerdiens en mediese fasiliteite en ʼn hoëtegnologie-beheerkamer, wat ʼn groot radius rondom Orania veilig gaan hou, is deel van die kompleks.

 

Stede maak spesialisasie moontlik. Hoe meer gekonsentreerd mense bly hoe veiliger is hulle en hoe meer dienste wat gespesialiseer is, kan aangebied word. Orania moet ook antwoorde bied vir ons ingenieurs, mediese praktisyns en ander professionele beroepe.

 

ʼn Stad skep ʼn kragtige politieke sentrum. Die gemeenskap het tot ʼn groot mate selfstandigheid en kan talle besluite self neem. Volgens Frans het stede in die verlede die val van ryke oorleef. Werklikhede wat binne ʼn stad geskep word, kan nie geïgnoreer word nie. Werklikhede op die grond het sterk politieke krag wat nie net geïgnoreer kan word nie.

 

Stede maak ook ʼn ekonomie moontlik. In ʼn stad kan basiese ekonomiese praktyke floreer, maar ʼn stad kan per definisie nie in isolasie bestaan nie. Hoe sterker die stad, hoe meer interaksie is daar met die groter wêreld. Orania wil nie en kan nie ʼn klein, geïsoleerde eilandjie wees nie. Orania het die markekonomie gekies wat isolasie onmoontlik maak.

 

Prof. Carel Boshoff het tereg Suid-Afrika se groot vraagstuk opgesom met die opmerking dat die grondvraag die grondvraag is. In grond is daar egter ook antwoorde vir Afrikaners.

 

Ek vra vir Frans om in een sin op te som wat hulle doen: “Ons bou ʼn unieke stad waarin Afrikaners vry, veilig en voorspoedig kan wees.”

 

Hy antwoord verder dat uniek ook ’n stad waarbinne Afrikaners tuis is, beteken. Afrikaners hou eintlik nie van die stede waarin hulle nou woon nie. Hulle hunker na die platteland of plaas. Orania gaan ʼn stad wees waarbinne Afrikaners tuis gaan voel, ʼn plek met oop ruimtes, byna ʼn landelike atmosfeer. Orania gaan ook ʼn gemeenskapstad wees en nie net ʼn versameling van koue individue wat toevallig saam bly nie. Orania kry dit alreeds reg.

 

Orania het sy eie “geldeenheid”, die Ora. Dit is eintlik ʼn ruilmiddel waarmee die plaaslike ekonomie gestimuleer word. Die ekonoom, Dawie Roodt, is besig met ʼn projek om die Ora te digitaliseer. Die grootste korporatiewe bank in die land is ook op die dorp.

 

Volgens Carel is die bou van die stad Orania die volgende groot waagstuk van Afrikaners. Ons het al getrek, ʼn taal gemaak, groot oorloë gevoer, daarna opgestaan en gemoderniseer. Ons het die historiese energie om ʼn stad te bou en ons het nie ʼn keuse nie. Afrikaners moet ʼn ingrypende antwoord aanpak vir die ingrypende krisis waarin hy verkeer. Vasgevang in die Suid-Afrikaanse demografiese see gaan meer van dieselfde nie genoeg wees nie.

 

Die geborgenheid en veiligheid van ʼn stad is deel van die antwoord van die Afrikaner in Afrika. Die stad is dus juis nie om te vlug nie, maar om te kan bly. Die stad is juis die plek waaruit met selfvertroue geskakel en uitgereik kan word. Orania skakel reeds met verskeie ander swart gemeenskappe en deel graag sy model as model van bemagtiging deur gemeenskapselfstandigheid.

 

Frans neem ons teen ʼn koppie uit wat ʼn uitsig oor Orania bied. “Verbeel jou jy sit ʼn 3D-bril op en kyk na die stad wat kom,” sê hy.

 

Toe sien ek dit.

 

ʼn Stadplein met ʼn Europese gevoel. Klein winkeltjies en mense wat kuier, in Afrikaans. ʼn Mens kan sien hulle is gelukkig. Skuins links agter die skool is die universiteit en die beroepskollege. Die stad het ʼn studentekarakter ontwikkel. Die skool maak gebruik van die nuutste tegnologie en word as een van die bestes in die land geag. Kinders stap skool toe of ry fiets. Hulle lyk vry en veilig. Groen stroke en fietspaadjies maak dit makliker dat mense kan fietsry. Agter my is die wildspark, ʼn gewilde ontspanningsgebied en by die rivier is ʼn bos aangeplant wat romantiese staproetes bied. Op die rivieroewer is ʼn gewilde vakansieoord. Die stadsraad se moderne vullisverwyderingsvragmotor ry verby en Afrikaners spring af om die vullisdromme op te tel. Afval word georganiseer om herwin te word. Naby die stadsplein word ʼn teater gebou. Regs onder is die sportvelde waar groot sportbyeenkomste aangebied word. Dit is ook die plek waar die grootste kunstefees in die land aangebied word. Die bekostigbare en betroubare digitale infrastruktuur help dat mense vanuit Orania gemaklik kan sake doen in die res van die land en globaal. Afrikaners hou daarvan om hier vakansie te hou. Dit is veilig en Afrikaans. Ook links van my lê die groot nywerheidsgebied. Die meeste van die ondernemings is klein vervaardigers. In die verte kan die duisende pekanneutbome van een van Suid-Afrika se grootste pekkanneutboorde gesien word. Die meeste Afrikaners bly nie in Orania nie, maar vir baie is dit hul plek in Afrika. Byna soos Israel vir die Jode wêreldwyd is. Hulle help om Orania te bou en belê in projekte en winsgewende maatskappye in die stad. Baie borg ʼn kind om op Orania te studeer. Dit het ʼn kulturele ding vir Afrikaners geword om ook in Orania te belê. Hulle belê want eendag, al is dit ook die volgende geslag, trek hulle na Orania.

 

Ek haal my 3D-bril af en sien toe weer die klein dorpie, maar verstaan nou baie beter wat vir my gesê is. Ek kan sien waarheen alles op pad is. Elke bakstaan wat ek nou sien, is deel van ʼn stad wat kom.

 

Die Oraniërs het baie van wat ek normaal aanvaar, uitgedaag. Baie van wat mense as abnormaal aan hulle sien, daag hulle ook uit. Hulle het my geïnspireer met hulle droom en hulle vasberadenheid om die droom te verwesenlik. Hulle is seker dat dit gaan gebeur.

 

Orania kan nie die volle antwoord vir Afrikaners wees nie. Die prentjie wat Oraniërs vir my geskets het, het my oortuig dat dit deel van die groter oplossing is vir dié van ons wat net hier gaan bly.

 

 

Opebrief aan almal wat deur die staat uitgesluit word

Beste vriende en makkers,

 

In elke geslag se leeftyd is daar ʼn plig om nee te sê. Dis nou ons tyd!

 

NP van Wyk Louw waarsku teen die gevaar as ‘n hele geslag sonder protes verbygaan. Anders gestel: die gevaar as die plig om nee te sê versaak word. Dit gaan oor meer as die korttermyn onreg teenoor die individu maar ‘n langtermyn gevolg wat selfs oor geslagte kan strek. Dit is die dieper reg wat ons almal voor moet stry.

 

Sê ons nie nou nee nie, word dit elke keer moeiliker en word ons meer verlam.

 

Solidariteit het saam met AfriForum stukke by die Konstitusionele Hof ingedien om nee te sê vir die Departement Toerisme se planne om hulp te gee op grond van ras.

 

Intussen werk Solidariteit se regspan aan ʼn klag teen die Suid-Afrikaanse regering, by die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van rassediskriminasie, rakende die regering se besluit om die kleur van jou vel vir hulp te oorweeg.

 

Solidariteit het by die Lyttelton-polisiestasie ʼn klag teen die Minister van Kleinsakeontwikkeling, wat ‘n vals eed afgelê het, gelê. Sy het in hofstukke gesê haar departement gaan nie hulp op grond van ras toeken nie.

 

Ten spyte van haar eed wat sy gesweer het, spring sy toe om – en hóé jy lyk, gaan nou wel ʼn maatstaf vir hulp wees.

 

Ons lê ʼn klag, want dit is ons plig om nee te sê.

 

Die hele situasie is, om die minste te sê, bisar. Verlede week lewer ʼn regter uitspraak dat dit reg is dat mense in nood hulp kry op grond van die kleur van hul vel.

 

Waarom skreeu almal nie van die dakke af dat dit gek is nie? Waarom kom die groter gemeenskap nie hul plig na, om nee te sê, nie.

 

Die regering voer dit verder en sê die voedselhulp wat ons bymekaar maak en wil versprei, wil hulle ook beheer en oor besluit.

 

“Nee”, sê ons vir die regering: “dit gaan die regering nie doen nie”. Julle gaan nie hulp aan ons weier en dan die hulp wat ons aan die gemeenskap gee, keer, beheer en reguleer nie.

 

ʼn Radiostasie vra my waar ons argumente in die hof platgeval het. Nee, dis die stelsel wat op ons platgeval het. ʼn Regter bevind dat hulp in ʼn krisis op grond van die kleur van jou vel gegee mag word en die stelsel meen dis reg so.

 

Die stelsel het hierdie saak op morele vlak verloor. Om belastingbetalers se geld te vat om hulp te gee op grond van die kleur van jou vel, is moreel siek.

 

Die regering verwag van ons as wit mense, minderhede en Afrikaners om dit te aanvaar. Die hof het mos nou gespreek, maar die kern bly tog dat reg gespreek moet word.

 

As die reg sê daar is regverdiging om só teen wit mense te diskrimineer, het ons ʼn rassestaat; nie ʼn regstaat nie. Dis ʼn onreg.

 

Ons as minderhede in die algemeen, en Afrikaners spesifiek, moet dit nie aanvaar nie. Ons het ʼn plig om nee te sê.

 

Hulp op grond van wie jy is, is op dieselfde immorele vlak as om die verspreiding van kos eensydig te wil beheer. Die antwoord is nee.

 

Die regering het nie die grondwetlike, morele of selfs godsdienstige reg om ons burgerlike lewe te nasionaliseer nie.

 

Ons gaan ons vryhede verdedig. Ons is niemand se belastingslawe nie.

 

Oor hierdie saak gaan ons die regering beveg, in ʼn strafsaak, in die grondwethof en in die VN.

 

Dié onreg moet reggestel word.

 

Ons gaan egter nie plekke afbrand, rommel strooi, vensters breek, klippe gooi en mense aanrand nie.

 

Ons gaan ook nie ons vryhede verwaarloos, neerlê en verskrik raak nie.

 

Ons wil vry wees en sal self doen.

 

Op dieselfde dag as wat die rasse-uitspraak kom, het Solidariteit Helpende Hand R2 miljoen se kos versprei. Om honger te keer is immers die regte en goeie ding om te doen. Miljoene rande en miljoene rande meer se fisiese hulp is deur die Solidariteit Beweging se Krisisfonds ingesamel. Die nood is groot en skenkings stroom steeds in.

 

Die regering skop ons uit en dan help ons onsself. Nee, dít gaan nie van bo af beheer word nie.

 

Dis harde protes. Ons as gemeenskap wat sê: “Basta, ons sê nee en doen self!”

 

Die regering het egter nou weereens gewys – ons moet ons eie ding meer, en op nuwe maniere doen. Ons moet die krag en waarde van mekaar ontdek. Ons moet mekaar in ons beroepe ondersteun, by mekaar koop, mekaar help, na ons ou mense en weerloses kyk en mekaar in diens neem. Ons moet ons kinders laat leer en jongmense laat studeer. Ons moet ons beveilig, ons kultuur uitleef en oppas, saam leef, konsentreer en saam bid. Dis die wapens in ons hande – kragtige wapens.

 

Die wonderlike ding is dat Afrikaners dit al gedoen het: opstaan ná die Anglo-Boereoorlog en Helpmekaar ná die Rebellie van 1914 en die reddingsdaad ná die depressie in die 1930’s. Ons weet hoe om in en na krisisse terug te bons.

 

In die middel van die koronakrisis en die nood wat daarmee gepaard gaan, het die regering en die stelsel ʼn ongelooflike onreg teenoor wit mense, minderhede en Afrikaners gepleeg – hulle het in nood gesê: wit mens jy is op jou eie.

 

Ons kan nie op hierdie staat staatmaak nie.

Ons kan ons nie laat bind deur onreg deur die staat nie.

Ons kan dus ook nie afhanklik van die staat wees nie.

 

Ons kan wel binne en vanuit die gemeenskap in geloof en vertroue optree.

 

Dit is ʼn ander soort protes, wat ons geslag nie mag verbygaan nie en dit is bevrydend.

 

Dus, jammer Minister, ons het ʼn plig om nee te sê.

 

My oproep aan ons almal is dus: sê nee en help mekaar.

 

Groete

 

Dirk Hermann

 

 

Solidariteit maak voorstelle aan pres. Ramaphosa vir slim inperkings

Inperkings in die huidige formaat gaan ’n inploffing veroorsaak. In die lig hiervan, het die vakbond Solidariteit die naweek omvattende voorstelle aan president Ramaphosa en tersaaklike ministers gemaak oor moontlike veranderinge aan die inperkingsmaatreëls. In sy memorandum aan die president maak Solidariteit voorstelle vir slim inperkingsmaatreëls sodat Suid-Afrikaners gesond kan leef en werk, terwyl die koronavirus onverskrokke beveg word.

Meer as 1 800 Suid-Afrikaners het insette gelewer in die ontwikkeling van dié voorstelle deur Solidariteit.

Volgens Solidariteit is die huidige formaat van inperking nie volhoubaar nie en is aanpassings noodsaaklik ter wille van die ekonomie en die stryd teen die koronavirus sodat die fokus op die bekamping van die verspreiding van die virus, nie die gevaar van die verspreiding van armoede veroorsaak nie.

Solidariteit sê sy voorstelle gee inhoud aan die president se opmerking dat daar gekyk moet word hoe ekonomiese aktiwiteit weer ingefaseer gaan word.

Van die voorstelle behels die wysiging van regulasies om dit vir mense wat gesond kan werk moontlik te maak om te werk.

In die memorandum aan president Ramaphosa sê Solidariteit dat alles moontlik gedoen moet word om Suid-Afrika se werkers en entrepreneurs in staat te stel om ’n inkomste te verdien sodat kwesbare en eensame burgers in Suid-Afrika beskerm kan word, terwyl vrede en stabiliteit gehandhaaf word.

Solidariteit stel omvattende maatreëls voor om sorg te dra dat mense gesond kan werk. Hierdie maatreëls sluit in streng higiëniese regulasies, beskermde toerusting, reëls rondom sosiale afstand, veranderde werksure, regulering rondom getalle in die werkplek, werkplektoetsing en ander risikobeperkings.

Die doel van Solidariteit se voorstelle is om mense gedurende en ná die inperking in staat te stel om gesond te werk tot voordeel van die werknemer en die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Solidariteit het ook voorstelle vir die wysiging van regulasies gemaak om mense in staat te stel om tydens en ná die inperking gesond te kan werk.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging is dit nodig dat daar ’n skuif gemaak word vanaf slegs noodsaaklike werkers na almal wat gesond kan werk. Die keuse is nie tussen gesondheid en werk nie, maar vir gesonde werk vir soveel as moontlik mense.

Volgens dr Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gaan die koronavirus nog lank met Suid-Afrikaners wees. Ons sal ’n volhoubare antwoord vir gesonde werk moet kry. Indien mense nie kan werk nie sal dit soveel druk op enige inperking plaas dat dit sal inplof. Ter wille van ’n volhoubare stryd teen die virus, moet mense in gesonde omgewings kan werk. Ons moet onverskrokke teen die virus en onverskrokke vir die ekonomie wees om die langtermyn impak op beide gesondheid en die ekonomie te beperk.

Solidariteit stel ook voor dat ’n slim inperking toegepas moet word. Internasionale voorbeelde soos die VSA, Italië en China het gewys dat die virus veral in sekere dele gekonsentreer is. Indien inperkings op risikogebiede gefokus is kan mediese, maatskaplike, veiligheid en ander hulpbronne veral op dié areas gefokus word. Mense in ander areas kan vryer beweging hê om hulle in staat te stel om gesond te kan werk en leef. Veral China was suksesvol met slim inperkings deur te fokus op Wuhan en Hubei.

Volgens Hermann kan voortgesette inperkings in sy huidige formaat ’n kokende pot veroorsaak wat tot gevolg kan hê dat inperkings ongedissiplineerd verbreek kan word, wat groot druk op veiligheidsmagte, stabiliteit en die stryd teen die virus kan plaas. Slim inperkings sodat mense gesond kan leef en werk, kan alle Suid-Afrikaners saamvat in die stryd teen die virus.

https://corona.org.za/wp-content/uploads/2020/04/FB_Letter-to-the-President_10_04_2020.pdf

https://corona.org.za/wp-content/uploads/2020/04/DH_Memorandum_President-of-South-Africa_10_04_2020.pdf

https://corona.org.za/wp-content/uploads/2020/04/Solidarity-Code-of-Good-Practice-Covid-19.pdf

Skenk jou twee hoenders en help mekaar in die koronakrisis

Beste vriende, kollegas en makkers

 Skenk jou twee hoenders en help mekaar in die koronakrisis

Môre, 7 April 2020, hou die Solidariteit Beweging ʼn helpmekaardag. Die eerste mylpaal is om R2 miljoen in te samel vir mense wat in maatskaplike nood verkeer en om kinders te help om skool te gaan in die krisistyd. Mense is onseker, wonder oor die toekoms en is bekommerd oor hul werk, maar juis in hierdie tyd word dit ʼn helpmekaartyd.

10 November 1917 was ook ʼn helpmekaardag. Dit was die hoogtepunt van die Helpmekaarbeweging ná die Rebellie van 1914. Ná die Rebellie was die land deur absolute armoede en swaarkry getref. Die rebelle moes boetes en skadevergoedingseise betaal.

Veral die Vrystaters was swaar getref. Op Bethlehem is besluit: “Ons moet saamdra en saamwerk” om die nood te verlig. Later het die besluit tot die Helpmekaarbeweging gelei. Die Bethlehem-besluit het vlam gevat in die res van die Oos-Vrystaat en toe versprei na die hele Vrystaat, die Transvaal en die Kaap. Die koerant, Die Burger, het ingespring met ʼn reuse-insamelingspoging. Almal was arm, maar almal het mekaar gehelp. Basaars is gehou. Bedags was vroue se tafels naaldwerkplekke en saans ʼn bakkery. Baie mense het bietjies gegee. Kerke het van deur tot deur geloop om geld te kollekteer. Jongmense het debatsaande gehou en donasies gevra. Gesinne het sonder vleis en suiker klaargekom om die geld wat so gespaar is, te skenk. Kinders het hul sakgeld gebruik om by te dra. ʼn Bankrot boer het twee hoenders gegee met die woorde: “Ik is geheel uitgeboer en dit is alles wat ik kan gee.”

Op 8 November, twee dae voor die destydse Helpmekaardag, was genoeg geld ingesamel om al die rebelle se skuld te betaal. Aan vandag se waarde gemeet, is meer as R150 miljoen in vier maande deur mense in nood, vir ander in nood, ingesamel. Dit was ʼn inspirerende prestasie.

In wat daarop gevolg het, het ʼn gees van helpmekaar posgevat. Instellings soos Sanlam, Santam en Volkskas is gestig. ʼn Volk het vir homself en vir mekaar opgestaan.

In 2020 word Suid-Afrika getoets deur een sy grootste uitdagings nóg vir hierdie geslag. Wêreldwyd word die mensdom geskud met meer as ʼn miljoen mense wat die virus het en die ekonomie wat inplof. Angela Merkel, kanselier van Duitsland, bestempel dit as die grootste krisis sedert die Tweede Wêreldoorlog. Niemand weet nog hoe dit gaan uitspeel nie. Daar is egter instemming dat Suid-Afrika nog maar aan die begin van die krisis is.

Wat ons klaar sien, is dat die staat van inperking reeds sy tol begin eis. Daar is reeds mense in maatskaplike nood. Salarisse is nie betaal nie. Hulp is afgesny. Mense het reeds hul werk verloor. Ouer mense is alleen en talle sukkel om gesond te eet. Kinders wat by skole kos gekry het, is skielik sonder kos. Daar is skielik onmiddellike nood en die ergste lê nog voor. Die Solidariteit Helpende Hand klim in en help. Hulle het reeds R750 000 se hulp uitgedeel en vestig “Josef Silo’s’ landswyd waar mense kan gaan kos skenk.

Behalwe die maatskaplike nood is daar skielik ook ʼn onderwysnood. Kinders is nie in die skool nie. Solidariteit se Skoleondersteuningsinisiatief, Wolkskool, ondersteun leerlinge om met hul skoolwerk te kan aangaan. Duisende matrieks kan voortgegaan met ʼn matriekskool. China mag wel binne dae ʼn hospitaal midde-in die koronakrisis gebou het, maar die Solidariteit Beweging het binne dae ʼn matriekskool gebou. Altesaam 53 000 leerlinge het vir Wolkskool geregistreer. Hierdie inisiatief moet dringend radikaal uitgebrei word.

Kleinsake is onder druk en die Solidariteit Beweging het begin om mense aan te moedig om kleinsake te ondersteun. AfriForum het ʼn netwerk van kleinsakeondernemings gevestig en moedig mense aan om hulle te steun. Die beste manier om te help is om koopkrag te mobiliseer.

In die lig van die nood wat besig is om te ontstaan, het die Solidariteit Beweging ʼn noodfonds begin om die maatskaplike nood en die onderwysnood die hoof te bied.

7 April is ʼn helpmekaardag midde-in die koronakrisis. Die doel is om geld vir die noodfonds in te samel. Dit is die begin van ʼn reuse-helpmekaarpoging. In die tye wat voorlê, gaan ons mekaar moet help. Ons gaan almal onseker wees en ons gaan almal swaarder kry, maar juis daarom moet ons mekaar help. Dit is tyd dat ons moet saamdra en saamwerk. Dit is tyd dat ons ons twee hoenders gee.

Die staat gaan ons nie deur die krisis dra nie. Ons gaan mekaar moet dra.

Die Virseker Trust het R1 miljoen aan die Solidariteit Beweging se noodfonds geskenk. Op 7 April is ons eerste mylpaal om minstens nog R1 miljoen bo en behalwe Virseker se miljoen uit die gemeenskap in te samel. Almal moet net hul bietjies vir mekaar gee.

Kom ons roep mekaar op om daar te wees vir mekaar en skenk ons twee hoenders.

Groete

Dirk Hermann

Die land brand en julle eet koek

Geagte president Cyril Ramaphosa,

Die land brand.

In Januarie steek misdadige studente die Howard College van die Universiteit van KwaZulu-Natal aan die brand. Ook in Januarie word nóg treine in die Wes-Kaap aan die brand gesteek. Tot soveel soos 140 treinwaens is die afgelope drie jaar in afsonderlike voorvalle aan die brand gesteek.

Op simboliese vlak is staatsondernemings aan die brand en in huise brand kerse. Die Suid-Afrikaanse ekonomie brand en poste word vernietig. In Januarie is ons geskok oor duisende werkers wat afgedank gaan word.

Steeds in Januarie steek die ANC kersies op ʼn verjaarsdagkoek aan die brand en sny die koek. Hulle lag en lyk gelukkig. Hulle vier die stand van die land. Die land brand en die ANC eet koek en drink sjampanje.

En ons gewone mense is kwaad oor die toestand waarin die land is. Terwyl ons die hitte beleef, praat die ANC oor ʼn beter lewe vir almal.

Ek praat graag met u uit my hart met die oog op die staatsrede op 13 Februarie.

Ek is ʼn gewone burger, man van my vrou en pa van my kinders wie se toekoms nou begin. Ek wil hê hulle moet hier bly en daarom kan ek nie stilbly nie.

Ek praat dus brutaal eerlik juis omdat ek nie wil hê die land moet misluk nie. Ek verlekker my nie in die staat wat verswak nie. Nee, ek treur.

Van al die ongelykhede in ons land is daar geeneen so breed soos die ongelykheid tussen die ANC se denkbeeldige prentjie van Suid-Afrika en die werklikheid nie.

Terwyl ons in die koerante lees oor binnegevegte en verskillende faksies in die Suid-Afrika van die ANC, sien ons elke dag hoe die regte Suid-Afrika begin inplof.

Beurtkrag het nou bykans ʼn daaglikse verskynsel geword. By u presidentswoning is die krag nooit af nie. U ministers weet ook nie hoe dit voel om in die verkeer vas te sit weens beurtkrag nie – hulle word deur blouligbrigades deur die verkeer gelei. Ons gewone mense dra die gevolge van die regerende party se mislukking. Ons is moeg van die donker en moeg daarvan om staatsverval in ons huise te beleef.

Mnr. Ramaphosa, die ANC baklei onder mekaar terwyl gewone Suid-Afrikaners om oorlewing moet baklei.

Die land en sy werkers word geoffer vir uitgediende, sentralistiese staatsideologieë.

In 2020 sien ons, weens ʼn krimpende ekonomie, ʼn bloedbad van afleggings oor alle bedrywe en sfere heen. Telkom, Samancor, Glencore, Massmart, Amsa, MultiChoice en soveel ander ondernemings moet werkers in hul duisende aflê. Slegs vier uit tien volwassenes in Suid-Afrika werk. Vir dié wat werk en dié wat nie werk nie, is daar geen rede om koek te sny en “Geluk liewe maatjie” te sing nie.

Ons is nie gelukkig oor die stand van sake nie.

Terwyl tallose Suid-Afrikaners in haglike omstandighede in die openbare gesondheidsektor behandel word en 144 gesinne van die Life Esidimeni-pasiënte oor onbevoegdheid treur, wil die regering nou die totale sektor nasionaliseer.

Terwyl daar na skuld gesoek word, tot sover terug soos Jan van Riebeeck, loop Suid-Afrikaners bekommerd rond oor ʼn land wat besig is om te misluk.

Terwyl 75% van skole disfunksioneel is, is dit Lesufi se missie om presterende Afrikaanse skole te teister. Terwyl die polisiemag verswak en die land verstom is oor die swak dissipline van polisieleiers by ʼn staatsbegrafnis, is Suid-Afrikaners oral onder misdaadbeleg.

Terwyl die res van die wêreld én die geskiedenisboeke bewys dat privaat eiendomsreg ononderhandelbaar vir sukses is, gaan die ANC net eenvoudig voort om eiendomsreg aan te val.

Eskom is die simbool van transformasie in Suid-Afrika. Daar is met trots van wit mense en institusionele geheue ontslae geraak deur plekmaakpakkette en rassetransformasie. Vandag sit ons in die donker en die regering publiseer strenger rassewette

Terwyl duisende staatsdienswerkers hard werk, wil u die staatspensioenfonds gebruik om in die Eskom-put af te gooi. Gewone mense se belastinggeld is by Eskom en talle staatsondernemings geplunder en gewone mense se pensioenfondse moet nou gebruik word om die gevolge van die plunderaars reg te stel.

Ons moet uit die krisis, maar die ANC skep geen voorwaardes om uit die krisis te kom nie.

Ons wil nie die 13de Februarie ʼn mooi toespraak oor die droomwêreld van die ANC hoor nie. Ons wil hoor van die werklike stand van die staat en ons wil hoor van daadwerklike ingrepe.

Dit sal ʼn dapper leier verg wat bereid sal moet wees om met uitgediende ideologie te breek.

Ons wil eerder hoor dat die staat minder gaan doen, inmeng en reguleer. Ons wil hoor dat hande van ons pensioengeld af gehou gaan word. Ons wil hoor dat eiendomsreg gerespekteer sal word.

Ons wil hoor dat die opwekking en verspreiding van elektrisiteit gedesentraliseer word. Ons wil hoor dat die oorregulering van die ekonomie – rasseregulering ingesluit – gestaak word. Ons wil hoor hoe buitelandse vertroue herstel gaan word.

Ons wil hoor dat openbare skole nie staatskole word nie en dat die magte van ouers nie gesentraliseer word nie. Ons wil hoor en die vertroue hê dat die staat ons sal beskerm.

Ons wil hoor hoe die staat sy verantwoordelikheid in die openbare gesondheidsektor gaan nakom en ruimte vir privaat mediese dienste sal skep.

Ons wil hoor dat die privaat sektor en die gemeenskap meer in staat gestel gaan word om probleme self op te los.

Ons wil hoor dat plunderaars vervolg gaan word. Ons wil van radikale ingryp hoor.

Op 13 Februarie 2020 is u geleentheid om as staatsman die land bó die party te plaas.

Ek is egter bevrees dat die party die ideologie bo alles gekies het. Ideologie is werklikheidsvreemd en dit is wat met die ANC gebeur het.

Die prys is ongelukkig ʼn land wat brand.

Groete,
ʼn SA burger wat treur

 

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.